SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 número1The Pandour Corps, 1793-1795 : Soldiers in defence of the Cape Colony towards the end of Dutch ruleBrexit: Volgende uitdagings vir 'n nuwe era índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.61 no.1 Pretoria mar. 2021

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n1a14 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Kerk en reg in die Nederduitse Gereformeerde Kerkorde van 2015

 

Church and law in the 2015 Church Order of the Dutch Reformed Church

 

 

Piet Strauss

Historiese en Konstruktiewe Teologie, Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika. E-pos: straussp@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

Johannes Calvyn en die gereformeerdes aanvaar nie Sohm se stelling in 1892 dat die kerk geestelik en die reg wérelds is nie. Wat hulle betref, het God die wêreld as 'n eenheid in 'n verskeidenheid geskape met geen spanning tussen enige kante daarvan nie. Boonop funksioneer elke aksie van die kerk as 'n geloofsverband onder leiding van die geloof in alle aspekte van die werklikheid. Die samehang tussen die kern van hierdie aspekte lé beginsels vir so 'n geloofsaksie bloot: 'n geloofsaksie wat ook 'n regskant het.
Die Kerkorde van 2015 van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (voortaan NGKO-2015) vertoon regskante by die ampte, vergaderings, arbeid, tug en betrekkinge van die kerk na buite - die temas van die hoofstukke van hierdie Kerkorde. Sodanige gegewe illustreer die samehang tussen kerk en reg. Daarby noodsaak hierdie samehang die aanvaarding deur die Nederduitse Gereformeerde Kerk (voortaan NG Kerk) van die regsordes van die state - onder meer die Republiek van Suid-Afrika - waarbinne hy bestaan.

Trefwoorde: God vereis orde; Bybel gee beginsels; skepping 'n eenheid in verskei-denheid; elke daad het 'n regskant; reëls van natuurlike geregtigheid geld in tugsake


ABSTRACT

It was the German scholar Rudolph Sohm who stated in 1892: the being of the church is spiritual and that of the judicial aspect of life and the state sinful and not spiritual. With this viewpoint, Sohm enhanced the tension between church and state (between the church and the rest) in the thought of Martin Luther. Luther argued that the church was God's own work (opus propium) and the state the work foreign to God (opus alienum).
To the reformer of Geneva, John Calvin (1509-1564) and his followers, this was unacceptable, for, in their opinion, there could be no inner tension in anything recreated by God, following His redemption in Christ through His Holy Spirit, which event signalled His salvation of people. The redemption or the recreation of mankind in this world, which was broken after the fall, leads to the recreation of a totally new heaven and earth. God renews everything in this world as a harmonised unity in diversity and a place in which man has a central position. The Bible sketches creation as a unity in diversity, where the law of God is applicable to both nature and the behaviour of mankind. Any action by a church is founded on the Christian faith as its leading aspect or principle in creation, and the core of this aspect, in connection with the core of other aspects, reveals the law of God and norms for human life.
According to I Corinthians 14:40 God wants order in the services and existence of the church. This verse is accepted in reformed circles from Calvin onwards as God's command embracing the entire being of the church as an institution in human society. This is also accepted in the Church Order of 2015 of the Dutch Reformed Church. The Bible does not specifically give a church order but rather the principles required to establish such an order, which functions merely to provide the necessary channels for ensuring an unencumbered rule of the Word of God in the church as a whole.
A reformed church accepts that obedience to the Word entails doing everything in the church according to the Bible. This also means that obedience to the Bible puts the church in a position of doing things in the right way or pursuing the justice of the Bible. A just church appeals to the state to honour the church as an institution of the Christain faith. In keeping its law and order, the state has to make lawful room for the church to formulate its own beliefs and confessions, to organise its own services and meetings and to proclaim the message of the Bible in accordance with its own conviction. At the same time this also means that the state as an institution for justice in society should also be accepted in and influenced by the church. The church should be able to request the state to protect it in terms of the justice relevant to a church, rather than being alienated and persecuted by the state. The strongest weapon and method available to the church is the persuasion and inner conviction of its believers.
The aim of a church order in the reformed churches is to safeguard the Biblical way -for the church the correct and just way - of exercising its faith. Every action in the church also has a judicial side and should honour that which is just from a church's political point of view. A church order should provide an orderly framework or the just way within which the church can be governed by the Bible. It is within the right of the church to obey Christ in His Word with regard to the offices, assemblies, services, work in general, church discipline and relation to the state and other institutions in society (the themes of the chapters of the Church Order of 2015 of the Dutch Reformed Church). There are also terms in the Church Order of 2015 with a judicial link or inclination. Examples are, inter alia, a person holding the position of a minister, has to be recognized and legitimized by the church; a church service must meet certain standards to be ratified as a meeting of believers; its assemblies as assemblies of the body of Christ must be just and fair in their procedures; the rules of natural justice are relevant in the disciplinary actions of the Dutch Reformed Church; and this church has to accept the laws of the state pertaining to the ownership of buildings and land.

Keywords: order commanded by God; Bible provides principles; creation a unity in diversion; every deed in church has a judicial aspect; rules of natural justice applicable with regard to disciplinary actions


 

 

AGTERGROND EN PROBLEEMSTELLING

Dit was 'n Duitser uit Leipzig, Rudolph Sohm (1841-1917) wat volgens De Jong (1987:156, 170) onder die invloed van 'n Duitser uit Wittenberg, Martin Luther(1483-1546),1 tot die slotsom gekom het dat "kerk" en "reg" teenoor mekaar staan en mekaar prinsipieel uitsluit. Volgens Sohm is die wese van die kerk "geistlich" (geestelik) en dié van die reg "weltlich" (wérelds). Daarmee het hy Luther se opvatting oor die spanning tussen kerk en reg 'n treetjie verder geneem. Luther het die kerk en die geloof as God se eie werk (opus proprium) en die staat en die reg as God se vreemde werk (opus alienum) bestempel (Sohm 1892:1; De Jong 1987:170-171; Coertzen 2003:202).

Sohm was oortuig daarvan dat menslike kleingeloof meebring dat 'n beperkende menslike regsorde van balke en suile in die kerk opgerig word. Die reg is dwingend maar die kerk streef na vrye gehoorsaamheid uit liefde (Sohm 1892:698-700; Geldenhuys 1951:15). Later huldig Brunner dieselfde mening as Sohm (Coertzen 2003:202-203).

In teenstelling tot hierdie Lutherse neiging kon Johannes Calvyn (1509-1564) en ander gereformeerdes geen innerlike spanning in die kosmiesomvattende skeppings- en verlossingswerk van die Here aanvaar nie. Soos dit uit die Heidelbergse Kategismus van 1563 - 'n belydenisskrif onder die invloed van Calvyn - blyk, was God se stepping allesomvattend, insluitende die sondeval van die mens wat as kroon van die skepping alles saam met hom in die gebrokenheid ingetrek het2 en die verlossing wat lei tot 'n nuwe mens in 'n nuwe hemel en aarde. Dit is met ander woorde 'n omvattende verlossing wat by die mens begin as die Here hom van sy sonde en daarmee die skep van spanning tussen die aspekte van sy lewe, bevry (vgl. NG Kerk-Uitgewers 1982:39-76; Praamsma sa:255-270).3

Vanuit hierdie perspektief is Sohm deur gereformeerde kerkregtelikes of ondersteuners van die kanon - geesteskinders van Calvyn - geopponeer. In die voortsetting van die Reformasie in gereformeerde Nederland, sou FL Rutgers "als (jarelange) grootmeester in het Gereformeerd kerkrecht" aan die Vrije Universiteit in Amsterdam (1880-1910) in 1894 antwoord met Het kerkrecht in zoover het de kerk met het recht in verband brengt. Volgens Rutgers het Christus sy kerk onder mense gevestig en "hoe kan dan de eenige wijze, waarop zulks mogelijk was, met het voor de kerk bepaalde wezen in strijd zijn?" (in Geldenhuys 1951:18). Vir gereformeerdes (ook Calviniste of neo-Calviniste genoem) kan geen menslike handeling - ook sy Godsgehoorsame kerkvorming - los van die tydelike werklikheid geskied nie. Geen kerklike aksie is los van sy Umwelt of leefomgewing nie. Hierdie stelling geld vir Bybelvertaling, prediking, kerkmusiek, kleredrag, sosiale norme en so meer (Strauss 2018).

Vanuit 'n Reformatoriese kosmologie (leer van die skepping) word aanvaar dat "die lewe" of skepping 'n eenheid is waarin alles met alles saamhang. Hierdie samehang is gegrond op die skeppingswoord van God, waarin Hy die skepping as 'n eenheid met 'n nieherleibare verskeidenheid van aspekte voorsien het - 'n verskeidenheid waarin elke menslike handeling deur die kern van 'n aspek in samehang met die kern van die ander aspekte gelei en bepaal word. Dit is 'n samehang waarin die leidende aspek sy leiding behou, maar die kern van die ander aspekte in ag neem en so norme vir hierdie menslike handeling blootlê. Dit is verder 'n samehang wat 'n verskeidenheid aspekte vertoon waarop menslike handelinge, hetsy gehoorsaam of ongehoorsaam aan God, stuit op die stand van sake, omdat God se skeppingswet die spoor of bouplan is waarop alles in die skepping loop, of waarvolgens alles in die skepping geskied. Dit is dus 'n wet wat nie deur menslike ongehoorsaamheid uitgeskakel word nie, maar wel in praktyk verwring en verduister kan word. Daar is 'n verskeidenheid aspekte in God se skeppingswet, wat elke vorm van bestaan en menslike handelinge moontlik maak; wat natuurwette (vir die natuursye van die lewe) én kultuurnorme (vir die mens se persoonlikheid) as voorwaardes vir die lewe daarstel: 'n wet wat die mens as 'n sondaar voor God miskyk; wetmatighede as werklikhede wat die oortreder eventueel inhaal en hulle op hom of haar wreek. Soos die spreekwoord sê: jou sondes haal jou in. Daar is 'n verskeidenheid van norme vir die hele lewe wat in die Bybel én die tien gebooie veronderstel word (Spykman 1988:137144; Fowler 1988:28-38; Strauss 2018).

Kock (1975) noem die georganiseerde kerk 'n "direkte uitdrukking (van die liggaam van Christus) ... binne die horisonte van ons kosmiese ervaring". Gemeet aan die verskeidenheid in die eenheid van God se skepping, word die kerk as samelewingskring gelei deur die Christelike geloof - 'n geloofsverband waarin die lidmate in die normgehoorsame beoefening van die geloof die kerne van ander aspekte in diens van die geloof neem en erken as norme vir die kerklike lewe (Kock 1975:142-144). Die geloof berus op die kern van naasteliefde as trou in diens met Woord- en belydenisgetrouheid in die bewoording van hierdie geloof - vanuit kerklike geloofsbelang ag kerkreg die reels van natuurlike geregtigheid nodig in tugsake; sosiale verkeer word die geestelike saamwees van die gelowiges rondom die nagmaalstafel; finansiële bydraes word dankoffers in geloofsbelang sonder 'n winsoogmerk gemeet in rand en sent; en die liturgiese ruimte kommunikeer deur simbole soos die Woord oor die genade van God (Strauss 2010a: 2; Du Plooy 2007:18 e.v.).

Die Bybelse oorweging dat God se skepping 'n verskeidenheid in 'n eenheid is én dat elke menslike aksie deur die kern van 'n bepaalde aspek in samehang met die kern van elke ander aspek genormeer word, impliseer 'n samehang tussen kerk en reg. Anders gestel: hierdie oorweging beteken dat elke kerklike aksie, per definisie 'n geloofsgekwalifiseerde aksie, 'n regskant het, en dat die Christelike kerk as 'n geloofsverband nie van die staat as 'n regsverband losgemaak kan word nie. God het deur sy skepping 'n verskeidenheid oorspronklike skeppingsgegewes in harmonie en samehang daargestel (Strauss 2010a:1-3).

Dit is vanuit hierdie samehang tussen geloof en reg, en reg in diens van die geloof, dat NGKO-2015 in hierdie artikel ontleed word. Daar word gekyk na die betekenis van regsverwante begrippe in NGKO-2015, wat betrekking het op interne en eksterne kerklike sake; dus regsverwante terme in kerk- of kerkverwante kwessies in NGKO-2015.

 

WAT IS 'N KERKORDE?

By 'n ontleding van regsverwante begrippe en bewoordings in NGKO-2015 moet die doel en plek van 'n kerkorde onder oë gesien word. So 'n omskrywing kan die voorkoms van die begrippe kerk en reg in 'n kerkorde verhelder. 'n Omvattende, toegespitste omskrywing van die begrippe kerk en reg word daar gelaat, omdat relevante stof vir die doeleindes van hierdie artikel deur NGKO-2015 se gebruik daarvan bepaal word. Daar word volstaan met 'n sydelingse verstaan van kerk en reg soos blyk uit die reaksie op verwysings daarna in NGKO-2015, wat in die gebruik van regsverwante begrippe vir die orde van die kerk as 'n geloofsverband met genoemde samehang van die aspekteverskeidenheid in 'n eenheid in die skepping rekening moet hou.

In die Nederlandse of Nederduitse ("de lage landen" grensende aan Duitsland (Koffeman 2009:299)) kerkordelike tradisie word I Korintiërs 14:40 gebruik as die locus classicus of plek van begronding vir 'n kerkorde. Hierdie gebruik kom voor in die notule of handelinge van die eerste meerdere vergadering in gereformeerde Nederland, naamlik die Konvent van Wesel in 1568. Die Konvent is in ooreenstemming met Calvyn, wat van hierdie opdrag dat "alles (rondom kerk en erediens) gepas en ordelik geskied ... een regel maak" waaraan alle uitwendige werk van die kerk gemeet word. Calvyn wys daarop dat die Here aan die kerk die vryheid gegee het om op sy eie manier, maar binne die raamwerk en orde van die Skrif, sy uiterlike regering en seremonies te hanteer. In sy tyd verset Calvyn hom teen "geestdrijvers"4 wat ontken dat die kerk, soos enige gemeenskap waarby mense betrokke is, sonder een of ander vorm van organisasie funksioneer en verhewe is bo "aardse" verhoudings (Sizoo sa:229; Nauta 1971:14).

In die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland van 1959 (Nauta 1971:35) word in artikel 1.1 verklaar dat bepalings vir die hele kerklike lewe gegee word, omdat die "apostolisch voorschrift" van 1 Korintiërs 14:40 inhou dat "alles betamelijk en in goede orde behoort te geschieden" (Nauta 1971:43). Nauta voeg hierby dat "slechts" die Woord ten diepste bepaal of iets "recht" is. Hy haal Calvyn aan as hy betoog dat 'n kerk sonder 'n goeie orde van haar liggaamsenuwees ("zenuwen") beroof word en afstuur op deformasie en agteruitgang. Die kerkorde as 'n mensgemaakte orde is egter buite orde as die heil van die mens van die nakoming daarvan afhang en ware vroomheid in die gehoorsaming van 'n kerkorde gesoek word. 'n Kerkorde moet die verantwoordelikheid van gelowiges teenoor mekaar opskerp en die onderlinge liefde voed. Onder 1 Korintiërs 14:40 se betaamlikheid plaas Calvyn ook ordebepalings vir die erediens waarin die gelowige in sy optrede met "ingetogenheid, aandacht en eerbied... (voor God) verkeren". Goeie orde beteken dat kerklike ordebepalings vir seremonies die aandag op God rig (Nauta 1971:10,11). Die eerste Kerkorde van die eerste Algemene Sinode van die NG Kerk, NGKO-1962, neem hierdie gebruik by sy Nederlandse suster oor deur middel van artikel 2 (NGK 1964:2).5 In die daaropvolgende kerkordes is hierdie teks die enigste Bybelteks wat in NGKO-1962 tot NGKO-2015 - vir meer as vyftig jaar -gebruik word (NGK 1964:1-16; NGKO-2015:1-22).

Uit die geledere van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika skaar GPL van der Linde hom ook hierby as hy toon dat die orde in hierdie kerke gebaseer is op die teks van 1 Korintiërs 14:40. Hy gebruik die Afrikaanse Bybel van 1953 vir vers 40 se "laat alles ordelik en welvoeglik toegaan". Van der Linde reken dat hierdie "ordelik en welvoeglik" vir alles in die kerk geld en verseker dat die kerk alles onderhou wat Christus hulle beveel het (Van der Linde 1983:7). Uit dieselfde kerke verwys Spoelstra vroeër na 1 Korintiërs 14:40 as 'n omvattende Skrifbevel: die hele kerklike lewe moet Skriftuurlik en ordelik daar uitsien (Spoelstra 1966: 11). 'n Meer onlangse werk in Afrikaans in die gereformeerde kerkreg is dié van Coertzen (1991), Gepas en ordelik: 'n titel wat hy aan die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (NAV) van 1983 ontleen (Coertzen 1991:e.v.). Die bekende kanonikus in die Gereformeerde Kerke in Nederland, H Bouwman, onderstreep hierdie gedagtegang as hy daaraan toevoeg dat die apostels in die Naam van Jesus Christus opdrag gegee het dat "alle dingen in de gemeente eerlijk en met orde" moet geskied. Vir hom gaan dit oor ordereëls sodat die gelowiges weet "hoe men in het huis Gods moet verkeeren". Bouwman verwys na daardie vermaarde kerkregkenner, Gisbertus Voetius, as hy kerkreg (met kerkordes wat in die historiese deel daarvan teregkom) bestempel as die wetenskap van die regering van die sigbare kerk - 'n wetenskap wat hom onderskei van die staatsreg deurdat dit op die terrein van die kerk met sy Skriftuurlik-normatiewe geloofsaard beweeg (Bouwman 1985:9-10).

'n Student van Van der Linde, CJ Smit, doen 'n deeglike omvattende eksegese van I Korintiërs 14:40. Uit die konteks waarin die vers voorkom, trek Smit die volgende konklusies: hierdie orde staan teenoor beroering, verwarring, twis en tweedrag; die orde van vers 40 impliseer dat iemand of iets herstel is om in sy Godgegewe plek te funksioneer; en dit is betaamlik, paslik, eerbaar en opbouend. Orde is 'n gawe én 'n opdrag van God en moet oor die hele kerklike linie gehandhaaf word (Smit 1984:18).

Uit wat tot dusver gesé is, blyk dit dat Calvyn en sy geesgenote sake soos die uiterlike regering van die kerk, seremonies in die kerklike lewe, soos die vorme waarin Woord en sakrament bedien word, en die ampte en hulle "regering" van alles in die gemeente en kerkverband, tereg as sake beskou wat in 'n kerkorde opgeneem behoort te word. 'n Skrifgefundeerde kerkorde moet die kanale verskaf waardeur die Woord in en deur die hele kerklike lewe vloei en regeer. 'n Kerkorde moet die regering van die Woord deur die Gees in die kerklike lewe dien en in sy gehoorsaamheid daaraan beveilig. Daarom dat Plomp, by implikasie, praat van 'n kerkorde as 'n dienende orde - in diens van die Woord - en kerkreg as 'n dienende reg (Plomp 1992:38-40). Daarom dat gereformeerdes - anders as sekere Suid-Afrikaanse howe (Pienaar sa:9) - die kerkorde nie as die kontrak vir die eenheid van die kerk beskou nie, maar die geloofsbelydenis as die akkoord van kerklike gemeenskap of geloofseenheid tipeer (Visser 1999:1).6 Dit behels kerklike belydenisse wat in hulle formulering van die geloof, volgens Bavinck, ver onder die Skrif staan (Bavinck 1967:401-402), in die lig daarvan hersienbaar is, maar sedert hulle ontstaan as Skrifgeformuleerde belydenisse van die geloof min wysigings ondergaan het (NGK 1998:414-415). Bouwman beskou 'n kerkorde as in diens van Woord en belydenis en ook ingestel op die goeie orde, reg en welsyn van die kerk te wees (Bouwman 1985:325-326).

Nauta bepleit 'n kerkorde met algemene en duursame bepalings wat 'n Woordgedrewe kerk bedien - bepalings wat self Woordgefundeer is en wat die kerk teen die tirannie van mensgemaakte reëls ten koste van regering deur die Woord en Gees van God beskerm. 'n Kerkorde moet duursame Woordgebonde én tydsgerigte bepalings bevat en nie die kerklike lewe met mensgemaakte bepalings reglementeer en, ten koste van gehoorsaamheid aan die Woord, verkneg nie (Nauta 1971:9). Die begrippe kerkorde en kanale wil juis aan 'n Woordgebonde kerklike lewe gestalte gee en is nie 'n kerkwet wat dwingend en daarom geestelik smorend van aard is nie - soos met 'n administratiewe staatswet wel die geval is (Bouwman 1985:327; Smit 1984:86). Te veel detailbepalings werk reglementerend en stremmend op die kerk in en te min bepalings gee aanleiding tot die verwarring, woelinge en twiste waarna Smit verwys. 'n Kerkorde sonder ordelike, oop kanale vir die kerklike bediening ontkrag die seggingskrag van die Woord in die kerklike praktyk. Vandaar NGKO-2015 se artikel 48 met bepalings vir die erediens: watter faktore 'n wettige, amptelike erediens daarstel; wie die NG Kerk erken om leiding in 'n erediens te neem sodat dit oor die suiwer Woord handel; en waaroor verantwoorde prediking gaan met inagneming van Skrif en belydenis as norme (NGKO-2015:14).

Hierdie kerklike bepalings vir die erediens word opgestel kragtens die interne verbandsreg van die kerk; bepalings wat deur 'n openbare hof in ag geneem moet word wanneer kerklike besluite rakende die erediens in die NG Kerk op die hofrol geplaas word; en bepalings wat na binne 'n raamwerk van orde verskaf, waarbinne 'n gereformeerde erediens as 'n erkende seremonie onder NG Kerkgemeentes op menslike vryheid en inisiatief floreer. Hierdie vryheid is in gebondenheid aan die Woord en begelei deur die Gees - dit waarvoor Calvyn pleit (Sizoo sa:229).

 

KERK EN REG EN DIE INLEIDING VAN NGKO-2015

Hoofstuk 1 van NGKO-2015 handel oor die belydenis, aard en orde van die kerk. Die ordereëlings oor hierdie sake word volgens NGKO-2015 moontlik gemaak deur dit wat artikel 3.3 bepaal. Hierdie artikel sê dat die NG Kerk sy "eie interne orde" reël op grond van sy onvervreembare roeping en interne bevoegdheid as kerk van Jesus Christus én sy - staatser-kende - reg op vryheid van godsdiens. As kerk van Christus wat hom in die konkrete samelewing bevind, aanvaar hy laasgenoemde met dank.

Eerstens is die reg van die NG Kerk as kerk op vryheid van godsdiens 'n beginsel in die gereformeerde kerkgeskiedenis en die keersy van die Bybelse waarheid dat geloof en kerk nie afdwingbaar is nie en aan die innerlike oortuiging van die gelowiges verbind word. Tweedens is vryheid van godsdiens een van die regte wat die Handves van Regte in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 in artikel 15 uit 'n staatsoogpunt waarborg. Hierin onderskryf die Handves die vryheid van godsdiens van alle burgers in Suid-Afrika: "Elkeen het die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening" (Rautenbach & Malherbe 1994:13; Legal Resources Centre 1994:7; Kleyn & Viljoen 1998:269). 'n Vryheid wat NGKO-2015 ook vir die NG Kerk opeis. Hiermee beroep NGKO-2015 sig op 'n grondwetlike bepaling wat die Regering van die dag met sy beheer oor die swaardmag in die Republiek (Romeine 13:4) aan die Grondwet bind om vryheid van geloof en oortuiging aan die NG Kerk te waarborg. NGKO-2015 gee by implikasie te kenne dat die NG Kerk deelneem aan die regsorde in die Republiek, dat hy hom aan die grondwet en ander landswette onderwerp, en dat hy hom by die besluite van staatsinstellings hou en langs die niegewelddadige burgerlike weg - onder andere op grond van sy vryheid van spraak - sal optree om die uitkoms daarvan te verander. NGKO-2015 bepaal dus dat die NG Kerk hom in gehoorsaamheid aan Romeine 13:1-7 hou aan die regsprosesse van die state waarin hy hom bevind.7

Teen hierdie agtergrond wat deur NGKO-2015, artikel 3.3, blootgelê word, bepaal NGKO-2015, artikel 1, wat die geloofsidentiteit van die NG Kerk is: 'n identiteit wat NGKO-2015 kerkordelik beveilig of anker binne die NG Kerk se staatserkende, wetlike vryheid van godsdiens, oortuiging, spraak en kerklike inrigting en regering.

Artikel 1 sê dus dat die NG Kerk gegrond is op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Daarmee kies NGKO-2015 vir die standpunt dat die Bybel die objektiewe Woord van die Here is, buite menslike oortuigings of indrukke om. God se Woord wat nie van menslike inisiatief of hulp afhanklik is om sy Woord in mensetaal te wees nie.8 Die Bybel is die hoogste norm (norma normans) vir kerk en samelewing. Hierdie artikel kom onveranderd vanaf NGKO-1962 as die eerste Kerkorde van die Algemene Sinode van die NG Kerk (NGK 1964:2) en moes rigtinggewend wees vir die besluite van Algemene Sinodes ná 1962 oor Skrifgesag. Gemeet aan hulle gesag, staan NGKO immers bokant gewone sinodebesluite. Ongelukkig het NGKO, artikel 1, nie in verslae hieroor aan Algemene Sinodes aandag geniet nie (Strauss 2013:66, 89; vgl NGK 1986:611; NGK 1990:31; NGK 2002:548).

Hierby bepaal NGKO-2015, artikel 1, dat die "leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely" uitgedruk staan in die NG Kerk se belydenisskrifte of die Drie Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die bekende "Sinode van Dordrecht in 1618-1619". Hierdie formulering gee aanleiding tot drie gevolgtrekkings. Die eerste is dat die drie algemene of ekumeniese belydenisskrifte nie genoem word nie, omdat die aanvaarding van die Nederlandse Geloofsbelydenis wat die aanvaarding van hierdie ekumeniese belydenisse in sy artikel 9 insluit, voldoende is (NG Kerk-Uitgewers 1982:14). Die tweede is dat die Skriftuurlikheid van die Formuliere nie in elke leesteken of uitdrukking geleë is nie, maar in hulle formulering van die "gereformeerde geloofsoortuiging", met ander woorde dat die ses belydenisskrifte Skriftuurlik is in dit wat hulle wil wees: geformuleerde (formuliere) belydenisse van die geloof (NGK 1998:414-415). Die derde is dat die NG Kerk hiermee uitdruklik getrou bly aan sy Nederduitse of Nederlandse gereformeerde oorsprong. 'n Keuse wat hy boonop binne sy reg op vryheid van geloof en oortuiging soos verwoord in die Handves van Regte, uitoefen (Strauss 2010b:317-331).

Met die koms van die nuwe demokratiese Suid-Afrika in 1994 kon die NG Kerk sy identiteit as 'n gereformeerde kerk, met sy kerkordelike enjuridiese kante, voortsit soos vroeër. Die kerkordelike beveiliging van sy geloofsidentiteit as 'n geloofsverband is gehandhaaf. In die demokratiseringsproses het 'n nuwe juridies-erkende grondwetlike element vanuit 'n humanisties-indiwidualistiese oord, die Handves van Regte as hoofstuk 2 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996, egter bygekom. Sy vryheid van godsdiens, gewete en oortuiging is grondwetlik verskans. Die NG Kerk was met ander woorde deel van 'n nuwe samelewing met 'n nuwe etos waarin hy homself as kerk moes uitdruk. Hy sou dus voortgaan met sy kerklike praktyk in die nuwe Suider-Afrika in die hoedanigheid van 'n moderne kerklike telg met sy oorsprong in ou gereformeerde Nederland (Strauss 2016:224225). Boonop sou die Algemene Sinode van 2002 in 'n nuwe omgewing ook na grondwetlike bevestiging gryp vir die kerkordelike beveiliging van sy identiteit. NGKO-2002, artikel 2, wat handel oor die temas van die "lewe en werk" van die NG Kerk - die lewe en werk waarop NGKO hom rig - is in drie verdeel met die derde deel 'n nuwe bepaling. Hierdie bepaling wat in NGKO-2015 voortgesit word, sê dat die NG Kerk sy eie interne orde self reël op twee gronde: sy onvervreembare roeping en bevoegdheid as kerk van Christus én sy reg op vryheid van godsdiens (NGKO-1998:1; NGKO-2002:1). Hoewel NGKO-2002 dit nêrens aandui nie, weerspieël die inhoud, sowel as die bewoording, spore van die Handves van Regte se artikel 15. NGKO-2015, artikel 3.3, word só 'n woordelikse voorbeeld van die vervlegting van die kerkreg met die reg in en van die staat.9

 

KERK EN REG IN HOFSAKE

Ten opsigte van die Suid-Afrikaanse howe se benadering van die identiteit, leer en regering (struktuur) van die kerk, kan daar na drie sake in Suid-Afrikaanse howe verwys word: sake wat die bepaalde hof se houding hieroor aandui, maar nie noodwendig 'n aanvaarde en staande maatstaf ten opsigte van kerklike aangeleenthede in Suid-Afrikaanse howe weerspieël nie. Daar word vervolgens verwys na die Du Plessis-saak van 1932, die saak tussen die NG Kerk in Afrika (NGKA) en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suidelike Afrika (VGKSA) in 1998, en die Gaumsaak in 2019. Die Du Plessis-saak oor die leer van die kerk het in die Kaapse Hooggeregshof afgespeel (Van der Watt 1987:163-170), die NGKA-VGKSA-saak oor kerklike strukture in die Appèlhof in Bloemfontein (Strauss 1999:32-54), en laastens die saak betreffende selfdegeslagverhoudinge in die Gautengse Hoërhof (High Court Gauteng Division case 40819/17). Ons konsentreer op die hof as 'n staatsinstelling se benadering van hierdie kerklike sake.

Professor du Plessis was 'n teologiese dosent van die NG Kerk by die Kweekskool vir predikante aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy is van dwaalleer aangekla. Eventueel het die hof Du Plessis gelyk gegee omdat die kerklike liggame in hierdie tugsaak oor leerdwaling hulle eie kerkordelike prosedure negeer het. In sy uitspraak het regter Gardener ook opmerkings gemaak wat die posisie van die hof oor die leer van die kerk nader kan aandui. Volgens die regter kan die hof hom nie oor die meriete of die waar en vals van kerkleer uitspreek nie. 'n Beslissing van 'n kerkvergadering skep egter 'n probleem wat die hof in hersiening kan neem as hierdie vergadering in kwade trou of male fide optree. So iets is moontlik as die kerkvergadering dwaalleer uitwys in sake waarin lidmate op redelike gronde geen dwaalleer sien nie en die kerkvergadering as bevooroordeeld bewys word omdat hy dit dwaalleer noem. Die hof kan beslis as die vergadering sy eie kerkordelike prosedure verkeerd gebruik of ignoreer, of die reëls van natuurlike geregtigheid wat vir kwasi-judisiële liggame soos kerklike tugverga-derings geld, oortree. Die hof spreek hom nie uit oor die kerkleer nie, maar oor onregverdigheid, onbillikheid, onredelikheid en die gebruik van verkeerde prosedure - die ordelike of regskante van die saak - deur kerklike tugvergaderings (Sadler 1979:44). Anders gestel: hoewel alle praktiese gevolge hiermee nie uitgeklaar is nie, konsentreer die hof op bewese onreg, die regsaspekte of regte prosedure, en laat hy dit aan die vergaderings van die kerk of die kerklidmaat oor om te beslis oor die inhoud van die kerkleer. Daarby laat hy dit ook aan die kerk oor om self te besluit oor dit wat in 'n kerkorde as billike, onderling ooreengekome kerklike prosedure opgeneem moet word. Opgesom gaan dit hier om die respek van die hof vir die eie aard van 'n kerk wat persone bind deur oortuiging, asook die respek van die kerk vir die dwingende aard van staats- én dus hofgesag. Kerk en reg kan jy nie skei nie, maar daar is 'n reg van die kerk én 'n reg van die staat wat deur beide kerk en staat erken moet word. Nog anders gestel: die Suid-Afrikaanse Handves van Regte waarborg vryheid van godsdiens, maar die openbare regsorde soos in stand gehou deur die staat, bind die kerk daarby, deur Romeine 13, aan die gevolge daarvan.

Die saak voor die Appèlhof oor die wettigheid van kerk en kerkverband het eventueel uitgeloop op 'n erkenning deur die hof van die eie aard van 'n kerk en die kerk se aanvaarding van hofbeslissings oor kerksake op grond van die billikheid en regverdigheid daarvan, met die hof se inagneming van die kerk se selfverstaan daarby inbegrepe.

In die Appèlhofuitspraak in 1998 dat die NGKA wettig bestaan ná sy weiering om in die VGKSA saam met die NG Sendingkerk opgeneem te word, is daar ook verwys na dit wat die hof in sulke kerksake in ag moet neem. Regter Vivier het sy uitspraak as die uitvloeisel van 'n juridiese toets bestempel, wat rekening hou met die aard van 'n gereformeerd-presbiteriale kerk en sy selfverstaan soos uitgedruk in sy kerkorde én die gevolg van 'n "regsoogpunt" wat "in die uitsprake van ons howe" erken word. Die Appèlhof het beslis dat die regspersoonlikheid, eiendom, bates en laste van gemeentes, deur hulle kerkrade as hulle organe, hulle nie sonder hulle toestemming ontneem kan word en hulle belydenis en kerkverband ook nie sonder hulle instemming verander kan word nie. Kerkverband is 'n verband van gemeentes as komplete kerke en belydenisskrifte is nie slegs afhanklik van gewone sinodebesluite nie, maar van die goedkeuring van die gemeentes. Dit gaan om die akkoord van kerklike gemeenskap waartoe gemeentelidmate by die vorming van kerkverband as 'n verband van gemeentes toetree.10 In 'n aparte nota sé regter Harms, ondersteun deur drie kollegas, dat tweederdes van die gemeentes moet toestem tot 'n wysiging van die belydenis.11 Dit is onnodig om te sé dat die kerk hierdie uitspraak erken en daarvolgens handel en dat die hof daarmee blyke gegee het dat hy die aard en selfverstaan van die kerk in sy regsopinies verreken.

As dit gaan oor die reg van die kerk en die reg van die owerheid, of beperkings op daardie sake van die kerk waaroor die hof kan besluit, dui die Gautengse Hoërhof se uitspraak in die Gaumsaak egter op 'n ander benadering. Gaum het die hof versoek dat die besluit van 'n buitengewone Algemene Sinode in November 2016 om die pro-gaybesluit van die Algemene Sinode van 2015 tersyde te stel, self tersyde gestel word, en geslaag. Sonder om op die meriete van sy uitspraak in te gaan, kan dit aangedui word dat die hof op twee gronde tot sy uitspraak gekom het: dat die NG Kerk deur sy Algemene Sinode nie gehou het by die prosedure wat geld in NGKO-2015 en Reglement 19 vir die herroeping van die besluite van hierdie vergadering nie; en dat die NG Kerk die grondwetlike eis in Handves, artikel 9, van gelykheid en geen diskriminasie vanweë seksuele oriëntasie nie, nie tot waarde van die gemeenskap hanteer het nie, en dat hierdie besluit die kerklike regte van Gaum ingekort het. Die hof het egter nie die NG Kerk se reg op vryheid van godsdiens én assosiasie hiermee probeer uitbalanseer nie. Dus is sy maatstaf duidelik: die kerk se reg op vryheid van godsdiens en assosiasie weeg nie op teen die indiwidu se reg op gelykheid nie (High Court of Gauteng Division case 40819/17:17,24,25, 32,33,46; Kleyn & Viljoen 1998:269-270). Daarby het die hof gehou by sy vertolking van die prosedure soos vervat in NGKO-2015, hoewel hy 'n staande, nie-geskrewe gebruik in die NG Kerk, naamlik dat 'n nuwe besluit deur 'n sinode die staande besluit ophef, eenkant toe gevee het, omdat dit nie in NGKO-2015 afgedruk is nie. 'n Normale prosedure of aanvaarde gebruik wat juis daarom regskrag het.

Vervolgens aan die beurt is die regskante van die bepalings van NGKO-2015 vir die kerklike ampte en kerkvergaderings, soos vervat in hoofstukke 2 en 3 en artikels 4 tot 47 (NGKO-2015:1-13).

 

KERK EN REG BY KERKLIKE AMPTE EN VERGADERINGS

Onder sy bepalings vir die kerklike ampte plaas NGKO-2015 die dienswerk van vier groepe in die NG Kerk: die "drie besondere ampte", te wete die bedienaar van die Woord of predikant, die ouderling en diaken en dan die "dienswerk van die gelowige". Wat laasgenoemde betref, noem NGKO-1970 tot NGKO-1990 in artikel 3 die drie besondere ampte én die "algemene amp van die gelowige" (NGKO-1970:1; NGKO-1990:1-2). By die Algemene Sinode van 1990 vedwyn hierdie "amp van die gelowige" egter uit NGKO-1990. Hoe ernstig NGKO oor die amp van die gelowige was, is onseker omdat die res van hoofstuk 2 oor die ampte deurgaans tot bepalings vir die drie besondere ampte beperk word. Die amp van die gelowige as 'n begrip word vir 20 jaar deur NGKO erken, maar in sy inhoud of taak negeer. In 1974 word die taak van die gelowige met die weglaat van "amp" opgeneem in NGKO-1974, hoofstuk 4, artikel 55, onder die opskrif "dienswerk van die gelowiges". In hierdie artikel word in die algemeen na georganiseerde kerklike dienswerk verwys, maar nie na omskrewe take, soos by die besondere ampte nie (NGKO-1974:12-13). Beskou vanuit die strukturele en sistematiese oor-wegings vir die uitleg van 'n kerkorde, loop die amp of dienswerk van die gelowige in NGKO vanaf 1962 tot 2015 dus die pad van 'n afgeskeepte weeskind - 'n ouerlose uitgeworpene.

Omdat die kerk primêr 'n draer van die Bybelse Boodskap is, staan die amp van die bedienaar van die Woord sentraal in die kerklike bediening. En omdat daar 'n deeglike opleiding vir die bekleding van hierdie amp benodig word, het die meeste regskante by die drie besondere ampte in NGKO-2015 betrekking op die amp van predikant. Vir iemand om deur die kerkraad van 'n gemeente of vanuit kerkverband as 'n predikant beroep te word, moet die persoon wettig (die regskant) kwalifiseer vir die amp. Waar artikel 6 van NGKO-2015 die opleiding van bedienaars van die Woord reël - dit is vanuit die sistematiese faktor vir die uitleg van 'n kerkorde 'n paslike naam vir die amp en die een waaraan NGKO-2015 voorkeur gee - hanteer artikel 7 die kerklike verlening van bevoegdheid om beroepbaar verklaar te word. Aan hierdie bevoegdheid word 'n kerklike term met 'n regsklank gekoppel: legitimasie. 'n Gelegitimeerde is kerklik ondersoek en het die kerkbevoegdheid ontvang om as 'n bedienaar van die Woord in diens van die gemeente of kerkverband beroep of verkies te mag word. 'n Persoon wat 'n bedienaar wil wees, moet dus aan die kerklike vereistes voldoen en via die Algemene Steunspan Predikantesake namens die NG gemeentes gelegitimeer of beroepbaar gestel word (NGKO-2015^). NGKO-2015, artikel 5, stel drie vereistes om die amp te kan beklee: 'n, let wel, wettige beroeping, approbasie ('n geykte kerkregtelike begrip of 'n regsimplikasie...) of goedkeuring uit die gemeente of kerkverband en die bevestiging in die amp. Net soos by die opleiding, legitimasie en beroep, is daar kerkordelike vereistes vir die bevestiging - kerkordelike kanale wat betrekking het op die aard van hierdie amp as 'n bedienaar van die Woord.

NGKO-2015, artikel 9, bepaal die taak van die predikant: 'n taak wat ryk gevarieer is, maar in essensie sentreer rondom dit waarvoor hy/sy opgelei is, naamlik die bediening van die Woord. Artikel 9.4 praat van die voortgaande bestudering en die verkondiging van die Woord en omdat die Woord die tekens verklaar, die bediening van die doop en die nagmaal. Die bedienaar neem met die Woord ook leiding in die dissipelskap en gebede van die gemeente. Kerkregtelik word die bedienaar beroep en in die amp bevestig vir diens in 'n spesifieke gemeente en daarom laat 'n rondbeweeg met 'n bediening in ander gemeentes, aldus artikel 10, die wenkbroue lig. Dit is onregmatig en onkerklik en kan die betrokke ring tot aksie aanspoor. Hier is 'n Goddelike roeping wat kerkordelik beveilig word en net verlaat kan word om "ernstige en gewigtige redes" - aldus artikel 11. Hierdie redes word aan die predikant oorgelaat, maar by die oorweging daarvan kan die gemeente ook betrek word. 'n Predikant nader ook sy of haar oudag op 'n kerklike wyse: artikel 14 bepaal dat hy of sy nie aftree nie, maar emeriteer: 'n vertroetelde kerkregtelike term onder dominees vir 'n nuwe "lewenstaat".

By die bespreking van die kerklike tug met sy regskante wys ons op die tug oor die bedienaar van die Woord.

Ten opsigte van die ouderling en diaken, hou NGKO-2015 sig by 'n wettige verkiesing, bekwaamheid vir die amp en die besonderhede van hierdie roeping. Soos die dominee is die ouderling, diaken en die gelowige in die algemeen gebonde aan die bepalings van NGKO-2015 vir die kerklike tug.

Vir 'n kerkraads-, rings- of sinodevergadering om - ook in kerkordelike terme - wettig te wees, is daar die bepalings van NGKO-2015, artikel 18 tot 47. NGKO-2015 gee in artikel 18 tot 25 algemene vereistes vir effektiewe kerkvergaderings (NGKO-2015:6-7) - vereistes waaraan die vergaderings uit 'n kerklike hoek gehou word en waarvoor 'n burgerlike hof in sy hersiening van die besluite op die prosedure en billikheid daarvan gerig is én dikwels van die menings van kerklike deskundiges afhanklik is. In die hier bo genoemde hofsake is daar ook van kerklike deskundiges in die beoordeling van sake gebruik gemaak.

Elke kerkvergadering het 'n kerkordelik aangewese werksterrein (NGKO-2015:7,9,10,11). Hoewel die vasstelling van die grense tussen vergaderings in 'n dinamiese proses van kerkwees nie eenvoudig is nie, moet elke vergadering sy kerkordelik vasgestelde agenda vanuit kerklike perspektief, in die lig van die Woord van God en op 'n kerklike wyse, hanteer. 'n Vergadering mag nie op die terrein van ander vergaderings oortree nie en besluite moet ten diepste Bybelsverantwoord en in die geloofsbelang van die NG Kerk wees - al sou daar soms onderling verskil word - omdat NGKO-2015, artikel 20, vir alle NG Kerkvergaderings geld: die Christusverleende gesag waarmee agendas hanteer word, is Woordgesag (NGKO-2015:7; Jonker 1965:6; Strauss 2010a:29). Elke vergadering het ook 'n kerkordelik vasgestelde kworum en moet op 'n kerkordelike wyse saamgestel én met Skriflesing en gebed geopen word - om wettig, billik én so gereformeerd verantwoord ingerig te wees (NGKO-2015:7,24). Besluite van kerkvergaderings wat onkerkordelik belê en/of saamgestel is, sal nie verantwoorde dispute - in 'n internkerklike appèl of 'n aansoek om hersiening voor 'n hof - oorleef nie. Die NG Kerk is vir die gang van sy vergaderings - soos by die vasstelling van sy kerkorde - geregtig op 'n eie reglement van orde of prosedure vir vergaderings waaraan hy by appèlle of deur 'n hof gehou sal word. Dit behels 'n reglement van orde wat vanuit die regskant van 'n vergadering billikheid vir sy lede, orde en effektiewe debatvoering en besluitneming wil verseker; dermate dat die besluite die oortuigings van 'n niegemanipuleerde vergadering met 'n regverdige, billike voorsitter verwoord - 'n regskant van die gebeure (NGKO-2015 Reglement van Orde in NGKO-2015:23-28).

 

KERK EN REG IN DIE ARBEID, TUG EN BETREKKINGE NA BUITE

NGKO-2015, artikel 48 (NGKO-2015:13-14), bepaal wanneer 'n kerkdiens regmatig of kerkordelik as 'n amptelike, openbare erediens kwalifiseer. Die begrip "amptelik", wanneer dit in die NG Kerk aangewend word, dui normaalweg aan dat dit gaan om die betrokke ampte, dat die geleentheid 'n gevolg van die handelinge van 'n kerkvergadering is en dat 'n kerkvergadering formeel so besluit het. Eie aan die NG Kerk as 'n gereformeerde kerk staan die gereformeerde of, volgens hierdie siening, suiwer verkondiging van die Woord sentraal. 'n Erediens as 'n diens om God te eer, is volgens NGKO-2015, artikel 48, 'n ontmoeting of tweegesprek tussen die Here en sy gemeente; 'n ontmoeting waarin die Here praat deur Woord en sakrament en die gemeente antwoord met hulle gebede, liedere en dankoffers. Ook is 'n erediens 'n plek vir die geloofsmatige "onderlinge gemeenskap van die heiliges" of gelowiges; 'n diens waaroor die ampte saam met die gemeente waak, omdat suiwer Skrifverkondiging die roeping van die hele gemeente is. Daarom moet die prediker opgelei wees om aan die akademiese vereistes van die NG Kerk in NGKO-2015, artikel 6, te voldoen, gereformeerd van belydenis of geloofsoortuiging wees en as hy/sy nie die eie leraar of die konsulent is nie, deur die kerkraad uitgenooi wees om te preek. Volgens NGKO-2015 is Skrifprediking 'n uitleg en toepassing van die Woord, gaan dit oor die volle raad van God en moet dit aan die kerklike jaar as program én die gereformeerde belydensiskrifte reg laat geskied (NGKO-2015:13-14).

Anders as nie-amptelike Woordbediening soos in die praktiese opleiding van leraars, moet die bediening van die sakramente waar ook al in die gemeente, deurgaans geskied deur 'n kerklik erkende bedienaar van die Woord onderhewig aan die ampte. Die geestelike waarborg wat 'n sakrament bied, kan nooit nie-amptelik wees nie (NGKO-2015:14). Hierdie bepaling spruit uit die antihiërargiese oortuiging dat die kans van meer gelowiges om 'n Bybelsverantwoorde besluit of aksie te onderneem, beter is as dié van 'n enkeling. Efesiërs 4:18 sê: "Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek"; of, mag julle mekaar in die lig van die Woord beïnvloed om 'n Skrifgebonde besluit te neem en daarvolgens te handel (Strauss 2010a:9).

Bedieninge soos jeugsorg, herderlike sorg, barmhartigheid en leer en aktuele sake geskied onder die toesig van die kerkraad, en waar meer gemeentes betrek is, meerdere vergaderings (NGKO-2015:14-16). Die regskante van besoldigde persone wat nie leraars is nie en in diens is van die gemeentes of verband van die NG Kerk, word per diensooreenkoms gereël (NGKO-2015:16).

NGKO-2015, artikel 59 tot 66, bevat bepalings vir kerklike tug. Die kerklike tughandeling besit 'n geestelike karakter (Sadler 1979:9) wat by die kerk as 'n geloofs- en liefdesgemeenskap pas, tug wat op 'n kerklike wyse met geestelike middele uitgeoefen word. NGKO-2015 noem kerklike tug in die lig van die verband tussen kerk en reg in hierdie artikel, pastoraal-kerkregtelik van aard of 'n pastoraal gestempelde handeling - 'n handeling wat uit 'n Bybelse en geestelike oogpunt ook "billik en regverdig toegepas" moet word, of 'n regskant het. Die gebruik van billik en regverdig onderstreep die rol van die reëls van natuurlike geregtigheid in kerklike tugsake (Sadler 1979:185-194). Om die liefde en onpartydigheid van die tugvergadering aan klaers en aangeklaagdes te toon, moet so 'n vergadering billik, regverdig teenoor almal en geduldig wees. Die tugliggaam moet agteroor leun om die liefde, die waarheid in verband met hulle geloofsgoed en die geestelike oortuiging van lidmate om een te word in kernsake van die geloof, te dien. Tugsake moet tyd inruim vir die erkenning van die menswaardigheid - én die denk- en taalspoed of 'n gebrek daaraan - van almal betrokke, gesonde verstand (die Skotse "common sense" van Gray & Tucker 1986:22,170) en die lewenswysheid van ouderlinge om tot gegronde bevindings en toepaslike tugmaatreëls in die kerklike omstandighede te geraak. Met die oog op regverdigheid as 'n juridiese begrip, gaan dit volgens NGKO-2015 om tugwaardige sondes of sondes wat in die konteks 'n openbare, aanstootlike of ergerlike karakter dra (Gray en Tucker sê 'n "Open scandal in the church, damaging its reputation...", 1986:167). Daarom kom nie elke sonde of sondetjie op die agenda van 'n kerkvergadering nie en gee NGKO-2015 nie 'n vaste sondelysie met tugmaatreëls, wat los van die omstandighede 'n bloudruk vir toepassing aan kerklike tugvergaderings verskaf nie (Sadler 1979:62). 'n Sondelys met tugmaatreëls ignoreer billikheid in die omstandighede waarin die daad/dade plaasgevind het én die moontlikheid van inkeer en vergifnis tydens die ondersoek met die Here se "compassionate justice" of omgee-geregtigheid aan sondaars om Christus wil (Smit 2009:377).

By die Algemene Sinode van 1998 betrek NGKO-1998 'n ondersoekliggaam in sy "besluite" by artikel 61, "ter wille van regverdigheid en billikheid". 'n Ondersoek- of tuglig-gaam is 'n gevolmagtigde kommissie wat deur 'n kerkvergadering saamgestel kan word om die saak te hanteer; 'n kommissie van ten minste 5 lede wat uit 2 gemeente-ouderlinge en "ander kundiges " van binne of buite die gemeente bestaan. Indien die kerkraad die saak self hanteer, kan hy persone uit die gemeente of kerkverband as adviseurs betrek (NGKO-1998:22). Hierdie reëling word met geringe wysigings deur die Algemene Sinode van 2011 in 'n reglement opgeneem (NGKO-2011:67-70) en is in NGKO-2015, reglement 18, steeds van krag (NGKO-2015:81-86).

NGKO-2015, artikel 67-70, maak bepalings vir die NG Kerk in sy vergaderings met ander instansies of kerke na buite: kerk en staat; kerk en maatskappy en vrye vereniging, kerk en onderwys en die NG Kerk en sy ekumeniese verhoudinge met ander kerke. Twee sake is bepalend: In sy verhouding tot ander instansies in die samelewing eis NGKO-2015 vir die NG Kerk die erkenning van sy eie aard op, terwyl hy dit terselfdertyd aan hierdie buite-instansies gun. Dit wil sê, soos reeds te kenne gegee in die verwysing na die saak voor die Appèlhof in 1998 hier bo, ag die NG Kerk dit as regverdig as die staat en die samelewing die kerk as 'n intern-soewereine geloofsverband met 'n eie geloofsaard en -etos hanteer. Die figuur wat NGKO-1998 hiervoor gebruik en wat NGKO-2015 ook gebruik, is gebaseer op 'n interpretasie van Romeine 13 en verpopulariseerde Neo-Calvinistiese oorwegings. Daarby wil NGKO-2015, artikel 68 en 69, dat sy eie aard deur instansies soos verenigings, maatskappye en die onderwys raakgesien en sy optrede teenoor hierdie instansies vanuit hierdie aard verstaan word. In sy ekumeniese verhoudinge met ander kerke in die binne- én buiteland gebruik NGKO-2015 'n gemoderniseerde, gereformeerde sirkelbenadering: 'n benadering wat 'n nouer eenheid vir kerke wat geloofsmatig nader aan hom staan, omskryf en voorstaan (NGKO-2015:21-22; Strauss 1991:187-200).

NGKO-2015, artikel 71, sluit af met 'n nuutjie in 'n gereformeerde kerkorde: 'n tussenorde - 'n kort tussenorde vir die eenheidsproses in die NG Kerkfamilie en 'n orde wat kerkordelik min om die lyf het en eerder in die normale besluite - teenoor die meer duursame aard van bepalings in 'n kerkorde - van die Algemene Sinode kon teregkom. Die Tussenorde reël dat reëlings wat in hierdie proses aanvaar word, onderworpe is aan NGKO-2015. Dit gaan dus nie werklik om 'n duursame tussenorde nie, maar 'n vanselfsprekende praktiese reëling: 'n saak wat nie aan waarde wen deur niksseggende bepalings in NGKO-2015 nie en die wettige agendas en besluitnemingsprosesse van Ned Geref Kerkvergaderings ongewysig laat (NGKO-2015:22).

 

SLOT

Hoewel die NG Kerk as 'n geloofsverband staatmaak op die respektering van sy geloofsaard en vryheid van godsdiens deur die staatsowerhede binne wie se regordes en -gebiede hy hom bevind, erken en eerbiedig NGKO-2015 die staat as 'n regsverband en die binding van relevante owerheidsbesluite op die NG Kerk. NGKO-2015 benader die verhouding kerk en reg vanuit 'n geheelvisie op die werklikheid waarin die kerk en geloof saamhang met die reg en die staat. Dit is 'n omvattende siening wat meebring dat die kerk hom nie sonder meer van verhoudinge met die state waarin hy bestaan, kan onttrek nie en waarin hy in al sy aksies spontaan 'n gegewe samehang met die regsaspek van die skepping of lewe - of 'n regskant - vertoon: 'n samehang wat onder leiding van die geloof en geloofsbelang eerbiedig en by implikasie erken word; maar 'n vryheid van geloof wat ook staan op die reg om self die inhoud van dit wat hy glo, of in belang van sy geloof aanpak, te omlyn. Ten diepste gaan dit om die NG Kerk se reg op vryheid in sy belydenis van en geloof in God-Drieënig, sy skepping en verlossing én sy respek vir die staatsowerhede wat hierdie vryheid vanuit hulle regsaard waarborg.

In sy vorming en bestaan as 'n samelewingskring in die geskape werklikheid, kan die kerk hom nie van die reg onttrek nie én moet hy sy geloofstempel op die regskante van al sy handelinge afdruk (Strauss 2010a:125-130).

 

BIBLIOGRAFIE

Bouwman, H. 1985. Gereformeerd Kerkrecht I. Kampen: De Groot Goudriaan (3e onveranderde druk).         [ Links ]

Coertzen, P. 1991. Gepas en ordelik. Pretoria: RGN.         [ Links ]

Coertzen, P. 2003. Regsbeskerming in die kerk. In Torfs, R, Martens, K, Koffeman, LJ & Coertzen, P (reds.). Recht op recht in de kerk. Leuven: Peeters.         [ Links ]

De Jong, OJ. 1987. Geschiedenis der kerk. Nijkerk: Callenbach (11e bygewerkte druk).         [ Links ]

Du Plooy, A le R. 2007. Beginsels vir regspraak in die kerk. Die Kerkblad April 2007: 18-20.         [ Links ]

Fowler, S. 1988. The state in the light of the Scriptures. Potchefstroom: PU vir CHO.         [ Links ]

Geldenhuys, FE o'B. 1951. Die regsposisie van kerkraad, ring en sinode. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Gray, JS & Tucker, JC. 1986. Presbyterian Polity. Louisville: Geneva.         [ Links ]

Heyns, JA. 1977. Die kerk. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika saaknommer 536/98, uitspraak Vivier AR:1-4, 44-45.         [ Links ]

Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika saaknommer 536/98, uitspraak Harms AR:9.         [ Links ]

Jonker, WD. 1965. Om die regering van Christus in sy kerk. Pretoria: Unisa.         [ Links ]

Jonker, WD. 1994. Bevrydende waarheid. Wellington: Hugenote-Uitgewers.         [ Links ]

Kleyn, D & Viljoen, F. 1998. Beginnersgids vir regstudente. Kenwyn: Juta.         [ Links ]

Kock, P de B. 1975. Christelike Wysbegeerte - inleiding. Bloemfontein: Sacum.         [ Links ]

Koffeman, LJ. 2009. Het goed recht van de kerk. Kampen: Kok.         [ Links ]

Legal Resources Centre 1994. Know your rights. Macmillan: Bolesaw.         [ Links ]

Nauta, D. 1971. Verklaring van de kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland. Kampen: Kok.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (NGK). 1964. Kerkorde van die Ned Geref Kerk. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (NGK). 1998. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn.         [ Links ]

Ned Geref Kerk. 1990 (kS-1990). Kerk en Samelewing 1990. Bloemfontein: Pro Christo.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (NGKO). 1970. Kerkorde van die Ned Geref Kerk. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (nGKo). 1974. Kerkorde van die Ned Geref Kerk. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (NGKO). 1990. Die Kerkorde. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (nGKo). 1998. Die Kerkorde. Wellington: Hugenote-Uitgewers.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (NGKO). 2002. Die Kerkorde. Wellington: Lux Verbi BM.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (NGKO). 2011. Die Kerkorde. Sl:sn.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (NGKO). 2015. Die Kerkorde. Sl:sn.         [ Links ]

NG Kerk-Uitgewers 1982. Ons glo... die Drie Formuliere van Eenheid en ekumeniese belydenisse. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

Pienaar, G. sa. Die regsposisie van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Sl: EFJS.         [ Links ]

Praamsma, L. sa. Calvijn. Wageningen: Zomer en Keunings.         [ Links ]

Rautenbach, IM. & Malherbe, EFJ. 1994. What does the Constitution say? Johannesburg: RAU.         [ Links ]

Sadler, THN. 1979. Die kerklike tughandeling. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.         [ Links ]

Sizoo, A. sa. Calvijn Institutie III. Meinema: Delft.         [ Links ]

Smit, CJ. 1984. God se orde vir sy kerk. Pretoria: NG Kerkboekhandel van Transvaal.         [ Links ]

Smit, DJ. 2009. Essays on being reformed. Stellenbosch: Sun Media.         [ Links ]

Sohm, R. 1892. Kirckenrecht I. Die geschichtlichen Grundlagen. Leipzig: Duncker & Humbolt.         [ Links ]

Spoelstra, B. 1966. Inleiding. Kruger, LS, Du Plessis, HLM, Spoelstra, B & Spoelstra, TT. Handleiding by die kerkorde. Potchefstroom: Pro Rege, pp. 1-41.         [ Links ]

Spykman, GJ. 1988. Christian philosophy as prolegomena to Reformed dogmatics. Wethmar, CJ & Vos, CJA. 1988. 'n Woord op sy tyd. Pretoria: NG Boekhandel, pp. 137-155.         [ Links ]

Strauss, PJ. 1991. Kerkreg en ekumene: 'n verwaarloosde tema in die Ned Geref Kerk. In Strauss, PJ. (red.). Byderwets en gereformeerd. Bloemfontein: Pro Christo, pp. 187-200.         [ Links ]

Strauss, PJ. 1999. Die goedkeuring van kerkrade vir 'n nuwe verband in die NG Kerkfamilie? Acta Theologica, 19(2):32-54.         [ Links ]

Strauss, PJ. 2008. Die NG Kerkorde-1962: Die Dordtse Kerkorde aangepas by die eise van die dag? Ned Geref Teologiese Tydskrif, 49(3) & (4):274-285.         [ Links ]

Strauss, PJ. 2010a. Kerk en orde vandag. Bloemfontein: Sun Media.         [ Links ]

Strauss, PJ. 2010b. Uitgangspunte vir staatsoptrede in die Institusie van Calvyn soos vergelyk met uitgangspunte van die Suid-Afrikaanse Handves van Regte (1996). In die Skriflig, 44(2):317-331.         [ Links ]

Strauss, PJ. 2013. Kerkwees in die branding. Acta Theologica Supplementum, 18. Bloemfontein: Sun Media.         [ Links ]

Strauss, PJ. 2016. Die naam Nederduitse Gereformeerde Kerk. Acta Theologica, 36(1):213-228.         [ Links ]

Strauss, PJ. 2018. Die Ned Geref Kerkorde van 1962; in samehang en voeling met die res van die lewe of werklikheid? DOI:10.19108/KOERS.83.1.2369.2.         [ Links ]

Van der Linde, GPL. 1983. Die Kerkorde. Pretoria: TG van Wyk.         [ Links ]

Van der Watt, PB. 1987. Die Ned Geref Kerk 1905-1975. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.         [ Links ]

Visser, J. 1999. Die Kerkorde in praktyk. Orkney: EFJS.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2020-06-04
Goedgekeur: 2020-07-17
Gepubliseer: Maart 2021

 

 

 

Pieter Johannes Strauss word in 1988 'n dosent in Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan sy alma mater, die Universiteit van die Vrystaat. Hy tree op 30 Junie 2015 af. Benewens meer as 130 artikels in geakkrediteerde akademiese tydskrifte, publiseer Strauss ook boeke, waaronder Kerk en orde vandag (2010) en Kerkwees in die branding - die NG Kerk in algemene sinodale verband 1994-2011 (2013), toegespits op onderskeidelik gereformeerde kerkreg en kontemporêre Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis. Strauss was vir twee termyne, van 19992003 en 2005-2008, moderator van die Vrystaat-se Sinode van die NG Kerk. In 2007-2011 beklee hy dieselfde posisie in die Algemene Sinode van die NG Kerk. Hy is ook aktief op kulturele terrein. Hy was vir 12 jaar, van 2001-2013, die hoofleier van Die Voortrekkers en is sedert 2010 voorsitter van die Kommissie van die Nasionale Vroue-monument.
Pieter Johannes Strauss was appointed as a lecturer in Church Polity and Church History at his alma mater, the University of the Free State, in 1988; he retired on 30 June 2015. Apart from more than 130 articles in accredited academic journals, Strauss also authored a number of books, focusing, inter alia, on church law (Church and Order today (2010)) and South African church history (Being church in troubled times - the Dutch Reformed Church in the bond of its general synod 1994-2011 (2013)). Strauss was the moderator of the Free State Synod of the Dutch Reformed Church in 19992003 and 2005-2008. He was also moderator of the General Synod of the same church in 20072011. In addition, he is actively involved in cultural events. He served for 12 years as the leader of Die Voortrekkers and since 2010 he is the chairman of the Commission of the National Women's Memorial.
1 Luther se naam is opgeneem in die naam van die Evangelies-Lutherse Kerk en Lutherse tradisie in Duitsland. Die invloed van Luther op die Reformasie in Duitsland, waaronder die kerk en die teologie, is omvangryk. In 1521, te midde van die keiserlike ryksban oor sy hoof en sy ontvoering en gedwonge afsondering in die Wartburgkasteel om aan vervolging te ontkom, vertaal Luther die Nuwe Testament in 12 weke in "zo verstaanbaar mogelijk duits". Daarmee lewer hy 'n groot bydrae tot die ontwikkeling van Duits as 'n skryftaal. Twaalfjaar later voltooi hy saam met ander die vertaling van die Ou Testament in Duits (De Jong 1987:163; kyk ook De Jong 1987:188,194 oor die Calvinistiese siening).
2 Die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 7 gebruik die bekende uitdrukking dat alle mense deur die sondeval in die paradys so verdorwe geraak het dat hulle "in sonde ontvang en gebore word", NG Kerk-Uitgewers (1982:40).
3 Bouwman voer aan dat die reg van God nooit met die geloofs- en liefdesaard van die kerk van Christus kan bots nie. Die reg wat die Here in die skepping gegee het en in die menslike lewe tot ontplooiing gebring het, is goed. Dit is die denkvermoë - oor kerk en reg - van die mens wat deur die sonde "zeer belemmerd" is. Naasteliefde hou rekening met die reg. Daarby sluit die reg die liefde nie uit nie. Sohm se dwangkarakter van die reg deur die staat is nodig omdat die sonde dit noodsaak, maar die kernaard van die reg sluit die liefde en die herstel van die dinge nie uit nie. Bouwman het dit teen Sohm as hy aanvoer dat die kerkreg nie die kerklike lewe versteur nie, maar skade aan die kerk - die gevolg van die sonde - wil afweer (Bouwman 1985:8).
4 Hierdie geesdrywers is voorlopers van die huidige neo-Pentakostalisme.
5 Dit is bekend dat NGKO-1962 die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke van 1959 as 'n moderne voorbeeld van die Dordtse Kerkorde van 1619 gebruik het om self 'n weergawe van die Dordtse Kerkorde "aangepas by die eise van ons dag te wees" (Strauss 2008:274-285).
6 'n Eenheid in belydenis of 'n belydeniseenheid soos aanvaar, is 'n eenheid in die vertolkte kernwaarhede van die Evangelie - dit waaroor 'n belydenis moet handel - en nie 'n eendersheid in die praktiese neerslag van 'n kerkorde nie. Die kenmerke van belydeniswaarhede is dat hulle selde gewysig word en so vir die grondslag of basis van kerkeenheid 'n groter permanensie verseker as 'n kerkorde wat afgestem is op die wisselende praktiese eise van die dag (Heyns 1977:156). Jonker (1994:6), Strauss (2010a:15) en Bouwman (1985:324-325) noem 'n gereformeerde belydenis 'n kort samevatting van die Skrif oor "hoofdwaarheden" en 'n kerkorde die "hoofdbeginselen" of duursame eise vir die regering van die kerk wat na gelang van die behoefte van die omstandighede toegepas moet word.
7 Die dokument van die Algemene Sinode van 1990, Kerk-en-Samelewing-1990 (KS-1990), praat van die weg van niegewelddadige protes wat op verskillende maniere deur woord en daad tot uitdrukking kom. KS-1990 verbind die NG Kerk daaraan om geweld te vermy en noem die "reg tot opstand... 'n hoogs uitsonderlike en uiterste maatreël in 'n situasie van onhoudbare onderdrukking en onreg" (KS-1990:41).
8 Vgl die titel by Van Zyl, AH 1975: Gods Woord in mensetaal.
9 NGKO-1962 gee reeds 'n kort omskrywing van wat die NG Kerk onder vryheid van godsdiens en geloof verstaan as dit die NG Kerk tipeer met sy oorsprong in die "vrymagtige welbehae van sy Hoof, Jesus Christus". 'n Instansie wat in sy "ontstaan, bestaan en voortbestaan selfstandig in eie bevoegdheid" is. Vanuit hierdie oortuiging het die NG Kerk die "onvervreembare reg tot die beoefening van vryheid van godsdiens in belydenis en byeenkoms" (NGK 1964:14).
10 Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika saakno 536/98, uitspraak Vivier AR:1-4, 44-45; Strauss (1999:47-49).
11 Hoogste hof van Appèl van Suid-Afrika saakno 536/98, uitspraak Harms AR:9.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons