SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 número1The Constitution, churches and gay rights: South African case studiesChurch and law in the 2015 Church Order of the Dutch Reformed Church índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.61 no.1 Pretoria mar. 2021

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n1a13 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Godsdiens en die reg: Herwaardering van die Hervormde Kerk se Besluit 41 (2016) oor homoseksualiteit1

 

Religion and law: Revisiting Hervormde Kerk Resolution 41 (2016) on homosexuality

 

 

Antiünette Janse van RensburgI; Wim DreyerII

IKapelaansdiens, Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, Doktorale student: Kerkgeskiedenis en Kerkreg, Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: antojvv@yahoo.com
IIDepartement Sistematiese en Historiese Teologie, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: wim.dreyer@up.ac.za

 

 


OPSOMMING

Een van die ingrypende, traumatiese en emosiebelaaide kwessies waaroor kerke in die laaste twee dekades besluite geneem het, is homoseksualiteit en die toelating van gay mense tot die amp van predikant.
Hierdie bydrae handel oor Besluit 41 (2016) wat die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (Hervormde Kerk) oor homoseksualiteit geneem het. Besluit 41 (2016) word terugskouend, op grond van tersaaklike kerkregtelike beginsels, beoordeel en herwaardeer, met enkele opmerkinge oor die regsimplikasies daarvan. Tradisioneel moet kerkvergaderings die Bybel, belydenisskrifte, kerkorde, besluite van vorige vergaderings en usansie in gedagte hou wanneer daar oor 'n saak besin en besluit word. In hierdie bydrae word geredeneer dat die beginsel van administratiewe geregtigheid ook ter sake is, nie net uit vrees dat howe 'n kerklike besluit ter syde kan stel nie, maar omdat dit 'n inherente deel van die Christelike kerk is om mense met liefde en billikheid te behandel. Daarbenewens is die plek en die funksie van die kerkorde as onderlinge kontrak ter sake. Dit beteken dat ook die kontraktereg ter sprake kom wanneer die hof kerklike besluite hersien. So voldoen kerklike besluite nie net aan die eise van die Woord nie, maar ook indirek aan die bedoeling van die Grondwet van Suid-Afrika.

Trefwoorde: Hervormde Kerk, kerkreg, kerkorde, kerkvergaderings, besluite, administratiewe geregtigheid, Woord van God, belydenis, usansie, prosedures, bevoegdheid


ABSTRACT

In 2016, the General Assembly of the Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (Netherdutch Reformed Church of Africa, or NHKA) passed a resolution on homosexuality. In one section, Resolution 42 (2016) it is claimed that "Jesus Christ, through the Spirit, helps people to live in the presence of God as complete human beings, including their sexuality. This is also true of people with a homosexual orientation. Therefore, the Church believes that all Christians, irrespective of their sexual orientation, are members of the body of Christ with full participation in the sacraments. This is an expression of the unity of the Church."
Unlike the extreme discomfort with similar resolutions expressed within and by other churches, the resolution elicited relatively little resistance from church members in the NHK, and to date there has been no legal consequences with respect to the decision. In this article we will discuss Resolution 41 (2016) in terms of the governing principles of reformed church polity, with some remarks on its legal implications. In the presbyterial-synodal (reformed) system of church government, there are guiding principles which must be considered when a synod reflects on a particular matter. First and foremost, the principle that Christ governs the church through his Word and Spirit determines all aspects of church governance. The contents of resolutions are determined byfive principles (in order of importance), i.e. the Word of God, confessions and creeds, church order, previous resolutions of assemblies, and customs or practices of the church. Resolution 41 (2016) will be assessed with reference to each of the above principles. Each of these guiding principles is discussed by engaging in dialogue with Resolution 41 (2016), to determine how and if it conforms to the guiding principles of reformed church polity.
The discussion also includes some remarks on church polity and church governance as an ius sui generis, which is different from civil law. The unique character of church polity is explained in terms of the presbyterial-synodal form of church governance, typical of reformed churches all over the world. In the reformed tradition, the Word of God entertains a central position as the authority and norm for Christian doctrine and life (sola Scriptura). It is pointed out that the Word of God as guiding principle is neither self-evident nor unproblematic, due to different views ofwhat constitutes the Word of God as well as diverse hermeneutic approaches to the Bible text.
It is also argued that a sixth guiding principle should be considered, i.e. administrative justice. Although ecclesiastical law is an ius sui generis, it does not exclude the general principles of justice, fairness, equity, etcetera. Quite the opposite. It is the church's Christian duty and responsibility to ensure that all decisions are taken in a spirit of fairness, with consideration of due process. The integrity of the ecclesiastical process and procedure should be of the highest ethical standard. In such an approach, synod resolutions, while heeding the Word of God, simultaneously take into consideration the Bill of Human Rights and the Constitution of South Africa.
Resolution 41 (2016) represents something of a "third way" in terms of ecclesiastical decisions on homosexuality, avoiding hard or extreme points ofview. This reconciliatory nature of the resolution is probably the reason why it was met with little opposition from church members. Even the media and members of the public responded positively to the resolution.

Keywords: Hervormde Kerk, church polity, assemblies, resolutions, decision making, homosexuality, Holy Scripture, confessions, tradition, procedures, competence, administrative justice, fairness


 

 

1. INLEIDEND

Om moeilike besluite te neem, is onder die beste omstandighede uitdagend en somtyds vreesaanjaend. Dit is ook die geval wanneer daar van 'n kerk verwag word om besluite te neem en uitsprake te maak wat mense se lewens ten diepste raak. Een van die ingrypende, traumatiese en emosiebelaaide kwessies waaroor kerke in die laaste twee dekades besluite geneem het, is homoseksualiteit en die toelating van gay mense tot die amp van predikant.

In kerklike gesprekke oor homoseksualiteit is daar altyd verskillende stemme en uiteenlopende standpunte hoorbaar. Dikwels word na "finale" antwoorde gesoek. Daar word van die kerk verwag om met die "waarheid" vorendag te kom en dit in sinodebesluite vas te lê. Dit lei tot verskil van mening, dikwels tot konflik en selfs tot hofsake.

Tog is daar ook 'n bepaalde gemeenskaplikheid, omdat dit gelowige lidmate van die kerk is wat met mekaar praat en na konsensus soek. Naas 'n gedeelde geloof, is 'n tweede gemeenskaplike punt 'n kerk se kerkorde. Kerkordes dien as die akkoord wat lidmate onderling aangaan om besluite op 'n ordelike wyse en op grond van hulle gedeelde geloof te neem.

Hierdie bydrae handel oor 'n besluit wat die Algemene Kerkvergadering (AKV) van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (hierna: Hervormde Kerk) in 2016 oor homoseksualiteit geneem het (die volledige besluit word hier onder aangehaal). Na afloop van die 71ste AKV het daar uit verskillende oorde reaksie oor Besluit 41 (2016) gekom. Volgens mediaberigte wat op 7 Oktober 2016 in Beeld, Volksblad en Die Burger verskyn het, was ds. Cassie Aucamp, die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika se verteenwoordiger by 2016 se AKV, van mening, "die Hervormde Kerk het die bal skoon weggeskop en niemand weet waarheen nie, met sy besluit oor die gay-kwessie". Die Christian Reformed Church of Australia het sy skok oor die besluit uitgespreek en gedreig om alle bande met die Hervormde Kerk te verbreek, met 'n ernstige oproep dat die Hervormde Kerk haar van die dwaalleer bekeer.

Vier (van bykans 300) gemeentes van die Hervormde Kerk het na afloop van die AKV versoek om met die Moderatuur in gesprek te tree oor Besluit 41 (2016), omdat hulle onrustig was oor die implikasies daarvan. Na afloop van die gesprekke was daar groot rustigheid in die Hervormde Kerk oor die besluit. Sedertdien is daar nog nie weer in diepte aan Besluit 41 (2016) aandag gegee, of pogings aangewend om dit krities te ontleed nie.

In die volgende paragrawe word Besluit 41 (2016) aan die hand van enkele kerkregtelike en juridiese beginsels bespreek.

 

2. BESLUIT 41 (2016)

Ter inligting word die beskrywingspunt wat voor die 71ste AKV gedien het, volledig aangehaal (NHKA 2016:19-20). Wat merkwaardig was van hierdie beskrywingspunt, is dat dit onveranderd en met 'n groot meerderheid van die vergadering goedgekeur is. Die beskrywingspunt (en besluit) lui soos volg:

BESKRYWINGSPUNT 41:

KOMMISSIE VAN DIE ALGEMENE KERKVERGADERING HOMOSEKSUALITEIT

Die 71ste Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika

betuig sy dank teenoor al die lidmate en ampsdraers van die Kerk wat in opdrag van die 70ste Algemene Kerkvergadering meegewerk het aan die opstel en versameling van studiemateriaal oor homoseksualiteit.

spreek sy waardering uit teenoor elkeen wat die uitnodiging aanvaar het om aan die gesprek oor homoseksualiteit deel te neem. Ten spyte van uiteenlopende standpunte is dit met waardigheid en wedersydse respek gestel.

moedig predikante aan om die studiemateriaal in hulle pastorale werksaamhede te gebruik.

bevestig opnuut die eerste drie punte van die 68ste Algemene Kerkvergadering (2007) se besluit oor homoseksualiteit wat soos volg lui:

1. Volgens die breër boodskap van die evangelie maak God se Gees dit vir mense moontlik om met hulle volle menswees in God se teenwoordigheid te lewe. Laasgenoemde sluit ook homoseksuele persone in.

2. Die Kerk glo daarom dat alle gelowiges, ongeag hulle seksuele oriëntasie, lede is van die liggaam van Christus. Die eenheid van die Kerk as liggaam van Christus is 'n evangeliese eis. Die Kerk wil daarom homoseksuele persone in sy midde verwelkom, vertroos en ondersteun.

3. Die Kerk sal vervolgens alles in sy vermoë doen om die verskynsels van homofobie, gay-haat en enige ander vorme van neerhalende optredes teenoor homoseksuele persone teen te werk.

besluit dat indien 'n konflik van belange tussen 'n ampsdraer en sy of haar gemeente ontstaan, weeg die belange en welstand van die gemeente swaarder as dié van die betrokke ampsdraer.

bevestig opnuut dat predikante huwelike in terme van die Huwelikswet (Wet 25 van 1961) bevestig en nie enige bevoegdheid in terme van die Wet op Burgerlike Verbintenis (Wet 17 van 2006) het nie.

bevestig dat die Kerk die huwelik as 'n verbintenis tussen een man en een vrou respekteer.

wil lidmate wat as man en vrou saamwoon aanmoedig om hulleself deur 'n Christelike huwelik aan mekaar te verbind.

is diep bewus daarvan dat seksualiteit 'n belangrike deel van ons menswees is, en dat elkeen in terme van sy of haar gewete en verstaan van die Bybel daarmee handel. Die Algemene Kerkvergadering besef terdeë dat baie mense met hulle eie seksualiteit worstel en om verskillende redes erg getraumatiseerd kan wees. Ons is van mening dat die trauma van lidmate nie deur groot en finale uitsprake van sinodale vergaderings gedien word nie, maar wel deur die liefde en versorging wat hulle in 'n plaaslike geloofsgemeenskap ontvang. Daarom behoort die gesprek oor seksualiteit nie op kerkvergaderings plaas te vind nie, maar wel tydens pastorale gesprekke.

Ten slotte doen die 71ste Algemene Kerkvergadering 'n beroep op alle ampsdraers en lidmate van die Hervormde Kerk om in 'n tyd van geestelike en morele verwildering, in die voetspore van Christus te volg en leef soos wat Hy ons geleer het. Omdat ons kinders van God is, moet ons sy voorbeeld volg. Lewe in liefde soos Christus ons liefgehad het (Efesiërs 5:1).

 

3. IUS SUI GENERIS

Voordat die kerkregtelike beginsels wat normatief vir kerklike besluitneming is bespreek word, moet 'n enkele opmerking oor die verband tussen kerk- en siviele reg gemaak word. Dit is duidelik dat kerkreg iets anders as siviele reg is. Dit is in die eerste plek 'n geestelike regering en daarom 'n ius sui generis (sien Van Staden 2014). Van Staden (2014:4) verwys na Karl Barth as hy die saak soos volg formuleer:

Church law as ius in sacra must therefore be distinguished sharply from the law of church and state, expressed by Barth as ius circa sacra. The church, however, cannot exclude itself from the ius circa sacra because it cannot detach itself from the world it exists in. The individual members of the church recognise the authority and jurisdiction of the state and adapt themselves loyally to the ius circa sacra. At the same time, the ius circa sacra may never, without responsible theological reflection by the church, become the ius in sacra... The challenge to the church remains to define itself and its role and position in society in terms of the constitutional rights and freedoms conferred upon it by the Bill of Rights.

Indien ons aanvaar dat kerkregering en kerkreg ius sui generis is, moet die unieke aard van kerkreg in berekening gebring word wanneer howe kerklike besluite of die implementering daarvan in hersiening neem. Somtyds is howe onkundig oor die unieke aard van kerkreg en word dit nie genoegsaam verreken nie.

Wat is die unieke aard (ius sui generis) van kerkregering?

Die kerkregtelike sisteem waarvolgens die meeste gereformeerde kerke (insluitende die Hervormde Kerk) funksioneer, staan bekend as "presbiteriaal-sinodaal". Die AKV van die Hervormde Kerk het dit in 1967 met 'n amptelike besluit bevestig (Van Wyk 2005:83). Dit is 'n kerkregtelike sisteem tipies aan die gereformeerde tradisie, gebou op die kerkregtelike beginsels wat Johannes Calvyn in sy Ordonnances Ecclésiastiques (sien Opitz 2006:229-278) ontwikkel en gevestig het. Calvyn het die Ordonnances Ecclésiastiques in 1541 vir Genève opgestel, en dit is in 1561 hersien. Die kerkregtelike beginsels is deur die loop van die 16de eeu deur verskillende Calvinistiese kerke, veral in Nederland, gehandhaaf en verder ontwikkel. Dit het in 1619, tydens die Sinode van Dordt, 'n bepaalde hoogtepunt bereik met die opstel van die Dordtse Kerkorde.

Die term "presbiteriaal-sinodaal" is saamgestel uit twee woorde, te wete "presbiter" en "sinode". Die eerste is afkomstig van die Griekse woord πρεσβύτερος (presbyteros) wat dui op 'n ouderling of 'n persoon wat leiding neem. Tydens die eerste vergadering van die apostels in Jerusalem was daar ook ouderlinge (presbyteroi) teenwoordig (Hand. 15:6). Die woord sinode is afkomstig van die Griekse woord σύνοδος (synodos) wat dui op 'n vergadering van leiers. In teenstelling met die Rooms-Katolieke Kerk, wou Calvyn nie 'n hiërargie van ampte toelaat nie, maar is die kerkregering geplaas in die hande van ouderlinge wat in vergaderings byeenkom om gesamentlik, onder leiding van die Woord en Gees, besluite oor kerklike sake te neem.

In die presbiteriaal-sinodale kerkregering staan een saak voorop: Jesus Christus regeer self die kerk. Hy is die enigste Hoof en Heer van die kerk. Hy regeer direk (onmiddellik) deur die Woord en Gees, maar ook indirek (middellik) deur die amp en vergaderings van die ampte. Wanneer kerklike ampsdraers in vergaderings byeenkom, neem hulle besluite met die vaste geloof dat Christus self sy kerk regeer. Daarom behoort besluite biddend, onder leiding van die Heilige Gees en in gehoorsaamheid aan die Woord van God, geneem te word.

In die presbiteriaal-sinodale sisteem van kerkregering is daar verskillende normatiewe elemente of beginsels wat verreken moet word wanneer die kerk besluite neem, naamlik (in volgorde van belangrikheid) die Woord van God, belydenisskrifte, kerkorde, vorige besluite van vergaderings en usansie (NHKA 2019:39; sien ook Sutton & Sutton 2019:402).

In die Kerkorde van die Hervormde Kerk (2019:39) word dit soos volg geformuleer:

4.1 Vergaderings neem besluite op grond van die Bybel

(i) in ooreenstemming met die belydenis van die Kerk en die Kerkorde

(ii) met inagneming van die gebruike van die Kerk.

4.2 Elke vergadering behandel die sake wat deur die Kerkorde aan die vergadering opgedra is.

Die vyf normatiewe elemente van kerkregering word vervolgens bespreek, met spesifieke verwysing na Besluit 41 (2016) van die AKV van die Hervormde Kerk wat oor homoseksualiteit handel.

 

4. WOORD VAN GOD AS NORM VIR KERKLIKE BESLUITE

Die primêre beginsel is dat Jesus Christus self die kerk deur sy Woord en Gees regeer. Omdat Christus deur die Woord regeer, staan die Woord van God sentraal in die besluitnemingsprosesse van die kerk. Reformatoriese kerke pas hierdie beginsel nougeset toe, veral omdat een van die belangrikste teologiese beginsels wat tydens die Kerkhervorming in die 16de eeu geformuleer is, die sogenaamde sola Scriptura-beginsel is. Hiervolgens is die Skrif (Bybel) die enigste norm en maatstaf vir leer en lewe. Dit beteken dat kerkvergaderings eers na die Bybel luister wanneer besluite geneem word, in die oortuiging dat Christus deur die Woord oor sy kerk regeer.

Op die oog af lyk dit betreklik eenvoudig om op grond van die Bybel besluite te neem. Daar is egter twee sake wat dit kompliseer:

Eerstens, uiteenlopende interpretasies van Skrifgedeeltes kompliseer die saak dermate dat dit in die verlede gelei het tot hoë vlakke van konflik; en in sommige kerke selfs tot hofsake en kerkskeuring.

Tweedens, teologies gesproke konfronteer dit die kerk nie net met die vraag na die korrekte interpretasie van die Woord nie, maar ten diepste met die vraag wat die Woord van God eintlik is. Is dit net die Bybel? Wat van die vleesgeworde Woord, Jesus Christus (Joh. 1:1)? Wat van die Woord wat in gemeentes leef en verkondig word? Karl Barth (1975:88-120) het in sy Kirchliche Dogmatik die saak op die spits gedryf met sy drievoudige verstaan van die Woord, naamlik die vleesgeworde Woord, die geskrewe Woord en die verkondigde Woord. Die Bybel op sigself is nie die Woord van God nie. Die Bybel wat iewers in 'n laai toegesluit is, is nie die Woord van God nie, dit is net papier wat stof vergaar. Die Bybel word die Woord van God wanneer dit gelees, geglo en die evangelie van Jesus Christus verkondig word. Tegelykertyd is daar net een Woord van God (Barth 1975:121), maar dit neem verskillende gestaltes aan; soos daar net een God is wat as Vader, Seun en Heilige Gees God is. Barth beroep hom op die Kerkhervormer Martin Luther as hy op hierdie wyse oor God se Woord praat (Barth 1975:121-124).

Met bogenoemde in gedagte, is dit duidelik dat dit nie so eenvoudig is om net 'n beroep op sewe Skrifgedeeltes te doen as daar oor homoseksualiteit gepraat word nie. Die Woord van God is meer as enkele teksverse.

Kerklike besluite, wat in beginsel op grond van die Woord geneem word, word nie altyd eenparig geneem nie. Verskil van mening hoef nie negatief beskou te word nie. Kerke in die gereformeerde tradisie, anders as byvoorbeeld in die Rooms-Katolieke Kerk waar die pous die finale woord spreek, het nog altyd ruimte gelaat vir verskillende interpretasies van die Woord. Die "ideaal" sou wees dat kerkvergaderings besluite eenparig neem, want hulle doen dit tog onder leiding van die Gees. Die kerk beskik egter nie oor die Heilige Gees nie en kan ook nie met alle menslike insig en kennis bepaal hoe die Gees mense behoort te lei nie. Geen kerkvergadering kan dus onder die indruk verkeer dat sy besluite onveranderlik is nie. Kerkvergaderings se besluite is altyd hersienbaar, en in die gees van die Kerkhervorming moet dit ook voortdurend hersien word om die kerk te lei op die pad van gehoorsaamheid aan die Woord.

Die korrektheid of waarde van 'n kerklike besluit word verder nie bepaal deur die getal mense wat daarvoor stem nie. Die waarde van 'n besluit word bepaal deur 'n vergadering se gehoorsame luister na die Woord, respekvolle luister na medegelowiges, en die wyse waarop dit die evangelie van Jesus Christus reflekteer. Die Dordtse Kerkorde, wat in baie gereformeerde kringe as normatief beskou word, praat in Artikel XXXI van besluite wat deur de meeste stemmen goed gevonden is (sien teks in Pont 1981:180). Daarmee word bedoel dat 'n besluit "reg" is wanneer die meerderheid in die vergadering van oortuiging is dat die besluit in ooreenstemmig met die Woord van God is.

Daar is geen twyfel nie, dat verskille in Skrifbeskouing aan die wortel lê van die meningsverskille oor homoseksualiteit. Die verskille in Skrifbeskouing word op 'n oorver-eenvoudigde wyse in twee kategorieë geplaas, te wete 'n meer "fundamentalistiese" Skrifbeskouing teenoor 'n meer "liberale" Skrifbeskouing. James Barr (1981:1) tipeer fundamentalisme soos volg:

A very strong emphasis on the inerrancy of the Bible, the absence from it of any sort of error;

a strong hostility to modern theology and to the methods, results and implications of modern critical study of the Bible;

an assurance that those who do not share their religious viewpoint are not really 'true Christians at all'.

Fundamentalisme kan gedefinieer word as 'n bepaalde Skrifbeskouing wat die Bybel sien as Goddelik geïnspireerd en daarom onfeilbaar. Die Bybel is die onveranderlike Woord van God en daarom normatief vir alle kerklike en teologiese uitsprake (Van Eck 2008:1163). Daar word min aandag gegee aan die historiese afstand tussen die persoon wat die teks lees en die outeur; asook die sosiale konteks waarin die teks geskryf is. Die kritiek teen hierdie benadering is dat dit op 'n selektiewe wyse met hermeneutiese beginsels omgaan. Wanneer die sewe tekste in die Bybel - Genesis 19:5; Rigters 19:22; Levitikus 18:22; Levitikus 20:13; Romeine 1:24-7; 1 Korintiërs 6:9; Timoteus 1:10 wat oor homoseksualiteit handel gelees word, word homoseksualiteit summier verwerp as strydig met die Bybel. Ander tekste word egter geïg-noreer. Enkele voorbeelde hiervan is die volgende:

'n Kind wat een van sy ouers slaan of vloek, moet doodgemaak word (Eks. 21:15,17).

As iemand die Here se Naam oneerbiedig gebruik, moet daardie persoon die doodstraf kry (Lev. 24:16).

Seksuele gasvryheid mag plaasvind (Gen. 19:8, 20:2, 34:1-10).

Bogenoemde Ou-Testamentiese opdragte word nie deur Christene uitgevoer nie, omdat almal saamstem dat dit in 'n bepaalde historiese konteks van toepassing was, maar nie meer vandag geld nie. Die sosiale en kulturele agtergrond van dié bepaalde Bybeltekste word dus verreken, maar nie wanneer homoseksualiteit ter sprake is nie.

Daarteenoor staan 'n histories-kritiese hermeneutiek, wat erns maak met die sosiale konteks van die Bybel en nie skroom om kritiese vrae te vra nie. Waarom sou die Bybel gevalle van slawerny, mensehandel, veelwywery, oorlog, geweld en kindermoord beskryf, sonder om enige beswaar daarteen aan te teken? Waarom die heftige beswaar teen homoseksualiteit? Waarom was die sosiale waardes so sterk gekant teen homoseksualiteit, maar nie teen die misbruik van vroue en meisies nie? Dié soort vrae reflekteer 'n ander Skrifbeskouing en Skrif-gebruik, wat noodwendig tot ander uitkomste lei. Die impasse wat verskille in Skrifbeskouing en Skrifgebruik op kerkvergaderings veroorsaak, is vanselfsprekend.

Dit is opmerklik dat Besluit 41 (2016) nie na spesifieke Bybeltekste verwys nie, behalwe die heel laaste sin wat verwys na Efesiërs 5:1, wat elkeen oproep om in liefde teenoor ander op te tree. Dit beteken nie dat die Bybel onbelangrik is of nie verreken word nie. Studiestukke wat sedert 2007 in die agenda van die AKV opgeneem is, het breedvoerig op die verskillende tersaaklike Bybeltekste ingegaan, maar die resultate van die eksegese word nie in Besluit 41 (2016) uitdruklik vermeld nie.

Die vertrekpunt was eerder "die breër boodskap van die evangelie ", waarmee bedoel word dat die besluit oor homoseksualiteit nie afhanklik is van enkele teksverse nie, maar van die totale evangeliese boodskap. Dié standpunt word in die slotparagraaf beklemtoon as lidmate van die Kerk aangemoedig word om "in die voetspore van Christus te volg en leef soos wat Hy ons geleer het. Omdat ons kinders van God is, moet ons sy voorbeeld volg. Lewe in liefde soos Christus ons liefgehad het (Efesiërs 5:1)".

Die wyse waarop die Bybel in hierdie besluit gebruik word, is ooglopend niefundamen-talisties, omdat daar nie gepoog word om finale antwoorde op grond van enkele tekste te formuleer nie. Die fokus is eerder op (1) die evangelie van Jesus Christus wat ten diepste om God se liefde vir sondaarmense gaan (Joh. 3:16); en (2) die optrede van Jesus teenoor mense wat gekenmerk word deur 'n inklusiewe verstaan van God se koninkryk. Jesus het uitgereik na alle mense, ook dié wat op die rand van die gemeenskap geleef het en deur die mense en godsdienstige leiers van sy tyd as onrein beskou is. Die Skrifverstaan en Skrifgebruik wat in Besluit 41 (2016) na vore kom, berus op die uitgangspunt dat God self en die wil van God in die eerste plek deur die vleesgeworde Woord (Joh. 1:1) aan mense bekend gemaak word. Daarbenewens moet ons Barth se waarskuwing ter harte neem, dat ons nooit mag aanvaar dat ons oor die Woord van God beskik en alles weet nie (Barth 1975:189-191).

Skrifinterpretasie word ook aan die orde gestel wanneer lidmate daarop gewys word dat elkeen "in terme van sy of haar gewete en verstaan van die Bybel handel". Gewetensvryheid, en die vryheid van die Christenmens om op grond van die Woord te leef, is een van die skatte van die Kerkhervorming. 'n Egte reformatoriese geloof is nie wetties of legalisties nie. Daarom het die Hervormde Kerk nog nooit sondelysies saamgestel nie. Dit het wel meegebring dat die Hervormde Kerk al dikwels daarvan beskuldig is dat die Kerk 'n "liberale" teologie beoefen.

 

5. BELYDENIS AS NORM VIR KERKLIKE BESLUITE

Die tweede kernelement van kerkregering wat ter sprake is wanneer 'n sinode oor 'n bepaalde saak moet besluit, is die belydenis wat in die kerk afgelê word. Die belydenisskrifte bevat twee artikels wat ter sake is wanneer met homoseksualiteit gehandel word. Die eerste is die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), waarvan Artikel 2 soos volg lui:

NEDERLANDSE GELOOFSBELYDENIS

ARTIKEL 2

DIE MIDDELE WAARDEUR ONS GOD KEN

Ons ken Hom deur twee middele: Eerstens deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is immers voor ons oë soos 'n mooi boek waarin alle skepsele, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en Goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom. 1:20). Al die dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem.

Tweedens maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend en wel soveel as wat vir ons in hierdie lewe tot sy eer nodig is en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.

Ten opsigte van die tweede deel van die artikel is in die paragraaf hier bo reeds gehandel. Die Woord dien as bron waardeur ons God ken en waardeur God se wil aan ons bekend gemaak word, wat alle mense nodig het om tot eer van God en tot hulle eie saligheid te leef. Die eerste deel van NGB Artikel 2 is al in die debat oor homoseksualiteit gebruik, met die spesifieke doel om die mediese wetenskap ter sprake te bring. In die Handelinge van die Algemene Sinode van die NG Kerk (2015:69-70) word bepaalde besluite oor homoseksualiteit geformuleer, en dan volg die merkwaardige formulering: "In ooreenstemming met NGB Art 2 behoort die besondere en algemene openbaring gebruik te word, d.w.s. die beste huidige menswetenskaplike bevindings." Die sinode interpreteer NGB Artikel 2 in terme van die algemene openbaring, wat beteken dat die natuur en ons kennis van die natuur God aan ons openbaar. Dit was 'n algemene opvatting wat in die 16de eeu geleef het. Toegepas op die debat ten opsigte van homoseksualiteit, beteken dit dat kerkvergaderings wetenskaplike bevindings wat aantoon dat homoseksualiteit geneties is, ernstig moet oorweeg. In terme van hierdie interpretasie van NGB Artikel 2 is wetenskaplike oorwegings 'n legitieme kriterium waarvolgens homoseksualiteit beoordeel kan word.

Dit is opvallend dat iemand soos Karl Barth, wat vroeg in sy loopbaan skerp kritiek teen homoseksualiteit as verskynsel uitgespreek het (sien Barth 1975 III/4:§54) en soveel klem op die Woord van God as bron en norm vir die geloof gelê het, later in sy lewe in briefwisseling met Rolf Italiaander van mening verander het, en wel op grond van mediese getuienis (sien Barth 1984, Offene Briefe, 1945-1968, pp. 542-43).

Die tweede belydenisskrif wat ter sprake is, is die Heidelbergse Kategismus (Sondag 41 Vraag 108) wat soos volg lees:

HEIDELBERGSE KATEGISMUS

SONDAG 41 VRAAG 108

Wat leer die sewende gebod ons?

Antwoord: Alle onkuisheid is deur God vervloek en daarom moet ons dit hartgrondig

haat (Lev. 18: 27-28).

Alhoewel die Heidelbergse Kategismus nie homoseksualiteit by die naam noem nie, is die Kategismus se verwysing na Levitikus 18 as begronding van Antwoord 108 relevant. Levitikus 18 is die hoofstuk wat handel oor verbode verwantskappe en geslagsgemeenskap. Dit sluit onder andere in dat 'n man nie met enige vroulike familielid gemeenskap mag hê nie, maar ook nie homoseksuele geslagsgemeenskap mag beoefen nie. Die skerp wyse waarop die Heidelbergse Kategismus alle onkuisheid afwys, is opvallend. Dit sluit heteroseksuele en homoseksuele onkuisheid in. Die Heidelbergse Kategismus se interpretasie van die sewende gebod wat egbreuk verbied, is baie wyd. Dit gaan nie net om huweliksontrou nie, maar om enige vorm van seksuele losbandigheid. Die implikasie hiervan is dat seksuele omgang beperk word tot die huwelik, en dat 'n huwelik vanselfsprekend as 'n verbintenis tussen een man en een vrou beskou word.

Die belydenisskrifte word nie expressis verbis in Besluit 41 (2016) vermeld nie. Indien die argument van die NG Kerk se Sinode van 2015 gevolg word (sien hier bo), sou wel geargumenteer word dat die AKV erns maak met die "algemene openbaring" waarvan NGB Artikel 2 praat. Daar is sedert die 68ste AKV (2007) talle memoranda aan die AKV voorgelê met die nuutste navorsing oor homoseksualiteit wat internasionaal gedoen word. Dit het die AKV reeds in 2007 daarvan oortuig dat homoseksualiteit nie net as sonde, 'n keuse of promiskuïteit afgemaak kan word nie. Die oorweldigende wetenskaplike getuienis wat voor die vergadering gedien het, dui daarop dat homoseksualiteit onder andere geneties bepaald is.

Dit beteken dat die Kerk rekening moet hou met die feit dat sommige mense met 'n homoseksuele oriëntasie gebore word, en nie daarvoor kies nie. Tegelykertyd is dit ook so dat 'n biseksuele leefstyl vir sommige mense 'n keuse is. Vir ander is 'n homoseksuele verhouding ook 'n keuse, in sommige gevalle die gevolg van baie slegte ervarings met mense van die teenoorgestelde geslag.

Die belydenis in die kerk afgelê, kom op 'n terloopse wyse aan die orde wanneer gestel word: "Die Kerk glo daarom dat alle gelowiges, ongeag hulle seksuele oriëntasie, lede is van die liggaam van Christus. Die eenheid van die Kerk as liggaam van Christus is 'n evangeliese eis. Die Kerk wil daarom homoseksuele persone in sy midde verwelkom, vertroos en ondersteun." Die verwysing na die eenheid van die Kerk is 'n duidelike verwysing na die Niceense en ook die Apostoliese Belydenis se una sancta ecclesia. Merkwaardig genoeg stel die AKV "dat die Kerk glo" (belydenistaal) dat die eenheid van die Kerk nie net in leer en belydenis na vore kom nie, maar ook in die onderlinge eenheid tussen lidmate, insluitende gay lidmate. Dié verstaan van die eenheid van die Kerk word as "evangeliese eis" aangebied.

 

6. KERKORDE

Bepalings oor homoseksualiteit was nog nooit deel van die Kerkorde van die Hervormde Kerk nie, ook nie waar die Kerkorde oor die amp handel nie. Daarom is daar geen direkte verwysing na die Kerkorde in Besluit 41 (2016) nie. Waar die Kerkorde wel op indirekte wyse ter sprake kom, is in die formulering ten opsigte van die Christelike huwelik. In die opstel van Beskrywingspunt 41 (2016) was die geldende Kerkorde nog die Kerkorde soos vasgestel tydens die 70ste AKV (NHKA 2013). In die 2013 -uitgawe van die Kerkorde word in Ordereël 7 bepaal "die huwelik is 'n instelling en gawe van God... Die huwelik is die enigste wyse waarop man en vrou in gehoorsaamheid aan die Woord van God saamlewe" (NHKA 2013:89). Dit is hierdie formulering van die Kerkorde wat in Besluit 41 (2016) opgeneem is, wanneer daar gestel word dat "predikante huwelike in terme van die Huwelikswet (Wet 25 van 1961) bevestig en nie enige bevoegdheid in terme van die Wet op Burgerlike Verbintenis (Wet 17 van 2006) het nie. bevestig dat die Kerk die huwelik as 'n verbintenis tussen een man en een vrou respekteer". Dit is baie duidelik dat die AKV hiermee nie 'n óf-óf-standpunt inneem nie, maar kies vir 'n én-én-standpunt. Die implikasie daarvan is dat 'n positiewe besluit oor homoseksualiteit nie die Kerkorde in gedrang bring nie en ook nie die waardigheid van 'n tradisionele huwelik tussen 'n man en vrou wil ondergrawe nie.

Soos reeds gemeld, vorm homoseksualiteit nie deel van die Hervormde Kerk (en meeste ander kerke) se kerkorde(s) nie. Ten spyte hiervan is die kerkorde van kardinale belang wanneer besluite van kerkvergaderings deur die hof hersien word. Daarom is dit nodig om meer oor die kerkordelike aspekte van kerklike besluite te sê. 'n Besluit van 'n kerkvergadering is 'n kerkregtelike handeling wat deur die kerkorde moontlik gemaak word en prosedureel aan bepaalde beginsels moet voldoen. Dit word in die volgende paragrawe kortliks bespreek.

6.1 Die kerkraad as primêre vergadering van die ampte

In die presbiteriaal-sinodale kerkregering (soos verwoord in die Kerkorde van die Hervormde Kerk) funksioneer die plaaslike kerkraadsvergadering as primêre regeervergadering. Meerdere ofbykomende vergaderings dien slegs as hulp en bystand vir die plaaslike gemeente en kerkraad (Pont 1981:224). In Art. 30 van die Nederlandse Geloofsbelydenis word dit soos volg beskryf:

NEDERLANDSE GELOOFSBELYDENIS ARTIKEL 30

DIE REGERING VAN DIE KERK

Ons glo dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons Here ons in sy Woord geleer het, geregeer moet word. Daar moet naamlik dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die herders die kerkraad te vorm...

Hierdie formulering van die NGB konfronteer ons met nog 'n moeilike vraag: Watter kerkvergadering behoort die besluit oor homoseksualiteit te neem? Is dit die sinode, of die plaaslike kerkraadsvergadering?

6.2 Niehiërargiese beginsel

Indien aanvaar word dat die kerkraad die primêre vergadering van die ampte is, lei dit vanselfsprekend tot 'n volgende kenmerk van presbiteriaal-sinodale kerkregering, naamlik dat die een amp nie oor die ander heers nie en die een vergadering nie oor die ander nie. Die ampte en vergaderings van die ampte word beskou as die middele waardeur Jesus Christus sy kerk regeer (Pont 1981:190). As Christus die enigste Hoof en Heer van die kerk is, impliseer dit 'n niehiërargiese en kollektiewe kerkordelike sisteem. Die niehiërargiese beginsel word verder bevestig deur die feit dat ampsdraers dienaars van Jesus Christus is wat in gehoorsaam-heid aan Hom diensbaar is en in vergaderings besluite neem. Met hierdie beginsel kom daar 'n bepaalde balans tussen die sinode en plaaslike kerkraad tot stand (Van Wyk 2005:241), met dien verstande dat die kerkraad nie in 'n hiërargiese of ondergeskikte verhouding tot die sinode (AKV) staan nie. Daarom kan besluite nie "van bo" op gemeentes en lidmate afgedwing word nie. Dit is in beginsel 'n inklusiewe en deelnemende proses wat alleenheerskappy en magsmisbruik by die wortel afsny.

6.3 Bevoegdheid

Die hof stel besluite van kerkvergaderings ter syde hoofsaaklik wanneer dié vergaderings strydig met die kerkorde of interne reëls en prosedures handel. Dit gebeur veral as 'n kerkvergadering of vergadering van die ampte ultra vires of sonder die nodige bevoegdheid handel.

Kerkvergaderings het duidelik omskrewe bevoegdhede wat in die Kerkorde gelys word. Die kerkraadsvergadering, gemeentevergadering, ringsvergadering en sinode se omskrewe bevoegdhede verskil van mekaar. Die samestelling, werkwyse en werkopdrag (bevoegdheid) van die onderskeie vergaderings word duidelik in die Kerkorde van die NHKA uitgespel (NHKA 2019:40-51). 'n Kerkvergadering sou ultra vires handel indien die vergadering buite sy omskrewe bevoegdhede optree.

Wanneer 'n vergadering van die ampte bymekaar kom, moet dit nie net volgens prosedure handel nie, maar ook by die betrokke vergadering se omskrewe bevoegdhede en opdrag bly. In die presbiteriaal-sinodale sisteem soos dit in Nederland en Suid-Afrika ontwikkel het, bestaan daar gewoonlik drie meerdere (of bykomende) vergaderings, te wete die klassis of ringsvergadering, provinsiale sinodes en die nasionale sinode (Pont 1981:228). Die vergaderings word van mekaar onderskei in terme van verantwoordelikheid, en nie hiërargies in terme van belangrikheid nie. Elke vergadering van die ampte het 'n spesifieke arbeidsveld, sodat daar nie oorvleueling van werksaamhede of botsende besluitneming plaasvind nie.

Meerdere of bykomende vergaderings moet gesien word as uitbreidings van die plaaslike kerkraad om aandag te gee aan die sake wat 'n wyer omvang het as wat normaalweg op die terrein van die kerkraadsvergadering lê (Pont 1981:228). Met die instelling van sinodale vergaderings word die onafhanklikheid van die plaaslike gemeente opgehef en word die eenheid van die kerk gehandhaaf (Pont 1981:229). As die meerdere vergadering se gesag daarin lê dat dit 'n vergadering van ampsdraers is wat besluite onder leiding van die Gees en Woord neem, dan het daardie besluite gesag en hoef die besluite nie weer agterna deur kerkraadsbesluite bekragtig te word nie. Die besluite is bindend, omdat dit onder leiding van die Woord en Gees geneem is (Pont 1981:213). Tog word hierdie beginsel gedurig getoets en bevraagteken.

Die eerste vraag wat ter tafel kom wanneer 'n agenda vir 'n kerkvergadering opgestel word, is watter sake binne die bevoegdheid van die vergadering val om af te handel. Tradisioneel is die opdrag (bevoegdheid) van sinodale vergaderings om die kerkorde vas te stel, besluite oor liturgie te neem en leerkwessies af te handel. Die vraag is of homoseksualiteit op die agenda van die sinode of kerkraad tuishoort, en selfs of dit enigsins op 'n kerkvergadering tuishoort.

Ten opsigte van kerkvergaderings se besluite oor homoseksualiteit, artikuleer Besluit 41 (2016) 'n baie belangrike uitgangspunt: "Ons is van mening dat die trauma van lidmate nie deur groot en finale uitsprake van sinodale vergaderings gedien word nie, maar wel deur die liefde en versorging wat hulle in 'n plaaslike geloofsgemeenskap ontvang. Daarom behoort die gesprek oor seksualiteit nie op kerkvergaderings plaas te vind nie, maar wel tydens pastorale gesprekke." Die agtergrond van dié uitgangspunt is die vraag of (1) seksualiteit 'n leerstellige saak is en (2) of dit kerkordelik of pastoraal hanteer moet word. Die oomblik wanneer sinodes uitsprake oor seksualiteit maak, word dit deur sommige as 'n leerbeslissing beskou, maar dit word in elk geval de facto deel van 'n formele kerkordelike proses.

Die Hervormde Kerk het met Besluit 41 (2016) hierdie benadering afgewys, en seksualiteit vierkantig in die ruimte van die plaaslike gemeente en die pastoraat geplaas. Dit is bevestig tydens die 72ste AKV (2019), toe 'n beskrywingspunt gedien het wat gevra het dat Besluit 41 (2016) hersien word. Die beskrywingspunt is sonder enige bespreking en byna eenparig deur die AKV verwerp en die standpunt, dat seksualiteit nie 'n saak is waarmee die AKV sigself besig hou nie, is gehandhaaf.

Die kritiek teen so 'n standpunt is dat dit skeiding bewerkstellig tussen leer en lewe. Anders gestel: Moreel-etiese sake word nie as 'n leerstellige saak beskou nie, daarom val dit nie binne die bevoegdheid van 'n sinode om daaroor te handel nie. Indien 'n kerk van mening is dat homoseksualiteit wel 'n leerstellige saak is, moet 'n sinode daaroor uitsluitsel gee. Indien die sinode of AKV sou besluit dat homoseksualiteit strydig met die Christelike leer is, behoort alle gay lidmate en ampsdraers wat 'n ander mening huldig, onder leertug geplaas te word. Dit word 'n onmoontlike situasie indien dit as leerstellige aangeleentheid hanteer word, want wat ook al die besluit is, diegene wat die teenoorgestelde standpunt huldig, handel strydig met die leer van die kerk en is tugwaardig.

Deur homoseksualiteit as 'n pastorale en nie 'n leerstellige aangeleentheid te klassifiseer nie, het die AKV dit van kerkvergaderings se agenda afgehaal.

 

7. BESLUITE VAN VORIGE VERGADERINGS AS NORM VIR KERKLIKE BESLUITE

Kerklike besluite is in beginsel hersienbaar en veranderbaar. Dit is opvallend hoe kerke se besluite oor byvoorbeeld die vrou in die amp, apartheid en homoseksualiteit verander het. Vorige besluite van sinodes is nie kanoniek nie, maar dit het wel waarde en kan selfs as riglyn dien vir latere sinodes.

Die waarde van vorige besluite moet eerder gesoek word in die ekumeniese aard daarvan. Daarmee word bedoel dat binne die Christelike geloof die stemme van ander gelowiges belangrik is. 'n Tipiese voorbeeld hiervan is die reëlings ten opsigte van 'n verandering aan die belydenisskrifte. Die algemene gebruik (usansie) in reformatoriese kerke is dat daar met ander kerke gekorrespondeer word wanneer die belydenis ter sprake kom. Dit is in wese 'n anti-independente beginsel (Van Wyk 2005:241). Daar word nie net na ander kerke geluister nie, maar ook na medegelowiges binne die eie kerkverband wat by vorige vergaderings oor dieselfde saak geworstel en gepraat en besluit het. Op daardie wyse word die eenheid van die kerk gedien.

Besluit 41 (2016) sluit eksplisiet en intensioneel by die besluite van die 68ste AKV (2007) aan, en haal die eerste drie punte van die besluit woordeliks aan. Wat egter meer opmerklik is, is die gedeeltes van die 2007-besluit wat nié deel is van die 2016-besluit nie. Dit gaan veral daaroor dat die 2007-besluit van predikante met 'n homoseksuele oriëntasie verwag het om selibaat te leef. Die 2007-besluit het aanvaar dat homoseksuele persone die amp van predikant kan beklee, maar onder die voorwaarde dat sodanige predikant selibaat leef, en per implikasie ook nie in terme van Wet 17 van 2006 'n burgerlike verbintenis met 'n persoon van dieselfde geslag mag aangaan nie.

Die selibaatvereiste van die 68ste AKV is weggelaat, en vervang met 'n ander formulering: "... besluit dat indien 'n konflik van belange tussen 'n ampsdraer en sy of haar gemeente ontstaan, weeg die belange en welstand van die gemeente swaarder as dié van die betrokke ampsdraer". Die bedoeling van hierdie besluit is om gemeentes te beskerm, indien 'n predikant 'n burgerlike verbintenis sou aangaan en dit duidelik blyk dat dit onherroeplike skade aan 'n gemeente sou veroorsaak. In so 'n geval sou die predikant, in terme van Besluit 41 (2016), van die gemeente losgemaak word en weer beroepbaar gestel word. Dit is egter ook moontlik dat 'n gemeente vrede het met die feit dat hulle predikant gay is, en dat die predikant dan in die gemeente sou kon voortgaan met sy of haar bediening.

 

8. USANSIE

Die vyfde beginsel waarvolgens kerklike besluite geneem word, is usansie (kerklike tradisie of gebruike). Hoewel dit vyfde in rangorde staan, mag dit nie minderwaardig geag word nie. Gebruike in die kerk is 'n legitieme norm om aan te wend wanneer besluite geneem word, hoewel dit baie duidelik nie op dieselfde vlak staan as die Bybel nie. Van Wyk (2020:4) formuleer die reg van usansie soos volg:

Die reg van usansie kom eenvoudig gesproke daarop neer dat kerkregtelik 'n saak daarvoor uit te maak is dat 'n kerkordelike praktyk deur die loop van tyd in die kerk algemeen geword het, sodat iemand wat in sodanige praktyk volhard, nie daaroor onder kritiek geplaas kan word nie.

Usansie het 'n besonder belangrike rol gespeel in die formulering van Besluit 41 (2016). Die feit dat homoseksualiteit tuisgekom het in die ruimte van die plaaslike gemeente, was eintlik net 'n bevestiging van jarelange praktyk in die Hervormde Kerk, naamlik dat gay lidmate deel het aan die Nagmaal en ook as diakens en ouderlinge dien. Dit is teologies, kerkregtelik en juridies 'n baie vreemde situasie indien 'n kerk gay lidmate geskik bevind om Nagmaal te gebruik, maar ongeskik ag om Nagmaal te bedien; of dat gay lidmate in die amp van die regerende ouderling toegelaat word, maar nie in die amp van die lerende ouderling nie.

Wanneer 'n sinodale vergadering 'n besluit oor homoseksualiteit neem, moet sodanige usansie of gevestigde gebruike van die kerk in berekening gebring word. Deur gay persone tot die Nagmaal en tot die amp van ouderling en diaken toe te laat, het 'n bepaalde usansie in die kerk gevestig wat nie sonder meer geïgnoreer kan word of deur 'n besluit van 'n sinode omgekeer kan word nie.

 

9. ADMINISTRATIEWE GEREGTIGHEID AS NORM VIR KERKLIKE BESLUITE

Die kerk kan nie volstaan met die vyf tradisionele beginsels of kernelemente van kerkregering nie. 'n Sesde beginsel, administratiewe geregtigheid, moet daarby gevoeg word. Al is die kerklike reg 'n ius sui generis, sluit dit nie die algemene beginsels van regverdigheid, billikheid en so meer uit nie. Daar is reeds aangetoon dat daar ook 'n Christelike plig op kerkvergaderings rus om met integriteit en billikheid kerklike prosedure en besluite af te handel (sien ook Sutton & Sutton 2019). Vervolgens word enkele opmerkinge gemaak oor die belang van administra-tiewe geregtigheid in die handelinge en besluitnemingsprosesse van die kerk.

In die regsgeskiedenis van Suid-Afrika is besluite van kerkvergaderings al dikwels deur die howe in hersiening geneem. Besluite word in die hof getoets, nie op grond van kerklike leer nie, maar in terme van kerkvergaderings se toepassing en implementering van hulle eie interne, huishoudelike reëls soos verwoord in kerkordes. In Odendaal v Loggerenberg 19612 word dit uitdruklik gestel dat daar net twee gronde is waarop die hof by besluite van 'n kerk betrokke kan raak, naamlik (1) wanneer die interne reëls nie gevolg is nie, of (2) die elementêre reëls van geregtigheid verontagsaam word en 'n persoon daardeur benadeel word. Die hof raak nie betrokke by sake wat met kerklike leer te doen het nie.3 Dit hang saam met die beginsel van geloofsvryheid wat deur die Grondwet gewaarborg word.

Volgens Van Coller (2017:994) verwys geregtelike hersiening na die "bevoegdhede van die howe om administratiewe besluite te kontroleer, te ondersoek en tersyde te stel. In die predemokratiese tydperk in Suid-Afrika (voor 1994) was die hersieningsbevoegdheid van die hof 'n inherente bevoegdheid ontleen aan en beheer deur die gemenereg, maar dikwels gekwalifiseer deur die ultra vires-leerstuk...". Tans word hersiening slegs op 'n indirekte wyse deur Artikel 33 van die Grondwet beheers, maar direk deur die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid 3 van 2000 (WBAG) (Van Coller 2017: 995).

Volgens Van Coller (2017:1000) word die verhouding tussen die gemenereg, die Grondwet en WBAG (algemeen bekend as PAJA) deur die Konstitusionele Hof in Bato Star Fishing (Pty) Ltd v Minister of Environmental Affairs and Tourism4 soos volg omskryf:

The grundnorm of administrative law is now to be found in the first place not in the doctrine of ultra vires, nor in the doctrine of parliamentary sovereignty, nor in the common law itself, but in the principles of our Constitution. The common law informs the provisions of PAJA and the Constitution, and derives its force from the latter. The extent to which the common law remains relevant to administrative review will have to be developed on a case-by-case basis as the courts interpret and apply the provisions of PAJA and the Constitution.

Van Coller (2017:1022) kom tot die gevolgtrekking:

Ingevolge die Suid-Afrikaanse gemenereg, en soos by verskeie geleenthede deur die howe beslis, is dit duidelik dat die dissiplinêre tribunale van vrywillige verenigings vatbaar vir geregtelike hersiening deur die howe is. Hierdie tipe hersiening geskied binne die raamwerk van die sogenaamde niegrondwetlike administratiefreg of private administratiefreg, veral ten aansien van die hersiening van besluite deur private organisasies ooreenkomstig die gemeenregtelike beginsels van die administratiefreg. Aangesien geen "openbare funksie" vervul word nie, is dit dus nie 'n aangeleentheid wat binne die raamwerk van die Grondwet (meer spesifiek, artikel 33) of PAJA tuishoort nie... [dit] dui aan dat die verhouding tussen lede van private, niestatutêre organisasies dikwels kontraktueel [my beklemtoning] van aard is en deur privaatregtelike beginsels beheer word. Die howe vereis wel dat die dissiplinêre optredes van private liggame (insluitende kerke en huishoudelike tribunale) in ooreenstemming met die beginsels van natuurlike geregtigheid geskied.

Daar moet iets meer gesê word oor die kontraktuele aard van organisasies, insluitende die kerk. Wanneer die hof besluite van kerkvergaderings in hersiening neem, moet daarmee rekening gehou word dat 'n kerk se kerkorde as onderlinge kontrak tussen die lidmate van die kerk dien. Die onderlinge kontrak bestaan tussen lidmate, aangesien vergaderings as sodanig nie 'n regspersoon is nie. Die kontrak tussen lidmate vind neerslag in die kerkorde, maar usansie en besluite van vergaderings vorm deel van die ooreenkoms.

In terme van die onderlinge kontrak wat kerkordelik tot stand kom, is lidmate gebind aan die besluite van bevoegde kerkvergaderings. Omdat daar 'n kontrak tussen lidmate bestaan, moet 'n hof die hersiening volgens die kontraktereg hanteer. Dit geld ook vir kerke se besluite oor homoseksualiteit.

Kerke word dikwels gekonfronteer met die klag dat hulle nie die basiese beginsels van redelikheid, gelykheid voor die reg, billikheid en bevoegdheid volg nie. Dit blyk dikwels dat kerkvergaderings nie behoorlik aandag aan 'n saak gee nie en dan prosedurele foute maak of onbillik optree.

Prosedurele regverdigheid is uiters belangrik (sien Dijkstra 2019), veral ten opsigte van billike en redelike prosedures en die audi alteram partem-beginsel. In laasgenoemde gaan dit om 'n "regverdige proses" wanneer 'n geskil ontstaan, waarin al die partye geleentheid kry om deel te neem aan die proses. Dit is in alle kerke die gebruik dat die agenda van (byvoorbeeld) 'n sinode, vroegtydig uitgestuur word en aan die betrokke kerk bekend gemaak word. Die prosedure help afgevaardigdes om 'n ingeligte besluit te neem. Die prosedure maak daarvoor voorsiening dat genoegsame inligting beskikbaar is sodat die beginsels van ewewigtigheid, billikheid, inklusiwiteit en audi alteram partem na behore gehandhaaf word.

Die beginsels en prosedure waarvolgens kerkvergaderings (of vergaderings van die ampte) besluite neem, word in die onderskeie kerke se kerkordes uitgespel. Kerkordes is die enigste amptelike dokumente waarin die besluitnemingsprosesse van reformatoriese kerke5 in Suid-Afrika uitgespel word. Kerkordes reguleer die bevoegdhede, samestelling, opdragte en werkwyse van die verskillende kerkvergaderings. Daarom is dit van kritieke belang dat 'n kerkvergadering, wat prosedure betref, die geldende kerkorde nougeset navolg. Sutton en Sutton (2019:411) kom tot die gevolgtrekking: "Besluite wat deur kerkvergaderings geneem word wat nie voldoen aan prosedures soos voorgeskryf in kerkordelike bepalings nie, kan verreikende gevolge inhou."

Om besluite met billikheid en regverdigheid te neem, is nie net 'n wetlike vereiste nie, dit is ook eie aan die aard van die Christelike geloof. Johannes Calvyn, as regsgeleerde, was daarvan oortuig dat die Christelike beginsels van humanitas (menslikheid) en clementia (genade/sagmoedigheid) ter sake is wanneer die hof of kerkvergaderings besluite neem (sien Dreyer 2018). Kortom: Die kerk behoort nie deur die landswette voorgeskryf te word om met billikheid en regverdigheid op te tree nie, dit is 'n gewetensaak. Die kerk kan nie anders nie, omdat dit die kerk is van Christus wat ons beveel het om ons naaste lief te hê en te dien. Dit geld veral wanneer kerkvergaderings oor mense (ook gay mense) besluite neem.

 

10. SLOTOPMERKING

Besluit 41 (2016) van die Hervormde Kerk bied 'n "derde weg" (sien Hunzinger 2001) ten opsigte van homoseksualiteit. Die gematigde en versoenende aard van die besluit is na alle waarskynlikheid die rede waarom daar relatief min negatiewe reaksie daaroor was. Tegelykertyd het die besluit op 'n beperkte wyse die beginsels van kerkregering verreken, hoewel nie orals expressis verbis nie. Daar is ook gepoog om die saak met billikheid en deernis te hanteer.

Tradisioneel moet kerkvergaderings die Bybel, belydenisskrifte, kerkorde, besluite van vorige vergaderings en usansie in gedagte hou wanneer daar oor 'n saak besin en besluit word. In hierdie bydrae is geargumenteer dat die beginsel van administratiewe geregtigheid ook ter sake is, nie net uit vrees dat howe 'n kerklike besluit tersyde kan stel nie, maar omdat dit 'n inherente deel van die Christelike kerk is om mense met liefde en billikheid te behandel.

So voldoen kerklike besluite nie net aan die eise van die Woord nie, maar ook indirek aan die bedoeling van die Grondwet van Suid-Afrika.

 

BIBLIOGRAFIE

Barth, K. 1975. Church Dogmatics: The Doctrine of the Word of God, Volume I, Part 1. London/New York: T & T Clark.         [ Links ]

Barth, K. 1984. Karl Barth Gesamtausgabe: Band 15: Offene Briefe 1945-1968. Zürich: TVZ.         [ Links ]

Craig, P. 1998. Ultra Vires and the Foundations of Judicial Review. Maurer Faculty. https://www.repository.law.indiana.edu/facpub/2756 [10 Julie 2020].         [ Links ]

Dijkstra, A. 2019. Procedurele rechtvaardigheid in het kerkrecht: een pleidooi voor de inzet van rechtsvergelijking. NTKR Tijdschrift voor Recht en Religie, 2019/2. https://www.uitgeverijparis.nl/nl/tijdschriften-online/ntkr-tijdschrift-voor-recht-en-religie [15 Julie 2020].         [ Links ]

Dreyer, WA. 2018. John Calvin as 'public theologian' in view of his Commentary on Seneca's De Clementia HTS Teologiese Studies/Theological Studies, 74(4): a4928. https://doi.org/10.4102/hts.v74i4.4928.         [ Links ]

Hunzinger, G. 2001.There is a Third Way: Theses for the Crisis in Our Church. The Presbyterian Outlook. https://pres-outlook.org/2001/11/there-is-a-third-way-theses-for-the-crisis-in-our-church/ [18 Julie 2020].         [ Links ]

Opitz, P. 2006. In Faulenbach & Busch (eds). Die Genfer Ordonnances Ecclésiastiques 1541/1561. Kritische Edition, Reformierte Bekenntnisschriften. Neukirchen-Vluyn: Neukirchner, pp. 229-278.         [ Links ]

NHKA 2013. Kerkorde van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, Pretoria: Argiefbewaarplek van die NHKA.         [ Links ]

NHKA 2016. Besluitebundel van die 71ste Algemene Kerkvergadering. Pretoria: Argiefbewaarplek van die NHKA.         [ Links ]

NHKA 2019. Kerkorde van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Pretoria: Argiefbewaarplek van die NHKA.         [ Links ]

Pont, AD. 1981. Historiese agtergronde van ons kerklike reg, Deel 1. Kaapstad-Pretoria: HAUM.         [ Links ]

Sutton, W & Sutton, L. 2019. Regsgevolge volgens die Gaum-saak vir nienakoming van kerkordelike prosedures ten opsigte van besluite deur die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. LitNetAkademies Jaargang 16, Nommer 2, 2019:397-421.         [ Links ]

Van Coller, H. 2017. Geloofsinstellings en die hersieningsbevoegdheid van die howe, LitNet Akademies Jaargang 14, Nommer 3, 2017.         [ Links ]

Van Eck, E. 2008. Een teks - meerdere betekenisse: Hoe lees ons die Bybel? HTS Teologiese Studies/ Theological Studies, 64(3):1155-1185.         [ Links ]

Van Staden, JH. 2014. Church law as a ius sui generis in South Africa: A Reformed perspective. PhD- proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.         [ Links ]

Van Wyk, BJ. 2005. Die kerkorde en die kerklike reg in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika aan die hand van die presbiteriaal-sinodale kerkbegrip. PhD-proefskrif, Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Van Wyk, BJ. 2020. Kerkordelike toleransie en die reg van usansie. HTS Teologiese Studies/ Theological Studies, 76(1):a5634. https://doi.org/10.4102/hts.v76i1.5634.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2020-07-31
Goedgekeur: 2020-10-07
Gepubliseer: Maart 2021

 

 

 

Antionette Janse van Rensburg werk sedert 2016 as kapelaan in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en sy skakel by NHKA Montana as predikant in vanaf 2014. Sy verwerf agtereenvolgens aan die Universiteit van Pretoria die kwalifikasies BTh (2010), MDiv (2012) 'n MTh (2016) in die vakgebied Kerkgeskiedenis en Kerkreg, met 'n verhandeling getiteld: "Die oorsprong van die Drieledige Struktuur van die Heidelbergse Kategismus". Sy is tans besig met haar PhD in Kerkgeskiedenis en Kerkreg met die tema: "Reformatoriese kerke se besluite oor homoseksualiteit kerkregtelik beoordeel".
Antionette Janse van Rensburg has been employed as a Chaplain in the South African National Defence Force since 2016; and she joined NHKA Montana as a minister in 2014. She obtained the following qualifications at the University of Pretoria: BTh (2010), MDiv (2012), MTh (2016) in Church History and Church Polity, with a thesis entiteld, "Die oorsprong van die drieledige struktuur van die Heidelbergse Kate-gismus". She is currently engaged in PhD studies in Church History and Church Polity, focussing on the theme: "Reformatoriese kerke se besluite oor homoseksualiteit kerkregtelik beoordeel".

 

 

Wim Dreyer is in 1983 as predikant georden. Van 1983 tot 2005 dien hy in verskeie gemeentes van die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK). Daarna was hy as algemene sekretaris verant-woordelik vir sending en ekumeniese skakeling van die NHK. Sedert 2001 dien hy ook op die Moderatuur van die NHK, onder andere as voor-sitter. Wim Dreyer het doktorale studies In Praktiese Teologie, Kerkgeskiedenis en Kerkreg voltooi. Hy het reeds meer as vyftig wetenskap-like artikels en hoofstukke in boeke gepubliseer, asook twee monografieë. Tans is hy dosent in Hist oriese Teologie aan die Universiteit van Pretoria.
Wim Dreyer was ordained as minister in 1983. From 1983 to 2005 he served in various congregations of the Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK). Thereafter, as general secretary, he was responsible for mission and ecumenical relations of the NHK. Since 2001 he has also served on the Moderamen of the NHK, inter alia as moderator. Wim Dreyer completed doctoral studies in Practical Theology, Church History and Church Polity. To date, he has published more than fifty scientific articles and chapters in books, as well as two monographs. He is currently professor of Historical Theology at the University of Pretoria.
1 Hierdie artikel vorm deel van die vereistes vir die graad PhD (Kerkgeskiedenis en Kerkreg) aan die Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria.
2 Odendaal v Loggerenberg 1961 1 SA 712 (O) 719C-E. "Dit is gemene saak dat 'n geregshofmet 'n beslissing van 'n huishoudelike hof van 'n vrywillige vereniging van persone, soos die kerk in die onderhawige geval, sal inmeng slegs waar daar by die verhoor en veroordeling van die veroordeelde 'n skending van die reëls of statute van die betrokke vereniging plaasgevind het of die elementêre beginsels van geregtigheid verontagsaam was, en sodanige skending of verontagsaming die veroordeelde werklik benadeel het." (Aangehaal in Van Coller 2017:995)
3 Mankatshu v Old Apostolic Church ofAfrica. 1994 2 SA 458 (TKA).
4 Bato Star Fishing (Pty) Ltd v Minister of Environmental Affairs and Tourism. 2004 4 SA490 (KH) par. 22.
5 In hierdie bydrae word die term "reformatoriese kerke" gebruik om na kerke te verwys wat breedweg in die Calvinisties-gereformeerde tradisie tuishoort. Die term "gereformeerd" word vermy, omdat dit te eng is en verwarrend kan werk. Die Ned. Hervormde Kerk van Afrika, byvoorbeeld, is nie gemaklik om bloot as gereformeerde kerk beskryf te word nie.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons