SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 número1Religion, equality and the modest systemic role of property law in the Beloftebos caseReligion and law: Revisiting Hervormde Kerk Resolution 41 (2016) on homosexuality índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.61 no.1 Pretoria mar. 2021

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n1a12 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die Grondwet, kerke en gays se regte: Suid-Afrikaanse gevallestudies

 

The Constitution, churches and gay rights: South African case studies

 

 

Kobus Dü Pisani

Buitengewone Professor, Fokusarea Sosiale Transformasie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus, Suid-Afrika. E-pos: kobus.dupisani@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die Suid-Afrikaanse Grondwet beskerm gay persone teoreties teen onbillike diskriminasie op grond van seksuele oriëntasie. In die praktyk word die grondwetlike waarborg van beskerming teen diskriminasie gereeld negeer, onder meer in kerke se indiensnemingspraktyke. Hierdie artikel ontleed twee gevallestudies waar werknemers van kerke hul werkgewers hof toe geneem het oor beweerde onbillike diskriminasie op grond van hul seksuele oriëntasie. In beide gevalle was die opweging van grondwetlike regte, spesifiek die reg op gelykheid teenoor die regte op vryheid van godsdiens en van assosiasie, op die spel. Weliswaar het die twee sake uiteenlopende uitkomste gehad, maar in beide gevalle het dit geblyk dat Suid-Afrikaanse howe onwillig bly om in die leerstellings en interne sake van kerke in te meng en verkies om hulle uitsprake te beperk tot die kerke se korrekte en billike toepassing van hul eie beleid en prosedures. Dus is gay persone wat die burgerlike howe nader oor onbillike diskriminasie nie op grond van grondwetlike waarborge vanselfsprekend verseker van sukses nie. Interne skikking binne die kerke bly die voorkeuropsie vir die beslegting van sulke geskille. Internasionaal en in Suid-Afrika is daar 'n positiewe tendens dat houdings ten gunste van gay regte vinnig veld wen in die samelewing, insluitende godsdiensgemeenskappe, en dat selfs in konserwatiewe hoofstroomkerke gelyke regte vir gays spoedig 'n realiteit behoort te wees.

Trefwoorde: gays, Suid-Afrika, Grondwet, kerke, gelykheid, godsdiensvryheid, burgerlike howe, verstrengelingsleerstuk


ABSTRACT

In South Africa gay persons are theoretically protected in the Constitution against unfair discrimination on account of their sexual orientation. However, in practice, for example in the employment practices of churches, transgression of this constitutional guarantee often occurs. This paper analyses two case studies where church employees took their employers to court for unfair discrimination on the basis of their sexual orientation. In both cases the balancing of constitutional rights, the right to equality on the one hand and the rights to freedom of religion and assembly on the other hand, were at stake. Although the two cases had very different outcomes, they both demonstrated that South African courts remain reluctant to interfere in the doctrines and internal affairs of churches and prefer to limit their judgement to whether the churches applied their own policies and procedures fairly. Therefore, gay persons taking cases of unfair discrimination in churches to the civil courts in South Africa are not assured of success. The preferred route to resolve such cases is internally within the churches rather than in the courts. The hopeful trend, internationally and in South Africa, is that attitudes in favour of gay rights are rapidly gaining ground in society, including in religious communities, and that soon, even in conservative mainline churches, full equality for gays will be a reality.

Keywords: gays, South Africa, Constitution, churches, equality, religious freedom, civil courts, entanglement doctrine


 

 

INLEIDING

Gay persone se regte word verskans en gewaarborg in die Handves van Regte in hoofstuk 2 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996. Artikel 9 in dié hoofstuk bepaal dat almal in die land gelyk is voor die reg. Sodanige gelykheid behels die volle en gelyke genieting van alle regte en vryhede. Verder bepaal die artikel dat nóg die staat nóg enige persoon onbillik teen iemand mag diskrimineer op grond van seksuele oriëntasie. Sodanige diskriminasie is onbillik tensy vasgestel word dat dit billik is. Om die bereiking van gelykheid te bevorder, kan wetgewende en ander maatreëls getref word, wat ontwerp is om persone of kategorieë van persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel is, te beskerm en te ontwikkel (Republiek van Suid-Afrika 1996:7). In beginsel is alle openbare en private instansies onderhewig aan die Handves van Regte, want artikel 2 van die Grondwet maak geen onderskeid tussen die verhouding van individue met óf staats- óf nie-staatsinstellings nie. Dit verklaar: "Hierdie Grondwet is die hoogste reg van die Republiek; enige regsvoorskrif of optrede daarmee onbestaanbaar, is ongeldig, en die verpligtinge daardeur opgelê, moet nagekom word" (Republiek van Suid-Afrika 1996:3).

Teoreties beskerm die Grondwet gay regte dus ten volle. In die praktyk kom oortredings van hierdie grondwetlike waarborg van die beskerming van gays se regte nietemin gereeld voor. Soms is kerke skuldig hieraan. Diskriminasie teen gay persone neem verskillende vorme in kerke aan, waarvan een voortgesette onbillike arbeidspraktyke teen hulle as werknemers van kerke is.

Hierdie artikel vergelyk twee gevallestudies wat aandui hoe geskille tussen kerke en werknemers, wat handel oor onbillike arbeidspraktyke op grond van die seksuele oriëntasie van die werknemers, hanteer is. In beide gevalle het die kerkwerknemers die regsremedies wat beskikbaar is benut, maar met verskillende uitkomste. Die twee gevallestudies word ontleed en vergelyk om vas te stel of die grondwetlike beskerming van gays se gelyke regte gehandhaaf is en wat die uitwerking van hierdie geskille op houdings in kerke teenoor gays was. Die spesifieke gevallestudies is gekies omdat die twee sake verskillend in Suid-Afrikaanse howe verloop het, maar gesamentlik 'n duidelike beeld bied van hoe die howe teenoor die interne sake van kerke ingestel is. Omdat die artikel vanuit die perspektief van 'n historikus geskryf is, gaan dit nie in diepte op die arbeidsregtelike aspekte van die twee gevallestudies in nie.

 

EERSTE GEVALLESTUDIE: JOHAN STRYDOM (NEDERDUITS GEREFORMEERDE KERK)

Aan die begin van 2005 is Johan Strydom in 'n tydelike pos aangestel as musiekonderwyser by die kunste-akademie van die Moreletapark Gemeente van die Nederduits Gereformeerde Kerk (NG Kerk) in Pretoria. Toe hy aangestel is, was die gemeenteleiers nie daarvan bewus dat hy in 'n selfdegeslagverhouding was nie. Die meeste van die leiers en lidmate van die gemeente se beskouing oor homoseksualiteit was konserwatief, naamlik dat homoseksuele bedrywighede volgens die Bybel sondig is en dat iemand in 'n selfdegeslagverhouding nie in 'n posisie van leierskap in die gemeente behoort te dien nie (De Villiers 2005:1).

In die NG Kerk as denominasie is daar lank reeds verdeeldheid oor die kwessie van homoseksualiteit. By sy Algemene Sinode in 2004 het die kerk apologie teenoor gay persone aangeteken vir enige swaarkry waaraan hulle deur die optrede van die kerk onderwerp is. Tog was die kerk nie gereed om 'n ondubbelsinnige standpunt oor homoseksualiteit in te neem nie, weens die teenstellende beskouings daaroor in eie geledere, en het gevolglik verklaar dat verdere besinning oor die kwessie nodig was. Hierdie weifelende houding het die deur vir gemeentes oopgelaat om botsende sienings oor die kwessie in te neem. Teen hierdie agtergrond het die kerkleiers van die Moreletapark Gemeente 'n konserwatiewe benadering verkies (De Villiers 2005:1).

Toe Moreletapark se gemeenteleiers in Julie 2005 bewus word van Strydom se selfdegeslag-verhouding, het hulle hom ingelig dat dit indruis teen die gemeente se waardes. Strydom se reaksie was dat hy nie bereid was om sy seksuele oriëntasie met die gemeenteleiers te bespreek nie en dat hy in sy pos sou voortgaan totdat hulle besluit om hom af te dank. Hulle het hom toe in 'n brief meegedeel dat die gemeente nie langer sy dienste benodig nie (De Villiers 2005:1; Lenta 2009:837; Bilchitz 2011:220).

Kort na sy afdanking het Strydom begin met regsoptrede teen sy voormalige werkgewers weens sy verlies van inkomste en die skending van sy waardigheid kragtens die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie, wet 4 van 2000, die sogenaamde Gelykheidswet bekend onder die Engelse akroniem PEPUDA (De Villiers 2005:1; Lenta 2009:837; Bilchitz 2011:220). PEPUDA se doelstellings sluit in die bevordering van gelykheid, die voorkoming van onbillike diskriminasie en die beskerming van menswaardigheid soos bedoel deur die Suid-Afrikaanse Grondwet. Seksuele oriëntasie is een van die gronde waarop onbillike diskriminasie deur die wet verbied word. Gevalle van onbillike diskriminasie word deur die Gelykheidshowe bereg (Republic of South Africa 2000:4,5,6).

Strydom en die Moreletapark Gemeente kon nie 'n skikking buite die hof bereik nie (Du Plessis 2008:3) en die saak het in Augustus 2008 voor die Gelykheidshof in Pretoria gedien (vir besonderhede oor die verloop van die hofsaak, kyk De Lange 2008:6; Fourie 2008:6; Fourie 2008a:4; Venter 2008:1; Lenta 2009:837). Dit is as 'n toetssaak beskou, want dit was die eerste keer dat 'n kerk se standpunt oor gays in 'n siviele hof in Suid-Afrika getoets sou word (De Villiers 2005a:6; Du Plessis 2008:3). Soos te wagte in so 'n omstrede saak, waarin pro- en anti-gay sienings in stryd met mekaar was, het dit baie publisiteit in die media gekry.

In sy uitspraak op 28 Augustus 2008 het regter DA Basson verklaar dat die klaer (Strydom) se reg op gelykheid opgeweeg moes word teen die kerk se godsdiensvryheid. Op grond van die getuienis was dit vir Basson duidelik dat die respondent (Moreletapark) kragtens die wet onbillik teen die klaer gediskrimineer het op grond van sy seksuele oriëntasie en dat die klaer daardeur benadeel is. Volgens die Grondwet was die onus op die kerk om te bewys dat die diskriminasie billik was. Namens die kerk is betoog dat persone in posisies van leierskap die kerk se leerstellings moes onderskryf en daarom nie in 'n homoseksuele verhouding kon wees nie. As 'n rolmodel moes die klaer 'n navolgenswaardige Christelike lewenstyl handhaaf. Regter Basson het die kerk se aanspraak dat die klaer in 'n posisie van geestelike leierskap was verwerp, omdat hy as musiekonderwyser nie betrokke was by die onderrig van die Christelike leerstellings nie en geen godsdienstige verantwoordelikhede in die gemeente gehad het nie. Hy was 'n kontrakwerker en nie eers 'n lidmaat van die gemeente nie. Hy het nie sy musiekleerlinge of ander kerklidmate probeer beïnvloed nie. Daarom het die onbillike diskriminasie teen hom geen legitieme doel gedien nie, want dit sou nie vernietigend vir die kerk wees om hom in sy musiekonderwyserpos te laat voortgaan nie. Dit sou nie impliseer dat die kerk 'n homoseksuele verhouding verskoon nie. Die diskriminasie teen die klaer op grond van sy homoseksuele oriëntasie het volgens die regter 'n enorme effek op sy psigologiese en finansiële posisie en sy reg op gelykheid gehad. Sy reg op waardigheid is aangetas. Regter Basson het beveel dat die respondent die klaer 'n bedrag van R75 000 moes betaal om te vergoed vir die skending van sy waardigheid en vir sy emosionele en psigologiese lyding, plus nog R11 970 vir sy verlies van inkomste. Die respondent moes die klaer onvoorwaardelik om verskoning vra en sy regskoste betaal (Gelykheidshof van Suid-Afrika 2008:1-26. Kyk ook Venter 2008a:3; Lenta 2009:838; Bilchitz 2011:220-221).

By 'n vergadering op 9 September 2008 het die kerkraad van die Moreletapark Gemeente besluit om by die hofbeslissing te berus en nie daarteen te appelleer nie. Hulle besluit het berus op hul vertolking dat die hof godsdiensvryheid gerespekteer het, nie die gemeente se standpunt oor homoseksualiteit verwerp het nie, en hul reg om vereistes vir hul godsdienstige leiers te stel, aanvaar het (Jackson 2008:1). Hulle het Strydom in 'n amptelike brief om verskoning gevra (Venter 2008b:3). In 2009 is hy aangestel as orrelis en koorleier van 'n ander NG gemeente (Malan 2009:8).

Die Strydom v. Moreletapark-saak het die spanning tussen gelykheid en vryheid in die Suid-Afrikaanse grondwetlike bedeling beklemtoon. Die reg op gelykheid, die reg op vryheid van assosiasie en die reg op godsdiensvryheid is al drie fundamentele regte, maar nie een van hulle is 'n absolute reg nie (Lenta 2009:834). Omdat daar nie 'n onbuigsame rangorde van grondwetlike regte bestaan nie - regsgeleerdes is dit eens dat só 'n rangorde ook nie wenslik is nie (Lenta 2009:836) - stel dit uitdagings aan regters en landdroste wat uitspraak moet lewer in regsgedinge waar die verskillende regte in botsing met mekaar kom. Volgens Lenta (2009:834) moet 'n "proporsionaliteitsoefening" uitgevoer word om op grond van die feite van die geding die toepaslikheid van die verskillende regte teen mekaar op te weeg. Die Strydom-saak het juis gehandel oor die verhouding tussen godsdiensvryheid, assosiatiewe regte en die verbod op diskriminasie. Dit het baie kommentaar in regskringe uitgelok en uitgeloop op 'n debat tussen regskenners met teenstellende sienings (kyk Lenta 2009; Woolman 2009; Bilchitz 2011). Die kruks van die debat was die vraag of kerke van die wetlike vereiste van niediskriminasie uitgesluit behoort te word.

Aan die een kant het sekere regskenners die belangrikheid van godsdiensvryheid en vryheid van assosiasie as fundamentele demokratiese waardes beklemtoon. Van der Vyver (2011:14) wys daarop dat die Suid-Afrikaanse grondwetlike bedeling godsdiensvriendelik is. Godsdiensvryheid word in artikel 15 van die Suid-Afrikaanse Grondwet gewaarborg. Verder erken die Grondwet die regte van kerke as outonome entiteite, waarborg vryheid van assosiasie en lede van godsdiensgemeenskappe se reg op selfbeskikking, en maak in hoofstuk 9 voorsiening vir 'n Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe (Republiek van Suid-Afrika 1996:8,10,16,112-3). In die Konstitusionele Hof het regter Albie Sachs by meer as een geleentheid die belangrikheid van godsdiens en godsdiensvryheid beklemtoon. Die Suid-Afrikaanse regspleging het kerklike instellings se soewereiniteit in eie kring gerespekteer en siviele howe het hulle daarvan weerhou om in te meng in kwessies van geloof en die interne aangeleenthede van kerke (Van der Vyver 2011:14,16).

Beide Lenta en Woolman argumenteer dat in die regspraak die reg op gelykheid nie sonder meer voorrang bo ander regte behoort te geniet nie, maar hulle verskil oor die rede waarom dit belangrik is om vryheid van assosiasie en godsdiensvryheid te beskerm. Lenta (2009:834, 836, 858-859) voer aan dat die ongekwalifiseerde afdwing van die Grondwet en Gelykheidswet se niediskriminasiebepalings die noodsaaklike diversiteit in die samelewing sal bedreig en Woolman (2009:287-292, 303-304) dat dit instellings soos kerke se vermoë om sosiale kapitaal te skep, sal beperk.

In die lig van die waarde wat aan vryheid in die algemeen en godsdiensvryheid in die besonder geheg word, argumenteer Lenta (2009:833-834), Woolman (2009:287, 295) en sommige ander regsgeleerdes dat godsdiensinstellings onder sekere omstandighede vrygestel behoort te word van die niediskriminasievereiste in die Grondwet. Hierdie argument baseer hulle op 'n pleidooi dat verskille in morele opvattings en waardes tussen mense van verskillende godsdiensagtergronde gerespekteer moet word (Bilchitz & De Freitas 2012:143).

In sy uitspraak in die Strydom v. Moreletapark-saak het regter Basson verwys na Paul Farlam se beskouing dat die staat nie in die interne aangeleenthede van kerke behoort in te meng nie, ook wat kerke se standpunte oor seksuele oriëntasie betref. Farlam argumenteer dat dit 'n vernietigende uitwerking op baie kerke sal hê indien 'n siviele hof sou bepaal dat 'n kerk nie seksuele oriëntasie as 'n diskwalifikasie vir priesterskap mag beskou nie. Na sy mening behoort gelykheidsoorwegings, ondanks hulle fundamentele belangrikheid in die Grondwet, nie swaarder te weeg as 'n kerk se reg om sy eie geestelike leiers te kies nie. Daarom is sy mening dat godsdiensinstellings, wat die aanstelling, afdanking en diensvoorwaardes van hul godsdienstige leiers betref, waarskynlik vrygestel sal word van voldoening aan die wetgewing oor onbillike diskriminasie (Gelykheidshof van Suid-Afrika 2008:13; Farlam 2008:47). Van der Vyver vertolk Basson se verwysing in sy uitspraak na Farlam se siening as 'n gerusstellende obiter dictum wat dalk sal bydra tot die voortgesette vermyding van staatsinmenging in die leerstellings en godsdienstige gebruike van kerke. Volgens Van der Vyver (2011:11, 13, 14) sou die uitspraak in die saak anders gewees het, indien Strydom 'n godsdienstige leier in die Moreletapark Gemeente was. Na sy mening sal enige verpligting op kerke om hul interne regsreëls voor 'n sekulêre tribunaal te verdedig, neerkom op die ergste vorm van staatstotalitarisme, omdat dit die deur sou open vir die staat om in te meng in die private lewens van burgers en die interne aangeleenthede van niestaatsinstellings. In 'n liberaal-demokratiese samelewing behoort die staat nie aan kerke voor te skryf wat hul godsdienstige oortuigings behoort te wees nie.

Regskenners verskil in hulle vertolking van Basson se uitspraak in die Strydom v. Moreletapark-saak. Lenta (2009:839, 854-857) argumenteer dat Basson - hoewel sommige van sy argumente twyfelagtig was en sy uitspraak nie ongekwalifiseerd aanvaar moet word nie - korrek was in sy bevinding dat godsdiensinstellings toegelaat behoort te word om in hul aanstellings te diskrimineer slegs in die geval van poste van geestelike leierskap. Daarenteen meen De Freitas dat 'n godsdiensgenootskap die reg het om van almal wat aangestel word, nie net werknemers wat godsdienstige kernfunksies vervul nie, te vereis om aan te pas by sy sentrale etos (Bilchitz & De Freitas 2012:143, 144).

Kundiges aan die opponerende kant van die debat oor die Strydom v. Moreletapark-saak beklemtoon die oorheersende belangrikheid van die gelykheidsbeginsel in die Suid-Afrikaanse grondwetlike bedeling. Bilchitz meen dat die Suid-Afrikaanse regspraak in gedinge wat met gelykheid en niediskriminasie te doen het, nie op die lees van Amerikaanse en Europese voorbeelde geskoei moet word nie, maar eerder die unieke konteks van Suid-Afrika, 'n samelewing met 'n lang geskiedenis van diskriminasie en onreg (waaraan sekere kerke ook 'n aandeel gehad het), in ag moet neem. Ná 1994 moet die ideaal van transformerende konstitusionalisme geld om weg te beweeg van die diskriminasie van die verlede en die gelyke menswaardigheid van alle individue te bevorder. Daarom behoort instellings soos kerke nie toegelaat te word om in stryd met die politieke moraliteit van die staat na willekeur te diskrimineer nie (Bilchitz 2011:222-224, 237-240, 244-245, 248).

Regsgeleerdes wat voorrang aan die reg op gelykheid verleen, fokus op die skade wat onbillike diskriminasie aan individue aanrig. Weens die negatiewe uitwerking van onbillike diskriminasie op menswaardigheid, opponeer hulle die opvatting dat kerke uitgesluit behoort te word van die wetlike beletsel op onbillike diskriminasie. Verder argumenteer hulle dat howe hul regstellende magte moet gebruik om skadevergoeding aan kerke op te lê vir skade wat aangedoen en verliese wat gely is (Bilchitz & De Freitas 2012:143, 144). Bilchitz (2011:246) meen dat die Gelykheidshof die Moreletapark Gemeente moes gedwing het om Strydom weer in sy pos aan te stel.

Nog 'n punt wat geopper word deur ontleders van die Strydom v. Moreletapark-saak is dat burgerlike howe "drakoniese" ingrypings in kerksake behoort te vermy, omdat dit kan lei tot 'n konserwatiewe terugslag wat die vordering na gelykheid in die Suid-Afrikaanse samelewing kan strem (Bilchitz & De Freitas 2012:143, 144). Van der Vyver (2011:17) erken die nodigheid van openbare weerstand teen onreg inherent aan die tradisies en gebruike van godsdiensgroepe, maar argumenteer dat wetlike dwang teenproduktief mag wees en daarom nie die voorkeuropsie behoort te wees om godsdienstige vooroordeel teen te werk nie. Omdat godsdienstige oortuigings selde op rasionele denke berus, word hulle nie maklik deur logiese argumente verander nie. Daarom is oorreding deur 'n appèl op etiesgebaseerde oortuigings 'n verkiesliker roete na geleidelike verandering. Waardes gebaseer op oortuiging is verhewe bo waardes wat deur die wet afgedwing moet word.

Menings oor die Strydom v. Moreletapark-saak loop uiteen oor die vraag of voorkeur aan godsdiensvryheid of aan gelykheid gegee moet word in hofverrigtinge wat oor onbillike diskriminasie handel. Die uitspraak in hierdie spesifieke saak was ten gunste van die klaer, wat die slagoffer van onbillike diskriminasie weens sy seksuele oriëntasie was. Tog is die uitkoms nie noodwendig gerusstellend vir gay persone wat werknemers van kerke is nie. Die regter het dit duidelik gemaak dat sy uitspraak gebaseer was op die feit dat die klaer nie in 'n posisie van geestelike leierskap in die kerk was nie. Die implikasie is dat indien hy wel in 'n posisie van geestelike leierskap was, die uitspraak waarskynlik in die guns van die kerk sou wees.

Die Strydom-saak beklemtoon dat, wat hul indiensneming deur kerke betref, gay persone die feitelike situasie moet aanvaar dat in die meeste godsdiensgemeenskappe hulle steeds in 'n benadeelde posisie in vergelyking met heteroseksuele werknemers verkeer weens voortgesette verdeeldheid oor kwessies wat met seksuele oriëntasie te doen het. In Christelike kerke met konserwatiewe beskouings oor seksuele oriëntasie sal hulle maar geduldig moet wag in die hoop dat liefde en verdraagsaamheid uiteindelik oor onbuigsame vertolkings van die Skrif sal seëvier. Hulle kan ook nie ongekwalifiseerde steun in siviele howe verwag op klagtes van onbillike diskriminasie nie. Die howe moet die reg op godsdiensvryheid in ag neem as een van die grondwetlike beginsels, wat hulle huiwerig sal maak om in te meng in kerke se interne aangeleenthede.

 

GEVALLESTUDIE 2: ECCLESIA DE LANGE (METODISTEKERK)

In 2006, die jaar toe selfdegeslaghuwelike in Suid-Afrika as wettige verbintenisse erken is, is eerwaarde Ecclesia de Lange georden as predikant van 'n Wes-Kaapse gemeente van die Metodistekerk van Suidelike Afrika, nadat sy 'n meestersgraad in die sosiale wetenskappe met spesialisering in godsdienswetenskap aan die Universiteit van Kaapstad verwerf het. Sy was in 'n selfdegeslagverhouding met Amanda van Aswegen en vir 'n tydperk het hulle, met die medewete van kerklike amptenare, saam gewoon in verblyf wat deur die kerk voorsien is (Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015:3; Rickard 2015:1). Op 6 Desember 2009 het sy haar voorneme aan die gemeente bekend gemaak om met Van Aswegen te trou. De Lange se toesighoudende predikant het haar op 8 Desember in kennis gestel dat 'n klag teen haar ingedien is. Die klag was dat haar optrede 'n skending was van die Metodistekerk se Wette en Dissipline (Laws and Discipline), omdat die kerk slegs heteroseksuele huwelike erken het. Twee dae later is De Lange geskors in afwagting op 'n dissiplinêre verhoor. Op 15 Desember is die paartjie getroud (Jackson 2010:3; Pietersen 2013:8; Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika 2014:6-8; De Freitas 2016:2-3).

By die dissiplinêre verhoor in Januarie 2010 het die kerk se dissiplinêre komitee op distriksvlak De Lange daaraan skuldig bevind dat sy nie die bepalings van die Wette en Dissipline nagekom het nie en aanbeveel dat sy geskors bly totdat die kerk 'n bindende besluit oor leraars in selfdegeslagverbintenisse neem. Sy het na 'n hoër dissiplinêre komitee geappelleer op grond daarvan dat die kerk nie 'n beleid oor selfdegeslagverbintenisse geformuleer het nie, maar dié komitee het in Februarie 2010 die vorige besluit bevestig en opdrag gegee dat sy van die bediening onthef word (Jackson 2010:3; Pietersen 2013:8; Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika 2014:6-8; De Freitas 2016:2-3).

De Lange se perspektief op die geskil was dat sy wou hê dat haar lewe die waarheid moes weerspieël oor wie sy werklik was. Die Metodistekerk het geweier om uitsluitsel te gee oor die kwessie van selfdegeslaghuwelike. Toe sy egter, in die afwesigheid van 'n duidelike beleid van die kerk hieroor, haar wetlike reg tot 'n siviele verbintenis met haar lewensmaat uitgeoefen het en volgens haar gewete gehandel het, het die kerk strafmaatreëls teen haar ingestel (Rickard 2015).

De Lange het steun uit LGBTI-kringe gekry. Die South African Gay and Lesbian Alliance Against Defamation het die Metodistekerk se "haatlike" daad van diskriminasie beskou as verraad teen gay en lesbiese lidmate en as bewys daarvan dat gays nie gelyke behandeling en respek van die kerk ontvang nie, maar hoogstens verdra word binne die kerk (Engela 2010:14). 'n Organisasie, Inclusive and Affirming Ministries, het 'n bankrekening geopen vir bydraes om De Lange se regskoste te finansier (Inclusive and Affirming Ministries 2013).

Kragtens die reël van die kerk se Wette en Dissipline dat interne geskille deur arbitrasie besleg moet word en nie in 'n burgerlike geregshof nie, het De Lange in Maart 2010 'n formele versoek by die sameroeper van die kerk se arbitrasiepaneel ingedien dat die geskil vir arbitrasie verwys word. Advokaat Gerald Bloem van die Grahamstadse Balie is as arbiter aangewys. Tussen April en November 2010 het De Lange en die sameroeper met mekaar gekorrespondeer. Meningsverskille tussen die partye oor verskeie kwessies het die arbitrasieproses vertraag. Op 5 Februarie 2011 is 'n voorlopige arbitrasievergadering gehou. Die arbitrasieooreenkoms is verskeie kere gewysig. Omdat De Lange geweier het om dit te teken het die sameroeper dit in Junie 2011 namens haar geteken. Dit het beteken dat daar nie 'n arbitrasieooreenkoms bestaan het wat deur beide partye geteken is nie. Die arbiter het voorgestel dat die arbitrasieverhoor in September 2011 plaasvind (Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika 2014:9-10; De Freitas 2016:3).

Arbitrasie het 'n dooiepunt bereik weens meningsverskille tussen die partye oor De Lange se regte in die arbitrasieproses. Sy was nie tevrede met die wyse waarop die proses verloop het nie en het verklaar dat sy alle vertroue in die verrigtinge verloor het (Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika 2014:11). Sy het die kerk van vertragingstaktiek beskuldig. Die vooruitsigte op 'n skikking deur arbitrasie was na haar mening maar skraal. Op haar Facebookblad het sy geskryf: "I desire to serve Jesus. I desire to be true to myself. I desire to minister within the Methodist Church of Southern Africa with integrity and be faithful to God's call in my life ... I have come to see that it is better to be rejected for who I am than to be accepted for who I am not" (Eggington 2011:2). Peter Storey, die voormalige voorsittende biskop van die Metodistekerk van Suider-Afrika, was simpatiek teenoor De Lange en het verklaar dat die kerklike liggame die saak met meer sorg en wysheid moes hanteer het (Storey 2013:8).

In plaas daarvan om haar aan verdere arbitrasie te onderwerp het De Lange verkies om die geskil na die siviele Hoë Hof te neem vir beregting (Malan 2012:11; Cronjé 2013:4). In Junie 2012 het sy die Wes-Kaapse Hoë Hof versoek om die arbitrasieooreenkoms ter syde te stel (De Freitas 2016:3). Kragtens artikel 3(2) van die Wet op Arbitrasie, wet 42 van 1965, het 'n geregshof die mag om 'n arbitrasieooreenkoms ter syde te stel of af te dwing (Republic of South Africa 1965:1). De Lange het ook by die hof aansoek gedoen om die kerk se besluit as ongrondwetlik te verklaar, omdat dit neergekom het op onbillike diskriminasie op grond van seksuele oriëntasie, en om die kerk se bevel om haar as leraar te skors, ter syde te stel en haar terugwerkend in haar leraarspos te herstel (Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika 2014:3; De Freitas 2016:3). In haar kennis van mosie het De Lange aangevoer dat die arbitrasieooreenkoms haar gedwing het om afstand te doen van haar fundamentele regte en daarom contra bonis morae was. In die beantwoordende beëdigde verklaring namens die kerk het die voorsittende biskop melding gemaak van die punte in die arbitrasieooreenkoms waaroor De Lange en die sameroeper verskil het. In haar bevestigende beëdigde verklaring het De Lange aangevoer dat die kerk geen duidelike en aangekondigde wet gehad het wat selfdegeslaghuwelike verbied het nie. Sy het ontken dat sy die kerk se beleid en besluite oortree het. Belangrik was die feit dat sy verklaar het dat sy nie haar saak baseer op 'n klagte van onbillike diskriminasie gegrond op seksuele oriëntasie nie, maar op 'n administratiefregtelike aanspraak dat sy op billike administratiewe behandeling geregtig is (Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika 2014:11-14).

Gay aktiviste het De Lange ondersteun. Melanie Judge se kommentaar was dat dit eintlik die kerk is wat teregstaan en verantwoording vir sy optrede moes doen aan die hof, sy lidmate en die breër publiek. Haar mening was dat godsdienstige gebruike nie 'n persoon die reg op gelykheid en niediskriminasie behoort te ontsê nie, en dat godsdiensvryheid moet strook met die gelykheidsbeginsel in die Handves van Regte. Sy het aanvaar dat De Lange se basiese arbeidsregte as werknemer van die kerk onder die vergrootglas sou kom (Judge 2013:11). Anders as Judge, was Mol van mening dat die werklike kwessie in die geskil nie diskriminasie op grond van seksuele oriëntasie was nie, maar die vraag of die werkgewer die reg het om te verwag dat werknemers 'n sekere gedragskode moet nakom (Mol 2013:11).

Regter Anton Veldhuizen het die saak gedurende Junie 2013 in die Wes-Kaapse Hoë Hof aangehoor. Uiteindelik was die grondwetlike kwessie, die bewering dat die kerk onbillik teen De Lange gediskrimineer het op grond van haar seksuele oriëntasie, glad nie die fokus van die hofsaak nie, maar 'n kwessie van prosedure, naamlik of sy die korrekte prosedure gevolg het om haar geskil met die kerk te besleg. Anna-Marie de Vos, De Lange se regsverteenwoor-diger, het aangevoer dat die kern van die saak onbillike diskriminasie op grond van seksuele oriëntasie was, wat in stryd met die Grondwet is. Nadat gay verbintenisse vir 13 jaar onder oorweging in die Metodistekerk was, kon die kerk steeds nie 'n finale besluit daaroor neem nie. Totdat die kerk 'n definitiewe beleid oor selfdegeslaghuwelike aanvaar, so het De Vos argumenteer, was dit onderhewig aan die Grondwet se bepaling oor onbillike diskriminasie. De Lange het geen kerkreëls verbreek nie. Isabel Goodman, die kerk se regsverteenwoordiger, het heeltemal verskillend geargumenteer. Sy het gesê dat De Lange, deur met iemand van dieselfde geslag te trou, probeer het om haar siening op die kerk af te dwing en die kerk te dwing om standpunt in te neem oor 'n kwessie waarmee dit geworstel het. Dit was die kerk se standpunt dat die "morsige geveg" oor kerklike leerstellings nie in 'n openbare hof besleg behoort te word nie, maar deur arbitrasie binne die kerk. 'n Arbiter wat vertroud was met die kerkreg sou in staat wees om die getuienis beter te beoordeel. Dit was nie die taak van 'n siviele hof om beslissings oor kerkreëls te vel nie (Cronje 2013a:1). In sy uitspraak het die regter die kerk se siening onderskryf en bevind dat die arbitrasieooreenkoms nie inbreuk gemaak het op De Lange se regte nie en dat dit nie korrek was om die arbitrasieproses as onbillik en futiel te beskou nie (Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015:8-9). Die Hoë Hof het De Lange se aansoek met koste van die hand gewys op grond daarvan dat dit voortydig was en verklaar dat sy haar eers aan arbitrasie moes onderwerp (Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika 2014:14-15; De Freitas 2016:4).

De Lange is die reg tot appèl verleen en het na die Hoogste Hof van Appèl geappelleer. Sy het in haar voorlegging beswaar aangeteken teen arbitrasie op grond daarvan dat die arbitrasieooreenkoms nie geldig was nie. Dit het van haar vereis om afstand te doen van haar grondwetlike regte, haar regsverteenwoordiging ontsê en die mag van die howe uitgesluit. Omdat die arbiter as bevooroordeeld beskou kon word, sou arbitrasie volgens haar 'n vrugtelose proses wees (De Freitas 2016:5). Die saak het op 26 Augustus 2014 voor die hof gekom. Anna-Marie de Vos, vir De Lange, het daarop aangedring dat die appellant nie die kerk se beleid verbreek het nie. Wim Trengrove, vir die kerk, het verklaar dat die enigste vraag was of De Lange in stryd met die kerk se beleid opgetree het. Hy het argumenteer dat die hof nie in 'n godsdiensgeskil betrokke behoort te raak nie en dat slegs 'n arbiter oor die meriete van die saak kon oordeel (South African Press Association 2014:6).

Uitspraak is op 29 September 2014 gelewer. Die paneel van regters het bevind dat die hof nie die klag van onbillike diskriminasie op grond van seksuele oriëntasie kon oorweeg nie, omdat die appellant self in hofstukke verklaar het dat haar saak nie daarop berus nie. Dus was die opweging van enersyds die reg van vryheid van assosiasie en godsdiensvryheid teenoor andersyds die reg op gelykheid, nie ter sprake nie. Die hof het haar appèl hanteer as gegrond op 'n aanspraak op billike administratiewe behandeling deur haar werkgewer. Die hof het daarom net een vraag oorweeg, naamlik of die gronde wat De Lange aangevoer het waarom sy haar nie aan arbitrasie wou onderwerp nie, geregverdig was. Die meerderheidsbeslissing was dat nie 'n enkele grond wat sy vir die vermyding van arbitrasie aangevoer het, geregverdig was nie (Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika 2014:18-23; De Freitas 2016:5-6). Een regter het nie saamgestem dat daar 'n bindende arbitrasieooreenkoms tussen De Lange en die Metodistekerk bestaan het nie, maar dit het geen verskil aan die uitspraak gemaak nie (Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika 2014:32-45; De Freitas 2016:6-8).

Die paneel regters het die kerk se reg bevestig om die kwessie deur 'n interne proses te besleg, wat indien nodig deur 'n bevoegde hof hersien kon word. Hulle mening was dat daar geen beswaar daarteen is dat private instansies buitestanders uitsluit van hul dissiplinêre prosedures nie. Die uitspraak het assosiatiewe regte uitgelig, waarvolgens die lede van 'n godsdiensgemeenskap die reg het om hul godsdiens in genootskap met ander te beoefen in ooreenstemming met die voorskrifte, grondreëls, etiese standaarde en morele dissipline van hul geloof. Verder het die uitspraak bevestig dat die kerk die reg het om te bepaal wie dit beskou as geskik vir die leraarsamp en dat individue wat hulle vrywillig onderwerp aan die godsdiensgenootskap se reëls en besluitnemende liggame bereid moes wees om die uitkoms van billike verhore deur daardie liggame te aanvaar (Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika 2014:24-26; De Freitas 2016:5-6).

Die hof se standpunt is geregverdig op grond van die leerstuk van verstrengeling, naamlik dat 'n sekulêre hof dit moet vermy om verstrengel te raak in sensitiewe kwessies van kerklike leerstellings. In die uitspraak is verklaar dat dit onvanpas vir die hof sou wees om van die kerk te vereis om selfdegeslaghuwelike te erken of om enige godsdienstige leerstuk aan die kerk voor te skryf, omdat dit sou neerkom op 'n skending van die grondwetlike regte van godsdiensvryheid en die reg op vrye godsdienstige assosiasie. Die outonomie van godsdiensgenootskappe moes beskerm word. Die hof moes die afsonderlike naasbestaan van die sekulêre en gewyde sfere respekteer sonder om die een in die ander te probeer indwing. In hierdie saak was die hof se standpunt oor die toepassing van die leerstuk van verstrengeling in ooreenstemming met dié van howe in die VSA, VK, Australië en Kanada. Die slotsom van die uitspraak was: "It would thus seem that a proper respect for freedom of religion precludes our courts from pronouncing on matters of religious doctrine, which fall within the exclusive realm of the Church" (Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika 2014:23-30).

Die uitspraak in die geskil tussen De Lange en die Metodistekerk was gevolglik dat dit aan die kerk oorgelaat moes word om sy eie huishoudelike reëls te maak sonder inmenging van 'n hof. Aangesien die appellant nie die hof oortuig het waarom die arbitrasieproses ter syde gestel behoort te word nie, misluk die appèl en word dit van die hand gewys (Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika 2014:31-32).

In sy ontleding van die uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl kom De Freitas tot die gevolgtrekking dat die hof die standpunt van die Suid-Afrikaanse regbank in die verlede bevestig het dat sekulêre howe leerstellige verstrengeling moet vermy en dat kwessies wat verband hou met die huishoudelike reëls, die bestuur van en die leerstellings van godsdiensgenootskappe, nie onder hul jurisdiksie tuishoort nie. Die taak van die regbank in 'n saak van hierdie aard is beperk daartoe om te bepaal of die dissiplinêre prosedures wat deur 'n kerk gevolg word en die optrede wat daaruit voortvloei in ooreenstemming is met die kerk se eie reëls, bestuur en leerstellings. Die hof het teen De Lange beslis omdat die reël van die Metodistekerk, dat dit net heteroseksuele huwelike erken het, duidelik was, omdat die appellant haar vrywillig aan die huishoudelike reëls van die kerk onderwerp het en omdat die dissiplinêre prosedure wat die kerk gevolg het in ooreenstemming met die huishoudelike reëls was en regverdig en onpartydig was. Deur 'n selfdegeslagverbintenis te sluit, het De Lange, wat in 'n posisie van geestelike leierskap in die kerk was, in stryd met 'n kernleerstelling van die kerk gehandel (De Freitas 2016:9, 10-11, 18).

De Freitas oordink ook die vraag wat die uitkoms van die appèl sou wees indien die appellant dit sou grond op onbillike diskriminasie op grond van seksuele oriëntasie. Omdat sy dit nie gedoen het nie, beskou hy dit as 'n verlore geleentheid vir die regbank om Suid-Afrikaanse grondwetlike regspraak te ontwikkel in verband met die verhouding tussen gelykheid geassosieer met seksuele oriëntasie aan die een kant en die assosiatiewe regte van godsdiensgenootskappe aan die ander kant. Hy is ten gunste van 'n ruimhartige benadering in die howe oor die parameters van die regte van godsdiensgenootskappe in 'n samelewing wat demokrasie en pluralisme onderskryf. Na sy mening behoort daar geen rede te wees waarom 'n outonome godsdiensgenootskap nie toegelaat mag word om sy eie alternatiewe geskilbeslegtingsprosedures te ontwikkel nie, mits hulle ooreenstem met fundamentele regsbeginsels, soos die natuurreg. Hy stem daarom saam met die uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl (De Freitas 2016:12, 19).

In 'n laaste poging om haar ontheffing uit die leraarsamp in die Metodistekerk ter syde gestel te kry, het De Lange na die Konstitusionele Hof geappelleer. Freedom of Religion South Africa (FORSA) het dit beskou as die belangrikste saak oor godsdiensvryheid en die outonomie van die kerk wat nog ooit voor 'n Suid-Afrikaanse hof gedien het. Dit sou 'n presedent skep vir elke ander saak wat oor hierdie kwessies handel. Indien De Lange se appèl sou slaag, kon dit die deur vir die howe ooplaat om aan kerke voor te skryf wat hulle mag glo en nie mag glo nie en hoe hulle hul huishoudelike sake moet bestuur (Badenhorst 2015).

Die saak is op 28 Augustus 2015 aangehoor. De Lange se regsverteenwoordiger het toegegee dat sy die kerk se reël oortree het wat leraars nie toelaat om selfdegeslaghuwelike aan te gaan nie en dat 'n geldige arbitrasieooreenkoms bestaan het (Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015:16, 17; Konstitusionele Hof van Suid-Afrika. 2015a:2). Sy het geargumenteer dat die kerk se optrede teen De Lange in stryd was met haar reg op gelykheid onder die Grondwet, wat onbillike diskriminasie op grond van seksuele oriëntasie verbied. Sy het verder aangevoer dat arbitrasie nie 'n toepaslike forum vir die beslegting van die geskil gebied het nie en dat die arbitrasieproses op vooroordeel berus het en geen praktiese effek gehad het nie (Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015:8; Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015a:2). Die kerk se regsverteenwoordiger het geargumenteer dat De Lange haar aanspraak op onbillike diskriminasie prysgegee het en haar nie van nuuts af daarop kon beroep nie. Trengrove het aangevoer dat die beginsel van grondwetlike ondergeskiktheid beteken het dat De Lange haar aanspraak op onbillike diskriminasie eers in die Gelykheidshof aanhangig moes gemaak het kragtens die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskrimi-nasie (Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015:20, 22; Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015a:2).

Uitspraak is op 24 November 2015 gelewer. In die saak het die regters twee kwessies oorweeg:

Of hulle die beslissings van die Wes-Kaapse afdeling van die Hoë Hof en die Hoogste Hof van Appèl, wat beide geweier het om die arbitrasieooreenkoms tussen De Lange en die kerk ter syde te stel, moes omverwerp.

Of die Konstitusionele Hof die klag van onbillike diskriminasie, wat nou die hoofbetoog van De Lange se saak geword het, moes aanhoor (Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015:3).

Die bevinding van die paneel regters was eenparig en regter Dikgang Moseneke het die uitspraak geskryf. Die bevindings van die Konstitusionele Hof was soos volg:

De Lange se redes vir die tersydestelling van die arbitrasieooreenkoms was nie geregverdig nie (Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015a:2).

De Lange het eensydig voor die Hoë Hof afstand gedoen van haar aanspraak op onbillike diskriminasie en het nie die reg gehad om dit op appèl vir die eerste keer te berde te bring nie (Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015:14, 22; Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015a:2).

Die beginsel van grondwetlike ondergeskiktheid het gegeld, wat beteken het dat De Lange die klag van onbillike diskriminasie eerstens by die Gelykheidshof aanhangig moes gemaak het (Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015:14; Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015a:2). Die uitspraak het suggereer dat daar prosedurele vergissings begaan is in die verloop van die saak en dat De Lange in 'n vroeë stadium 'n hofbevel moes bekom het om haar uiteenlopende klagtes te versoen (Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015:24, 27).

De Lange het nagelaat om 'n kennisgewing kragtens die Eenvormige Reëls van die Hoë Hof in te dien, wat ander belanghebbende partye, soos godsdiensgemeenskappe, ontneem het van die geleentheid om as amicus curiae toegang tot die howe te kry as partye tot die saak. Freedom of Religion South Africa se aansoek om as amicus curiae toegelaat te word, is byvoorbeeld geweier (Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015:13, 26; Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015a:2).

Regter Moseneke, soos die regters in die Hoë Hof en Hoogste Hof van Appèl, het ook die verstrengelingsleerstuk onderskryf deur te verklaar dat dit vir die hof onvanpas sou wees om in te meng in 'n geskil oor die kerk se leerstellings en waardes (Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015:19). Die Konstitusionele Hof het De Lange se appèl van die hand gewys (Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015a:2) en verklaar dat, omdat die saak handel oor die vertolking van godsdienstige leerstellings, arbitrasie die gepaste forum sou wees om die kerk se toepassing van die reël oor selfdegeslaghuwelike van leraars te beoordeel (Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015:19; Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015a:2). De Lange is verlof tot appèl geweier, omdat die regters geoordeel het dat dit geen redelike kans op sukses sou hê nie (Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015:2, 13; Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015a:2). So is haar veldtog in die burgerlike howe effektief beëindig.

In 'n samelopende uitspraak het regter Van der Westhuizen aangevoer dat hierdie saak die vraag na vore gebring het of daar 'n "grondwetvrye" sone in die Suid-Afrikaanse konstitusionele demokrasie behoort te bestaan (Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015:3032; Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015a:2). Van der Westhuizen het verklaar dat die burgerlike howe moes vermy om in te meng in die privaatheid en outonomie van godsdienstige instellings: "Courts are not necessarily the best instruments to balance competing rights and values in intimate spaces where emotions and convictions determine choices and association" (Konstitusionele Hof van Suid-Afrika 2015:32).

Die beslissing van die Konstitusionele Hof het beteken dat die enigste moontlikheid wat vir De Lange oorgebly het, indien sy as leraar van die Metodistekerk herstel wou word, was om haar aan die kerk se arbitrasieproses te onderwerp. Ná vyf jaar en drie hofsake was sy terug waar sy in 2010 begin het om die kerk se besluit om haar as leraar te onthef, uit te daag.

Voorstanders van godsdiensvryheid het die uitspraak van die Konstitusionele Hof verwelkom as 'n belangrike oorwinning vir godsdiensvryheid en die outonomie van die kerk om sy eie sake te bestuur. Andrew Selley, stigter van Freedom of Religion South Africa (FORSA), het gesê dat die hof se beslissing die reg van die kerk erken om homself te bestuur en om die Skrif vir homself te vertolk, en dat dit die beginsel bevestig dat sekulêre howe so ver moontlik nie betrokke moet raak in leerstellige geskille van 'n godsdienstige aard nie. Hy het dit as 'n "groot verligting" en 'n sekere oorwinning vir godsdienstige vryheid en outonomie bestempel, maar gewaarsku dat nog soortgelyke sake te wagte was en dat die kerk verenig moes staan in die beskerming van godsdiensvryheid (Badenhorst 2015a).

Aktiviste vir gay regte, aan die ander kant, was teleurgesteld. Hulle was bevrees dat die Konstitusionele Hof se beslissing kerke met soortgelyke beskouings as die Metodistekerk sou toelaat en aanmoedig om voort te gaan met diskriminasie en die uitsluiting van gays en lesbiërs (Rickard 2015).

Sedert die Strydom- en De Lange-sake het 'n verdere verwante saak opspraak verwek, naamlik Gaum and Others v Van Rensburg NO and Others (40819/17) 2019 ZAGPPHC 52, wat op 21 Augustus 2018 in die Gautengse Afdeling van die Hoë Hof in Pretoria voor drie regters gedien het en waarvan die uitspraak op 8 Maart 2019 gelewer is. Dit het gehandel oor sinodebesluite van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK). In 2015 het die Algemene Sinode van die NGK besluit om die gelykheid van alle lidmate ongeag hul seksuele oriëntasie te herbevestig, erkenning te verleen aan burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag, predikante toe te laat (nie te dwing nie) om sulke verbintenisse te bevestig en ook die vereiste van selibaatheid vir gay persone in die ampte van leraar en ouderling op te hef. Weens talle besware van leraars en lidmate het die Moderamen van die NGK besluit om toe te laat dat die 2015-besluit op appèl geneem word. By 'n buitengewone sinodesitting hieroor in November 2016 is die 2015-besluit omgekeer. Laurie Gaum en ander lidmate het die NGK hieroor hof toe geneem. In die uitspraak het die hof die 2016-besluit op prosedurele gronde onwettig en ongeldig verklaar en ter syde gestel, omdat die NGK met die hersiening van die 2015-besluit nie die voorgeskrewe prosedure volgens sy kerkorde nagekom het nie (Hoë Hof 2019:1-4, 23-30, 51-52).

Hoewel die hof in hierdie geval ook die verstrengelingsleerstuk in ag geneem het (Hoë Hof 2019:11-15), het die uitspraak in die Gawm-saak verder as die Strydom- en De Lange-sake gegaan deur ook die grondwetlike kwessie van diskriminasie in die kerk op grond van seksuele oriëntasie te oorweeg. Die hof het beslis dat die NGK onbillik teen Gaum en sy mede-applikante gediskrimineer het op grond van hul seksuele oriëntasie en hulle daardeur wesenlik benadeel het deur hulle sekere voorregte in die kerk te ontsê (Van der Walt 2019). Badenhorst (2019) meen dat die gebrek aan konsensus binne die NGK oor die hantering van homoseksuele lidmate die deur vir die hof oopgelaat het om ook die grondwetlikheid van die 2016-besluit te toets. Regskenners verskil oor die implikasies van die Gawm-saak. Badenhorst (2019) wys daarop dat die uitspraak in die Gawm-saak uitsluitlik op die NGK bindend is en geen verpligting op ander godsdiensinstellings plaas om praktiserende homoseksuele as leraars aan te stel of om homoseksuele paartjies in die eg te verbind nie. Sy maak voorstelle hoe kerke hul prosedures op 'n vaster grondslag kan plaas om te verhoed dat howe op prosedurele gronde in hul interne sake inmeng. Sutton en Sutton (2019:410) stem nie met De Vos (2019) saam dat die hof se beslissing oor die grondwetlike kwessie bloot 'n nie-bindende obiter dictwm daarstel nie, maar meen dat dit in die toekoms 'n wesenlike invloed op die beregting van soortgelyke gedinge sal uitoefen. Van der Walt (2019) se gevolgtrekking is dat die Grondwet diskriminasie teen individue op grond van hul seksuele oriëntasie verbied, waar die billikheid van daardie diskriminasie op geen wyse geregverdig kan word nie, en dat godsdiensinstellings nie noodwendig op grond van godsdienstige oortuigings hiervan vrygestel is nie. Die Gawm-saak kan nie sonder meer as vooruitgang vir gay persone in hul stryd om gelykberegtiging in kerke beoordeel word nie, omdat die uitspraak teen die NGK hoofsaaklik te wyte was aan die kerk se slordige prosedurele optrede in die aanloop tot die 2016-sinodebesluit en omdat die argumente wat die kerk se verteenwoordigers in die hof aangevoer het, nie oortuigend was nie.

 

GEVOLGTREKKING

Op die oppervlak kom dit voor asof die Strydom-saak 'n oorwinning en die De Lange-saak 'n nederlaag vir gays was. Deeglike ontleding maak dit duidelik dat so 'n veronderstelling nie korrek is nie:

In Strydom v. Nederdwitse Gereformeerde Gemeente Moreletapark het die regter dit duidelik gemaak dat sy uitspraak in die guns van die klaer was net omdat hy 'n kontrakwerker was en nie 'n geestelike leier in die kerk nie. Die implikasie is dat die uitspraak waarskynlik in die guns van die kerk sou gewees het indien Strydom in 'n posisie van leierskap was en verantwoordelik was vir godsdienstige kerntake in die gemeente, wat nie juis gerusstellend vir die voorstanders van gay regte is nie.

In De Lange v Presiding Bishop of the Methodist Chwrch of Sowthern Africa het al drie howe Ecclesia de Lange se saak op prosedurele eerder as grondwetlike gronde van die hand gewys. In die finale uitspraak het die regters van die Konstitusionele Hof die suggestie gemaak dat haar kanse op sukses baie beter sou wees indien sy uit die staanspoor die kerk voor die Gelykheidshof gedaag het met 'n klag van onbillike diskriminasie op grond van seksuele oriëntasie kragtens die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie. Die posisie van die howe oor die opweging van botsende grondwetlike regte, naamlik die reg op gelykheid teenoor die reg op godsdiensvryheid en die reg op vryheid van assosiasie, is nie in die Strydom-saak deeglik getoets nie. 'n Sterk presedent hieroor is nog nie in die Suid-Afrikaanse regspraak vasgelê nie.

Behoort gay Christene wat gelyke behandeling in die kerke nastreef, moed te verloor na aanleiding van die De Lange-saak? Moet die afwysing van haar saak deur drie siviele howe beskou word as net nog 'n voorbeeld van die onbillike behandeling van gays? Die antwoord op beide vrae is "nee".

Gay Christene het rede om te hoop dat hul reg op gelyke behandeling binnekort deur die meeste kerke onderskryf sal word. In die twee uitgawes van sy boek A time to embrace - same-sex relationships in religion, law, and politics, fokus William Stacy Johnson op die dramatiese veranderinge in standpunte, beleide en wetgewing oor selfdegeslagverhoudings wat binne 'n kort tydperk plaasgevind het. Binne net 'n paar jaar het selfdegeslaghuwelike gevorder van 'n blote moontlikheid tot 'n onontkombare sosiale en politieke werklikheid. Dit het nie sonder intense wêreldwye konflik tussen die "nuwe politiek van gay erkenning" en die "ou politiek van sosiale beheer" gebeur nie. Vandag is daar groeiende openbare en wetlike steun vir selfdegeslagpaartjies. Die dramatiese verandering in houdings oor hierdie kwessie het 'n uitwerking gehad op hoe dit in godsdienskringe benader word. Johnson maak onderskeid tussen sewe teologiese wyses om op selfdegeslagverhoudings te reageer (Johnson 2006:5, 40; Johnson 2012:xiii, xviii, 244). Hy argumenteer dat, hoewel anti-gay sentimente nie oornag sal verdwyn nie, die pro-gay meerderheid mettertyd sterker behoort te word: "With each passing year we will witness greater and greater acceptance of gay people as individuals and as couples" (Johnson 2006:7, 223). Godsdienstig georiënteerde mense, selfs konserwatiewes, se houdings is besig om te verander. Al meer kerke begin gelyke huweliksregte vir selfdegeslagpaartjies onderskryf en persone in selfdegeslagverbintenisse orden as leraars. Johnson lewer 'n pleidooi daarvoor dat selfdegeslaghuwelike as erkende Christelike huwelike in kerke gevier sal word. Hy glo dat dit met verloop van tyd sal gebeur (Johnson 2012:xiii, xviii, 248).

Hierdie houdingsverandering is ook in Suid-Afrika merkbaar. Oor die kwessies van selfdegeslaghuwelike en of persone in selfdegeslagverbintenisse in die leraarsamp toegelaat behoort te word, bestaan steeds ernstige verdeeldheid in die meeste kerke in die land. Van Coller (2013:678) beskou dit as beide 'n wetlike en morele dilemma. Toe De Lange se saak voor die Konstitusionele Hof gedien het, was Rickard (2015) se kommentaar: "De Lange's case will sharply divide the public, and I can't see anyone being moved from their pre-existing position by the legal argument of either side."

Dit is 'n dinamiese kwessie en houdings daaroor verander vinnig. Peter Storey, voormalige voorsittende biskop van die Metodistekerk, met wie De Lange die geskil gehad het, meen dat 'n groeiende getal van die leiers en lidmate van die kerk die reg op selfdegeslaghuwelike steun (Storey 2013:8). Tydens die regsgeding het die Metodistekerk hom verbind tot voortgaande dialoog oor die kwessie van selfdegeslaghuwelike (Van Coller 2013:697). Daar is dus vordering hieroor in die Metodistekerk, 'n betreklik konserwatiewe hoofstroomdenominasie.

Hoe lank moet gays nog wag voordat hulle in die kerke as gelyke lidmate met dieselfde status en regte as heteroseksuele mense behandel word? Indien Johnson se voorspellings akkuraat is, sal dit waarskynlik nie lank duur nie. 'n Prominente stryder vir gelykheid en meningsvormer met hoë aansien in Suid-Afrika, Desmond Tutu, beskou die stryd teen homofobie en heteroseksisme as 'n waardige morele kruistog in die boek Aliens in the household of God: homosexuality and Christian faith in South Africa. Tutu meen dat die kerk nie mense behoort te straf oor iets waaraan hulle niks kan verander nie, naamlik hul seksuele oriëntasie. Volgens hom is dit godslastering om kinders van God te laat twyfel of hulle kinders van God is (Tutu 1997). Waarskynlik sal al meer Suid-Afrikaners sy standpunt ondersteun.

Uit 'n suiwer regsoogpunt was De Lange nie die slagoffer van onbillike behandeling deur die howe nie. In beide die Strydom- en De Lange-sake was die balansering van grondwetlike regte, die reg op gelykheid aan die een kant en die reg op vryheid van godsdiens en assosiasie aan die ander kant, op die spel. Na meer as twintig jaar van die nuwe grondwetlike bedeling bestaan steeds groot omstredenheid onder Suid-Afrikaanse regsgeleerdes oor hoe presies die rangorde van regte in die Handves van Regte georganiseer behoort te word om billike regspraak in verskillende soorte regsgedinge te verseker. Sommiges argumenteer dat die regte op menswaardigheid en gelykheid verhewe is bo alle ander regte. Die beskerming van menswaardigheid word internasionaal as 'n fundamentele reg beskou. In Suid-Afrika, met sy geskiedenis van menseregteskendings, word menswaardigheid hoog geag, soos uitgedruk in artikels 1, 7 en 10 van die Grondwet (Republiek van Suid-Afrika 1996:3, 6, 7) en bevestig deur State v Makwanyane and Another 1995 (3) SA 391, die heel eerste saak wat deur die Konstitusionele Hof aangehoor is. Indien dit op gay regte toegepas word, is die argument dat die skending van 'n gay persoon se regte ook 'n skending van daardie persoon se menswaardigheid is (Ferreira 2018). Ander regsgeleerdes argumenteer dat godsdiensvryheid een van die mees fundamentele regte is; in werklikheid die prototipiese mensereg (Van Coller 2013:692). Dit is 'n ingewikkelde, selfs onmoontlike, onderneming om 'n vaste rangorde van grondwetlike regte te bepaal, wat vir alle regsgedinge sal geld. Godsdiensinstellings word gebind deur grondwetlike regte, maar geen van hierdie regte is absoluut nie.

In die drie hofsake wat uit De Lange se geskil met die Metodistekerk voortgespruit het, is die leerstuk van verstrengeldheid, 'n internasionaal erkende beginsel van regspleging, gehandhaaf. Dit is duidelik dat die Suid-Afrikaanse howe nie ligtelik in die huishoudelike sake en leerstellings van kerke sal inmeng nie. Die meerderheid Suid-Afrikaanse regsgeleerdes wat die hofsake ontleed het, stem saam dat dit 'n gesonde beginsel is om in 'n demokratiese samelewing te volg, omdat dit die vryheid van godsdiens en assosiasie beskerm, asook die regte van minderhede (kyk die aangehaalde bronne van Van der Vyver, Woolman, Lenta, Van Coller en De Freitas). Tot 'n sekere mate beperk PEPUDA die regte van godsdiensvryheid en vryheid van assosiasie in Suid-Afrika. Artikel 8(d), wat oor geslagsgelykheid handel, dui aan dat die wetgewer in sekere omstandighede van die howe verwag om in kerklike sake in te meng (Republic of South Africa 2000:8). Die Strydom- en De Lange-sake het nietemin bewys dat die Suid-Afrikaanse howe dit ten regte vermy om in godsdienstige leerstellings verstrengel te raak. Ferreira (2018) meen dat dit in beginsel vir die howe moontlik is om die regte van gays in hul verhouding met kerke af te dwing, maar vervolg: "Nogtans (na my mening tereg) beperk die howe hul eie bevoegdheid om in die private verhouding tussen 'n individu (in hierdie geval gays) en 'n kerk in te meng, veral waar dit oor die vertolking van die Skrif handel. Sou die howe nie terughoudend in hierdie gevalle optree nie, sal hulle verwyt kan word dat hulle hul die finale seggenskap oor leerstellige kwessies toeëien en dus by implikasie aan kerke kan voorskryf wat hulle moet glo. En dit is uiteraard nie gewens nie."

Na my mening is Van der Vyver en Van Coller reg wanneer hulle verklaar dat daar openbare weerstand behoort te wees teen onreg in kwessies van seksuele oriëntasie binne godsdiensgemeenskappe, maar dat wetlike dwang nie die voorkeurkeuse in die beslegting van hierdie soort onreg behoort te wees nie. Dit is 'n kwessie wat deur die kerke self, nie die howe nie, besleg moet word. Diegene wat steeds gelykheid vir gays in kerke opponeer moet oorreed word om hul siening te verander, want soos Van der Vyver (2011:17) betoog, is waardes wat op oortuiging berus verhewe bo waardes wat met wette afgedwing moet word.

 

BIBLIOGRAFIE

Badenhorst, N. 2015. FOR SA defends religious freedom and autonomy of the church in the Constitutional Court. FOR SA blog, 7 September.         [ Links ]

Badenhorst, N. 2015a. Constitutional Court shuts the door on Ecclesia de Lange. Gateway News, 26 November.         [ Links ]

Badenhorst, N. 2019. The implications of the 'Gaum vs Dutch Reformed Church' judgment: a guideline for churches and religious organisations. Freedom of Religion South Africa (FORSA) blog, 18 Junie, https://forsa.org.za/the-implications-of-the-gaum-vs-dutch-reformed-church-judgment/ [15 Oktober 2020].         [ Links ]

Bilchitz, D. 2011. Should religious associations be allowed to discriminate? South African Journal on Human Rights, 27(2):219-248.         [ Links ]

Bilchitz, D & de Freitas, S. 2012. Introduction: the right to freedom of religion in South Africa and related challenges. South African Journal on Human Rights, 28(2):141-145.         [ Links ]

Cronje, J. 2013. Gay minister goes to court over 'unfair dismissal'. The Cape Times, 20 Mei:4.         [ Links ]

Cronje, J. 2013. Court battle over 'unfair dismissal'. Lesbian pastor vs church. The Cape Times, 22 Mei:1.         [ Links ]

De Freitas, S. 2016. Doctrinal sanction and the protection of the rights of religious associations: Ecclesia De Lange v The Presiding Bishop of the Methodist Church of Southern Africa (726/13) [2014] ZASCA 15. Potchefstroom Electronic Law Journal 19, http://dx.doi.org/10.17159/1727-3781/2016/v19i0a1248 [8 Januarie 2018]:1-22.         [ Links ]

De Lange, I. 2008. Gay man sues church. The Citizen, 12 Augustus:6.         [ Links ]

De Villiers, J. 2005. Orrelis eis van kerk wat hom oor gay verhouding pos. Beeld, 3 Augustus:1.         [ Links ]

De Vos, P. 2019. Why court ruled against Dutch Reformed Church in same-sex marriage case and what it may mean for other churches who discriminate against gays and lesbians, 12 Maart, https://constitutionallyspeaking.co.za/why-court-ruled-against-dutch-reformed-church-in-same-sex-marriage-case-and-what-it-may-mean-for-other-churches-who-discriminate-against-gays-and-lesbians/ [15 Oktober 2020].         [ Links ]

Du Plessis, J. 2008. Moreletapark moet gay besluit aan hof verduidelik. Die Kerkbode, 18 Julie:3.         [ Links ]

Eggington, S. 2011. Minister's allies talk of court action. Sunday Times, 6 February 2011:2.         [ Links ]

Engela, C. 2010. Methodist Church has betrayed us. The Cape Argus, 19 Februarie:14.         [ Links ]

Farlam, P. 2008. Freedom of religion, belief and opinion. In S. Woolman et al. Constitutional Law of South Africa. Kaapstad: Juta Law, pp. 41-50.         [ Links ]

Ferreira, G. 2018. E-posboodskap aan outeur, 22 Januarie.         [ Links ]

Fourie, H. 2008. 'n Bekgeveg met Bybelverse in hof. Beeld, 13 Augustus:6        [ Links ]

Fourie, H. 2008a. Plaas reg op gelykheid, waardigheid bo geloofsvryheid. Beeld, 21 Augustus:4.         [ Links ]

Gelykheidshof van Suid-Afrika. 2008. Equality Court of South Africa, Transvaal Provincial Division, Case number 26926/05: Johan Daniel Strydom (complainant) v. Nederduitse Gereformeerde Gemeente Moreleta Park (respondent), Judgment by Judge DA Basson, http://www.saflii.org/za/cases/ZAGPHC/2008/269.html [3 Januarie 2018]:1-26.         [ Links ]

Hoë Hof van die Republiek van Suid-Afrika. 2019. High Court of South Africa, Gauteng Division, Pretoria. Gaum and Others v Van Rensburg NO and Others (40819/17) 2019 ZAGPPHC. Judgment, 8 Maart.         [ Links ]

Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika. 2014. Supreme Court of Appeal of South Africa, Ecclesia De Lange v The Presiding Bishop of the Methodist Church of Southern Africa (case no. 726/13), ZASCA 151, Judgment, 29 September.         [ Links ]

Inclusive and Affirming Ministries. 2013. Facebookbladsy, https://www.facebook.com/IAM587/posts/10151914001144420 [8 Januarie 2018].         [ Links ]

Jackson, N. 2008. Ekskuus, maar homoseksualiteit bly sonde. Beeld, 10 September:1.         [ Links ]

Jackson, N. 2010. Metodiste ontslaan predikant oor huwelik. Beeld, 19 Februarie:3.         [ Links ]

Johnson, WS. 2006. A time to embrace - same-gender relationships in religion, law, and politics. Eerste uitgawe. Grand Rapids Mi.:Wm. B. Eerdmans Publishing Co.         [ Links ]

Johnson, WS. 2012. A time to embrace - same-sex relationships in religion, law, and politics. Tweede uitgawe. Grand Rapids Mi.:Wm. B. Eerdmans Publishing Co.         [ Links ]

Judge, M. 2013. The church itself is on trial over the rights of a lesbian minister. The Cape Times, 28 Mei:11.         [ Links ]

Konstitusionele Hof van Suid-Afrika. 2015. Constitutional Court of South Africa, De Lange v Presiding Bishop of the Methodist Chwrch of Sowthern Africa for the Time Being and Another, ZACC 35 (Case CCT 223/14), Judgment.         [ Links ]

Konstitusionele Hof van Suid-Afrika. 2015a. Constitutional Court of South Africa, De Lange vPresiding Bishop of the Methodist Chwrch of Sowthern Africa for the Time Being and Another ZACC 35 (Case CCT 223/14), Media summary.         [ Links ]

Lenta, P. 2009. Taking diversity seriously: religious associations and work-related discrimination. Sowth African Law Journal, 126(4):827-860.         [ Links ]

Malan, M. 2009. Klein dorp se gemeente salf gay orrelis se wonde. Rapport, 23 Augustus:8.         [ Links ]

Malan, M. 2012. Gay leraar: stilbly is nie getrou aan God. Rapport, 24 Junie:11.         [ Links ]

Mol, A. 2013. Minister's conduct, not sexual preference at issue. The Pretoria News, 31 Mei:11.         [ Links ]

Pietersen, M. 2013. Church in court for firing gay. The Citizen, 21 Mei:8        [ Links ]

Republic of South Africa. 1965. Arbitration Act, act 42 of 1965, http://www.wipo.int/edocs/lexdocs/laws/en/za/za062en.pdf [8 Januarie 2018].         [ Links ]

Republic of South Africa. 2000. Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Act, 4 of 2000, http://www.justice.gov.za/legislation/acts/2000-004.pdf [3 Januarie 2018].         [ Links ]

Republiek van Suid-Afrika. 1996. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 soos op 8 Mei 1996 aangeneem en op 11 Oktober 1996 gewysig deur die Grondwetlike Vergadering.         [ Links ]

Rickard, C. 2015. Gay rights and the church - will the Constitutional Court intervene? Legal Brief, www.legalbrief.co.za/gay-rights-and-the-church-will-the-constitutional-court-intervene [8 Januarie 2018].         [ Links ]

South African Press Association. 2014. Gay pastor defends right to wed. The Star, 27 Augustus:6.         [ Links ]

Storey, P. 2013. Church divided. The Cape Times, 24 Mei:8.         [ Links ]

Sutton, W en L. 2019. Regsgevolge volgens die Gawm-saak vir nienakoming van kerkordelike prosedures ten opsigte van besluite deur die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Litnet Akademies 16(2):397-421.         [ Links ]

Tutu, D. 1997. Foreword. In P Germond & S de Gruchy (eds), Aliens in the howsehold of God: homosexwality and Christian faith in Sowth Africa. Cape Town: David Philip, 1997.         [ Links ]

Van Coller, H. 2013. Homoseksuele predikante: 'n regs- en morele dilemma. LitNet Akademies 10(3), Desember:678-706.         [ Links ]

Van der Vyver, JD. 2011. Soewereiniteit van kerklike organisasies - die geval van die Moreletaparkse gemeente van die NG Kerk. De Jwre 44(1):1-17.         [ Links ]

Van der Walt, JJ. 2019. The meaning of (unfair) discrimination, part 2. Baker Mckenzie-webblad, 19 Maart 2019. https://www.bakermckenzie.com/en/insight/publications/2019/03/the-meaning-of-unfair-discrimination (15 Oktober 2020).         [ Links ]

Venter, Z. 2008. Church wants to 'walk the path of love'. Pretoria News, 14 Augustus:1.         [ Links ]

Venter, Z. 2008a. Church to pay up for axing music teacher because he was gay. The Star, 29 Augustus:3.         [ Links ]

Venter, Z. 2008b. City church formally says sorry. Letter sent to gay music teacher. Pretoria News, 12 September:3.         [ Links ]

Woolman, S. 2009. On the fragility of associational life: a constitutive liberal's response to Patrick Lenta. Sowth African Jowrnal on Hwman Rights, 25(2):280-305.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2020-07-26
Goedgekeur: 2020-10-30
Gepubliseer: Maart 2021

 

 

 

Kobus du pisani was tot 2019 professor in geskiedenis en is tans buitengewone professor aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU). Hy het meestersgrade in geskiedenis (UV) en omgewingswetenskappe (NWU) en 'n DPhil-graad in geskiedenis (UV) verwerf. Hy het betrekkings as navorser en dosent by drie Suid-Afrikaanse universiteite en een Suid-Koreaanse universiteit beklee en was betrokke by akademiese samewerkings- en uitruilprogramme met instansies in verskillende lande in Europa en Asië. Hy is 'n NRF-gegra-deerde navorser en het verskeie boeke, hoof-stukke, artikels en referate gelewer. Sy navorsingsuitsette handel oor twintigste-eeuse Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis (tydperke van Smuts en Vorster), geslagsgeskiedenis (aspekte van Afrikanermanlikheidsgeskiedenis), omgewingsgeskiedenis (evolusie van volhoubare ontwikkeling) en kultuurerfenisbestuur. Hy dien op die redaksies van historiese en omgewings-vaktydskrifte en is lid van 'n aantal vakverenigings.
Kobus du pisani was professor of history until 2019 and is currently an extraordinary professor at the Potchefstroom Campus of North-West University (NWU). He holds master's degrees in History (UFS) and Environmental Sciences (NWU) and a DPhil in History (UFS). He worked as researcher and lecturer at three South African universities and one South Korean university and participated in collaborative and exchange programmes with several institutions in Europe and Asia. He is an NRF rated researcher and has produced a large number of books, chapters, articles and papers. His research outputs deal with twentieth-century South African political history (in the time of Smuts and Vorster), gender history (themes from Afrikaner masculinity studies), environmental history (evolution of the concept of sustainable development) and heritage conservation management. He serves on the editorial boards of journals of history and environmental studies and is a member of professional associations.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons