SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 número1Values-driven education in the context of religious freedom as human rightFreedom of expression: Blasphemy and the prohibition against religious hate speech índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.61 no.1 Pretoria mar. 2021

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n1a6 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die dra van die Islamitiese hidjab deur lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag

 

The wearing of the Islamic hijab by South African National Defence Force members

 

 

Marita Carnelley

Fakulteit Regte, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: marita.carnelley@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se uniformreëls maak nie voorsiening vir enige uitsonderings gebaseer op die godsdienstige oortuigings van lede nie. 'n Islamitiese weermaglid wat genoop voel om 'n hidjab by haar uniform te dra, verbreek tans die voorgeskrewe regulasies en kan gevolglik gedissiplineer en selfs afgedank word. Hierdie artikel redeneer dat die gebrek aan 'n godsdiensgebaseerde spesifieke en beperkte uitsondering ongrondwetlik is in die lig van die individu se reg op godsdiensvryheid, menswaardigheid en gelykheid. Dergelike regte van weermaglede word opgeweeg teen die grondwetlik erkende dissiplinevereiste van die SANW aan die hand van die beperkingsklousule. Met verwysing na regterlike presedent in Suid-Afrika en twee voorbeelde van soortgelyke uitsonderings in die krygsmag van ander lande word geargumenteer dat 'n uitsondering op die uniformreëls nie die dissiplinedoelwit van die SANW sal affekteer nie. Daar is 'n minder beperkende wyse moontlik om hierdie doel te bereik sonder om die grondwetlike regte van die lede aan te tas. Sodanige uitsondering sal ook in ooreenstemming wees met die akkommodasiemodel van toepassing op die Suid-Afrikaanse interpretasie van die skeiding tussen staat en kerk.

Trefwoorde: Suid-Afrikaanse Weermag; SANW; uniform; Islam; hidjab; dissipline; godsdiensvryheid; menswaardigheid; gelykheid; Isaacs


ABSTRACT

This article is concerned with the proceedings against a female member of the South African Defence Force (SANDF), Major Isaacs, for wearing her hijab with her SANDF uniform whilst working as a clinical forensic pathologist at 2 Military Hospital in Wynberg, Cape Town. Major Isaacs argues that this is a religious imperative imposed by the Quran on those of the Islamic faith. The uniform regulations of the South African National Defence Force do not make provision for an exception based on the religious beliefs of members. As such, an Islamic member of the SANDF who feels that she is obliged to wear a hijab with her uniform, is currently breaking the prescribed regulations and can be disciplined or even dismissed. This article submits that the lack of a specific and limited religion-based exception to the dress code is unconstitutional in light of the rights of the individual to religious freedom, dignity and equality. The issue deals with the balancing of constitutional rights. On the one side stands the section 200(1) requirementfor a disciplined defence force, confirmed in Minister of Defence v Potsane; Legal Soldier (Pty) Ltd v Minster of Defence 2001 (2) SASV 632 (CC). On the other side stand the individual rights of SANDF members, specifically the right to religious freedom, dignity and equality as contained in the Bill of Rights. Using the limitation clause and the factors contained therein, it is argued that although both sets of rights are important, the nature and extent of the blanket limitation in the dress code is unnecessary as there is no clear link between the limitation and the aim thereof. An exception to the regulations will not impact negatively on the discipline within the SANDF. Inclusion of a limited exception to the uniform rules to include a hijab would be a less restrictive way of achieving the goals without impacting negatively on the rights of members. This discussion is informed by South African judicial precedent, specifically the Constitutional Court decision of MEC for Education: Kwazulu-Natal v Pillay 2008 (1) SA 474 (CC). In a constitutional democracy and a multireligious society, tolerance should be shown to those with a belief system different from the previous historical dominance of Protestant Christianity. The uniform regulations place believers in an unenviable position, namely to be forced to break the rules because of sincerely held religious beliefs. The court furthermore rejected the argument that an exception would lead to a so-called "parade of horribles" and that providing a procedure for considering exceptions would not place an unreasonable burden on the institution. It is further submitted that such an exception would be in line with the accommodation model applicable in the South African interpretation of the separation between church and state. The article further discusses the religious exceptions to military dress code in the US and Canada as possible examples of a more nuanced and rights-based approach. In both these jurisdictions the regulations make specific provision for the wearing of a hijab.

Keywords: South African Defence Force; SANDF; uniform; Islam; hijab; discipline; freedom of religion; dignity; equality; Isaacs


 

 

1. PROBLEEMSTELLING

In die Koran word die volgende vermanings gevind wat te make het met die kuisheid van vroue en die gepaardgaande kledingvoorskrifte:

En sê aan die gelowige vroue dat hulle hul oë moet neerslaan en hulle geslagsdrifte moet beheer, en nie hulle skoonheid tentoonstel nie, behalwe wat geoorloof is om sigbaar te bly. En laat 'n deel van hulle hooftooisels hul borste bedek. En laat hulle hul skoonheid nie vertoon nie, behalwe aan hul eggenote, of vaders, of die vaders van hul eggenote, of hulle seuns, of die seuns van hulle eggenote, of hulle broers of die seuns van hulle broers, of die seuns van hulle susters, of hulle vroue; of hulle slawe, of manlike bediendes wat geen geslagsdrang het nie; of die kinders wat nog niks van die naaktheid van vroue weet nie. En laat hulle nie met hul voete stamp nie, sodat die skoonheid wat hulle bedek nie blootgestel sal word nie. En bekeer julle almal tot Allah, o gelowiges, sodat julle mag slaag. (Koran, Soera 24:vers 31)

O Profeet! Sê aan u eggenotes en aan u dogters en die vroue van die gelowiges, dat hulle 'n gedeelte van hulle omslagdoeke oor hul hoofde moet hang - dit is meer fatsoenlik -sodat hulle uitgeken kan word, en nie lastig geval mag word nie. (Koran, Soera 33:vers 59)

Hierdie Koran-voorskrifte is grondliggend aan die optrede van 'n offisier in die SANW. Majoor Fatima Isaacs is werksaam by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) as 'n kliniese forensiese patoloog by 2 Militêre Hospitaal in Wynberg, Kaapstad. Sy dra alreeds 'n dekade lank haar Islamitiese kopdoek (hidjab) onder haar baret wanneer sy haar voorgeskrewe weermaguniform dra. Sy is herhaaldelik deur haar werkgewer versoek om dit te verwyder, omdat die dra daarvan teen die voorgeskrewe SANW-uniformreëls indruis. Dit is gemene saak dat daar nie tans 'n uitsondering in die uniformreëls is vir die dra van godsdienstig genoopte kledingstukke soos 'n hidjab nie. Selfs na 'n finale waarskuwing weier majoor Isaacs egter steeds op grondwetlike en godsdienstige gronde om aan hierdie opdrag gehoor te gee.

Die vervolging van Isaacs vind plaas ingevolge artikel 19 van die Reglement van Dissipline vervat in Bylae 1 van die Verdedigingswet 44 van 1957:

ONGEHOORSAAMHEID AAN WETTIGE BEVELE OF OPDRAGTE

19(1) Iemand wat met die opset om gesag te trotseer, ongehoorsaam is aan 'n wettige bevel persoonlik deur sy hoër offisier in die uitvoering van sy plig gegee, hetsy mondeling, skriftelik of per sein, is aan 'n misdryf skuldig en by skuldigbevinding strafbaar, indien hy die misdryf gepleeg het terwyl hy in krygsdiens was, met gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens vyf jaar, en in enige ander geval met gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens twee jaar.

(2) Iemand wat onder omstandighede waar dit nie op 'n misdryf ingevolge subartikel (1) neerkom nie, ongehoorsaam is aan 'n wettige bevel deur sy hoër offisier gegee, is aan 'n misdryf skuldig en by skuldigbevinding strafbaar met gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens een jaar.

Isaacs is onderwerp aan tugstappe ten einde haar diens te beëindig weens haar ongehoorsaam-heid om 'n direkte opdrag uit te voer. Haar argument is dat Islamitiese vroulike weermaglede weens hulle geloofsoortuiging nie aan die uniformreëls kan voldoen nie. Die stap om die reëls te wysig om haar geloofsvereistes te akkommodeer, sou die dilemma oplos sonder om afbreuk te doen aan weermagdissipline (Etheridge & Somdyala 2019:1).

Die Isaacs-aangeleentheid sal waarskynlik buite die hof geskik word weens parlementêre druk. Die voorsitter van die Portefeulje-komitee vir Verdediging en Militêre Veterane het op 7 Augustus 2019 in die Parlement namens die komitee 'n oproep gedoen dat die SANW 'n spoedige en minlike ("amicable") oplossing moet vind rakende die dra van 'n Islamitiese kopdoek deur SANW-lede (Parliamentary Communication Services 2017; Etheridge 2019:1).

Dit is egter in die belang van regsekerheid dat die argumente vanuit 'n juridiese oogpunt bespreek word ten einde leiding te gee in toekomstige soortgelyke voorvalle binne die SANW. Hierdie aangeleentheid rondom Isaacs was nie die eerste saak van sy soort nie. Die media berig dat ene majoor Mbete skuldig bevind is aan ongehoorsaamheid deurdat hy 'n wettige opdrag verontagsaam het. Hy is gevra om sy koefiyah (skedelkeps) te verwyder, maar het geweier. Hy is 'n boete en drie maande in die militêre kaserne as straf opgelê. In hierdie geval het hy ook reeds vir 'n aansienlike tydperk, sonder enige besware, die koefiyah gedra by sy uniform (Somdyala 2019:1).

Die kern van die probleem lê in mededingende grondwetlike beginsels: 'n grondwetlik erkende, gedissiplineerde weermag aan die een kant, en die grondwetlike reg op gods-diensvryheid, menswaardigheid en gelykheid aan die ander kant. Die vraag is of die grond-wetlike beginsels van godsdiensvryheid, menswaardigheid en gelykheid voorrang behoort te geniet bo die grondwetlike vereiste van weermagdissipline, deur 'n uitsondering te noodsaak vir die dra van enige deur godsdiens verpligte drag soos die hidjab. Anders gestel: sou daar nie van die SANW verwag kon word om in 'n grondwetlike, multigodsdienstige samelewing die fundamentele godsdienstige vereistes van gelowiges te akkommodeer, deur die nodige uitsondering te maak op die bestaande voorgeskrewe uniformreëls nie? So 'n wysiging sal tot gevolg hê dat weermaglede nie gedwing word om te kies tussen hulle geloof en 'n beroep by 'n staatsinstansie wat hulle dwing om teen hulle godsdienstige beginsels op te tree nie. Die Amerikaanse regter Marshall stel die situasie soos volg in perspektief:

A society that truly values religious pluralism cannot compel adherents of minority religions to make the cruel choice of surrendering their religion or their job. (Trans World Airlines, Inc.v. Hardison, 432 U.S. 63, 87 (1997))

As agtergrond begin die artikel met 'n kort nota oor die Suid-Afrikaanse regsposisie met betrekking tot die skeiding tussen kerk en staat. Daarna volg 'n bespreking van die mededingende grondwetlike beginsels: die dissiplinêre regulasies in die SANW word opgeweeg teen die reg op godsdiensvryheid, menswaardigheid en gelykheid met verwysing tot regspraak. Laastens word 'n oplossing voorgestel vir die Isaacs-dilemma aan die hand van bewese oplossings in twee buitelandse jurisdiksies.

 

2. SKEIDING VAN KERK EN STAAT

Suid-Afrika is 'n multikulturele en multigodsdienstige samelewing wat godsdiens as 'n positiewe kenmerk beskou, wat beperkend gereguleer behoort te word net wanneer dit in die openbare belang is (Du Plessis 2019:132-133). Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 is egter onduidelik oor die mate van skeiding tussen kerk en staat. Daar is beslis nie 'n absolute skeiding in die Grondwet nie (sien S v Lawrence par. 100-101 en 116-118; Bilchitz & Williams 2012:159-163; Malherbe 2006:637; Osman 2014:1340), maar juis 'n mate van interaksie tussen staat en kerk (Du Plessis 2019:143). Die Suid-Afrikaanse hofuitsprake bevorder die demokratiese ontwikkeling van die reg op godsdiensvryheid tot voordeel van beide die staat en die kerk (Du Plessis 2019:143; Freedman 2000:114). Bekink (2008:498) beskryf die dilemma as die ongemaklike driehoek tussen grondwetlikheid, sekularisme en godsdiensvryheid.

Opsommenderwys dui die skeiding tussen kerk en staat op 'n model van akkommodasie of samewerking, waarvan die grense egter nog bepaal moet word (Bilchitz & Williams 2012:174). Dit is hierdie onsekerheid wat 'n rol speel in die mate van toepaslikheid van die grondwetlike beginsels op die weermagreëls soos hier onder bespreek. In lande soos Frankryk, waar daar 'n absolute skeiding tussen kerk en staat bestaan, is die argumente anders en dus nie hier van toepassing nie (sien in die algemeen Bilsky 2009:287 e.v; Lenta 2007:303).

 

3. DISSIPLINE IN DIE SUID-AFRIKAANSE NASIONALE WEERMAG

Artikel 200(1) van die Grondwet vereis dat die weermag bestuur moet word as 'n gedissi-plineerde militêre mag. Die besonderhede van hierdie aspekte van dissipline en prosedure is vervat in enkele dokumente: (1) die Reglement van Dissipline, wat onder andere misdrywe en strawwe uiteensit; (2) die Wet op Aanvullende Maatreëls vir Militêre Dissipline 16 van 1999, asook die Reëls om Uitvoering te gee aan die Eerste Bylae by die Verdedigingswet 44 van 1957 wat voorsiening maak vir voortgesette militêre regspleging en die handhawing van dissipline. Hierdie dokumente mag moontlik binnekort vervang word deur die Wetsontwerp op Militêre Dissipline (Military Discipline Bill) B21 van 2019; (3) die gedetailleerde voorgeskrewe uniformregulasies soos vervat in die Bestuur en Beplanning van Dragregulasies en Draginstruksies in die SA Weermag, Mans en Vroue.

Die belang van dissipline in die SANW kan nie oorbeklemtoon word nie. Nie alleen verwys die Grondwet daarna nie, maar die Konstitusionele Hof het dit in twee uitsprake bekragtig. In die saak van Minister of Defence v Potsane; Legal Soldier (Pty) Ltd v Minster of Defence 2001 (2) SASV 632 (CC) (par. 31) is die noodsaaklike realiteit van dissipline as hoeksteen van die krygsmag spesifiek bevestig. Kriegler R erken die oppergesag van die Grondwet en dui aan dat die Handves van Regte nie uitgesluit kan word deur die SANW se optrede nie - al het die verhouding tussen die SANW en sy lede sekere unieke eienskappe met die spesifieke doel om die land te beskerm. Hy haal met goedkeuring die volgende aan uit die pleitstukke (par. 38):

The ultimate objective of the military in time of peace is to prepare for war to support the policies of the civil government. The military organisation to meet this objective requires, as no other system, the highest standard of discipline ... [which] can be defined as an attitude of respect for authority that is developed by leadership, precept and training. It is a state of mind which leads to a willingness to obey an order no matter how unpleasant the task to be performed. This is not the characteristic of the civilian community. It is the ultimate characteristic of the military organization. It is the responsibility of those who command to instill discipline in those who they command. In doing so there must be the correction and the punishment of individuals ...

Die regter verduidelik verder soos volg (Potsane par. 39): dissipline is gebou op wedersydse vertroue tussen offisier en ondergeskiktes. Die offisier moet kan vertrou op sy troepe se vermoëns en hulle gewilligheid om hom te gehoorsaam. Op hulle beurt behoort ondergeskikte troepe vertroue te hê in die oordeel en integriteit van die offisiere om redelike en wyse bevele te gee. Die gewilligheid om bevele te gehoorsaam, en die gepaardgaande vertroue in die bevele, is beide noodsaaklik vir effektiewe dissipline. Dissipline vereis volgens die regter dat enige verbreking daarvan in die kiem gesmoor moet word - demonstratief, toepaslik en regverdig.

In die saak van South African National Defence Union v Minister of Defence 2007 (5) SA 400 (CC) (par. 81) het dieselfde hof die dissiplineplig van die SANW weer beklemtoon in die vraag of die stig van 'n vakbond die dissipline in die SANW negatief sal beïnvloed en derhalwe verbied behoort te word. Die hof het dit ontkennend beantwoord, aangesien die stig van 'n vakbond nie noodwendig sal lei tot ongedissiplineerde kollektiewe optrede nie.

Ook in die hoër hof, in Freedom of Expression Institute v President, Ordinary Court Martial 1999 (1) SACR 353 (C) (par. 29), is die belangrike doel van dissipline in die SANW en die toepaslikheid van grondwetlike beginsels in die SANW se dissiplinêre proses beaam.

Hoewel die bespreking hier bo die ideale doelwitte van weermagdissipline beskryf, moet daar verwys word na navorsing uit 2003 dat militêre dissipline in die SANW, ten minste op daardie stadium, nie op standaard was nie (Heinecken, Nel & Janse van Vuuren 2003). 'n Volledige bespreking hiervan val buite die bestek van hierdie artikel. Dit is egter nodig om te vermeld dat dit deels die geval is as gevolg van die onsekere uitwerking van die grondwetlike beginsels op die SANW; die veranderinge in wetgewing; die lae prioriteit wat dissiplinêre oortredings geniet binne die SANW; die gebrek aan onderlinge vertroue tussen offisier en ondergeskiktes, en die gepolariseerde aard van die SANW as gevolg van rassekonflik en die samevoeging van die onderskeie afdelings uit die vorige bedelings (Heinecken, Nel & Janse van Vuuren 2003:90-93). Ongelukkig is meer onlangse navorsing nie beskikbaar nie. Hierdie stand van sake doen egter nie afbreuk aan die beginsel van die noodsaak en belang van dissipline in die SANW nie.

Daar moet egter gemeld word dat die besluitneming van so 'n grondwetlik georiënteerde dispuut in die militêre howe problematies is, juis vanweë die kultuur van dissipline, die spesiale verhouding tussen troepe en offisier en die onsekerheid oor die toepassing van die grondwetlike beginsels. Gewone howe, insluitende die gelykheidshowe soos uiteengesit in die Wet op Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie 4 van 2000 sou dalk meer toepaslik wees. Hoewel 'n volle bespreking van hierdie wet buite die bestek van hierdie artikel val, is die bewese doel daarvan om die toepassing van artikel 9 van die Grondwet te bevorder in gelykheidshowe (sien aanhef van Wet 4 van 2000) op 'n vinnige en informele basis (Pienaar 2003:5).

 

4. GRONDWETLIKE BEGINSELS VAN GODSDIENSVRYHEID, GELYKHEID EN MENSWAARDIGHEID

Die Grondwetlike artikels is die beginpunt van enige bespreking oor godsdiensvryheid, gelykheid en menswaardigheid - spesifiek artikel 15, 9 en 10 soos saamgelees met die beperkingsklousule in artikel 36. Hierdie artikels word vervolgens bespreek aan die hand van vroeëre hofuitsprake.

Artikels 15(1)-(2) van die Grondwet waarborg godsdiensvryheid, ook in staatsinstellings soos die SANW:

15 Vryheid van godsdiens, oortuiging en mening

(1) Elkeen het die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening.

(2) Godsdiensbeoefening kan by staats- of staatsondersteunde instellings geskied, mits-

(a) daardie beoefening reëls nakom wat deur die tersaaklike openbare gesag gemaak is;

(b) dit op billike grondslag geskied; en

(c) bywoning daarvan vry en vrywillig is.

Soos in die geval van Isaacs, word sake wat handel oor die reg tot godsdiensvryheid meestal in die vorm van 'n uitsonderingsversoek aanhangig gemaak en daar word nie gepoog om die wetgewing of reël per se ongrondwetlik te verklaar nie (Kroeze 2003:8). Lenta (2007:297) wys daarop dat daar twee breë argumente is vir sodanige akkommodering van individue ten opsigte van hulle godsdiens. Die eerste argument fokus op die belang van godsdiensvryheid in die opbou van alle inwoners se belange in die multigodsdienstige samelewing; en die tweede op gelykheid, spesifiek op die beginsel dat almal dieselfde geleenthede behoort te hê om hulle godsdiens uit te leef.

Met die vraag of so 'n godsdiensuitsondering geakkommodeer behoort te word, is die volgende stelling in Christian Education South Africa v Minister of Education (2000 (4) SA 757 (CC) (par. 35) van belang:

The underlying problem in any open and democratic society based on human dignity, equality and freedom in which conscientious and religious freedom has to be regarded with appropriate seriousness, is how far such democracy can and must go in allowing members of religious communities to define for themselves which laws they will obey and which not. Such a society can cohere only if all its participants accept that certain basic norms and standards are binding. Accordingly, believers cannot claim an automatic right to be exempted by their beliefs from the laws of the land. At the same time, the State should, wherever reasonably possible, seek to avoid putting believers to extremely painful and intensely burdensome choices of either being true to their faith or else respectful of the law.

Daar bestaan dus geen outomatiese reg van uitsonderings op enige bestaande reëls op grond van geloof nie (sien Christian Education par. 35), maar die staat behoort nie mense te dwing om tussen hulle geloof en respek vir die reg te kies nie (Currie & De Waal 2014:322). Met verwysing na artikel 15(2)(b) wil dit op die oog af voorkom asof die huidige uniformreëls onbillik is.

Die dra van godsdienstige simbole is 'n sensitiewe aangeleentheid en verdraagsaamheid blyk die sleutel tot die billike hantering van dispute te wees (Malherbe 2006:649). Lenaghan (2013:301) argumenteer dat die howe sensitief behoort te wees teenoor 'n verskeidenheid van gelowe in die lig van die geskiedkundige dominansie van en partydigheid vir die Protestants-Christelike geloof. In 'n multigodsdienstige grondwetlike samelewing is dit billik dat godsdiensuitoefening anders hanteer moet word as in die vorige bedeling, met verdraagsaam-heid as kern, sodat almal die geleentheid het om hulle godsdiens uit te leef.

Die dra van die hidjab en ander godsdienstige kledingstukke of simbole tydens werksure was dan ook die onderwerp van verskillende Suid-Afrikaanse hofuitsprake. In elk van die beslissings het die hof die vryheid van godsdiens opgeweeg teen ander bestaande regte. In MEC for Education: Kwazulu-Natal v Pillay 2008 (1) SA 474 (CC) (par. 117) is die reg van 'n skoolbeheerliggaam erken om 'n kleredragkode op te stel en af te dwing. Die weiering om 'n uitsondering te maak in die reëls sodat 'n Hindoe-leerder toegelaat kon word om haar kulturele neusring te dra is egter as ongrondwetlik beskou. Haar reg tot vryheid van godsdiens en kultuur weeg swaarder as die bestaande skoolreëls, wat duidelik maklik aangepas kan word om die multikulturele aard van die samelewing te weerspieël.

So ook het die hof in Department of Correctional Services v POPCRU 2013 (4) SA 176 (SCA) (par. 25) bevind dat die beleid ongrondwetlik is deur nie ruimte te maak vir 'n uitsondering vir manlike Rastafariër- en Xhosa-werknemers se haarstyl bekend as "dreadlocks" nie:

Even assuming otherwise, no evidence was adduced to prove that the respondents' hair, worn over many years before they were ordered to shave it, detracted in any way from the performance of their duties or rendered them vulnerable to manipulation and corruption.

Therefore, it was not established that short hair, not worn in dreadlocks, was an inherent requirement of their jobs. A policy is not justified if it restricts a practice of religious belief - and by necessary extension, a cultural belief - that does not affect an employee's ability to perform his duties, nor jeopardise the safety of the public or other employees, nor cause undue hardship to the employer in a practical sense. No rational connection was established between purported purpose of the discrimination and the measure taken. Neither was it shown that the department would suffer an unreasonable burden if it had exempted the respondents.

'n Beroep op godsdiensvryheid is egter nie altyd 'n waarborg tot sukses nie. Drie hofsake is hier ter sake: In Christian Education South Africa v Minister of Education (2000 (4) SA 757 (CC) (par. 50) het die ouers van skoolkinders geargumenteer dat redelike lyfstraf 'n integrale deel van die Christelike opvoedingsetos is, asook van hulle reg tot godsdiensvryheid en -uitoefening. Hulle het 'n uitsondering versoek op die lyfstrafverbod in die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996. Die hof het egter nie saamgestem nie, en bevind dat die regte van die kinders swaarder weeg, en dat spesifiek die reg op menswaardigheid en beskerming teen wrede, onmenslike of vernederende behandeling, kinders beskerm teen lyfstraf in skole (Christian Education par. 21). In Prince v President of the Law Society of the Cape of Good Hope [2002] 3 BCLR 231 (CC) (par. 139) was die hof nie inskiklik om op grond van godsdiensvryheid 'n uitsondering vir 'n Rastafariër te maak op die algemene dwelmverbod nie. Die staat se finansiële en administratiewe onvermoë om die wetgewing af te dwing sal die openbare belang en die land se internasionale verpligtinge nadelig raak. Die verbod is derhalwe as 'n redelike en regverdigbare inbreuk op die godsdiensvryheidsregte beskou.

In Dlamini v Green Four Security [2006] 11 BLLR 1074 (LC) (par. 2-3) is 'n sekuriteits-maatskappy se lede wat aan die Baptised Nazareth Group behoort, versoek om hulle baard te skeer. Hulle het geweier en is ontslaan. Die hof het bevind dat die dra van 'n baard nie 'n sentrale beginsel van hulle geloof is nie (Dlamini par. 26) en dat die verpligting op sekuriteitsbeamptes om skoongeskeer te wees soos vervat in die dissiplinêre kode 'n geregverdigde uitsondering is op hulle godsdiensregte, veral omdat hulle die verskillende geloofsvereistes self lukraak toepas, wat die erns van hulle geloofsoortuigings bevraagteken het (Dlamini par. 19 en 66). Die arbeidshof was van mening dat daar gewaak moet word teen uitsonderingsversoeke onder die dekmantel van godsdiens (Dlamini par. 23). Hierdie uitspraak moet egter met omsigtigheid gelees word in die lig van latere uitsprake deur die Konstitusionele Hof, veral in die Pillay-aangeleentheid. Dit word egter ingesluit in hierdie bespreking vir volledigheid.

Die enigste ander verwante saak in Suid-Afrika, wat ook buite die hof geskik is, is van 'n Moslem- maatskaplike werker in die Worcester-gevangenis wat heraangestel is nadat sy afgedank is vir growwe insubordinasie omdat sy geweier het om haar kopdoek te verwyder en haar hemp in haar romp in te steek weens godsdienstige redes (Lenta 2007:296; Kassiem 2006:1). Lenta argumenteer tereg dat 'n uitsondering in hierdie geval redelik sou wees (Lenta 2007:319).

Drie oorwegings word gebruik in die howe om die trefwydte van die reg op godsdiensvry-heid te beperk (Currie & De Waal 2014:320-321):

Eerstens word die opregtheid van die persoon se geloof bevraagteken soos in Dlamini (par. 26). Dit is gewoonlik nie problematies nie, en volgens Currie en De Waal behoort opregtheid van geloof en kultuur uit beginsel aanvaar te word (Currie & De Waal 2014:320). Die Pillay-saak het dit bevestig en die hof het geen verskil gemaak tussen verpligte of vrywillige uitdrukkings van 'n geloof en/of kultuur nie (Pillay par. 67).

Tweedens moet daar bewys word dat die verbod 'n substantiewe las ("substantial burden") op die uitoefening van die betrokke persoon se godsdiensvryheid plaas, of dat die verbode praktyk 'n sentrale beginsel ("central tenet") van die godsdiens is (Currie & De Waal 2014:320321). In Dlamini (par. 26) het die hof bevind 'n baard is nie 'n sentrale beginsel van die betrokke geloof nie. Hierdie oorweging is problematies, spesifiek in die geval van die dra van 'n hidjab. Beteken die feit dat daar praktykverskille is oor die godsdienstige verpligting rondom die dra van die hidjab onder Islam-gemeenskappe, dat dit nie 'n sentrale beginsel van die Islamitiese geloof is nie? In Pillay (par. 86, 88) het die hof die vereiste vir die sentrale beginsel as net een van vele oorwegings beskou. Die hof het aanvaar dat beide die vrywillige en die verpligte praktyke beskerm behoort te word aangesien 'n geloof bestaan uit 'n versameling gebruike wat nie noodwendig deur almal beoefen word nie (Pillay par. 63-66; Currie & De Waal 2014:320-321). Wat van belang is, is die gewig wat die persoon self daaraan heg (Pillay par. 88). Hoewel Osman (2014:1319-1320) noem dat daar algemeen aanvaar word dat die Koran die dra van 'n hidjab verplig, wys Moosa (2011:44) egter daarop dat die Koran nie spesifiek na 'n hidjab verwys nie en dat daar verskillende interpretasies van die bogenoemde Koranverse bestaan met betrekking tot die kuisheidsvereistes. Ten spyte van hierdie verskille is die kern van die saak dat indien die Islamitiese vrou dit as haar godsdienstige plig ag om die hidjab te dra, dit nie 'n keuse is nie en derhalwe beskermenswaardig (Pillay par. 88; Lenta 2007:297298). By implikasie is die Dlamini-uitspraak dus op hierdie punt verwerp.

Die derde oorweging wat gebruik word om die trefwydte van die reg te beperk, is dat howe slegs praktyke onder artikel 15 van die Grondwet sal beskerm wat spesifiek uitgesluit is van beskerming elders in die Grondwet, soos die geval was in Christian Education (par. 21) (Currie & De Waal 2014:321-322). In casu is dit nie hier die geval nie en die bespreking word daar gelaat.

Soos vermeld hier bo, moet die gelykheidsbeginsel en verbod op diskriminasie op grond van godsdiens, gewete en oortuiging tesame met die reg tot geloofsvryheid oorweeg word. Artikel 9 van die Grondwet bepaal die volgende:

Gelykheid

9. (1) Elkeen is gelyk voor die reg en het die reg op gelyke beskerming en voordeel van die reg.

(2) Gelykheid sluit die volle en gelyke genieting van alle regte en vryhede in. Ten einde die bereiking van gelykheid te bevorder, kan wetgewende en ander maatreëls getref word wat ontwerp is vir die beskerming of ontwikkeling van persone, of kategorieë persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel is.

(3) Die staat mag nie regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op een of meer gronde nie, met inbegrip van ... godsdiens, gewete, oortuiging ...

(4) Geen persoon mag regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op een of meer gronde ingevolge subartikel (3) nie. Nasionale wetgewing moet verorden word om onbillike diskriminasie te voorkom of te belet.

(5) Diskriminasie op een of meer van die gronde in subartikel (3) vermeld, is onbillik, tensy daar vasgestel word dat die diskriminasie billik is.

Deur die dra van die hidjab te verbied, diskrimineer die SANW regstreeks teen vroue wat die Islamitiese geloof aanhang se reg op godsdiensvryheid. Aangesien die onbillikheid van enige diskriminasie as uitgangspunt aanvaar word, moet die SANW bewys dat die diskriminasie wel billik is. Soos bespreek sal word hier onder is dit nie moontlik nie.

Daar kan ook geargumenteer word op grond van die reg op gelykheid dat die optrede van die SANW sou neerkom op diskriminasie in die werkplek op grond van godsdienstige oortuiging, om dieselfde redes.

Vryhede is ook direk gekoppel aan menswaardigheid wat ook deur die Grondwet in artikel 10 beskerm word en wat breedweg identiteit en selfwaarde insluit (Lenaghan 2013:293). Ackermann R in Ferreira v Levin NO and Vryenhoek v Powell NO 1996 (1) SA 984 (CC) (par. 49) stel dit as volg:

Human dignity has little value without freedom; for without freedom personal development and fulfilment are not possible. Without freedom, human dignity is little more than an abstraction. Freedom and dignity are inseparably linked. To deny people their freedom is to deny them their dignity.

In sy boek Human Dignity verwys Ackermann (2012:168) met goedkeuring na die Kanadese hofuitsprake wat daarop dui dat menswaardigheidsvergrype wys op vooroordeel, die gebruik van stereotipes en die uitsluiting van voordele. Dit word aan die hand gedoen dat die SANW, deur die dra van 'n hidjab te verbied, die siening van die voor-grondwetlike oorheersend Christelike geloof as "normaal" versterk en Islamitiese voordele uitsluit.

Twee ander argumente wat gemaak word deur staatsinstansies wat 'n uitsondering teenstaan, behoef 'n bespreking.

Die eerste argument is dat enige enkele uitsondering op bestaande reëls die vloedwater-sluise sal oopmaak. Of, soos dit in Pillay gestel is, dat dit sal lei tot 'n "parade of horribles" indien die deur oopgemaak word vir die eerste uitsondering. Die argument is dat die toestaan van sulke uitsonderings sal ontaard in 'n bontspul wat nie samehorigheid en dissipline aanmoedig nie (Pillay par. 107, Dlamini par. 68). Die Konstitusionele Hof het hierdie argument verwerp in Pillay (par. 107-108) om drie redes: (1) Die uitsonderings is beperk tot bona fide godsdienstige en kulturele gebruike en die moontlikheid van misbruik behoort nie die regte van gelowiges te affekteer nie. (2) Indien die uitspraak ander persone aanmoedig om hulle godsdiens uit te leef, is dit positief omdat dit ons nader bring aan die tipe gemeenskap waarvoor die Grondwet voorsiening maak. (3) Die feit dat een praktyk 'n uitsondering regverdig beteken nie dat alle praktyke toegelaat moet word nie, veral as die akkommodering daarvan 'n onredelike las op die instansie plaas. Instansies behoort prosedurele vereistes op te stel om uitsonderings-aansoeke te hanteer op 'n verantwoordelike en regverdige wyse (Pillay par. 110). Dieselfde argument is van toepassing op die Isaacs-geval.

Die tweede argument berus op die beginsel van ontsag ("deference") deur die hof vir die organisasie wat die reëls maak, aangesien hulle die nodige kundigheid het en die omstandighede ken (Pillay par. 80; Alex v Mabus 2012 WL 2366151 (VSA) 5; Goldman v Weinberger 106 S.Ct 1310 (1986; (VSA) 1313). Die Konstitusionele Hof in Pillay (par. 81) bevind dat hierdie ontsag wel van toepassing is by die hersiening van administratiewe optrede en dat die howe die getuienis van kundiges moet oorweeg. Die hof kan egter nie in 'n geval van mense-regtevergrype hierdie ontsag toon vir die instansie (as party) nie. Die hof is die beste gekwalifiseerd en grondwetlik gemagtig om die saak te hanteer. Weer eens is hierdie argument ook op die Isaacs-aansoek van toepassing.

Dit gaan ten slotte oor die balansering van die regte in terme van die beperkingsklousule en die relevante faktore daarin vervat (Pienaar 2003:2). Die betrokke klousule in die Grondwet lees soos volg:

36 Beperking van regte

(1) Die regte in die Handves van Regte kan slegs kragtens 'n algemeen geldende regsvoorskrif beperk word in die mate waarin die beperking redelik en regverdigbaar is in 'n oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid, met inagneming van alle tersaaklike faktore, met inbegrip van -

(a) die aard van die reg;

(b) die belangrikheid van die doel van die beperking;

(c) die aard en omvang van die beperking;

(d) die verband tussen die beperking en die doel daarvan; en

(e) 'n minder beperkende wyse om die doel te bereik.

Kortliks saamgevat moet die volgende vraag dus aangespreek word: Is die regsvoorskrif (soos vervat in die uniformreëls) redelik en regverdigbaar in 'n oop en demokratiese samelewing gebaseer op gelykheid en vryheid? Die antwoord is nee. Dit is onredelik en onregverdig om van persone te verwag om hulle godsdiens te negeer deur op te tree in konflik met hulle godsdienstige voorskrifte in die uitvoering van hulle dagtaak waar die vereistes nie 'n inherente deel vorm van hulle werksverpligtinge nie. Die toepassing van die tersaaklike faktore in artikel 36(1) op die Isaacs-aangeleentheid beaam dit.

Met verwysing na artikel 36(1)(a), is daar reeds aangetoon dat die "aard van die reg" op godsdiensvryheid, gelykheid en menswaardigheid van die SANW-lid belangrik is. So ook is die "belangrikheid en doel van die beperking" in hierdie geval die staatsbelang in weermagdissipline (artikel 36(1)(b)). Artikel 36(1)(c) vereis 'n oorweging van die "aard en omvang van die beperking". In hierdie geval is die aard en omvang van die uniformreëls vas en onbuigsaam sonder enige moontlikheid vir uitsonderings. Daar is spesifiek geen uitsonderings moontlik op die bestaande uniformreëls om godsdienstige vereistes te akkommodeer nie. Daar is geen poging tot nuanse of akkommodering van individue se menseregte nie. Lees daarmee saam artikel 36(1)(d), "die verband tussen die beperking en die doel daarvan". Hoewel die algehele verbod op aanpassings van die uniformreëls die doel van dissipline in die SANW bevorder, is dit ook so dat dissipline nie geaffekteer sal word deur 'n beperkte en gespesifiseerde uitsondering op die uniformreëls op grond van geloofsoortuigings nie.

Laastens, met verwysing na artikel 36(1)(e), word daar voorgestel dat daar na 'n minder beperkende wyse gesoek word om die dissiplinedoel te bereik sonder om inbreuk te maak op die grondwetlike regte van SANW-lede. In die balansering van regte word die dispuut gewoonlik beslis op die beginsel van redelike akkommodering as 'n minder beperkende wyse om die doel te bereik (Currie & De Waal 2014:325). Hierdie toets is analoog aan die proporsionaliteitsbeginsel (sien Pillay par. 76). In Pillay (par. 73) stel die hof die volgende:

At its core is the notion that sometimes the community, whether it is the State, an employer or a school, must take positive measures and possibly incur additional hardship or expense in order to allow all people to participate and enjoy all their rights equally. It ensures that we do not relegate people to the margins of society because they do not or cannot conform to certain social norms.

Die weiering van die SANW om godsdiens-genoopte uitsonderings te maak is ongrondwetlik. Isaacs se godsdiensvryheid behoort swaarder te weeg as die bestaande uniformreëls wat maklik aangepas kan word om die Suid-Afrikaanse multigodsdienstige samelewing te weerspieël. Die dra van 'n hidjab het geen impak op die uitoefening van weermagpligte of die veiligheid en dissipline van die SANW nie. Dit affekteer nie die inherente vereistes van werk by die SANW nie. Die huidige beleid se beperking op godsdiensvryheid is derhalwe nie regverdigbaar nie aangesien daar geen rasionele verband is tussen die doel van die reëls en die impak op die godsdiensvryheid van die individu nie.

 

5. DIE VSA EN KANADA

Suid-Afrika is nie die enigste land met lede wat 'n verskeidenheid godsdienste aanhang in 'n gedissiplineerde weermag nie. Beide die VSA en Kanada maak voorsiening vir uitsonderings vir aanpassing van die standaard-weermaguniforms op grond van geloofsoortuiging.

Die Amerikaanse Grondwet in die Eerste Wysiging verskans die reg op godsdiensvryheid. In die saak van Goldman v Weinberger 106 S.Ct. 1310 (1986) het die meerderheid regters beslis dat nieteenstaande hierdie waarborg van godsdiensvryheid, die verbod op die dra van 'n Joodse skedelkeps ("yarmulke") nie ongrondwetlik is nie. Die hof het bevind dat die lugmag (in casu) 'n sterk belang het by die nougesette afdwinging van dissipline wat die streng afdwinging van uniformreëls insluit (Goldman 1311). Die hof benadruk in hierdie saak die ondergeskiktheid van die wense en belange van die individu ten gunste van die missie van enige weermag om instinktiewe gehoorsaamheid, eenheid, betrokkenheid en esprit de corps tot stand te bring mede deur eenvormigheid, met die uitsondering van rang (Goldman 1313). Die minderheidsuitspraak gee meer aandag aan die geloofsregte van die soldate en voer aan dat daar vir die staat om in die godsdiensvryheid van 'n soldaat in te meng, 'n deurslaggewende, belangrike staatsbelang betrokke moet wees (Goldman 1325). Die minderheid vind dat daar geen so 'n belang uitgewys is nie en dat daar geen goeie rede aangevoer is hoekom die uitsondering (dra van die skedelkeps) wesentlike skade sal aanrig aan militêre dissipline nie (Goldman 1317, 1326). Die dilemma van gelowiges was dat hulle op daardie stadium moes kies tussen gehoorsaamheid aan hulle godsdiens en die dien van hulle land (Goldman 1322). Die minderheid het aangevoer dat die dilemma maklik geakkommodeer kan word deur 'n verandering van die uniformreëls, wat in beginsel self as arbitrêr beskou is (Goldman 1323). Die meerderheidsuitspraak is gevolg in die 2012-saak van Alex v Mabus 2012 WL 2366151, waar die hof bevind het dat die staat se diplomatieke en internasionale verpligtinge swaarder weeg as die godsdiensvryheid van die aansoeker wat opgetree het in verbreking van die landswette van die land waar hy gestasioneer was. Dit word egter aan die hand gedoen dat die feite in hierdie saak onderskei kan word van die dra van godsdiens-genoopte kledingstukke.

Ironies genoeg word daar sedert 2009 voorsiening gemaak vir 'n uitsondering op die voorgeskrewe uniform vir godsdienstige drag (Title 10, United States Code §774 (Religious apparel: wearing while in uniform) soos saamgelees met Title 42, US Code §2000bb-1 (Religious Freedom Restoration Act) en die Department of Defence Instruction 1300.17 (Accommodation of Religious Practices Within the Military Services), February 10, 2009, Incorporating Change 1 Effective January 22, 2014). Sien ook Army Directive (AD) 2016-34 (Processing Religious Accommodation Requests Requiring a Waiver to Army Uniform or Grooming Policies), 6 October 2016; Army Regulation (AR) 60020 (Army Command Policy), 6 November 2014 en Army Regulation (AR) 670-1 (Wear and Appearance of Army Uniform and Insignia), 10 April 2015).

 

 

Die regulasies, soos ook uiteengesit in Army Directive 2017-13, omskryf die vereistes soos volg (my vertaling): die dra van 'n Islamitiese hidjab kan as uitsondering tot die uniformreëls toegelaat word. 'n Gemotiveerde versoek moet aan die toepaslike bevelvoerder gerig word vir goedkeuring. Die proses maak voorsiening vir 'n reg op appèl indien die versoek geweier sou word. Die regulasies is baie spesifiek bewoord en 'n skets vir die dra van die hidjab is ingesluit in die regulasies. Die hidjab moet van materiaal met 'n gedempte kleur gemaak word wat by die uniform pas, en mag geen ontwerpe of merke op hê nie. Daar is een uitsondering hierop, naamlik dat as die soldaat kamoefleerdrag dra, die hidjab ook 'n paslike kamoe-fleerpatroon mag hê. Die doek moet styf teen die haar- en kenlyn wees sonder om enige deel van die gesig te bedek. Die punte moet in die bokant van die uniform ingedruk word. Die regulasies maak ook voorsiening vir Sikh-tulbande en Islamitiese en Sikh-baarde, maar 'n bespreking hiervan val buite die bestek van hierdie artikel.

 

 

Kanada se Handves van Regte maak ook voorsiening vir godsdiensvryheid en gelykheid sonder diskriminasie op grond van godsdiens (artikels 2(a) en 15(1)) soos saamgelees met die Canadian Human Rights Act, RSC 1985, ch-6).

In die saak Grant v Attorney-General (Canada) [1995] 1 FC 158 (FCA) het die Appèlhof die bevinding van die Hoë Hof bevestig dat die Royal Canadian Mounted Police se akkommodering van Sikh-hooftooisels, as 'n uitsondering op die gewone uniform, nie ongrondwetlik is nie maar in ooreenstemming met die vereiste vir godsdiensvryheid (Lenta 2007:308). Hierdie uitspraak lei tot 'n wysiging van die uniformreëls van die Kanadese krygsmag. Daar word spesifiek voorsiening gemaak vir die dra van 'n haar- en nekdoek deur vroulike lede wat die Islamitiese geloof aanhang (CAF Dress Instructions 1(12(d)(2)b)); 2(2)14i en 3(22) van die Policy and Appearance, saamgelees met Figuur 2-2-4 (Wear of Headdress)). Die gespesifiseerde rede hiervoor is om diskriminasie te vermy. Die spirituele en godsdienstige akkommodasie sluit ook 'n aangepaste langmouhemp en enkellengte romp in, inaggenome bestaande veiligheidsvereistes. Die hemp mag buite die romp gedra word. Haarstyle kan aangepas word om die behoorlike dra van die hidjab te verseker. Die hidjab moet voldoen aan die goedgekeurde ontwerp en kleur en moet veelsydig, gemaklik en netjies wees. Die materiaal moet kan asemhaal en die hidjab moet maklik wees om te verwyder. Dit moet ook die draer behoorlik beskerm teen spesifieke klimaats- en omgewingsopleidings-toestande.

 

6. SLOTSOM: SUID-AFRIKA EN DIE ISAACS-DILEMMA

Dissipline in die SANW is belangrik en grondwetlik bekragtig. In casu, is daar ooreenstemming dat die dra van die Islamitiese kopdoek by die SANW-uniform tans nie in lyn is met die voorgeskrewe vereistes van die uniformkode nie. Die bevel om die hidjab te verwyder, val regstegnies binne die dissiplineraamwerk van die SANW. Indien die grondwetlike beginsels nie ter sprake was nie, sou 'n skuldigbevinding van Isaacs waarskynlik die gevolg gewees het.

Die Grondwet het egter die saak ingewikkelder gemaak met die verskansing van die reg op godsdiensvryheid en verbod op diskriminasie op grond van godsdiens in 'n regstaat waar daar nie 'n volledige skeiding tussen kerk en staat is nie, maar waar dit die vorm aanneem van akkommodasie en samewerking, hoewel die grense daarvan nog bepaal moet word. Daar word aan die hand gedoen dat 'n uitsondering op die SANW se uniformreëls om godsdiens-genoopte kleredrag te akkommodeer, in lyn sal wees met die Suid-Afrikaanse grondwetlike norme en die bestaande model van skeiding tussen kerk en staat.

Die akkommodering van godsdienstige simbole en kledingvoorskrifte, soos die dra van 'n hidjab, in die SANW is 'n noodwendige uitvloeisel van die reg tot godsdiensvryheid en daar behoort uitdruklik hiervoor voorsiening gemaak te word. Die huidige onsekerheid is onnodig en affekteer dissipline en die verhouding tussen offisier en ondergeskiktes negatief. In die lig van die samestelling van die Suid-Afrikaanse samelewing, is dit nodig om diversiteit te bevorder en die geloofsregte van die individu te konkretiseer.

Die Konstitusionele Hof se uitspraak in Pillay maak dit duidelik: nie-akkommodering van redelike kulturele en godsdienstige simbole is 'n skending van die grondwetlike regte, en dus nie redelik en regverdigbaar in 'n oop en demokratiese samelewing gebaseer op gelykheid en vryheid nie - selfs nie in die weermag nie. Indien die beperkingsklousule toegepas word, is die uitkoms duidelik. Daar is geen belangrike staatsbelang wat sal skade ly indien beperkte godsdienstige uitsonderings ingesluit word in die uniformreëls nie, en 'n minder beperkende reël sal steeds die dissiplinedoel van die SANW binne bereik hou met inagneming van die godsdiensvryheid van die individu. Die feit dat beide die VSA en Kanada sodanige uitsonderings toelaat sonder dat die weermagdissipline ineenstort, behoort as bevestiging te dien.

Die oplossing is voor die hand liggend: verander die uniformregulasies om voorsiening te maak vir uitsonderings op grond van geloof. Omskryf die uitsondering duidelik en skep 'n prosedure om die uitsonderingsaansoeke te oorweeg ten einde seker te maak dit word nie misbruik nie en dat die sluise van die vloedwaters nie oopgemaak word nie.

Naskrif: Na voltooiing van die artikel is tydelike uniformregulasies vir die dra van die hidjab goedgekeur hangende die finale hersiening van die uniformregulasies.

 

BIBLIOGRAFIE

Ackermann, L. 2012. Human Dignity: Lodestar for Equality in South Africa. Cape Town: Juta.         [ Links ]

Bekink, B. 2008. The intrinsic uneasy triangle between constitutionalism, secularism and the right to freedom of religion: A South African perspective. Tydskrifvir die Suid-Afrikaanse Reg, 3:481-498.         [ Links ]

Bilchitz, D & Williams, A. 2012. Religion and the public sphere: Towards a model that positively recognises diversity. South African Journal on Human Rights, 28(2):146-175.         [ Links ]

Bilsky, L. 2009. Muslim headscarves in France and army uniforms in Israel: a comparative study of citizenship as a mask. Patterns of Prejudice, 43(304):287-311.         [ Links ]

Currie, I & De Waal, J. 2014. The Bill of Rights Handbook. 6th edition. Cape Town: Juta.         [ Links ]

DefenceWeb. 2019. About turn on hijab policy by the SANDF. 8 August. https://www.defenceweb.co.za/featured/about-turn-on-hijab-policy-by-the-sandf [28 August 2020].         [ Links ]

Du Plessis, G. 2019. The constitutionality of the regulation of religion in South Africa: Untowards restrictions of the right to religious freedom? South African Law Journal, 35(1):131-164.         [ Links ]

Etheridge, J. 2019. SANDF headscarf case: Muslim major may get interim relief as policy talks continue. News24, 18 July. https://www.news24.com/SouthAfrica/News/sandf-headscarf-case-muslim-members-may-get-interim-relief-as-policy-talks-continue-20190718 [28 August 2020].         [ Links ]

Etheridge, J & Somdyala, K. 2019. Headscarf case: "As the defence force, we have one culture" - SANDF. News24, 26 June. https://www.news24.com/SouthAfrica/News/headscarf-case-as-the-defence-force-we-have-one-culture-sandf-20190626 (20/8/2020) [28 August 2020].         [ Links ]

Freedman, W. 2000. The right to religious liberty, the right to religious equality, and section 15(1) of the South African Constitution. Stellenbosch Law Review, 11(1):99-114.         [ Links ]

Harrison, KA. 2016. Hiding under the veil of dress policy: Muslim women, hijab, and employment discrimination in the United States. Georgetown Journal of Gender and the Law, 17(3):831-857.         [ Links ]

Heinecken, L, Nel, M & Janse van Vuuren, J. 2003. Military discipline: Where are we going wrong? Strategic Review for Southern Africa, 25(1):88-106.         [ Links ]

Kassiem, A. 2006. Axed Muslim woman keeps headscarf. IOL, 14 August. https://www.iol.co.za/news/south-africa/axed-muslim-woman-keeps-headscarf-and-job-289214 [28 August 2020].         [ Links ]

Kroeze, IJ. 2003. God's kingdom in the law's republic: Religious freedom in South African constitutional jurisprudence. Potchefstroom Electronic Law Journal, 6(2):1-21.         [ Links ]

Lenaghan, PM. 2013. Restoring the "historical deficit": The exercise of the right to freedom and culture in democratic South Africa. South African Journal on Human Rights, 29(2):294-313.         [ Links ]

Lenta, P. 2007. Muslim headscarves in the workplace and in schools. South African Law Journal, 124(2):296-319.         [ Links ]

Malherbe, R. 2006. Enkele kwelvrae oor die grondwetlike beskerming van die reg op godsdiensvryheid. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, (4):629-650.         [ Links ]

Moosa, N. 2011. Unveiling the mind. 2nd edition. Cape Town: Juta.         [ Links ]

Nel, M. 2012. Sentencing Practice in Military Courts. Unpublished LLD thesis, UNISA.         [ Links ]

Osman, F. 2014. Legislative prohibitions on wearing a headscarf: Are they justified? Potchefstroom Electronic Law Journal, 17(4):1318-1349.         [ Links ]

Parliamentary Communication Services on behalf of the Chairperson of the Portfolio Committee on Defence and Military Veterans, Mr Cyril Xaba. 2017. Defence and Military Veterans Committee calls for amicable solution in SANDF and headscarf case. 7 August. https://www.parliament.gov.za/press-releases/defence-and-military-veterans-committee-calls-amicable-solution-sandf-headscarf-case) [28 Augustus 2020].         [ Links ]

Pienaar, G. 2003. The interaction between religious freedom, equality and human dignity. Potchefstroom Electronic Law Journal, (6)2:1-12.         [ Links ]

Petersen, N. 2014. Proportionality and the Incommensurability Challenge in the jurisprudence of the South African Constitutional Court. South African Journal on Human Rights, 30(3):405-429.         [ Links ]

Robinson, RS. 2016. Hijab in the American workplace: Visibility and discrimination. Culture and Religion, 17(3):332-351.         [ Links ]

Somdyala, K. 2019. Muslim SANDF Major's hearing over refusal to remove headscarf set for August. News24, 25 June. https://www.news24.com/news24/southafrica/news/muslim-sandf-majors-hearing-over-refusal-to-remove-headscarf-set-for-august-20190625 [28 August 2020].         [ Links ]

WETGEWING EN REGULASIES

Suid-Afrika:

Bestuur en Beplanning van Dragregulasies en Draginstruksies in die SA Weermag, Mans en Vroue (SA Army Order: Chief Army Corporate Services (SAAO/C ARMY CORP SVC/CER/317/07 gedateer 27 Julie 2007).

Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996.

Reëls om Uitvoering te gee aan die Eerste Bylae by die Verdedigingswet 44 van 1957 (RK 760 in Staatskoerant 6061 gedateer 30 Mei 1958).

Reglement van Dissipline vervat in Bylae 1 van die Verdedigingswet 44 van 1957.

Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996.

Wet op Aanvullende Maatreëls vir Militêre Dissipline 16 van 1999.

Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie 4 van 2000.

Wetsontwerp op Militêre Dissipline, B21 van 2019.

Kanada:

Canadian Armed Forces Dress Instructions A-DH 265-000/AG-001 of 2017.

VSA:

Army Directive (AD) 2016-34 (Processing Religious Accommodation Requests Requiring a Waiver to Army Uniform or Grooming Policies), 6 October 2016.

Army Regulation (AR) 600-20 (Army Command Policy), 6 November 2014.

Army Regulation (AR) 670-1 (Wear and Appearance of Army Uniform and Insignia), 10 April 2015.

Army Direction (AD) 2017-03 (Policy for Brigade-Level Approval of Certain Requests for Religious Accommodation).

Department of Defence Instruction 1300.17 (Accommodation of Religious Practices Within the Military Services) dated February 10, 2009, Incorporating Change 1 Effective January 22, 2014).

Title 10, United States Code §774 (Religious apparel: wearing while in uniform).

Title 42, United States Code §2000bb-1 (Religious Freedom Restoration Act).

JURISPRUDENSIE

Suid-Afrika:

Christian Education South Africa v Minister of Education 2000 (4) SA 757 (CC).

Minister of Defence v Potsane; Legal Soldier (Pty) Ltd v Minster of Defence 2001 (2) SASV 632 (CC).

MEC for Education: Kwazulu-Natal v Pillay 2008 (1) SA 474 (CC).

Department of Correctional Services v POPCRU 2013 (4) SA 176 (SCA).

South African National Defence Union v Minister of Defence 2007 (5) SA 400 (CC).

S v Lawrence; S v Negal; S v Solberg 1997 (4) SA 1176 (CC).

Freedom of Expression Institute v President, Ordinary Court Martial 1999 (1) SACR 353 (C).

Ferreira v Levin NO and Vryenhoek v Powell NO 1996 (1) SA 984 (CC).

Prince v President of the Law Society of the Cape of Good Hope [2002] 3 BCLR 231 (CC).

Dlamini v Green Four Security [2006] 11 BLLR 1074 (LC).

Kanada:

Grant v Attorney-General (Canada) [1995] 1 FC 158 (FCA).

VSA:

Alex v Mabus 2012 WL 2366151.

Goldman v Weinberger 106 S.Ct 1310 (1986).

Trans World Airlines, Inc.v. Hardison, 432 U.S. 63, 87 (1997).

 

 

Ontvang: 2020-09-01
Goedgekeur: 2020-12-15
Gepubliseer: Maart 2021

 

 

 

Marita Carnelley is professor en direkteur van navorsing in die Regsfakulteit, Noordwes-Universiteit. Sy het 'n doktorsgraad van die Universiteit van Amsterdam en is 'n gekwalifi-seerde prokureur. Haar navorsingspublikasies het as middelpunt die Familiereg en geslagsaange-leenthede met 'n spesifieke fokus op kwesbare groepe.
Marita Carnelley is professor director of research in the Faculty of Law, North-West University. She holds a doctorate in law from the University of Amsterdam and is a qualified attorney. Her research publications are centred around Family law and gender issues with a particular focus on vulnerable groups.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons