SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 issue1A critique of normative constructions of age in four intertextually connected texts: Alba Bouwer's Stories van Rivierplaas, Reza de Wet's Diepe Grond and African Gothic, and Etienne Kallos's EersgeboreneOskar en die Pienk Tannie: The journey of an improbable pair from a French to an Afrikaans stage author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.61 n.1 Pretoria Mar. 2021

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n1a5 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Waardegedrewe opvoedende onderwys in die konteks van godsdiensvryheid as mensereg

 

Values-driven education in the context of religious freedom as human right

 

 

Izak J OosthuizenI; Johannes L van der WaltII

INavorsingsgenoot, Edu-HRight Navorsingsfokusarea, Fakulteit Opvoedkunde, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Republiek van Suid-Afrika. E-pos: Izak.Oosthuizen@nwu.ac.za
IINavorsingsgenoot, Edu-HRight Navorsingsfokusarea, Fakulteit Opvoedkunde, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Republiek van Suid-Afrika. E-pos: hannesv290@gmail.com

 

 


OPSOMMING

Onderwys in skole behels wesenlik leiding aan leerders om voorgeskrewe kennis en vaardighede onder die knie te kry. Die meeste skoolgemeenskappe vereis egter meer as net sulke blote onderrig-leerhandelinge en spits hulle gevolglik toe op opvoedende onderwys, dit wil sê vorme van onderwys gerig op die toerusting en vorming van leerders met die oog op hulle toekomstige lewensroeping. Skoolgemeenskappe gee by wyse van hulle beheerliggame uitdrukking aan dergelike vormings- en toerustingswaardes in hulle skole se visie- en missiestellings. Sulke opvoedende onderwyswaardes vloei voort uit die betrokke skoolge-meenskap se godsdienstige, spirituele en lewensbeskoulike waardes, en kan slegs uitgeleef word in 'n regsomgewing waar godsdiensvryheid as mensereg erken word. In Suid-Afrika word hierdie reg wel erken, maar enkele klein verstellings aan wetgewing en riglyne kan omstandighede nog gunstiger vir skole maak om hulle lewensbeskoulike identiteit ten volle te kan uitleef. Wetgewing behoort byvoorbeeld duideliker te stel dat die beheerliggame van skole, ook van openbare skole, die reg het om die lewensbeskoulike identiteit van hulle betrokke skool te bepaal en uit te leef, op voorwaarde dat dit geskied op niediskriminerende wyse teenoor leerders en hulle gemeenskappe wat ander gelowe aanhang.

Trefwoorde: menseregte, godsdiensvryheid, waardes, onderrig en leer, opvoeding, onderwys, skoolidentiteit


ABSTRACT

The basic task of schools is to assist learners in mastering certain prescribed learning materials by means of processes of learning. In South Africa, content knowledge and skills such as these are prescribed in the Curriculum and Assessment Policy Statement (2011). All schools, irrespective of the education systems of which they form part, also display in the course of such processes of teaching and learning the values and ethos of the school communities that they serve. No form of education, development or formation, therefore, is ever free of the values inextricably linked to particular conceptions of life; instead, it always attests to a particular spiritual, religious or life-conceptual orientation.
School communities, that is, the parents, the teachers, the surrounding community and the broader civic community, tend to expect of schools that they be more than simply teaching-learning institutions; in other words, they expect them to be formative or educative teaching-learning institutions as well. Put differently, schools are expected to attend also to the following formative aspects in the course of the teaching-learning processes: guidance of the learners, assistance in their development, support of their interests, formation, equipment, enablement and exemplary norms. The religious and life-conceptual values held by the school community come to the fore when the governing body, in the process of drafting the school's vision and mission statements, searches for answers to the following questions associated with such formative processes:
To what ends should the learners be guided?
How, and for what purpose should their potential be developed?
How and why should they be lovingly cared for?
To what ends should they be developed, physically and spiritually?
For what purpose and how should they be equipped? What will their future duties and responsibilities as adults entail?
How and why should they be enabled; what should they be able to do and what should they strive for?
Which norms have to be set for them to emulate in their own lives, and how should this be done?
The answers to the abovementioned questions contain some or other deeper religious, spiritual or life-conceptual dimension, a dimension that is typical of the identity of the school. (Life-conceptual neutrality, therefore, is also a manifestation of a school's identity.)
For schools, including those in the public sector, to be able to live and work in accordance with their religious, spiritual or life-conceptual identity, they require the space afforded to them by their nation's recognition of freedom of religion as a human right. In South Africa, this basic human right has since 1996 been ensconced in the Constitution, and has since also been consistently enforced in legislation and in jurisprudence. The question remains, however, whether schools are allowed to freely express their unique value-drivenness (value-driven educative teaching and learning) in the current legal milieu.
Analysis of the Constitutional entrenchment of religious freedom as human right, of general and education legislation and of jurisprudence since 1996 reveals that, although all the current provisions regarding the recognition of religious freedom as human right do provide space and scope for schools freely to express their life-conceptual identities, some minor changes to the legal provisions could still be considered. These include adapting the current National Policy on Religion in Education (2003) to explicitly accommodate the notion of a diversity of school communities, each with its own unique life-conceptual and religious character and identity, and hence unique mission statement. The SA Schools Act (1996) could also be slightly adapted to state in clearer terms that school governing bodies are allowed to choose a unique religious/life-conceptual character and identity; that they may formulate the school's ethos and mission statement based on its identity; and that all public schools, irrespective of religious/ life-conceptual identity and character, are equitably funded by the state. It should also be stipulated that no school, irrespective of life-conceptual identity, is allowed to be exclusive or discriminate against learners ascribing to different religious convictions. Schools should strive to uphold the principles of justice, equality and voluntariness in seeking to embrace a policy of accommodation.
Another possible change that could be considered is to ensure that the SA Schools Act (1996) stipulate explicitly that school governing bodies are entitled to formulate mission statements for their respective schools, based on the principles of non-discrimination, freedom, equality and voluntariness with respect to learners from groups with different religious/life-conceptual orientations. The Act should, finally, also provide for public schools to possess and display a religious/life-conceptual character and identity, as determined by their governing bodies. It should allow for parents, teachers and learners, amenable to the stated religious/ life-conceptual model to occupy a particular school, while at the same time taking care not to impair the freedom of religion of other religious groups.

Keywords: human rights, religious freedom, values, teaching and learning, education, school identity


 

 

INLEIDING EN PROBLEEMSTELLING

Elke skool, afgesien van die onderwysstelsel waarin dit funksioneer, sowel openbaar (staat) as onafhanklik (privaat), weerspieël onvermydelik die waardes en etos van die besondere gemeenskap waarin dit geleë is en waaruit die leerders daarvan kom. Miedema en Vroom (2004:7, 15) stel hierdie insig soos volg:

Onderwijs, ontwikkeling en vorming zijn niet neutraal, en kunnen dus ook niet waardevrij of waardenloos zijn. Dit geld ... voor sowel het openbaar als het bijzonder onderwijs. [...] Alle onderwijs (is) bijzonder... Alle scholen - openbaar en bijzonder - (geven) in relatiewe zelfstandigheid vorm en inhoud aan hun brede identiteit: dus inclusief hun waarden-opvoeding.1

Die kerndoel, en dus -waarde, van en vir alle skole as onderrig-leergemeenskappe is dat hulle op doeltreffende wyse sekere voorgeskrewe vorme van kennis, insigte en vaardighede by die leerders moet tuisbring, sodat hulle ná hulle skoolloopbane as doeltreffende burgers van die land kan funksioneer. In Suid-Afrika kry hierdie kerndoel en -waarde tans gestalte in die Curriculum and Assessment Policy Statement (DBO, 2011).

Skoolgemeenskappe, met inbegrip van die ouers, die onderwysers, die omliggende gemeenskap en die breër burgerlike samelewing, verwag egter van die skole waar hulle hulle kinders plaas om meer as blote onderrig-leergemeenskappe te wees; hulle behoort ook opvoedende onderwysgemeenskappe, dus vormend-toerustende gemeenskappe of same-lewingsverbande, te wees. In ooreenstemming met die gevolgtrekking van Miedema en Vroom hier bo, kom die waardes wat opgesluit is in die volgende wesenskenmerke van opvoeding na vore. Opvoeding, in hierdie geval meer spesifiek opvoedende onderwys, behels toerustende optredes en ingrepe soos leidinggewing, ontvouing, versorging, vorming, ontwikkeling, toerusting, instaatstelling en norm-voorlewing (Nussbaum 2011:23). Die waardes wat 'n bepaalde skool na aanleiding van hierdie wesenseienskappe van opvoeding vir sigself kies, blyk uit die antwoorde wat sy skoolbeheerliggaam (namens die hele vermelde skoolgemeen-skap) in sy visie- en missiestelling op vrae soos die volgende gee:

Waarheen en waartoe moet die leerders gelei word?

Hoe en waarvoor moet hulle potensiaal ontvou word?

Hoe en hoekom moet hulle liefderyk versorg word?

Waarvoor en hoe moet hulle ontwikkel word, liggaamlik en spiritueel?

Waarvoor en hoe moet hulle toegerus word? Wat is hulle lewenstaak?

Waartoe moet hulle in staat gestel word; wat moet hulle kan doen en bereik?

Welke norme moet aan hulle voorgelee/ word en hoe moet dit gedoen word?

Die antwoorde op al hierdie vrae het almal die een of ander godsdienstige, spirituele of lewensbeskoulike strekking. Hierdie godsdienstige, spirituele of lewensbeskoulike strekking of ondertoon, soos uitgedruk in die visie, missie en gedragskode van die skool, is 'n aanduiding van die identiteit van die betrokke skool. (Ook die lewensbeskoulike neutraliteit wat 'n betrokke skool mag nastreef, is 'n aanduiding van so 'n skool se godsdienstig-lewensbeskoulike identiteit.)

Vir alle skole, met inbegrip van die openbare skoolsektor in Suid-Afrika, om op die een of ander manier hulle lewensbeskoulike identiteit in hulle visie- en missiestellings te kan verwoord en uit te leef, benodig hulle die ruimte wat aan hulle gebied word deur hulle betrokke landsowerheid (die staat, regering) se erkenning van godsdiensvryheid as fundamentele mensereg. Sodanige onbevange verwoording en uitlewing van 'n spesifieke lewensbeskoulike identiteit het in die besonder betrekking op die onderrig van skoolvakke, waarby gods-diensonderrig ingesluit is, en ook op die organisasie van en deelname aan godsdienstige plegtighede. In Suid-Afrika word sodanige erkenning wel aan hierdie mensereg gegee. 'n Volgende afdeling van hierdie artikel bied 'n uiteensetting van hoe hierdie reg in Suid-Afrika vergestalt is en word en hoe dit sedert die aanbreek van volle demokrasie in 1994 deur die howe toegepas is.

In die daaropvolgende afdeling word kortliks besin oor die vraag of die status quo met betrekking tot die erkenning en toepassing van godsdiensvryheid as mensereg wel die nodige ruimte aan skole bied om hulle lewensbeskoulike identiteit te verwoord en uit te leef. Kan die eiesoortige uitlewing van waardegedrewenheid in 'n skool onder bepaalde voorwaardes wel regsgrondig aanvaarbaar of verdedigbaar wees?

 

NAVORSINGSMETODE

Die hermeneuties-konstruktivistiese metode is vir doeleindes van hierdie ondersoek gekies (Guba & Lincoln 2005:193). Wetgewingstekste is ontleed deur gebruik te maak van sowel die hermeneutiese metode van teksontleding (Babbie & Mouton 2007:31) as die dissipline van die uitleg van wette. Die tekste van hofverslae is vanuit regshistoriese hoek (Venter, Van der Walt, Van der Walt, Olivier, Pienaar & Du Plessis, 1990:161) ontleed. Die konstruktivistiese metode wat daarna toegepas is, word deur Van der Walt (2020:6) beskryf as 'n kwalitatiewe navorsingsmetode waardeur die inligting voortspruitend uit ontleding en nadenke gebaseer op 'n verskeidenheid inligtingsbronne die ondersoeker in staat stel om tot nuwe insigte te kom, waaruit weer verdere afleidings gemaak kan word.

In die res van hierdie artikel word die tersaaklike statutêre bronne soos die Suid-Afrikaanse Grondwet, nasionale wetgewing en ook verbandhoudende beleidsdokumente en handveste ontleed, en relevante regspraak onder die soeklig geplaas. Enkele gevolgtrekkings word ten slotte op grond daarvan gemaak.

 

GODSDIENSVRYHEID AS MENSEREG

Die grondwetlike status van godsdiensvryheid

Reeds voor die promulgering van die finale grondwet in 1996 omskryf Jonker (1993:319) godsdiensvryheid as 'n fundamentele mensereg, 'n basiese grondreg wat binne die bestel van 'n demokrasie gewaarborg word. Hierdie vertrekpunt beteken dat 'n mens in die konteks van geloofsvryheid die reg het om 'n besondere geloof aan te hang, of nie aan te hang nie. Hy betoog verder dat benewens hierdie individuele geloofsuitinge daar ook ruimte is vir korpo-ratiewe geloofsvryheid: die vryheid om binne die bestel van gemeensaamheid kerke of groeperings te vorm as 'n uitdrukking van verenigingsvryheid, waardeur mense in daardie bestel hulle geloof in die openbaar kan uitleef en propageer in die vorm van die "vryheid van erediens".

In sy skrywe ten tye van die samestelling van die Suid-Afrikaanse interimgrondwet van 1993 stel Witte (1993:1) dat by die samestelling van 'n handves van fundamentele regte dit in die moderne wêreld 'n aanvaarde praktyk blyk te wees dat godsdiensvryheid die eerste reg is wat beskerm behoort te word. Venter (1998) bestempel godsdienstigheid as een van die heel belangrikste fasette van menswees in 'n demokraties-fundamenteelregtelike bedeling - 'n eienskap wat die menslike wese onderskei van die res van die skepping. Malherbe (1998:673) tipeer godsdiensvryheid op sy beurt as 'n faset van menswees wat vir die mens net so onontbeerlik is as om asem te haal. Hy voer voorts aan dat vanweë die sensitiewe wesensaard van geloof die draers van geloof maklik gekrenk kan word en dat sodanige krenking tot konflik aanleiding kan gee. Labuschagne (1997:119) voeg hiertoe by dat vrede sonder godsdiens-verdraagsaamheid inderwaarheid nie moontlik is nie.

Artikel 18 van die Universele Verklaring van Menseregte (VN, 1948) het beslag gegee aan die beginsel van vryheid van godsdiens. Volgens die Verklaring het elkeen die reg tot vryheid van denke, gewete en geloof, en dié reg sluit die vryheid in om van godsdiens of geloof te verander, en om óf alleen óf in gemeenskap met andere, in die openbaar of privaat, sy of haar geloof te beoefen deur middel van lering, aanbidding of uitlewing.

In artikel 15 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 (SA, 1996) word vryheid van godsdiens, oortuiging en mening soos volg omskryf:

(1) Elkeen het die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening.

(2) Godsdiensbeoefening kan by staats- of staatsondersteunde instellings geskied mits -

(a) daardie beoefening reëls nakom wat deur tersaaklike openbare gesag gemaak is

(b) dit op 'n billike grondslag geskied; en

(c) bywoning vry en vrywillig is.

In haar kommentaar op die Suid-Afikaanse Grondwet meld Underkuffler-Freud2 ( 1997:32) dat, hoewel godsdiens nie pertinent as een van die waardes in die Grondwet gelys word nie, alle waardes, holisties gesproke, op 'n direkte of indirekte wyse aan geloofsoortuigings gekoppel kan word. Benewens artikel 15 van die Grondwet, word daar ook in die volgende gevalle erkenning gegee aan die beginsel van vryheid van godsdiens:

Hoewel die aanhef tot die Grondwet as sodanig nie as deel van die Grondwet bestempel kan word nie, is dit bruikbaar by die uitleg van die Grondwet - soos wat ook die geval is met die aanwending van 'n aanhef en/of voorrede by die uitleg van ander vorme van parlementêre wetgewing. In die aanhef tot die Grondwet word die menslike afhanklikheid van God erken in dié versugting: "Mag God ons mense beskerm".

Aan die einde van die Aanhef word die volgende frase van die Volkslied aangehaal: "God seën Suid-Afrika" (Du Plessis 1996:78).

In artikel 9 word godsdiens as een van die aangewese aspekte gelys ingevolge waarvan daar nie teen 'n persoon direk of indirek gediskrimineer mag word nie.3

Malherbe (1998:678)4 voer aan dat die reg op vryheid van uitdrukking in artikel 16 van die Grondwet ook verband hou met die reg op vryheid van geloofsuitdrukking in artikel 15. Dit impliseer dat elkeen ingevolge sy/haar reg op vryheid van spraak die vryheid het om sy/haar geloof te bely en daarvan te getuig.

Benewens die individuele element van geloofsvryheid word die kollektiewe uitlewing daarvan bevestig in artikels 18 en 31 van die Grondwet.

Artikel 18 van die Grondwet bepaal dat elkeen die reg op vryheid van assosiasie het. Die ooreenstemmende artikel (18) in die Universele Verklaring van Menseregte (VN, 1948), wat ook deur Suid-Afrika onderskryf is, bevestig nie slegs die individuele sy van geloofsvryheid nie, maar stel ook duidelik die omvang van kollektiwiteit van geloofsassosiasie.5

In 'n sekere sin neem artikel 31 van die Grondwet die bepalings van artikel 18 'n stap verder. Dit handel naamlik oor groepsregte by die vorming van kultuur-, godsdiens- en taalverenigings.6

Ten einde hierdie groepsregte te bevorder, maak artikels 185 en 186 voorsiening vir 'n kommissie wat die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe moet beskerm. Van die vernaamste oogmerke van sodanige kommissie is:

(a) om respek te bevorder vir kuituur-, godsdiens- en taalgemeenskappe;

(b) om vrede, vriendskap, menslikheid, verdraagsaamheid onder kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe op die grondslag van gelykheid, niediskriminasie en vrye assosiasie te bevorder en te ontwikkel.

Ondergeskikte nasionale wetgewing

Die feit dat ingevolge artikel 2 van die Grondwet die oppergesag7 by die Grondwet berus, beteken enersyds dat (gewone) parlementêre wetgewing en enige ander vorme van wetgewing, regulasies en beleidsdokumente ondergeskik is aan die Grondwet. Dit impliseer ook dat alle handelinge van regspersone wat strydig is met die bepalings van die Grondwet ongeldig is.

Onderwyswetgewing en tersaaklike onderwysbeleidsdokumente waarin verwys word na godsdiensvryheid sluit die volgende in: die Wet op Nasionale Onderwysbeleid, die SA Skolewet en die Nasionale Beleid op Godsdiens en Onderwys:

Wet op Nasionale Onderwysbeleid, Wet 27 van 1996

Een van die rigtinggewende beginsels soos bepaal in artikel 4(a)(vi) van dié wet is die bevordering en beskerming van elke persoon se fundamentele regte op (onder andere) "vryheid van gewete, godsdiens, denke, geloof, mening, uitdrukking en assosiasie binne onderwys-inrigtings".

Suid-Afrikaanse Skolewet, Wet 84 van 1996

Artikel 7 van die Skolewet en behoudens die Grondwet bepaal dat godsdiensoefeninge by openbare skole gehou kan word onderhewig aan reëls wat deur die beheerliggaam uitgevaardig word, op voorwaarde dat sodanige godsdiensoefeninge op 'n billike wyse geskied en dat die bywoning daarvan deur die leerlinge sowel as die personeel vry en vrywillig moet wees.

Artikel 20 (1)(c) bepaal dat die formulering van 'n missiestelling van 'n skool die funksie van die skoolbeheerliggaam is. Artikel 5(3)(b) bepaal op sy beurt dat die skool se missie nie as maatstaf gebruik mag word om 'n leerder toegang tot die betrokke skool te weier nie.

Nasionale Beleid op Godsdiens en Skole, 2003

Dié beleidsdokument (SA, 2003) is, ingevolge artikel 2 van die Beleid self, nie voorskriftelik nie maar slegs bedoel om 'n raamwerk te verskaf waarvolgens skole hul grondwetlike godsdiensregte kan uitleef.

Hierdie beleidsdokument, wat deur die voormalige Minister van Onderwys, Kader Asmal, opgestel is, het ten doel gehad om die geloofsdiversiteit van Suid-Afrika in 'n gesindheid van gemeensame samebinding te rig. In die Voorwoord daarvan stel die Minister dat die beleid gerig is op die totstandkoming van 'n nuwe godsdienstige bedeling in Suid-Afrikaanse skole. Dit is duidelik dat hierdie maatreëls ten doel het om die diversiteit van die land se gelowe te verklein en eerder 'n globale etos van "roereier"-eenvormigheid tot stand te bring, en daardeur die aanvaarding van 'n eiesoortige (unieke) etos by skole te verhinder.8

Hierdie Grondwet is die hoogste reg in die Republiek; enige regsvoorskrif of optrede daarmee onbestaanbaar, is ongeldig, en die verpligtinge daardeur opgelê, moet nagekom word.

Die Suid-Afrikaanse handves vir godsdiensregte en -vryhede

In 2010 het 'n intergeloofsgroep, die Suid Afrikaanse Raad vir Godsdiensregte en -vryhede, verteenwoordigend van feitlik alle Suid-Afrikaanse geloofsgroeperinge, die Suid-Afrikaanse Handves van Godsdiensregte en -vryhede (SA, 2010) aanvaar. Veral artikels 7 en 4 is in die konteks van hierdie artikel ter sake: Artikel 7 daarvan bepaal:

7. Elke persoon het die reg om ooreenkomstig hulle godsdienstige of filosofiese oortuigings opgevoed te word, of hulle kinders daarvolgens op te voed of te laat opvoed.

7.1 Die staat, wat enige openbare skool insluit, het die plig om hierdie reg te respekteer en ouers hieroor in te lig en te raadpleeg. Ouers mag hulle kinders van skoolaktiwiteite of -programme onttrek wat strydig met hulle godsdienstige of filosofiese oortuigings is.

7.2 Elke openbare opvoedkundige instelling mag 'n bepaalde godsdienstige of ander etos aanneem, so lank dit op 'n billike, vry en vrywillige en nie-diskriminerende basis beoefen word, en met behoorlike inagneming van die regte van minderhede.

Artikel 4 bepaal:

4.4 Elke persoon het die reg op enkelgeloof-godsdiensbeoefening en godsdienstige uitdrukking en handelinge in staats- en staatsondersteunde instellings, solank sulke beoefening, uitdrukking en handelinge reëls nakom wat deur die toepaslike openbare gesag gemaak is, en solank dit op 'n billike grondslag geskied en die bywoning daarvan vry en vrywillig is.

Regsprekende toepassings van die grondwetlike beginsel

In die konstitusionele hofsaak van 1997, S v Lawrence (2000) JOL 7320 (CC),9 is die voorafgaande statutêre bepalings bevestig. Vryheid van geloof is daarin omskryf as die reg van 'n persoon om die geloofsoortuiginge van sy/haar keuse te koester; om dit openlik te verklaar sonder om enige vrees te koester vir weerstand en die nodigheid om enige vorm van teenreaksie af te weer. Verder het regter Albie Sachs aangevoer dat geloofsvryheid ook behels dat 'n mens die reg het om sodanige geloof te te laat blyk deur die uitlewing daarvan in die vorm van lering, verkondiging en aanbidding.

In Christian Education South Africa v Minister of Education (2000) JOL 7320 (CC) het regter Sachs die waarde van godsdiens beklemtoon deur aan te toon dat die wesenlike van aanvaarbare menslike gedrag soos werksetiek, verantwoordelikheid en die mens se vermoë om tussen en reg en verkeerd te kan onderskei, voortspruit uit 'n godsdienstige grondslag. Hy het bygevoeg dat skole met 'n godsdienstige etos oor die algemeen bydra tot 'n kultuur van onderlinge verdraagsaamheid, respek, verhoogde vlakke van welwillendheid, wedersydse ondersteuning en dat dit 'n raamwerk bied vir die bevordering van individuele groei en meewerk tot die bevordering van sosiale stabiliteit.10

In Wittman v Deutscher Schulverein, Pretoria and others, 1988 SA(4) SA 423 (T) 36 was die toesighoudende ma van 'n dogter die applikant in 'n saak teen gemelde Duitse privaat skool in Pretoria. Sy het beswaar gemaak teen die feit dat die skool haar dogter verplig het om die skool se godsiensonderrigklasse by te woon. Die hoër hof het in sy uitspraak onder andere klem gelê op die rol van die staat in die hantering van godsdienstwispunte in Suid-Afrikaanse skole. Die regter het dit naamlik duidelik gemaak dat die plaaslike interimgrondwet wegstuur van die Amerikaanse staatsmodel waarvolgens die staat, met die toepassing van die sogenaamde establishment clause, 'n neutrale standpunt inneem ten opsigte van gods-diensaangeleenthede.11

In die saak, Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie v Laerskool Randhart en andere, het die gemelde organisasie beswaar gemaak teen sekere godsdienspraktyke by ses openbare skole. Die applikant was egter onsuksesvol in sy aansoek om 'n verbod te plaas op onder meer die volgende godsdienspraktyke by die skole (Smit 2019:49):

die lees van die Bybel by skoolopening soggens

verwysings na God in die skoollied

verwysings na Christelike waardes in die skool se gedragskode

leringe oor die Bybelse weergawe van die skepping

toelating van Christen-groepsbyeenkomste tydens pouses

die verspreiding van Bybels (bv. deur die Gideons) by skole

evangelisering van leerders by die skool, en die

verspreiding van Christelike literatuur by die skool

Die hof het egter die volgende twee verklarings ten gunste van die applikant uitgereik:

'n Verbod op die verkondiging van een besondere godsdiensidentiteit van die skool.12

'n Verbod op die verheffing van die belange van een godsdiens bo dié van 'n ander deur die skoolbeheerliggaam.13

In die applikant se pleidooi verwys die organisasie na die riglyne van die bogemelde Nasionale Beleid op Godsdiens en Skole (2003). In sy uitspraak stel die hof egter dat die Beleid sigself diskwalifiseer deurdat dit pertinent aantoon dat dit nie 'n afdwingbare dokument is nie (Du Plessis & De Freitas, 2018:40).

 

BESPREKING

Die voorgaande uiteensetting toon dat die beginsel van godsdiensvryheid volle erkenning in die Grondwet en die gepaardgaande onderwyswette en beleide ontvang, maar dat dit, soos alle ander regte, aan bepaalde beperkings onderhewig is.

Op grond van die insig hier bo gestel, dat alle vorme van onderwys op die een of ander manier godsdienstig-lewensbeskoulik "partikulier" of eiesoortig is, doen Van der Walt (2010:335) aan die hand dat onderwysbeleid voorsiening behoort te maak vir die erkenning van die godsdienstig-lewensbeskoulike identiteit of die institusionele etos van elke skool. Die woord "etos" verwys na die kenmerkende karakter, gees en houdinge van die besondere skoolgroep (ouers, onderwysers, leerders, die omliggende gemeenskap). Dit omvat die filosofie, lewensbeskouing en waardestelsel van die betrokke skool en die omliggende gemeenskap sowel as die daarmee gepaardgaande opvattinge en gelowe oor gepaste sosiale gedrag en verhoudinge binne die betrokke gemeenskap.

Die waardes en etos van 'n betrokke skool vind ook onvermydelik uitdrukking in die missiestelling daarvan. In ooreenstemming met hierdie beginsel laat artikel 20 van die SA Skolewet ruimte vir 'n eie missiestelling met geestelike (godsdienstige) strekking. Aangesien in die "definisie van begrippe" in artikel 1 van die wet die definiëring van die begrip "missiestelling" ontbreek, geld die gewone betekenis van die woord hier (Botha 1996:45). Volgens die gesaghebbende Oxford Dictionary is 'n missie(stelling) onder andere 'n dokument waarin byvoorbeeld doelstellings en ook die waardes van 'n organisasie (lees skool) opgeneem kan word (Oxford Dictionary 2006:1123).14 Die grondliggende betekenisinhoud van die woord missie het ook 'n duidelike geestelike (godsdienstige) ondertoon. Die Latynse missio, afgelei uit mittere beteken letterlik "om te stuur", onder meer om 'n geloofsboodskap uit te dra.15

Een van die hoekpilare van die Suid-Afrikaanse Grondwet is ook eenheid in diversiteit. In die Randhart-saak beklemtoon die hof die erkenning van hierdie gemeenskapsdiversiteit soos volg:

"At the level of principle then, the overarching constitutional theme is that our society is diverse, that diversity is to be celebrated, and that specific rights are conferred and dealt with in pursuance of that principle. Within this context, public schools are public assets that serve the interests of society as a whole."

Die bestaande wetgewing en die regspraak tot dusver weerspieël dus nie 'n soort holistiese of roereier-tipe eenheid of enersheid ten koste van godsdienstige diversiteit nie. Artikel 15(2) van die Grondwet en artikel 7 van die SA Skolewet gee gevolglik aan die beheerliggaam van alle openbare skole die reg om godsdiensbeoefening in skole (in enkelgeloof- sowel as meergeloofskole) te reël, gegrond op die beginsels van billikheid, vryheid, vrywilligheid en niediskriminasie. Malherbe (2013:9)16 voer aan dat niks 'n skoolbeheerliggaam van 'n openbare skool met 'n enkelgeloofsmissie behoort te verhinder om ook die minderheidsgroeperinge se volledige geloofsuitlewings te reël en bestuur op wyses wat versoenbaar is met die oorkoe-pelende bestuur van die godsdiensbeoefening in die skool nie - solank ook hierdie reëlings op 'n billike, vrye, vrywillige en niediskriminerende basis geskied.

Die Godsdiensbeleid van 2003 is hierteenoor meer gerig op eerbied vir die gedagte van saamgesnoerde godsdienstige perspektiewe, en in die proses word haas geen klem gelê op die bevordering van eiesoortige of unieke godsdiens(beoefening) of godsdienstige diversiteit nie. In artikel 14 van die beleid word wel geredeneer dat, met diversiteit as vertrekpunt, multikulturele godsdienstigheid bevorder en waardering daarvoor uitgebou moet word. Hierteenoor redeneer ons dat diversiteit nie slegs as vertrekpunt onderweg na die einddoel van multikulturele godsdienstigheid beskou behoort te word nie. Godsdienstige diversiteit behoort op sigself as 'n selfstandige reg beskou en uitgebou te word. Opvoedkundig gesproke behoort die godsdienstige eiesoortigheid van die ontwikkelende jongmens (leerder) meer aandag en toewyding te geniet as die uiteindelike fokus van begrip en respek vir die multigodsdienstige samestelling van die land se mense. Eers as die godsdienstig-eie as aspek van die land se diversiteit in volwasse respekvorming en kennis gevestig is, kan die kennis van en respek vir die multigodsdienstige omgewing verder ontwikkel word. Eerbied vir die andersoortige begin by 'n respek vir die eiesoortige.

In die Randhart-saak het die applikante swaar gesteun op die Beleid van 2003 om 'n soort eenheidskookpot van gelowe te bepleit, en dit sou die vryheid van 'n diverse, eiesoortige geloofsuiting demp. Die hof het egter die nie-afdwingbaarheid van die riglyne in die beleid bevestig.

 

AANPASSINGS IN WETGEWING EN IN RIGLYNE WAT OORWEEG KAN WORD

Voorgaande uiteensetting en standpunt is gefundeer in wetgewing soos dit tans staan. 'n Bietjie nadenke oor die probleem van skoolidentiteit buite-om die bestaande regsraamwerk laat drie moontlike veranderinge in bestaande wetgewing en riglyne vir skole na vore kom:

In die eerste plek behoort die riglyne in die Beleid oor godsdiens in die onderwys (SA, 2003) hersien te word met die oog op die duidelike beklemtoning van die diversiteit van skoolgemeenskappe se besondere lewens- en godsdienskarakter in die missiestelling van skole. Artikel 20 van die SA Skolewet 1996(c) bepaal dat die beheerliggaam van 'n skool die missiestelling vir die skool moet opstel.17 Wetsuitleg handhaaf die beginsel dat die gebruik van die lidwoorde 'n en die in hierdie bepaling in hul taalkundige funksie as bepalers van die selfstandige naamwoorde (skool, beheerliggaam, missiestelling) vertolk behoort te word. Met ander woorde, die gebruik van hierdie lidwoorde moet as betekenisvol geag word, in die sin dat hulle in hierdie geval op 'n besonderse toepassing eerder as 'n algemene toepassing van die selfstandige naamwoorde dui: 'n skool, die beheerliggaam en die missiestelling. Op grond van hierdie vertolking mag skole, ook in die openbare skoolstelsel, vir hulleself 'n duidelike godsdienstig-lewensbeskoulike karakter en identiteit kies, hulle eiesoortige etos en missie-stellings formuleer en uitleef, en soos enige ander vergelykbare skool in die openbare skoolstelsel gefinansier en bestuur word.

Hulle beleidsbepalinge mag egter nie uitsluitend van of diskriminerend teen anders-gelowende ouers en leerders wees nie. Soos die destydse Nederlandse Minister van Onderwys, JA van Kemenade (1979), dit gestel het, behoort die identiteit en karakter van skole nie eksklusief te wees nie; hulle moet ook ouers en leerders uit ander gemeenskappe kan akkommodeer, op 'n basis van gelykberegtiging, niediskriminasie en vrywilligheid.

In die tweede plek behoort die volle betekenisimplikasies van die woord missie in die SA Skolewet (1996(c)) tot uitdrukking gebring te word sodat dit die bevoegdheid van die beheerliggame as die "tersaaklike openbare gesag" met betrekking tot die keuse van godsdiens, en die inrigting en hantering daarvan in die betrokke skool behoorlik omskryf - met inagneming van die beginsel van niediskriminasie, vryheid, gelykheid en vrywilligheid in die geval van minderheidsgroepe van ander geloofsgroeperinge.

In die derde plek behoort die SA Skolewet (1996(c)) ook voorsiening te maak vir openbare skole met 'n duidelike godsdienstige en lewensbeskoulike karakter en identiteit, soos deur die beheerliggaam bepaal. Die reg op vrye assosiasie sal meebring dat die skole deur ouers, onderwysers en leerlinge bevolk word wat hulle kan vereenselwig met daardie karakter of identiteit, sonder dat daar afbreuk gedoen word aan die vryheid van geloofsregte van ander geloofsgroepe in die skool.

 

GEVOLGTREKKING

Omdat opvoedende onderwys waardedraende en -gedrewe onderwys is, benodig dit die erkenning van godsdiensvryheid as oorkoepelende menseregtelike beginsel. Laasgenoemde beginsel word wel in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika en in die daaruit voortvloeiende algemene en onderwyswetgewing erken. Dit op sigself bied genoeg grond aan die openbare skole om aan te dring op die erkenning van hul reg (in die "persoon" van hulle beheerliggame) om te kan besluit oor die godsdienstige en lewensbeskoulike karakter of identiteit van die onderskeie skole. Enkele verfyninge aan die bewoording van bestaande wetgewing en riglyne kan die saak nog duideliker as tans stel.

 

BIBLIOGRAFIE

Babbie, E & Mouton, J. 2007. The practice o/Social Research. Kaapstad: Oxford Press.         [ Links ]

Botha, CJ. 1996. Statutory Interpretation. Kenwyn: Juta en kie.         [ Links ]

Du Plessis, GA & De Freitas, SA. 2018. Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie vLaerskool Randhart et al: The right to freedom ofreligion, diversity and the public school. Journalfor Juridical Science (SpecialIssue), 43(2):32-52.         [ Links ]

DOB, sien Departement van Basiese Onderwys

Departement van Basiese Onderwys. 2011. Curriculum and Assessment Policy Statement. National Curriculum Statement. Pretoria: Departement van Basiese Onderwys.         [ Links ]

Du Plessis. LM. 1996. An evaluation with particular reference to the Bill of Rights. Orientation, 28 (79/82).         [ Links ]

Guba, EG & Lincoln, YS. 2005. Paradigmatic controversies, contradictions, and emerging confluencies. In Denzin, NK & Lincoln, YS. The Sage Handbook of Qualitative Research. Thousand Oaks: Sage Publications, pp. 191-215.         [ Links ]

Jonker, WD. 1993. Demokrasie en Godsdiens. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 33(4):319-327.         [ Links ]

Labuschagne, JMT. 1997. Die begrip 'godsdiens' in godsdiensvryheid. De Jure, 30(1):119-134.         [ Links ]

Malherbe, EFJ. 1998. Die Grondwetlike beskerming van godsiensvryheid. TSAR, (4):673-701.         [ Links ]

Malherbe, EFJ. 2013. Religion in School. NGTTNederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 54(4):1-10.         [ Links ]

Miedema, S & Vroom, H. 2004. Alle onderwijs bijzonder. Zoetermeer: Meinema.         [ Links ]

Nussbaum, MC. 2011. Creating capabilities. Cambridge, Mass.: The Belknapp Press. SA: sien Suid-Afrika.         [ Links ]

Smit, M. 2019. Religion in SA public schools - ORED v Randhart School. International Journal of Law and Education, vol. 22:49-63.         [ Links ]

Soanes, C & Stevenson, A. 2006. Oxford Dictionary ofEnglish. Oxford: Oxford Press.         [ Links ]

Suid-Afrika. 1996. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996. Pretoria: Staatsdrukker.         [ Links ]

Suid-Afrika. 1996(b). Wet op Nasionale Onderwysbeleid, Wet 27 van 1996. Pretoria: Staatsdrukker.         [ Links ]

Suid-Afrika. 1996(c). Suid-Afrikaanse Skolewet, Wet 84 van 1996. Pretoria: Staatsdrukker.         [ Links ]

Suid-Afrika. 2003. Nasionale Beleid op Godsdiens en Onderwys, Staatskoerant nr. 25459 van 12 September 2003. Pretoria: Staatsdrukker.         [ Links ]

Suid-Afrikaanse Raad vir Godsdiensregte en -vryhede. 2010. Suid-Afrikaanse Handves van Gods- diensregte en Vryhede.         [ Links ]

Swain, M. 2017. 'OGOD' judgement: the good, the bad and the ugly. http://gatewaynews.co.za/ogod-judgment-the-good-the-bad-and-the-ugly/ 7 Julie (geraadpleeg 10 Feb. 2020).         [ Links ]

Underkuffler-Freud, LS. 1997. Religious guarantees in a pluralistic society: values, problems and limits. SAPL 12(1&2):32-52.         [ Links ]

United Nations: Economic and Social Council. 2009. Report of the High Commissioner for human rights on implementation of economic, social and cultural rights. Geneve 2-31 Julie.         [ Links ]

Van der Walt, JL. 2010. Institutional identity: a possible solution to the religion in/and education quandary. Koers, 75(2):325-340.         [ Links ]

Van der Walt, JL. 2020. Interpretivism-constructivism as a research method in the humanities and social sciences - more to it than meets the eye. International Journal ofPhilosophy and Theology, 8(1):1-19.         [ Links ]

Van Kemenade, JA. 1979. Als de smalle weegbree bloeit. Opstellen over onderwijs en onderwijsbeleid. Amsterdam: Uitgeverij Bert Bakker.         [ Links ]

Venter, F. 1998. The protection of cultural, linguistic and religious rights - what can be learnt from the American experience? Voordrag gelewer op 9 Mei 1998 in Pretoria by konferensie: The Constitutional protection of Multiculturalism.         [ Links ]

Venter, F, Van der Walt, AJ, Van der Walt, CFC, Olivier, NJJ, Pienaar, GJ & Du Plessis, LM. 1990. Regsnavorsing Metode en Publikasie. Kaapstad: Juta en kie. VN: sien Verenigde Nasies.         [ Links ]

Verenigde Nasies. 1948. Universele Deklarasie van Menseregte. New York: Verenigde Nasies Organisasie.         [ Links ]

Witte, J. 1993. The South African experiment in religious human rights - what can be learnt from the American Experience? Journal for Juridical Science, 18(1):1-27.         [ Links ]

Hofsake:

Christian Education South Africa (CESA) v Minister of Education of the Government of the Republic of South Africa 2000(4) SA 757 (CC).

Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie v Laerskool Randhart en andere, 2017 3 SA 943 (GJ).

S v Lawrence 1997(4) SA 1176 (CC).

Witmann v Deutscher Schulverein, Pretoria and others 1988 SA(4) SA 423 (T) 36.

 

 

Ontvang: 2020-05-20
Goedgekeur: 2020-09-03
Gepubliseer: Maart 2021

 

 

 

Izak Oosthuizen was vir 18 jaar lank 'n hoër-skoolonderwyser in Pretoria en later 'n dosent aan die Onderwyskollege vir Verdere Opleiding. Hy is in 1988 aangestel as medeprofessor in die Fakulteit Opvoedkunde aan die destydse PU vir CHO en is in 1999 bevorder tot professor in onderwysreg. In 2011 word hy aangestel as navorsingsprofessor en later as buitengewone professor van die Fakulteit Opvoedkunde van die Noordwes-Universiteit. Tans is hy 'n navor-singsgenoot in daardie Fakulteit. Hy was redakteur, en/of mederedakteur of skrywer van meer as 45 boeke en 75 akademiese artikels. Hy het 42 M- en D-studente suksesvol begelei. Sy ORCiD is: https://orcid.org/0000-0002-1193-4699.
Izak Oosthuizen was a high school teacher in Pretoria for 18 years, whereafter he was appointed as lecturer at the College for Further Education. In 1988, he became assistant professor in the Faculty of Education of the former PU for CHE, and in 1999 was promoted to a full professorship in education law. In 2011 he was appointed as research professor and later as extraordinary professor in the Faculty of Education of the North-West University. He is currently a research fellow in this Faculty. He has been the editor, co-editor and author of more than 45 books and of 75 scholarly articles. 42 Master's and Doctor's degree students successfully completed their studies under his guidance. His ORCiD is: https://orcid.org/0000-0002-1193-4699.

 

 

Johannes L van der Walt se loopbaan begin as 'n onderwyser. Na nege jaar in daardie hoedanigheid sluit hy in 1975 aan by die destydse Potchefstroomse Universiteit vir CHO as lektor in die opvoedkunde en word bevorder tot professor in die filosofie van die opvoeding in 1981; daarna word hy aangestel as adjunk-dekaan in 1990 en as dekaan in 1994. Hy gaan aan die einde van 2000 met vervroegde aftrede ten einde 'n vryskutloopbaan as wetenskaplike navorser te volg. In hierdie hoedanigheid bied hy tans nog kursusse by verskeie instansies regoor Suid-Afrika aan in die filosofiese grondslae van die wetenskappe, veral die opvoedkunde, en ook in die kuns van die skryf van wetenskaplike artikels. Hy is outeur van agt handboeke en die (mede-) outeur van 212 tydskrifartikels in geakkrediteerde nasionale en internasionale tydskrifte. Hy publiseer hoofsaaklik op die terreine van die filosofie en geskiedenis van die opvoeding en onderwys, godsdiens in/en onderwys, en burger-skapsonderwys. Sy ORCiD is: https://orcid.org/0000-0001-9243-5973.
Johannes L van der Walt is professor emeritus of philosophy and history of education, and past dean of the Faculty of Education at the former Potchefstroom University. Currently he is a specialist researcher at the North West University where he is involved in research and capacity building programmes. These programmes, occasionally also offered nation-wide, include seminars on the art of writing scholarly articles, mostly with respect to education, but also including other scholarly disciplines. In addition, he presents courses on philosophy of science and of education. To date he has authored 212 articles in accredited journals on issues related to philosophy of education, history of education, comparative and international education and religion, citizenship and education. His ORCiD is: https://orcid.org/0000-0001-9243-5973.
1 "Bijzonder" dui hier op skole wat in die Nederlandse onderwysstelsel 'n eksplisiete godsdienstig-lewensbeskoulike karakter dra, en gevolglik as "partikulier" beskou word.
2 "Every value or belief implemented by government is presumably a part of some belief system, whether religious or non-religious in nature. To require that all government actions be free of such beliefs is a logical and practical impossibility."
3 Artikel 9(3) van die Grondwet bepaal: "Die staat mag nie regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op een of meer gronde nie, met inbegrip van ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte" (outeursbeklemtoning). Artikel 9 (5) bepaal in hierdie verband: "Diskriminasie op een of meer van die gronde in subartikel (3) vermeld, is onbillik, tensy daar vasgestel word dat die diskriminasie billik is."
4 In verwysing na die Europese Hof vir Menseregtesaak van 1994, Kokkinakis v Greece 17 EHRR 397, is Griekse wetgewing wat prosilietmakery verbied het, ongeldig verklaar. Teen die agtergrond hiervan en in verwysing na artikel 16 van die Suid-Afrikaanse Grondwet, skryf Malherbe soos volg: "Let daarop dat die openbare uitlewing van die reg op vryheid van uitdrukking dus insluit om teenoor ander te getuig en hulle tot dieselfde geloof te probeer oorhaal. Godsdienstige oortuigings kan met ander woorde gemanifesteer word" (Malherbe 1998:678).
5 Artikel 18 van die Universal Declaration of Human Rights (1948): "Everyone has the right to freedom of thought, conscience and religion; this right includes freedom to change his religion or belief, and freedom, either alone or in community with others in public or private, to manifest his religion or belief in teaching, practice, worship and observance."
6 Artikel 31 van die SA Grondwet bepaal: (1) Persone wat aan 'n kultuur-, godsdiens-, of taalgemeenskap behoort, mag nie die reg ontsê word om saam met ander lede van daardie gemeenskap hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul taal te gebruik nie, en (a) kultuur-, godsdiens- en taalverenigings en ander organe van die burgerlike gemeenskap te vorm, in stand te hou en daarby aan te sluit nie.
7 Oppergesag van die Grondwet
8 Nasionale Beleid op Godsdiens in Skole, 2003:"This should be particularly evident in our public schools where no particular religious ethos should be dominant..
9 v Lawrence 1997(4) SA 1176 (CC)
10 Christian Education SA vMinister of Education (2000) JOL 7320 (CC): "In general schools with an ethos of religious freedom tend to develop a culture of tolerance and respect, experience increased levels of kindness, support and participation and gain a framework for individual growth and social stability."
11 Die hof het hierdie aspek soos volg verwoord: "It is clear therefore that the drafters of our Constitution steered our constitution ship on a religious course diametrically opposed to that of the United States. This is not surprising. Our country has a long history of religious observance in public of all sectors of our population."
12 Randhart -uitspraak: "Neither the Constitution nor the Schools Act confers on a public school or SGB the right to adopt the ethos of one single religion to the exclusion of others."
13 Smit (2019) stel hierdie punt soos volg: "The court ruled that it is unlawful for public school officials to promote the interests of one religion over others. In other words, the court held that while all of the listed religions were lawful and constitutional, public school officials may not brand or market their institutions as Christian schools or as schools predominantly adhering to a single religion."
14 Soanes en Stevenson (2006:1123): Oxford Dictionary of English (2006): mission statement - "a formal summary of the aims and values of a company, organisation or individual".
15 Soanes et al: Oxford Dictionary of English (2006): "a strongly felt aim, ambition or calling"; "the vocation or calling of a religious organization, to get out into the world and spread its faith".
16 Malherbe (2013), in verwysing na artikel 7.2 van die Handves skryf: "Subsection 7.2 has been described as a provision that follows logically from the right to conduct religious observances in a public school. There is no institution without any ethos (even so-called neutrality is an ethos), and if there is a particular majority religion in a school, that school will in all probability adopt and reflect that ethos. The Bill of Rights, in particular section 15(2), acknowledges this. I am confident that the Charter reflects the proper constitutional approach to religion in public schools and will go a long way in regulating those issues equitably."
17 Artikel 20(1)(c): "Subject to this Act, the governing body of a school must develop the mission statement of the school".

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License