SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 número1Religion and law: A few historical and systematic perspectivesSouth Africa's highest court deals a mortal blow to the common-law defence of parental authority to administer reasonable and moderate correction: Reflecting on the case of Freedom of Religion SA v Minister of Justice and Others 2020 (1) SA1 (CC) índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.61 no.1 Pretoria mar. 2021

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n1a3 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die reg op selfbeskikking van godsdiensgroepe in Suid-Afrika

 

The right to self-determination of religious groups in South Africa

 

 

Johan D Van Der Vyver

IT Cohen Professor of International Law and Human Rights, Emory University, Atlanta, Georgia, USA. E-pos: Jvand02@emory.edu

 

 


OPSOMMING

Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, is 'n godsdiens-vriendelike manifes omdat vryheid van godsdiens nie alleen in die lewe van die gelowige van belang is nie, maar ook vir die staat van groot waarde kan wees. Die Grondwet maak onder meer voorsiening vir die reg op selfbeskikking van godsdiensgroepe, wat beteken dat lede van godsdienstige gemeenskappe hulle godsdiens kan beoefen sonder ongegronde staatsinmenging. Die reg op selfbeskikking is egter nie ' n absolute reg nie en is onder meer aan die bepalings van die Handves van Regte ondergeskik. Daar word in dié verband verwys na regspraak wat op godsdiensonderrig in skole, en die toepassing van gedragskodes in die onderwys wat met godsdienstige gebruike in stryd mag wees, van toepassing is, asook na 'n verset teen die verbod op lyfstraf, omdat die verbod sogenaamd met godsdienstige leerstelling in stryd sou wees. Suid-Afrika onderhou ook die soewereiniteit in eie kring van godsdiensorganisasies, wat daarop neerkom dat die staat nie sal inmeng in interne besluite en praktyke van kerke en ander godsdiens-gerigte organisasies nie. Regspraak wat in dié verband ter sprake kom, het betrekking op tugmaatreëls wat teen 'n lid van die Ortodokse Joodse gemeenskap van Johannesburg ingestel is omdat hy 'n kerklike onderhoudsbevel verontagsaam het, en die afdanking van 'n vroulike predikant van die Metodiste Kerk in Rondebosch omdat sy met 'n ander vrou in die huwelik getree het. Die afdanking van 'n orrelonderwyser in die Kunsakademie van die Moreletaparkse gemeente van die NG Kerk as gevolg van sy selfdegeslagverhouding is egter nie deur die Gelykheidshof gehandhaaf nie, omdat die dienste van die orrelonderwyser as 'n onafhanklike kontrakteur nie met die geestellike roeping van die Kerk te make gehad het nie. Die beleid van die staat ten opsigte van die kerk en godsdienstige praktyke kan as 'n beleid van objektiwiteit beskryf word.

Trefwoorde: godsdiensvryheid, reg op selfbeskikking, godsdiensonderrig, lyfstraf, soewereiniteit in eie kring, kerklike tugmaatreëls, selfdegeslagsver-houdinge, objektiwiteit


ABSTRACT

The Constitution of the Republic of South Africa, 1996, is a religion-friendly manifesto, because freedom of religion is not only important in the lives of the faithful, but is also of great value to the state. The Constitution makes provision for the right to self-determination of religious communities, which means that members of such communities can exercise their religion without undue state interference. However, the right to self-determination is not an absolute right and is amongst other things subject to the provisions of the Bill of Rights. Mention is made in this regard of litigation relating to education of religion in schools, and implementation of religious codes of conduct in education, that might contradict doctrinal practices, as well as opposition to the prohibition of corporeal punishment, which prohibition is allegedly in conflict with religious principles. South Africa also upholds the sphere sovereignty of religious organisations, which means that the state will not interfere with internal decisions and practices of churches and other religion-orientated institutions. Litigation of relevance in this regard includes disciplinary action against a member of the Orthodox Jewish community of Johannesburg who declined to comply with a maintenance order of the church authorities, as well as the dismissal of a Minister of the Methodist Church in Rondebosch because she entered into a same-sex marriage. The firing ofan organ teacher in the Arts Academy of the Moreleta Park Congregation of the Dutch Reformed Church because of his same-sex relations, on the other hand, was not upheld by the Equality Court because the services rendered by the organ teacher as an independent contractor did not relate to the spiritual calling of the Church. The policy of the state in regard to churches and religious practices can be described as a policy of objectivity.
In specifying the above constitutional principles, this essay in the first place contains an analysis of the historical origin, development and prominence of the right to self-determination in international law and in the South African context. In the section on application of the right to self-determination in South Africa special mention is made of religious practices in education, noting with reference to a case involving the German School in Pretoria that religion classes are no longer based on a particular denominational basis and attendance of those classes is therefore mandatory; but in a case involving loyalty of certain schools to the Christian faith it was decided that this cannot be upheld in state-sponsored schools, since the state may not afford preference to a particular religion but must treat all religions equally. South African courts have also rejected the supposition that the Bible demands corporeal punishment of children, most recently also condemning corporeal chastisement within parent-child relations.

Keywords: freedom of religion, the right to self-determination, religion teaching in schools, corporeal punishment, sphere sovereignty, disciplinary action in churches, same-sex relations, objectivity


 

 

INLEIDING

Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, is 'n godsdiens-vriendelike manifes. As regspersone, is kerklike instellings geregtig op die regte wat in die Handves van Regte vervat is "in die mate waarin die aard van die regte en die aard van daardie regspersoon dit vereis" (art. 8(4)). Die Grondwet waarborg "die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening" (art. 15(1)); dit verleen beskerming aan die reg "van elkeen" om "vreedsaam en ongewapen te vergader" (art. 17) en die reg op vryheid van assosiasie (art. 18); dit veroorloof "godsdiensbeoefening ... by staats- en staatsondersteunde instellings" (art. 15(2)); en veel meer.

Die Konstitusionele Hof het by geleentheid beklemtoon hoe belangrik die reg op vryheid van godsdiens, geloof en denke in 'n oop gemeenskap in die lewe van elke persoon kan wees.1Vry vertaal, het Regter Albie Sachs soos volg daarop uitgebrei:

Die reg om te glo of nie te glo nie, en om jou positiewe of negatiewe optrede ooreenkomstig jou geloof of ongeloof in te klee, is 'n kernbestanddeel van enige persoon se waardigheid. Maar vryheid van godsdiens het meer om die lyf as slegs beskerming van die onaantas-baarheid van die individuele gewete. Vir baie gelowiges is hulle verhouding met God of die skepping sentraal in al hulle doen en late. Dit het betrekking op hulle vermoë om hulleself op 'n intensiewe en sinvolle wyse te vereenselwig met hulle begrip van hulleself, hulle gemeenskap en die heelal. Vir miljoene mense in alle lewensvertakkinge verskaf godsdiens ondersteuning en versorging en 'n raamwerk vir individuele en sosiale stabiliteit en ontwikkeling. Godsdienstige geloof behels die vermoë om die begrip van eie waarde en menslike waardigheid aan die lig te bring, wat dan die hoeksteen van menseregte uitmaak. Dit beïnvloed die gelowige se siening van die gemeenskap en vorm die grondslag van die onderskeid tussen reg en verkeerd. Dit vind uitdrukking in die bevestiging en voortgang van magtige tradisies wat dikwels 'n antieke karakter het wat historiese tydsbedelings en nasionale grense oorskry.2

Terwyl dit hier gegaan het om die belangrikheid van godsdiens vir die menswaardigheid van die individu, het Regter Sachs in 'n latere uitspraak beklemtoon hoe belangrik godsdiens vir die staat kan wees:3

Godsdienstige instansies speel 'n groot en belangrike rol in die openbare lewe, deur bemiddeling van skole, hospitale en armsorgprogramme. Hulle vereis etiese gedrag van hulle lede en neem kennis van die uitoefening van gesag deur die staat en private instansies; hulle bevorder musiek, die kunste en teaters; hulle verskaf sale vir gemeenskaplike werksaamhede, en beoefen 'n groot verskeidenheid sosiale aktiwiteite vir hulle lede en die algemene publiek. Hulle is deel van die struktuur van die openbare lewe, en vorm aktiewe elemente van 'n uiteenlopende en meervoudige nasie wat deur die Grondwet voorsien is. Godsdiens het nie slegs betrekking op geloof en leerstellings nie. Dit vorm deel van die bevolking se gemoedsgesteldheid en kultuur, en vir baie gelowiges is dit 'n belangrike deel van hulle lewenspatroon. Godsdienstige organisasies vorm 'n belangrike deel van die nasionale lewenspatroon en het daarom die reg om die regering en geregshowe aan te spreek met betrekking tot belangrike heersende aangeleenthede. Hulle neem aktief deel aan openbare aangeleenthede en het die volle reg om aangehoor te word met betrekking tot die wyse waarop die reg gevorm en toegepas word.4

Van besondere belang is die grondwetlike beskerming van die reg op selfbeskikking van bevolkingsgroepe, insluitende godsdiens-gebonde gemeenskappe. Ingevolge Artikel 31 van die Grondwet mag persone wat deel vorm van 'n religieuse gemeenskap hulle godsdiens beoefen, en godsdiens-gebonde organe vorm, in stand hou en daarby aansluit.5 Die Grondwet veroorloof ook die instelling van 'n kommissie vir die beskerming van die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe (art. 181(1)(c)). Daaraan is gevolg gegee deur die Wet op die Instelling van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe 19 van 2002, en in Artikels 185-186 van die Grondwet word die funksies en samestelling van die Kommissie uiteengesit. Voorsiening word verder in Artikel 6(5)(b)(ii) van die Grondwet gemaak vir die instelling van 'n Suid-Afrikaanse Taalraad wat onder meer respek moet bevorder en verseker vir "Arabies, Hebreeus, Sanskrit en ander tale wat in Suid-Afrika vir godsdiensdoeleindes gebruik word". Ongelukkig is daar in 2016 verslag gedoen dat hierdie Raad nog weinig vermag het, en die Minister van Kuns en Kultuur het gevolglik die Raad ontbind.

In die verbesondering van die bogenoemde grondwetlike beginsels word in die eerste plek 'n uiteensetting gegee van die die historiese oorsprong, ontwikkeling en prominensie van die reg op selfbeskikking in die volkereg en in Suid-Afrika. Toepassing van die reg op selfbeskikking in Suid-Afrika kom daarop aan die beurt met besondere verwysing na gods-dienstige gebruike in die onderwys, en die verbod op lyfstraf as 'n strafmaatreël vir sekere misdade, in onderwysinstellings en binne die familieverband in ouer-kind-verhoudings. In dié verband val die klem op besware van sekere godsdiensgroepe wat glo dat lyfstraf deur die Bybel veroorloof en gelas word. Daarop volg dan 'n analise van die beginsel van soewereiniteit in eie kring van godsdiens-gerigte organisasies met verwysing na die oorsprong van die beginsel in Calvinistiese leerstellinge en die toepassing van die beginsel in verskeie Suid-Afrikaanse gewysdes. Samevattend word die stand van die staat ten opsgte van godsdiens en godsdiens-gebonde organisasies as een van objektiwiteit bestempel.

 

HISTORIESE PERSPEKTIEF

Die konsep van selfbeskikking het sy oorsprong in sosialistiese literatuur van die vroeg twintigste eeu.6 Gedurende die laaste fases van die negentiende eeu het Karl Marx (1818-1883) en Friedrich Engels (1820-1895) voorspel dat die ganse wêreld deur bemiddeling van 'n rewolusie van die proletariaat aan 'n ekonomiese struktuur onderworpe gestel sal word waaronder daar geen private eiendomsregte sal bestaan nie en alles aan almal sal behoort. Dit het mettertyd die vraag laat ontstaan wat die soewereine status van nasionale state binne hierdie universele ekonomiese raamwerk sal wees. In 1913 het Joseph Stalin (1879-1953) 'n pamflet saamgestel onder die opskrif Marxisme en die Nasionale Vraagstuk waarin hy die stand van politieke gemeenskappe binne die oorkoepelende en universeel geldende ekonomiese struktuur van kommunisme aangespreek het. In Maart 1916 het Vladimir Lenin (1870-1924) 'n meer omvattende uitleg van dieselfde benadering in 'n manifes gepubliseer onder die opskrif: Verhandelinge met betrekking tot die Sosiale Revolusie en die Reg van Volke op Selfbeskikking. In die manifes het Lenin die bevoegdhede van politieke gemeenskappe binne die oorkoepelende ekonomiese struktuur met die frase "selfbeskikking van nasies" aangedui. Die bekende volkeregtelike denker en die eerste President van die Internasionale Strafhof vir die Voormalige Joego-Slawië, Antonio Cassese (1932-2011), het hierdie manifes van Lenin beskryf as "die eerste gebiedende uiteensetting van die beginsel van selfbeskikking".7

Die prominensie van die reg op selfbeskikking word egter meer gangbaar toegeskryf aan die Amerikaanse President Woodrow Wilson (1856-1924) wat in sy bekende Veertien Punte Voordrag van 8 Januarie 1918 prominensie verleen het aan die idee van selfbeskikking, hoewel hy in daardie toespraak nooit die woord "selfbeskikking" gebruik het nie. President Wilson het in een van die Veertien Punte voorspraak gemaak vir "'n vrye, openhartige en absoluut onpartydige aanpassing van alle koloniale aansprake, gebaseer op 'n streng nakoming van die beginsel dat by die bepaling van al sulke vraagstukke van soewereiniteit die belange van die betrokke bevolking gelyke gewig moet dra as die billike eise van die regering wie se aansprake bepaal moet word."8Hierdie stelling word gangbaar beskou as die hoeksteen van die Volkebond se beleid ten opsigte van die toekomstige bedeling van die nasionale state wat deel gevorm het van die wêreldryke wat in die Eerste Wereldoorlog (1914-1918) verslaan en uiteindelik ontbind is.9

Die reg op selfbeskikking het aldus beslag gekry in die volkereg as die beginsel wat moet geld by die toepassing van die mandaatstelsel wat deur die Volkebond aanvaar is vir die toekomstige bedeling van nasionale state, wat deel gevorm het van die Ottoman, Duitse, Russiese, en Oostenryk-Hongaarse wêreldryke wat in die Eerste Wereldoorlog verslaan is. Dit is miskien van belang om daarop te let dat die mandaatstelsel oorspronklik deur Generaal JC Smuts (1870-1950) van Suid-Afrika ontwerp is. Generaal Smuts het op 16 Desember 1918 'n voorstel ontwerp onder die opskrif "The League of Nations: A Practical Plan" waarin hy die mandaatstelsel ontwerp en uiteengesit het.10 Hy is daarop deur Groot Brittanje by sy afvaardiging na die Vredeskonferensie van Versailles ingesluit en sy ontwerp van 'n mandaatstelsel is deur President Woodrow Wilson in sy tweede ontwerp van 'n verdrag vir die Volkebond ingesluit. Op dié wyse het dit deel geword van die Volkebond se beleid ten aansien van die toekomstige soewereiniteit van regerings wat na die oorlog uitgepluis moes word. Die reg op selfbeskikking het dus die uiteindelike onafhanklikheid van state binne die raamwerk van die mandaatstelsel aangedui. Generaal Smuts se voorstel, wat deur die Volkebond aanvaar is, het die staatsgebiede wat op onafhanklikheid aanspraak kon maak in drie kategorieë verdeel: Die A-kategorie het state ingesluit wat gereed was vir onafhanklikheid; die B-kategorie het vir gebiede gegeld wat onder toesig van 'n aangewese gevolmagtigde mandataris ontwikkel moes word om die gebiede vir onafhanklikheid voor te berei en uiteindelik met volle soewe-reiniteit te beklee; en die C-kategorie het net een gebied ingesluit, naamlik Suidwes-Afrika (tans die staat van Namibië), wat nie op onafhanklikheid aanspraak sou hê nie, maar by die mandataris-staat (Suid-Afrika) ingesluit sou word as 'n vyfde provinsie.

Na gelang aan die mandaatstelsel uitvoering gegee is, het die klem in die volkereg verskuif na die verset teen kolonialisme en het die reg op selfbeskikking 'n anti-kolonialistiese fokus gekry. Selfbeskikking is gedurende hierdie fase van ontwikkeling aldus gebaseer op die naoorlogse verbintenis, wat - soos dit deur die Internasionale Geregshof gestel is - daarop toegespits is "om alle koloniale situasies tot 'n spoedige einde te bring."11 Die Internasionale Geregshof het daarop nadruklik verklaar dat die reg op selfbeskikking van toepassing is op gebiede onder koloniale bewind en dat dit alle bevolkingsgroepe en gebiede insluit wat nog nie onafhanklikheid bereik het nie.12

Gedurende die sestigerjare van die vorige eeu het die Suid-Afrikaanse tuislandbeleid ook onder die soeklig van die reg op selfbeskikking ter sprake gekom. Suid-Afrika het in die Verenigde Volkeorganisasie (VVO) die standpunt ingeneem dat die tuislandbeleid van dr. HF Verwoerd (1901-1966) die reg op selfbeskikking gestand doen. Die VVO het dit verwerp. Die skepping van onafhanklike swart state binne die grense van Suid-Afrika kan nie deur die reg op selfbeskikking van die stamgebiede geregverdig word nie, want die betrokke swart bevolkingsgroepe was nie deel van die politieke proses wat onafhanklike tuislande op die been sou bring nie; die tuislandbeleid is op hulle afgedwing deur 'n regering waarin hulle geen verteenwoordiging geniet het nie.

Die volkeregtelike verbod op staatkundig-geordende rassisme, kolonialisme en oorheersing kan teruggevoer word na die Deklarasie met betrekking tot die Ontoelaatbaarheid van Inmenging in die Huishoudelike Sake van State en die Beskerming van Hulle Onafhanklikheid en Soewereiniteit wat in 1965 deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Volke aangeneem is. In dié Deklarasie eis die Verenigde Volke van alle state om die reg op selfbeskikking en onafhanklikheid van volke en nasies te eerbiedig en toe te sien dat dié regte vryelik uitgeoefen word sonder buitelandse druk, en met absolute respek vir menseregte en fundamentele vryhede. Om dit te bewerkstellig, moet alle state bydra tot die volkome beëindiging van rassediskriminasie en kolonialisme in alle verskyningsvorme en toepassings.13

Met die ondergang van die wêreldryke, kolonialisme en rassistiese politieke strukture het die klem van die reg op selfbeskikking weer eens verskuif om tans die aanspraak van etniese of kulturele, godsdienstige en taalgroepe binne 'n politieke gemeenskap aan te dui om ongestoord die leefwyse van die bevolkingsgroep waartoe hulle behoort, uit te leef sonder ongeregverdigde staatsinmenging.

Dit is belangrik om daarop te let dat die reg op selfbeskikking in verskeie volkeregtelike ooreenkomste beklemtoon word. Die reg op selfbeskikking van bevolkingsgroepe word naas die gelykheid van alle volke - grotes en kleines - in die Handves van die VVO vermeld.14 Dit beklee 'n prominente plek in die Internasionale Ooreenkoms met betrekking tot Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte van 1966,15 en in die Internasionale Ooreenkoms met betrekking tot Burgerlike en Politieke Regte van 1966.16 Dit is ingesluit in die Verdrag met betrekking tot die Regte van die Kind van 1989.17 Dit word vermeld in die Verklaring met betrekking tot die Vergunning van Onafhanklikheid aan Koloniale Lande en Volke van I960,18 en word nege keer gemeld in die Verklaring van Beginsels van die Volkereg met betrekking tot Goeie Verhoudinge en Samewerking tussen State ooreenkomstig die Handves van die Verenigde Volke van 1970.19

In Artikel 27 van die Internasionale Ooreenkoms met betrekking tot Burgerlike en Politieke Regte word die huidige betekenis van die reg op selfbeskikking soos volg saamgevat:

In daardie State waarin etniese, godsdienstige en taalkundige minderhede bestaan, moet persone wat tot sulke minderheidsgroepe behoort nie die reg ontsê word nie om, in gemeenskap met ander persone wat tot sulke minderhede behoort, hulle eie kultuur te geniet, hulle eie geloof te bely en uit te oefen, en om hulle eie taal te gebruik.

Die Verklaring met betrekking tot die Regte en Persone wat Lede is van Nasionale of Etniese, Godsdienstige en Taalkundige Minderhede van 1992 verwys soortgelyk na "die reg [van nasionale of etniese, godsdienstige en taalkundige minderhede] om privaat of in die openbaar hulle eie kultuur te geniet, hulle eie geloof te bely en uit te oefen, en hulle eie taal te gebruik, en om dit vryelik te kan doen sonder inmenging of onderworpe aan enige vorm van diskriminasie."20

Die reg op selfbeskikking van onder meer godsdienstige bevolkingsgroepe vereis eintlik meer van 'n regering as net 'n inskiklike verdraagsaamheid. Staatsowerhede moet ingevolge die reg op selfbeskikking binne die raamwerk van hulle grondwetlike en regsisteme omsien na die belange van verskillende gemeenskappe, insluitende godsdienstige bevolkingsgroepe.

Die Verklaring met betrekking tot die Regte van Persone wat Lede is van Nasionale of Etniese, Godsdienstige en Taallkundige Minderhede beklemtoon die pligte van staatsowerhede om groepsvorming binne die bevolking te beskerm en weliswaar aan te moedig: beskerm en bemoedig omstandighede vir die bevordering van die betrokke groepsidentiteit van minderhede onderworpe aan die jurisdiksie van die verpligte staat (arts. 1.1. en 4.2); verskaf die spesiale bevoegdheid aan minderhede om effektief deel te neem aan besluitneming wat op die groep waartoe hulle behoort van toepassing is (art. 2.3); moet nie op enige wyse teen enige persoon diskrimineer op grond van sy of haar groepsidentiteit nie (art. 3), maar neem inderdaad stappe om hulle gelyke behandeling deur en voor die reg te verseker (art. 4.1). Die verklaring bepaal verder dat state voorsiening moet maak vir gunstige toestande wat minderheidsgroepe in staat sal stel om aan hulle karaktertrekke uitdrukking te gee en om hulle kultuur, taal, godsdiens, tradisies en gewoontes te ontwikkel, behalwe in gevalle waar spesifieke praktyke 'n oortreding sal wees van die nasionale reg en in stryd met internasionele standaarde sal wees (art. 4.2).

In Artikel 31 van die Suid-Afrikaanse Grondwet word die reg op selfbeskikking soos volg saamgevat:

(1) Persone wat aan 'n kultuur-, godsdiens- of taalgemeenskap behoort, mag nie die reg ontsê word om saam met ander lede van daardie gemeenskap:

(a) hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul taal te gebruik nie; en

(b) kultuur-, godsdiens- en taalverenigings en ander organe van die burgerlike gemeenskap te vorm, in stand te hou en daarby aan te sluit nie.

(2) Die regte in subartikel (1) mag nie uitgeoefen word op 'n wyse wat met enige bepaling van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie.

 

TOEPASSING VAN DIE REG OP SELFBESKIKKING IN SUID-AFRIKA

Die reg om te glo is in die volkereg en in die Suid-Afrikaanse reg aan geen beperkings onderworpe nie. Die reg om jou geloof in die praktyk tot uitvoering te bring, is egter nie 'n absolute reg nie, maar moet binne die raamwerk van basiese regsbeginsels uitgevoer word. Die reg op selfbeskikking is ingevolge Artikel 32(2) van die Grondwet aan die Handves van Menseregte ondergeskik.

In Ryland v. Fletcher het Regter Farlam beweer dat die Amerikaanse beginsel wat "leerstellige vervlegting" ("doctrinal entanglement") van die Staat met godsdienstige leerstellings verbied, ná 1994 moontlik deel geword het van die Suid-Afrikaanse staatkundige bedeling.21 Dit is beslis nie die geval nie. Die staat mag weliswaar nie die inhoud, of die waarheid of valsheid, van godsdienstige geloofsaangeleenthede beoordeel nie, maar moet wel deur bemiddeling van die regsprekende gesag geskilpunte met betrekking tot die regte en verpligtinge van regsubjekte beoordeel en oplos, en die staat mag nie hierdie regsplig verontagsaam bloot omdat dit op godsdienstige leerstellinge betrekking mag hê nie. Die staat sal egter die grense van regmatigheid oorskry as dit een godsdiens bo die ander op geloofsgronde bevoordeel.

Godsdienstige Gebruike in die Onderwys

Die vrywillige bywoning van godsdiensklasse en seremonies in staatskole en onderwysinrig-tings wat staatshulp ontvang, was in geskil in 'n saak wat op die Duitse Skool in Pretoria van toepassing was.22 Godsdiensonderrig in die skool is oorspronklik op 'n kerklike basis -hoofsaaklik met 'n Lutherse en Rooms-Katolieke inslag - aangebied, maar sedert 1987 is godsdiensonderrig aangebied op 'n historiese grondslag en nie meer vanuit die perspektief van enige besondere kerklike denominasie nie. Sedertdien, en om daardie rede, het bywoning van godsdiensklasse verpligtend geword. Daar het geen verpligting op ouers of skoliere gerus om onderrig by die Duitse Skool te ontvang nie. 'n Agnostiese skolier in die Duitse Skool het in 'n regsgeding met die skoolraad betrokke geraak, omdat bywoning van die godsdiensklasse verpligtend was. Die hof het bevind dat die grondwetlike reg om nie aan godsdienstige verrigtinge deel te neem nie, 'n reg is waarvan daar vrywillig afstand gedoen kan word en dat die eiseres juis van dié reg afstand gedoen het toe sy haarself aan die skool se reëls en regulasies onderwerp het toe sy as 'n skolier by die Duitse Skool ingeskryf het.23

Die verbintenis van openbare skole aan 'n bepaalde godsdiens was ook ter sprake in 'n saak waarin die Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie kapsie gemaak het teen die beleid van 'n aantal openbare skole wat hulle verbind het om een bepaalde godsdiens - in dié gevalle die Christelike godsdiens - te bevorder tot uitsluiting van ander godsdienste. Leerlinge van dié skole was verplig om hulle verbintenis aan 'n bepaalde godsdiens openbaar te maak, maar bywoning van godsdienstige verrigtinge deur leerlinge is volgens leerlinge se eie keuse veroorloof. Die Gautengse Plaaslike Afdeling van die Hooggeregshof het beslis dat die beleid van 'n openbare skool om slegs een godsdiens, tot die uitsluiting van ander godsdienste, te bevorder en om sy personeel toe te laat om die een godsdiens te bevorder in stryd is met Artikel 7 van die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996, wat godsdienstige seremonies in skole veroorloof op voorwaarde dat dit op 'n billike grondslag plaasvind en dat bywoning van sodanige seremonies deur leerlinge en personeel van die skool vryelik en volgens eie keuse moet geskied.24

Die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie 4 van 2000 was die grondslag van 'n beslissing van die Gelykheidshof wat betrekking gehad het op die geldigheid van 'n bepaling in die gedragskode wat deur die beheerliggaam van die Durbanse Hoër Meisieskool (Durban Girls' High School) ingevolge Artikel 8 van die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 uitgereik is. Die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie is deur die grondwetlike komitee voorsien om onbillike diskriminasie in die private sfeer te voorkom en te verbied, maar bevat ook bepalings wat op diskriminasie deur die staat van toepassing is. Die beheerliggaam se gedragskode het die dra van juweliersware, behalwe oorkrabbertjies, deur die skoliere verbied. Die gedragskode is deur ouers onderteken as 'n voorwaarde vir die toelating van skoliere tot die Hoër Meisie-skool. Sunali Pillay, 'n leerling wat van Hindoe-afkoms was, het toe sy 'n bepaalde ouderdom bereik het, 'n goue neusring begin dra wat kragtens 'n vaste gebruik van die Hindoe-bevolking aandui dat sy nou troubaar is. Die skoolraad het geweier om aan Sunali vrystelling van die gedragskode te verleen. Sunali se Ma het daarop 'n klag aanhangig gemaak by die Gelykheids-hof op grond daarvan dat die skool se besluit neerkom op diskriminasie. Die Gelykheidshof het uitspraak in die guns van die skool gelewer25 en die saak het uiteindelik voor die Grondwetlike Hof ter sprake gekom. Die Grondwetlike Hof het beslis dat weiering van die skoolowerheid om aan Sunali vrystelling te verleen van die juweleverbod in die gedragskode neerkom op onbillike diskriminasie op godsdiensgronde en daarom ongeldig is.26

Lyfstraf

Artikel 19 van die Verdrag met betrekking tot die Regte van die Kind plaas op state die verpligting om "alle toepaslike wetgewende, administratiewe, maatskaplike en opvoedkundige maatreëls toe te pas om die kind te beskerm teen alle verskyningsvorme van fisiese en geestelike geweld ... terwyl die kind in die sorg verkeer van 'n ouer, voog of enige ander persoon wat toesig het oor die kind."27 Hierdie bepaling plaas die vraag in geskil of lyfstraf van kinders verbied moet word. Lyfstraf van kinders is tradisioneel op drie vlakke toegepas: (a) as 'n geregtelike strafmaatreël wat deur strafhowe gelas is; (b) as 'n dissiplinêre tugmaatreël in skole; en (c) as tugtiging binne die gesins- en familieverband in ouer/voog-kind-verhoudings.

Lyfstraf vanjeugdiges as 'n geregtelike strafmaatreël is reeds in 1995 deur die Grondwet-like Hof onkonstitusioneel bevind.28 Artikel 10 van die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 het daarna ook lyfstraf in skole onwettig verklaar. Die grondwetlikheid van hierdie bepaling het daarop ter sprake gekom in 'n regsgeding wat deur 'n godsdienstige instelling aanhangig gemaak is. Daardie instelling is aanvanklik in die Verenigde State op die been gebring om "evangeliese Christelike onderwys te bevorder" en het 196 onafhanklike Christelike skole in Suid-Afrika opgerig, wat destyds hier te lande onderwys aan 14,500 leerlinge verskaf het.29Ten einde die hof daarvan te oortuig dat fisiese tugtiging geloofsgewys gebiedend is, het die eisers verskeie Bybeltekste aangehaal:

Spreuke 22:6: "Gee leiding aan 'n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie."

Speuke 22:15: "Onverstandigheid is eie aan 'n jongmens, maar 'n pak slae haal dit uit hom uit."

Spreuke 19:18: "Behandel jou seun streng, dan is daar hoop, maar moet jou nie te buite gaan en hom doodmaak nie."

Spreuke 23: 13 en 14: "Moenie huiwer om 'n kind te straf nie, want as jy hom slaan, red jy sy lewe. Jy moet hom juis slaan om hom van die dood te red."

Die eisers het die goddelik verordende verantwoordelikheid van ouers vir die opleiding en opvoeding van hulle kinders op Deuterenomium: 4-7 gebaseer:

"Luister Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag. Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en hulle moet daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan."

Die grondwetlikheid van die bepaling in die Suid-Afrikaanse Skolewet is gehandhaaf deur die Hooggeregshof van die Oos-Kaap,30 en deur die Grondwetlike Hof.31 In beide gevalle het die hof die ongeveinsdheid van die eisers aanvaar en aangeneem dat lyfstraf deel vorm van die geloof waarop hulle aanspraak gemaak het. Maar die Bybeltekste wat hulle aangehaal het, is beperk tot tugtiging van 'n kind deur sy of haar ouers en bied geen gesag vir 'n reg van die ouer om daardie verantwoordelikheid aan 'n derde persoon in loco parentis, insluitende onderwyspersoneel, oor te dra nie. Lyfstraf van kinders is gebrandmerk as 'n wrede en onmenslike strafmaatreël, en ingevolge die Grondwet mag die reg op selfbeskikking van godsdiensgemeenskappe nie uitgeoefen word "op 'n wyse wat met enige bepalings van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie".32

Heel onlangs het die reg van ouers om hulle kinders binne die gesinsverband liggaamlik te tugtig ook in die howe ter sprake gekom. 'n Man is in die streekhof skuldig bevind aan aanranding van sy vrou en sy 13-jarige seun en het op appèl aangevoer dat hy, wat die aanranding van sy seun betref, bloot die ouerlike reg om sy kind te tugtig, uitgevoer het nadat hy die kind betrap het toe hy na pornografie op 'n skootrekenaar gekyk het. Sy verweer is deur die Gautengse Plaaslike Afdeling van die Hooggeregshof in Johannesburg van die hand gewys, en in sy uitspraak het die hof bevind dat lyfstraf binne die gesinsverband ongrondwetlik is.33Die beskuldigde het nie teen die uitspraak appèl aangeteken nie, maar een van die amici curiae in die saak voor die hooggeregshof, Freedom of Religion South Africa (FoRSA), het toe die grondwetlike hof se toestemming gevra om appèl teen die uitspraak aanhangig te maak. FoRSA het daarop aanspraak gemaak dat dit in die openbare belang optree en na die belange van lede van die publiek wil omsien wat "glo dat die heilige geskrifte en ander heilige literatuur gepaste tugtiging van kinders toelaat of selfs gebied." Omdat die hele aangeleentheid van besondere openbare belang is, het die grondwetlike hof toegestem om die aangeleentheid te oorweeg,34en het toe die bevinding van die hooggeregshof bekragtig.35 Die reg op beskerming teen alle vorme van geweld, insluitende redelike en matige tugtiging, kom neer op aanranding en kan dus onder geen omstandighede regtens toegelaat word nie.36 Om 'n kind fisies te lyf te gaan, is inderdaad nie die enigste wyse waarop 'n ouer sy kind kan dissiplineer nie.

 

SOEWEREINITEIT IN EIE KRING VAN GODSDIENSTIGE ORGANISASIES

Dit is in samehang met die reg op selfbeskikking gepas om ook na die soewereine magte van godsdiens-georiënteerde organisasies te verwys. Terwyl die reg op selfbeskikking aan natuurlike persone binne 'n groepsverband toegesê word, het soewereiniteit in eie kring betrekking op die kompetensies van regspersone, waaronder kerke en kerklike organisasies, met betrekking tot hulle interne besluite en handelinge. Soewereiniteit in eie kring is 'n basiese beginsel wat in die neo-Calvinistiese filosofie van denkers soos Groen van Prinsterer (1801-1976), Abraham Kuyper (1837-1920) en Herman Dooyeweerd (1894-1977) veranker is,37 maar wat ook in die Suid-Afrikaanse staatsreg inslag gevind het. Dit kom daarop neer dat die staat nie sal inmeng met besluite en handeling van onder meer godsdienstige organisasies wat op hulle interne aangeleenthede betrekking het nie.

Soewereiniteit in eie kring het byvoorbeeld toepassing gevind in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling van die Hooggeregshof in Taylor v. Kurtstag.38Die eiser in die saak het 'n kennisgewing van sensuur (cherem) van die Ortodokse Joodse gemeente, uitgereik deur die Joodse kerklike tribunaal (Beth Din), ontvang omdat hy nie 'n onderhoudsbevel van die Beth Din nagekom het nie. Hy het aansoek gedoen dat die cherem ter syde gestel word omdat dit inbreuk maak op sy grondwetlike reg op godsdiensvryheid,39 en, as 'n faset van die reg op selfbeskikking, op sy bevoegdheid om aan sy geloof uitvoering te gee en godsdiensverbintenisse met ander lede van sy geloofsgemeenskap te onderhou.40 Die hof het bevind dat dit wel so is, maar dat die vraag ontstaan of die kerklike besluit regsgeldig is op grond van die beperkings wat ingevolge Artikel 36 van die Grondwet van krag is. Die hof het bevind dat 'n kerklike tribunaal aan die dissipline van die Grondwet onderworpe is, maar aangesien dit 'n godsdiensliggaam is, moet daar aan die genootskapsregte van lidmate van die kerk uitvoering gegee word.41 Die hof het beweer dat huiwering om by geloofsake in te meng, nie verwerp kan word nie en het bevind dat by gebrek aan getuienis wat op vooroordeel of kwade trou aan die kant van die Beth Din dui, die hof die grondwetlikheid van die cherem moet aanvaar.

Soewereine magte van 'n kerkgenootskap het ook in die saak van Ecclesia de Lange ter sprake gekom. In Desember 2009 het ds. Ecclesia de Lange, 'n predikant van die Metodistekerk van Suidelike Afrika in Rondebosch in Kaapstad 'n selfdegeslaghuwelik met Amanda van Aswegen gesluit. Die Kerk, wat huwelike tot 'n verhouding tussen een man en een vrou beperk, het gedurende Januarie 2010 haar dienste opgeskort. Ecclesia de Lange het deur middel van arbitrasieprosedures haar predikantskap probeer behou. 'n Dissiplinêre komitee van die kerk het egter aanbeveel dat haar opskorting van krag moet bly totdat die kerk 'n bindende besluit sal neem oor predikante in selfdegeslaghuwelike. Ecclesia de Lange het op die Internet verklaar: "Ek het die punt bereik waar ek nie langer stil kan bly nie. Ek het tot die slotsom gekom dat dit beter is om verwerp te word vir wat ek is as om aanvaar te word vir wat ek nie is nie." Sy is daarop van haar dienste onthef. Sy het toe die saak by die Grondwetlike Hof aanhangig gemaak op grond daarvan dat die kerk se optrede neerkom op diskriminasie op grond van seksuele georiënteerdheid,42 maar was weer eens onsuksesvol,43 want die kerklike besluit moet op grond van soewereiniteit in eie kring gehandhaaf word. Sy het daarop in die openbaar bekend gemaak dat sy haar stryd teen die kerk gewonne gee.

Hiermee sou 'n mens die saak van Johan Daniel Strydom kon vergelyk, wat musiekonderrig (orrellesse) gegee het in die Kunsakademie van die Moreletaparkse gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Pretoria-Oos.44 Hy is uit die pos ontslaan omdat hy in 'n selfdegeslagverhouding betrokke geraak het. Mnr. Strydom het sy ontslag in die Gelykheidshof aangeveg en is skadevergoeding van R75 000 toegestaan vir pyn en lyding en 'n verdere R11 000 vir verlies aan inkomste. Die Gelykheidshof het sy beslissing gebaseer op die feit (a) dat mnr. Strydom as 'n onafhanklike kontrakteur diens gedoen het; (b) geensins betrokke was by die geestelike roeping van die Kerk nie; en (c) selfs nie eers lid was van die Nederduitse Gereformeerde Kerk nie (hy was inderdaad lid van die Nederduitsch Hervormde Kerk). Die Hof het dit duidelik gestel dat sy beslissing anders sou gewees het, indien mnr. Strydom se kontraktuele verpligtinge funksies ingesluit het wat met die geestelike roeping van die Kerk te make gehad het. Die Hof het in dié verband verwys na die standpunt van Paul Farlam, 'n bekende analitikus van die Suid-Afrikaanse Grondwet, wat gesê het dat daar omstandighede is waarin die staat nie met die interne sake van godsdiensorganisasies moet inmeng nie.

Daar moet miskien op gewys word dat 'n Suid-Afrikaanse hof wel tugmaatreëls van 'n kerklike instelling ter syde sal stel indien die kerklike instelling nie die interne prosedurele voorskrifte van die kerk self nagekom het nie, of indien die kerklike prosedure afgewyk het van basiese beginsels van geregtigheid. In dié verband is die howe veral daarop gesteld dat die audi alteram partem-reël deur die tugkomitee van 'n kerk nagekom moet word.

 

SAMEVATTING

Suid-Afrika het reeds 'n lang pad gekom sedert die wetgewer 'n grondwet gebaseer het op die volk se geloof in "die soewereiniteit en leiding van die Almagtige God", soos in Artikel 2 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika 110 van 1983 geboekstaaf is. In die Grondwet van 1996 word die naam van God slegs vermeld teen die einde van die Aanhef waar 'n beroep gedoen word dat "God ons mense beskerm" en die openingswoorde van die Volkslied, "God seën Afrika", aangehaal word en in ses van die amptelike landstale herhaal word. Suid-Afrika het ook 'n lang geskiedenis waarin die regering geroepe gevoel het om met wetgewing bepaalde beginsels van die Protestantse geloof, soos godslastering, Sabbatsheiliging, en sensuur van onbetaamlike publikasies, op die hele volk af te dwing.

'n Mens sou die huidige ingesteldheid van die staat ten aansien van godsdienstige aangeleenthede as "sekulêre neutraliteit" kon beskryf, maar Frangois Venter het daarop gewys dat "neutraliteit" betekenismomente insluit wat op "distansiëring, belangeloosheid of onbe-trokkenheid" neerkom en daarom nie staatsbetrekkinge met betrekking tot godsdiens noukeurig beskryf nie. Hy verkies daarom om die betrokke grondwetlike stand van sake as 'n geval van "objektiwiteit" aan te dui.45 Objektiwiteit vereis in dié verband "erkenning van jou eie natuurlike subjektiwiteit, wat opgevolg word deur 'n bewustelike onpartydige betrokkenheid en die oorweging van 'n aangeleentheid in terme van duidelik vasgestelde, eksterne niesubjektiewe standaarde."46 In Suid-Afrika distansieer die staat hom nie van godsdiens en godsdiens-gerigte organisasies nie, maar aan elke godsdiens moet daar 'n gelyke plek in die son toegesê word.

 

BIBLIOGRAFIE

Baker, RS & Dodd, WE. (eds). 1927. Public Papers of Woodrow Wilson: War and Peace. New York: Harper & Row.         [ Links ]

Cassese, Antonio. 1995. Self-Determination of Peoples: A Legal Reappraisal. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Friedlander, Robert. 1975. Self-Determination: A Legal Political Inquiry. Detroit College ofLaw Review 1.         [ Links ]

Lenin, Vladimir. 1916. Theses on the Socialist Revolution and the Right ofNations to Self-Determination. Lenin Collected Works, vol. 22, pp. 143-156.         [ Links ]

Miller, DH. 1928. The Drafting of the Covenant. New York: GP Putman's Sons.         [ Links ]

Stalin, Joseph. 1913. Marxism and the National Question. Karl Kavanach: Marxism Internet Archive.         [ Links ]

Van der Vyver, Johan David. 1972. Die Juridiese Funksie van Staat en Kerk: 'n Kritiese Analise van die Beginsel van Soewereiniteit in Eie Kring. Durban: Butterworths.         [ Links ]

Van der Vyver, Johan D. 2006. Abraham Kuyper en die Reg op Selfbeskikking van Bevolkingsgroepe. Koers 71(1):231-250.         [ Links ]

Van der Vyver, Johan D. 2011. The Right to Self-Determination of Religious Communities, in Witte John Jr & Green M Christian (eds). Religion and Human Right: An Introduction. Oxford: Oxford University Press, pp. 236-253.         [ Links ]

Van Dyke, Vernon. 1970. Human Rights, the United States and World Community. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Venter, François. 2015. Constitutionalism and Religion. Cheltenham: Edward Elgar Publishing.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2020-06-18
Goedgekeur: 2020-08-07
Gepubliseer: Maart 2021

 

 

 

Johan D Van Der Vyver beklee tans die leerstoel, IT Cohen Professor of International Law and Human Rights, in die Regskool van Emory Universiteit in Atlanta, Georgia in die Verenigde State van Amerika. Hy is ook buitengewone professor in die Departement Privaatreg, Universiteit van Pretoria, terwyl hy vroeër ook professor in die regte aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys en aan die Universiteit van die Witwatersrand was. Hy is 'n kundige op die gebied van menseregte en was betrokke by die bevordering van menseregte in Suid-Afrika. Hy is die outeur van verskeie boeke en meer as tweehonderd regsartikels, aan-tekeninge, hoofstukke en boekresensies in die veld van menseregte en ander afdelings van die reg.
Johan D Van Der Vyver is a former professor of law at the University of the Witwatersrand in Johannesburg, South Africa. He is an expert on human rights law and has been involved in the promotion of human rights in South Africa. In 1995, he was appointed the IT Cohen Professor of International Law and Human Rights at Emory. He also served as a fellow in the human rights program of The Carter Center from 1995 to 1998. He is the author of many books and more than two hundred law review articles, popular notes, chapters in books, and book reviews on human rights and a variety of other subject matters.
1 Christian Education South Africa v. Minister of Education, 2000 (4) SA 757 (KH); 2000 (10) BCLR 1051 (KH).
2 Idem, para 36.
3 Minister of Home Affairs v. Fourie; Lesbian and Gay Equality Project v. Minister of Home Affairs, 2006 (1) SA 524 (GH); 2006 (3) BCLR 355 (GH).
4 Idem, para 89.
5 Vgl. ook Artikel 235 van die Grondwet.
6 Johan D van der Vyver, "The Rights to Self-Determination of Religious Communities", in John Witte Jr. & M Christian Green (eds), Religion and Human Rights: An Introduction (2011); en vgl. ook Johan D van der Vyver, "The Rights to Self-Determination of Religious Communities", in Karel Novak (ed.), Conscience and Liberty: Right of Communities to Faith and Rights of Individual Believers, pp. 76-94 (2011).
7 Antonio Cassese, Self-Determination of Peoples: A Legal Appraisal, p. 15.
8 RS Baker & WE Dodd, Public Papers of Woodrow Wilson: War and Peace, pp. 155-159.
9 Vernon van Dyke, Human Rights, the United States and World Community, p. 86 (1970).
10 DH Miller, The Drafting of the Covenant, vol. II, pp. 23-60 (1928).
11 Western Sahara (Adviserende Opinie van 22 May 1975), 1975 IGH. 1, p. 31.
12 Legal Consequences for States of the Continued Presence of South Africa in Namibia (South West Africa) notwithstanding Security Council Resolution 276 (1970) (Adviserende Opinie van 21 June 1971), 1971 IGH. 16, p. 31.
13 Declaration on the Inadmissibility of Intervention in the Domestic Affairs of States and the Protection of Their Independence and Sovereignty, Algemene Vergadering Besluit. 2131 van 21 Desember 1965, VVO Dokument A/6014, seksie 6 (1965).
14 Handves van die Verenigde Volke, 1976 Y.B.U.N. 1043, arts. 15 en 73.
15 Internasionale Verdrag met betrekking tot Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte, art. 1, Algemene Vergadering Besluit 2200A (XXI) van 16 Desember 1966.
16 Internasionale Verdrag met betrekking tot Burgerlike en Politieke Regte, art. 1, Algemene Vergadering Besluit 2200B van 16 Desember 1966.
17 Verdrag met betrekking tot die Regte van die Kind, art. 30, Algemene Vergadering Besluit 44/25 van 20 November 1989.
18 Verklaring met betrekking tot die Vergunning van Onafhanklikheid aan Koloniale Lande en Volke, art. 2, Algemene Vergadering Besluit 1514 van 14 Desember 1960.
19 Verklaring van Beginsels van die Volkereg met betrekking tot Goeie Verhoudinge en Samewerking tussen State ooreenkomstig die Handves van die Verenigde Volke, Algemene Vergadering Besluit 2625 (XXV) van 24 Oktober 1970.
20 Verklaring met betrekking tot die Regte en Persone wat Lede is van Nasionale of Etniese, Godsdienstige en Taalkundige Minderhede, art. 2.1, Algemene Vergadering Besluit 47/136 van 18 Desember 1992.
21 Ryland v. Edros, 1997 (2) SA 670; 1997 (1) BCLR 77 (GH); en vgl. ook Christian Education SA v. Minister of Education of the Government of the RSA, 1999 (4) SA 1092, bl. 1100; 1999 (9) BCLR 951, p. 957 (SOK); Taylor v. Kurtstag NO & Others, 2005 (1) SA 362 (W); 2005 (7) BCLR 705 (W).
22 Wittmann v. Deutscher Schulverein, Pretoria, 1998 (4) SA 423 (T); 1999 (1) BCLR 92 (T).
23 Idem, SA, p. 455; BCLR, p. 121.
24 Organisasie vir Godsdiens-Onderrig en Demokrasie v. Laerskool Randhart & Others, 2017 (6) SA 129 (GJ).
25 Pillay v. MEC for Education: KwaZulu-Natal & Others, 2006 (6) 363 (Gelykheidshof).
26 MEC for Education: Kwa-Zulu-Natal & Others v. Pillay & Others, 2008 (1) SA 474 (GH).
27 Verdrag met betrekking tot die Regte van die Kind, art. 19, Algemene Vergadering Besluit 44/25 van 20 November 1989.
28 S v. Williams & Others, 1995 (3) SA 632 (GH)); 1995 (7) BCLR 861 (GH).
29 Christian Education South Africa v. Minister of Education, 2000 (4) SA 757 (GH); 2000 (10) BCLR 1051 (GH).
30 Christian Education South Africa v. Minister of Education, 1999 (4) SA 1092 (SOK).
31 Christian Education South Africa v. Minister of Education, 2000 (4) SA 757 (GH).
32 Grondwet van die Republiek van Suid Afrika, 1996, art. 31(2).
33 State v. YG, 2018 (1) SACR 64 (GJ).
34 Freedom of Religion South Africa v. Minister of Justice and Constitutional Development, 2020 (1) SA 1 (GH); 2019 (11) BCLR 1321 (GH), para 21-28.
35 Idem, para 73.
36 Idem, para 72.
37 JD van der Vyver, Die Juridiese Funksie van Staat en Kerk: 'n Kritiese Analise van die Beginsel van Soewereiniteit in Eie Kring, Hfst. 3: Groen van Prinsterer; Hfst. 4: Abraham Kuyper; Hfst. 5: Herman Dooyeweerd; en vgl. ook Johan D van der Vyver, "Abraham Kuyper en die Reg op Selfbeskikking van Bevolkingsgroepe", Koers 71(1): 231-250 (2006).
38 Taylor v. Kurtstag, 2005 (1) SA 362 (W); 2005 (7) BCLR 705 (W).
39 Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, art. 15(1).
40 Idem, art. 31(1)(b).
41 Taylor v. Kurtstag, 2005 (1) SA 362 (W); 2005 (7) BCLR 705 (W), para 63.
42 Vgl. die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, art. 9(3).
43 De Lange v. Presiding Bishop of the Methodist Church of Southern Africa for the time being & Another, 2016 (2) SA 1 (GH); 2016 (1) BCLR 1 (GH).
44 Strydom v. Nederduitse Gereformeerde Gemeente, Moreleta Park, (2009) (4) SA 510 (Gelykheidshof, TPA).
45 Frangois Venter, Constitutionalism and Religion, p. 237. Cheltenham: Edward Algar Publishing (2015).
46 Idem., p. 239.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons