SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 número4-2Manifestations of sensory perception in some poems included in two digital Byderhand installations at Worcester, South Africa índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.60 no.4-2 Pretoria dic. 2020

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n4-2a16 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

"Wie is dan blind?" Beliggaamde ruimte in lokatiewe narratiewe deur persone met sigge-stremdheid

 

"So, who is blind?" Embodied space in locative narratives by people with visual impairment

 

 

Franci Greyling

Skryfkuns, Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: franci.greyling@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die artikel behels 'n ondersoek na die beliggaamde ruimte in lokatiewe narratiewe deur persone met siggestremdheid. Die Pionierstorieversameling wat op die skoolterrein van 'n skool vir leerders met siggestremdheid geïnstalleer is, bestaan uit verhale, vertellings en gedigte deur leerders en oudleerders van die betrokke skool. In hierdie artikel word ondersoek hoe die Pio-nierstories as lokatiewe narratiewe moontlik insig sou kon bied in die plekervaring van die skrywers, asook sou kon bydra tot lesers se verdiepte ervaring van die plek en tot die sig-baarmaking (bewuswording) van stories, liggame en gemeenskappe. Om die Pionierstories binne dié konteks te verstaan, word 'n raamwerk saamgestel waarin die konsepte van beliggaamde ruimte en ingeplaastheid bespreek word, soos dit verband hou met die multisensoriese aard van waarneming, die ingeplaaste skryfaksie, met narratiewe van persoonlike ervaring en die ekosomatiese benadering tot gestremdheid; asook met die beliggaamde ervaring van die ingeplaaste leser-deelnemer. Vier verhale uit die versameling word aan die hand van sodanige raamwerk bespreek. Die geïntegreerde uitbeelding van die konkrete én abstrakte aspekte van plek in die Pionierstories, demonstreer die verweefde dimensies wat die ervaring van plek bepaal, die sentrale rol en agentskapfunksies van die ingeplaaste skrywer in plekskepping, asook die konkreetheid van die ervaring deur die leser-deelnemer in die betrokke lokatiewe installasie soos dit tot die verhoogde sigbaarheid van die stories, liggame en die gemeenskap bydra.

Trefwoorde: lokatiewe narratiewe, lokatiewe literatuur, mobiele stories, sigge-stremdheid, beliggaamde ruimte, beliggaming, ingeplaastheid, ingeplaaste skryfaksie, lewenstories, lewensverhale, persoonlike narratiewe, narratiewe identiteit, multisensoriese waarneming, gemeenskap, plekskepping, ekosomatiese benadering


ABSTRACT

Mobile media are increasingly providing new ways to tell untold stories and to connect them to places where readers, through their physical presence and participation, can experience the stories and the place in concrete terms, thus developing appreciation for the hidden and forgotten historical, cultural and personal narratives of a place, of periods, and of people (Farman 2015; Rettberg 2019; Page 2014; Barber 2016). This article explores the embodied space in a locative literature project undertaken in collaboration with people with visual impairment. The Pioneer Story Collection installed on the school grounds of a school for visually impaired learners consists of stories, narratives and poems by learners and former learners of the school in question. The accessibilising of the contributions entailed, among other things, that the selected contributions were read and recorded, and that a digital interface which caters for sighted, visually impaired and blind users was developed. The Pioneer Stories were distributed by means of QR codes, which, combined with information in braille and large print, were posted at the identified locations.
This article explores how the Pioneer Stories as locative narratives could potentially provide insight into these writers' specific experience of place, and how the stories could contribute towards readers' deepened experience of the place, and to the visibility of stories, bodies, and communities. To understand the Pioneer Stories within this context, a framework is composed in which the concepts of embodied space and emplacement are discussed with reference to the multisensory nature of observation (Hersch & Johnson 2008); emplaced writing (Smith 2012); narratives of personal experience (Page 2014; Plummer 2001; Labov 1979); the ecosomatic approach toward disability (Cella 2019); and the experience of the embodied and emplaced reader-participant (Farman 2015; Greyling 2018). Four stories from the collection are analysed and discussed on the basis of this framework.
The Pioneer Story Project draws attention to the importance of awareness of a spectrum of sensory experiences, the intertwined and relational process of placemaking, and the central role and agency of the embedded writer in placemaking. With regard to the notion of giving a voice to marginalised communities and the making visible of bodies, stories, places and communities, it is evident from the stories that the writers and narrators in the Pioneer Story Collection took agency of their stories and narratives, thereby utilising various ways in which they themselves, as well as the place, the people, the community and identities could be made visible in and through their stories and poems. This is achieved in the texts by, among other things, the choice and application of a narrative strategy, the narrative structure, the content, the reproduction of experiences and events and the use of style and language. What is striking, especially with regard to the narratives, is the construction of narrative identity, the key role which the community plays/played in the narrators' lives, and the collective and relational process of place attachment. In addition, one is made aware of the expressed or implied need for the narrators to be fully accepted as belonging to the larger community of fellow humans.
By means of the experience of the locative narrative at a particular place, the emplaced reader-participant can become aware of the narrators' embodied and emplaced experiences, and can thus imagine the places, people and community for themselves, on the basis of perspectives offered by the narrator. The experience can contribute to the reader-participant's awareness of the embodiment and perception of (other) persons with visual impairments, and can also lead to a greater awareness and intensification of their own sensory experience and bodily emplacement. Generally speaking, the project can promote empathy and understanding in various ways. Locative literary projects can indeed contribute towards widening and enriching the world of writers as well as reader-participants, by means of contemporary mobile technologies. The ideal would be to develop a digital platform and application that would enable communities to undertake and publish their own locative literature projects, in the places that matter to them.

Keywords: locative narratives, locative literature, mobile stories, visual impairment, embodied space, embodiment, emplacement, emplaced writing, life narratives, personal narratives, narrative identity, multi-sensory observation, narratives, community, placemaking, ecosomatic approach


 

 

&&&&&&&&&&&&&&&&

Ons ry Worcester in met my pa se donkerblou 1950 Chrysler Imperial. Ek is ses en word vir die eerste keer skool toe geneem.

My pa hou stil en vra 'n voetganger vir aanwysings na die Skool vir Blindes. Toe ons verder ry, moes ek my verwarring opklaar.

"Pa, hoekom gaan ons dan na 'n skool vir blindes? Wie is dan blind?"

Sien, ek het gedink, as mens klein is, sien jy min en soos jy groter word, sien mens meer tot jy uiteindelik volwasse is, een van die voordele van volwassenheid. Jy kry nie meer pak nie, jy kan wyn drink en jy kan sien!

(Christo de Klerk, "Geheuekratte" - Pionierstories)

 

INLEIDING

In 'n onlangse artikel beklemtoon Jason Farman, 'n toonaangewende navorser oor beliggaamde ruimte en mobiele media, die noodsaak daarvan om stories, liggame en gemeenskappe sigbaarder te maak. Hy (Farman 2015:101-102) argumenteer dat storievertelling belangrik is vir die skep van ruimte omdat die betekenis van plekke kenmerkend deur die stories wat daarmee verbind is, gekommunikeer word. Vir die gemeenskap in 'n sekere plek is die modusse van ruimtelike vertelling van kardinale belang vir hoe die gemeenskap in die wêreld voorgestel word. Die sigbaarmaking van mense se stories is 'n wesenlike komponent vir meelewing; dit kan daartoe bydra dat lede van gemarginaliseerde gemeenskappe, wie se stemme dikwels stilgemaak is, gehoor word; ook daartoe dat gemeenskappe hulle identiteit in plekke wat nóú met hulle erfenis verweef is, kan verwesenlik. Verhale en sosiale geregtigheid gaan hand aan hand en mobiele media bied op toenemende wyse maniere om onvertelde verhale te vertel (Farman 2015:101-102).

Soortgelyke beginsels as wat Farman voorstaan, was onderliggend aan die konseptuali-sering van die Byderhand-Pionierprojek - 'n lokatiewe literatuurprojek wat vir, en in samewerking met, persone met siggestremdheid onderneem is.1 Lokatiewe literatuur2 is 'n vorm van plekgebonde literatuur waarby tekste deur middel van digitale media elektronies met plekke (hetsy spesifiek of meer algemeen van aard) verbind word, sodat dit aldaar eerstehands en konkreet deur die leser-deelnemers ervaar kan word. In dié ontwikkelende elektroniese literatuurgenre word verken hoe lokatiewe tegnologieë (soos die globale posisioneringstelsel, radiofrekwensie -identifikasie, en QR-kodes) ons toelaat om narratiewe en poëtiese ervarings as 't ware bo-oor die wêreld rondom ons te plaas (Rettberg 2019:184). Een van die vele toepassingsmoontlikhede van lokatiewe literatuur is projekte waarin alledaagse stories van mense, hul ervarings en stemme, in die openbare domein geplaas word (Page 2014:315; Lovlie 2009). Die potensiële uitwerking wat navorsers ten opsigte van lokatiewe literatuur in hierdie konteks uitlig, sluit aan by die gedagte dat digitale media tot die verhoogde "sigbaarheid"3 of bewusmaking van stories, mense en gemeenskappe kan bydra, en sodoende ook sosiale geregtigheid kan bevorder. Lokatiewe literatuurprojekte kan groep- en streeks-identiteite rondom landskappe uitdruk; bydra tot kulturele en demokratiese bemagtiging met betrekking tot die eie plaaslike omgewing; stem gee aan dikwels gemarginaliseerde tekstuele gemeenskappe; en 'n vorm van agentskap vir skrywersgemeenskappe wees (Lovlie 2009; Farman 2015:102; Van Juyn 2017:236). Die plasing van stories bo -oor die fisiese ruimte, en die fisiese teenwoordigheid en deelname van die leser-deelnemer, kan die gelaagdheid van menslike ervaring openbaar, nuwe ervarings bied, en die abstrakte ruimte na 'n konkrete plek verander (Ruston 2014:318). Verder kan die samesnoering van veelvuldige stemme, stories en plekvoorstellings tot digte en meerdimensionele uitbeeldings van plek lei, rigiede begrippe aangaande plek transformeer, en selfs tot die sin van plek bydra (Van Juyn 2017:236;241; De Souza & Silva 2014:45). Leser-deelnemers kan, deur hul fisiese teenwoordigheid en deelname in die literêre kommunikasiesituasie, waardering ontwikkel vir die verborge en vergete historiese, kulturele en persoonlike narratiewe met betrekking tot 'n plek, tydperke van die bestaan daarvan en die mense daarin (Barber 2016:6).

Die Pionierstories, as teksprodukte van die Byderhand-Pionierprojek, het ontstaan uit die behoefte om leerders en ander persone met siggestremdheid elk 'n stem in die digitale ruimte te bied en op dié wyse te bemagtig, om sodoende ook 'n groter bewustheid aangaande die leefwereld en behoeftes van die gemeenskap van siggestremdes te skep (BHA-DP-20170921). Die projekspan het van die veronderstelling uitgegaan dat, deur skrywers met siggestremdheid in staat te stel om self plekspesifieke tekste in 'n pleksentriese sisteem te skryf en aldaar met ander te deel, 'n bydrae gelewer kan word tot sodanige skrywers se ervaring van plek; hulle terselfdertyd aan nuwe moontlikhede van kreatiewe uitdrukking bekend te stel; en sodoende by te dra tot die skrywers se kulturele en demokratiese bemagtiging met betrekking tot die plaaslike omgewing. Verder was die projekspan van mening dat hierdie tekste ook vir ander mense (hetsy siende of siggestremd) insig sou kon bied rakende die plekervaring van die skrywers en sodoende sou kon bydra tot 'n verrykte en verdiepte ervaring van die verhouding tussen plek en literatuur (BHA-DP-20170921; Greyling, Verhoef & Tempelhoff 2020).

In die projek is leerders, oudleerders en personeel van die skool uitgenooi om verhale en vertellings by te dra wat, as deel van die lokatiewe literatuurinstallasie, by die skool asook by 'n koffiewinkel by die Innovation for the Blind in die dorp aangebring sou kon word. Die teikenlesers van die verhale is die leerders van die skool vir siggestremdes, besoekers aan die skool en die algemene publiek (Greyling, Verhoef & Tempelhoff 2020). 'n Verskeidenheid bydraes, in die vorm van verhale, vertellings en gedigte, is ontvang. Die meerderheid van die bydraes is vanuit 'n terugskouende eerstepersoonsperspektief aangebied. Soos kenmerkend die geval is met gemeenskapsnarratiewe, sou dié bydraes, as 'n uitingsvorm van ruimtelike narratiewe, 'n blik kon bied op die ervaring van individue sowel as dié van die gemeenskap wie se stories en identiteit op een of ander wyse met die plek verweef is. Die onderskeidende kenmerk van lokatiewe literatuur is dat die leser-deelnemer fisies in 'n spesifieke plek geplaas word, en dat die konkrete en plekspesifieke ervaring van die literatuur 'n bepalende invloed op die leser se ervaring van die werk het (Greyling 2018:209).

Die onderhawige artikel behels 'n ondersoek na die Pionierstories as lokatiewe narratiewe en hoe die stories moontlik insig kan bied in die plekervaring van die skrywers, asook hoe dit tot lesers se verdiepte ervaring van die plek, en die sigbaarmaking van stories, liggame en gemeenskappe, kan bydra. Om die funksies van die Pionierstories binne sodanige konteks te kan verstaan, word die konsepte van beliggaamde ruimte en ingeplaastheid as vertrekpunte gebruik. Vanweë die verkennende aard van die ondersoek en die beperkte omvang van die artikel, word die konsepte nie in diepte behandel nie, maar slegs oorsigtelik bekendgestel as deel van die raamwerk vir die bespreking van enkele van die Pionierstories.

 

BELIGGAAMDE RUIMTE, INGEPLAASTHEID EN LEWENSTORIES - 'N TEORETIESE RAAMWERK

Sover dit menslike ervarings betref, is liggaam, plek, stories en gemeenskap onlosmaaklik en dinamies verweef. Die mens bevind hom of haar as ervarend bewegende liggaam in die sentrum van sy/haar perseptuele ruimte, en daarom ook in die sentrum van plek (Relph 1976:50). Ons lewe in ruimtes, raak geheg aan bepaalde ruimtes en plekke, assosieer laasgenoemde met spesifieke gebeure van ons persoonlike geskiedenis, en verbind vreugdevolle of hartseer emosies aan spesifieke plekke (Viljoen, Lewis & Van der Merwe 2004:7).4 Dergelike ervaring van en verhouding met plek word uitgedruk in terme van sin van plek, plekidentiteit, plekgebondenheid en plekgehegtheid. Plekgehegtheid kan verstaan word as 'n multidimensio-nele konsep wat die persoon (individu en kulturele groep), psigologiese prosesse en plek-dimensies insluit (Schannell & Gillford 2010:2). Cathrine Degnen (2016:1646) beklemtoon hierdie verweefde en interaktiewe proses en aard van plekverbondenheid:

(P)lace attachment is forged and experienced in dynamic interaction with other entities and other processes [...]; place attachment is also a collective, relational and embodied process, caught up and experienced via social memory practices and via embodied, sensorial registers.

In dié relasionele en beliggaamde proses gebruik ons taal en stories om ons waarnemings en ervaring, ons sin van self, en ons interaksie met ander, te verwoord. Ons sin van plek en gemeenskap is gewortel in vertelling (Johnstone 1990:5).

Die skepping van plek deur ruimtelike oriëntasie, beweging en taal kan aan die hand van die konsep van beliggaamde ruimte verstaan word.5 Beliggaamde ruimte is die plek ("location") waar menslike ervaring en bewussyn 'n stoflike (materiële) en ruimtelike vorm aanneem (Low & Lawrence -Zúninga 2003:2); dit is daarom as 't ware die plek waar die ervaring sigbaar gemaak word. Setha Low en Denise Lawrence -Zúninga (2003:2) wys daarop dat die liggaam dikwels in die veld van ruimtelike analise verwaarloos word. Volgens die skrywers kan dié nalating waarskynlik toegeskryf word aan die dualisme van die subjektiewe en objektiewe liggaam, en aan die onderskeid wat getref word tussen die materiële en verteenwoordigende aspekte van liggaamsruimte. Die konsep van beliggaamde ruimte integreer hierdie uiteenlopende begrippe, en onderstreep die belangrikheid van die liggaam as 'n holistiese entiteit: "as a physical and biological entity, as lived experience, and as center of agency, a location for speaking and acting on the world" (Low & Lawrence -Zúriinga 2003:2). Die wisselwerking tussen ruimtelike oriëntasie, ervaring en taal word verhelder deur Miles Richardson (1982, 1984 - soos saamgevat deur Low & Lawrence -Zúriinga 2003:5) se verstaan van beliggaamde ruimte. Hiervolgens behels beliggaamde ruimte om in-die-wêreld-te-wees; dit is 'n eksistensiële en fenomenologiese realiteit van plek: die reuk, gevoel, kleur en ander sensoriese dimensies daarvan. Daar word verder geredeneer dat sodanige liggaamlike ervaring en gewaarwording, deur die skep van simbole en objekte, materieel of tasbaar word. Daar word verduidelik dat die wisselwerkende dinamika tussen liggaamlike ervaring en persepsie, simbole en objekte die volgende inhou: Ons transformeer ervaring na 'n simbool en herskep ervaring in 'n objek (soos 'n kunswerk, 'n gebaar, of 'n woord). Hierdie objekte word dan gebruik om 'n ervaring op te roep, "[thus] molding experience into symbols and then melding symbols back into experience" (Richardson 1982, 1984, aangehaal deur Low & Lawrence -Zuninga 2003:5). Waar ons ervaring van ander mense vervlietend is, stel ons vermoë om artefakte te maak ons in staat om ons ervaring vas te lê, en om sodoende die materiële items te gebruik om ons ervaring te herroep, weer saam te stel en te kommunikeer (Richardson 2003:75).

Waarneming en die gewaarwording van die wêreld is fundamenteel multisensories van aard en behels die verhouding van die hele liggaam met die omgewing en die verskynsels daarbinne as ervarend en bewegend, en as integrerend van verskeie sensoriese modaliteite (Casey 1996:18; Hersch & Johnson 2008:53). In die verlede het die klem op die vyf sintuie (sig, gehoor, reuk, tas en smaak) dikwels meegebring dat die holistiese en sinestetiese ervaring inherent aan die subjektiewe ingeplaastheid in die omgewing, onopgemerk verbygegaan het. Sintuiglike en liggaamlike waarneming behels egter die samekoms van 'n verskeidenheid sensoriese en neurologiese sisteme, asook diverse kognitiewe en affektiewe prosesse.6Sintuiglike waarneming kan naamlik verdeel word in die gewaarwordinge van buite die liggaam (die eksteroseptiewe sisteem of die tradisionele sintuie), en gewaarwordinge deur middel van die interne organe (interoseptiewe sisteem), asook die bewuswording van veranderinge in die liggaamsposisie (proprioseptiewe sisteem) en van beweging en verandering in liggaamsposisie (vestibulêre sisteem; Hersch & Johnson 2008:52).

Met betrekking tot die tradisionele beskouing van sintuie word 'n onderskeid getref tussen die sogenaamde afstandsintuie (sig, gehoor en reuk) en die kontaksintuie (tas en smaak); in beginsel is die afstandsintuie in staat om 'n oorsig oor die toneel te bied, terwyl die kontaksintuie slegs inligting van die deel van die toneel kry waarmee kontak gemaak kan word (Hersch & Johnson 2008:52; Hill 2000:101). Die proprioseptiewe en vestibulêre sisteme het veral met die bewustheid van die postuur, van beweging en die ervaring van die liggaam in plek te make, byvoorbeeld om die liggaam se posisie in die ruimte waar te neem of om te weet op watter soort oppervlak mens loop. Interosepsie behels die gewaarwording van interne orgaanfunksies soos hartklop, asemhaling, die gevoel van honger en dors, sowel as die outonome senusis-teemaktiwiteit (Price & Hooven 2018:2). Alhoewel die meeste van hierdie persepsies onbewustelik belewe word, is dit onderliggend aan ons emosionele ervaring (Price & Hooven 2018:4). Interosepsie speel 'n belangrike rol in oorlewing en ondersteun gereguleerde reaksies op gewaarwordinge wat verband hou met liggaamlike integriteit (byvoorbeeld gewaarwordinge van honger, temperatuur en pyn), sowel as emosieverwante gewaarwordinge gerig op sosiale integrasie (byvoorbeeld positiewe emosie, toegeneentheid en intimiteit) en op fisieke oorlewing (byvoorbeeld vrees en woede of aggressie; Price & Hooven 2018:4). Die geïntegreerde aard van sensoriese ervaring is duidelik wanneer byvoorbeeld in ag geneem word dat die indruk van aanraking onder andere gevorm word deur beweging, druk, velstrekking, vibrasie en temperatuur waardeur die sensors in die vel, spiere, tendons en gewrigte betrek word (Price & Hooven 2018:135). Waarneming en gewaarwording is altyd deel van 'n groter konteks, waarin die spesifieke situasie en die waarnemer se emosionele, affektiewe en kognitiewe gesteldheid die ervaring op verskeie wyses beïnvloed. Herinneringe en assosiasies is integraal aan dié ervaring. Die spasie wat deur die liggaam in beslag geneem word en die waarneming en ervaring van die ruimte, word kleiner en groter in verhouding met 'n mens se emosies en gemoedstoestand, die gevoel van self, sosiale verhoudinge en kulturele ontvanklikheid (Low & Lawrence -Zúninga 2003:2).

Die inplasing en aktiewe bewustheid van die liggaamlike ervaring in 'n plek en die herskepping van dié ervaring in die vorm van 'n artefak, impliseer 'n ingeplaaste skeppings-handeling. Die konsep van 'n ingeplaaste skryf-en leeshandeling binne die ekopoëtiese skryfpraktyk is deur Susan Smith (2012) aan die hand van Lawrence Buell (2005:53) se plekdimensies ontwikkel. Ingeplaaste skryf veronderstel volgens Smith (2012:209) in die eerste instansie die "materiële, fisiese geplaastheid van die skrywer in 'n spesifieke plek; tweedens suggereer dit die verband en persoonlike kontak van die skrywer met plek waardeur die skrywer in tweegesprek met plek tree"; derdens impliseer dit 'n "taalbewuste skryfaksie waardeur taal as sosiale waarnemings- en konstruksie-instrumente ingespan word en sodoende die sosiale dimensie van taal aktiveer" (Smith 2012:902). Smith (2012:902) beskryf ingeplaaste skryf as 'n "aktiewe bewuswees van die self en van die plek wat op daardie oomblik fisies deur die digter se liggaam in beslag geneem word en hoe die liggaam binne die plek pas". Hierdie bewuste plek waarin die liggaam pas, sou benewens die fisiese plek, ook abstrakter of figuurlike dimensies van plek kon insluit, soos herinneringe of verbeelde plekke (byvoorbeeld verhaalwêrelde en drome; Buell 2005:73). Met William Rowland se ikoniese gedig oor blindheid in Afrikaans, "Die huis waar ek woon" (1975), in gedagte, sou "blindheid" as sodanig ook moontlik as 'n "plek" verstaan kan word.

Die uitnodiging aan deelnemers om stories te skryf wat met hul ervarings van die skool, die dorp en die omgewing verband hou, het noodwendig ook die herbesoek van die verlede behels. Die terugkeer na 'n plek en streek van oorsprong, behels hoofsaaklik 'n terugkeer na herinneringe daarvan (Viljoen et al. 2004:7). In die geheue is die ruimte vanselfsprekend figuurlik, en nie letterlik of fisies nie (Viljoen et al. 2004:7). Aangesien mense nie buite die gebied van ruimte en tyd, lewe, ervaar of onthou nie; word die geleefde geografiese plek deur die geheue herskep, eerder as wat dit voorgestel word (Viljoen et al. 2004:7). Deur die vertelen skryfproses het die Pionierstorie-skrywers hulleself na die verlede en 'n bepaalde plek verplaas, bepaalde gebeurtenisse herroep, en aspekte van dié ervaring in die vorm van outobiografiese vertellings verwoord. Hierdie vertellinge, wat aangebied word vanuit 'n agternaperspektief (oor tydperke wat van enkele maande tot etlike dekades strek), impliseer nie slegs die herskepping van plek en ervarings nie, maar ook van identiteit. Die proses waardeur oor plek geskryf word, is immers deel van die proses van identiteitskepping van beide die plek en van die self (Smith 2012:891). Met die terugkeer na die verlede, herevalueer ek myself, die plek, tyd, omstandighede, en die interaksie met ander, en verbind dit met die hede - die hier-en-nou van my bestaan - en maak, deur stories, sin van die ervaringe. Bruce Jackson (2007:8) beskryf dié wisselwerking treffend wanneer hy verduidelik:

We organize the events in our lives in the form of narratives. Our stories are not just file cabinets or movies of ordinary life; they are also the devices with which we explain and justify ourselves to ourselves and to others. Through story we make the facts of our lives accessible and bearable. Every story we tell, specifically or by implication, includes a theory about what happened and what matters.

Lewensverhale, of persoonlike narratiewe,7 is volgens Ruth Page (2014:313) onderskeibaar van fiktiewe narratiewe omdat daar aangeneem word dat die verteller 'n outentieke (ofskoon selektiewe) weergawe van die werklike gebeure uitbeeld. Verder plaas die onderwerp van die lewensverhaal die verteller se subjektiwiteit op die voorgrond en fokus op persoonlike ervaring. Lewenstories is 'n manier waarop die individu die betekenis van die self uitdruk, kommunikeer en onderhandel. Die vertelling van lewenstories is daarom 'n bevoorregte modus van uitdrukking vir die konstruksie van die verteller se identiteit (Page 2014:313). Soos Plummer (2001:395) dit stel:

These stories - or personal narratives - connect the inner world to the outer world, speak to the subjective and the objective, and establish the boundaries of identities (of who one is and who one is not).

'n Persoon se geïnternaliseerde en ontwikkelende lewensverhaal, waarin die gerekonstrueerde verlede en verbeelde toekoms geïntegreer word om 'n gevoel van eenheid en doel te verskaf, word met die begrip narratiewe identiteit saamgevat (McAdams & McLean 2013:233). Lewensverhale kan fluktueer, en aanpassings hou dikwels verband met 'n geïdealiseerde self-representasie, wat deur die spesifieke eise van die gegewe konteks gevorm word. Die identiteite wat deur storievertelling vergestalt ("enacted") word, is daarom nie deursigtige weerspieëlings van die werklikheid nie, maar eerder selektiewe, vloeiende opvoerings ("performances") (Page 2014:315). Skrywers en vertellers maak ook dikwels van kreatiewe transformasies van persoonlike ervaring gebruik, byvoorbeeld deur persoonlike ervaring as fiksie aan te bied; omgekeerd kan fiksie as outobiografie aangebied word (Johnstone 1990:132; Plummer 2001:401). Die enkelvoudig outobiografiese identiteit - die werklike naam van die skrywer, waardeur outeur, verteller en protagonis verbind word - dra daartoe by dat 'n werk as outobiografie gelees word (aldus Genette 1988; kyk Schwalm 2014).

Net soos wat mense nie buite die gebied van ruimte en tyd kan lewe of ervaar nie (Viljoen et al. 2004:7), moet verhale ook, om enigsins sin te maak, vir die toehoorder in tyd en ruimte gesitueer word; die luisteraar of leser moet weet wie die karakters is en waarmee hulle besig is (Johnstone 1990:90). Stories neem hulle gehore uit die hier-en-nou na 'n ander wêreld, en storievertellers moet dit duidelik maak hóé hierdie ander wêreld is (Johnstone 1990:90). In die Pionierstories verplaas die vertellers, deur die uitbeelding van verskeie insidente en ervarings, die gehoor na bepaalde plekke en tydperke, en bind dit deur die vertelling tot 'n samehangende eenheid. Die ingeplaastheid van die verteller en die totstandkoming van die storiewêreld en die gepaardgaande gemeenskap en identiteit, kan aan die hand van William Labov (1979) se teorie van die narratiewe van persoonlike ervaring verstaan word. In narratiewe van persoonlike ervaring tree die verteller as die verwysingspunt of deiktiese sentrum op, en oriënteer die luisteraar (of leser) ten opsigte van persoon, plek, tyd en situasie. Die verteller verwys onder andere na die persoon ("my" en "sy", "ons" en "hulle"), plek ("hier" en "daar") en liggaamlike oriëntasie ("bo" en "onder"). Hierbenewens oriënteer die verteller die gehoor ook ten opsigte van die verskillende tydsvlakke in die vertelling, naamlik die hede vanwaar die storie vertel word, en die verlede waarin die verhaalgebeure afspeel. Die tyd, ruimte en karakters van die storie word sodoende aan die gehoor bekend gestel. Die opeenvolging van gebeure, die verwikkelde handeling, lei tot die resultaat van die vertelling. Die coda - wat dikwels in die vorm van 'n evaluering of samevatting aangebied word - bring die verteller en toehoorder terug na die werklikheid. 'n Vertelling van persoonlike ervaring is in wese 'n vertelling van die rapporteerbaarste gebeurtenis ("most reportable event"; Labov 1979). Die uittreksel of abstrak, wat die vertelling kan voorafgaan, en wat in die geval van 'n kortverhaal die titel kan wees, is 'n aanduiding van dié rapporteerbaarste gebeurtenis en dien as lokmiddel om die belangstelling van die toehoorder te prikkel. Evaluering, wat deurgaans in 'n vertelling plaasvind, kom neer op taalhandelinge waarmee die rapporteerbaarste gebeurtenis beklemtoon word, byvoorbeeld deur woordkeuse of herhaling, en wat bydra tot die samehang en eenheid van die vertelling.8 Die tematiese elemente van 'n vertelling en van lewenstorie-konstrukte deur die vertellers (McAdams & McLean 2013:234) wat uit vertellings afgelei kan word, kom tot stand deur die gebruik van bogenoemde vertelelemente.9

Die hierbo uiteengesette teoretiese raamwerk, wat steun op gedagtes oor beliggaamde ruimte, die multisensoriese aard van waarneming, die ingeplaaste skryfaksie en aard van narratiewe van persoonlike ervaring, kan, soos gesê, insig bied in die wyse waarop skrywers en vertellers plek ervaar. Terwyl elke individu se waarneming en ervaring uniek is, vestig die Pionierstorieprojek die aandag op die belangrikheid van die bewustheid van 'n spektrum van sintuiglike ervarings en die verweefde en relasionele proses van plekskepping. In aansluiting hierby, vestig die Pionierstories aandag op die vooropgestelde aannames ten opsigte van persone met gestremdheid. In dié verband bied Matthew Cella (2013, 2017) se ekosomatiese benadering tot gestremdheid 'n uitgebreide en meer inklusiewe begrip van die verhouding tussen beliggaming en ingeplaastheid. Die ekosomatiese benadering plaas die onlosmaaklikheid van ekologiese konteks (plek) en somatiese ervaring (liggaam) op die voorgrond. As metafoor skep dit bewussyn dat ons liggame en die plekke waar ons leef, aaneengeskakeld met mekaar bestaan (Cella 2017:286). 'n Ekosomatiese benadering tot literêre narratiewe belig die momente in tekste waar die verskillende wyses waarop beliggaming en ingeplaastheid oorvleuel, onthul word (Cella 2017:286). In die Pionierstorieprojek skryf en vertel die skrywers en vertellers hulle stories vanuit die ervaringswêreld van swaksiende individue. Dit is egter belangrik om nie oorvereenvoudigde afleidings oor die betrokke teks en die ervarings van persone met siggestremdheid te maak nie. Alhoewel die Pionierstorieversameling die werk is van mense met siggestremdheid, word die tekste nie as outo/somatografie bespreek nie.10 Dit is verder belangrik om, soos wat Hanna Macherson (2017:254) beklemtoon, in ag te neem dat, ofskoon blindheid sommige spesifieke beliggaamde effekte kan hê, daar geen suiwer blinde sensoriese ervaring of 'n enkelvoudige identiteit bestaan nie. Elke blinde persoon se ervaring is uniek en blinde beliggaming kom na vore deur die subjek se verweefdheid met ander voorwerpe, liggame en vertellings:

We must therefore be wary of relying on blind and visually-impaired testimony about sensory experience as somehow authentic. For blind embodiment and speech emerges through interweavings with other objects, bodies and narratives. (Macherson 2017:254)

Aansluitend by die voorafgaande, moet gemeld word dat die skrywers en vertellers wat aan die projek deelgeneem het, oorwegend professionele mense is en waarvan die meeste ook leierskapsrolle in die blinde-gemeenskap vervul. Die skrywers sluit toeganklikheidspesialiste, onderwysers, tegnologiekundigheid-opleiers, skrywers, klankingenieurs, musikante en klavierstemmers in. Die skrywers is veelvuldig-geletterd (met braille- en digitalegeletterdheid-vaardighede) en is deel van sosiale netwerke, deur middel waarvan hulle byvoorbeeld uitgenooi is om aan die projek deel te neem. In vergelyking met die meerderheid siggestremde persone in Suid-Afrika, bevind die Pionierstorieskrywers hulle in 'n relatief bevoorregte posisie; hulle ervaring kan daarom ook nie veralgemeen word as verteenwoordigend van dié van die breër gemeenskap van siggestremdes nie.11

 

"BY MY SKOOL ENKELE PIONIERSTORIES VAN NADER BESKOU

By my skool is elk van die geboue eintlik 'n baken - elkeen van hulle omgewe met soveel herinneringe dat dit onmoontlik is om net een plek uit te sonder.

(Quinten Pendle, "Musiek - die taal van herinnering",

Pionierstories)

Die deelnemers aan die Pionierstoriesprojek is uitgenooi om stories by te dra wat op die skoolterrein aangebring kan word. Dit kan daarom veronderstel word dat die spesifieke plek, die opvoedkundige konteks, en die gedagte dat die lesers ook leerders van die betrokke skool sou insluit, die inhoud van die stories asook die wyse waarop dit vertel word, sou beïnvloed.

In die versameling as geheel is daar egter ook sterk aanduidings dat vertellers minstens drie groepe toehoorders in gedagte gehad het. In die eerste plek vertel die skrywer/verteller die storie vir hom- of haarself as terugblik en bestekopname van die eie wording, dit wil sê as deel van die konstruksie van narratiewe identiteit (soos as kenmerkend van sulke vertellings aangedui deur Page 2014: 313, McAdams & McLean 2013:233 en Plummer 2001:395). 'n Tweede groep toehoorders is die gemeenskap wat die skoolruimte - en by implikasie ook die leefwereld - van die blinde deel. Hierdie groep kan huidige leerders wees, asook oudleerders en personeel wat op een of ander wyse met die ervarings van die verteller sou kon vereenselwig. Die derde groep toehoorders is die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap, wat bewus gemaak word van die ervaring van 'n siggestremde persoon, maar bowenal van 'n algemeen gedeelde ervaringswêreld, ongeag die verskille in liggaamlike vermoëns en sintuiglike waarneming.

In terme van die aard van die proj ek as geheel, is die ideale leser egter die leser-deelnemer wat hom of haar fisies op die plek bevind waar die bepaalde storie aangebring is.

Lokatiewe literatuur - soos Page (2014:315) ten opsigte van mobiele voorbeelde van lewensgeskiedenis aantoon - is gebaseer op die dinamiese gebruik van fisiese ruimtes en plekke, tesame met die multisensoriese, kinestetiese interaksies van die gehoor, om die verteller se gerapporteerde persoonlike ervarings tot lewe te bring. Die publikasiekonteks van die Pionierstories behels daarom, benewens die beliggaamde en ingeplaaste ervaring van die skrywers, ook die beliggaamde en ingeplaaste ervaring van die leser-deelnemers. Dit is die gekombineerde ervaring om konkreet (liggaamlik) op die spesifieke plek te wees en om die verhaal of vertelling op die gebeureplek te lees (luister/ervaar), wat meebring dat die leser-deelnemer dié verskillende aspekte konkreet-materieel verbind en dat samehang bewerkstellig word. Hierdie konkrete ervaring kan 'n bykomende dimensie tot die konsep van narratiewe empatie verleen. Narratiewe empatie - wat deel vorm van die gevoel en perspektiefvorming wat, deur die lees, kyk, hoor of verbeelding van 'n ander se situasie meegebring word - speel 'n rol in die skep sowel as die ontvangs van sulke werk (Keen 2013). Volgens Horn (2013:286) spruit narratiewe empatie voort uit die verwikkelde samespel tussen die formele kenmerke van 'n werk, die persoonlike faktore van die leser (kyker/toehoorder) en die beskikbare inligting oor die skrywer (kunstenaar/verteller/skepper).12 Die enkelvoudig outobiografiese identiteit wat (á la Genette) uit die meerderheid van die Pionierstories afgelei kan word, dra waarskynlik by tot die leser se begrip van die gesitueerdheid van die skrywer-verteller-karakter, en tot die verdigting van 'n empatiese ervaring.

In die geval van die Pionierstories is die praktiese aspekte en uitvoering van die projek deur die projekspan onderneem. Die beskikbaarstelling van die bydraes het onder andere behels dat die geselekteerde bydraes voorgelees en opgeneem is; hierdie verskillende weergawes van die bydraes (teksformaat en klankformaat) is op die digitale projekplatform gepubliseer. Die Pionierstories is versprei deur middel van installasie-itemplate - met die betrokke QR-kode en inligting in braille en grootdruk - wat op die geïdentifiseerde plekke aangebring is.13 Deur die QR-kodes met mobiele toestelle (soos selfone) te skandeer, kry leser-deelnemers via 'n toeganklike digitale koppelvlak toegang tot die inhoud op die platform.14Die multimodale koppelvlak, wat toeganklik is vir blinde, swaksiende en siende gebruikers, bied aan die leser-deelnemer keuses oor die formaat van die inhoud. 'n Leser-deelnemer kan byvoorbeeld kies om 'n betrokke teks op die skerm te lees, daarna te luister, of na die voorlesing te luister terwyl die teks op die skerm gevolg word.

Wat die bepaalde plek/ligging waar die Pionierstorie-itemplate aangebring is, betref, was die verwysing van die skrywer/verteller na 'n spesifieke plek (soos 'n stel trappe of die skoolsaal) rigtinggewend. In ander gevalle is die verhale aangebring waar dit die beste sou pas. Praktiese oorwegings het ook 'n rol gespeel; stories oor die koshuislewe is byvoorbeeld aan die buitekant van die koshuise aangebring sodat dit vir alle leerders toeganklik is.15 Deur die keuse van 'n plek waar 'n spesifieke storie se itemplaat geplaas is, is assosiasiemoontlikhede geskep; sodoende was die projekspan aktief betrokke by plekskepping.16

Die Pionierstorieversameling bestaan uit 27 verhale, vertellings en gedigte deur 23 skrywers. Vier van die geskrewe verhale word vervolgens van nader beskou.

"Geheuekratte" deur Christo de Klerk

In Christo de Klerk se verhaal, "Geheuekratte", maak hy as 't ware self die kratte van sy geheue deur die broksgewyse vertelling oop (soortgelyk aan waaroor Jackson 2007:8 skryf).

In die eerste krat, "Aankoms", vertel hy hoe hy as sesjarige die eerste keer na die skool gekom het (sien die aanhaling benut as die artikel se inleiding). Terwyl 'n eerste skooldag gewoonlik 'n belangrike mylpaal vir enige persoon is, deel die leerders van dié spesifieke skool die gegewe dat hulle een of ander vorm van siggestremdheid het. In die meeste gevalle kom die leerders van elders as Worcester, wat ook meebring dat hulle in 'n skoolkoshuis moet tuisgaan. Hierdie verandering en aanpassing kan 'n traumatiese ervaring vir 'njong kind wees. Dit is ironies dat die verteller eers die dag toe sy ouers hom in die sorg van die koshuismoeder gelaat het, besef het dat hy blind is. Wanneer hulle by die koshuis aankom, neem die matrone die verteller na die speelkamer, waar hy 'n ander seuntjie, Bennie, ontmoet om 'n lewenslange vriendskap tussen hulle twee te smee. Die verteller noem dat hy en Bennie so lekker gespeel het, dat dit selfs ietwat van 'n steurnis was toe sy ouers hom kom groet het.

In die Pionierstorieversameling is die belangrike rol van die portuurgroep opvallend. Oor die algemeen bly die ouers in hierdie verhale op die agtergrond, uitsluitlik net in vermeldings van kontak met en verlange na die ouers en familie. Die verteller verwys dan ook na die eensaamheid wat hy dié eerste nag in die koshuis beleef het:

Dit was eers toe ek diep in die stil nag alleen wakker word dat ek eensaam en alleen gevoel het en na my ouers verlang het en jammer was dat ek hulle weg gewens het.

Wanneer die verteller die volgende dag ontdek dat hy en Bennie nie in dieselfde jaargroepklas is nie, sit hy pouse in 'n sandbak en huil, waar 'n dogtertjie wat in sy klas was, hom troos en belowe om sy maatjie te wees as hy sal ophou huil. Dié emosionele ervaringe van die eerste twee dae in die nuwe skool, en wat op verskeie wyses beliggaam word (vergelyk Price & Hooven 2018:4 oor die verband tussen die interioseptiewe sisteem en emosies soos vrees en woede), word saamgetrek in die "Tussenin"-gedeelte van die vertelling. In dié verhaalgreep dink die verteller na oor die gedeelde ervarings, en hoe hy en Bennie jare nadat hulle die skool verlaat het, "halfvergete dinge weer uit die geheuekratte gehaal en afgestof" het en verbaas was "oor hoe hulle in die nuwe lig soms heel anders lyk". In hierdie geval het die vertel en oorvertel van die rapporteerbare (Page 2014:313) - die eenmalige traumatiese ervaring van die eerste aankoms, sowel as die herhalende ervarings van eensaamheid en vrees - waarskynlik bygedra tot die emosionele en kognitiewe verwerking van die ervarings, asook tot die transformasie daarvan na 'n simbool wat dien om die herinneringe op te roep ('n verskynsel waaroor byvoorbeeld Richardson, luidens Low & Lawrence -Zuriinga 2003:5, skryf).

In die gedig, "nokturne", wat by die vertelling ingesluit is, is die metafore van lig en donker, stilte en klank, opvallend. Die emosionele ervaring van die eensame kind word versterk deur die metafoor van die "sarsies honde wat ver vrees blaf' en die stilte wat stukkend geskiet word.

nokturne

ek onthou hoe ek as kind gehuil-bid het

dat die voëls die oggendlig moes bring

dat ek bevry mag word uit die nag se swart grot

met sy eensame stilte wat eentonig in my ore sing

en sarsies honde wat ver vrees blaf

en die stilte stukkend skiet

my hoopvol pleitende

is jy wakker

kom ons gesels oor speelgoed

is jy ook bang

maar ek het groot geword

en die nag het groot geword

is jy wakker

kom ons gesels

is jy ook bang ...

In die gedeelte "Tweede aankoms" vertel die skrywer hoe hy, ná byna 18 jaar verloop het, na die skool terugkeer as rekenaarspesialis en onderwyser, en hoe dit hom opgeval het dat "die administrasiegebou van binne nog presies dieselfde ruik soos destyds al die jare gelede" (sic). Wanneer hy later die skoolgebou deur die seunspoort instap, draf hy teen die trap op:

My voete het outomaties ses keer twee -twee getree vir die twaalf trappe, om die gelykte en toe weer ses keer twee-twee en nog een vir die dertiende; outomaties, ek het nie eens daaraan gedink nie. (sic)

Dié twee sintuiglike gewaarwordinge het hom "amper laat voel dat ek nooit weg was nie". Soos die verteller die ervaring beskryf, kan dit verstaan word as 'n tydruimtelike roetine ("time-space routine" - O'Neil 2001:4), 'n stel van kinestetiese gedrag wat oor 'n lang tydperk op 'n plek plaasgevind het, en sodoende 'n gewoonte gevorm het. Deur die onbewuste kennis wat in die liggaam en in die geheue geregistreer is, word 'n diepgaande begrip van die identiteit van plekke ontwikkel en ons emosionele verbintenisse daarmee versterk (luidens O'Neil 2001:4, in aansluiting by David Seamon [1980] se konsepte van liggaam-subjek, tyd-ruimtelike roetines en plekballet).

In die coda van die verhaal, "En nou" getiteld, noem die verteller dat hy baie terugdink aan die skool en soms oor die skool droom. Hy spreek ook sy dank uit teenoor Bennie en die meisie in die sandbak, naamlik vir die "onvergeetlike bydraes" wat hulle gemaak het en wat soveel gehelp het om hom weerbaar te maak teen die aanslae van die lewe.

Die itemplaat met die QR-kode wat toegang gee tot dié verhaal, is teen 'n pilaar in die skool se voorportaal aangebring. Die voorleser is Bernard Odendaal. Die besoeker/leser sou dus na die verhaal kon luister en die verpakte herinneringe van Christo de Klerk saam met hom oopmaak - en moontlik iets verstaan van die ervaringe van kinders van hierdie skool wat ver van hulle ouers by nuwe omstandighede moet aanpas, en die belangrike rol wat ander speel in die wording en weerbaarmaking van 'n persoon. Die leser-deelnemer kan ook moontlik die ooreenkoms opmerk tussen die konkrete uitstalrakke in die voorportaal en die metaforiese geheuekratte waarna die verhaaltitel verwys. Die verwysing na die sintuiglike ervarings (soos die reuk van die administrasiegebou, die outomatiese klimhandeling, en die naggeluide) kan moontlik bydra tot die leser-deelnemer se sintuiglike gewaarwordinge en assosiasies.

Die geïnstalleerde verhaal is toeganklik by wyse van die volgende webskakel: http://www.byderhand.net/bhps/9.html.

"Ek ontdek die land van die blindes" deur Madelene van der Berg

"Ek ontdek die land van die blindes" is 'n humoristiese vertelling deur Madelene van der Berg wat as 15-jarige by die skool ingeskryf het. Komende van 'n klein plattelandse skool, was dit vir haar 'n geleentheid om, as swaksiende (beperkte sig), haar skoolloopbaan by 'n gespesialiseerde skool te voltooi.

Opvallend in die vertelling is die verwysing na sig en visuele waarneming, postuur en beweging, die kenmerkend sterk liggaamlike bewustheid van die adolessent, en die kontrastering van wêrelde en ervarings. Die vertelling is aanduidend van die liminale identiteit van die verteller wat haarself in twee verskillende sosiale kontekste bevind, naamlik soos vergestalt in die oorgang na die nuwe skoolomgewing (oorgangsliminaliteit), maar ook in die liminale ervaring van 'n swaksiende wat haar in die ruimte tussen siendheid en blindheid bevind (ewigdurende liminaliteit; kyk Ybema, Beech & Ellis 2011:21).

As deel van haar oorweging of sy na die nuwe skool wil gaan, druk die verteller die vraagstuk van haar liminale identiteit onder andere deur die gebruik van liggaamlik gebaseerde metafore en vergelykings uit: Sal sy, wat in haar kleindorpse skool soos 'n "seer vinger" uitstaan omdat sy altyd met haar "neus teenaan die swartbord moet sit", haar skoolloopbaan voltooi as "blinde mol in die land van die siendes", of sal sy "Eenoog in die land van die Blindes" gaan wees? Met die besluit geneem om wel na die spesialisasieskool te gaan, nader sy die nuwe skooljaar met gemengde gevoelens. Sy stel haarself voor hoe die nuwe plek en omstandighede daar sal uitsien, wat die leefwêreld van die blindes behels, en watter gevolge dit vir haar kan inhou:

In my verbeelding het ek my 'n groot, ronde plek voorgestel. Daar kan tog nie hoeke wees waarin blindes kan vasloop nie! En, o toggie, wat gaan ek maak as almal aan my wil kom voel om uit te vind hoe ek lyk? Hiérdie gedagte het veral baie gepla, en ek was skielik oorbewus van my puisies en lang, maer bene.

By die skool aangekom, was die verteller "verstom om te ontdek dat die koshuis geen ronde kamers het nie", dat alles so normaal gelyk het en dat dit selfs mooier en meer huislik was as die koshuis waaraan sy gewoond was. Wanneer 'n koshuismaat aanbied om vir haar die skoolterrein te gaan wys, vind sy ook die skoolterrein, met die weelde van grasperke aldaar, soveel anders as die klipperige skoolgrond van haar tuisdorp. In die stappery stamp sy kort-kort per ongeluk teen die nuwe vriendin, wat haar verskoning dat sy haar so aan alles verwonder en nie kyk waar sy loop nie, laggend aanvaar. Terug in haar kamer, wys sy haar foto-album vir die vriendin, wat belangstellend uitvra oor die mense op die foto's. Die verteller hou baie van die meisie wat sy so pas leer ken het, maar dit pla haar wel dat dié se kamer teen 'n betonmuur vaskyk, terwyl haar eie kamer 'n lieflike uitsig het:

"Pla dit jou nie dat jou kamer geen uitsig het nie?" verneem ek. "Nee, glad nie, want ek kan mos nie sien nie."

Ek gaap haar met 'n oop mond aan. "Onmoontlik! Jy het dan so pas na my foto's gekyk en my die hele terrein gaan wys?"

Wilna lag heerlik. "Ag, jy wou dan so graag jou foto's vir iemand wys. Wel, toe kyk ek maar met my glasoë daarna."

Dit was my eerste kennismaking met blinde humor.

Hierdie "blinde humor" word ook elders in die vertelling gedemonstreer, soos waar die verteller vertel hoe sy van haar skugterheid ontslae geraak het en, soos die ander kinders, by wyse van allerlei vreemde bewegings gedans het. Die vertelling word afgesluit met die soort evaluering en coda wat aanduidend is van 'n samehangende, positiewe resolusie (soos deur McAdams & McNeal 2015:234 beskryf):

So het dit dan gebeur dat ek met my flou "bulpies" deel van die land van die blindes geword het. Dit was die beste drie jaar van my skoolloopbaan en gou het ek geleer om te lag oor my eie blinde blapse.

Ook het ek besef dat dit wel ongerieflik en duur is om sleg te sien, maar beslis nog nie die einde van die wêreld nie!

Die verhaal, wat vir klankopname voorgelees is deur Suna Verhoef, 'n onderwyser verbonde aan die skool, is voor die meisieskoshuis aangebring. Hier sou adolessente, wat hulle dalk soos die verteller in die liminale ruimte van 'n swaksiende tiener bevind, met haar ervaringe kan vereenselwig en moontlik ook, vanweë die humoristiese aanbieding, 'n katarsis daaraan-gaande kon beleef. Vir die buitestander kan die vertelling die eie vooropgestelde idees oor die leefwêreld van die blinde, openbaar, en demonstreer hoe humor as hanteringsmeganisme en aanbiedingswyse balans van verskeie aard kan bewerkstellig. Die leser-deelnemer sou ook terselfdertyd oor sy of haar eie waarneming en ervaring van die omringende skoolterrein en -geboue kon nadink.

Die geïnstalleerde verhaal is by wyse van die volgende webskakel toeganklik: http://www.byderhand.net/bhps/20.html.

"Musiek - die taal van herinneringe" deur Quinten Pendle

By my skool is elk van die geboue eintlik 'n baken - elkeen van hulle omgewe met (sic) soveel herinneringe dat dit onmoontlik is om net een plek uit te sonder. Maar in die Biesenbachsaal het ek van die mooiste oomblikke in my lewe beleef.

Só begin Quinten Pendle die vertelling waarin hy sy herinneringe aan musiekervaringe by dié skoolsaal met mekaar verweef. In die verhaaloriëntering word die ingeplaastheid en die plekgehegtheid van die verteller beklemtoon deur die gebruik van die besitlike voornaamwoord (my) en met die aanduiding dat die vertelling oor positiewe herinneringe ("mooiste oomblikke") handel.

Narratologies kenmerkend in die vertelling is die verwysing na die sintuiglike ervaring (veral hoor- en tas/aanraking-ervarings), en na die atmosfeer van die plek of situasie, die sosiale verhoudings en die gepaardgaande gevoelsmatige ervarings. Die eerste vertelde insident handel oor die verteller se ervaring as graad 5-leerder tydens die inoefening van die jaarlikse Kersspel. Die spookstories wat die kinders daartydens vir mekaar vertel, illustreer hoe die betrokke konteks en die sintuiglike ervaring die verbeelding kan prikkel, asook hoe plek en plekervarings deur die belewers daarvan in samehang met ander belewers geskep word. "Stories van persoonlike ervaring is stories van sosiale ervaring" - (Johnstone 1990:129). Die resultaat van die gekombineerde ervaring is 'n liggaamlike ervaring (vergelyk: "jou armhare wat so half en half orent staan"), sowel as 'n kognitiewe bewuswording van vervreemding (vergelyk: "'n totaal ander Biesenbachsaal as Maandae met die saalbyeenkoms"). Pendle vertel:

Onder leiding van 'n baie streng juffrou Diedericks moes ons dikwels tot laat in die saal oefen. As 'n mens laataand in die saal is, ervaar jy die reuke wat so eie aan die saal is, intens, en jy hoor hoe die stilte eintlik in jou ore raas. Dan kon jou verbeelding maklik met jou op loop sit.

En as een van die houtpanele of stoele, of enigiets anders in die saal skielik begin kraak het, soos wat party houtgoeters mos maar saans die manier het om te doen, het dit natuurlik die regte atmosfeer verskaf as jy en jou maats mekaar met jul spookstories op hol gejaag het. Jou armhare het so half en half orent gestaan, en dit was meteens 'n totaal ander Biesenbachsaal as Maandae met die saalbyeenkoms.

Waar die Kersspel tradisioneel afgesluit is met "Stille Nag", is dié lied in die jaar vóór die verteller hoërskool toe moes gaan, vervang met "Met middernag". Dié lied was vir die verteller, toe hy dit die eerste keer gehoor het, "die mooiste lied op aarde", en die geleentheid om dit as lid van die senior koor by die Kersspeluitvoering te sing, was vir hom 'n meevoerende ervaring wat verwoord word met metafore soos "indrink", "omring", "binnedring" en "absorbeer".

Ek onthou goed hoedat ek meteens ophou sing het, my asem opgehou het en die oomblik, die hier en die nou, net ingedrink het, hoedat die musiek my omring het, hoe dit my binnegedring het, my hele wese geabsorbeer het.

Die ervaring word beskryf as 'n allesomvattende gewaarwording waartydens die grense tussen liggaam en plek, tussen die menslike en goddelike, opgehef word, en wat ná die verloop van talle jare steeds in die herinneringe uitstaan. Hierdie ervaring sou getipeer kon word as een van immanente transendensie, waartydens die absolute (God) en mense direk verbind is en "waar die absolute in en deur wéreldse realiteit ervaar word" (Stoker 2012, aangehaal deur Verhoef & Van der Merwe 2015). Die verteller noem verder dat hy bevoorreg was om tydens hulle matriekgroep se laaste saalbyeenkoms, die skool op orrel te kon begelei - 'n geleentheid waarvan hy "jare lank gedroom het" en baie hard voor geoefen het.

Die laaste vertelde insident handel oor 'n saalbyeenkoms wat die verteller as oudleerder bygewoon het en wat, soos gebruiklik, met die sing van die skoollied afgesluit is:

Trotser as ooit, het ek daardie oggend uit volle bors saamgesing, maar so halfpad deur die eerste vers het die oomblik my oorweldig en het my gemoed volgeskiet. Carin (wat toe nog nie my vrou was nie) het dit seker maar gesien en my hand net 'n sagte drukkie gegee.

Die vertelling word afgesluit met die aanhaling van 'n strofe uit die skoollied.

Benewens die vertolking van persoonlike en beliggaamde ervarings, wat ook met die wordingsfases van die kind en adolessent verband hou, en die verwysings na die skoolge-meenskap (maats, vriende, onderwysers), is dié vertelling 'n demonstrasie van die tradisies, simbole, rituele, waardes van die skool en die betrokke gemeenskap - byvoorbeeld die saalbyeenkomste, die Kersspeluitvoering, die sing van tradisionele liedere en die deelname aan sosiale geleenthede soos skooldanse (skoolsokkies) - oftewel dit wat deur Hofstede (1997:7-9) as kulturele lae bestempel is. Die waarderende wyse waarop die verteller oor sy skool en skoolervarings skryf, dui op 'n gekoesterde gevoel van geborgenheid en gemeenskap-likheid (vergelyk McAdams & McLean 2011:234 hieroor) en is aanduidend van plekgehegtheid.

Dié vertelling, waarvan die itemplaat in die portaal van die skoolouditorium aangebring is, is vir klankopname voorgelees deur Pieter Botes ('n onderwyser verbonde aan dieselfde skool) en word aan die begin en die einde van die opname gekombineer met 'n orreluitvoering van die skoollied (gespeel en verskaf deur Pendle). Hierdie musiek word, soos eerstehands deur die projekleiers waargeneem, oombliklik deur oudleerders herken en dra vir diegene by tot 'n multimodale en ingeplaaste leeservaring.

Die geïnstalleerde verhaal is toeganklik by http://www.byderhand.net/bhps/15.html.

"Grenskunde" deur Jacques Coetzee

Anders as die geborgenheid in die skoolomgewing wat uit Pendle se vertelling blyk, bied Jacques Coetzee se twee bydraes - naamlik 'n memoir, "Grenskunde", en 'n gedig, "Die trappe" - 'n blik op die innerlike van iemand wat homself as randfiguur beleef, en vasgevang en ontuis in sy eie liggaam, sy omstandighede en in die skoolomgewing voel.

In die vertelling kyk die verteller, met 'n ironiese blik en vanuit die perspektief van 'n volwassene, terug op sy jonger self. Die vertelling word dan ook vanuit dié agternaperspektief, en met besondere vaardigheid deur die skrywer, gekonstrueer. Soos in die geval van Christo de Klerk se hierbo bespreekte verhaal, is daar in Coetzee se bydraes sterk aanduidings van 'n bewustheid van die skrywer se eie konstruksie van herinneringe, soos ook deur die skryf-handeling (in ooreenstemming met Plummer 2001:398 se konsep van refleksiewe en rekursiewe lewensverhale).

In die raamvertelling, vanuit eerstepersoonsperspektief aangebied, word 'n toehoorder of aangesprokene ("jy") voorgestel; dusdanige vertelstrategie dien ook as 'n meganisme waarmee die verteller self as toehoorder gekonstrueer word, en sodoende 'n ironiese afstandname van die jonger ek bewerkstellig word. Die vervlegting van motiewe aangaande die letterkunde, die ervaring van blindheid en die ontwikkeling van 'n eie skrywerstem, is sprekend in hierdie verband.

Deesdae gebeur dit dikwels dat ek met slimmer, jonger weergawes van myself begin gesels. Partykeer praat ek hulle aan; ander kere probeer ek hulle moed inpraat. Partykeer vra ek hulle om my te herinner aan wat ek al vergeet het.

Vandag is dit so 'n vyftienjarige knaap wat by my spook. As jy hom so uitluister, weet jy nie of jy wil lag of huil nie. Hy is indrukwekkend boekgeleerd: hy't aanhalings vir elke ding, elke situasie. Hy is ook onbeholpe, en hopeloos ontuis in sy eie lyf. Hy is te rebels om te leer rook saam met die ander seuns, en te skaam om te dans met die meisies.

Die vyftienjarige bevind hom in verskeie liminale ruimtes: fisies in die skoolbiblioteek, of bo -aan 'n stel trappe naby 'n stoorkamer, sosiaal afgesluit van sy portuurgroep; en figuurlik in die liminale ruimte van die lees van letterkunde, waardeur hy homself uit die "klein skoolwêreld" tot in die "wye wêreld daar buite" kan verplaas.

Maar as jy hom soek, is hy minstens nie moeilik om op te spoor nie. Hy sit maar altyd iewers en lees - in die skoolbiblioteek, met die klank van storiebande rondom hom; bo-op die vyftien trappe naby 'n ou stoorkamer op die skoolterrein. Hy kan nie onthou wat hulle daarin stoor nie, en hy gee ook nie om nie. Hy weet dat daar geen gereedskap daarin is wat hom kan help nie. Hy weet hy moet homself uit hierdie klein skoolwêreld uitlees, tot in die wye wêreld daar buite.

In die stories waarin hy reeds van kleintyd af verslaaf geraak het, is die helde almal "op soek na 'n land wat hulle nog nooit gesien het nie"; 'n verwysing wat 'n letterlike én figuurlike betekenisimplikasie kry. Ook sy onvermoë om vriende te maak en sy soeke na en smagting na 'n uitkoms, word in ruimtelike metafore uitgedruk. Sy gesprekke met die ander skoolkinders loop leeg, omdat hy "te besig is om te luister vir iets wat oor die ver horison na hom toe sal aankom"; en hy leer in ander mense se stemme sing: in dié van "sangers wat ver in die wêreld woon".

Wanneer hy self begin gedigte skryf, maak hy seker dat daar kleure in is, want "hy skryf altemit vir siende mense". Die verwysing na sy digterskap en die gebruik van kleurmetafore in die poging om vir siende mense te skryf, is ironies getint. Wanneer hy dan soms vir siende mense sy gedigte voorlees, is hulle meer geïnteresseerd in hoe dit voel om blind te wees as in sy skryfwerk. Hy wil egter oor enigiets behalwe blindheid gesels en dink "hy moes eintlik iemand anders gewees het. Hy gaan homself nie sommer hier kan uitlees of uitskryf nie".

In die laaste sin van bostaande aanhaling kan die "hier" geïnterpreteer word as die klein skoolwêreld waarin hy hom bevind het, maar ook die plek van blind-wees.

Die seun kom egter agter dat daar mense is wat hom kan help: sy ouers, wat vir hom brailleboeke vol gedigte koop; sy susters, wat boeke, idees en musiek van die universiteit af huis toe bring; en onderwysers, "wat stories bring oor die wêreld buite die skoolmure" - die mense wat as "grenskundiges" die "paaie ken na ander wêrelde toe." Terwyl hy droom van, en uitreik na, die groter wêreld anderkant die grense van die skool, steek hy met verdrag ook die grense oor na die kleiner skoolruimte, na sy portuurmaats toe, en na homself. Wanneer hy 'n meisie ontmoet, begin hy belangstel in dinge wat op die skoolgrond gebeur, leer hy die name van plekke ken, en vind hy uit hoe om van sy klaskamer af na hare te stap (wat herinner aan wat Low & Lawrence -Zúriinga 2003:2 skryf oor die verband tussen die ervaring van ruimte, gemoedstoestand en sosiale verhoudings). Met verdrag maak hy vriende en wanneer hy sy klasmaats hoor sing en hoor "die pyn wat in hulle is, kom nie van buite af nie, maar van binne; van baie naby af", begin hy dit oorweeg om eerder in sy eie stem as in dié van 'n ander te leer sing.

Nadat hy matriek geskryf het, kyk die verteller nie terug nie, want "[h]y het dit reggekry: hy't homself in die wye wêreld ingelees." Tussen al die aktiwiteite wat hy dan onderneem, skryf hy al hoe minder, maar hy gee nie om nie, want hy bevind hom in die "wye wêreld" en "[h]y is oor die grens".

In die verloop van die jare begin hy egter wel soms terugkyk en kry hy meer begrip vir die mense wat sy lewenspad gekruis het. Hy skryf ook weer gedigte: nie meer noodwendig vir siende mense nie, maar ook om homself en wat dit beteken om blind te wees beter te kan leer verstaan. Opvallend is die besef van die waarde daarvan om by die eie ervaring te begin, om nader aan die "eie lyf te luister":

Deesdae skryf ek weer gedigte, en ek probeer maar altyd begin by my eie ervaring. Daar is nie meer kleure in nie, maar daar is wel baie stemme, en daar is baie liefde en dood en alles tussenin. Ek skrik nie meer as die mense vra hoe dit nou voel om 'n blinde man of 'n blinde digter te wees nie. Ek sê maar ek wil ook weet. Dis dié dat ek so aanhou skryf. Dis dié dat ek so oefen om nader aan my eie lyf te luister.

Die QR-kodes wat toegang gee tot Coetzee se kortverhaal én die vermelde gedig van hom, is aan die bokant van die stel trappe waar die skrywer as skoolseun gesit het, aangebring. Die leser-deelnemer kan deur die fisiese geplaastheid eerstehands iets van die liminale ervaring van die jong skoolseun meemaak.

Die geïnstalleerde vertelling van Coetzee, voorgelees deur Phil van Schalkwyk, is toeganklik by http://www.byderhand.net/bhps/6.html.

 

SAMEVATTING EN GEVOLGTREKKING

"Dit is asof hulle energie, hulle stemme ook nou hier is."

(Suna Verhoef)

In die artikel is ondersoek ingestel na die Pionierstories as lokatiewe narratiewe en na die moontlike insig wat die betrokke projek sou kon bied in die plekervaring van die skrywers; ook na hoe die stories sou kon bydra tot lesers daarvan se verdiepte ervaring van die plek, en tot die sigbaarmaking van stories, liggame en gemeenskappe.

Om die Pionierstories binne sodanige konteks te verstaan, is die konsepte van beliggaamde ruimte en ingeplaastheid as vertrekpunt geneem en is dit bespreek met inagneming van die multi-sensoriese aard van waarneming, die ingeplaaste skryfaksie, die narratiewe aard van die vertolkte persoonlike ervarings, die ekosomatiese benadering tot gestremdheid en die beliggaamdheid en ingeplaastheid van die leser-deelnemer. Vier van die verhale uit die versameling is onder die loep geneem vir die bespreking.

Die teksanalises bevestig Cella (2013, met verwysing na Entrikin 1991) se siening dat 'n storieverteller déúr vertelling die verskillende dimensies van 'n plek tot 'n verteenwoordigende geheel saamvoeg, en dat literêre vertelling derhalwe 'n manier bied om die ingewikkelde proses van inplasing te organiseer en te bemiddel, en insig kan bied in die menslike poging van plekskepping sowel as hoe dit deur die oorvleuelende sosiale, historiese, en ekologiese kontekste waarin dit onderneem word, beïnvloed word.

Met betrekking tot die gedagte aan stemgewing vir gemarginaliseerde gemeenskappe en die sigbaarmaking van liggame, stories, plekke en gemeenskappe, is dit duidelik dat die skrywers en vertellers in die Pionierstorieversameling agente geword het en, op verskeie wyses, deur hulleself, die plek, die mense, die gemeenskap en identiteite uitbeeld en "sigbaar" maak. Dit word in die tekste onder andere bewerkstellig deur die aanwending van 'n gekose vertel-strategie, verhaalstruktuur, inhoud, weergawe van gewaarwordinge en gebeure, en styl- en taalgebruik. Die geïntegreerde uitbeelding van konkrete en abstrakte aspekte van plek en ruimte in die Pionierstories, demonstreer die verweefdheid van die dimensies van plek en die sentrale rol wat die ingeplaaste skrywer in die totstandkoming hiervan speel. Wat veral in die vertellings opval, is die kernrol wat die gemeenskap (vriende, medeleerders, onderwysers, koorleiers, afrigters, koshuispersoneel, ensovoorts) in die vertellers se lewens speel/gespeel het, en die kollektiewe en relasionele proses van plekverbintenis (soos aangevoer deur Degnen 2016:1646). Aansluitend hierby, is daar die uitgesproke of geïmpliseerde behoefte van die vertellers om volwaardig aanvaar te word as behorende tot die groter gemeenskap van medemense. Verder is dit duidelik dat die waarde van kultuuraktiwiteite (soos deelname aan of die geniet van musiekuitvoerings, teateropvoerings en letterkunde) ter verruiming van die siggestremde se leefwereld en ter bekendstelling aan alternatiewe perspektiewe, nie onderskat kan word nie.

Lesers kan, soos waarnemings van die lees en/of beluistering van die Pionierstories getuig, die ervarings van die verteller meemaak en iets van die uitgebeelde wêreld leer ken. Dit is egter veral deur die ervaring van die lokatiewe narratiewe op die betrokke plek dat die ingeplaaste leser-deelnemer bewus kan raak van die vertellers se beliggaamde en ingeplaaste ervarings, en sodoende, vanuit die verteller se perspektief, die plekke, mense en gemeenskap vir sigself kan voorstel. Farman (2015:110) se waarneming oor die gesitueerdheid van die leser-deelnemer deur mobiele media en mobiele storieprojekte, is op 'n besondere wyse op die Pionierstoriesprojek van toepassing:

Mobile media and mobile story projects orient our bodies in space. They engage us in a sensory experience of being situated among the stories of a space, among the communities that tell those stories, and as being included or excluded from these narratives. Upon being oriented in space in these ways, we simultaneously respond by orienting ourselves toward these spaces and narratives. Embodiment in these mobile stories is thus produced also through a 'twofold orientation': through the practices of inscription and experiences of being inscribed. (Oorspronklike kursivering.)

In die Pionierstorieprojek behels die tweeledige oriëntasie waarna Farman verwys, veral ook die leser-deelnemer se bewuswording van die beliggaming en waarneming van (ander) persone met siggestremdhede. Hierdie gewaarwording kan vir die leser-deelnemer lei tot 'n groter bewustheid en die intensivering (Middelton 2010:577) van die eie sintuiglike ervaring en liggaamlike ingeplaastheid. Om verskeie van die Pionierstories, wat verspreid op die skoolterrein geïnstalleer is, te kan ervaar, impliseer verder dat die leser-deelnemer moet rondstap en tyd op die terrein spandeer. Hierdie ervaring bied aan leser-deelnemers die geleentheid om die skool- en koshuisomgewing en die betrokke gemeenskap van nader te leer ken. Voorts onthul die versameling verhale uiteenlopende beskouings en ervarings deur die skrywers/vertellers uit verskillende tydperke, wat bydra tot die gelaagdheid van plekervaring. Die veeltal stories (en stories-binne-stories), en die leser-deelnemer se beliggaamde en ingeplaaste ervaring daarrondom, kan 'n verrykte ervaring van plek tot gevolg hê en bied materiaal ter prikkeling van die leser-deelnemer se eie stories oor die plek - en dra sodoende verder by tot die sin van plek.

In die geheel beskou, kan die projek op verskeie wyses empatie en begrip bevorder.

Die reaksie van lesers-deelnemers wat waargeneem en die terugvoer wat ontvang is, dui die uitwerking van die Pionierstories as lokatiewe narratiefaanbod aan. Die verhale inspireer onder andere huidige én oudleerders om herinneringe op te diep, opnuut die omgewing waar te neem en hulle eie stories daarrondom te vertel. Buitestaanders dui aan dat hulle deur die verhale 'n eerstehandse blik kry op die ervaringe van mense met siggestremdheid. Vir 'n onderwyser van die skool het die stories die gevoel gelaat dat "ander mense" hier was en die plek lewendiger gemaak het: "Dit is asof hulle energie, hulle stemme ook nou hier is."

Dít laat blyk dat lokatiewe literatuurprojekte 'n bydrae kan lewer om, deur middel van eietydse mobiele tegnologieë, die wêreld van skrywers sowel as leser-deelnemers te verruim en te verryk.

 

CODA

Om die Pionierstories vir die breër publiek toeganklik te maak, is die versameling ook in 'n plaaslike koffiewinkel beskikbaar gestel. Die betrokke koffiewinkel is deel van die sogenaamde "Innovation for the Blind",17 en ontvang blinde klante, die breër gemeenskap, asook besoekersgroepe van elders. In hierdie geval is die itemplate op draagbare houtbordjies gemonteer sodat kliënte gerieflik toegang tot die inhoud kan kry. Deur die versameling hier en op dié wyse beskikbaar te stel, word die projek, die stories en die skoolgemeenskap nog meer sigbaar. Alhoewel die geografiese afstand vanaf die skoolterrein die konkreet ingeplaaste ervaring van die leser-deelnemer beïnvloed, kan die versameling steeds, binne die konteks van die bepaalde koffiewinkel as lokatiewe narratiewe beskou word, onder andere omdat dit in dieselfde dorpsomgewing as die skool geleë is en die "Innovation for the Blind" as 'n diensorganisasie vir die plaaslike en breër gemeenskap van siggestremdes optree.

'n Verdere ontwikkeling in die Pionierstoriesprojek is die beskikbaarstelling van 'n braillepublikasie (2020). Die publikasie bevat, benewens die QR-kodes van die Pionierstories, 'n voorwoord waarin die projek gekontekstualiseer word. Sodoende word die ervaring van die skool vir mense op enige plek toeganklik gemaak (vergelyk Coetzee 2020). Hierdie verspreidingsmetode is egter tot nadeel van die resepsie van die plekspesifieke karakter van die lokatiewe literatuur. Die ideaal sou wees om 'n digitale platform en toepassing te ontwikkel wat gemeenskappe in staat stel om hulle eie lokatiewe literatuurprojekte, ín die plekke wat vir húlle saakmaak, te onderneem en te publiseer.

 

BIBLIOGRAFIE

Barber, J.F. 2016. Digital storytelling: New opportunities for humanities scholarship and pedagogy. Cogent Arts & Humanities, 3:1181037.         [ Links ]

BHA-DP-20170921. Projekbeskrywing en etiekaansoek.         [ Links ]

Buell, L. 2005. The future of environmental criticism: Environmental crisis and literary imagination. Malden, MA: Blackwell Publishing.         [ Links ]

Casey, E.S. 1996. How to get from space to place in a fairly short stretch of time: Phenomenological Prolegomena. In Feld & Basso (eds). Senses ofplace. Santa Fe, New Mexico: School of American Research Press.         [ Links ]

Cella, M.J.C. 2013. The ecosomatic paradigm in literature: Merging disability studies and ecocriticism. ISLE: Interdisciplinary Studies in Literature and- Environment, 20(3):574-596.         [ Links ]

Cella, M.J.C. 2017. Retrofitting rurality: Embodiment and emplacement in disability narratives. Journal of Rural Studies, 51:284-294.         [ Links ]

Coetzee, J. 2020. Persoonlike e-pos korrespondensie, 3 April.         [ Links ]

Couser, G.T. 2009. Signifying bodies: Disability in contemporary life writing. Michigan, University of Michigan Press.         [ Links ]

Degnen, C. 2016. Socialising place attachment: place, social memory and embodied affordances. Ageing & Society, 36:1645-1667.         [ Links ]

De Souza e Silva, A. & Frith, J. 2014. Re-narrating the city through the presentation of location. In Farman, J. (ed.). The mobile story: Narrative practices with locative technology. New York & London: Routledge, pp. 34-49.         [ Links ]

Entrikin, J. N. 1991. The Betweenness ofplace: Towards a geography of modernity. Baltimore: Johns Hopkins UP.         [ Links ]

Farman, J. 2015. Stories, spaces, and bodies: The production of embodied space through mobile media storytelling, Communication Research and Practice, 1:2.         [ Links ]

Geurts, K.L. 2015. Senses. In Adams, Reiss & Serlin (eds). Keywords for disability studies. New York & London: New York University Press, pp. 161-163.         [ Links ]

Greyling, F., Verhoef, S., & Tempelhoff, G. 2020. Die Byderhand-Pionierprojek: Die deelnemende dinamika in die skep en toeganklikmaking van lokatiewe literatuur vir siggestremdes in Worcester. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(4-2):1336-1362.         [ Links ]

Greyling, F. 2018. "Ek loop hier in die labirint": Digitale kinderverse in 'n botaniese tuin: performatiwiteit en relasionaliteit. Stilet 30(1-2):207-227.         [ Links ]

Hersch, M.A. & Johnson, M.A. 2008. Assistive technology for vision-impaired and blind people. London: Springer-Verlag.         [ Links ]

Hill, M.H. 1985 - 2000 ed. Bound to the environment: Towards a phenomenology of sightlessness. In Seamon & Mugerauer (eds). Dwelling, place and environment: Towards a phenomenology of person and world. Malabar, Florida: Krieger Publishing Company, pp. 99-111.         [ Links ]

Hofstede, G. 1997. Cultures and Organizations: Software of the mind. New York: McGraw-Hill.         [ Links ]

Horn, P.E, 2013. Narrative empathy for "the other" in American literature, 1845-1945. Dissertation Doctor of Philosophy, Chapel Hill: University of North Carolina.         [ Links ]

Howes, D. 2006. Charting the sensorial revolution. Senses & Society, 1(1):113-128.         [ Links ]

Jackson, B. 2007. The story is true: The art and meaning oftelling stories. Philadelphia: Temple University Press.         [ Links ]

Johnstone, B. 1990. Stories, community, and place: Narratives from Middle America. Bloomington & Indianapolis: Indiana University Press.         [ Links ]

Keen, S. 2013. Narrative empathy. In Hühn, Pier, Schmid & Schönert (eds). The living handbook of narratology. Hamburg: Hamburg University. http://www.lhn.uni-hamburg.de/article/narrative-empathy [15 February 2020]        [ Links ]

Labov, W. 1997. Some further steps in narrative analysis. Journal of Narrative & Life History, 7(1-4):395-415.         [ Links ]

Levlie, A.S. 2009. Poetic augmented reality: Place-bound literature in locative media. In Lugnayr, Franssila, Sotamaa, Näränen & Vanhala (eds). 2009. Proceedings of the 13th International MindTrek conference: Everyday life in the ubiquitous era. New York, NY: ACM Digital Library.         [ Links ]

Low, S.M. & Lawrence-Zúninga, D. 2003. Locating culture. In Low & Lawrence-Züninga (eds). The anthropology of space and place: Locating culture. Malden: Blackwell Publishing, pp. 1-47.         [ Links ]

Macpherson, H. 2017. Walkers with visual- impairments in the British countryside: Picturesque legacies, collective enjoyments and well-being benefits. Journal of Rural Studies, 51:251-258        [ Links ]

McAdams, D.P. & McLean, K.C. 2013. Narrative identity. Current Directions in Psychological Science, 2013(22):233-238.         [ Links ]

Middleton, J. 2010. Sense and the city: exploring the embodied geographies of urban walking, Social and Cultural Geography, 11(6):575-596.         [ Links ]

O'Neill, M.E. 2001. Corporeal experience: A haptic way of knowing. Journal of Architectural Education, 55(1):3-12.         [ Links ]

Page, R. 2014. Life history. In Ryan, Emerson & Robertson (eds). The Johns Hobkins guide to digital media. Baltimore: Johns Hobkins University Press, pp. 313-316.         [ Links ]

Plummer, K. 2001. The call of life stories in ethnographic research. In Atkinson, Coffey, Delamont, Lofland & Lofland (eds). Handbook of ethnography. London: Sage, pp. 395-406.         [ Links ]

Price, C.J. & Hooven, C. 2018. Interoceptive awareness skills for emotion regulation: Theory and approach of mindful awareness in body-oriented therapy (MABT). Frontiers in Psychology 9:798.         [ Links ]

Relph, E. 2000. Geographical experiences and being-in-the world: The phenomenological origins of geography. In Seamon & Mugerauer (eds). Dwelling, place and environment: Towards a phenomenology of person and world. Malabar, Florida: Krieger Publishing Company, pp. 1- 31.         [ Links ]

Rettberg, S. 2019. Electronic literature. Cambridge: Polity Press.         [ Links ]

Richardson, M. 2003. Being-in-the-market versus being-in-the-plaza: Material culture and the construction of social reality in Spanish America. In Low & Lawrence-Züninga (eds). The anthropology of space and place: locating culture. Malden: Blackwell Publishing, pp. 74-91.         [ Links ]

Ruston, S. 2014. Location-based narrative. In Ryan, Emerson & Robertson (eds). The Johns Hobkins guide to digital media. Baltimore: Johns Hobkins University Press, pp. 318-321.         [ Links ]

Scannell, L. & Gifford, R. 2010. Defining place attachment: A tripartite organizing framework. Journal of Environmental Psychology, 30(2010):1-10.         [ Links ]

Schwalm, H. 2014. Autobiography. In Hühn, Pier, Schmid & Schönert (eds). The living handbook of narratology. Hamburg: Hamburg University. http://www.lhn.uni-hamburg.de/article/autobiography [12 March 2020].         [ Links ]

Seamon, D. 2015. Body-subject, time-space routines, and place-ballets. In Buttimer, A. & Seamon, D. The human experience of space and place. London: Taylor & Francis, pp. 148-165.         [ Links ]

Smith, S. 2012. Plek en ingeplaaste skryf. 'n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk. LitNetAkademies, 9(3):887-928.         [ Links ]

Van Luyn, A. 2017. Sharing place-based stories using digital tools: Locative literature and regional writing communities. In Gair & Van Luyn (eds). Sharing qualitive research: Showing lived experiences and community narratives. London & New York: Routledge, pp. 235-252.         [ Links ]

Verhoef, A.H. & Van der Merwe, W. 2015. Paul Ricoeur se begrip van transendensie met betrekking tot tyd en narratief. LitNet Akademies,12(2).         [ Links ]

Viljoen, H., Lewis, M. & Van der Merwe, C. 2004. Introduction. In Viljoen & Van der Merwe (eds). Storyscapes: South African perspectives on literature, space and identity. New York: Peter Lang, pp. 1-22.         [ Links ]

Wilkerson, A. 2015. Embodiment. In Adams, Reiss & Serlin (eds). Keywords for disability studies. New York & London: New York University Press, pp. 67-70.         [ Links ]

Ybema, S., Beech, N. & Ellis, N. 2011. Transitional and perpetual liminality: An identity practice perspective. Anthropology Southern Africa, 34(1-2):21-29.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2020-04-12
Goedgekeur: 2020-08-10
Gepubliseer: Desember 2020

 

 

 

Franci Greyling is professor in Skryfkuns in die Skool vir Tale aan die Noordwes-Universiteit. Sedert 2007 is sy gemoeid met die konseptua-lisering en uitvoering van interdissiplinêre krea-tiewe en navorsingsprojekte in die Fakulteit Geesteswetenskappe, soos Oor die einders van die bladsy (2009-2011) en Weerspieëling en weerklank: Gesprekke oor tipografie, topografie en tipologie (2012-2014). Dié praktykgebaseerde navorsingsprojekte betrek onder andere medewerkers uit dissiplines soos Skryfkuns, Grafiese Ontwerp, Letterkunde en Kunsgeskiedenis, asook skrywers, kunstenaars, ontwerpers, program-meerders en die algemene publiek. Die Byder-handprojek (sedert 2015), onder leiding van die Vakgroep Skryfkuns, behels die verkenning van plekspesifieke digitale literatuur. Franci is veral geïnteresseerd in die skeppende moontlikhede en dinamiese wisselwerking binne hierdie oor-koepelende ruimtes, multimodaliteit en alterna-tiewe publikasiemoontlikhede.
Franci Greyling is Professor of Creative Writing in the School of Language at the North-West University. Since 2007, she has been involved in conceptualising and carrying out interdisciplinary creative and research projects in the Faculty of Humanities, such as Oor die einders van die bladsy ("Transgressions and boundaries of the page") in 2009-2011, and Weerspieëling en weerklank: Gesprekke oor tipografie, topografie en tipologie ("Reflective conversations: typography, topography and typology") in 2012-2014. These practice-based research projects involve collaborators from disciplines such as Creative Writing, Graphic Design, Literature and History of Art, as well as writers, artists, designers, programmers and the general public. The Byderhand project (since 2015), led by the subject group of Creative Writing, involves the exploration of site-specific digital literature. Franci is particularly interested in the creative possibilities and dynamic interactions within these overarching spaces, multimodality and alternative publication possibilities.
1 Die Byderhand-Pionierprojek (Etieknommers NWU-00591-17S8 en WKOD-20170814-3851) is 'n deelnemende gemeenskap- en navorsingsprojek as onderdeel van die voortgesette Byderhandprojek van die Noordwes-Universiteit, in hierdie fase onderneem in samewerking met 'n skool vir siggestremdes te Worcester (Greyling, Verhoef & Tempelhoff 2020).
2 Ook bekend as plekgebaseerde narratiewe, plekspesifieke digitale literatuur, plekgebonde literatuur, mobiele narratiewe, ens.
3 Die konteks van die Pionierstorieprojek vestig die aandag op die hoë voorkoms van metafore wat met sig verband hou. Sodanige metafore en vaste idiomatiese uitdrukkings (bv. 'totsiens') word deur 'n taalgemeenskap gedeel ongeag hulle onderskeie sintuiglike vermoëns.
4 'n Onderskeid kan getref word tussen plek as die konkrete plek in die fiktiewe of werklike werklikheid en ruimte as die abstrakte belewenis van daardie ruimte, spesifiek in die weergawe of representasie van die belewenis van plek in tekste of woorde. Plek het dimensies, is ouditief, visueel en taktiel met tekstuur en temperatuur, daar is afstand en verhoudinge, ens. Die ruimtelike belewenis is persoonlik gemaak, dit dra die afdruk van die belewende spreker of fokalisator. Aspekte van ruimtelike belewenis word verder aan in die artikel uitvoerig toegelig. In die bespreking word die woorde plek en ruimte noodwendig as gewone woorde, en nie as terme nie, gebruik. Waar bronne aangehaal word, word die betrokke outeur se gebruik van die woorde ruimte en tyd gerespekteer.
5 Die gebruik van die term beliggaming word ook in gestremdheidstudies met 'n fenomenologiese benadering verbind, soos Abby Wilkerson (2015:67) verduidelik: "Although embodiment sometimes serves as a synonym for corporeality - the state of living in/through/as a body - disability studies scholars have tended to use the term in relation to phenomenology, the philosophical study of conscious experience from an individual person's subjective perspective."
6 Sensoriese studiesbenaderings beklemtoon die dinamiese, relasionele (intersensoriese - of multimodale, multimediale) en dikwels botsende aard van ons alledaagse betrokkenheid by die sensuele wêreld (Howes 2006:115).
7 Ken Plummer (2001:396) wys op die groot verskeidenheid bronne en vorme van eietydse lewenstories: "Life stories today come though many sources - biographies, autobiographies, letters, journals, short interviews, photos, video diaries, home web pages and the like. They exist in many forms: long and short, past and present, specific and general, fuzzy and focused, surface and deep, ordinary and extraordinary stories. And they are denoted by a plethora of terms: self stories, life stories, life histories, auto/biographies, personal documents, life documents, life narratives, oral histories, 'documents of life'." Page (2014:314) wys verder daarop dat, in die digitale era, die vorme, formate en konvensies van lewenstories op verskeie wyses beïnvloed is deur die evolusie van Web 2.0-platforms, die deelnemende kultuur en die multimodale instaatstellingsmoontlikhede van die internet.
8 Taal, as sosiale waarneming- en konstruksie-instrument (Smith 2012:209), kan heelwat laat blyk oor die betrokke skrywer of verteller se waarneming en taalgebruik, terwyl dit terselfdertyd 'n weerspieëling van die gedeelde betekenisskepping binne 'n taalgemeenskap is. Die bewustheid van die konteks van die Pionierstories en die skrywers beklemtoon die groot mate waarin woorde, vaste uitdrukkings en metafore wat sig beklemtoon, in taal voorkom (vergelyk Hill 2000:102).
9 Sodanige lewenstorie-konstrukte is onder andere agentskap, gemeenskap ("communion"), verlossing, kontaminasie, betekenisskepping, verkennende narratiewe verwerking, en samehangende positiewe besluit (McAdams & McLean 2013:234).
10 Outo/somatografie is 'n vorm van memoir wat die liggaamservaring van persone met gestremdheid, andersoortige liggame of ongewone somatiese ervarings uitbeeld (Couser 2009:164; Geurts 2015:162). Hellen Keller se outobiografiese vertelling, The world I live in (2008) kan as auto/ somatografie verstaan word (Geurts 2015:160).
11 In ooreenstemming met die deelnemende benadering van die projek en 'n gesamentlike konstituering van kennis, is gedagtes in die artikel in gesprek met van die Pionierstorieskrywers ontwikkel. Blinde skrywers in die projek het weergawes van die artikel gelees en hulle terugvoer is met die afronding van die artikel in ag geneem. Die skrywers wie se verhale in die artikel bespreek word, het almal toestemming daartoe verleen.
12 Volgens Horn (2013:286) is narratiewe empatie die resultaat van 'n ingewikkelde wisselwerking tussen formele kwaliteite van die teks (insluitend, maar nie beperk nie tot plot, perspektief, narratiewe stem, karakterisering, konflik en resolusie); persoonlike faktore van die leser (insluitend, maar nie beperk nie tot die leser se ras, etnisiteit, geslag, seksualiteit, nasionale en streeksoorsprong, godsdienstige oortuigings, politieke oriëntasie, vorige ervaring en taalvaardighede); en outeursinligting wat die skepping en oordrag van die narratief kenmerk, veral waar dit die skrywer se identiteit en die beweerde "waarheid" of "fiksie" van die narratief betref.
13 Die installasie-itemplate wat op die onderskeie plekke aangebring is - en veral die gebruik van brailleskrif daarop - maak op 'n konkrete wyse die stories en gemeenskap sigbaar. Persoonlike waarneming toon dat siende persone die brailleskrif interessant vind en wonder hoe blinde persone dit gelees kry (empatiewekking); reaksie van blinde gebruikers dui daarop dat hulle die aanwysings in braille hoog op prys stel en dat dit op die erkenning van hulle leefwêreld en identiteit dui. Hierdie materiële aspek van die projek kan verder ondersoek word.
14 Die digitale koppelvlak kombineer die grafiese koppelvlak vir siende gebruikers, die verstelbare grafiese koppelvlak vir swaksiende gebruikers, en die ouditiewe koppelvlak vir blinde gebruikers (kyk Greyling, Verhoef en Tempelhoff2020 vir 'n vollediger uiteensetting). Die digitale koppelvlak maak ook daarvoor voorsiening dat inligting oor die skrywer saam met die verhaal verskyn. Die skrywers en voorlesers se inligting verskyn ook op die webblad. Kyk: www.byderhand.net/pionier.html.
15 'n Kort video wat toeganklik is by die volgende webskakel, illustreer hoe die installasie werk: https://youtu.be/1PuoBm9UuIw
16 Dit is vanselfsprekend dat die wyse waarop, en gemak waarmee, die leser-deelnemers die itemplate van die onderskeie verhale op die terrein kan opspoor en toegang tot die inhoud kan verkry, grootliks bepaal word deur die mate van sig waaroor leser-deelnemers beskik asook hulle vertroudheid met die terrein en met die betrokke tegnologie. Met die bekendstellingsgeleentheid van die Byderhand-Pionierprojek is braillekaarte beskikbaar gestel waarop die liggings van die onderskeie Pionierstories aangedui is en wat blinde leser-deelnemers in staat gestel het om die itemplate op die terrein te lokaliseer en die verhale aldaar te beluister. Waarneming van die gebruik van die installasie deur leerders, dui daarop dat leerders dit geniet om die verhale op die terrein te ervaar, maar dit ook baie geniet in 'n klaslokaal waar hulle gemakliker kan sit en onverstoord kan luister.
17 Voorheen bekend as "Instituut vir die Blindes" en "Kaleidoskoop".

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons