SciELO - Scientific Electronic Library Online

vol.60 número4-2The Dutch Reformed Church and the Rebellion of 1914-1915: Was the Council of Churches ecclesiastically reconciliatory?Disempowerment of Afrikaans índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados



Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.60 no.4-2 Pretoria dic. 2020 



Die Bailie's Party-trilogie: Karel Schoeman (en MD Nash) en die 1820- Britse Setlaars


The Bailie's Party trilogy: Karel Schoeman (and MD Nash) and the 1820 British Settlers



Andre Wessels

Departement Geskiedenis, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika, en Besoekende Professorale Genoot, UNSW Canberra van die Australian Defence Force Academy. E-pos:




Kort voordat die aankoms van die 1820- Britse Setlaars 200 jaar gelede herdenk behoort te word, het drie boeke, wat die vooraanstaande Afrikaanse skrywer Karel Schoeman (1939-2017) kort voor sy dood voltooi het, genaamd die Bailie's Party-trilogie, die lig gesien. Schoeman het 'n groot aantal bronne geraadpleeg met die oog op die skryf van die boeke, maar die kern van die publikasies is gebaseer op die navorsing en onvoltooide manuskripte wat deur mev. MD ("Dee") Nash (1928-2010) nagelaat is. Die uitgangspunt van hierdie artikel is dat dit nie moontlik is om die ontwikkeling van Suid-Afrika (soos ons dit vandag ken) na behore te begryp sonder om nie ook die rol van die 1820- Britse Setlaars te ondersoek nie. Die doel van hierdie studie is om Schoeman se Bailie's Party-trilogie krities te evalueer deur dit onder meer binne die breër raamwerk van sy ander historiese werke te plaas en die historiografiese betekenis van die trilogie te bepaal deur dit met sommige ander werke oor die 1820- Britse Setlaars te vergelyk.

Trefwoorde: 18de- en 19de-eeuse Engeland, Britse Setlaars, Bailie's Party, John Bailie, Kaapkolonie, grensgebied, Sesde Grensoorlog, historiografie, Karel Schoeman, MD Nash


A year before the 1820 British Settlers bicentenary, three books dealing with the history of these pioneers were published. The Bailie's Party trilogy was completed by the renowned, prolific and award-winning Afrikaans author (of both fiction and non-fiction) Karel Schoeman (1939-2017) and published posthumously by Protea Book House in 2019. Schoeman consulted a large number of sources in writing these three comprehensive books, but the core of the books is based on the research that was previously done by Mrs MD Nash (1928-2010).
Karel Schoeman is a famous Afrikaans author of novels such as By fakkellig (1964), Na die geliefde land (1972) and Verliesfontein (1998). Many of his novels are of an historical nature, with events taking place against the background of, for example, the Anglo-Boer War. Parallel to his works of fiction, Schoeman in due course also produced several history books, including Bloemfontein: Die ontstaan van 'n stad 1846-1946 (1980), and the "Vrijstatia" series of source publications, as well as a series of eight books on the Cape, during the era of the Dutch East India Company. It was while working as head of the Special Collections at the then South African Library (now the National Library of South Africa) in Cape Town, that Schoeman met MD Nash.
Marjorie Diane ("Dee") Nash was, for many years, head of the Cultural History Division at the Albany Museum in Grahamstown (now Makhanda), and later worked as an editor for a publishing company in Cape Town. In her capacity as a descendant of the 1820 Settler John Bailie, she researched his history, together with that of the 1820 Settlers in general. This led to the publication of Bailie's Party of 1820 Settlers: A collective experience in emigration (1982), which Jeff Peires described as having "revolutionised 1820 settler historiography". More publications followed. When Nash retired, she donated all her research material, documents and unpublished manuscripts on John Bailie and the 1820 Settlers to Karel Schoeman, in the hope that one day he would be able to use it in some way. Schoeman's Bailie's Party trilogy is the end result, with Schoeman indicated as the author on both the covers, as well as on the title pages of the books, but with the additional inscription, "based on the original research of MD Nash".
Proceeding from the assumption that it is not possible to understand the development of what is since 1910, a unified South Africa, without taking into account the role played by the 1820 British Settlers, it is the purpose of this article critically to evaluate Karel Schoeman's Bailie's Party trilogy, inter alia, by regarding it in the broader context of both Schoeman's other historical works, and the existing 1820 Settlers' historiography. Thus, brief reviews of the work produced by both Schoeman and Nash are provided, as well as a review of the 1820 British Settler emigration scheme and the concomitant Settler historiography.
The books in the Bailie's Party trilogy are then reviewed and where necessary, compared with other sources on the 1820 Settlers. In the first book in the trilogy, The old world 1757-1819, Schoeman/Nash provide a socio-cultural background with regard to the settlers who emigrated to South Africa. The Bailie family history is traced and the emigration scheme and the people who were involved are discussed. Throughout, the European background of both the Bailie family and the members of the other Settler groups is traced, in an effort to understand the cultural heritage they brought with them to what is today South Africa. The second volume, The new land 1820-1834, focuses on the Bailie Party's trip to the Cape Colony, the Eastern Cape frontier area where they settled, the challenges they encountered and how they dealt with them.
In the third book of the trilogy, The frontiers 1834-1852, the role of the Bailie family in the Albany district of the Eastern Cape is further expanded, including the Sixth Frontier War (1834-1835), the death of Lieutenant Charles Bailie (the eldest son of John), the Bailies and Algoa Bay, and their life in the Transgariep (the present day Free State Province) and in Natal (KwaZulu-Natal).
From this "warts and all" account of Bailie's Party and other 1820 Settlers, it emerges that the emigrants were intrepid people, but they were also fallible. However, they learnt the hard way, and thanks to their tenacity, indomitable spirit, courage and determination, they were in due course, to a lesser or greater extent, successful. Their work led to the establishment of towns and cities; the expansion and development of agriculture, educational facilities; and of language and culture in general. Small wonder, then, that a liberal political tradition in due course developed in South Africa; that Xhosas for many years dominate(d) African politics in South Africa; and that English today, exactly 200years after the arrival of the 1820 Settlers, (still) remains the dominant language of government and business.
Thanks to Schoeman, Nash's research has been given another lease of life. The Bailie's Party trilogy can be linked to work already done on Bailie's group of Settlers, as well as the other Settler groups, and is an invaluable addition to the 1820 Settler historiography in general. To Schoeman, the past has always been "another country", asking to be discovered, studied and understood in all its complexities.
The Bailie's Party trilogy bears witness to the immense amount of thorough research that Dee Nash undertook in the course of many years, and Karel Schoeman's ability to shape that research - together with all his additional research - into a comprehensive and readable set of books that will indeed contribute towards a better understanding of South Africa's colonial past. The trilogy in no way glorifies colonialism, but makes it clear how complex a phenomenon colonialism is, and that its roots and impact should be studied in an unbiased way, should one wish to understand the history of South Africa (where all inhabitants share a common colonial past), as well as the history of all other former British and other colonies.

Keywords: 18th and 19th century England, 1820 British Settlers, Bailie's Party, John Bailie, Cape Colony, frontier region, Sixth Frontier War, historiography, Karel Schoeman, MD Nash




Karel Schoeman (1939-2017) was een van die mees produktiewe en vooraanstaande skrywers wat die Afrikaanse (en Suid-Afrikaanse) skrywersgemeenskap tot nog toe opgelewer het. (Sien Onderafdeling 2, infra, vir méér in dié verband.) Kort ná sy ontydige dood het nog van sy voltooide manuskripte in boekvorm verskyn en twee jaar ná sy dood het die onderhawige omvangryke boeke, wat oor die 1820- Britse Setlaars handel, die lig gesien:

Bailie's Party: The old world 1757-1819. Pretoria: Protea Boekhuis, 2019.

Bailie's Party: The new land 1820-1834. Pretoria: Protea Boekhuis, 2019.

Bailie's Party: The frontiers 1834-1852. Pretoria: Protea Boekhuis, 2019.

Dié drie boeke van Schoeman is gebaseer op die oorspronklike navorsing wat deur MD Nash gedoen is. (Sien Onderafdeling 5, infra, vir meer besonderhede in verband met Nash se navorsing en hoe Schoeman daarmee omgegaan het.)

Uitgaande van die standpunt dat dit nie moontlik is om die ontwikkeling van Suid-Afrika (soos ons dit vandag ken) te begryp sonder om nie ook die rol van die 1820- Britse Setlaars in ag te neem nie, is dit die doel van hierdie studie om Schoeman se Bailie's Party-trilogie krities te evalueer deur dit onder meer binne die breër raamwerk van sy ander historiese werke te plaas. Die historiografiese betekenis van die trilogie word bepaal deur dit met sommige ander werke oor die 1820- Britse Setlaars te vergelyk.

Ten eerste gaan die lewe van Schoeman - en sy publikasies - kortliks bespreek word, waarna die geskiedenis van die 1820- Britse Setlaars, insluitende die historiografie van dié setlaarsbeweging, in breë trekke geskets sal word. MD Nash se loopbaan en werk kom daarna kortliks aan die orde. In die daaropvolgende afdeling sal die Bailie's Party-trilogie ontleed en geëvalueer word, waarna bepaalde gevolgtrekkings gemaak en slotperspektiewe verskaf sal word.



Tromp ("Karel") Schoeman is op 26 Oktober 1939 te Trompsburg in die Suid-Vrystaat gebore. Toe hy twee jaar oud was, vestig die Schoeman-gesin hulle in Bloemfontein. 'n Jaar later is sy ouers geskei en verhuis hy saam met sy ma na die Paarl. Daar voltooi hy sy skoolopleiding in 1956 aan die Hoër Jongenskool. Hy studeer aan die Universiteit van die (destyds nog Oranje-)Vrystaat (UOVS) en voltooi in 1959 aldaar sy BA-graadstudie (met hoofvakke Engels, Afrikaans en Nederlands), waarna hy verder aan die Katolieke Seminarium St. John Vianney in Pretoria studeer. Vanaf 1961 tot 1964 woon hy in Ierland, waar hy aan die Franciskanerorde se kloosters in Killarney en Galway die novisiaat deurloop. In 1964 keer hy terug na Bloemfontein en verwerf hy 'n Hoër Diploma in Biblioteekkunde aan die UOVS.

Schoeman woon 'n ruk lank in Johannesburg (1966-1968) en dan in Nederland (Amsterdam, 1968-1973, as bibliotekaris), Engeland (Cavendish, 1973) en Skotland (Glasgow, 1973-1976, as verpleër). Hy ervaar die Nederlandse, maar ook die Engelstalige, wêreld dus eerstehands. Terug in Suid-Afrika werk hy in Pretoria as vertaler (1976-1977), in Bloemfontein as bibliotekaris (1977-1982) en in Kaapstad by die Suid-Afrikaanse Biblioteek - nou die National Library of South Africa (1982-1998). Ná sy aftrede vestig hy hom in Trompsburg, voordat hy in 2008 na Bloemfontein terugkeer. Vanaf 2010 was Schoeman 'n navorsingsgenoot in die Departement Geskiedenis en Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy sterf op 1 Mei 2017.

* * *

Schoeman was een van Suid-Afrika se produktiefste skrywers en 'n reus in die Afrikaanse letterkunde. Met verloop van tyd het hy ook 'n besondere bydrae op die gebied van die Geskiedenis gelewer. Onder sy groot aantal romans tel onder meer Byfakkellig (1964), 'n Lug vol helder wolke (1967), Spiraal (1968), Na die geliefde land (1972), 'n Ander land (1984), Die uur van die Engel (1995) en Verliesfontein (1998). Talle van sy romans is al vertaal, byvoorbeeld in Nederlands, Engels, Frans, Duits en Russies. Naas vele ander toekennings en eerbewyse het Schoeman die Hertzogprys by drie geleenthede ontvang (1970, 1986 en 1995) en die Recht Malan-prys ook by drie geleenthede (1983, 1998 en 2003). Hy het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Stalsprys vir Kultuurgeskiedenis (1997) en die L.W. Hiemstra-prys vir nie-fiksie (2002), asook eredoktorsgrade van die Universiteit van Kaapstad (2000) en die Universiteit van die Vrystaat (2004 - in dié universiteit se eeufeesjaar) ontvang.

Gegewe sy wortels en die feit dat hy vir baie jare in Bloemfontein gebly en gewerk het, is dit te verstane dat talle van Schoeman se aanvanklike historiese werke Vrystaatse temas ontgin. Kyk in hierdie verband byvoorbeeld Bloemfontein: Die ontstaan van 'n stad 1846-1946 (1980 - die boek wat as die hoeksteen van sy historiese werk beskou kan word), en die vyftien boeke in die "Vrijstatia"-reeks bronnepublikasies (1985-2005) wat hy geredigeer het.

Met verloop van tyd het die fokus van Schoeman se historiese navorsing al meer na die Kaapkolonie verskuif.2 Sy "Kaapse geskiedenis" bereik 'n hoogtepunt met die publikasie van 'n indrukwekkende reeks van agt boeke wat verskillende aspekte van die Kaaps-Nederlandse tydperk belig (Schoeman 2008, 2009, 2010, 2011, 2013a, 2013b, 2014, 2016).

In hierdie omvangryke reeks publikasies, het Schoeman die historiese agtergrond, konteks, leefwereld van diegene wat hulle aan die Kaap kom vestig het, en hul bydrae, beskryf - iets wat hy later ook met die Bailie's Party-trilogie ten opsigte van Engelse inkomelinge gedoen het. Nadat Schoeman sy meerdelige studie oor die VOC-tydperk in die Kaapse geskiedenis afgesluit het, het hy na 'n volgende tema geskuif, naamlik die Britse Setlaars. Waar die Kaap vanaf 1652 onder Nederlandse beheer en invloed was, het die eerste Britse besetting van die Kaap in 1795 (kyk byvoorbeeld Nel (1977) en Potgieter (1997)) 'n nuwe era van Britse invloed ingelui, iets wat met die tweede Britse besetting in 1806 (kyk byvoorbeeld Krynauw (1999)) bevestig is.

In sy boek Skepelinge: Aanloop tot 'n roman, skryf Schoeman in die koda soos volg (Schoeman 2017:535):

Die boek is saamgestel uit histories en wetenskaplik verantwoorde tekste, wat egter op suiwer subjektiewe en onwetenskaplike wyse gebruik is om 'n bepaalde siening van die verlede oor te dra, verweef met insidentele persoonlike betragtings oor geskiedenis, navorsing en skrywerskap.

Hierdie enkele sin vat Schoeman se benadering tot die geskiedenis, navorsing en sy eie geskiedskrywing uitstekend saam, en kan in 'n mindere of meerdere mate op sy Bailie's Party-trilogie van toepassing gemaak word. Alvorens gelet sal word op die wyse waarop Schoeman die Setlaartema (en meer spesifiek Bailie's Party) hanteer het, gaan eers kortliks na die historiografie van die 1820- Britse Setlaars gekyk word.



In 1820 het 'n groot groep Britse immigrante hulle in die destydse Britse Kaapkolonie gevestig - met verloop van tyd bekend as die 1820- (Britse) Setlaars. Hulle koms na wat vandag Suid-Afrika is, was die gevolg van die Britse regering se projek (beginnende in Julie 1819) om emigrasie na die Kaapkolonie te bevorder. Meer as 4 000 Britse Setlaars (sowat 1 000 mans en 3 000 vrouens en kinders) - vir 'n volledige lys name, kyk Nash (1987:18-34) - het hulle aan die Kaap kom vestig, hoofsaaklik in die Albany-distrik in die Oos-Kaapse grensgebied. Die Britse owerhede wou naamlik dié omstrede grensgebied digter met blanke boere bevolk ten einde Xhosas te ontmoedig om die gebied binne te dring of, indien dit wel sou gebeur, die gebied beter teen Xhosa-aanvalle te beskerm. Verder wou die owerhede ook die Engelssprekende bevolking van die Kaapkolonie uitbrei as teenwig vir die Nederlandse taal en kultuur wat steeds oorheersend was. Emigrasie moes ook werkloosheid in Brittanje in die jare na afloop van die Napoleontiese oorloë verlig (Nash 1987:11; Nash 1986:94-95; Rivett-Carnac 1974:21-23; Butler 1974:9-20; Hockly 1957:20-32).

Die belangstelling in die emigrasieskema was oorweldigend. Diegene wat vir vestiging aan die Kaap gekeur is, is in groepe (Engels: parties) ingedeel, elk met 'n hoof/leier (Nash 1987:11-14; Rivett-Carnac 1974:23-24). John Bailie (5 Julie 1788-29 Julie 1852) was lid van 'n Anglo-Ierse grondbesittersfamilie, maar teen 1819 'n staatsamptenaar en sekretaris van die British War Claims Commission. Sy aansoek om te emigreer was een van die eerste om goedgekeur te word. Sy groep (Bailie's Party) het 'n groot aantal opgeleide ambagsmanne, winkeliers en professionele mense ingesluit, wat in die Albany-distrik nuwe dorpe tot stand moes bring. Ongeveer 600 persone (gesinshoofde) het aansoek gedoen om onder leiding van Bailie na die Kaap te verhuis, waaruit Bailie 100 gekies het. Uiteindelik het slegs ongeveer 'n derde van hulle (en hul gesinne, indien hulle getroud was) vir Bailie na die Kaap vergesel. Ander gesinne is egter ook by Bailie's Party ingedeel, sodat daar uiteindelik 244 persone (mans, vrouens en kinders) in sy groep was. Ses kinders is dood ter see, terwyl ses babas gebore is. Van hierdie groep het almal behalwe 19 as één groep aan boord die skip Chapman na die Kaap gevaar, terwyl die ander met ander skepe gevaar het (Nash 1987:39-43). Bailie is deur sy vrou, Amelia Crause (1792-1864; 'n Engelse dame van Kent) en hul vier seuns vergesel (Metrovich 1968:34; Nash 1987:40, 144). Die Chapman was die eerste van die ten minste 17 skepe3 wat die 1820-Setlaars na die Kaap gebring het. Die skip het op 3 Desember 1819 vanaf Gravesend in Engeland vertrek, by Tafelbaai aangedoen en het op 10 April 1820 in Algoabaai anker gegooi (Nash 1987:40; Schoeman 2019b:13-33; Bryer & Hunt 1987:22-26; Nash 1986:95).

Gegewe die groot impak wat die 1820- Britse Setlaars op die ontwikkeling van Suid-Afrika gehad het, is dit te verstane dat daar reeds 'n groot aantal publikasies oor die setlaars die lig gesien het. Slegs enkeles word hier genoem: Isobel E Edwards, The 1820 Settlers in South Africa; a study in British colonial policy (1934), Harold E Hockly, The story of the British Settlers of 1820 in South Africa (1957) en Dorothy Rivett-Carnac, Thus came the English in 1820 (eerste uitgawe in 1961, vierde in 1974) tel onder die ouer boekpublikasies. Om en by die 150ste herdenking van die aankoms van die setlaars het onder meer die volgende verskyn: Sir Arthur Snelling, The contribution of the British Settlers to South Africa (gepubliseerde lesing; 1970), E Morse Jones, Roll of the British Settlers in South Africa (twee dele; 1971) en Guy Butler (red.), The 1820 Settlers. An illustrated commentary (1974). Latere publikasies sluit in Lynne Bryer en Keith S. Hunt, The 1820 Settlers (eerste uitgawe in 1984, tweede in 1987), asook twee belangwekkende boeke deur MD Nash - meer oor hierdie twee publikasies in die volgende onderafdeling. Ten einde die aankoms van die 1820-Setlaars 200 jaar gelede te herdenk, het die Suid-Afrikaanse Genealogiese Vereniging in 2020 die boek van John Wilmot (red.), 1820 Settlers and other early British settlers to the Cape Colony bekendgestel.



Marjorie Diane ("Dee") Nash (gebore Murray; 10 Mei 1928-1 Oktober 2010) is in Grahamstad (nou Makhanda) gebore. Sy was 'n direkte afstammeling van die Britse Setlaar, John Bailie, en het met verloop van tyd 'n kenner van die geskiedenis van die 1820- Britse Setlaars geword. Sy is op 5 Januarie 1949 met James Stow Nash getroud en hulle het drie kinders gehad. Dee het 'n BA-graad aan die Rhodes Universiteit in Grahamstad en 'n BA-honneursgraad aan die Universiteit van Port Elizabeth (nou die Nelson Mandela Universiteit) verwerf, asook 'n MA-graad in Geskiedenis, cum laude, aan Rhodes Universiteit (1981). Vir baie jare was sy die hoof van die Kultuurgeskiedenisafdeling by die Albany-museum in Grahamstad/Makhanda. Later het sy haar in Kaapstad gaan vestig, waar sy as redakteur by 'n uitgewersmaatskappy gewerk het. Na haar aftrede het sy na Grahamstad teruggekeer, waar sy later oorlede is (Tanner-Tremaine 2020:1; Nash 1985:144 en agterste klapperteks).

Nash se navorsing in verband met haar voorgeslagte en die 1820- Britse Setlaars het in twee boeke neerslag gevind, naamlik Bailie's Party of 1820 Settlers: A collective experience in emigration (1982) - gebaseer op haar MA-verhandeling, "Bailie's Party of 1820 Settlers" - en The Settler handbook: A new list of1820 Settlers (1987). Eersgenoemde boek is deur Jeff Peires (soos na verwys deur Schoeman 2019b:5) beskou as 'n werk wat 'n omwenteling in 1820-Setlaarhistoriografie tot gevolg gehad het, terwyl Guy Butler dit as 'n modelpublikasie beskou het. Van The Settler handbook het Guy Butler in die voorwoord tot dié boek gesê (Nash 1987:8):

A most useful, scholarly and enjoyable book, particularly for those researchers and settler descendants whose interest goes beyond the heroic myth, and who want to know more about the real settlers who came to South Africa in 1820.

Nash was ook die outeur van verskeie artikels wat in historiese joernale verskyn het en was skryfster van die hoofstuk oor die Britse Setlaars in die Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika in woord en beeld (Nash 1986:94-99).4 Sy was die historiese raadgewer vir, en stem in, die SABC TV se 14-delige reeks, The Volunteers (1984), wat oor die Britse Setlaars gehandel het (Nash 1987: agterste klapperteks).

Karel Schoeman het Dee Nash die eerste keer in die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad ontmoet toe hy die hoof van dié biblioteek se Spesiale Versamelings was en sy met haar navorsing oor die 1820- Britse Setlaars voortgegaan het. Ná haar aftrede, het Nash haar lêers oor John Bailie en al haar ander navorsingsinligting aan Schoeman geskenk in die hoop dat hy (Schoeman) iets daarmee sou kon doen (Schoeman 2019a:5). Die Bailie's Party-trilogie is die uitvloeisel daarvan.

Nash se navorsingsmateriaal, insluitende ongepubliseerde stukke wat sy geskryf het, asook korrespondensie, word tans deur die 1820 Settlers Museum in Grahamstad/Makhanda in veilige bewaring gehou (Schoeman 2019a:399).



Elkeen van Schoeman se Bailie's Party-boeke is op sigself omvangryke werke. Die eerste deel, The old world 1757-1819, beslaan 360 bladsye teks, plus 21 bladsye endnote ('n totaal van 933 endnote), 27 bladsye bronne, en 'n register wat ses bladsye beslaan. Saam met die voorwoord, inhoudsopgawe, ensovoorts beslaan die boek in totaal 431 bladsye. Die tweede deel, The new land 1820-1834, bevat 534 bladsye teks, 64 bladsye endnote (2 791 endnote), 37 bladsye bronne (wat in 'n groot mate met die eerste deel se bronnelys oorvleuel) en 13 bladsye register. In geheel beslaan die tweede deel 651 bladsye. Die laaste boek in die trilogie, The frontiers 1834-1852, bevat 476 bladsye teks, 56 bladsye endnote (2 530 endnote), 27 bladsye bronne (wat weereens in 'n groot mate met die vorige twee boeke se bronnelyste oorvleuel) en 'n register van 13 bladsye; in die geheel 'n boek van 585 bladsye.

Die boeke in die trilogie se onderskeie totale omvang van 431, 651 en 585 bladsye, is vergelykbaar met die meeste van Schoeman se ander omvangryke werke, byvoorbeeld Armosyn van die Kaap: Die wêreld van 'n slavin, 1652-1733 (855 bladsye), Skepelinge: Aanloop tot 'n roman (573 bladsye), Cape lives of the eighteenth century (676 bladsye), Dogter van Sion: Machtelt Smit en die 18de-eeuse samelewing aan die Kaap, 1749-1799 (440 bladsye) en Early slavery at the Cape of Good Hope, 1652-1717 (507 bladsye). Altesaam beslaan die Bailie's Party-trilogie 1 667 bladsye (totale omvang), met 1 370 bladsye teks, 'n totaal van 6 254 endnote (141 bladsye) en 'n bronnelys van ongeveer 28 bladsye (dus met in agneming van die feit dat die drie onderskeie bronnelyste in 'n groot mate oorvleuel).

Schoeman het 'n groot aantal bronne geraadpleeg; dit is afgesien van die inligting wat mev. MD Nash versamel het en wat, soos reeds gemeld, tans in die 1820 Settlers Museum in Makhanda bewaar word. Die ander bronne wat Schoeman geraadpleeg het, sluit in algemene naslaanwerke; boeke (insluitende staatspublikasies en ander bronne) oor die Britse Ryk, sendinggeskiedenis en emigrasie; boeke (ensovoorts) oor die geskiedenis van Brittanje as sodanig; algemene werke oor wat vandag Suid-Afrika is; primêre bronne (byvoorbeeld argiefstukke) in verband met die Suid-Afrikaanse binneland, die Mfecane en die Transgariep, asook sekondêre bronne in dié verband; en soortgelyke primêre en sekondêre bronne rakende die geskiedenis van Natal (vandag KwaZulu-Natal). Schoeman het, op die spoor van Nash, uitstekende navorsing gedoen. Die minstens 6 254 endnote (waarna reeds verwys is) getuig ook daarvan dat Schoeman sy bronne goed ontgin het.

Soos al Schoeman se vorige manuskripte, wat deur Protea Boekhuis uitgegee is, is die drie Bailie's Party-boeke ook keurig versorg en in hardebandformaat gepubliseer. Afgesien van 'n illustrasie op elk van die stofomslae (wat in kleur gedruk is), is daar ook illustrasie-afdelings in elk van die boeke, met altesaam 102 afdrukke van toepaslike skilderye en ander illustrasies.

* * *

Nieteenstaande al Dee Nash se indringende navorsing oor haar voorsaat, John Bailie, is daar nie genoeg stof oor hom beskikbaar om 'n biografie oor hom te skryf nie; trouens, sy rol is nie belangrik of sy lewe interessant genoeg om 'n biografie te regverdig nie. Gevolglik het Schoeman besluit om Bailie se rol en die geskiedenis van sy familie as vertrekpunt te neem vir 'n ondersoek na die 1820- Britse Setlaars se wêreld - sowel in Europa as in wat vandag Suid-Afrika is (Schoeman 2019a:5). Trouens, die Bailies maak meesal net hier en daar hulle verskyning in die teks, totdat hulle in Deel 3 se laaste hoofstukke weer sterk op die voorgrond tree.

Ten einde te probeer vasstel watter soort mens John Bailie was, en hom en sy gesin beter te verstaan, het Schoeman voortgebou op die navorsing wat Nash reeds in dié verband gedoen het. Hy het egter ook die geskiedenis van die lede van die Bailie-groep nagevors. Al hierdie navorsing vind neerslag in die eerste deel van die driedelige werk. The old world eindig dus met die setlaars se vertrek uit Engeland in die winter van 1819-1820. Hier vind ons dus, wat betref Schoeman se werkswyse en aanbieding, 'n ooreenkoms met sy boeke rakende die Nederlandse (VOC-)kolonie aan die Kaap (waarna reeds in Onderafdeling 2 hierbo verwys is), waar hy byvoorbeeld in Patrisiërs en prinse die Nederlandse sosiokulturele agtergrond skets en in Handelsryk in die Ooste die wêreld van die VOC bespreek; en dan in die daaropvolgende boeke, byvoorbeeld in Burgers en amptenare, Here en Boere en Hoogty, die lewe aan die Kaap as sodanig aan die orde stel.

Gegewe die groot invloed wat die 1820- Britse Setlaars op die ontwikkeling van die Kaapkolonie (en by implikasie ook die res van Suid-Afrika) gehad het, dui Schoeman in Deel 1 aan wat hierdie setlaars na die Kaap gebring het - om met verloop van tyd in die Kaap by plaaslike omstandighede aangepas te word of oorboord gegooi te word. Schoeman konsentreer op die setlaars wat van Engeland afkomstig was (dus nie op diegene wat van Wallis, Skotland en Ierland afkomstig was nie), en nog meer spesifiek op Londen, waar 'n groot aantal oorspronklike setlaars gewoon het (Schoeman 2019a:6).

Dié dele in The old world wat oor Thomas Bailie (die vader van John Bailie en 'n offisier in diens van die Britse Oos-Indiese Kompanjie), die vroeë lewe van John Bailie, die geskiedenis van die Bailie-familie en die Britse emigrasieskema van 1819-1824 handel, is grootliks op Nash se navorsing gebaseer, terwyl Schoeman self die sosiokulturele agtergrond nagevors het. Hy dui ook in die Voorwoord aan dat hy van tyd tot tyd uit van Nash se konsepdokumente (ongepubliseerde manuskripte), notas en boeke aanhaal, sonder om deur middel van bronverwysings erkenning aan haar te gee (Schoeman 2019a:6). Vanuit 'n akademiese oogpunt is dit 'n ongelukkige besluit. Schoeman verontskuldig homself deur aan te dui dat sy uitgangspunt was dat die boeke die produk van gedeelde outeurskap is (Schoeman 2019a:6). Op elk van die boeke se titelblaaie word die outeur egter in groot letters as Karel Schoeman aangedui, met "based on the original research of MD Nash" in 'n kleiner lettertipe. Die kritiese leser sou graag presies wou weet watter Schoeman se woorde is en watter aan dié van sy sogenaamde "mede-outeur" toegeskryf kan word.

Die eerste deel van die trilogie bestaan uit dertien hoofstukke wat in drie dele verdeel word. Die Europese agtergrond (veral vanaf 1757) van diegene wat hulle in 1820 aan die Kaap kom vestig het word ontleed, ten einde die kulturele erfenis van die "ou wêreld" (The old world in die titel van dié boek) wat hulle na die Kaap (en by implikasie na die Suid-Afrika van vandag) gebring het, beter te kan begryp. Soos in van sy ander werke (vergelyk weereens, byvoorbeeld, sy reeks boeke oor die Nederlandse kolonie aan die Kaap) wil Schoeman dus hier aantoon uit watter verlede Suid-Afrika ontstaan het. In Deel 1 van die eerste volume, bespreek hy dus eers die Bailies van Inishargy in wat vandag Noord-Ierland is, in besonder Thomas Bailie. Verder bespreek hy die Ierse Rebellie van 1798 ('n rebellie wat as agtergrond vir Schoeman se bekroonde roman, By fakkellig, dien), en die gevolglike ballingskap van die Bailies. In Deel 2 volg 'n bespreking van John Bailie en ander familielede se nuwe begin in Londen. Daarna skets hy die Engelse wêreld tydens die bewind van koning George III (1738-1820; regeer 1760-1820) en waarom dit so vreemd vir die Bailies was. Landelike lewe en die oorgangsjare in Engeland se geskiedenis kom ook aan die orde. Deel 3 van die eerste boek dien as oorgang na die volgende boek: emigrasie en die mense wat daarby betrokke was word bespreek aan die hand van die projek (om te emigreer). Soos in onder meer sy boeke oor die VOC-bewindstyd aan die Kaap, plaas Schoeman dus ook die 1820- Britse Setlaars se aankoms en lewe aan die Kaap teen die breër agtergrond van hulle leefwereld in Brittanje en van wêreldgebeure in die algemeen.

Die tweede deel van die trilogie, The new land 1820-1834, fokus veral op die wyse waarop die setlaars by hulle nuwe omgewing en omstandighede aangepas het. Ook hierdie boek bestaan uit dertien hoofstukke, maar hulle word nie in dele gegroepeer nie. Die setlaars se vaart na die Kaap word bespreek, asook die grensgebied waar hulle hul gaan vestig het en die probleme wat hulle ondervind het. Verder beskryf Schoeman ook die Kaapkolonie in die algemeen, die Xhosas in die besonder en die Albany-distrik en sy inwoners. Ten slotte wy hy 'n hoofstuk aan John Bailie se rol in pogings om 'n hawe by die monding van óf die Kowie-rivier óf die Groot Visrivier tot stand te bring.

In die laaste volume van die trilogie, The frontiers 1834-1852, word die bydrae wat die 1820-Setlaars tot die ontwikkeling van koloniale Suid-Afrika gemaak het onder die loep geneem. In die konteks van die huidige vlaag van verset teen kolonialisme - hoe geregverdig dit ook al in sommige opsigte mag wees - is dit belangrik om nie by wyse van spreke die baba met die badwater uit te gooi nie. Dit sal onregverdig wees om dít, wat die 1820- Britse Setlaars tot die ontwikkeling van Suid-Afrika bygedra het, te verkleineer, te minag of te vergeet. Schoeman herinner ons dus tydig daaraan dat ons aan almal hulle regmatige plek in ons geskiedenis moet gee en nie individue of groepe se bydraes mag vergeet nie; trouens, soos Burger (2014:7) tereg al uitgewys het, kan Schoeman se hele oeuvre as "sy bolwerk teen vergetelheid" beskou word. Dit is ook waar van sy Baillie 's Party-trilogie.

Die derde boek bestaan uit elf hoofstukke en word ook nie in dele gegroepeer nie. Die eerste hoofstuk fokus spesifiek op die Bailie-gesin, waarna hoofstukke aan die Sesde Grens-oorlog (1834-1835), die dood van John Bailie se oudste seun, luitenant Charles Theodore Bailie, die gebeure na afloop van die oorlog, die Bailies en Algoabaai/Port Elizabeth, en hulle rol in die Transgariep (die huidige Vrystaat-provinsie) en in Natal (KwaZulu-Natal) afgestaan word.

Die oorlog het John Bailie se ondergang beteken en hy en sy gesin het na die Transgariep getrek waar hy as 'n handelaar gewerk het. Op 7 Julie 1845 het John Bailie en sy derde seun, Thomas, in 'n argument met kommandant Jacobus du Plooy betrokke geraak en laasgenoemde is doodgeskiet. Die Bailies, wat volgehou het dat hulle in selfverdediging opgetree het, is na die Kaapkolonie teruggestuur waar hulle aan moord skuldig bevind en ter dood veroordeel is (April 1846). Nadat talle vooraanstaande Oos-Kapenaars vertoë gerig het, is hulle straf tot lewenslange gevangenisstraf versag, maar nadat Du Plooy se weduwee bewyse dat hulle inderdaad in selfverdediging opgetree het voorgelê het, is hulle in Desember 1847 vrygelaat.

John Bailie het vervolgens na Natal gegaan waar hy 'n handelspos in Port Natal (Durban) opgerig het. Op eie onkoste het hy die kus opgemeet en kushandel tussen Port Natal en Port Elizabeth uitgebou. Hy het verdrink toe die skip Hector vergaan het (Metrovich 1968:35; Schoeman 2019c:341-485; Rivett-Carnac 1974:126-127). Bailie se jongste seun, John Amelius Bailie (1816-1883), het 'n bekende Weslyaanse sendeling geword, wat onder meer te Leliefontein gewerk het (Heese 1981:13-14).

Soos De Klerk en Haarhoff vroeër aangedui het (2007:127), is Schoeman se historiese studies eerder verhalend as analities van aard. Dit is ook waar van sy Bailie's Party-trilogie. Hy streef ook hier - soos hy vantevore self gesê het (Schoeman 2002:529) - om die verlede te probeer beskryf soos wat dit werklik was. Net soos in sy ander werke, het hy ook hier hoogs leesbare tekste op die tafel geplaas. Schoeman verromantiseer nie die mense oor wie hy skryf, of die verlede in die algemeen nie. In die 19de eeu (en daarna) was dit redelik algemeen om allerlei mites rondom pionierpersoonlikhede te skep, soos ook met die Bailies, maar Schoeman - soos Nash (Schoeman 2019c:486-488) - ontbloot dit en poog om 'n meer waarheidsgetroue en gebalanseerde beeld saam te stel. In ooreenstemming met van sy ander historiese werke, is ook in die boeke hier onder bespreking soms 'n opstapeling van feite wat aan die publikasies 'n ensiklopediese karakter verleen. Vir sommige sal dit 'n pluspunt wees, terwyl dit vir ander weer die boeke te swaarwigtig sal maak. Miskien is daar tog soms net te veel detail en te veel aanhalings; iets wat tot gevolg kan hê dat Schoeman sommige van sy lesers langs die pad kan verloor.

Die Bailie S-trilogie is nie Schoeman se eerste projek wat met die Britse invloed in Suid-Afrika handel nie, maar sluit in 'n mindere of meerdere mate aan by van sy ander werke in dié verband, byvoorbeeld The British presence in the Transorange 1845-1854 (met Schoeman as samesteller en redakteur; 1992, in die "Vrijstatia"-reeks) en Early white travellers in the Transgariep 1819-1845 (met Schoeman weereens as samesteller en redakteur, 2003, ook in die "Vrijstatia"-reeks).



Karel Schoeman se Bailie's Party-trilogie is 'n magistrale werk, net soos talle van sy ander studies en literêre werke. Vir Schoeman (soos vir enigiemand anders wat op 'n verantwoordelike wyse met die verlede omgaan) is dit vanselfsprekend dat ten einde die eietydse, multikulturele Suid-Afrika in al sy/haar gekompliseerdheid te verstaan, 'n mens onder meer die vroeë Suid-Afrikaanse (koloniale en ander) geskiedenis moet ken en begryp. Hierdie Afrikaanse skrywer van formaat dui (in Engels) aan dat naas dit wat Nederlanders en andere na Suider-Afrika gebring het, ook Engelssprekendes 'n onmisbare rol in die ontwikkeling van die gebied gespeel het. Hy skets en ontleed die wêreld van waar die 1820- Britse Setlaars na Suid-Afrika gekom het, en dui aan wat hulle na hul nuwe land gebring en uiteindelik daar nagelaat het. Hulle het na die onbekende gereis om daar - soms onder moeilike omstandighede - 'n nuwe tuiste vir hulself en hul nageslag te skep. Schoeman verheerlik nie kolonialisme nie, maar beskryf dit, insluitende die gevolge wat dit vir sowel die koloniseerders as gekolonialiseerdes ingehou het. Die wortels van die ontwikkeling van wat vandag Suid-Afrika is, moet nagespeur word. Een van die belangrike leitmotiewe in Schoeman se werk is die vraag na identiteit; en verder ook die soeke na sin en betekenis. Deur op Bailie's Party se groep 1820- Britse Setlaars te fokus, word lig op van bogenoemde en verwante kwessies gewerp. Hoewel Bailie's Party die hooffokus van Schoeman se trilogie is, verskaf hy inderdaad perspektiewe op die 1820-Setlaars in die algemeen. Met in agneming van die kort oorsig wat in Onderafdeling 3, supra, van die Setlaar-historiografie verskaf is, het Schoeman sonder enige twyfel 'n besondere bydrae tot hierdie historiografie gelewer; uiteraard ook danksy, en voortbouend op, die werk wat MD Nash gelewer het.

Vir Schoeman (soos vir mense in die algemeen) was/is die verlede 'n ander land (Schoeman 1995:58, 107, 382, 383; Viljoen in Burger en Van Vuuren (reds.):214-227); 'n vreemde land, 'n land wat moeilik begrypbaar was en is. In feitlik sy hele omvangryke oeuvre het hy egter deurlopend gepoog om daardie "ander land" te belig, te ontsluit en die leser op sy/haar ontdekkingstog na en deur die verlede te begelei. Deur middel van sy historiese romans het Schoeman mense, wat andersins nie oor geskiedenis sou lees nie, aan aspekte van Suid-Afrika (en ander lande, byvoorbeeld Ierland - kyk weer sy By fakkellig) se geskiedenis bekendgestel. Deur middel van sy meer tradisionele (hoewel nie altyd konvensionele) geskiedeniswerke, het hy sinvolle bydraes tot historiese debatte gelewer. Dit is jammer dat hy nie meer ongepubliseerde argiefstukke geraadpleeg het nie, maar - soos dit 'n goeie historikus betaam - het hy die groot aantal bronne wat hy wel geraadpleeg het krities ontleed en het hy male sonder tal nuwe sinteses geskep. Deur middel van omvangryke bronnelyste en 'n groot aantal bronverwysings (voetnote of endnote) gee hy rekenskap van die navorsing wat hy gedoen het. Dit is ook waar van sy Bailie's Party-trilogie. In hierdie trilogie lewer hy werk van waardevolle sosiokulturele aard en bestryk sy werk 'n ongelooflike wye spektrum.

Volgens Schutte (2012:137) het Schoeman altyd oor mense vir mense geskryf. Dit is ook waar van die boeke wat hier onder bespreking is. Schoeman slaag op meesterlike wyse daarin om die gees en die atmosfeer van die tydsgewrig waarin die 1820-Setlaars hulle aan die Kaap kom vestig het, vas te vang. De Klerk en Haarhoff (2007:146) het daarop gewys dat hy dít ook in sy boeke oor die VOC se tydperk aan die Kaap vermag het. Dit sluit aan by wat Schoeman self by geleentheid (Schoeman 2002:529) gesê het omtrent 'n belangrike oogmerk van sy historiese werke, naamlik om te poog om die "tekstuur van die verlede" weer te gee. In die voorwoord van die tweede deel van die trilogie (Schoeman 2019b:7), spreek Schoeman die hoop uit dat hierdie boeke van hom oor die 1820-Setlaars:

...will contribute towards a better understanding of the colonial past of South Africa and the elements that went towards its making, but also draw the attention of serious researchers to the wealth of material available on it.

Hierin het Schoeman uitstekend geslaag. Hopelik sal sy Bailie's Party-trilogie inderdaad wyd gelees word en tot 'n volwasse, oop gesprek en ingeligte debatte aanleiding gee; en verder ook tot nog méér navorsing oor die Britse en ander setlaars lei.

Die Bailie's Party-trilogie sluit dus by 'n ander sentrale tema van baie van Schoeman se ander werke aan in dié sin dat dit lig werp op die Westerse kolonisasie van wat vandag Suid-Afrika is. Soos De Klerk en Haarhoff al vroeër tereg uitgewys het (2007:147), verheerlik Schoeman geensins dié kolonisasieproses nie, maar probeer hy die proses begryp en die invloed daarvan op alle betrokkenes beskryf. Wat Rossouw (2015:7) van Schoeman se oeuvre in die algemeen gesê het, naamlik dat hy (Schoeman) besondere aandag aan die vergete stemme van die verlede gee, is ook waar van sy Bailie's Party-trilogie. Hoewel die Bailie's Party-boeke oor blankes handel, het Schoeman in die loop van sy navorsing oor baie jare ook stem aan die gemarginaliseerdes gegee - wit, bruin en swart. Die Bailie's Party-trilogie bou voort op die groot aantal boeke wat Schoeman vroeër reeds oor die geskiedenis van die Kaapkolonie geskryf het en gaan voort om (nou ook wat betref die Britse Setlaars) 'n besondere bydrae tot die geskiedenis van dié kolonie te lewer.

* * *

Soos in die meeste van sy historiese (en ander) werke, is Schoeman se Bailie's Party gemoeid met die Suid-Afrikaanse omstandighede. Schoeman probeer om so 'n volledige en realisties moontlike weergawe van die verlede (hier die 1820-Setlaars se agtergrond, leefwereld, ervaringe, en dies meer) te gee, maar vra by implikasie ook wat dit alles vir ons vandag (kan) beteken.

Die huidige tydsgewrig word onder meer deur sterk antikoloniale sentimente gekenmerk. Daar kan selfs van 'n kultuuroorlog teen alle vorme van die Westerse nalatenskap in Suid-Afrika gepraat word (Warwick 2020:7). Dat die koloniale verlede bevraagteken en krities geëvalueer word, is vanselfsprekend op sigself nie problematies nie. Die geskiedenis van kolonialisme, insluitende die wedloop om kolonies, oftewel die sogenaamde "scramble for Africa" deur Europese moondhede en die gevolge daarvan, getuig immers onder meer van die allerverskriklikste magsvergrype en wreedhede. Wanneer die gebeure van die verlede egter na behore begryp wil word, is dit noodsaaklik dat dié gebeure so onbevooroordeeld as menslik moontlik benader en in historiese konteks beoordeel moet word. Stem moet ook aan alle rolspelers gegee word en die gesprek moet voortgaan (en nie om ideologiese of watter ander redes ook al gekaap of gemanipuleer word nie).

Die geskiedenis van die 1820- Britse Setlaars is deel van alle Suid-Afrikaners se gedeelde koloniale verlede. Dit kan en mag nie geïgnoreer word nie; trouens, 200jaar ná hulle aankoms behoort hierdie gebeure tereg herdenk te word. Schoeman se Bailie's Party-trilogie help ons om opnuut, of vir die eerste keer, bestek op te neem van die gebeure en vir onsself rekenskap van hierdie aspek van ons almal se gedeelde geskiedenis te gee.

Die 1820-Setlaars kan immers as die voorpunt of voorhoede van Britse imperialisme en kolonialisme in die (Oos-)Kaap beskou word. Dáár het hierdie onverskrokke pioniers 'n nuwe lewe vir hulself uitgekerf, soms onder moeilike omstandighede. Hulle teenwoordigheid het egter langtermyngevolge vir die plaaslike Xhosa- en "Afrikaner"-gemeenskappe ingehou. Hulle invloed was egter nie tot die Oos-Kaap beperk nie, maar het ook na die destydse Natal en dié Britse kolonie se hoofsaaklik Zulu-bevolking oorgespoel. Die setlaars se teenwoordigheid in wat vandag Suid-Afrika is, het die Britse invloed op die gebied van taal, kultuur en lewenswyse, die politiek, landbou, en noem maar op versterk en uitgebrei. Sommige plaaslike kulturele groepe se taal, kultuur en lewenswyse - selfs hul lewens - is in 'n mindere of meerdere mate bedreig. As dit egter nie vir die invloed van die Britse Setlaars op die Xhosas was nie, sou die Xhosas nie vir so lank 'n dominerende rol in plaaslike swart politiek, opvoeding en letterkunde gespeel het nie. Uiteindelik het die 1820- Britse Setlaars se invloed (ten goede of ten kwade) so ver gestrek as die hele gebied wat in 1910 die Unie en in 1961 die Republiek van Suid-Afrika geword het. Trouens, hulle invloed op die sosiale, politieke, opvoedkundige en intellektuele geskiedenis van die land is steeds onomstootlik sigbaar. Die setlaars het 'n deurslaggewende rol in die vestiging van 'n liberale tradisie in Suid-Afrika gespeel. As dit nie vir hulle was nie, sou Engels nie vandag die dominerende rol in die staatsadministrasie, in die sakewêreld, alle vlakke van onderwys, en in sowel die gedrukte as elektroniese media gespeel het nie. Hulle het inderdaad 'n deurslaggewend belangrike rol in die (veral vroeë) transformasie van die Suid-Afrikaanse samelewing gespeel. Schoeman gee stem aan hierdie mense en daar moet (via en danksy Schoeman; en Nash) na daardie stemme geluister word - of 'n mens van hulle hou of met hulle saamstem, of nie.

Karel Schoeman was 'n merkwaardige skrywer, historikus, en veel méér. Hy was 'n meestervakman, 'n woordkunstenaar, 'n Renaissance-mens. Hopelik sal elke nuwe geslag Suid-Afrikaners danksy Schoeman se pennevrugte hulle eie én mede-Suid-Afrikaners se historiese en kulturele wortels ontdek of herontdek, en daarvan rekenskap gee, bestek opneem en hopelik met meer begrip en waardering met ander omgaan en saam lééf in hierdie Suiderland. Presies twee eeue nadat die 1820- Britse Setlaars in die Kaap aan land gegaan het, herinner Schoeman se Bailie's Party-trilogie ons dus opnuut aan 'n besonder belangrike gebeurtenis in die geskiedenis van wat vandag Suid-Afrika is. Tegelyk is dié drie boeke sáám 'n waardige toevoeging tot die 1820-Setlaarhistoriografie. Soos in talle van sy ander tekste, ontruk Schoeman ook hier gebeurtenisse aan die vergetelheid en probeer hy - suksesvol - aantoon waar die wortels van die Suid-Afrikaanse samelewing onder meer te vinde is. 'n Verdere pluspunt van die trilogie is dat - soos met die meeste van Schoeman se ander historiese werke - dit enersyds met groot vrug deur ernstige navorsers, insluitende voor- en nagraadse studente, geraadpleeg kan (en selfs moet) word, maar tegelykertyd ook vir die algemene belangstellende leser van waarde sal wees en sal boei.



Bloemfontein Courant, 4 Mei 2017.         [ Links ]

Bryer, L. & Hunt, K.S. 1987. The 1820 Settlers (2de uitgawe). Cape Town: Don Nelson.         [ Links ]

Burger, W. 2014. Oeuvre as sy bolwerk teen vergetelheid. Volksblad, 28 Oktober:7.         [ Links ]

Burger, W. & Van Vuuren, H. 2002. Sluiswagter by die dam van stemme. Beskouings oor die werk van Karel Schoeman. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Butler, G. (ed.). 1974. The 1820 Settlers. An illustrated commentary. Cape Town: Human & Rosseau.         [ Links ]

Butler, G. 1986. Die verspreiding en invloed van die 1820-setlaars. In T. Cameron (hoofred.). Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika in woord en beeld. Kaapstad: Human & Rousseau, pp. 100-101.         [ Links ]

Cameron, T. (general ed.). 1986a. An illustrated history of South Africa. Johannesburg: Southern Book Publishers.         [ Links ]

Cameron, T. (hoofred.). 1986b. Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika in woord en beeld. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

De Klerk, P. & Haarhoff, J. 2007. Die bydrae van Karel Schoeman tot geskiedskrywing oor die Kaapkolonie. Historia 52(2):125-149.         [ Links ]

Heese, J.A. 1981. Bailie, John Amelius. In C.J. Beyers (ed.-in-chief). Dictionary of South African biography 4. Durban: Butterworth & Co (SA) (Pty) Ltd, pp. 13-14.         [ Links ]

Hockly, H.E. 1957. The story of the British Settlers of 1820 in South Africa. Cape Town: Juta & Co, Limited.         [ Links ]

Krynauw, D.W. 1999. Beslissing by Blouberg: Triomf en tragedie van die stryd om die Kaap. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Metrovich, F.C. 1968. Bailie, John. In W.J. de Kock (ed.-in-chief). Dictionary of South African biography 1. Cape Town: Nasionale Boekhandel Bpk., pp. 34-35.         [ Links ]

Nash, M.D. 1979. John Bailie at the Buffalo River Mouth. Africana Notes & News 23:338-342.         [ Links ]

Nash, M.D. 1981. "Bailie's Party of 1820 Settlers". MA thesis, Rhodes University.         [ Links ]

Nash, M.D. 1986. Die Setlaars. In T. Cameron (hoofred.). Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika in woord en beeld. Kaapstad: Human & Rousseau, pp. 94-99.         [ Links ]

Nel, H.F. 1977. Die Britse verowering van die Kaap in 1795. In Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis 35(2). Pretoria: Staatsdrukker.         [ Links ]

Potgieter, T.D. 1997. The first British occupation of the Cape. S.l.: Castle Military Museum.         [ Links ]

Rivette-Carmac, D.E. 1974. Thus came the English in 1820 (4th edition). Cape Town: Howard Timmins.         [ Links ]

Rossouw, J. 2015. 'n Skrywer op soek na verlore tyd. Volksblad, 12 Junie:7.         [ Links ]

Schoeman, K. 1964: By fakkellig. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Schoeman, K. 1965. Veldslag. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Schoeman, K. 1980. Bloemfontein: Die ontstaan van 'n stad 1846-1946. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Schoeman, K. 1982. Die dood van 'n Engelsman: Die Cox-moorde van 1856 en die vroeër jare van die Oranje-Vrystaat. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Schoeman, K. 1992. The British presence in the Transorange 1845-1854. Cape Town: Human & Rousseau.         [ Links ]

Schoeman, K. 1995. Die uur van die engel. Kaapstad: Human & Rosseau.         [ Links ]

Schoeman, K. 1998a. Merksteen: 'n Dubbelbiografie. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Schoeman, K. 1998b. Verliesfontein. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Schoeman, K. 2001. Armosyn van die Kaap: Die wêreld van 'n slavin, 1652-1733. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Schoeman, K. 2002. Die laaste Afrikaanse boek. Outobiografiese aantekeninge. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Schoeman, K (ed.). 2003. Early white travellers in the Transgariep 1819-1940. Pretoria: Protea Book House.         [ Links ]

Schoeman, K. 2008. Patrisiërs en prinse: Die Europese samelewing en die stigting van 'n kolonie aan die Kaap, 1619-1715. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Schoeman, K. 2009. Handelsryk in die Ooste: Die wêreld van die VOC, 1619-1688. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Schoeman, K. 2010. Kolonie aan die Kaap: Jan van Riebeeck en die vestiging van die eerste blankes, 1652-1662. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Schoeman, K. 2011. Burgers en amptenare: Die vroeë ontwikkeling van die kolonie aan die Kaap, 1662-1779. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Schoeman, K. 2013a. Here en boere: Die kolonie aan die Kaap onder die Van der Stels, 1669-1712. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Schoeman, K. 2013b. Twee Kaapse lewens: Henricus & Aletta Beck en die samelewing van hul tyd, 1702-1755. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Schoeman, K. 2014. Hoogty: Die opbloei van 'n koloniale kultuur aan die Kaap, 1751-1779. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Schoeman, K. 2016. Swanesang: Die einde van die Kompanjiestyd aan die Kaap, 1771-1795. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Schoeman, K. 2017. Skepelinge: Aanloop tot 'n roman. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Schoeman, K. 2019a. Bailie's Party: The old world 1757-1819. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Schoeman, K. 2019b. Bailie's Party: The new land 1820-1834. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Schoeman, K. 2019c. Bailie's Party: The frontiers 1834-1852. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Schutte, G.J. 2012. Karel Schoeman's Cape Colony. African Historical Review 44(2):119-139.         [ Links ]

Tanner-Tremaine, P. 2020. E-pos aan A. Wessels. 20 Augustus.         [ Links ]

Van der Veer, R. 2017. Bij het overlijden van Karel Schoeman. Maandblad Zuid-Afrika, 94(6):134. Die Volksblad, 2-12 Mei 2017.         [ Links ]

Warwick, R. 2020. Die afwesigheid van 'n spesifieke Suid-Afrikaanse Engelse identiteit het hom nog altyd geïnteresseer. Rapport,'n-setlaar-20200719 [25 Augustus 2020].         [ Links ]



Ontvang: 2020-09-15
Goedgekeur: 2020-10-25
Gepubliseer: Desember 2020




Andre Wessels studeer aan die Universiteit van die Vrystaat en behaal die grade BA, BA Honneurs (Geskiedenis) en MA (Geskiedenis) - almal cum laude - asook 'n DPhil in Geskiedenis in 1986. Hy was verbonde aan die Natalse Onderwysdepartement (1980-1983), werksaam by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (1984-1987) en is sedert 1988 dosent in Geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat, waar hy tans senior professor is en departementshoof was vanaf 2006 tot 2018. Hy is ook 'n Besoekende Professorale Genoot by die University ofNew South Wales UNSW, Canberra aan die Australian Defence Force Academy. Sy navorsing fokus op Suid-Afrikaanse militêre geskiedenis, met besondere verwysing na die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902, en die geskiedenis van die land se gewapende magte sedert 1912. Hy is die outeur, mede-outeur of redakteur van tien boeke, outeur of mede-outeur van ongeveer 120 geakkredi-teerde akademiese tydskrifartikels, asook hoof-stukke in boeke, meer as 130 boekresensies en talle ander publikasies.
Andre Wessels studied at the University of the Free State and obtained the degrees BA, BA Honours (History) and MA (History) - all of them cum laude - as well as a DPhil in History in 1986. He was employed by the Natal Department of Education (1980-1983), worked for the Human Sciences Research Council (1984-1987), and since 1988 he has taught History at the University of the Free State, where he is now a senior professor, and was head of the department from 2006 to 2018. He is also a Visiting Professorial Fellow at the University of New South Wales UNSW, Canberra, at the Australian Defence Force Academy. His research focuses on South African military history, with special reference to the history of the Anglo-Boer War of 1899 to 1902, and the history of the country's armed forces since 1912. He is the author, co-author or editor of ten books, author or co-author of some 120 articles in accredited academic journals, as well as chapters in books, more than 130 book reviews, and several other publications.
1 Die kort biografiese besonderhede wat hier verskaf word, is onder meer ontleen aan talle koerantberigte wat ná Schoeman se dood verskyn het, byvoorbeeld in Volksblad, 3 Mei (2017:1, 7); 4 Mei (2017:1, 8, 9) en 5 Mei (2017:3, 6); Bloemfontein Courant, 4 Mei (2017:1) en 12 Mei (2017:7). Kyk verder ook byvoorbeeld Schoeman (2002), asook Van der Veer (2017).
2 Kyk in hierdie verband, naas 'n groot aantal resensies in akademiese tydskrifte en in koerante, veral ook die uitstekende artikels van De Klerk en Haarhoff (2007:125-149), en Schutte (2012:119130).
3 Volgens Nash (1986:95) was daar 21 skepe, maar Nash (1987:35) lys die name van 17 skepe. Schoeman (2019b:13) aanvaar dat ten minste 17 skepe gebruik is om die setlaars na die Kaap te neem, maar verwys ook na bronne wat tot soveel as 27 skepe vermeld. Hockly (1957:35-38) identifiseer 19 skepe.
4 Die oorspronklike Engelse weergawe van dié boek was An illustrated history of South Africa (Cameron (general ed.) 1986a) met Nash se hoofstukbydrae op pp. 94-99.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons