SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 número4-2Citizenship Education for living successfully in 2050 and beyondThe Bailie's Party trilogy: Karel Schoeman (and MD Nash) and the 1820 British Settlers índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.60 no.4-2 Pretoria dic. 2020

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n4-2a7 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die NG Kerk en die Rebellie van 1914-1915: Was die Raad van Kerke kerklik versoenend?

 

The Dutch Reformed Church and the Rebellion of 1914-1915: Was the Council of Churches ecclesiastically reconciliatory?

 

 

PJ Strauss

Navorsingsgenoot, Departement Historiese en Konstruktiewe Teologie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika. E-pos: straussp@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die Rebellie van 1914 tot 1915 sou vir dekades 'n spoor van verdeeldheid onder Afrikaners laat. Hierdie stryd of botsing was hoofsaaklik tussen Afrikaners as regeringsoldate aan die een en rebelle aan die ander kant. Die Rebellie sou volg op die besluit van die Suid-Afrikaanse Regering, bestaande uit oorwegend Afrikaners, op 12 September 1914, naamlik om Duits-Suidwes-Afrika (Namibië) in te val en oor neem. Die agtergrond was die Eerste Wereldoorlog en die motief strategiese redes wat Brittanje in sy stryd teen Duitsland kon help. Die Unie van Suid-Afrika was sedert 1910 onafhanklik onder die Britse kroon.
Afrikanerrebelle kon hierdie besluit nie aanvaar nie. Die aggressie teen Duits-Suidwes was offensief van aard en die meeste Afrikaners voorstanders van slegs 'n defensiewe oorlog. Die Rebellie was van korte duur: van 27 Oktober 1914 tot aan die begin van Februarie 1915. As 'n protes was die Rebellie 'n tragedie: dit was nie goed beplan of uitgevoer nie.
Hierdie saak sou die agenda van die NG Kerk kruis. 'n Spesiale vergadering van die Federale Raad van NG Kerke (RvK) word vanaf 27 tot 29 Januarie 1915 in Bloemfontein byeengeroep om daaroor te besluit. Die vergadering van die Raad word voorafgegaan deur 'n konferensie van die RvK met 92 NG predikante "uit alle deelen der kerk".
Volgens die Raad moet die regering erken en wet en orde in staat, kerk en gesin eerbiedig word. Verset teen 'n wettige owerheid moet in die lig van Gods Woord en 'n Bybels-verligte gewete geregverdig word. Die huidige opstand kan nie net met geweld beantwoord word nie. Owerheid en volk moet die redes vir die opstand grondig ondersoek en regverdig hanteer. Teregstellings soos die doodstraf van Jopie Fourie moet gestaak word. Kerklike tug in sake met 'n politieke inhoud is verdag.
Die RvK kies nie kant nie en begenadiging en gesprek as stappe tot versoening word voorgestel.

Trefwoorde: Rebellie, opstand in lig van Woord, eerbied vir regeringsgesag, opstand of rebellie uit Gods Woord geregverdig, ondersoek van teenoorstaande standpunte saak, regverdigheid en vergifnis, versoening en regverdig-heid


ABSTRACT

The Rebellion which took place in South Africa in 1914 to 1915 can be described as a violent clash between Afrikaner and Afrikaner: between Afrikaners in the service of the South African army, and Afrikaners as rebels. The Rebellion was neither well planned nor properly executed and lastedfor only three to four months. In the process 190 rebels and 132 soldiers were killed. As an act of resistance against the South African Government and its declared intention to take over the Government of German South West Africa (now Namibia), the Rebellion was a tragic failure. It led to an emotional division in Afrikaner circles which lasted for decades.
The Rebellion was an example of the conflict between Afrikaner nationalism and British imperialism in Southern Africa in the nineteenth and twentieth century. The Botha Government intended to take over German West Africa for strategic reasons on behalf of Great Britain in the First World War (1914-1918). Many Afrikaners regarded this as morally wrong - they were supporters of a defensive war only - as well as contrary to their goodwill towards Germany, which had supported the Boer Republics morally against Britain during the Anglo-Boer War (1899-1902), only 12 years previously.
The majority of Afrikaners belonged to the Dutch Reformed Church (DRC). This factor, together with the spiritual and physical disorder in South African society at the time, put the Rebellion on the agenda of the DRC. The broadest assembly in the DRC, consisting of 30 people - the Federal Council of Churches - called a meeting in conjunction with a conference of 92 DRC ministers in Bloemfontein, central South Africa from 27 to 29 January 1915.
The Federal Council saw itself as an instrument acting on behalf of "our" people to bring about unity, spiritual health and a new spiritual strength. They felt that a divided church could not fulfil its task as a church in society if "our" people were divided.
Well-known ministers of the DRC took the initiative for the meeting. Among them was JD Kestell, lovingly referred to by Afrikaners as "Vader (Father) Kestell". The upcoming young minister from Graaff-Reinet, and future South African Prime Minister from 1948 to 1958, dr. DF Malan, was asked to draft a list of proposals for the conference/council. As a filter for the Federal Council, the conference accepted the draft proposals - more or less the work of Malan - on 28 January 1915. Their resolutions were unanimously and, on behalf of the DRC, officially accepted by the Council on 29 January 1915.
The Council requested church councils not to discipline members as rebels before emotions had toned down after the war. At this stage - in January 1915 - the Council rendered it impossible for the church as an outsider to determine the causes of the Rebellion. That had to be done if discipline were to be implemented according to justice. The Council supported law and order in the state, as well as society and family, and decided that resistance against the Government could only be justified if it happened in the light of God's Word and with a conscience enlightened by the Word. However, they realised that peace and justice would not be restored in South Africa if the resistance were to be answered by violence only. The Government and people had to find out what had caused the conflict and talk about the reasons for resistance. That would allow justice to prevail and true peace and order to be restored. The DRC accepted its calling to serve the Afrikaner because it was a Christian and national church.
Although the Council did not choose between government and rebels, it nevertheless harboured an underlying sympathy for the latter. It accepted that a justified rebellion was possible. It also wanted talks about the causes for the clash to enable rebels to be restored with dignity and honour in society.
Apart from this, the Council accepted two important resolutions: resolutions which, if accepted by the authorities, would pave the way towards peace after the Rebellion. In the case of teachers who might be fired by the Government for participating in the revolt, the Council requested a proper investigation before such termination of service and the acknowledgement of circumstances, which could lead to a softer approach. The Council also asked that the death penalty not be used again after the rebel and soldier Jopie Fourie had been shot for high treason on 20 December 1914. The Council seemed to be sensitive to the emotional reaction of their church members in this regard.
With these talks as a proposal, the Council opened the way for reconciliation to follow and dignified peace to be accomplished. However, the Council did not initiate any other initiatives, and the emotional and economic damage of the Rebellion had to be addressed by the Afrikaner and Afrikaner institutions themselves. Such an institution was the Helpmekaar Fund, from which damages caused by the rebels were paid and a study fund established for young Afrikaners. Companies such as the well-known Santam and Sanlam also ensued from this fund.
The Dutch Reformed Federal Council of Churches, as an assembly in the church, did not do everything in its power as an arm of the church to achieve justice and reconciliation after the Rebellion, but nevertheless helped that peace and reconciliation be restored.

Keywords: Rebellion, resistance in light of the Word, respect for authorities, revolt or rebellion in the light of God's Word only, thorough investigation of divergent issues, justice and pardoning, reconciliation and justice


 

 

1. INLEIDING

Die veelbesproke Rebellie van 1914 tot 1915 in Suid-Afrika, wat destyds as 'n unie onder die Britse Kroon gestaan het en 'n soewerein-onafhanklike staat of dominium in die Britse Statebond was (Webb 1916:37), het intense bitterheid en verskeurdheid onder Afrikaners veroorsaak: 'n verdeelheid wat dekades daarna sou voortduur (Scholtz 1941:277; Du Toit 2014:195).

Die meer as 11 000 rebelle was Afrikaners: 7 123 uit die Noord-Vrystaat; 2 998 uit die toenmalige Wes-Transvaal; en 1 251 uit die Noord-Kaap. Die meerderheid van die regeringsoldate en polisiemanne met wie die rebelle gewelddadig sou bots, was ook Afrikaners. Aan rebellekant sou 190 man sneuwel en aan regeringskant 132 (Giliomee 2012:288). Die eerste skote het op 27 Oktober 1914 by Rooiwal naby Pretoria geklap. Teen die middel van Desember was die vyandelikhede feitlik verby en die laaste rebelle het hulle aan die begin van Februarie 1915 by Upington aan regeringsmagte oorgegee. Die Rebellie was swak beplan gebrekkig georganiseer en toegerus, terwyl die rebelle se redes vir hulle optrede uiteenlopend van aard was (Van Zyl Hattingh 2000:78; De la Rey 1998:35). Hierdie faktore het hulle gedrewenheid en effektiwiteit verlaag en bevestig die indruk dat die Rebellie op die keper beskou, 'n tragedie1 en nie 'n weloorwoë, deurdagte inisiatief was nie (Scholtz 1942:97, 186212; Van der Watt 1987:342; Giliomee 2012:288). Scholtz voer aan dat 'n "baie groot gedeelte van die burgers (tot die helfte) wat aan die opstand deelgeneem het" ongewapen en nie van "die nodige" voorsien was nie. Sommige het met haelgewere, windbukse en perde van 'n swak gehalte by die rebelle-kommando's opgedaag (Scholtz 1942:206-207; Schoeman s.a.:29; Van Zyl Hattingh 2000:15, 79). Teenoor hierdie ongeorganiseerde "mag" het die SA Regering ongeveer 30 000 goedbewapende manne in die veld gestoot (Scholtz 1942:210)

Die omvangryke Eerste Wereldoorlog waarin ook Brittanje en Duitsland teenoor mekaar te staan sou kom, het op 4 Augustus 1914 uitgebreek (Scholtz 1941:279; De la Rey 1998:55). Die afspraak van die Suid-Afrikaanse premier, generaal Louis Botha, met die Britse Regering was dat die Unie homself sou verdedig indien die land aangeval word. Hierdie defensiewe benadering stem ooreen met die tradisionele houding by Afrikaners dat 'n geregverdigde oorlog onafwendbaar moet wees en op noodweer of selfverdediging moet neerkom2 (OVS Volksraadsnotule 27:09:1899:145-146; Wessels 1977:205; Van Schoor 1997:31, 168vv).

Daaroor was daar in die bepalende blanke politiek in Suid-Afrika op daardie stadium nie verskil van mening nie. Sake sou egter nie hierby bly nie. Op versoek van die Britse Regering keur die Suid-Afrikaanse Parlement dit op 12 September 1914 met 'n groot meerderheid goed dat Suid-Afrika Duits-Suidwes-Afrika (Namibië) offensief binneval en verower om sekere strategiese oogmerke teen Duitsland te bereik (Scholtz 1942:94; Koorts 2014:118; De la Rey 1998:77-78,82). Skrywers toon aan dat die Suid-Afrikaanse regering reeds in Augustus van plan was om Duitswes binne te val en dat die opposisie, die Nasionale Party van generaal Hertzog, dit reeds op 26 Augustus verwerp het (Grundlingh & Swart 2009:16). Só beland die spreekwoordelike vet in die vuur. Die Bittereinders uit die Anglo-Boereoorlog (ABO) - let op die plekke van herkoms van die rebelle hier bo genoem - was sterk verteenwoordig onder die rebelle van 1914-1915.3 Wat hulle betref sou Suid-Afrika en die Afrikaners in die Regering vanweë 'n pro-Britse sentiment met 'n inval in Duitswes 'n historiese staatkundige beginsel prysgee. Daar was ook rebelle wat Brittanje se betrokkenheid by die Eerste Wereldoorlog as 'n geleentheid beskou het om die onafhanklikheid van die Boererepublieke te herstel, of hulle verset teen opkommandering of verpligte diens in die Unieverdedigingsmag te toon. Generaal CF Beyers wat uit protes teen die 12 September-besluit op 14 September 1914 as bevelvoerder van die Unieverdedigingsmag bedank het, sê in 'n brief aan premier Botha op 23 November 1914, "Te Velde" dat hy besig was met 'n lydelike vlug om aan die Regeringsmagte te ontsnap, en dat die rebelle protesteer teen die fisiese verowering van Duits-Suidwes-Afrika en nie die Britse vlag nie (volledige brief in D'Assonville s.a.:115).4

Die Rebellie was 'n voorbeeld van die stryd tussen Britse imperialisme en Afrikaner-nasionalisme in Suid-Afrika in die negentiende en twintigste eeu. Die weglating van generaal JBM Hertzog uit Botha se kabinet na Hertzog se standpunt van "Suid-Afrika eerste!" in 1912 het nasionalisme onder Afrikaners gestimuleer. Die redes was die volgende: dié "nasionalis-tiese" houding het ingedruis teen generaals Louis Botha en Jan Smuts se konsiliasie- of pro-Britse Rykspolitiek vir die Unie (Beyers 1977:579); die inwyding van die Nasionale Vrouemonument op 16 Desember 1913 met 'n skare van 20 000; en die stigting van die Nasionale Party as 'n politieke arm in 1914. Daar was 'n geesdrif onder Afrikaners, wat 'n positiewe gevoel oor die redes van die Rebellie sou versterk (Van der Watt 1987:341).

Hoewel die Rebellie van 1914 tot 1915 slegs enkele weke geduur het, het die konflik en daaruit-vloeiende emosies, bitterheid en verskeurdheid diep letsels op die Afrikanergemeenskap gelaat. Du Toit oordeel dat die geskiedenis van 'n hele geslag daarin saamgepers is en die effek daarvan 'n halfeeu later nog voelbaar was (Du Toit 2014:195). Die feit dat die honderdjarige herdenking van die Rebellie in 2014 tot talle publikasies gelei het, onderstreep die lewendige profiel wat hierdie gebeure onder belangstellendes in die geskiedenis van Suid-Afrika en die Afrikaner het. Die Rebellie en rebelle is ook nie vergeet deur hulle geestelike en biologiese nageslag nie.5

Om die emosies wat daarmee gepaardgegaan het, te verwoord, haal Giliomee vir president Steyn aan: "die kinders van die konsentrasiekampe" is deur 'n Afrikanerregering gedwing om oorlog te maak teen Duitsland wat in die ABO van 1899-1902 simpatiek teenoor die twee Boererepublieke gestaan het (Giliomee 2012:288).

Du Toit toon dat die Rebellie nie 'n komplot was om die regering van die dag omver te werp nie,6 maar dit het tog 'n ernstige breuk onder Afrikaners veroorsaak. Vanweë die verweefdheid van die NG Kerk en die Afrikaner - die meerderheid Afrikaners was NG lidmate - het die Rebellie emosies en politieke stryd onder Afrikaner-kerk en -volk "wesentlik" geraak. Volgens Du Toit het Volksraadslede, lede van Provinsiale Rade, regslui en onderwysers, asook ryk en arm boere aan die kant van die rebelle tot die stryd toegetree. Die NG Kerk kon die kwessie nie ignoreer nie (Du Toit 2014:195).

Hoewel hyself nie aan die Rebellie deelgeneem het nie en kerklike optrede in die saak voorgestaan het, beskryf dr. DF Malan in sy herinneringe (Malan 1959:22-24) die emosie rondom die Rebellie op sy kenmerkende manier. Volgens hom is Suid-Afrika onder die Botha-Smuts-leuse van "eer en plig" (vgl. Webb 1916:38) aan Engeland se kant in die Eerste Wereldoorlog ingetrek. Deur die kommandering van die Unieverdedigingsmag is dwang uitgeoefen op 'n geslag wat net 12 jaar tevore "na 'n langdurige en bittere stryd vir vryheid en reg" teen Brittanje hul onafhanklike republieke moes prysgee. Die wonde was nog vars (Booyens 1969:273). Die Botha-Smuts-beleid was volgens Malan "onmenskundig", "polities verwerplik", "onsielkundig", "onmoontlik" en "onmenslik". Daarom het mondelinge protes geneig na 'n gewapende protes met drie gewaardeerde Boeregeneraals, naamlik generaals De la Rey, Beyers en De Wet, aan die spits (Booyens 1969:273). Hierdie protes het die Botha-Smuts-regering genoop om self sy "troepe" te mobiliseer.7 Saam met ander dominees probeer Malan op Saterdag 19 Desember 1914 om JC Smuts as die betrokke minister te spreek met die versoek om Jopie Fourie, 'n dienende lid van die Unieverdedigingsmag, maar ook 'n rebel wat weens hoogverraad deur 'n veldkrygshof op 18 en 19 Desember 1914, ter dood veroordeel is, te begenadig. Fourie sou na sy verhoor deur 'n krygsraad vroeg Sondagoggend 20 Desember as die eerste rebel gefusilleer word (Grobler 2014:76). Wat die predikante en ander Afrikaners diep verontrus het, was die ongewone spoed waarmee Smuts en die res van die Kabinet die saak wou afhandel. Die predikante kon Smuts egter nie sien nie omdat, volgens die indruk van Malan, hierdie oud-Sondagskoolonderwyser van hom op Riebeeck-Wes hulle doelbewus ontwyk het (Malan 1959:22-24; Giliomee 2012:288).

Hoe dit ook al sy, die NG Kerk sou die impak van die Rebellie van 1914 tot 1915 op kerk en volk nie ontwyk nie. Die gebeure soos verwoord het diep ingesny in die gemeenskap waarin hierdie kerk primêr gewerk het. Regeringsmense én rebelle was NG lidmate. Daarom word die breedste vergadering in die NG Kerk op daardie stadium, die Federale Raad van NG Kerke (Raad van Kerke of RvK), vir 'n buitengewone vergadering op 27 Januarie 1915 in Bloemfontein saamgeroep, gekombineer met 'n konferensie van predikante uit die NG Kerk (NGK 1915:1; vgl. Booyens 1969:279).

Vrae wat ontstaan, is: Wat was die kerklike optrede van die RvK in die kwessie van die bykans afgelope Rebellie teen die einde van Januarie 1915? Wat was die standpunt van die RvK in die omstandighede en is dit Bybels-eties en kerklik verantwoord? Het die NG Kerk 'n sinvolle kerklike rol gespeel?

 

2. FEDERALE RAAD VAN NG KERKE

Behalwe vir die Trans- of Overvaalse NG Kerkgemeentes wat hulle eie pad sou loop, was al die NG gemeentes in Suider-Afrika tot 1862 saamgetrek in die Kaapse Sinode of die Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika - soos dit sedert die Kaapse Sinode van 1842 genoem is (NGK van ZA 1842:199). In 1862 kom die Kaapse Hooggeregshof met 'n uitspraak in die Loedolffsaak wat die Kaapse sinodale verband van die NG Kerk - die NG Kerk in Suid-Afrika - tot die grense van die destydse Kaapkolonie beperk. Hierdie uitspraak het beteken dat die afgevaardigdes van die Transgariep-gemeentes, oftewel gemeentes buite die Kaapkolonie, hulle van die Sinode moes onttrek (Gerdener 1925:99-100; Van der Watt 1973:104).

Met die uitsondering van hierdie strukturele eenheid in sinodale verband, sou die NG Kerkgemeentes dwarsdeur Suider-Afrika egter hulle wesenlike eenheid behou. Hulle was steeds een in belydenis, kerkregering, kerkorde, erediens of liturgie, die inrigting van die kerk en - hoewel dit nie bepalend kan wees nie - in voertaal ('n soort Afrikaans-Nederlands). Daarom kon Transgariep-gemeentes voortgaan om predikante wat op die Stellenbosse Kweekskool klaarmaak, asook ander dominees uit die Kolonie te beroep. Lidmate is oor en weer met bewys van lidmaatskap ontvang.

Vanuit die eenheid in belydenis en kerkregering sou daar by hierdie NG Kerkgemeentes 'n sluimerende behoefte aan strukturele sinodale eenheid bly. Die latere noordelike Sinodes (die NG Kerk in die Oranje-Vrystaat sedert 1864, Natal sedert 1864, en Transvaal of die ZAR sedert 1866) het die Kaapse Kerk as hulle "moederkerk" beskou en versoek dat die Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika hul as samewerkende susterskerke aanvaar. Van der Watt (1980:216-218) voer aan dat die begeerte na sinodale eenheid 'n verdere stimulus gekry het in die eertydse Boererepublieke, die Kaapkolonie én in Natal deur die gemeenskaplike ervaring van die Afrikaner in die Anglo-Boereoorlog (1899-1902).

Uiteindelik het afgevaardigdes van die vier sinodes die eerste keer op 9 en 10 Augustus 1905 op Colesberg in 'n konferensie byeengekom. Hoewel die sinodale verband nie herstel is nie, is 'n federale verband gevorm met 'n raad van gefedereerde kerke as sy spreekbuis. Anders as met 'n sinode, sou die besluite van hierdie Raad nie sy samestellende sinodes of kerke kerkordelik bind nie, maar adviese wees (Kleynhans s.a.:331): adviese wat in die kerklike praktyk wel bind as dit - tipies van die aard van die kerk - innerlik oortuig, adviese wat die oortuigings van die Raad verwoord, en nie soseer 'n juridiese of kerkregtelike nie, maar 'n geestelike of geloofsgesag dra. Die RvK was 'n losser federale verband wat die voorloper van 'n nouer sinodale verband kon wees: 'n sinodale verband wat in 1962, presies 'n honderd jaar na die Loedolffsaak, 'n algemene sinode gevorm het. Van der Watt oordeel dat die RvK in die geskiedenis van die NG Kerk "altyd 'n monumentale en unieke plek" sal beklee. Dit het "onskatbare dienste" bewys as 'n effektiewe skakel tussen sy samestellende Sinodes (Van der Watt 1973:159; Van der Watt 1980:219; NGKO 2015:11 artikel 36,37).

Die RvK sou bestaan uit 14 lede van die Kaapse, 7 lede van die Transvaalse en Vrystaatse Sinode en 2 lede van die Natalse Sinode - altesaam 30 lede. Behalwe dat die RvK die sake moes hanteer wat sy lede, die sinodes of hulle sinodale kommissies op die agenda plaas, moes dit na die "algemene belangen dezer Kerken" of die NG Kerk in sy geheel, omsien (Kleynhans sa:331). In die lig van wat reeds oor die impak van die Rebellie (1914-1915) gesê is, was dit teen Januarie 1915 emosioneel-strategies onvermydelik dat die RvK as die aangewese liggaam in die NG Kerk hierdie netelige saak hanteer. Daarom is hierdie buitengewone vergadering van die RVK byeengeroep.

 

3. DRUK OP NG KERK OM OP TE TREE

Ontwikkelings in die samelewing én in die NG Kerk sou 'n spesiale vergadering van die RvK stimuleer. Soos reeds genoem, sou 'n konferensie van die RvK met 92 NG predikante die eerste twee dae hiervan uitmaak.

Daar is reeds verwys na die dramatiese gebeure van 18-20 Desember 1914, wat uitgeloop het op die vuurpeloton van Jopie Fourie. Die bekendheid van sekere persone wat saam met DF Malan op Saterdag 19 Desember by generaal Smuts vir die begenadiging van Fourie wou uitkom, sou die belangrikheid van die betrokkenheid van die NG Kerk by die Rebellie verhoog.

Onder die manne wat Smuts wou spreek, was Malan, 'n NG dominee van Graaff-Reinet en 'n lid van die RvK, ds. HS Bosman, 'n leidende figuur in die NG Kerk van Transvaal, 'n lid van die RvK en vriend van premier Louis Botha, die latere regter Gey van Pittius, en Jan Joubert, 'n Unieparlementslid en seun van generaal Piet Joubert, in lewe kommandant-generaal van die ZAR en die Boereaanvoerder by Majuba in 1881 (Malan 1959:22: Booyens 1969:280282). In hierdie "deputasie" was die NG Kerk én nasionale Afrikanerbelang verteenwoordig. Volgens Malan het die invloedryke Hendriena Joubert,8 'n bekende vrou onder Afrikaners en weduwee van generaal Piet Joubert, teen 05:00 die Sondagoggend die skote van die vuurpeloton gehoor: skote wat figuurlik in die ore en harte van duisende Afrikaners dwarsdeur Suid-Afrika weerklink en in die geskiedenis van die Afrikaner in kerk en staat weergalm het (Malan 1959:24; De Kock 1976:431); skote wat die bitterheid en tweespalt oor die Rebellie onder Afrikaners verdiep het. Koorts noem "die jong offisier Jopie Fourie" die "vernaamste martelaar van die Rebellie in 1914" (Koorts 2014:120).

Na die Regering se verklaring vroeg in Oktober 1914 dat luitenant-kolonel Manie Maritz by Upington naby die grens van Duits-Wes gerebelleer het, publiseer 11 Kaapse NG predikante 'n ope brief waarin die Rebellie in sterk taal afgewys word. Die invloed van premier Botha op die brief is egter ook sigbaar. Botha se poging om die vier NG Kerk moderators te kry om die Rebellie af te wys, was nie 'n sukses nie. JD Kestell van die Vrystaat en P Nel van Transvaal het nie gereageer nie; Steytler van die Kaap het 'n oproep om 'n biddag gedoen; terwyl HF Schoon van Natal wel lidmate in De Kerkbode gevra het om hulle van die Rebellie te distansieer (Van der Watt 1987:344).

Intussen sou Vader Kestell, 'n leiersfiguur in die Vrystaatse NG Kerk (De Kock 1976:441) en ds. NJ van der Merwe, 'n reisende sekretaris van die Christen-Studentevereniging of CSV (Scholtz 1944:32), in kontak met lidmate tot die gevolgtrekking kom dat die NG Kerk kan skeur. Sommige kerkrade wou rebelle en ander regeringstroepe tugtig. In hierdie omstandighede moes die Kerk in die breë leiding gee (Malan 1959:20-21: De Kock 1976:442). Van der Watt wys op NG Kerk predikante in die Vrystaat wat vanweë hulle simpatie met die rebelle in die tronk beland, asook kerkrade waarop regerings- én rebelsgesindes sitting neem. 'n Skeuring het onafwendbaar gelyk. Die NG Kerk sou lidmate wat gerebelleer het, moes hanteer én die gebeure moes beoordeel.

Die verdeeldheid veroorsaak deur die botsing tussen die regering en die rebellie het deurgesny tot 'n kloof tussen predikante en lidmate onderling, terwyl die vraag na die toepassing van die vyfde gebod oor gehoorsaamheid aan die staatsowerheid ook die agenda van die NG Kerk gekruis het. Om as die kerk van Christus in die gereformeerde tradisie getrou aan sy opdrag te wees en om die NG Kerk uit hierdie verdeeldheid te lei, was nodig. Daarom word daar op 'n predikantekonferensie en buitengewone vergadering van die RvK op 27 Januarie 1915 "en volgende dagen" in Bloemfontein besluit (NGK 1915:1).

 

4. RAAD VAN KERKE DEK TAFEL

Op 27 Januarie 1915 wys die voorsitter van die RvK, ds. DS Botha, in sy opening van die konferensie van die RvK plus 92 NG predikante "uit alle deelen der kerk" (NGK 1915:3,20,21), opnuut op druk op die NG Kerk in die "ernstige politieke crisis" waarin Suid-Afrika verkeer. Die politieke verdeeldheid kon tot die Kerk deurdring. Ingewikkelde probleme moet kerklik-versigtig hanteer word om te verhoed dat kerkvergaderings besluite met negatiewe gevolge neem. Die doel van die byeenkoms of konferensie van die RvK en predikante, is om die kerklike situasie te oorweeg wat uit die politieke toestande spruit. Verdeeldheid moet teengegaan word, versoening teweeggebring en die kerk sterk en gesond gemaak word om in belang van "ons volk" teregwysend, helend, verenigend en versterkend op te tree. 'n Verskeurde kerk kan nie sy roeping teenoor 'n verdeelde volk vervul nie.

Die byeenkoms word in drie fases verdeel: 'n konferensie van die RvK met die predikante teenwoordig oor kerk en amp op dag een; besluite van die konferensie oor die situasie rondom die Rebellie en die roeping van die kerk op dag twee; en 'n vergadering van die RvK vir amptelike besluitneming op dag drie (NGK 1915:3-4, 14 en 22).

Wat uit Botha se opening blyk, is dat predikante soos hy die druk op die NG Kerk om as kerk rondom die Rebellie op te tree, aanvoel, maar oordeel dat die kerk nie die kant van die Regering moet kies nie. Die NG Kerk moet na binne, teenoor die staat en die Afrikaner-gemeenskap, versoenend en helend optree. Die NG Kerk moet 'n eie kerklike rol speel en 'n Bybels-etiese of Bybelsgebaseerde vertrekpunt in die saak moet die grondslag van die versoening wees. Emosies loop hoog, maar hierdie leraars wil hulle kerklike selfstandigheid behou. Natuurlik sou die voorafuitsprake van lede van die RvK soos DS Botha, DF Malan, JD Kestell en HF Schoon meebring dat daar van hulle sekere standpunte verwag word, maar hier moes die NG Kerk as 'n kerk van Christus die konsekwensies van die Woord toepas.

Na aanleiding van 'n wenk van die bekende afgetrede ds. Andrew Murray van Wellington, word 'n leidraad vir die bespreking en konsepvoorstelle vir besluitneming vooraf opgestel (NGK 1915:4; Malan 1959:27). Die onderwerpe vir die konferensie van dag 1, op 27 Januarie 1915, wat deur 'n teoloog en twee predikante ingelei word, is: 1) "Die Here van die gemeente" deur professor JI Marais; 2) "Die dienaars van die Here" deur ds. AF Louw, en 3) "Die gemeente van die Here" deur ds. JD Kestell (NGK 1915:5, 7, 11). Reeds voor middagete is daar genoeg lede teenwoordig vir 'n kworum om die RvK as "wettig" te konstitueer. Daar word ook 'n kommissie uit die vergadering benoem wat voorstelle wat reeds vir die RvK opgestel is, asook voorstelle wat uit die konferensie kom, moet oorweeg om " in behoorlijke vorm" voor die vergadering te lê: die "Commissie van Regeling" (Booyens 1969:287). Hierdie voorstelle moes teen die aand van 27 Januarie in gedrukte vorm aan almal beskikbaar gestel word. Dit moes handel oor die kerklike situasie, die optrede van die owerheid en "volksbewegingen", die roeping van die NG Kerk in die situasie én tug oor diegene wat aan die "opstand" deelgeneem het. Die voorstelle dien op 28 Januarie voor die konferensie. Op 29 Januarie moes die RvK besluit hoe hy gevolg gaan gee aan die "resultaten der Conferentie". Ds. Botha sluit sy opening af met 'n gewigtige pleidooi:

"Wij moeten't beste voor onze kerk en voor onze volk doen met de begeerte om God te behagen ... (ons moet ons) door Gods Woord en Geest ... laten leiden" (sodat God sy plan met ons kerk en volk kan deurvoer). (NGK 1915:4)

Om historiese redes word die name van die Kommissie vir Voorstelle hier vermeld. Hulle was manne wat teen 1915 reeds duidelike spore in die NG Kerk getrap het en in hierdie sensitiewe uur die aangewese persone was om leiding te gee: di. DS Botha,9 PGJ Meiring,10 DJ Pienaar,11DF Malan,12 JD Kestell,13 PS van Heerden,14 Paul Nel,15 AJ Louw,16 en HF Schoon.17 Hierdie manne moes help dat die RvK in 1915 die wa deur die drif sleep: vir die NG Kerk, die meerderheid Afrikaners en 'n Christelik-begronde vrede en versoening in Suid-Afrika.

Vanuit die RvK het die keuse vir die opstel van 'n voorafkonsep van voorstelle op die jong DF Malan geval.18 In sy boek oor Afrikanereenheid stel Malan, 'n deeglike en metodiese denker (Thom 1980:14; Koorts 2014:134), dit teen 1959 so:

... daar was geen tyd om te verloor nie. Stilte, ernstige bepeinsing en vertroue op die leiding van die Opperwese, in Wie se hand die lotgevalle van ons volk gerus het, was nou nodig. Daarvoor het ek die sandduine aan die bo-ent van Die Strand gekies en ure daar deurgebring. Die konsepresolusies het ek daar opgestel. So is dit daarna aanvaar . . (Malan 1959:27)

 

5. RAAD VAN KERKE BESLUIT

In die konferensie van 27 en 28 Januarie 1915 wat die vergadering van die RvK op 29 Januarie voorafgaan, het professor Marais beklemtoon dat die lig van die kruis op die NG Kerk val: "Wij behooren dan ook in geenen deele pessimistish te zijn". Uit die boodskappe aan die sewe gemeentes van Klein Asië in Openbaring 2 en 3 kan die NG Kerk prinsipieel en kerklik koers kry (NGK 1915:5). In die bespreking wat volg, beklemtoon professor PJG de Vos dat die NG Kerk soos Paulus by die punt moet kom dat hy vra: "Wat wilt Gij, Heer, dat ik doen moet?" By die apostelkonvent in Jerusalem van Handelinge 15, het die Here en die apostels; dit is, die Here deur die apostels, besluit (NGK 1915:6).

Na middagete pleit ds. Louw dat die vergadering nie moet vra wat die Here aan hom sal gee nie, maar wat die Here wil hê "ik" moet doen. Hy verwys ook na Openbaring 2 en 3 (NGK 1915:8). Ds. HF Schoon voeg hierby dat die dominee nie moet baasspeel nie, maar die lig en heerskappy van Christus moes versprei (NGK 1915:10).

Tydens die aandsessie oor die gemeente van die Here sluit JD Kestell ook by Openbaring 2 en 3 aan. Volgens Kestell sorg die Here vir sy gemeentelike kern. Elkeen moet hom self afvra watter skuld hy aan die toestand waarin Suid-Afrika en die Kerk tans is, het (NGK 1915:11).

Voordat die konferensie op Vrydag 29 Januarie amptelik verdaag om plek te maak vir die RvK, dien 'n voorstel van di. AJ Louw en DJ Pienaar dat die sake van onderwysers wat omrede hul deelname aan die " opstand" uit hulle poste ontslaan kan word, voor ontslag ten opsigte van die omstandighede en redes vir hulle deelname deur die "autoriteiten" behoorlik ondersoek en versagtende omstandighede "genoegsaam" oorweeg word. Hierdie voorstel word met algemene stemme deur die konferensie aanvaar. Hierna eindig die konferensie (NGK 1915:22).

Op hierdie stadium gee ds. Louw kennis van 'n voorstel dat geen verdere rebelle deur die regering tereggestel word nie. Die mosie was reeds by die Kommissie vir Voorstelle wat dit aanvaar het.

Na die konferensie kon die RvK na die verslag van die Kommissie vir Voorstelle kyk.

Voordat die RvK na die verslag van die Kommissie vir Voorstelle kyk, word 'n voorstel van DF Malan, gesekondeer deur ds. Strasheim, goedgekeur dat die RvK die besluite van die konferensie aanvaar. Hierdie voorstel kry die eenparige steun van die Raad (NGK 1915:23). Op sy minste getuig dit daarvan dat die RvK wat betref die verslag van die Kommissie vir Voorstelle op hierdie stadium tot 'n breë konsensus gekom het - 'n konsensus wat reeds op die predikantekonferensie gevorm is, waar dit met enkele amendemente aangevul is.

 

6. KONFERENSIEBESLUITE AANVAAR DEUR RAAD

Die eerste afdeling van die besluite handel oor die politieke situasie in Suid-Afrika. Die mosies hieroor in die verslag van die Kommissie word voorgestel deur professor De Vos en gesekondeer deur ds. Louw. Hierin begin die konferensie, en 'n dag later die RvK, met sy "diepe smart" ('n geykte NG term wat 'n eeu later nog gebruik word om te oortuig!) oor die ernstige verdeeldheid in die politieke lewe en onder Afrikaners; 'n toestand wat tot wantroue en verbittering lei én die "gewapende strijd en die vergieting van bloed tusschen volksgenooten" wat deur bande van bloed en geloof aan mekaar verbind is. Die Here kan - volgens die oortuiging van die konferensie/Raad - die gebeure gebruik om verlore verhoudinge met Hom en die eenheid tussen die strydendes te herstel. Alle partye moet "vaderlandsliefde" beoefen en tot 'n Christelike gesindheid van verdraagsaamheid en selfopoffering kom, "vooral bij alle leidslieden van ons volk". Ter wille van die eensgesindheid van die konferensie/RvK word die kritiek op alle leiers (dus ook Botha en Smuts) "van ons volk" geskrap. Hierdie deel van die besluite word afgesluit met die hoop dat die politieke verdeeldheid nie op die NG Kerk oorgedra word nie (NGK 1915:15-16; Du Toit 2014:201).

Die tweede afdeling van die voorgestelde besluite handel oor die kerklike situasie. Die voorsteller is ds. Paul Nel en die sekondant ds. PGJ Meiring. Die NG Kerk was sku vir ernstige verdeeldheid oor die Rebellie en versoek kerkrade om nie klagtes te hanteer voordat die oorlog verby is en gemoedere gekalmeer het nie. Hierdie deel word algemeen aanvaar (NGK 1915:17; Du Toit 2014:202).

Die derde deel van die voorstelle oor die standpunt van die NG Kerk het meer bespreking uitgelok. Die voorsteller van die Kommissie vir Voorstelle se mosies is ds. JD Kestell en die sekondant ds. JM Louw. Oor die staatsowerheid word verklaar dat die kerk dit as sy christelike plig beskou en leer dat wet en orde in staat, kerk en gesin eerbiedig en gehandhaaf moet word: "om des gewetens wil" kan jy jou alleen om gewigtige, gegronde redes teen die wettige owerheid verset. Na 'n lang bespreking skrap die voorstellers die sinsnede "om des gewetens wil". Die rede hiervoor is waarskynlik dat hierdie uitdrukking in Romeine 13:5 vir 'n positiewe onderwerping aan die gesag van die owerheid en nie 'n negatiewe verset daarteen nie, aangewend word. Die gewigtige en gegronde redes word deur Kestell en Louw vervang met "die goedgekeurd worden door Gods Woord en door Gods Woord verlicht geweten". Daarmee kies die konferensie/Raad vir die moontlikheid van 'n gegronde rebellie: 'n gegronde rebellie wat deur die vae woordkeuse van die amendement nie duideliker word nie.

Hierdie laaste sinsnede staan volgens die vergadering teen 'n amendement van di. HS Bosman en DP Ackerman, wat 'n gedeelte van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) artikel 36 in die plek van die gewigtige en gegronde redes wou invoeg. Die interpretasie van hierdie belydenis se onderwerping aan die owerheid met eer en eerbied "in alle dingen" wat nie stry met Gods Woord nie, impliseer volgens die vergadering egter dat rebellie te alle tye verbode is. As gevolg van die situasie op daardie stadium was die konferensie en die konferensie/RvK nie daarvoor te vinde nie.

Ten opsigte van volksbewegings spreek die konferensie dit as sy "ernstige overtuiging" uit dat ware vrede en blywende eensgesindheid in die land nie herstel kan word as verset teen die owerheid slegs met geweld teengegaan word nie. Die "overheid en volk " moet ernstig en onpartydig navraag doen na die beweegredes vir die verset en alle faktore en griewe wat tot die huidige situasie bygedra het. Dan kan die bevoegde outoriteite regverdig én tegemoetkomend aan die volkswil handel.

Kestell en Louw se veranderde voorstel word met 49 teen 22 stemme aanvaar. Bosman en Ackerman laat aanteken dat hulle in die minderheid gestem het (NGK 1915:17-19). Hierdie skuif bevestig die vermoede dat hulle as Botha-manne die Rebellie van 1914 tot 1915 deur die aanhaling van die NGB wou afwys. Na die vergadering probeer Bosman sy vriend Louis Botha oortuig dat die besluite van die konferensie/RvK nie so "ernstig" is nie. Malan was die opsteller van die oorspronklike voorstelle en "hy is slim". Hy wat Bosman is, het egter 'n paar wysigings deurgekry (Du Toit 2014:205).

Met "algemene stemmen" word op voorstel van DF Malan en DJ Pienaar aanvaar dat die NG Kerk naas 'n algemene roeping ook 'n besondere roeping teenoor die "Hollandsch-sprekend Afrikaner volk" het. Die NG Kerk moet "nationaal" wees en waak oor "onze" nasionale belange. Die Afrikaner moet leer dat hy 'n roeping van God het, wat lei tot die geestelike, sedelike en stoflike vooruitgang en krag van die volk. Die NG Kerk se roeping ten opsigte van die bevordering van die Koninkryk van God en die voortbestaan van die Afrikaner word gedien deur buite die partypolitiek te bly, tensy godsdienstige of sedelike beginsels en die belange van Gods Koninkryk op die spel is (NGK 1915:19).

Die vierde deel van die verslag van die Kommissie vir Voorstelle handel oor die kerklike tug en word op voorstel van ds. CD Bam gesekondeer deur ds. P du Toit met een teenstem deur die konferensie aanvaar. Die besluit: die NG Kerk kan in die situasie alleen tot die tughandeling oorgaan as hy oor inligting beskik om die juiste aard en oorsake van die opstand te bepaal. Hy moet aan die hand hiervan onpartydig - 'n reël van natuurlike geregtigheid vir kerkvergaderings wat billik wil optree (Sadler 1979:51) - kan oordeel en optree. Soos na afloop van die ABO, moes die tug - ook wat die Rebellie betref - egter gelaat word omdat laasgenoemde opstand voortvloei uit politieke oortuigings waaroor die NG Kerk nie geroepe was om te oordeel nie. Die Rebellie het nie op dieselfde vlak as "grove zonden" teen die godsdiens of sedelikheid gelê nie - die normale redes vir die kerklike tug (NGK 1915:20).

Naas hierdie voorstel aanvaar die konferensie aan die einde van die Donderdagaand - kort voor 24:00 en met "algemeene stemmen" - die mosie van ds. AJ Louw dat die RvK die owerheid versoek om die doodstraf vir rebelle te staak. Die RvK moet hom per petisie hieroor na die betrokke minister wend (NGK 1915:20). Ook hierdie voorstel word op 29 Januarie 1915 deur die RvK aanvaar.

Die RvK reël daardie oggend verskeie sake wat met die uitkoms van die konferensie en vergadering verband hou: die druk en versprei van die notule; die besluite aan De Kerkbode en ander nuusblaaie; 'n Engelse vertaling van die besluite deur Malan en Meiring; 'n herderlike skrywe aan die NG Kerk (gemeentes?) deur Kestell, Bosman, Schoon, AJ Louw en Malan; die opstel van die petisie oor die doodstraf deur Botha en Malan; en die oorhandiging daarvan aan die ter sake minister deur Bosman en Nel. Laasgenoemde twee dominees moet met die "bevoegde autoriteiten" in verbinding tree om Duitse predikante en sendelinge in Suid-Afrika wat sonder 'n klag teen hulle krygsgevangenes is, vry te laat. Aan die administrateurs van die provinsies moet die besluit oor die afdanking van onderwysers gestuur en 'n saak van gevange Hollandse predikante met "bevoegde autoriteiten" opgeneem word (NGK 1915:23-24).

Uit hierdie reëlings word een ding duidelik: die RvK wou sy standpunt wyd uitdra en onmiddellik werk maak daarvan. Soos die voorsitter in sy openingswoord aangedui het, wou die RvK rondom die Rebellie van 1914 tot 1915 teregwys, heel, verenig en versterk: oogmerke wat hy wou bereik met besluite wat die NG Kerk - sonder dat die onderliggende band met volksgenote en rebelle verberg word - in staat stel om as kerk van Christus sy roeping uit te leef; besluite wat die kerk buite die politiek hou sonder om werklikheidsvreemd te wees en wat 'n weg voorstel om aan owerheid en rebel die geleentheid te bied om waardig uit die stryd te tree enjuis daarom te heel en te versoen. Die rebelle word nie sonder die kans op 'n regverdige ondersoek aan 'n strafproses uitgelewer nie en die owerheid word nie kil en klinies veroordeel nie. Die opdragte aan lede vir skakeling met buite-instansies hou ook sigbaar rekening met die bepaalde lid van die Raad se persoonlike vermoë. Daarom word Kestell met sy sterk pastorale inslag en mensvaardighede én verering as Vader Kestell onder Afrikaners, en Malan met sy begrip vir die taak van die NG Kerk in die samelewing, by die herderlike brief ingedeel. HS Bosman van Pretoria19 en die gesoute Paul Nel het moontlik meer invloed by die "autoriteiten" as ander en Meiring se Engels is moontlik vloeiender en meer aanvaarbaar as dié van die legendariese Oos-Vrystaatse dominees van Bethlehem en Kestell, CP Theron en EJP Smit!

Ten opsigte van owerheid en rebel gee die RvK die eerste tree van 'n versoeningsaksie: 'n aksie van versoening wat kon uitloop op 'n versoeningskommissie, wat moontlik is as die beoogde goeie gesindhede in kerk en staat as vertrekpunte aanvaar word. In hierdie opsig was die RvK - vanweë die feit dat getroue lidmate hulle aan beide kante van die stryd bevind en sy beklemtoning van regverdigheid en versoening - waarskynlik sy tyd 'n bietjie vooruit. As die RvK iets hiervan kon waar maak, sou hy die bitterheid en verdeeldheid van dekades kon temper: 'n bittere verdeeldheid wat ongeorganiseerd op 'n "natuurlike" manier moes uitsweer.

In sy geheel het die RvK hiermee gekies vir twee standpunte wat beide gereformeerd aanvaarbaar is: eerbied vir die owerheid én 'n rebellie of "opstand" - die woord wat deurgaans in die besluite voorkom en tog 'n sekere godsdienstige kleur daaraan verleen - wat die toets van Gods Woord kan deurstaan. Meer as 'n jaar later skryf Malan in Die Burger dat daar vir die NG Kerk vier moontlikhede oop was: eerstens kon die kerk die gebeure geïgnoreer het, wat onverantwoordelik sou wees; tweedens kon die NG Kerk die Rebellie summier of ongekwalifiseerd veroordeel het, wat ongereformeerd sou wees; derdens kon die kerk op die meriete van die "opstand" ingegaan het en daardeur op die terrein van die staat oortree; en vierdens - vir hom die oplossing - moes die kerk hom aan geen van die twee kante skaar nie (Du Toit 2014:205; Booyens 1969:293).

 

7. NAWERKING VAN DIE RAAD VAN KERKE

Sommige skrywers oordeel dat hierdie dokument met die besluite van die RvK in 1915 een van die belangrikstes in die geskiedenis van die NG Kerk was. Dit het 'n skeuring voorkom en die weg vir die ander twee Afrikaanse gereformeerde kerke gebaan om min of meer gelykluidende besluite te neem (Van der Watt 1987:348; Booyens 1969:293). In die Engelstalige koerante was daar egter maande lank hewige kritiek. Die vereenvoudigde betoog was dat die NG Kerk met sonde gespeel het en Romeine 13 geïgnoreer het om die rebelle vry te laat uitkom (Du Toit 2014:203).

Volgens Vader Kestell wou die besluite sê: "God is in onze geschiedenis - onze kerk is nasionaal". Malan wys op die onderskeid tussen die kerklike beoordeling van sake en die kerklike tug. Die RvK het nie die Rebellie goedgekeur deur die versoek - sy besluite is immers adviese aan die kerk - dat geen tug toegepas moet word nie. Net so het die Vrystaatse NG Kerk nie hoogverraad goedgekeur toe besluit is om hensoppers en joiners tydens die ABO van 1899 tot 1902 nie te tugtig nie. Nie elke verkeerde daad by lidmate is - geweeg in sy konteks - amptelik kerklik tugwaardig nie. Tugwaardige sondes wat deur kerkvergaderings hanteer moet word, moet van 'n openbare, ergerlike of aanstootlike (vir die kerk in die omstandighede) aard wees. Dit gaan nie om elke misstap nie. Só 'n aanpak kan 'n kerkraad voltyds besig hou (Du Toit 2014:204; NGKO 2015:17).

Kestell se opsomming verraai 'n motief vir die ondertone van simpatie en 'n sagte benadering, ten minste by Kestell, teenoor die Rebellie in die besluite van die RvK. Kestell se rol in die konferensie en daaropvolgende vergadering van die RvK én sy kommentaar agterna, illustreer sy innerlike onvermoë om sy vriend en held uit die ABO, generaal De Wet, teen te gaan. De Wet was in die sentrum van die Rebellie. Kestell sou dit nie oor sy hart kry om De Wet vir 'n daad wat drup van Afrikanersentiment deur 'n kerkvergadering te laat veroordeel nie (Strauss 2015:94). Hy wat self nie 'n vegtende burger of veggeneraal wou wees nie (Van Schoor 1992:88), het De Wet as krygsman bewonder. Volgens sy eie bekentenis het hy president Steyn as mens liefgehad, maar generaal De Wet gevrees. De Wet het die sagter, maar besliste dominee en herder min of meer "gehipnotiseer". Op die vraag waarin De Wet se krag lê, het Kestell geantwoord: De Wet is met niemand intiem nie, maar met almal vriendelik. Soos alle groot leiers is hy altyd so geheimsinnig soos 'n "Sfinx" (Kestell 1902:99100). In die voorwoord van sy "Met de Boerenkommando's" vertel Kestell dat hy as notulehouer die notule van die Vredesberaad by Vereeniging in Mei 1902 as 'n aanhangsel in sy boek wou opneem. Op versoek van die uitgewer in Amsterdam, Wormser, het hy die werk aan sy eie boek egter gestaak om De Wet se De strijd tuschen Boer en Brit te redigeer en taalkundig te versorg. Daarby het hy ingestem dat genoemde notule in De Wet se boek in plaas van in syne verskyn en dat De Wet se verhaal voor syne uitgegee word. Kestell se boek word Africana, maar die wydbekende, beroemde De Wet se werk was daarbenewens ook 'n treffer in Europa en het uiteindelik in ses tale verskyn (Kestell 1902: voorwoord)! Hierdie gebeure dui daarop dat die egte pastor ook nie vir die belange van die sonderlinge generaal kon "nee" sê nie.

In April 1915 aanvaar die NG Kerk se Sinode van Natal die besluite van die RvK. Die Kaapse Sinode vergader in Oktober en November 1915. Na 'n bespreking, wat duur van 10 tot 12 November, aanvaar dié Sinode ook die besluite van die RvK. Afdeling drie oor die standpunt van die kerk word egter uitgebrei met die stelling dat hierdie afdeling nie impliseer dat die regering of rebelle se optrede goed- of afgekeur word nie. Die ondertone van simpatie vir die rebelle in die besluite van die RvK is waarskynlik vir hierdie verduideliking verantwoordelik. In Mei 1916 vergader die Sinodes van Transvaal en die Vrystaat. Albei keur die RvK se besluite goed. In sy teleurstelling oor afgekeurde amendemente skryf ds. Bosman uit Pretoria aan generaal Botha dat die jong leraars die oorhand gehad het. "Zij zijn almal aanbidders van Dr Malan." Die Algemene Kerkvergadering van die Ned Hervormde Kerk van Afrika (NHKA, Mei 1916) en die Sinode van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (GKSA, Maart 1916) loop ten opsigte van die koers dieselfde pad as die RvK (Du Toit 2014:209-2013; Strauss 2015:94).

Met hierdie houding het die RvK, die Sinodes in die NG Kerk en GKSA asook die Algemene Kerkvergadering van die NHKA prinsipieel saamgestem: die kerk kan nie die Rebellie behoorlik beoordeel nie en daar mag 'n situasie onstaan waarin 'n opstand geregverdig kan word. Hierdie samevatting impliseer dat die prinsipiële kwessie van 'n opstand teen die owerheid en kerklike optrede in so 'n geval deeglik deurtrap is. Die drie Afrikaanse gereformeerde kerke het daarby nader aan mekaar beweeg en meer gesamentlike aksies van stapel gestuur (Du Toit 2014:213). Grundlingh en Swart beweer dat die RvK se onderliggende simpatie vir die saak van die rebelle aan hierdie beweging "enorme stukrag" verleen het om 'n "lang skaduwee" in die geskiedenis van Suid-Afrika te werp (Grundlingh & Swart 2009:21).

Uit die gekollekteerde bedrae van die Helpmekaarvereniging wat in 1916 gestig is, is die boetes en skuld in verband met skadevergoeding van die rebelle betaal. In destydse terme was hierdie bydraes van Afrikaners onder die omstandighede, 12 jaar na die verwoestende ABO, indrukwekkend. Meer as R500 000 (dit was destyds bereken op 250 000 Engelse pond) is aan rebelle in die Noord-Vrystaat uitbetaal, ongeveer R1 000 000 aan rebelle elders en R184 000 sou oorbly. Hieruit sou 'n studiefonds vir jong Afrikaners en die stigting van versekerings-maatskappye soos Santam en Sanlam kom (Giliomee 2012:289). Die afloop van die Rebellie was 'n tragedie, maar nie sonder nuwe eenheid en inisiatiewe onder Afrikaners nie.

 

8. SLOT

Die Rebellie van 1914 tot 1915 onder Afrikaners sou emosioneel diep in hierdie gemeenskap insny.

In hierdie proses sou die besluite en handelinge van die betrokke kerkvergaderings in die NG Kerk drie sake duidelik weerspieël. Die eerste is dat kerke by die waarheid en gees van die Woord van God in hulle besluite moet bly, ook waar hulle eie lidmate betrokke is, en nie ongefundeerde, oningeligte, werklikheidsvreemde en gevolglik ongeloofwaardige uitsprake maak nie. Daarby moet lidmate se aanvoeling van wat reg en billik in die lig van die Woord en situasie is, erken en bereken word (Torfs 2003:260). Die tweede is dat die kerk nie geregtigheid na alle kante mag miskyk nie. Die kerk kan nie onchristelike onreg of partydigheid ter wille van politieke korrektheid of 'n gehegtheid aan kulturele besit sanksioneer nie. Die derde is dat die kerk as 'n instelling van Christengelowiges moet optree. As die kerk praat of doen, moet Christus en Bybelse waardes uit sy optrede blyk.

Rondom rebellie en opstand het die RvK hierdie riglyne gevolg. Die druk van simpatie vir die saak én die persone van die Rebellie - die RvK was volgens woordvoerders Christelik én nasionaal - was egter ook aanwesig. Uiteenlopende standpunte wat mekaar wedersyds beïnvloed én besorgheid oor die kerklike roeping in die situasie het gelei tot verdedigbare besluite: besluite wat onder gereformeerde Afrikaners wye aanvaarding gevind het.

 

BIBLIOGRAFIE

Beyers, C.J. (hoofredakteur). 1977. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Beyers, C.J. (hoofredakteur). 1981. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek IV. Pretoria: Butterworth.         [ Links ]

Booyens, B. 1969. Die lewe van D.F. Malan. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

D'Assonville, V.E. s.a. O Vaalrivier! ... Broederstroom. Pretoria: Marnix.         [ Links ]

De Kock, W.J. (hoofredakteur). 1976. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek I. Kaapstad: Tafelberg (2e druk).         [ Links ]

De la Rey, H. 1998. Die ware generaal Koos de la Rey (saamgestel deur Lappe Laubscher). Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

De Wet, C.R. 1959. Die stryd tussen Boer en Brit. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Du Toit, F. 2014. Die Afrikaanse kerke en die Rebellie. In: Langner, D.J. & Raath, A.W.G. (reds). Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal, pp. 195-246.         [ Links ]

Gerdener, G.B.A. 1925. Sarel Cilliers. Die vader van Dingaansdag. Pretoria: Van Schaik (2e druk).         [ Links ]

Giliomee, H. 2012. Afrikanernasionalisme 1902-1924. In Pretorius, F. (redakteur). Geskiedenis van Suid-Afrika. Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg, pp. 275-292.         [ Links ]

Grobler, J.E. 2007. Uitdaging en antwoord. 'n Vars perspektief op die evolusie van die Afrikaners. Brooklyn: Grourie.         [ Links ]

Grobler, J.E. 2014. Jopie Fourie - martelaar van die Rebellie. In Raath, A.W.G. & Langner, D.J. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal.         [ Links ]

Grundlingh, A. & Swart, S. 2009. Radelose Rebellie? Dinamika van die 1914-1915 Afrikanerrebellie. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Kestell, J.D. 1902. Met de Boeren-commandos. Mijne ervaringen als veldprediker. Amsterdam/ Pretoria: Höveker & Wormser.         [ Links ]

Kleynhans, E.P. J. s.a. Die kerkregtelike ontwikkeling van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1795-1962. S.l.:s.n.         [ Links ]

Koorts, L. 2014. D.F. Malan en die opkoms van Afrikanernasionalisme. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Kruger, D.W. (hoofredakteur). 1972. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek II. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Malan, D.F. 1959. Afrikaner-volkseenheid en my ervarings op die pad daarheen. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

NG Kerk (NGK). 1915. Handelingen van eene buitengewone vergadering van den Raad der Ned Geref Kerken in Suid-Afrika. Paarl: Paarl Drukpers.         [ Links ]

NG Kerk (NGK) in ZA. 1858. Handelingen van de Buitengewone (1837) en Algemeene Synode (1842). Kaapstad: Van de Sandt De Villiers.         [ Links ]

NG Kerk (NGK). 2015. Die Kerkorde. s.l.:s.n.         [ Links ]

Pretorius, F. (redakteur). 2012. Geskiedenis van Suid-Afrika. Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Republiek van de Oranje-Vrijstaat (OVS). 1899. Volksraadsnotule. Bloemfontein: Vrystaatse Argief.         [ Links ]

Schoeman, J.H. s.a. Die ander kant van die Rebellie. Pretoria: J.H. Schoeman.         [ Links ]

Scholtz, G.D. 1941. Generaal Christian Frederik Beyers 1869-1914. Johannesburg: Voortrekkerpers.         [ Links ]

Scholtz, G.D. 1942. Die Rebellie 1914-1915. Johannesburg: Voortrekkerpers.         [ Links ]

Scholtz, G.D. 1944. Dr. Nicolaas Johannes van der Merwe 1888-1940. Johannesburg: Voortrekkerpers.         [ Links ]

Strauss, P. J. 2015. Gereformeerdes onder die Suiderkruis 1652-2011. Bloemfontein: Sunmedia.         [ Links ]

Suid-Afrikaanse Rugbyraad 1964. Rugby in Suid-Afrika. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

Thom, H.B. 1980. D.F. Malan. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Torfs, R. 2005. Church and state in Belgium. In: Robbers, G. (red). State and church in the European Union. Trier: Nomos, pp. 9-33.         [ Links ]

Van der Watt, P.B. 1973. Die Loedolffsaak en die Ned GerefKerk 1862-1962. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Van der Watt, P.B. 1980. Die Ned GerefKerk 1824-1905. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

Van der Watt, P.B. 1987. Die Ned GerefKerk 1905-1975. Pretoria: NG Kerkboekhandel Tvl.         [ Links ]

Van Schoor, M.C.E. 1992. John Daniel Kestell 1854-1941. Bloemfontein: Oorlogsmuseum.         [ Links ]

Van Schoor, M.C.E. 1997. 'n Bittereinder aan die woord. Bloemfontein: Oorlogsmuseum.         [ Links ]

Van Zyl Hattingh, P.J. 2000. Die Rebellie. My tog deur die woestyn na Duits-Wes. Bloemfontein: Oorlogsmuseum van die Boererepublieke.         [ Links ]

Webb, H.S. 1916. Oorzaken van de Rebellie. Pretoria: Noordelike Drukpers.         [ Links ]

Wessels, F.J.H. 1977. Ongeloof en wêreldgebeure. In: Strauss, D.F.M. Woord en Wetenskap. Bloemfontein: VCHO, pp. 202-211.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2020-02-12
Goedgekeur: 2020-10-20
Gepubliseer: Desember 2020

 

 

 

Pieter Johannes Strauss word in 1988 'n dosent in Ekklesiologie of Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan sy alma mater, die Universiteit van die Vrystaat en tree op 30 Junie 2015 af. Benewens ongeveer honderd artikels in geakkrediteerde akademiese tydskrifte, het Strauss ook verskeie boeke geskryf. Hy spits hom toe op gereformeerde kerkreg en kontemporêre Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis, soos blyk uit onlangs verskene werke. In die kerkreg lewer Kerk en Orde vandag (2010), blyke van 'n reformatoriese deurwerk van die bekende Solas van die Reformasie van die sestiende eeu na vandag. Kerkwees in die branding - die Nederduitse Gereformeerde Kerk in algemene sinodale verband 1994-2011 (2013), verteen-woordig 'n kontemporêr kerkhistoriese werk vanuit 'n reformatoriese benadering.
Strauss was vir twee termyne, van 1999-2003 en 2005-2008, die moderator van die Vrystaatse Sinode van die Ned. Geref. Kerk. Hy beklee dieselfde amp by die Algemene Sinode, van 20072011. Hy is ook aktief op kultuurterrein en was vir 12 jaar, van 2001-2013, die hoofleier van die Afrikaanse jeugbeweging, Die Voortrekkers.
Pieter Johannes Strauss was appointed as a lecturer in Church Polity and Church History at the University of the Free State in 1988 and retired on 30 June 2015. Apart from some 100 articles in accredited academic journals, Strauss also authored a number of books. He focuses mainly on the topics of Church Polity and modern South African Church History, as can be seen in recently published works. In Church and Order today (2010) he argues that 3 Solas of the Reformation of the sixteenth century should also be accepted and implemented today, while in Being church in troubled times - the Dutch Reformed Church in the bond of its general synod 1994-2011 (2013), he uses a reformational approach in modern church history.
Strauss was moderator of the Free State Synod of the Dutch Reformed Church for the periods 1999-2003 and 2005-2007. He was also moderator of the General Synod of the same church in 2007-2011. In addition, he is actively involved in cultural events and, for 12 years (2001-2013), he served as leader of the Afrikaans youth movement, Die Voortrekkers.
1 Giliomee (2014:289) noem die Rebellie van 1914-1915 'n "amperse fiasko". Grundlingh en Swart (2009:10, 11) praat van die moeilik peilbare redes vir die Rebellie en duisende manne wat "in a sort of mid-summer madness", 'n "vague malaise", of 'n Afrikanerkoors, eenvoudig net gerebelleer het. Om uit vind hoekom bekende figure soos JH de la Rey, CF Beyers, CR de Wet, SG Maritz en JCG Kemp normaalweg met die Rebellie geassosieer word, is in sommige gevalle moeiliker as in ander (Grundling & Swart 2009:12-14; De la Rey 1998:35, 37, 82).
2 Pres. Steyn beantwoord die proklamasie van die Britse opperbevelhebber Kitchener op 7 Augustus 1901 dat die Boere op 15 Augustus 1901 moet oorgee met die standpunt dat die twee Boererepublieke, te wete die Zuid-Afrikaansche Republiek of ZAR en die Oranje-Vrystaat of Republiek van die OVS, uit selfverdediging handel - volgens hom een van die heilige regte van die mens - ten einde hulle, let wel, bestaansreg te handhaaf. Volgens Steyn het die Republieke daarom die reg om met eerbied op 'n regverdige God te vertrou (Volledige antwoord van Steyn in De Wet 1959:179-185).
3 Wes-Transvaal was die vesting van generaal JH de la Rey, 'n bittereinder en medestander van die bittereinder en rebel uit die Vrystaat, generaal CR de Wet. Voor sy tragiese dood op 15 September 1914, praat De la Rey ook van protes en verset en pleeg hy en generaal Beyers oorleg (Scholtz 1941:283-286; SABW III:68).
4 Generaal Beyers was volgens sy eie woorde nie ten gunste van gewelddadige optrede en 'n rebellie nie (Scholtz 1942:101). Hy wou slegs teen die Unie se hulp aan Brittanje met die inval in Duitswes protesteer en nie verder gaan as lydelike verset deur die ignorering van 'n opkommanderingsbevel nie. Vir hom as Christen en Afrikaner het die verdeeldheid tot 'n emosionele stryd gelei. Hy het die vertoon van gewere tydens die protesvergaderings wat die Rebellie voorafgegaan het, afgekeur omdat dit tot provokasie by regeringsmagte kon lei en die situasie kon vererger (Scholtz 1941:350351,364). Beyers vervat hierdie houding van lydelike verset ook in 'n proklamasie van hom en generaal De Wet op 29 Oktober 1914 (Scholtz 1941:201, 205, 358-359). Vir De Wet was die inval in Duitswes in stryd met die wil en die Woord van God (Scholtz 1942:109). Voordat daar sprake van 'n rebellie was, het die Botharegering op 12 Oktober 1914 krygswet afgekondig. Drie weke vroeër het Botha by De la Rey se begrafnis nog gepraat van vrywilligers vir die aksie in Duitswes-Afrika. Intussen wil dit voorkom asof sy regering teen hierdie tyd reeds op opkommandering besluit het (Scholtz 1942:182; Grundlingh & Swart 2009:16).
5 Kyk byvoorbeeld Langner en Raath (2014), Pretorius ( 2012:287-289), en Grobler (2007:142146).
6 Generaal CF Beyers het as hoof van die Unieverdedigingsmag bloot uit protes teen die SA Regering se besluit om Duits-Suidwes in te val op 15 September 1914 bedank. Indien die Afrikaner weer 'n republiek kry, moes dit volgens hom langs konstitusionele weg geskied (Scholtz 1942:99, 101). Die dag na De la Rey se begrafnis is daar op Lichtenburg 'n groot volksvergadering gehou waar 'n kommissie bestaande uit generaals De Wet, Beyers, Kemp en Liebenberg gekies is om die inval in Duits-Wes as teen "onze eervolle kristelike volkstradisies" aan die Regering van generaal Botha oor te dra. Die Regering het hierdie vertoë minagtend geïgnoreer (Scholtz 1942:10;, Webb 1916:47).
7 Scholtz (1942:212) is daarvan oortuig dat die Botha-Smuts-alliansie nie besef het "wat alles in die harte van die Afrikaners omgegaan het" nie.
8 Dieselfde Hendriena Joubert lei in 1915 'n optog van duisende - sommige skat ongeveer 6 000 - Afrikanervroue na die Uniegebou om by die Regering aan te dring op die vrylating van generaal De Wet en die vryskelding en amnestie van ander rebelle wat reeds straf uitdien of nog verhoor moet word. Sy was op hierdie stadium reeds 85 jaar oud! (Scholtz 1942:296).
9 Voorsitter van die RvK in 1913 en 1919, en moderator van die Kaapse Sinode in 1919 (Kruger 1972:72).
10 Skriba van die RvK van 1911 tot 1933, en redakteur van die Die Kerkbode van 1921 tot 1938 (Beyers 1977:611).
11 Moderator van die Kaapse Sinode van 1915 tot 1919 en twee maal voorsitter van die RvK (Kruger 1972:562).
12 Eerste redakteur van die Die Burger van 1915 tot 1923 en eerste minister van 1948 tot 1954 (Beyers 1977:579, 583-584).
13 Moderator van die Vrystaatse Sinode in 1909, 1912 en 1916 (De Kock 1976:441).
14 Scriba synodi OVS 1912 tot 1922, moderator van die Vrystaatse Sinode in 1922 en 1931 (Beyers 1977:828).
15 Moderator van die Transvaalse Sinode in 1912, 1925, 1928 en 1931 (De Kock 1976:615).
16 Vanaf 1897 tot 1916 aktuarius/kerkregman van die Transvaalse Sinode en moderator van 1916 tot 1925 (Beyers 1977:555).
17 Moderator van die Natalse Sinode in 1885 en 1914 (Beyers 1981:573).
18 Malan is op 22 Mei 1874 gebore en was pas 40 jaar oud, 'n jong ouderdom in die kerkregering (Beyers 1977:577; Booyens 1969:285-286).
19 Bosmanstraat in Pretoria is na hom vernoem.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons