SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 número4-1Authority and solidarity: Forms of address and pronominal personal references in the Afrikaans Bible translation of 2020 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.60 no.4-1 Pretoria Dez. 2020

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n4-1a14 

OPINION PIECE

 

Probleme met en ná die direkte vertaling

 

Problems with and after the direct translation

 

 

Daan Cloete

Nuwe Testament, Universiteit van Wes-Kaapland, Suid-Afrika. E-pos: daancloete@telkomsa.net

 

 


OPSOMMING

Hierdie bydrae bespreek Bybelvertaling teen die agtergrond van die nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel. Dit gee aandag aan die probleem verbonde aan 'n poging om die betekenis opgesluit in 'n teks in 'n antieke taal, Grieks, te vertaal in 'n moderne, dinamiese taal, Afrikaans. Die antieke taal bevat 'n belangrike boodskap vir alle tye, maar die oorspronklike taal waarin die teks geskryf is, is nie toeganklik vir alle hedendaagse lesers nie. Beide tale moet geïnterpreteer word en beide bied unieke uitdagings aan die proses. Wat die Grieks betref, is die bedoeling om die betekenis wat in die teks in sy oorspronklike konteks ingesluit is, te ontsluit, juis omdat die taal nie meer gepraat word nie. Vertaling begin met die konstruksie van 'n bronteks uit die beskikbare materiaal, omdat die oorspronklike manuskripte om verskillende redes nie meer beskikbaar is nie. Dit noodsaak die intensiewe bestudering van die eienskappe van die grondteks en die wêreld waarin dit as 'n kommunikasiemiddel gedien het, naamlik die Ou Nabye Ooste. Afrikaans is weer 'n dinamiese taal van vandag en juis omdat dit dinamies is, is die idiomatiese inhoud daarvan steeds in 'n proses van verandering. Dit is toe te skryf aan die altyd veranderende omgewing waarin die taal hom bevind. Dit word primêr in Suid-Afrika gepraat, in 'n meertalige konteks, wat aan die een kant die inhoud en gebruik van die taal kan verryk, maar wat, aan die ander kant, die bestaan van die taal bedreig, omdat die gebruikers daarvan beperk word. 'n Ander uitdaging is dat daar geen duidelikheid is oor die praktiese aanwending van die elf amptelike tale in die land nie. Dit lyk asof Engels die voorkeurtaal van kommunikasie geword het. Vertaling is belangrik omdat die oorspronklike Griekse grondteks 'n belangrike boodskap verkondig, die Goeie Nuus wat altyd relevant bly. Die 2020-vertaling is deur die Afrikaanssprekende kerke versoek ter wille van prediking, kategese, aanbidding en persoonlike gebruik. Uit 'n literêre oogpunt behoort die verskyning van hierdie vertaling die taal se plek in 'n meertalige konteks te versterk omdat 'n beduidende deel van die Afrikaanssprekende gemeenskap Afrikaans gebruik as die taal van aanbidding.

Trefwoorde: brontaal, bronteks, doeltaal, tekskritiek, autographa, literatuursoorte, antieke taal, statiese taal, moderne taal, meertalige konteks


ABSTRACT

In this essay, biblical translation is discussed against the background of the new Afrikaans translation. It deals with problems of trying to convey the meaning contained in an ancient language, Greek, into a modern dynamic language, Afrikaans. The ancient language contains a very significant message for all time, but the original in which it was written is not accessible to modern readers. Both languages necessitate interpretation, but present unique difficulties in the process. With regard to the Greek, the aim is primarily to unearth the meaning of the text in its original context, particularly because it is not spoken anymore. Translation starts by constructing a source text from the material available, because the original manuscripts are, for various reasons, no longer available. It requires intensive study of the characteristics of the source text and the world in which it served as the tool of communication, namely the Ancient Middle East. With regard to the Afrikaans, because it is a dynamic language, its idiomatic content is in a process of constant change. This is due to the ever-changing environment in which it finds itself. It is spoken primarily in South Africa, in a multilingual context that, on the one hand, may enrich its content and use, but, on the other hand, threatens its existence, because it limits its users. Another challenge is that there seems to be no clarity with regard to the practical application of the eleven official languages in the country. English seems to have become the preferred language of communication. Translation is important, because the original Greek source text conveys an important message, the Good News, which is relevant for all time, and therefore for the modern Afrikaans reader. This translation was requested by the Afrikaans-speaking churches for the purpose of preaching, catechism, worship and personal use. From a literary point of view, its publication should help to strengthen its position in a multilingual context, because a significant number of Afrikaans-speaking people of the Christian community in the country use Afrikaans as their language of worship.

Keywords: ancient, static, modern, dynamic, source text, target text, multilingual context, autographa


 

 

1. WAARDERING

Dit was 'n besondere voorreg om te kon deel hê aan die vertaalprojek om 'n derde Bybel in Afrikaans tot stand te bring, naamlik die 2020-vertaling. Die projek is in opdrag van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika op versoek van die kerke onderneem. Persoonlik het ek dit baie leersaam en verrykend ervaar. Ek was ook besonder beïndruk met die toewyding en kundigheid van die projekleier, prof. Bernard Combrink. Die sukses van die projek is in 'n groot mate te danke aan sy ywer.

 

2. VERTALING UIT 'N ANTIEKE BRONTAAL IN 'N MODERNE DOELTAAL

Sommige van die vertaalprobleme wat met die 2020-vertaling ervaar is, is kenmerkend van alle vertalings. Ek bespreek party van hierdie probleme, maar ook die moontlike dieper insig wat hierdie vertaling aan die gebruikers kan bied. Ek fokus op die deel van die Bybel waarmee ek as vakkundige vertroud is, naamlik die Nuwe Testament. Die Bybel wat ons in ons eie taal gebruik, is natuurlik 'n vertaling en dus die produk van 'n lang proses. Hierdie proses vereis deeglike kennis van die twee tale wat by 'n vertaling ter sprake is, naamlik die brontaal en die doeltaal. In die geval van die Nuwe Testament is dit onderskeidelik Grieks en Afrikaans. Die Grieks waarin die Nuwe Testament geskryf is, is 'n antieke taal wat meer as 2 000 jaar gelede in die Grieks-Romeinse Ryk gepraat is. Dit was 'n omgangstaal (Koine) wat 'n gleuf van die breë sosiale, politieke, kulturele en godsdienstige leefwêreld van die Bybelse tyd weerspieël en verwoord het. Die boeke van die Nuwe Testament is vanaf ongeveer die middel van die eerste eeu tot vroeg in die tweede eeu geskryf. Hierteenoor staan die doeltaal, Afrikaans, waarin die antieke brontaal vertaal moes word. Dit is 'n moderne spreektaal wat hoofsaaklik uit Nederlands gebore is en wat in Suid-Afrika ontwikkel het tot 'n selfstandige taal waarin moedertaalsprekers met mekaar kommunikeer. Dit is 'n dinamiese taal. Die uitdaging van die vertaling van die Bybel is om dit wat in die antieke taal verwoord word, in 'n moderne taal uit te druk. Die Bybel het, so aanvaar ons, 'n boodskap vir almal wat dit in hierdie tyd lees.

2.1 Die Grieks van die Nuwe Testament

Die Grieks van die Nuwe Testament was 'n kommunikasietaal, 'n gesproke en 'n geskrewe taal, selfs van diegene wat 'n ander moedertaal gehad het, soos die Jode, wat hoofsaaklik Aramees gepraat het. Dit was só vanweë die sosiaal-politieke situasie in die tyd toe die Romeine die heersers was. Grieks was dus ook die kommunikasietaal van sommige van die eerste christene, van wie sommige waarskynlik Aramees- en Hebreeussprekend was, terwyl ander weer Griekssprekend was. Ons kan aanvaar dat Aramees ook die taal was wat Jesus in sy bediening gebruik het omdat Hy self 'n Jood was en Hy hoofsaaklik onder sy Joodse volksgenote gewerk het. Dit is daarom merkwaardig dat sommige outeurs wat belangrike bydraes tot die Nuwe Testament gelewer het, soos Matteus, Johannes en Paulus, almal Jode, nie in hul moedertaal geskryf het nie. Hulle het in Grieks geskryf. Dit het waarskynlik voortgespruit uit hul christelike geloofsoortuiging, wat ingesluit het dat hulle bewus was van Jesus se opdrag om die Goeie Nuus aan al die nasies te bring en dat hulle dit op dié wyse wou gehoorsaam. Deur die algemene omgangstaal te gebruik, sou dit makliker kon gebeur, veral in die omgewing waar hulle met hul bediening besig was. Hul bydraes toon hul besondere kennis van en bedrewenheid met die Griekse taal. Uiteraard sal die taalwetenskaplike puriste die suiwerheid van hierdie outeurs se Grieks kan beoordeel ten opsigte van woordkeuse, sinskonstruksie en styl. Uit 'n letterkundige oogpunt was daar natuurlik diegene, soos Lukas en die skrywer van die Brief aan die Hebreërs, wie se moedertaal Grieks was en wie se geskrifte van hoogstaande letterkundige gehalte was. Vir vertaling is die letterkundige kenmerke belangrik en word daar deeglik daarmee rekening gehou. Die taalkompleksiteit van destyds herinner ons in 'n mate aan ons eie probleme en worsteling vandag in ons meertalige land.

2.2 Die moderne Afrikaans van die 2020-vertaling

Soos reeds aangedui is, is die doeltaal, Afrikaans, 'n moderne taal, amptelik ongeveer 'n eeu oud. Dit is die huidige omgangstaal van 'n paar miljoen mense, hoofsaaklik in Suidelike Afrika, waar die taal ook gebore is. Omdat Afrikaanssprekendes die voortbestaan en suiwerheid van hul taal in 'n konteks van veeltaligheid moet handhaaf, het dit 'n sterk dinamiese karakter. Tans verander die omgewing in ons land en in die wêreld voortdurend, wat meebring dat Afrikaans self ook beïnvloed word en onderworpe is aan 'n proses van voortdurende aanpassing. Daar moet altyd na nuwe uitdrukkingsvorme gesoek word, woorde en uitdrukkings moet by ander tale geleen word en nuwe woorde moet geskep word om die veranderende omgewing te verwoord. Soos met alle vertalings van die Bybel in 'n moderne taal, bied hierdie agtergrond die uitdaging om in die 2020-vertaling aan sowel die bron- as die doeltaal getrou te bly. Dit beteken dat daar sover moontlik vasgestel moet word wat die antieke brontaal verwoord en dat die moderne, dinamiese doeltaal die bedoeling van die brontaal op 'n verstaanbare manier moet uitdruk. Afgesien daarvan dat woorde in die onderskeie tale totaal vreemd aan mekaar is, verskil ook die sinsbou en ander eiesoortighede in elkeen van die tale hemelsbreed van mekaar. Gelukkig beskik ons in ons land enersyds oor uitstekende brontaalkenners (Grieks, Hebreeus en Aramees) wat die bedoeling en betekenis van die skrywers kan ontgin, en andersyds oor doeltaalkenners (Afrikaans), wat met hul fyn aanvoeling en beheersing van hul moedertaal die bedoeling van die oorspronklike taal in die Afrikaanse idioom kan vaslê.

 

3. VERSKILLENDE VERTAALTEORIEË EN -BENADERINGS

Die vertaalkunde omvat verskillende vertaalteorieë en -benaderings. Dit hang meestal saam met die doel wat die vertaler voor oë het. Sommige vertalings laat die fokus op die brontaal val met die doel om die betekenis van die oorspronklik teks so goed moontlik weer te gee. 'n Goeie voorbeeld in Afrikaans is die 1933/53-vertaling, wat tot 'n konkordante vertaling neig. Wat die 2020-vertaling betref, was die uitgangspunt van die vertalers om so ver moontlik letterlik te vertaal. Dit hou in dat die ontleding of betekenis van veral die kernbegrippe beklemtoon word. 'n Ander benadering gaan uit van die doeltaal. Die doel is dat die lesers die boodskap goed moet begryp en daarom moet die vertaling so veel moontlik ooreenstem met die kennis en gebruik van hul eie taal. Die 1983-vertaling is 'n voorbeeld hiervan en staan bekend as 'n dinamies-ekwivalente vertaling. Vir die huidige vertaling was die opdrag aanvanklik dat dit 'n direkte vertaling moes wees. Die begrip direkte kan maklik tot 'n misverstand lei, en het ook al, veral omdat dit sou kon suggereer dat dit moontlik is om die presiese betekenis van een taal in 'n ander oor te dra. Uiteraard is dit nie heeltemal moontlik nie, want daar is aspekte van 'n taal wat byna nieoordraagbaar is, soos die presiese konteks waarin daar gepraat word en die gevoelswaarde wat gepaardgaan met die gebruik van woorde en beelde. Omdat dit moeilik is om hierdie aspekte presies te bepaal, is dit dus ook moeilik om dit oor te dra. In die 2020-vertaling word voetnote dikwels gebruik om die soort probleme toe te lig. Enige vertaling bly 'n interpretasie van die vertalers. Alhoewel daar in die 2020-vertaling gepoog is om so na moontlik aan die brontale te bly, sal dit nie die laaste vertaling van die Bybel in Afrikaans wees nie. Die bestudering van die brontale en die historiese omstandighede van die Bybel gaan voort en daar sal altyd weer nuwe bevindinge gemaak word om in die toekoms nog nader aan die bronteks te kom. Kortom, die vertaling van 'n antieke teks is 'n nimmereindigende proses.

 

4. DOEL VAN DIE 2020-VERTALING

'n Opdrag vir vertaling word meestal met 'n spesifieke doel gegee. Hierdie doel moet altyd deur die vertalers voor oë gehou word. Soms is daar diegene wat op eie inisiatief 'n vertaling maak, maar ook hulle sal 'n doel hê, soos dat hulle 'n ander benadering as dié in 'n bestaande vertaling wil volg, of dat hulle kommersiële voordele op die oog het. Dan is daar ook vertalings wat fokus op spesifieke lesers en hulle behoeftes, soos die jeug of gestremdes, en wat dus die nodige aanpassings bevat. Die huidige vertaling is op versoek van kerke onderneem. Die opdrag het om 'n direkte vertaling gevra, 'n term wat, soos sommige gemeen het, gedui het op 'n terugkeer na die byna letterlike vertaling van die 1933/53-vertaling. Ook sou dit kon gedui het op kritiek teen die 1983-vertaling, wat vir sommige kerke onaanvaarbaar was, want dit het vir hulle te veel klem op die doeltaal geplaas en daarmee die boodskap laat vervaag. Die bedoeling van die term was egter 'n vertaling wat meer gebalanseerd sou wees in vergelyking met die vorige twee. Dit moes inderdaad brontaalgeoriënteerd wees, maar met inagneming van die doel waarvoor die gebruikers dit binne die kerk sou gebruik, naamlik vir voorlesing in die erediens, kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik. Dit is belangrik om te benadruk dat die 2020-vertaling direk uit die brontaal vertaal is. Dit beteken dat dit die doel van die 2020-vertaling is om so ver moontlik getrou te wees aan die bedoeling van die outeurs van die Bybel, maar op so 'n manier dat dit ook verstaanbaar sal wees vir die Afrikaanse lesers en gebruikers van die Bybel vandag.

 

5. DIE BYBEL AS 'N LITERÊRE DOKUMENT

Die Bybel moet ook as 'n literêre dokument benader en gelees word. Die tersaaklike brontaal en doeltaal het albei basiese letterkundige en stylkenmerke soos simbole, metafore, idiomatiese uitdrukkings, vergelykings, beelde, stories en poësie. Uiteraard sal die gebruik en betekenis daarvan in die twee tale nie noodwendig met mekaar ooreenstem nie. Dit is 'n uitdaging vir 'n vertaler om met sy of haar taalkundige gereedskap dit wat in die brontaal weergegee word, in die doeltaal uit te druk. Ter ondersteuning van die soeke om so na moontlik aan die betekenis te kom, is daar argeologiese en sosiaal-historiese navorsing wat fokus op die maatskaplike, godsdienstige en kulturele leefwêreld van die antieke tyd, veral dié tydens die ontstaanstyd van die Nuwe Testament. Soos wat eerder genoem is, kon die projek staatmaak op hoogs gespesialiseerde en gekwalifiseerde taalwetenskaplikes en letterkundiges wat die stylkenmerke van die bron- en die doeltaal intensief bestudeer het. Die navorsing op al hierdie vakgebiede gaan steeds voort. Dit was en bly vir vertaling, ook vir die 2020-vertaling, belangrik, want dit help om onder andere die betekenis van bepaalde begrippe en beskrywings, ook dié wat by vorige vertalings nog onduidelik was, duideliker toe te lig. Die deeglikheid van die werk op hierdie terrein word weerspieël in die voetnote en die Woordelys van die 2020-vertaling. Om al die taalkundige en letterkundige aspekte van 'n moderne taal te verreken sodat dit vir die moderne leser begryplik is, was weereens 'n uitdaging met hierdie vertaling.

Verskeidenheid van literatuursoorte

'n Aspek van die Nuwe Testament wat met bogenoemde saamhang, is die verskeidenheid van literatuursoorte wat daarin verteenwoordig word. Daar is die evangelies, wat verhale, redes, verslae van gebeurtenisse en baie ander vorme van literatuur bevat. In al die vorme is die persoon, die lewe en optrede van Jesus, die Christus, die middelpunt; dit is dus 'n soort biografie van sy lewe. Die Handelinge van die Apostels beskryf die geboorte van die Christendom en het dus 'n (heils)historiese karakter, alhoewel dit ook enkele toesprake of preke bevat van die hoofrolspelers, soos Petrus en Paulus. Dan is daar die briewe, waarvan sommige aan spesifieke gemeentes gerig is en waarin daar aan probleme in die gemeente aandag gegee word. Ander briewe is van 'n algemene aard en bedoel vir die opbou van die breër kerk. In hierdie opsig lewer Paulus die grootste bydrae. Die boek Openbaring reflekteer 'n uitsonderlik visionêre letterkundige genre, naamlik die apokaliptiek. 'n Ander besondere kenmerk van die Nuwe Testament is dat dit aan die een kant duidelik 'n eiesoortige karakter vertoon, verwyder van die Ou Testament. Dit weerspieël 'n breuk en diskontinuïteit met die Joodse godsdiens van die tyd. Terwyl die Ou Testament die boek vir die Joodse godsdiens is, is die Nuwe Testament die boek vir die christelike godsdiens. Aan die ander kant behou die Nuwe Testament die kontinuïteit deur die sterk klem op die vervullingsmotief, naamlik om die gebeure in die Nuwe Testament te sien as die vervulling van wat in die Ou Testament voorspel is. Die voortgaande verhouding tussen voorspelling en vervulling word geartikuleer as die Nuwe Verbond of Testament teenoor die Ou Verbond of Testament. Om dié rede word die twee afdelings van die Bybel uit 'n christelike perspektief bymekaar gehou. Albei die elemente, die verskeidenheid van literatuursoorte en die heilshistoriese lyn, is deur die vertalers gehonoreer en word in die vertaling weerspieël.

 

6. BASISTEKS

Soos wat algemeen bekend is, het die oorspronklike geskrewe tekste van die Nuwe Testament se outeurs, die sogenaamde autographa (selfgeskrewe tekste), om verskeie redes nie behoue gebly nie. Die christelike gemeenskappe was in die eerste plek nie daarop ingestel om dit te bewaar nie, want dit moes gesirkuleer word vir voorlesing en verkondiging in die gemeentes. Die verskeidenheid van materiale waarop oorspronklik geskryf is, was uiteraard baie broos sodat die teks herhaaldelik oorgeskrywe moes word. Dit het met die hand gebeur en menslike lees- en skryffoute het dus dikwels ingesluip. Enkele kere het die oorskrywers soms, na eie insig of keuse, self ook dinge weggelaat of ingevoeg. Die materiaal is ook nie altyd sorgvuldig bewaar nie en is in die proses aan die elemente van die natuur blootgestel. Dit is natuurlik ook vir gebruik versprei na gelang die kerk gegroei het. In die proses het sommige manuskripte verlore gegaan. Met die ontstaan van ander vertalings, soos in Latyn en Siries, het die oorspronklike Griekse manuskripte minder belangrik geword. Al hierdie omstandighede het daartoe gelei dat daar eers 'n basisteks vir 'n vertaling saamgestel moes word.

Tekskritiek

In die wetenskap wat as tekskritiek bekend staan, word op hierdie probleme gefokus. In 'n poging om 'n basisteks saam te stel, word alle moontlike beskikbare bronne versamel. Dit is geen eenvoudige taak nie vanweë die onsekerheid oor waar om daarvoor te soek en vanweë die sentiment wat die besitters aan die tekste heg. Soms is daar redelik volledige boekrolle of manuskripte gevind, soms klein stukkies materiaal. Gelukkig is daar genoeg materiaal versamel en kon dit intensief bestudeer word. Die studie het daaruit bestaan dat die tekste met mekaar vergelyk is in soverre dit tyd, oorsprong en egtheid aangaan. Die moderne tegnologie word deesdae met groot vrug ingespan om die historisiteit, betroubaarheid en bruikbaarheid van materiaal te bepaal. Al hierdie aspekte is deeglik oorweeg om te verseker dat daar verant-woordbare keuses gemaak is in die samestelling van 'n moontlike bronteks van die boeke waaruit die Nuwe Testament bestaan. Dat daar keuses gemaak is, beteken nie dat 'n bepaalde stukkie materiaal totaal geïgnoreer is en word nie. Ook vertalings van die oorspronklike in Siries en Latyn kon as hulpmiddels gebruik word. Alhoewel daar nie gewaarborg kan word dat dit wat as die bronteks beskikbaar is, in alle opsigte gelyk aan die oorspronklike teks is nie, met ander woorde, dat die beskikbare teks die absoluut outentieke teks van die oorspronk-like outeurs is nie, kan daar met vrymoedigheid gesê word dat die teks wat vir die vertaling gebruik is, baie na aan die oorspronklike teks is. Wat die Nuwe Testament betref, is die vierde hersiene uitgawe van die Wereldbond van Bybelgenootskappe se Greek New Testament (UBS4) as die bronteks gebruik. Omdat daar met verloop van tyd in die breër kerk besef is hoe belangrik dit vir die leser is om die Bybel in sy of haar eie taal te hê, word daar baie moeite gedoen om 'n betroubare bronteks saam te stel, en word daar steeds daarna gestreef om bogenoemde te verbeter. Die proses gaan steeds voort, op 'n internasionale vlak. Die vertaalspan kon dus met vrymoedigheid gebruik maak van die betroubaarste beskikbare bronteks vir die 2020-vertaling.

 

7. VERANDERENDE AFRIKAANS

Die Afrikaans wat ons ouers gepraat het, verskil merkbaar van dié wat ons tans gebruik, en die proses van verandering sal voortduur solank daar gebruikers van die taal is. Dit is alreeds duidelik sigbaar as 'n mens die 1933-vertaling (hersien in 1953) en die 1983-vertaling met mekaar vergelyk en dan die twee vertalings met die 2020-vertaling vergelyk. Soos eerder aangedui is, hang dit saam met die veranderende wêreld waarin ons leef en waarin bepaalde woorde en terme mettertyd in onbruik raak en nuwes weer geskep word. Die leefwêreld waarin die doeltaal funksioneer, verander voortdurend. Die uitdaging van die 2020-vertaling was dus om die brontaal se boodskap vir die leser van vandag in die dinamiese doeltaal begryplik en lewend te maak. Die 2020-vertaling spreek ook van die wetenskaplike deskundigheid en kwaliteit van die doeltaalmedewerkers, watjuis daarin geslaag het. Die voetnote en Woordely s weerspieël, onder andere, hul worsteling om bepaalde keuses te maak en bied terselfdertyd ruimte aan die leser om self sy of haar eie keuse te maak.

 

8. VERTAALKEUSES

Om te verduidelik hoe 'n vertaalkeuse uit die beskikbare materiaal gemaak word, word 'n paar voorbeelde vervolgens bespreek.

8.1 Slot van die Ons Vader-gebed in Matteus 6:9-14

Die Ons Vader-gebed bevat twee interessante voorbeelde waarin 'n vertaalkeuse uitgeoefen moes word. Die een het betrekking op die brontaal en die ander op die doeltaal.

Volgens die 1933- en 1953-vertaling sluit die Ons Vader-gebed af met 'n doksologie: "Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid. Amen." Die huidige vertaling laat dit weg. Die rede is waarskynlik dat van die meer gewigdraende bronne dit nie as 'n oorspronklike deel van die gebed ondersteun nie. Waarskynlik het dit daartoe bygedra dat die Lukas-evangelie se weergawe van die gebed (Luk 11:1-4) dit ook nie het nie. Daar is waarskynlik geoordeel dat dit 'n latere toevoeging deur die kerk is omdat daar gemeen is dat die gebed te abrup eindig. Dit is ook in ooreenstemming met die meeste ander moderne vertalings. Dit het nietemin so in die praktyk van die kerk gevestig geraak dat dit waarskynlik nog lank sal bly voortleef, maar nie as 'n Skrifwoord nie.

8.1.2 Doeltaalvoorbeeld

In die "titel" van die gebed kom die woord "Onse" voor in die 1933- en 1953-vertaling. Die huidige vertaling praat net van "Ons" Vader. Hierdie verandering is reeds in die 1983-vertaling aangebring, 'n aanduiding van die ontwikkeling in die doeltaal in daardie stadium.

8.2 Slot van die Markus-evangelie

In die Evangelie van Markus is daar in die slotgedeelte (16:9-20) twee dinge wat bespreek is. Die deelnemers aan die 2020-vertaling het die volgende kommentaar in 'n voetnoot gelewer:

a) In sommige manuskripte is daar benewens of in die plek van die teks die volgende ingevoeg: "hulle het alles wat aan hulle vertel is kortliks aan dié saam met Petrus berig. Hierna het Jesus self deur hulle die heilige en onverganklike verkondiging van die ewige verlossing uitgestuur. Amen."

Daar word dus aanvaar dat dit nie deel van die bronteks was nie.

b) Ander manuskripte en ouer vertalings voeg ná vers 8 ook nog verse 9-20 by. Daar word aanvaar dat dit nie deel van die bronteks is nie.

Hierdie gedeeltes is ook in die ouer Afrikaanse vertalings ingevoeg. Die voetnoot daarby in die 2020-vertaling dui daarop dat die vertalers weereens die besluit deeglik oorweeg het en geweet het dat dit nie deel van die oorspronklike teks was nie, maar dit tog in die vertaling ingesluit het.

8.3 Johannes 7:53-8:11

By hierdie gedeelte het die vertalers die volgende aantekening gemaak om te motiveer waarom dit wel in die vertaling opgeneem is: "Volgens teksgetuienis was hierdie gedeelte aanvanklik nie deel van die bronteks nie. Dit bevat egter so 'n outentieke getuienis oor Jesus dat dit mettertyd in baie manuskripte opgeneem is en sodoende deel van Die Evangelie volgens Johannes geword het." Dit is 'n goeie voorbeeld van die wyse waarop die vertalers ernstig met die teks geworstel het. Hulle het verskillende faktore in ag geneem en nie altyd net dié van letterkundige aard nie.

8.4 Johannes 20:31

Daar word algemeen aanvaar dat hierdie vers die doel van die Evangelie van Johannes weergee en daarom moontlik ook die oorspronklike slot kon gewees het. Die Evangelie word egter ook daardeur gekenmerk dat die perikope nie altyd die indruk laat van 'n logiese volgorde nie; daarom word die toevoeging van nog 'n hoofstuk (21) hierna nie as buitengewoon vir die Evangelie beskou nie.

Wat die doelstelling van die Evangelie betref, kom verskillende tydsvorme van die werkwoord "glo" in vers 31 voor. Sommige manuskripte bevat 'n tydsvorm wat dui op a) 'n voortgaande geloof, en ander weer wat dui op b) om tot geloof te kom. In die eerste geval sou dit kon dui op lesers wat om een of ander rede begin twyfel het en nou deur die Evangelie in hulle geloof versterk moet word; in die tweede geval sou dit kon dui op lesers wat opgeroep word om (vir die eerste keer) tot geloof te kom. Daarmee word 'n sendingkarakter aan die Evangelie gegee, byvoorbeeld onder die Samaritane. Albei standpunte berus op sterk bronteksgetuienis. Die huidige vertaling kies, soos die vorige vertalings, eersgenoemde moontlikheid, naamlik die bevestiging van reeds bestaande geloof: "Hierdie dinge is egter neergeskryf sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en dat julle deur te glo die lewe in sy Naam kan hê."

8.5 1 Johannes 5:7

By die woorde "Want daar is drie wat getuig" voeg enkele manuskripte by "in die hemel", en dan volg "die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een". Hierna word dan bygevoeg "en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig". Die vermoede is dat hierdie toevoegings waarskynlik 'n aantekening was wat gevind is in die kantlyn van 'n manuskrip en wat met die oorskrywe later deel van die teks geword het. Dit is in die huidige vertaling weggelaat, wel met 'n voetnoot wat die saak verduidelik.

 

9. ANDER VERTAALPROBLEME

Die vertalers het ook aandag gegee aan hooflettergebruik, die hantering van aanhalings, letterkundige vorm en vreemde woorde en terme.

9.1 Die gebruik van hoofletters

Omdat hierdie vertaling in opdrag van die kerk geskied het, moes daar ook rekening gehou word met die opdraggewers se leerstellige standpunte en oortuigings. In die 1933/53-vertaling word daar byvoorbeeld uit eerbied en respek gebruik gemaak van hoofletters vir voornaamwoorde wanneer dit duidelik verwys of dui op die Here se naam, selfs al sou die bronteks dit nie doen nie. Dit kom voor in die sogenaamde Messiaanse tekste, dit wil sê tekste uit die Ou Testament wat in die Nuwe Testament aangehaal word en wat heenwys na die koms van en vervulling deur die Messias. In die 2020-vertaling word die voornaamwoord wat in die Nuwe Testamentiese aanhaling voorkom, met 'n hoofletter geskryf. Die hoofletter word nie in die 2020-vertaling in die betrokke teks in die Ou Testament gebruik nie, maar 'n voetnoot by die teks in die Ou Testament dui aan dat dit 'n heenwysing na die Messias is en daar word aangedui waar dit aangehaal word, byvoorbeeld in Matteus 11:5, Lukas 7:22 of Handelinge 10:38. Só word Jesaja 61:1-2 en 58:6 soos volg in Lukas 4:18-19 aangehaal:

Die Gees van die Here is op My; want Hy het My gesalf om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien; om onderdruktes weer te bevry, en om die genadejaar van die Here aan te kondig.

9.2 Aanhalings uit die Ou Testament

Om dit vir die leser maklik te maak, word daar in sommige gevalle 'n duidelike onderskeid gemaak tussen 'n teks waarin die skrywer self aan die woord is en wanneer hy gebruik maak van 'n aanhaling uit die Ou Testament. In die voetnoot word dan aangedui waar die aanhaling vandaan kom. Dit help om die verband tussen die twee Testamente te sien. In gevalle waar dit só deel vorm van die gedagtegang van die skrywer, word dit nie gedoen nie, maar word aanhalingstekens gebruik om dit aan te dui. 'n Voorbeeld is Maleagi 3:1, wat in die 2020-vertaling soos volg in Lukas 7:27 aangehaal word:

Hy is die een oor wie geskryf staan, "Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit; hy sal jou pad voor Jou gereed maak."

9.3 Poëtiese karakter

Gedeeltes met 'n poëtiese karakter word ook as sodanig aangedui op grond van literêre argumente. Die Bybelinhoud word immers ook in letterkundige vorme aangebied. 'n Voorbeeld is Matteus 5:3-10:

Geseënd is dié wat geestelik arm is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Geseënd is die mense wat treur, want hulle sal vertroos word.

Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die aarde erf.

Geseënd is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.

Ander voorbeelde is 1 Korintiërs 13 en Filippense 2:6-10.

9.4 Aanhalings uit buite-Bybelse bronne

Enkele skrywers haal nie net aan uit die Ou Testament nie, maar ook uit Grieks-Romeinse letterkundige bronne waarin betekenisvolle, gepaste uitsprake deur wysgere gemaak is. 'n Voorbeeld word in Handelinge 17:28 gevind:

Want deur Hom leef ons, beweeg ons, soos sommige van julle digters inderdaad gesê het: "Ons is ook van sy geslag."

Die voetnoot hierby is: "Die aanhaling kom uit die gedig van Aratus (310-245 v.C.), Phaenomena" Ander voorbeelde kom voor in 1 Korintiërs 15:33 en Titus 1:12.

9.5 Vreemde terme en leenwoorde

Die bronteks bevat terme om items en sosiale posisies te beskryf wat kenmerkend was van die leefwêreld waarin dit ontstaan en gebruik is. Vir die moderne leser sê dit nie altyd veel nie. Dit sluit sake in soos ampstitels, militêre range en algemene gebruiksartikels. Dit word as leenwoorde op verskillende maniere hanteer om dit vir die moderne leser verstaanbaar te maak:

Sommige word behou met 'n verwysing na die Woordelys om dit te verklaar. Die verklaring is uiteraard op deeglike navorsing gebaseer. 'n Voorbeeld is Sinagoge (Matt. 4:23; Luk.4:15).

Sommige het al so bekend en aanvaarbaar vir die moderne leser geword dat dit eintlik nie meer verklaring nodig het nie. 'n Maatstaf hiervoor is dikwels die vraag of dit in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) verskyn. 'n Voorbeeld is Jode (Hand. 2:11; 6:43).

 

10. GEBRUIKERS VAN DIE 2020-BYBEL

Die Afrikaanstalige kerke is natuurlik die plek waar die vertaling die meeste gebruik sal word omdat Afrikaans die voertaal daar is. Daarom is dit ook verstaanbaar dat die opdrag vir 'n nuwe vertaling hoofsaaklik van hulle gekom het. Dit sal waarskynlik ook daar die langste bly voortleef. Daar is egter ook die kerke wat hulle nie deur ideologiese sentimente gedrewe voel om Afrikaans te gebruik nie, maar wat dit tog om historiese en tradisionele redes sal doen. Dit hang saam met hul ontstaan en wat die taalvoorkeur was van diegene wat daarby betrokke was. In dié verband kan die Morawiese Broederkerk, die Calvyns Protestantse Kerk, die Rynse Kerk, die Volkskerk van Afrika en nog ander kleineres genoem word. Afrikaans is ook die medium van aanbidding van die Afrikaanse afdelings van die tradisioneel Engelstalige kerke, soos die Anglikane, Metodiste, Kongregasionaliste en Baptiste. Die vertalers het ook vir die Rooms-Katolieke Kerk voorsiening gemaak met 'n aparte uitgawe wat die Deuterokanonieke Boeke insluit. Hierdie boeke is tradisioneel deel van die Rooms-Katolieke Bybel.

 

11. SLOTOPMERKING

Die kerk waarvan ek lid is, het tradisioneel Afrikaans as sy taalmedium gebruik en dit in die hoogbloei daarvan omhels. Hierin het die sendelinge natuurlik 'n belangrike rol gespeel. Ook dit is besig om te verander. 'n Belangrike rede is die proses van verstedeliking. In die groot stede oorheers Engels, veral onder die jeug. Die "suiwer" gebruik van Afrikaans kom slegs in die plattelandse gemeentes voor en dan by dié wat vroeër deel was van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, maar die voortbestaan van hierdie gemeentes is weer in gedrang vanweë verstedeliking.

Die koms van die 2020-vertaling in Afrikaans versterk diegene wie se moedertaal Afrikaans is. Dit sal beslis help om Afrikaans te behou as deel van die taaldiversiteit van ons land.

 

BIBLIOGRAFIE

Bybel. 1933/53. Die Bybel. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.         [ Links ]

Bybel. 1983. Die Bybel: Nuwe vertaling. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.         [ Links ]

Bybel. 2014. Nuwe Testament en Psalms: 'n Direkte vertaling. Bellville: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.         [ Links ]

Greenlee, J.H. 1985. Scribes, scrolls and Scripture: A student's guide to New Testament textual criticism. Grand Rapids, MI: Eerdmans.         [ Links ]

Metzger, B.M. 1977. The early versions of the New Testament: Their origin, transmission and limitations. Oxford: Clarendon Press.         [ Links ]

Ryken, L. 1984. How to read the Bible as literature, and get more out ofit. Grand Rapids, MI: Zondervan.         [ Links ]

Van der Merwe, C.H.J. 2014. 'n Direkte vertaling van die Bybel as antieke teks: Net 'n nuwe baadjie vir 'n stokkerige woord-vir-woordvertaling? Inougurele rede, Stellenbosch Universiteit, Stellenbosch.         [ Links ]

Van Rensburg, J.P.J. 1973. 'n Oorsig van die Oud-Griekse letterkunde. Stellenbosch: Universiteitsuit-gewers.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2020-01-29
Goedgekeur: 2020-05-18
Gepubliseer: Desember 2020

 

 

 

Daan Clüete ontvang in 1957 en 1958 onder-wysopleiding aan die Hewat Opleidingskollege in Kaapstad. Gedurende 1959-1962 was hy onderwyser aan die PW de Bruyn Primêre Skool in Lambertsbaai. Daarna word hy, van 1963 tot 1967, as predikant opgelei aan die Teologiese Skool van die NG Sendingkerk (tans Verenigende Gereformeerde Kerk) in Wellington en Bellville. Vanaf 1968 tot 1972 dien hy as predikant in die NG Sendinggemeente Worcester-Suid. Hierna studeer hy van 1972 tot 1979 aan die Theologische Universiteit der Gereformeerde Kerken, Kampen, Nederland. Van 1979 tot 2003 is hy professor in die Nuwe Testament aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Wes-Kaapland in Bellville. Hy het op die Begeleidingskomitee van die 2020-vertaling gedien en ook as eksegeet in boekspanne opgetree.
Daan Clüete received his training as a teacher at the Hewat Training College in Cape Town in 1957 and 1958. From 1959 to 1962 he was employed as a teacher at the PW de Bruyn Primary School in Lambert's Bay. From 1963 to 1967 he was trained as a minister at the Theological School of the DR Mission Church (currently Uniting Reformed Church) in Wellington and Bellville; and from 1968 to 1972 he served as minister of the Dutch Reformed Mission Church Worcester South parish. From 1972 until 1979, he pursued his post-graduate studies at the Theological University of the Reformed Churches in Kampen, the Netherlands. He was professor in New Testament in the Faculty of Theology at the University of the Western Cape in Bellville from 1979 to 2003. He served on the Steering Committe of the 2020 Afrikaans translation of the Bible, and also as exegete in different book teams.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons