SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue4-1The third Afrikaans church Bible: Processes and practices of a direct translationLanguage change in the Afrikaans translations of the Gospel of Mark author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.60 n.4-1 Pretoria Dec. 2020

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n4-1a11 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Literêre aspekte van die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans en die bydrae van die literêre adviseurs in die vertaalproses

 

Literary aspects of the 2020 translation of the Bible in Afrikaans and the contribution of the literary advisors in the process of translation

 

 

Heilna du Plooy

Navorsingseenheid Tale en Literatuur, Fakulteit Geesteswetenskappe, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: Heilna.DuPlooy@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel word die rol en funksie van die literêre adviseurs in die 2020-vertaling van die Bybel bespreek. Daar word aandag gegee aan die literêre adviseurs se siening oor die Bybel as 'n taalteks, hulle plek in die vertaalspan en hoe direkte vertaling as vertaalstrategie hulle bydrae bepaal het. Daar word veral klem gelê op die onderhandelende en interaktiewe aard van hierdie vertaling en op die kompleksiteit van die vertaalopdrag, omdat die eise van getrouheid aan die bronteks, sowel as van 'n goeie vloeiende formulering in idiomatiese Afrikaans, soms moeilik te versoen was. Die interafhanklikheid van die literêre adviseurs en die eksegete en brontaalkenners word beskryf, asook hoe literêre insette in elke fase van die vertaling 'n rol gespeel het. Die bydrae van die literêre adviseurs is gerig deur die siening dat die Bybel 'n religieuse sowel as 'n literêre teks is, en dat die eindproduk van die vertaling aan albei hierdie aspekte moet laat reg geskied. Daar word aandag gegee aan voorbeelde van vertaalvraagstukke in die Psalms. Omdat parallelismes so 'n dominante stylfiguur is in die Hebreeuse poësie, word die verskynsel meer uitvoerig in die artikel beskryf, maar ander poëtiese en literêre tegnieke word ook behandel. Die gevolgtrekking is dat die literêre advi-seurswerk enersyds nie bepalend is nie, maar andersyds ook nie nalaatbaar nie.

Trefwoorde: Bybelvertaling, direkte vertaling, interaktiewe vertaling, spanvertaling, literêre adviseurs, redigering, die Bybel as 'n taalteks, die Bybel en letterkunde, die Bybel as letterkunde, Hebreeuse poësie, Psalms


ABSTRACT

This article discusses the role and function of the literary advisors in the 2020 Afrikaans translation of the Bible. The introductory part of the article puts forward some of the basic requirements and restrictions of the translation. The literary advisors worked as part of a translation team which also included theologians, exegetes, translators and linguistic advisors, and the translation is described as a "direct translation". The team approach, as well as the theoretical methodology, was determined by the commission received from the Bible Society of South Africa. The instructions were to render a translation as close as possible to the source text, but which would also represent a smooth and idiomatically satisfying text in Afrikaans. This proved to be very difficult to achieve, as fidelity to the source text and an idiomatic rendering in the target text are almost irreconcilable objectives. The article takes as a point of departure the fact that the Bible is written in a particular language, that translation involves a series of linguistic actions, and therefore the input of literary and linguistic advisors is indispensable.
In this translation, the basic exegesis and first (rough) translation of the biblical texts were done by Hebrew language scholars and theologians. The aim was to reach a satisfactory transposition to the target language of the content of the source texts, which includes the meanings of the words, and phrases and linguistic constructions, as well as any meaningful literary and poetical techniques and structures. The basic responsibility of the literary advisors was to oversee the reformulation of the biblical content in Afrikaans.
From a literary perspective, the fact that the Bible is also regarded as a literary text, a text in which religious content comes to readers in literary form, is stressed in the article. It is imperative to understand and be able to interpret the use of different genres and of literary techniques, including narrative structures and poetic devices in the Bible. The article then describes how the Hebrew scholars and exegetes provided the background information, the cultural, political, ritual and social background to the Hebrew texts. It indicates the difficulty of the process in which the initial translation - elaborated by background information which was continually revisited and discussed and checked in a variety of sources - had to be refined by the literary advisors. The aim to render a translation which would be of high quality from both a linguistic and a literary perspective, and which would be fluent and idiomatically convincing in Afrikaans, was not easily achieved. The article also stresses the importance and effectivity of team work in this process.
In the last part of the article, examples of interesting aspects, as well as solutions to some problems of the translation, are discussed. After an overview of detailed research on the Psalms, attention is given to specific examples. The examples are taken from the Book of Psalms, because this book not only forms an integral part of the Old Testament, but most of the complex poetic constructions in Hebrew can also be found in the Psalms. Parallelism is discussed in more detail because of the frequency and variety of this poetic device in Hebrew poetry, but attention is also given to other poetic devices concerning sound and rhythm, in addition to syntactical issues, such as word order and the semantic structuring of larger sections of text.
The conclusion reached in the article is that this translation came into being through close teamwork; and though the work of the literary advisors was dependent on the information provided by the Hebrew scholars and was executed in and by means of ongoing discussion, it did indeed contribute significantly to the success of the translation.

Keywords: Bible translation, direct translation, interactive translation, translating as a team, literary advisors, the Bible as a linguistic text, The Bible and literature, the Bible as literature, Hebrew poetry, the Psalms


 

 

1. INLEIDING

Die rol van literêre adviseurs in 'n Bybelvertaling is meer gekompliseerd as wat mens met die eerste oogopslag sou vermoed. Die mees voor die hand liggende funksie van sulke adviseurs is om toe te sien dat die finale produk van die vertaling in die doeltaal stilisties en literêr voortreflik is, dit wil sê die vertaling moet natuurlik en vloeiend wees in die doeltaal, maar dit moet ook die literêre aard en gehalte van die brontaalteks bewaar en weergee. Bowenal moet die finale bewoording steeds so getrou as moontlik die betekenisse van die brontekste in Hebreeus en Grieks weergee. Die proses van vertaling is op sigself 'n veelfasettige aktiwiteit, en die vertaling van 'n antieke teks soos die Bybel is des te meer ingewikkeld.

 

2. DIE 2020-VERTALING VAN DIE BYBEL IN AFRIKAANS: DIE BYBEL AS TAALTEKS, DIE SPANBENADERING EN DIREKTE VERTALING

2.1 Die Bybel en taal

Die vertrekpunt vir hierdie betoog is dat die Bybel 'n taalteks is, dat geloofswaarhede en geloofsriglyne oor eeue heen in woorde vasgevang en in groter samehangende tekste opgeteken is, en dat hierdie woorde in "boeke" van welke aard ook al bewaar en oorgedra is. Die gesag van die Bybel1 het vir gelowiges oor die wêreld heen oor al hierdie eeue geldig gebly, maar ten einde toegang tot die oertekste te kry, is vertaling nodig. Die bestaan van die Bybel is onherroeplik verbonde aan taal. Die toegang daartoe behels naamlik talige aktiwiteite soos kennis van die brontale, goeie interpretasie en eksegese. Hierdie kennis moet toeganklik gemaak word vir ander, en daarom word die oorspronklike tekste vertaal. Vertaling sluit ten slotte ook die herverwoording in ander tale in - en al hierdie bewerkinge is almal talige prosesse. Die omgang met die Bybel, hetsy in sy oorspronklike taal of in vertaalde vorm, is en bly dus onvermydelik verbonde aan en gebonde deur taal.

Wat EW Bullinger in 1898 skryf in die openingsparagraaf van sy boek Figures of Speech used in the Bible, aangaande die verstaan, die vertaling, die taal- en literêre versorging van die vertaling van die Bybel is steeds geldig:

JEHOVAH has been pleased to give us the revelation of His mind and will in words. It is therefore absolutely necesssary that we should understand not merely the meanings of the words themselves, but also the laws which govern their usage and combinations. (Bullinger 1898)

2.2 Die spanbenadering

In hierdie vertaling is van 'n spanbenadering gebruik gemaak.2 Dit is soos volg verwoord in die vertaalopdrag:

Die proses waarvolgens die Bybel vertaal word, het die afgelope dekades verander: Bybelvertaling word tans gedoen deur 'n hele vertaalspan wat nie net teoloë insluit nie, maar ook nie-teoloë wat kenners is van sowel die brontale as die taal waarin vertaal word. Vertaalspanne word ook só saamgestel dat dit, waar moontlik, bestaan uit kundiges uit alle kerke wat die Bybel in die betrokke taal gebruik. (ABV Vertaalopdrag:2)

Met 'n spanbenadering moet daar oor bepaalde teoretiese aannames ooreenstemming bestaan tussen die medewerkers. Dit geld sowel die geloofs- as literêre aspekte. Omdat die Bybel en die vertaling daarvan so intens met taal gemoeid is, moet ook kennis geneem word daarvan dat taal self en die prosesse van taalhantering nooit "deurskynend" is nie. Deur die eeue het die sieninge van die gesag en werking van taal geweldige veranderinge ondergaan, en in die twintigste eeu het hierdie taal- en literêre teorieë uiters prominent geword. Die verskillende teorieë, wat soms ingrypende filosofiese implikasies behels (vgl. Zima 1999:vii-xi), het mekaar in die afgelope eeu ook al hoe vinniger opgevolg, en vanselfsprekend het hierdie teorieë en filosofieë 'n uitwerking op die verstaan van die Bybel as 'n talige teks en uiteraard ook op vertaling as dissipline.

Die medewerkers aan die redaksionele fase van hierdie vertaling se religieuse standpunte en literêr-teoretiese benaderings het, wat kernsake betref, by mekaar aangesluit: Almal het die gesag van die Bybel aanvaar en saamgestem dat die teks met die grootste ontsag en omsigtigheid benader moet word. Daarom is daar deurgaans aan sowel die geloofsdimensie van die vertaalwerk as die talige aard van die werk aandag gegee. Die konfrontasie met die probleme van woorde en idiome en formulering was waarop daar in die praktyk van die vertaling gefokus moes word, omdat die medewerkers talige oplossings moes vind vir vraagstukke in die moeilike gebied tussen taal en religie. Die vraagstukke self en die oplossing daarvan is immers alles talig van aard.

Die spanbenadering het egter die groot voordeel ingehou dat besluite onderhandel kon word. Vanaf die aanvanklike vertaalfases waar eksegete en brontaalkenners 'n eerste vertaling gemaak het, en intravertalers 'n literêr en talig beter versorgde herskrywing van die eerste vertaling gemaak het, tot by die uiteindelike redaksionele fase, het brontaalkenners, vertaal-kundiges, eksegete, taalkundiges en literêre kenners saamgewerk en deurlopend onderhandel. Die verstaan, interpretasie en vertaling van die oorspronklike Hebreeuse en Griekse tekste deur die eksegete en kenners van die antieke tale is dus aangevul deur insette van die taalkundiges en literêre adviseurs om by die beste moontlike vertaling uit te kom. Die literêre adviseurs moes in die redaksionele fase die voorlopige Afrikaanse vertaling help afrond deur die vertaling literêr te beoordeel en aan te pas op grond van verdere noukeurige inligting wat die brontaalkenners en eksegete kon verskaf ter toeligting van elke vers en frase.

Hoewel die spanbenadering tans beskou word as 'n nuwe benadering, is daar 'n uitstekende voorbeeld daarvan bekend baie ver terug in die geskiedenis van vertaling. Die eerste amptelike en formele skool vir vertaling, die Escuela de Traductores de Toledo3 is tot stand gebring in Spanje in die 12de en 13de eeu, eers onder leiding van die Aartsbiskop Raymond van Toledo, en in die dertiende eeu onder beskerming van koning Alfonso X van Kastilië.4 In hierdie skool is tekste tussen Arabies, Latyn, Grieks en later Kastiliaans en ander Europese tale vertaal.5Die vertaalwerk is wedersyds gedoen, en die vertalers wat gewerf is op grond van hulle bekwaamheid, was uit alle Europese en Midde-Oosterse lande afkomstig. Daar was wedersydse respek vir die verskillende (veral religieuse) tekste wat vertaal is; maar wat belangrik is vir hierdie betoog, is dat daar deurlopend samewerking was, omdat meer as een vertaler aan 'n vertaling gewerk het.

2.3 Direkte vertaling

Die vertaling van Die Bybel (2020) is gedoen deur gebruik te maak van 'n bepaalde vertaal-teoretiese benadering wat bekend staan as direkte vertaling. Hierdie term het 'n bepaalde tegniese betekenis, en dui op

'n poging ... om 'n vernuwende oplossing te bied vir die eeue oue spanning tussen getrouheid aan die outeurs van die antieke bronteks en die verstaanbaarheid daarvan vir ernstige Bybellesers vandag. (Van der Merwe 2014:290)

Die vertaalopdrag aan die vertaalspan lui dan ook soos volg:

Skep 'n goed verstaanbare, bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik. Hierdie opdrag is verder omskryf as 'n vertaling wat 'n getroue weergawe van die betekenis van die bronteks moet wees, terwyl beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks so ver moontlik behou moet word. Die vertaling moet van hoë letterkundige gehalte en goed verstaanbaar wees. (Combrink 2020)

In hierdie vertaalopdrag as sodanig lê die eerste ernstige probleem van die hele vertaalprojek opgesluit, naamlik om 'n balans te vind tussen getrouheid aan die bronteks aan die een kant en verstaanbaarheid en toeganklikheid vir die gebruikers in die doeltaal aan die ander kant. Daarby moet die vertaling, soos van enige ordentlike vertaling wat gesag wil afdwing, verwag word, aantreklik en literêr en taalkundig afgerond wees. Waar die bronteks soms, indien dit letterlik vertaal sou word, heeltemal onverstaanbaar sou wees vir die doeltaalgebruiker, moet die vertaalspan 'n oplossing vind. In die algemeen gesproke, kan dit gedoen word deur onder meer vryer te vertaal, verduidelikend te vertaal (deur byvoorbeeld 'n woord met 'n duideliker betekenis te soek), of in 'n voetnoot 'n verduideliking te verskaf vir die vertaalkeuse wat aangebied word. In die voorbeelde verder aan hieroor meer.6

In hierdie 2020-vertaling is daar met groot omsigtigheid met hierdie moontlikhede omgegaan, en daar is spesifiek gekies om nie uitbreidende verduideliking te gebruik nie en voorkeur te gee aan verduideliking in voetnote. Binne die beskikbare moontlikhede is daar in elk geval deurgaans gepoog om nie radikale opsies te neem nie en om eerder in die voetnote en in die register die probleme uiteen te sit.

 

3. DIE PLEK EN TAAK VAN DIE LITERÊRE ADVISEURS

Die kern van die werk van die literêre adviseurs is deur baie verskillende en uiteenlopende faktore bepaal, maar sentraal in hierdie reeks faktore staan die eise wat onderliggend is aan die poging om 'n transponering van betekenis te bewerkstellig vanaf antieke en gans andersoortige tale uit veraf-liggende historiese tydperke na 'n moderne taal, met 'n voorkeur vir eenvoudige en direkte segging. Om die vertaalde teks soepel en natuurlik te kry, het dikwels groot eise aan die literêre adviseurs gestel; want om die regte woord en frase en sinsformulering te kry wat die hele semantiese lading én die literêre vormgewing van die bronteks dra en weergee, verg goeie insig en toets hulle taalaanvoeling deurlopend. Dit is hier waar onderhandeling en gesprek 'n groot rol gespeel het. Die taal- en literêre adviseurs sou 'n taalprobleem in die voorgestelde formulering raaksien, maar omdat hulle nie 'n diepgaande kennis van die brontaal het nie, kan hulle dit nie direk suiwer volgens die taalreëls en hulle taalaanvoeling vir die doeltaal oplos nie - dit sou daartoe lei dat die vertaling te vry raak. Hulle het dan soveel as moontlik inligting oor die brontaalteks nodig om 'n sinvolle oplossing voor te stel. Die brontaalkenners wat die brontaaltekste binne hulle oorspronklike talige en kulturele raamwerke bestudeer en interpreteer, verskaf dan die nodige agtergrond en inligting oor die taalkonstruksie en literêre aspekte in Hebreeus of Grieks en verduidelik die betekenisse wat in die doeltaal verwoord moet word. Hierdie inligting vereis 'n intensiewe hermeneutiese analise van die brontekste. Doud (2020:1) gebruik die volgende omskrywing: "... hermeneutics involves a movement from the subjective understanding of ancient believers in their own time and place to our self-understanding in today's world". Hieruit blyk hoe nou verweef en interafhanklik die interpretatiewe werk van die brontaalkenners en eksegete en die bydrae van die literêre adviseurs is.

Soos hier bo uiteengesit, geskied die hele vertalingsproses in opeenvolgende lae van taalbewerkinge. Kenners van die literatuur is by die formulering in die doeltaal baie bewus daarvan dat taal as verskynsel op sy beste 'n kameleontiese en verglydende medium is. Tale groei en verander, en ontwikkel as 't ware 'n lewe van hul eie. Woorde en uitdrukkings in 'n taal dra en herberg bykomende betekenisse soos die tyd verloop, en die totale betekenislading oor tyd heen beïnvloed die betekenisskeppende vermoë van daardie selfde woorde en uitdrukkings in die daaropvolgende gebruik daarvan. Uiteindelik dra 'n woord 'n historiese lading van betekenisse wat oor eeue akkumuleer en dikwels ook radikaal verskuif. In literêre terme word gepraat van die argeologie van taal,7 want elke woord dra uiteindelik as 't ware die geskiedenis van al die betekenisse en die betekenisvariasies en -assosiasies wat daardie woord oor die tyd heen geakkumuleer het, in hom saam. Die strewe om so noukeurig as moontlik uit 'n oeroue en ver verwyderde bronteks te vertaal, is dus 'n geweldige opgawe. Om die betekenisse wat uit die bronteks gehaal word, so suiwer as moontlik weer te gee in 'n moderne taal, waarvan die woorde en uitdrukkings op hul beurt net so gelade is met historiese gebruike, veranderinge, variasies en assosiasies, maak alles net moeiliker.

Wat egter wel ook waar is, is dat die kernbetekenisse van taal en van woorde en uitdrukkings wel grootliks herwin kan word. Die brontaalkenners het baie bronne, sommige baie ou bronne wat in tyd nader aan die brontaaltekste is, tot hulle beskikking. Verder kan daar uit die konteks van 'n woord baie afgelei word, asook deur die gebruike van 'n woord op verskillende plekke in die Bybel met mekaar te vergelyk. En al is daar speling in die betekenisse van woorde en uitdrukkings, weet taalpraktisyns dat die kernbetekenisse wel bewaar bly en toeganklik is. Dit is ook so dat die oorkoepelende betekenis van 'n samehangende reeks boeke soos dié in die Bybel nie deur vertaling radikaal verander nie, mits die getrouheid aan die brontaalteks gerespekteer word. Klein formuleringsverskille verander nie die groter deurlopende lyne van betekenis nie.

Van der Merwe (2016) omskryf direkte vertaling soos volg:

It is an attempt to "interpretively resemble" in good idiomatic Afrikaans all the communicative clues of the source text in the contexts construed for the source text audience. [...] However, whenever the language structure and the conceptual world behind the language and culture of the source text could not be adequately understood and/or represented in the translation, or may be misunderstood by modern readers, additional information is provided in the paratext (e.g. introductions to the biblical books, maps, illustrations, footnotes and a glossary). Appiah [...] calls this a "thick translation".

Die literêre adviseurs moet dus in hulle poging om reg te laat geskied aan die bronteks, sorg dat die vertaalde teks so korrek moontlik is, dat dit mooi en goed klink; maar hulle moet ook rekening hou met hoe potensiële lesers die vertaalde teks gaan verstaan binne hulle konteks. Onder meer moet woorde met dubbelsinnige betekenisse, woorde wat misverstand kan veroorsaak en die registers van taalgebruik (histories sowel as sosiaal) deurlopend verreken word.

Dit was deurgaans in die vertaalproses die benadering dat die historiese aard en die statuur van die Bybel as 'n religieuse teks Bybelvertaling 'n baie spesifieke en verantwoordelike werk maak. Daar is uiteraard 'n geweldige tydsverloop tussen die leefwereld van die oorspronklike tekste en die leefwêreld van die vertalers en huidige Bybellesers. Verder is die tale self ook gans onverwant. Die Ou Testament is meer as 2 000jaar gelede geskryf in Hebreeus afkomstig uit verskillende tydperke, wat onderling verskille vertoon, en die Nuwe Testament is in Grieks geskryf tussen 50 en 130 n.C. Omdat die Bybel so 'n ou versameling tekste is, is daar ook al geweldig baie óór die Bybel geskryf en al die verskillende interpretasies van die tekste het onvermydelik 'n invloed op elke volgende interpretasie en verstaan van die bronteks. Om die bronteks se betekenis in volle diepte te probeer peil, moet die brontaalkenner en eksegeet rekening hou met die denke van die tyd, die liturgiese en rituele aspekte van die bepaalde teksgedeelte, historiese sake soos die regstelsel, die sosiale gebruike, die idiomatiese taalgebruik van die tydperk, literêre en skryfkonvensies, en style van profetiese en visioenêre geskrifte (vgl. Doud 2020:8). En allerlei interpretasies wat oor eeue heen gemaak is, moet bewustelik verreken word om ongewenste invloede te vermy.

Die literêre adviseur moet ook met al hierdie aspekte van die doeltaal rekening hou om goeie woordkeuses en formulering voor te stel. Die intensiteit van begrippe, die register van frases, vaste formuleringe, idiomatiese taalgebruik en 'n eindelose aantal ander moontlikhede moet in ag geneem en oorweeg word.

'n Ander byna intimiderende aspek waarvan die literêre adviseurs baie bewus is, is dat antieke religieuse tekste inderwaarheid bykans deurgaans in hoogs poëtiese taal geskryf is.8In die geval van die Bybel gaan dit nie net om die eksplisiet poëtiese boeke soos die Psalms, Hooglied, Prediker, liedere in baie boeke en die beskrywings van visioene in die profetiese boeke nie, maar om die hele versameling tekste - miskien minder in die Nuwe Testament, maar wel deeglik in die Ou Testament. Afgesien daarvan dat alle taal teoreties gesproke metafories van aard is, omdat alle tale konvensionele sisteme van betekenisaanduiding is, waarin betekenis op soms willekeurige en dikwels onlogiese wyse toegeken en uitgeruil word in 'n bepaalde historiese periode, was religieuse tekste in antieke tye hoogs gestruktureerde en stilisties komplekse tekste om daardeur gesag aan daardie tekste toe te ken. Dit beteken dat indirekte poëtiese segging, metaforiese taal, stilisties betekenisvolle poëtiese vorme en betekenisdraende strukture in byna elke sin en vers voorkom. Die betekenisdraende kodes waarmee gewerk is, sowel wat semantiek as struktuur en styl betref, is tans nie meer volledig toeganklik nie, en dit vereis diepgaande studie van die antieke tale en van die wêreldbeeld van die betrokke antieke periodes om die brontekste te interpreteer.

Die bekende Christelike Amerikaanse literator Leland Ryken (2014) skryf in 'n artikel dat "[t]he form in which the Bible comes to us is primarily (though not completely) a literary book", en verwys dan ook na die bekende Britse essayis CS Lewis (1958/2017) se "Reflections on the Psalms", waarin Lewis skryf: "[T]here is a sense in which the Bible, since it is after all literature, cannot properly be read except as literature; and the different parts of it as the different sorts of literature they are." Ryken het talle boeke geskryf oor die literêre aspekte van die Bybel, soos ook CS Lewis.9 Vanselfsprekend staan die geloofsdimensie steeds sentraal, soos wat hierdie literatore dit ook duidelik stel, maar die toegang tot daardie dimensie in die Bybel kom via taal en literêre vorm.10

Een duidelik literêre eienskap van die Bybel is dat daar verskillende genres voorkom: verhalende prosa en poësie, geskiedskrywing, regstekste, wysheidsliteratuur, lofliedere en klaagliedere, profetiese tekste en visioene. Hierdie genres moet gerespekteer word, omdat dit die vorm en die betekenis van die Bybelse teks bepaal. Binne hierdie genres is daar dele wat selfs meer intens literêr en eksplisiet poëties van aard is in die opsig dat dit die eienskappe van die Hebreeuse poësie en van die poësie in die algemeen vertoon. In hierdie gedeeltes kom, afgesien van die kennis van die brontaal as sodanig, spesifieke poëtiese eienskappe soos strukturele, metaforiese, klankmatige en ander eiesoortige stilistiese literêre eienskappe ter sprake.

Soos vroeër genoem, word die Bybel in sy geheel as 'n religieuse teks met literêre aard of as 'n literêre werk met 'n religieuse dimensie beskou. Die literêre aard en die religieuse dimensie is inderwaarheid onskeibaar, soos wat in alle literatuur inhoud en vorm onskeibaar is. In Die A-Z van Openbaring (2007) beskryf Jan Du Rand die boek Openbaring soos volg:

Die boek Openbaring is inderdaad 'n apokaliptiese kunswerk. Dit is soos 'n kleurryke tapisserie. Die literêre kleure, tekstuur, nate en steke is deeglik beplan en meesterlik saamgevoeg tot 'n geheelharmonie. Om dié kunswerk ten volle te kan waardeer, verg verfynde kennis en eerlike, gesofistikeerde metodes van verstaan.

Wat egter baie duidelik gestel moet word, is dat hierdie 2020-vertaling van die Bybel nie "literêre vertaling" in die gewone sin van die woord is nie; trouens, dit is onmoontlik en sou op geen manier in die vertaalopdrag inpas nie, omdat dit hier nie gaan om die kreatiwiteit van óf die oorspronklike skrywer óf van die persoon wat uiteindelik die vertaalde teks formuleer nie. Die aard en religieuse betekenis van die Bybelse tekste is, soos hier bo uiteengesit, bepalend vir die vertaalstrategie en -praktyk van Die Bybel (2020). Vir sommige vertalers van sekulêre literêre tekste is die ideaal van literêre vertaling die totstandkoming van 'n nuwe literêre teks, 'n nuwe kreatiewe teks. Dit is onder meer die standpunt van die bekende Switserse digter en vertaler Philippe Jacottet, wat selfs verkies dat die vertaler van poësie self 'n digter moet wees. Vertaling is dan "'n verborge onderhandeling wat die vorm aanneem van 'n gesprek; 'n stem wat antwoord op die spesifieke klank en toon van 'n ander" (Du Toit 2019:154), met die oog daarop om 'n nuwe selfstandige literêre teks tot stand te bring. Hierteenoor is die Mexikaanse digter Octavio Paz egter van mening dat digters in die praktyk selde goeie vertalers is, omdat hulle eie digterlike ego in die pad staan van 'n "onderdanige" weergawe van die ander digter se werk (Du Toit 2019:154). Daar is ook teoretici wat glo dat die vertaler eerder die dinamiek van die oorspronklike teks moet vasvang en nie meganies korrek hoef te vertaal nie (Kopp 1998). Hierdie soort vertaling stem ooreen met funksioneel-ekwivalente dinamiese vertalings, en die waarde wat die 2020-vertaling van Die Bybel heg aan die getrouheid aan die bronteks, sluit so 'n werkwyse heeltemal uit.

Desnieteenstaande moes die literêre adviseurs tog poog om met hulle literêre aanvoeling en insig die finale vertaling literêr so goed as moontlik te maak. Dit sou selfs as hulle verantwoordelikheid beskou kon word. Baie literêre en poëtiese strategieë, bekend in moderne Afrikaanse literêre teorie en praktyk, moes ontgin en geïmplementeer word om hierdie strewe te probeer waar maak.

In die laaste instansie wil ek beklemtoon hoe diepgaande die projek van die 2020-vertaling gekenmerk is deur samewerking, gesprek, onderhandeling en kennisuitruiling.11 Die brontaalkenners kon nie optimaal werk sonder die ondersteuning en bydrae van die doeltaal-mense, die taalkundige en literêre adviseurs, nie; en vanselfsprekend kon die doeltaalmense geen bydrae lewer sonder die grondwerk en toeligting, sonder die voorlopige bewoordings wat gemaak is op grond van magtige hoeveelhede navorsing oor die brontale en landeskunde van die historiese tydperke deur die brontaalkenners nie. Die bydrae van die literêre adviseurs is dus slegs moontlik in 'n simbiotiese samewerking met die span as geheel, en die bydrae moet dus nie oorskat word nie; maar dit kan ook geensins as 'n bloot kosmetiese of oppervlakkige agternablik oor die vertaling beskou word nie. Die literêre adviseurs het hulle bydrae as deel van die span ernstig opgeneem, en het hard gewerk aan die voorbereiding vir elke sessie en met oorgawe aan die gesprekke deelgeneem, sodat daar by die beste moontlike vertaling uitgekom kan word, juis omdat hulle besef het hoe belangrik die afronding en verfyning in die doeltaal van die teks is vir die geslaagdheid van die vertaling.

 

4. DIE VERTALING VAN DIE PSALMS12

Omdat die Psalms die hoogste eise aan die vertalers van die 2020-vertaling van die Bybel gestel het en omdat baie van die belangrike vertaalprobleme in die Psalms voorkom, word die bespreking van konkrete voorbeelde tot die Psalms beperk. Die poësie word immers allerweë beskou as die mees gekonsentreerde en mees betekenisdigte vorm van taal.13 Dit is uiteraard die moeilikste soort tekste om te vertaal, die uitdagendste en ook waarskynlik die mees bevredigende.

Die boek van Psalms beklee ook 'n besondere en, volgens sommige skrywers, selfs 'n sentrale plek in die Ou Testament. Doud (2020:1) onderskryf die standpunt dat dit inderwaarheid nodig is om die hele Ou Testament te bestudeer om die Psalms te verstaan, dat die hele Ou Testament as 'n soort kommentaar op die Psalms beskou kan word. Die rede hiervoor is dat die basiese geloofsoortuigings en die teologiese opvattings van Israel in die Psalms neerslag vind. Kulturele sake wat te make het met die verbond, die wet en die regstelsel, die geskiedenis, die koninklike tradisie, profesie, wysheidsopvattings, en dan natuurlik ook die literêre en poëtiese tradisie, lê ten grondslag aan die inhoud en die formele literêre en talige eienskappe van die Psalms (Doud 2020:4). Daar sou dus gesê kon word dat alle aspekte van die religieuse belewenis van die Jodedom in die tyd van die Ou Testament in die Psalms neerslag vind (Doud 2020:6).

Om die betekenisdigtheid en die uitwaaierende werking van poëtiese taal te bewerkstellig, gebruik digters in alle tale en in alle tye van die geskiedenis poëtiese tegnieke. Een van die funksies van die literêre adviseurs in hierdie vertaling was om die poëtiese eienskappe van die Psalms te ontleed (aan die hand van die inligting verskaf deur die brontaalkenners), en dan in gesprek met die brontaalkenners, die beste korrelerende poëtiese formulering en struktuur in Afrikaans te vind om die betekenis van sowel die inhoud as die betekenis van die formele poëtiese tegnieke in Hebreeus (asook in die Grieks van die Nuwe Testament) weer te gee.14

'n Indringende bespreking van die Hebreeuse poësie val buite die bestek van hierdie artikel, maar daar word wel enkele opmerkings gemaak wat van belang is vir die vertaling van die Hebreeuse poësie van die Ou Testament. Dit word dan gebruik as vertrekpunt om die vertaalproses toe te lig. Vir 'n algemene bespreking van die Hebreeuse poësie kan verwys word na die werke van Wu en Longman (2017), Fokkelman (2001) en Watson (1994 en 1995). Alhoewel Collins (1978) op die profete van die Ou Testament gefokus het, is sy werk oor die verskillende vorme van versreëls in Hebreeuse poësie steeds baie belangrik in meer onlangse studies oor Hebreeuse poësie. Meer onlangse werke oor die poësie van die Hebreeuse profete is die studies van Seybold (2010) en Vincent (2017).15 Vir die ontwikkeling van verskillende teorieë oor Hebreeuse poësie, veral die vorme van versreëls, kan die oorsig van Stocks (2012:22-65) geraadpleeg word.

4.1 Parallelisme

Op grond van die prominensie en belangrikheid van die herhalende struktuur van die versreëls en sinne in die Hebreeuse poësie, word die verskillende soorte parallelisme16 meer uitvoerig bespreek. 'n Groot variasie van parallelismes kom voor, en slegs enkele voorbeelde word bespreek om vorme van parallelisme te verduidelik.

Die basiese versreël in Hebreeuse poësie bestaan uit twee helftes wat op een of ander manier met mekaar verband hou, deur herhaling en variasie (Fokkelman 2001:61). In hierdie verband word gewoonlik verwys na die grondliggende werk van biskop Lowth, wat die eerste was om die uitdrukking parallelismus membrorum te gebruik (vgl Stocks 2012:1). In aansluiting by sy benadering is daar gewoonlik drie soorte paralellisme onderskei, naamlik sinonieme, antitetiese en sintetiese parallelismes.

Die mees algemene vorm is sinonieme parallelismes, waar die twee vershelftes dieselfde saak belig. In sommige gevalle word in die twee vershelftes woorde gebruik wat sinonieme is. Psalm 24:2 is 'n goeie voorbeeld. In vers 1 is daar 'n sinonieme parallelisme, hoewel daar 'n ellips voorkom in die tweede vershelfte:

1. Aan die Here behoort die aarde en die volheid daarvan, die wêreld en dié wat daarin woon,

2. Want Hy het dit op oseane gegrond en op strome gevestig.

In vers 1 word ook 'n vorm van sintaktiese uitbreiding gebruik, as die inleidende sinsdeel "Aan die Here behoort" in die tweede helfte van die eerste versreël weggelaat word, sodat dit ellipties is. In die Hebreeus word die "dit" in die tweede helfte van vers 2 herhaal, en so ook die onderwerp van die werkwoord. In die vertaling word "Want Hy het dit" egter weggelaat om die reël stilisties beter te laat vloei.

Terloops kan hier genoem word dat vanweë die tipografie in die Bybel, soos wat dit normaalweg gedruk word in smal kolomme, die Hebreeuse versreëls afgebreek moet word. Die eerste versreël van Ps 24 in die Hebreeus begin met "Aan" en eindig met "woon", al word dit hier oor drie reëls verdeel om tipografies in die vereiste formaat van die gedrukte Bybel in te pas.

In baie parallelismes word nie presiese sinonieme gebruik nie, maar wel soortgelyke terme. Die semantiese ooreenkoms bring die parallelisme tot stand wat in Hebreeus sterker op semantiese gronde berus as die streng sintaktiese patrone van moderne poësie. Psalm 1:5 is 'n voorbeeld hiervan: "[G]oddeloses" en "sondaars" hou semanties met mekaar verband, en so ook "regspraak" met die "byeenkoms van die regverdiges".17 Hier word weereens gebruik gemaak van sintaktiese uitbreiding as die werkwoord in die tweede deel van die parallelisme nie herhaal word nie.

Daarom sal goddeloses nie staande bly tydens die regspraak

of sondaars in die byeenkoms van die regverdiges nie.

Die paralellisme kan ook antiteties wees, soos in Psalm 37:21:

'n Goddelose leen

en betaal nie terug nie,

maar 'n regverdige is goedhartig

en mededeelsaam.

Die teenstelling word in vers 22 voortgesit:

Ja, wie deur Hom geseën is,

sal die land besit,

maar wie deur Hom vervloek is,

sal uitgeroei word.

Hierdie tipe teenstelling kom ook dikwels in Spreuke voor, waar die regverdiges en goddeloses teenoor mekaar gestel word.

In die sogenaamde sintetiese parallelisme bou die tweede vershelfte op een of ander manier op die eerste voort. Hier gaan die ooreenkoms om die samehangende betekenis, die implikasie van die eerste deel van die versreël wat in die tweede deel verwoord word, eerder as om die sintaksis, soos in moderne poësie. Psalm 37:4 is 'n goeie voorbeeld:

Vind jou vreugde in die Here.

dan sal Hy jou gee wat jou hart begeer.

'n Belangrike tendens is om nie maar net op die parallelle te fokus nie, maar om ook aandag te gee aan die manier waarop die twee vershelftes gestruktureer is. Daar is gevalle waar 'n versreël net uit een gedeelte bestaan sonder 'n tweede helfte (gewoonlik 'n kortvers genoem), maar 'n vers kan ook uit drie gedeeltes bestaan. Psalm 1:1 is 'n voorbeeld van laasgenoemde:

Gelukkig is die mens wat nie die raad

van goddeloses volg,

nie op die pad van sondaars gaan staan

en nie in die byeenkoms van spotters sit nie.

Die parallelle struktuur is hier egter steeds duidelik. Die inleidende frase "Gelukkig is die mens" word nie herhaal in dele twee en drie nie, maar verder is die sintaktiese struktuur ooreenstemmend. Wat hier ook behou moes word, was die progressie van die verhouding met die goddeloses: eers in beweging (volg), dan met staan (wat nader kontak impliseer), en dan met sit (wat beteken die man word deel van die goddeloses). Hiermee word die toenemende insluiting in die kring van die goddeloses waarteen gewaarsku word, uitgebeeld.

'n Voorbeeld van 'n kortvers word ook in Psalm 2 aangetref, waar die laaste reël van vers 12 'n kortvers is om die psalm met 'n soort samevatting af te sluit: "Gelukkig is almal wat by Hom skuil".

Parallelismes is dikwels nie beperk tot 'n enkele vers nie, soos in Psalm 27:1. Die vers bestaan uit twee versreëls, wat elkeen 'n sintetiese parallelisme bevat, terwyl die twee verse saam weer 'n sinonieme parallelisme vorm:

Die Here is my lig en my redding - vir wie sal ek vrees?

Die Here is die toevlug van my lewe - vir wie sal ek skrik?

In al bogenoemde gevalle is die parallelisme in die oorspronklike teks getrou bewaar in die vertaling. Waar woorde soms weggelaat word, is dit ter wille van vloeiendheid, maar die parallelisme is nooit wegvertaal nie. Omdat daar in die moderne poësieontleding steeds baie aandag gegee word aan die struktuur van versreëls, word soortgelyke verskynsels maklik in die Hebreeus raakgesien. Dit is wel nie altyd maklik om hierdie strukturele sintaktiese eienskappe in 'n vertaling te behou nie. Tog is dit belangrik om die semantiese en estetiese implikasies daarvan op een of ander manier in 'n vertaling weer gee.

'n Ander parallellistiese konstruksie is die chiasme, of kruisstelling. Dit kom heelwat voor in die Hebreeuse Psalms, en 'n tipiese voorbeeld word in Psalm 107:16 aangetref. Die Hebreeus word hier letterlik gegee, om aan te toon hoe die vertaling bewerk moet word ter wille van vloei en verstaanbaarheid en aantreklikheid in Afrikaans.

תֶׁשֹחְנ תוֹתְלַּד רַּבִׁש־יִּכ

van brons / deure /Hy het stukkend gebreek / want (woord vir woord vertaal)

want Hy het deure van brons stukkend gebreek (grammatikaal korrek vertaal)

עַּדֵּגִ לזֶרְבַ יחֵירִבְוּ

Hy het stukkend gekap / van yster / sluitbalke (woord vir woord vertaal)

Hy het sluitbalke van yster stukkend gekap (grammatikaal korrek vertaal)

In die vertaling is gepoog om iets van die chiasme weer te gee deur die onderwerp van die werkwoord in die tweede helfte onvertaal te laat, maar die struktuur is nou eerder 'n parallelisme as 'n chiasme:

Want Hy het deure van brons stukkend gebreek,

die sluitbalke van yster stukkend gekap.

Die vertaling van Psalm 22:13 bevat ook 'n parallelisme wat die poëtiese strukturering in die oorspronklike chiasme weergee, maar op 'n ander manier:

םיּבִרַ םירִּפָ ינִוּבָ

Baie / bulle / hulle het my omsingel

יִנוּרְּתִּכ ןָׁשָב יֵריִּבאַ

Hulle het my vasgekeer / van Basan / die sterkes

Baie bulle het my omsingel;

die sterkes van Basan het my vasgekeer.

Dit het ook andersom gebeur, naamlik dat die woordorde in 'n parallelisme in Afrikaans nie gemaklik was nie, en dan is daar 'n chiasme gebruik om minstens 'n vooropstellende konstruksie te behou. Dan is die vertaling nie tegnies heeltemal ooreenstemmend nie, maar die beklemtoning is behou, en die betekenis ook.

Wat ook dikwels gebeur, is dat die tweede helfte van 'n vers inligting uit die eerste helfte weglaat, 'n vorm van ellipsis. In sommige gevalle word daar dan iets nuuts in die tweede helfte ingevoeg, bv in Psalm 18:42:

עַיִׁשוֹמ־ןיֵאְו וּעְּוַׁשְי

Hulle het om hulp geroep, maar daar was geen redder nie,

םָנָע אֹלְו הָ֗והְי־לַע

Na die Here, maar Hy het hulle nie geantwoord nie.

Die vertaling klink so:

Hulle het om hulp geroep,

maar daar was geen verlosser nie,

selfs na die Here geroep,

maar Hy het hulle nie geantwoord nie.

In die Hebreeus word die werkwoord nie in die tweede deel van die parallelisme herhaal nie, maar die verwysing na die Here word ingevoeg. In die vertaling is die werkwoord herhaal in die eerste helfte van die tweede versreël ter wille van duidelikheid.

Sintaktiese konstruksies soos parallelismes, chiasmes en ellipse is dus deurgaans behou, maar soms wel in aangepaste vorm in Afrikaans weergegee.

4.2 Woordorde

Wat ook belangrik is, is die woordorde. Vooropplasing kom in Hebreeus baie voor, en dit het die vertalers nogal hoofbrekens gegee met die Afrikaans. Die vooropplasing is as uiters belangrik beskou, en daar is groot moeite gedoen om die beklemtoning te behou op een of ander manier.18

In Psalm 24 staan die frase "Aan die Here behoort" aan die begin van die reël in die eerste versreël, sodat dit in die reël en in die psalm as geheel prominent is. Die frase staan eerste, om te beklemtoon dat die Here sentraal staan: Die kerngedagte in die psalm as geheel is dat alles aan God behoort, en daarom kry dit voorrang. Hier vind dus sintaktiese omruiling plaas, omdat die sin normaalweg sou begin met die onderwerp, wat hier die aarde is. In die vertaalproses is hierdie soort sintaktiese vooropstelling deurgaans so ver as moontlik behou. As 'n woord in Hebreeus aan die begin van 'n reël of sin geplaas is, is daar gepoog om dit in Afrikaans ook te doen, omdat dit 'n beklemtoning van die bepaalde woord of konsep kan aandui.

Dit het egter wel dikwels 'n baie ongemaklike Afrikaanse woordorde teweeggebring. Dit was in baie gevalle onmoontlik om die Hebreeuse woordorde te probeer naboots, omdat die reëls vir woordorde in Afrikaans en Hebreeus sterk verskil, en so 'n "Hebreeuse woordorde" in Afrikaans 'n strak vertaling sou lewer. Daar is dan net eers seker gemaak of die Hebreeuse woordorde deur die normale woordgebruik bepaal is, in welke geval die Afrikaanse vertaling nie die woordorde hoef te behou nie. Die woordorde is in hierdie gevalle 'n taalkenmerk wat gewoonweg vertaal moet word.

Indien die woordorde egter in Hebreeus ongewoon is, dui die verplasing of dislokasie van die woord op 'n bewuste vooropstelling, wat 'n tekskenmerk is en gehandhaaf moet word. In sulke gevalle het die 2020-vertaling die ongewone Hebreeuse woordorde absoluut gerespekteer deur óf in Afrikaans ook 'n vooropstelling téén die gewone woordorde in te gebruik (dus ook 'n poëtiese omruiling te gebruik), óf die vooropstelling op 'n ander manier weer te gee. 'n Ander vooropstellingstegniek is byvoorbeeld dat so 'n woord dan aan die einde van die reël geplaas word, omdat dit ook 'n vooropgestelde posisie in die versreël in Afrikaans is.

Om vas te stel hóé radikaal 'n afwyking van die normale Hebreeus in alle gevalle is, was nie altyd klinkklaar duidelik nie, maar daar is wel sorg gedra om deeglik aandag aan die woordorde in elke sin te gee. Vanselfsprekend is die Afrikaanse vertaling ook nie optimaal in kreatiewe taalgebruik vertaal nie, maar die taal het wel genoeg moontlikhede gebied om oplossings te vind. Literêr gesproke word aanvaar dat taal uiters ongewoon gebruik kan word in poëtiese tekste. Die Russiese formalis Roman Jakobson het poësie immers omskryf as "georganiseerde geweld gepleeg op gewone taal" (Erlich 1955:171 e.v.). Hierdie eienskap van die poësie is in die herformulering in Afrikaans in gedagte gehou, en daarom kon ons die Afrikaans soms ombuig om die Hebreeus te akkommodeer, maar wel binne perke, omdat verstaanbaarheid 'n vereiste bly. Een van Jakobson se medeformaliste, Trubetzkoy, het dan ook inderdaad gesê: "'n Mens moet nie vergeet dat die geduld van taal wel iewers tot 'n einde kom nie" (Erlich 1955:171 e.v.).

4.3 Ander poëtiese middele

Alhoewel metrum in Hebreeuse poësie 'n rol speel, is dit waarskynlik 'n saak wat in vertaling minder belangrik is. Onverwante tale se metriese patrone en natuurlike ritme of ritmiese patrone verskil eenvoudig te veel daarvoor. Watson (1995:87-113) bied 'n goeie oorsig oor die verskillende teorieë oor metrum in Hebreeuse poësie. Hy is self ten gunste van die teorie dat die metrum berus op die aantal beklemtoonde lettergrepe in 'n halwe vers. Dit kan gewoonlik wissel tussen twee en vyf. Dikwels het die twee helftes ewe veel beklemtoonde lettergrepe, en soms het die een helfte meer as die ander. In die genre van klaagliedere kom byvoorbeeld dikwels drie beklemtoonde lettergrepe in die eerste helfte voor en twee in die tweede helfte. In die Psalms kom daar dikwels 'n 3+3-metrum voor en in Spreuke dikwels 4+4. 'n Ander teorie is gebou op die aantal lettergrepe in 'n halwe vers. Omdat dit waarskynlik nie van soveel belang is vir die vertaling van poësie nie, word dit nie verder bespreek nie.

Tegnieke wat met klank verband hou, soos alliterasie en assonansie, kom ook in Hebreeuse poësie voor. Psalm 122:6 bevat 'n mooi voorbeeld van alliterasie, met die konsonante sjin en lamed, maar dit kon nie in die Afrikaans slegs weergegee word deur die herhaling van die l- in "liefhet" en "leef" nie.

ךְיִָבֲהֹא וּיָ֗לְׁשיִ םִָלָׁשוּרְי םוֹלְׁש וּלֲאַׁש

sa'alü selöm yerüsälayim yisläyü 'öhabäyik

Bid vir die vrede van Jerusalem:

Mag dié wat jou liefhet, rustig leef.

Daar kom ook baie ander tegnieke voor wat met die klanke van Hebreeuse woorde verband hou, soos assonansie (Psalm 119:29), paronomasia (Amos 8:2) en onomatopee (Jesaja 24:16). Hierdie klankpatrone gaan egter normaalweg in 'n vertaling verlore, maar soms het daar ander klankpatrone ontstaan wat as 'n vonds beskou is.

'n Tipiese verskynsel in Hebreeuse poësie is akrostiese gedigte, waar elke opeenvolgende vers, of verse, met die opeenvolgende letter van die alfabet begin. Die bekendste voorbeeld is Psalm 119, waar telkens agt verse met dieselfde letter van die alfabet begin, om so 22 strofes te vorm. Alhoewel hierdie verskynsels tipiese digterlike tegnieke is, kan en word dit normaalweg nie in 'n vertaling behou nie, omdat so 'n struktuur op 'n betekenislose klankstelsel, naamlik die alfabet, berus.19 Dit gee poëties gesproke 'n mooi samehang aan die teks en is 'n elegante toevoeging tot die klankrykheid daarvan, maar die 2020-vertaling van die Bybel, soos die meeste ander betroubare vertalings, is meer gesteld op die betekenis en inhoud van die verse as die klankmatige versiering.

'n Ander boeiende verskynsel is wanneer gewone woorde in Hebreeus gebruik word, woorde wat as sodanig maklik vertaal kan word, maar waarvan die kulturele betekenis en idiomatiese betekenis verskil van wat hulle in Afrikaans sou kon beteken. 'n Voorbeeld hiervan is uitdrukkings waar na "hart en niere" verwys word in Hebreeus. In Afrikaans en ander moderne Westerse tale dui 'n verwysing na die hart meestal op die emosie, maar in Hebreeus dra dit 'n ander betekenis. In die Woordelys van die proefvertaling van die Nuwe Testament en Psalms (2014) word dit omskryf: Die hart "verwys na die diepste gedagtes en emosies van die mens ... Die hart is die setel van die intellek waar gedagtes en wilsbesluite gevorm word. Die hart bepaal 'n mens se karakter", terwyl die "niere ... as die setel van die emosies en die gewete gesien" is.

In Psalm 7:10 word hierdie uitdrukking gebruik, en die betekenis daarvan word in 'n voetnoot verduidelik.

Beëindig tog die boosheid

van goddeloses;

maar hou die regverdiges staande,

U wat hart en niere toets,

o regverdige God!

Deurgaans was woordkeuse as sodanig van groot belang. Waarteen 'n direkte vertaling moet waak, is wat mens sou kon noem die verletterliking van die bronteks. Dit gebeur wanneer die strewe om die bronteks op die letter te volg, 'n onnatuurlike vertaling tot gevolg het. In Psalm 91 staan daar letterlik dat die Here sy engele sal opdrag gee om jou op hulle "handpalms" te dra. Die Hebreeuse woord beteken letterlik 'handpalm', en dit is wel verstaanbaar in Afrikaans. In 'n Afrikaanse vertaling sou "op die handpalms dra" egter idiomaties vreemd oorkom. Die Hebreeuse stelwyse is waarskynlik 'n vaste ingeburgerde uitdrukking en nie 'n estetiese formulering of metafoor nie, eerder wat mens as 'n "dooie metafoor" kan beskryf, sodat dit inderwaarheid eerder 'n taaleienskap as 'n tekseienskap is. Daarom moet dit en is dit vertaal in Afrikaans met die korrelerende idiomatiese uitdrukking "op die hande dra".

'n Ander baie belangrike vraagstuk is die vertaling van die Godsname.20 Hier word hoofsaaklik verwys na die naam ('el saddaj), omdat dit net soveel 'n taalprobleem is as 'n vertalingsprobleem. Daar is relatiewe eenstemmigheid daaroor dat daar nie sekerheid bestaan oor wat die naam werklik beteken nie. In die Nederlandse Nieuwe Bijbelvertaling is die woord "Ontsagwekkende" gekies om hierdie naam van God weer te gee. Dit is aanvanklik ook oorweeg vir die Afrikaanse vertaling van 2020, maar uiteindelik is tog besluit om "Almagtige" te behou, soos dit was in die ouer Afrikaanse vertalings en ook in baie ander prominente vertalings in verskillende tale. Vir 'n literêre aanvoeling is "Ontsagwekkende" onaanvaarbaar, omdat hierdie woord 'n reaksie veronderstel en die te benoemde entiteit dus gedefinieer word in terme van die reaksie wat ontlok word, dus van die kant van die "ander". Teologies impliseer dit dat so 'n benaming God in terme van die mens se reaksie op God beskryf, terwyl God net in terme van Homself gedefinieer kan word. Dit is ook wat God self doen as Hy sê: "Ek is wat Ek is. Sê vir die volk 'Ek is het my na julle gestuur'" (Ex. 3:14).

Daar is ook daarteen gewaak dat die vertaling iets probeer verklaar. Daar is inderdaad plekke waar tekste dubbelsinnig, of liewer meerduidig is. In plaas van om te kies vir een verduidelikende vertaling, is daar gepoog om die oorspronklike bewoording te behou, sodat die meerdere betekenismoontlikhede behoue bly. As daar vir een metaforiese betekenis gekies word en dit word in die vertaling ingeskryf, val al die ander moontlike betekenisse weg, terwyl die bronteks dalk doelbewus meerduidig wou wees. Sulke voorbeelde maak goeie preekstof vir predikante, maar die vertaling hoef en mag meerduidigheid nie uitkanselleer nie. In sulke gevalle is daar ook dikwels van voetnote gebruik gemaak om die leser bedag te maak op die komplekser betekenis.21

'n Ander interessante saak is dat Hebreeuse poësie baie eenvoudig en direk beeldend is, en dat hierdie digstyl baie goed in Afrikaans tuiskom. In Psalm 120:2 sou die vers vertaal kon word met "valse lippe en 'n bedrieglike tong" (vgl. Die Bybel 1953). In hierdie vertaling is gekies vir

Here, bevry my van lippe wat lieg

En 'n tong wat bedrieg.

Laasgenoemde formulering is eenvoudiger en direkter, en ook poëties beter as die omskrywing van die eerste moontlikheid, omdat dit 'n parallelisme vorm en ook 'n herhaling van die l-klank bevat. Die formulering bevat ook 'n gemaklike en natuurlike rym. So staan daar ook in Psalm 138:7 "As ek in diep benoudheid verkeer", eerder as om dit swaar te verwoord met "As ek in beklemmende omstandighede verkeer".

By bekende psalms was die werk van die vertaalspan baie moeilik, omdat die vorige vertalings bekend en bemind geraak het. 'n Vergelykende lees van Psalm 23 in verskillende vertalings sal die probleem hier duidelik genoeg maak, maar in die 2020-vertaling is telkens gekies vir 'n eenvoudige en helder formulering. Wanneer daar na die voltooide vertaling gekyk word, is dit by terugskouing byna ongelooflik hoeveel alternatiewe telkens oorweeg en dan opsy geskuif is. Dit is dan ook 'n vereiste van goeie vertaling dat al die werk wat daarin gegaan het, nie sigbaar moet wees in die eindproduk nie. As dit wys, sal die eindvertaling waarskynlik 'n moeisame stamperige teks wees.

 

5. SLOT

In hierdie artikel is daar slegs algemene indrukke gegee oor die rol en plek en bydrae van die literêre adviseurs in die 2020-vertaling van die Bybel. Elke aparte aspek kan op sigself veel uitvoeriger beredeneer en toegelig word, maar hier dien alles om te illustreer hoe die literêre adviseurswerk enersyds nie bepalend is nie, maar andersyds ook nie nalaatbaar nie.

 

BIBLIOGRAFIE

Bal, M. 1987. Lethal Love: Feminist readings of Biblical Love Stories. Bloomington: Indiana University Press.         [ Links ]

Begeleidingskomitee. 2005. Vertaalopdrag. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gepubliseer by http://www.nuwekerkbybel.co.za/index.php/agtergrond-sp-86357912, [Geraadpleeg 20-28 Februarie 2020].         [ Links ]

Begeleidingskomitee. 2006. Werkboek. (Ongepubliseer) Bybelgenootskap van Suid-Afrika.         [ Links ]

Bronzwaer, W. 1993. Lessen in lyriek. Nieuwe Nederlandse poëtica. Nijmegen: SUN.         [ Links ]

Bullinger, E. W. 1898. Figures of Speech in the Bible: Explained and Illustrated. London: Messrs. Eyre & Spottiswoode.         [ Links ]

Bybelgenootskap van Suid-Afrika. 1953. Die Bybel.         [ Links ]

Bybelgenootskap van Suid-Afrika. 2020. Die Bybel.         [ Links ]

Bybelgenootskap van Suid-Afrika. 2014. Nuwe Testament en Psalms. 'n Direkte vertaling.         [ Links ]

Collins, T. 1978. Line-forms in Hebrew poetry: a grammatical approach to the stylistic study of the Hebrew prophets. Studia Pohl, Series Major 7. Rome: Potifical Biblical Institute.         [ Links ]

Combrink, H.J.B. 2020. Inleiding. In Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Die Bybel.         [ Links ]

Doud, R.E. 2020. Psalms, Heidegger, the New Hermeneutic, and Beyond. https://www.academia.edu/6779189/The_Psalms_and_the_New_Hermeneutic_at_Fifty, [2 Maart 2020].         [ Links ]

Du Plooy, Heilna. 2011. Words, like shells, are signs as well as things. (Ingrid Winterbach's iconic use of language.) In Michelucci, Pascal, Fischer, Olga & Ljungberg, Christina (eds). Semblance and Significance. Iconicity in Language and Literature 10. Amsterdam/Philadelphia: John Benjamins Publishing Company, pp. 327-342.         [ Links ]

Du Rand, J. 2007. Die A-Z van Openbaring. 'n Allesomvattende perspektief op die boek Openbaring. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.         [ Links ]

Du Toit, Catherine. 2019. Vertaling as transgressiewe potensiaal. Lojale verset. In Galloway, Francis (red.). 'n Huldiging. breyten breytenbach. woordenaar woordnar. Pretoria: Protea, pp. 152-177.         [ Links ]

Erlich, V. 1955. Russian Formalism. The Hague, Netherlands: Mouton.         [ Links ]

Fokkelman, J.P. 2001. Reading Biblical poetry. An introductory guide. Loisville: Westminster John Knox Press.         [ Links ]

Foucault, M. 1973. The Order ofThings: An Archaeology of the Human Sciences. New York, NY: Random House.         [ Links ]

Grabe, I. 1984. Aspekte van poëtiese taalgebruik. Potchefstroom: Dept. Sentrale Publikasies, PU. vir CHO.         [ Links ]

Hill, A.E. & J.H. Walton. 2000. A survey of the Old Testament, 2nd ed. Grand Rapids, MI: Zondervan.         [ Links ]

Kopp, M 1998. Poetry in Translation. http://www.geocities.com/paris/bistro/2207/apoetrytr.htm [25 Januarie 2020].         [ Links ]

Lotman, J.M. 1972. Die Struktur literarischer Texte. (Übersetzt von Rolf-Dietrich Keil.) München: Wilhelm Fink Verlag.         [ Links ]

Mossop, B. 2011. Revision. In Handbook of Translation Studies. Amsterdam, Philadelphia: John Benjamins Publishing Company. https://doi.org/10.1075/hts.2.rev1 [10 Maart 2020].         [ Links ]

Naudé, J.A. 1999. Syntactic aspects of co-ordinate subjects with independent personal pronouns. Journal of North-West Semitic Languages, 25(2):75-99.         [ Links ]

Nederlands Bijbelgenootschap. 2004. De Bijbel. Haarlem: Querido's Uitgeverij B.V. en Uitgeverij Jongbloed.         [ Links ]

Ryken, Leland. 2014. The Bible as Literature. www.washingtontimes.com [1 Maart 2020].         [ Links ]

Seybold, K. 2010. Poetik der prophetischen Literatur im Alten Testament. Poetologische Studien zum Alten Testament 4. Stuttgart: Kohlhammer.         [ Links ]

Stocks, S.P. 2012. The form and function of the tricolon in the Psalms of Ascents. Introducing a new paradigm for Hebrew poetic line-form. Eugene, OR: Pickwick.         [ Links ]

Van der Merwe, C.H.J. 2012. The Bible in Afrikaans. A direct translation - a new type of Church Bible. Hervormde Teologiese Studies, 68. http://dx.doi.org/1210.4102/hts.v1268i1201.1204 [2 Maart 2020].         [ Links ]

Van der Merwe, Christo H.J. 2014. Direkte vertaling van die Bybel as antieke teks: net 'n nuwe benaming vir 'n stokkerige woordelikse vertaling? Litnet Akademies, 11(3), Desember 2014.         [ Links ]

Van der Merwe, Christo H.J. 2016. How 'direct' can a direct translation be? Some perspectives from the realities of a new type of church Bible. Hervormde teologiese studies, 72(3). http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0259-94222016000300013 [6 Maart 2020].         [ Links ]

Van Vliet, E. 1998. 'n Pleidooi vir die poësie. (Vertaal deur Heilna du Plooy). Pretoria: Protea.         [ Links ]

Van der Spuy R. 2011. 'n Alfabeties-akrostiese klaaglied. Literator: Journal of Literary Criticism, Comparative Linguistics and Literary Studies, 32(3):125-145.         [ Links ]

Vincent, R. 2017. Sing out for justice: the passion and poetry of the Hebrew Prophets. Winchester: Christian Alternative.         [ Links ]

Watson, W.G.E. 1994. Traditional techniques in classical Hebrew verse. Journal for the Study of the Old Testament. Supplement Series 170. Sheffield: Academic Press.         [ Links ]

Watson, W.G.E. 1995. Classical Hebrew poetry: a guide to its techniques. 2nd ed. Journal for the Study of the Old Testament. Supplement Series, 26. Sheffield: Academic Press.         [ Links ]

Wu, Z. & Longman III, T. 2017. The basics of Hebrew poetry: Theory and practice. Eugene, OR: Cascade books.         [ Links ]

Zima, Peter V. 1999. The Philosophy of Modern Literary Theory. London & New Brunswick, NJ: The Athlone Press.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2020-03-21
Goedgekeur: 2020-06-23
Gepubliseer: Desember 2020

 

 

 

Heilna du Plooy was vir bykans 30 jaar ver-bonde aan die vakgroep Afrikaans en Nederlands aan die Noordwes-Universiteit se Potchef-stroomkampus. Sy is tans buitengewone professor in die Navorsingseenheid Tale en Literatuur aan die NWU. Sy is die skrywer van ongeveer honderd navorsingsartikels en hoofstukke in boeke oor Afrikaanse en Nederlandse prosa en poësie; en sy was redakteur of samesteller van nege akademiese boeke, waarvan Elize Botha -gespreksgenoot. 'n Brieweboek (2017) en die huldigingsbundel PG du Plessis - Hy was 'n rukkie pagter hier (2019) die mees onlangse is. Sy het 'n aantal kortverhale gepubliseer asook vertalings van gedigte. Daar het drie digbundels uit haar pen verskyn (Die donker is nooit leeg nie [1997], In die landskap ingelyf [2013] en Die stilte opgeskort [2014]), asook 'n roman, Die taal van been (2016). Haar geliefkoosde tydverdryf is skilder in waterverf en olie.
Heilna du Plooy lectured in the Afrikaans and Dutch subject group at the North-West University (NWU) Potchefstroom Campus for almost 30 years. She is currently an extraordinary professor in the Research Unit for Languages and Literature at the NWU. She has authored approximately a hundred research articles and chapters in books on Afrikaans and Dutch prose and poetry; and was the editor or compiler of nine academic books, the two most recent being Elize Botha -gespreksgenoot: 'n Brieweboek (2017) and a commemorative volume for the Afrikaans author PG du Plessis, PG du Plessis - Hy was 'n rukkie pagter hier (2019). She has also published a number of short stories, translations of poems, three volumes of poetry (Die donker is nooit leeg nie [1997], In die landskap ingelyf [2013] and Die stilte opgeskort [2014]), as well as a novel, Die taal van been (2016). Her favourite hobby is painting, using both watercolours and oils.
1 Ek gaan hier nie in op die verskillende sienings en debatte oor die religieuse status en normatiwiteit van die Bybel nie. Die feit bly staan dat die Bybel vir baie mense 'n gesaghebbende en normatiewe religieuse dokument is, en die vertalers moet daarmee rekening hou.
2 Die motivering van die besluit om 'n span kundiges te gebruik om die vertaling te maak, sowel as die besluit om van "direkte vertaling" as metode gebruik te maak, word elders in hierdie bundel artikels uiteengesit en verantwoord. Die verduideliking van die totale vertaalproses wat in verskillende fases verloop het, word ook elders omskryf. Die basiese werkwyse word hier slegs genoem en in die argument ingewerk waar dit 'n impak het op die bydrae van die literêre adviseurs. Vgl. ook Van der Merwe (2012).
3 Vgl. https://en.wikipedia.org/wiki/Toledo_School_of_Translators
4 Vgl. https://en.wikipedia.org/wiki/Alfonso_X_of_Castile
5 Dit was hierdie vertalings in Kastiliaans wat die grondslag van Spaans as taal gelê het, soos Luther se Bybelvertaling (van 1522-1534) ook die basis van Duits gelê het.
6 In sommige vertalings word daar soms van 'n "verleentheidsvertaling" gebruik gemaak. Dit is 'n vertaling wat sigself vryhede veroorloof om probleme met onduidelikhede op te los, meestal deur gewoon logiese of kontekstuele merkers te gebruik om 'n meer of minder akkurate raaiskoot te waag. In hierdie vertaling is daardie opsie met groot sorg vermy, en daar is eerder van toeligting in voetnote gebruik gemaak om duistere teksgedeeltes te hanteer.
7 In sy boek The Order ofThings verduidelik Foucault (1973:xi-xiv) wat hy bedoel met die argeologie van denke (wat lei tot die argeologie van die teken en die argeologie van taal), naamlik dat alle taal en diskoers setel in 'n bepaalde epistemologie, wat neerslag vind in woorde en diskoers. Volgens hierdie siening dra woorde hulle eie geskiedenis van gebruik in hulle saam, en dit is 'n kumulatiewe proses van betekenisverdigting. Vgl. ook Du Plooy (2011).
8 Daar bestaan die opvatting dat poësie oorspronklik die natuurlike vorm van taal in alle kulture was en dat die oudste religieuse tekste in daardie idioom geskryf is. Die oudste tekste waarvan ons weet, soos die Bybel, die Tibetaanse Dodeboek, die Indiese Rig-Veda, die oud-Egiptiese poësie, met die "Sonlied" van Akhnaton as die hoogtepunt, en die Chinese Boek van Odes is stilisties almal baie sterk of selfs suiwer poëties. Hierby kan mens ook die Babiloniese heldedig die Gilgamesh-epos voeg, sowel as Homeros se Ilias en Odusseia en die Aeneïs van Vergilius (vgl. Van Vliet 1998:18-19). Ook Martin Heidegger het die standpunt gehuldig dat die oorsprong van taal poëties of poësie self was: Die poëtiese is geensins blote versiering of verfyning van die taal nie, maar die "ruimte" of "plek" waar "being came primordially into expression as language" (vgl. Doud 2020:4).
9 Hier kan nie op die inhoud van hierdie skrywers en vele ander se werk ingegaan word nie, maar Ryken se publikasielys van boeke en artikels oor die Bybel en die letterkunde reik aan die 300, en sluit werke in soos A complete literary guide to the Bible (1993), How to read the Bible as literature (1984) Words of life: a literary introduction to the New Testament (1987). Hy was medewerker aan A History of the Bible as literature (1993). CS Lewis se Reflections on the Psalms is ook baie bekend.
10 Dit bly vir my as literatuurwetenskaplike altyd opvallend hoeveel literatore en literatuurweten-skaplikes hulle met die Bybel as teks besig hou en voorbeelde uit die Bybel gebruik. In sy gesaghebbende boek oor die poësie Lessen in lyriek gebruik Wim Bronzwaer (1993) deurlopend voorbeelde uit die Bybel gelyklopend met voorbeelde uit die klassieke wêreldlike literatuur. Ander literatuurwetenskaplikes skryf oor Bybelse tekste, al is hulle self glad nie gelowig nie, omdat die Bybel steeds as 'n merkwaardige stuk literatuur beskou word. Vergelyk onder meer die bekende narratoloog Mieke Bal se Lethal Love: Feminist readings of Biblical Love Stories (1987).
11 Die vertaling het uiteindelik tot stand gekom deur 'n reeks opeenvolgende prosesse van redigering en kontrole en revisie. Vir 'n uitgebreide bespreking van redigering en afronding in vertaling kan Mossop (2011) geraadpleeg word.
12 Ek bedank prof. HF van Rooy vir sy hulp, sy insette en kontrole met hierdie gedeelte oor die vertaling van die Psalms.
13 In Jurij Lotman (1972:133) se woorde "Schönheit ist Information".
14 Daar word hier uitgegaan van die standpunt dat in die poësie vorm sowel as inhoud betekenisdraend is. Dit geld ook vir die prosa, maar kom meer intensief voor in die poësie. Dit behels dat vormlike eienskappe soos sintaksis (wat woordorde, parallelisme en koppeling, sintaktiese uitbreiding en ander unieke, doelbewus omvormde sinstrukture insluit), klankverskynsels, en selfs ritmiese en metriese verskynsels betekenisdraend is (vgl. Grabe 1984; Bronzwaer 1993).
15 Vir diegene wat nie Ou Testamentiese spesialiste is nie, sal die inleiding van Hill & Walton (2000:307-319) van nut wees.
16 In die moderne literatuurteorie word daar steeds baie aandag gegee aan sintaktiese herhalings en patroonmatighede. Die terme wat tans gebruik word, is koppeling en parallelisme, waar koppeling 'n volledige sintaktiese ooreenstemming behels en parallelisme 'n gedeeltelike sintaktiese ooreenstemming, sodat daar 'n graduele verskil tussen die twee verskynsels is. Hierdie sintaktiese herhaling hou in dat as 'n sinsdeel bestaan uit byvoorbeeld 'n selfstandige naamwoord, 'n werkwoord 'n voorsetsel en 'n ander selfstandige naamwoord as objek, die korrelende sinsdeel dieselfde patroon sal hê wat betref die woordsoorte, hoewel ander woorde gebruik word. Dit gaan om die verskynsel wat Roman Jakobson beskryf het: "The poetic function projects the principle of equivalence from the axis of selection into the axis of combination" (Grabe 1984: 213). In sowel koppeling as parallelisme is daar 'n semantiese ooreenkoms tussen die twee sinsdele, net soos wat dit reeds in ou Hebreeuse poësie voorgekom het.
17 Hierdie verse dui op die gebruik om reg te spreek waar almal bymekaar is, sodat regspraak en die vergadering van die geloofsgemeenskap mekaar voorveronderstel.
18 Hier word nie ingegaan op fyner tegniese aspekte van woordorde, of al die grammatikale impli-kasies van dislokasies in Hebreeus nie. Vir meer besonderhede raadpleeg JA Naudé se artikel "Syntactic aspects of co-ordinate subjects with independent personal pronouns" (1999).
19 Daar is wel al pogings aangewend om die boek Klaagliedere akrosties te vertaal. Van der Spuy (2011) bespreek die saak indringend. Ek het self 'n eksperiment gedoen met Klaagliedere om in die vertaling iets van die akrostiese aard te behou. Dit het my daartoe gebring om poëties baie vindingryk te raak, en het ook interessante wendinge afgedwing, maar in 'n direkte vertaling is so 'n werkwyse nie vanpas nie, omdat die inhoud belangriker is as die vorm of poëtiese nuwighede.
20 Kyk Herrie van Rooy se 2de bydrae "oor enkele netelige kwessies" elders in hierdie uitgawe.
21 Kyk die bydrae van Christo van der Merwe elders in hierdie uitgawe.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License