SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue4-1Translators cross swords! Translation problems relating to the sword as a weapon in 1 and 2 MaccabeesLiterary aspects of the 2020 translation of the Bible in Afrikaans and the contribution of the literary advisors in the process of translation author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.60 n.4-1 Pretoria Dec. 2020

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n4-1a10 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die derde Afrikaanse Kerkbybel: Proses en praktyk van 'n direkte vertaling

 

The third Afrikaans church Bible: Processes and practices of a direct translation

 

 

Karen de Wet

Vakgroep Afrikaans, Departement Tale, Kuituurstudie en Toegepaste Linguistiek, Universiteit van Johannesburg, Johannesburg, Suid-Afrika. E-posadres: kdewet@uj.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die vertaalprojek van die derde Afrikaanse Kerkbybel, Die Bybel (2020), word in hierdie artikel in oënskou geneem. Die aanvang van die projek (die versoek om 'n vertaling, die werk van die loodskomitee) word beskryf en ook die uitgangspunte wat die vertaalpraktyk sou oriënteer (die vertaalopdrag, 'n direkte vertaling wat bronteksgeoriënteer en doeltaalgerig is). In hierdie verband word ooreenkomste en verskille beskou tussen die Afrikaanse Bybelvertalingsprojek en dié van die NBV (Nieuwe Bijbelvertaling) wat in 2004 gepubliseer is, net toe die projek vir 'n direkte vertaling van die Bybel in Afrikaans 'n aanvang geneem het. Die basiese uitgangspunte wat die vertaalprojek gerig het, soos die ononderhandelbare strewe na 'n bronteksgeoriënteerde vertaling wat terselfdertyd doeltaalgerig is, word beskryf.
Ook die proses van die vertaalpraktyk word beskryf met verwysing na die organisering en werk van interdissiplinêre vertaalspanne (boekspanne), die verskillende fases deur die verloop van die projek, en ook die werk van die eindredaksies (die redaksionele komitees).
Sowel die aard van die vertaling as die proses waarvolgens dit verloop het, het bygedra daartoe dat Die Bybel (2020) beskryf kan word as nie net uniek onder Afrikaanse Kerkbybels nie, maar ook as deel van die sogenaamde nuwe generasie Bybelvertalings. In die afdeling oor die unieke kenmerke van Die Bybel (2020) word dit toegelig met verwysing na interdissiplinêre boekspanne, interkerklike samewerking, vrouemedewerkers, intravertalers, die strewe na die skep van 'n vertaling wat as luisterteks slaag, en ook die gebruik van neweteks (inleidings, opskrifte, kruisverwysings, woordelysinskrywings, voetnote, kaarte en illustrasies).
Die artikel sluit af met 'n aanduiding van die omvang van 'n projek van 15 jaar en die verwagting van die bekendstelling van Die Bybel (2020) in November 2020.

Trefwoorde: Afrikaanse Bybelvertaling, Bybelvertaling, Die Bybel (2020), Kerk-bybel, Studiebybel, direkte vertaling, eksotiserende, vertaling, bron-teksgeoriënteer, doeltaalgerig, vertaalopdrag, parateks, alteriteit, voet-note


ABSTRACT

This article deals with the Bible translation project that produced the third Afrikaans authorised version or church Bible, Die Bybel (2020). The introduction provides a general orientation, by relating the origin of the translation to a request made in 2004 by churches using Afrikaans in their sermons. This request was directed via KABA, the Kerklike Advieskomitee vir die Bybel in Afrikaans (the Church Advisory Committee for the Bible in Afrikaans) to the Bible Society of South Africa (BSA), for a Bible in Afrikaans that could be used as a church Bible, and also for edification and personal use. When the BSA agreed (in 2005) to have a third Afrikaans church Bible translated, the decision was informed by a range of reasons/factors. These included (1) advances and developments in translation studies, specifically Bible translation, and (2) research related to the source languages of the Bible, the fields of archaeology and anthropology, and subjects such as the identification and nomenclature of fauna and flora and precious stones in the Bible.
The planning phase of the project was managed by a pilot committee, referred to as the loodskomitee, tasked with matters such as formulating the translation brief, planning the phases of the project, identifying and appointing team members for the translation teams of interdisciplinary experts (source-language experts, exegetes, Bible scientists, translation scholars, and Afrikaans language and literature specialists), organising conferences and work sessions for team members (providing training in line with the nature of the proposed translation, as well as in the use of the software selected, Paratext), and compiling a workbook that would be used to record approaches and decisions relating to the translation. At the end of the planning phase, the pilot committee handed matters over to the BSA-appointed executive committee (the begeleidingskomitee, or oversight committee), who would oversee the project. The article firstly discusses the consultations between the executive committee and a representative of the recently published (2004) Nieuwe Bijbelvertaling (NBV), an authorised Dutch translation. Specific similarities and also some differences between the Afrikaans and the Dutch projects are covered. This also serves to emphasize the focus on a direct translation, that is, as close as possible to the source texts, but at the same time in a style and language appropriate in the target language.
The next part of the article describes the actual process of translation. This was executed by one interdisciplinary translation team per Bible book. In the first round, the team consisted of four people (made up of exegetes, source-language experts, translation scholars), and in the second, the further input of both an Afrikaans language and a literature specialist was obtained, before the project progressed through the other phases. Special mention is made of the phases in which the editorial committees, one each for the Old Testament, the New Testament and Deuterocanonical Books, were involved, and the nature of their contributions to the translation is pointed out.
Whereas the first part of the article describes and discusses the rationale, aims, nature and process of the translation project leading to the publication of the third Afrikaans church Bible, the last part of the article is dedicated to those aspects of Die Bybel (2020) that can be regarded as unique - especially with respect to Afrikaans church Bibles. These include interdisciplinary and interdenominational collaboration, the inclusion ofwomen as contributors and translation scholars, the focus on making the translation suitable for oral reading, in keeping with the orality of the source text and being adaptable for liturgical use, as well as the creation of a so-called "complex translation" (Naudé 2019), or "thick translation" (Apphiah in Van der Merwe 2016), by creating a paratatext. Headings and footnotes, and their contribution towards creating a lucid and informative translation, are discussed as a case in point.
The article concludes that Die Bybel (2020) is unique as an Afrikaans church Bible and that it has the necessary characteristics to take its place in the emerging new generation of Bible translations, as defined by Naudé (2005).

Keywords: Afrikaans Bible translation, Bible translation, Die Bybel (2020), church Bible, authorised version, study Bible, direct translation, domestication in translation, foreignization in translation, source-language orientated, target-language orientated, paratext, footnotes


 

 

1. INLEIDING: AANLOOP TOT DIE VERTAALPROJEK

Aan die einde van 20041 rig die Kerklike Advieskomitee vir die Bybel in Afrikaans (KABA) 'n goed gemotiveerde2 versoek aan die BSA (Bybelgenootskap van Suid-Afrika) vir 'n nuwe Kerkbybel, 'n nuwe "authorised version" (Snyman 2014), van die Bybel in Afrikaans. Die versoek vir 'n nuwe Afrikaanse Kerkbybel word gerig in opdrag van kerke in Suid-Afrika wat Afrikaans in hul eredienste gebruik, terwyl waarnemers van kerke in Namibië wat Afrikaans gebruik op hulle versoek ingesluit is. Later sal die versoek geanaliseer en verfyn word as die behoefte aan 'n Bybel wat gebruik kan word in kerke, en vir onderrig, voorlees, selflees en Bybelstudie, aangebied in "goed verstaanbare" Afrikaans, en uiteindelik só in die vertaalopdrag opgeneem word:

Skep 'n goed verstaanbare, bronteks-georiënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik.3

Vyf dekades ná die publikasie van die eerste Bybel in Afrikaans (Die Bybel 1933/19534) waar die vertaalbenadering as 'n woord-vir-woord-, of ook 'n "konkordante of letterlike vertaling" (Van der Merwe 2014:294) beskryf kan word, en wat sterk op die Nederlandse Statenvertaling (1637, hersien 1657)5 steun, verskyn die tweede Kerkbybel in Afrikaans. Die Bybel (1983) bied 'n kommunikatiewe (Naudé 2019) en dinamies-ekwivalente vertaling.6 Afgesien van die twee Afrikaanse Kerkbybels, een met 'n letterlike en een met 'n dinamies-ekwivalente vertaling, publiseer die BSA in 2007 ook 'n funksionele vertaling (Naudé 2019) van die Bybel in Afrikaans, naamlik Die Bybel vir Dowes (in 2008 uitgegee as Die Bybel vir Almal - kyk Swart 2008). Al drie hierdie vertalings is direk uit die bronteks gedoen, al het dit verskillende vertaalbenaderings gevolg en al is die Bybel vir Almal nie 'n Kerkbybel nie.

Wanneer die versoek vir 'n nuwe Afrikaanse vertaling in 2004 gedoen word, is dit twee dekades ná die verskyning van die vorige vertaling van 'n Kerkbybel in Afrikaans. Die korpus beskikbare kennis oor die Bybel as antieke teks en oor die wêreld van die Bybel, soos ook die kennis oor die tale waarin die brontekste van die Bybel geskryf is, het aansienlik toegeneem, terwyl ook die vertaalteorie, en spesifiek Bybelvertaling as wetenskaplike dissipline,7 wesenlik ontwikkel het. Ook navorsing oor brontekste en brontale het uitgebrei,8 en al hoe meer inligting het beskikbaar geraak oor antropologiese en sosiokulturele aspekte wat relevant is vir die bronteks. Eweneens het 'n groot hoeveelheid inligting beskikbaar geraak deur navorsing oor die identifikasie en nomenklatuur vir fauna en flora in die Bybel.9 Al hierdie sake het nie net die versoek vir 'n nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans ondersteun nie, maar ook die noodsaak daarvan duidelik gemaak.10

2004 was ook die jaar waarin die NBV, die Nederlandse Nieuwe Bijbelvertaling, verskyn: 'n "oecumenische,"11 "interconfessionele" vertaling "in hedendaags, natuurlijk Nederlands".12

Hierdie pas gepubliseerde Bybel was 'n voorbeeld van 'n eietydse vertaalprojek van die Bybel waarin soortgelyke sake aandag gekry het as sake wat ook later as uitgangspunte geneem is vir die vertaling van 'n nuwe Kerkbybel in Afrikaans, veral die tweeledige fokus op 'n bronteksgeoriënteerde vertaling wat doeltaalgerig is.

In 2005 keur die BSA die versoek vir 'n nuwe vertaling vir 'n Afrikaanse Kerkbybel goed en gee opdrag dat 'n loodskomitee vir die beplanning van die projek saamgestel word. Vyftien jaar later, in November van 2020, verskyn die derde Kerkbybel in Afrikaans, die eerste vertaling in Afrikaans wat onderlê word deur die vertaalteorie van direkte vertaling.13

 

2. DOEL EN ORIËNTERING

Hierdie artikel lewer 'n bydrae tot die gesprek rondom die vertaalprojek van Die Bybel (2020) deur aspekte van die proses en die vertaalpraktyk van die direkte vertaling van die Bybel in Afrikaans te beskryf en te dokumenteer, en ook op unieke kenmerke van hierdie Bybel te wys. In die eerste deel van die artikel word die aanvang van die projek beskryf: van die loodskomitee wat die aanvoorwerk moes doen en uitgangspunte moes identifiseer en vaslê, tot en met die aanwys van die begeleidingskomitee, soos wat die uitvoerende komitee van die projek bekend gestaan het. Die oriëntering van die vertaalprojek (in terme van vertaalopdrag en uitgangspunte van die vertaling) word vervolgens beskryf deur ooreenkomste met die NBVuit te wys. Hierop volg 'n bondige uiteensetting van die praktyk en proses van die vertaling, waarby sake ingesluit word soos die boekspanne, die verskillende projekfases (vyf fases is geïdentifiseer: vanaf 'n basisvertaling in die boekspanne, tot die finale vertaling ná hersiening deur die redaksionele komitees) en ook die rol van die drie eindredaksies.

Teen hierdie agtergrond van waarom 'n nuwe Afrikaanse Kerkbybel nodig sou wees, die aard van die vertaalbenadering en aspekte van die praktyk van die vertaalproses, sluit die artikel dan af met 'n kort bespreking van aspekte wat as unieke kenmerke van Die Bybel (2020), in terme van Afrikaanse Kerkbybels, beskou kan word. Dit sluit eerstens die vertaling en vertaalspanne vir Afrikaanse Kerkbybels in, en ook die klem op 'n luisterteks en die skep van neweteks. Op grond van enkele van hierdie unieke kenmerke, word Die Bybel (2020) beskou as deel van daardie vertalings waarna Naudé (2005b) verwys as 'n nuwe generasie Bybelvertalings.

Die artikel word afgesluit met 'n kort beskrywing van die finalisering van 'n omvangryke projek.

 

3. AANVANG: VAN LOODSKOMITEE TOT UITVOERENDE KOMITEE

Met die goedkeuring van die versoek van die kerke vir 'n nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel, het die BSA opdrag vir só 'n vertaling gegee en 'n werkkomitee aangewys om die voorwerk vir die projek en die beplanning en organisering daarvan te doen. Hierdie komitee het bekend gestaan as die loodskomitee en was verantwoordelik vir die aanvang en beplanning van die projek. Dit het sake ingesluit soos: Die beplanning en beskrywing van hoe die proses van die vertaling sal verloop (in vyf geïdentifiseerde fases, en dat vir elke Bybelboek 'n spesifieke en interdissiplinêre boekspan, verantwoordelik vir die vertaling van daardie boek, aangewys word); die identifisering en werwing van medewerkers vir die boekspanne; die maak van voorstelle vir benoemings in die begeleidingskomitee (die uitvoerende komitee van die projek wat die verantwoordelikheid vir die projek sal oorneem by die loodskomitee) en die stig daarvan; die aanwys en stig van subkomitees (die Literêre Advieskomitee, die Taalkunde-Advieskomitee en die Advieskomitee vir Taalpraktyk en Vertaalkunde)14 wat verantwoordelik-heid moes neem vir sake in 'n bepaalde vakdissipline en die begeleidingskomitee daaroor moes adviseer; die saamstel van 'n werkboek15 (waarin onder andere uitgangspunte, benaderings en stylreëls16 opgeneem is en wat deur die loop van die projek bygehou is en onontbeerlik was vir konsekwentheid en as maatstaf17), en die aanbied van opleidingseminare18 (oor die aard van die vertaling, die beplande proses en die fases daarvan, en ook die gebruik van Paratext,19die programmatuur wat vir die vertaling gebruik is).

Met die BSA se aanstelling van 'n projekleier, prof. HJB (Bernard) Combrink, en die uitvoerende komitee van die projek, die begeleidingskomitee,20 het die loodskomitee se werksaamhede tot 'n einde gekom. Die begeleidingskomitee was nou verantwoordelik vir die bestuur van die projek, en die eerste vergadering het op 28 Februarie 200621 plaasgevind.

 

4. TWEE VERTAALPROJEKTE: DIE NIEUWE BIJBELVERTALING (NBV) EN DIE DIREKTE VERTALING VAN DIE BYBEL IN AFRIAANS

Daar is reeds verwys na die omvangryke navorsing wat die vertaalprojek van Die Bybel (2020) voorafgegaan het - soos marknavorsing, 'n konferensie en publikasies (kyk Naudé & Van der Merwe 2002). Hierop, en op die vertaalopdrag, het die begeleidingskomitee vervolgens voortgebou. Veral belangrik was om struktuur aan die projek te gee deur die aanstel van medewerkers en die formulering van take en funksies, wat ook ingesluit het: die ontwerp van 'n dokumentasiestelsel en weergawe-beheer wat deur die BSA geadministreer sou word, die verdere analise van die vertaalopdrag en hoe dit in die praktyk van die vertaling eerbiedig word, asook die deurlopende hersiening van die werkboek.

Soos reeds aangedui in die inleiding, was die verskyning van die NBV in 2004 besonder tydig vir die ontluikende vertaalprojek vir 'n nuwe Kerkbybel. Ná oorweging het die begeleidingskomitee byvoorbeeld in 2007 werksessies gehou met die Bybelwetenskaplike en vertaalkoördineerder van die NBV se vertaalprojek, dr. Jaap van Dorp,22 wat drie referate voorgehou het (waarby ruim besprekingsessies ingesluit was) oor die vertaalprojek van die Nederlandse Nieuwe Bijbelvertaling23 Die manier waarop die NBV se vertaalprojek verloop het en hoe die vertaalopdrag in die vertaling beslag gekry het, is onder andere bespreek. Alhoewel daar op noue verbande, maar ook ingrypende verskille, tussen die twee vertaalpro-jekte gewys kan word, is dit nog nie indringend bestudeer nie en word daar in hierdie artikel slegs kortliks daarna verwys. So verwys Combrink (2014c:5) bloot na Van Dorp se "kritiese insette", terwyl Van der Merwe (2012) in 'n voetnoot noem dat daar ooreenkomste is, en ook verwys na Van Dorp se werksessie met die begeleidingskomitee:

Since the only project that closely resembles this one (only with a much bigger budget), was that of the new Dutch translation, Dr J. van Dorp (who played a pivotal role in this project), was invited for a consultation session with the executive team of the project.

Wanneer die NBV ter sprake kom in sy bespreking van verskillende soorte Bybelvertalings, verwys ook Naudé (2005b) sydelings daarna dat ooreenkomste bestaan tussen die twee vertaalprojekte:

The New Dutch Translation (NBV) is an inter-confessional Bible translation brought out with the aim of providing a standard translation for all Dutch speakers. The next Bible translation in Afrikaans ... follows the same trends in its planning phase as that of the New Dutch Translation.

In die Werkboek (2006 e.v.) is dit wel opgeteken dat die Handboek voor de Nieuwe Bijbelvertaling (1988), wat tot die beskikking van die begeleidingskomitee gestel is via Van Dorp se bemiddeling, "in baie opsigte 'n handige vertrekpunt" was vir die verdere omskrywing van die "eksotiserende dimensies" van die vertaalopdrag.

'n Vertaalteoretiese ondersoek na die aard van die NBV as direkte vertaling sou waarskynlik aan die lig kan bring dat daardie Bybelvertaling nie noodwendig so 'n streng toepassing van 'n direkte vertaling is nie, en ook dat meer toegewings gemaak is in die rigting van die Nederlandse taal en hoe dit die begrip van die eietydse Nederlandse leser ondersteun, as waarna in die Afrikaanse 2020-vertaling gestreef is. Tog bestaan opvallende ooreenkomste tussen nie net die vertrekpunt en oriëntering van die twee vertaalprojekte nie, maar ook aspekte van die vertaalopdrag en die samestelling van die vertaalspanne. So stel beide vertaalprojekte ononderhandelbare bronteksgeoriënteerdheid as uitgangspunt, waarby 'n vertaling wat eksotiserend gerig is, ingesluit is. Dit in teenstelling met vertalings wat op naturalisering gerig is, sodat die vertaling die konseptuele en leefwêreld van die doeltaalleser voor oë hou, en sake soos byvoorbeeld antieke mate en gewigte met metrieke mate vertaal word. 'n Sosiokultureel sensitiewe vertaling, waarin die sogenaamde eksotiserende behou word, streef daarna om die status van die Bybel as antieke teks deur die vertaling duidelik te hou, maar sonder dat die vertaling die begrip van die doeltaalleser en die fokus op doeltaalgerigtheid uit die oog verloor. In die NBV-projek is die strewe hierna soos volg verwoord:

Traditionele bijbelse termen en begrippen zijn gebruikt voorzover ze geen extra barrières opwerpen voor lezers die niet vertrouwd zijn met oudere bijbelvertalingen.24

Voorts is ook voorsiening daarvoor gemaak om bronteksgeoriënteerd te vertaal, terwyl dit nie noodwendig die eienskap 'brontaalgetrou' insluit nie:

In de eerste plaats is de brontekst het uitgangspunt voor de NBV. De NBV is niet brontaalgetrouw, zoals letterlijke vertalingen vaak wel zijn. Je kunt dan bijvoorbeeld de woordvolgorde van het Hebreeuws zo terugvinden in het Nederlands. In de NBV zijn de gewone taaleigenaardigheden van de brontalen opgegaan in taaleigenaardigheden van het Nederlands.25

Hierdie benadering het die fokus van die NBV se vertaalprojek op doeltaalgerigtheid ondersteun:

De vertalers hebben geput uit de volle breedte van de Nederlandse taal, zoals die wordt geschreven in het Nederland en Vlaanderen van de laatste decennia van de twintigste, en de eerste jaren van de eenentwintigste eeuw. Nadrukkelijk modieus en archaïsch Nederlands is daarbij vermeden.26

In die 2020-projek is 'n soortgelyke strewe gevolg, 'n vertaling waarin die doeltaal teregkom,27soos wat gesien kan word in die vertaalopdrag se formulering van 'n vertaling in "goed verstaanbare" Afrikaans en die latere uitbreidings hiervan in die analise van die vertaalopdrag.

Die spanning wat in die vertaalpraktyk ontstaan as gevolg van die strewe om bronteks-georiënteer te vertaal, alhoewel nie primêr gerig op die brontaal nie (met ander woorde, die brontaal se taalkenmerke soos woordorde word nie gevolg nie, maar wel dié van die doeltaal), en terselfdertyd ook doeltaalgerig, is in beide die vertaalprojekte verreken deur uit die staanspoor interdissiplinêre samewerking tussen vakkundiges by die vertaalproses in te bou. Die insluit van kenners uit uiteenlopende dissiplines by die span wat verantwoordelik vir die eerste vertaling (basisvertaling) was, het die vertaalproses van die begin af (en nie eers in 'n redaksionele fase nie) beïnvloed, en daarom uiteindelik ook die vertaling self. Nie net vakwetenskaplikes uit die Bybelwetenskappe, eksegete en brontaalkenners was verantwoor-delik vir die vertaling nie, maar van die begin van die projekte was ook vakwetenskaplikes wat spesialiseer in vertaalkunde en/of die doeltaal deel van die vertaalspanne. Die twee vertaalprojekte verskil egter in die wyse waarop hulle hierdie interdissiplinêre samewerking in die vertaalpraktyk laat realiseer het. Waar die 2020-vertaalprojek in vertaalspanne georganiseer is en die vertaalproses in hierdie spanne met interaksie, hersiening en ooreenkoms verloop het, het die NBV se projek van slegs 'n "vertaalkoppel" per Bybelboek gebruik gemaak. Slegs twee persone per boek was vir die basisvertaling verantwoordelik: 'n kenner van die bronteks(taal) en 'n kenner van die Nederlandse taal:

Elk bijbelboek is vertaald door een vertaalkoppel bestaande uit een oud- of nieuwtesta-menticus, en een neerlandicus, vertaalwetenschapper of dichter.28

Waar die NBV se "vertaalkoppel" 'n baie eenvoudiger, meer vaartbelynde proses behels het en die vertaalhandeling in die praktyk ook vinniger kon verloop, het die Afrikaanse projek meerdere interdissiplinêre kundiges en ook interdenominasionele samewerking in die boekspanne ingebou. In die Afrikaanse projek is die NBV se "vertaalpaar" uitgebrei tot 'n boekspan interdissiplinêre kundiges29 vir elk van die afsonderlike Bybelboeke.

Dit was 'n eerste in die praktyk van Bybelvertalings, en Van der Merwe (2012) verwys na die bykans onmoontlike eis van haalbaarheid wat so 'n groot mate van interdissiplinêre samewerking gestel het aan 'n projek met 'n beperkte begroting:

... this was a very ambitious project. On the one hand, part of the theoretical model rested on theoretical insights that were not yet applied on a large scale in a Bible translation project. On the other, an impractically huge team of primarily part-time co-workers, who were spread all over Southern Africa, had to be trained, organised and monitored with an initially very small budget...

Die rol wat die NBV gespeel het as 'n reeds suksesvol afgehandelde vertaling met 'n goed gedokumenteerde vertaalprojek, behoort nie onderspeel te word wanneer gekyk word na die keuses van benaderings en praktyke vir die Afrikaanse vertaalprojek nie. Dit was duidelik uit die reeds gepubliseerde NBV dat dit werkbare en vrugbare praktyk is om uit die staanspoor kenners van die doeltaal (Nederlands) te laat saamwerk met kenners van die brontekstale (Hebreeus, Grieks, Aramees), waarby ook Bybelwetenskaplikes en eksegete ingesluit is (Ou en Nuwe Testamentici en kenners van die Deuterokanonieke boeke), en hierdie feit was enigsins rigtingduidend vir die 2020-projek in terme van die haalbaarheid daarvan. Die opmerklikste verskil was, soos genoem, die uitgebreide inklusiwiteit en interdissiplinêre kundigheid - nie maar een brontaalkenner, Bybelwetenskaplike, eksegeet of Bybelvertaalkundige was verantwoordelik vir die basisvertaling van 'n Bybelboek nie, maar 'n span verteenwoordigers; nie maar een kenner van die Afrikaanse taal- of vertaalkunde nie, maar 'n interdissiplinêre groep. Hierdie benadering was nie net verskillend van die eietydse NBV nie, maar ook van die benaderings in vorige Afrikaanse Kerkbybels. By sowel die 1933-30 as 1983-vertalings het doeltaalkenners eers laat in die vertaalproses, en dan in 'n adviserende en/of redaksionele rol, 'n bydrae kon lewer.

Die strewe na inklusiwiteit deur soveel moontlik kerkgenootskappe te betrek, is 'n verdere ooreenkoms tussen die twee vertaalprojekte. Die NBV-projek lys die samewerking van 23 kerkgenootskappe,31 en die vertaling word ook beskryf as "interconfessioneel", met verwysing na samewerking tussen Gereformeerde en Katolieke groepe, sowel as groepe en belanghebbers in Nederland en van Nederlands, en in België en van Vlaams.32 Die omvang van inklusiwiteit wat die 2020-vertaalprojek bereik het, word later in die artikel, in die deel oor unieke kenmerke, verder toegelig.

'n Laaste gedeelde kenmerk tussen die NBV en die Afrikaanse projek waarop hier gewys kan word, is die klem wat in beide projekte geplaas is op die voorleesbaarheid van die vertaling, met ander woorde of die vertaling daarin slaag om ook 'n luisterteks te wees. Ook hierdie aspek word verder toegelig in die deel oor unieke kenmerke.

 

5. PROSES EN PRAKTYK: BOEKSPANNE, PROJEKFASES EN EIND-REDAKSIES

Met 'n vertaalopdrag, 'n vertaalbenadering, 'n werkboek, 'n beplande proses, 'n bestuurspan en ook projeklede wat reeds deelgeneem het aan werksessies oor sake soos die aard van die vertaling, die rol en take van die boekspanlede en ook die gebruik van Paratext, was dit tyd om met die vertaling te begin. Die boekspanne kan met reg beskryf word as nie net die plek waar die vertaling beslag gekry het nie, maar ook as 'n hoeksteen van die projek.

Vir elke Bybelboek (Ou Testament, Nuwe Testament, Deuterokanonieke boeke) is 'n vertaalspan deur die BSA aangestel wat bestaan het uit twee eksegete, 'n brontaalkenner en 'n intravertaler (taalpraktisyn of vertaalkundige), waarby, vanaf die tweede fase, ook 'n aangewese taalkundige en letterkundige betrokke was.33 Aangesien die meerderheid intra-vertalers nie die tale magtig is waarin die bronteks geskryf is nie, is die eerste weergawe van die basisvertaling deur die eksegete en die brontaalkenner voorberei uit die bronteks. Die intravertalers is juis só genoem op grond daarvan dat hulle van 'n intravertaling, of tussenvertaling, 'n eerste vertaling in Afrikaans, soos voorberei deur die eksegeet en brontaalkenner, gebruik moes maak, om dan vanuit die hoek van die doeltaal 'n bydrae te kan maak tot die basisvertaling wat deur die boekspan voorberei is.

Die vertaling van elke Bybelboek het hoofstuk per hoofstuk in die boekspanne plaasgevind. 'n Basisvertaling (fase 1) is deur voorstelle, bespreking en revisie in die boekspan bereik. Hierdie basisvertaling het 'n tweede fase bereik deur die proses van 'n interne hersiening: lede van die boekspan het terugvoer wat die boekspan se taalkundige en letterkundige op die vertaling gegee het, oorweeg en verwerk. Die bewerkte teks is finaal nagegaan en oorweeg deur die eksegeet, met moontlike insette van die brontaalkenner, om sodoende die finale basisvertaling te bereik.

Sodra 'n boekspan die laaste hoofstuk van die Bybelboek wat hulle vertaal het, se finale basisvertaling aan die projekkantoor by die BSA gestuur het, het die taak van daardie boekspan tot 'n einde gekom. Die vertaalde teks het nou beweeg na fase 2b, wat intensiewe hersiening deur die relevante redaksionele komitee behels het. Die redaksionele komitees is saamgestel uit kundiges wat dieselfde interdissiplinêre kennis kon bydra as wat tot beskikking van die boekspanne was, naamlik eksegete, brontaalkenners, vertaalkundiges, taalkundiges en letterkundiges. Die BSA het drie redaksionele komitees vir die verantwoordelikhede van die eindredaksie aangestel - een elk vir die Ou Testament,34 Nuwe Testament35 en Deuterokanonieke boeke.36 Elke redaksionele komitee het uit minstens agt lede bestaan (met die opsie van koöptering), wat tipies twee eksegete (van verskillende denominasies en deur die kerke aangewys), een (of twee) brontaalkenner(s),37 'n vertaalkundige, 'n taalkundige, twee letterkundiges en die projekleier ingesluit het (kyk ook Combrink 2014c). Waar die lede van die boekspanne wat vir die basisvertaling verantwoordelik was, hoofsaaklik virtueel gewerk het, met die moontlikheid van enkele byeenkomste, het die verskillende redaksionele komitees sittings bygewoon vir periodes van 5 tot 6 aaneenlopende dae waartydens die teks gefynkam en hersien is. Tydens hierdie sittings is verskillende fases van die teks aan die orde gestel, en die redaksionele komitees moes die volgende take van 'n eindredaksie verrig (in ooreenstem-ming met die verskillende fases van die vertaling wat ter tafel was): die kommentaar soos ontvang van kerklike lesers (genomineer deur kerkgenootskappe) en lede van die publiek (via e-poskorrespondensie of navrae en insette op die amptelike webwerf) in ag neem, ondersoek en die teks dienooreenkomstig hersien, die konsekwentheid van die vertaling en ook spesifieke teksdele kontroleer, en spesifieke aandag bestee aan die geslaagdheid van die teks as luisterteks.

Teen die einde van fase 2b is die teks van die vertalings, soos op daardie stadium, ter wille van toeganklikheid en insae op die amptelike webblad gepubliseer as "proefvertalings".38 Dit het die projek se strewe na inklusiwiteit bevestig. Hierdie proefvertalings is aangedui as "beskikbaar vir kommentaar",39 en is gepubliseer vanaf Mei 2016 tot Augustus 2018. Teen die einde van die derde fase is die hersiene teks van die vertalings ook hier gepubliseer, maar met die spesifisering "vir kennisname".40 Die doel was om 'n aanduiding van die vordering van die projek te gee, en dit het ook meegebring dat lesers wat kommentaar ingestuur het, insae in die hersiene weergawes kon hê. Die weergawe van die vertalings teen die einde van fase 3 van die vertaalproses, is op die webblad geplaas in 2016 (die hele Nuwe Testament en 1 en 2 Makkabeërs), in Julie 2018 (die res van die Deuterokanonieke boeke) en van Augustus 2018 tot Maart 2019 (die Ou Testament).41 Dit is terselfdertyd ook 'n aanduiding van wanneer die redaksionele komitees die hersienings voltooi het.

Die vierde fase van die projek is ontwerp vir konsekwentheidskontrole deur die redaksionele komitees. Die noodsaaklikheid van die werk in hierdie fase was 'n direkte gevolg van die verskeidenheid boekspanne en interdissiplinêre kundiges, wie se vertalings van die verskillende boeke in die eerste fase van die projek sonder insae in mekaar se werk verloop het. Van die redaksionele komitees is verwag om na te gaan of die vertalings van bepaalde woorde en frases (ook idiome en metafore) uit die brontale sover moontlik konsekwent met dieselfde woorde in Afrikaans vertaal is. Spesifieke uitdagings is ook gestel deur die volgende tekste en teksdele:

ooreenstemmende dele in die evangelies (en soms met verskillende woorde)

ooreenstemmende dele in die Pentateug

ooreenstemmende dele in die profeteboeke

ooreenstemmende dele en ook verskille tussen Ester en Ester Grieks

die konsekwente hantering van aanduidings ten opsigte van musiekinstrumente of instruksies vir uitvoering by die Psalms

die konsekwente hantering van die vorm van (send)briewe, veral ten opsigte van die aanhef, groete en slot, en met inagneming van kleiner verskille

die konsekwente vertaling van seënspreuke en vloekformules (aangedui deur merkers in die bronteks)

tekste uit die Ou Testament wat in die Nuwe Testament aangehaal word. (Hier was dit belangrik om seker te maak dat die formulering wat in die brontekste van die NT gebruik word vir die aanhaling, vertaal word, en dat dit nie die vertaling is van die spesifieke vers soos wat dit in die Ou Testament van die 2020-vertaling vertaal is, wat gebruik word nie.)

Aan die einde van die vierde fase was die werk van die redaksionele komitees afgehandel. In fase 5 sou die begeleidingskomitee die vertaling moes aanbeveel vir publikasie en aan die BSA oorhandig. Meer hieroor in die slot van die artikel.

 

6. UNIEKE ASPEKTE - DIE BYBEL (2020) EN VORIGE AFRIKAANSE KERK-BYBELS

Teen die agtergrond van die vertaalopdrag en vertaalpraktyk soos wat dit tot hier beskryf en bespreek is, is dit moontlik om te besin oor die plek van Die Bybel (2020) as derde Afrikaanse Kerkbybel. In die laaste deel van hierdie artikel word daarom gewag gemaak van daardie aspekte van die eerste direkte vertaling van die Bybel in Afrikaans wat dit moontlik maak om dit as 'n unieke Kerkbybel in Afrikaans te beskryf.

6.1 Interdissiplinêre en interkerklike samewerking, die eerste vroue-medewerkers, intravertalers

Die vertaalproses en die vertalers betrokke by die vertalings van die eerste twee Kerkbybels in Afrikaans, die vertalings van 1933/53 en 1983, is goed gedokumenteer.42 Hoe beperk die vertaalspanne was, met verwysing na interdissiplinêre vakkennis, ekumene en inklusiwiteit, word uitgewys deur Naudé (2004:142):

Behalwe vir die Afrikaanse Bybel vir Dowes bestaan die vertaalspanne slegs uit wit mans. Die eindvertalerspanne van die 1933- en 1983-vertalings sluit slegs professore van die N.G. Kerk, Gereformeerde Kerk en Hervormde Kerk in. ... Teologiese professore van die Ou en Nuwe Testament, wat nie spesifiek as vertalers opgelei is nie, tree meestal op as vertalers, byvoorbeeld, die 1933- en 1983-vertaling ... Vertaalspanne sluit meestal spesialiste in Hebreeuse en Griekse linguistiek sowel as Ou Nabye Oosterse en Antieke Mediterreense kultuur en opgeleide (Bybel)vertalers uit.

In die vertaalprojek vir die derde Afrikaanse Kerkbybel is konstruktief beplan om beperkinge soos hierdie te oorstyg. Van der Merwe (2014:296) verwoord die strewe na inklusiwiteit in die 2020-projek só:

Medewerkers aan die vertaling moes so verteenwoordigend moontlik wees wat ouderdom, geslag, ras en veral kerke betref - in teenstelling met die 1983-vertaling, wat hoofsaaklik deur verteenwoordigers van die drie 'wit' gereformeerde susterkerke gedoen is.

Wat inklusiwiteit en interdissiplinêre bydraes betref, kan vyf sake genoem word wat uniek was aan die vertaalprojek vir Die Bybel (2020) as Afrikaanse Kerkbybel.

Eerstens is alle kerkgenootskappe wat die Bybel in Afrikaans gebruik, genader vir samewerking, en sodoende was daar 27 instansies wat formeel betrokke was by die KABA.43

Verder was dit die eerste maal dat 'n vertaalspan van 'n Afrikaanse Kerkbybel uitgebreid interdissiplinêr (brontaalkenners, eksegete, Bybelwetenskaplikes, vertaal-kundiges, taalpraktisyns, taalkundiges en letterkundiges) was, en dat die medewerkers bydraes kon lewer tydens al die fases van die projek.

Vir die eerste maal is die vertaling van die Deuterokanonieke boeke ingesluit as deel van die vertaalprojek.44

Vir die eerste maal was vroue deel van die vertaalspan45 en is sensitiwiteit ten opsigte van geslagsinklusiewe vertaling op die agenda geplaas, ten spyte van die ononderhandelbare bronteksgeoriënteerdheid en die eise van 'n direkte vertaling. Voor-beelde wat in die Werkboek (2006 e.v.) bespreek word, is die gebruik van geslags-neutrale terme in gevalle "waar manlike vorme in die bronteks gebruik word as aanduiding van 'n gemengde groep". So is "die Hebreeuse benaming 'seuns van Israel'" vertaal met "Israeliete", behalwe wanneer dit na die twaalf seuns van Jakob46verwys. Geslagsneutrale terme is ook gebruik in gevalle waar die bronteks "manlike vorme gebruik, maar die bedoeling kennelik is om albei geslagte in te sluit". Met die voorbeeld uit Jes 1:2: " "Kinders het Ek grootgemaak". In die bronteks word die woord seun inklusief gebruik, aangesien daar sosiokultureel bepaald nie na dogters verwys is nie.

Vir die eerste maal is die insette van vertaalkundiges en taalpraktisyns van die begin af by die vertaalproses ingesluit (kyk ook Combrink 2012). Combrink (2014c) dokumenteer dit so:

Terwyl daar by die 1933/53- en 1983-vertalings wel Afrikaanse taalkundiges en letterkundiges as adviseurs opgetree het is daar 59 Afrikaanse taalkundiges, letterkundiges (insluitende opgeleide vertalers, kreatiewe skrywers/digters) van die begin van die proses af in al die spanne betrokke.

Ook die munt van die term intravertalers (vir daardie vertaalkundiges en taalpraktisyns wat vakkundiges in Afrikaans is en nie die brontale magtig is nie47 en wie se bydrae tot die vertaling gefokus het op die doeltaalgerigtheid daarvan) was 'n eerste in die praktyk van Afrikaanse Bybelvertalings.

Aansluitend hierby kan die aansienlike omvang van die projek ook as 'n onderskeidende kenmerk uitgewys word. Die loodskomitee, begeleidingskomitee en die drie redaksionele komitees het reeds ter sprake gekom. Die voorsitter van al hierdie komitees was ook die aangewese projekleier, prof. Bernard Combrink.48 Combrink (2014b, 2019) dui aan dat die medewerkers aan die projek uiteindelik 142 boekspanlede ingesluit het, waaronder 37 vroue, 83 brontaalkenners en eksegete, en 59 taalpraktisyns, taalkundiges en letterkundiges.

6.2 'n Luisterteks

Die verwagting dat die vertaalde teks van die Bybel ook as 'n luisterteks moet slaag en dat dit iets is wat deur die vertaalproses verwerklik moet word, is 'n volgende aspek wat as uniek in Kerkbybels tot op datum in Afrikaans beskou kan word. Naudé (2005b) beskou die vooropstelling van 'n luisterteks in Bybelvertaling as 'n kenmerk van daardie vertalings waarna hy as die nuwe generasie Bybelvertalings verwys. Wat betref die geslaagdheid van die teks as 'n luisterteks, word daar deur die daarstel van 'n klinkende, volgbare luisterteks aangesluit by die oraliteit van die oorspronklike Hebreeuse teks. In sy artikel bespreek Naudé (ibid) enkele voorbeelde van internasionale vertalings waarin die luisterteks vooropgestel word. So dui hy aan dat in die Schocken Bible vol 1 die strewe van die vertaling om as luisterteks te slaag, só verwoord word:

This translation is guided by the principle that the Hebrew Bible ... was meant to be read out aloud, and that consequently it must be translated with careful attention to rhythm and sound. The translation therefore tries to mimic the particular rhetoric of the Hebrew whenever possible, preserving such devices as repetition, allusion, alliteration, and wordplay.

Naudé (ibid.) verwys vervolgens na die CEV (Contemporary English Version) waarin die sukses van die vertaling as 'n luisterteks ook vooropgestel word. In die CEV word daarop aanspraak gemaak dat die vertaling can be read aloud without stumbling, heard without misunderstanding, and listened to with enjoyment and appreciation, because the style is lucid and lyrical. (Klem outeur.)

Hierby voeg Naudé (ibid.) dat een van die redes wat aanleiding gegee het tot die vertaling se sukses as 'n luisterteks die manier is waarop die CEV poëtiese dele hanteer:

Poetic sections were expected not only to sound good but also to look good. Poetic lines were carefully measured to assist oral reading and to avoid awkwardly divided phrases and words that run over to the next line clumsily.

Oor die manier waarop die NBV hulle vertaling as luisterteks laat realiseer, sê Naudé (ibidem) dat die NBV 'n vertaling is "that can be read out aloud in church (recitable) and lends itself to chanting purposes". Die doel wat die NBV-projek hieroor in die vooruitsig gestel het, kan daarom as ten minste gedeeltelik suksesvol beskou word:

Deze vertaling is bedoeld om gelezen en om gehoord te worden; er is dan ook veel aandacht besteed aan de voorleesbaarheid van de tekst. Er is uitdrukkelijk rekening gehouden met de eisen die de Nederlandse taal daarbij stelt, zonder afbreuk te doen aan de kwaliteit van de tekst als vertaling.49

Die behoefte aan 'n Bybelvertaling waarin hoorbaarheid en voorleesbaarheid vooropgestel word, is iets wat reeds teenwoordig was in die versoek vir 'n nuwe Bybelvertaling wat van die KABA aan die BSA gestuur is. Alhoewel die vertaalopdrag duidelik daaroor is dat die vertaling geskik moet wees "vir voorlesing en gebruik in eredienste",50 is hierdie aspek van die vertaalopdrag nie verder ondersoek in die opvolgende analises van die vertaalopdrag in die Werkboek (2006 e.v.) nie. In die praktyk is die vereiste van voorleesbaarheid, van 'n luisterteks, egter wel deeglik voor oë gehou, nie net in die boekspanne nie, maar ook in die hersieningsfases, waar elke hoofstuk van elke boek minstens twee maal hardop voorgelees is, sodat die onderskeie redaksionele komitees kon fokus op die klank en ouditiewe volgbaarheid van die vertaling, op die vertaling as luisterteks. Verder het die gedetailleerde aandag wat in die 2020-projek bestee is aan, onder andere, die klankrykheid en stilistiese eienskappe van poëtiese dele die spesifieke karakter van die vertaling as luisterteks ondersteun. Sterk klem is in die analise van die vertaalopdrag gelê op genres en stylvorme, en daar is deurgaans in die vertaling gepoog om "literêr" te vertaal, en by vorme soos poësie, poëtiese dele, liedere en briewe is ook spesiale aandag bestee aan die tipografie van die teks, met sinvolle en leesbare reëlbreuke.

In hierdie opsig kan dus gestel word dat Die Bybel (2020) uniek is onder Afrikaanse Kerkbybels en beskou kan word as deel van die nuwe generasie Bybelvertalings, vertalings waarin die behoefte daaraan dat dit hardop voorgelees moet kan word ("recitable" moet wees, Naudé 2005b) en ook aangepas moet kan word vir dreunsang ("adaptable for chanting purposes" Naudé 2005b), spesifiek aandag kry.

6.3 Neweteks: opskrifte, inleidings en voetnote

Die terme neweteks, parateks en metateks word gebruik om onderskeid te tref tussen die hoofteks (in die geval van Bybelvertaling die teks soos vertaal uit die bronteks) en teks wat bykomend hiertoe geplaas word: tipies as toeligting (in kontekstualiserende inleidings tot Bybelboeke of voetnote) of ter wille van ordening en as soekhulpmiddels (opskrifte).

Inligting oor die konseptuele wêreld, en daarby die sosiopolitieke en sosiokulturele werklikhede van die antieke teks, word in 'n direkte vertaling wat bronteksgeoriënteer en so direk moontlik vertaal is, nie in die vertaling van die teks opgeneem nie. Dit beteken dat hierdie inligting buite die teks om, in die neweteks dus, tot die leser se beskikking gestel moet word. Van der Merwe (2014a:7) bevestig dat voorsiening daarvoor gemaak moet word dat "die konseptuele wêreld van die kerklike lesers ... verbreed moet word - hetsy deur middel van inleidings tot die Bybelboeke, voetnote, kantaantekeninge, kaarte, kruisverwysings en 'n woordelys".

Die noodsaak daarvan om die konseptuele wêreld van die doeltaalleser uit te brei, sodat begrip van die konseptuele wêreld van die bronteks sinvolle betekeniskommunikasie by die doeltaalleser moontlik maak, is iets wat ten grondslag lê aan Bybelvertalings, waarin voor oë gehou word dat die Bybel 'n antieke teks, is en waarin daar dus nie van ingrepe vir naturalisering gebruik gemaak word nie. Wanneer sodanig vertaal word, dus eksotiserend en sosiokultureel sensitief, is dit noodsaaklik dat die doeltaalleser nie deur die vertaling vervreem word nie. Toeligting tot die vertaling word daarom in die neweteks opgeneem. Hierdeur word die leser se verstaan van die vertaalde bronteks gekontekstualiseer en deur die toeligting ondersteun. Vertalings waarin neweteks gebruik word vir toeligting, verheldering en ordening, sodat die doeltaalleser nie deur die vertaling vervreem ("foreignised") word nie, kan beskryf word as "komplekse vertalings" (Naudé 2019) of 'n "thick translation" (Appiah in Van der Merwe 2016):

This foreignising translation tries to let the Bible speak idiomatic Afrikaans in the time of the Bible. However, whenever the language structure and the conceptual world behind the language and culture of the source text could not be adequately understood and/or represented in the translation, or may be misunderstood by modern readers, additional information is provided in the paratext (e.g. introductions to the biblical books, maps, illustrations, footnotes and a glossary).

Twee voorbeelde van die neweteks wat in die vertaalpraktyk van die derde Afrikaanse Kerkbybel gebruik is, en wat spesifiek in die redaksionele komitees aandag gekry het en versorg is, word vervolgens ter afsluiting van die beskouing van unieke aspekte van Die Bybel (2020) bespreek.

6.3.1 Opskrifte

Alhoewel die invoeg van opskrifte in die Bybelteks, en ook die aanbied van kontekstualiserende inligting in inleidings tot Bybelboeke, nie nuut is in Bybelvertalings nie, het die formulering van opskrifte vir die 2020-vertaling besondere aandag ontvang. Die besluit was om, ten spyte van die vertaalopdrag se klem op 'n direkte, bronteksgeoriënteerde vertaling, en ten spyte daarvan dat opskrifte nie deel van die bronteks is nie, opskrifte tog te handhaaf, en om dit aan te bied as 'n leeshulpmiddel waardeur die teks georganiseer word en wat help om die teks soekbaar te maak. Hiermee is daar dan aangesluit by die lang tradisie van die gebruik van opskrifte in Bybelvertalings. Vir Die Bybel (2020) is besluit om ook die opskrifte in die bekende formaat (soos ook in vorige Afrikaanse Kerkbybels) te druk, naamlik boaan die spesifieke teksgedeeltes. Dit is moontlik om opskrifte uit te hef deur tipografie en plasing, sodat die leser besef dat dit nie deel van die bronteks is nie, maar 'n hulpmiddel, neweteks. So is opskrifte in die standaarduitgawe van die NBV 51 in rooi gedruk, terwyl 'n ander uitgawe52 van die NBV die opskrifte uit die teks verwyder het en dit as lopers aan die onderkant van die bladsy gedruk het, sodat die teks sonder onderbreking lees - soos in die bronteks.

Dat ook inleidings nie deel is van die teks in die bronteks nie, word weer duidelik gemaak in uitgawes soos die NBV se Kerk- en huisbijbel met deuterocanonieke boeken,53waarin inleidings nie opgeneem is nie. In Die Bybel (2020) is inleidings tot die Bybelboeke wel ingesluit, in ooreenstemming met die strewe daarna om so 'n omvattend moontlike vertaling te bied, waarin lees en kontekstuele begrip ondersteun word - 'n komplekse vertaling (Naudé 2019) dus, of waarna Apphiah (in Van der Merwe 2016) verwys as 'n "thick translation". Al die inleidings word apart en onderskeibaar van die teks van die Bybelboeke aangebied.

In ooreenstemming met navorsing oor die aard en formaat van opskrifte54 en resente ontwikkelinge op hierdie terrein, moes opskrifte in Die Bybel (2020) so geformuleer word dat dit aan die leser sein dat hierdie teks nie deel van die bronteks is nie, terwyl dit steeds 'n hulpmiddel vir die leser is. Opskrifte is daarom geformuleer aan die hand van kernwoorde wat die inhoud van die bepaalde gedeelte weerspieël en wat verkieslik ook in daardie gedeelte voorkom. Geen interpunksie is gebruik nie, en lidwoorde en woorde wat handeling aandui, is sover moontlik vermy. Hierdie gemerkte taalgebruik funksioneer vervreemdend en sein daarom aan die leser dat dit nie deel van die hoofteks is nie. Die opskrifte by Johannes 19 kan as 'n voorbeeld gebruik word. Waar die opskrif in die 1983-vertaling aansluit by die narratiewe trant van die teks "Jesus word oorgelewer om gekruisig te word", lui die 2020-vertaling slegs "Kruisiging van Jesus".

6.3.2 Voetnote

Baie neweteks is in Die Bybel (2020) opgeneem in die vorm van voetnote en die woordelys. Naudé en Miller-Naudé (2019:203) wys daarop dat die gebruik van neweteks55 in 'n vertaling, en spesifiek die insluit van voetnote, meebring dat die kompleksiteit van die vertaling duidelik gemaak word, en dat dit ook die vertaling in staat stel om nie 'n keuse te moet maak tussen vervreemding (eksotisering) of verinheemsing (naturalisering) nie:

it is possible to convey the complexity of incipient and subsequent texts, the relation of significance between them, and their cultural context(s) through the use of metatexts (footnotes) accompanying the translation. In this way, a translation can respect the alterity of the incipient text while simultaneously representing the subsequent text in an intelligible way. By maintaining a paradoxical complex relationship between incipient (source) texts and subsequent (target) texts, each of which is emergent, the translation is thus neither foreignizing nor domesticating but rather opens up the cultural world of meaning found in both incipient and subsequent texts to a modern reader. (Klem outeur.)

Alhoewel die vertaalopdrag aandui dat Die Bybel (2020) vertaal moes word vir gebruik van ook Bybelstudie, is hierdie vertaling nie 'n Studiebybel nie. Daar moes dus deeglik besin word oor die aard en omvang van die addisionele inligting wat opgeneem kon word. In die vertaling is uitgebreid gebruik gemaak van voetnote, kruisverwysings en 'n woordelys, terwyl kaarte en illustrasies ook ingesluit is. Geen verklarende aantekeninge, soos wat tipies deel van 'n Studiebybel sou wees, is egter opgeneem nie. Grondwerk vir 'n Studiebybel is egter reeds in die vertaling gedoen en dit sal met vrug uitgebrei kan word. So 'n Studiebybel sou aansluit by Die verklarende Bybel (1989), 'n Studiebybel-uitgawe van die 1983-vertaling. Die NBV Studiebijbel (2008) het byvoorbeeld ook diepte-artikels, foto's, 'n uitgebreide verklarende woordelys en 'n verduidelikende tydlyn opgeneem, terwyl die bestaande neweteks in die standaarduitgawe ook aansienlik uitgebrei is.

Deur die verloop van die vertaalproses, en veral tydens die fases waarby die redaksionele komitees betrokke was, is 'n aansienlike hoeveelheid voetnote voorberei en opgeneem. Hierdie voetnote kan breedweg groepeer word as neweteks wat die volgende toeligting aanbied:

Sosiokulturele inligting wat die begrip van die vertaalde teks ondersteun - soos wat byvoorbeeld gebeur by mate en gewigte, tydsaanduidings, geldeenhede, leenwoorde en metafore of idiomatiese taalgebruik.

Inligting oor ander vertaalmoontlikhede wat voorkom in bestaande vertalings - gemerk met word ook vertaal.56

Inligting oor ander vertaalmoontlikhede as die een wat in die teks opgeneem is -gemerk met kan ook vertaal word. 57

'n Aanduiding daarvan dat die (betekenis van die) bronteks onduidelik is, en/of dat byvoorbeeld die vertaling van die Septuagint gevolg word.58

Inligting oor bestaande onopgeloste vertaalprobleme, met ander woorde probleme waarop vertalers van verskillende Bybelvertalings in verskillende tale stuit. Hierdie voetnote is gemerk met frases soos die bronteks lui (vertaal) en dit gee dan 'n aanduiding van hoe die bronteks woord-vir-woord weergegee kan word sodat die leser dit kan vergelyk met die vertaaloplossing wat in die teks aangebied word.59

Die groot aantal voetnote wat by Die Bybel (2020) ingesluit is, is 'n eerste vir Kerkbybels in Afrikaans en is 'n groot aanwins vir die vertaling.

6.4 'n Nuwe generasie Bybelvertalings

Wanneer Naudé (2005b) 'n nuwe generasie Bybelvertalings tipeer, maak hy melding van vier onderskeie sake, naamlik: die aandag wat bestee word aan die vertaling as 'n luisterteks, die fokus op styl en literêre vertaling, die bydrae wat neweteks maak tot sosiokulturele verheldering, en die feit dat die vertaling deur vertaalspanne uitgevoer word wat ook professionele vertalers (vertaalkundiges) insluit. Al hierdie sake is deur die loop van hierdie artikel uitgewys as kenmerkend van Die Bybel (2020). Daar kan daarom tereg verwys word na Die Bybel (2020) as 'n vertaling wat tuishoort by die groeiende nuwe generasie Bybelvertalings en 'n unieke Kerkbybel in Afrikaans.

 

7. SLOT: FINALISERING VAN DIE PROJEK

Op 2 Mei 2019, 15 jaar ná die versoek vir 'n nuwe Kerkbybel in Afrikaans in 2004 aan die BSA gerig is,60 word die teks van die finale vertaling van al die Bybelboeke deur die begeleidingskomitee afgeteken as die einde van die projek vir die direkte vertaling van die derde Afrikaanse Kerkbybel: Die Bybel (2020). Dit beslaan 850 000 woorde, direk vertaal uit die bronteks in Afrikaans, en elk hiervan is minstens twee maal hardop voorgelees by die redaksionele komitees - binne die bestek van vyftien jaar en met die insette van 14261deelnemers. Hiermee is fase vyf van die projek afgesluit.

Die vertaalkantoor van die BSA het vervolgens die verantwoordelikheid geneem vir die teksversorging, proeflees, uitleg en druk van die teks in die verskillende beplande uitgawes van Die Bybel (2020), met die bekendstelling daarvan in die vooruitsig gestel vir November 2020.

 

BIBLIOGRAFIE

Combrink, B. 2012. Ongepubliseerde Johan Combrink-gedenklesing. 9 Februarie. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Combrink, B. 2014a. BDV. Ongepubliseerde voordrag aan studente van die Universiteit van Pretoria. 14 Julie.         [ Links ]

Combrink, B. 2014b. Bekendstelling: Die Nuwe Testament en Psalms: 'n Direkte Vertaling. Ongepubli-seer. Groote Kerk, Kaapstad, Maart.         [ Links ]

Combrink, H.J.B. 2014c. Die Bybel: 'n Direkte vertaling. 27 Mei. Ongepubliseerde D.F. Malherbe-gedenklesing. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch. http://www.bybeldirektevertaling.co.za/images/stories/docs/df%20malherbe-gedenklesing.pdf [06 April 2020].         [ Links ]

Combrink, B. 2019. Persoonlike mededeling. E-poskorrespondensie, 29 Augustus.         [ Links ]

De Villiers, F.T. 2002. Psalm 17:14: Tekskritiek as kritieke eerste stap tot Bybelvertaling. Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif 43(1 & 2):39-47. https://doi.org/10.17570/ngtt.2002.v43n1.a04 [20 April 2020].         [ Links ]

Die Bybel. 1933/1953. Bellville: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.         [ Links ]

Die Bybel. 1983. Bellville: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.         [ Links ]

Die Bybel. 2020. Bellville: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.         [ Links ]

Die Bybel vir dowes /Die Bybel vir almal. 2007/2008. Bellville: Bybelgenootskap van Suid-Afrika. www.bybel.co.za [7 April 2020].         [ Links ]

Die verklarende Bybel. 1989. [1983-vertaling met verklarende aantekeninge.] Kaapstad: Lux Verbi.         [ Links ]

Du Preez, E.S. & Naudé, J.A. 2009. Aanbevelings vir die opskrifte in die Bybel vir Afrikaans. [Ongepubliseerde verslag.] Bybelgenootskap van Suid-Afrika.         [ Links ]

Geyser-Fouche, A.B. 2017. Bybelvertalers en Bybelvertalings die afgelope honderd jaar, in besonder vanuit die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria. Hervormde teologiese studies, 73(1). http://dx.doi.org/10.4102/hts.v73i1.4741 [6 April 2020].         [ Links ]

Handboek voor de Nieuwe Bijbelvertaling. 1998. (derde, hersiene en aangevulde editie). Haarlem: Nederlands Bijbelgenootschap.         [ Links ]

Miller-Naudé, C.L. & Naudé, J.A. 2018. Editorial theory and the range of translations for "cedars of Lebanon" in the Septuagint. HTS, 74(3). https://doi.org/10.4102/hts.v74i3.5059 [6 April 2020].         [ Links ]

Naudé, J.A. 2001. The Afrikaans Bible translations and apartheid. Acta Theologica, 21(1):106-123.http://hdl.handle.net/11660/7171 [8 April 2020].         [ Links ]

Naude, J.A. 2004. Afrikaanse Bybelvertalings "vir Afrika". Die vertalers en hulle kulturele agenda. Acta Theologica, 24(1):127-146.         [ Links ]

Naudé, J.A. 2005a. The Afrikaans Bible translations and the formation of cultural, political and religious identities in South Africa. In J. House, R.M. Ruano & N. Baumgarten (eds). Translations yearbook of the international association for translation & intercultural studies. Seoul: IATIS, pp. 167-179.         [ Links ]

Naudé, J.A. 2005b. On the threshold of the next generation of Bible translations: Issues and trends. Meta, 50(4), December. https://doi.org/10.7202/019851ar [16 April 2020].         [ Links ]

Naudé, J.A. 2009. "Soos 'n hamer wat 'n rots vermorsel": Die Afrikaanse Bybel van 1933 as vertaling. Acta Theologica, 29(2): 54-73. DOI:10.4314/actat.v29i2.55443 [6 April 2020].         [ Links ]

Naudé, J.A. 2019. Onderhoud op Leef met Wanda Bam. [Transkripsie verskaf.] Kaapse Kansel. Augustus. https://soundcloud.com/729capepulpit/leef-met-wanda-bam-5-augustus-2019 [6 April 2020].         [ Links ]

Naudé, J.A. & Miller-Naudé, C.L. 2018a. Alterity, orality and performance in Bible translation. In Malmkjaer, K. Serban, A. & Louwagie, F. (eds). Key cultural texts in translation. Amsterdam: John Benjamins Publishing, pp.299-313. https://doi10.1075/btl.140.17nau [6 April 2020].         [ Links ]

Naudé, J.A. & Miller-Naudé, C.L. 2018b. Lexicography and the translation of "Cedars of Lebanon" in the Septuagint. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 74(3). https://doi.org/10.4102/hts.v74i3.5042 [10 April 2020].         [ Links ]

Naudé, J.A. & Miller-Naudé, C.L. 2019. Sacred writings and their translations as complex phenomena. The Book of Ben Sira in the Septuagint as a Case in Point. In Marais, K. & Reine Meylaerts (eds). Complexity thinking in translation studies: methodological studies. Routledge Advances in Translation and Interpreting Studies. London: Routledge, pp. 180-215.         [ Links ]

Naudé, J.A. & Miller-Naudé, C.L. Forthcoming. [ca. 2020]. Biblical plant hermeneutics and the translation of plants and plant products in the book of Ben Sira 24:13-17. In Marshall, P.S., Meade, J.D. & Kiel, J.M. (eds). Like Nails Firmly Fixed: Essays on the Text and Language of the Hebrew and Greek Scriptures [Peter Gentry Festschrift]. Leuven: Peeters.         [ Links ]

Naudé, J.A., Miller-Naudé, C.L. & Makutoane, T. Forthcoming. [ca. 2020]. The Metaphorical and Symbolic Uses of Flora in the Bible: Identification and Translation of "Hyssop". In Machinist, P., Harris, R., Berman, J., Samet, N. & Darshan, N.A. (eds). Ve-?Ed Yai'aleh (Gen 2:6): Essays in Biblical and Ancient Near Eastern Studies Presented to Edward L. Greenstein. Writings from the Ancient World. Atlanta: Scholars Press.         [ Links ]

Naudé, J.A. & Van der Merwe, C.H.J. (eds). 2002. Contemporary Translation Studies and Bible Translation: A South African Perspective. Acta Theologica. Supplementum 2. Bloemfontein: University of the Free State.         [ Links ]

NBV Studiebijbel. [ca. 2008]. Inside out publishers. http://www.insideoutpublishers.nl/resources/uitgebreide/nbv_studiebijbel.html [06 April 2020].         [ Links ]

Nienaber, P.J. 1934. Die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling. Kaapstad: Nasionale Pers. Nuwe Testament en Psalms: 'n direkte vertaling. 2014. [Proefvertaling]. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.         [ Links ]

Oberholzer, J.P. 1984. Die Afrikaanse Bybelvertaling 1983 - Enkele aantekeninge. HTS, 40(1):82-91.         [ Links ]

Proefvertalings. s.j. Die Bybel: 'n direkte vertaling. Bybelgenootskap Suid-Afrika. http://www.bybeldirektevertaling.co.za/index.php/proefvertalings [04 April 2020].         [ Links ]

Snyman, H. 2014. 'n Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling. LitNet, 28 Oktober. https://www.litnet.co.za/n-nuwe-afrikaanse-bybelvertaling-bdv-die-bybel-n-direkte-vertaling/ [6 April 2020].         [ Links ]

Steyn, J.C. 2009. Die Afrikaans van die Bybelvertaling van 1933. Acta Theologica 29. Supplementum 12:130-156. http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S1015-87582009000300011&lng=en&nrm=iso [6 April 2020].         [ Links ]

Strauss, P. 2016. Die geskiedenis, aanvaarding en impak van die Afrikaanse Bybel van 1933 - 'n oorsig. Tydskrifvir Geesteswetenskappe 56(3):733-745. doi.10.17159/2224-7912/2016/v56n3a1 [8 April 2020].         [ Links ]

Swart, C. 2008. Die Afrikaanse Bybel vir Dowes breek deur die klankgrens boekaankondiging. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 48(4): 511-512. https://hdl.handle.net/10520/EJC20106 [8 April 2020].         [ Links ]

Van der Merwe, C.J.H. 2012. The Bible in Afrikaans: A direct translation - A new type of church Bible, HTS Teologiese Studies/ Theological Studies, 68(1): Art. #1204, 1-8, https://doi.org/10/4102/hts.v68i1.1204 [6 April 2020].         [ Links ]

Van der Merwe, C.J.H. 2014. Direkte vertaling van die Bybel as antieke teks: net 'n nuwe benaming vir 'n stokkerige woordelikse vertaling?. Litnet Akademies, 11(3):290-315.         [ Links ]

Van der Merwe, C.J.H. 2016. How 'direct' can a direct translation be? Some perspectives from realities of a new type of church Bible, HTS Teologiese Studies/ Theological Studies, 72(3): a3233, https://doi.org/10.4102/hts.v72i3.3233 [6 April 2020].         [ Links ]

Van Rensburg, A. 2005. 'n Nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans: 'n perspektief op die teorie en praktyk. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Wendland, E.R. 1969. A new concept of translating. In Nida, E.A. & Taber, C.R. (eds). The theory and practice of translation. Leiden: Brill.         [ Links ]

Werkboek. 2006 e.v. Bybelgenootskap van Suid-Afrika.         [ Links ]

Wiese, T. & Combrink, B. 2012. 'n Nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel is in wording. [Onderhoud.] Die Kerkbode, 13 April. http://192.185.30.195/~kerkbode/bybelvertaling-le-klem-op-bronteks/ [26 Januarie 2015].         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2020-04-23
Goedgekeur: 2020-07-21
Gepubliseer: Desember 2020

 

 

 

Karen de Wet is dosent in die Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Johannesburg en voorsitter van die UJ-pryse vir Afrikaans. Vir die vertaalprojek vir die direkte vertaling van Die Bybel (2020) dien sy op die loodskomitee, die begeleidingskomitee, die onderskeie redaksionele komitees van die Ou Testament, Nuwe Testament en Deuterokanonieke boeke, en as voorsitter van die Literêre Advieskomitee. Sy was ook lid van die Liedboek van die kerk (2001) se Gesange-kommissie en tree op as poësieredakteur vir die ontwikkeling van manuskripte.
Karen de Wet teaches Afrikaans literature at the University of Johannesburg and is chair of the UJ prizes for Afrikaans literature. During the translation project for the direct translation of the Bible in Afrikaans, she served in the pilot committee, the begeleidingskomitee (committee responsible for policy and executive matters) and the three editorial committees for respectively the Old and New Testaments and the Deutero-canonical Books. She also holds extensive experience as poetry editor.
1 Beskikbaar op die amptelike webblad vir die 2020-vertaling by http://www.nuwekerkbybel.co.za/index.php?option=com_content&view=article&id=58&Itemid=66 [6 April 2020] Kyk ook Combrink (2014a). Combrink (2014b) noem voorts dat hierdie versoek histories voorafgegaan is deur 'n versoek wat reeds in 1997 gerig is, maar vir 'n "konkordante vertaling".
2 Combrink (Wiese & Combrink 2012) verwys na "deeglike akademiese en marknavorsing, proefvertalings en omvattende besprekings" wat die versoek voorafgegaan het en onderlê. Van der Merwe (2012) beskryf die akademiese navorsing (insluitende 'n konferensie in 2002) oor verskillende vertaalmodelle en hoe die keuse vir 'n Kerkbybel wat op 'n direkte vertaling berus, aanleiding gegee het tot die ontwikkeling van die vertaalmodel vir die 2020-vertaling. Kyk ook Naudé & Van der Merwe (2002).
3 http://www.bybeldirektevertaling.co.za/index.php/agtergrond-sp-33973671/56-wat-is-die-vertaalopdrag-waarvolgens-die-vertalers-te-werk-gaan [8 April 2020]
4 "Die eerste Afrikaanse Bybel is in 1933 gepubliseer, met 'n taalkundige hersiening van die Afrikaans in 1953." Verantwoording in Die Bybel (2020).
5 https://statenvertaling.nl/ [8 April 2020]
6 Van der Merwe (2012) beskryf die 1983-vertaling só: "As part of the meaning-based wave of translations that has swept across the world since the 1970s, speakers of Afrikaans received their version in 1983. As a project driven by the three major White Reformed churches, this Bible was presented to Afrikaans readers as the new 'official' church Bible."
7 Vir die bespreking van Bybelvertaling as vakwetenskaplike dissipline, raadpleeg byvoorbeeld Wendland (1969), Naudé (2002, 2005b, 2019), Naudé & Miller-Naudé (2018a:300, 2019:280-281) en Van Rensburg (2005:36 e.v.).
8 Van der Merwe (2016:10) beskryf dit so: "In recent years some fascinating information also from the fields of anthropology and iconography has shed new light on the use of some aspects of the figurative language and meaning of the Biblical Hebrew source text (Staubli & Schroer 2014). New light has also been shed on the interpretation of many other overt 'communicative clues', on discourse particles (Miller-Naudé & Van der Merwe 2011), on the interpretation of word order in Biblical Hebrew (Van der Merwe & Wendland 2010), as well as the interpretation of the Hebrew verbal system (Andrason 2011). However, few of these insights have yet found their way into current translations." [Klem outeur.]
9 Die belang van die hermeneutiek vir Bybelse plantname word aangetoon en geïllustreer in Miller-Naudé & Naudé (2018), Naudé & Miller-Naudé (2018b en ca. 2020) en Naudé, Miller-Naudé & Makutoane (ca. 2020).
10 Kyk ook die amptelike webblad vir die 2020-vertaling vir die "belangrikste oorwegings" vir die versoek om 'n nuwe vertaling: http://www.bybeldirektevertaling.co.za/index.php/agtergrond-sp-86357912 [6 April 2020] en Adendorf (2016).
11 https://nl.wikipedia.org/wiki/Nieuwe_Bijbelvertaling [20 April 2020]
12 https://www.debijbel.nl/over-bijbelvertalen/bijbelvertalingen/319/nieuwe-bijbelvertaling [04 April 2020].
13 Van der Merwe (2012, 2014:299-300, 2016) lig aspekte van direkte vertaling as vertaalstrategie uit - ook spesifiek met verwysing na die vertaalprojek van Die Bybel (2020).
14 Kyk die ongepubliseerde notule van die loodskomitee, 4-5 Augustus 2005. Combrink (2014c:5) verwys ook kortliks hierna.
15 Kyk Werkboek (2006 e.v.).
16 Opgeneem as die "huisstylgids" (Werkboek 2006 e.v.)
17 In 'n voetnoot beskryf Van der Merwe (2012) die Werkboek en die rigtinggewende rol wat dit deur al die fases van die projek en vir al die medewerkers gespeel het, as 'n maatstaf en verwysingsbron: "The well-defined, detailed and up-to-date 'translation brief' and lists of agreed-upon translation decisions, that are always and easily accessible to each co-worker, provided the 'objective' yardstick against which many solutions from each of the co-workers and the editorial team could be evaluated. Without such terms of reference, this project would not have been possible."
18 Kyk ook Combrink (2012 en 2014c).
19 "... software application for the development and checking of new Bible translation texts" www.paratext.org [04 April 2020]
20 Combrink (2014c:7) noem in 'n voetnoot dat hierdie komitee "dinamies" was, sodat dit na behoefte aangepas kon word deur die BSA. Die lede van die Begeleidingskomitee in diens van die BSA was die projekleier, prof. Bernard Combrink, die BSA se Uitvoerende Hoof (met die aanvang van die projek ds. Gerrit Kritzinger en later ds. Dirk Gevers) en sedert 2010 die Hoof van Vertaling, dr. Masenyani Baloyi. Die ander lede was proff. Andries Breytenbach, Daan Cloete, Karen de Wet, Andrie du Toit f, Dirk Human, Gert Jordaan, Ernst Kotzé, Jacobus Naudé, Marius Nel, Christo van der Merwe en Herrie van Rooy, past. J. Theron en dr A.S. van Deventer.
21 Kyk die Verantwoording in Die Bybel (2020).
22 https://www.bijbelgenootschap.nl/Experts/dr-jaap-van-dorp/ [4 April 2020].
23 Kyk die ongepubliseerde notule van die begeleidingskomitee, 7-8 Maart 2007.
24 http://www.nbv.nl/vertaalmethode/ [6 April 2020]
25 https://www.nbv.nl/vertaalmethode/brontekstgetrouw-en-doeltaalgericht/ [6 April 2020]
26 http://www.nbv.nl/vertaalmethode/ [6 April 2020]
27 Die uitdaging was hoe om gelyktydig reg te laat geskied aan hierdie twee aspekte, naamlik om sowel 'n bronteksgeoriënteerde as doeltaalgerigte vertaling te laat realiseer, iets wat in die praktyk en binne bepaalde kontekste uiteenlopende, en selfs haas onversoenbare, eise stel.
28 http://www.nbv.nl/vertaalmethode/ [6 April 2020]
29 Combrink (2014c) beskryf die interdissiplinêre kundigheid in die boekspanne deur te verwys na die spesialiste in brontale en eksegese, en ook die doeltaalspesialiste.
30 Meer as een van die vertalers betrokke by die 1933-vertaling was nie net kenners van die antieke tale met ook teologiese kennis en kennis van die Bybel nie; hulle was ook taalvernuwers en taalstryders. Ten spyte hiervan is taaladviseurs eers teen die einde van die proses betrek. Kyk Steyn (2009) en ook Naudé (2009).
31 https://www.nbv.nl/achtergrondinfo/kerkgenootschappen/ [20 April 2020]
32 "De vertaling werd interconfessioneel door bijbelexperts en door literairen in opdracht van het Nederlandse Bijbelgenootschap en de Katholieke Bijbelstichting vervaardigd, in samenwerking met de Vlaamse Bijbelstichting alsmede het Vlaamse Bijbelgenootschap." http://www.nak.org/nl/nieuws/berichten-vanuit-de-gehele-wereld/article/14409/ [20 April 2020]
33 Kyk ook Combrink (2012, 2014b, 2014c) se beskrywing van die omvangryke interdissiplinêre kundigheid in die boekspanne en van die verskillende fases van die vertaalproses.
34 Die lede was proff. APB Breytenbach, HJB Combrink, K de Wet, HJG du Plooy, EF Kotzé, JA Naudé, EF Raidt, HJ Snyman f, CHJ van der Merwe en HF van Rooy. Kyk die Verantwoording in Die Bybel (2020).
35 Die lede was proff. JH Barkhuizen, HJB Combrink, K de Wet, AB du Toit f, GJC Jordaan, EF Kotzé, JA Naudé, HJ Snyman f en CN van der Merwe. Kyk die Verantwoording in Die Bybel (2020).
36 Die lede was proff. JH Barkhuizen, HJB Combrink, J Cook, CJ Conradie, PB Decock OMI, JA Naudé, EF Raidt, HJ Snyman f, GJ Steyn en vader B Hinwood f OFM. Kyk die Verantwoording in Die Bybel (2020).
37 Uit die aard van die saak het verskillende eksegete en brontaalkenners in die redaksionele komitees van die Ou Testament, die Nuwe Testament en die Deuterokanonieke boeke gedien. Die projekleier, vertaalkundige en taalkundige was telkens dieselfde persoon, terwyl een letterkundige in al die komitees teenwoordig was en 'n tweede letterkundige deur verskillende persone in die verskillende komitees verteenwoordig is.
38 http://www.bybeldirektevertaling.co.za/index.php/proefvertalings [04 April 2020]. Hierdie voorfinale weergawes van die vertaalde teks van die Bybelboeke moet nie verwar word nie met die publikasie van Die Nuwe Testament en Psalms (2014) waarna ook as 'n "proefvertaling" verwys word..
39 http://www.bybeldirektevertaling.co.za/index.php/proefvertalings [04 April 2020]
40 http://www.bybeldirektevertaling.co.za/index.php/proefvertalings [04 April 2020]
41 http://www.bybeldirektevertaling.co.za/index.php/proefvertalings [04 April 2020]
42 Naudé (2001, 2004 en 2005a) bespreek Afrikaanse vertalings van die Bybel, en in Naudé (2009:6468) word die 1933-vertaling bespreek. Vir die 1933-vertaling, kyk ook Nienaber (1934), Steyn (2009), Strauss (2016) en Geyser-Fouche (2017). Oberholzer (1984) bespreek die 1983-vertaling. Kyk ook De Villiers (2002) en Geyser-Fouche (2017).
43 Die Kerklike Advieskomitee vir die Bybel in Afrikaans word saamgestel uit die volgende instansies: Afrikaanssprekende kerke in Namibië (Waarnemers); Afrikaanse Protestantse Kerk (APK); Anglikaanse Kerk (ACSA); Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika (AGS); Bybelgenootskap van Namibië (BGN, Waarnemers); Calvyn Protestantse Kerk (CPK); Christelike Gereformeerde Kerk [CGK(SA) nie medewerkers aan die vertaling nie]; die Baptiste-Unie (BUSA) en Afrikaanse Baptiste-Kerk (ABK); die Rynse Kerk (RKSA); Evangelies-Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (EGKSA); Evangelies-Lutherse Kerk in Suidelike Afrika (ELKSA); Free Evangelical Lutheran Synod in Southern Africa (FELSiSA VELSISA); Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA); Katolieke Kerk (KK); Lede in Christus Kerk (LCK); Metodiste Kerk (MCSA); Morawiese Kerk in Suid-Afrika (MKSA); Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK); Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA); Pinkster Protestantse Kerk (PPK); Sewendedag-Adventiste Kerk (SDA); United Congregational Church of Southern Africa (UCCSA); Uniting Presbyterian Church in Southern Africa (UPCSA); Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA/ URCSA); Volkskerk van Afrika (VKA); Volle Evangelie Kerk van God in Suidelike Afrika (VEK); Vrye Gereformeerde Kerk (VGKSA). (Combrink 2019)
44 'n Afrikaanse vertaling van die Deuterokanonieke boeke is in 1965 deur die BSA gepubliseer saam met die teks van die 1933/1953-vertaling, alhoewel hierdie vertaling nie deur die BSA onderneem is nie. Kyk die Verantwoording in Die Bybel (2020).
45 Alhoewel die Bybel vir Dowes (2008) nie 'n Kerkbybel is nie, is dit die enigste ander Afrikaanse Bybelvertaling van die BSA waarby 'n vrou betrokke was. Combrink (2019) noem me. Elmine Roux, 'n Afrikaanse onderwyser verbonde aan die Skool vir Dowes, wat op grond van haar kundigheid en ervaring by die projek betrek is. Kyk ook Naudé (2004:142) en Geyser-Fouche (2017).
46 Kyk Eks 39:14.
47 Sien ook die verwysing na intravertalers en die gebruik van 'n tussenvertaling in die vorige afdeling.
48 Kyk Van der Merwe (2012) vir 'n beskrywing van die verantwoordelikhede van die projekleier en die begeleidingskomitee.
49 http://www.nbv.nl/vertaalmethode/ [6 April 2020]
50 http://www.bybeldirektevertaling.co.za/index.php/agtergrond-sp-33973671/56-wat-is-die-vertaalopdrag-waarvolgens-die-vertalers-te-werk-gaan [8 April 2020]
51 Nieuwe Bijbelvertaling Standaardeditie - oranje (https://shop.bijbelgenootschap.nl/product/nieuwe-bijbelvertaling-oranje/ [06 April 2020].
52 Gepubliseer as De Bijbel met 'n aanduiding dat dit die "Nieuwe Bijbel Vertaling" is en in 2004 uitgegee deur Querido en Jongbloed, Haarlem.
53 https://shop.bijbelgenootschap.nl/product/kerk-en-huisbijbel/ [06 April 2020].
54 Opdrag is gegee aan Jacobus Naudé om die begeleidingskomitee insake die projek te adviseer oor die gebruik van opskrifte in ooreenstemming met die jongste navorsing. Kyk Du Preez & Naudé (2009).
55 Hulle gebruik die term metateks.
56 Vergelyk byvoorbeeld Gen 12:9: "Toe het Abram algaande verder getrek in die rigting van die Negev." Met die voetnoot by Negev: "... "Negev" word in Hebreeus ook gebruik as 'n rigting-aanduiding, naamlik "suide, suidwaarts". Word ook vertaal as "Suidland". (Die Bybel 2020.) (Klem outeur.)
57 Vergelyk byvoorbeeld Jes 4:4 waar die voorkoms van homofone in die brontaal die voetnoot ingegee het: "As my Heer ... die bloedskuld van Jerusalem uit haar midde weggespoel het, deur 'n gees wat oordeel en 'n gees wat wegvee" met die toeligting by 'n gees wat wegvee: "Kan ook vertaal word as gees wat verbrand." (Die Bybel 2020). (Klem outeur.)
58 Vergelyk byvoorbeeld Deut 33:3: " 3 *ja, Hy het mense lief. / Al die heiliges is in u hand, / hulle volg U op die voet", waar die voetnoot by die heiliges die volgende toeligting gee: "Die Septuagint word hier gevolg. Die bronteks lui (vertaal) "sy heiliges"." (Die Bybel 2020). (Klem outeur.)
59 Vergelyk byvoorbeeld Rig 20:33: "43 Hulle het Benjamin van alle kante aangeval, hulle onvermoeid agtervolg, en hulle vertrap ..." waar 'n voetnoot geplaas is by onvermoeid: "Daar is onsekerheid oor die betekenis van die bronteks. Die vertaling volg die Targum en Vulgaat, wat lui (vertaal) "sonder rus". Die bronteks lui (vertaal) "'n rusplek". (Die Bybel, 2020)
60 "KABA rig versoek 25/10/2004; ... BSA keur goed 17/2/2005" (Combrink 2014a).
61 Kyk die Verantwoording in Die Bybel (2020).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License