SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 número4-1The source text for the 2020 Afrikaans translation of the New TestamentTranslation difficulties posed by the Deuterocanonical Books: Jesus Ben Sira as a case study índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.60 no.4-1 Pretoria Dez. 2020

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n4-1a7 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

"Wat staan in die Grieks?" - Kollig op vertaal-probleme wat die Nuwe Testament oplewer

 

What does the Greek say? - Spotlight on translation problems the New Testament poses

 

 

Jan Barkhuizen

Departement Antieke Tale, Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van Pretoria, Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: jan.barkhuizen@telkomsa.net

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel word die grammatikale aspek van die vertaalproses van die 2020-Bybel as direkte vertaling ondersoek. Naas die teologiese, sosiopolitieke en tekskritiese faktore wat in ag geneem moet word in so 'n vertaalproses, neem die grammatikale aspek vanselfsprekend die belangrikste plek in. Uit die aard van die saak kon net 'n seleksie van tekste waarin verstaan- en vertaalprobleme ondervind is, bespreek word. Hierdie tekste is gerieflikheidshalwe in drie kategorieë ingedeel wat verteenwoordigend is van die soort probleme wat teëgekom is. (a) Eerstens is daar dié tekste waarvan die vertaling berus op 'n verkeerde interpretasie van die Grieks of wat berus op foutiewe vertaallogika. (b) Tweedens word tekste bespreek wat volgens Griekse grammatikale reëls op meer as een manier vertaal kan word. (c) Derdens is daar tekste wat nie noodwendig verkeerd vertaal is nie, maar waarvan die vertaling nie die fynere nuanses van die brontaal reflekteer nie.

Trefwoorde: vertaalprobleme, vertaalproses, taalaspek, Nuwe Testament-gramma-tika, probleemdifferensiasie, vertaalfoute, vertaallogika, meerduidigheid, nuanse, woordbetekenis


ABSTRACT

The translation of an ancient religious text such as the New Testament has to take into account the following two matters: (1) it has to be a precise reflection of New Testament Greek, its grammatical constructions, semantics and rhetorical structure; and (2) it has to address the socio-religious and theological context of the New Testament as a whole, as well as of its individual documents or books. The obvious and natural point of departure in the translation process is an accurate and careful analysis of the Greek text. This article focuses specifically on this matter, directing the attention of the reader to the problems the translators encountered in producing the 2020 Afrikaans translation of the Bible. One way of presenting the most important translation problems to the reader might have been to start with examples taken from Matthew, work systematically through the other books and end with Revelation. Such an approach would, however, not have allowed a systematic enough distinction between the nature of the various problems, but would only have offered the reader a mixed list of examples. To avoid this kind of disorderly presentation, I have adopted a system that is more scientific, appropriate and reader-friendly, namely the classification of translation problems into the following three categories: (1) problems related to a faulty understanding of the Greek, or the application ofpoor translation techniques; (2) problems related to the ambiguity of the Greek grammatical constructions; (3) problems stemming from a lack of appreciation of the finer nuances of a specific Greek construction, word or image.
Some clarification of these three categories is necessary.
As to the first category, translations sometimes surprisingly misconstrue a specific Greek grammatical rule. Typical examples that occur, especially in current A frikaans Bible translations, involve erroneous interpretations of the Greek participle, the genitive case or the definite article.
Some constructions, words or images in the secondary category create real difficulties for translators, since in these instances the Greek can be correctly interpreted in more than one way. Then translators are forced to choose one rendering, listing possible alternatives in footnotes, a system adopted by the 2020 Bible translators. The value of such a system can be discerned especially in the case of one of the most discussed issues in modern New Testament studies, and for that very reason is dealt with in this paper more extensively than the other problems. It concerns a specific function of the Greek genitive occurring in the phrase pistis Iesou Christou. Is this the so-called objective genitive, to be translated as "faith IN Jesus Christ", or is it a subjective genitive, to be translated as "the faith OF Jesus Christ", referring to Jesus 'faithful obedience to God's will and divine plan for the salvation of mankind? While it is clear and without any doubt true that salvation comes through faith in Jesus, as expressed throughout the New Testament, scholars who prefer the subjective genitive (mostly in certain Pauline/Deutero-Pauline texts) argue that it is primarily through the faithful obedience of Jesus that people are enabled to believe in Him and thus find salvation. The 2020 Bible translation has opted for the objective genitive in the text, placing the alternative (the subjective option) in a footnote. This is in line with the functionality of the second category: selecting one rendering and putting the alternative(s) in a footnote.
As regards the third category, some translations as well as some commentaries reflect an excellent understanding of the finer points of New Testament Greek; however, while other less subtle translations do not produce an incorrect rendering of the Greek as such, they nevertheless hamper a more profound appreciation of the particular verse or passage in question. A careful reading of the original Greek is therefore essential, not only to detect possible misunder-standings of the source language, but also to enhance and enrich our knowledge of the Bible and its message.

Keywords: translation problems, translation process, language, New Testament grammar, translation differentiation, translation mistakes, translation logic, ambiguity, nuance, meaning


 

 

INLEIDING

Die vertaalproses van 'n antieke teks bied uit die aard van die saak meer uitdagings aan die vertaler as dié van 'n kontemporêre teks. Dit is ongetwyfeld so dat hoe groter die tydsafstand tussen teks en vertaler is, des te komplekser word die vertaalproses. Kulturele, religieuse en sosiopolitieke kontekste asook taalaangeleenthede is seker van die belangrikste sake wat as gevolg van hierdie tydsafstand die vertaalproses bemoeilik. Dit geld ipso facto ook die Nuwe Testamentiese teks, wat deur sowel 'n Semitiese as 'n Hellenistiese (Grieks-Romeinse) "wêreld-konteks" in die wydste sin daarvan bepaal is.

Onder die verskillende sake wat die vertaler(s) in ag moet neem vir die verstaan, en gevolglik betroubare vertaling, van die teks van die Nuwe Testament, neem die grammatikale aard van die brontaal vanselfsprekend 'n bepalende plek in. Met grammatikale aard - in hierdie geval van Nuwe Testamentiese Grieks - word bedoel die totaliteit van die vorm, sintaksis en semantiek daarvan. Dit is dan ook hierdie aangeleentheid wat die onderwerp vorm van die onderstaande bespreking van vertaalprobleme wat die Nuwe Testament opgelewer het. Die grammatikale ontsluitingsproses is wyd en diepgaande van aard; daarom kan slegs 'n seleksie van die belangrikste taalkwessies waarmee die vertaler(s) van die 2020-vertaling gekonfronteer is, aangeraak word.

Die bespreking van dié grammatikale kwessies kan uit verskillende hoeke benader word, byvoorbeeld om probleemtekste in volgorde van Matteus tot Openbaring uit te lig, of om die belangrikstes as vertrekpunt te neem en dan te beweeg na die minder belangrikes. Die benadering wat hier gevolg is, was om die gekose gevalle te bespreek binne die raamwerk van drie kategorieë:

A. Tekste waarvan vertalings berus op 'n gebrekkige insig in die Grieks daarvan, of wat spruit uit verkeerde "vertaallogika".

B. Tekste waarvan die vertaling verskillend geïnterpreteer kan word.

C. Tekste waarvan vertalings nie die volle nuanse van die Griekse konstruksie weerspieël nie.

 

A. TEKSTE WAARVAN VERTALINGS OP GEBREKKIGE INSIG IN DIE GRIEKS BERUS OF SPRUIT UIT VERKEERDE VERTAALLOGIKA

1. Joh 2:11 en 4:54 en die dubbele akkusatief van die objek-komplement

Hieronder word, eenvoudig gestel, verstaan dat een akkusatief die objek van die werkwoord is en die tweede akkusatief predikatief as komplement van die objek figureer. Twee teksverse, wat beide 'n aanwysende voornaamwoord bevat, word deur sekere vertalings grammatikaal verkeerd geïnterpreteer. Hulle is Joh 2:11 en 4:54.

Joh 2:11 lui: Ταύτην έποίησέν αρχήν των σημείων ο 'Ιησούς έν Κανά

Die weergawe "Hierdie eerste een van sy tekens het Jesus in Kana gedoen" (die 1933/53, 1983, en NLV)1 is grammatikaal ongeldig, want dit ontbreek ταύτην - teenstrydig met die reël in Grieks - aan die lidwoord. Die korrekte vertaling is dié van objek-komplement: "Dit (objek) het Jesus in Kana gedoen as eerste (komplement) van sy tekens"; of: "Dit het Jesus as eerste van sy tekens in Kana gedoen".

Joh 4:54 bevat dieselfde konstruksie: Τούτο δέ πάλιν δέύτέρον σημέΐον έποίησέν

ο ' Ιησούς...

Die weergawe "Hierdie tweede teken het Jesus gedoen..." (die 1933/1953, 1983, NLV) misken weer eens die objek-komplement-konstruksie. Die korrekte weergawe is: "Jesus het dit (objek) gedoen as tweede teken (komplement)", of: "Dit het Jesus gedoen as tweede teken". Ook hier ontbreek die lidwoord saam met τούτο wat deur Grieks vereis word om te kan lui: "Hierdie tweede.".

Die Grieks sou dan in beide gevalle moes lui: ταύτην την άρχην en τούτο το δέύτέρον σημέΐον, wat egter nie die geval is nie.

2. Joh 6:70 (vgl. Mark 8:33) en monadiese naamwoorde

Naamwoorde wat enig is (son, maan, Seun van God, Heilige Gees) hoef nie die lidwoord te hê om bepaald te wees nie. Om hierdie rede word hierdie reël in een belangrike teks, Joh 6:70, soms verontagsaam:

άπεκρίθη αύτοΐς ο ' Ιησούς' ούκ έγώ ύμας τούς δώδεκα έξέλέξαμην; και έξ ύμών έΐς διάβολος έστιν.

Wat sekere vertalings ignoreer, is dat διάβολος (duiwel) 'n monadiese naamwoord is: Daar is net een duiwel, nie meer nie. Die vertaling: "Ek het tog julle twaalf uitverkies, nie waar nie? Maar/En een van julle is 'n duiwel!" is daarom grammatikaal en logies nie korrek nie. Dit moet lui: "Maar/En een van julle is die duiwel!". Die fout, deur die KJV begaan, is hierin gevolg deur die 1933/53-vertaling, die NKJV, RSV, NRSV en NIV. Die argument dat Judas dan die duiwel sou wees, geld nie, omdat Jesus hier, soos in Mark 8:33 met Petrus ("Gaan weg agter My, Satan!"), figuurlike taal gebruik.

3. Rom 1:16-18; Matt 1:20 & 28:2; Luk 2:9; Hand 12:7; Gal 4:14; Op 13:18 en die kanon van Apollonius

Apollonius se kanon behels die reël dat die hoofnaamwoord en die naamwoord in die genitief óf die lidwoord het, óf sonder die lidwoord is, en dat dit min semantiese verskil maak of die konstruksie die lidwoord het of lidwoordloos is. Dus: ο λόγος τού θέού = λόγος θέού. David Hedges (Wallace 1996:250) het dit verder verfyn tot die volgende reël: Wanneer beide naamwoorde lidwoordloos is, sal beide dieselfde semantiese valensie hê - in die meeste gevalle sal hulle bepaald-bepaald wees, in minder gevalle kwalitatief-kwalitatief, en in weinig gevalle onbepaald-onbepaald; laasgenoemde kom blykbaar nie in die Nuwe Testament voor nie. Die vertaling van die volgende tekste word veral deur hierdie reël beïnvloed: In Rom. 1:16-18 kom die volgende frases kort ná mekaar voor: δύναμις ... θέού (krag ... van God (16), δικαιοσύνη ... θέού (geregtigheid ... van God) (17) en οργη θέού (toorn van God) (18). Die meeste vertalings het "die geregtigheid van God" (17) en "die toorn van God" (18), in ooreenstemming met Apollonius se kanon, maar vertaal dan tog " 'n krag van God" in vers 16 (die 1933/53; 1983; NT&P). Mens moet egter ook in vers 16 konsekwent vertaal: "Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is die krag van God...!" (So tereg ESV, NIV, NRSV, terwyl die NLV se bewoording "Dit is immers God se krag..." en NET se "...for it is God's power" na aan die korrekte weergawe kom). Vergelyk in dié verband veral ook 1 Kor 1:18, wat deur die 1933/53, 1983, NLV en Engelse vertalings (NET, ESV, NIV) korrek vertaal word volgens Apollonius se kanon:

ο λογος γαρ τού σταύρού τοις μέν απολλύμένοις μώρια έστιν, τοις δέ σωίομένοις ημΐν δύναμις θέού έστιν:

"Die boodskap van die kruis is dwaasheid vir hulle wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, die krag van God" (ο λογος = το έύαγγέλιον van Rom 1:16).

En verder ook vers 24: Χριστον θέού δύναμιν και θέού σοφιαν:

"Christus die krag van God en die wysheid van God".

In Op 13:18 vind ons die bekende frase: αριθμος γαρ ανθρώπού έστιν. Die frase beantwoord aan Apollonius se reël, en die vertaling "want dit is die getal van 'n mens" lyk derhalwe verdag (soos vertaal in die 1933/53, NRSV, ESV en CSB). Met ανθρώπος as generiese naamwoord, soos in Op 16:18, en die toepassing van Apollonius se kanon moet daar eerder vertaal word "want dit is die getal van die mensheid/mensdom" - en die mensdom se getal is 666 (vgl. ook Wallace 1996:254).

4. Matt 28:19-20; Kol 3:16; 1 Thes 5:8; Matt 10:7 en die deelwoord van begeleidende omstandigheid

Wallace (1996:640; vgl. ook Burton 1966:173-174) definieer hierdie funksie van die deelwoord soos volg: "The attendant circumstance participle is used to communicate an action that, in some sense, is coordinate with the finite verb". Dit word genoem 'n bepaalde ("finite") werkwoord, wat aan die hoofwerkwoord verbind is met "en". In Grieks (ook in die NT) tree sekere strukturele patrone na vore wat betref hierdie deelwoordfunksie. Ten minste vyf kenmerke kom in 90% van die gevalle van hierdie konstruksie voor:

a. Die tyd van die deelwoord is gewoonlik aoristus.

b. Die tyd van die hoofwerkwoord is gewoonlik aoristus.

c. Die modus van die hoofwerkwoord is gewoonlik imperatief of indikatief, en soms subjunktief.

d. Die deelwoord gaan die hoofwerkwoord in orde en tyd vooraf.

e. Die konstruksie kom meesal in narratiewe literatuur voor.

Omdat hierdie konstruksie so baie in die Nuwe Testament voorkom, neem ek vir eers as uitgangspunt Matt 28:19-20, nie omdat die konstruksie in dié geval verkeerd verstaan word nie, maar omdat die deelwoorde wat op die konstruksie volg, in sommige vertalings as gevolg van 'n verkeerde vertaallogika onjuis weergegee word:

πορέύθέντές ούν μαθητέύσατέ πάντα τά έθνη, βαπτί^οντές αύτούς..δίδάσκοντές αύτούς

"Gaan maak dan dissipels van al die nasies (dit skep geen probleem in vertalings nie), deur hulle te doop ., en deur hulle te leer ."

Die vertaling van βατί£οντές έν διδάσκοντές as verdere imperatiewe (.. .doop hulle.... en leer hulle.) - soos die 1983 en NLV dit ten onregte vertaal - druis in teen die kenmerke van die deelwoord van begeleidende omstandigheid. Hulle is beide teenwoordige deelwoorde, wat hier die beste as deelwoorde van instrument of wyse vertaal kan word ("deur hulle te doop en deur hulle te leer..."). Die Engelse Bybelvertalings lewer nie hier 'n probleem op nie.

Ons vind 'n soortgelyke patroon ook in Heb 12:1/2:

(vers 1) ...ογκον άποθέμένοι πάντα καί ... άμαρτίαν ... τρέχωμέν τον ... άγώνα

(vers 2) άφορώντές έίς Ιησούν

"laat ons elke las aflê asook ... die sonde ... en die ... wedloop hardloop met die oog gevestig op Jesus/deur die oog op Jesus te vestig."

Die 1933/53, die 1983, die NLV en die NT&P het dit almal korrek, sodat mens net kan aflei dat in die geval van Matt 28:19-20 'n verkeerde vertaallogika ten grondslag van die probleem lê.

Dieselfde geld vir Kol 3:16: Die vers begin met 'n bevel: "Laat die woord van Christus ryklik in julle woon .". Dan volg daar drie deelwoorde in die teenwoordige tyd, wat deur die 1933/53 en 1983, die NLV en die NT&P op grond van 'n verkeerde vertaallogika ook as imperatiewe weergegee word ("leer ... en vermaan ... en sing ...") Weer eens het die meeste andertalige vertalings nie 'n probleem met die deelwoord nie (die NRSV vertaal dit wel ook as bevelsinne). Die deelwoord het wel 'n imperatiewe funksie, maar dan, soos Wallace (1996:650) daarop wys: "This use of the participle is not to be attached to any verb in the context, but is grammatically independent", en Robinson (1923:1134) vermaan: "In general it may be said that no participle should be explained in this way that can properly be connected with a finite verb." Vir die enkele duidelike gevalle waar dit wel as imperatief voorkom, kyk Wallace (1996:651).

Die korrekte vertaling van die teenwoordige deelwoorde in Kol 3:16 is dus: "terwyl julle leer en mekaar vermaan..." (of "deur te leer en mekaar te vermaan") ... "en terwyl julle sing" (of "deur te sing"). So lui NET en ESV: "... teaching and exhorting one another ... singing psalms..."; en die NIV laat nog duideliker hulle korrekte verstaan van die deelwoord uitkom met hulle weergawe: "...as you teach and admonish one another ... singing to God ...". Dis opmerklik dat die 1983 dikwels teen die deelwoord in Grieks "sondig", terwyl die 1933/53-vertaling dit gewoonlik reg hanteer!

Soos hier bo opgemerk, is een van die kenmerke van die deelwoord van begeleidende omstandigheid die feit dat die deelwoord in die aoristus die imperatief, indikatief of subjunktief voorafgaan. Om dié rede is daar enkele vertalings (wat Afrikaans betref, sowel die 1983 as die NLV) wat 1 Thes 5:8 verkeerd interpreteer. Die vers lui:

ήμέΐς δέ ημέρας οντές νήφωμέν ένδυσαμένοι θώρακα πίστεως και αγάπης και πέρικέφαλαίαν έλπίδα σωτηρίας

Korrek vertaal, lui dit: "Maar laat ons, omdat ons van die dag is, nugter wees, noudat/aangesien ons ons beklee het met die borsharnas van die geloof en liefde en die helm van die hoop op verlossing."

Vergelyk hierteenoor die vertaling van 1983: "Maar ons wat van die dag is, moet nugter wees; ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die hoop op verlossing as helm." En die NLV: "Ons wat by die dag hoort, moet egter nugter bly deur geloof en liefde as borsharnas aan te trek en as helm die vooruitsig op ons verlossing."

Nie net grammatikaal nie, maar ook inhoudelik/teologies moet ένδυσαμένοι as adverbiale deelwoord (temporeel) opgeneem word, en kan dit volgens konteks die beste vertaal word met "noudat" of "aangesien". Reeds in die dankseggingsinleiding van die brief dank Paulus God vir die feit dat die Thessalonisense, nadat hulle die evangelie aangehoor en met blydskap aangeneem het as die woord van God, nou geloof, liefde en hoop as lewenstyl beoefen (1:3). En met dié feit in gedagte spoor Paulus hulle aan tot 'n nugtere lewe as mense van die dag (= lig).

Dis interessant dat die 1933/53 dit reg het, en ook soos die NEB ("...armed with faith and love for breastplate and the hope of salvation as helmet") die aoristus-deelwoord idiomaties, en dus korrek, vertaal: "Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid" (ek kursiveer).

Hierdie verbale deelwoord van begeleidende omstandigheid ("participle of attendant circumstance") word deur vier Afrikaanse Bybelvertalings (1933/53; 1983; NLV en NT&P) en die Nederlandse Vertaling (NBV) ook foutiewelik in Matt 10:7 verwar met die verbale deelwoord van omstandigheid ("circumstantial participle"). Die twee terme lyk op die oog af dieselfde, maar hulle is inderdaad twee verskillende aspekte/funksies van die verbale deelwoord. Die teks lui:

πορέυομένοι δέ κηρυσσέτέ λέγοντές ...

Die frase lyk nogal soos Matt 28:19a, wat juis hier bo bespreek is, maar waar in Matt 28:19 die imperatief voorafgegaan word deur 'n deelwoord in die aoristus, is die deelwoord (πορέυομένοι) hier presens. Om dit imperatiwies te vertaal ("Gaan verkondig die volgende..."; "Gaan kondig aan..." of "Ga op weg en verkondig") is strydig met Grieks. Die teenwoordige deelwoord wil hier dui op die rondgaan van die dissipels: Oral waar hulle rondgaan, moet hulle die koms van die koninkryk van God verkondig. In hierdie geval is die Engelse vertalings in die kol: "As you go, proclaim this message." (NIV, CSB), "And as you go, proclaim this message..." (NEB), "And proclaim as you go, saying..." (ESV) en NET: "As you go, preach this message.".

Die korrekte weergawe sal dus op een of ander manier hierdie omstandigheid moet verwoord, dalk iets soos: "En na gelang/Terwyl julle rondgaan, verkondig die volgende: .", maar nie as imperatief nie, wat weer eens 'n verkeerde vertaallogika impliseer.

5. Heb 11:3 en die onjuiste verbinding van elemente by twee deelwoorde

In Heb 11:3 kom twee deelwoorde in konstruksies voor wat deur enkele vertalings (NRSV, CSB, ISV) in 'n onjuiste verbinding met die negatief geplaas word. Die vers lui:

Πιστέι νοούμέν κατηρτισθαι τούς αιώνας ρηματι θέού, έις το μη έκ φαινομένών το βλέπομένον γέγονέναι

Dit gaan hier om vers 3b. Foutiewe weergawes hiervan verstaan die konstruksie asof die negatief μη tussen die voorsetsel έκ en die deelwoord φαινομένών staan. Dan word vertaal: "Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld geskep is deur die woord van God, met die gevolg dat die sienlike ontstaan het uit die onsienlikë".

Die frase το μη ... (το βλέπομένον) γέγονέναι hoort egter as eenheid bymekaar. Reeds die 1933/53 het dit korrek, en so ook NET (aangedui in 'n voetnoot by die vers), die NIV en ESV: "Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei (geskep) is, sodat (met die gevolg dat) die dinge (dit) wat gesien word, nie ontstaan het uit die sienlike dinge nie."

Uit die aard van die saak beteken dit dat die sigbare uit die onsigbare ontstaan het, maar soos die NET hier (Heb 11:3c) opmerk: "The Greek phrasing emphasizes this point by negating the opposite: 'so that what is seen did not come into being from things that are visible'" (ek kursiveer).

6. Ef 5:18 en die voorsetselfrase (έν + datief)

In Ef 5:18 vind ons 'n voorkoms van die voorsetsel έν in verbinding met die werkwoord πλη ροώ , wat teologiese implikasies inhou en dikwels verkeerd vertaal word. Hierdie vertalings (1933/53, ESV, NIV, NRSV, ISV) verstaan die uitdrukking só dat die datief hier inhoud weergee: "Word vervul MET die Heilige Gees."

Maar Wallace (1996:170-171; 374-375), gevolg deur NET, skryf: "There are no other examples in biblical Greek in which έν + the dative after πληροώ indicates content." Die έν + datief geld hier as instrument: "Word vervul DEUR die Heilige Gees", soos Roberts (1983:156-158) reeds al sterk betoog het.

7. Heb 1:6 & 2:5 en die ongewone betekenis van οικουμένη

Die Griekse woord οικούμένη dui normaalweg op die (huidige) "bewoonde wêreld" ('n vroulike presensvorm van die passiewe deelwoord van οικέΐν = om te bewoon). In Hebreërs verkry dit egter 'n ongewone betekenis (BAGD 1979:561) as dit in 2:5 omskrywe word as η οικούμένη η μέλλούσα, die "toekomende wêreld". Mens kry die indruk dat die voorkoms daarvan in 1:6 so verstaan word dat dit na die teenswoordige wêreld verwys en dit dan óf op die inkarnasie óf op die wederkoms van Jesus dui. Dit gaan egter hier inderdaad ook om die "hemelse wêreld", en verwys na Christus se hemelvaart en troonsbestyging, waar al die engele Hom aanbid (Du Toit 2002:45). In Hebreërs 2:5 sê die skrywer ook duidelik, as hy praat van die "toekomstige wêreld", dit is dié wêreld waarvan "ons" praat (περί ής λαλουμέν). En hy praat daarvan in vers 1:6. Die feit is dat die skrywer van Hebreërs ή οικουμένη net hierdie twee keer gebruik, en in die lig van die omskrywing in 2:5 daarmee ook in 1:6 na die toekomstige wêreld verwys. Wanneer hy na die huidige wêreld verwys, gebruik hy deurgaans die woord ο κόσμος: 4:3, 9:26, 10:5, 11:7, 38. Vergelyk verder vir hierdie gedagte van die "toekomstige wêreld" in Hebreërs ook 6:5 (die komende bedeling), 13:14 (die toekomstige stad). Ek het een vertaling onder dié wat ek nagegaan het, gevind wat dit só verwoord, naamlik die Gute Nachricht Bibel: "Und er sagt doch auch, wenn er ihn mit allen Rechten des Erstgeborenen in die Welt einführt - in die himmlische ...", wat dan in 'n voetnoot verduidelik word: "Bei Welt ist zunächst an die himmlische Welt gedacht" en daar word ook verwys na 1 Tim 3:16, Fil 2:10 en Op 5:8-13. Vergelyk in hierdie verband uitvoerig Vanhoye (1964:24853) oor οικουμένη in Hebreërs, terwyl Isaacs (2002 sub versu) skryf:

Our author ... uses it of heaven, 'the world to come (oikoumenen ten mellousarí (2:5; cf 6:5, 'the age to come'; 13:4, 'the city to come'), i.e. that sphere of divine sovereignty that has yet to be established 'on earth as it is in heaven'... This is confirmed by the scripture, 'Let all God's angels worship him' (v.6b).

Om dié rede het die 2020-vertaling in 'n voetnoot by 1:6 aangedui dat dit só verstaan moet word.

 

B. TEKSTE WAARVAN DIE VERTALING VERSKILLEND GEÏNTERPRETEER KAN WORD

1. Die genitief in Ef 4:9

Wanneer daar meer as een moontlikheid is om 'n bepaalde teksvers of -gedeelte te interpreteer, is die beste uitweg om (soos baie vertalings) een te kies en die ander in 'n voetnoot te plaas. Om bloot net een te kies sonder om die ander te vermeld, doen afbreuk aan die ryke inhoud van die bepaalde teksgedeelte.

As eerste voorbeeld van tekste waar die Grieks op meer as een manier geïnterpreteer kan word, en waar dus op ander gronde 'n besluit geneem moet word, kan verwys word na Ef 4:9, wat soos volg lui:

το δέ ' Ανέβή τί έστίν έί μή οτί καί κατέβή έίς τα κατωτέρα μέρή τής γής;

"Die bewering: 'Hy het opgevaar' - wat beteken dit anders as dat Hy neergedaal het na die onderste dele van die aarde?'"

Die vraag is of mens hier met 'n partitiewe (geheels-) of 'n epeksegetiese genitief te make het. Is die onderste dele/gebiede van die aarde die "onderwêreld"? Of is "die aarde" epeksegeties, dit wil sê, "die onderste dele, naamlik die aarde"? Die verskil tussen die partitiewe (geheels-)genitief en die epeksegetiese genitief in hierdie teks is die verskil tussen 'n neerdaling van Christus by sy dood na die onderwêreld of 'n neerdaling van Jesus deur sy inkarnasie na die aarde! Die oplossing vir die vertaling lê dus nie in die grammatika nie, maar in die teologiese konteks waarin die uitspraak gemaak word (vgl. NET se voetnoot op hierdie vers).

Die genitief in Fil 2:8 (4:7); Rom 1:5; 8:2

Een van 'n paar belangrike tekste waarin die genitief verskillend interpreteer kan word, is die bekende frase in Fil 2:8c: θανάτού δέ σταύρού, wat op nie minder nie as vier (grammatikaal korrekte) maniere weergegee kan word. In die voorafgaande frase verwys Paulus na Christus se gehoorsaamheid tot die dood toe, en dan word hierdie dood nader omskrywe in 8c. Die vertaler(s) kan σταύρού as 'n genitief van middel ("means") verstaan: "die dood deur middel van 'n kruis"; óf as genitief van plek: "die dood aan 'n kruis" (die 1983, NT&P); óf as attributiewe/Hebreeuse genitief, "'n kruisdood"; óf dan ook as genitief van bewerker, "die dood bewerk/teweeggebring deur 'n kruis". Die 1933/53 se "die dood van die kruis" is net te vaag en neutraal.

Rom 1:5 bring die vertaler(s) ook voor verskillende keuses te staan: δί ' ού έλάβομέν χάρίν καί άποστολην έίς ύπακοην πίστέως. Is laasgenoemde woord (πίστέως/geloof) (a) 'n attributiewe genitief, "deur Wie ons genade en apostelskap ontvang het met die oog op geloofsgehoorsaamheid", of (b) 'n genitief van bewerker/produseerder, "deur wie ons genade en apostelskap ontvang het met die oog op gehoorsaamheid wat deur geloof bewerk word"? Die NIV volg laasgenoemde: "the obedience that comes from faith"; of is dit (c) 'n epeksegetiese genitief: "deur wie ons genade en apostelskap ontvang het met die oog op gehoorsaamheid, naamlik geloof'? Vir dieselfde uitdrukking kyk ook 16:26.

2. Πίστις Ίησο€ Χρίστου en die keuse tussen subjektiewe of objektiewe genitief

Gewoonlik word daar nie eintlik in die vertaalproses probleme ondervind met hierdie twee funksies van die genitief nie. 'n Maklike illustrasie is "die liefde van God", wat in bepaalde kontekste kan geld as óf die liefde wat God bewys, óf die liefde vir God, óf beide (die sogenaamde "plenêre genitief").

Daar is egter een konstruksie wat groot verdeeldheid onder Nuwe Testamentici ontlok het en nog steeds ontlok, te wete die frase πίστίς (ύπακοη in 1 Pet 1:2) ' Ιησού Χρίστού. Die belangrikste tekste is: Rom 3:3; 3:22, 25, 26; 4:16; Gal 2:16, 20; 3:22, 26; Fil 3:19; Ef 3:12; 1 Pet 1:2. Die saak is sterk teologies gekleur, of anders gestel: Dit is van groot teologiese belang, en die enigste uitweg vir die vertaler(s) is om een moontlikheid te kies en die ander een as alternatief in 'n voetnoot te plaas.

Die vraag is: Gaan dit hier oor "geloof in Jesus Christus" (objektiewe genitief) of "die geloofsvertroue/geloofsgehoorsaamheid van Jesus Christus" (subjektiewe genitief)?

Die argumente vir 'n subjektiewe genitief teenoor die meer tradisionele opvatting van 'n objektiewe genitief kan myns insiens vanuit vier perspektiewe benader word: (a) 'n teologiese, (b) 'n stilistiese, (c) 'n grammatikale (konstruksie-patroon), en (d) 'n literêre perspektief.

Wat die teologiese betref, word eerstens gewys op die feit dat Paulus nie 'n menslike aktiwiteit (die doen van die werke van die wet) teenoor 'n ander menslike aktiwiteit (geloof in Jesus Christus) stel nie, maar 'n menslike (nakoming van die wet) teenoor die geloofs-gehoorsaamheid of -vertraue van Jesus, dus 'n goddelike aktiwiteit, op grond waarvan die belofte gegee word aan dié wat in Hom glo. Verskillende kommentare en studies het reeds hieroor die lig gesien (Wallace 1996:114-116 gee 'n kort oorsig), maar die meer grondliggende werk hieroor is dié van Hays (1991; 2002). Hier kan volstaan word met die volgende kernopmerking van Hays oor Gal 3:22:

Gal 3:22 must not be interpreted to mean that believers receive the promise by the subjective act of placing their faith in Jesus Christ; instead, it must mean that Jesus Christ, by the power of faith, has performed an act which allows believers to receive the promise.

Die stilistiese argument het te doen met die oortolligheid van die uitdrukking in Rom.3:22:

δικαιοσύνη δέ θέου δια πίστέως ' Ιησου Χρίστου έίς παντας τους πιστέυοντας.

Die weergawe "Maar die geregtigheid van God is (geopenbaar) deur geloof in Jesus Christus vir almal wat glo" is stilisties verdag. Dit maak stilisties (afgesien van die teologiese argument) veel meer sin om te vertaal: "Maar die geregtigheid van God is (geopenbaar) deur die geloofsvertroue van Jesus Christus vir almal wat glo." Hierdie saak van 'n "oortollige" stelling geld ook van Gal 3:22b (kyk hier onder onder (c)).

Hierby kan mens nog ook 'n grammatikale argument byvoeg, waar dit spesifiek gaan oor die konstruksie van pistis in die Nuwe Testament. Diegene wat 'n objektiewe genitief voorstaan, moet hulle deeglik vergewis van Gal 3:22 in vergelyking met Gal 3:26.

Gal 3:22b lui: Ίνα ή έπαγγέλία έκ πίστέως ' Ιησου Χρίστου δοθή τοΐς πιστέυουσιν

Gal 3:26 lui: Παντές γαρ υιοί θέου έστέ δια της πίστέως έν Χριστω ' Ιησου

Mens vind in vers 26 die tipiese konstruksie in Grieks van "geloof/glo in" met πιστέυέίν έν οφ έίς οφ έπί, naamlik: πίστέως έν Χριστω ' Ιησου, wat daarop dui dat wanneer πίστις (pistis) deur 'n objektiewe genitief gevolg word, dit gewoonlik deur 'n voorsetsel gevolg word, terwyl die teenoorgestelde geld dat wanneer dit deur 'n persoon(snaam) in die genitief gevolg word, naamlik dat dit op 'n subjektiewe genitief dui, soos Thurston (1994) onder andere in Ef 3:12 opmerk: "However, when pistis is followed by the personal genitive, the genitive is nearly always subjective." Onderstaande is enkele tekste waarin πίστις deur 'n voorsetsel gevolg word en die persoon as objek aandui:

Matt 27:32: πιστέυσομέν έπ' ' αυτόν "sal ons in Hom glo".

Ef 1:15: ακουσας την καθ ' υμας πίστιν έν τω κυρίω ' Ιησου: "..gehoor het van julle geloof in die Here Jesus".

Kol 1:4: ακουσαντές την πίστιν υμων έν Χριστω ' Ιησου· "...gehoor het vanjulle geloof in Christus Jesus".

Kol 2:5: καί το στέρέωμα της έίς Χριστον πίστέως: "en die standvastigheid van (julle) geloof in Christus".

Heb 6:1: και πίστέως έπί θέον: "en van geloof in God".

Sekere Bybelvertalings probeer in Gal 3:26 die probleem omseil deur te vertaal: "Want julle almal is in Christus Jesus seuns/kinders van God deur die geloof' (NET, ESV, NIV, NRSV). Maar die woordorde in Grieks maak dié vertalingsmoontlikheid verdag. Die meeste Bybel-vertalings vertaal dit: "Want julle almal is seuns/kinders van God deur die geloof in Christus Jesus" (1933/53, 1983, CSB, CEB, ISV, LBLA, NASB, Darby 1991 ens.).

Ten slotte twee opmerkinge: (a) Eerstens, as δια (έκ) πίστέως ' Ιησου Χρίστου hier en in Rom 3:22 'geloof in Jesus Christus' beteken, dan moet mens έκ πίστέως ' Λβρααμ in Rom 4:16 ooreenstemmend vertaal as "geloof in Abraham" (i.p.v. die geloof van Abraham), want dit is presies dieselfde Griekse konstruksie (vgl. Johnston:1982)! (b) Tweedens is dit moeilik om te aanvaar dat binne vier verse van mekaar af Paulus met Gal 3:26 se πίστέως έν Χριστω 'Ιησου dieselfde sou bedoel as Gal 3:22 se πίστέως ' Ιησου Χρίστου.

Vanuit 'n literêre perspektief gesien, kan as verdere argument ten gunste van die subjektiewe genitief aangevoer word dat Paulus twee maal (Gal 3:22/25) die woord geloof (pistis) as metoniem vir Christus gebruik (vgl. Cousar:2001 sub versu).

Ten slotte wys Timothy Johnson daarop dat die opvatting van 'n subjektiewe genitief ook lig werp op die uitdrukking in Rom 1:17, έκ πίστέως έίς πίστιν, nie wat die vertaling betref nie, maar wel die verstaan daarvan. Hy skryf in dié verband (2001 sub versu): "Paul may be suggesting that God's righteousness is being revealed 'out of the faith of Jesus' and 'leads to the faith of Christians.. .It is Jesus' faithful response to God that enables others to respond in the same faithful and obedient way."

Dié stryd het lank nog nie gaan lê nie, maar deurdat die 2020-vertaling die alternatiewe weergawe in 'n voetnoot geplaas het, maak dit die weg vir die leser tot verdere nadenke oop.

'n Ander interessante en belangrike geval wat hiermee saamhang, is die frase έξ έργών νομού η έξ ακοης πιστέώς in Gal 3:2 en έξ έργών νομού το πνέύμα έλαβέτέ η έξ ακοης πιστέώς; in Gal 2:5.

Die frase έξ ακοης πιστέώς (vgl. hiervoor Williams 1989:82-93 en Hays 1983:143-149) is semanties dubbelsinnig en kan op twee maniere verstaan en derhalwe vertaal word. Die woord ακοη kan óf beteken die daad van hoor óf die boodskap wat gehoor word, terwyl πιστις óf die daad van glo óf die geloof (as goddelike gawe) beteken. Die vraag wat die vertaler(s) konfronteer, is: Gaan dit om die doen van die werke van die wet (in Galasiërs veral die toepassing van besnydenis) teenoor die hoor met geloof (dus twee menslike aktiwiteite), of om die doen van die werke van die wet (byvoorbeeld die besnydenis as 'n menslike aktiwiteit) teenoor die verkondigde boodskap wat geloof bewerk/teweegbring ('n goddelike aktiwiteit - vgl. hier bo by die bespreking van πιστέώς Χριστού)?

Met inagneming van bostaande moontlikhede sou 'n tweevoudige vertaling só kon lui:

a. "Het julle die Gees ontvang op grond van die doen van werke wat die wet vereis, of toe julle met geloof geluister het/toe julle geglo het wat julle gehoor het?"

b. "Het julle die Gees ontvang op grond van die doen van werke wat die wet vereis, of op grond van die boodskap wat geloof bewerk/teweegbring?" (Hier is ακοης 'n genitief van produseerder.)

3. Fil 1:7; 2 Kor 2:13; Jak 4:5 en die akkusatief as objek van 'n oorganklike werkwoord in die infinitief, met objek ook in die akkusatief

Subjek en direkte objek, beide in gevalle waar een die subjek is van die oorganklike infinitief en 'n akkusatief as objek neem, skep in twee tekste probleme wat die vertaling daarvan beïnvloed.

Fil 1:7 lui: ....δια το έχέιν μέ έν τη καρδια ύμας. Watter een is die subjek en watter een die objek tussen μέ en ύμας? Is dit "...omdat ek julle in my hart het (hou/dra)", of "... omdat julle my in die hart het (hou/dra)"? Omdat beide, grammatikaal gesien, korrek is, kan die vertaler(s) twee weë volg: (a) plaas, soos NET dit doen, die alternatief in 'n voetnoot, of (b) maak 'n keuse volgens die Griekse woordorde as sekondêre oorweging (maar nie as vaste reël nie - vgl. Wallace 1996:192-194,196 teenoor Moeller & Kramer 1963: 25-35 en Reed 1991:1-27).

Anders as hier bo, is daar nietemin 'n teksvers waar die onderskeid tussen subj ek en objek ook problematies is, te wete Jak 4:5:

προς φθονον έπιποθέΐ το πνέύμα ο κατώκισέν έν ημΐν

Moet το πνέύμα as subjek of objek gelees word, en gaan dit oor Gees of gees? Is dit (i) "Met jaloersheid begeer Hy (God) die Gees (objek) wat Hy in ons laat woon het", of (ii) "Die gees (subjek) wat Hy (God) in ons laat woon het, het 'n jaloerse begeerte"? NET meen: "... the word for 'envious' or 'jealous' is generally negative in biblical usage and the context before and after seems to favour the negative interpretation", en kies dus vir (ii) hier bo.

4. Die datief in Judas 1

In Judas 1 kan die datief Ιήσου Χρίστω op twee maniere verstaan word. Lees ons dit as 'n datief van belang/dativus commodi, lui die versgedeelte soos volg:

...aan dié wat geroep is, diegene vir wie God die Vader liefhet en wat vir Jesus Christus in bewaring gehou word.

Hierdie weergawe word onder andere verkies deur Wallace (1996:144), NET, ESV, NIV, NRSV en 1933/53.

Lees ons die datief as datief van agens (die perfektum passief van die werkwoord met datief kan agens aandui), lui dit:

....aan dié wat geroep is, diegene vir wie God die Vader liefhet en wat deur Jesus Christus in bewaring gehou word.

Hierdie weergawe vind ons terug in onder andere die vertalings van1983, die NLV, die NT&P, en CSB.

NET skryf in hulle voetnoot by Judas 1:

Datives of agencies are quite rare in the NT..., almost always found with a perfect verb. Although this text qualifies, in light of the well-worn idiom of τήρέω (tereo) in eschatological contexts, in which God or Christ keeps the believer safe until the parousia..., it is probably better to understand this verse as having such an eschatological tinge. It is at the same time possible that Jude's language was intentionally ambiguous, implying both ideas ("kept by Jesus Christ [so that they might be] kept for Jesus Christ").

Weer eens vereis dit die alternatief in 'n voetnoot.

5. 1 Tim 6:10 en Colwell se reël

Hierdie reël, deur Dixon (1975) en Harner (1975:75-87) verfyn, word soos volg deur Wallace (1996:262) saamgevat: 'n Lidwoordlose preverbale predikatiewe naamwoord (PN) is gewoon-lik kwalitatief, somtyds bepaald en slegs in seldsame gevalle onbepaald. Voordat die probleemteks wat hiermee in verband staan, hanteer word, sal 'n voorbeeld van elk van pas wees:

Kwalitatiewe PN: Joh 1:14 - ο λογος σαρξ έγένέτο: "die Woord het mens/vlees geword". Bepaalde PN: Matt 27:42

αλλους έσωσέν, έαυτον ου δυναταί σώσαί- βασίλέύς ' Ισραήλ έστίν, καταβατω νυν απο του σταυροΰ- "Ander het hy gered, hy kan homself nie red nie; Hy is die koning van Israel, laat hy nou van die kruis afkom"

Veronderstelde onbepaalde PN: 1 Tim 6:10:

ρί£α γαρ παντων των κακων έστίν ή φίλαργυρία

Hierdie probleemteks kan op die volgende maniere vertaal word (Wallace 1996:265):

a. (Die) geldgierigheid is 'n wortel van alle euwels

b. (Die) geldgierigheid is die wortel van alle euwels

c. (Die) geldgierigheid motiveer ("motivates") alle euwels

d. (Die) geldgierigheid is 'n wortel van allerlei euwels

e. (Die) geldgierigheid is die wortel van allerlei euwels

f. (Die) geldgierigheid motiveer allerlei euwels

In a en d is die preverbale PN onbepaald; in b en e is dit bepaald; in c en f is dit kwalitatief, terwyl πάντων kan beteken 'alles sonder uitsondering' (a-c) of 'alles sonder onderskeid' (d-f). Logies en teologies is die gedagte van bepaaldheid (NLV) hoogs onwaarskynlik. Grammatikaal is onbepaaldheid (1933/53; 1983) nie moontlik nie, omdat dit uiters selde voorkom (in die NT); dus is 'n kwalitatiewe preverbale PN grammatikaal waarskynlik die beste oplossing: dus weergawe c of f, alhoewel mens dan só die beeld van "wortel" moet prysgee en dit dalk moet vervang deur iets soos "oorsprong/bron.".

6. Rom 12:1; Tit 2:10; 1 Pet 1:15 en die lidwoordlose naamwoord-adjektief-konstruksie

Hierdie konstruksie kan óf as 'n vierde attributiewe posisie voorkom (δούλος άγαθος = 'n goeie slaaf), óf as 'n tweede predikatiewe posisie (δούλος άγαθος = 'n slaaf is goed).

In Rom 12:1 kom die vertaler(s) in hierdie verband voor 'n interessante keuse te staan:

Παρακαλω ούν ύμάς...παραστησάί τά σωματα ύμων θύσίαν Ζωσαν άγίαν έύάρέστον τω θέω

In hierdie vers is die naamwoord θύσίαν (offer) 'n akkusatief van die komplement by die objek τά σωματα (die liggame). Vertalings gee hierdie sin op een van twee maniere weer:

a. NET: "to offer your bodies as living sacrifices that are holy and pleasing to God" ESV/NRSV: "to present your bodies as a living sacrifice, holy and acceptable to God" NIV/CSB: "to offer your bodies as a living sacrifice, holy and pleasing to God"

b. 1933/53: "dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer"

Die probleem met NET/ESV/NRSV/NIV/CSB se weergawes is dat hulle die eerste partisipiale adjektief as attributief verstaan, maar die volgende twee gewone adjektiewe as predikatief, terwyl die vertaling van 1933/53 al drie adjektiewe as attributief vertaal. Die wisseling van attributief en predikatief in die Engelse vertalings wek eerder die indruk dat dit meer idiomaties in Engels is om die eerste attributief te maak, en die ander twee dan predikatief. Maar dit lyk grammatikaal verdag. Indien mens die predikatiewe moontlikheid navolg, laat die aaneen-strengeling van drie adjektiewe ná θύσίαν die keuse eerder val op die tweede predikatiewe posisie vir al drie adjektiewe (alhoewel die 1933/53-vertaling beter vaar as die Engelse vertalings hier bo genoem):

"dat julle jul liggame stel as 'n offer wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is".

Die predikatiewe posisie word myns insiens vroeër in die brief bevestig, in hoofstuk 7:12, wat dieselfde konstruksiepatroon vertoon:

ωστέ ... η έντολη άγία καί δίκαία καί άγαθη

Dit word deurgaans predikatief vertaal: "... met die gevolg dat ... die gebod heilig en regverdig en goed is".

'n Ander geval waar 'n predikatiewe en attributiewe posisie 'n vertaalprobleem skep, is te vinde in 1 Pet 1:15:

άλλά κατά τον καλέσαντα ύμάς άγίον καί αύτοί άγίοί ....γένηθητέ

a. Attributiewe posisie: "Maar, soos die Heilige (Een) wat julle geroep het, moet ook julle heilig wees ..." (NET; NASB).

b. Predikatiewe posisie: "Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet ook julle heilig wees..." (1933/53; 1983; NT&P; ESV; CSB; NIV; LBLA; CEB).

Vir die predikatiewe posisie, deur meeste nagevolg, pleit die feit dat dit ooreenkom met Lev 19:2 (LXX), wat hier in vers 16 aangehaal word.

7. Gal 5:17 en 'n sintaktiese keuse wat van die konteks afhang

Soms gebeur dit dat 'n konstruksie in Grieks met dieselfde formele voorkoms op verskillende maniere weergegee kan word. 'n Goeie voorbeeld hiervan is te vinde in Gal 5:17. In hierdie gedeelte (5:16-26, wat deel uitmaak van die groter geheel: 5:16-6:10) gaan dit oor die konflik tussen twee magte, die Gees en die "vlees" (sarks). Vers 17 lui: "Want die 'vlees'/sarks begeer teen die Gees, en die Gees teen die 'vlees'/sarks, want hulle staan (lynreg) teenoor mekaar, sodat julle nie dit kan doen wat julle ook al wil nie."

Die laaste frase lui in die Grieks: 'ίνα μη α έαν θέλητέ ταυτα ποιητέ. Bloot op die Griekse vorm na kan die konstruksie sowel doel as gevolg uitdruk, en die vraag waarmee 'n vertaler gekonfronteer word, is: Watter een is hier geldig? Waar die Griekse konstruksie nie uitsluitsel gee nie, moet die vertaler in só 'n geval na die breëre konteks van die gedeelte kyk.

Die 1983-vertaling verstaan dit duidelik as gevolg: "en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie". Ook ander volg hierdie weg, naamlik NET, CSB en NIV Maar die konteks suggereer eerder 'n doelsin, soos die volgende vertalings dit het: ESV ("to keep you from doing the things you want to do"), NRSV ("to prevent you from doing what you want"), CEB ("so you shouldn't do whatever you want to do"). Die sin beskryf in werklikheid die bedoeling van hierdie twee magte, die een om die werk van die ander te fnuik, soos Williams (1997:149) dit stel: "The flesh and the Spirit oppose each other in order to keep Christians from doing what they might otherwise do if the other adversary were not on the field."

Dit is daarom ook, soos Cousar (2001:sub versu) aandui, misleidend om sarks ('vlees') hier te omskrywe of te vertaal as "lower nature" (NEB), "sinful nature" (NIV; ook die 1983-vertaling; NLV en die 2020-vertaling: "sondige geaardheid") of "human nature" (TEV), asof dit 'n antropologiese term is. Die Gees en die sarks is twee magte gewikkel in 'n apokaliptiese stryd, met die Galasiese gemeentes as slagveld.

8. Hand 1:4 en die betekenis van σνναλιζόμβνος

Volgens BAGD (1979:783-6) is dié werkwoord verwant aan αλς en kan dit beteken: (i) '(sout) eet saam met' of (ii) "byeenbring' (aktief) of 'saamkom/byeenkom' (passief), maar (iii) dit kan ook 'n spelvariant wees van 'n werkwoord συναυλίΖομαι, wat beteken om 'die nag deur te bring met/by', en dan algemeen 'bly by' of 'saam wees'. Die onsekerheid blyk byvoorbeeld uit die volgende twee opmerkings:

a. NET kies opsie (iii) (vgl. ook Bruce [1962:68]) en skryf in die voetnoot op 1:4: "The difficulty with the first option is that it does not fit the context, and this meaning is not found elsewhere. The second option is difficult because of the singular number and the present tense. The third option is based on a spelling variation of συναυλιζ ομένος (sunaulizomenos), which some minuscules actually read here."

b. Danker (s.v. συναλίΖω) merk weer op: ".. .in the light of Ac 10:41 there is some merit in the view that αλς 'salt' may be a component of a parallel verb, giving the more precise sense 'share salt with' as metaph. = eat with". In Hand 10:41 wys Petrus naamlik in sy toespraak op "dié (van ons) wat saam met Hom geëet en gedrink het .", terwyl die motief van tafelgemeenskap sterk deur Lukas se evangelie loop en dalk as versterking kan dien vir συναλίΖομένος as "saam te eet met".

9. Matt 10:29: 'n teologiese perspektief

Soos in die inleiding en hier bo vermeld, is dit belangrik om daarop te let dat die bloot grammatikale aspek van Grieks nie altyd die finale of enigste sleutel tot die ontsluiting van 'n bepaalde teks is nie. Konteks - met name kulturele, sosioreligieuse/teologiese oorwegings - speel ook 'n belangrike rol.

Matt 10:29 kan as voorbeeld geld waar die Grieks neutraal gestel word, sodat vertalings so moet laat, óf vanuit 'n bepaalde teologiese perspektief moet omskrywe. Die versgedeelte lui:

καί έν έξ αυτων ου πέσέΐταί έπί γήν ανέυ του πατρος υμων.

"En nie één (mossie) van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie."

Die voorsetsel ανέυ (= sonder) kom vier maal in die NT voor, maar net hierdie een keer in Matt 10:29 in verbinding met 'n persoon. BAGD (1979:65) omskryf dit soos volg: "without the knowledge and consent of'. Danker (2009:s.v.): "without (awareness of)".

Vertalings wissel tussen dié twee moontlikhede wat BAGD stel, terwyl sommige dit neutraal hou:

(a) "sonder die wil ('consent/leave') van die Vader" (1983, NET - alhoewel dit in 'n voetnoot BAGD se inskrywing as alternatief aandui - CSB; NBV; ISV; LBLA; NEB).

(b) "sonder die wete/kennis (knowledge) van die Vader" (REB; NLT; Gute Nachricht Bibel). Hieronder val ook die NIV ("outside your Father's care"), die NLV ("sonder dat julle Vader daarby betrokke is ...") en Danker (2009:s.v.) se inskrywing by Matt 10:29: "without (awareness of)".

(c) "sonder die Vader" (1933/53; NT&P; die 2020-vertaling; Darby 1991; Schlachter 2000).

Die probleem met (a) hier bo is dat oral in die Nuwe Testament waar daar van die wil/raad van God/die Vader gepraat word, dit eksplisiet gestel word deur bepaalde naamwoorde en werkwoorde, byvoorbeeld θέλήμα, θέλω, έπίτρέπω, βουλή, of, in gelaaide kontekste, die passief van werkwoorde (Filem 22), sodat die gedagte dat die eenmalige voorkoms van ανέυ + persoon dui op die wil van die persoon (hier: God), verdag is. Terwyl opsie (b) teologies beter sin maak, is opsie (c) dalk die veiligste. Dit berus dan by die eksegeet en prediker om die moontlike teologiese implikasies van die frase te ontsluit.

10. 1 Thes 4:4 en die woordbetekenis van aiceo$

Die vertaler(s) van spesifiek die Nuwe Testament kom gedurig te staan voor die juiste betekenis van 'n bepaalde woord/begrip. Een so 'n geval is belangrik, omdat dit nie minder nie as drie moontlikhede bied. In 1 Thes 4:4 staan daar, binne die oproep tot 'n heilige lewe, die volgende:

έίδέναί έκαστον υμων το έαυτου σκέυος κτασθαί έν αγίασμω καίτίμή

"Elkeen van julle moet weet hoe om sy eie skeuos te bekom/te beheer."

Verwys die woord σκέυος ('houer', "vessel") na 'vrou', na 'liggaam' of na die 'manlike geslagsorgaan'? Verder kan gevra word of die werkwoord κτασθαί sy gewone betekenis dra van 'om vir jouself iets te verkry, te verkry', of kan dit ook verstaan word as 'om beheer te verkry oor'? (Vgl. BAGD 1979:754 vir dié verskillende moontlikhede.)

a. Vir die betekenis van 'vrou' kan verwys word na 1 Kor 7:2-6 as 'n parallel tot 1 Thes 4:3-6. Daarby is dit ook moontlik dat 1 Pet 3:7 (σκέύέι τώ γύναικέιώ = die vroulike/swakkere geslag) hier 'n rol speel in die keuse vir "vrou". Die opvatting dat dit na 'vrou' verwys, is deur die Afrikaanse vertalings (die 1933/53, 1983, NLV en die 2020) gevolg.

b. Vir die gedagte dat dit na 'liggaam' verwys (NET, ESV, NIV, NRSV, NJB, CEB, CSB en andere), kan daar na Rom 9:21-23 en 2 Kor 4:7 verwys word, waar die woord metafories op mense dui en nie spesifiek vroue nie. Paulus sou dus hier gelowiges vermaan tot selfbeheersing oor die liggaam of selfs die geslagsorgaan. Smith (aangehaal deur NET) argumenteer dat dit naamlik in hierdie konteks heel waarskynlik 'n eufemisme is vir die manlike geslagsorgaan. Dié wat dit vertaal met "liggaam" dui in 'n voetnoot ook op die moontlikheid van "vrou".

c. Sommige vertalings behou bloot die letterlike vertaling van die Griekse skeuos: Schlachter (2000): "Gefäss", LBLA: "vaso", NASB: "vessel", Darby (1991): "vase", wat dui op die onsekerheid by vertalers oor die juiste betekenis daarvan in hierdie konteks.

12. Heb 11:11 en 'n tekskritiese probleem

Heb 11:11 word op twee maniere vertaal as gevolg van 'n tekskritiese probleem. Die NA27 lui soos volg:

Πιστέι και αύτη Σαρρα στέΐρα δύναμιν έις καταβολην σπέρματος έλαβέν...

"Deur geloof het ook Sara self, alhoewel reeds onvrugbaar ..krag ontvang om bevrug te word....".

Die probleem is dat die idioom έις καταβολη σπέρματος (met die oog op die neerwerp/ saai van saad/sperm) in Hellenistiese Grieks na die bevrugting deur die man verwys, en die gedagte is dat Abraham eerder as Sara die subjek van vers 11 is. Vergelyk hiervoor BAGD (1979:409). Kommentare soos dié van Bruce (1965:296), Attridge (1989:321), Lane (1991:2:344), Ellingworth (1993;587-88), die NRSV en die NIV volg die lesing met die datiefvorm, te wete αύτη Σαρρα. Attridge vertaal dit derhalwe soos volg: "By faith, with Sarah's involvement, he (Abraham) received the capacity of sowing seed even beyond the prime of life." Die 2020-vertaling erken hierdie moontlikheid in 'n voetnoot.

13. Matt 11:12 (vgl. Luk. 16:16) en die betekenis van βιάζεται

Matt 11:12 lui: η βασιλέια τών ούρανών βιαΖέται και βιασται αρπαΖούσιν αύτην

Luk 16:16 lui: η βασιλέια τού θέού έύαγγέλιΖέται και πας έις αύτην βιαΖέται

In beide tekste, maar veral in Matt 11:12, het die betekenis van βιαΖέται vertalings nog altyd in twee gedeel. Van βιαΖέται skryf Danker (CL s.v.) byvoorbeeld "A precise interpretation of this verb as used in the NT is difficult to establish", en wys op die twee moontlike betekenisse: (a) medium: "force one's way into, rush" en (b) passief: "be treated violently" (kyk ook BAGD 1979:140-141 vir meer inligting).

Vertalings wissel tussen hierdie twee moontlikhede, maar dui in die meeste gevalle die alternatief in 'n voetnoot aan (soos ook in die 2020-vertaling). So vertaal NRSV/NIV byvoorbeeld "until now the kingdom has suffered violence" (passief), en in 'n voetnoot "has been coming violently" (NRSV) of "has been forcefully advancing" (NIV) (medium).

Wat βίάΖέταί in Luk 16:16 betref, skryf NET in 'n voetnoot:

"Many translations have 'entereth violently into it' (ASV) or 'is forcing his way into it' (NASB, NIV). This is not true of everyone. It is better to read the verb here as passive rather than middle, and in a softened sense of 'be urged'...This fits the context well because it agrees with Jesus' attempt to persuade his opponents to respond morally."

 

C. TEKSTE WAARVAN VERTALINGS NIE DIE VOLLE NUANSE VAN DIE GRIEKSE KONSTRUKSIE WEERSPIEËL NIE

1. Rom 6:4; Fil. 1:22; Rom 4:19 en 1:25 en die omgekeerde genitief

Die genitief in Grieks word gewoonlik bloot weergegee deur "van ." ("of ." in Engels). Maar in die lig daarvan dat Wallace (1996:72) die genitief indeel in vyf hoofgroepe, met iets soos 33 subfunksies, verskraal mens die betekenis daarvan deur bloot by so 'n neutrale weergawe te hou. Wallace (1996:73) skryf in dié verband: "The genitive case is one of the most crucial elements of Greek syntax to master." Met die groot verskeidenheid van relasie-moontlikhede met die naamwoord waarmee dit in verbinding staan en die elastisiteit daarvan, skep dit vir die vertaler(s) dikwels vertaalprobleme, en daarom verkies baie om die genitief bloot met "van" (Engels: "of") weer te gee. Onderstaande is enkele belangrike gevalle waar die eksegetiese funksie van 'n bepaalde genitief beter belig kan word.

Daar word in vertalings nie fyn genoeg aandag gegee aan die sogenaamde omgekeerde genitief nie, soos dit in sommige werke bekend staan (BDF 1961: 91 par. 165; BDReh 1979: 136 par. 165; Zerwick 2005:15 nota 6). Hierdie konstruksie verkry sy naam omdat dit die omgekeerde is van die Hebreeuse genitief, dit wil sê die hoofnaamwoord tree op as adjektief by die naamwoord in die genitief. Met betrekking tot die voorkoms van die omgekeerde genitief in die Nuwe Testament skryf Wallace (1996:89, voetnoot 50): "Here is another area of syntax that could profitably be exploited, for there are surely scores of texts in which this idiom is both a viable and unrecognized option" (my kursivering). 'n Noukeurige lees van die Nuwe Testament het my inderdaad by heelwat meer gevalle hiervan gebring as wat gewoonlik, met uitsondering van enkele bekende teksverse, in vertalings raakgesien word, en 'n afsonderlike artikel hieroor sou in belang van Bybelvertaling nuttig kon wees.

Hier onder volg vier voorbeelde waaruit blyk hoe 'n noukeuriger fokus op die aard van die genitief 'n meer vloeibare of idiomatiese weergawe in Afrikaans kan bewerkstellig.

Seker een van die bekendste voorbeelde is te vinde in Rom 6:4 (vgl. ook Rom 7:6).

ούτως καί ημέΐς έν καίνότητί Ζωης πέρίπατησωμέν

"(sodat) ... ook ons so in 'n nuutheid van lewe kan wandel" = "(sodat)... ook ons so 'n nuwe lewe kan lei".

Ander interessante voorbeelde is:

Fil 1:22: έί δέ το Ζην έν σαρκί, τούτο μοί καρπος έργού ...

"Maar as ek in die vlees bly leef, beteken dit vir my (die) vrug van arbeid".

As omgekeerde genitief geïnterpreteer, word dit: "maar as ek liggaamlik bly leef, beteken dit vir my vrugbare arbeid ...". So ook NET: ". this will mean productive work for me ..." (Ek kursiveer). Die NT&P het die konstruksie ook goed weergegee: ". beteken dit dat ek nog verder vrugbaar kan werk" met καρπος as bywoord ingespan in plaas van adjektief.

Rom 4:19:

καί μή ασθένήσας τή πίστέί κατένοήσέν ... καί τήν νέκρωσίν τής μήτρας Σαρρας

"[En] omdat hy nie swak in die geloof was nie, het hy rekening gehou ... ook met die doodsheid van Sara se moederskoot."

Sommige Engelse vertalings vertaal die naamwoord νέκρωσίς direk met "deadness" (NET en REB), of skakel dit om na die adjektief "dead" (NRSV, NIV) en "dood" (NT&P), terwyl ander dit figuurlik weergee met "barrenness" (ESV). In ooreenstemming met laasgenoemde kan dit met toepassing van die omgekeerde genitief omskep word tot 'n adjektief en soos volg weergegee word:

"en omdat hy nie swak in die geloof was nie, het hy rekening gehou . ook met die onvrugbare moederskoot van Sara".

Rom 1:25 (moontlik):

οίτίνές μέτήλλαξαν τήν αλήθέίαν του θέου έν τω ψέυδέί ...

Die sin word gewoonlik vertaal as: "Hulle wat die waarheid van God vir die leuen verruil het...".

Dis egter goed moontlik dat mens dit ook as omgekeerde genitief kan interpreteer: "Hulle wat die ware God vir die leuen verruil het ...".

Vergelyk in hierdie verband die volgende:

a. 1 Thes 1:9: ... δουλέυέίν θέω Ζωντί καί αλήθίνω: "... om die lewende en ware God te dien...".

b. Joh 3:33: ... έσφραγίσέν οτί ο θέος αλήθής έστίν: "hy ... het plegtig bevestig dat God waar/waaragtig is".

c. Rom 3:3, waar dieselfde kontras (waar/leuenagtig) as in Rom 1:25 voorkom: γίνέσθω δέ θέος αλήθής, πας δέ ανθρωπος ψέυστής: "maar laat God waaragtig wees, en elke mens leuenagtig". Mens sou derhalwe (in looreenstemming met die voorkoms van die omgekeerde genitief) kon redeneer dat die gebruik van αλήθέία (waarheid) in Rom 1:25 dieselfde byvoeglike waarde sou hê as αλήθίνος (waar/waaragtig) in 1 Thes 1:9 en αλήθής (waar) in Joh 3:33 en in Rom 3:3. Wallace (1996:90) beskou dit ook as moontlikheid: "It is likely that "truth of God" = "true God". Die konteks van Rom 3:3 (Paulus se aanval teen die sonde van afgodery) pleit nogal daarvoor.

Twee ander moontlikhede vir hierdie genitief doen hulle egter ook voor, wat vir die leser 'n aanduiding is van die verskillende keuses waarvoor die vertaler(s) dikwels te staan kom:

a. 'n Genitief van oorsprong: "Die waarheid wat sy oorsprong in God het" (= wat van God af kom), soos dit wel die geval in Rom 10:3 is:

αγνουντές γαρ τήν του θέου δίκαίοσυνήν ...

"Omdat hulle die geregtigheid wat van God af kom, nie begryp nie ..." (NT & P).

b. Enkele Engelse vertalings (ESV, NIV, NRSV) en die NBV vertaal die frase as "the truth about God" ("de waarheid over God"), wat 'n objektiewe genitief impliseer.

2. Matt 14:15 = Mark 6:35 en die deiktiese/aanwysende funksie van die lidwoord

Die lidwoord het soms 'n aanwysende funksie, en die vertaler(s) moet die bepaalde konteks as hulpmiddel gebruik om die fyner nuanse van die lidwoord in sodanige gevalle uit te lig.

Een geval wat dit goed illustreer, maar wat soms bloot oppervlakkig gelees word, is Matt 14:15 (= Mark 6:35): έρημος έστιν ο τοπος. Uit die konteks blyk die besorgdheid van die dissipels oor die laat uur en afstand van die naaste dorpies vir die skare wat Jesus gevolg het, en dat Jesus, volgens die dissipels, die skare dus moet wegstuur sodat hulle vir hulleself kos kan gaan koop. Die plek waar hulle hulle bevind, is immers verlate en afgeleë. Deur die deiktiese funksie van die lidwoord hier raak te sien, bring die vertaler by 'n meer genuanseerde weergawe uit: "Maar toe dit laat geword het, het die/sy dissipels Hom genader met die woorde: 'Hierdie/Dié plek is (immers) verlate'" (só in die NLV, NRSV, NET, CEB, NIV, ESV, NJB, CSB) - in plaas van net bloot: "Die plek is verlate" (1933/1953, Darby 1991, Schlachter 2000, Herder). Die 1983-vertaling en NBV se weergawe "Dit is 'n afgeleë plek..." / "Dit is een afgelegen plaats" is nie heeltemal in die kol nie, maar is beter as die blote "Die plek is afgeleë."

In die geval van Mark 6:35 het ook die Latynse vertaling (Nova Vulgata) dit raakgevat: "Desertus est locus hic ." (my kursivering).

3. Luk 15:22 en die verhouding van die attributiewe adjektief tot die naamwoord

In Grieks kan die attributiewe adjektief die volgende posisies inneem:

"Die goeie slaaf': (a) ο αγαθος δούλος; (b) ο δούλος ο αγαθος; (c) δούλος ο αγαθος en "'n goeie slaaf': αγαθος δούλος.

Die vertaling van (a), (b) en (d) lewer nie probleme op nie. In die geval van (c) stuit mens in Luk 15:22 op vertalings wat nie as sodanig verkeerd is nie, en daarom nie werklik 'n probleem inhou nie, maar wat nogtans ontbreek aan noukeurigheid en die fyner nuanse van die Grieks mis. Dit gaan hier om die verhaal van die verlore seun wat deur sy vader te midde van groot vreugde terugontvang word. Aan die begin van hierdie toneel gee die vader die volgende opdrag aan sy diensknegte: ταχύ έξένέγκατέ στολην την πρώτην και ένδύσατέ αύτον Hier is enkele belangrike vertalings se weergawes van Luk 15:22b:

NIV = Quick! Bring the best robe and put it on him

NBV = Haal vlug het mooiste gewaad en trek het hem aan

ESV = Bring quickly the best robe, and put it on him

NET = Hurry, bring the best robe, and put it on him

1933/53 = Bring die beste kleed en trek hom dit aan

NLV = Gou, bring die mooiste mantel in die huis, en trek dit vir hom aan

CSB = Quick! Bring out the best robe and put it on him

Hoekom mis hierdie vertalings die fynere nuanse van hierdie versgedeelte? Die antwoord lê opgesluit in die verontagsaming van die bepaalde posisie van die adjektief en die gevoelswaarde daarvan, én dié van die toneel, naamlik 'n feesmaal wat in die vooruitsig gestel word om dié heuglike geleentheid te vier. Die vader spreek gevolglik sy diensknegte aan: "Gou - bring 'n kleed - nee, wag 'n bietjie - nie enige kleed nie - net die beste een is goed genoeg vir hierdie seun van my wat verlore was en nou weer tuisgekom het!"

Dit is dus verblydend om wel enkele vertalings te vind wat die ware betekenis van hierdie derde posisie van die adjektief raakgesien het (vgl. ook Wallace 1996:307):

1983 = Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan

NRSV = Quickly, bring out a robe - the best one - and put it on him

Luk 15:22 behoort dus so vertaal te word om die werklike gevoelswaarde van die konteks na vore te bring: "Gou! Bring 'n kleed uit - ja, die beste een, en trek dít vir hom aan!"

4. Gal 4:17b-c en die metafoor van die "uitgeslote minnaar"

Daar lê 'n interessante metafoor opgesluit in Gal. 4:17, wat na my wete deur geen Bybelvertaling wat ek kon raadpleeg, eksplisiet in hulle vertalings na vore gebring word nie, behalwe indirek deur die CEB. Dit kan moontlik wees omdat die metafoor net nie raakgesien is nie, of dat die vertaling daarvan lastig kan wees. Die versgedeelte lui:

αλλα έκκλέΐσαι υμας θέλουσιν (17b), ίνα αυτους Ζηλουτέ (17c)

"Maar hulle (die agitators) wil julle (die Galasiërs) uitsluit, sodat julle agter hulle kan aanhardloop" (direk "julle julle vir hulle kan beywer").

Die werkwoord έκκλέίω word weergegee deur "shut out" (ESV, CEB), "exclude" (NET, NRSV, Darby 1991, LBLA), "isolate" (CSB) of "alienate" (NIV), maar "exclude"/uitsluit pas die beste in by die besondere metafoor. Wat nou belangrik is, is dat die CEB 17c vertaal asof die vertalers die metafoor beslis raakgesien het: "...so that you would run after them". In ooreenstemming hiermee het ek hierbo Ζηλουτέ ook vertaal met "agterna hardloop".

Die metafoor opgesluit in έκκλέίω, soos breedvoerig gebruik deur Aristophanes (Ecclesiazusae 938-975; vgl. Smith [1996] vir meerdere voorbeelde), verwys na die motief in die klassieke en Hellenistiese literatuur van die "uitgeslote minnaar": Bedrieg en gemani-puleer deur die attensie van 'n onopregte minnaar, bevind die "uitgeslote minnaar" homself skielik afgesê; hy kom dan aangehardloop en staan buite die geslote (buite)deur, waar hy treur oor die bedrog, en by die minnaar daarbinne pleit om ingelaat te word. So, sê Paulus, word die Galasiërs nou deur die agitators die hof gemaak, maar hulle motiewe is in werklikheid onopreg. Paulus vestig deur middel van hierdie motief/metafoor vermanend die aandag van die Galasiërs op die manipulasie van die agitators, dat hulle naamlik besny moet word om "ware" Christene te kan wees.

Dis seker so dat die vertaler(s) nie altyd die dieper nuanse van 'n Griekse woord of konstruksie ten volle kan verwoord nie, maar ten minste het die CEB in hierdie geval 'n dapper poging aangewend om Ζηλουτέ binne die raamwerk van hierdie metafoor te vertaal.

5. Heb 1:2 en die afwesigheid van die lidwoord

Wanneer 'n selfstandige naamwoord sonder lidwoord voorkom, het dit een van drie valensies: onbepaald, kwalitatief of bepaald. Met 'n kwalitatiewe naamwoord word die kwaliteit of essensie daarvan benadruk. In Heb 1:2 (vgl. 1:5; 3:6; 5:8) het ons 'n interessante voorbeeld van 'n lidwoordlose naamwoord met 'n kwalitatiewe valensie: έπ ' έσχατου των ημέρων τουτων έλαλησέν ημΐν έν υίω: "... in die laaste tye het Hy met ons in/deur 'n Seun gepraat". Vertalings wissel tussen "sy Seun" ("his Son") en "die Seun" ("the Son"), maar in werklikheid behoort die vertaler(s) die onbepaaldheid ('n Seun) te behou, soos Wallace (1996:245) opmerk:

The point is that God, in his final revelation, has spoken to us in one who has the characteristics of a son. His credentials are vastly different from the credentials of the prophets (or from the angels, as the following context indicates).

En Isaacs (2002 sub versu) merk op: "The use of houios [son] here without the article ... points to his unique status, not that he is merely one among many." Mens besef dat sowel "in 'n Seun" as "in a Son" dalk vreemd op die oor val, maar die minste wat gedoen moet word, indien mens "die" of "sy" verkies, is om 'n voetnoot hieroor te plaas.

6. Ef 3:8 en die ongewone vorming van die oortreffende trap van vergelyking

Ten slotte vind ons in Ef 3:8 'n eenmalige voorkoms in die Nuwe Testament van 'n ongewone vorming van die oortreffende trap van die adjektief μίκρος (klein/gering - vgl. Wallace 1996: 302), wat deur die bekendste vertalings raakgesien en so verwoord is, maar tog deur ander geïgnoreer is. Die versgedeelte lui:

' Εμοί τω έλαχίστοτέρω πάντων άγίων έδοθη η χάρίς αύτη

"Vir my, die meer as geringste van al die heiliges, is hierdie genade geskenk .".

Vertalings wat opgemerk het dat die uitgang van die vergelykende trap gevoeg is by die oortreffende trap, is onder andere NET/NIV/REB ("less than the least"), ESV/NRSV/IV ("the very least"), Darby ("moins que le moindre"), LBLA ("menos que el más pequeno"), die NBV ("de allerminste van") en die Herder-Bibel ("dem Allergeringsten unter"). Van die Afrikaanse vertalings het die NLV dit reg, "die heel onbelangrikste", maar sowel die 1933/53 ("die geringste van"), die 1983-vertaling ("die geringste van"), en die proefvertaling NT&P ("die geringste van" - maar in die 2020-vertaling gekorrigeer tot "minder as die geringste") mis dié ongewone vorm. Van die vertalings in ander tale wat dit ook geïgnoreer het, tel byvoorbeeld die CEB ("the least of"), Die Gute Nachricht Bibel ("dem Geringsten von") en die NLT ("the least deserving").

Interessant genoeg het sommige eksegete (vgl. Wallace 1996:302) gemeen dat dit dui op die outensiteit van Efesiërs (as 'n Pauliniese brief), aangesien 'n nie-Pauliniese skrywer dit nouliks van Paulus sou sê as Paulus homself in 1 Kor 15:9 bloot "die geringste" van die apostels noem (ο έλάχίστος). Dié saak val egter buite die skopus van hierdie artikel.

 

SLOTOPMERKING

Die voorafgaande bespreking van enkele vertaalprobleme wat die Nuwe Testament oplewer, ingedeel in drie katogorieë, het ten doel gehad om die belangrikheid van die grammatikale aspek van die ontsluitingsproses van die Bybelteks uit te lig. Vanselfsprekend kom ook ander aspekte, soos nou reeds al vermeld, in aanmerking, en soms kan die blote grammatikale konstruksie nie 'n finale oplossing bied nie; die vertaler(s) se primêre taak is egter steeds die verantwoordelike en kundige omgaan met die brontaal. In hierdie verband sal Martin Luther se uitspraak dat Hebreeus en Grieks die sleutels is waarmee die Bybelteks ontsluit word, in 'n tyd waarin al hoe meer Bybelvertalings die lig sien, nog meer as ooit te vore van krag bly.

 

BIBLIOGRAFIE EN BYBELVERTALINGS

Literatuurverwysings

Attridge, H.W.E. 1989. The Epistle to the Hebrews: A Commentary on the Epistle to the Hebrews. Philadelphia: Fortress Press.         [ Links ]

BAGD, sien Bauer, A & Gingrich, D. 1958.

BDF, sien Blass, F. & Debrunner, A, revised by Funk, R.W. 1961.

BDReh, sien Blass, F. & Debrunner, A., bearbeitet von Rehkopf, F. 1979.

Barth, M. 1969. "The Faith of the Messiah," Heythrop Journal, 10:363-30.         [ Links ]

Bauer, A. & Gingrich, D. 1958. A Greek-English Lexicon of the New Testament. Chicago: Chicago Press.         [ Links ]

Blass, F & Debrunner, A, revision by Funk, R.W. 1961. A Greek Grammar of the New Testament and Other Early Christian Literature. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Blass, F. & Debrunner, A., bearbeitet von Rehkopf, F. 1979. Grammatik des neutestamentlichen Griechisch. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht (=BDReh).         [ Links ]

Bruce, F.F. 1965. The Epistle to the Hebrews. NLC. London: Marshall, Morgan & Scott.         [ Links ]

Bruce, F.F. 1968. The Acts of the Apostles. The Greek Text with Introduction and Commentary. London: Tyndale Press.         [ Links ]

Burton, E. de Witt. 1966. Third Edition reprint. Syntax of the Moods and Tenses in New Testament Greek. Edinburgh: T & T Clark.         [ Links ]

Cousar, C.B. 2001. Reading Galatians, Philippians and 1 Thessalonians. A Literary and Theological Commentary, in: Reading the New Testament (edited by Ch Talbert). Macon, Georgia: Smyth & Helwys Publishing.         [ Links ]

Danker, F.W. 2009: Concise Greek-English Dictionary of the New Testament. Chicago: University of Chicago Press.         [ Links ]

Du Toit, A.B. 2002. Hebreërs vir Vandag. 'n Bybelstudie vir Dieper Delwers. Vereniging: CUM Uitgewers.         [ Links ]

Dixon, P.S. 1975. The Significance of the Anarthrous Predicate Nominative in John. Dallas: Dallas Theological Seminary.         [ Links ]

Ellingworth, P. 1993: The Epistle to the Hebrews. Grand Rapids: Eerdmans/Carlisle: Paternoster.         [ Links ]

Harner, P.B. 1973. Qualitative Anarthrous Predicate Nouns: Mark 15:39 and John 1:1. JBL 92:75-87.         [ Links ]

Hays, R.B. 1983. The Faith of Jesus Christ: An Investigation of the Narrative Substructure of Galatians 3:1-4:11. Chico CA: Scholars.         [ Links ]

Hays, R.B. 1991. "Pistis and Paul's Christology: What is at stake?" SBL Seminar Papers. Atlanta: Scholars Press, pp. 714-729.         [ Links ]

Hedges, D. 1983. Apollonius'Canon and Anarthrous Constructions in Pauline Literature: An Hypothesis. Grace Theological Seminary.         [ Links ]

Isaacs, M.E. 2002. Reading Hebrews and James, in: Reading the New Testament (edited by Ch Talbert). Georgia: Smyth & Helwys Publishing.         [ Links ]

Johnson, L.T. 1982. "Romans 3:21-26 and the Faith of Jesus", CBQ 44:77-90.         [ Links ]

Johnson, L.T. 2001. Reading Romans. A Literary and Theological Commentary. In Reading the New Testament (edited by Ch Talbert). Georgia: Smyth & Helwys Publishing.         [ Links ]

Lane, S. 1991. Hebrews. Vols. 1-2. WBC. Dallas: Word Books.         [ Links ]

Moeller, R. & Kramer, A. 1963. An Overlooked Structural Pattern in New Testament (Greek). NovT 5:25-35.         [ Links ]

Reed, T. 1991.The Infinitive with Two Substantival Accusatives: An Ambiguous Construction?". NovT 33:1-27.         [ Links ]

Roberts, J.H. 1983. Die Brief aan die Efesiërs. NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

Smith, C.C. 1996. Ekkleisai in Gal 4:17: The Motif of the Excluded Lover as a Metaphor of Manipulation, CBQ, 58:484-492.         [ Links ]

Smith, J. 2000. "1 Thess 4:4 - Breaking the Impasse" BBR 10, aangehaal deur NET in voetnoot op 1 Thes. 4:4.         [ Links ]

Thurston, B. 1994. Reading Colossians, Ephesians and 2 Thessalonians. A Literary and Theological Commentary. In Reading the New Testament (edited by Ch Talbert). Georgia: Smyth & Helwys Publishing.         [ Links ]

Vanhoye, A. 1964. "L'oikoumene dans l' 'Epïtre aux Hébreux", Bib 45:248-253.         [ Links ]

Wallace, D.B. 1996. Greek Grammar Beyond the Basics. Michigan:Zondervan.         [ Links ]

Williams, S.K. 1987. Again Pistis Christou. CBQ 48:431-447.         [ Links ]

Williams, S.K. 1989. The Hearing of faith: ακοή-πίστέως in Galatians 3, NTS 35:82-93.         [ Links ]

Wiliiams, S.K. 1997. Galatians. ANTC. Nashville: Abingdon.         [ Links ]

Zerwick, M. 2005. Biblical Greek, adapted from the Latin edition by J Smith S.J. Rome: Editrice Pontificio Istituto.         [ Links ]

Bybelvertalings

CEB: Common English Bible, Abingdon.

CSB: The Holy Bible: Christian Standard Bible, Nashville, Tennessee.

Darby 1991: La Bible Darby 1991.

Die 1933/53-vertaling: Die Bybel, Bybelgenootskap van SA

Die 1983-vertaling: Die Bybel, Nuwe Vertaling, Bybelgenootskap van SA

Die 2020-vertaling. Die Bybel. Bybelgenootskap van SA

ESV: Holy Bible, English Standard Version.

GNB: Gute Nachricht Bibel, Deutsche Bibelgesellschaft Herder-Bibel, Verlag Herder.

ISV: International Standard Version: NT plus Psalms and Proverbs

KJV: The King James Version

LBLA: La Biblia de las Américas, Lockman

NASB: New American Standard Bible

NA27: Nestle-Aland Novum Testamentum Graece, 27ste edisie

NBV: De Nieuwe Bijbelvertaling, Haarlem

NEB: The New English Bible: New Testament, Oxford/Cambridge University Press

NET: New English Translation with Full Notes, Bible.org

NKJV: The New King James Version

NIV: New International Version, in: The English-Greek New Testament, ed JR Kohlenberger, Zondervan

NLV: Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling, CUM

NRSV: The New Revised Standard Version

NT&P: Nuwe Testament en Psalms: 'n Direkte Vertaling, Bybelgenootskap van SA

NJB: New Jerusalem Bible: Darton, Longman T & Todd

REB: The Revised English Bible, Oxford/Cambridge University Press Schlachter 2000: Geneva Bible Society

TEV: Today's English Version, American Bible Society.

 

 

Ontvang: 2020-01-15
Goedgekeur: 2020-07-14
Gepubliseer: Desember 2020

 

 

 

Jan Barkhuizen behaal agtereenvolgens die grade BA, BA Hons. (Grieks) en BD aan UP. Vanaf 1962-1964 is hy deeltydse lektor aan UP in die dept. Grieks, en in 1965 word hy aangestel as deeltydse dosent in Bybelkunde aan die Universiteit van Suid-Afrika. In 1966 word hy permanent aangestel as lektor in Grieks en Antieke Kultuur aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, waar hy ook die MA-graad in klassieke liriese digkuns behaal. Tussen 1970-1971 studeer hy aan die Rijksuniversiteit Utrecht (Nederland) in Griekse liriek en tragedie, en word met sy terugkeer in Suid-Afrika bevorder tot senior lektor. In 1973 word hy aangestel as senior lektor aan die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1976 die graad DLitt in Griekse liriek behaal. In 1980 word hy bevorder tot medeprofessor en in 1990 tot professor. Van 1993 tot 2000 dien hy as vakhoof vir Grieks in die departement Antieke Studies. Ná sy amptelike aftrede in 2000 word 'n verdere kontrak hom aangebied en sedert 2003 is hy emeritus navorsingsprofessor. In 1999 ontvang hy die Medalje vir Akademiese Voortref-likheid (UP) en in 2016 die HCM Fourie-erepenning vir akademiese en kerklike diens-werk. Hy het verskeie akademiese voordragte gelewer tydens vakkongresse in Suid-Afrika, Nederland, Oostenryk en Engeland. Hy was lid van die Klassieke Vereniging van Suid-Afrika, die Patristiese en Bisantynse Vereniging van Suid-Afrika en die Internasionale Patristiese Vereniging. Hy het ook gedien as subredakteur van die tydskrif Acta Patristica et Byzantina en in die Redaksionele Raad van die tydskrif Ekklesiastikus Pharos. Sy wetenskaplike publi-kasies handel oor Klassieke, Hellenistiese en Patristiese studies.
Jan Barkhuizen obtained the following degrees at the University of Pretoria: BA, BA Hons (Greek) and BD. From 1962 to 1964 he was part-time lecturer in the department of Greek at UP, and in 1965 he was appointed as part-time lecturer in Biblical Studies at UNISA. In 1966 he became a lecturer in Greek and Ancient Culture at the University of the Free State, where he obtained an MA in Greek poetry. During the academic year of 1970-1971 he studied at the Rijks University of Utrecht, and on his return to South Africa was promoted to senior lecturer. In 1973 he was appointed as senior lecturer at the University of Pretoria and obtained his DLitt in 1976 (Greek poetry). In 1980 he was promoted to assistant professor and in 1990 to full professor. He retired in 2000 but was re-appointed for another term of three years, and since 2003 he has held the position of research professor emeritus in the department of Ancient Studies at UP. He has read several papers at conferences in South Africa, the Netherlands, Austria and Oxford; in addition, he was a member of the following national and international associations: the Classical Association of South Africa, the Patristic Association of South Africa and the International Patristic Society (Oxford). His academic articles focus on Classical, Hellenistic, Patristic and New Testament studies. In 1999 he received the medal for academic excellence at UP, and in 2013 the HCM Fourie medal (Reformed Church of Africa) for academic excellence and ecclesiastical service.
1 Kyk die lys van Vertalings van die Bybel (Afrikaans, Nederlands, Engels en Duits) aan die einde van die teks, ná die bibliografie, vir 'n verklaring van die afkortings wat deurgaans in die artikel gebruik word.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons