SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 número4-1Another translation of the Bible in Afrikaans: What makes it different?The Old Testament in the 2020 Afrikaans translation: Some contentious issues índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.60 no.4-1 Pretoria Dez. 2020

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n4-1a4 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die Hebreeuse grondteks en die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans

 

The Hebrew base text and the 2020 translation of the Bible in Afrikaans

 

 

Herrie van Rooy

Skool vir Antieke Tale, Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: Herrie.vanrooy@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Wanneer daar besluit word om 'n nuwe vertaling van die Bybel te maak, moet 'n aantal belangrike besluite geneem word. Dit sluit kwessies in soos watter teks vertaal sal word en op watter manier die vertaling sal plaasvind. Wat die Ou Testament betref, is daar besluit om die Masoretiese Teks as basisteks te neem. Verder is daar op die Biblia Hebraica Stuttgartensia (BHS) as die grondteks besluit. Hierdie bydrae fokus op die tekskritiese wyse waarop die vertalers probleme in die teks hanteer het, maar om 'n insig te gee in die oorweging van watter tekskritiese strategie gevolg moet word, word vooraf aandag gegee aan die verskillende benaderings tot die hantering van die bronteks in die proses van Bybelvertaling. Die geskiedenis en aard van die Masoretiese Teks en sy uitgawes word bespreek, en die tekskritiese aantekeninge in drie belangrike uitgawes van die Masoretiese Teks word deurgaans in ag geneem. Hoewel die vertalers nie spesifieke riglyne vir die hantering van tekskritiese probleme op skrif gestel het nie, het die redaksie van die Ou Testament van die 2020-vertaling sekere basiese uitgangspunte gebruik om probleemgevalle te hanteer. Hierdie uitgangspunte word kortliks uiteengesit, waarna enkele voorbeelde bespreek word. Die benadering tot die Masoretiese Teks was konserwatief in die sin dat, sover moontlik, die teks van die Hebreeuse Bybel in die vertaling gevolg is. Soms is daar in problematiese gevalle daarvan afgewyk, maar dit het slegs ná deeglike oorweging geskied. Samevattend kan gesê word dat die 2020-vertaling die Masoretiese Teks so getrou moontlik volg, in sommige gevalle daarvan afgewyk het en sulke afwykings goed gemotiveer het.

Trefwoorde: Bybelvertaling, Masoretiese Teks, tekskritiese probleme, 2020-Afrikaanse vertaling van die Bybel, 1933/53-vertaling, 1983-vertaling, Biblia Hebraica Stuttgartensia, diplomatiese uitgawes, eklektiese uitgawes, bronteksgeoriënteerde vertaling


ABSTRACT

In planning to create a new translation of the Bible in any language, a number of important decisions have to be made. These include issues like choosing the text to be translated and the translation strategy that will be followed. These questions received attention when the Bible Society of South Africa decided to undertake a new Afrikaans translation of the Bible. This translation, the 2020 translation of the Bible in Afrikaans, is the third Afrikaans translation undertaken by the Bible Society, following the 1933/53 translation and the 1983 translation. As it was decided to make a source text-orientated translation, selecting a base text was decisive for the translation process. As regards the Old Testament, it was decided to use the Masoretic Text as base text, and the Biblia Hebraica Stuttgartensia (BHS) as the source text. This article focusses on the decision regarding the treatment of text-critical issues in the Masoretic Text.
The history and character of the Masoretic Text and its different editions are discussed and the text-critical apparatus of these editions receive special attention. The BHS is a diplomatic edition, which has to be distinguished from an eclectic edition. In an eclectic edition, the editors will make a choice between possible variants in every instance of a text-critical problem. The option chosen is then published. In a footnote, the choice and possible alternatives will be discussed. In a diplomatic edition, the editors decide which text or manuscript is best for the edition. This text is then published. A footnote will indicate other readings and, in some instances, the preferred reading of the editors. In the case of the BHS, the Codex Leningradensis was taken as the source text to be published. This is the source text of the 2020 translation. In scientific commentaries and modern translations of the Old Testament text-critical choices are often made, with the translations based on an eclectically reconstructed text of the Old Testament.
The translators of the Old Testament, and especially the editorial committee for the Old Testament, did not formulate specific guidelines for dealing with text-critical issues, but the editorial committee followed certain basic points of departure. These points of departure of the editorial committee are briefly discussed, as well as three important editions of the Hebrew Bible, the BHS, the Biblia Hebraica of Kittel (BHK) and a new edition that has not yet been completed, the Biblia Hebraica Quinta (BHQ). This is followed by a discussion of a number of examples from the Old Testament, namely Deuteronomy 5:10, 33:2 and Hosea 6:5. The approach to the Masoretic Text can be described as conservative. In instances where the Masoretic Text has a reading without any problems, that reading is followed, even when the ancient translations or manuscripts from the Dead Sea have plausible variants. When, however, the Masoretic Text was found to be problematic, variants were considered and followed in the translation, but only when absolutely necessary. In such instances, footnotes indicating which witnesses had been followed were added and, where possible, what the translation of the reading of the Masoretic Text could be. Such translations will clarify why the deviation was necessary. The 2020 Afrikaans translation of the Bible follows the Masoretic Text where possible, deviates from it where necessary and explains deviations from the Masoretic Text in footnotes.

Keywords: Bible translation, Masoretic Text, text-critical problems, 2020 Afrikaans translation of the Bible, 1933/53 translation, 1983 translation, Biblia Hebraica Stuttgartensia, diplomatic editions, eclectic editions, source text-oriented translation


 

 

INLEIDING

Wanneer daar beplan word om 'n nuwe vertaling van die Bybel te maak, moet daar oor 'n aantal belangrike sake besluit word. Dit sluit kwessies in soos watter teks vertaal sal word en op watter manier die vertaling gemaak sal word. Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het besluit om 'n nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel te maak (die 2020-vertaling), en wel 'n bronteksgeoriënteerde vertaling. Wat die Ou Testament betref, is daar besluit om die Masoretiese Teks as die basisteks en die Biblia Hebraica Stuttgartensia (voortaan BHS)1 as die grondteks te kies.2 Hierdie bydrae fokus in die besonder op die BHS as die uitgawe waarop die vertalers as grondteks vir die vertaling van die Ou Testament besluit het en op die tekskritiese wyse waarop hulle probleme in die Hebreeuse teks hanteer het. Die tekskritiese aantekeninge in die BHS, asook in ander uitgawes van die Masoretiese Teks, word beskryf en beoordeel. In 'n oorsig oor en beoordeling van die geskiedenis van die Masoretiese Teks en sy uitgawes sal daar probeer word om aan te dui waarom hierdie Hebreeuse Bybel as die bronteks vir die 2020-vertaling gekies is.

Die eiesoortige probleme wat die Masoretiese Teks vir vertalers meebring, lei tot verskillende benaderings tot die grondteks wat vir vertaling gekies is. Hiervoor is die bespreking van verskillende tekskritiese benaderings tot die teks van belang. Hieraan word aandag gegee ná die bespreking van die Masoretiese Teks as die bronteks vir die 2020-vertaling van die Ou Testament.

Die vertalers het geen spesifieke riglyne vir die hantering van tekskritiese probleme op skrif gestel nie, maar die redaksie van die Ou Testament van die 2020-vertaling het sekere uitgangspunte gevolg by die hantering van probleemgevalle. Hierdie uitgangspunte sal kortliks uiteengesit en enkele voorbeelde bespreek word. Daar sal deurgaans aandag gegee word aan die tekskritiese aantekeninge van drie belangrike uitgawes van die Hebreeuse Bybel.

 

DIE MASORETIESE TEKS EN DIE 2020-VERTALING

Toe die Bybelgenootskap van Suid-Afrika besluit het om 'n nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel te maak, is ook besluit dat die Masoretiese Teks as basiese teks vir die vertaling gebruik gaan word, met die BHS as die grondteks. Eenvoudig gestel, is die Masoretiese Teks die Hebreeuse teks van die Ou Testament, maar dit is 'n oorvereenvoudiging van wat die Masoretiese Teks presies is.

Geskiedenis van die Masoretiese Teks

Die Hebreeuse teks van die Ou Testament het 'n lang en ingewikkelde geskiedenis, en die Masoretiese Teks is 'n enkele, alhoewel 'n baie belangrike, moment in die lang geskiedenis. Barthélemy (2012:233) stel dat daar vir die meeste boeke van die Ou Testament vier fases in die geskiedenis van die Hebreeuse teks onderskei kan word:

1. die fase van die oorsprong van die teks tot die eerste uitgawe as die Heilige Skrif;

2. die fase van die eerste uitgawe tot die stabilisering van die konsonantiese teks;

3. die fase van die stabilisering van die teks tot die Masoretiese Teks; en

4. die verdere lewe van die Masoretiese Teks.

Tov (2012:25) wys daarop dat die Masoretiese Teks self vyf elemente bevat:

1. die konsonantiese raamwerk, waarvan die proto-MasoretieseTekste van die woestyn van Judea getuie is;

2. vokalisasie;

3. paratekstuele elemente;

4. aksente; en

5. Masoretiese aantekeninge.

Barthélemy (2012:272-273) vra in die lig van die verskillende tradisies in die derde fase of 'n mens werklik van 'n Masoretiese Teks kan praat. Hy oordeel dat dit wel moontlik is, maar dan is dit baie nou verbonde aan die werk wat die Masorete deur die negende eeu en die begin van die tiende eeu in Tiberias gedoen het. Wanneer 'n mens na die Masoretiese Teks verwys, moet die verskillende elemente in gedagte gehou word.

Wat Barthélemy se eerste twee fases betref, het die ontdekking van die rolle by Qumran en omgewing 'n groot verandering in standpunte teweeggebring. Voor die ontdekking van die rolle was geleerdes veral aangewys op verskille tussen drie verskillende weergawes van die Ou Testament wat in verskillende kringe oorgelewer is, naamlik die Hebreeuse Bybel, soos wat dit deur die Jode oorgelewer is, die Samaritaanse Pentateug, wat deur die Samaritane oorgelewer is, en die Griekse Ou Testament, die Septuagint, wat deur Jode vertaal is, maar deur die kerk oorgelewer is. Vóór die ontdekking van die rolle was die twee oorheersende standpunte dié van Kahle en De Lagarde, soos beskryf deur Mulder (1988:99-101) en Tov (2012:171-173). De Lagarde het uitgegaan van die standpunt van 'n oorspronklike teks ('n Urtext) aan die begin van die proses van oorlewering. Kahle se uitgangspunt was 'n verskeidenheid van tekste aan die begin wat nader na mekaar toe ontwikkel het.

Ná die ontdekking van die rolle het Cross sy lokaleteksteorie ontwerp, wat deur Mulder (1988:101-102) en Tov (2012:173-174) bespreek word. Die teorie het tussen Palestynse, Egiptiese en Babiloniese vorme onderskei. Die Palestynse groep word verteenwoordig deur die Samaritaanse Pentateug en sommige manuskripte van Qumran, die Egiptiese vorm deur die Septuagint, en die Babiloniese groep deur die Masoretiese Teks. Tov aanvaar hierdie groepe in 'n sekere mate, maar nie die idee van die lokaliteit van die groepe nie. Hy voeg egter 'n vierde groep by, naamlik tekste wat nie direk aan enige van hierdie groepe verwant is nie (Tov 2012:107-110).

Tov (2012:174-180) meen ook dat die Masoretiese groep relatief stabiel was, sodat hy nie die idee van die standaardisering van die Hebreeuse teks teen die einde van die eerste eeu van die huidige jaartelling aanvaar nie. Daar was verskeie teksvorme in omloop, maar die ander vorme het verdwyn ná die vernietiging van die tempel in 70 n.C. Hiermee stem Ulrich (2012:55-57) saam. Hy wil egter nie aanvaar dat hierdie teks die een was wat die priesters in Jerusalem gebruik het nie (idem :56). Dit is wel die mening van Van der Kooij (2012:31-37). Ook Würthwein en Fischer (2014:16-17) wil 'n belangrike rol toewys aan die priesters in die tempel in Jerusalem. Ná die verwoesting van die tempel het die rabbyne die funksie van die bewaring en verbetering van die teks oorgeneem. Lange (2016:112-166) bied 'n omvattende bespreking aan van die teksgetuies en ander getuies oor die Hebreeuse teks van die Ou Testament net voor en kort ná die begin van ons jaartelling. Hy oordeel dat die standaardisering van die konsonantiese teks teen die tweede helfte van die eerste eeu voor ons jaartelling begin het (idem:150-151). Hy oordeel ook dat die tempel in Jerusalem 'n beduidende rol in hierdie proses gespeel het (idem:151, 157, 158).

Crawford (2012:66) meen dat 'n mens versigtig moet wees om nie te veel waarde te heg aan die latere groepe wat tekste soos die Masoretiese Teks, die Samaritaanse Pentateug en die Septuagint oorgelewer het nie. Sy oordeel dat elke boek aan die einde van die redaksionele proses 'n vaste vorm aangeneem het, maar dat die inhoud nie so vas was nie. Sy wys ook op twee verskillende praktyke wat by die oorskrywers van die teks waargeneem kan word, die een presieser en die ander vryer. Die twee benaderings kon op alle boeke van die Ou Testament van toepassing gewees het. Die Pentateug vertoon 'n vaster vorm, terwyl Jeremia en Esegiël vryer oorgelewer is (idem:67).

In 'n onlangse bydrae wys Tov (2018:50) daarop dat 'n mens versigtig moet wees om die aard van die Masoretiese Teks as 'n eenheid te wil beskryf. Dit is beter om die aard of karakter van die verskillende boeke apart te beskryf. Elke boek in die Hebreeuse Bybel kan as 'n "foto" beskryf word van spesifieke tekstuele en skriftelike tradisies. Die verskillende boeke is die produk van verskillende groepe skrywers uit verskillende tye met verskillende gebruike (idem:51). Dit sluit sake in soos die verskil in die hantering van verskillende leesmoeders (idem:54), argaïese spelwyses, soos byvoorbeeld van die persoonlike voornaamwoord van die derde persoon manlik enkelvoud, wat in die Pentateug met 'nyod in die middel gespel word, pleks van die gebruiklike waw (idem:54-55), en die argaïese gebruik van 'n he vir die voornaamwoordelike suffiks van die derde persoon manlik enkelvoud, pleks van die latere waw (idem:55-56). In sy beoordeling van die geskiedenis van die Masoretiese Teks neig hy, in sy eie woorde, om met die teorie van De Lagarde saam te stem, naamlik dat die teks teruggaan na 'n enkele oorspronklike teks (idem :62).

Die Masoretiese Teks is dus die gevolg van 'n lang historiese verloop deur die fases en periodes soos wat hier bo aangedui is. Teen die einde van die tiende eeu het dit 'n vaste vorm begin toon. In hierdie verband het die Ben Asher-familie van Tiberias 'n besondere rol gespeel. Die belangrikste Masoretiese manuskripte word met hierdie familie verbind. Martín Contreras (2016:420-421) noem vier belangrike manuskripte uit die Middeleeue wat aan hierdie familie gekoppel word. Die Pentateug-kodeks van die Britse biblioteek bevat 'n groot deel van die Pentateug en dateer uit die eerste helfte van die negende eeu (Würthwein & Fischer 2014:42; Barthélemy 2012:240). Die Kaïro-kodeks van die profete bevat die vroeë en laat profete en dateer uit 895 (Würthwein & Fischer 2014:40; Barthélemy 2012:240). Die Aleppo-kodeks bevat tweederdes van die Ou Testament en dateer uit die begin van die negende eeu (Würthwein & Fischer 2014:40-41; Barthélemy 2012:239-240). Würthwein en Fischer gee 'n oorsig oor die geskiedenis van hierdie manuskrip. 'n Deel van die manuskrip is vernietig in 'n brand in die sinagoge in Aleppo in 1947. Die Leningrad-kodeks bevat die volledige Ou Testament en dateer uit 1008-1009 (Würthwein & Fischer 2014:41-42; Barthélemy 2012:239). Die Aleppo-en die Leningrad-kodeks is die belangrikste manuskripte en word albei as die basiese tekste van sekere moderne teksuitgawes gebruik. Hieroor word hier onder gehandel.

Wat die vyf elemente van die Masoretiese Teks wat hier bo genoem is, betref, is daar reeds na die konsonantiese raamwerk verwys. Die vokalisasie was deel van die werk van die Masorete. Die invoeging van die vokale het noodsaaklik geword omdat Hebreeus nie meer 'n lewende taal was nie. Die Masorete het hiermee teen die sewende of agste eeu begin (Würthwein & Fischer 2014:25). Drie sisteme het ontwikkel, naamlik die Palestynse, die Babiloniese en die Tiberiese sisteem. Die meer onlangse Tiberiese sisteem het die belangrikste geword, en is ook in gedrukte Ou Testamentiese tekste gevolg (Würthwein & Fischer 2014:25-26). Hier bo is daar reeds verwys na die rol van die Ben Asher-familie, wat ook die toon aangegee het vir die Tiberiese vokalisasie.

Tov (2012) bied 'n omvattende bespreking van die paratekstuele elemente in die Masoretiese Teks. 'n Belangrike saak is die verskeie verdelings wat in die teks aangebring is, soos paragrawe en verse (idem:48-50). Omdat die Masorete nie aan die konsonantiese teks wat hulle ontvang het, wou verander nie, het hulle gebruik gemaak van wat bekend staan as Ketib ("dit wat geskryf staan") en Qere ("dit wat gelees moet word"). In die gevalle waar hulle die teks graag wou verander, het hulle die vokale van die woord wat hulle graag wou lees, by die konsonante in die teks bygevoeg, terwyl hulle die konsonante van die woord wat hulle graag wou lees, in die kantlyn aangedui het (idem:54-59). 'n Voorbeeld hiervan word in Esegiël 1:8 aangetref. In die teks staan daar ודיֵ֯. Die kringetjie bo die dalet dui aan dat daar 'n kantlynaantekening is. Die konsonante wat in die teks staan, dui op die woord vir "hand", met die suffiks van die derde persoon enkelvoud "sy hand". Dit pas egter nie in die konteks nie. Die kantlyn bevat die konsonant wat gelees behoort te word en wat by die vokale pas: ידיו. Met die vokale wat in die teks staan, gee dit die meervoud "hande" in die constructus, wat dus saam met die volgende woord gelees word as "die hande van 'n mens". Wanneer die Ou Testament vertaal word, moet elk van hierdie gevalle ondersoek word om te bepaal of die vertalers die konsonantiese teks gaan vertaal of die voorstel van die Masorete gaan volg. In die 2020-vertaling word daar, waar dit nodig is, in voetnote aan hierdie saak aandag gegee.

Die aksentsisteem wat die Masorete ontwikkel het, het 'n drievoudige doel (Tov 2012:63; Würthwein & Fischer 2014:32). Dit dien as hulpmiddel by die voorlesing van die teks in die sinagoge, dui aan waar die klem op 'n woord val en dui die sintaktiese verhoudings tussen woorde aan. Laasgenoemde help om die logiese en semantiese verbande in 'n vers of sin te bepaal. Daar word onderskei tussen skeidende en verbindende aksente. Die skeidende aksente dui iets van die struktuur van 'n teks aan, terwyl die ver bindende aksente veral sintaktiese verhoudings aandui (Würthwein & Fischer 2014:32).

Die doel van die Masoretiese aantekeninge was om die sorgvuldige oorlewering van die teks te handhaaf en het in die besonder op die ortografié gefokus. Dit moes veral help om die eienaardige spelling van woorde te bewaar (Tov 2012:66; Würthwein & Fischer 2014:36). Drie stelle aantekeninge word onderskei, naamlik aantekeninge aan die kant van 'n bladsy (Masora marginalis, wat veral bekend is as Masora parva), onder of bo aan 'n bladsy (Masora magna) en aan die einde van 'n Bybelboek (Masora finalis). Die kantlynaantekeninge dui onder andere aan hoeveel keer 'n spesifieke woord met 'n sekere stel konsonante of vokale in die Ou Testament voorkom, Qere-vorme (waarna hier bo verwys is) en inligting soos die kortste vers of die middelste vers in 'n boek. Die Masora magna gee die detail van die Masora parva. As die Masora parva byvoorbeeld aandui dat 'n sekere woord in die betrokke vorm net vyf keer in die Ou Testament voorkom, dui die Masora magna die ander vier plekke aan. Die Masora finalis aan die einde van 'n boek gee inligting oor daardie boek, soos byvoorbeeld die aantal letters, woorde en verse.

Vir vertalers is die aantekeninge nuttig, veral wat die Qere-lesings betref, maar ook wanneer daar onsekerheid bestaan oor die korrekte spelling van 'n spesifieke woord. Elkeen van hierdie aantekeninge moet nietemin op sy eie meriete beoordeel word.

Uitgawes van die Masoretiese Teks

Mulder (1988:116-121, 123-126) bied 'n omvattende bespreking aan van die vroegste gedrukte weergawes van die Hebreeuse teks van die Ou Testament. Vir die Afrikaanse vertaling van die Ou Testament in 1933 is veral die tweede uitgawe van die Rabbynse Bybel, wat in 1524-1525 gepubliseer is, belangrik. Hierdie uitgawe het die Masoretiese aantekeninge bevat en was die bron vir latere uitgawes van die Hebreeuse Bybel tot by die tweede uitgawe van die Biblia Hebraica Kittel (Tov 2012:70-71, 351). Die Hebreeuse teks van die tweede Rabbynse Bybel, wat ook bekend staan as die Bombergbybel, het vir baie eeue die status van 'n textus receptus geniet. Dit het gebruik gemaak van tans onbekende laat manuskripte, wat volgens Tov (2012:72) na aan die teks van die kodeks van Aleppo en dié van Leningrad was.

Die 1933-vertaling het die tweede uitgawe van die Biblia Hebraica gebruik, en moontlik ook los dele wat sedert 1929 gepubliseer is. Die hersiening van 1953 sou die volledige derde uitgawe kon gebruik het. Die 1983-vertaling het die BHS gebruik. Die eerste twee uitgawes van die BHK het berus op die teks van die Bombergbybel. Hierdie twee uitgawes het aantekeninge in voetnote wat variante veral uit die vroeë vertalings (die Septuagint, Vulgaat, Pesjitta en Targum) bevat het, asook voorstelle wat nie noodwendig op teksgetuies berus nie. Die derde uitgawe het gebruik gemaak van die Codex Leningradensis, een van die belangrikste manuskripte van die Ben Asher-familie en die enigste volledige teks van die Ou Testament in hierdie tradisie. Die tekskritiese apparaat van hierdie uitgawe is in twee verdeel, waar die eerste deel die mins belangrike en die tweede deel die mees belangrike variante bevat (Kittel 1973:XXVI). In die herdruk van hierdie uitgawe ná 1951 is ook variante uit die manuskripte van Qumran in 'n derde apparaat opgeneem (p. XXXIX).

Die tekskritiese apparaat van die BHS het die apparate gekombineer en bevat minder variante, maar die variante is relevanter (Elliger & Rudolph 1984:XII). In tekskritiese opsig bly die BHS egter steeds 'n beperkte uitgawe.

Tans is 'n verdere uitgawe van die Biblia Hebraica in die proses om gepubliseer te word. Dit staan bekend as die Biblia Hebraica Quinta (hierna BHQ) (Schenker et al. 2011). Hierdie uitgawe kon gedeeltelik gebruik word ter aanvulling van die BHS tydens die werk aan die 2020-vertaling. Die tekskritiese apparaat het meer inligting en beoordeel die variante wat daarin voorkom. Die uitgawe bevat ook 'n aparte tekskritiese kommentaar. Indien die hele uitgawe beskikbaar sou gewees het, sou dit sekerlik vir die 2020-vertaling gebruik kon geword het. Dit gebruik steeds die Codex Leningradensis as basis, sodat die basiese Hebreeuse teks van hierdie uitgawe nie van die BHS verskil nie. Tov (2012:355-357) evalueer hierdie uitgawe.

'n Uitgawe waaraan tans gewerk word, is die Hebrew University Bible Project. Hiervan het tot op hede nog net drie boeke verskyn, naamlik Jesaja, Jeremia en Esegiël. Hierdie uitgawe gebruik die Aleppo-kodeks as die basiese teks (waar dit behoue gebly het, andersins ook die Codex Leningradensis) en is 'n omvattende tekskritiese uitgawe; dit het 'n baie meer uitgebreide tekskritiese apparaat as die Biblia Hebraica-uitgawes. Tov (2012:357-359) bied 'n oorsig aan oor hierdie uitgawe en sy vier verskillende tekskritiese apparate. Die eerste apparaat het variante uit die vroeë vertalings, in die volgorde van Septuagint, Vulgaat, Targum en Pesjitta. Die tweede apparaat het variante uit die tweede tempelperiode, dus die Rabbynse literatuur en die tekste uit die omgewing van die Dooie See. Die derde apparaat bevat variante uit die Middeleeue, naamlik kodekse van die Masoretiese Teks, fragmente uit die Genizah in Kaïro en aanhalings in middeleeuse (Joodse) kommentare. Die vierde apparaat bevat variante uit middeleeuse kodekse ten opsigte van ortografíe, vokalisasie en aksente. In 'n vyfde apparaat word aantekeninge aangebied oor die variante in apparaat 1. In hierdie apparaat word nie 'n mening oor die variante uitgespreek nie, maar die inligting word baie volledig aangebied en stel moontlike verklarings vir variante voor. Die beskikbare volumes is geraadpleeg gedurende die werk aan die 2020-vertaling.

Omdat die Hebrew University Bible Project tot nou toe net vir die drie groot profete beskikbaar was, en omdat nog net sommige van die BHQ-volumes gedurende die vertaalproses van die 2020-vertaling verskyn het, het die redaksiekomitee waar nodig die vier vroeë vertalings geraadpleeg om so die beskikbare tekskritiese gegewens aan te vul en te beoordeel.

Uit hierdie bespreking is dit duidelik dat die vertalers verskillende uitgawes geraadpleeg het om te verseker dat die 2020-vertaling van die Ou Testament sover moontlik 'n getroue vertaling van die Masoretiese Teks is.

Die BHS as diplomatiese uitgawe van die Masoretiese Teks

In 'n vorige publikasie (Van Rooy 2017, in die besonder pp. 9-10) is breedvoerig aandag gegee aan die basiese uitgangspunte wat gegeld het vir die werk van die redaksionele komitee oor die Ou Testament. In 'n bronteksgeoriënteerde vertaling is die keuse van die bronteks natuurlik 'n basiese beginpunt vir die vertaling. Soos met die 1983-vertaling, is die BHS as bronteks gekies. Soos wat hier bo aangedui is, berus hierdie uitgawe op die Codex Leningradensis, wat as die beste volledige Masoretiese manuskrip van die Ou Testament beskou word.

Die aard van hierdie uitgawe moet in gedagte gehou word, omdat dit ook 'n belangrike invloed het op die aard van die tekskritiese beoordeling tydens die vertaalproses. Twee verskillende soorte wetenskaplike uitgawes van Bybeltekste kan onderskei word, naamlik diplomatiese en eklektiese uitgawes (Würthwein & Fischer 2014:46-47; Tov 2012:347-350, 359-364). Albei soorte uitgawes word gebruik vir wetenskaplike uitgawes van die Ou of Nuwe Testament. Vir die Nuwe Testament het eklektiese uitgawes die norm geword, soos die uitgawe deur die Deutsche Bibelgesellschaft (voorheen deur die United Bible Society) wat gebruik word vir die meeste vertalings van die Nuwe Testament (Aland et al. 2002). Wat die Ou Testament betref, word eklektiese uitgawes van die boeke van die Septuagint uitgegee in die Göttingen-reeks. Diplomatiese uitgawes kom voor vir die Masoretiese Teks en die Pesjitta. 'n Voorbeeld van laasgenoemde is die uitgawe van die Pesjitta waarmee daar in Leiden begin is.

Die verskil tussen eklektiese en diplomatiese uitgawes is geleë in die teks wat uiteindelik gedruk word. 'n Eklektiese teks kom tot stand wanneer die redakteurs besluit wat die beste lesing is in elke geval waar variante voorkom. In die voetnote word aangedui watter teksgetuies die gekose lesing ondersteun, watter variante bestaan en watter teksgetuies die variante ondersteun. 'n Diplomatiese teks kom tot stand wanneer die redakteurs besluit watter manuskrip die beste is om te gebruik. Daardie manuskrip se lesings word as die basiese teks gedruk. Soms word ooglopende foute in die teks herstel (soos in die geval van die Leidense Pesjitta) en soms nie (soos in die geval van die BHS). In die voetnote word variante aangedui, asook die teksgetuies wat die variante ondersteun. In sommige gevalle sal die redakteurs in die voetnote aandui watter lesing hulle verkies bo die lesing in die gedrukte teks. In 'n diplomatiese teksuitgawe moet die voetnote dus besondere aandag geniet. In 'n uitgawe van die Masoretiese Teks moet daar ook aandag gegee word aan die Ketib-Qere-variante. Die Qere dui die voorkeur van die Masorete aan, maar dit sal nie in alle gevalle nagevolg word nie.

Wanneer die Masoretiese Teks in die BHS as grondteks gekies is, is 'n volgende vraag hoe hierdie grondteks tekskrities benader moet word.

 

DIE TEKSKRITIESE BENADERING VAN DIE 2020-VERTALING

Die besluit van die vertalers om die Masoretiese Teks as die basisteks vir die Nuwe Afrikaanse Bybel te gebruik, is goed gemotiveer, maar weens die probleem van onverstaanbare of korrupte woorde in die teks, is dit 'n vraag of die Hebreeuse Ou Testament in sy geheel net so vertaal kan word. Hierdie probleem blyk uit twee publikasies van die bekende Ou Testamentiese tekskritikus, Emanuel Tov (2000, 2012). Hierin gee hy nie net aandag aan die vraag watter teks van die Hebreeuse Bybel vertaal moet of kan word nie, maar ook aan wat die implikasies is van die tekskritiese hantering van die betrokke teks.

Die problematiek van die tekskritiese probleme in die vertaling van die Masoretiese Teks het tot verskillende benaderings onder vertalers gelei. In sy 2000-publikasie verwys hy na wetenskaplike vertalings, soos wat in wetenskaplike kommentare aangetref word, en vertalings wat vir geloofsgemeenskappe bedoel is (Tov 2000:193-195). In 2012 onderskei hy tussen drie groepe, waar die derde wesenlik 'n uitbreiding is van wat hy in 2000 in sy tweede groep ingesluit het (Tov 2012:367-368). Hy verwys steeds na wetenskaplike vertalings (idem:367) en na vertalings vir geloofsgemeenskappe (idem :368). Die derde groep is vertalings waarin daar probeer word om een van die standaardweergawes van die Ou Testament sorgvuldig weer te gee (p. 368). Dit kan, afhangende van die betrokke geloofsgemeenskap, vertalings van die Masoretiese Teks, Septuagint, Vulgaat of Pesjitta wees. Soos wat reeds aangedui is, is dit vanweë onverstaanbare of korrupte woorde onmoontlik om so 'n vertaling van die Masoretiese Teks te maak.

Sommige vertalers het op groot skaal veranderinge aan die Masoretiese Teks aangebring met die oog op 'n sinvolle vertaling daaraan. Tov noem dié soort vertalings eklektiese vertalings (soos in die titel van sy bydrae van 2000 verwoord). Die vertalings in wetenskaplike kommentare is volgens Tov (2000:193) kritiese (of eklektiese) uitgawes van die Hebreeuse teks. Die Masoretiese Teks word as uitgangspunt gebruik, maar lesings uit die vroeë vertalings (die Septuagint, Vulgaat, Pesjitta en die Targums) word ook gebruik, asook emendasies wanneer die probleme van die Masoretiese Teks nie op hierdie manier opgelos kan word nie. In kommentare word die vertalings aangebied op grond van hierdie teoretiese rekonstruksie van 'n oorspronklike teks (idem:193-195). Hierdie vertalings in wetenskaplike kommentare is gerig op akademici.

Die vertalings wat vir 'n geloofsgemeenskap bedoel is, verskil in sekere opsigte hiervan. Kommentare kan moeilike woorde of gedeeltes weglaat, maar die vertalings vir 'n geloofs-gemeenskap kan dit nie doen nie, juis omdat dit op 'n geloofsgemeenskap gerig is waar onsekerheid oor 'n vertaling eerder vermy word (Tov 2000:195). Die meeste van die vertalings wat op 'n geloofsgemeenskap gerig is, is ook eklekties van aard, alhoewel hulle gewoonlik minder aan die Masoretiese Teks as die wetenskaplike kommentare verander het (idem :196). Die beginsel is egter dieselfde. Tov wys daarop dat vertalers weinig tekskritiese ondersteuning het, ook omdat die beskikbare uitgawes van die Masoretiese Teks nie volledige inligting aanbied nie. Die vertalings vir geloofsgemeenskappe stem ooreen in dié opsig dat die Masoretiese Teks as basisteks gebruik word, maar dat dit soms verontagsaam word. Vir Tov is hierdie benadering subjektief (idem:198-199). In sommige gevalle word besondere aandag gegee aan die tekste van Qumran en die Septuagint, terwyl ander vertalings afwykings van die Masoretiese Teks in voetnote verantwoord (idem :200-201). Vir hom is sowel die vertalings in kommentare as die vertalings wat vir geloofsgemeenskappe bedoel is eklektiese vertalings wanneer hulle berus op eklektiese veranderings aan die Masoretiese Teks.

Vir Tov (2000:202-203) veroorsaak die subjektiwiteit van eklektisisme 'n belangrike probleem, omdat dit daarop uitloop dat verskillende geloofsgemeenskappe verskillende Bybels het. Dit hang saam met die ontwikkeling op die terrein van die tekskritiek, wat telkens nuwe moontlikhede na vore bring (idem:206). Hy wys daarop dat die Masoretiese Teks van vroeg af in Protestantse kringe gevolg is, terwyl die eklektiese hantering van die teks 'n moderner ontwikkeling is (idem:207-208). Tov dink dat dit beter sal wees om die premoderne benadering te volg (idem:209). Vir hom veroorsaak eklektiese vertalings meer probleme as vertalings van die Masoretiese Teks in sy bestaande vorm, met voetnootaantekeninge waar die betekenis van die Hebreeus onseker is (idem:210). Vir Tov bring eklektisisme vertalings voort waarvan die subjektivisme nie verdedig kan word nie (idem :211).

Tov se artikel van 2000 is in 'n effens gewysigde vorm in 'n versameling artikels gepubliseer (Tov 2008:92-106). Die basiese uiteensetting is dieselfde, maar die bydrae het 'n verkorte opskrif waarin die tweede gedeelte van die opskrif in die 2000-weergawe, "The argument against eclecticism", weggelaat word. Tov hou vol met sy pleidooi dat daar eerder 'n sistematiese en konsekwente vertaling gemaak behoort te word van die Masoretiese Teks, Vulgaat, Septuagint of 'n volledige boekrol uit Qumran (idem:105-106).

In 'n aparte aanhangsel in die derde uitgawe van sy werk oor tekskritiek van die Hebreeuse Bybel, bespreek Tov (2012:367-376) die kwessie van moderne vertalings van die teks van die Ou Testament onder 'n neutrale opskrif: "Modern Translations as Bible Editions" (idem:367). Hy beskou hierdie vertalings as eklektiese teksuitgawes (idem:367). Hy onderskei steeds drie groepe, soos hier bo aangedui is, en gee insiggewende voorbeelde van hoe die teks van die Ou Testament in hierdie drie groepe behandel word. Sy bespreking van die drie groepe verskil nie veel van dié in sy vorige werk nie, met die uitsondering van sy beoordeling van die tweede groep, naamlik eklektiese vertalings wat vir geloofsgemeenskappe bedoel is. In 2000 was hy negatief teenoor hierdie eklektiese benadering, maar in die werk van 2012 (idem :374) stel hy dat sulke vertalings aanvaarbaar is vir kerke, aangesien kerke reeds eklektiese vertalings van die Nuwe Testament aanvaar het. Die gevolg is egter dat vertalings onderling al hoe meer van mekaar verskil.

Tov (2012:368, voetnoot 56) verwys na heelwat moderne vertalings wat volgens hom ook op 'n eklektiese basis saamgestel is, soos onder andere die Revised Standard Version, New Revised Standard Version en die New Jerusalem Bible. Nader aan Afrikaans kan De Nieuwe Bijbelvertaling van 2004 ook hierby gevoeg word. Hierdie Nederlandse vertaling is vir die 2020-vertaling van belang, omdat die twee vertalings in 'n groot mate dieselfde vertaalstrategie gevolg het. In die verantwoording aan die einde van hierdie vertaling word pertinent gemeld dat die Biblia Hebraica Stuttgartensia (BHS) vir die Ou Testament gebruik is (De Nieuwe Bijbelvertaling 2004:XXIII). In enkele gevalle word daar van variante uit ander Hebreeuse manuskripte gebruik gemaak. Waar die ou Hebreeuse manuskripte of die vroeë vertalings belangrike variante bied, word dit in voetnote vermeld (De Nieuwe Bijbelvertaling 2004:XXII). Hiervolgens lyk dit asof die vertaling op die Masoretiese Teks berus, met enkele variante uit ander Hebreeuse manuskripte, terwyl verwysings na die vroeë vertalings net in voetnote vermeld word.

Hierdie uiteensetting gee egter nie die volle prentjie weer nie, omdat daar in sekere gevalle variante uit die vroeë vertalings in die Nederlandse teks opgeneem is en die lesing van die Masoretiese Teks in 'n voetnoot aangebied word. Voorbeelde hiervan word aangetref in 1 Samuel 13:1 en 5, waar die Septuagint (vers 1) en die Septuagint en Pesjitta (vers 5) gevolg word. In albei gevalle is die getalle in die Masoretiese Teks problematies. Vers 1 lui letterlik in die Hebreeus: "Saul was een jaar oud toe hy koning geword het en hy het twee jaar lank oor Israel geregeer." Daar is onteenseglik 'n probleem met hierdie getalle. In De Nieuwe Bijbelvertaling word die eerste probleem opgelos deur die Septuagint te volg met "dertig" as Saul se ouderdom toe hy koning geword het. Wat die voetnoot nie sê nie, is dat die meeste van die manuskripte van die Septuagint die vers weglaat. Daar word wel in die tekste genoem dat net sommige van die manuskripte van die Septuagint die getal "dertig" het. Dit kom net voor by 'n deel van die manuskripte van die Lukiaanse edisie van die Septuagint. By vers vyf verwys die Masoretiese Teks na "30 000 strydwaens", wat 'n ongelooflike getal op daardie stadium in die geskiedenis was. De Nieuwe Bijbelvertaling vertaal met "3000 strydwaens" en sê in die voetnoot dat die Septuagint en die Pesjitta gevolg word. Dit is egter net die Lukiaanse edisie van die Septuagint wat "3000" het, terwyl die res ook "30 000" het.3 Hierdie voorbeeld toon aan dat 'n mens versigtig moet wees met inligting in die voetnote. Hier sou dit beter gewees het om te verwys het na sommige of 'n groep manuskripte van die Septuagint. In elk geval is die Nederlandse vertaling dus meer eklekties van aard as wat die verantwoording aan die einde daarvan aandui.

'n Belangrike vraag is wat die benadering was van die vorige twee Afrikaanse Bybel-vertalings wat deur die werksaamhede van die Bybelgenootskap geproduseer is, die 1933/53-en 1983-vertalings.4 Kan hulle ook as eklektiese vertalings getipeer word in die sin wat Tov bedoel? Die 1933/53-vertaling het nie die saak van die bronteks in 'n voorwoord bespreek nie. Die vertaling van die Ou Testament berus op die Masoretiese Teks, met die moontlikheid dat die tweede en derde uitgawes van die Biblia Hebraica Kittel (hierna BHK2 en BHK3) gebruik kon gewees het. Dit blyk by nadere ondersoek dat die vertaling ook eklekties te werk gegaan het, hoewel dit nie in 'n voorwoord of voetnote verantwoord is nie. Daar is talle voorbeelde daarvan, waarvan net enkeles hier bespreek word.

In Esegiël 16:45 word Jerusalem verwyt dat sy verkeerd opgetree het en daar word gesê dat sy die dogter van haar moeder en die suster van haar suster is. In die Masoretiese Teks staan "die suster van jou suster", terwyl twee Hebreeuse manuskripte, die Septuagint, Vulgaat en Pesjitta "die suster van jou susters" lui.5 Die 1933/53-vertaling volg die lesings met "jou susters".

In 1 Samuel 6:18 word daar in die Hebreeus 'n frase aangetref waarmee vertalers altyd probleme ondervind. Die 1933/53-vertaling lui soos volg:

En die goue muise was volgens die getal van al die stede van die Filistyne wat aan die vorste behoort het, van die versterkte stede sowel as van die ommuurde dorpe. En die groot klip waar hulle die ark van die Here op neergesit het, is tot vandag toe getuie op die stuk land van Josua, van Bet-Semes.

Die probleem in die Masoretiese Teks het betrekking op die woorde wat vertaal is met "klip" en "getuie". Die Hebreeuse frase is הלָודּגְֹהַ לבֵאָ דעַוְ. Dit kan letterlik vertaal word as "en tot by groot Abel". Uit die konteks is dit duidelik dat hierdie pleknaam nie hier pas nie. Die Septuagint en Targum het egter die lesing "die groot klip", wat inhou dat daar 'n lamed pleks van 'n nun aan die einde van die woord vir "klip" voorkom. Hierdie verandering kon reeds in die grondtekste van die Septuagint en Targum voorgekom het. Hierdie weergawe word deur heelwat vertalings gevolg. Die idee om in plaas van die voorsetsel "tot" die woord vir "getuie" te lees, is 'n voorstel van BHK3. Dit behels die verandering van een vokaal in die Hebreeus (cad na ced). Die 1933/53-vertaling het die voorstel gevolg, alhoewel daar vir die verandering van die voorsetsel ná 'n naamwoord geen tekskritiese ondersteuning is nie.6 Alhoewel hierdie 'n afwyking van die Masoretiese Tteks is, kom sodanige afwyking nie dikwels in die 1933/53-vertaling voor nie.

Dieselfde geld vir die 1983-vertaling. Die voorwoord van die 1983-vertaling (Die Bybel 1983, 1992:5) sê dat die BHS as grondteks vir die Ou Testament gebruik is en dat gegewens uit ouer manuskripte bygewerk is. Dit verwys vermoedelik na die manuskripte van Qumran. Geen melding word van die vroeë vertalings gemaak nie. Tog word gegewens uit die vroeë vertalings in die vertaling gebruik, soms met voetnote en soms daarsonder. In Esegiël 16:45 gebruik die vertaling ook die meervoud "susters", soos die 1933/53-vertaling, maar sonder 'n voetnoot. In 1 Samuel 6:18 volg die vertaling ook die voorstel van die derde uitgawe van die BHK3, 'n voorstel wat nie in die BHS herhaal word nie. In sommige gevalle waar die vertaling die vroeë vertalings volg, word dit in 'n voetnoot verantwoord, soos onder andere in voetnote by Rut 4:5 en Esra 8:5.

Soos die vertalers van die 1983-vertaling het die redaksie vir die 2020-vertaling ook die Masoretiese Teks in die BHS-uitgawe as grondteks gekies, maar ook in tekskritiese praktyk eklekties te werk gegaan, soos hier onder aangedui sal word.

 

ENKELE PRAKTIESE VOORBEELDE

Die benadering wat in die 2020-vertaling gevolg is, hang ten nouste saam met een van die doelstellings van die vertaling, naamlik om 'n bronteksgeoriënteerde vertaling aan te bied. Omdat die Masoretiese Teks die uitgangspunt was en die BHS gekies is as die teks wat vertaal gaan word, is die teks so getrou moontlik gevolg, ook in die gevalle waar die vroeë vertalings of tekste van Qumran goeie of betroubare alternatiewe bied. Die vertaling is nietemin eklekties van aard, omdat die Masoretiese Teks nie slaafs gevolg is (of kon word) nie. In gevalle waar die grondteks onverstaanbaar of baie problematies is, het vertalers dikwels geen ander keuse gehad as om van die lesing van die Masoretiese Teks af te wyk nie. Wanneer 'n lesing in die Masoretiese Teks wel sin gemaak het, al was dit 'n moeilike lesing, is daar nie daarvan afgewyk nie. Soms sal 'n voetnoot wel alternatiewe uit ander Hebreeuse manuskripte of die vroeë vertalings aandui.

By die beoordeling van tekskritiese probleme word onderskei tussen twee soorte kriteria, naamlik interne en eksterne kriteria (Würthwein & Fischer 2014:189-193). Eksterne kriteria is lesings in ander Hebreeuse manuskripte as die Masoretiese Teks, asook in die vroeë vertalings. Interne kriteria het veral te doen met die konteks waarin lesings voorkom. By die beoordeling van 'n probleem moet hierdie faktore versigtig oorweeg word. Alhoewel daar geen vaste resep vir so 'n beoordeling is nie, is daar sekere algemene reëls wat toegepas kan word. Würthwein en Fischer (2014:193-194) gee die Latynse bewoording van hierdie reëls:

Lectio corrupta sive mutata corrigenda ("'n korrupte of veranderde lesing moet gekorrigeer word");

Lectio difficilior probabilior ("die moeiliker lesing is meer waarskynlik"); en

Lectio brevior potior ("die korter lesing geniet voorkeur").

Die eerste twee voorbeelde wat bespreek word, kom uit Deuteronomium, een van die boeke wat reeds in die BHQ beskikbaar is.

Die eerste voorbeeld kom voor in Deuteronomium 5:10, in die Tien Gebooie. Aan die einde van die vers het sowel die 1933/53-vertaling as die 1983-vertaling "my gebooie". In die Hebreeus is daar egter 'n voorbeeld van 'n Ketib-Qere-lesing, waar die konsonantiese teks een lesing het, maar die Masoretiese vokalisasie dui op 'n ander lesing. Die konsonante dui op "sy gebooie" en die vokalisasie op "my gebooie". Die interne beoordeling maak dit duidelik dat "my gebooie" waarskynliker is, omdat God hier in die Tien Gebooie aan die woord is. Dit is ook die bewoording van die gebod in Exodus 20:6. Die eksterne getuies ondersteun hierdie lesing ook. BHK3 verwys na die meeste Hebreeuse manuskripte, die Samaritaanse Pentateug en al die vroeë vertalings. In hierdie geval word die lesing ook deur die redakteurs aanbeveel. Dieselfde aanbeveling word in BHS aangetref, asook dieselfde teksgetuies. Een manuskrip van Qumran wat ook "my gebooie" lees, word deur BHQ by die teksgetuies gevoeg. Hierdie uitgawe verduidelik egter dat die verskil tussen die twee lesings verband hou met die verwarring van twee Hebreeuse letters wat na hul vorm na aan mekaar is, dat die lesing van die Qere verkies word en dat die lesing van die Ketib waarskynlik te wyte is daaraan dat die twee letters met mekaar verwar word. Die 2020-vertaling volg ook die voorstel dat "my gebooie" gebruik word, maar verduidelik die probleem in 'n voetnoot. In hierdie geval kan daar verwys word na die eerste reël wat hier bo genoem word. 'n Fout in die Masoretiese Teks word hier reggestel. Daar word so algemeen aanvaar dat daar 'n fout in die Masoretiese Teks is dat Craigie (1976:149) "my commandments" in sy vertaling gebruik sonder om eers na die veranderings in die Hebreeuse teks te verwys.

In Deuteronomium 33:2 kom 'n geval voor waar die Hebreeuse teks baie moeilik verstaanbaar is. Sommige vertalings probeer om die Masoretiese Teks te vertaal, terwyl ander weer 'n ander lesing volg wat deur die meeste van die vroeë vertalings ondersteun word. Aan die einde van die vers is daar ook probleme, maar dit is nie relevant vir hierdie voorbeeld nie. Die Hebreeuse frase lui soos volg:

שׁדֶק תבבְֹרִמֵ התָאָוְ

Die hele vers lui soos volg in die 1983-vertaling:

Hy het gesê: Die Here kom van Sinai af, Hy laat van Seïr af sy lig oor sy volk skyn, laat dit deurbreek van Paranberg af.

Hy kom van waar tienduisende hemelwesens woon, van waar hulle aan sy regterhand hulle plek het.

Die verskillende maniere waarop die probleme van die vers hanteer word, blyk uit 'n vergelyking van hierdie vertaling met die New Revised Standard Version:

He said: The Lord came from Sinai, and dawned from Seir upon us;

he shone forth from Mount Paran.

With him were myriads of holy ones; at his right, a host of his own.

Die belangrikste verskil het betrekking op die vertaling van 'n spesifieke woord as 'n werkwoord ("hy kom") of as 'n voorsetsel ("by hom"). Geeneen van die vroeë vertalings het die woord as 'n werkwoord vertaal nie. Die 1983-vertaling het die werkwoord "woon" bygevoeg om sin te maak, 'n werkwoord wat nie in die oorspronklike teks staan nie. Die Hebreeuse woord vir "heilig" of "heiligheid" (die "hemelwesens" van die 1983-vertaling) is in die Septuagint geïnterpreteer as die pleknaam "Kades", wat in Hebreeus dieselfde konsonante het as die naamwoord "heiligheid" (qds).

BHK3 en BHS bied geen definitiewe oplossing aan nie. BHK3 noem drie moontlikhede, waarvan twee die pleknaam "Kades" het en die derde die voorsetsel "met hom". BHS noem drie moontlikhede, waarvan twee ook "Kades" voorstel. Die derde verwys na die Pesjitta, Vulgaat en Targums, wat die voorsetsel het. BHQ bespreek die frase uitvoerig, maar verkies die voorsetsel in plaas van die werkwoord. Dit behels net 'n verandering in die vokalisasie van die woord en word ondersteun deur die Samaritaanse Pentateug en die vroeë vertalings. BHQ stel voor dat die vertaling soos volg lui: "and with him a portion of (the) holy myriads". Dit is 'n goeie voorstel om te volg, as daar 'n uitgebreide voetnoot bygevoeg word om die probleem te verduidelik. 'n Alternatief sou wees om die ongemaklike Masoretiese Teks te vertaal ("Hy het gekom vanaf tienduisende van heiligheid") en dan die probleem en die alternatief in 'n voetnoot te verduidelik. Ook in kommentare op Deuteronomium word verskillende oplossings gevind. Christensen (2002:836) wil die Masoretiese Teks volg, terwyl Craigie (1976:392) eerder die teks wil wysig om die voorsetsel te hê.

In Hosea 6:5 is daar 'n voorbeeld waar die Masoretiese Teks moeilik verstaanbaar is. Die Hebreeuse frase in die Masoretiese Teks lui soos volg:

אֵצֵי רוֹא ךיֶטׇּפְׁשִמוּ

Die eerste woord kan vertaal word as "jou oordele", en daarop volg dan "lig sal verskyn". Die 1933/53- en die 1983-vertaling het albei probeer om "jou oordele" op een of ander manier te behou, maar albei het ook 'n "soos" ingevoeg.

1933/53: en die oordele oor jou kom te voorskyn soos 'n ligstraal.

1983: My straf oor julle kom so seker soos die lig.

Albei verstaan dus die besitlike voornaamwoord as 'n "objektiewe" genitief, wat die voorwerp van die oordeel aandui. Daar is vertalings wat 'n ander weg opgaan. Die New Revised Standard Version vertaal die frase soos volg:

And my judgment goes forth as the light.

Die New International Version vertaal dit ook met die besitlike voornaamwoord van die eerste persoon enkelvoud en voeg dan 'n frase by:

My judgments flashed like lightning upon you.

Hierdie twee Engelse vertalings volg elkeen op sy eie manier 'n voorstel wat berus op die vroeë vertalings se weergawes. Die Hebreeuse woord vir "jou oordele" het die letter kaf (k) as die slotkonsonant. Op sy eie kan die letter aan 'n volgende naamwoord verbind word as die voorsetsel "soos". Al die vroeë vertalings het die voorsetsel gelees, wat neerkom op 'n ander woordverdeling in die Hebreeus, deur die kaf aan die einde van "jou oordele" te verskuif na die woord vir "lig" - dus, "soos lig". Die "jou oordele" kan dan gelees word as "my oordele" of "my oordeel"/ "my regsuitspraak".

BHK3 verwys in sy eerste apparaat na die lesings van die Septuagint, Pesjitta en Targum, wat die voorsetsel aan die volgende woord in hulle bronteks veronderstel. In die tweede apparaat stel hy egter voor dat "sy regspraak" gelees moet word, met die besitlike voornaamwoord vir die derde persoon manlik enkelvoud. BHS verwys ook na die verskillende vroeë vertalings, maar stel voor dat "my oordeelsuitspraak" gelees moet word. BHQ stel dit ook voor, maar gee meer besonderhede as sy voorgangers. 'n Aantekening verwys ook na die lesing "sy oordeelsuitspraak", wat in die Vulgaat en manuskripte van die Septuagint voorkom. Daar word egter voorkeur gegee aan "my oordeelsuitspraak soos lig", en daar word daarop gewys dat die verskil te wyte is aan verskillende woordverdelings. Die voorgestelde konsonante kan gelees word as "my oordeelsuitspraak" of "my oordele". Die enkelvoud word verkies deur Dearman (2010:188) en Stuart (1987:97). MacIntosh (1997:230), daarenteen, probeer om die Masoretiese Teks te behou en vertaal die gedeelte as 'n retoriese vraag ("can judgment in your favour be a shining light"). Die werkwoord aan die einde van die vers verdwyn egter in hierdie vertaling. Die vertaling kan dus lui: "My oordeelsuitspraak/oordele verskyn soos die lig". Kontekstueel en op grond van eksterne getuies is hierdie vertaling verkieslik. Hierdie is maar enkele voorbeelde om aan te toon dat daar gevalle is waar die 2020-vertaling eklekties kan (en soms moet) vertaal.

 

SAMEVATTING

Toe die Bybelgenootskap van Suid-Afrika besluit het om met 'n nuwe Bybelvertaling te begin, moes verskillende belangrike besluite geneem word. Wat die Ou Testament betref, is daar besluit om die Masoretiese Teks as basisteks te gebruik. Verder is besluit om die BHS as bronteks te gebruik. Die aard van die BHS as diplomatiese uitgawe het tot gevolg gehad dat die vertalers moes besluit oor die mate waarin die teks gevolg sou word en watter soort tekskritiese besluite geneem sou word. Die benadering tot die Masoretiese Teks was konserwa-tief in die sin dat, sover moontlik, die teks in die vertaling gevolg is. Afwykings was soms nodig in problematiese gevalle, maar daar is nie maklik van die Masoretiese Teks afgewyk nie. Waar dit wel plaasgevind het, word voetnote gegee wat aandui op watter getuies die betrokke afwyking van die Masoretiese Teks berus, in die lig van die probleme verbonde aan sulke gevalle. Die 2020-vertaling kan dus getipeer word as 'n vertaling wat so getrou moontlik aan die Masoretiese Teks gebly het, maar wat, waar nodig geag, van die Masoretiese Teks afgewyk het en wat sodanige afwykings goed gemotiveer het.

 

BIBLIOGRAFIE

Aland, B., Aland, K., Karavidopoulos,C.M. & Metzger, B.M. 2002. The Greek New Testament. Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft.         [ Links ]

Barthélemy, D. 2012. Studies in the text of the Old Testament: An introduction to the Hebrew Old Testament text project. Winona Lake, IN: Eisenbrauns. (Textual citicism and the translator 3).         [ Links ]

Die Bybel. 1933/53. Die Bybel. Kaapstad: Bybelgenootskap.         [ Links ]

Die Bybel. 1983. Die Bybel: Nuwe vertaling. Kaapstad: Bybelgenootskap.         [ Links ]

Christensen, D.L. 2002. Deuteronomy 21:10-34:12. Dallas, TX: Word. (Word Biblical Commentary 6B).         [ Links ]

Craigie, P.C. 1976. The Book of Deuteronomy. Grand Rapids, MI: Eerdmans. (New International Commentary on the Old Testament).         [ Links ]

Crawford, S.W. 2012. Understanding the textual history of the Hebrew Bible: A new proposal. In N. Dávid, A. Lange, K. de Troyer & S. Tzoeref (eds). The Hebrew Bible in the light of the Dead Sea Scrolls. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, pp. 60-69. (Forschungen zur Religion und Literatur des Alten und Neuen Testaments 239).         [ Links ]

Dearman, J.A. 2010. The Book of Hosea. Grand Rapids, MI: Eerdmans. (New International Commentary on the Old Testament).         [ Links ]

Elliger, K. & Rudolph, W. 1984. Biblia Hebraica Stuttgartensia. Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft.         [ Links ]

Kittel, K. 1973. Biblia Hebraica. 3. Ausg. Stuttgart: Württembergische Bibelanstalt.         [ Links ]

Klein, R.W. 1983. 1 Samuel. Waco. TX: Word. (Word Biblical Commentary).         [ Links ]

Lange, A. 2016. Ancient and late ancient Hebrew and Aramaic Jewish texts. In A. Lange & E. Tov (eds). Textual History of the Bible: The Hebrew Bible, vol.1AB. Pentateuch, Former and Later Prophets. Leiden: Brill, pp. 112-166.         [ Links ]

MacIntosh, A.A. 1997. A critical and exegetical commentary on Hosea. Edinburgh: Clark.         [ Links ]

Martín Contreras, E. 2016. Medieval Masoretic Texts. In A. Lange & E. Tov (eds). Textual History of the Bible: The Hebrew Bible, vol. 1AB. Pentateuch, Former and Later prophets. Leiden: Brill, pp. 420-429.         [ Links ]

Mulder, M.J. 1988. The transmission of the Biblical text. In M.J. Mulder (ed.). Mikra: Text, translation, reading and interpretation of the Hebrew Bible in Ancient Judaism and Early Christianity. Assen: Van Gorcum, pp. 87-135. (Compendia rerum Iudaicarum 2.1).         [ Links ]

De Nieuwe Bijbelvertaling. 2004. Haarlem: Nederlands Bijbelgenootschap.         [ Links ]

Schenker, A., Fernández Marcos, N., De Waard, J., Gelston, A., McCarthy, C., Marcus, D., Dirksen, P.B., Goldman, Y.A.P., Schäfer, R. & Sasbe, M. 2011. Biblia Hebraica Quinta. Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft.         [ Links ]

Stuart, D. 1987. Hosea-Jonah. Dallas, TX: Word. (Word Biblical Commentary).         [ Links ]

Tov, E. 2000. The textual basis of modern translations of the Hebrew Bible: The argument against eclecticism. Textus 20:193-211.         [ Links ]

Tov, E. 2008. The textual basis of modern translations of the Hebrew Bible. In E. Tov. Hebrew Bible, Greek Bible and Qumran: Collected essays. Tübingen: Mohr Siebeck, pp. 92-106. (Texts and studies in ancient Judaism, 121).         [ Links ]

Tov, E. 2012.Textual Criticism of the Hebrew Bible (3rd ed., rev. and expanded). Minneapolis, MN: Fortress Press.         [ Links ]

Tov, E. 2018. The enigma of the Masoretic Text. In F. Ueberschaer, Th. Wagner & J.M. Robber (eds). Theologie und Textgeschichte: Septuaginta undMasoretischer Text als Äusserungen theologischer Reflection. Tübingen: Mohr Siebeck, pp. 45-70. (WUNT 407).         [ Links ]

Tsumura, D. 2007. The First Book of Samuel. Grand Rapids, MI: Eerdmans. (NICOT).         [ Links ]

Ulrich, E. 2012. The fundamental importance of the Biblical Qumran Scrolls. In N. Dávid, A. Lange, K. de Troyer & S. Tzoeref (eds). The Hebrew Bible in the light of the Dead Sea Scrolls. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, pp. 54-59. (Forschungen zur Religion und Literatur des Alten und Neuen Testaments 239).         [ Links ]

Van der Kooij, A. 2012. Preservation and promulgation: The Dead Sea Scrolls and the textual history of the Hebrew Bible. In N. Dávid, A. Lange, K. de Troyer & S. Tzoeref (eds). The Hebrew Bible in the light of the Dead Sea Scrolls. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, pp. 29-40. (Forschungen zur Religion und Literatur des Alten und Neuen Testaments 239).         [ Links ]

Van Rooy, H.F. 2017. The text of the Old Testament and textual criticism. In N. Vorster & S. van der Walt (eds). Reformed theology today: Biblical and systematic theological perspectives. Durbanville: Aosis, pp. 1-14.         [ Links ]

Würthwein, E. & Fischer, A.A. 2014. The text of the Old Testament. An introduction to the Biblia Hebraica (3rd ed.). Grand Rapids, MI: Eerdmans.         [ Links ]

Zimmerli, W. 1979. Ezekiel 1: A commentary on the book of the Prophet Ezekiel, chapters 1-24. Philadelphia: Fortress Press. (Hermeneia).         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2020-03-06
Goedgekeur: 2020-07-08
Gepubliseer: Desember 2020

 

 

 

Herrie van Rooy is emeritus professor in Ou Testament en Semitiese Tale aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus), Suid-Afrika. Hy het sy PhD in 1977 verwerf en het Semitiese Tale en Ou Testament aan sy alma mater gedoseer in die tydperk 1980-2014. Hy het gedien in die bestuur van die Ou Testamentiese Vereniging van Suid-Afrika (1992-2004; voor-sitter 1998-2004) en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Nabye Oosterse Studie (1988-2000; voorsitter 1996-2000). Hy dien in die redaksio-nele raad van Oudtestamentische Studiën sedert 1999. Hy is ook 'n lid van die begeleidings-komitee en die redaksionele komitee vir die Ou Testament van 'n nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel. Sy publikasies sluit in Studies on the Syriac Apocryphal Psalms (1999) en The East Syriac Psalm Headings: A Critical Edition (2013). Vir sy bydrae tot Bybelvertaling en die Afrikaanse Psalmomdigting het hy die Ds. Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. Hy is tans 'n B-gegradeerde navorser by die NNS.
Herrie van Rooy is emeritus professor in Old Testament and Semitics at the North-West University (Potchefstroom Campus), South Africa. He received his PhD in 1977 from and taught Semitics and Old Testament at his alma mater during 1980-2014. He served on the executive committees of the Old Testament Society (1992-2004; chair 1998-2004) and the South African Society of Near Eastern Studies (1988-2000; chair 1996-2000). He has served on the editorial board of Old Testament Studies since 1999. He is also a member of the steering committee and the Old Testament editorial committee of a new Afrikaans translation of the Bible. His publications include Studies on the Syriac Apocryphal Psalms (1999) and The East Syriac Psalm Headings: A Critical Edition (2013). For his work on Bible translation and the metrical version of the Psalms in Afrikaans, he received the Rev. Pieter van Drimmelen Medal from the South African Academy for Science and Arts. He is currently a B-rated scholar at the NRF.
1 Kyk Elliger & Rudolph (1984) vir bibliografiese besonderhede.
2 Met "basisteks" word die oorspronklike teks aangedui (in die geval van die 2020-vertaling, die Hebreeuse Masoretiese Teks), terwyl "die bronteks" dui op die spesifieke uitgawe van die teks wat vertaal word (in die geval van die 2020-vertaling die Biblia Hebraica Stuttgartensia).
3 Vir 'n bespreking van hierdie twee probleemgevalle, kyk Tsumura (2007:331-333) en Klein (1983:121, 124-125).
4 Na die twee bekende vertalings inAfrikaans word onderskeidelik verwys as die "1933/53-vertaling" (Die Bybel 1933/53) en die "1983-vertaling" (Die Bybel 1983).
5 Kyk Zimmerli (1979:331).
6 Kyk Klein (1983:54) vir 'n bespreking van die probleme verbonde aan hierdie vers.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons