SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 número4-1New and old treasures: The 2020 Afrikaans translation of the Bible as a retranslationThe Hebrew base text and the 2020 translation of the Bible in Afrikaans índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.60 no.4-1 Pretoria Dez. 2020

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n4-1a3 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Nog 'n vertaling van die Bybel in Afrikaans: Wat maak dit anders?

 

Another translation of the Bible in Afrikaans: What makes it different?

 

 

Christo HJ van der Merwe

Departement Antieke Studie, Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika. E-pos: cvdm@sun.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die 2020-vertaling is anders as die ander vertalings van die Bybel in Afrikaans omdat daar op 'n innoverende manier 'n wyse gevind moes word om aan die behoeftes van kerke wat die Bybel in Afrikaans gebruik, te voldoen. Dit is naamlik die behoefte aan 'n verstaanbare vertaling in idiomatiese Afrikaans wat baie na aan die bronteks bly. In hierdie alternatiewe vertaalmodel is 'n byna onmoontlike ideaal gestel: 'n "Direkte" vertaling wat poog om die bronteks te vertaal asof die skrywers direk in goeie idiomatiese Afrikaans aangehaal word. Dié vertaalmodel het 'n grondige besinning vereis oor die taalmodel waarmee gewerk sou word. In hierdie verband het die kognitiewe taalkunde waardevolle insigte gebied. Baie van hierdie insigte is nie heeltemal nuut nie, maar eerder verdere ontwikkelings en/of verfynings van tradisionele wyshede waarmee alreeds in die histories-filologiese semantiek gewerk is. 'n Voorbeeld in hierdie verband is die feit dat taal volledig ingebed is in die kultuur en ervarings van die sprekers van die betrokke taal. (Dit is daarom byna onvermydelik dat lesers sommige vertalings nie gaan verstaan nie, tensy die vertaling van toeligtende kommentaar voorsien word.) Verdere waardevolle insigte uit die kognitiewe taalkunde, wat met behulp van voorbeelde geïllustreer word, is dat daar onderskei moet word tussen die prototipiese en minder prototipiese betekenisse van uitdrukkings; dat betekenisverskuiwings geleidelik geskied en dat dit eie aan menslike taal is dat sommige onderskeidings moeilik is om te maak; en dat betekenisonderskeidings tipies met kenmerkende ko- en kontekstuele raamwerke vir elkeen van die onderskeidings gepaard gaan en dat die vorme wat sprekers gebruik of aan hulle taaluitings gee, altyd die primêre uitgangspunt van die interpretasie daarvan moet wees.

Trefwoorde: aktiewesoneliggaamsdele; Bybelvertaling; dinamies-ekwivalent; direkte vertaling; ekwivalensie; formeel-ekwivalent; funksioneel-ekwivalent; hervertaling; histories-filologiese benadering; inferensiemodel; kodemodel; kognitiewe taalkunde; kommunikasieleidraad; relevansieteorie; skopos; vertaalmodel; woord-vir-woordvertaling


ABSTRACT

There are currently at least six readily available Afrikaans translations of the Bible. The Bible Society of South Africa has just published another translation at the request of churches that use the Afrikaans Bible. According to the so-called "retranslation hypothesis", retranslations tend to move closer to the source texts on which they are based. However, the history of Afrikaans translations of the Bible over the past forty years does not confirm this hypothesis, as most were, in fact, functionally equivalent translations or paraphrases, subscribing to the principle that understanding the meaning of the source text was more important than formal equivalence to it. It is almost ironic that the most recent retranslation of the Bible into Afrikaans indeed confirms the above-mentioned retranslation hypothesis. It is, namely, a translation that tries to address a need that has been expressed by the churches for a translation that would be as close as possible to the source text. The following problem presents itself: How do the translators of an ancient religious text come "closer to the source text"? The central question that this study addresses is: What makes this retranslation and its attempt to stay close to the source text so different from any other existing Afrikaans translation?
Undoubtedly, it can be argued that there are a number of factors that determined the nature of the 2020 translation of the Bible into Afrikaans - notably, the research that preceded it, the extensive negotiations that were conducted with the churches, the number and diversity of the co-workers, and the research projects that guided the translation process. Granting the significance of these factors, the main hypothesis I wish to put forward in this article is that the linguistic and translation models on which this retranslation is based, and their implications for the translation choices made distinguish it from the other Afrikaans translations.
Following the introduction, section 2 describes the dilemma created by the request of the churches that use the Afrikaans Bible. On the one hand, it was evident by the beginning of this century that it was no longer possible to assume that a word-for-word translation of the Bible would bring the translation closer to what is said in the source texts. On the other hand, many aspects of the dynamic (also called functional) equivalent model of Bible translation that had enjoyed well-nigh canonical status from the 1960s onwards have since been severely criticised. A new translation model that uses idiomatic Afrikaans but stays as close as possible to the source texts had to be developed. The features of this model, based on the insights of Christiane Nord and Ernst-August Gutt, are summarised in section 3. This alternative translation model sets an almost impossible task for translators, namely, to write the translation as if the original authors were being quoted directly in idiomatic Afrikaans. For this purpose the linguistic model underpinning the translation model needed careful consideration. Section 4 consequently describes the cognitive linguistic model on which the translation model is based. Many of the insights of cognitive linguistics are not completely new. Rather, they represent further developments and/or refinements of the wisdom of traditional historical philology. An example in this regard is the fact that language is deeply embedded in the culture and experiences of the speakers of the language concerned. This implies, of course, that the chances are good that some of the translations of an ancient text could be misunderstood by modern readers, unless they are complemented by explanatory notes. This was what the Reformed fathers of the Statenvertaling had already realised; hence the many annotations in the 1637 Dutch translation. A distinctive feature of the 2020 translation is its supplementary information (introductions to the different biblical books, its footnotes and extensive glossary).
Section 5 describes some of the valuable insights gained from cognitive linguistics by showing how the 2020 translation options differ from those of the 1953, 1983 and the New Living translations. With reference to the insights gained from cognitive linguistics, examples ranging from a culturally specific expression and a highly polysemous body part term to a frequently occurring conjunction that is also polysemous are provided. These examples illustrate a) that a distinction must be made between the prototypical and less-prototypical sense of a linguistic expression; b) that sense extensions are gradual and part and parcel of human language, but often difficult to discern; and c) sense extensions can typically be associated with particular co-textual as well as contextual frames.

Keywords: active-zone body parts; Bible translation; code model; cognitive linguistics; communicative clue; direct translation; dynamic equivalent; equivalence; formal equivalent; functional equivalent; historical philological approach; inferential model; relevance theory; retranslation; skopos; translation model; word-for-word translation


 

 

1. INLEIDING

Daar is op die oomblik ten minste ses vertalings van die Bybel in Afrikaans wat geredelik beskikbaar is. Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) het op 'n versoek (in die laat 1990's) van kerke wat die Bybel in Afrikaans gebruik, so pas nóg 'n vertaling van die Bybel voltooi. Alhoewel hervertalings volgens die sogenaamde "hervertalingshipotese" geneig is om nader aan die bronteks te beweeg (Chesterman 2000:15-27), bevestig die geskiedenis van vertaling van die Bybel in Afrikaans nie hierdie tendens nie. Die 1933/53-vertaling was byvoorbeeld in hoë mate woord vir woord, terwyl die 1983-vertaling, Die Bybel vir Dowes (2007) en die Nuwe Lewende Vertaling (2006) (NLV) dinamies/funksioneel-ekwivalente vertalings is.1 Laasgenoemde vertaalmodel, wat die laaste drie dekades van die vorige eeu in swang was, heg tipies groter waarde aan die verstaanbaarheid van die betekenis van die bronteks vir die teikengehoor as aan formele ekwivalensie. Die "hervertalingshipotese" waarna hier bo verwys is, word in vertaalkundekringe bevraagteken, nie net omdat dit moontlik die geskiedenis en eiesoortige dinamika van onder andere Bybelvertaling nie ten volle verreken nie, maar omdat dit nie al die faktore in ag neem wat tot hervertalings aanleiding kan gee nie (Paloposki & Koskinen 2004:27-38). Dit is egter half ironies dat dit lyk of die onlangse hervertaling van die Bybel in Afrikaans wel met bogenoemde hervertalingshipotese strook. Dit is naamlik 'n vertaling wat gemaak is omdat kerke uitdruklik 'n behoefte uitgespreek het aan 'n vertaling wat poog om nader aan die bronteks te kom (Van der Merwe 2012). Die probleem is egter hoe vertalers van 'n antieke godsdienstige teks "nader aan die bronteks" kan kom. Die kernvraag wat hierdie beskrywende studie wil aanroer, is derhalwe: Wat maak hierdie hervertaling en die poging daarvan om nader aan die bronteks te kom, so anders?

Alhoewel daar goeie gronde is om aan te voer dat die andersoortigheid van hierdie hervertaling gesetel is in die uitgebreide voorafnavorsing wat gedoen is, die onder-handelingsprosesse wat gevolg is, die getal en samestelling van die medewerkers en die aantal navorsingsprojekte wat die vertaalproses begelei het, gaan ek in hierdie artikel die hipotese verdedig dat dit die taal- en vertaalmodel waarop hierdie hervertaling gegrond is, en die implikasies daarvan vir die vertaalkeuses wat gemaak is, wat dit primêr onderskei van die ander aktiewe vertalings in Afrikaans.2

Vir dié doel, gaan ek begin deur in Afdeling 2 kortliks die dilemma te skets waartoe die kerke se versoek in die laat 1990's aanleiding gegee het. In Afdeling 3 bespreek ek die belangrikste kenmerke van die vertaalmodel wat ontwikkel is om hierdie dilemma die hoof te bied. In Afdeling 4 kom die tersaaklike kenmerke van die taalmodel wat onderliggend is aan die vertaalmodel wat vir hierdie hervertaling geformuleer is, aan die orde. Hoe sowel die implikasies as enkele komplikasies gehanteer is, illustreer ek in Afdeling 5 aan die hand van enkele voorbeelde. Die artikel word afgesluit met 'n kort opsomming.

 

2. DIE DILEMMA

Die dilemma van die BSA was deel van 'n groter vraag waaroor in die vertaalkunde aan die einde van die vorige eeu gedebatteer is, naamlik hoe 'n vertaling en/of hervertaling nader aan die bronteks kom. Dit gaan dus om die probleem van ekwivalensie. Daar was in vertaalkundige kringe eenstemmigheid dat 'n woord-vir-woordvertaling of formele ekwivalensie nie die antwoord is nie (Van der Merwe 1999). In die loop van die 20ste eeu het ontwikkelinge in die taalkunde oorweldigend getuienis gelewer dat die vorm en strukture van tale dramaties verskil. Pogings om die vorm en strukture van die brontale in 'n doeltaal - in dié geval Afrikaans - weer te gee, bly 'n kompromie. Alhoewel tipiese gesaghebbende woord-vir-woordvertalings soos die King James (1611), die Statenvertaling (1637) en die 1933/53-vertaling3 in 'n mate reg laat geskied aan die betrokke doeltaal, is die mate van formele ekwivalensie geen waarborg dat reg geskied het aan wat deur 'n spreker en/of verteller met 'n brontaaluiting bedoel is nie. Enkele voorbeelde illustreer dié realiteit.

In #1 word daar byvoorbeeld in die 1953-vertaling by 'n woordelikse vertaling gehou, soos ook in die King James Version (KJV). Die vraag is hoe 'n mens "jou oë na die weste op kan rig" indien jy reeds op 'n berg is? Die uitdrukking wat gebruik word, is bloot 'n idioom vir "te begin" of "goed te kyk" (Van den Heever 2013:298). Sien die 2020-vertaling in #1. In die geval van #2, sou mens kon argumenteer dat 'n brandende kool vir 'n hemelse wese nie sou gebrand het nie. Indien mens die moontlikheid in ag neem dat "in iemand se hand neem" ook kan beteken om "saam met hom/haar te neem" (Van der Merwe & Cornelius 2019:289), dan sou die 1953-vertaling se weergawe van #2 as 'n vertaalfout bestempel kon word. Vergelyk hoe dieselfde konstruksie elders (#3) in die 1953-vertaling korrek weergegee word.

#1 Deut 3:27

 

 

#2 Jes 6:6

 

 

#3 1 Kon 14:3

 

 

Die kerke wat die hervertaling versoek het, het aanvanklik gevra dat die 1953-vertaling hersien word. So 'n hersiening kon egter nie akademies verantwoord word nie (Van der Merwe 1999). Die 1983-vertaling, wat vir hierdie kerke nie aanvaarbaar was nie, het natuurlik ook gepoog om ekwivalent aan die bronteks te wees. Dit was egter 'n ekwivalensie op betekenisvlak. Die vertaalde teks moes dieselfde effek op die lesers hê as wat die brontaalteks op sy hoorders en lesers gehad het, is geargumenteer. Daarom is dit 'n dinamies- of funksioneel-ekwivalente benadering genoem (Majolo & Wendland 2003:2-4).

Deel van die dilemma van die BSA was dat die funksioneel-ekwivalente vertaalmodel van Eugene Nida in Bybelvertaalkringe net voor die eeuwisseling byna 'n kanonieke status geniet het. Meer problematies is die feit dat teen 2000 indringende kritiek ingebring kon word teen veral die taalmodel waarop Nida gesteun het (Majolo & Wendland 2003:4-10). Alhoewel Nida 'n briljante vertaalkundige was wat ook 'n grondige kennis van antropologie gehad het, en deeglik bewus was van die verskille tussen tale en kulture, het hy van die standpunt uitgegaan dat wat in een taal gesê word, ook in enige ander taal gesê kan word (Majolo & Wendland 2003:2). Dit het berus op 'n taalmodel wat talige uitdrukkings beskou as houers waarin betekenisse as inhoude verpak is. Die verskil tussen tale was bloot die feit dat hulle houers verskil het. Vir Bybelvertalers het dit beteken dat die betekenis (die inhoud) van die bronteksuitdrukkings (die houers) bepaal moes word, en dan herverpak moes word in die houers van die doeltaal (Nida 1964; Majolo & Wendland 2003:70). Vir die proses om die betekenis van talige uitdrukkings te bepaal, is "wetenskaplike" prosedures en hulpmiddele ontwerp (Nida 1964; Nida & Taber 1969).

Een van die hulpmiddele wat ontwikkel is, is 'n Grieks-Engelse woordeboek (Louw & Nida 1988). Die betekenis van woorde in hierdie woordeboek is tipies vasgestel deur te bepaal welke betekeniskomponente 'n uitdrukking het.4 Die betekenis van 'n uitdrukking is dan aan die hand van hierdie komponente in die woordeboek gedefinieer. Die verskille tussen woorde (en/of naby-sinonieme) wat in dieselfde betekenisveld gebruik is, is ook met verwysing na hierdie kleiner betekeniskomponente beskryf. Onderliggend aan die proses was die aanname dat die betekenis van talige uitdrukkings bepaal kan word deur veral na die verskille, ooreenkomste en verhoudings met ander woorde in abstraksie te kyk. Hierdie dekontekstuali-sering van taal en betekenis was tipies van die strukturalistiese taalkunde wat vir die grootste deel van die twintigste eeu die taalkunde-wêreld oorheers het (Geeraerts 2010:47-181). Met die opkoms van die kognitiewe taalkunde omstreeks die eeuwisseling het die prentjie verander (Burton 2017:1-17). Hierdie paradigmaskuif in die taalkunde het enige hersiening van die 1983-vertaling of verfyning van die funksioneel-ekwivalente model van Nida onmoontlik gemaak. Die andersheid van die 2020-Bybel se vertaalmodel hou direk verband met hierdie paradigmaskuif in die taalkunde.

 

3. DIE NUWE EN ANDERSOORTIGE VERTAALMODEL

Die aanloop en proses om 'n vertaalmodel te ontwikkel, asook die rede waarom Nord (1997) en Gutt (2000) se sienings geïntegreer is, is elders uitvoerig beskryf (Van der Merwe 2012). Die volgende kenmerke van die vertaalmodel is ter sake vir hierdie studie:

Die relevansieteoretiese benadering tot kommunikasie, waarop Gutt (2000) se beskrywing van Bybelvertaling as 'n moeilike vorm van sekondêre kommunikasie gegrond is, berus eerstens op die inferensiemodel van kommunikasie. Anders as Nida, maar soos veronderstel deur Nord,5 is talige uitdrukkings volgens dié model nie 'n stel houers wat met betekenis gevul is nie, maar is dit eerder simbole waaraan wêrelde van konseptuele inhoude gekoppel is. Dit impliseer dat een stel simbole nie in 'n vertaling bloot deur 'n ander stel vervang kan word nie. Dit mag soms nodig wees om die konseptuele inhoude wat aan die brontaalsimbool gekoppel is, vir 'n doeltaalgehoor te verduidelik. Sien #4 hier onder.

In 'n "direkte vertaling" wat as die skopos van die nuwe vertaling geïdentifiseer is, is die veronderstelling tweedens dat al die kommunikasieleidrade wat deur die bronteks gebied word in die ko- en konteks waarin dit gebruik is, geïnterpreteer en weergegee word asof dit in die oorspronklike brontaalkonteks gebruik is. Dit impliseer verder dat die vertaling van bron-taaluitdrukkings waarvan die ingebedheid in die wêreld van die sprekers van daardie tyd óf nie heeltemal deur tipiese doeltaallesers verstaan kan word nie, óf tot misverstande in die doeltaalkultuur aanleiding kan gee, spesiale aandag sal moet geniet. In sulke gevalle sou tersaaklike bykomende inligting in voetnotas verskaf kon word. Vergelyk #4 uit die nuwe vertaling se voetnotas a en b. In #4 dui "«Feeste" aan die einde van voetnotaa verder aan dat die konsep "feeste" vervat is in 'n woordelys waarin die verskillende feeste in die Bybel verduidelik word.

#4 Gen 1:14

 

 

Die skopos, "'n direkte vertaling", bied derdens 'n relatief gesproke6 bevatlike maatstaf vir die beoordeling van doeltaalvertalings: Hoe sou die Bybelse skrywer, verteller of spreker se Afrikaans in sy/haar tyd gepraat word indien ons hulle "direk" probeer aanhaal?

Beide die tekslinguistiese pragmatiese model soos verteenwoordig deur Nord (1991) en die relevansieteoretiese benadering (Sperber & Wilson 1986, 1995; Clark 2013) tot kommunikasie wat Gutt (2000) begrond, verteenwoordig gesofistikeerde modelle van hoe taal gebruik word om spesifieke kommunikatiewe doelwitte te bereik. Gutt (2000:130-167) stel byvoorbeeld 'n aantal kommunikasieleidrade aan die orde wat in ag geneem moet word in die analise van 'n bronteks. Vir vertalers van 'n antieke teks met 'n komplekse en lang oorleweringsgeskie-denis bied Nord en Gutt egter weinig hulp ten opsigte van die realiteit dat die vorm en/of betekenis van taal verander soos mense dit in verskillende omstandighede en tydgleuwe gebruik.

Die nuwe vertaalmodel het 'n alternatief gebied op beide 'n formeel-ekwivalente en 'n funksioneel-ekwivalente benadering tot Bybelvertaling. Die manier hoe die nuwe perspektief op die kompleksiteit van talige kommunikasie, veral die tyd-, kultuur-, individu- en situasiegebondenheid van die betekenis van taaluitinge, in ag geneem moet word in die vertaling van die Bybel, het egter gelei tot nuwe uitdagings wat die hoof gebied moes word. Vir dié doel was insigte wat die kognitiewe taalkunde gebied het, van groot nut.

 

4. KOGNITIEWE TAALKUNDE

'n Kenmerk van hierdie benadering is dat dit in wese aansluit by die tradisionele histories-filologiese benadering tot die verstaan van betekenis (Geeraerts 2010:273-277). Dit gaan van die veronderstelling uit dat betekenis van uitdrukkings konteksgebonde is en dat die betekenisse van polisemiese uitdrukkings tipies volgens algemene, naspeurbare patrone ontwikkel (byvoor-beeld van konkreet na abstrak). 'n Meer uitvoerige beskrywing van die perspektiewe wat kognitiewe taalkunde bied om Bybelhebreeus beter te verstaan, word elders beskryf (Van der Merwe 2020). In hierdie studie word gefokus op enkele perspektiewe wat direkte implikasies gehad het vir die andersheid van die betrokke hervertaling. Dit word met behulp van die voor-beelde in Afdeling 5 verduidelik.

Nuwe betekenisse gaan eerstens tipies gepaard met veranderings in die konseptuele wêrelde wat ter sprake is, asook die kollokasies en/of sintaktiese konstruksies waarin die nuwe betekenisse onderskei kan word. (Vergelyk #5 en #7.)

As funksionele benadering aanvaar kognitiewe taalkunde tweedens dat die betekenis van taaluitings nie sonder inagneming van die vorm waarin dit deur 'n spesifieke verteller of spreker aan die orde gestel word, volledig verstaan kan word nie. Die keuse van die taalvorme wat 'n spreker of verteller gebruik, verteenwoordig altyd die konstruksie van die gebruiker se persepsie van die werklikheid. Dit impliseer dat die inhoud wat gekommunikeer word, nie bepaal kan word sonder om die vorm waarin dit aangebied word, volledig in ag te neem nie. Soms kan spesifieke betekenisse ook aan spesifieke konstruksies gekoppel word. (Sien #8, #9 en #18.)

Die lys polisemiese betekenisse van 'n taalkundige uitdrukking wat in woordeboeke of grammatikas aangebied word, het derdens nie almal dieselfde status nie; sommige kan meer prototipies wees as ander - die spesifieke soort rooi waarna rooi in rooi lipstiffie verwys, is byvoorbeeld 'n meer prototipiese rooi as die rooi van 'n rooijakkals (kyk ook Van der Merwe 2018). (Sien #5-#7.)

In die vierde plek geskied betekenisverskuiwings van 'n konstruksie tipies geleidelik, van A na B en dan na C. Dit impliseer dat dit moontlik is dat daar gevalle van so 'n uitdrukking is waar dit wel duidelik is dat die betekenis daarvan A of C is, maar waar dit onseker is of dit A of B is. Die rooi van rooi lipstiffie (A) is duidelik verskillend van die rooi van rooijakkals (C). Laasgenoemde is egter nader aan, en mag selfs oorvleuel met, die rooi van rooi veluitslag (B). (Sien #8, #10 en #12.)

Vyfdens word die manier waarop sogenaamde aktiewesoneliggaamsdele, soos die hart, hand, keel, oog en oor, figuurlik (tipies metonimies) gebruik word, tans beter verstaan. Van die belangrikste insigte is dat sommige figuurlike gebruike van liggaamsdele byna universeel is, bv. "om in die hand van x te wees," word in byna alle tale verstaan as "om in die mag van x te wees". Ander figuurlike gebruike is weer baie taalspesifiek. (Sien #1, #3 en #11.)

Liggaamsdele ontwikkel verder dikwels tot voornaamwoorde. (Sien #2 en #13.) Die ontwikkeling van veral voornaamwoorde geskied stelselmatig en in die reël word die liggaams-dele metonomies gebruik om persone te skilder ten opsigte van die funksie wat tipies met die betrokke liggaamsdeel geassosieer word. As iemand byvoorbeeld sou sê: "Ek kort twintig 'hande'" beteken dit dat daar twintig mense benodig word wat hulle hande sou kan gebruik om die spreker te help. In Afrikaans sou die assosiasie dat die helpers hulle hande gebruik, mettertyd kon vervaag. "Ek kort twintig hande" kan dus ook die betekenis ontwikkel van "Ek kort twintig helpers". Wanneer laasgenoemde "grens" oorgesteek word, is nie altyd maklik om te bepaal nie - veral as die taal nie meer aktief gepraat word nie. (Sien #12.)

In die lig van hierdie perspektiewe is dit duidelik dat vertaling van 'n antieke teks, soos enige ander vertaling, transkulturele kommunikasie is en meer behels as die verwisseling van een stel taaltekens, dié van die brontaalkultuur, met 'n ander stel tekens, te wete dié van die doeltaalkultuur. Gutt (2000) is reg, Bybelvertaling is inderdaad 'n moeilike vorm van sekondêre kommunikasie. Een manier om hierdie uitdaging aan te pak is om Bybelvertaling te beskou as 'n onderhandelingsproses tussen twee partye, te wete brontaalkenners en doeltaalkenners. Waaroor onderhandel word, is hoe om die konstruering van betekenis deur brontaalsprekers van die Bybelse tyd uit te bring by die manier waarop hedendaagse (Afrikaanssprekende) Bybellesers betekenis in hulle wêreld konstrueer. Met "uit te bring" word nie "versoen" bedoel nie, maar eerder veral die sodanige uitoefening van vertaalopsies dat die kommunikasieleidrade van die bronteks in die idiomatiese Afrikaans ondervang word7 en dat gevalle waar die andersheid van die brontaalkultuur vereis dat die konseptuele wêreld van die lesers verruim moet word, geïdentifiseer word.

 

5. voorbeelde

Die voorbeelde wat hier aangebied word, verteenwoordig uit die aard van die saak 'n klein seleksie. Dit behels 'n baie kultuurspesifieke leksikale konsep in 5.1; 'n liggaamsdeel wat verskeie betekenisse het, onder andere 'n grammatikale betekenis in 5.2; 'n hoogs polisemiese voegwoord wat meer as 5 000 keer in die OT voorkom in 5.3; en laastens 'n relatief omstrede diskoersmerker in 5.4. Die konstruksies wat geïllustreer word, verteenwoordig oorwegend gevalle wat 'n uitdaging was vir die vertaalspan en/of gebaat het by navorsing wat geïnisieer is om hierdie uitdagings die hoof te bied.

5.1 Kultuurspesifieke konsep: "ban/bangoed/met die banvloek tref"

In #5-7 bied die uitdrukking, wat na die werkwoordstam teruggevoer kan word, 'n tweeledige uitdaging vir vertalers.

#5 Jos 6:21

 

 

#5 Jos 6:21 (vervolg)

 

 

In die eerste plek is dit 'n uitdrukking wat verwys na 'n konsep wat buite die ervaringswêreld van tipiese sprekers van Afrikaans is. Die tradisionele vertaling van "met die banvloek tref", soos in die 1953-vertaling, maak vir moderne lesers nie goed sin indien hulle konseptuele wêreld nie met behulp van ensiklopediese inligting verruim word nie - soos wat die 2020-vertaling wel doen deur middel van 'n woordelysinskrywing wat soos volg lui:

Ban/Bangoed/Banvloek Tydens die inname van die beloofde land is bangoed geassosieer met mense van die streek wat ander gode aanbid het. Omdat hulle en hulle afgode die Israeliete kon laat afdwaal, moes hulle en al hulle besittings heeltemal vernietig word. As iets in hierdie konteks met die ban of banvloek getref is, is dit as iets afstootliks beskou en moes dit vernietig word. Soms het die banvloek slegs vir die mense gegeld (Deut 2:34-35; Jos 8:2; 10:28-40) en is die oorlogsbuit wel deur die oorwinnaars vir eie gebruik geneem (Jos 11:12-14). In Josua 6 en 7 moes alles vernietig word, en hier word die bangoed beskou as iets wat aan die Here behoort. As gewone mense daarvan vir hulle sou neem, sou dit meebring dat hulle en hulle volksgenote vernietig moes word. 'n Stad in Israel wat ontrou was teenoor God en ander gode gedien het, kon ook met die banvloek getref word (Deut 13:13-16). In sommige gevalle, veral in tekste uit die latere geskiedenis, vervaag die taboe-dimensie van die terme "met die ban/banvloek tref". Dit verwys dan eerder primêr na die volledige vernietiging van 'n dorp, stad of land en sy mense. Bangoed kon ook iets wees wat aan God gewy was en aan Hom behoort het (soos in Jos 6 en 7). Dit is in later tye gewoonlik onttrek van die alledaagse gebruik en het deel van die tempelskatte geword, of is aan die priesters gegee. As iets as ban gewy was, was dit hoogheilig en het dit vir altyd aan God (of sy priesters) behoort. Die proses kon nie omgekeer word nie. As mense onder die ban was, was hulle bestem om gedood te word (Lev 27:28-29).

Dit is in die tweede plek 'n woord waarvan die betekenis verskuiwings ondergaan het. Dit is egter nie altyd klinkklaar of die nuwe betekenisse al die konnotasies van die meer prototipiese gebruik behou het nie. In #6 kan geoordeel word dat die vervloekingsdimensie moontlik nog aanwesig is. In #7 suggereer die buite-Israelitiese konteks dat die goddelike vervloekingsdimensie vervaag het - en dat primêr verwys word na volledige vernietiging.8

#6 Jer 50:21

 

 

#7 Dan 11:44

 

 

5.2 Liggaamsdeel: נפֶֶשׁ

Die basiese betekenis van נפֶֶשׁ is tradisioneel beskou as "siel" en die meeste akademiese debatte oor die uitdrukking het oor eeue heen gewentel om wat in die Hebreeuse denkwêreld bedoel word met die uitdrukking "siel". In die loop van die twintigste eeu is onteenseglike filologiese getuienis gekry dat die mees konkrete betekenis van die uitdrukking "keel" is en dat al die ander betekenisse van נׁפֶֶשׁ hierna teruggevoer kan word.9

In #8 word die konkrete gebruik duidelik geïllustreer, en word dit ook deur die 1983-vertaling en die NLV so weergegee. Alhoewel dieselfde konstruksie (עַד־נֶפֶשׁ) in #9 gebruik word, gee laasgenoemde twee vertalings dit nie so weer nie. In #10 is dit net die 2020-vertaling wat oordeel dat die konteks genoegsame aanduidings gee dat die meer konkrete betekenis van נׁפֶֶשׁ aan die orde is.

#8 Ps 69:1

 

 

#9 Jona 2:6

 

 

#10 Jes 58:11

 

 

Aangesien daar empiriese getuienis is oor die omvang van die taal- en kultuurspesifieke figuurlike gebruik van liggaamsdele, is vir die 2020-vertaling besluit dat in gevalle waar 'n liggaamsdeel se gebruik baie duidelik ' n taaleienskap van die bronteks is, 'n poging aangewend moet word om so 'n liggaamsdeel weer te gee met 'n liggaamsdeel wat tipies aan die doeltaalkultuur is. Om die rede is נפֶֶשׁ in #11 met hart vertaal - anders as die 1953-vertaling, maar soos die 1983-vertaling en NLV

#11 2 Sam 3:21

 

 

Soos vermeld in Afdeling 4, het kognitiewe semantici in die onlangse verlede aangetoon dat betekenisverskuiwings baie geleidelik geskied. Dit mag aanleiding gee tot gevalle waar dit moeilik is om te bepaal of daar in 'n bepaalde konteks 'n heeltemal nuwe betekenis aan die orde is, en of daar nog elemente van 'n vorige betekenis betrokke is. In #12 is die vraag dus of וְנַפְׁשֵנוּ gegrammatikaliseer is tot 'n persoonlike voornaamwoord - soos dit die geval is in #13, en of die sprekers bewustelik na hulleself verwys met die liggaamsdeel wat die walgende sensasie ervaar.

#12 Num 21:5

 

 

#13 Jer 26:19

 

 

In die Psalms word נפֶֶשׁ dikwels metonimies gebruik. 'n Kenmerk van die gebruike is dat dit verwys na die diepste wese van 'n persoon wat tipies in die nood is of een of ander behoefte en/of verlange het. In #14 verskil die 2020-vertaling van die ander onlangse vertalings deur die term "siel" te behou, maar in 'n kollokasie waar dit duidelik is dat "siel" nie verwys na die konsep "onsterflike siel" wat tipies in die Nuwe Testament gebruik word nie. In #15 word enige onsekerheid oor wat met "siel" bedoel word, weer uit die weg geruim met behulp van 'n voetnota. Daar sou 'n argument uitgemaak kon word dat die voetnota nog meer spesifiek kon wees, byvoorbeeld: "Die Hebreeuse woord verwys hier na die innerlike dimensie van 'n mens se lewe wat geassosieer word met sy/haar diepste behoeftes en/of gevoelens van afhanklikheid vir sy/haar redding van God."

#14 Ps 6:3-4

 

 

#15 Ps 42:2

 

 

5.3 Voegwoord: יכִּ

Die polisemiese verhoudings tussen die verskillende betekenisse van יכִּ, is onlangs uitvoerig in 'n PhD-studie beskryf.10 Die uitdrukking funksioneer tipies as 'n voegwoord, maar dit word ook as 'n diskoersmerker gebruik. In laasgenoemde gevalle motiveer die spreker een of meer voorafgaande taalhandelinge. In Psalm 1:6 (#16) motiveer die psalmis waarom hy verse 1-5 kan uit. Dit wat in vers 6 gesê word, is egter alreeds geïmpliseer deur wat in verse 1-5 gesê word. Alhoewel "want" die mees prototipiese betekenis van יכִּ is, sou geargumenteer kon word dat dit nie heeltemal sin maak in Psalm 1:6 nie. Die 1983-vertaling probeer al 'n alternatief bied. Die probleem met "waarlik" is dat dit gewoonlik verstaan word as 'n modale bywoord wat 'n spreker se oortuiging uitdruk oor die korrektheid van die inhoud van sy/haar uiting. Die uitdrukking "ja" het verskillende betekenisse. Volgens die WAT (2014) kan "ja" dien as "beaming, versterking van die spreker se eie bewering met daaropvolgende aanvulling".

#16 Ps 1:6

 

 

In #17 illustreer die 2020-vertaling hoe die probleem van twee opeenvolgende "motiverings" gemerk deur יכִּ in idiomatiese Afrikaans weergegee kan word. Die "ja" in Afrikaans suggereer net soos "want" 'n kousale verband. Dit verwoord egter die pragmatiese dimensie van die inligting ter sprake. Dit beaam naamlik 'n verdere implikasie van wat reeds geuit is.

#17 Ps 18:21-23

 

 

Alhoewel geargumenteer kan word dat die weglating van die tweede יכִּ in #17 geen verskil aan die proposionele inhoud maak wat gekommunikeer word nie (soos deur die 1983-vertaling), het psigolinguistiese empiriese toetse aangedui dat die eksplisiete merkers van kousale verhoudings die prosessering van die verbande tussen uitings vergemaklik (Noordman & Vonk 1997:88).

5.4 Diskoersmerker: הנּהִֵ

Volgens een van die mees gesaghebbende Bybelhebreeuse woordeboeke, Koehler et al. (1994-2000:251), is הנּהִֵ 'n "deictic and interrupting interj., extended from ןהֵ, supersedes האֵרְ with the same meaning". Hierdie tipering van die oorsprong van die uitdrukking en die aanname dat dit presies dieselfde funksie het as האֵרְ, is hoogs aanvegbaar (Van der Merwe 2011).

Net so kan die toereikendheid van die leksikografiese beskrywing van die funksies van הנּהִֵ n ander gesaghebbende woordeboeke en grammatikas bevraagteken word (Van der Merwe 2007; Miller-Naudé & Van der Merwe 2011). Dit verklaar heel waarskynlik waarom die interpretasie van elkeen van die vertalings hier onder verskil van die betekenis van הנּהִֵ in #18. Die andersheid van die 2020-vertaling setel in die feit dat dit berus op onlangse uitvoerige studies van die gebruike van die partikel wat die verskillende betekeniskategorieë kon koppel aan relatief duidelik identifiseerbare kontekstuele kriteria. In #18 vestig die spreker byvoorbeeld met behulp van הנּהִֵ die aandag op wetenswaardige inligting wat 'n daaropvolgende taalhandeling begrond. Volgens die kenners van Afrikaans in die 2020-vertaalspan, doen "kyk" in Afrikaans presies dieselfde as wat הנּהִֵ in Bybelhebreeus doen.

#18 Gen 16:6

 

 

In die vermelde studies van הנּהִֵ is bepaal dat die mees prototipiese gebruik van הנּהִֵ in Bybel-hebreeus is om na inligting te verwys wat 'n karakter nie te wagte was nie. Beide in droom-aankondigings en droomvertellings word die uitdrukking in Bybelhebreeus baie meer herhaal as wat tipies in droomvertellings in Afrikaans die geval is. Vertalers is dus onseker hoe om dit in idiomatiese vertalings weer te gee. In #19 het die 1983-vertaling en die NLV geoordeel dat הנּהִֵ in sulke gevalle onvertaald gelaat kon word. Selfs die 1953-vertaling het die konstruksie in die droomaankondiging nie weergegee nie. Daarenteen laat die 2020-vertaling in idiomatiese Afrikaans reg geskied aan die funksie van die uitdrukking in al die gevalle waar dit gebruik word.

#19 Gen 41:1-3

 

 

#19 Gen 41:1-3 (vervolg)

 

 

6. SAMEVATTING

Die 2020-vertaling is anders as die ander vertalings van die Bybel in Afrikaans. Die rede hiervoor was die noodsaak om 'n ander manier as formele of funksionele ekwivalensie te vind om die behoeftes van kerke wat die Bybel in Afrikaans gebruik, te bevredig, naamlik om 'n verstaanbare vertaling wat baie na aan die bronteks bly, in idiomatiese Afrikaans aan te bied.

In die alternatiewe vertaalmodel is 'n byna onmoontlike ideaal gestel, te wete 'n "direkte" vertaling wat poog om die bronteks te vertaal asof die skrywers direk in goeie idiomatiese Afrikaans aangehaal word. Die vertaalmodel het 'n grondige besinning vereis oor die taalmodel waarmee gewerk sou word. In hierdie verband het die kognitiewe taalkunde waardevolle insigte gebied. Baie van hierdie insigte is nie heeltemal nuut nie, maar eerder verdere ontwikkelinge en/of verfynings van tradisionele kennis waarmee alreeds in die histories-filologiese semantiek gewerk is. 'n Voorbeeld in hierdie verband is die feit dat taal volledig ingebed is in die kultuur en ervarings van die sprekers van 'n taalgemeenskap. Die aanvaarding van hierdie realiteit het daarop uitgeloop dat teruggeval is op 'n konvensie van die vertalers van die Statenvertaling (1637), te wete dat die vertaling van 'n antieke godsdienstige teks nie sonder toeligtende notas verstaan kan word nie (#4, #5 en #15).

Verdere waardevolle insigte van die kognitiewe taalkunde wat ook dikwels daartoe bygedra het dat die 2020-vertaling verskil van ander aktiewe vertalings, is:

dat daar onderskei moet word tussen die prototipiese en minder prototipiese betekenisse van uitdrukkings (#5 en #7);

dat betekenisverskuiwings geleidelik geskied, eie is aan menslike taal en dat sommige onderskeidings moeilik is om te maak (#12);

en dat betekenisonderskeidings tipies met kenmerkende ko- en kontekstuele raam-werke vir elkeen daarvan gepaard gaan (#5 en #7, asook #9 en #10).

Die 2020-vertaling bevestig ten slotte die hervertalingshipotese en dit is inderdaad in baie opsigte anders as ander aktiewe vertalings van die Bybel in Afrikaans. Nogtans stem dit in een opsig ooreen met enige ander Bybelvertaling: Dit is naamlik die produk van mense en is as sodanig nie sonder foute en/of onsekerhede nie (#12 en #15).

 

BIBLIOGRAFIE

Burton, M.E. 2017. The semantics of glory. A cognitive corpus-based approach to Hebrew word meaning. Leiden: Brill.         [ Links ]

Chesterman, A. 2000. A causal model for translation studies. In Olohan, M. (ed.). Intercultural faultlines: Research models in translation studies I: Textual and cognitive aspects. Manchester: St. Jerome, pp. 15-27.         [ Links ]

Clark, B. 2013. Relevance theory. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

De Prenter, J.A. 2012. The contrastive polysemous meaning of םרח in the book of Joshua: A cognitive linguistic approach. In Noord, E. (ed.). The book of Joshua. Leuven: Peeters, pp. 473-488.         [ Links ]

Die Boodskap: Die Bybel in hedendaagse Afrikaans. 2002. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.         [ Links ]

Die Bybel in Afrikaans. 1953. Kaapstad: Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.         [ Links ]

Die Bybel in Afrikaans. 1983. Kaapstad: Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.         [ Links ]

Die Bybel vir Dowes. 2007. Kaapstad: Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.         [ Links ]

Die Bybel: Nuwe Lewende Vertaling (NLV). 2006. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.         [ Links ]

Die Lewende Bybel. 1982. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.         [ Links ]

De Statenvertaling [1637] 1997. Electronic ed. Bellingham, WA: Logos Bible Software.         [ Links ]

Follingstad, C.M. 2001. Deictic viewpoint in biblical Hebrew text: A syntagmatic and paradigmatic analysis of the particle כִּ (ki). Dallas, Texas: SIL.         [ Links ]

Geeraerts, D. 2010. Theories of lexical semantics. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Gutt, E.A. 2000. Translation and relevance: Cognition and context. Manchester: St Jerome.         [ Links ]

KJV 1995 (electronic version of the 1769 edition of the 1611 Authorized Version). The holy Bible: King James Version. Bellingham, Logos Research Systems, Inc.         [ Links ]

Koehler, L., Baumgartner, W., Richardson, M.E.J. & Stamm, J. 1994-2000. The Hebrew and Aramaic Lexicon of the Old Testament. Leiden: Brill.         [ Links ]

Locatell, C.S. 2017. Grammatical polysemy in the Hebrew Bible: A cognitive linguistic approach to ki. PhD dissertation: University of Stellenbosch.         [ Links ]

Locatell, C.S. 2019. Causal relationships communicated with כִּ: A cognitively oriented analysis. Journal of Northwest Semitic Languages, 45(2):79-102.         [ Links ]

Louw, J.P. & Nida, E. A. 1988. Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains. New York, N.Y.: United Bible Societies.         [ Links ]

Miller-Naudé, C.L. & Van der Merwe, C.H.J. 2011. הנּהִֵ and mirativity in Biblical Hebrew. Hebrew Studies, 52(1):53-81.         [ Links ]

Mojola, A.O. & Wendland, E. 2003. Scripture translation in the era of translation studies. In Wilt, T. (ed.). Bible translation: Frames and reference. Manchester: St. Jerome, pp. 1-26.         [ Links ]

Müller, K. 2018. Lobe den Herrn Meine "Seele": Eine kognitiv-linguistische Studie zur Ncefces des Menschen im Alten Testament. Stuttgart: Kohlhammer.         [ Links ]

Nida, E.A. 1964. Towards a science of translating, with special reference to principles and procedures involved in Bible translating. Leiden: Brill.         [ Links ]

Nida, E.A. & Taber, C.R. 1969. The theory and practice of translation. Leiden: Brill.         [ Links ]

Noordman, L.G.M. & Vonk, W. 1997. The different functions of a conjunction in constructing a representation of the discourse. In Costermans, J. & Fayol, M. (eds). Processing interclausal relationships: Studies in the production and comprehension of text. Mahwah, New Jersey: Lawrence Erlbaum Associates, pp. 75-93.         [ Links ]

Nord, C. 1991. Text analysis in translation: Theory, methodology and didactic application of a model for translation-oriented text analysis. Amsterdam: Rodopi.         [ Links ]

Nord, C. 1997. Translating as a purposeful activity. Manchester: St. Jerome.         [ Links ]

Nord, C. 2001. Loyalty revisited: Bible translation as a case in point. The Translator, 7(2):185-202.         [ Links ]

Palopski, O. & Koskinen, K. 2004. Thousand and one translations: Retranslation revisited. In Hansen, G., et al. (eds). Claims, changes, and challenges. Amsterdam: John Benjamin, pp. 27-38.         [ Links ]

Pym, A. 2010. Exploring translation theories. New York: Routledge.         [ Links ]

Sperber, D. & Wilson, D. 1986. Relevance: Communication and cognition. Oxford: Blackwell.         [ Links ]

Sperber, D. & Wilson, D. 1995. Relevance: Communication and cognition. Second edition. Cambridge: Blackwell.         [ Links ]

Van den Heever, C.M. 2013. Idioms in Biblical Hebrew: Towards their identification and classification with special reference to 1 and 2 Samuel. PhD dissertation: University of Stellenbosch.         [ Links ]

Van der Merwe, C.H.J. 1999. 'n Konkordante vertaling van die Bybel in Afrikaans: Is dit hoegenaamd verantwoordbaar, en hoe sal dit lyk? Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 40(3-4):293-306.         [ Links ]

Van der Merwe, C.H.J. 2007. A cognitive linguistic perspective on הנּהִֵ in the Pentateuch, Joshua, Judges and Ruth. Hebrew Studies, 47:238-277.         [ Links ]

Van der Merwe, C.H.J. 2011. The difference between הנּהִֵ ,ןהֵ and האֵרְ. In Gass, E. & Stipp, H.-J. (Hrsg.) "Ich werde meinen Bund mit euch niemals brechen!" (Ri 2,1). Festschrift für Walter Gross zum 70.Geburtstag. Freiburg: Herder, pp. 237-256.         [ Links ]

Van der Merwe, C.H.J. 2012. The Bible in Afrikaans: A direct translation - a new type of church Bible. Hervormde Teologiese Studies, 68(1): http://dx.doi.org/1210.4102/hts.v1268i1201.1204.         [ Links ]

Van der Merwe, C.H.J. 2014. Direkte vertaling van die Bybel as antieke teks: Net 'n nuwe benaming vir 'n stokkerige woordelikse vertaling? LitNet Akademies, 11(3):Des. 2014.         [ Links ]

Van der Merwe, C.H.J. 2016. How 'direct' can a direct translation be? Some perspectives from the realities of a new type of church Bible. HTS Teologiese Studies, 72(3). http://dx.doi.org/10.4102/hts.v72i1.3233        [ Links ]

Van der Merwe, C.H.J. 2018. The polysemous relationships between the senses of the verbal root prn. Biblica, 99(2):1-23.         [ Links ]

Van der Merwe, C.H.J. 2020. Biblical Hebrew and cognitive linguistics. A general orientation. (Unpublished document)        [ Links ]

Van der Merwe, C.H.J. & Cornelius, I. 2019. A profile of T in the book of Jeremiah: A perspective from lexical typology and material culture. In Michael, A. & Rüttgers N.K. (Hrsg.). Jeremia, Deuteronomismus und Priesterschrift. Beiträge zur Literatur- und Theologie-geschichte des Alten Testaments. Festschriftfür Hermann-Josef Stipp zum 65.Geburtstag. Sankt Ottilien: EOS, pp. 279304.         [ Links ]

Van der Merwe, C.H.J., Naudé, J.A. & Kroeze J.H. 2017. A Biblical Hebrew reference grammar. Second edition. London: Bloomsbury.         [ Links ]

Versluis, A. 2016. Devotion and/or destruction? The meaning and function of םרח in the Old Testament. Zeitschrift für die alttestamentliche Wissenschaft, 128(2):233-246.         [ Links ]

Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). A tot Skooi. 2014. Buro van die WAT: Stellenbosch.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2020-03-01
Goedgekeur: 2020-03-19
Gepubliseer: Desember 2020

 

 

 

Christaan Hendrik Jacobus van der Merwe is in 1985 aangestel as lektor aan die Universiteit van die Noorde (tans Universiteit van Limpopo). Hy behaal in 1988 'n DLitt in Semitiese Tale aan die Universiteit Stellenbosch en sluit in 1989 as navorser by dié universiteit aan. Tans dien hy as professor in die Departement Antieke Studie en direkteur van die Sentrum vir Bybelinterpretasie en -vertaling in Afrika op Stellenbosch. Hy is ook redakteur van die Journal of Northwest Semitic Languages. Sedert 2017 is hy 'n navorsingassosiaat van die Departement van Asiatiese en Midde-Oosterse Studie van die Universiteit van Cambridge. Hy het 56 artikels in geakkrediteerde tydskrifte en 16 hoofstukke in boeke gepubliseer. Hy het alreeds 17 meesters-en 24 PhD-grade begelei. Hy was die redakteur van die Lexham Hebrew-English Interlinear Bible en medeskrywer van A Biblical Hebrew Reference Grammar (Sheffield 1999). 'n Grondig bygewerkte en uitgebreide tweede weergawe van die grammatika verskyn in 2017 by Continuum, Londen. Hy dien as Hebreeuse taalkenner vir die Afrikaanse weergawe van Die Bybel vir die Dowes (1998-2005). Van 2005 tot 2020 was hy deel van die redaksie van die nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans.
Christaan Hendrik Jacobus van der Merwe was appointed as lecturer at the University of the North (currently University of Limpopo) in 1985. He obtained a DLitt in Semitic Languages in 1988 at Stellenbosch University and joined this university in 1989 as researcher. Currently he serves as professor in the Department of Ancient Studies and director ofthe Centre for Bible Interpretation and Translation in Africa at Stellenbosch University. He is also the editor of the Journal of Northwest Semitic Languages. He has been a research affiliate of the Department of Asian and Middle Eastern Studies at the University of Cambridge since 2017. He has published 56 articles in accredited journals and 16 chapters in books, and has supervised 17 masters and 24 PhD degrees. He was editor of the Lexham Hebrew-English Interlinear Bible and co-authored A Biblical Hebrew Reference Grammar (Sheffield 1999). A thoroughly revised and expanded second edition of this grammar was published in 2017 by Continuum, London. He served as Hebrew language expert for the Afrikaans version of the Bible for the Deaf (1998-2005). From 2005 to 2020 he was a member of the editorial committee of the new translation of the Bible into Afrikaans.
1 Die Lewende Bybel (1982) en Die Boodskap (2002) is streng gesproke parafrases van die bronteks en is by implikasie nog verder van die bronteks verwyder.
2 Aangesien Die Lewende Bybel (1982) en Die Boodskap (2002) parafrases is, gaan ek hulle ter wille van ruimte nie hier bespreek nie. Die Bybel vir Dowes (2007) word ook buite rekening gelaat omdat dit van meet af moes voldoen aan sommige vereistes van die gehoor waarop dit gemik was.
3 Die 1953-vertaling is 'n "ligte" hersiening van die 1933-vertaling.
4 Vir die agtergrond en fyner detail van "componential analysis", sien Geeraerts (2010:71-80).
5 Die inferensiemodel van kommunikasie is volledig versoenbaar met die tipe tekslinguistiese analise waaraan Nord (1991) veronderstel die vertalings van brontekste onderwerp moet word.
6 Ek gebruik die term "relatief gesproke" omdat die term "direkte vertaling" maklik verstaan kan word as 'n woord-vir-woordvertaling. Sien Van der Merwe (2014).
7 Vir 'n meer uitvoerige bespreking van wat "kommunikasieleidrade" presies is, sien Gutt (2000:136167). Vir 'n kritiese bespreking van die konsep, sien Van der Merwe (2016).
8 Wat die konsep "ban/bangoed/met die banvloek tref" nog meer problematies maak, is dat geleerdes nog nie heeltemal eens is oor hoe die betekenis van die brontaaluitdrukkings ontwikkel het nie, asook hoe al die gebruike daarvan verstaan moet word nie. Sien byvoorbeeld De Prenter (2012) en Versluis (2016).
9 Vir die besonderhede van hierdie debat, sien Müller (2018:19-101).
10 Locatell (2017). Sien ook Locatell (2019) vir die verskillende kousale verbande wat die uitdrukking kan hê. Locatell is nie die eerste PhD wat aan
יכִּ gewy word nie; sien ook Follingstadt (2000).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons