SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 número4-1New and old treasures: The 2020 Afrikaans translation of the Bible as a retranslation índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.60 no.4-1 Pretoria dic. 2020

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n4-1a1 

VOORWOORD

 

Voorwoord

 

 

Die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans was in baie opsigte 'n ambisieuse projek. Die versoek van kerke in die laat 1990's vir 'n vertaling wat nader aan die bronteks is, het 'n verskeidenheid uitdagings gebied, byvoorbeeld onsekerheid en verskil van mening oor hoe 'n vertaling van die Bybel "nader aan die bronteks" kom; die fokus in Bybelvertaalkringe op die sogenaamde funksioneel-ekwivalente benadering tot Bybelvertaling, waarin verstaanbaarheid van die bronteks vir moderne lesers tipies meer gewig gedra het as getrouheid aan die kompleksiteite van die brontale, en ook die andersheid van die antieke brontaalkulture; die vereiste dat die vertaalproses en eindproduk inklusief en verteenwoordigend moet wees van al die potensiële lesers, om slegs enkeles te noem. Om die projek te bestuur, sou meer as Salomo se wysheid verg. Die projekleier moes die vermoë hê om fyn, onbevange en geduldig te luister, moes onder alle omstandighede die belange en doelwitte van die projek bo persoonlike voorkeure kon stel, moet met gewone lesers sowel as akademici met uiteenlopende (en soms onrealistiese) verwagtinge in 'n verskeidenheid vakrigtings en met soms botsende teoretiese agtergronde kon werk, en moes bereid wees om onvermoeid en soms ongewone en lang ure, dikwels weg van sy eie huis, te werk. So 'n projekleier was Bernard Combrink. Dit is 'n voorreg om hierdie bundel aan hom op te dra - 'n mens wat groot deernis het en die respek afdwing van almal wat sy pad kruis. Met sy menslikheid, sy akademiese integriteit en sy werkywer was hy vir meer as 15 jaar die spilpunt van die projek waaroor hier berig word.

Hierdie bundel artikels weerspieël die kompleksiteit van die proses wat met die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans gevolg is. Dit was 'n spanpoging waarin taalkundiges, letterkundiges, vertaalkundiges, kenners van Grieks en Hebreeus, Ou Testamentici en Nuwe Testamentici almal 'n rol gespeel het. Jacobus Naudé analiseer en beskryf hierdie vertaling as 'n hervertaling in die konteks van die vorige vertalings van die Bybel in Afrikaans deur gebruik te maak van die narratiewe raamteorie van Mona Baker. Hy wys daarop dat hierdie vertaling deur die gebruik van metatekste en paratekste die reduksionisme van die 1933/53-vertaling, met sy klem op vorm, en van die 1983-vertaling, met sy klem op betekenis, vermy. Christo van der Merwe argumenteer (en illustreer met voorbeelde) dat die andersheid van die 2020-vertaling berus op die innoverende vertaalmodel wat "noodgedwonge" vir die projek ontwikkel moes word. Vir hom as brontaalkenner was insigte uit die kognitiewe taalkunde oor die kultuurgebondenheid van taal, asook die betekenisverskuiwings wat tipies plaasvind in taal na gelang mense dit gebruik, van groot nut om reg te laat geskied aan die "andersheid" en uitdagings van die antieke taal en kultuur, veral as daar in idiomatiese Afrikaans altyd so na as moontlik aan die bronteks gehou moes word.

Wat die Ou Testament betref, bespreek Herrie van Rooy die Hebreeuse grondteks wat vir hierdie vertaling gevolg is, sowel as die tekskritiese hantering van die grondteks. Die vertaling poog om so min as moontlik van die grondteks af te wyk, behalwe in die gevalle waar die grondteks so problematies is dat dit nie direk vertaal kan word nie. In die proses is besondere aandag gegee aan die plek van die antieke Bybelvertalings in Grieks, Latyn, Siries en Aramees. Wat die inhoudelike hantering van die Ou Testament betref, bespreek hy enkele moeilike sake waaroor besluite geneem moes word, soos die vertaling van die name van God in die Ou Testament (veral Jahwe en Adonai) en ander persoonsname, mate en gewigte, en die sogenaamde Messiaanse tekste in die Ou Testament. Die hantering van sulke sake word vergelyk met die hantering daarvan in die 1933/53- en 1983-vertalings.

Die Loodskomitee vir die 2020-vertaling het besluit om die vierde hersiene uitgawe van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe se Griekse Nuwe Testament as bronteks te gebruik. Gert Jordaan bespreek die riglyne waarop besluit is betreffende die tekskritiese hantering van die teks, en beoordeel die eindproduk van die vertaalwerk in die lig van hierdie besluite. Jan Barkhuizen bespreek vertaalprobleme in die Nuwe Testament, met besondere aandag aan grammatikale sake. Die probleme raak tekste wat vertaal word met 'n verkeerde inter-pretasie van die Griekse grondteks, tekste wat op meer as een manier vertaal kan word, en tekste waarin fyner nuanses in die bronteks voorkom.

Die 2020-vertaling verskyn in meer as een uitgawe. Een van die uitgawes sluit die Deuterokanonieke Boeke in, boeke wat deel is van die Bybel wat die Rooms-Katolieke Kerk gebruik. In ander tradisies staan hierdie boeke bekend as die Apokriewe Boeke. Johann Cook se bydrae handel oor die boek Ekklesiastikus, ook bekend as die Wysheid van Jesus, die seun van Sirag. Die teks is oorspronklik in Hebreeus geskryf en tussen 132 en 117 v.C. in Grieks vertaal. Hy bespreek die ontstaan, oorlewering en vertaling van die boek. Hy oordeel dat die Griekse filosofie weinig invloed op die Ou Griekse vertaling van die boek gehad het. Gert Steyn hanteer die vertaalproblematiek van die woord/e vir "swaard" in 1 en 2 Makkabeërs. In die Grieks word drie verskillende woorde vir 'n swaard gebruik. Die drie woorde word dikwels generies met "swaard" vertaal, maar op strategiese plekke dui voetnote wel die tipe swaard aan.

In die vertaalproses wat vir die 2020-vertaling gevolg is, het letterkundiges en taalkundiges as deel van die onderskeie redaksionele komitees 'n belangrike rol gespeel. Karen de Wet bespreek die proses en praktyk wat vir die 2020-vertaling gevolg is, met aandag aan die rolle van die verskillende rolspelers in die aanvanklike boekspanne en die latere redaksionele komitees. Heilna du Plooy fokus op literêre kwessies en die werk van die literêre adviseurs in die vertaalproses. Die literêre adviseurs se bydrae was in die besonder daarop gemik om reg aan die eindproduk as religieuse en literêre teks te laat geskied. Sy lig hierdie sake toe met voorbeelde uit die Psalms.

Jac Conradie vergelyk sewe vertalings van die Evangelie volgens Markus om na te gaan in watter mate hulle die ontwikkeling van Afrikaans in die afgelope eeu of meer weerspieël. Hy bespreek verskynsels soos die wegval van die -e-uitgang by attributiewe byvoeglike naamwoorde, die hulpwerkwoord wat deur het vervang is, en die vervanging van is/wees deur het as hulpwerkwoord by onakkusatiewe werkwoorde. Ernst Kotzé bespreek aan-spreekvorme en pronominale verwysing na persone in die 2020-vertaling. Die bespreking geskied aan die hand van 'n aantal tekste en met 'n vergelyking van die hantering hiervan in tale soos Nederlands, Engels, Duits en Noorweegs.

In 'n afsonderlike artikel bied Daan Cloete sy persoonlike belewenis van die hele vertaal-proses, met aandag aan die proses wat gevolg is, probleme wat ervaar is en die konteks waarbinne die vertaling aan lesers aangebied word.

Ons hoop dat hierdie artikels insig sal bied in die vereistes waaraan die 2020-vertaling moes voldoen, die benadering(s) wat gevolg is en problematiese sake wat in die loop van die vertaling die hoof gebied moes word. Aangesien die vertaling deur mense gedoen is, sal dit beslis nie sonder foute en/of inkonsekwenthede wees nie. Ons vertrou egter dat hierdie artikels u as lesers sal oortuig dat hierdie vertaling andersoortig is en poog om so "eerlik" as moontlik te wees!

Christo van der Merwe en Herrie van Rooy

Gasredakteurs

Oktober 2020

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons