SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue3Michel Serres, die ondeunde denker - 'n huldeblykDie trekos en trektoerusting in Suid-Afrika: 'n historiese perspektief author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.60 n.3 Pretoria Sep. 2020

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n3a18 

GEDIGTE

 

 

HERFSLEWE

Vanoggend kom die son tog weer op en ek eet lang tand my bordjie sop; witstinkhout blare val op my kop en hart totdat alles een winternag stop.

BY DIE DOOD VAN 'N MOEDER

Familielede is draers van die kis langs mekaar, maar hulle is almal lankal kwaad uitmekaar, met verversings sit hulle om tafels en stryk verskille uit; daar eenkant staan 'n soutpilaar, bot en onversoenbaar.

GESELLIGHEID

Heel gesellig eet ons klomp by ou perskebome saam aan ons laaste suur laatvruggies, wie weet, ons laaste maal; ons is vrolik as ons lag oor die jare in 'n knipoog vergaan, dan lui daar 'n foon: ou Japie is dood - stil heengegaan.

OUETEHUIS?

Ek sien dit in een kind se oë: wat van 'n ouetehuis, dan kom nog twee en bespreek ons toekoms as ons rolbos word, erken dat ons onsself tog nog versorg en die bad ruil vir stort; die land kantel na afvat, maar ons is nog steeds in ons eie huis.

Hoop op 80

Met ouer word besef jy dat die einde wag, bome van vriende wat val, is 'n terugslag, maar die harde werklikheid van hierdie toestand word versag deur die troos van 'n nageslag.

jonkheid van die ouderdom

herinneringe

Gebeure in bokse oor sewentig jaar opgetel verpak in my herinnering, oor familie asook oor Gog-Magog in ons eie tyd, kan ek nou aan my kleinkind met blink oë en oop ore oorvertel.

oorlogsug

Mense is inherent goed, boos, wars van mekaar, 'n vuurspuwende berg; insig in oorlogsug oor jare verwerf: Vesuvius sal nou erger uitbars.

WYSHEID

Hulle loop wankelrig, sien sleg en is half-doof, met vervreemding in 'n nuwe wêreld belas, maar hulle lewenservaring is in 'n maalstroom gewas; nou kan wyse oë die wesenskern oopkloof.

COVID-19

SWART MANEL

Lank gelede sweef daar in ons stamlande die Swart Dood Desiderius Erasmus vlug met boekkis in nood;

wie het ooit gedink dat Swart Manel wéér in ons tyd van kis tot kis sou sweef 'n gestorm vir kos terwyl die doodsklok lui laat my tuis met 'n stukkie brood; nou keer mense weer na mekaar - dit lig ons op in hoop.

HENNIE PlETERSE

E-pos: pieterhjc@absamail.co.za

 

1. REËNBOOG

Seeruisings oor deinings;

en die groen see kaats 'n rooi son.

'n Reënboog draai sy kaleidoskoop oor die aarde,

laat val fyn skitterings van lig

wat deur die prisma van die firmament

in die tyd inwig.

Die reënboog is soos geloof wat ons klee in hoop, met die smeking dat God sin sal bring en ons doop in die bestaan waar ons verbly in vreugdekleure loop.

 

2. MÓRESON

Wie het die son so skraal in gloed sien opkom oor die oerslik as die eerste skynsel oor ons bestaan?

God het self die klein atoom met 'n enkele woord

so ligweg uitgeskiet in die uitspansel en elke moontlike soort

soos rooigrassprietjies laat uitloop

en boslelies laat blom

om ons in die planeet aan Hom te laat behoort.

O Heer, as ons maar U lof kon uitsing, en jubbelend U genade kon ná-woord!

 

3. LEWE

'n Meeu swenk soos 'n vlieër se lint

voortgedryf deur 'n nuwe wind,

na die wit van die eerste skittering van die stil lig.

Ek kniel soos 'n kind

by vissies in 'n poel waar die lewe begin wink

met krappies en seewier wat vrolik rinkink,

steek my vingers in

die roersels wat uitkring,

soek en soek na lewensin

in die oervloeistof

en dan die meeu

lewend

in die kring ná kring

sodat ek later

dankbaar bid tot God die Vader

 

4. BLYDSKAP

Het almal saamgesing in die vreugde van die eerste lewe?

Loeries koketterig geklee in somerskleur bewe van blydskap oor die uitgelate ligstrale wat oor al wat boom en blaar is swewe.

Sandtrapsuutjies kreun van lekkerte

en steun teen die duin waar hulle goggas kry,

terwyl die insekte hulle verras probeer vermy.

Olifante juig slurpe omhoog

en die miertjies

wriemel ywerig verby.

Die sjimpanjees snoep

en smoesel tevrede,

terwyl ietermagogs

skubbe ratel van plesier.

En ek verwonder my

oor die vreugde

wat so kortstondig bly.

PLETER VERSTER

E-pos: versterp@ufs.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License