SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue3Poverty and human dignity: The magisterium of the Catholic Church on the interaction between the twoAnalysing the contributory role of the accounting profession to save our planet author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.60 n.3 Pretoria Sep. 2020

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n3a6 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Diamantjubileum van desimalisasie: 60 jaar van Suid-Afrikaanse rand en sent1

 

Diamond jubilee of decimalisation: 60 years of South African rand and cent

 

 

Jannie Rossouw

Wits Besigheidskool, Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg.E-pos: jannie.rossouw@wits.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die Unie van Suid-Afrika het op 14 Februarie 1961 'n desimale geldstelsel, naamlik die rand en sent (R/c), in omloop geplaas. Die rand en sent het die imperiale geldstelsel van pond, sjielings en pennies (£/s/d) vervang. Desimalisasie in 1961 word dikwels met die republiekwording van Suid-Afrika op 31 Mei 1961 in verband gebring, maar hierdie was inderdaad twee verskillende prosesse wat net toevallig in dieselfde jaar plaasgevind het. Die besluit om 'n desimale muntstelsel in te stel is in 1956 geneem, terwyl die besluit om die volle onaf-hanklikheid van Suid-Afrika van die Verenigde Koninkryk as die Republiek van Suid-Afrika te oorweeg, eers in 1960 geneem is. Suid-Afrika het sy eie geldeenheid, hoewel gemodelleer op die stelsel van £/s/d soos gebruik in die VK, reeds teen 1910 in omloop gestel. Weens dieselfde benaming en struktuur (£/s/d) wat vir die twee geldeenhede gebruik is, het die algemene publiek dit verkeerdelik as homogeen beskou. Desimalisasie was dus nie die aankondiging van 'n onafhanklike geldeenheid nie; maar bloot die vervanging van een onafhanklike geldeenheid deur 'n ander.
Desimalisasie in Suid-Afrika het desimalisasie in die Verenigde Koninkryk met presies 'n dekade voorafgegaan. Die Verenigde Koninkryk het op 15 Februarie 1971 gedesimaliseer. Desimalisasie het metrisering in Suid-Afrika ook met sowat 'n dekade vooruitgeloop, met laasgenoemde wat eers op 1 April 1971 'n aanvang geneem het.
Ten tye van desimalisasie is die waarde van R2,00 aan £1/-/- gelykgestel. Sedertdien het die wisselkoers van die rand verswak en staan dit tans op sowat R21,00 = £1,00. Met hierdie navorsing word 'n hipotese getoets vir hierdie verswakking van die wisselkoers en daar word tot die gevolgtrekking gekom dat dit onder meer aan 'n politieke diskonto van sowat 45 persent toegeskryf kan word.

Trefwoorde: desimalisasie, metrisering, politieke diskonto, Republiekwording van Suid-Afrika, rand, sent


ABSTRACT

The Union of South Africa, the precursor to the Republic of South Africa, introduced a decimal coinage system, comprising rand and cents, on 14 February 1961. The rand and cents replaced the imperial system of pounds, shillings and pennies (£/s/d). The decimalisation of 1961 is often associated with the establishment of the Republic of South Africa on 31 May 1961, but these were indeed two different processes that happened in the same year.
Botswana (then the Bechuanaland Protectorate), Eswatini (then the Protectorate of Swaziland), Lesotho (then the Basutaland Protectorate) and Namibia (then South West Africa) also introduced a de facto decimal coinage system on 14 February 1961, since the South African currency served as legal tender in those countries at the time.
The decision to introduce a decimal coinage system was taken as far back as 1956, while the decision to consider full independence of South Africa from the United Kingdom as the Republic of South Africa only came about in 1960.
South Africa had its own currency, the South African pound, modelled on the system of £/s/d as used in the UK, as of 1910. Decimalisation was therefore not so much the announcement of an independent currency, but rather the replacement of one independent currency system with another.
South Africa adopted a system of rand and cents, with an official conversion rate of R2,00 = £1/-/-. The conversion followed the report of the Decimal Coinage Commission appointed on 8 August 1956. The Commission was appointed to investigate (i) a decimal coinage system regarded as the most appropriate for the Union of South Africa; (ii) the conversion methodology considered most appropriate; and (iii) the cost of decimalisation.
On 1 August 1958, the Commission published a report recommending a specific decimal system for South Africa. The South African government accepted the recommendation in the Commission's majority report that the country should establish a decimal monetary system on the basis of a 10 shillings/cent system. This system and conversion rate were recommended partly because it was found that the value of the vast majority of cash transactions at the time of the investigation was less than £1. The value of the pound as a base unit would therefore have been too large.
The currency's name, rand, is derived from the Witwatersrand, the gold deposit where Johannesburg and the first gold mines were located.
Decimalisation in South Africa preceded decimalisation in the United Kingdom by exactly a decade. The United Kingdom decimalised on 15 February 1971. Decimalisation also preceded metrication in South Africa by about a decade, with the latter commencing on 1 April 1971.
At the time of decimalisation, the value of R2,00 was set to £1/-/-. Since then, the exchange rate of the rand has weakened and currently stands at around R21,00 = £1,00.
This research uses a model to test a hypothesis for this weakening of the exchange rate based on economic growth, inflation and interest rate differentials as well as a political discount/premium between South Africa and the United Kingdom.
The model analyses economic growth and the inflation rates in the United Kingdom and South Africa over the relevant period. The impact of interest rate differentials on the exchange rate is calculated as a forward exchange contract over the period of comparison. Any difference that is not explained by these aspects is considered a political discount/premium. On this basis, the model is therefore specified as:
where
pd = political discount, calculated by solving the model;
£/R2020 = exchange rate in 2020, namely £1 = R21.
tk = forward exchange rate.
£/R1961 = exchange rate in 1961, namely £1 = R2.
n = difference in inflation between the United Kingdom and South Africa; and
y = difference in economic growth between the United Kingdom and South Africa.
Based on this model, the rand trades at a very large political discount of about 45 per cent against the pound. Due to political uncertainty in South Africa, it is impossible to predict the value of the rand against the pound over the next 60 years. However, if the trend of the last 60 years is repeated, the exchange rate will be around £1 = R180,00 in 2081.

Key words: cent, decimalisation, metrication, political discount, Republic of South Africa, rand


 

 

1. INLEIDING

Op 14 Februarie 1961 het die Unie van Suid-Afrika 'n desimale geldstelsel, naamlik die rand en sent (R/c), in omloop geplaas (SA Reserve Bank 1971). Die rand en sent het die vorige imperiale geldstelsel bestaande uit pond, sjielings en pennies (£/s/d) vervang. Die simbool vir die pennie (d) is afgelei van die Latynse woord denarius, wat die kleinste muntstuk in die Romeinse tyd was.

Die SA Reserwebank het 'n leidende rol in desimalisasie gespeel en dr. EHD Arndt, destyds die visepresident van die sentrale bank, was voorsitter van die " ... task force to convert the South African currency and payments arrangements to a decimal system. The work of Daan Desimaal culminated in the issue of token quantities of new bank notes in rand currency by the SA Reserve Bank on 14 February 1961 ... " (Stals 1996).

Op 14 Februarie 2021 vier Suid-Afrika dus die diamantjubileum van desimalisasie. Ten spyte van die belangrike rol van geld in Suid-Afrika se volkshuishouding, is min literatuur tydens en sedert desimalisasie oor die onderwerp gepubliseer, afgesien van die regeringsverslae wat in hierdie artikel toegelig word. Afgesien van mediaberigte, sluit die vernaamste wetenskaplike navorsingsbronne oor die onderwerp artikels in vaktydskrifte deur Arndt (1961) en Erasmus (1960) in, wat die aanloop en omskakelingsproses bespreek. Engelbrecht (1987) het gebeure voor en na 1961 omvattend beskryf.

Suid-Afrika het 'n stelsel van rand en sent met 'n amptelike omskakelingskoers van R2,00 = £1/-/- aanvaar. Die omskakeling het gevolg op die verslag van die Desimale Muntkommissie ("Decimal Coinage Commission") wat op 8 Augustus 1956 deur die destydse Goewerneur-Generaal van die Unie van Suid-Afrika, dr. EG Jansen, aangestel is (Union of South Africa 1958). Die aanstelling van die Desimale Muntkommissie het gevolg op 'n verslag van die Becklagekomitee wat desimalisasie en metrisering vir Suid-Afrika aanbeveel het (Erasmus 1960). Die Becklagekomitee het egter in 1948 aanbeveel dat geen onmiddellike stappe met betrekking tot metrisering geneem word nie, maar dat slegs desimalisasie oorweeg word (Erasmus 1960). Die motivering was klaarblyklik dat die twee prosesse van desimalisasie en metrisering geskei word om verwarring onder die publiek tot die minimum te beperk.

Die Kommissie is aangestel om ondersoek in te stel na "(t)he decimal coinage system which ... it regards as the most appropriate for the Union ... ", terwyl die omskakelingsmetodo-logie en -koste ook ondersoek moes word (Union of South Africa 1958:iii). Die Kommissie se opdrag was dus nie om die voor- en nadele van desimalisasie te ondersoek nie, want die Regering het teen 1956 reeds besluit om 'n desimale geldstelsel in te voer, soos in Afdeling 3 verduidelik word. Die Kommissie se opdrag het eerder te doen gehad met die praktiese uitvoering van die besluit om te desimaliseer.

Die Kommissie het op 1 Augustus 1958 'n verslag gepubliseer wat 'n spesifieke desimale geldstelsel vir Suid-Afrika aanbeveel het. Die Suid-Afrikaanse regering het die aanbeveling in die Kommissie se meerderheidsverslag dat die land 'n desimale geldstelsel op die basis van 'n 10 sjieling/sent-sisteem moet instel, aanvaar. Afgesien van die meerderheidsverslag is ook twee minderheidsverslae gepubliseer. Een minderheidsverslag het 'n ander basis vir omskakeling aanbeveel (die £/c/decime stelsel), terwyl die ander minderheidsverslag spesifieke voorstelle bevat het rakende die vergoeding vir omskakelingskostes van sakeondernemings.

Die Kommissie het in wese twee alternatiewe tipes desimale stelsels oorweeg. In die eerste geval is oorweging geskenk aan die behoud van die pond as basisgeldeenheid, verdeel in een van drie moontlike "subgeldeenhede":

£/c stelsel, met elke sent gelykstaande aan 2,4 pennies. Dit is verwerp omdat die waarde van een sent té groot sou wees.

£/mil stelsel, met elke mil gelykstaande aan 0,24 pennies. Dit is verwerp omdat die waarde van een mil té klein sou wees.

£/c/decime stelsel, met elke sent gelykstaande aan 2,4 pennies en elke decime gelykstaande aan 0,24 pennies. Dit is verwerp omdat dit sou vereis dat 'n té groot aantal munte in omloop geplaas sou moes word.

As tweede alternatiewe stelsel het die Kommissie oorweging geskenk aan 10 sjielings (£½) as basis vir die nuwe geldeenheid, met 'n omskakelingskoers van een sent gelykstaande in waarde aan een pennie en 100 sent gelykstaande in waarde aan 10 sjielings. Ten spyte van vroeëre voorstelle, is geen besluit op daardie stadium al geneem oor die naam van die nuwe geldeenheid nie. Hierdie stelsel en omskakelingskoers is vervat in die aanbeveling van die meerderheidverslag, onder meer omdat bevind is dat die oorgrote meerderheid van kontanttransaksies se waarde destyds minder as een pond was. Die pond as basiseenheid se waarde sou dus té groot wees. Aldus Engelbrecht (1987:109-110) is die 10 sjieling-sent-stelsel aanvaar omdat die omrekening van ponde na rande "... die maklikste sou wees. Aangesien die stelsel op die syfer 10 gegrond is, sou berekeninge vereenvoudig word want die meeste moderne masjiene was toe reeds vir die desimale geldstelsel ontwerp". Aldus Arndt (1961) en Erasmus (1960) is dieselfde basis vir desimalisasie-omskakeling vroeër deur die SA Buro vir Standaarde aanbeveel.

Die vorige imperiale geldstelsel het bestaan uit ponde, sjielings en pennies (£/s/d). Kragtens hierdie stelsel was £1 aan 20 sjielings gelykstaande, terwyl 1 sjieling aan 12 pennies gelykstaande was. Die amptelike omskakelingskoers op 14 Februarie 1961 was dus: £1 = R2; 10 sjielings = R1; 12 pennies = 10 sent; 2½ pennies = 2 sent; en 1 pennie = 1 sent (Engelbrecht 1987).

Die geldeenheid se naam, rand, is afgelei van die Witwatersrand, die goudneerslag waar Johannesburg en die eerste goudmyne geleë is (Wordorigins Archive [S.a.]). Die subdele is sent en die geldstelsel word afgekort as R/c. Soos in 'n volgende afdeling uitgewys word, is 'n finale regeringsbesluit oor die geldeenheid se naam eers na 1958 geneem. Die gebruik van "rand" as naam vir die nuwe geldeenheid is egter reeds so vroeg as 1932 voorgestel (Arndt 1960:93).

Desimalisasie het metrisering in Suid-Afrika met sowat 'n dekade vooruitgeloop. Laasge-noemde het eers op 1 April 1971 'n aanvang geneem, ten spyte van die feit dat die Becklage-komitee hierdie saak reeds saam met desimalisasie ondersoek het (Erasmus 1960:278).

Die omskakelingskoerse van imperiale na metrieke mates en gewigte is grootliks gestan-daardiseer. Terwyl omskakelingskoerse vir desimalisasie bepaal moes word, is die internasio-nale SI-stelsel (Systeme International d'Unites) in die geval van metrisering gebruik (Ball 2016). Aldus Ball (2016) is 'n Metrifikasie-Adviesraad op 15 September 1967 aangestel om Suid-Afrika se metrisering te beplan en te koördineer. Die raad het binne die SA Buro vir Standaarde gefunksioneer, met adv. JJ Loots as verantwoordelike minister. Metrisering is in ' n korter tydperk as desimalisasie afgehandel, onder meer omdat internasionale omskakelingskoerse gebruik kon word (Simetric [S.a.]). Soos in Suid-Afrika die geval was, het ander lande die omskakeling van desimalisasie en metrisering ook as twee afsonderlike prosesse hanteer.

Die res van hierdie artikel is soos volg gestruktureer: Afdeling 2 gee 'n internasionale historiese perspektief. Afdeling 3 rapporteer oor die geskiedenis van desimalisasie in Suid-Afrika. In Afdeling 4 word die historiese verloop van die wisselkoers van die rand teenoor die pond ontleed. In Afdeling 5 word die rand/pond wisselkoersbeweging sedert 1961 ontleed. Die gevolgtrekkings volg in Afdeling 6.

 

2. INTERNASIONALE HISTORIESE PERSPEKTIEF

Die eerste vorm van transaksies tussen mense het by wyse van ruilhandel plaasgevind. Weens praktiese probleme met ruilhandel, het die behoefte aan 'n gemeenskaplike rekeneenheid of waardebepaler ontstaan (Engelbrecht 1987:1). Vir hierdie doel is metaalmunte in gebruik geneem. Metaalmunte het baie voordele ingehou, byvoorbeeld algemene aanvaarding, redelike konstante waarde en maklike verdeelbaarheid. Afhangende van die waarde van die munt is verskeie metale soos goud, silwer, nikkel en koper vir hierdie doel gebruik.

Na sy reis na die Verre Ooste het Marco Polo in die 13e eeu gerapporteer dat papiergeld aldaar in omloop is. In die Weste was dit 'n vreemde idee (Kennedy 1977), want die munte wat in omloop was, se waarde was ongeveer gelykstaande aan die metaalinhoud daarvan (Engelbrecht 1987:7).

Banknote is aanvanklik in die Weste uitgereik op grond van die beginsel dat note vir edelmetale inwisselbaar is. Banknote is dus kragtens 'n goud- of silwerstandaard uitgereik, met volle inwisselbaarheid van die note teen sigwaarde vir die edelmetaal waarkragtens dit uitgereik is (Rossouw 2008).

Die pond is so vroeg as 775 nC in die destydse Engeland as geldeenheid gebruik (World Economic Forum S.a.; sien ook Jarvis 2011). Op daardie tydstip was die waarde van een pond gelykstaande aan een pond (454 gram) silwer. Tans is die prys van een pond (16 onse; 454 gram) silwer sowat £220,00. Dit het impliseer dat die waarde van die geldeenheid op 'n silwerstandaard gebaseer was en banknote vir silwer inwisselbaar was.

In 1717 het Sir Isaac Newton, die Muntmeester, die goudprys vasgestel teen £3/17/10 (3 pond, 17 sjielings en 10 pennies) per ons en daardie waarde het vir byna 200 jaar gegeld (Historical Gold Prices S.a.). Dit het die waarde van die pond in goud bepaal, waarna die goudstandaard die vorige silwerstandaard vervang het. Tans is die goudprys sowat £1 430 per ons.

Een pond silwer se waarde is in die Romeinse tyd vasgestel op 240 silwer denarii. Die waarde is oorgedra na die pond as geldeenheid, wat met ander woorde sou beteken dat daar 240 pennies in 'n pond sou wees (Johnson S.a.), wat dan ook aan een pond silwer gelykstaande was.

Aldus Falk (2019) is sjielingmunte in 1504 in omloop geplaas, terwyl Currency Information (2011) die datum as 1487 rapporteer. Die sjieling is egter reeds vroeër as rekeneenheid gebruik. Die waarde van 'n sjieling is tydens die Normandiese verowering van die Britse Eiland op 12 pennies vasgestel, wat impliseer het dat daar 20 sjielings in 'n pond was.

Ten tye van die Tweede Britse anneksasie van die Kaap in 1806 was die Nederlandse riksdaalder die vernaamste geldeenheid in omloop, maar die nuwe owerheid het die stelsel van £/s/d uit die Verenigde Koninkryk ook in omloop gebring.

Gedurende die bewind van Lord Caledon (1807 tot 1811) en Lord Cradock (1811 tot 1814) as goewerneurs aan die Kaap, is die hoeveelheid riksdaaldernote in omloop met byna 50 persent verhoog (Engelbrecht 1987:29). Soos onder hierdie omstandighede verwag kan word, het die waarde van die note gedaal. Tussen 1806 en 1825 het die waarde van die riksdaalder van 4 sjielings tot 15 sent (1/6) gedaal (Die Huisgenoot 1938:43; Engelbrecht 1987:29). In 1825 het die regering in die Verenigde Koninkryk besluit dat die stelsel van £/s/d die wettige betaalmiddel in alle kolonies sal wees. Riksdaaldernote het daarna uit omloop verdwyn in die Kaap.

Rusland was onder Tsaar Pieter die Grote (Czar Peter the Great in Engels; Tzar Pyotr Velikiy in Russies) die eerste land om 'n desimale geldstelsel te aanvaar (The New Encyclopaedia Britannica 1994; sien ook Numista 2018). Numista (2018) rapporteer die datums waarop alle lande desimale geldstelsels aanvaar het en dui ook aan dat sekere lande vanaf onafhanklikheid (byvoorbeeld die Verenigde State van Amerika) of unifikasie (byvoorbeeld Italië) sodanige geldstelsels gebruik het. Soos in Afdeling 3 aangedui word, het desimalisasie in die geval van Suid-Afrika toevallig met republiekwording saamgeval.

Jarvis (2011) rapporteer dat Lord Wrottesley, 'n politikus, reeds so ver terug as 1824 gepoog het om die Verenigde Koninkryk op 'n desimale geldstelsel te plaas. Destyds was daar algemene teenstand in die Verenigde Koninkryk teen so 'n inisiatief, maar suksesvolle desimalisasie in Suid-Afrika in 1961 " ... prompted the Government to set up a committee looking into the process" (Jarvis 1961). Die Verenigde Koninkryk het inderdaad 'n dekade later, op 15 Februarie 1971, die desimale geldstelsel in omloop geplaas. Arndt (1961) toon aan dat suksesvolle desimalisasie in Suid-Afrika impetus aan desimalisasiebewegings in ander Gemenebeslande gegee het, met spesifieke vermelding dat " ... the several Australian and New Zealand delegations which spent several weeks here (i.e., in South Africa) at the time, have returned home ... with very few improvements to suggest on the planning which had taken place ... " (1961:102).

 

3. GESKIEDENIS VAN DESIMALISASIE IN SUID-AFRIKA

3.1 Historiese perspektief

Die stelsel van pond, sjielings en pennies (£/s/d) wat Suid-Afrika voor desimalisasie gebruik het, was geskoei op die stelsel van £/s/d wat in die Verenigde Koninkryk gebruik is, maar was nie identies daaraan nie, hoewel dit teen pari verhandel het. Engelbrecht (1987:109) meld dat "... die publiek die Suid-Afrikaanse pond (verkeerdelik) as identies met die Britse pond beskou het". Die Suid-Afrikaanse pond, sjielings en pennies het inderdaad teen pari met die Britse pond, sjielings en pennies verhandel, maar was sedert unifikasie in Suid-Afrika in 1910 'n onafhanklike geldstelsel wat verskeie ooreenkomste met die Britse stelsel getoon het. Die SA Reserwebank het byvoorbeeld sedert 1922 onafhanklik van die Bank van Engeland, maar teen pari met die geldeenheid van die VK, die Suid-Afrikaanse note en munte uitgereik (SA Reserve Bank 1971).

Volgens Arndt (1961:89) was daar so ver terug as 1913 reeds voorstelle dat Suid-Afrika 'n desimale geldstelsel moet aanvaar. In daardie jaar het mnr. EC Reynolds, die hoofbestuurder van die National Bank of South Africa, in sy kapasiteit as president van die Instituut van Bankiers van Suid-Afrika, in sy presidentsrede voorbrand gemaak vir desimalisasie (Reynolds 1913). Teen 1914 het die Instituut van Bankiers 'n prys uitgeloof aan mnr. TC Chaloner vir sy navorsingsartikel oor die implementering van 'n desimale geldstelsel in Suid-Afrika (Chaloner 1914). Arndt verklaar egter dat "(t)he outbreak of World War I and the South African rebellion, in 1914, had obviously made the timing of Mr Reynolds' proposal unpropitious as far as possible action by the Union Government was concerned" (1961:91).

Brink (2015:377-380) toon aan dat dr. FV Engelenburg teen 1922 voorspraak gemaak het vir 'n desimale geldstelsel vir Suid-Afrika. Engelenburg het in 'n aanbeveling aan die Suid-Afrikaanse regering gemeld dat "(i)t is just possible that our present small change will be replaced by copper, nickel and other coins, adapted for decimal purposes" (Brink 2015:379).

Teen 1925 het prof. EM Kemmerer en dr. G Vissering op versoek van die Suid-Afrikaanse regering 'n ondersoek na die wenslikheid van die herinstelling van die goudstandaard en ander monetêre en banksake in Suid-Afrika geloods. Kemmerer en Vissering het in hul verslag die herinstelling van die goudstandaard aanbeveel, wat deur die regering aanvaar is en in 1925 heringestel is (totdat dit op 28 Desember 1932 weer afgeskaf is). Afgesien van hul verslag oor die goudstandaard, het Vissering in 'n afsonderlike verslag ook 'n desimale geldstelsel vir Suid-Afrika aanbeveel (Arndt 1961:93), maar hierdie aanbeveling is nie deur die regering tot uitvoer gebring nie.

Aldus Erasmus (1960:277; sien ook Arndt 1960:93) is 'n wetsontwerp in Maart 1932 deur die minister van finansies (mnr. NC Havenga) by die Suid-Afrikaanse Parlement ingedien wat by aanvaarding voorsiening sou maak vir 'n desimale geldstelsel. Kragtens hierdie wetsontwerp (Coinage Bill) is in die vooruitsig gestel dat die Unie van Suid-Afrika " ... a decimal coinage system based on the florin and cent, and a gold ten florin coin to be known as the rand" (Arndt 1960:93) sal aanvaar. Die wetsontwerp is egter nooit bespreek nie, onder meer omdat die parlement daardie jaar vroegtydig moes verdaag sodat die eerste minister (genl. JBM Hertzog) en Havenga die Gemenebeskonferensie in Kanada kon bywoon (Engelbrecht 1987:109). Die feit dat die voordele, koste en omskakelingskoers vanaf die imperiale na die desimale geldstelsel nie voorheen die onderwerp van 'n deurtastende ondersoek op owerheidsvlak was nie, het waarskynlik ook bygedra tot die feit dat die wetsontwerp nie gedebatteer is nie (Arndt 1960:93).

In 1948 het die Becklagekomitee wat desimalisasie en die metrisering van mate en gewigte oorweeg het, in sy verslag die desimalisasie van die geldstelsel aanbeveel. Hierdie komitee het aanbeveel dat Suid-Afrika die floryn (ƒ) as desimale geldeenheid aanvaar, met 'n omskakelingskoers van ƒ10 = £1, hoewel die komitee 'n voorstel van mnr. PA Moore oorweeg het dat die desimale geldstelsel die rand/pennie moet wees (Arndt 1960:94). In 1949 is opdrag aan die Buro vir Standaarde gegee om die werk van die Becklagekomitee voort te sit (Erasmus 1960:278).

Die Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het op 19 Februarie 1949 goedgekeur dat:

'n Versoek aan die regering gerig word om so gou doenlik die nodige stappe te neem om 'n desimale geldstelsel in Suid-Afrika in te voer;

'n Afvaardiging van die SA Akademie die minister moet besoek om die desimalisasie van die geldstelsel aan te beveel; en

Verdere ondersoek gedoen word na die wenslikheid en uitvoerbaarheid van die desimalisasie van mate en gewigte (die metrieke stelsel).

Die Buro van Standaarde het 'n komitee aangestel om die implikasies van desimalisasie van die geldstelsel te ondersoek. Die komitee het wyd met die plaaslike handel en nywerheid en plaaslike kundiges gekonsulteer en ook uit die buiteland inligting oor die onderwerp ingewin. In Januarie 1953 het die komitee aanbeveel dat die Suid-Afrikaanse regering die nodige stappe neem om 'n desimale geldstelsel vir Suid-Afrika in te voer (Engelbrecht 1987:109). Die spesifieke aanbeveling was dat die nuwe geldeenheid se naam die Riksdaalder (Riksdollar Rd) moet wees, met die omskakelingskoers van Rd1 = 10 sjielings.

Spreekwoordelik was die tafel dus gedek vir 'n desimale geldstelsel in Suid-Afrika. In 1954 is die Verslag aan Sy Edele die Minister van Ekonomiese Sake oor die Desimalisering van die Muntstelsel gepubliseer (Erasmus 1960:278), wat nie net desimalisasie nie, maar ook die aanvaarding van 'n 10 sjieling/sent-stelsel as desimale geldstelsel aanbeveel het. Die aanbevole omskakelingskoers is gebaseer op 'n opmerking van prof. Ben Taute, professor in die metodiek van die onderwys aan die Stellenbosch Universiteit, dat " ... one cannot educate a child to a new system of coinage as if the old one had ceased to exist. The child would in such case feel lost in society" (Arndt 1960:95).

Hierdie verslag is opgevolg met die aanstelling van die Desimale Muntkommissie (Union of South Africa 1958), nadat Moore (wat toe die parlementslid vir Kensington was) in Januarie 1956 'n wetsontwerp oor desimalisasie by die parlement ingedien het (Arndt 1960:96). In hierdie wetsontwerp is die rand weer as naam vir die geldeenheid voorgestel (Arndt 1960:96).

Die aanbevelings van die Desimale Muntkommissie is in 1958 deur die regering aanvaar en het tot die Desimale Muntwet, No 61 van 1959, gelei (Van Rensburg 2003:88). Gevolglik is die Desimalisasieraad in Julie 1959 onder voorsitterskap van Arndt aangestel met verant-woordelikheid vir die praktiese aspekte en implementering van desimalisasie. Die desimale geldeenheid is op Dinsdag, 14 Februarie 1961 in omloop gebring (SA Reserve Bank 1971).

Op dieselfde datum het Botswana (destyds die Betsjoeanaland Protektoraat) Eswatini (destyds die Protektoraat van Swaziland), Lesotho (destyds die Basoetoeland Protektoraat) en Namibië (destyds Suidwes-Afrika) ook gedesimaliseer, want die Suid-Afrikaanse geldeenheid het in daardie lande gesirkuleer.

3.2 Politieke perspektief

Omdat desimalisasie Suid-Afrika se republiekwording met sowat vier maande voorafgegaan het, word hierdie twee aspekte dikwels met mekaar in verband gebring. Dit is egter duidelik uit die ontleding dat die proses van desimalisasie 'n baie lang aanloop gehad het, met baie rolspelers soos die Buro van Standaarde, die Desimale Muntkommissie, die SA Akademie, die minister van Ekonomiese Sake en die Desimalisasieraad. Die aanloop van die desimalisasie van die geldstelsel kan inderdaad tot die tydperk onmiddellik na die Tweede Wereldoorlog teruggevoer word.

Hierteenoor het dr. HF Verwoerd, die destydse eerste minister van die Unie van Suid-Afrika, op 21 Januarie 1960 aangekondig dat Suid-Afrika 'n referendum gaan uitroep oor die vraagstuk of die Unie onafhanklik moet word as die Republiek van Suid-Afrika (SABC S.a.). Die enigste politieke betekenis, eerder as ekonomiese betekenis, wat aan desimalisasie toegedig kan word, is die opmerking in 'n verslag van Kemmerer en Vissering, dat "... die publiek die Suid-Afrikaanse pond (verkeerdelik) as identies met die Britse pond beskou het" (Engelbrecht 1987:109). Die aanvaarding van 'n desimale geldeenheid het hierdie verwarring uit die weg geruim en ten minste getoon dat Suid-Afrika se geldstelsel onafhanklik van die geldstelsel in die Verenigde Koninkryk funksioneer. Desimalisasie en republiekwording was egter nie verwant aan mekaar nie.

3.3 Randnote en sentmunte in omloop geplaas

Die omskakelingskoers vir rande was minder problematies as die omskakelingskoers vir sente, omdat R1 aan 10 sjielings gelykgestel is, wat ook 'n omskakelingskoers van R2 = 20 sjielings = £1 impliseer het. Die amptelike omskakelingskoers vir sent was 12 pennies = 10 sent; 6 pennies = 5 sent; 2½ pennies = 2 sent; en 1 pennie = 1 sent (Engelbrecht 1987).

Om die publiek se aanpassing by die nuwe geldstelsel te vergemaklik, is besluit om die ontwerpe van die nuwe desimale munte te laat ooreenstem met die imperiale munte van dieselfde waarde. Munte van soortgelyke waarde het dieselfde grootte en gewig gehad. Insgelyks is die nuwe rand banknote ontwerp in ooreenstemming met die vorige pondnote en sjielingnoot van dieselfde waarde. Die R1-noot is byvoorbeeld in ooreenstemming met die vorige 10 sjieling-banknoot ontwerp (Van Rensburg 2003).

Die loods van die nuwe geldeenheid het met baie publisiteit om die algemene publiek van die omskakeling bewus te maak, gepaardgegaan. Die bekendste veldtog was Daan Desimaal (Decimal Dan in Engels), wat onder meer bestaan het uit 'n liedjie wat op radio gespeel is (Suid-Afrika het in 1961 nog nie televisie gehad nie). Die openingswoorde van die liedjie was soos volg:

Daan Desimaal, die rand-sent-man,

Gee jou sente vir pennies net waar hy kan,

Een sent vir een, en twee vir twee,

En twee-en-'n-half vir 'n tiekie.

'n noot of silwer bly wat dit was

Ons het net die ander naam daaraan vas

Daan Desimaal, die rand-sent-man,

Gee jou sente vir pennies net waar hy kan,

Drie sent vir vier pennies en vier vir vyf

En vyf sent beteken 'n sixpence ...

Die musiek en woorde is op You Tube beskikbaar (Casjass 2016). Die radioveldtog is ondersteun deur 'n veldtog in die gedrukte media en inligtingstukke wat by openbare plekke soos poskantore en banksale vertoon is. Voorts is pryse van produkte dikwels in beide R/c en in £/s/d aangedui, soos op You Tube blyk (British Pathé S.a.). Dit het die publiek se aanpassing by pryse in 'n nuwe geldeenheid vergemaklik.

Uit die woorde van Daan Desimaal blyk dit dat die omskakeling van pennies na sent die grootste uitdaging was, want 'n stelsel van 12 pennies in 'n sjieling moes na 10 sente in tien sent omgeskakel word; 1 sjieling was dus gelykstaande aan 10 sent. Die nuwe munte van 1961 het gevolglik nie die gehalte van 'n optimale ontwerp gehad nie. Die eensent-stuk is byvoorbeeld op die pennie gemodelleer, wat baie groot was, want die ontwerpmikpunt was 'n hoë mate van ooreenstemming met die vorige imperiale muntreeks.

In 1962 is aangekondig dat "... 'n verandering in die grootte, ontwerp en metaalinhoud van munte (om ekonomiese redes) oorweeg word ... " (Engelbrecht 1987:110). Terwyl sekere munte (byvoorbeeld die sentmuntstuk) té groot en swaar was, het die waarde van die silwer inhoud van silwermunte die sigwaarde daarvan oortref Gevolglik is munte vir hul metaalinhoud gesmelt, want die silwer kon teen 'n wins teenoor die sigwaarde van munte verkoop word (Van Rensburg 2003:88). Die gevolg was dat 'n nuwe muntreeks met kleiner en ligter munte in 1965 in omloop geplaas is. Hierdie reeks het bestaan uit koper- en nikkelmunte, met nikkel wat silwer vervang het. Daan Desimaal se wysie is weer in 'n bekendstellingsveldog gebruik, maar met die boodskap " ... bestee eers u ou muntstukke" (GCS Radio Archives S.a.).

Teen die middel-1980s het 'n styging in die nikkelprys tot soortgelyke probleme as die styging in die silwerprys in die 1960s gelei, naamlik die waarde van die nikkel in munte was meer as die sigwaarde daarvan. Gevolglik is 'n nuwe muntreeks met geplateerde staalmunte ontwerp en in die 1990s in omloop geplaas, wat 'n munt ter vervanging van die R5-banknoot ingesluit het. Die 10c-munt was die eerste geplateerde munt wat in omloop geplaas is. Ten tye van die vrystelling van die 10c-munt was daar 'n gerug in omloop dat dit per ongeluk van goud gemaak is, weens die opvallende goue plateringkleur van die muntstukke (Van Rensburg 2003:88). Hoewel die gerug onwaar was, het dit tot grootskaalse oppotting van die munte gelei.

Sedert 1961 is banknote periodiek herontwerp, onder meer om die sekerheidseienskappe van die note te verbeter, maar steeds gemodelleer op die note wat in 1961 in omloop geplaas is. In 1992 is 'n geheel en al nuwe reeks note in omloop geplaas. Die sekerheidseienskappe van die nuwe banknootreeks was wesenlik beter en Jan van Riebeeck is deur die sogenaamde "Groot Vyf' (renoster, olifant, leeu, buffel en jagluiperd) as hoofmotief op die note vervang. Terselfdertyd is 'n R100- en R200-noot vir die eerste keer in omloop geplaas, terwyl banknote baie kleiner as tevore was.

In 1992 is die niksseggende "belofte" op banknote ook weggelaat. Die "belofte" was gebaseer op die sigwaarde van 'n banknoot. In die geval van 'n R10-noot is die woorde "Ek beloof op aanvraag te betaal aan toonder te Pretoria TIEN RAND vir die Suid-Afrikaanse Reserwebank", bevestig deur 'n afbeelding van die handtekening van die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Hierdie "belofte" was 'n oorblyfsel van die goudstandaard met inwisselbare banknote. Voor 1933 was Suid-Afrika se geldstelsel op 'n goudstandaard gebaseer en die belofte het letterlik beteken dat banknote vir dieselfde waarde in goud by die Suid-Afrikaanse Reserwebank geruil kon word. Nadat Suid-Afrika teen die einde van 1932 die goudstandaard opgeskort het, was dié "belofte" van nul en gener waarde.

Die reaksie van die publiek op die besluit om die niksseggende belofte van die banknote te verwyder, was onverwags. Dit het geblyk dat heelwat lede van die publiek teen 1992 inderdaad steeds onder die indruk was dat Suid-Afrika 'n goudstandaard het en dat banknote steeds by die Suid-Afrikaanse Reserwebank vir goud ingewissel kon word. Die weglating van die belofte is dus deur sekere mense as 'n demonetisering van banknote (die uitreiking van nuttelose en waardelose banknote) beskou. Dit was inderdaad nie die geval nie en 'n historiese anomalie is bloot in 1992 met die uitreiking van die nuwe reeks banknote reggestel. Die banknootreeks is in 2012 weer drasties hersien, toe die "Groot Vyf" deur 'n afbeelding van mnr. Nelson Mandela as hoofmotief vervang is.

 

4. HISTORIESE VERLOOP VAN DIE RAND/POND-WISSELKOERS

Vanaf 1910 tot 1961 (dus vir ongeveer vyf dekades) was die waarde van die Suid-Afrikaanse pond merendeels stabiel teenoor die Britse pond. 'n Uitsondering was die tydperk van September 1931, toe die Verenigde Koninkryk die goudstandaard opgeskort het, tot Desember 1932, toe Suid-Afrika ook die goudstandaard opgeskort het (SA Reserve Bank 1971). Gedurende hierdie tydperk van 15 maande het die waarde van die Suid-Afrikaanse pond teenoor die Britse pond toegeneem, maar na 1933 was die waarde van die twee geldeenhede weer gelyk, nadat Suid-Afrika in Desember 1932 ook afstand gedoen het van die goudstandaard.

Sedert 1961 het die waarde van die rand wesenlik gedepresieer tot sowat R21 = £1. Die stabiliteit van die voorafgaande vyf dekades is dus nie in die daaropvolgende 60 jaar gehandhaaf nie, onder meer weens die afskaffing van die Bretton Woods-stelsel van wisselkoersbepaling in Augustus 1971.2 Selfs sonder desimalisasie kon die waarde van die Suid-Afrikaanse geldeenheid teenoor die Britse pond gedaal het omdat dit 'n onafhanklike geldeenheid was. Die feit dat die twee geldeenhede voorheen dieselfde naam gehad het, het nie as waarborg gedien dat waarde behou sou word nie. Die vraag is egter hoekom die daling sedert 1961 plaasgevind het ná 'n tydperk van 'n stabiele wisselkoers gedurende die voorafgaande vyf dekades?

Die teorieë oor wisselkoersvasstelling identifiseer talle faktore wat oor die kort en die lang termyn tot die verloop van die wisselkoers tussen twee geldeenhede bydra en die verloop daarvan meet. Mohr (2016) identifiseer byvoorbeeld effektiewe wisselkoerse, handelsgeweegde wisselkoerse en die koopkragpariteitsteorie van wisselkoerse. Gillespie (2019:205-206) se samevatting van hierdie faktore noem die buitelandse vraag na 'n land se uitvoerprodukte, die relatiewe verskil in rentekoerse tussen handelsvennootlande, die relatiewe inflasiekoerse tussen handelsvennootlande en verwagtings, waar laasgenoemde dui op die vooruitsigte vir ekono-miese en politieke sukses van 'n land. Van hierdie vier aspekte is verwagtings die moeilikste om te kwantifiseer, want dit is 'n samevattende, en subjektiewe, faktor oor die verwagte sukses (of andersins) van 'n land se ekonomie.

 

5. ONTLEDING VAN DIE RAND/POND-WISSELKOERSBEWEGING SEDERT 1961

In hierdie afdeling word die rand/pond-wisselkoersbeweging sedert 1961 ontleed om die bydrae van die verskillende faktore tot die beweging te bepaal. Twee benaderings word gevolg: Afdeling 5.1 ontleed die vlak van die wisselkoers aan die hand van die Big Mac-indeks, terwyl 'n politieke wisselkoersdiskonto in Afdeling 5.2 bereken word.

5.1 Big Mac-indeks

Die Big Mac-indeks vergelyk die pryse van die Big Mac-hamburger van die McDonalds-kitskosrestaurant in verskillende lande. Die Big Mac-indeks word deur The Economist, 'n tydskrif wat in die Verenigde Koninkryk publiseer word, bereken op grond van die pryse van die Big Mac-hamburger van die McDonalds-kitskosgroep in verskillende lande. Dit is gebaseer op die aanname dat die prys van 'n Big Mac-hamburger teen heersende wisselkoerse in alle lande dieselfde behoort te wees. Die indeks word op grond van koopkragpariteit bereken, naamlik 'n aanname dat wisselkoerse bepaal word op grond van die goedere wat 'n geldeenheid kan koop.

Ten spyte van die indeks se tekortkomings (byvoorbeeld, Big Mac-pryse verskil tussen streke binne lande), gee dit tog 'n aanduiding van relatiewe pryse kragtens die koopkrag-pariteitsteorie. Kragtens die Big Mac-indeks behoort die heersende wisselkoers van die rand teenoor die pond sowat £1 = R9,40 te wees, dus 'n groot wisselkoersdiskonto.

5.2 Politieke diskonto

In 'n ontleding tussen die geldeenhede van slegs twee lande is relatiewe ekonomiese groei, relatiewe inflasie en rentekoersdifferensiale belangrik. Relatiewe ekonomiese groei ondervang aspekte soos invoer en uitvoer. In die model vir die ontleding van die rand/pond-wisselkoers sedert 1961 wat in hierdie Afdeling gebruik word, word die wisselkoersdiskonto (die bevinding van die Big Mac-indeks) wat nie deur hierdie ekonomiese aspekte verklaar kan word nie, aan 'n politieke diskonto toegedig.

Om die relatiewe verswakking van die rand teenoor die pond sedert 1961 te verklaar, word 'n model dus gespesifiseer waar relatief hoër inflasie in een van die lande 'n minuswaarde aan die wisselkoers gee, terwyl relatief hoër ekonomiese groei 'n positiewe waarde aan die wisselkoers gee. Inflasie verminder die waarde van 'n geldeenheid, terwyl ekonomiese groei dit ondersteun.

Ten opsigte van die invloed van rentekoersverskille op die wisselkoers, word die valu-tatermynkoers vir die twee geldeenhede gebruik. Die nominale rentekoerse word gebruik vir die berekening van die termynkoers.

Die rand het gedepresieer teenoor die pond sedert 1961. Enige verskil wat nie deur relatiewe ekonomiese groei en inflasie, en rentekoersverskille verklaar word nie, word as 'n politieke diskonto/premie beskou. Op hierdie basis word die model dus gespesifiseer as:

pd = £/R2020 - tk - (£/R1961 x Δπ) + (£/R1961 x Δγ);............................................. (1)

Waar

pd = politieke diskonto, wat bereken word as die residuele item nadat die "meetbare" items in ag geneem is, deur die model op te los;

£/R2020 = wisselkoers in 2020, naamlik £1 = R21;

tk = termynwisselkoers;

£/R1961 =wisselkoers in 1961, naamlik £1 = R2;

n = verskil in inflasie tussen die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika; en

y = verskil in ekonomiese groei tussen die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika.

Die inflasieverskil tussen die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika kan soos volg bereken word: Sedert 1961 het pryse in Suid-Afrika met 'n faktor van 94,5 gestyg. Oor dieselfde tyd-perk het pryse in die Verenigde Koninkryk met 'n faktor van 21,8 gestyg. Die inflasiedifferen-siaal oor die tydperk was dus 'n faktor van 4,33 (94,5/21,8) ten gunste van die Verenigde Koninkryk. Op hierdie basis moes die rand dus teenoor die pond verswak het vanaf £1 = R2 na £1 = R8,66.3

Oor dieselfde tydperk het Suid-Afrika se ekonomie met 'n faktor van 5,3 gegroei, terwyl die ekonomie van die Verenigde Koninkryk oor dieselfde tydperk met 'n faktor van 3,7 gegroei het. Op hierdie basis van hoër ekonomiese groei in Suid-Afrika as in die Verenigde Koninkryk (dus 'n verwagte negatiewe prestasie van die pond teenoor die rand), moes die rand inderdaad teenoor die pond versterk het na 'n faktor van 0,73 (3,8/5,2), naamlik £1 = R1,46. Dit is weens die verskil in ekonomiese groeikoers wat in Suid-Afrika se guns was.

Die keuse van die rentekoers om te gebruik vir die berekening van die termynwisselkoers tussen die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika is nie so voor die hand liggend soos in die geval van die inflasiekoers en die ekonomiese groeikoers nie. Daar bestaan slegs een datareeks elk vir hierdie twee veranderlikes, terwyl verskillende rentekoerse (kort of lang termyn; openbare of private sektor) vir die doel van die berekening van die rentekoersdifferensiaal gebruik kan word.

Kleinhandelrentekoerse word gebruik om die termynwisselkoers op meerjarige termyn-kontrakte vir buitelandse valuta vir die pond en die rand te bereken. Die onderliggende beginsel vir prysbepaling vir valutatermynkontrakte is rentekoersverskille tussen beleggings in verskillende geldeenhede; in hierdie geval die rentekoers wat op 'n pond deposito verdien word teenoor die rentekoers wat op 'n rand deposito verdien word. Veronderstel geldeenhede A en B, waar die eenjaar-rentekoers 1 persent is vir A en 10 persent vir B. As die wisselkoers aan die begin van een jaar A1 = B1 is en 100 eenhede van beide A en B vir een jaar belê word, sal die balans na een jaar A1,01 wees en B1,10. Gevolglik sal die wisselkoers A1,01 = B1,10 wees, of A1 = B1,09 (1,089). Die gevolg is dat die waarde van die geldeenheid van 'n land met 'n relatief laer rentekoers oor die lang termyn (sedert 1961 in hierdie ontleding) in waarde sal styg (appresieer) teenoor die geldeenheid van 'n land met 'n relatief hoër rentekoers.4

Die formule vir termynkontrak-prysberekening vir 'n termynwisselkoers (tk) vir een jaar is:

tk = mk x [1 + r(p) x t/j)]/[1 + r(b) x t/j)] ..................................................................... (2)

Waar

mk = markwisselkoers van die twee geldeenhede, in hierdie geval die rand teenoor die pond, aan die begin van die tydperk;

r(p) = rentekoers in die plaaslike geldeenheid; rand in die geval van Suid-Afrika;

r(b) = rentekoers in die buitelandse geldeenheid; pond in die geval van die VK;

j = tydperk van een jaar uitgedruk in dae.5

Die gemiddelde jaarlikse kleinhandelrentekoers in Suid-Afrika sedert 1961 was 9,4 persent teenoor 5,4 persent oor dieselfde tydperk in die Verenigde Koninkryk. Die resultaat indien die waardes in model (2) ingevoeg word, is:

tk = 2 x [1 + 0,094 x 365/365)]/[1 + 0,054 x 365/365)]

2 x [1,094]/[1,054]

2 x 1,03795

2,0759 (R2,0759 = £1 na een jaar).

Deur dieselfde berekening 60 keer te herhaal, maar elke keer met die termynwisselkoers aan die einde van die vorige termyn as basis, kan die termynwisselkoers na 60 jaar bereken word. Vereenvoudig is die formule:

R2 = 1,0379560

Die termynwisselkoers na 60 jaar gebaseer op hierdie formule is R18,69 = £1.

Indien die waardes, soos bepaal vir die verskillende veranderlikes, in die oorspronklike model (1) ingevoeg word, is die resultaat:

pd = 21 - 18,69 - (2 x 4,33) + (2 x 0,73)

pd = 9,51 (R9,51 = £1)

Die politieke diskonto is dus R9,51/£1 met 'n wisselkoers van R11,49 = £1 wat bereken word uit groei-, inflasie- en rentekoersverskille. Die politieke diskonto is dus sowat 45,0 persent van die heersende wisselkoers, wat gootliks ooreenstem met die bevindings van die Big Mac-indeks.

 

5. GEVOLGTREKKINGS

Die ontleding in hierdie artikel toon dat Suid-Afrika baie suksesvol was met desimalisasie in 1961. Suid-Afrika se desimalisasieproses het as voorbeeld vir ander Gemenebeslande soos die Verenigde Koninkryk, Australië en Nieu-Seeland gedien. Dit is vandag ondenkbaar dat Suid-Afrika 'n geldstelsel met drie komponente (£/s/d) gehad het, met een komponent wat uit 20 subdele bestaan het en 'n ander wat uit 12 subdele bestaan het. Uit hierdie oogpunt het desimalisasie dus sin gemaak.

Omdat desimalisasie Suid-Afrika se republiekwording met sowat vier maande voorafgegaan het, word hierdie twee aspekte dikwels met mekaar in verband gebring. Dit is egter duidelik uit hierdie ontleding dat desimalisasie en republiekwording twee verskillende prosesse was, wat albei toevallig in dieselfde jaar plaasgevind het. Desimalisasie was nie 'n republikeinse gedagte nie, maar 'n praktiese oorweging. Suid-Afrika het reeds voor desimalisasie 'n eie geldeenheid gehad.

Dit blyk uit die ontleding dat die rand teen 'n baie groot politieke diskonto (sowat 45 persent) teenoor die pond verhandel. Sedert 1961 was die Suid-Afrikaanse owerhede dus baie onsuksesvol met die beskerming van die waarde van die rand teenoor die pond. Weens politieke onsekerheid in Suid-Afrika, is dit onmoontlik om die waarde van die rand teenoor die pond oor die volgende 60 jaar te voorspel. As die tendens van die laaste 60 jaar herhaal word, sal die wisselkoers in 2081 sowat £1 = R180,00 wees.

 

BIBLIOGRAFIE

Arndt, E. H. D. 1961. The introduction of a decimal coinage system in the Union of South Africa. SA Journal of Economics, 29(2) June. https://onlinelibrary.wiley.com/doi/abs/10.1111/j.1813-6982.1961.tb02359.x [6 Januarie 2020].         [ Links ]

Ball, P. 2016. A short history of the metrification movement in South Africa. Theheritageportal. 4 September. Theheritageportal.co.za [30 Desember 2019].         [ Links ]

Brink, L. E. 2015. Die lewe, werk en invloed van F. V. Engelenburg in Suid-Afrika (1889 - 1939). PhD-proefskrif. Noordwes-Universiteit.         [ Links ]

British Pathé [S.a.], Decimal Coinage. https://www.youtube.com/watch?v=EosWw5RfLE8 [Verskeie datums].         [ Links ]

Casjass. 2016. Daan Desimaal - Springbokradio. https://www.youtube.com/watch?v=cVhueSJiuYU [Verskeie datums].         [ Links ]

CGS Radio Archives. [S.a.] gordlaws.co.za + decimal dan [30 Desember 2019].         [ Links ]

Chaloner, T. C. 1914. Proposals for adopting a decimal system of coinage in South Africa. Journal of the Institute of Bankers in South Africa. May. Vol XI:2.         [ Links ]

Currency Information. 2011. The History Of The British Pound. http://currencyinformation.org/history-of-the-british-pound [24 November 2019].         [ Links ]

Die Huisgenoot. 1938. Gedenkuitgawe. Desember. Kaapstad: Nasionale Pers Beperk.         [ Links ]

Engelbrecht, C. L. 1987. Geld in Suid-Afrika. Tafelberg Uitgewers: Kaapstad.         [ Links ]

Erasmus, D.P. 1960. Die aanleiding tot en enkele implikasies van die desimalisasie van die Suid-Afrikaanse geldstelsel. Koers, 27:10. https://journals.koers.aosis.co.za [30 Desember 2019].         [ Links ]

Falk, T. 2019. The British Pound - Fourth most traded currency in the world. 28 Junie. https://www.finder.com/british-pound [24 November 2019].         [ Links ]

Gillespie, A. 2019. Foundations of Economics. 5th edition. United Kingdom: Oxford University Press. Historical Gold Prices [S.a.] https://nma.org/wp-content/uploads/2016/09/historic_gold_prices_1833_pres.pdf) [Verskeie datums].         [ Links ]

Jarvis, A-A. 2011. The Timeline: British currency. Independent. 18 Februarie. https://www.independent.co.uk/news/uk/this-britain/the-timeline-british-currency-2218295.html [24 November 2019].         [ Links ]

Johnson, B. [S.a.]. Decimalisation in Britain. Historic UK. https://www.historic-uk.com/HistoryUK/HistoryofBritain/Decimalisation-in-Britain/ [23 November 2019].         [ Links ]

Kennedy, A. 1977. Marco Polo on Money. Foundation for Economic Education. 1 Desember. https://fee.org/articles/marco-polo-on-money/ [6 Januarie 2020].         [ Links ]

Mohr, P. 2011. Economic Indicators. 4e uitgawe. Pretoria: Unisa Press.         [ Links ]

Numista. 2018. Decimalisation around the world. https://en.numista.com/forum/topic76500.html [23 November 2019].         [ Links ]

Reynolds, E. C. 1913. Presidential Address. Journal of the Institute of Bankers in South Africa. June. Vol X:3.         [ Links ]

Rossouw, J. 2008. Inflation in South Africa, 1921 to 2006: History, measurement and credibility. Unpublished PhD thesis, University of KwaZulu-Natal. https://repository.up.ac.za/handle/2263/27224 [Verskeie datums].         [ Links ]

SA Reserve Bank. 1971. A short historical review issued in commemoration of the Bank's fiftieth anniversary. Pretoria: SA Reserve Bank.         [ Links ]

SABC. S.a. SABC News and current affairs (this day in history 21 January 1960): Dr Verwoerd announces referendum on independence. https://iono.fm/e/133094 [22 November 2019].         [ Links ]

Simetric. [S.a.] http://www.simetric.co.uk/feet_to_metres.php [Verskeie datums].         [ Links ]

Stals, C. L. 1996. Seventy-five years of central banking in South Africa. Voordrag deur die president van die SA Reserwebank by geleentheid van die banket ter herdenking van die 75ste bestaansjaar van die SA Reserwebank. Pretoria. http://www.resbank.co.za [Verskeie datums].         [ Links ]

The Economist. 2019. The Big Mac index. 29 Julie. https://www.economist.com/news/2019/07/10/the-big-mac-index. [Verskeie datums]. The New Encyclopaedia Britannica. 1994. Vol 25.         [ Links ]

Union of South Africa. 1958. Report of the Decimal Coinage Commission. UG 35/1958. Government Printer: Pretoria.         [ Links ]

US Metric Association. [S.a.] Countries that have switched to decimal currencies. https://usma.org/conversion-to-decimal-currency [Verskeie datums].         [ Links ]

Van Rensburg, C. 1989. Die Suid-Afrikaanse Munt en Banknoot Katalogus, 2002 - 2003. Randburg: Randburg Munt.         [ Links ]

Wordorigins Archive. [S.a.] http://p098.ezboard.com/fwordoriginsorgfrm6.showMessage?topicID=478.topic [Verskeie datums].         [ Links ]

Van Zyl, C, Botha, Z, Skerritt, P & Goodspeed, I. 2009. Understanding South African Financial Markets. 3e uitgawe, 2e druk. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

World Economic Forum, S.a. A short history of the British pound. https://www.weforum.org/agenda/2016/06/a-short-history-of-the-british-pound/ [24 November 2019].         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2019-12-12
Goedgekeur: 2020-06-25
Gepubliseer: September 2020

 

 

 

 

Jannie Rossouw is tussentydse Hoof en Direk-teur van Wits Besigheidskool aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy was voorheen werksaam by die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Sy vernaamste navorsingsvelde sluit in Suid-Afrika se naderende fiskale afgrond, geloofwaardige en akkurate inflasiesyfers en konver-gensie en armoedebekamping in die SAOG-streek. Hy het etlike akademiese artikels in vak-wetenskaplike tydskrifte gepubliseer en spreek gereeld plaaslike en internasionale konferensies toe.
Jannie Rossouw is interim Head and Director of Wits Business School. Previously he worked at the South African Reserve Bank. He has published numerous academic papers in accredited journals in South Africa and abroad, and addressed local and international conferences on his research interests. His research focuses on inflation perceptions, South Africa's looming fiscal cliff and poverty eradication and convergence in the SADC region.
1 Die menings en gevolgtrekkings in hierdie artikel weerspieël die outeur se standpunte en moet op geen wyse aan die universiteit toegeskryf word nie. Keurders wat ewekniebeoordeling gedoen het, word vir nuttige kommentaar bedank.
2 Kragtens die Bretton Woods-stelsel van wisselkoersbepaling is die waarde van geldeenhede teen 'n vaste waarde in goud en gevolglik teenoor mekaar bepaal. Hierdie waarde kon slegs by wyse van formele devaluasie (formele afwaartse aanpassing in die wisselkoerswaarde) of formele revaluasie (formele opwaartse aanpassing in die wisselkoerswaarde) deur 'n regeringsbesluit aangepas word.
3 Die data wat ontleed word, is verkry van onderskeidelik die Regeringstatistiekdiens ("Government Statistical Service of GSS") en Bank van Engeland ("Bank of England") in die geval van die Verenigde Koninkryk en Statistiek Suid-Afrika (Stats SA) en die SA Reserwebank in die geval van Suid-Afrika.
4 Oor die kort termyn kan 'n relatief hoër rentekoers egter lei tot 'n toename in die waarde van 'n geldeenheid weens hoër opbrengs op deposito's en staatseffekte wat lei tot 'n toename in aanvraag na daardie geldeenheid. As dit egter oor die lang termyn voortduur, sal daar 'n geleentheid vir risikovrye arbitrage wees.
5 In die meeste Gemenebeslidlande (insluitend Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk) word 'n jaar as 365 dae geag, terwyl dit in alle lande as 360 dae geag word (Van Zyl et. al. 2009).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License