SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 número3Constitutional propriety in the 21st century índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.60 no.3 Pretoria sep. 2020

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n3a1 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Generaal CF Beyers: Sy lewensbeskouing soos weerspieël in sy openbare standpunte

 

General CF Beyers: His world view as reflected in his public statements

 

 

PJ Strauss

Navorsingsgenoot, Departement Historiese en Konstruktiewe Teologie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein. E-pos: StraussP@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

Generaal CF Beyers het uit die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 getree as 'n erkende militêre aanvoerder, strateeg én Afrikanerleier. Beyers is namens die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) na die vredesamesprekings van die 60 Boere-afgevaardigdes by Vereeniging op 15-31 Mei 1902 gestuur. Hier is hy tot voorsitter van die vergadering verkies. Aanvanklik was Beyers van mening dat die Boere die stryd kon voortsit. Algaande het die argument hom egter oortuig: die Here sê dat sy kinders nie deur mag en krag sal slaag nie, maar deur sy Gees...
Beyers word in 1912 die kommandant-generaal van die verdedigingsmag van die Unie van Suid-Afrika. Die uitbreek van die Eerste Wereldoorlog op 4 Augustus 1914 en die Unie se positiewe reaksie op 'n Britse versoek dat hy Duitswes-Afrika (tans Namibië) om strategiese redes inval, lok protes van Beyers en talle Afrikaners uit. Hy bedank as hoof van die Verdegingsmag op 15 September.
Beyers is gekant teen 'n rebellie, maar word sonder enige ondersoek of navraag deur Regeringsmagte wat skiet, agtervolg. As 'n voortvlugtige verdrink hy op 8 Desember 1914 in die Vaalrivier naby die huidige Makwassie.
Beyers het geglo in 'n bykans deterministiese voorsienigheid van God: 'n oortuiging wat hom in die laaste dae van sy lewe laat vlug en padgee. Na sy dood word sy bandolier met al sy patrone aan hom gevind. Hy het dwarsdeur sy agtervolging deur Regeringsmagte getrou aan Sagaria 4:6 gebly en nie een skoot teruggeskiet nie.

Trefwoorde: Konsekwente Christelike lewensbeskouing; Bybel dek volle lewe; Rebellie 1914-1915 'n uitbarsting en nie 'n beplande opstand nie; God as deterministies in sy voorsienigheid beskou; tragiese einde van Afrikanerleier


ABSTRACT

One of the generals of the Boers in the Anglo-Boer War (ABO) of 1899-1902, General CF Beyers, emerged from this war as a leading Afrikaner. He was elected as the chairman of the meeting of the Boer delegates - 60 representatives of the South African Republic and the Republic of the Orange Free State - at Vereeniging from 15-31 May 1902. This meeting was held to discuss the conditions for peace with Britain.
The delegates had a strong feeling of trust in General Beyers. Not only was he a die-hard fighter against the British and known for his courage and good judgement in difficult circumstances on the battlefield, but he would also not easily accept conditions put forward by the British. The Boers were in a difficult position in the Transvaal and the Free State in 1902. More or less 20 000 die-hard Boers still offered resistance in the form of guerilla warfare, with hit and run tactics, until the end of the ABO. This made it difficult for the majority of soldiers in the service of Britain to end the war.
Beyers entered the talks at Vereeniging as someone still prepared to go on with the war. According to his world view as based on his understanding of Scripture, the Boers had a just cause and he therefore firmly believed that the blessings of the Lord would not stay out. Beyers was known for his perseverance under pressure. However, during the talks he came under the impression of Zechariah 4:6, in which it is proclaimed that man will not succeed by means of violence and earthly power, but through the spirit of God. Especially the phrase "... by my Spirit, says the Lord" contributed to Beyers ' acceptance of the conditions for peace as formulated by the British. It was as if Beyers had accepted God's guidance as something which determines man's ways without the latter having any say in it. As if Beyers saw the providence of God as a form of determinism or in a deterministic way.
As a Christian who held the view that life was something to be devoted to honouring God's wishes in everything, a reformed Calvinistic approach, Beyers became the speaker of the legislative assembly of the Transvaal, or former South African Republic, in 1907. He advocated school education which would allow parents an important role in the affairs of a school. At the same time Beyers believed that schools should also be run according to scriptural principles. He was convinced that every aspect of life should be guided by the principles and message of the Bible. His world view was that of a Christian who sought God's will in everything.
In 1912 Beyers became the commanding officer (commandant-general) of the South African Defence Force. This made things difficult for him when the First World War broke out on 4 August 1914. According to him he became a coerced rather than a willing British subject after the Peace of Vereeniging in 1902 when he gave his word as a Christian at Vereeniging that he would honour the King and the British flag. But to fight an offensive war in 1914 against Germany in German West Africa was, he believed, an act without any provocation on the part of the Germans, and one that was contrary to the Bible and the biblically-based traditions of the Afrikaner.
Like the former South African Republic (Transvaal), which became a British colony from 1902 until 1910, South Africa became a union or a self-governing dominion under the British throne in the British Commonwealth in 1910. In 1914 it appeared that South Africa's predominantly Afrikaner government was willing to assist Britain by undertaking an offensive war against Germany in German West Africa. It reacted positively when requested by Britain to invade German West Africa (today Namibia) because of strategic aims. According to Beyers such a decision left him no choice other than to resign as the commanding officer of the South African forces. While ostensibly and publicly favouring a peaceful resistance against the government publicly, he at the same time attended protest meetings in the Free State and Transvaal, gun in hand.
The Rebellion of 1914-1915 started with shots fired on 27 October 1914 at Rooiwal near Pretoria. Beyers stuck to his viewpoint of a non-violent protest, but was persecuted by the government and had to flee. On 8 December 1914 in order to remain free, he was forced to swim across the Vaal River in close proximity to a town later to become known as Makwassie. He drowned in the river which was in flood.
The question remains as to why Beyers would appear to have acted in a non-violent, sometimes uncertain way in the Rebellion? The possibility that such indecisive behaviour might as well have been informed by his acceptance of the determining providence of God has to be entertained.

Key words: Christian world view covers life; biblical direction in everything; Rebellion of 1914-1915 a protest and not a well-planned action; God's providence taken as deterministic; tragic end of an Afrikaner


 

 

INLEIDING

Christiaan Frederik Beyers is op 23 September 1869 op die plaas Banhoek in die distrik Stellenbosch gebore. Hy verdrink in tragiese omstandighede op 8 Desember 1914 in die Vaalrivier naby die huidige Makwassie (Scholtz 1941:11, 381-382; SABW III 1977:66; Möller 2014:51).

Beyers was, volgens sy biograaf GD Scholtz, ten tye van sy verdrinking "een van die mees geliefde figure in die geskiedenis van die Afrikaanse volk" (Scholtz 1941:9). 'n Waardering en 'n affiniteit wat waarskynlik verband hou met sy "kragtige" persoonlikheid (SABW III:67), krygsmanskap, kulturele inisiatief en, veral, konsekwente Christenskap. Vanweë sy liggaamskrag speel Beyers ook vir Transvaal rugby. In 1891 draf hy vir die "Rooibontes" teen die eerste Britse toerspan na Suid-Afrika uit (SA Rugbyraad 1964:29; Möller 2014: 51).

Beyers verhuis teen die einde van 1888 na Pretoria en word in 1894 'n prokureur in Boksburg (Möller 2014:51). Vanweë sy aanbod om die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) as 'n vrywilliger te help tydens die Jamesoninval van 1895-1896, verkry die gebore Bolander in 1897 volle burgerskap van dié republiek (SABW 111:66; Scholtz 1941:20). Scholtz glo dat 'n oorlog manne na vore stoot "wat weet wat gedoen moet word" en dat Beyers saam met onder meer Christiaan de Wet, Louis Botha (in 1910 word hy die eerste premier van die Unie van Suid-Afrika), Koos de la Rey en Jan Smuts (in 1910 word hy as die regterhand van Louis Botha in die Suid-Afrikaanse kabinet as onder meer die Minister van Verdediging opgeneem, SABW I 1976:775) as bekende Boeregeneraals uit die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 (ABO) te voorskyn tree (Scholtz 1998:15).

In 'n ontleding van sy kenmerke as 'n soldaat, wys Scholtz op Beyers se "persoonlike moed... sin vir dissipline en... strategiese vernuf'. Op die slagveld was hy onverskrokke en vreesloos. Hy kon onder hewige vuur en die "beskieting van die vyand" bedaard bly en "oop en bloot" rondstap met 'n koelheid wat aan onverskilligheid gegrens het. Dieselfde het in die Rebellie van 1914-1915 gebeur. Hier het Beyers, tot en met sy verdrinking, net 'n ligte vleiswond opgedoen. Hy het dieselfde moed en dissipline van sy mede-offisiere en manskappe verwag (Scholtz 1941:67). Lee noem Beyers die assistent-kommandant-generaal van die distrikte Waterberg en Soutpansberg in die ZAR wat groot moed, vindingrykheid en oorspronklikheid getoon het in Boere-aanvalle op Britse stellings (Lee 1985:139). Beyers lei in hierdie distrikte mettertyd 'n "geïsoleerde guerilla-oorlog" van "slaan en vlug"- tot aan die einde van die ABO (SABW III:67). In Maart 1900 word hy in die Heidelbergse kommando tot assistant-veldkornet bevorder (Scholtz 1941:25) en in September 1900 as assistent-kommandant-generaal aangewys in die noorde van die ZAR. Kommandant-generaal Louis Botha doen die aanstelling (SABW 111:67: Scholtz 1941:70).

Beyers kry van sy moeder 'n godsdienstige opvoeding wat algaande meer en meer uit sy optrede sou blyk. Scholtz druk dit so uit: "Sy godsdienstige oortuiging het sy hele handel en wandel later beheers" (Scholtz 1941:18). Hy trou op 6 Augustus 1896 met Mathilde König op Klerksdorp (Möller 2014:51). Dit word 'n verbintenis wat hom versterk in sy Christelike geloofsoortuiging. Mathilde kon Frans en Duits praat en was, soos Beyers, 'n godsdienstige, oortuigde Afrikaner. Sy het teologiese boeke gelees en 'n studie van die godsdienste van die wêreld gemaak. Scholtz noem haar "een van die grootste invloede in sy lewe". In teenstelling met Beyers se uitgaande geaardheid, was sy teruggetrokke en stil (SABW III: 66; Scholtz 1941:21). Geen kinders word uit die huwelik gebore nie (De la Rey 1998:7, 87; SABW III:66).

'n Godsdienstige oortuiging of 'n uitkyk wat mens se hele handel en wandel beheers, word ook 'n lewens- en wêreldbeskouing genoem. Dit is op 'n ontleding van hierdie beskouing van Beyers as 'n openbare figuur dat hierdie artikel fokus. Sy lewensbeskouing soos blyk uit sy openbare standpunte en optredes, word ontleed. Is dit so dat sy Bybels-Christelike "oortuiging" sy hele lewe gestempel het? Dat Beyers as 'n krygsman en politikus hom van 'n Christelike lewens- en wêreldbeskouing bedien het? Wat was die invloed hiervan op sy standpunte en gedrag?

 

LEWENSBENADERING

Mathilde Beyers vertel hoe haar man al sy motiewe en handelinge aan die Bybel getoets en in gebed gebly het totdat hy sekerheid oor 'n saak gekry het.

In September 1914 is bepaalde omstandighede en probleme rondom keuses wat uitgeoefen moes word, voortdurend deur Beyers in sy gebede tydens huisgodsdiens geopper. Dit het in die eerste plek gegaan om Brittanje en Duitsland wat mekaar tydens die Eerste Wereldoorlog die stryd aansê en die SA Regering se voorneme om homself in die geval van 'n Duitse aanval te verdedig. Daarteenoor was daar onrus onder Afrikaners oor 'n moontlike inval van die Unie in Duitswes-Afrika en die opkommandering tot 'n "nie-afrikaanse offensiewe oorlog" van hulle wat slegs 12 jaar tevore met die morele steun van Duitsland teen die Britte geveg en hulle Republieke (die ZAR en die Republiek van die Oranje-Vrij staat) verloor het. Bowendien was daar 'n beweerde verstandhouding onder Boereleiers na afloop van die Anglo-Boereoorlog (ABO) dat hulle hulle onafhanklikheid by 'n gepaste geleentheid sou terugvat.

Beyers het vir die Suid-Afrikaanse Regering met wie hy nie eens in gees en benadering was nie, gebid, maar ook vir die Afrikaner, vir sy toekoms en sy vryheid. Sy vrou vertel hoe sy hom nog met trane in die bresse hoor tree het vir sy mense: "Here God! Is er dan geen hoekje op uw aarde, waar de Afrikaner ontwikkelen kan naar zijn aard, naar zijn aard?" (volledige woordelikse aanhaling in Scholtz 1941:182).

Vir Beyers was die kerk die bolwerk van die Christendom. Met sy aankoms in Pretoria teen die einde van 1888 (SABW III:66) word hy 'n lidmaat van die Pretoriase Ned Hervormde of Gereformeerde Kerk (later Ned Geref Kerk, Van der Watt 1987:20-21). Hier word hy spoedig 'n diaken en lid van die kerkraad. Hy deel sy sielservarings met ander en vertel hoe hy dinge beoordeel en ervaar. Toe sy lyk twee dae na sy verdrinking op 8 Desember 1914 uit die Vaalrivier gehaal word, word die boekie van Andrew Murray, Aanbidt God, in sy sak gevind. Hy het hom verdiep in die Christelike geloofsleer en met andersdenkendes daaroor in gesprek getree. Hy en Mathilde stry teen sektes. Uit hierdie oord word hulle gekomplimenteer vir hulle kennis van die Bybel en die Christelike geloof (Scholtz 1941:182-183). Voor 'n vergadering van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap in Pretoria, praat Beyers as speaker van die Wetgewende Vergadering van Transvaal (1907-1910) oor die invloed van die Bybel deur die jare op sy mense, die Afrikaners - 'n invloed wat hulle geestelike krag gegee het. Hy verwys na die koms van die Franse Hugenote na Suid-Afrika, die Groot Trek en die Gelofte voor die Slag van Bloedrivier in 1838. Hy dra 'n Bybel wat sy ma aan hom gegee het dwarsdeur die ABO. Saans word dit deel van sy kopkussing. In die distrik Waterberg weer hierdie Bybel in sy hempsak twee koeëls wat sy bors sou tref, af. Beyers is van 1904 tot 1912 voorsitter van die Commando Dank Zendingsvereeniging wat gedurende die oorlog in sy kommando ontstaan (Scholtz 1941:182-187).

Tussen sy nagelate stukke word 'n toespraak oor karaktervorming gevind waaruit sekere aspekte van Beyers se opvattings oor die lewe duidelik blyk. Hy skryf dit met 'n potlood op papier. Volgens Beyers is die lewe van elke mens 'n plan van God. Daarvoor moet die mens hom onderwerp aan God se wil. Onder God se beginsels vir die lewe is daar liefde, waarheid, reinheid en geduld. Om net vir jouself te werk en net jou eie posisie en reputasie te bevorder, is nie liefde nie. Liefde offer op vir die medemens én vir die vaderland. Liefde vertroos bedroefdes, bemoedig swakkes en is 'n groot behoefte in die lewe. Gedryf deur liefde ontwikkel getroue burgers op wie daar gereken kan word. Die bou van karakter vra tyd. Vriendskap moet duur wees omdat die invloed van "een leven op een ander . ontzaggelijk en verbazend" is (dokument volledig in Scholtz 1941:188-192). Beyers wou deurgaans volgens sy innerlike oortuiging handel, al sou dit hom skade berokken. Sy eerlikheid, integriteit en pligsbesef het hom as 'n vervolgde deur gewapende Regeringstroepe in Desember 1914 daarvan weerhou om teen sy gegewe woord in self na die wapen te gryp of 'n gewapende rebellie te inisieer. Toe sy lyk na sy verdrinking uit die rivier gehaal is, was sy bandolier nog vol patrone. Nie 'n enkele een het ontbreek nie omdat Beyers sy woord gegee het en, ten spyte van skote op hom deur sy agtervolgers, eenvoudig nie op sy eie mense wou skiet nie (Scholtz 1941:382).

Later verwys Afrikaners na drie Afrikanermartelare in die Rebellie, al drie slagoffers van die beleid van Botha en Smuts: Koos de la Rey, Christiaan Beyers en Jopie Fourie (SABW III 1977:68). Fourie rebelleer terwyl hy 'n lid is van die Unieverdedigingsmag. Hy word 'n dag na sy krygsverhoor (dit is ongewoon om kort na die verhoor tereggestel te word) in die Sentrale Gevangenis in Pretoria op Sondagoggend 20 Desember om 5:00 gefusilleer - die enigste rebel wat so 'n dood sou sterf (Giliomee 2012:288). DF Malan en ander predikante soek die Saterdag tevergeefs na Smuts om Fourie te begenadig. Malan kry die blywende indruk dat Smuts, 'n oud-Sondagskoolonderwyser van hom op Riebeeck-Wes, hulle doelbewus ontwyk (Malan 1959: 22-24).1

Teen hierdie agtergrond sou Beyers sy Christelike godsdiens en geloof op kommando uitleef. Voor die Slag van Nooitgedacht in die Magaliesberge op 12-13 Desember 1900, laat Beyers eers 'n diens deur ds. AP Kriel hou (Scholtz 1941:46). Op 16 Desember word "Dingaans-" of Geloftefees in Beyers se kommando onder leiding van dieselfde Ned Geref-predikant gehou (Scholtz 1941:49). Ds. Kriel sê later dat die Christelike geloof en godsdiens die grondslag van Beyers se "hele lewensbeskouing" geword het. Godsdiens op kommando was vir hom 'n werklikheid. Dit was verweefd met die denke, planne en verrigtinge van elke dag. Vir hom was sy geloof nie net dogma nie, maar dit wat sy hele lewe stuur en dra. Mense wat hom nie goed geken het nie, kon die indruk kry dat hy 'n dweper was. Vir die wat hom goed geken het, aldus Scholtz, was CF Beyers egter die toonbeeld van 'n Christen. Iemand wat nie net daaroor praat nie, maar dit ook uitleef. Nadat hy soggens opgestaan het, het hy eers Bybel gelees en gebid. As hy kon, sou hy nie op 'n Sondag veg nie. Offisiere wat hulle skuldig maak aan openbare misdrywe, moes volgens hom ontslaan word (Scholtz 1941:63 -66). Beyers was 'n groot voorstander van dissipline. Tydens 'n geveg sou hy met 'n kort sambok rondbeweeg en geen ongehoorsaamheid of lafhartigheid onder die manne duld nie. Met die hulp van kaptein Heinrich du Toit van die ZAR se Staatsartillerie het hy hulle - vreemd vir rustelose, vrye Boere - ook aan driloefeninge blootgestel (Scholtz 1941:68). In die Waterberg neem sy kommando nie voedsel by swartes deur dwang nie, maar betaal hulle daarvoor (Scholtz 1941:91). Beyers se eerlike, reguit optrede boesem vertroue in. Tog skep dit soms die indruk van 'n gedrewe, byna ongevoelige taktloosheid (Scholtz 1941:162).

 

'N ADRES WAT GETUIG

Na vredesluiting op 31 Mei kom die skeidingsuur van CF Beyers met sy kommando op 9 Junie 1902. Soos dit soms by die afskeid van 'n dominee uit 'n Ned Geref-gemeente gaan, oorhandig sy offisiere by hierdie "plegtigheid" aan Beyers 'n afskeidsadres. Dié afskeidsadres is 'n adres wat die gehalte van hulle saamwees in die ABO met hom as 'n militêre leier en konsekwente Christen op skrif stel; 'n adres waarin die offisiere hulle ervaring van die saamwees van die kommando in die oorlog met woorde probeer raakvat; en 'n adres wat 'n oorlogsgetuigskrif vir 'n Christen-generaal is.

Die offisiere glo hulle praat namens die hele kommando as hulle hulle generaal "hartelijk dank toe... brengen voor wat gij gedurende dezen zwaren en noodlottigen oorlog voor ons geweest zijt... ". Omdat generaal Louis Botha en die ZAR-regering van Beyers se dapperheid en manlikheid bewus was, is hy in September 1900 in beheer van "onze strijdmachten" geplaas. As 'n vreemdeling is hy nie met genoeg hartlikheid en liefde in die kommando ontvang nie. Sy regsinnigheid, beslistheid, minlikheid en godvrugtige lewenswandel het egter meegebring dat hulle spoedig tot hom aangetrokke gevoel en hom as leier leer vertrou en liefkry het. Sy onverskrokkenheid by die Slag van Nooitgedacht op 13 Desember 1900, waar hy sy eie lewe ter wille van die kommando se veiligheid op die spel geplaas het, is een voorbeeld daarvan. Ten spyte van kommandolede wat uit moedeloosheid gehensop of na die Britte oorgeloop het, was Beyers onder die moeilikste omstandighede "een invloed ter volharding" vir sy mense. Sy vindingrykheid het hulle in tye van materiële nood en 'n kosskaarste in staat gestel om te oorleef. Hulle wil hom verseker dat

... uwe onvermoeide [geestelijke, PS] bearbeiding, gepaard met een voorbeeldigen en Godvruchtigen wandel voor velen onzer tot een blijvende geestelijken zegen is geweest....

Weens die ABO en daarmee hulle gevolglike armoede kan hulle hom geen tasbare bewys van hulle toegeneentheid gee nie. Wat hulle wel as geskenk aanbied, is

... onze voortdurende hoogachting en liefde.en (wij willen) u verzekeren dat zelfs onze kindertjes door ons van u zullen hooren en zoodoende u leeren respecteeren en liefhebben. . Wij (blijven) voor de toekomst tot u opzien als den vriend en weldoener van het Afrikaansche volk. (adres woordeliks volledig in Scholtz 1941:99-101)

'n Paar waarnemings is hier gepas.

In die eerste plek reflekteer die adres die stellings van AP Kriel en GD Scholtz dat Christiaan Beyers se Christelike godsdiens en geloof die grondslag van sy "hele lewensbeskouing en -wandel" geword het. Sy burgers - volgens hulle eie getuienis - het sy militêre en Christelike leierskap daagliks as 'n geïntegreerde geheel beleef en die adres maak daarvan 'n verweefde eenheid. Boonop stel hierdie manne uit die noordelike dele van die ZAR die lens breër as hulle Beyers as 'n weldoener en daarom 'n leier van die breër Afrikaanse gemeenskap beskou.

In die tweede plek ontbreek geykte kerktaal en openbare lofredes in hierdie adres. Dit gaan om die raakvatpogings met woorde van die burgers se egte belewenis van die generaal en hulle beskrywing van 'n leier wat onder hulle beweeg én "huisbesoek" of geestelike werk gedoen het. Dit handel oor 'n generaal wat deur sy konsekwente Christenskap en omgee 'n hartsnaar by sy burgers geroer het en oor emosies wat 'n refleksie is van sy eie gemoed as gevegsleier en wat later - rondom sy verdrinking gedurende die Rebellie op 8 Desember 1914 - waarskynlik 'n gedeeltelike verklaring bied vir sy ontwykende gedrag kort voor sy dood. Op 'n beredenering hiervan word teruggekom.

 

ONS SAAK IS REG - VOOR GOD

Beyers se houding oor die ZAR en die Republiek van die Oranje-Vrystaat se redes vir hulle aandeel aan die ABO, sou ook uitkom by die vergadering van die afgevaardigdes van die twee Boererepublieke oor vrede op 15-31 Mei 1902 by Vereeniging (Kestell & Van Velden 1982:

169). Hierdie houding getuig eweneens van die impak van sy Christelike lewensbeskouing op sy hele lewe. As 'n weerspieëling van die vertroue by Boere in sy persoon en oordeel, word Beyers as die voorsitter van die byeenkoms gekies (Kestell & Van Velden 1982:14,56; Scholtz 1960:115). Hierdie vertroue reflekteer ten minste twee waarnemings van eienskappe van Beyers deur sy geesgenote en kommando-offisiere in die ABO: sy ewewigtige oordeel oor mense en die slagveld en sy volharding met die saak van die Republieke. Beyers, self 'n bittereinder in die ABO, sou nie om spek en bone na vrede gryp nie en 'n roemlose neerlaag die Afrikaner spaar as hy kon. Dit was 'n saak wat deur president MT Steyn van die Vrystaat, wat weens siekte aan die vergadering moes onttrek, as die bittereinder van die bittereinders beklemtoon is (Kestell & Van Velden 1982:42; OVS Volksraadsnotule 22:09:1899:15-24; Van Schoor 2009:134). Teen die einde van die ABO was daar ongeveer 20 000 bittereinders in die veld teen die Engelse en uit hulle sou die afgevaardigdes van die Boere na Vereeniging kom (Schoeman sa:38).

By Vereeniging verklaar Beyers op Donderdag 29 Mei 1902 dat die Republieke Brittanje die stryd aangesê het omdat "onze zaak recht is". Brittanje is 'n imperialistiese wêreldmoond-heid wat die twee klein Republieke van hulle onafhanklikheid wou ontneem.

Onze zaak was recht en is recht en zal recht blijven en macht zal niet triomfeeren. Daarom wil ik volharden in den strijd om te zien dat recht triomfeert, al moet triomfeeren eerste na mijn dood plaats vinden. (toespraak woordeliks in Scholtz 1941:94-97; vgl Kestell & Van Velden 1982:144)

As 'n Christen kon Beyers dit nie in die internasionale politiek en Volkereg aanvaar dat mag reg is nie. Hierdie Christelike oortuiging gegrond op sy lewensbeskouing, het hom in die ABO aangespoor om te volhard. Vir Beyers is daar teen Mei 1902 nie onoorkomelike hindernisse in die pad van die Republieke om die oorlog voort te sit nie. Hindernisse was daar van die begin af. Wat hom wel hinder, is die mismoedige gees wat sy mense - in die ZAR en die Vrystaat - skynbaar besiel. Sy (Christelike) gewete raai hom aan om teen vrede te stem, maar dit sal belaglik wees om voort te gaan as "almal rondom my die wapens neerlê" (Kestell & Van Velden 1982:144-145). Op Saterdag 31 Mei 1902 aanvaar die Boere die vredesvoorstelle van die Britte wat die onafhanklikheid van die ZAR en die Republiek van die Oranje-Vrystaat beëindig. Die stemming is 54-6. Beyers se naam verskyn onder die 54 wat dit aanvaar (Kestell & Van Velden 1982:169-173). In sy eie verstaan daarvan uitgedruk: as omstandighede rondom die uitvoering van 'n saak dit onmoontlik maak, moet selfs "my" gewete swyg. Beyers toon as konsekwente Christen by Vereeniging dus ook 'n realistiese, toegeeflike kant (SABW III:67; Kestell & Van Velden 1982:144): hy is 'n realis wat homself uit noodweer ook op 'n Sondag verdedig of kan vlug as dinge te warm word. So laat Beyers hom in die bespreking by Vereeniging oorhaal om ten gunste van vrede te stem (SABW III:67).

Op 16 Februarie 1905 sê Beyers dat die Boere in die ABO "deur die Goddellike wil" verslaan is. "Nou sal hulle 'n ander stryd vir hulle regte op 'n ander manier voer". Die Here het hierdie feit op Vereeniging deur Sagaria 4:6 aan hom geopenbaar (Scholtz 1941:121).

 

AFRIKANERWEES SONDER POLITIEKE BEHEER

Wat Beyers tydens die vergadering uit die Bybel aflei, is dat die lotgevalle van die Afrikaner nie deur wapengeweld nie, maar die wil van God bepaal word. Om nou by Vereeniging vir vrede te stem impliseer dat jy steeds vir die politieke onafhanklikheid van die Afrikaner kan werk, maar nie deur die loop van 'n geweer nie. Twaalf jaar later, in die Rebellie van 1914, bly die Bybelwoord wat Beyers by Vereeniging gelees het, naamlik Sagaria 4:6, hom by: "Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige" (Scholtz 1941:97). Dit waarin die wapenstryd in die ABO gefaal het, moet die konstitusionele stryd in vredestyd voorsien. Deur God se wil het die Afrikaner in die ABO die onderspit gedelf en deur God se voorsienigheid sy politieke onafhanklikheid verloor.

Vir Beyers beteken dit egter nie dat die Afrikaner moet verdwyn nie. God het 'n doel met hierdie volk. Later sê hy in Pretoria: "Als God u in de wereld gebracht heeft als Afrikaner, verwacht Hij ook van u dat u zal sterven als Afrikaner" Scholtz voeg hieraan toe dat Beyers se liefde vir alles wat Afrikaans is, slegs geëwenaar is deur sy haat vir alle "anglisasiepogings" (aanhaling by Scholtz 1941:121; vgl Möller 2014:51). Na die ABO loop die weë van Beyers teenoor Botha en Smuts as politieke leiers, eers in Transvaal tot 1910 en daarna in Suid-Afrika, uiteen. Die groot rede hiervoor is die konsiliasiepolitiek van laasgenoemde wat Suid-Afrika 'n onderdeel van die Britse Ryk met Britse belange wil maak (Scholtz 1941:117,119). Na die stigting van die Het Volkparty in 1905 toon Beyers se oortuigings en uitsprake "dikwels weinig ooreenkoms... met die versoeningsbeleid van sy party" - 'n verleentheid vir Botha en Smuts. In 1907 word hy as die lid vir Waterberg deel van die Transvaalse Wetgewende Vergadering én speaker van die vergadering (SABW III:67). Die algemene opvatting in die wandelgange is dat Botha hom "aan die stoel gekluister het" om 'n sterk andersdenkende stem in sy party stil te maak (Scholtz 1941:163-164).2

Beyers dink soms byna ongenuanseerd deterministies oor God se voorsienigheid. As God dit in 'n situasie skynbaar so wil, kan die gelowige niks anders as om te gehoorsaam nie. Gebede en smekinge om die Here van 'n ander beskikking te oortuig, is nodeloos en teen sy wil. Vir enige Christen wat aan uitsonderings op die tweede tafel van die tien gebooie en dus die sesde gebod glo, is die wapen in 'n bepaalde situasie juis die laaste uitweg: in noodweer of as niks anders na deeglike oorweging meer help nie en daar 'n redelike kans op sukses is (Heyns 1989:192-218). Waarom sou die Afrikaner as Afrikaner binne God se wil die ABO kon oorleef as sy state of Republieke as deel van sy kultuurbesit daarmee beëindig word? Buitendien, as die Here God dit so beskik dat jy as 'n Afrikaner in die wêreld kom, moet jy hierdie reëling as 'n konstante, vaste beginsel sien en jou opstel teen enige verandering van jou kultuurbesit of volkswees? Sou dit ongehoorsaam en sondig wees om te verander van taal en kultuur? Moes die Kaapse Hollanders, Duitsers, Franse en ander in die Kolonie nooit Afrikaners geword het nie (Giliomee 2003:51)? Of as mense soos hulle deur 'n vrye keuse 'n Afrikaner geword het, moet sy keusevryheid en kulturele ontwikkeling daar stop? Is kultuur nie 'n dinamiese, immer veranderende saak in verskillende tye nie?

Hoe dit ook al sy, die twee Boerepublieke sou die ABO verloor, maar die gesamentlike impak van die oorlog sou Afrikanernasionalisme laat oorleef en met 'n nuwe trots en 'n besef van eiewaarde - dit wat in beide Christiaan en Mathilde Beyers geleef het - die twintigste eeu instuur (Lee 1985:210). Die waarde is verhoog deur die sielseffek van volhardende bittereinders te velde teen 'n Britse oormag tot aan die einde van die ABO (Lee 1985:219) en die triomferende martelaarskap - die woorde van die vader van die Vrouemonument, president MT Steyn, by onthulling daarvan op 16 Desember 1913 - van fisies weerlose maar geestelik sterke Boervrouens en -kinders in, aanvanklik, swak georganiseerde Britse konsentrasiekampe en elders (Strauss sa:8).3

 

POLITIEK IN DIE OU TRANSVAAL

Op 'n byeenkoms van Transvaalse Afrikaners op 23 en 24 Mei 1904 in Pretoria, 'n vergadering wat deur generaal Louis Botha saamgeroep word, word Beyers saam met Botha, De la Rey, Smuts en adv. Ewald Esselen benoem op 'n komitee waaruit die Het Volkparty in 1905 ontstaan (Scholtz 1941:113). Vanweë sterk steun onder die verteenwoordigers van distrikte in Transvaal, word Beyers verkies tot die hoofbestuur van Het Volk. Beyers se kritiek op die Britse hantering van die vredesooreenkoms van 1902 asook Botha en Smuts se konsiliasiepolitiek, kritiek waarmee hy eerlik uitkom, veroorsaak op hierdie stadium reeds "heelwat verleentheid" vir hierdie twee here (SABW III:67).

Beyers lewer 'n rede oor die onderwys op die kongres in Mei 1904. Hierdie rede trek aandag en stimuleer die beweging om hom hierna een van die "vernaamste sprekers op verhoë van Het Volk" te maak. Hy word een van 'n afvaardiging wat die besluite van die kongres die volgende dag aan die Engelse luitenant-goewerneur, sir Arthur Lawley, moet oordra. Anders as sy medekomiteelede, pleit Beyers nie vir die beloofde uitbetaling van 3 000 000 pond deur Britanje as skadevergoeding aan die Boere nie. Vir hom is dit 'n reg wat spruit uit hulle afspraak met vredesluiting. Die bedrag staan immers in artikel 10 van die bepalings van die Vrede van Vereeniging opgeteken (Scholtz 1941:113-114). Vir Beyers as Christen is sy woord sy eer. Hy verwag dieselfde van die Engelse, want hulle leef ook in God se wêreld.4

Die konsiliasiepolitiek wil 'n streep trek deur die Afrikanerverlede, maar Beyers put inspirasie uit hierdie verlede - inspirasie dat die Afrikaner weer "in alle opsigtë" 'n vrye volk sal word. Mathilde vertel na sy dood in 1914 dat Beyers nooit 'n geheim daarvan gemaak het nie dat hy na 1902 'n gedwonge Britse onderdaan was en dat dit hom groot vreugde sou gee om sy land opnuut vry te sien. Om 'n bittereinder te wees was by Beyers - soos sy ander groot oortuigings - 'n saak van die hart as die kern van sy persoonlikheid (Smit 1992:161). Boerebittereinders was republikeine en nie gewillige onderdane van die Britse Ryk of koningshuis nie.

Ten opsigte van die herstel van 'n republiek, wys Scholtz in 1942 op 'n onderskeid wat na die ABO onder Afrikaners voorkom. Na 1902 was daar 'n stilte onder Afrikanerleiers oor die ideaal van 'n republiek. Sommige het om taktiese redes nie daaroor gepraat nie, maar republikeine in hulle harte gebly. Onder hulle was daar Beyers by wie die ideaal bly voorleef het. Ander - soos Botha en Smuts - wou uit oortuiging nie daarvan praat nie, omdat hulle dit afgesweer het (Scholtz 1942:18-19).

Generaal Smuts lê in 1907 'n memorandum oor die onderwys in Transvaal aan die Brit Lord Selborne voor wat laasgenoemde met " 'n paar wysigings" aanvaar. Smuts gee die reg om onderwysers aan te stel en te ontslaan aan die regering. Skoolkommissies van ouers kan net voorstelle maak. Engels sal ook die medium van onderwys wees. Sodra die kinders Engels verstaan, word Hollands as medium van onderrig deur hierdie taal vervang (Scholtz 1941: 143). Hierdie memorandum lok hewige reaksie uit van verskeie lede van Het Volk, die CNO-beweging in Transvaal en die verteenwoordigers van die drie Afrikaanse kerke. Hulle sou met die CNO-skole volhard. Beyers wys op drie sake in die onderwys waarin Afrikanerouers "vrij" wil wees: godsdiens, taal en die keuse van onderwysers. Tereg voeg hy hieraan toe: "Wij hebben recht op subsidie, want wij betalen onze belasting" (aanhaling by Scholtz 1941:146). As 'n Christen én 'n prokureur, het Beyers 'n oog vir 'n regering wat in algemene regsbelang, regverdig aan almal op sy gebied, in 'n moderne gedifferensieerde samelewing optree; 'n oog vir belastingbetalers wat op hulle betaling van belasting aan die staat van laasgenoemde die handhawing van hulle regte - hulle privaat- en publiekregtelike regte waarby gesubsidieerde onderwys ingesluit is - as 'n billike teenprestasie verwag (Strauss 2018:950). Die CNO-kongres wat in hierdie tyd plaasvind, neem Beyers se oortuiging in sy grondwet op dat Christelike onderwys of die C in die CNO op die Bybel en die belydenisskrifte van die 3 "Hollandsche" kerke gebaseer moet wees - die C wat die N en die O moet stuur of bepaal. Nasionaal beteken vir hom dat "wij" God se leiding in die geskiedenis van "ons Volk", godsdiens, taal en tradisies in ere hou en daarop voortbou. Die CNO aanvaar daarby 'n voorstel van - interessant genoeg - generaals Botha en Beyers dat daar by die owerheid aangedring word om CNO-onderwys te subsidieer en dat die hoofkomitee van Het Volk versoek word om hierin saam te werk (Scholtz 1941:147).

Het Volk keur eers in Desember 1906 'n program van beginsels goed; 'n program waarmee Beyers ook vergaderings toespreek. Hierdie program beoog rassevrede (in daardie tyd 'n verwysing na Afrikaners en Engelse) in 'n verenigde Suid-Afrika, samewerking met Brittanje oor sy protektorate in Suider-Afrika, die hantering van die verskillende bevolkingsgroepe in Suid-Afrika buite die partypolitiek, vrye onderwys en ouerseggenskap by die aanstelling van onderwysers én die taalmedium (mits Engels as verpligtend ook aangebied word), die bevordering van die mynbou en die landbou, die beskerming van blanke arbeid en 'n verbod op ongewenste immigrante (Scholtz 1941:150). Hierin kom duidelike voorlopers van die beleid van die latere Nasionale Party (gestig in 1914) in die Unie van Suid-Afrika voor.

As speaker van die Transvaalse Wetgewende Vergadering bou Beyers 'n goeie reputasie op. Ook die opposisie het waardering vir sy beslistheid, hoflikheid en onpartydigheid (SABW III: 67): eienskappe eie aan 'n gebalanseerde Christenheer in so 'n situasie. Met sigbare selftevredenheid kon hy sake glad en spoedig, effektief en tydekonomies afhandel (Scholtz 1941:178). In 1910 word Beyers in die Suid-Afrikaanse Volksraad onbestrede as die lid vir Pretoria-Suid aangewys. Hy neem aan debatte oor onderwys, godsdiens en verdediging deel.5Op 1 Julie 1912 bedank hy uit die Volksraad om die kommandant-generaal van die nuwe Unie-Verdedigingsmag te word. Die vermoede bestaan weer dat hy daarmee deur Botha as 'n struikelblok uit die politiek gehaal word (SABW III:67; Möller 2014:51). Hierdie aanwysing sou die laaste fase in sy lewe inlei.

 

EERSTE WERELDOORLOG BRING SPANNING

In 'n terugblik op gebeure maak Lee die opmerking dat die bittereinder-bevelvoerders van die Boere in die ABO, voor die Rebellie van Afrikaner teen Afrikaner in 1914-1915, vir die laaste keer bymekaar was by die onthulling van die Vrouemonument op 16 Desember 1913. Die inwyding van die Vrouemonument was 'n emosionele triomf vir die Boerebittereinders of "hard-liners" (Lee 1985:209). Die aanvaarde konstitusionele én bittereinderweg vir 'n republiek was - soos Beyers dit voorsien het - egter 'n lang pad. Byna 50 jaar na Beyers se dood - in 1961 - sou die nuwe Republiek van Suid-Afrika tot stand kom en 'n nuwe eenheidstaat van verskeie volke in hierdie deel van die wêreld gevorm word.

Ongeveer 30 000 regeringstroepe het teen meer as 11 000 Rebelle te staan gekom. Onder die rebelle was daar 7 123 uit die Noord-Vrystaat, 2 998 uit die toenmalige Wes-Transvaal en 1 251 uit die Noord-Kaap. Hierdie plekke van herkoms stem ooreen met die plekke van herkoms van talle leiers onder die Boerebittereinders in die ABO. Die Rebellie was beperk tot die Noord-Vrystaat, Noordwes-Transvaal en die Noord-Kaap (Giliomee 2012:288). Die Rebelle was deur die bank Afrikaners en die oorgrote meerderheid regeringstroepe en polisiemanne was ook Afrikaners. Aan rebellekant sou 190 sneuwel en aan regeringskant 132. Dit wil voorkom asof die eerste skote op 27 Oktober 1914 by Rooiwal naby Pretoria geklap het en die laaste teen middel-Desember. Die laaste Rebelle het begin Februarie 1915 by Upington oorgegee (Scholtz 1942:97, 186-212; Van der Watt 1987:342). NJ van der Merwe noem die Rebellie 'n "uitbarsting en nie 'n komplot nie".6 Hy toon dat die "voorbereiding... ontoereikend" was -"die Regering alleen het wapens en ammunisie in voorraad gehad" (Van der Merwe II:327). Giliomee noem die Rebellie byna sagkens 'n "amperse fiasko" (Giliomee 2012:288). Dit was glad nie 'n deurdagte, welbeplande en goed voorbereide inisiatief nie.7 Kommunikasie tussen die leiersfigure was gebrekkig tot onbestaanbaar en 'n groot getal Rebelle het nie perde of gewere gehad nie. Grundlingh en Swart (2009) praat van moeilik peilbare redes vir die Rebellie en duisende manne wat sonder 'n duidelike visie eenvoudig gerebelleer het. Hulle haal vir Neame aan wat in 1930 daarna verwys as

... one of the most curious and dramatic incidents in the Great War. The full story will never be completely written. In much of it the deciding force was the spoken word which is today lost, and even if it could be recovered one could not recreate the strange atmosphere in which thousands of men acted in a sort of mid-summer madness. (Grundlingh & Swart 2009:10-11)

Die Eerste Wêreldoorlog tussen onder andere Brittanje en Duitsland, het op 4 Augustus 1914 uitgebreek (De la Rey 1998:55). Die afspraak tussen die SA Regering en Brittanje was dat die Unie homself sou verdedig indien Duitsland hom sou aanval. Hieroor was daar geen onrus onder die Boerebittereinders nie. 'n Defensiewe oorlog in 'n situasie van noodweer of uit selfverdediging was vir hulle 'n aanvaarde norm. 'n Gerug dat Suid-Afrika positief wil reageer op 'n Britse versoek - dit het later geblyk dat dit reeds op 10 Augustus 1914 gebeur het - om Duitswes-Afrika (tans Namibië) binne te val om sekere strategiese redes,8 het die gemoedere egter gaande gemaak. Hierdie gerug word verbind aan die stelling dat burgers nie vrywillig betrokke gaan raak nie, maar opgekommandeer (dus verplig) sou word. Die gerug kry baard toe die opposisie, die Nasionale Party, die moontlikheid van so 'n inval op 26 Augustus afwys. Op 12 September besluit die Suid-Afrikaanse Parlement - die antwoord wat reeds op 10 Augustus aan die Britte gegee is, word nou "wettig-amptelik" - op voorstel van die Botha-Smutsregering egter met 'n meerderheid van 92-12 om aan die Britse versoek gehoor te gee (Scholtz 1942:94; Koorts 2014:118; De la Rey 1998:77-78,82). Daarmee word die teerling in die openbare lewe van Suid-Afrika gewerp en 'n gefundeerde tradisie onder republikeinse Afrikaners deur mede-Afrikaners eenkant gestoot (Wessels 1977:205; Van Schoor 1997:31).

As kommandant-generaal is Beyers van meet af van hierdie Regeringsplan bewus. Hy spreek sy sterk teenkanting daarteen uit (SABW III:67) en hoop dat die inisiatief in die Parlement sal sneuwel. Ook besluit hy om uit protes teen so 'n aksie van die Regering as die hoof van die Unie-verdedigingsmag - 'n posisie waarin hy direk by so 'n inval betrokke sou moes wees - te bedank. Na 'n gesprek met geesgenoot Koos De la Rey, besluit Beyers om sy bedanking terug te hou tot die Parlement oor die Britse versoek besluit het. Hy is primêr om godsdienstige redes teen die Regering se offensief teen Duitswes gekant, sodat die saak 'n vretende kanker in sy gemoed word. Nadat die Parlement sy besluit op 12 September geneem het, bedank Beyers op 15 September 1914 as kommandant-generaal.9 Die Minister van Verdediging, generaal JC Smuts, neem hom dit erg kwalik, maar Beyers kry steun by 'n breë front Afrikaners (Möller 2014:52).

 

DIE UITBARSTING

Hierna volg die verhaal van die Rebellie wat vanweë sy gebondenheid aan Neame se "spoken word which is today lost" as kommunikasiemiddel én die kompleksiteit en uiteenlopendheid van die redes vir die houdings en optredes van uitstaande figure, hom nie leen tot 'n Christelik-etiese oordeel sonder 'n grondige ondersoek nie - 'n ondersoek waarvoor die ruimte hier ontbreek. Deur beide die Regering en die Rebelle is dinge gesê en gedoen wat die wenkbroue laat lig. Daarom dat die Ned Geref Kerk se Raad van Gefedereerde Kerke in Januarie 1915 vir 'n deeglike ondersoek en 'n gesprek oor redes en gedrag vra voordat daar op straf besluit en houe uitgedeel word. Die Raad van Kerke as 'n kerklike instelling vra vir regverdigheid en billikheid waarin die waardigheid van die mense betrokke - hulle is immers Christenge-lowiges - gerespekteer en vreedsame oplossings gesoek word (NGK Raad van Kerke 1915:23; Du Toit 2014:201-212).

Kortom, die SA Regering se besluit op 'n nie-geprovokeerde inval in Duitswes in 1914, laat die saak wat verwant is aan dit wat Boer en Brit in 1899-1902 aan mekaar laat spring het, dié keer onder Afrikaners onderling, weer ontvlam. Dit was immers Brittanje wat die Boere-republieke aanvanklik uit imperialistiese motiewe offensief beleër het (OVS Volksraadsnotule 22:09:1899:15-24).

Omrede hulle weerstand teen 'n moontlike inval van die Unie in Duitswes, hulle weerstand teen die opkommandering van Afrikaners volgens krygswet én hulle ideaal dat Afrikaners onder 'n regering van Afrikaners die Boererepublieke terugkry, word die name van generaals soos De Wet, De la Rey, Beyers, Kemp en Maritz mettertyd in die wandelgange gekoppel aan 'n rebellie (Scholtz 1941:277-279). Die "spoken word" verhoed egter die moontlikheid dat Beyers se houding van geen geweld in die situasie nie, by almal uitkom. In 'n gespanne, Regerings-vyandige situasie langs die graf van De la Rey op Licthenburg op 20 September 1914, waar 7 000 tot 10 000 Afrikaners byeen is, ontken Beyers in 'n toespraak dat gedagtes oor 'n rebellie by hom opgekom het. Hy verwys na 'n roudiens vir De la Rey in Pretoria en sê:

In de kerk te Pretoria is gesproken over rebellie. Er is daarbuiten openlijk gezegd dat Generaal De la Rey en ik op pad waren om rebellie te stoken. Namens de held, die hier ligt, verwerp ik de aantijging met verachting van mij; niets is verder van mijn gedachten dan rebellie. (Scholtz 1941:323)10

De la Rey sterf na geweerskote op Beyers se Daimler - hulle twee was in hierdie motor op pad na die militêre basis in Potchefstroom - in 'n padblokkade by Fordsburg. Ten spyte van 'n versoek om te stop, besluit die twee generaals om verder te ry. Die toneel speel hom kort voor 21:00 op 15 September 1914 af. Volgens Beyers en De la Rey is hulle ná agtervolging en dophou-aksies deur Regeringsmense teen hierdie tyd sku vir die vyandige optrede van die Regering teen diegene wat gekant is teen die inval in Duitswes. De la Rey se weerstand vroeër in die Senaat is bekend en Beyers bedank vanweë dieselfde weerstand op 15 September as kommandant-generaal (De la Rey 1998:78-79). 'n Dag na die begrafnis van De la Rey, 21 September 1914, vind 'n openbare vergadering van ongeveer 1 000 mense op die markplein in Lichtenburg plaas. Hier vra Beyers dat sy bedanking uit die Verdedigingsgmag nie deur ander gevolg moet word nie. Die hoof het bedank en dit is genoeg om protes te kommunikeer. Die vergadering keur 'n SA inval in Duitswes feitlik eenparig af. Beyers se invloed blyk uit die argumente wat gebruik word: die Duitswes-veldtog is strydig met die houding van die meerderheid stemgeregtigdes in die Unie, met die SA Verdedigingswet en met "onze eervolle kristelike tradisies" (besluit volledig in Scholtz 1941:325-326).

In sy bespreking van die redes vir hierdie vergadering gee Scholtz steun, maar lewer hy ook kritiek. Volgens Scholtz staan die beswaar dat die Verdedigingswet hom teen 'n offensiewe benadering in oorlog uitspreek op onsekere grond. Generaal Smuts was vir hierdie wet verantwoordelik en ken dit. So verwys artikel 1 na die verdediging van Suid-Afrika in enige gedeelte van "Zuid-Afrika binnen of buiten de Unie". Volgens Scholtz bedoel Smuts daarmee dat die Unie binne 'n groter Suid- of Suider-Afrika val. Die groter "Zuid-Afrika" word gekoppel aan "aardrykskundige" grense en die Unie van Suid-Afrika aan staatsgrense. Wat Scholtz nalaat om te sê, is dat Smuts tydens die uitbarsting van 1914 nooit die moeite gedoen het om kritici onder Afrikaners op hierdie punt te wys, hulle kritiek met teenargumente te ontsenu of die saak met hulle deur te praat nie. Inteendeel, die Regering sou die besluit van 21 September op Lichtenburg ignoreer: 'n besluit wat per telegram aan hom gestuur is met die "beleefdelik"(e) versoek dat hy teen 30 September daarop antwoord; 'n telegram wat tot gesprek en besluite kon lei omdat generaals De Wet, Beyers, Liebenberg en Kemp, manne van aansien en invloed onder republikeinse Afrikaners, getaak is om in die saak op te tree. Die Regering ignoreer egter die telegram en versoek. Hulle draai dus hulle rug op 'n kans om sake deur te praat met erkende leiers wat in rondlopende gerugte - sonder dat hulle persoonlik geraadpleeg of hulle kant van die saak aangehoor word (die audi alteram partem-reël van natuurlike geregtigheid) - met rebellie geassosieer word. Scholtz onderstreep dit met hierdie sinnetjie: "Van die regering is nooit antwoord ontvang nie" (Scholtz 1941:325-326).

Christelike "volkstradisies" van Afrikaners in die 1940's verbind Scholtz aan die Bybel se afwys van 'n offensiewe oorlog en Christelike beginsels wat vanuit 'n Christelik-gereformeerde of Calvinistiese beskouing in "die staatkunde" uitgeleef word. Daarom was die skok by Afrikaners oor die besluit om Duitswes in te val, "baie groot" (Scholtz 1942:104108). Scholtz aanvaar in hierdie tyd teen hierdie agtergrond ook, soos die skoonseun van president MT Steyn, NJ van der Merwe, dat die Rebellie van 1914-1915 'n "uitbarsting" was (vgl hoofstuk XV en sy tema in Scholtz 1941:277).

 

BEYERS SKIET NIE

In September-Oktober 1914 word daar in die Vrystaat en Transvaal protesvergaderings teen die inval in Duitswes gehou (Scholtz 1941:329,337). Groot getalle burgers woon dit by met geweer, bandolier en biltong en beskuit in die saalsak. Dit is 'n werkswyse wat, op die keper beskou, tot die uitlokking van die Regering wat in die klimaat van 'n "uitbarsting" sensitief móés raak vir 'n moontlike rebellie, kon lei en 'n werkswyse wat die ontkenning dat 'n rebellie beoog word, verdag maak. Beyers as 'n teenstander van geweld, wys op 'n keer die dra van gewere op protesvergaderings af omdat dit tot provokasie van die rondbewegende Regerings-magte - volgens premier Botha is hulle aktief ter wille van wet en orde - lei en dinge vererger. Ironies genoeg dra Beyers self 'n geweer hoewel hy nie van voorneme is om dit te gebruik nie (Scholtz 1941:350-351,364). In 'n vloeibare, onsekere situasie ontstaan wantroue, suspisie en 'n gebrek aan kommunikasie.

Tot Botha en Smuts en vroeëre ABO-geesgenote moes die sterk antipatie teen die Regering op die begrafnis van De la Rey deurgedring het (Scholtz 1942:101). Hulle was in die ABO immers deel van die bittereinder-weerstand met sy antipatie teen "Groot" Brittanje. Hulle het hierdie antipatie beleef al het die Britse imperialisme vir Botha en Smuts na die afloop van die ABO moreel gebind. Tot so ' n mate dat hulle die politieke onafhanklikheid van die Afrikaner afgesweer het (vgl Smuts se volledige woordelikse antwoord op Beyers se bedankingsbrief in Scholtz 1941:327-329).11

Intussen sou Beyers bly by sy prinsipiële houding ten gunste van nie-gewelddadige optrede en geen rebellie nie.

Daar is daarop gewys dat die eerste skote in die Rebellie op 27 Oktober 1914 by Rooiwal geval het. Dit volg nadat krygswet met passende regulasies as 'n reaksie op 'n vermeende sluimerende rebellie op 12 Oktober 1914 afgekondig is. Die Regering wou wet en orde handhaaf deur protesvergaderings in die kiem te smoor en te verbied (Van de Watt 1987:242-343).

Op 29 Oktober 1914 stel De Wet en Beyers hulle Steenbokfonteinverklaring - of kennisgewing - as die generaals van "protesterende Burgers". Hulle protesteer teen die Regering se "goddeloze aanval op Duits-Zuidwest". Hulle wil protesteer sonder om die bloed van Afrikaners te vergiet of aanvallend op te tree. Hulle wil, en hier kom die gewraakte sin wat tot misverstand kan lei, "blijven protesteren met het wapen in de hand. "

Hulle doen 'n beroep op alle burgers om hulle invloed teen die inval in Duitswes te gebruik en te weier om deur die Regering gebruik te word om "ons (die protesteerders in hierdie konteks?) met wapenen te bevechten" (verklaring afgedruk in Scholtz 1941:358-359). Hierdie opmerking dui op 'n moontlike militêre stryd wat teen hierdie tyd teen die uitbarsting geloods word. As die beweerde Rebelle uitwyk en nie veg nie, word hulle agtervolg en daar op hulle geskiet soos op Beyers teen die einde van sy lewe (Möller 2014:64).

Beyers en De Wet staan by Steenbokfontein op 'n nie-gewelddadige pad, maar teenstrydig hiermee, gewapen. So protesteer hulle teen die "goddeloze" inval in Duitswes én krygswet en regulasies wat onder die slagspreuk van wet en orde hulle reg van protes aan bande lê. Die krygswet is op 12 Oktober afgekonding voordat enige skoot geskiet is. Op 15 Oktober stuur Botha 'n telegram aan generaal Hertzog met die veelseggende woorde: "Er zijn geen onderhandelingen met rebelvoorman: rebellie kan alleen met geweld onderdrukt worden" (volledig in Scholtz 1942:175). Tog ontken dieselfde Botha drie weke vroeër by De la Rey se begrafnis die afkondiging van krygswet en ander maatreëls (Scholtz 1942:182). Krygswet en so 'n bewoording skep egter 'n situasie wat tot die vergieting van Afrikanerbloed deur medeAfrikaners kan lei. Beyers wil nie veg nie, maar kan nie die inval goedkeur nie omdat dit ingaan teen "ons" aanvaarde Christelike tradisies en "ons" protes deur krygswet kortwiek. Die nie-geprovokeerde inval in Duitswes is onBybels en dus goddeloos. Terwyl die skote tussen Afrikaner en Afrikaner begin klap, wil Beyers nie skiet nie en bloedvergieting voorkom: vandaar - moontlik - ook die dra van wapens. Die vraag is egter: geskied dit om veiligheidsredes.?

In hierdie vloeibare, spanningsvolle situasie waarin die skote val, maak die magte van die Regering korte mette met die Rebelle. Teen 16 November is die Rebelle uitmekaar gejaag en hulle weerstand geknak (Scholtz 1941:378).

Op 8 Desember 1914 word Beyers en 'n kommando'tjie teen 'n vol Vaalrivier in die omgewing van Makwassie vasgedruk deur Regeringstroepe van kommandant Cilliers. Die kommando'tjie gee oor, maar die 45-jarige Beyers en ene Jan Pieterse durf die rivier aan om na die noordelike oewer te swem. Voor hulle ontsnappingspoging is daar 'n "hewige" skermutseling met Cilliers en sy troepe. Teen die tyd dat Beyers en Pieterse met hulle perde in die helfte van die rivier kom, skiet die Regeringsmense so "hewig op hulle. sodat dit soos hael op die water" lyk. Die perde breek verbouereerd los. Beyers beland in die moeilikheid en verdrink later. Sy drywende lyk word 2 dae later vroegoggend 5 kilometer vanwaar hy in die water verdwyn het, opgemerk en aan wal gebring. Nadat die watervlak van die rivier gesak het, word die lyk van Pieterse op 12 Desember gevind (Scholtz 1941:380-382).

 

SLOT

Soos reeds opgemerk, was daar nie een patroon uit Beyers se bandolier weg nie. Hy het sy aggressiewe, gewapende agtervolging sonder om 'n skoot terug te skiet, oorleef, maar in die Vaalrivier omgekom. Op die amptelike doodsertifikaat van dr. De Castilla (afdruk in Möller 2014:62) word die oorsaak van sy dood aangegee as "drowning". Geen merk of wond van 'n geweerkoeël is aan hom gevind nie. Sy dood, so het familie bespiegel, kon hartversaking of selfs koronêre ontoereikendheid in die rivier wat in vloed was, gewees het. Volgens Mathilde Beyers was die hart van haar man, soos 'n aantal jare voor sy dood ondersoek deur hulle huisarts dr HP Veale, in 'n swak toestand.

Mathilde was oortuig dat Beyers se tragiese dood hom verdere vernedering gespaar het. "God nam hem weg voor de ogen van zijn vervolgers - God liet niet toe dat hem meer smaad en hoon aangedaan werd en genadiglik bewaarde Hij ook de vervolgers voor de schande dat een Afrikaanse kogel die man zou treffen die zij leven veil had voor zijn volk" (haar woorde afgedruk in Möller 2014:65).

Beyers kon sy standpunt van geen rebellie en wapengeweld in Suid-Afrika in 1914-1915 nie enduit volhou. Selfs in sy tragiese dood is hierdie eer hom nie ontneem nie. Hierdie standpunt het nie van hom 'n pasifis gemaak nie, maar was sy verstaan van Sagaria 4:6 by Vereeniging in 1902 en met die uitbarsting of Rebellie van 1914-1915 in die noordelike dele van Suid-Afrika. As kommandant-generaal van die Unie-verdedigingsmag is dit in elk geval onmoontlik dat hy 'n pasifis kon wees.

Die vraag word gevra wat CF Beyers, as 'n begaafde soldaat, kon gedryf het om inisiatiefloos te vlug en te ontduik in sy laaste dae. Hy was in hierdie tyd dikwels onbeslis, weifelend en passief, asof sy entoesiasme vir sake verdwyn het. Om hierdie aangeleentheid te ontrafel, ontbreek historiese en verantwoorde bronne. Wat wel uit ons relaas blyk, is Beyers se byna deterministiese opvatting van God se wil en voorsienigheid waarby hy hom neergelê het. 'n Wil wat hy gemeen het om in die Skrif, in Sagaria 4:6, te vind. Uit die Skrif wat hy as die grondslag van die lewe én die maatstaf vir reg en verkeerd beskou het, het Beyers ook geglo in die Here God wat voorsien en dat hy hom daarby moet neerlê (kyk ook Möller 2014: 66; SABW III:68).

Daarmee wek Beyers agting en prikkel hy historici. Maar, daarmee is Beyers as een van die martelare van die Rebellie van 1914-1915 tragies na sy graf.

 

BIBLIOGRAFIE

De la Rey, H. 1998. Die ware Koos de la Rey. Pretoria: Protea Boekhuis (samesteller Lappe Laubscher).         [ Links ]

De Wet, C.R. 1959. Die stryd tussen Boer en Brit. Kaapstad: Tafelberg (in Afrikaans vertaal deur J.J. Human).         [ Links ]

Du Toit, F. 2014. Die Afrikaanse kerke en die Rebellie. Langner, D. & Raath, A. (redakteurs). Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal, pp. 195-246.         [ Links ]

Giliomee, H. 2003. The Afrikaners. Biography of a people. Cape Town: Tafelberg.         [ Links ]

Giliomee, H. 2012. Afrikanernasionalisme, 1902-1924. Pretorius, F. (redakteur). Geskiedenis van Suid-Afrika - Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg, pp. 275-292.         [ Links ]

Grundlingh, A. & Swart, S. 2009. Radelose rebellie? Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Heyns, J.A. 1989. Teologiese Etiek 2/2. Pretoria: NG Kerkboekhandel 1988.         [ Links ]

Kestell, J.D. & Van Velden, D.E. 1982. Die vredesonderhandelinge. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Koorts, L. 2014. D.F. Malan en die opkoms van Afrikanernasionalisme. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Lee, E. 1985. To the bitter end. A photographic history of the Boer War 1899-1902. London: Guild.         [ Links ]

Malan, D.F. 1959. Afrikanervolkseenheid en my ervarings op die pad daarheen. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

Möller, P. 2014. Generaal C.F. Beyers en die Rebellie. Langner, D. & Raath, A. (redakteurs): Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal, pp. 51-69.         [ Links ]

Ned Geref Kerken in Zuid-Afrika (NGK) 1915. Handelingen van eene Buitengewone Vergadering van den Raad van Ned Geref Kerken in Zuid-Afrika. Paarl: Paarl Drukpers.         [ Links ]

Oranje-Vrijstaat (OVS) Volksraadnotule 22:09:1899:15-24.         [ Links ]

Raath, A.W.G. 2012. Onthou. Brandfort: Kraal.         [ Links ]

Reynolds, C. 2013. Konsentrasiekampsterftes gedurende die Anglo-Boereoorlog 1899-1902. Brandfort: FAK.         [ Links ]

SA Rugbyraad 1964. Rugby in Suid-Afrika 1889-1964. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

Schoeman, J.H. sa. Die ander kant van die Rebellie. Pretoria: J.H. Schoeman.         [ Links ]

Scholtz, G.D. 1941. Generaal Christiaan FrederikBeyers 1869-1914. Johannesburg: Voortrekkerpers.         [ Links ]

Scholtz, G.D. 1942. Die Rebellie 1914-1915. Johannesburg: Voortrekkerspers.         [ Links ]

Scholtz, G.D. 1998. Die Tweede Vryheidsoorlog 1899-1902. Menlopark: Protea Boekhuis (2e uitgawe).         [ Links ]

Strauss, P.J. 2018. Kerk en staat in twee gereformeerde kerkordes. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 58/4-2:940-984.         [ Links ]

Strauss, P. J. sa. Uitdrukkings op die Nasionale Vrouemonument geweeg. Bloemfontein: Drufoma.         [ Links ]

Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek (SABW) I. 1976. Kaapstad: Tafelberg (2e druk).         [ Links ]

Suid-Afrikaanse Biografiese Woordboek (SABW) III. 1977. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Van der Merwe, N.J. 1921. Marthinus Theunis Steyn. 'n Lewensbeskrywing II. Bloemfontein: Nasionale Pers.         [ Links ]

Van der Watt, P.B. 1987. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1905-1975. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.         [ Links ]

Van Schoor, M.C.E. 1997. 'n Bittereinder aan die Woord. Bloemfontein: Oorlogsmuseum.         [ Links ]

Van Schoor, M.C.E. 2009. Marthinus Theunis Steyn - regsman, staatsman en volksman. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Wessels, F.J.H. 1977. Ongeloof en wêreldgebeure. Strauss, D.F.M. (redakteur). Woord en Wetenskap. Bloemfontein: VCHO, pp. 202-211.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2020-02-20
Goedgekeur: 2020-07-10
Gepubliseer: September 2020

 

 

 

Pieter Johannes Strauss word in 1988 'n dosent in Ekklesiologie of Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan sy alma mater, die Universiteit van die Vrystaat en tree op 30 Junie 2015 af. Benewens ongeveer honderd artikels in geakkrediteerde akademiese tydskrifte, het Strauss ook verskeie boeke geskryf. Hy spits hom toe op gereformeerde kerkreg en kontemporêre Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis, soos blyk uit onlangs verskene werke. In die kerkreg lewer Kerk en Orde vandag (2010), blyke van 'n reformatoriese deurwerk van die bekende Solas van die Reformasie van die sestiende eeu na vandag. Kerkwees in die branding - die Nederduitse Gereformeerde Kerk in algemene sinodale verband 1994-2011 (2013), verteen-woordig 'n kontemporêr kerkhistoriese werk vanuit 'n reformatoriese benadering.
Strauss was vir twee termyne, van 1999-2003 en 2005-2008, die moderator van die Vrystaatse Sinode van die Ned. Geref. Kerk. Hy beklee dieselfde amp by die Algemene Sinode, van 20072011. Hy is ook aktief op kultuurterrein en was vir 12 jaar, van 2001-2013, die hoofleier van die Afrikaanse jeugbeweging, Die Voortrekkers.
Pieter Johannes Strauss was appointed as a lecturer in Church Polity and Church History at the University of the Free State in 1988 and retired on 30 June 2015. Apart from some 100 articles in accredited academic journals, Strauss also authored a number of books. He focuses mainly on the topics of Church Polity and modern South African Church History, as can be seen in recently published works. In Church and Order today (2010) he argues that 3 Solas of the Reformation of the sixteenth century should also be accepted and implemented today, while in Being church in troubled times - the Dutch Reformed Church in the bond of its general synod 1994-2011 (2013), he uses a reformational approach in modern church history.
Strauss was moderator of the Free State Synod of the Dutch Reformed Church for the periods 1999-2003 and 2005-2007. He was also moderator of the General Synod of the same church in 2007-2011. In addition, he is actively involved in cultural events and, for 12 years (2001-2013), he served as leader of the Afrikaans youth movement, Die Voortrekkers.
1 Malan verwoord iets van die gemoedstoestand van Afrikaners met Jopie Fourie se teregstelling. Volgens hom het Hendriena Joubert, 'n bekende leiersfiguur onder Afrikanervroue en die weduwee van generaal Piet Joubert, die Boerebevelvoerder by Majuba op 27 Februarie 1881, teen 5:00 die oggend van 20 Desember 1914 die skote van die vuurpeloton gehoor. Skote wat in die ore en harte van duisende Afrikaners dwarsdeur Suid-Afrika weergalm het (Malan 1959:24).
2 Scholtz voer aan dat Botha en Smuts vir Beyers as 'n struikelblok vir hulle konsiliasiepolitiek beskou het en nie as 'n persona grata in hulle eie geledere nie. Met hierdie skuif is Beyers buite die aktiewe partypolitiek geplaas en het hy geen aandeel aan die vereniging van Suid-Afrika in 1910 gehad nie (Scholtz 1941:164,167,176).
3 Resente navorsing dui daarop dat die sterftesyfer onder hierdie vroue en kinders nie die 26,370 op die Vrouemonument is soos dit in 1913 was nie, maar 34,051 (Raath 2012:13; Reynolds 2013:122).
4 In 1907 sê Beyers voor 'n Engelse gehoor by Simmer and Jack in Germiston dat die Boere by Vereeniging in 1902 die Britse gesag en Britse vlag aanvaar het en dat hulle by hulle woord sal staan. "He for one would stand by his word to the new Government as he had stood by his word to the old Government" (volledige aanhaling in Scholtz 1941:161).
5 'n Korrespondent van die Morning Post noem generaal Beyers op 25 Januarie 1912 'n merkwaardige figuur. Hy kom uit die ABO met 'n reputasie van 'n middeleeuse dapperheid en 'n "almost fanatical devotion" aan die ideale van die Afrikaner in Suid-Afrika. Hy skroom nie om van sy mense as die sout van die aarde te praat nie. As hy kon - hulle weet dit ook omdat hy hardop sê wat hy dink - sou hy die Engelse die see injaag. Hierdie oortuigings word onderbou deur sy godsdienstige ingesteldheid en vertrekpunte "narrow as that of Calvin and strong with the strength of that narrowness. Yet Beyers is no backveld Boer. He is a gentleman in the most exacting sense of that exacting word", (Scholtz 1941:209).
6 Beyers se biograaf, GD Scholtz, neem hierdie benaming van Van der Merwe as gepas oor (Scholtz 1941:277). Die begrip "uitbarsting" laat reg geskied aan die karig voorbereide, onbeplande, ondeurdagte aard van die Rebellie. Dr NJ van der Merwe in sy hoedanigheid as teoloog en kultuurleier is 'n geloofwaardige getuie hiervan en 'n lewensbeskoulik begronde ChristenAfrikaner op die bittereinderlyn.
7 Van Zyl Hattingh toon byvoorbeeld dat generaal Kemp uit 'n laer van ongeveer 2 000 man slegs 610 gekry het wie se perde vir die onderneming geskik was (Van Zyl Hattingh 2000:15). Giliomee praat van min ammunisie en voedsel by die Rebelle wat lewendehawe onderweg opgekommandeer en winkels in dorpe geplunder het (Giliomee 2012:288).
8 Die Britse versoek was dat die Unieregering beslag lê op "such a part of German South West Africa as will give them the command of Swakopmund, Luderitzbucht and the wireless stations there or in the interior...". Die versoek word op 9 Augustus herhaal en hoewel die SA Kabinet verdeeld is daaroor, word die Britse Regering reeds op 10 Augustus verwittig dat die Unie gehoor sal gee aan die versoek (Möller 2014:51-52; De la Rey 1998:99).
9 Brief van bedanking volledig afgedruk in De la Rey (1998:102-106).
10 Ds. HS Bosman van die Gemeente Pretoria waarsku by hierdie geleentheid teen rebellie. Volgens Scholtz kom hy daarmee op 'n stadium waarop "geen verantwoordelike Afrikaner aan so iets gedink het nie". Bosman is egter 'n goeie vriend van premier Louis Botha en kry sy - vir hom gesagvolle - indrukke van landsomstandighede bes moontlik via hierdie kanaal. So 'n klimaat so vroeg by die kabinet voorspel niks goeds vir goeie onderhandelinge en onderlinge vertroue nie (Scholtz 1941:321).
11 Smuts beskou Beyers se "bittere aanval op Groot-Brittanje" as "ongemotiveerd" en komende van - nogal - die kommandant-generaal van een van die Britse dominiums. Beyers se verwysing na Britse wandade in die ABO kan nie Duitse wandade teenoor België regverdig nie. Boonop het Brittanje sedert die "Zuid-Afrikaanse oorlog" aan Suid-Afrika - volgens hom - sy volledige vryheid gegee..., (volledig aangehaal in Scholtz 1941:323).

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons