SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue2Author bibliographies, big-data networks and the position of writers such as NP van Wyk Louw in the literary canonOproep om artikelbydraes: Spesiale tema Godsdiens en die reg author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.60 n.2 Pretoria Jun. 2020

 

TAALRUBRIEK

 

Ou woorde in nuwe omstandighede

 

 

By die skryf hiervan is Suid-Afrika nog in ʼn staat van inperking, maar hopelik is ons by publikasie al weer ontgrendel. In dié tyd is of word ons aan allerlei reëls en regulasies en voorskrifte onderwerp. Daarom het ek besluit om nie nóg moets en moenies en taalellendes op te dis nie en eerder te kyk na waar ʼn klompie van die huidige gonswoorde vandaan kom of wat hulle vroeër beteken het.

1. virus: Volgens die WNT1 is virus aanvanklik gebruik vir ʼn gif of gifstof, bepaald ʼn siekteverwekkende stof of smetstof. Die SOED2 sê die term kom uit Latyn en het beteken 'slimy liquid, poison, offensive odour or taste' en Cassel's3 spesifiseer 'poison, especially of snakes, venom'. Dat die WNT ook sê "Oorspronkelijk vatte men onder het begrip virus alle vergiften van dierlijke oorsprong samen" is in die huidige geval nogal interessant. Die WNT gee te kenne dat die gebruik van virus vir submikroskopiese organismes met bepaalde eienskappe eers in die 20ste eeu posgevat het.

ʼn Virus is ʼn submikroskopiese aansteeklike partikel wat bestaan uit ʼn proteïenomhulsel en ʼn nukleïensuurkern. Volgens die Amerikaanse National Center for Biotechnology Information word die groep koronavirusse saam geklassifiseer op grond van die kroon- of kransagtige voorkoms van die omhulselglikoproteïene.

2. grendel: Dit is natuurlik ʼn ou bekende woord wat as werkwoord of as selfstandige naamwoord gebruik kan word: ʼn mens grendel ʼn deur met ʼn grendel. As selfstandige naamwoord is dit die (gewoonlik stewige) skuif waarmee ʼn deur, venster of dergelike in ʼn geslote toestand gehou word.

Om iets te grendel is dus om daardie skuif so te gebruik. Die WNT sê dit beteken om iets gesluit/geslote of in bedwang te hou, of dit af te sluit - en dit is natuurlik presies wat regerings oor die wêreld heen met die inperkings beoog.

Na my mening is die gebruik van grendeltydperk in plaas van inperking(stydperk) ʼn pragtig Afrikaanse en kreatiewe aanwending van ʼn ou Afrikaanse en Nederlandse woord. Bowendien het grendeltydperk nie die ongelukkige politieke konnotasies van inperking in ʼn vorige era nie.

3. inperk: Letterlik beteken inperk 'om in ʼn perk toe te maak'. Figuurlik beteken dit om iets te beperk of geringer te maak (bv. ʼn mens se vryheid). Volgens die WNT is ʼn perk onder meer ʼn omheinde of afgebakende ruimte. Dit is ʼn variant van park, wat volgens die EWN4 ontleen is aan Middeleeuse Latyn parricus: 'omheind stuk grond voor vee' (9de eeu) en ook die vroeëre parracus 'omheining'.

In Afrikaans ken ons nie perk juis meer in letterlike sin nie, behalwe in samestellings soos grasperk, setperk (wat baie mense tydens die grendeltydperk erg gemis het) en strydperk, en in figuurlike uitdrukkings soos paal en perk stel en binne perke.

4. masker: Ons het masker via Nederlands, Frans en Italiaans uiteindelik uit Arabies masḵara gekry, wat weer uit die werkwoord sakira 'lag, bespot' afgelei is. Die Arabies masḵara het 'grapmaker' of 'hanswors' of 'voorwerp van spot' beteken.

Die EWN bespiegel dat onder meer Spaans máscara 'swartsel, roet; masker' en Portugees mascara 'vlek' miskien ʼn afleiding is van Middeleeuse Latyn masca 'masker', en vroeër ook 'verskyning van ʼn gees', wat van onduidelike herkoms is, maar dalk ʼn verkorting is van ʼn ouer byvoeglike naamwoord, mascaro 'swart, besmeer met roet'; die element 'swartsel, roet' sou dan te make hê met die feit dat grapmakers en toneelspelers in die verlede nie maskers gedra het nie, maar hulle gesigte met roet gesmeer het. Die vermomming van die gesig lê ten grondslag aan masker.

Die grimeeritem maskara wat vroue (en dalk ʼn paar hansworse) gebruik, is duidelik hier te sien.

Vandag het masker natuurlik talle betekenisse, maar dié wat hier ter sake is, vat die SOED kort en kragtig saam as "a covering worn on the face for protection; esp. a screen of wire, gauze, etc., to protect the face from injury, e.g. in fencing; a face covering worn by a surgeon, dentist, etc., to prevent infection."

5. aandklok en curfew: Iets wat met die instelling van die tweede fase van ons ingrendeling gepaardgegaan het, was die instelling van ʼn aandklokreël. Afrikaans en Nederlands gebruik die term aandklok/avondklok en Engels curfew. Dié woorde het heeltemal verskillende herkomste.

Die aandklok in die kerklike lewe (in verskeie rites, bv. die Katolieke en Lutherse rite) is ʼn klok wat saans gelui word, veral die vesperklok (Latyn vesper: 'aand'). Vespers in die Katolieke Kerk is die voorlaaste van die kanonieke getye of kerklike gebedstye, wat gewoonlik vroegaand of laatmiddag is. Die klok het dus nie net die gelowiges tot gebed opgeroep nie, maar terselfdertyd ook die begin van die aand aangekondig.

Die WNT noem dat die betekenis van ʼn verbod om saans ná ʼn sekere tyd en snags op straat te wees, sedert die Tweede Wêreldoorlog uit die betekenis 'sein dat die aand begin' ontwikkel het.

Die Engelse curfew het ook met die aand te doen, maar kom langs ʼn ander roete. Die SOED verduidelik dat curfew afkomstig is van die Anglo-Normandies coeverfu, uit Oudfrans cuevrefeu (modern couvrefeu), uiteindelik uit cuvrir 'om te bedek'+ feu 'vuur'. Die SOED se eerste betekenis van curfew is dus "A regulation, widespread in medieval Europe, by which fires had to be covered or extinguished at a fixed hour each evening, indicated by the ringing of a bell; (also curfew-bell) the bell itself "

Die Merriam-Webster-webwerf5 verduidelik dat die oorspronklike gebruik van die woord curfew uit die 14de eeu dagteken toe dit ʼn klok was wat saans gelui is om mense te waarsku om die vuur in hulle herde te bedek ten einde hulle en hulle bure se huise te beskerm teen brande wat per ongeluk ontstaan.

6. sanitasie, saniteer en saneer: Hierdie drie woorde berus op verskillende afleidings van die Latyn sanus 'gesond'.

Die tersaaklike betekenis van sanitasie, sê die WAT6, is die "toestand van skoon, higiënies, bevorderlik vir gesondheid en vry van patogene en ander smetstowwe te wees, of handeling of proses van higiëniese maatreëls toe te pas, o.a. deur ongesonde toestande of praktyke i.d. voorbereiding van voedsel uit te skakel of menslike kontak met skadelike stowwe te voorkom".

Volgens die WAT behels saniteer ook om "skoon, higiënies en bevorderlik vir gesondheid [te] maak deur aan sanitasie te onderwerp: Gesaniteerde winkelrakke", terwyl saneer beteken "gesond maak, of in orde bring, op 'n stewige grondslag plaas of terugbring tot 'n gewenste toestand wat finansies, moraliteit, die kulturele, die sedelike, of dergelike betref, gew. deur gesonde beginsels, reëls of hervormings toe te pas".

Dit lyk of Afrikaans Nederlands een voor is, want ek kon geen Nederlandse ekwivalente van sanitasie en saniteer opspoor nie.

Die woorde wat ons in nuwe en vreemde omstandighede gebruik, kom dus al van ver af.

JD (TOM) MCLACHLAN

E-pos: tommcl@whalemail.co.za

 

 

1 Woordenboek der Nederlandsche Taal
2 Shorter Oxford English Dictionary
3 Cassel's Latin Dictionary (Latin-English-English-Latin)
4 Etymologisch Woordenboek van het Nederlands [A-R], M Philippa e.a. (reds.)
5 https://www.merriam-webster.com/
6 Woordeboek van die Afrikaanse Taal

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License