SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue2NP van Wyk Louw's animals and figures: An ecocritical readingNP van Wyk Louw's Die pluimsaad waai ver, of Bitter begin revisited author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.60 n.2 Pretoria Jun. 2020

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n2a13 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die pluimsaad waai ver(der): Om Van Wyk Louw in Katolieke verband te herverbeel

 

Plume seed blown further: Reimagining Van Wyk Louw in a Catholic context

 

 

Anastasia De Vries

Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Wes-Kaapland. Suid-Afrika. E-pos: adevries@uwc.ac.za

 

 


OPSOMMING

Tot nou toe het ondersoeke oor Van Wyk Louw se nalatenskap hoofsaaklik gekonsentreer op hoe daar nog, 'n halfeeu ná sy dood, vanuit die letterkunde en ander kunsvorms met hom in gesprek getree word en hoe hy tot nou toe in sowel literêre as kulturele diskoerse opgeroep word. In dié bydrae word die aandag gevra vir 'n ruimte waar sy voortgesette teenwoordigheid na alle waarskynlikheid nie verwag word nie, te wete die geskiedenis van Afrikaans in die Katolieke Kerk. Dit gaan hier om 'n bewusmaking dat hy weliswaar ook in die geskiedenis van die Katolieke Kerk opgeroep word én in hierdie konteks 'n weg help baan het vir Afrikaans.

Trefwoorde: Van Wyk Louw; Katoliek; Afrikaans; Afrikaanse kulturele diskoers; Katolieke Afrikaans; Katolieke kerkgeskiedenis; Dominikane; Van Wyk Louw-Katolieke verhouding; Katolieke leemte; Van Wyk Louw as Katolieke "plek van herinnering"


ABSTRACT

Research has shown that, 50 years after Van Wyk Louw's death, poets, writers and other artists who rewrite, recreate or cite his work still engage with him in literary and cultural discourses, so granting him a powerful voice even from the grave. Against this background, this Catholic speaker of Afrikaans has become very aware of a Catholic gap in these discourses. Admittedly, this gap can be attributed to a lack of knowledge about his ties with the Catholic Church in South Africa, particularly with regard to the development of an Afrikaans that reflects, expresses and propagates the Catholic Christian faith and beliefs.
This contribution aims to fill that gap by drawing attention to how and why Van Wyk Louw remains a factor in a Catholic context. Terblanche (2017) cites Van Rensburg (1969), who maintained that Van Wyk Louw's Berei in die woestyn: 'n Sinne- en wa-spel ("Prepare in the desert: A senses and wagon play") reminds us, as did Die pluimsaad waai ver, to pause amid the glory in order to reflect on the forgotten things, too - and on the things that remain unsaid or concealed, even though they have not (yet) been recorded in the history of the Afrikaans language or (still) do not form part of broader or more nuanced cultural discourses, things such as the "pluimsaad" - the seed from plumes - that have been blown further and are sprouting in the Catholic Church.
However, the study is not aimed at re-evaluating or deconstructing the existing literature in which a Catholic thread in his work and thought processes is analysed and/or discussed. My focus is the cultural debt the Catholic Church and especially her Afrikaans speakers owe Van Wyk Louw. Together with other prominent Afrikaans writers such as Karel Schoeman, Sheila Cussons and Martin Versveld his work created a critical awareness that a Catholic Christian faith and culture could be expressed in and through Afrikaans too. Van Wyk Louw, along with Catholic priests such as fathers Frans Claerhout (painter) and Bonaventure Hinwood (poet, also known by his pseudonym Hinwood Visser), helped to shine light on a Catholic world in a Protestant South African society in which Catholic Christians have often been labelled, stigmatised and marginalised as the "Roomse Gevaar" ("Roman [Catholic] peril").
In view of the above, my focus is that which lies beyond a critical awareness or the identification of a Catholic gap in the cultural discourse: a space in which Van Wyk Louw can be reimagined as a Catholic "place of memory". Pertinent is the viewpoint that a critical approach has two sides: on the one hand it means demystifying or deconstructing that which is not documented or left out, and, on the other, it means creating a critical awareness that there may be alternatives, and therefore a more nuanced discourse (about Van Wyk Louw's legacy). Underpinning this is Foucault's (1973) conception that every dominant view of reality is but one possibility among many others. This contribution does not intend to reject or erase the existing literary or cultural studies on Van Wyk Louw's legacy but seeks to raise awareness of a different perspective, specifically a Catholic perspective, on his legacy. To this end the study focuses on how Van Wyk Louw is still evoked by Catholics, especially when they pray in the Afrikaans he helped to create.

Key Concepts: Van Wyk Louw; Catholic; Afrikaans; Afrikaans cultural discourse; Catholic Afrikaans; Catholic Church history; Dominicans; Van Wyk Louw-Catholic relationship; Catholic gap; Louw as a Catholic place of memory


 

 

1. INLEIDING

'n Halfeeu ná sy dood praat Van Wyk Louw nog "in die woordklank mee", soos hy in die "Ballade van die bose" dig, is hy "die rooi naelstring waaraan" kommentators, kritici, digters en ander woorddienaars van die 1930's af tot nou steeds "lê" (Gestaltes en diere, 1942). Hy is "[...] alomteenwoordig; sy invloed strek wyd en syd", skryf Luc Renders (2008:2).1 Hoe verreikend dié invloed is, blyk uit die verskillende wyses waarop Van Wyk Louw voortdurend in die openbare, en veral die Afrikaanse literêre en kulturele diskoerse aanwesig gemaak en gehou word.

Volgens die navorsers wat al dié verskynsel ondersoek het, is hy nog inderdaad so sterk teenwoordig in die verwerkings van sy oeuvre deur latere digters, romanskrywers en kunstenaars in onder meer die musiek- en teaterbedryf, in vertalings, die skole en universiteite waar sy werk onderrig word, 'n jaarlikse NP van Wyk Louw-gedenklesing en die navorsing wat nog gereeld oor sy werk en standpunte verskyn soos in die veelvoudige resensies en studies wat alreeds aan sy werk gewy is.2

Du Plooy (2014:539) reken tussen 2000 en 2005 is 151 artikels in Suid-Afrikaanse akademiese tydskrifte gepubliseer wat gedeeltelik of volledig aan Louw gewy is en 281 tussen 2006 (toe die oorgrote meerderheid verskyn het ter herdenking van sy 100ste verjaardag) en 2013. "Of [...] sy gedigte en dramas aan nuwe teoretiese leesstrategieë onderwerp word, of sy standpunte kultuurkrities gedekonstrueer en gekritiseer word, of sy poëtika ontleed, nagevolg of juis verwerp word, hy figureer steeds binne die diskoers" (Du Plooy 2014:538; kyk ook Hambidge 2013:s.p.; Renders 2008:1-2 en Viljoen 2008:269).

Die opvallende is dat ondersoeke tot dusver hoofsaaklik (en tereg) gefokus het op Van Wyk Louw se invloed op onder meer die Afrikaanse letterkunde, die kunste, openbare diskoerse en so meer, maar weinig, indien enigsins buite dié kring. Dit maak hierdie Afrikaanse Katoliek opnuut bewus van die Katolieke leemte in dié diskoerse, van 'n vermoedelike gebrek aan kennis oor of verswyging van Van Wyk Louw in die geskiedenis van die Rooms-Katolieke Kerk (voortaan RKK, Katolieke Kerk of die Kerk3) in Suid-Afrika, en spesifiek Afrikaans in 'n Katolieke konteks.

Hierdie bydrae wil die aandag vestig op hoe en hoekom die Katolieke Kerk betrek kan word in meer genuanseerde besinnings oor Van Wyk Louw se nalatenskap. Dit kom teen die agtergrond van Van Rensburg (1969, aangehaal in Terblanche 2017) se uitspraak oor Louw se Berei in die woestyn: 'n sinne- en wa-spel: "Nes in die geval van Die pluimsaad waai verherinner die skrywer ook weer [...] dat ons midde-in die roem moet stilstaan en ook oor vergete dinge moet besin."

En oor die ongesêde dinge, die verborge dinge, oor die pluimsaad wat so ver soos die RKK gewaai het, al is dit (nog) nie in die Afrikaanse taalhistoriografie opgeteken of deel van 'n ruimer of meer genuanseerde Afrikaanse kulturele diskoers nie. Dit gaan hier nie om 'n herevaluering of dekonstruksie van die literatuur waarin die Katolieke onderbou van sy werk en denke al ontleed is nie, al meen ek veral die eensydige teologiese diskoerse4 oor byvoorbeeld Van Wyk Louw se geding met God (of die Katoliek-Christelike geloofsoortuiging) behoort getoets te word deur 'n Afrikaanse Katolieke teoloog, al is dit net uit 'n besef van die beperktheid van die "eie een kykie op die wêreld" (Liberale nasionalisme, 1958:84) of Louw se eis om "[...] die volstrekte billikheid" (Skietlood, 1982:77).

Maar dit tersyde. 'n Krities-analitiese benadering tot die diskoerse rondom die Katoliek-Christelike geloofsoortuiging soos dit uit Van Wyk Louw se werk afgelees word, beweeg in elk geval op die terrein van die teologie en verg nadere ondersoek in 'n omvattender studie as wat die bestek van hierdie bydrae toelaat. Hier gaan dit eerder om die plek van Van Wyk Louw in die geskiedenis van Afrikaans in die Katolieke Kerk en nie die Katolieke Christelike geloofsoortuigings of teologiese denke in sy lewe en werk nie. Die bestudering en/of skryf van geskiedenis in kerkverband is immers volgens Beth Profit (1996:216) "[...] as much as any other type of history, a valid, empirical study, not a defence of faith" (eie kursivering).

Die aspek waarmee ek derhalwe gemoeid is, is die Katolieke Kerk se skatpligtigheid aan Van Wyk Louw vir sy rol in die ontwikkeling en bevordering van 'n Afrikaans vir Katolieke gebruik. Saam met ander leidende Afrikaanse figure word hy gehuldig dat hy veral deur sy digwerk 'n bewustheid geskep het dat die Katolieke Christelike geloof en kultuur ook in en deur Afrikaans uitgedruk word. Hiermee het hy in Afrikaans 'n Katolieke wêreld help oopskryf in 'n nie-Katolieke samelewing waar Katolieke selfs in Christelike verband geëtiketteer kon word as die "Roomse Gevaar".

My fokus is dus op dít wat anderkant 'n kritiese bewustheid of identifisering van die Katolieke leemte in die Afrikaanse openbare kulturele diskoerse lê, naamlik 'n ruimte waarbinne Van Wyk Louw as 'n Katolieke "plek van herinnering"5 herverbeel kan word. Die idee is nie om te bewys hoe Katoliek Louw inderwaarheid was nie. Seker bekend, is Steyn (1998) se vertelling van 'n keer toe Van Wyk Louw 'n plan laat vaar het om na 'n klooster vir 'n retraite te gaan. "Maar dit het nie ingehou dat die Rooms-Katolisisme sy aantrekkingskrag vir hom verloor het nie. In 'n aantekening by Augustus 1955 skryf hy: 'R.K. fase sterk'" (Steyn 1998:739).

Nog minder is die artikel gerig op die vasstelling van of Louw Katoliek geword het of nie. Inteendeel. Hy moes immers al in lewe van sy kripto-Katolisisme afgekry word (Steyn 1998:739). Die interessante is dat hy as sogenaamde kripto-Katoliek, iemand wat in die geheim Katoliek is of in die openbaar aan 'n ander geloof of godsdiens konformeer terwyl jy heimlik Katoliek bly, juis gekoppel word aan 'n soortgelyke werklikheid van talle Katolieke aan die Kaap in die 17de tot die 19de eeu (kyk punt 2).

Die artikel is eerder gemoeid met die ondersoek van 'n Katolieke siening as alternatief op die dominante perspektiewe op hoe en waar Van Wyk Louw nog in die openbare kulturele diskoers figureer. Onderliggend hieraan is Foucault (1973) se opvatting dat elke dominante visie op die werklikheid noodwendig 'n moontlikheid tussen baie ander visies is. Derhalwe wil dié bydrae nie die bestaande literêre of kultuurstudies oor Van Wyk Louw se nalatenskap verwerp of 'n streep daardeur trek nie, maar wil 'n ander, en in die besonder Katolieke dimensie toevoeg.

Die doelstelling berus op 'n "future-oriented interest in the past" wat dit moontlik maak om verhoudinge in die samelewing op grond van die verlede te transformeer en "[...] de maatschappelijke communicatie te verbeteren []" (Wesseling 1991:13-14, 169 en Montessori e.a. 2012:19). Vann (1995) herhaal die standpunt van die historikus Hayden White dat alternatiewe narratiewe 'n mens juis in staat moet stel "[...] to participate positively in the liberation of the present from the burden of history" (White aangehaal in Vann 1995:62).

Daarom is dit noodsaaklik dat ek as (subjektiewe) Katolieke Afrikaanssprekende selfkrities en selfrefleksief omgaan met 'n ondersoek na hoe en hoekom Van Wyk Louw tot nou toe ook in 'n Katoliek-historiese konteks aanwesig is. 'n Selfrefleksiewe benadering vereis volgens Navarro (2006), na die opvatting van die Franse sosioloog Pierre Bourdieu, dat "[...] one recognises one's biases, beliefs and assumptions in the act of sense-making [...]" (Navarro 2006:15-16).

Derhalwe is sowel Katolieke as nie-Katolieke literatuur geraadpleeg waarin Afrikaans en/of Van Wyk Louw vermeld word ten einde sin te maak uit sy nalatenskap in Katolieke verband. Hieronder is Katolieke liturgiese tekste en bestaande Katolieke kerkgeskiedenisse naas literatuur oor en deur Louw, waarby JC Steyn se tweedelige bron Van Wyk Louw -'n Lewensverhaal (1998) ingesluit is.

Dié bydrae wil in geen opsig aanspraak maak op omvattendheid nie. Hier word gewoon 'n klein snit in Afrikaans in die Katolieke Kerk gemaak en betrek as sodanig nie die hele Kerk in Suid-Afrika nie. Ter wille van konteks word hier onder egter binne die kort bestek van die artikel allereers 'n beknopte historiese oorsig gegee van die Katolieke Kerk in Suid-Afrika, met aandag aan Afrikaans. Hierna verskuif die fokus na Van Wyk Louw se verbintenis met Afrikaans in die Katolieke Kerk.

 

2. 'N BEKNOPTE KATOLIEKE AFRIKAANSE TAALGESKIEDENIS

Met die koms van Jan van Riebeeck na die Kaap in 1652 en die vestiging van 'n Nederlandse kolonie het 'n verbod op alle gelowe en Christelike geloofsoortuigings anders as die Gereformeerde geloofsoortuigings gegeld. Vir Katolieke het die verbod op die openbare beoefening van hul Christelike geloof selfs tot ná die aankondiging van geloofsvryheid in 1804 geduur. Toe die land in 1806 onder 'n Britse bestuur kom, is die verdrukking van Katolieke voortgesit. Eers in 1820 kon 'n Katolieke priester hom hier vestig, terwyl die eerste biskop eers in 1838 toegelaat is.

Hoewel die Katolieke Kerk van die begin af moes "deal with [] being a marginalised church in a political context under Calvinist hegemony" (Bate 1999:6) dui geskiedskrywers wel op 'n Katolieke teenwoordigheid aan die Kaap in dié tyd (Brady 1951:114; kyk Brain 1997:195 en Loff 1998:25). Volgens Theron (1958:34) wil die "antipatiese houding van die Setlaars aan die Kaap teenoor die Roomse Kerk, [...] nog nie sê dat aanhangers van laasgenoemde kerk die land belet is nie".

Brain (1997:195) wys egter daarop hulle is wel "[...] obliged to conceal their faith" en moes onder meer besoekende priesters "in die geheim" opsoek (Valkhoff 1966:158). In 'n verslag van vader Guy Tachard, een van die ses Jesuïte-priesters wat in 1685 op reis na Siam (Thailand) in die Kaap oorgebly het om sterrekundige waarnemings te doen, word 'n aanduiding gegee van hoe divers die kripto-Katolieke was: vryes, slawe, Franse, Duitsers, Portugese, Spanjaarde, Vlaminge en Indiërs.6

Sonder om hier in te gaan op die verskillende kerkverbande wat 'n rol gespeel het in die wording van Afrikaans op Suid-Afrikaanse bodem, word die fokus vir die doeleindes van hierdie artikel gerig op die Katolieke wat deel was van die 17de-eeuse samelewing waarin 'n nuwe taal, Afrikaans, beslag gekry het. Tot nou is byvoorbeeld weinig tot geen aandag gegee aan 'n lesing van wyle prof. Fritz Ponelis in 1999 (Ponelis 1999) by die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees waarin hy Portugees en die Katolieke Christelike geloof met mekaar verbind. In dié lesing oor die oorspronge van Afrikaans beskryf hy Portugees as een van die "belangrikste beïnvloedende tale" in die wording van Afrikaans in die vroeë samelewing aan die Kaap met die sprekers van Portugees wat van oral gekom het waar "die Portugese taal en Roomse kerk stand gehou" het (Ponelis 1999: s.p.).

Naas die slawe wat ingevoer is uit die res van Afrika, onder wie die eerstes wat in 1658 uit die twee Portugese kolonies Angola en Guinee aangekom het, verwys hy ook na 'n "klompie mense wat die Portugese taal en kultuur (en die Roomse kerk) hul eie gemaak het", die Mardykers uit Indonesië (Ponelis 1999). Volgens Shell (2009) was die meeste slawe wat die Kaap tussen 1795 en 1806 binnegekom het, van Mosambiek en was "[o]ne hundred and four Mozambique Catholic slaves [...] also in the Cape artillery train" (Shell 2009).7

Teen die tyd dat die eerste Katolieke biskop wat toegelaat is om hom in Suid-Afrika te vestig, biskop Raymond (ook "Raymund") Griffith, in April 1838 hier aan wal stap, was Afrikaans kennelik al in wording. Binne meer as 'n maand na sy aankoms in April 1838 skryf hy op 29 Mei 1838 in sy dagboek:

A Priest who could speak Dutch would be much wanted as many of the Congregation are of that People, and the Malays and Natives understand very little English but more Dutch. (Brain 1988:107)

Kwalik 'n jaar later vra hy egter in 'n brief aan die Vatikaan spesifiek vir priesters uit Nederland of België omdat slegs 'n Belg of Nederlander volgens hom die "awful [sic] first language of this colony (linguam priorem pessimam huius Coloniae)" sou kon aanleer (in Denis 1988:86). Sy gebruik van die werkwoord "learn" en nie "speak" nie, suggereer 'n bewustheid dat dié taal nie meer Nederlands was nie. Griffith se latere verwysing na die taal aan die Kaap as "low Dutch" stem ooreen met dié van onder andere die reisiger Heinrich Lichtenstein wat al teen 1802 melding gemaak het van die Kaapse taal wat sterk van Nederlands afgewyk het, "Africanischen Holländisch" of "Afrikaans-Hollands" (vergelyk Raidt 1991:168-169).

Volgens Boucher (1966) was Griffith egter vasgevang in "a period in South African history when religious differences were the cause of greater friction than it is today" (Boucher 1966:245). Reeds toe al het agterdog teen die "Roomse Gevaar" hoogty gevier (Abraham 1989; De Gruchy 1982:97-99; Marquard 1960:209; McDonagh 1983:384; Villa-Vicencio 1988:35-37). In die 20ste eeu het dit ontaard in die etikettering, stigmatisering en marginalisering van Katolieke as die "Roomse Gevaar" (vergelyk De Klerk 1952 en De Wet 1960), naas die "Swart" en "Rooi Gevaar".

Die mobilisasie van Afrikaans in die Katolieke Kerk sou daarom eers in die 1860's daadwerklik gepak word onder aanvoering van Griffith se opvolger, biskop Thomas Grimley. Van die 1860's af kan twee fases in die Katolieke geskiedenis van Afrikaans onderskei word: die eerste wat in 1864 in die Wes-Kaap deur 'n Ierse priester, vader James O'Haire, gedryf is en wat hy van 1865 uitbrei na die nou dominant Afrikaanse bisdom Oudtshoorn. Op 27 Januarie 1864 word hy na Malmesbury in die Wes-Kaapse Swartland gestuur om 'n parogie te stig. Met die hulp van 'n 13-jarige seun wy O'Haire hom hier aan die bemeestering van "the patois of the country", want skryf hy:

The knowledge of the Dutch language was indispensable, and therefore I succeeded in securing the services of a Catholic lad Edmund Keating from Cape Town, who remained with me for several months, and taught me the patois of the country. (O'Haire 1887:128-129)

Die tweede Afrikaanse fase begin in 1873 in die huidige bisdom Keimoes-Upington waar Franse priesters van die Society for Africa Missions (SMA, afkorting van hul naam in Latyn, toe nog die voertaal van die Kerk: Societas Missionum ad Afros) hulle begin beywer het vir Afrikaans as kerk- en onderwystaal. In 1875 neem die Katolieke Kerk die sendingstasie op Pella oor en toe die SMA's einde 1882 die land verlaat, is die bisdom se pastorale sorg oorgedra aan 'n ander Franse religieuse orde, die Oblate van St. Francis de Sales onder leiding van vader Jean Marie Simon, later die eerste biskop in die Noord-Kaap.

Wat taalgebruik in 'n Katolieke konteks betref, moet in gedagte gehou word dat Latyn tot ongeveer 1965 in die Heilige Mis as liturgiese taal gebruik is, en die omgangstale in onder meer die homilie of preek, kategismus, gebede en die onderwys. Simon sou later in sy dagboek skryf watter groot rol die kinders in sy taalleerproses gespeel het:

I was the pupil. I would listen avidly [...] By thus mingling with the children I gradually familiarized myself with their language. Besides, I read and translated English and Dutch works outside of class; and I would not blow out my candle at night until I had solved certain grammatical problems [...] I felt as if I were back in the third grade. (Simon 1959:36)

Engels was maklik genoeg, skryf hy, maar

As for Dutch - especially the Dutch spoken in Africa which is very different from the language spoken in Holland - that is harder to learn. Almost every word contains a guttural sound. The r's, g's and ch's must come from deep in the throat. (Simon 1959:37-38)

Dit gaan daarom dat Afrikaans al as kerktaal in die Katolieke Kerk gebruik is lank voordat dit tussen 1916 en 1919 in die sogenaamde Hollandse kerke erken is en die "[...] GRA in 1878 ontbind en daarmee die godsdiensideaal ook verflou" het (Carstens & Raidt 2019:358; kyk ook Carstens & Raidt 2019:404-405).

So skryf Simon hoe hy op 15 Augustus 1895 in die plaaslike "Dutch" gepreek het toe die katedraal op Pella gekonsekreer en gewy is aan die Onbevlekte Ontvangenis (Simon 1959:86; kyk ook Carstens & Raidt 2019:404 vir 'n verwysing na die eerste preek in Afrikaans in 1914 op Stellenbosch deur ds. Tobie Muller).

Die steierwerk wat van die 19de eeu vir Afrikaans in die Katolieke Kerk deur Engelse en Franse priesters opgerig is, staan nog stewig: In twee van die 29 bisdomme is Afrikaans die dominante kerktaal, te wete die bisdomme Oudtshoorn en Keimoes-Upington, en in minstens tien ander, waaronder die bisdomme Port Elizabeth en Queenstown, is dit een van die kerktale.

Van die ongeveer 3,8 miljoen Katolieke in die land is sowat 300 000 Afrikaanssprekend. 'n Studie deur die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Internasionale en Vergelykende Politiek toon dat die Katolieke tussen 2006 en 2013 in vier taalgroepe, Afrikaans, Engels, Xhosa en Zoeloe toegeneem het. Die aantal Afrikaanssprekende Katolieke het van 12% in 2009 tot 24% in 2013 verdubbel (Kotzé & Loubser 2017:5).

 

3. VAN WYK LOUW EN AFRIKAANS IN DIE KATOLIEKE KERK

3.1 Baanbrekers

In 1962 verwerf Dirk Jan Gomes 'n doktorsgraad aan die Universiteit van die Witwatersrand met sy proefskrif 'n Ondersoek na die wenslikheid en noodsaaklikheid van 'n Katolieke woordeskat in Afrikaans. Sy promotor: prof. dr. NP van Wyk Louw.

Hiermee is Van Wyk Louw saam met Gomes in die annale van die Katolieke Kerk opgeteken as baanbrekers vir die Afrikaanse taal in 'n Katolieke konteks. Tot nou is Gomes se navorsing die enigste volwaardige studie oor Afrikaans in die Katolieke Kerk en word tereg en ontereg in die (hoofsaaklik Engelse) Katolieke historiografie gebruik as dié bron vir die geskiedenis van Afrikaans in die Kerk.

Sy hoofstuk oor die geskiedenis van die Kerk in Suid-Afrika is later verwerk tot Voortrekkers vir God (s.j.) en byvoorbeeld herbewerk tot 'n Afrikaanse Katolieke kerkgeskiedenis wat tot ongeveer 2018 verskyn het op die webwerf van die sentrum vir die Katolieke biskoppe se Afrikaanse taalapostolaat (Katolieke Afrikaans vir "bediening"), die Oratorium van St. Fillip Neri op Oudtshoorn.8

Die waarde van Gomes se studie in die geskiedenis van die Kerk kan dus nie hoog genoeg geskat word nie, maar is daarom nie onproblematies nie. In die eerste plek fokus Gomes by uitstek op die Afrikaner-Katoliek, waarmee die oorgrote meerderheid Katolieke, bruin en swart, in die Kerk se geskiedenis gemarginaliseer word.

Tweedens hou Gomes se studie byvoorbeeld die Afrikaanse taal in die Katolieke Kerk voor as 'n 20ste-eeuse verskynsel en verbind die ontwikkeling en bevordering van Afrikaans veral met die werk van die Nederlandse Dominikaanse orde in die 1930's.

Hy bespreek wel oorsigtelik die Afrikaanse bedrywighede van die Duitse Pallotiner-orde in die 1920's wat spesifiek op die bruin Katolieke in die Oudtshoorn-bisdom gerig is. Van die Franse en Engelse missionarisse wat Afrikaans al voor die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (1875) naas Engels as Katolieke kerk- en skooltaal bevorder het, met Latyn as die liturgiese taal tot 1965, is in die werk van Gomes, soos in die res van die Katolieke historiografie geen spoor nie.

Of en hoe Gomes se studie, en by verstek die Kerk se geskiedskrywing medepligtig is aan die marginalisering van Katolieke Afrikaanssprekendes in die Afrikaanse taalhistoriografie, moet nog ondersoek word. Sodanige ondersoek moet egter in ag neem dat Louw weens sy siekte in 1961 nie genoeg aandag aan die proefskrif kon gee nie, dat hy net die eerste hoofstuk kon lees en dat Gomes nie al die verbeterings aanvaar het wat Louw voorgestel het nie (Steyn1998:983).

Die verstommende is dat Gomes aanhaal uit werk van Louw waarin hy byvoorbeeld juis 'n saak uitmaak vir insluiting, weliswaar dat bruin Afrikaanssprekendes by die Afrikaner "hoort" (ter uitsluiting van die swart bevolking). Dit behels onder meer onderstaande uittreksel uit die voorwoord tot DP Botha se Die opkoms van ons derde stand (1960) wat in 1982 in Skietlood gepubliseer is:

Een ding nog glo ek sterk: Laat ons nié, Bruin of Blank, na die verlede kyk; laat ons nie vra: 'waarom het Wit en Bruin wat so naby mekaar was, uitmekaar geloop?' nie. Antwoorde en verwyte kan op hierdie vraag volg. Wat sou óf antwoord óf verwyt baat? Één verklaring sou kon lui: daar was 'n tyd toe die Blanke Afrikaner so wanhopig moes veg om ten minste 'n kern van 'n eie inheemse, by Suid-Afrika aangepaste oortuiging aan die lewe te hou, dat hy nie altyd helder kon sien nie. Sy verskoning sou dan wees dat sonder daardie kernoortuiging binne die volk, nóg wit nóg bruin blywend in hierdie land sal kan leef; as hy 'n fout begaan het, kan hy slegs hoop dat die opregtheid van sy strewe méégereken sal word. En: 'n mens wat nie kan sê: 'Ek het gesondig' nie, is verlore. Dieselfde is waar van 'n mens wat nie kan sê: 'Ek vergewe' nie. (Uit: Skietlood 1982:78)

Aan die hand hiervan (en soortgelyke aanhalings), stel Gomes die doelstelling van sy studie soos volg:

In hierdie "verskeurde Christenheid" wil die Katolieke Kerk dit waag om 'n positiewe bydrae te lewer tot die godsdienstige en kulturele ontplooiing van die Afrikaner deur te probeer om die verband met die Katolieke voorgeskiedenis te herstel. (Gomes 1962:5)

Hy gaan van die standpunt uit dat

Vir heelparty landgenote sou dit 'n groot skok wees as hulle moes hoor dat daar vandag in erns gepraat kan word oor die noodsaaklikheid van 'n Katolieke geloofstaal in Afrikaans. Hulle meen nog altyd dat Afrikanerwees die onvervreembare voorreg van die Protestant is en impliseer dat geloofsafval tegelyk ook ontrou aan die volk is. (Gomes 1962:1)

Dit lyk of Gomes met sy studie wou bewys dat die Katolieke kultuur, soos WEG Louw in 'n brief van 15 September 1949 aan sy broer skryf, "net so seer deel [is] van ons Afrikaanse geesteslewe as dié van Hertzog of Totius" (Kannemeyer 2011:422). Nou is Louw in die woorde uit "Groot ode" onlosmaaklik deel van die Afrikaanse Katoliek se geesteslewe via Gomes se studie: "niemand tref dit móói met die heelal nie: / eintlik moet ons leer ironies lewe: / en: binne ironie nog liefde hou" (Tristia, 133).

Tereg of ontereg, is Louw en Gomes só in die historiese bewussyn van menige Katolieke Afrikaanssprekendes vasgelê: "Dr. Dirk Jan Gomes het 'n besondere bydrae tot die ontwikkeling van die Afrikaanse apostolaat gelewer. Sy promotor was niemand minder nie as NP van Wyk Louw" (2006:s.p.).

Deel van die ironie is dat Gomes, soos die inkwisiteur in Louw se "Die hond van God" wat in 1942 in Gestaltes en diereverskyn het, ook 'n Dominikaan was. In sy studie noem Gomes "[d]it is immers eintlik tragies dat een van ons bekende digters bo die sielkundige ontleding van 'n inkwisiteur apart moes vermeld dat dit nie 'n aanval op die Katolisisme is nie" (Gomes 1962:5). Eers in 'n eindnota in 'n aanhangsel "Verwysings en Aantekeninge" aan die einde van sy proefskrif klaar hy die oënskynlik onnoembare verwysing na Van Wyk Louw se gedig op.

Gomes was een van die Nederlandse priesters wat in die 1940's deur die destydse biskop van Kroonstad, GMF van Velsen, na die universiteite van Potchefstroom, Bloemfontein en Stellenbosch gestuur is om die Afrikaanse taal te bemeester en die Afrikaanse kultuur en leefwêreld te leer ken. Toe die Suider-Afrikaanse Katolieke Biskoppekonferensie in 1950 'n departement vir Afrikaanse aangeleenthede tot stand bring om Afrikaans in die Kerk te ontwikkel en te bevorder, is in 1951 begin met 'n Katolieke Afrikanersentrum en in 1952 'n tydskrif Die Brug. As redakteur sedert November 1952 het Gomes se gereelde rubriek, "Ons bou 'n Katolieke Afrikaanse woordeskat", in 1962 uitgeloop op sy proefskrif. Sy studie het sowat 5 000 woorde, konsepte en woordbetekenisse geïdentifiseer en geskep wat die Katolieke geloofskultuur kon uitdruk.

Die pluimsaad het inderdaad verder gewaai toe Gomes later hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteitskollege Pius XII (nou bekend as die Universiteit Roma) in Lesotho word. Toe nog 'n ent verder toe die Katolieke woordelys wat in sy studie verskyn in die agste deel van die Woordeboek van die Afrikaanse taal opgeneem is. Oor dié ontwikkeling skryf Raidt (1992) die volgende:

As voorbeeld van 'n goed gedokumenteerde vaktaal of sosiolek kan hier verwys word na die Rooms-Katolieke terme wat amper volledig verteenwoordig is in deel VIII [...] Dit wil voorkom of hier hoofsaaklik vanaf die ongepubliseerde PhD verhandeling van D.J.Gomes (1962) gewerk is en nie so seer aan die hand van die meer gesaghebbende tweetalige Church Dictionary/Kerkwoordeboek (1970) wat gedeeltelik die werk van Karel Schoeman was nie. (Raidt 1992:222)

Ter regverdiging moet gesê word dat die 1970-woordeboek eintlik 'n uitloper van Gomes en Louw se werk is. Dit is juis Gomes se proefskrif wat die Kerk laat besef het dat "ons nie beskik oor 'n behoorlike (kerk)woordeskat nie" (Scholten 1970:s.p.). Ook moes verreken word dat Gomes se studie voltooi is voor die Tweede Vatikaanse Konsilie van 1962 tot 1965 wat die Kerk ingrypend verander het.

Vanweë die veranderings het die terminologie van voor die Konsilie verouderd geraak en nuwe woorde en terme moes geskep word. Hierop is 'n wydlopende projek (vir alle inheemse tale, waaronder Afrikaans) van stapel gestuur waarby Katolieke en nie-Katolieke betrokke was met die doel om die Katolieke woorde en konsepte wat in en deur Gomes se studie geskep is, waar nodig aan te pas en uit te brei.

Van dié terme het saam met die woordeskat wat in ander kerkverbande gebruik word, in die tweetalige kerkwoordeboek verskyn wat in 1970 deur die Katolieke Kerk uitgegee is. Byna 4 000 van Karel Schoeman se handgeskrewe kaartjies met Katolieke woorde en terme word op Oudtshoorn bewaar.

Schoeman het onder meer ook Die amptelike handboek van die Maria-legioen vertaal en Van Wyk Louw het die teks versorg. In Steyn (1998:1106) vertel Schoeman dat hy Louw in 1965 gaan spreek het in verband met die vertaling. Louw het toe al omtrent 'n derde van die handboek deurgewerk en "'n paar welwillende opmerkings gemaak". Schoeman het glo deur iemand anders vir Louw verskoning gevra dat hy hom met hierdie "belaglike werk" opgesaal het. Hierop het Louw laat weet dat hy dit "ter ere van Maria" gedoen het.

Die handboek vir die Legioen van Maria, 'n wêreldwye sodaliteit (Katolieke Afrikaans vir 'n "bond", 'n bid-en-aksiegroep in die RKK) wat liefdadigheidswerk doen, het in 1966 verskyn en is eers in 1988 hersien. Groot dele van die oorspronklike tekste is behou en ander, soos die briewe van die pous, is by die tye aangepas. Tot nou toe is Louw en Schoeman se weergawe die bloudruk vir latere hersienings.

Van Wyk Louw se "leerling", Gomes, word steeds beskou as die mees prominente en produktiefste pasaangeër vir Afrikaans in die Katolieke Kerk. In die 1960's het talle vertalings uit sy hand verskyn, waaronder 'n Afrikaanse vertaling van die Romeinse Rituaal ('n liturgiese boek wat onder meer die gebede by die viering van die sakramente, die Heilige Mis vir gestorwenes en die begrafnis, ensovoorts bevat). Vreemd genoeg verskyn sy naam nie soos gebruiklik in die publikasie nie, wat die vermoede laat ontstaan dat hy nie self of alleen die vertaling behartig het nie. In vergelyking hiermee word die name GR Grobbelaar en dr. CTF Strydom wel saam met syne vermeld by die vertaling van die Dogmatiese Konstitusie oor die Kerk van die Tweede Vatikaanse Konsilie in Afrikaans.

Gomes het ook vyf van die Deutero-kanonieke boeke vir gebruik in die Katolieke Kerk vertaal voordat dié boeke in 1965 by die 1933/1953-Bybel ingesluit is. In 2020 verskyn 'n nuwe direkte vertaling van die Bybel waaraan alle kerke wat Afrikaans as kerktaal gebruik, saamgewerk het. Die Bybel sal ook nuwe vertalings van die Deutero-kanonieke boeke bevat.

Omdat Latyn steeds die amptelike voertaal van die Katolieke Kerk is, is Katolieke in Suid-Afrika afhanklik van die vertaling van onder meer liturgiese werke en pouslike omsendbriewe in hul taal. Vir die doel het elke amptelike taal, behalwe Engels, 'n taalapostolaat, met die setel van die Afrikaanse taalapostolaat op Oudtshoorn. Hier word voortgebou op 'n woordeskat wat onder andere Louw en Gomes help ontwikkel en skep het om 'n Katolieke geloofskultuur, identiteit en denke uit te druk.

Die "[werklike opbou van 'n taal tot [spesifiek Katolieke] kultuurtaal [is] is nie sonder die bydrae van groot digters en skrywers moontlik [...] nie" (Carstens & Raidt 2019:37-40). Die Katolieke Kerk het 'n Van Wyk Louw gehad. Karel Schoeman. Bonaventure Hinwood. Sheila Cussons. Martin Versveld.

Saam met ander word hulle opgeroep as diegene wat deur hul kuns, wye denkraamwerke en veelkantige lense 'n Katolieke wêreld vir Afrikaanse mense oopgemaak het. Hul bydrae tot Afrikaans se verkenning van en bekendstelling aan 'n Katolieke kultuur word in die geskiedenis van die Kerk onskatbaar geag. En wanneer ons bid, weet menige Katoliek nog ons bid in 'n Afrikaans waarin ook die ruim gees en denke van Van Wyk Louw voortleef.

 

4. TEN SLOTTE: HET DIE PLUIMSAAD NOG VERDER GEWAAI?

Hierdie bydrae wou 'n bewustheid skep dat Van Wyk Louw se nalatenskap ook in die Katolieke Kerk voortgesit word, naas die literêre en kulturele kringe waar hy voortdurend in gesprek tree met onder andere digters, prosaskrywers, musici en ander uitvoerende kunstenaars. Hiermee is die aandag gevestig op die moontlikheid dat Van Wyk Louw se nalatenskap dalk baie meer genuanseerd is as wat tot dusver in die openbare kulturele diskoers weerspieël word. Dalk is daar, 'n halfeeu ná sy dood, elders, buite sy verwagte, sy waarskynlike, onmiddellike ruimtes nog iets nuuts, iets ironies selfs, wat wag om ontdek te word. Hy is immers "alomteenwoordig" en "sy invloed strek wyd en syd" (Renders 2008:2), maar al ken ons sy reikwydte dalk nou net ten dele, is ons volgens hom "[...] altyd gereed om te stry en te ly vir die diepte van ons kultuur, nie vir sy lekker oppervlakte nie" (Louw 1986:176).

 

BIBLIOGRAFIE

Abraham, G. 1989. The Catholic Church and Apartheid. Johannesburg: Raven Press.         [ Links ]

Bate, S.C. 1999. One mission, two churches. In: Brain, J. & Denis, P. The Catholic Church in contemporary Southern Africa. Pietermaritzburg: Cluster.         [ Links ]

Botha, D.P. 1960. Die opkoms van ons derde stand. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Boucher, M. 1966. Ex Glande quercus. Bishop Griffith at the Cape: the Catholic Background (1803-1837) and the first frontier 'visitation' of 1838. Historia, 11:245-255.         [ Links ]

Brady, J.E. 1951. History of the church in South Africa. In: Fr. Agathangelus (ed.). The Catholic Church and Southern Africa: A series of essays. Cape Town: Catholic Archdiocese of Cape Town.         [ Links ]

Brain, J. 1975. Catholic beginnings in Natal and beyond. Durban: T.W. Griggs.         [ Links ]

Brain, J. 1988. The Cape diary of Bishop Griffith 1837-1839. Pretoria: Southern African Catholic Bishops' Conference.         [ Links ]

Brain, J. 1997. Moving from the margins to the mainstream: The Roman Catholic Church. In: Elphick, R. & Davenport, R. Christianity in South Africa: A political, social & cultural history. Claremont: David Philip.         [ Links ]

Brown, W.E. 1960. The Catholic Church in South Africa. From its Origins to the Present Day. London: Burns & Oates.         [ Links ]

Carstens, W. & Raidt, E. 2019. Die storie van Afrikaans. Uit Europa en van Afrika. Deel II. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

De Gruchy, J.W. 1982. The church struggle in South Africa. Cape Town: David Philip.         [ Links ]

De Klerk, B.J. 1952. Die Roomse-gevaar. Pretoria: Holl. Afrika Uitgewers.         [ Links ]

Denis, P. 1998. The Dominican friars in Southern Africa.Leiden/Boston/Koln: Brill.         [ Links ]

De Wet, J I. 1960. Die Roomse indringer in S.A. Almanak nederduitsch hervormde kerk, 5(4):83-95.         [ Links ]

Du Plooy, H. 2014. Die beeld is duursamer as die begrip. https://www.litnet.co.za/die-beeld-is-duursamer-as-die-begrip [25 Mei 2019].         [ Links ]

Foucault, M. 1973. The Order of Things. London: Tavistock.         [ Links ]

Gomes, D.J. 1962. 'n Ondersoek na die wenslikheid en noodsaaklikheid van 'n Katolieke woordeskat in Afrikaans. Ongepubliseerde doktorale proefskrif. Universiteit van die Witwatersrand.         [ Links ]

Gomes, D.J. s.j. Voortrekkers vir God. Pretoria: Katolieke Afrikanersentrum.         [ Links ]

Grundlingh, A. & Huigen, S. 2008. Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar: Kritiese opstelle van Afrikaanse herinneringsplekke. Stellenbosch: Sun Media.         [ Links ]

Hambidge, J. 2013. N.P. van Wyk Louw en die kanon. http://joanhambidge.blogspot.com/2013/02/studie-np-van-wyk-louw-gedenklesing.html [20 Junie 2019].         [ Links ]

Hofmeyr, J.W. & Pillay, G. (eds). 1994. A History of Christianity in South Africa. Pretoria: HAUM Tertiary.         [ Links ]

Jonker, W.D. 2006. Onmiddellik voor God - Gedagtes van 'n teoloog oor 'n sentrale perspektief in die werk van NP van Wyk Louw. In: Burger, W. Die oop gesprek: NP van Wyk Louw-gedenklesings. Pretoria: Lapa.         [ Links ]

Kannemeyer, J.C. 2011. Briewe van W.E.G. en N.P. van Wyk Louw 1941-1970. Hermanus: Hemel & See Boeke.         [ Links ]

Kotzé, H. & Loubser, R. 2017. Religiosity in South Africa: Trends among the public and elites. http://dx.doi.org/10.7833/115-0-1287 [12 Desember 2017].         [ Links ]

Loff, C.J.A. 1998. Bevryding tot eenwording. Die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika 1881-1994. Ongepubliseerde doktorale proefskrif. Kampen: Theologische Universiteit van de Gereformeerde Kerken in Nederland.         [ Links ]

Louw, N.P. van Wyk. 1942. Gestaltes en diere. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Louw, N.P. van Wyk. 1958. Liberale nasionalisme. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

Louw, N.P. van Wyk. 1962. Tristia. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Louw, N.P. van Wyk. 1982. Skietlood. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Louw, N.P. van Wyk. 1986. Versamelde prosa I. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Marquard, L. 1960. The peoples and policies of South Africa. Cape Town: Oxford University Press.         [ Links ]

McDonagh, L.M. 1983. Wordless witness: A history of the Holy Cross Sisters in Southern Africa. Marianhill: Marianhill Mission Press.         [ Links ]

Montessori, N., Schuman, H. & De Lange, R. 2012. Kritische discoursanalyse. De macht en kracht van taal en tekst. Brussel: Academic and Scientific Publishers nv.         [ Links ]

Navarro, Z. 2006. In Search of Cultural Interpretation of Power. IDS Bulletin, 37(6): 11-22.         [ Links ]

O'Haire, J. 1877. Recollections of Twelve years residence. Dublin: M.H. Gill & Son.         [ Links ]

Ponelis, F.A. 1999. Die oorspronge van Afrikaans. http://www.archive.org/stream/rosettaproject_afr_detail-6/rosettaproject_afr_detail-6_djvu.txt [9 Desember 2016].         [ Links ]

Profit, B. 1996. Texts and contexts: Meaning and Methodology in Church History. https://pdfs.semanticscholar.org/60bb/3311e3f8ffa355b9763862f62011bdba5731.pdf?_ga=2.14606836.2100471895.1585502183-1088667426.1585502183 [10 Oktober 2019].         [ Links ]

Raidt, E. 1991. Afrikaans en sy Europese verlede. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Raidt, E. 1992. Die agtste deel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Lexikos, [S.l.], v. 3, Jan. 2013. ISSN 2224-0039. http://lexikos.journals.ac.za/pub/article/view/1108[9 Desember 2016].         [ Links ]

Redaksie. 2006. Kort geskiedenis van Afrikaans in die Katolieke Kerk. www.dieoratorium.org [1 Maart 2016].         [ Links ]

Renders, L. 2008. En... die grootste is: N. P. Van Wyk Louw. https://doclib.uhasselt.be/dspace/bitstream/1942/9330/1/NPvanwyklouw.pdf [28 Desember 2018].         [ Links ]

Scholten, D. 1970. Church Dictionary/Kerkwoordeboek. Pretoria: K.A.S.         [ Links ].

Shell, Robert. 1995. The march of the Mardijckers: the toleration of Islam at the Cape, 1633-1861. Kronos, 22:3-20.         [ Links ]

Simon, J.M. 1959. Bishop for the Hottentots- African memories: 1882-1909. New York: Benziger Brothers, Inc.         [ Links ]

Steyn, J.C. 1998. Van Wyk Louw - 'n Lewensverhaal (Deel I en II). Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Terblanche, E. 2017. N.P. van Wyk Louw 1906-1970. https://www.litnet.co.za/np-van-wyk-louw-1906-1970 [24 Januarie 2019].         [ Links ]

Theal, G.M. 1908. History of South Africa since September 1795. London: Swan Sonnenschein & Co.         [ Links ]

Theron, E. 1958. Die geskiedenis en aksie van die Rooms-Katolieke Kerk veral in die Unie van Suid-Afrika. Ongepubliseerde M.A.-tesis. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.         [ Links ]

Valkhoff, M. 1966. Katolieke en Portugees aan die Kaap in 1685. In: Van Heerden, E. Smal swaard en blink: Bundel aangebied aan N.P. van Wyk Louw by geleentheid van sy 60ste verjaardag. Pretoria/Kaapstad: Academica.         [ Links ]

Van Coller, H. & Van Jaarsveld, A. 2010. Die spore van Raka: oor herskrywing en kanonisering. (Deel 1). Tydskrif vir letterkunde, 47(1):2010:25-40.         [ Links ]

Vann, R. T. 1995. Turning linguistic: History and theory and history and theory, 1960-1975. In: Ankersmit, F. & Kellner, H.(eds). A New Philosophy of History. London: Reaktion Books.         [ Links ]

Viljoen, L. 2008. Digterlike gesprekke met Van Wyk Louw. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 48(3):267-291.         [ Links ]

Villa-Vicencio, C. 1988. Trapped in Apartheid: A socio-theological history of the English-speaking churches. Cape Town: David Philip.         [ Links ]

Wesseling, E. 1991. Writing history as a prophet. Postmodernist innovations of the historical novel. Amsterdam: John Benjamins.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2019-07-10
Goedgekeur: 2020-02-03
Gepubliseer: Junie 2020

 

 

 

ANASTASIA DE VRIES doseer mediakunde, Afrikaans vir die taalprofessies en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy het 'n DrsLitt in Nederlandse taal- en letterkunde aan die Vrije Universiteit in Amsterdam behaal en werk tans aan 'n doktorale studie oor Afrikaans in die Katolieke Kerk.
ANASTASIA DE VRIES is a lecturer at the University of the Western Cape, where she teaches media studies, Afrikaans for the language professions and Dutch literature. She holds a DrsLitt from the Free University in Amsterdam and is currently working on a doctoral study about Afrikaans in the Catholic Church.
Anastasia de Vries
1 Dié bron is op die internet opgespoor, maar kan ook gevind word in Grundlingh en Huigen (reds) se Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar: Kritiese opstelle van Afrikaanse herinneringsplekke wat in 2008 by Sun Media verskyn het en in 2011 uitgegee is as Reshaping Remembrance. Critical Essays on Afrikaans Places of Memory.
2 Vergelyk onder andere Du Plooy (2004); Hambidge (2013); Renders (2008); Van Coller & Van Jaarsveld (2010); Viljoen (2008).
3 "Kerk" met 'n hoofletter word spesifiek gebruik vir 'n gegewe kerkverband soos die Katolieke Kerk of die NG Kerk, terwyl "kerk" (kleinletter) alle kerkverbande in die Christelike familie insluit.
4 Ek dink hier byvoorbeeld aan WD Jonker in "Onmiddellik voor God - Gedagtes van 'n teoloog oor 'n sentrale perspektief in die werk van NP van Wyk Louw", opgeneem in Die oop gesprek (2006). Dit kom telkens as 'n skok om uit nie-Katolieke oorde te verneem wat Katolieke na bewering glo.
5 Die term is ontleen aan Grundlingh en Huigen (2008).
6 Vergelyk onder andere Theal (1908:42), Theron (1958:34), Brown (1960:4), Gomes (1962:8-9), Valkhoff (1966:158-159) en Hofmeyr & Pillay (1994:10).
7 Vergelyk Brain (1975:2) en Valkhoff (1966:160-167) oor Katolieke en die gebruik van Portugees in die vroeë Kaap.
8 Die webwerf is intussen aangepas en die "Kort geskiedenis van die Katolieke Kerk in Suid-Afrika" (2006) wat voorheen saam met 'n oorsig van Afrikaans in die Kerk hier verskyn het, is nie langer beskikbaar nie.'n Afskrif van die inligting, wat op 1 Maart 2016 van die webwerf www.dieoratorium.org afgetrek is, is wel in my besit.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License