SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 número2Motion verbs in Van Wyk Louw's poetryNP van Wyk Louw's animals and figures: An ecocritical reading índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.60 no.2 Pretoria Jun. 2020

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n2a11 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Voorstellings en posisionerings in Van Wyk Louw: 'n Lewensverhaal deur JC Steyn*

 

Presentation and positioning in Van Wyk Louw: 'n Lewensverhaal ("Van Wyk Louw: A life story") by JC Steyn

 

 

Hp Van Coller

Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat. Suid-Afrika. E-pos: vcollerh@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

Hierdie studie is 'n kritiese lees van Steyn (1998) se alomgeprese biografie aan die hand van verskeie teoretiese raamwerke. Die skryf van 'n historiese narratief word op die spoor van narratoloë gesien as 'n onderneming met subjektiewe kante al word die historikus beperk deur geboekstaafde gebeure en "feite". Daar is reeds vroeër beweer (Van Coller 2019a) dat die skryf van geskiedenis ooreenkomste vertoon met vertaling deurdat die historikus kan vervreem of domestikeer (Venuti 1995). In die onderhawige studie word die klem egter geplaas op die skopusteorie van Christiane Nord (1991; 2006). Volgens haar uitgangspunte is vertaling funksiegedrewe en hou die vertaler voortdurend die teikenlesers in die oog wanneer die strategiese vertaalkeuses gemaak word. Die vertaler het geen vrypas om na willekeur te vertaal nie; daar is sprake van lojaliteit: teenoor die opdraggewer, die teikenleser én die bronteks. Mutatis mutandis geld dit ook die biograaf, wat gebonde is aan sy opdraggewer, die lesers vir wie die biografie bedoel is en die lewe van die persoon oor wie die biografie handel. In 'n ander studie (Van Coller 2019b) oor JC Steyn se biografieë van Piet Cillié en MER is bevind dat enkele gemanipuleerde voorstellings van dié persone waarskynlik toegeskryf kan word aan die opdraggewer, Naspers, wat noue bande met beide gehad het - veral met Cillié, een van die destydse sleutelfigure in dié organisasie. In die onderhawige studie is bevind dat veral Truida Louw (en die Louw-gesin) se betrokkenheid by hierdie biografie (as mede-opdraggewers, onderhoudvoerders en keurders) die voorstelling van Truida positief beïnvloed en dié van Sheila Cussons, haar antagonis in die vyftigerjare van die vorige eeu in Amsterdam, negatief kleur. Enkele posisioneringsteorieë word ook betrek ter steun van hierdie bevinding. Hierdie tweedelige biografie is sonder twyfel 'n baken - én een van die bestes - in Afrikaans. Desondanks toon ʼn analise daarvan dat selfs die mees volledige en wetenskaplik gedrewe vorm van geskiedskrywing nooit op volkome objektiwiteit aanspraak sal kan maak nie: geskiedskrywing bly 'n hermeneutiese proses en interpretasie is altyd subjektief.

Trefwoorde: biografie, historiese narratief, vertaalteorieë, domestikasie (verhuisliking), vervreemding, skopusteorie, vertaalopdrag, postuur, etos, patos, logos, (self-)posisionering, openbare intellektueel


ABSTRACT

In this article, I attempta critical reading of Steyn's widely acclaimed biography (1998, named above) by using diverse critical frameworks and theories. In accordance with views advanced in narratology, writing a historical narrative is seen as a venture that cannot escape subjectivity, despite the historicist's being bound by factual writing and oral accounts of chronicles and facts. In a previous study (Van Coller 2019a), history-writing has been compared with the process of translation because the historian also has to choose between two modes of presentation, namely foreignisation and domestication (Venutti 1995). The present study, however, focuses on another influential and important translation theory, namely the skopos theory, propounded by the German scholar Christiane Nord (1991; 2006). According to this theory, translation is function-driven and the translator has no free play in translation. The translator is bound by "loyalty" - loyalty towards the initiator who commissioned or assigned the translation (the translation brief), the target audience and the source text. It follows that any strategic choices exercised are closely related to the needs (values and knowledge) of the target audience. These insights apply mutatis mutandis to the biographer, who has the same loyalty to the initiator, his target readers and, particularly, the subject of his biography. In a recent study (Van Coller 2019b), I also reviewed Steyn's biographies of Piet Cillié, former newspaper editor (of Die Burger) and influential political analyst, and MER (Miemie Rothman), an Afrikaans journalist, writer and member of the Carnegie commission of inquiry (1929-1932) into extreme poverty among white people. The conclusion in that study was that although both biographies can be regarded as thorough, the presentation of especially Piet Cillié was skewed because key aspects of his life have been manipulated in the sense that many of his obvious shortcomings were underplayed or treated in a manner to present him in a more positive light. This could perhaps be ascribed to the fact that the Cillié biography was commissioned by Naspers (which, at the time, also paid Steyn's salary, while Cillié was one of the pivotal figures in the organisation). Likewise, MER also had close ties with Naspers. In the present study, one of the findings is that Truida Louw, widow of NP van Wyk Louw, apparently strongly influenced the Van Wyk Louw biography as she reportedly favoured Steyn as the biographer (and may therefore be viewed as co-initiator) and that she (as well as her children, Reinet and Peter) granted Steyn interviews and even had access to the biography at the manuscript stage. This involvement of the Louw family without a doubt had a bearing on the final, published version: quite a few cuts had been made in the manuscript, almost all of them aimed at improving the posture (Meizoz 2010) of Louw or Truida, although it cannot be categorically stated that all of these changes resulted from their comments. One of the most important findings of this study is that while Louw, in the main, has been represented by Steyn - notwithstanding his obvious admiration for Louw - "warts and all", the representation of other key players in this "drama" has been manipulated. The posture of Truida - in accordance with positioning theory - is extremely positive (both with reference to her illicit affair with Louw from 1936 to 1938, and during his extramarital affair with Sheila Cussons from 1950 to 1956 in Amsterdam). However, Steyn does not portray Cussons, who declined point-blank to contribute to this biography, very sympathetically. After the publication of this two-part biography, Cussons responded and refuted several claims made in the biography, particularly the assumption that her relationship with Louw had been merely a fleeting affair. According to her, it was a serious love relationship and even more profoundly a poetic one. In the interview concerned, some of the most important poems in Louw's last published volume of poems were mentioned, all of them directly related to their relationship: dedicated to Cussons, alluding to the relationship or resulting directly from their poetic interaction and cooperation. In conclusion, it can be argued that although Steyn's biography is undoubtedly a beacon in biographical writing in Afrikaans, not even this scientific and comprehensive study can lay claim to absolute objectivity. The writing of any historical account is a hermeneutical endeavour, therefore always prone to subjective elements.

Keywords: Biography, Historical Narrative, Translation Theory, Domestication, Foreignisation, Skopos Theory, Translation Brief, Posture, Ethos, Pathos, Logos, (self-)positioning, Public Intellectual


 

 

1. INLEIDENDE OPMERKINGS

Die biograaf JC Steyn het drie biografieë die lig laat sien: 'n tweedelige een oor die digter NP van Wyk Louw en een elk oor Piet Cillié (toenmalige redakteur van Die Burger) en die skrywer MER (Steyn 1998; 2002; 2004). In Van Coller (2019b) word die voorstelling van Piet Cillié en MER bespreek aan die hand van die posisioneringsteorie. In die onderhawige studie, wat handel oor Steyn se werk Van Wyk Louw: 'n Lewensverhaal (Steyn 1998), word veral Christiane Nord se skopusteorie met betrekking tot vertaling betrek, hoewel ook na relevante aspekte van die posisioneringsteorie verwys word.

 

2. RESEPSIE VAN DIE LOUW-BIOGRAFIE

Steyn se biografie is deur 'n hele aantal resensente bespreek en ook in enkele koerantberigte ter sprake gebring. Dit word vervolgens chronologies bespreek om enige moontlike verskuiwings of latere reaksies op vroeëre resensente te verreken. FIJ van Rensburg (1998) stel Steyn se biografie in die vooruitsig en noem dit - as aptytwekker - "een van die belangrikste boeke wat in Afrikaans geskryf is en waarna 'n groot leserspubliek kan uitsien". Britz (1998) se resensie is in wese 'n weergawe van haar gesprek met Steyn oor sy eie navorsing en die inhoud van die biografie. Die name van Louw se laaste honneursklas wat sy noem, wek wel verbasing as 'n mens lees dat TT Cloete en PG du Plessis ook deel daarvan sou uitgemaak het: in werklikheid was Cloete in die vyftigerjare student by Louw in Amsterdam en was Du Plessis weer dosent in Louw se departement by Wits (tot 1969). Uit die gesprek tussen Rautenbach (1998) en Steyn blyk dat Frans (prof. FIJ) van Rensburg, destyds van die Randse Afrikaanse Universiteit en ouddosent van Steyn aan die destydse UKOVS, Steyn as skrywer van hierdie biografie voorgestel het.1 In hierdie onderhoud sê Steyn dat die gesinslede "baie openhartig" met hom gepraat het oor sensitiewe sake (soos Louw se lang verhouding met Sheila Cussons) en "glad nie probeer toesmeer of 'n soort 'preventiewe sensuur' probeer toepas" het nie.

Scholtz (1998), bekendsteller van hierdie publikasie, beklemtoon Steyn se wetenskaplike werkwyse en vooropstelling van feitelikhede. Hy vermeld ook dat "Louw se intieme familie, in die eerste plek die gesin [] by die skryf deur Steyn geken"2 is. Dit wek reeds die vermoede dat hulle die finale weergawe ook goedgekeur het. Scholtz ondervang verwagte kritiek oor die dokumentasie wat dalk te "volledig en daarom te uitvoerig" sou wees. Volgens hom wek dit vertroue en wil lesers graag dinge "uit die perd se bek" hoor. Laasgenoemde verwys na die groot aantal briewe wat telkens aangehaal word. Sy slotsom is dat Steyn se biografie by implikasie 'n baken is. Ook Gaum (1998) is uiters positief oor die biografie en hy vermeld die feit dat dit "'n boeiende verhaal" raak: "'n gedugte boek oor 'n gedugte man". Giliomee (1998) se stuk gebruik die Louw-biografie slegs as kapstok vir bepaalde opmerkings, ook omdat hy in daardie stadium nog nie die teks gelees het nie.

Morkel (1999) se resensie is positief en sy haal prof. FIJ van Rensburg dikwels aan. Wel noem sy dat dit jammer is dat die "literêre rekord" eers ná die boek se verskyning deur Sheila Cussons (in 'n onderhoud in Insig) aangevul is. Van Coller (1999) is baie positief en noem die biografie een van die heel bestes in Afrikaans. Positiewe aspekte daarvan is Steyn se plasing van Louw in historiese en politieke konteks, die leesbaarheid van hierdie onderhoudende teks en sy onberispelike bronverkenning. Negatief is die te positiewe uitbeelding van Truida Louw as "smettelose heldin" en die uiters negatiewe wyse waarop Louw-teenstanders voorgestel word. "As daar een puntjie van kritiek is, is dit dat Steyn hom dalk te veel laat lei het deur die Louw-gesin se inligting, visie en waardes" (Van Coller 1999:6). Marais (1999) is oorwegend positief, maar hy betreur die weglating van 'n volledige bibliografie van Louw se werk en Steyn se vergoeilikende weergawe van Louw se antisemitisme. Ook vind Marais dit jammer dat Cussons se kant nie heeltemal tot sy reg kom nie; hy stel die vraag waarom sy medewerking aan Steyn geweier het. Hierdie vraag word later deur Cussons self in 'n onderhoud in Insig beantwoord (Botha 1999). Marais noem ook dat Henk Badings, die komponis van Asterion (en met wie Louw 'n goeie verhouding gehad het), in Nederland omstrede was vanweë sy kollaborasie met die Duitsers in die Tweede Wêreldoorlog. Hierdie (omstrede) figuur en Louw se vriendskap met hom ontvang te min aandag en daaroor het Steyn nie genoeg navorsing gedoen nie, aldus Marais. Desondanks is sy slotsom dat dit 'n deeglike biografie is wat in 'n verkorte weergawe gepubliseer behoort te word.

Een van die weinige kritiese besprekings is deur Ernst Lindenberg, eertydse kollega van Louw by Wits (Lindenberg 1999). Aan die positiewe kant is daar die duidelike tekens van Steyn se "verbluffende werkywer" en die "nugtere en heldere wyse" van die vertelling in "sobere en natuurlike taal". Lindenberg noem "slordighede" in Deel 2, maar dui hulle nie aan nie. Boonop, sê Lindenberg, is Steyn, ten spyte van sy "groot bewondering" vir Louw, "só nederig en skroomvallig dat hy nie maklik 'n eie oordeel uitspreek nie". Lindenberg se besware berus op die feit dat intieme, en soms onbenullige, besonderhede telkens aan die lig gebring word en dat daar kwistig aangehaal word uit persoonlike briewe. Volgens hom is dit meermale 'n skending van die betrokkene (Louw) se privaatheid. Sheila Cussons se weiering om saam te werk trek ook die "hele gedeelte oor die Amsterdamse periode effens skeef". Al sou Steyn se informante die waarheid praat, is "sy voorstelling eensydig".3 Hy bevraagteken ook Steyn "se oordeel en goeie smaak" deurdat hy die weergawe van Peter Louw (Louw se seun) opneem - "dit terwyl laasgenoemde 'n baba en kleuter was en klaarblyklik deur die ouers [veral Truida?] ingelig is". Voorts vind hy die aanhalings uit Cussons se briewe vermoedelik 'n skending van outeursreg. Lindenberg is ook byna die enigste wat Steyn beskuldig van belangrike weglatings: Elisabeth Eybers se kritiek op Louw se vroeëre opstelle, Blum se kritiek op Tristia en die feit dat Steyn geen onderhoude met Fred en Ria le Roux gevoer het nie4 en Steyn se onkunde oor Peter Blum se skuilnaam (wat Lindenberg ook nie verskaf nie). Volgens Lindenberg onderskei Steyn nie goed genoeg tussen "die belangrike werke en die minder belangrikes nie". In die biografie bly daar ook enkele belangrike vrae waarop daar (aldus Lindenberg) geen antwoorde gegee word nie. Tog is ook sý slotoordeel dat hierdie biografie onmisbaar vir studente sal wees.

In 'n stuk wat eintlik oor sy eie verhouding met Louw as mentor handel, vermeld Du Plessis (1999) "Jaap Steyn se hoogs intelligente deeglikheid en deugdelikheid" in hierdie biografie. Ook Coetzee (1999) is positief in sy beoordeling, hoewel hy oordeel dat Steyn soms te positief staan teenoor Louw. Desondanks is dit "not only an intellectual biography, a critical biography or a literary biography", maar eerder "a [] valued necessary and respectful story of the life of one of the language's greatest exponents".

Ten slotte: Toe Daniel Hugo (2001) gevra is om sy persoonlike keuse van die beste boeke van die negentigerjare van die vorige eeu te gee, noem hy ook Steyn se Louw-biografie. Dit is 'n boek wat hom nog lank sal bly verras en ontroer. Hy noem pertinent dat die verhouding tussen Louw en Cussons "die volle agt jaar van Louw se verblyf in Nederland kleur" (iets wat nie duidelik uit die biografie blyk nie omdat die einde van die verhouding al baie vroeër gesinjaleer word - reeds in 1953 [656]). Hugo wys ook op die belangrike invloed wat hierdie verhouding op die Afrikaanse letterkunde gehad het (iets wat ook nie in die biografie ten volle aan die lig gebring word nie). "Sonder Sheila sou heelwat van die gedigte in Nuwe verse (1954) en Tristia (1962) nooit tot stand gekom het nie. Sonder Van Wyk Louw sou Cussons nie van haar mooiste verse geskryf het nie."5 Hugo se opmerkings lyk na blote opmerkings of kanttekeninge, maar is inderwaarheid verhulde kritiek op hierdie hiate in Steyn se biografie. Die rede waarom hy Steyn se biografie verkies (bo byvoorbeeld "Kannemeyer se goedgestruktureerde en gekondenseerde Leipoldt"), is juis Steyn se "terughoudendheid, sy huiwering om te veel te wil orden en te interpreteer". So slaag hy daarin "om die verwikkelde en soms chaotiese lewe van 'n briljante digter en denker oortuigend weer te gee".

 

3. VERTALING EN (BIOGRAFIESE) GESKIEDSKRYWING AS BEMIDDELING: DIE BEGRIPPE DOMESTIKASIE EN VERVREEMDING

'n Biografie is geskiedskrywing; daarom kom al die teoretiese kwessies wat by geskiedskrywing ter sprake is, ook hier te pas. Geskiedskrywing is altyd interpretasie en kan nooit 'n presiese (objektiewe) weergawe van die verlede wees nie. By talle geleenthede (soos in Van Coller 2019a) het ek die skryf van geskiedenis gelykgestel met vertaling en gewys op veral vervreemding en verhuisliking (domestikasie). Domestikasie (domestication) en vervreemding (foreignisation) is terme van die Amerikaanse vertaalwetenskaplike Lawrence Venuti (1995). In wese beteken domestikasie (of verhuisliking) dat by vertaling die bronteks in ooreenstemming gebring word met die taalkundige en kulturele waardes van die teikenpubliek of teikenleser (doelpubliek en doelleser), ook wat die taal en styl betref - die vreemdheid word verminder. Vervreemding, daarteenoor, beklemtoon juis die linguistiese en kulturele "vreemdheid" van die bronteks, soos in die jongste Bybelvertaling, waarin die oorspronklike name van bome, plante, beroepe en geldeenhede weer in ere herstel word.

In geskiedskrywing kan die verlede derhalwe as "vreemd" en "ver" beskryf word (vervreemding), maar dit kan, daarteenoor, voortdurend met die huidige tyd in verband gebring word. Só is Frits van Oostrom se historiese werk oor die Middeleeue dikwels domestikerend omdat hy wys op parallelle met die huidige tyd en sodoende die tipering van die "Donker Middeleeue" ontkrag. In sy historiese roman Afstande werk Dan Sleigh domestikerend, omdat hy deurgaans probeer om die verlede en hede te laat oorvleuel. In 1795 werk hy dikwels andersom: Die verlede kom deur onder andere vreemde woorde en noukeurige beskrywing van byvoorbeeld die destydse topografie as "ver" uit die verf. Hierdie werkwyse is duidelik vervreemdend.6 By 'n biografie sou hierdie dichotomie ook betrek kon word: Steyn se uitvoerige aanhalings uit (veral liefdes)briewe van Louw bring Louw inderwaarheid "nader" aan die eietydse leser, omdat hierdie briewe dikwels handel oor universele begrippe soos liefde en verlange.

 

4. DIE SKOPUSTEORIE

In die sewentigerjare van die twintigste eeu word die skopusteorie deur Hans J Vermeer gestel (Reiss & Vermeer 1978). Sy teorieë word later uitgebrei deur Christiane Nord (2001). Aangesien elke handeling 'n doel het (skopos is die Griekse woord vir 'doel'), moet dit ook by vertaling so wees. Wat dit beteken, is dat die skopus of doel van 'n vertaling sal bepaal of domestikasie of vervreemding sal oorheers en of daar dalk 'n kombinasie van die twee uiterstes sal wees. In Nord (2006) word hierdie teorie verduidelik aan die hand van onder andere die bekende Jakobson-teorie van kommunikasie (1960). Nord onderskei hierin vier funksies van vertaling: die fatiese, referensiële (verwysende), ekspressiewe en die appellatiewe funksie. In die fatiese word kontak met die leser gemaak. In die geval van die Louw-biografie word dit bereik deur eers die geskiedenis van Louw te gee en die opname van talle persoonlike briewe; as sodanig is dit iets waarmee lesers vertroud is - elke mens het 'n persoonlike geskiedenis - en wat gebruik word om 'n bepaalde vertrouensverhouding te skep. Die verwysende funksie bring bepaalde inligting na vore (oor plekke, mense en historiese tye) waarmee die leser maklik kan identifiseer (byvoorbeeld die Tweede Wêreldoorlog, die Anglo-Boereoorlog of die simboliese ossewatrek van 1938). Die ekspressiewe funksie het te make met die verteller (soms "skrywer" genoem) wat sy houding en siening van sake aan die leser meedeel. Ten laaste het die appellatiewe funksie ten doel om die lesersreaksie te stuur, gedeelde waardes te skep en vanselfsprekend 'n bepaalde lesersreaksie tot gevolg te hê. Nord se onderskeid hier tussen "intention/purpose" en "function" is van groot belang: die sender (vertaler of biograaf) het 'n bepaalde doel met sy werk en probeer om 'n sekere reaksie by die ontvanger (leser) te bewerkstellig. Vertaling (die skryf van 'n biografie) is dus funksioneel en pragmaties gerig.

Die doel van Steyn se Louw-biografie is om 'n geloofwaardige beeld van NP van Wyk Louw te skep. Dit word bereik deur eerstens die biografie as wetenskaplik en betroubaar voor te stel, onder meer deur klem te plaas op al die dokumente, briewe en dergelike wat geraadpleeg is (Steyn 1998 in sy "Bedankings en opmerkings oor bronverwysings", waarin hy ook die talle onderhoude noem wat hy gevoer het). Juis laasgenoemde word al hoe meer erken as 'n belangrike navorsingsinstrument (Masschelein, Meurée, Martens & Vanasten 2014:19). Maar so 'n geloofwaardige beeld word ook geskep deur die weergawe van bepaalde karaktertrekke. Korthals Altes (2014:vii; vgl. ook Erasmus-Alt 2018:28) noem patos, logos en etos die drie Aristoteliaanse bestanddele van oorreding. Waar eersgenoemde 'n beroep doen op emosies en die tweede verband hou met die rede, fokus die derde op karaktereienskappe soos wysheid, deugsaamheid en welwillendheid. Baert en Morgan (2017:10) wys daarop dat kragtige metafore patos wek, byna soos in 'n hofgeding waarin die intellektueel as aanklaer optree. Logos is dikwels nie net suiwer logika nie, maar 'n kombinasie van logiese en retoriese argumente. Etos word aangehelp deur gravitas en geleerdheid: "learnedness is often seen as a precondition for trustworthiness" (ibid.). In hierdie biografie werk dit op twee vlakke. Louw word deurgaans afgeskilder as intellektueel eerlik, vol wysheid en uitermate begaafd. Die biograaf self beskik egter kennelik ook oor dergelike eienskappe: Die leser kan slegs kyk na die agterblad om daar karakteriserings van Louw én Steyn te lees wat dit bevestig, onder meer dat Louw oor "outydse opregtheid en stoer deugde", "vurigheid en geesdrif", "beginselvastheid", "enorme intellektuele nuuskierigheid" en dergelike beskik het. Die biograaf se werk word bestempel as ʼn "hoogs indrukwekkende uitvoering", as "omvattend en gebalanseerd", as "'n monumentale werk" en "een van die beste biografieë in Afrikaans".

Die kernprobleem wat nie na wense in die skopusteorie behandel kan word nie, is dat die bronteks nie "onttroon" kan word nie. Boonop kan 'n vertaalopdrag die werk van die vertaler belemmer; die vertaler word deur skopusteoretici bykans gesien as 'n onafhanklike teksprodusent. Mutatis mutandis beteken dit dat by die skryf van 'n historiese oorsig of biografie daar ook vorme van beperking is (onder meer geboekstaafde gegewens oor 'n gebeurtenis of persoon). Miskenning daarvan lei tot "ongemagtigde" (en dikwels sensasionele) biografieë. Baie van die metodologiese probleme ten aansien van die skopusteorie kan ook herlei word tot die hermeneutiese proses in die literatuurwetenskap. Het 'n interpreteerder basies vrye spel wat sy realisasie betref? Of word hy aan bande gelê deur die oorspronklike artefak (bronteks), wat gewoonlik in ʼn kontekstuele verband ingebed is: histories en poëtikaal?

Chesterman (2010) se besware teen die Skopusteorie is van 'n veel meer metodologies-logiese aard. Hy (2010:3) bevraagteken byvoorbeeld die siening dat die vertaler se bedoeling voorrang geniet bo dié van die bronteks-outeur. Skopusteoretici gee ook, aldus Chesterman (2010:7), geen aandag aan vertalings wat baie swak is nie. Uiteraard is baie van hierdie bedenkings belangrik by die beoordeling van biografie-opdraggewers (of -belanghebbers), wat biografieë se objektiwiteit in die gedrang kan bring. Dit is ook moontlik om biografieë oor dieselfde persoon in rangorde te plaas.

Chesterman (2010) bring ook 'n ander belangrike aangeleentheid na vore, naamlik die etiese dimensie. Die etiese dimensie word dikwels genegeer by literêre interpretasie. Om 'n teks wat byvoorbeeld deel van 'n reeks of siklus is, buite verband te interpreteer, grens aan die onetiese. Dit is selfs die geval indien die kontekstuele (byvoorbeeld historiese) dimensie van tekste bloot geïgnoreer word. Hier kom die pragmatiese taalhandelingsteorie ter sprake: taaluitings kan nie bloot buite verband geïnterpreteer word nie (vgl. Van Coller & Van Jaarsveld 1984). Verwringing van subjekte se lewens kan ook by biografieë die etiese dimensie in die spel plaas. Chesterman bevraagteken Vermeer (1996:107) se opmerking dat wetenskap waardevry behoort te wees. Chesterman (2010:10) verwys na Rudner (1953), wat reeds daarop gewys het dat wetenskap nóóit waardevry kan wees nie. Vandag is daar min wetenskaplikes wat glo dat wetenskap waardevry kan wees en dat die (subjektiewe) posisie van die waarnemer nie ook 'n rol speel nie. Lojaliteit (Nord 1991) - veral dan aan die bronteks - is duidelik eties van aard. Die skopusteorie moet, aldus Chesterman, meer aandag gee aan die etiese dimensie, veral wanneer etiese oorwegings die agent (vertaler) beïnvloed. Uiteraard is die voorafgaande van die grootste belang by (die beoordeling van) biografieë. Lindenberg (1999) se besware ten opsigte van Steyn se Louw-biografie - veral die weergawe van persoonlike en vertroulike gegewens - maar ook bedenkinge deur verskeie resensente dat Steyn se weergawe van die verhouding tussen Louw en Cussons gebrekkig of onvolledig is, is inderwaarheid besware van etiese aard.

Ook ter sake by Christiane Nord se skopusteorie is haar opvatting dat elke vertaling doelgerig is ('n bepaalde skopus het), wat soms bepaal word deur die opdraggewer. 'n Funksionele vertaling veronderstel dus dat iemand (die opdraggewer of persoon wat dit geïnisieer het) 'n opdrag ("the translation brief") aan 'n vertaler gee, wat doelgerig moet vertaal. Sy lojaliteit lê dus by die opdraggewer, die teikenlesers én die bronteks. Omdat dit die ontvanger is wat uiteindelik bepaal wat die betekenis en kwaliteit van die teks is - wat die "funksie" van die teks vir hom of haar is - spreek dit vanself dat die vertaler (of skrywer van 'n biografie) strategies te werk moet gaan om sy boodskap tuis te bring.

In Van Coller (2019b) is bewyse aangevoer vir die implisiete aanname dat JC Steyn se biografie van Piet Cillié minder suksesvol as sy biografie oor MER is omdat die druk van die opdraggewer veroorsaak het dat Cillié veel positiewer voorgestel word as wat die feite (wat trouens in die biografie self vermeld word) eintlik veroorloof. In die geval van die biografie van NP van Wyk Louw is dit moeilik om op grond van die inligting wat in die boek verstrek word, te bepaal wie die opdraggewer(s) - naas Steyn se ouddosent en latere RAU-kollega FIJ van Rensburg - was. Daar is reeds gesê dat Louw se weduwee, Truida (met wie Van Rensburg noue bande gehad het),7 Steyn as biograaf verkies het. Scholtz (1998) het beweer dat die Louw-gesin deur Steyn "geken is" in die skryf van hierdie biografie, en Peter Louw word in die biografie geïdentifiseer as een van die lesers ("keurders") van die biografie. Na my mening kan Van Rensburg en die Louw-gesin dus saam gesien word as "opdraggewers" in die sin waarin Nord hierdie begrip gebruik. Hierdie aanname vind verdere ondersteuning in die feit dat hulle weergawes van gebeure veral oor die verhouding tussen Louw en Cussons deurgaans aanvaar word (selde met kanttekeninge of toevoegings), selfs dié van Peter Louw en Reinet Louw, wat ten tyde van die verhouding onderskeidelik 'n kleuter en 'n jong kind was.

Op grond van Nord (1997) kan beweer word dat die doel van die vertaling (of biografie) die metodes en strategieë bepaal. 'n Vraag by Steyn se biografie is uiteraard watter vryheid Truida Louw hom gegee het. Dit impliseer nie noodwendig embargo's, taboes en, in Steyn se vroeër aangehaalde woorde, "preventiewe sensuur" nie, maar dit wat hom veral in onderhoude meegedeel is en aan hom beskikbaar gestel is.8 Uit die Louw-biografie is die verhouding met Sheila Cussons enigsins onduidelik: Uit die familie se mededelings word die erns van die verhouding tussen Louw en Cussons onderspeel, maar uit die terloopse - en uiters vreemd bewoorde mededeling van byvoorbeeld PG du Plessis dat Louw sou gesê het dat Cussons "die een vrou was met wie hy sowel die religieuse as die seksuele volledig kon geniet" (615), word ten minste die vermoede gewek dat die gesin se reaksie dalk om eiebelang gaan. Hoewel Steyn ver gaan om objektief van hierdie verhouding verslag te doen, vermeld hy nie werklik die omvang en belang van die digterlike gesprek wat tussen hulle bestaan het nie (kyk Hambidge 2012; 2013). Uit Steyn se beskrywings van Louw se verhouding met Ella Vlok en sy latere verowering van Truida (27, 197 e.v.) blyk dat Louw besonder wilskragtig was wanneer hy 'n vrou wou verower. Dan is daar selfs sprake van 'n mate van irrasionaliteit. Aan die ander kant was daar by hom 'n sekere letargie (indolensie) in bepaalde situasies, veral in sy beloofde beëindiging van die huwelik met Truida. Dit lyk byna asof hy nie kans gesien het om die knoop van egskeiding van Truida deur te hak nie, veral weens die feit dat hy dan - weer eens - gevaar geloop het om sy kinders te verloor.

 

5. WYSIGINGS IN DIE MANUSKRIP

In die manuskrip wat vir "keuring" aan verskeie persone voorgelê is, is enkele belangrike wysigings aangebring. Steyn se manuskrip is vir kommentaar aan verskeie lesers (Danie Botha, Elize Botha, JJ Human, PA Joubert, JC Kannemeyer, Peter Louw, Reinet Kemp, HP van Coller en FIJ van Rensburg) gegee. Om presies te weet wie watter wysigings voorgestel het, is onmoontlik om na te gaan, omdat soveel van die manuskripte vernietig is (of nie beskikbaar is nie). Eintlik is dit irrelevant wie die veranderings voorgestel het, wat wel belangrik is, is dat dit gedoen is. Van die weglatings is waarskynlik op grond van regsadvies gedoen, soos die weglating van 'n brief van Cussons, waarvoor outeursreg waarskynlik nie verkry is nie (633), en 'n moontlik lasterlike bewering (802). Die res hou hoofsaaklik verband met die beeld van Louw self, asook van Truida. Soms is daar weglatings in verband met die verhouding tussen Louw en Cussons. Dit is voorbeelde van strategiese posisionering.

Baie van die weglatings het te make met Louw se aanvanklike simpatie vir die Nasionaal-sosialisme (89) en sy positiewe gevoel jeens die "kollaborateur-digter" Werumeus Buning (614) en sy lof vir Knut Hamsun se Hoe het groeide. Die ander wysigings of weglatings hou almal verband met Louw se beeld: weglating van Louw se positiewe opinie van Orion (184, 259), of Louw se opmerking oor eregrade en dat hy dit nie eendag van UP sal aanvaar nie (372, 377). Voorts wysig Steyn deurgaans "naturel" na "swart man", wat historiese outentisiteit skaad, maar Louw se beeld ten goede kom (383, 425). 'n Belangrike weglating behels ʼn verwyt dat Louw nie sy werk sou gedoen het nie, en Steyn het die hele stuk oor Louw se broer Gladstone en DJ Opperman nou beduidend verander en Gladstone in 'n beter lig gestel (523). Daar is insgelyks ʼn belangrike weglating oor Louw en Cussons (615). Boonop word hier gebruik gemaak van 'n mededeling van Peter Louw 'n uiters onbetroubare bron.

Daar is heelwat weglatings met betrekking tot die verhouding tussen Louw en Cussons (616). Steyn se opmerking dat Louw se kinders waarskynlik 'n sterk oorweging was waarom hy nie geskei en met Cussons vertrek het nie, is waarskynlik korrek. Ook uit ander bronne word bevestig dat hulle dikwels woorde gehad het, omdat hy sy beloftes teenoor haar verbreek het.

'n Negatiewe stuk oor Cussons word sonder bronverwysing gegee (bo aan 617). Ook word geen verdere besonderhede gegee oor die gedig "portret van Sheila" nie. Steyn verlaat hom dan weer op Peter Louw se herinneringe, wat waarskynlik deur sy ma aan hom meegedeel is! "Harde woorde het soms tussen Wyk en Sheila geval: 'teef'; bittere verwyte is gemaak; hartseer verduur. Die mooi woorde van die verlede het alleen herinneringe geword. Daar is veel wat eindeloos droewig was in die hele verhouding wat met soveel liefde en hartstog begin het" (617). Hoewel hierdie opmerkings met 'n gedigaanhaling "gestaaf" word, word geen bron hier gegee nie, wat die vermoede wek dat dit (via Peter Louw) van Truida afkomstig is en so die betroubaarheid daarvan relativeer. Sheila antwoord dan, in die weergawe van Botha (1999), ook met stelligheid hierop - as kommentaar op Steyn se Louw-biografie - ook oor Steyn se suggestie dat Louw Cussons help onderhou het (613) en dat Truida haar werk gegee het om haar finansieel te ondersteun ("Een van die ironieë [] was dat Sheila - wat na die egskeiding van Stoffel Nienaber - by Truida om 'n verdienste moes gaan aanklop", 613). Botha skryf die volgende:

Sheila Cussons was nooit afhanklik van Van Wyk Louw nie. Sy was selfonderhoudend met 'n verdienste uit radio- en vertaalwerk. Haar omroeperspos by die kunsprogram van Wêreldomroep is deur Nel van der Merwe, die hoof van die Afrikaanse programdiens, aan haar aangebied. Sy en Van der Merwe was tot met sy dood in 1987 bevriend [] Truida Louw was met Vrouerubriek gemoeid en soms het Cussons wel bydraes tot dié program gemaak. Hoewel Louw en Cussons soms heftig geargumenteer het en seer dinge soms gesê is (meestal rondom sy beloftes aan haar), ontken Cussons dit ten sterkste dat Louw ooit onhoflik, grof of beledigend teenoor haar was, "Ons het nooit mekaar se wesenstrekke aangeval nie - die verhouding was nie op daardie vlak nie". Die woord "teef" is beslis nooit tussen hulle laat val nie, sê Cussons. (Botha 1999:1)

Voorts word die analise van die gedig "jy't weggegaan en jy't bewoon" in die manuskrip gewysig. Die interpretasie in die oorspronklike manuskrip het later (nadat die Louw-familie die teks onder oë gehad het) ʼn heel ander strekking gekry (829), naamlik dat Truida, eerder as Sheila, die aangesprokene in Louw se gedig is (vgl. ook Hambidge 2013).9

 

6. DIE BIOGRAFIE AS ROMAN

In resensies word gewag gemaak van die feit dat Steyn onderhoudend skryf. Sy boek toon inderdaad baie trekke van 'n rasegte roman: daar is hoofkarakters, soos Louw self, Joan, Truida, Sheila en in mindere mate Greshoff (veral in Deel 1) en Opperman, wat almal verweef is in ingewikkelde onderlinge verhoudinge. Wanneer Greimas se bekende aktansiële model (Greimas 1966; kyk ook Van Luxemburg, et al. 1981:161-163) hierop van toepassing gemaak word, blyk die potensiaal vir spanning en onderlinge botsings reeds, omdat soveel van die "aktante" dieselfde doel nastrewe: Joan, Truida en Sheila 'n betekenisvolle en durende verhouding met Van Wyk Louw; Louw en Opperman roem as skeppende skrywers (veral as digters); Greshoff en NP van Wyk Louw 'n etiese lewe waarin persoonlike etiek en poëtikale doelwitte intiem verweef is.

Steyn maak ook van ander narratiewe tegnieke gebruik wat tipies is van 'n roman, maar nie so dikwels in niefiksie (en veral geskiedskrywing) voorkom nie. Karakterisering geskied nie net deur blokkarakterisering nie, byvoorbeeld: "Joan was 'n mooi, klein, donker vrou " (86); Truida was "'jonk en mooi', 'n sjarmante, uiters aantreklike vrou " (193); "Sheila Cussons - intelligent, belese, kunssinnig en daarby baie mooi " (458); dikwels geskied karakterisering ook deur handeling en, veral in die geval van Louw, Opperman, Greshoff en Truida, selfs deur innerlike monoloog (meestal deur dagboekinskrywings en briewe). Boonop bevat Steyn se narratief talle prospeksies (en retrospeksies), wat binding bewerkstellig en spanning wek, en soms wyk hy van die chronologie af. Deurdat hy ruimskoots gebruik maak van literêre sitate, aanhalings uit resensies, artikels, mededelings, onderhoude, briewe, en dergelike, wen sy werk ook aan meerstemmigheid en word die vertelafstand dikwels daardeur drasties ingekort, wat lesersbetrokkenheid verhoog.

Wanneer na die voorstelling, posisionering of beeldvorming (kyk Dera 2012:463) van die hoofkarakters gekyk word, blyk dit dat Steyn se voorstelling van Louw skynbaar objektief is, omdat hy hom met gebreke en al aan die leser bekendstel: deur aanhalings wat skerpsinnige, intellektuele kragtoere is, deur sitering van aangrypende poësie, maar ook deur die weergawe van hartstogtelike briewe wat dikwels emosioneel is en selfs na irrasionaliteit neig; trouens, sy liefdesbriewe (198 e.v.) herinner die leser by tye met ongemak aan die ewe hartstogtelike (en selfs kinderagtig-sentimentele) briewe van André P Brink aan Ingrid Jonker (kyk Galloway 2016). Tog blyk uit alles dat Steyn Louw bewonder (Lindenberg 1999) en 'n mens ontkom nie aan die gevoel dat van Louw se "indiskresies" ietwat versag word nie: sy aanvanklike simpatie met die Nasionaal-sosialisme, sy antisemitiese simpatieë (kyk Marais 1999), die volle omvang van sy selfsugtige optrede teenoor Joan en Truida (én Sheila). Dit is dus tog enigsins 'n gemanipuleerde postuur wat so geskep word (Baert & Morgan 2017:10; Dera 2012:463; Meizoz 2010:84). Daar word ook voortdurend gefokus op die "uitsonderlike", veral dan uitsonderlike gebeurtenisse (Heinich 2009) wat die postuur van Louw as uitsonderlike denker en digter stu.

Steyn se bewondering vir spaarsamige mense, mense wat wars is van oneerlikheid en wanbestuur (81), sy siening van sensuur (967), sy opinie oor taalregte en sy bewondering vir Verwoerd (979) is voorbeelde van wat Heynders (2017:37) 'n "heavily loaded rhetorical passage" noem - teksgedeeltes waar 'n skrywer (hier ʼn biograaf) die rol aanneem van 'n openbare intellektueel.

 

7. BEELD VAN LOUW

Die inleidende bladsye is belangrik ter vestiging van Louw as "van wêreldformaat", iemand "na wie internasionaal bekende geleerdes met aandag geluister het". Voorts is hy "moeilik, teruggetrokke en trots". Steyn het duidelik 'n neiging om familietrekke en genetiese konstantes te onderskei, soos sy "skrander oupa" (6) en sy "stugge trots" (26) wat grens aan arrogansie; Louw word beskryf as 'n emosionele, hartstogtelike én jaloerse persoon (27), maar ook as enigsins irrasioneel (61) en naïef (90). Steyn skryf ook baie verskonend oor Louw se irrasionaliteit, emosionaliteit en selfs wantrouigheid ("tipies verliefde ") (321).

Louw het 'n baie sterk seksuele drang, waaroor Steyn min direk sê (90), en hy is eerlik en vol integriteit (182). Tog blyk dit uit die aangehaalde brief (56, 57) dat Louw ook chauvinisties was. Voorts blyk dit dat die gebroeders Louw kritici wat negatief teenoor hulle werk gestaan het, verag en positiewes bejubel het (137). Onder eersgenoemde tel EC Pienaar, FEJ Malherbe en FCL Bosman en onder laasgenoemde G Dekker en HA Mulder. Waarom niks sê oor Van Wyk Louw se (ten minste volgens heersende opvattings enigsins gedateerde en selfs foutiewe) siening van die herkoms van Afrikaans nie (289)? Dalk het Steyn gelyk oor die redes vir Louw se uitbarsting, maar dit bly steeds 'n lang verdediging van pro-Duitse sentimente (300).

Opmerkinge soos dat Louw 'n uitstekende vader (301) was en dat hy deernis met almal (305) gehad het, bevat waarskynlik waarheid, maar hou nie steek wanneer ander feite in ag geneem word nie, soos Louw se selfsugtigheid tydens beide sy buite-egtelike verhoudings en sy onvermoë om mense (soos Greshoff) te vergewe vir misstappe. Louw was 'n trotse nasionalis wat Smuts verag het en teen die deelname aan die Tweede Wêreldoorlog gekant was, maar was desondanks trots op sy oorlogsuniform (351) en het geesdriftig aan skietoefeninge deelgeneem, 'n feit wat Steyn dwing tot uitgebreide verduidelikings (en versagting) van Louw se optrede (352). 'n Ander kwessie wat in die lug bly hang, is die vraag of Louw dalk ook aan die Kees Konyn-stukke (359) help skryf (of vertaal) het en of dit met Greshoff se vertrek beëindig is. Soms is Steyn uiters verskonend - deur lang verduidelikings - oor Louw se alleenheid, asof die aandagsoekende Sheila ("met 'n sterk behoefte aan aandag en liefde" - 577), die blaam moet dra vir die verhouding. Ook word verskonings aangebied vir Louw se norsheid (582), terwyl Greshoff Louw beskuldig van "matelose egoïsme" (595). Uit beskrywings (688 en 695) blyk helaas dat Louw inderdaad selfgerig was. Steyn betwyfel Greshoff se weergawe van Louw se skellery, maar aanvaar daarteenoor byna elke mededeling van Truida (627, 628).

Soms word vleiende beskrywings van Louw gegee, byvoorbeeld oor sy kennis van Grieks ("Grieks so goed geken het " - 649), maar sonder enige bronverwysing. Daar word goedkeurend geskryf oor Louw se onafhanklike denke (omdat hy die Steiner-skool vir sy kinders verkies het), maar inderwaarheid is dit eerder 'n voorbeeld van eiesinnigheid, omdat hy later moes terugkrabbel en die kinders daar uithaal (724, 725). Louw se buierigheid en onredelikheid (827, 902 en 999) word duidelik deur Steyn aan die orde gestel. Louw spot ook met een van sy aartsvyande, FCL Bosman, omdat hy Bartho Smit se Putsonderwater wou bekroon (916, eindnoot 86). Louw was baie negatief oor hierdie drama, wat vandag allerweë gesien word as een van die beste Afrikaanse dramas (962). Uit 'n beskrywing blyk dat Louw homoseksuele partytjies by implikasie afkeur, omdat hy dit in dieselfde asem noem as moord en bedrog (1044).

Die belangrikste kenmerke van die postuur van Louw wat Steyn skep, is sy intellektuele eerlikheid en onverskrokkenheid; en sy geesdriftige saamleef met aktuele gebeure - veral wat betref kulturele en politieke kwessies. Dit is in wese in dramatiese terme bykans 'n voorstelling of "opvoering". Louw word geteken as iemand met 'n sekere outoriteit "[a]nd this position gives him [] a window to vent his opinions on issues other than literature" (Honings 2017:54). Heynders (2016:3; 12-15) voer aan dat die openbare intellektueel 'n sekere afsydigheid bewaar, maar dikwels omstrede uitlatings maak van morele, politieke en ideologiese aard. Dit geskied deur verskeie kommunikatiewe kanale, soos lesings, artikels en briewe aan die pers. Louw se optrede stempel hom as 'n sprekende voorbeeld van hierdie soort intellektueel.

7.1 Nasionaal-sosialisme en antisemitisme

Steyn se behandeling van Louw se simpatie met die Nasionaal-sosialisme en sy gepaardgaande antisemitisme word deur enkele kommentators gekritiseer (onder andere Marais 1999 en Olivier 1992). Voorbeelde van dergelike oortuigings kan gesien word op verskeie plekke in die biografie (o.m. 114, 126, 129, 266-267).

Die vraag wat na aanleiding van Louw se optrede - met sy uitermate sterk verdediging van Nazi-Duitsland in Julie 1940 - by die leser sou kon opkom, is of Steyn deur sy lang verskonende verduideliking nie Louw te veel in verdediging neem nie (300).

 

8. JOAN WESSELS

Joan Wessels, Louw se eerste vrou, word aanvanklik positief beskryf as klein, donker en mooi (86), maar haar akademiese opleiding en presiese werk word ietwat versluier (87). Sy is moederlik en huislik en 'n goeie huisvrou, ma en lojale eggenote wat Louw help "met sy nasionale bedrywighede" (175). Sy het Truida gaan besoek toe sy in haar kamer in die Mount Nelson-hotel siek gelê het en haar selfs laat aansterk by haar en Louw se huis (197). Wel lyk dit asof haar optrede ná die egskeiding (waarskynlik omdat sy gehoop het op versoening, 215) en omdat 'n huisvriendin haar man afgerokkel het, vol wrewel en selfs kleinlik-moedswillig was (230 e.v.). Sy het byvoorbeeld voortdurend Louw se pogings om sy dogters te sien (233, 301, 316, 337, 365) gedwarsboom en, so word gesuggereer, Louw selfs deur 'n privaat speurder laat dophou. Dit was waarskynlik ook die rede waarom Louw en Truida voor hulle huwelik, ten spyte van 'n seksuele verhouding, apart gewoon het. Romanmatig is dit jammer (hoewel begryplik) dat sy in Deel 2 totaal uit die prentjie verdwyn. Van haar verdere lewe (en verhoudings, vriendskappe of aktiwiteite) word bykans niks gerep nie (kyk 853, 869). Sy bly 'n "plat karakter" wat eers tydens die Louws se Johannesburg-verblyf weer figureer wanneer haar dogters trou of siek is en sy self sterf (870, 881, 926, 953, 985, 1132).

 

9. TWEE ANTAGONISTE: TRUIDA LOUW EN SHEILA CUSSONS

Die twee groot antagoniste of "mededingers" om Louw se guns is eintlik Truida en Sheila, omdat die huwelik met Joan summier beëindig is en sy derhalwe nooit eintlik in die posisie geplaas is om "mee te ding" om sy liefde nie. Op 'n bykans bisarre wyse eggo die verhouding Louw-Joan-Truida en die latere verhouding Louw-Truida-Sheila mekaar.

In beide gevalle is daar sprake van Louw se toegeneentheid tot (en owerspel met) 'n jonger, intelligente, aantreklike vrou op 'n besonder jaloerse en hartstogtelike wyse. In albei gevalle is daar twee jong kinders wat uit die onderskeie huwelike gebore is, ter sprake; twee mans (onderskeidelik Fred le Roux en Stoffel Nienaber) met wie die minnaresse getroud is en op ongevoelige wyse sonder meer uit die prentjie verwyder word. Daar word byvoorbeeld uitvoerig vertel (in Truida se woorde) van die "verskriklike toneel" in haar kantoortjie toe Fred maar druipstert die aftog moes blaas (200). Sy het geen woord gesê nie, selfs nie toe Fred haar mening gevra het nie: "ek was te lafhartig, ek was te bang vir Wyk"(!). In die geval van Stoffel Nienaber het Louw "daarop aangedring dat Sheila vir Nienaber ná sy terugkeer uit Suid-Afrika moet vertel dat hulle op mekaar verlief is en dat sy hom wil verlaat. Hy sou Truida daarna inlig dat hy haar sou verlaat" (Botha 1999:1). Van laasgenoemde onderneming het niks gekom nie. In beide gevalle berus die aantrekkingskrag tussen Louw en sy minnaresse - anders as in die geval van Joan - op seksuele én intellektuele aantrekking.

Truida Pohl kom in beide verhoudings uit die verf as 'n bykans blaamlose engel, het ek in my aangehaalde resensie beweer. Haar intelligensie en skoonheid word dikwels genoem, maar haar formele naskoolse opleiding bly 'n oop plek binne resepsie-estetiese terme. Sy word tydens die verhouding met Louw afgeskilder as 'n jong, onskuldige vrou wat net nie bestand is teen die hartstogtelike hofmakery van die ouer Louw nie, dit ten spyte van die feit dat sy vir daardie tyd gesofistikeerd en geëmansipeerd was, gerook het, jonk getrou het en met liberale mense gemeng het. Die feit dat sy 'n huisvriendin was en Louw agter die rug van sy vrou die hof gemaak het, word wel gerep, en so ook die duidelike vroeëre aantrekking tussen die twee - volgens Steyn (189) reeds in 1936. Steyn sê heel versigtig: "[e]n tog kry 'n mens sterk die indruk dat sy teen hierdie tyd (Augustus 1937) nie meer neutraal teenoor Louw gestaan het nie, selfs al 'n bietjie verlief begin raak het" (191). Ook van 'n vroeë seksuele verhouding word min vertel en die leser moet maar tussen die reëls lees.

In die tweede geval is sy die veronregte, en nou herhaal baie aspekte van die eerste huweliksverbrokkeling hulle: daar is gou 'n vonk tussen Louw en Cussons; laasgenoemde is ook 'n bekende in die huishouding en ook sy is hartstogtelik oor die kunste en letterkunde, en boonop is sy seksueel begeerlik. Truida se eie "indiskresies" (verhoudings) word verhuld voorgestel (dikwels as "vriendskap") en die verhouding met P du P Grobler10 word selfs nie eens genoem nie. Steyn laat hom duidelik lei deur Truida se weergawe van sake, asook dié van Peter (toe 'n kleuter) en Reinet (nog 'n laerskoolkind). Lindenberg (1999) spreek, soos reeds gesê, kwaai kritiek hierop uit. Dit lyk asof, in vertalingsteoretiese terme, die "opdraggewers" (Van Rensburg en Truida) se voorskrifte hier gevolg word: die verhouding met Sheila is 'n blote flirtasie en die groot liefde ("die stiltes tussen riet") in sy lewe is Truida.

9.1 Beeld van Truida

Uit die biografie blyk duidelik dat Louw al in ʼn vroeë stadium sterk aangetrokke tot Truida was (116) en dat sy teenwoordig was toe WEG Louw se debuutbundel bekendgestel is (120). Desondanks word hulle verhouding as "vriendskap" bestempel (118) en word Truida as bykans blaamloos voorgestel (191), terwyl selfs haar goeie vriendin, Joan, salig onbewus was van die ware toedrag van sake (188). Hierdie voorstelling van Truida is enigsins gemanipuleerd (193 en 196) en die seksuele aard van die verhouding met Louw hang in die lug (200). Boonop bely Truida haar blywende liefde vir Fred (231), maar skei dan tog van hom om met Louw te trou!

Die verhouding tussen Fred en die latere egpaar Wyk en Truida Louw is inderwaarheid uiters vreemd: sy behou 'n vriendskap met haar vorige man (en hy en sy latere vrou) bly huisvriende van die Louws. Die leser wonder onwillekeurig of daar 'n suggestie is dat Fred enigsins homoseksueel georiënteerd was (362). Steyn vermeld (117) dat Le Roux en WEG Louw "groot vriende" was en "gedurig" by die Van Wyk Louws of Neethlings was. (In eindnoot 13 op bladsy 538 word ook verwys na hulle vakansies saam.)11

Veel later in die biografie kom die woord "vriendskap" weer voor. Truida en Veerman se verhouding word ook as "vriendskap" bestempel (414). Met hom het sy weer "teerheid en menslikheid" ervaar (613, 614). Ook die (kortstondige) verhouding tussen haar en P du P Grobler (615) word "vriendskap" genoem. Verder word daar eweneens taamlik vaag, selfs vreemd, oor Hans Knap geskryf (872).

Op verskeie plekke vertel Steyn op oortuigende wyse (mét bewyse) van Truida se latere onverskilligheid en selfs onwilligheid om haar weer met Louw te versoen en na Suid-Afrika terug te keer. Desondanks blyk dit dat sy diep gekrenk was oor Louw se opname in Tristia (802) van verskeie gedigte wat oor Sheila handel.

9.1.1 Tristia: Truida en Sheila

Truida doen moeite om die gedig "jy het weggegaan ", wat volgens Steyn "hardnekkig" deur kritici gesien word as opgedra aan Sheila, "op te eis" as handelende oor haar. Steyn aanvaar haar verklaring hieroor, maar Hambidge (2013:13, deur haar gedig in Lykdigte oor Louw en Cussons) en Cussons self verwerp dit. In Cussons se woorde, soos weergegee deur Botha (1999:2): "Louw het drie gedigte aan Sheila gegee waarin 'afskeid' 'n tema is. Die eerste was 'Jy't weggegaan en jy bewoon 'n silwer herberg in die sneeu' [] 'Groot Ode' [] en 'Groet in bruin'." Sheila se eie afskeidsverse aan Louw is geskryf tydens hulle verhouding, maar "is vir die eerste keer in die versamelbundel Omtoorvuur opgeneem onder die opskrif 'Twee verse'" (Botha 1999:2). "Die eerste Louw-gedig wat betrekking het op die verhouding met Cussons is 'Mei-fees in Amsterdam' waar die herhalende reël 'my fees is Een April' betrekking het op die datum waarop hulle 'mekaar ontdek het'. Dit was op 1 April 1950, hoewel die gedig op 1 Mei geskryf is en aan Sheila deurgegee is as 'ons feesgedig'" (Botha 1999:2). Botha vertel ook hier dat Louw en Cussons baie ure gevul het met die lees van gedigte, veral van Yeats, hulle gunstelingdigter. "Sheila se geskenk-eksemplaar van Yeats se versamelde werk dra 'n inskripsie van Louw wat afsluit met die ewigheidsteken, die 'simbool van ewigdurende liefde'" (ibid.). Hulle het ook saam gesit en gedigte skryf. 'n Afdruk van ʼn Rembrandt-ets wat in Sheila se kamer gehang het, was die aanleiding tot hulle eerste "onderwerp"; Louw se gedig is later in Tristia opgeneem as "Ets: Selfportret van Rembrandt met die hoed op". Ander voorbeelde is "Salome dans", "Digter" en "Landreën" (Botha 1999:2).

Steyn onderspeel tog enigsins die ernstige aard van Louw en Sheila se verhouding en sy weergawe van die ver-strekkende digterlike gesprek tussen hulle - waaroor Hambidge meer skryf en waarna Hugo (2001) ook verwys - gaan straks nie ver genoeg nie. Steyn haal wel vir FIJ van Rensburg aan wat wys op die gesprek tussen Louw en Cussons. Hy sê dat 'n mens die indruk kry dat "die grootste gedeelte van Cussons se werk (dit sluit daardie gedeelte van Plektrum in wat in Nederland geskryf is) gelyktydig ontstaan het, in gesprek met mekaar, maar dat Cussons eers later gepubliseer het" (655, 656). Cussons se debuutbundel was ook, aldus Botha, in die vyftigerjare gereed vir publikasie, iets wat Louw sterk aanbeveel het. DJ Opperman, Cussons se lewenslange mentor, het haar sterk afgeraai om so gou te debuteer en aan haar voorgestel om eers "die ryk baaierd van die Europese ervaring te verwerk" (Botha 1999:1), iets waaroor sy hom later baie kwalik neem omdat hy haar sou teruggehou het (Smith 2002:4; kyk Botha 2002:4 en ook Kannemeyer 2002). Kannemeyer weerlê die bewerings dat Opperman Cussons sou teruggehou het: "Opperman het [] van die begin af groot geloof in Cussons se digterskap gehad, maar hy wou, ter wille van haarself én die Afrikaanse letterkunde verhoed dat sy in 'n te vroeë stadium debuteer" (Kannemeyer 2002:4).

Dit is onduidelik wie van Louw of Opperman gelyk gehad het. Uit terloopse opmerkings van kritici (o.a. Botha 2006) lyk dit asof daar groot ooreenkomste bestaan tussen die debuutbundel Plektrum (1970) en die aanvanklike manuskrip, Dekade 1943-1953, wat deur Johann de Lange "ontdek" is (De Lange 2006). In hierdie bundel "ontdek ons 'n heel ander aspek van Cussons se digterskap - 'n politieke stem wat nou byna profeties uit die verlede spreek en ook 'n ontdekking van spirituele verse wat diep in die Katolisisme gewortel is, gevoed deur haar studie van teoloë soos Karl Reiner. Dit bring ook, volgens [Petra] Müller, die voortgaande gesprek tussen Louw en Cussons weer op die voorgrond en die gevoel dat sy ook antwoord op Louw se verse in sy laaste bundel, Tristia" (Botha 2006:9). In die manuskrip wat ek ter hand gehad het, het ek niks van kritiek teen apartheid gemerk nie. Botha meld ook dat Cussons die bundel Plektrum "saamgestel [het] uit gedigte wat betrekking gehad het op haar verhouding met Van Wyk Louw, haar verblyf in Amsterdam en haar vestiging in Barcelona". In Botha (1999:1) gee sy die titels van drie van die gedigte wat Cussons aan Louw voorgelees het voor die publikasie van Plektrum - dus in 1949!: "Twee winterakwarelle van Amsterdam", "Laat engel" en "Chanson Triste". Hierdie drie gedigte maak egter nie deel uit van die manuskrip van Dekade: 1943-1953 wat ek onder oë gehad het nie. Die gedigte in hierdie manuskrip is dikwels swak en is beslis nie op die peil van die debuutwerk nie. Selfs 'n oppervlakkige lees bring dit aan die lig. Elders skryf Botha (2002): "[i]n 1949 stuur sy aan Opperman 'n aantal gedigte wat die kern van haar latere debuut, Plektrum, sou uitmaak." In dieselfde stuk beweer Botha dat Cussons se "debuutmanuskrip, wat eers in 1970 verskyn het" reeds in 1951 voltooi is. Volgens my vlugtige ondersoek bestaan daar, soos gesê, bitter min ooreenkomste tussen Dekade: 1943-1953 en Plektrum. Net 'n deeglike ondersoek wat buite die bestek van hierdie studie val, sou hierdie vraag werklik bevredigend kon beantwoord. Publikasie kon 'n latere sterk debuut geskaad het indien van die verse nog onaf was; vroeëre publikasie kon haar egter nie net baie vroeër gevestig het nie, maar ook die gesprek tussen haar en Louw duideliker gemaak het. Dit wil voorkom asof Opperman in hierdie geval gelyk gehad het. Steyn suggereer ook dat Cussons se weergawe van 'n gedig wat sy aan Louw "gegee" het, dalk nie korrek is nie. Cussons self vertel in besonderhede hieroor (Botha 1999:2) en sê dat Louw ook 'n tweede versreël ("die bok met die heuningoog") by haar wou hê. Sy het egter geweier, omdat sy dit self wou gebruik. Sy het dit later inderdaad in haar gedig "Antieke landskap" - "kletter die bok met die heuningoog" - (in Plektrum) gebruik. Weer eens is nie sonder twyfel uit te maak wie gelyk het nie: Quid est veritas? (Wat is waarheid?) het Pilatus reeds gevra.

9.2 Beeld van Sheila

Die postuur van Sheila Cussons in hierdie biografie neig na die negatiewe kant; sy is weliswaar intelligent en aantreklik, maar aandagsoekerig en enigsins selfsugtig, en die verhouding met Louw word beskryf as 'n flirtasie wat gou sy bekoring vir Louw verloor het. Tog kan die meeste "bewysplase" teruggevoer word na Truida Louw se weergawes (soms meegedeel aan Reinet en veral Peter) en daarom is dit, soos reeds uit die uiteensetting hier bo blyk, onbetroubaar of ten minste nie objektief verifieerbaar nie. Op verskeie plekke word inligting weergegee wat Sheila in ʼn negatiewe lig stel, byvoorbeeld: "Dis onduidelik hoe 'n mens die inligting van Cussons moet interpreteer in die lig van wat Louw later self oor die versie geopper het" (611) en "[Louw het] haar [Sheila] vermoedelik help onderhou" (613). Daar is ook ʼn taamlik negatiewe stuk oor Cussons, met heelwat bespiegelings deur die biograaf, dat die houding van Louw se vriende "Louw seker ook [sou] gehinder het, hoewel die gedagte aan hulle hom sekerlik nie sou keer as hy Sheila werklik wou gehad het nie" (616). Volgens eindnoot 11 (617) berus die hele weergawe van Louw se gevoelens oor Cussons op biografiese aantekeninge van Peter, wat toe 'n kleuter was, maar uit "sê my ma", "[m]y ma vertel", en so meer kan afgelei word dat dit berus op Truida se (duidelik onbetroubare, subjektiewe) weergawe van gebeure.

Op verskeie plekke word Sheila net skramsweg genoem (699, 704), wat die indruk wek dat die verhouding tussen haar en Louw kwalik nog bestaan het: ("om Ria te plesier", 715 en 717, 718). Later word daar pertinent gesê dat die verhouding tussen Louw en Sheila nie meer sterk was nie en dan volg die vreemde opmerking: "Godsdiens was waarskynlik een van die temas van gesprekke met Sheila" (737). Dit is 'n vreemde opmerking in die lig van verskeie bewyse in hierdie verband. Ten spyte van al hierdie opmerkings blyk dit dat Sheila steeds só deel van Louw se lewe was dat sy Reinet bly aanmoedig het oor haar tekeninge (748), Louw en Sheila steeds vir mekaar skryf (755), steeds ʼn verhouding het (771) en selfs ná die beëindiging van die verhouding wil hy Tristia aan haar opdra. 'n Ander, belangrike mededeling wat die verhouding tussen Sheila en Louw direk raak (naamlik dat Sheila bleek geword het toe sy die interaksie tussen Louw en Truida sien), word deur Reinet Louw gemaak (740). Ten tyde van die voorval was sy nog maar 'n kind, wie se weergawe dus bevraagteken sou kon word. Ook ʼn mededeling deur Truida self word deur geen bron gestaaf nie en is dus afkomstig van haarself (750).

Steyn beskryf 'n groot botsing tussen Louw en Truida oor die opname van verskeie gedigte oor Sheila in Tristia (936). Dit is duidelik dat Truida erg ontsteld was oor die feit dat Sheila uit die verf gekom het as Louw se groot liefde, maar sy is maar net die "ou miesies" met wie hy getroud is (936). Sy laat dit blyk dat sy aan hom sou gesê het hy moet sommer die bundel aan Sheila opdra sodat die wêreld kan weet "hoe sake staan" (937), en dit lyk asof dit wel sy bedoeling was. Oplaas het hy nie en dit aan Reinet en Peter opgedra. Let wel: ook nie aan Truida nie, omdat dit waarskynlik verraad sou wees teenoor Sheila, want Tristia is sonder twyfel 'n bundel oor Sheila en dit wat haar geboei het. Hambidge (2013) het waarskynlik Steyn se Louw-biografie gelees en interpreteer steeds die gedig "jy het weggegaan " as verwysende na Sheila. Die leser worstel dan met die vraag of Truida noodwendig korrek sou wees in haar weergawe.

Sheila het haar medewerking aan Steyn se biografie geweier; volgens Hambidge om poëtiese redes: "Cussons was voortdurend in haar lewe bewus van die feit dat sy altyd as 'n student (en selfs naskrywer) van Louw gesien is. Vermoedelik wou sy om hierdie rede nie deelneem aan JC Steyn se biografie oor Louw nie" (Hambidge 2013:5). Le Roux (1988) sê in hierdie verband aan Cussons: "Jy is beskuldig dat daar te veel van Van Wyk Louw in jou poësie is." Waarop sy driftig antwoord: "Dis sommer tripe! Ons het goed vir mekaar gelees, maar ek was nooit 'n epigoon of navolger van hom nie. Die uitruiling van idees, die wisselwerking tussen ons was vir ons, was vir ons albei skeppend belangrik. Omdat ek die liefdesverhouding met Van Wyk Louw gehad het en ek soveel jonger was, het hulle gemeen dat dit vanselfsprekend moes wees dat ek deur hom beïnvloed sou word, en dit was nie so nie." Dit is ook interessant dat sy in hierdie onderhoud (nes Louw) sê dat sommige van haar gedigte "sommer byna in die geheel aan my ingegee" is.

Volgens Cussons self wou sy egter nie op Steyn se vrae [oor haar verhouding met Louw] antwoord nie "omdat sy nie haar liefdesverhouding en verbintenis met Louw wou bespreek nie" (Botha 1999:1). Hiermee het sy "Wyk gerespekteer om nooit iets wat vir ons waarde gehad het, te verloën nie". Cussons ontken ook kategories dat dit maar net 'n verbygaande "affairetjie" [sic] was, omdat dit inderwaarheid 'n betekenisvolle en "groot" liefde was. Bewyse daarvoor kan gevind word in hul briewe aan mekaar en ook die neerslag daarvan in albei se werk. "Dit was in wese 'n skeppende, intellektuele en geestelike assosiasie" (Botha 1999:1).

Amanda Botha (2013) skryf oor die ontdekking in Amsterdam van 'n klomp los blaaie wat Cussons gemaak het. Die notas is aantekeninge van gesprekke tussen Cussons en Louw. Hierdie aantekeninge gee blyke van "'heerlike woordgesprekke' - tussen die jong Cussons en die middeljarige Louw. Louw sou haar sy 'boksmaat' noem12 [] In hoofsaak is die temas die dig- en skilderkuns, 'n verkenning van gedagtes oor die godheid - as skeppingsbron - oor die liefde en oor apartheid" en oor die skoonheid. Uit baie aanhalings blyk Cussons se drang na mistieke eenwording met God: "[a]an geen ding wil ek my oorgee nie, slegs aan die Een wat ek sou erken". Scholtz (1983) verwys na Hennie Rossouw se onderskeid tussen die numineuse en die mistieke ervaring van God. Eersgenoemde is die ervaring van God as die Gans Andere, die Heilige en Transendente; die mistieke ervaring, daarteenoor, is "die eenwording met 'n grotere geheel, die opstaan [opgaan?] in 'n allesomvattende en allesinsluitende verband". Dit is 'n vorm van selfverlies en terselfdertyd "die ekstatiese stroping van die individualiteit". Hugo (1982) sê dat Cussons se gedigte in sekere sin aansluit "by die rigting wat N.P. van Wyk Louw in Tristia aangedui het".

 

10. GEVOLGTREKKING EN SLOT

JC Steyn se lewensbeskrywing van NP van Wyk Louw is moontlik die beste van sy drie gepubliseerde biografieë. Dié oor MER is ook 'n merkwaardige prestasie, veral wat betref die kontekstuele plasing. Tog bied Louw se lewe (en sy intellektueel uitdagende werk) 'n groter uitdaging aan 'n biograaf. Dit is kwalik moontlik om sy lewe in isolasie van die woelige politieke tye van die twintigste eeu te beskryf, veral omdat hy intiem betrokke was by die Afrikaanse geesteslewe en as die "professionele" intellektueel (Baert 2016:163-181; Baert & Morgan 2017:2) wel oor allerlei sake in die openbaar kommentaar lewer, maar dan op grond van verworwe kennis. Hierdie biografie is verbluffend volledig en getuig van uitgebreide navorsing. Dit is sonder twyfel een van die heel beste biografieë in Afrikaans.

Tog het dit ook geblyk dat Steyn se voorstelling van veral Louw, Truida en Cussons nie belangeloos geskied het nie en dat, hoewel Steyn se eie voor- en afkeure daarin 'n rol kon speel, die voorstellings eintlik geskied op grond van die voor- en afkeure van die opdraggewers. 'n Biograaf het wel ook belang by 'n bepaalde voorstelling - wat dikwels 'n selfvoorstelling raak (Bouwmeester, Geerdink & Ham 2015:227). By Louw is daar inderdaad, nes by Steyn, ook 'n spanning tussen die noodsaak om as begenadigde en profetiese enkeling die "hoër en kouer paaie" in afsondering te bewandel, maar terselfdertyd namens 'n bepaalde volksgroep op te tree, die spanning tussen die individuele en die kollektiewe, wat volgens Baert en Booth (2012) inherent is aan baie openbare intellektuele.

In hierdie bespreking is aangetoon dat selfs hierdie uiters wetenskaplike biografie (gerugsteun deur onderhoude, briewe, aangehaalde besprekings en ander bronne) nooit volkome objektief is of kan wees nie. Die skryf van geskiedenis is 'n hermeneutiese onderneming en as sodanig subjektief. As 'n vorm van vertaling is dit boonop nie net lojaal aan die bronteks (die geboekstaafde feite oor die biografiese subjek en teikenlesers nie); dit is ook lojaal aan die opdraggewer(s) en sal daarom byna noodgedwonge ook hulle visie en waardes reflekteer.

 

BIBLIOGRAFIE

Baert, Patrick. 2016. The philosopher as public intellectual. In Desch, M. (ed.). 2016. Public intellectuals in the global arena: Professors or pundits. Indiana: University of Notre Dame Press, pp. 163-181.         [ Links ]

Baert, Patrick & Booth, Josh. 2012. Tensions within the public intellectual: Political interventions from Dreyfuss to the new social media. International Journal of Politics, Culture, and Society, 25(4):111-126.         [ Links ]

Baert, Patrick & Morgan, Marcus. 2017. A performative framework for the study of intellectuals. European Journal of Social Theory, 1-18.         [ Links ]

Botha, Amanda. 1999. Sheila Cussons antwoord. Boekesessie. Insig, Januarie: 11.         [ Links ]

Botha, Amanda. 2002. Cussons wel "teruggehou". Die Burger, 17 Augustus: 4.         [ Links ]

Botha, Amanda. 2006. 'n Skatkis vol Cussons. Die Burger, 9 September: 9.         [ Links ]

Botha, Amanda. 2006. "Verlore" Cussons-verse ontdek. Insig, 1 Junie: 91.         [ Links ]

Botha, Amanda. 2013. Om die blik op die deur te hou. Beeld, 23 Februarie: 8.         [ Links ]

Bouwmeester, Gerard, Geerdink, Nina & Ham, Lourens. 2015. Een veelstemmig verhaal. Auteurschap in de Geschiedenis van de Nederlandse literatuur. Nederlandse Letterkunde 20(3): 215-236.         [ Links ]

Britz, Elretha. 1998. Louw-biografie was groot werk. Boek oor digter-denker beslaan 1200 bladsye. Die Volksblad. 16 November: 8.         [ Links ]

Chesterman, Andrew. 2010. Skopos theory: A retrospective assessment. In Kallmeyer et al., pp 209-225.         [ Links ]

Coetzee, Ampie. 1999. Great Afrikaner icon's indecisive white season. The Sunday Independent, 25 April: 14.         [ Links ]

Cussons, Sheila. 1953. Dekade: 1943-1953. Ongepubliseerde manuskrip in besit van Naln.         [ Links ]

Cussons, Sheila. 1970. Plektrum. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

De Lange, Johann. 2006. Welkome Cussons. Maar verdien sy die agtelosigheid? Perspektief in Rapport, 26 November: 4.         [ Links ]

Dera, J. 2012. De potscherf in het woestijnland. Hans Faverey: Beeld en beeldvorming. Spieghel der Letteren, 54(4):459-489.         [ Links ]

Dorleijn, G.J., Gruttemeier, Ralf & Korthals Altes, Liesbeth (eds). 2010. Authorship Revisited: Conceptions of Authorship Around 1900 and 2000. Leuven: Peeters.         [ Links ]

Du Plessis, PG. 1999. 'n Voetnoot by Steyn se Van Wyk Louw. Boekewêreld, 3 Maart: 1.         [ Links ]

Erasmus-Alt, Joanita. 2018. Die bydrae van nie-artistieke praktyke tot die literêre sukses van eksemplariese Afrikaanse tekste. 'n Ondersoek na beeldvorming. Ongepubliseerde PhD, Universiteit van die Vrystaat.         [ Links ]

Galloway, Francis (red.). 2016. Vlam in die sneeu. Die liefdesbriewe van André P. Brink en Ingrid Jonker. Kaapstad: Umuzi.         [ Links ]

Gaum, Frits. 1998. 'n Gedugte boek oor 'n gedugte man. Algemene Kerkbode, 11 Desember: 11.         [ Links ]

Giliomee, Hermann. 1998. Van Wyk Louw-dilemmas wag op nuwe denkers. Rapport, 6 Desember: 11.         [ Links ]

Greimas, A.J. 1966. Sémantique structurale. Recherche de Méthode. Paris: Larousse.         [ Links ]

Hambidge, Joan. 2013. Studie: N.P. van Wyk Louw en die kanon (N.P. van Wyk Louw-gedenklesing).         [ Links ]

Hambidge, Joan. 2013. Woorde wat weeg, 11 Februarie 2013. http://joanhambidge.blogspot.com/2013/02/studie-np-van-wyk-louw-gedenkles4.ing.html. [14 Augustus 2019].         [ Links ]

Heinich, N. 2009. The sociology of vocational prizes: Recognition as esteem. Theory, Culture and Society, SAGE Publications, 26(5): 85-107. Beskikbaar: https://halshs.archives-ouvertes.fr/halshs-01202780        [ Links ]

Heynders, Odille. 2016. Writers as public intellectuals. Literature, celebrity, democracy. Basingstoke: Palgrave Macmillan.         [ Links ]

Heynders, Odille. 2017. The figure of the migrant: Tommy Wieringa's intellectual intervention. Werkwinkel 12(2):23-39.         [ Links ]

Honings, Rik. 2017. The most famous writer of the low countries: Herman Brusselmans star author and (reluctant) public intellectual. Werkwinkel 12(2):41-64.         [ Links ]

Hugo, Daniel 1982. "Sheila Cussons verruim ons literatuurskat". Die Volksblad, 11 Augustus: 11.         [ Links ]

Hugo, Daniel (saamgestel deur Grizéll Azar-Luxton). 2001. Bekendes se bestes. Cape Library, November/Desember 1999, 45(6):20.         [ Links ]

Jakobson, Roman. 1960. Closing statement: Linguistics and poetics. In: Sebeok, Thomas A. Style in Language. Cambridge, Massachusetts: M.I.T. Press, pp. 350-377.         [ Links ]

Kannemeyer, J.C. 2002. Opperman was geesdriftig oor Cussons. Die Burger, 13 Augustus: 4.         [ Links ]

Korthals Altes, L. 2014. Ethos and narrative interpretation. University of Nebraska Press. http://digitalcommons.unl.edu/unpressamples?273 [8 Januarie 2018].         [ Links ]

Le Roux, André. 1988. Sheila Cussons. "Gedigte word my ingegee". Die Burger, 11 Junie: 6.         [ Links ]

Lindenberg, Ernst. 1999. Boeiende leesstof in onmisbare biografie. Boeke Insig, April, Volume 15:56.         [ Links ]

Marais, Johan Lodewyk. 1999. Om hom draai die spil. LitNet-seminaarkamer. http://www.mweb.co.za/litnet/seminaars/13asp [Verskaf deur Naln as fotokopie].         [ Links ]

Masschelein, Anneleen, Meuré, Christophe, Martens, David & Vanasten, Stéphanie. 2014. The Literary Interview: Toward a poetics of a hybrid genre. Poetics Today 35(1-2):1-49.         [ Links ]

Meizoz, J. 2010. Modern posterities of posture. Jean Jacques Rousseau. In Dorleijn, G.J., Grüttemeier, R. & Korthals Altes, L. (eds). Authorship Revisited. Conceptions of Authorship around 1900 and 2000. Leuven, Walpole: Peeters, pp. 81-93.         [ Links ]

Morkel, Anna, 1999. 'n Waardige biografie oor Suid-Afrika en Afrikaans se grootste skrywer. Afrikaner, 19 Februarie: 4.         [ Links ]

Nord, C. 1991. Skopos, loyalty and translational conventions. Target, 3(1):91-109.         [ Links ]

Nord, C. 1997. Translating as a purposeful activity. Manchester: St. Jerome Publishing.         [ Links ]

Nord, C. 2001. Translating as a purposeful activity, functionalist approaches explained. Shangai: Shangai Foreign Language Education Press.         [ Links ]

Nord, C. 2006. Translating for communicative purposes across culture boundaries. Journal of Translation Studies, 9(1):43-60.         [ Links ]

Olivier, G. 1992. N.P. van Wyk Louw: Literatuur, filosofie, politiek. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Rautenbach, Elmari. 1998. Skrywer op die spoor. De Kat, 12 November, 14(5):72.         [ Links ]

Reiss, Katharina, & Vermeer, Hans J. 1978. Towards a general theory of translational action. Skopos theory explained. Translated from German by Christiane Nord. London & New York: Routledge.         [ Links ]

Rudner, R. 1953. The scientist qua scientist does make value judgments. Philosophy of Science, 20:1-6. Reprinted in Klemke, E.D. et al. 1998. Introductory readings in Philosophy of Science. 3rd edition. Amherst, NY: Prometheus Books, pp. 492-498.         [ Links ]

Scholtz, Merwe. 1983. Huldigingsredes vir twee digters. Boeke-Rondom, Die Vaderland, 7 November: 13.         [ Links ]

Scholtz, Merwe. 1998. 'Man agter die boek' is deur Steyn verantwoord. Die Burger, 3 Desember: 8.         [ Links ]

Sebeok, Thomas A. Style in Language. Cambridge, Massachusetts: M.I.T. Press.         [ Links ]

Steyn, JC. 1998. Van Wyk Louw: 'n Lewensverhaal. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Steyn, JC. 2002. Pennevegter. Piet Cillié van Die Burger. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Steyn, JC. 2004. Die 100 jaar van M.E.R. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Van Coller, HP. 1999. Biografie 'een van die heel bestes'. Die Volksblad, 22 Februarie: 6.         [ Links ]

Van Coller, HP. 2019a. Verbintenis en venster. Die Nederlandse Letterkunde van aanvang tot hede. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.         [ Links ]

Van Coller, HP. 2019b. Representasie as strategiese posisionering: J.C. Steyn se biografieë van Piet Cillié en M.E.R. In Van Niekerk, Angelique, Van Coller, HP & Odendaal, Bernard (reds.). 2019. J.C. Steyn en Afrikaans. 'n Viering. Stellenbosch: Sun Media, pp. 269-295.         [ Links ]

Van Coller, HP & Van Jaarsveld, GJ. (reds.). 1984. Woorde as dade. Taalhandelinge en letterkunde. Durban: Butterworth.         [ Links ]

Van Luxemburg, Jan, Bal, Mieke & Weststeijn, Willem. 1981. Inleiding in de Literatuurwetenschap. Muiderberg: Coutinho.         [ Links ]

Van Niekerk, Angelique, Van Coller, HP & Odendaal, Bernard (reds.). 2019. J.C. Steyn en Afrikaans. 'n Viering. Stellenbosch: Sun Media.         [ Links ]

Van Rensburg, Frans. 1998. Biografie van Afrikaanse [sic] se grootste skrywer. Boekewêreld. 1 Julie: 4.         [ Links ]

Venuti, Lawrence. 1995. The translator's invisibility: A history of translation. London & New York: Routledge.         [ Links ]

Vermeer, H.J. 1996. A skopos theory of translation (Some arguments for and against). Heidelberg: TEXTconTEXT.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2019-09-09
Goedgekeur: 2020-01-27
Gepubliseer: Junie 2020

 

 

 

HENDRIK PETRUS (HENNIE) VAN COLLER uitstaande professor (emeritus) en navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat, is redakteur van die nuwe en hersiene, driedelige Perspektief en profiel: 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis (2016). Hy publiseer vertalings van Nederlandse gedigte (Bandelose gedigte) van Luuk Gruwez (2007) en is self 'n gepubliseerde digter (Soom, 2012). Sy belangrikste publikasies is die bundels opstelle Tussenkoms (1990) en Tussenstand (2009). Hy publiseer veral oor literêre geskiedenis, onder andere as hoofredakteur van en bydraer tot Verbintenis en venster: Die Nederlandstalige letterkunde van aanvang tot hede 'n literatuurgeskiedenis in Afrikaans (2019) en 'n hoofstuk in The Cambridge History of South African Literature. Hy is tans voorsitter van die Letterkundekommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en 'n voormalige voorsitter van dié Akademie, en is ook lid van ASSAf.
HENDRIK PETRUS (HENNIE) VAN COLLER, outstanding professor (emeritus) and research fellow at the University of the Free State, is the editor of the new, revised edition of a three-part Afrikaans literary history, Perspektief en profiel: 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis (2016), and contributor to and editor-in-chief of Verbintenis en venster: Die Nederlandstalige letterkunde van aanvang tot hede
'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis (2019). He published translations (Bandelose gedigte) of poems of the Dutch poet Luuk Gruwez (2007) and is himself a published poet (Soom, 2012). His most important publications include collections of critical essays, Tussenkoms (1990) and Tussenstand (2009). He has published widely, especially on literary history, including a chapter in The Cambridge History of South African Literature. At present, he chairs the commission for literature of Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns and is a former chairperson of this Academy; he is a member of ASSAf as well.
Hennie van Coller
* Hiermee word dank uitgespreek teenoor die vriendelike personeel van Naln, veral me. Lacia Viljoen, vir beskikbaarstelling van navorsingsmateriaal.
1 In 'n persoonlike gesprek het FIJ van Rensburg vertel dat Truida Louw hierdie voorstel sterk ondersteun het en haar (en haar gesin se) medewerking aan Steyn gegee het, onder meer deur openhartige onderhoude. Peter Louw het ook die finale manuskrip gelees en wysigings voorgestel. Truida was volgens Van Rensburg hewig gekant teen JC Kannemeyer as biograaf vanweë sy "sensasiesug".
2 'n Baie belangrike mededeling deur die bekendsteller van die biografie (dus in opdrag van die uitgewer) in die lig van wat in hierdie artikel betoog word.
3 "Waarheid" is 'n relatiewe begrip. In 'n werkkollege (Utrecht, 1985/1986) oor outobiografieë is bevind dat skrywers van outobiografieë dikwels voorgee dat hulle die waarheid praat (en dit soms selfs glo), maar dat aangetoon kan word (onder meer deur die benutting van die dieptepsigologiese teorieë van Freud en veral Lacan) dat die outobiografieë vol verdringing en verswyging is. Só glo getuies van 'n ongeluk (of betrokkenes by iemand se lewe) dat hulle weergawes "objektief" en "waar" is. In die geval van Louw se biografie is Truida en Sheila - as die twee antagoniste - se weergawes dus ewe (on)betroubaar.
4 Volgens wat ek kon vasstel, was Fred reeds oorlede (1984) ten tyde van die skryf van die Louw-biografie; sy vrou, Ria, is egter eers in 2005 oorlede. Joan Louw (née Wessels), Louw se eerste vrou, is reeds in 1975 oorlede. Dit was dus nie vir Steyn moontlik om onderhoude met Fred (en Joan) te voer nie, maar wel met Ria le Roux.
5 Steyn (655, 656) haal wel FIJ van Rensburg in hierdie verband aan, maar ook hieruit blyk nie die volle omvang van hierdie digterlike "gesprek" en samewerking nie.
6 Sleigh doen egter ook moeite om die hele proses van verengelsing aan die Kaap ná die Britse bewindsoorname (en mense se prysgawe van hul identiteit) as 'n parallel van vandag se situasie in Suid-Afrika af te skilder. Hierdie werkwyse is uiteraard domestikerend.
7 Van Rensburg was NP van Wyk Louw se keuse vir die eerste hoogleraarspos in Afrikaans aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit en die dryfkrag agter die instelling van die reeks NP van Wyk Louw-gedenklesings ná Louw se afsterwe.
8 'n Groot hiaat in hierdie verband is Cussons se weiering om mee te werk aan die biografie - iets wat uiteraard met Steyn niks te make gehad het nie.
9 Hoewel daar nog verskeie wysigings is, laat beperkte ruimte nie verdere besonderhede toe nie - weglatings soos byvoorbeeld Malherbe se aanbeveling vir die Wits-vakature; die bewering van plagiaat (in die polemiek oor Rob Antonissen se Kern en tooi); asook die geval van Louw as held by 'n partytjie en oor verwysing. By die vermelding van Richard Daneel word daar nou besonderhede ingevoeg wat informatief is, maar Daneel ook implisiet karakteriseer as "openbare intellektueel" (1052) (kyk Baert & Morgan 2017:2; Baert 2016:161-181) wat met gesag kan oordeel. Uiteraard word sy positiewe oordeel oor Die pluimsaad waai ver daarmee gesanksioneer.
10 Volgens persoonlike mededelings aan my deur proff. PJ en CJM Nienaber.
11 Truida se suster, Anna Neethling-Pohl, was getroud met Chris Neethling.
12 In die gedig "My verraderlike klein boksmaat" in Tristia.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons