SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 número1Brexit: Volgende uitdagings vir 'n nuwe eraDuwweltjies en verantwoordelikheid índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.60 no.1 Pretoria mar. 2020

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n1a19 

BOEKBESPREKINGS BOOK REVIEWS

 

 

Titel: breyten breytenbach. woordenaar woordnar. 'n Huldiging

Outeur: Francis Galloway (redakteur)

Uitgewer: Protea Boekhuis, Pretoria

ISBN: 978-1-4853-0484-5 (gedrukte boek)

ISBN: 978-1-4853-0485-2 (e-boek)

In die reeks huldigings van Hertzogpryswenners wat deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns geïnisieer en geborg is, het die boek oor Breyten Breytenbach onder die mooi titel woordenaar woordnar aan die einde van 2019 verskyn. In die reeks het daar reeds boeke oor Adam Small, PG du Plessis, Pieter Fourie en Johann de Lange verskyn en nog ander word in die vooruitsig gestel. Dit is so dat daar reeds heelwat oor al hierdie skrywers geskryf is, artikels, essays, skripsies, verhandelinge en proefskrifte; dat daar baie onderhoude en gesprekke gevoer en gepubliseer is; dat daar ook oor die loop van jare baie resensies oor hulle werk verskyn het. Al hierdie inligting, kommentaar en navorsing is op uiteenlopende plekke beskikbaar en het oor baie dekades heen verskyn. Van tyd tot tyd moet daar dus uit al die wydverspreide bronne wat oor tyd en ruimte heen versprei is en verborge kan raak, 'n samevattende oorsig tot stand kom. Dit was dus versiende om hierdie publikasiereeks in te stel en ek glo dat die boeke 'n belangrike funksie vervul omdat ouer en resente navorsing saamgevat en opnuut verreken word deur kenners van die werk van die skrywers.

Die boek open met 'n tersaaklike opsomming van die kerninhoud van elke bydrae: die onderhoud met Breytenbach wat gevoer is deur Willem de Vries, die oorsigartikel van Willie Burger oor Breytenbach se agterliggende denkwyses en opvattings en sy estetika, die bydraes van Hein Viljoen, Alwyn Roux en Louise Viljoen oor bepaalde tematiese en tekstuele eienskappe van Breytenbach se werk, Catherine du Toit se artikel oor vertaling en spesifiek die vertaling van Breytenbach se werk en Johann Rossouw se essay oor die estetiek van die stilte. Die laaste twee bydraes deur Francis Galloway handel oor Breytenbach se loopbaan as skrywer en openbare figuur en die slotbydrae is 'n indringende historiese verslag van die verloop van die toekennnings van die Hertzogprys aan Breytenbach, 'n stuk wat besonder aktueel is aangesien die boek juis deur die Akademie aangemoedig en geborg is. Hierdie twee hoofstukke maak 'n belangrike bydrae tot die geskiedenis van die Afrikaanse literatuur deur jonger inligting by te werk. Oor hierdie saak, die noodsaak om historiese inligting steeds weer te herskryf en by te werk, skryf ek aan die einde van die resensie meer uitgebreid.

In die onderhoud met Willem de Vries word 'n groot aantal onderwerpe aan die orde gestel. Van Breytenbach se verhouding met Jan Rabie tot by die verhouding tussen etiek en estetiek tot by verskillende aspekte van taal. Een kwessie wat indringend bespreek word en deurgaans figureer, gaan oor beweging as die beginsel van etiek, skryf as beweging en verandering, en uiteindelik die vermoë van geskrewe taal om 'n etiese verbeelding tot stand te bring en aan die gang te hou. Dit gaan om komplekse en skynbaar teenstrydige konsepte (konsepte is dalk reeds 'n onvanpaste woord), want etiek impliseer 'n bewustheid van reg en verkeerd wat tradisioneel veronderstel het dat daar 'n bepaalde stel vertrekpunte bestaan wat as maatstaf vir die beoordeling van die etiese dien. In Breytenbach se geval haal hy verskillende skrywers en teoretici en filosowe aan om sy siening van etiek en meer spesifiek die etiese verbeelding te kwalifiseer (Galloway 2019:12):

'Etiese verbeelding' is gewoon die bewuswees van die feit dat verbeelding 'n kragtige selfskepping is wat jou onvermydelik plaas in 'n konteks van verhouding met ander, met jou omgewing en met jou stof, want dit is ook 'n benadering om die gewaarwordende Werklikheid binne reikafstand te bring. Hierdie wete spruit uit die aksie, dit is nie 'n voorskrif nie.

Later kom ander paradokse aan die orde - fragmentarisering met behoud van die eenheid van vloei, die afbreek van hiërargieë sonder om nuwe hiërargieë tot stand te laat kom, hibriditeit en binding of verbinding in lewe en werk, die lewe wat vloei en tog staties is, die "falende poging om te bly onthou" (Galloway 2019:25). Regdeur alles bly Breytenbach hom ook bemoei met sowel die politieke imperatiewe wat 'n etiese appél op mense maak as met die nuttelose nut van poësie. In al hierdie sake bly die paradoksale aanwesig en Breytenbach haal Salvador Allende aan in dié verband: "Om 'n skrywer te wees en nié eweneens 'n revolusionêr nie behoort 'n bykans biologiese kontradiksie te wees" (Galloway 2019:31). Of dit werklik vir álle skrywers geld, bly vir my 'n ope vraag, maar vir daardie skrywers, onder meer Breytenbach, wat hierdie vertrekpunt aanvaar, is so 'n siening 'n onuitputlike bron vir stof, vir inspirasie, vir dryfkrag tot besinning, tot verbeelding en tot vernuwende denke.

Wat ook boeiend is in die gesprek tussen De Vries en Breytenbach is kommentaar op praktiese sake soos literêre pryse, die vertaling van kreatiewe werk en die gesprek met ander skrywers want "[o] ns is almal skimme van mekaar se gedagtegang" (Galloway 2019:31). Hierdie gesprek is nie ligte leesstof nie, maar vir wie moeite doen om dit met aandag te lees, is daar, afgesien van die insig wat dit bied in die denke onderliggend aan Breytenbach se oeuvre, geweldig veel stof tot nadenke.

Breytenbach se ingesteldheid is 'n balanseertoer waarin die skrywer voortdurend moet onderskei en bly soek na 'n soort suiwerheid, sonder om in vaste konsepte vas te steek. Dit impliseer beweging, reis en groei, herbesinning of bevestiging of verwerping van gedagtes en opvattings en woorde, dus steeds "aanhou beweeg en geraas maak". Hierdie problematiek kom duidelik na vore in Willie Burger se artikel met die titel "Die belang van 'n morele verbeelding" waarin hy ondersoek instel na die ontwikkeling van Breytenbach se denke en "filosofie" (hoewel Breytenbach baie skepties is oor die term filosofie, vgl. Galloway 2019: 23). Burger wys daarop dat in die bundel opstelle en toesprake wat gebundel is in Parool/Parole. Versamelde toesprake/ Collected speeches (Breytenbach 2015) idees uit verskillende uiteenlopende tradisies teruggevind kan word, uit die Marxistiese en Boeddhistiese tradisies en selfs uit die eie Afrikaanse tradisie wanneer Breytenbach sy voorgangers soos Van Wyk Louw se idees omdop en radikaliseer. Burger se gevolgtrekking is dat Breytenbach inderwaarheid regdeur sy loopbaan "in sy reaksie op uiteenlopende situasies, eintlik dieselfde onderliggende uitgangspunte behou" (Galloway 2019:37). Om stagnasie ten alle koste te vermy, gebruik Breytenbach poëtiese taal en in en deur die kameleontiese eienskappe van taal en metaforiek hou hy die kwiksilweragtige vloei van sy gedagtegang in beweging. Meer nog, dit is juis hierdie soort kreatiewe omgang met taal wat vernuwing asof vanuit sigself bevorder en behou. Hy bly op 'n manier dus primêr digter, afgesien van die sterk openbare beeld wat hy oor jare ontwikkel het. Burger bespreek Breytenbach se filosofiese standpunte en vertrekpunte onder drie bewegings, naamlik die aandrang om "NEE" te skreeu ongeag tyd en plek; die bemoeienis met taal en die vermyding van stagnasie in begrippe wat in taal verwoord word.

Alhoewel Jean Francois Lyotard se bekende geskrif The Human Condition (1979) volgens homself en ook volgens algemene mening die toets van die tyd nie goed deurstaan het nie -omdat die inligtingstegnologie verby alle verwagte grense ontwikkel het en Lyotard in daardie stadium nie genoeg daarvan geweet het nie - is daar wel duidelike raakpunte tussen die kernargumente wat hy voer en Breytenbach se digterlike benadering. Volgens Lyotard is die waarde van kennis (en dus sekerlik ook insig) afhanklik van die nut daarvan op 'n bepaalde tyd en plek, maar hy verwerp die suiwer pragmatiese implikasies van hierdie standpunt onmiddellik omdat dit ontbreek aan 'n etiese dimensie. Hy vorm dan die term paralogie (wat onderskei moet word van die mediese term paralogia wat op verwarde denke dui) waarmee hy aandui dat daar aktief en kreatief na die onstabiele aspekte en anomalieë in teorieë en opvattings gesoek moet word, dat enige eenvormige en onveranderlike sienings bestry moet word en dat nuwe betekenis in ou taalvorme gesoek moet word. Alles moet telkens opnuut getoets, ondersoek en beredeneer word asof dit gaan om tydelike kontrakte en ooreenkomste wat weer en weer opnuut bevraagteken moet word. Op dié manier kan daar nader beweeg word aan wat daar in die oseane van kennis, inligting en opvattings is wat waardig is om aandag te ontvang. Dit is vir my asof hierdie soort denke (wat in verskillende vorme in baie postmodernistiese filosofiese geskrifte teruggevind kan word) aansluit by Breytenbach se voortdurende bevraagtekening en kreatiewe ondersoek van konsepte en situasies, maar wat dan daar bykom en waarom die parallel met Lyotard na vore kom, is omdat dit volgens Lyotard en Breytenbach die etiese bewussyn is wat die estetiese beweeglikheid dryf - of dalk andersom, maar etiek en estetiek kan nie geskei word nie.

Burger se artikel vorm 'n uitstekende openingstuk vir die bundel want hy gee verheldering oor die belangrikste vraagstukke en denkwyses wat ten grondslag aan Breytenbach se oeuvre en sy lewe as openbare figuur lê en soos hierbo genoem staan die "voortbestaan in geregtigheid" en die verhouding tussen estetiek en etiek deurgaans sentraal. Ten slotte wys Burger ook tereg daarop dat vanweë die inherente teenstrydighede in die kernidees waarmee Breytenbach werk, sy "intervensies soms moeilik verstaanbaar is" (Galloway 2019:70). Die ontwykende taalgebruik wat die digter se ontvlugting van stagnasie is, is dus intellektueel stimulerend en esteties bevredigend maar vir harder ideologiese stryde nie altyd bruikbaar nie. Burger verwys na Andrew Nash se kritiek en sy evaluering van Breytenbach se posisie wat eerder dié van 'n individu is wat nie werklik deel geword het van die sogenaamde "South African left" nie. Breytenbach bly dus weer eens primêr digter wat deur sy eie veeleisende verbeeldingsaktiwiteit sy lesers tot soortgelyke verbeeldingryke denktogte met 'n etiese bewustheid wil aanspoor.

Die drie artikels wat hierna volg in die bundel behandel elkeen 'n ander belangrike aspek van Breytenbach se digterlike praktyk deur teoretiese aspekte in die tekste self na te gaan, te ondersoek, te analiseer en te interpreteer. Hein Viljoen skryf oor hibridisering en kreolisering wat Breytenbach self elders beskryf het as "die werklike gawe van mededeelsaamheid" (Galloway 2019:74). Viljoen gee aandag aan die verbastering van ruimte en die "moertaal", maar ook aan omvormingsprosesse en die interaksie met ander kunstenaars. Hy verduidelik hoe Breytenbach die konsepte self omskryf en beredeneer het en illustreer sy betoog ryklik met voorbeelde. Viljoen het intensief navorsing gedoen oor verskynsels soos liminaliteit, grense, hibridisering en kreolisering. Hy was navorsingsleier vir verskeie projekte oor hierdie en aanverwante onderwerpe en verskeie internasionale boekpublikasies het uit hierdie projekte voortgevloei. Daarom kan mens begryp waarom hierdie artikel 'n besonder insiggewende en gerypte bespreking van Breytenbach se werk bied en waarom dit so 'n plesier is om dit te lees.

Alwyn Roux fokus op Breytenbach se hantering van "landskap", sowel die plek wat bewoon word as die toneel wat waargeneem word. Vir Breytenbach gaan dit, in ooreenstemming met Heidegger, oor die vraag wat dit beteken "om te wees" en voortvloeiend daaruit hoe die wyse waarop sterflikes op die aarde woon, uitgebeeld kan word. Roux maak dan 'n diepteanalise van twee gedigte, "New York, 12 September 2001" uit Die windvanger (2007) en "die eiland van verbranding" uit Katalekte (2012). Die waarde van sulke analises van spesifieke volledige gedigte kan nie onderskat word nie, want daarin kom die samehangende onderbou en opbou van 'n gedig as gedig na vore en dit verskaf dan 'n ander blik op die digter se gedagtegang. In die enkelgedig word die algemene en oorkoepelende gedagtes op 'n bepaalde poëtiese manier konkreet gemaak en dit is immers waar die gedig as gedig gebeur: in die spesifieke lees van 'n volledige gedig.

Louise Viljoen het al uitgebreid oor Breytenbach se werk geskryf en hier gebruik sy op 'n vernuwende wyse dierestudies as invalshoek. Sy gee 'n deeglike uiteensetting van die huidige stand van dierestudies binne die groter veld van die ekokritiek en die "animal turn". Sy skryf oor die opheffing van die binêre opposisies tussen mense en diere (asook ander binariteite) en verduidelik dat die uitbeelding van diere in literêre werke op naturalistiese, allegoriese of meelewende maniere kan geskied. Sy onderskei ook tussen die gebruik van die dier as troop of metafoor (soos wat meestal in Breytenbach se werk gebeur) en die dier self as referent. In Breytenbach se oeuvre is die hond 'n terugkerende metafoor en Viljoen rig haar aandag op gedigte uit die derde fase van Breytenbach se werk, dit wil sê op gedigte uit Die singende hand, die versamelbundel wat in 2016 verskyn en gedigte uit die periode 1984-2016 bevat. Die artikel bied via hierdie invalshoek wel ook 'n blik op Breytenbach se oeuvre en ten slotte kom, op grond van die hantering van die hondmetafoor, die digter se deernis en meelewendheid met sy medebestaandes in die wêreld na vore.

Aan die einde van die laaste gediganalise, van die gedig "Verkieslik 'n reun": "Koop 'n hond" uit Die beginsel van stof (2012) skryf Viljoen: "Dié donker gestemde gedig klink dus na een waarin die digter nié daarin slaag om die dier probleemloos diensbaar te maak as metafoor vir die poëtiese proses nie. Terwyl die slag van die hond funksioneer as metafoor van die kreatiewe of digterlike proses waartydens iets wat lewe en gevoelig is, verbruik en misbruik word, is daar suggesties dat die werklike dier dreig om buite die troop te begin funksioneer as 'n subjek wat vra om aandag, empatie en interaksie ..." (Galloway 2019:147).

Die drie teksgerigte artikels bied dus gesamentlik 'n buitengewoon insiggewende blik op die poësie in Breytenbach se oeuvre.

Catherine du Toit skryf oor vertaling en oor haar werk as vertaler van Breytenbach se tekste. Dit is dan ook een van die goeie eienskappe van hierdie reeks boeke van die Akademie dat dit nie net suiwer literêre of literêr-teroretiese akademiese artikels bevat nie, maar ook die net wyer gooi om ander stof in te sluit soos die onderhoude en hier die bydrae oor vertaling. Vertaling, wat wel 'n eiesoortige aktiwiteit is, lê inderwaarheid dig teenaan die grein van die kreatiewe denke en prosesse. Breytenbach self het ook groot waardering vir vertaling en sien dit as 'n selfstandige kreatiewe vaardigheid (Galloway 2019:29). Du Toit het duidelik 'n grondige begrip en waardering vir vertaling as sodanig en vir Breytenbach se werk. Sy wys op 'n aantal uiters belangrike fasette van vertaling: dat alle skryf eintlik ook vertaling is, dat vertaalteorieë soepel hanteer moet word omdat dit beperkend kan wees en dat alle vertaling ook onderhandeling is. Sy bespreek die problematiek daarvan dat Breytenbach ook 'n selfvertaler is en ook 'n eie oorspronklike Engelse stem het en hoe sy deur kontaksessies met die skrywer hierdie komplikasies hanteer het. Haar uiteensetting getuig deurgaans van 'n uitstekende begrip van die digter se werkwyse en denkwyse, maar die artikel illustreer eintlik die sleutel tot haar suksesvolle vertalings deur die entoesiasme en energie wat uit die artikel spreek en wat duidelik ook haar vertaalwerk inspireer.

Johann Rossouw se bydrae tot hierdie bundel is 'n essay oor stilte en kreatiwiteit. Hy skryf oor drie kunstenaars van die stilte, Breyten Breytenbach, Arvo Pärt en Karel Schoeman. Hy verduidelik hoe die beginsel van stilte by elkeen van hierdie kunstenaars 'n rol speel, in Breytenbach en Schoeman se geval via die Zen Boeddhisme van die Sotoskool en by Pärt as deel van sy geloof volgens die Grieks Ortodokse oortuigings. In die voetnote beskryf Rossouw sy eie ontwikkelingsgang van Zen tot by die Ortodokse geloof, van zazen in 'n dojo tot by die hesigasme, dit wil sê die stilgebed van die Ortodokse Christendom, die "toegewyde, gekonsentreerde beoefening van stilte as voorwaarde van skeppendheid" (Galloway 2019:179). Die betoog vloei van die skrywersproblematiek oor na Arvo Pärt se intense nadenke en worstelinge met sy eie medium van kreatiwiteit, naamlik die musiek. Uiteindelik ontwikkel Pärt se estetiese sienings so dat sy komposisies deur twee eienskappe getipeer word: "... die weerlose menslike stem wat afdwaal en soms gepynig is ... en die stabiele of engelestem wat vertroos" (Galloway 2019:184). Pärt is al genoem die komponis van stilte. Rossouw besin verder oor die verkryging van insig aan die hand van Karel Schoeman se lewensloop en sy siening van stilte, maar wys ook daarop dat by Breytenbach die vrug van die stilte tot betrokkenheid by ideologiese, filosofiese en politieke vraagstukke lei. Ten slotte stel Rossouw die vraag: "Of is om te skryf soos 'n net waarvoor gedigte soos visse die vrug van die see, die vrug van stilte is?" (Galloway 2019:185).

Die laaste gedeelte van woordenaar woordnar bevat twee uitgebreide navorsingstukke deur Francis Galloway self. Galloway het reeds in 1987 haar proefskrif geskryf oor Breytenbach, en gebaseer op die studie verskyn die boekpublikasie Breyten Breytenbach as openbare figuur in 1990. Sy is dus uitstekend toegerus vir die taak om Breytenbach se loopbaan verderaan ook te beskryf. In die hoofstuk "Breyten Breytenbach: Fragmente van sy loopbaan as skrywer en openbare figuur" gee sy eers weer 'n oorsig oor sy jeug en studentetyd, sy vertrek uit Suid-Afrika en die geskiedenis van sy Paryse verblyf. Dit is vir my boeiend hoe daar met 'n blik vanuit 'n verder geleë toekoms op hierdie verloop van gebeure teruggekyk kan word en hoe bepaalde aksente duideliker geword het. Galloway slaag daarin om 'n balans te handhaaf tussen die persoonlike ervaring en verwerking van uiters pynlike periodes in Breytenbach se lewe en die politieke enjoernalistieke kommentaar op hom as persoon en op sy omstandighede. Die politieke en joernalistieke hantering van Breyten as persoon, as skrywer en as openbare figuur is en bly een van die beskamendste stukkies geskiedenis in Suid-Afrika en 'n verleentheid vir die Afrikaanse letterkunde. Dit is iets waarvan min Afrikaanse mense hulleself kan afsluit en Galloway beskryf dit helder en eerlik.

Ander aspekte van Breytenbach se loopbaan kom ook na vore, die uitbeweeg na die Engelstalige wêreld ná sy vrylating uit die tronk, sy groter internasionale beeld, sy nuwe betrokkenheid by die kwessies in Suid-Afrika, sowel met politieke uitreikaksies tydens die onderhandelingsfase van die nuwe Suid-Afrika as sy bemoeienis rondom Afrikaans as taal. Sy dui aan hoe sy aanvanklike betrokkenheid by Afrikaans weer eens op teleurstelling en ontnugtering uitgeloop het en hy hom in 2002 van die openbare toneel onttrek het. Maar hy keer weer terug en neem tot nou toe deel aan die taaldebatte en is aktief op die wyer kulturele toneel. Baie belangrik is Galloway se noukeurige navorsing oor Breytenbach se uitgewers-geskiedenis - hierdie inligting gaan nog baie waardevol raak vir navorsers in die toekoms.

Ook in die slothoofstuk oor Breytenbach se verhouding met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Hertzogprys bewys Galloway haar as 'n noukeurige en onvermoeide navorser. Die ideologiese ondergrond wat altyd 'n rol speel by pryse kom duidelik na vore en elkeen wat ooit by pryse betrokke was, weet hoe relatief prystoekennings kan wees. Ek het self baie keer gedink dat ek nooit spyt was oor 'n boek wat wel bekroon is nie, maar dikwels oor 'n boek wat NIE bekroon is nie omdat dit byna altyd so was dat al die boeke op 'n kortlys bekronenswaardig is. En natuurlik omdat die toekenning van pryse aan kreatiewe werk altyd deur persoonlike smaak beïnvloed word, eintlik in wese so relatief is dat dit nooit eenvoudig is nie en dat kreatiwiteit in elk geval baie moeilik geëvalueer kan word.

Galloway se noukeurige navorsing wat die nagaan en deurwerk van berge dokumente impliseer, is dus buitengewoon waardevol. Afgesien van die inhoud van die navorsing as sodanig is die inligting ook belangrik omdat mense in die toekoms hulleself aan hierdie geskiedenis kan spieël en versigtig trap waar dit by sulke sake kom.

Ek het self op 'n onverwagse wyse inligting bekom wat nuwe lig werp op 'n saak wat lank reeds as geloofwaardig gevestig was. Almal ken die geskiedenis van TT Cloete se stuk oor die verhouding tussen 'n volk en sy skrywers wat hy vir die Afrikaner Broederbond geskryf het. Almal weet ook van die berig wat Rykie van Reenen geskryf het na aanleiding van die uitdrukking op Cloete se gesig by die Breytenbach-verhoor. Galloway (1990:180) skryf soos volg daaroor in Breytenbach as openbare figuur:

Al ontken Cloete Rykie van Reenen se verwysing na die leedvermakerige glimlag waarmee hy by die Breytenbach-verhoor opgedaag het (Rap., 23.11.75) en stel hy dit dat die digter "as mens die diepste simpatie by hom wek", verwys hy tog na sy voorspellings tydens die Hertzogprys-polemiek (hoofstuk 5 VII) - en inderdaad ook na sy uitlatings in die "Broederbondstuk": "Toe dit agtien maandae gelede vir my duidelik geword het dat die situasie gaan ontstaan wat nou bevestig is, het ek reeds gesê dat dit my ontstel". Tog lei Cloete hieruit af dat hy "ook tans . allermins rede het om met genoegdoening in (sy) skik te wees, veral omdat daar vir die beskuldigde dalk 'n swaar straf wag". (Rap., 30.11.75)

Daar verskyn ook 'n foto van Cloete en sy vrou Anna in die foto-afdeling (Galloway 1990:180181) en in die byskrif word weer melding gemaak van Rykie van Reenen se opmerking oor die "leedvermakerige glimlag".

Ek het in my lewe baie by die Cloetes gekuier en na sy vrou se dood baie ure by TT Cloete sit en gesels. Nooit, maar nooit, het hy een enkele woord oor hierdie kwessie gerep nie en hoewel ek sy kant van die saak sou wou hoor, het ek te veel respek vir hom gehad om hom ooit daarna te vra. Ná sy dood vra Cloete se kinders my om hulle te help om die dokumente in sy studeerkamer deur te gaan om seker te maak dat niks van historiese of literêre belang verlore gaan nie. Ek het dit gedoen en gevind dat sy dokumentasie en nalatenskap goed georden was en dat die meeste dokumente reeds bymekaar gebring was volgens soort.

Daar was een bruin kartonlêer met 'n paar spesiale dokumente in, onder meer 'n afskrif van Van Wyk Louw se intreerede. Maar bo-op in hierdie lêer was daar 'n brief, 'n klein A5 velletjie papier met 'nRapport-logo bo-aan: 'n briefvan Rykie van Reenen, gedateer 29/11/1975.

Dit lui soos volg:

Beste prof. Cloete,

Ek moet u darem die agtergrond gee van die sinnetjie oor u glimlag waaroor u in môre se koerant reageer. Dit was as 'n klein vredesgebaar bedoel, en het oorspronklik gelui: "met 'n ek-het-mos-gesê-die-mens-gevaarlik-glimlag wat 'n mens hom in die omstan-dighede nie kon kwalik neem nie." Ek wou u daarmee gelyk gee in verband met Breyten se aktief-ondermynende bedrywighede, waaroor ek, moet ek beken, baie skepties was. Ons regsadviseur het die verandering nodig gevind, en ek het dit so in die koerant kom lees.

Dankie vir die gees van u brief. Ek het 'n geniepsiger knyp verdien.

Met groete

Rykie van Reenen

(die onderstreping is van Van Reenen self)

Bo-aan die brief het Cloete kort kommentaar geskryf. Dit moes veel later gebeur het, trouens ek vermoed hy het dit kort voor sy dood bygevoeg want sy handskrif is hier reeds erg bewerig. Dit lui so:

Toe sy hierdie brief geskryf het, was sy in die redaksie van Rapport. Sy was nie dapper genoeg om in Rapport verskoning te vra nie. Ek het haar nooit op h.die brief geantwoord nie maar met minagting geswyg. 1

Inderdaad toon hierdie nuwe inligting wat na vore kom, dat geen van ons voorgangers engele was nie, maar tog kan hulle ook nie so maklik van kwaadwilligheid beskuldig word nie. Ook nie die geskiedskrywer self nie, want wat nie openbaar gemaak is nie, kan nie verreken word nie - so het ek dit ook aan Francis Galloway self gestel toe ek vir haar van die brief gesê het. Al die kante van die saak is nie gehoor nie omdat alle inligting nie beskikbaar was nie.Van Reenen en Cloete is beide nou reeds saliger en die gebeure het 45 jaar gelede afgespeel. Breytenbach se reaksie toe ek hom hiervan vertel, was dat dit ver in die verlede lê en dat hy dié dinge afgelê het. Vir iemand met 'n historiese belangstelling val dit egter wel op dat die negatiewe etikettering van Cloete, op grond van 'n veranderde formulering deur iemand wat nie self by die geleentheid aanwesig was nie, tog bly steek het en meer effek gehad het as die brief waarin hy beswaar maak teen die interpretasie van sy gesigsuitdrukking. En die brief van verduideliking met die geïmpliseerde verskoning het geheim gebly tot na Cloete se dood.

Wat mens hierin sien, is hoe relatief verslaggewing kan wees. Ook hoe belangrik dit is om die geskiedenis opnuut onder oë te neem, om steeds weer nuwe bronne te ondersoek en te ontgin en om steeds te onthou dat die geskiedenis ad infinitum herskryfbaar en aanvulbaar is.

Die bundel oor Breytenbach word afgesluit met 'n werklik uitgebreide bibliografie van sy werk. Dit sluit in primêre tekste en vertalings van alles wat hy in verskillende genres geskryf het. Daar is ook 'n nog omvattender bibliografie van sekondêre bronne, artikels, proefskrifte en verhandelinge en resensies, wat vir enige navorser oor Breytenbach onontbeerlik sal wees.

Ek het hierdie boek van voor tot agter met genoeë gelees. Die redaktrise en bydraers kan almal tevrede voel met 'n groot taak wat goed gedaan is.

 

BIBLIOGRAFIE

Galloway, Francis. 1990. Breyten Breytenbach as openbare figuur. Pretoria: HAUM-Literêr. Lyotard, Jean-François. 1984. The postmodern condition: a report on knowledge. Translated from the French by Geoff Bennington and Brian Massumi. Manchester: Manchester University Press.         [ Links ]

Heilna du Plooy

Buitengewone professor

Navorsingseenheid Tale en Literatuur

Noordwes-Universiteit, Potchefstroom

Suid-Afrika

E-pos: heilnaduplooy@nwu.ac.za

 

 

1 'n Geskandeerde weergawe van die oorspronklike brief, met T T Cloete se aantekening in sy eie handskrif boaan, word aan die einde van die resensie verskaf.

 


 

Titel: Pieter Fourie: Teatermaker. 'n Huldiging

Outeur: Fanie Olivier (redakteur)

Uitgewer: Protea

ISBN: 978-1-4853-1081-5

In 2017 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns begin om versamelings akademiese opstelle uit te gee wat sentreer om 'n wenner van die prestigeryke Hertzogprys. Die eerste bundel was gewy aan Adam Small (met Jacques van der Elst as redakteur), en daar het, afgesien van die huldigingsbundel oor Pieter Fourie ook reeds boeke oor PG du Plessis (met Heilna du Plooy as redakteur), Johann de Lange (met Daniël Hugo as redakteur) en Breyten Breytenbach (onder redakteurskap van Francis Galloway) verskyn. Die ooglopende gevaar van hierdie reeks publikasies is die feit dat dit die Akademie is wat die prys toeken, en nou dra daardie selfde instansie die koste van die publikasie en is (via 'n redakteur) verant-woordelik vir die werwing van bydraes oor die gekose outeur - die bundels sou dus maklik in hagiografieë kon ontaard. Tot dusver spring die reeks hierdie gevaar vry, maar die oefening word nog steeds aan allerlei uitdagings onderwerp, insluitende die feit dat 'n beperkte aantal literatore in Suid-Afrika navorsing verrig oor die Afrikaanse letterkunde.

Laasgenoemde uitdaging is besonder sigbaar in die onderhawige publikasie, gewy aan Pieter Fourie. Drama is die afgeskeepte genre aan departemente Afrikaans dwarsoor die land en daar is opvallend min navorsers wat kundiges op die gebied is. Dus bevat hierdie huldigingsbundel belangrike opstelle deur gesoute navorsers wat kenners oor die Afrikaanse drama én Pieter Fourie is, naamlik Nico Luwes, Temple Hauptfleisch, Marisa Keuris en Thys Human. Bydraes is egter ook gewerf van navorsers wat hul nog nie vantevore op Fourie toegespits het nie - nie noodwendig 'n tekortkoming van die bundel nie, maar wel 'n illustrasie van hoe klein die wêreld van die Afrikaanse letterkunde is. 'n Mens kan eenvoudig nie kus en keur tussen meerdere navorsers wat spesifiek werk oor die outeur of onderwerp waaroor jy 'n versameling essays wil saamstel nie; bydraes moet gewerf word. Die agt akademiese hoofstukke is onder andere aangevul deur 'n afskrif van die commendatio vir die Hertzogprys wat in 2003 aan Fourie toegeken is en die commendatio vir die eredoktorsgraad wat deur die Universiteit van die Vrystaat aan Fourie toegeken is.

Pieter Fourie was 'n voor die hand liggende keuse vir hierdie soort huldigingsbundel: hy is 'n veelbekroonde Afrikaanse dramaturg met 'n indrukwekkende hoeveelheid gepubliseerde dramas op sy kerfstok. Fourie skryf heelwat "betrokke" dramas wat die teenstrydighede inherent in die Afrikanernasionalisme en patriargie ontmasker; hierdie dramas word gereeld aan universiteite voorgeskryf. Hy is ook bekend vir die feit dat hy lank regisseur en artistieke direkteur by die Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste was (KRUIK) was, en die eerste bestuurder van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK).

'n Interessante aspek van die bundel is die feit dat Fourie self gevra is om 'n biografiese skets te skryf: "Die einste hy". Hierdie oorsig is (grotendeels) in Fourie se kenmerkende onopgesmukte styl geskryf, iets wat reeds vanaf die eerste sin duidelik is: "Hierdie kalant is op 3 April 1940 in sy ouers se huurhuis op Philippolis deur die dorpie se vroedvrou gevang" (21). Vir die leser wat slegs met Fourie se dramas bekend is en nie soseer met sy lewensverhaal nie, bevat die hoofstuk boeiende inligting, soos die feit dat hy aanvanklik nie van plan was om hoërskool te voltooi nie en 'n tyd lank in 'n poskantoor gewerk het voordat hy terug is skool toe (en uiteindelik 'n meestersgraad op universiteit verwerf het). Dit is ook belangrik om te leer dat Fourie kortstondig 'n rondreisende teatergeselskap in die ou tradisie van André Huguenet en andere bedryf het voordat hy die pos by KRUIK (en later ook TRUK) beklee het.

Die varsheid en interessantheid van die inligting in Fourie se skets taan egter wanneer mens die daaropvolgende hoofstukke lees. Daar is min pogings aangewend om verdubbeling te vermy - iets wat wel deur die redakteur, Fanie Olivier, gesinjaleer word (15). Enersyds is dit begryplik, aangesien die hoofstukke waarskynlik hoofsaaklik as selfstandige artikels deur navorsers geraadpleeg sal word. Andersyds dink ek egter heelwat van die resitasie van Fourie se CV en die publikasiegeskiedenis van sy dramas sou uit latere bydraes in die bundel weggelaat kon word sonder om afbreuk te doen aan die navorsingsinsigte daarin. Dit is des te meer so in die lig van die feit dat 'n omvattende bibliografiese oorsig, saamgestel deur Burgert Senekal, aan die einde van die bundel ingesluit is (276-286).

Die sterkste opstelle is dié van Hauptfleisch en Human. In "Die Dobermann in die hoenderhok - Pieter Fourie en die Afrikaanse teatersisteem" gebruik Hauptfleisch resente teaterteorie om Fourie te situeer as "een van die kritieke rolspelers in die ontwikkeling van die teatersisteem in die [...] tweede helfte van die twintigste eeu (96, oorspronklike beklemtoning). Fourie word dus nie slegs as dramaturg bestudeer nie, maar as die skepper van "teatergebeurtenisse" en dus as "teatermaker" (103). Die bevindings van hierdie hoofstuk behoort rigtend te wees vir enige toekomstige studie oor die Afrikaanse teatersisteem; dit is jammer dat die bydraes in die bundel min vergelykings tussen Fourie en ander (Suid-)Afrikaanse dramaturge/teatermakers bevat. Hy word slegs 'n paar keer vergelyk met Bartho Smit.

Human se hoofstuk, "Metadramatiese elemente in Pieter Fourie se vierluik plaastragedies" is uiters netjies en leesbaar. 'n Bondige dog omvattende oorsig van die begrip "metadrama" of "metateater" word verskaf, en dan word die dramas Ek, Anna van Wyk (1986), Die koggelaar (1988), Donderdag se mense (1989) en Post mortem (oorspronklik in 1993 opgevoer, maar gepubliseer in 2019) sistematies ten opsigte van verskillende fasette van die metadramatiese ontleed. Die aanwending van hierdie metadramatiese tegnieke "dwing [... ] die gehoor/leser om die vierluik plaastragedies [...] as implisiete aangesprokenes te ervaar" (178). Dit is nie 'n volkome nuwe insig nie, maar Human bou hier sinvol voort op bestaande navorsing deur vergelykend en sintetiserend te werk te gaan.

In die bydraes deur die geskiedkundige Fransjohan Pretorius ("Historiese reste in die werk van Pieter Fourie"), kinderliteratuurkenner Maritha Snyman ("Pieter Fourie se kinderdramas") en dramastudent Annebelle Smit ("Pieter Fourie se komiese werk") sou sodanige vergelyking en sintese baie welkom gewees het. Helaas is al drie hoofstukke 'n ietwat eentonige opeenstapeling van feite: eers word die een drama ontleed, dan die volgende, dan die volgende, ensovoorts. Al drie hoofstukke dra ook swaar aan blote oorvertel van die dramagebeure en 'n gebrek aan teoretisering en kontekstualisering. Só skryf Snyman byvoorbeeld, "Dit is onmoontlik om binne die bestek van hierdie hoofstuk 'n oorsig oor die geskiedenis van die Afrikaanse kinderdrama te gee" (137) - maar sou dit werklik so 'n moeilike opgaaf gewees het om oor hierdie klein verskynsel te skryf? Ek is teleurgesteld gelaat en kon weinig waarde heg aan Snyman se noukeurige, dog beperkte analise van Fourie se drie kinderdramas.

Luwes se "insider profile", "Die stormjare by Kruik" (48-74) is interessant (dog herhalend, soos ek reeds uitgewys het), maar sy heroorweging van die drama Post mortem (233-250) voeg weinig tot die bundel toe. Dieselfde geld Keuris se effens wydlopende poging om die populariteit van Faan se trein te probeer verklaar (214-230). Die besluit om twee teater-resensente, Paul Boekkooi en Kerneels Breytenbach, te vra om 'n bydrae te skryf (75-92), was innoverend (veral aangesien die Akademie se huldigingsbundels in 'n mate op 'n breër gehoor gemik is). Maar hoekom is dit 'n gedeelde hoofstuk as hierdie "tweeluik" eintlik uit twee afsonderlike bydraes bestaan (wat mekaar te veel eggo)?

Benewens dramaturg is Pieter Fourie ook die skrywer van twee digbundels: Knapsekêrels (2017) en Bidsnoer (2018). In haar bydrae oor hierdie gedigte plaas Joan Hambidge Fourie se poësie veral in die konteks van sogenaamde "volkspoësie" in Afrikaans, soos veral bekend gemaak deur N.P. van Wyk Louw in sy "Klipwerk"-gedigte.

Oor die algemeen is die bydraes in die bundel knap geskryf en deeglik versorg. Tog het foute in feitlik elke hoofstuk ingesluip, veral ten opsigte van bronverwysings (te veel om hier te lys). Dit is 'n jammerte. Die bundel is pragtig uitgegee deur Protea Boekhuis.

Oorkoepelend is dit 'n belangrike bewaarstuk en onmisbare hulpbron vir toekomstige navorsers. Soos al die huldigingsbundels in hierdie reeks tot dusver maak Pieter Fourie: Teatermaker 'n daadwerklike bydrae tot die stand van navorsing oor die Afrikaanse letterkunde in die breë. Meer spesifiek is belangrike werk gegenereer oor Afrikaanse drama en teater, en een van die belangrikste figure binne daardie sisteem.

Jacomien Van Niekerk

Departement Afrikaans

Universiteit van Pretoria

E-pos: Jacomien.vanniekerk@up.ac.za

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons