SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue1An exploration of earth system vulnerability in the context of landfills in the AnthropoceneCreation of infrastructure during the Prime Ministry of BJ Vorster: Asset or liability for the South African economy? author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.60 n.1 Pretoria Mar. 2020

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n1a14 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die "Corps Pandoeren", 1793-1795: Krygers ter verdediging van die Kaapkolonie teen die einde van die Nederlandse bewind

 

The Pandour Corps, 1793-1795 : Soldiers in defence of the Cape Colony towards the end of Dutch rule

 

 

Johan de Villiers

Navorsingsgenoot, Universiteit van Zoeloeland. Durban, Suid-Afrika. E- pos: johanceciledev@gmail.com

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel belig die stigting en rol van die "Corps Pandoeren" aan die Kaap in die jare 1793-1795. Dit was 'n voordelige manier om die Kolonie te versterk teen 'n moontlike buitelandse vyand. Die korps is saamgestel uit weerbare manlike Khoekhoen en persone van gemengde afkoms wat vertroud was met die gebruik van 'n skietgeweer. Die offisiere was afkomstig uit ervare lede van die burgermag met Jan Cloete in 1795 as kommandant.
Die pandoere is as ligte infanterie operasioneel aangewend nadat 'n Britse besettingsmag in Junie 1795 in Simonsbaai aangekom het. Na die Britse aanslag op die Kompanjiespos Muysenburg (vandag Muizenberg) het die pandoere in samewerking met die burgerkavallerie by verskillende geleenthede sukses behaal as onkonvensionele of guerillavegters teen die vyand. Die ongevalle aan die kant van die pandoere was beperk, maar op 1 September het ontevredenheid in eie geledere gelei tot 'n opmars van gewapende pandoere vanaf Steenberg na die Kasteel in Kaapstad. Kommissaris Sluysken het hulle gemoedere kalmeer deur beloftes van beter onderhoud en twee stuiwers aan elkeen geskenk. Daarna was die dissipline en betroubaarheid van die pandoere in die weegskaal.Tog het tydgenootlike waarnemers, met enkele voorbehoude, groot lof vir die korps as 'n effektiewe gevegseenheid gehad.

Trefwoorde: Pandoer, Khoekhoen, Snaphaanen, Jan Cloete, Muysenburg, Steenberg, Skermutselinge, Sluysken, Opstand, Tydgenote


ABSTRACT

This article highlights the establishment and role of a particular military unit in the Cape Colony during the last years of rule by the Dutch East India Company (DEIC). The name "pandour" relates to Serbian, Croation and Hungarian languages, derived from the Latin name "banderius" for bearer of a banner. In 1741 a pandour corps was established in the Austrian empire to serve the interests of the Empress Maria Theresa. In the War of Succession against Prussia these pandours became notorious as brutally effective fighters in the Netherlands and present day Belgium.
Wars in Europe threatened DEIC rule of the Cape Colony in 1793, with future French or British occupation of this strategic outpost a real possibility. As an emergency measure visiting commissioners Nederburgh and Frijkenius decided to strengthen the Cape garrison with a regiment to be named the Pandour Corps. The rank and file, as well as the subalterns, were to be able-bodied Khoekhoen and persons of mixed racial origin, accustomed to the use of muskets, generally called "snaphaanen". Recruits were drawn from the various districts, including the Moravian mission at Baviaans Kloof.
The officers of the Pandour Corps were selected from experienced leaders in the Cape Garrison and local citizen forces, such as Jan Fürstenberg, Joël Herold and the brothers Jacobus and Johannes Linde. Eventually Jan Cloete, owner of the farm Nooitgedacht, close to the village of Stellenbosch, son of the wealthy Hendrik Cloete of Groot Constantia, was appointed as Commandant of the Pandour Corps.
When a British fleet with an invasion force on board arrived in Simons Bay on 11 June 1795 the pandours were stationed at the defensive lines of the strategic post Muysenburg (today Muizenberg) with other infantry and cavalry under direct command of Lieutenant Colonel Carel MW de Lille. The Cape government was hesitant to confront the British and allowed them to establish a strategic bridgehead at the Company's post at Simons Bay. The pandours were subsequently involved in various confrontations with elements of the British force. Eventually a combined British naval and overland onslaught against the Colonial forces took place at Muysenburg on 7 August.
The pandours were strategically withdrawn to Steenberg, but the next day, on 8 August, they confronted the vanguard ofthe British forces at Sandvlei with the assistance ofthe burgher cavalry. The enemy was compelled to retreat, leaving their baggage and provisions behind. Although five or six pandours lost their lives, it was clear that members of this corps excelled in unconventional or guerilla warfare.
In the early morning of 1 September a combined group of pandours and burgher cavalry launched a surprise attack on two advanced posts of the British in the vicinity of Muysenburg. Five British soldiers lost their lives and 14 were wounded, including two officers. There were no casualties on the part of the attacking force that achieved a moral victory.
That same afternoon an unexpected mutiny of pandours took place at Steenberg. They marched with theirfire-arms to the Castle in Cape Town to present their complaints personally to Commissioner Abraham Josias Sluysken, the highest official authority. They were unhappy about ill-treatment and lack of compensation. Sluysken appeased them by making certain concessions and rewarding them with two farthings each. The next day they marched back to Steenberg post, but were not prominent in subsequent developments. A capitulation treaty was concluded with the British invading forces on 14 September. Thus ended the Dutch East India Company's rule of the Cape Colony. It also put an end to the existence of the Pandour Corps as a functional element in the military organisation of the Cape Colony.
The Pandour Corps, with certain reservations, was generally held in high esteem by contemporaries such as Philippus Marnitz, Hubert Campagne, Christian Neethling and Abraham Sluysken.

Keywords: Pandour, Khoekhoen, Snaphaanen, Jan Cloete, Muysenburg, Steenberg, Skirmishes, Sluysken, Mutiny, Contemporaries


 

 

OORSPRONG

Die oorsprong van die term pandoer is interessant. Dit moet teruggevoer word na die Latynse woord banderius, ofte wel diegene wat 'n banier volg (WoordenboekderNederlandsche Taal 12:315). Deur oordrag het dit ook die betekenis van gewapende dienaar of soldaat verkry in die Serwo-Kroatiese en Hongaarse tale, nl. Pandür (Boshoff & Nienaber 1967:480). In 1741 het baron Franz von Trenck 'n "Corps Panduren" op sy landgoed in Slowenië tot stand gebring. Sy doel was om hierdie korps in belang van keiserin Maria Theresa se Habsburg-dinastie teen Frederik die Grote van Pruise se Hohenzollern-magte aan te wend. Die uitrusting van Von Trenck se voetsoldate was veelkleurig - hoë swart musse, blou hemde, wye kortbroeke, rooi mantels en Turkse stewels (Von Wrede 1898: eerste band 484 - 491; tweede band: 482). Die korps was spoedig berug vir hulle snel en dapper optrede, maar ook vir ongebreidelde wreedheid op die slagveld. Teen 1746 het hulle opgeruk teen Pruisiese vestings in die Oostenrykse Nederlande, vandag België (Bleckwenn 1987:25-29). In Nederland het die benaming pandoer die betekenis van woeste soldaat verwerf. Daar is selfs skertsend na enige ongedissiplineerde voetsoldate verwys as "pandoeren". Die Nederlandse amptenare aan die Kaap was teen 1793 goed bekend met hierdie term (Schreiber 1967:180-188).

Drie sake is van belang wanneer die aard en betekenis van die "Corps Pandoeren" van die Kaapkolonie nagespeur word. Eerstens was die korps 'n verdedigingsmiddel tydens ernstige bedreiging van die plaaslike samelewing deur 'n eksterne vyandelike mag. Tweedens is daar 'n beduidende verband tussen die korps en die uitgebreide landdrosdistrik van Stellenbosch. Laastens is dit opvallend dat elemente uit die bodem van drie kontinente in die korps aanwesig was, naamlik boorlinge of afstammelinge uit Afrika, Europa en Asië.

 

BURGERS EN AMPTENARE

Die stigting van 'n korps pandoere aan die Kaap moet ook binne die konteks van die destydse bevolkingsamestelling en bestuursreëlings in ag geneem word. Die landdrosdistrik van Stellenbosch het byvoorbeeld teen 1793 'n uitgestrekte gebied beslaan, selfs nadat dit vroeër drasties verklein is deur die stigting van die nuwe distrikte van Swellendam (1745) en Graaff-Reinet (1786). Die Stellenbosch-distrik se oostelike grens het gestrek vanaf Struisbaai (net oos van Kaap Agulhas) met 'n wye boog oor die Hexrivierberge met insluiting van die Bokkeveld, asook ooswaarts tot aan die Gamkarivier vanaf sy oorsprong in die Nuweveldberge, noord van die distrik Swellendam (Duminy 2011:40-41,44-45; Loock 1979: 425). Die Stellenbosse distrik het geen bepaalde noordgrens gehad nie (Penn 2005:170, 220). Teen die einde van die Kompanjiestyd was daar bykans 800 leningsplase in hierdie distrik (Visagie 1979:73). Die hoogste amptenaar in die distrik was landdros Hendrik Lodewijk Bletterman (1785-1795). Hy is bygestaan deur minstens ses verkose heemrade en 'n groot aantal veldwagmeesters met militêre agtergrond. Die manlike burgers van al die distrikte van die Kaapkolonie het teen 1793 op sowat 4 250 persone te staan gekom (Van Aswegen 1991:79-82; Visagie 1979: 68-73). In die troebele buitedistrikte van Graaff-Reinet en Swellendam het die onderskeie landdroste en heemrade 'n belangrike verantwoordelikheid oor plaaslike veiligheidsaspekte en landsverdediging uitgeoefen, veral genoodsaak deur die afstand vanaf Kaapstad, die koloniale hoofsentrum (De Wet 2016:127-128; Forbes 1965:3-6).

 

KHOEKHOEN EN DIE GEMENGDE BEVOLKING

Nomadiese Boesmans (San) in die afgeleë binneland was natuurmense en nie as militêr bruikbaar deur die owerheid beskou nie. Die ander amptelike vrye bevolkingselement in die buitedistrikte was die inheemse Khoekhoen en kleiner getalle persone van gemengde afkoms, destyds genaamd Basters. Die Khoekhoen was teen 1793 grootliks ontstam en ingeskakel by die koloniale leefwyse as plaaswerkers of inwoners van die Morawiese sendingstasie by Baviaanskloof in die Overberg. Hulle getalle is heelwat uitgedun deur die pokke-epidemies van 1713, 1755 en 1767. Teen 1793 was daar na raming slegs sowat 14 000 Khoekhoen (mans, vroue en kinders) in die Kaapkolonie woonagtig (Bird 1823:354). Die meeste manlike Khoekhoen was plaaswerkers onder kontrak en hulle vryheid van beweging onderworpe aan 'n verlofbrief (pas) deur die werkgewer. Sommige het uitgestyg as vaardige wadrywers, veewagters, druiwe-parsers, snoeiers, graanwerkers, heuningsmouse en so meer. In die binneland het hulle die kuns bemeester om te jag met die lang Europese voorlaaier-pangewere, bekend as "snaphaanen" (Van Aswegen 1991:121-123).

Bloedvermenging tussen Khoekhoen-vroue en manlike slawe, asook wit mans en vroue van gemengde afkoms het 'n nuwe groep in die samelewing geskep, onderskeidelik genaamd Baster-Hottentotte en Basters. Tydgenootlik is laasgenoemde onderskei deur hulle voorkoms en wit vaders. Hierdie mense van gemengde afkoms het bygedra tot die diverse bruin gemeenskap van vandag (Marsveld 1792:94; Heese 2005:73,85; Van Aswegen 1991:120). Teen 1793 was die samelewing van die onderskeie distrikte van die Kaapkolonie grootliks gestratifiseerd met die burgery as die dominante groep, die Khoekhoen as tweede belangrikste sosiale stand en dan 'n onvrye groep, te wete die slawe, as laagste sosiale klas, wat in besit van die VOC of die meer welgestelde ingesetenes was.

 

DIE KAAPSE GARNISOEN

Die Kaapse owerheid het die belange van die Kompanjie altyd eerste gestel te midde van ekonomiese knelpunte en besuinigingsmaatreëls. Daar was slegs beperkte middele om die Kolonie tydens 'n buitelandse bedreiging te beveilig. Buitelandse huurtroepe is aan die Kaap onttrek wat 'n ernstige leemte gelaat het. Vir binnelandse beveiliging is die unieke kommandostelsel gedurende die agtiende eeu ontwikkel, bestaande uit gewapende burgers en bedrewe Khoekhoen (De Villiers 1977:127-128).

Die Kaapse garnisoen was onder direkte militêre gesag van kolonel Robert Jacob Gordon, maar kommissaris-generaal Sluysken het amptelik en algeheel die hoogste gesag in die kolonie gevoer.Teen 1793 het die Kaapkolonie se totale verdedigingsmag uit slegs sowat 2 800 man bestaan, naamlik die Nasionale Bataljon onder luitenant-kolonel Carel Matthys W de Lille (546 manskappe), die Artillerie onder majoor Georg Küchler (403 artilleriste), die agtergeblewe depots van die Meuron- en Württembergse regimente (57 manskappe) en 'n aantal Maleier- of Asiatiese soldate (44 "sipahis") in Kompanjiesdiens, sowel as 'n reserwe burgermag, bestaande uit kavallerie en infanterie, altesaam ongeveer 1 600 gewapende manne (Potgieter 2016:188-191).

Die besoekende kommissarisse-generaal, SC Nederburg, 'n direkteur van die VOC met die titel advokaat, en seekaptein SH Frijkenius, het as noodmaatreël in 1793 besluit dat die Kaapse garnisoen onder meer verder versterk moes word met 'n "Corps Pandoeren", bestaande uit lede van die inheemse bruin bevolking van die Kaapkolonie. Dit sou finansieel goedkoper en makliker uitvoerbaar wees as oorsese huurtroepe (De Villiers 1977:128-129).

 

SAMESTELLING EN TOERUSTING VAN DIE KORPS

Die militêre gebruik van bruin mense was teen 1793 reeds goed gevestig in die distrik van Stellenbosch en geweste. Hierdie mense het op gelyke vlak met ander vryburgers deelgeneem aan die jaarlikse "militaire exercitie", einde Oktober op die Braak (Loock 1979:428). Baie van die "natuurlijke inwoonderen van dit land" wat 'n skietgeweer kon hanteer, het voorheen deel gevorm van die "Corps Bastaard Hottentotten" wat as noodmaatreël in April 1781 tot stand gebring is. Dit was tydens die Vierde Engelse Oorlog van Nederland, 1780-1784. Oudheemraad Gerrit Munnik van Stellenbosch was kommandant van hierdie korps, maar dit is weer in Junie 1782 ontbind nadat Franse huurtroepe (Luxemburg en Pondicherry) aangekom en die plaaslike verdediging versterk het (De Villiers 1977:121-126).

Toe 'n Europese oorlog in 1793 dreig, het die besoekende kommissarisse Nederburgh en Frijkenius die Politieke Raad aangespoor om met beperkte finansiële middele die kolonie optimaal militêr te versterk. Op 2 Mei 1793 het die Politieke Raad deur middel van 'n amptelike plakkaat opdrag aan die landdroste van die Kaap, Stellenbosch en Swellendam gegee om onverwyld alle bekwame Khoekhoen en Basters in hulle distrikte vir krygsdiens na die Kasteel in Kaapstad te stuur. Hulle moes daar 'n belangrike deel van die nuutgestigte "Corps Pandoeren" vorm. Dit is onbekend hoeveel elke wyk in elke distrik gelewer het, maar hulle is deur landdros Bletterman by die drosdy van Stellenbosch voorlopig gekeur en hulle vuurwapens tydelik in die Kruithuis (opgerig 1777) vir veilige bewaring gehou (Ibid.:133).

Die algemene oproep van weerbare Khoekhoen en sogenaamde Baster-Hottentotte uit die verskillende distrikte het nie net die boerderygemeenskap swaar getref nie, maar ook die Morawiese sendingstasie in Baviaanskloof (die latere Genadendal) wat binne die distrik van Stellenbosch geval het. Die manlike broodwinners van die nedersetting moes onttrek word om diens te gaan doen in die "Corps Pandoeren". Jan Marthinus Theunissen was as veldwagmeester in beheer van die Kompanjiespos te Zoetemelksvlei, en het as amptelike skakel gedien. Die sendelinge Hendrik Marsveld, Daniel Schwinn en Johann C Kühnel het die vertrekkende rekrute vermaan om tog nie die Christelike evangelie te vergeet nie (Marsveld 1992:95-96, 242; Krüger 1966:68-69).

Daar was uiteenlopende menings oor die gebruik van Khoekhoen as vaste soldate in die Kaapse garnisoen. Die reisiger Francois le Vaillant het gereken dat sulke soldate na die eerste sarsie skote of bombardement van 'n Britse eskader uiteen sou spat en nie weer verenig sou kon word nie. Hy was oortuig dat hulle natuurlike vegkuns niks anders was as die kuns om gevaar te ontwyk nie (Le Vaillant 1798:deel 3, 20,21). Daarteenoor het 'n ingeligte besoeker, Cornelius de Jong, met oortuiging aangevoer dat Khoekhoen-soldate net sulke goeie skuts soos die burgers van die kolonie was. Volgens hom sou hulle as voetsoldate doeltreffend weerstand teen 'n oprukkende vyand kon bied (De Jong 1803:deel 1,113). Binne twee jaar na die stigting van die "Corps Pandoeren" is hierdie soldate se waarde in die praktyk van werklike oorlogvoering getoets.

Die vroegste behoue naamlys van die "Corps Pandoeren" is gedateer 3 Augustus 1793. Dit bevat interessante gegewens. Sommige pandoere het Nederlandse vanne gehad, soos Bosman, Esterhuizen, Hendriks, Jacobs, Jansen, Mauritz, Noordhuis, Philip, Steeven en Van Wijk. Dit is nie noodwendig 'n aanduiding dat al hierdie pandoere Europese voorouers gehad het nie. Dit bevestig slegs dat hulle 'n geruime tyd in aanraking met die burgery was. Ontstamde Khoekhoen in diens van burgers het betreklik willekeurig Europese benamings vir hulself toegeëien of aanvaar wat aan hulle gegee is. Daar is ook enkele vreemdklinkende name in die register, soos Ali, Batie, Kadamoen, Koeta, Kwaak, Labberlot, Lardoes, Moedas, Tretus en Wicke. Volgens wyle dr ID du Plessis, 'n kenner van die Kaapse Maleiers, suggereer sommige van hierdie name sonder twyfel 'n Oosterse element ( De Villiers 1977:130-131).

Die militêre kamp van die korps was in die Kaapse distrik, naby die kus en sowat twee uur se reis vanaf die Kasteel. Dit was geleë by die Kompanjie se buitepos Rietvlei, net noord van die Dieprivier en relatief naby die monding van die Soutrivier (Sleigh 2005:220-225). Die pandoere is tydelik in hutte gehuisves wat deur hulself gebou is. Die owerheid wou hulle later oral in die Kaapse skiereiland ontplooi waar dit noodsaaklik vir verdediging was. Die voorbeeldige skoolmeester Jan Jacob van Zulch het die pandoere weekliks in hulle kamp besoek om die Christelike evangelie te verkondig. Hy het ondersteuning van die plaaslike predikante en Morawiese sending geniet (Krüger 1966:61; De Villiers 1977:131).

Die klere van die pandoere het ooreengestem met die Khoekhoen se gebruiklike baadjies en broeke van beesvel. Dit was sterk, maar vir die soldate ongemaklik omdat dit hulle beweeglikheid gestrem het. Hulle hemde was van swartkleurige linnemateriaal gemaak. 'n Ronde leermus en veldskoene het hulle kleding voltooi (De Villiers 1977:132-134). Die belangrikste deel van die pandoere se uitrusting was die gewere waaraan hulle gewoond was. Dit was vir die owerheid 'n besparing en het verseker dat die pandoere nie met aanpassing by nuwe gewere hoef te sukkel nie. Die tipiese swaar gladdeloop "snaphaanen" is gedurende die tweede helfte van die agtiende eeu ingevoer uit Nederland en vervaardig deur verskeie firmas, onder andere Culemborg, Oortman, Watermeyer en Beelander. Aan die Kaap het die VOC sy eie wapensmids in die Kasteel gehad vir die herstel van gewere. Die name van twee sulke Kompanjiesdienaars is bekend, naamlik JSF Botha en Johannes Wyderman (Berkovitch 1977:10-13, 19-20). In Julie 1793 het stamkaptein Jaager Africander ses gewere afgeneem van plunderaars in die binneland. Landdros Bletterman het aanbeveel dat dit na herstel deur die pandoere gebruik moes word.

 

 

Wat opleiding betref, is die pandoere vanaf 1793 stelselmatig vertroud gemaak met die groter kuns van landsverdediging. Met beperkte middele is dit behartig deur beskikbare onderoffisiere uit ander infanterie-afdelings van die garnisoen en die aanstelling van bekwame instrukteurs uit die burgermag. Die korps het ook aan militêre oefeninge en parades deelgeneem. So 'n indrukwekkende "Generaale Exercitie" het op 14 Mei 1794 in Kaapstad plaasgevind (De Villiers 1977:135).

Die pandoere was gewoonlik bedrewe skuts, maar hulle kleiner liggaamsbou was 'n belemmering in die hantering van hulle swaar en lomp gewere. Die laaiproses was ook omslagtig. Eers moes die haan in 'n veilige posisie gestel word. Daarna moes die korrekte hoeveelheid kruit en koeël in 'n lappie toegedraai en met 'n laaistok in die lang geweerloop gestamp word. Vervolgens moes ook 'n klein bietjie kruit in die pan geplaas word voordat die pandeksel toegemaak is. Dan eers kon die haan oorgehaal word, fyn gekorrel en die skoot afgevuur word (Byam 1988:40-41). Nuwe rekrute moes veral deur gereelde oefening vertroud gemaak word met die noukeurige hantering en gebruik van hierdie vuurwapens, wat vir alle infanterie gegeld het.

Die pandoere was in die algemeen bekwame wadrywers. Hulle was vertroud met osse as trek- en rydiere. Hulle het 'n voorliefde vir "CaabscheTabak" gehad en sou 'n sopie wyn of arak (rysbrandewyn) nie versmaai nie. Elke manskap het twee riksdaalders per maand as soldy ontvang. Dit was karige vergoeding, maar in ooreenstemming met ander diensdoende infanterie aan die Kaap. Vooruitstrewende manskappe van die "Corps Pandoeren" kon bevorder word tot onderoffisiere soos tamboerslaners of korporaals. Erkenning is ook deur ampstawwe (met 'n VOC-kenteken op 'n koperknop) aan stamkapteins verleen wat die korps ondersteun het. Voorbeelde is Daalie (alias Paulus) Haas van Baviaanskloof, asook Jaager Africander en Stoffel Kock van Boschmanskloof in die distrik Stellenbosch (Marsveld 1992:91).

Sommige offisiere van die korps het uit die geledere van die burgermag van Stellenbosch gekom. Benewens Jan Cloete was daar vanaf 1793 sersant Jan Fürstenberg en veel later in krisistyd die wagmeester, Joël Daniël Herold met die rang van "Cornet Supernumerair" (De Villiers 1977:131,139). Direkte bevel oor die pandoere in gevegsituasies is ook gevoer deur die broers Jacobus en Johannes Linde van Appelskraal naby Zoetemelksvlei en nog later die Deens gebore sersant Hans Abue van die Kompanjiespos in Mosselbaai (in die distrik Swellendam). Die offisiere het Franse sabels en boslem-messe ontvang om hulle status te beklemtoon. Boslemmers was groot lang messe met spits punte waarmee gekap of gesteek kon word en wat in 'n skede gedra is. Dit is deur die sendeling Christian Kühnel in Baviaans-kloof vervaardig en was gesog op graanplase in die Overberg (Sleigh 2005: 602-603; Beyers 1981:326-327; Krüger 1966:49; De Villiers 1977:134).

 

DIE CLOETES VAN NOOITGEDACHT

Kommissaris-generaal Abraham Josias Sluysken het op 26 Junie 1795 die Politieke Raad meegedeel dat hy eerste luitenant Johan Gerhard (algemeen bekend as Jan) Cloete van die Stellenbosse afdeling burgerkavallerie aangestel het as bevelvoerder van die "Corps Pandoeren". Hy sou amptelik die titel "Capitein der Hottentotten" beklee (Sluysken 1797:139).

 

 

Jan Cloete is op 9 Julie 1764 gebore op die landgoed Nooitgedacht, geleë naby Koe-lenhof (Van Huyssteen 1983:89). Die Cloetes van Nooitgedacht was vooraanstaande lede van die plaaslike gemeen-skap. Jan Cloete was die vierde seun van die hooggeagte Hendrik Cloete wat van 1764 tot 1771 as ouderling en heemraad van Stellenbosch gedien het. Daarna het Hendrik verhuis na Groot Constantia waar sy boerdery en sakebelange gefloreer het. In 1784 was daar 'n ongemaklike situasie toe Hendrik Cloete vir sy 20-jarige seun Jan en sy familiereputasie in die bresse moes tree. In paternalistiese styl het hy gedreig om hom selfs op die Here XVII te beroep teen die predikant van Stellenbosch, ds Philippus Kuys, wat sy wetlik minderjarige seun Jan sonder voldoende bewyse en strydig met kerklike prosedure beskul-dig het van 'n buite-egtelike kind by 'n dogter van die burger Smalberger (Schutte 2003:50). Die klag kon nie bewys word nie en op aandrang van die goewerneur is die saak laat vaar (Resolutie Boek, Kerkraad Stellenbosch,1784:142-143). Interessant genoeg het Jan Cloete sy lewe lank ongetroud gebly en voltyds op die plaas Nooitgedacht geboer. Sy natuurlike leierseienskappe, suksesvolle boerdery, familie-afkoms en gemaklike verhouding met die bruin bevolking was by die hoogste amptenare goed bekend. Hy het saam met sy broers offisiersrange in die Stellenbosse burgermag geniet. Hierdie oorwegings het swaar geweeg toe Sluysken die 31-jarige Jan Cloete in 1795 as bevelvoerder van die "Corps Pandoeren" aangestel het. Hy het tien jaar later op ouderdom 41 jaar op 27 April 1805 gesterf. Sy grafskrif op 'n leisteen is vandag nog te sien in die museum van die Moederkerk in Stellenbosch.

 

OPERASIONELE AANWENDING

Dit is onmoontlik om die getal pandoere afkomstig uit die verskillende distrikte te onderskei. Daarom is dit beter om die operasionele optrede van die korps in die algemeen te bespreek, maar ook af te lei dat die distrik Stellenbosch wat betref offisiere en manskappe oral merkbaar verteenwoordig was. Rekrute van hierdie distrik is opgekommandeer uit streke soos die Boland, Swartland, Roodezand, Bokkeveld, Roggeveld en Baviaanskloof in die Overberg. Die Kompanjie se poshouer by Zoetemelksvlei, sersant JM Theunissen, was by die Khoekhoen bekend as "Baas Theunis". Poshouers is algemeen as "Baas" aangespreek, ook deur wit mense. Theunissen het gereeld die Morawiese sendingstasie besoek met owerheidsopdragte in belang van die "Corps Pandoeren". Hy het hulle beveel om die Kolonie te help verdedig teen 'n vyand wat hulle nie geken het nie. Op 'n vraag van Isaac Boiva, een van die rekrute, of dit dan goed is om die vyand dood te maak, het die sendelinge hom geantwoord dat hy net die opdragte en bevele van die offisiere moes gehoorsaam ( De Villiers 1977:136-137).

 

 

Op 11 Junie 1795 het nege Britse oorlogskepe onder bevel van admiraal George Keith Elphinstone in Simonsbaai aangekom. Aan boord was 'n troepemag van 1 600 man onder bevel van generaal-majoor James Henry Craig. Die Kaapse owerheid was in 'n dilemma (De Villiers 2012:60-61). Aan die een kant was daar in eie geledere die Oranje-gesindes wat lojaal was aan die ontvlugte Stadhouer Prins Willem V en Britse beskerming sou verwelkom. Aan die ander kant was daar steun vir die Fransgesinde Patriotte wat 'n Bataafse Republiek in Nederland uitgeroep het. Die Politieke Raad onder leiding van Sluysken het besluit om 'n afwagtende houding in te neem. Poshouer Christoffel Brand moes intussen ter wille van humanitäre oorwegings die Britte toelaat om van die Kompanjiesgeriewe in Simonsbaai gebruik te maak. Dit het willens en wetens 'n gerieflike militêre brughoof vir die invallers op land geskep (Sluysken 1797:116 ; Potgieter 2016:195,202).

Die "Corps Pandoeren" se getalle is intussen dringend vermeerder, maar die nuwe rekrute was onopgelei en van swakker gehalte as die langer dienendes wat gereeld gedril en as gedissiplineerde infanteriste bekwaam is. Die korps het vanaf 13 Junie deel gevorm van luitenant-kolonel Carel MW de Lille se ligte infanterie by Muysenburg (die hedendaagse Muizenberg). Die pandoere is by geleentheid ontplooi op die omliggende berge as skerpskutters en verspieders. In die nag van 11 Julie het 12 pandoere in die geheim wolmateriaal en 'n bundel korrespondensie van burger-luitenant Hendrik Hurter by sy woning in Simonsbaai gaan haal. Op hulle terugtog is hulle deur Britse soldate voorgekeer en van hulle bagasie beroof. Ses pandoere is oornag deur die Britte gevange gehou en die volgende dag omgepraat om voortaan in hulle diens te tree. Elphinstone het die adjunk-poshouer, Henricus Brand, blatant gewaarsku dat hy voortaan die strategiese Simonsbaai vir die Britte sou beveilig met soldate van die 78ste Regiment en 'n aantal mariniers (Marnitz 1796: 92-97, 117; De Villiers 1977:140-141).

Op 16 Julie het 'n afdeling pandoere 'n aantal Britse soldate onder kaptein Donald Campbell by Vishoek voorgekeer, maar weer toegelaat om terug te gaan na Simonsbaai. In die begin van Augustus het 'n groep pandoere onder aanvoering van vleuel-adjudant Jacobus van Reenen ook in 'n skermutseling met lede van 'n Britse wagpos in die berge agter Simonsbaai slaags geraak. Een van die Britse soldate, by name Lord, is in die voet gewond deur die skerpskutters. Dit het 'n skynrede aan die Britte verskaf om die Kompanjiespos by Muysenburg aan te val (Ibid. 141; Marnitz 1796:92-97).

Op 7 Augustus het 'n groot Britse opmars vanaf Simonsbaai al langs die kus na Muysenburg plaasgevind. Tegelykertyd het vier Britse oorlogskepe (America, Stately, Rattlesnake en Echo) 'n hewige bombardement op die VOC se kamp by Muysenburg geloods waar die pandoere teen die berg verskuil was (Marnitz 1796:132). Cloete en sy pandoere moes na Steenberg terugval. Die Britse landmag vanaf Simonsbaai het die ontruimde militêre poste by Muysenburg beset na 'n moedige verset deur die plaaslike artillerie onder bevel van luitenant Philippus W Marnitz en kaptein-luitenant Christian Kemper. Die pandoere het daarna by Steenberg baie moed aan die dag gelê toe die Britse opmars verder gevorder het. Enkele pandoere is in die skermutselings gewond, maar die Britte is uiteindelik verplig om terug te val met vier gesneuweldes en twaalf gewondes in hulle geledere (Potgieter 2016:196).

Sowat 800 Britse soldate het die volgende dag, op 8 Augustus, oos van die Sandvlei weer teen die pandoere en burger-kavallerie te staan gekom (Campagne 1795:48, 55). Toe die pandoere agter om die duine die vyand bestook, het die Britte halsoorkop teruggeval en hulle bagasie agtergelaat. In hierdie skermutseling het vyf of ses pandoere gesneuwel en is enkeles gewond. Die meeste pandoere is daarna saam met die ander infanterie en artillerie in 'n magasyn by Steenbergpos gehuisves, maar die powere De Lille is eerloos vervang deur kaptein Bernardus C van Baalen. Teen 17 Augustus het ruim 200 pandoere reeds die voorpos by Steenberg beman. Hulle het gehelp om palissades op te rig en was daarna telkens betrokke in skermutselinge teen die Britte. Die burgers Jacobus en Johannes Linde het op bekwame wyse die pandoere vanuit hulle beskutte skuilings aangevoer. Op 18 Augustus het Jan Cloete en sy pandoere ook twee Britse soldate krygsgevange geneem. Die pandoere het in sulke omstandighede uitgemunt in onkonvensionele optrede wat as guerrilla-aanvalle beskryf kan word. Daarna was Jan Cloete ook lid van 'n offisierskommissie wat die waarde van Steenberg as militêre voorpos ondersoek het. Maar dit was reeds byna te laat want die plaaslike verdedigers was op die vooraand van 'n massale finale Britse aanslag oor land na die hoofplaas Kaapstad (Marnitz 1796:143-146; De Villiers 1977:144 -146).

Op 1 September het die pandoere wat tot 210 manskappe by die Steenbergpos aangegroei het, spontaan in samewerking met die burger-kavallerie, twee Britse voorposte naby Muysenburg aangeval. Die Linde-broers het hier weer die leiding geneem omdat Jan Cloete skielik ongesteld geword het, moontlik vanweë uitputting en stres. Sy ouer broer, Hendrik Cloete, en Samuel Katz, albei van die Stellenbosse burgermag, het daardie dag deel gevorm van 'n uiters suksesvolle verrassings-aanval. Baie Britse voorrade, selfs gewere, is gebuit. Dit was 'n groot morele prestasie waarin vyf Britse soldate gedood en 14 gewond is, onder andere twee offisiere (majoor Moneypenny en kaptein Dentaff). Daar was geen ongevalle aan die kant van die pandoere en die burger-kavallerie nie (Sluysken 1797:202-206; De Villiers 1977:146-147).

Dieselfde middag het 'n anti-klimaks plaasgevind. Ontevrede pandoere het hulle offisiere verlaat en in gewapende verset gekom. Dit was tegnies 'n muitery. Hulle het die Steenbergpos verlaat en gewapend na die Kasteel in Kaapstad opgetrek om die "Grootbaas ", dit is Sluysken, te spreek. Hulle het ses klagtes gehad:

Hulle moes altyd op die spits van die koloniale aanvalsmag veg.

Hulle is sleg behandel, sonder gereelde sopies, tabak en vergoeding.

Hulle wou nie langer saam met die burgers veg nie want hulle vroue en kinders is in die binneland afgeskeep sonder voldoende voedsel.

Die burger-offisiere by Steenberg het nie die oorlogsbuit aan hulle uitgedeel nie.

Die manskappe se soldy van slegs twee riksdaalders per maand was te karig.

Die beloofde 200 riksdaalders wat Sluysken as geskenk aan hulle gestuur het vir hulle ywer en dapperheid, is tot op daardie tydstip nog nie deur hulle ontvang nie.

Sluysken het geen alternatief gehad nie as om hulle met mooi beloftes en 2 stuiwers per manskap terug te stuur na die Steenberg-kamp waar hulle eers die aand van 2 September aangekom het. Veldkornet Andries Otto van Swarteberg (vandag Caledon) het vervolgens ook opdrag van Sluysken ontvang om 'n wavrag meel aan die gesinne van die pandoere by die Baviaanskloof-sendingstasie af te lewer (Sluysken 1797: 202-206; Loock 1979:430; De Villiers 1977:148-150).

Die opstandigheid en muitery van die pandoere by Steenberg was ongetwyfeld die uitbarsting van 'n komplekse en langdurige frustrasie. Dit was ook 'n teken van swak dissipline en verdeeldheid in leierskap. Gebrekkige kommunikasie en onvervulde beloftes was aan die orde van die dag. Dit was 'n simptoom van die heersende gevoelens onder die totale koloniale verdedigingsmag (Marnitz 1796:436,.444).

'n Britse vloot met troepeversterkings (4 000 tot 5 000 man) onder bevel van generaal Alured Clarke het op 3 September in Simonsbaai aangekom. Die oormag was oorweldigend. Op 11 September het Hans Abue van die Nasionale Bataljon noodgedwonge as tydelike kommandant van die "Corps Pandoeren" oorgeneem. Maar vir alle praktiese doeleindes was die effektiewe funksionaliteit en betroubaarheid van die pandoere twyfelagtig en op 'n einde (De Villiers 1977:150-151).

Ruim 30 pandoere het weliswaar nie aan die muitery op 1 September deel gehad nie. Hulle was gestasioneer by Houtbaai as hulp vir die artillerie onder kaptein-luitenant Christian Kemper. Op 14 September het hulle steun aan die plaaslike artillerie help voorkom dat Britse slagskepe onder leiding van kaptein John Blankett in 'n misleidingsaksie Houtbaai binnevaar. Tegelykertyd het die Britte se finale opmars oor land vanaf Muysenburg na Kaapstad begin (Campagne 1795:117; Potgieter 2016:197-198).

Die "Corps Pandoeren" is onttrek, eers na die Wynbergshoogte en daarna na Driekoppen (vandag Mowbray), terwyl die Britte se getalsoorwig (minstens 4 000 man) hulle in staat gestel het om tot op Nuweland te vorder. Sluysken en sy raadslede het 'n wapenstilstand versoek. Die Kolonie het amptelik op 16 September oorgegee nadat vredesonderhandelinge by die Kompanjieswoning Rustenburg in Rondebosch plaasgevind het (Marnitz 1796: 225-232). Elke pandoer het by ontslag een riksdaalder ontvang. Dit was die einde van hierdie veelbewoë korps. Geen pandoer van die Baviaanskloof-sendingstasie het gesneuwel nie en almal was teen 20 September terug by hierdie Morawiese sentrum (Krüger 1966:72-73).

Ongelukkig bestaan daar geen geskrewe rekord van hulle ervarings en mededelings van hul dienstyd in die korps nie en kan oor herinneringe slegs gespekuleer word.

 

TYDGENOOTLIKE EVALUERING

Hoewel die "Corps Pandoeren" se bydrae nie van beslissende belang in die Britse verowering van die Kaap was nie, het dit tog waardevolle militêre diens gelewer. Die term "pandoer" het bly voortleef in die spreektaal van die Kolonie. Sluysken het in sy gepubliseerde Verbaal aangevoer dat die pandoere die enigste infanterie-eenheid was wat bewys gelewer het van dapperheid op die slagveld (Sluysken 1797:296-297). Neethling het in sy Onderzoek van 't Verbaal gemeld dat die offisiere soos Jan Cloete en die broers Linde grootliks bygedra het tot die sukses van die pandoere op die slagveld (Neethling 1797: 57,91). Ook het Marnitz in sy Joernaal (Marnitz 1796: 118, 179,436) en Campagne in sy Memorie (Campagne 1795: 55, 97, 114) beklemtoon dat die pandoere waardevol in klein skermutselinge was. In sulke gevalle was die verrassingselement belangriker as blote getalle (De Villiers 1977: 151-153).

'n Vergelyking van die effektiwiteit van die pandoere teenoor die burgerkavallerie op die slagveld is onbillik. Die burgerruitery was beweeglik en snel in aksie, terwyl die pandoere as ligte infanterie veral suksesvol was vanuit verskuilde posisies. Hulle effektiewe operasionele aanwending het berus op noukeurige waarneming en strategiese beplanning, noue samewerking en stipte uitvoering van taktiese bewegings. Hulle suksesvolle gesamentlike optrede met die kavallerie teen die Britse voorposte op 1 September was hiervan getuie (Sluysken 1797:202206).

Ook die Britte het groot agting vir die pandoere se militêre optredes gehad. Die nuwe Britse bewindhebbers het spoedig na hul oorname van die Kaapkolonie weer 'n regiment bestaande uit Khoekhoen en persone van gemengde afkoms (Basters) tot stand gebring. Dit was ook die geval tydens die daaropvolgende Bataafse bewind en tweede Britse oorname van die Kaapkolonie.

 

BIBLIOGRAFIE

Berkovitch, B. M. 1977. Die Kaapse Geweersmid. Stellenbosch: Museum.         [ Links ]

Beyers, C. J. (red). 1991. SA Biografiese Woordeboek, deel 4. Pretoria: RGN.         [ Links ]

Bleckwenn, H.1987. Zum Militärwesen des Ancien Regime. Osnabrück: Biblio Verlag.         [ Links ]

Bird, W.1823. State of the Cape of Good Hope. London: Murray.         [ Links ]

Boshoff, S. P. E. & G. S. Nienaber. 1967. Afrikaanse Etimologieë. Pretoria: S AAkademie vir Wetenskap en Kuns.         [ Links ]

Byam, M. 1988. Wapens en Wapenrusting. Ooggetuie Reeks. Johannesburg:Southern.         [ Links ]

Campagne, H. D. 1795. Memorie en Bijzonderheden wegens Overgaave. Kaapstad: Verbatim-kopie,Wes-Kaapse Argief en Rekorddiens.         [ Links ]

De Jong, C.1803. Reizen naar de Kaap de Goede Hoop, Ierland en Noorwegen, deel 1. Haarlem.         [ Links ]

De Villiers, J.1977. Hottentotregimente aan die Kaap, 1781 - 1806. Argiefjaarboek vir SA Geskiedenis, 1970, deel 2. Pretoria: Staatsdrukker.         [ Links ]

De Villiers, J. 2012. Die Nederlandse Era aan die Kaap, 1652 - 1806. (Geskiedenis van SA van voortye tot vandag ). Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

De Wet, C., L. Hattingh & J. Visagie (reds). 2016. Die VOC aan die Kaap, 1652-1795. Pretoria: Protea.         [ Links ]

Duminy, A. 2011. Mapping South Africa. Johannesburg: Jacana.         [ Links ]

Elphick, R. & H. Giliomee (reds). 1979. The Shaping of SA society, 1652 -1820. Kaapstad: Longman.         [ Links ]

Forbes, V. S. 1965. Pioneer Travellers in South Africa. Cape Town: Balkema.         [ Links ]

Heese, H. F. 2005. Groep sonder Grense. Pretoria: Protea.         [ Links ]

Kerkraad Stellenbosch, Resolutie Boek,1784. Stellenbosch: Kerkargief.         [ Links ]

Krüger, B.1966.The Pear Tree Blossoms. Genadendal: Morawiese Kerk.         [ Links ]

Le Vaillant, F. 1798. Reize in de Binnenlanden van Afrika, deel 3. Leyden & Amsterdam.         [ Links ]

Loock, J. C. 1979. Militêre geskiedenis (Stellenbosch Drie Eeue). Stellenbosch: Stadsraad.         [ Links ]

Marais, J. S. 1962. Maynier and the first Boer Republic. Kaapstad: Maskew Miller.         [ Links ]

Marnitz, P.W. 1796. Verhaal van de Overgaave van de Kaap. Wes-Kaapse Argief en Rekorddiens: Verbatim-kopie.         [ Links ]

Marsveld, H., D. Schwinn & J. C. Kühnel. 1992. The GenadendalDiaries,1792-1793. Bellville: IHR.         [ Links ]

Neethling, C. L.1797. Onderzoek van 't Verbaal van A J Sluysken. Amsterdam.         [ Links ]

Penn, N. 2005.The Forgotten Frontier. Kaapstad: Juta.         [ Links ]

Potgieter, T. 2016. Verdediging van die Kaap teen 'n buitelandse bedreiging, 1781 - 1795. ( Die VOC aan die Kaap). Pretoria: Protea.         [ Links ]

Schreiber, G.1967. Des Kaisers Reiterei. Bertelsmann. Wien:Bertelsmann.         [ Links ]

Schutte, G. J. 2003. Hendrik Cloete, Groot Constantia en die VOC. Kaapstad: Van Riebeeck-Vereniging, no 34.         [ Links ]

Schutte, G. J. 2018. Hendrik Swellengrebel in Afrika, journalen van drie reizen. Kaapstad: Van Riebeeck-Vereniging, no 49.         [ Links ]

Sleigh, D. 2005. Die Buiteposte 1652 - 1795. Pretoria: Protea.         [ Links ]

Sluysken, A. J. 1797. Verbaal. 's Gravenhage.         [ Links ]

Van Aswegen, H. J.1991. Geskiedenis van SA tot 1854. Pretoria:Academica.         [ Links ]

Van Huyssteen, T.1983. Hart van die Boland, die Nederlandse komponent. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Von Wrede, A. F. 1898 en 1901. Geschichte der K und K Wehrmacht, Band 1 - 3. Wien: Seidel. Woordenboek der Nederlandsche Taal , deel 12 (pandour).         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2019-12-14
Goedgekeur: 2020-01-25
Gepubliseer: Maart 2020

 

 

 

Johan de Villiers is 'n Navorsingsgenoot en voorheen ook Senior Professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Zoeloeland. Hy woon tans in Stellenbosch en doen onder andere navorsing oor die militêre geskiedenis van die Kaapkolonie in die agtiende en negentiende eeu.
Johan de Villiers is a Research Fellow and previously Senior Professor of History at the University of Zululand. He has settled in Stellenbosch and researches inter alia the military history of the Cape Colony during the eighteenth and nineteenth centuries.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License