SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 número4Eerste kouefronte na 80: Stygende waters 1 Julie 2018 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.59 no.4 Pretoria Dez. 2019

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2019/v59n4a21 

TAALRUBRIEK

 

Allerlei

 

 

Die afgelope tyd het ek weer verskeie (vir my interessante) foute in gedrukte materiaal raakgelees. Hier volg drie van hulle:

1. Kyk na die volgende paragrafie, nogal uit die hoofartikel van ʼn groot Afrikaanse koerant:

Dit is ook opmerklik dat baie van dié spanning toenemend deur die moeilike kwessie van ras aangedryf word. Synde die party groot vordering gemaak het om diversiteit in eie geledere te bevorder, ... is dit verstaanbaar.

Synde is die teenwoordige (onvoltooide) deelwoord van wees, die ekwivalent van being in Engels. As ʼn mens jou being in daardie sin indink, is dit direk duidelik dat dit eenvoudig nie (kan) deug nie. Wat in die plek van Synde hier bo moes kom, is aangesien. Hierdie werklik uiters vreemde gebruik van synde het ek al meermale raakgelees, selfs in die groep *synde dat. (In taalkundekonvensie dui ʼn asterisk só gebruik op ongrammatikaliteit.)

Ek kan maar net raai waar dit vandaan kom. Myns insiens het dit ʼn anglisistiese kleurtjie, maar met ʼn ompad. Dalk het dit so gebeur: Vroeër, toe ons nog moes leer wat alles anglisismes was, is dit in ons ingedril dat *siende dat (uit seeing that) ʼn onaanneemlike anglisisme vir aangesien was (en dit is nog steeds!). Êrens het hier ʼn kraaines gevorm van aangesien na siende dat na synde (dat), waarskynlik omdat iemand die klok hoor lui het, maar nie geweet het waar die klepel hang nie. Miskien is dit ʼn geval van hiperkorrektheid, wat die WAT definieer as "'n foutiewe taalvorm wat ontstaan deurdat 'n spreker of skrywer wat bewus is van 'n bepaalde tipe van fout, 'n korrekte vorm daarmee assosieer en dit dan ten onregte analogies wysig".

ʼn Sin kan wel met synde begin, byvoorbeeld "Synde ʼn party wat groot vordering gemaak het om diversiteit in eie geledere te bevorder, is Party X goed op pad na ʼn oorwinning", maar dan moet mens versigtig wees vir wat in Engels soms ʼn "dangling participle" genoem word - daar moet ʼn duidelike onderwerp wees wat kan "syn". Dit moet byvoorbeeld omgestel kan word tot "Party X, synde ʼn party wat ...", en dit is in die aangehaalde sin nie moontlik nie.

2. ʼn Tweedetaalspreker gee hom/haar gou as sodanig weg indien hy/sy idiomatiese foute maak. Daarmee bedoel ek nie (net) dat die persoon sogenaamde idiome verkeerd gebruik nie, maar dat hy/sy dinge sê op ʼn manier wat ʼn moedertaalspreker nie sal nie.

Net so onidiomaties as wat dit is om in Engels te sê "I threw the dog with a stone" omdat ons in Afrikaans sê "Ek het die hond met ʼn klip gegooi", net so onidiomaties is dit om in Afrikaans ʼn vroulike voornaamwoord te gebruik vir byvoorbeeld ʼn skip, boot, vliegtuig of motor. Dit bly in Standaardafrikaans eenvoudig onidiomaties om so ʼn saak sy of haar te noem. In Standaardafrikaans is sulke sake meestal hy en hom, en soms dit.

Natuurlik verander taalgebruike met verloop van tyd. Die opkoms van die feminisme die afgelope dekades het byvoorbeeld meegebring dat algemene verwysings na persone nie meer net met die manlike voornaamwoord geskied nie. Mense gebruik baie meer die manlike sowel as vroulike voornaamwoorde, of meervoudsvorme sodat die gemeenslagtige hulle gebruik kan word. (In Engels word dit skynbaar toenemend aanvaarbaar om ʼn enkelvoudsvorm met ʼn meervoudsvorm te kombineer, bv. A person may not ... if they ..., maar dit is vir my in Afrikaans onaanvaarbaar.)

Vroeër het ons Interpretasiewet, 1957, eenvoudig gesê dat die manlik ook die vroulik insluit, maar deesdae word albei geslagte telkens in ons wetgewing gebruik. Die gebruik van albei voornaamwoorde bring egter niks wesenlik onidiomaties mee nie, al is dit soms stilisties minder elegant, byvoorbeeld in ʼn sin soos "As hy of sy hom of haar skuldig maak aan ..." of "As hy of sy sy of haar paspoort verloor ...".

Een van die mees bisarre foute wat in dien verbande gemaak word, is die m.i. uiters onidiomatiese nuk om die vroulike voornaamwoord vir Afrikaans te gebruik. In ʼn tyd dat Standaardafrikaans al hoe meer onder druk kom en dese en gene hulle oral daaroor uitlaat, is dit ironies dat die idioom van Standaardafrikaans juis aangeveg word deur onidiomatiese stellings soos "Afrikaans en haar sprekers", "situasie waarin Afrikaans haar bevind" of "Afrikaans is ons taal en sy sal ...". Hierdie soort idiomatiese verwringing van Standaardafrikaans moet tot elke prys vermy word.

3. Ek het in hierdie rubriek al minstens twee maal verwys na ʼn reël uit die eerste AWS (1917), naamlik:

Wanneer die een of ander woordsoort-behalwe ʼn bijvoeglikenaamwoord-ʼn selfstandige naamwoord nader bepaal, word die twee aaneengeskrijwe: noordpool, seewater, môreson, uitspanplek.

Dié vuisreëltjie, al is hy nie sonder probleme nie, kan uitgebrei word, want ander woordsoorte kan ook so "nader bepaal" word. Dink maar aan iets soos bloedrooi of grasgroen, waarin die byvoeglike naamwoorde rooi en groen telkens deur ʼn selfstandige naamwoord bepaal word, of asemhaal, waarin die werkwoord haal deur ʼn selfstandige naamwoord bepaal word.

Nog ʼn woordsoort wat so deur ʼn ander woordsoort bepaal kan word, is ʼn hooftelwoord, veral deur die selfstandige naamwoord top ('boonste, hoogste, beste'), byvoorbeeld die toptwintig, die topvyf en so meer. So ʼn samestelling kan selfstandig gebruik word, byvoorbeeld Die toptwintig het almal studiebeurse ontvang, dit wil sê die toptwintig leerlinge/studente, bedoelende 'die twintig leerlinge/studente wat die beste presteer het'.

Syfers en ʼn koppelteken kan ook gebruik word: die top-20, die top-5.

Meestal word so ʼn telwoordsamestelling egter saam met ʼn selfstandige naamwoord gebruik, byvoorbeeld die top-20 leerlinge, die top-5 boere. Wanneer dit gebeur, bly die samestelling top + telw. steeds ʼn telwoord, al is dit ʼn "gekwalifiseerde" telwoord - dit is immers nie sommer enige 20 of 5 nie, maar die beste 20 of 5.

Net so min as wat ʼn mens die beste *12-presteerders of die boonste *5-boere sal skryf, moet jy die *top 12-presteerders skryf. So ʼn kombinasie van top + telw. + s.nw. is nie dieselfde as dié wat in AWS-reël 7.2 bereël word nie. Dié reël bepaal:

Indien die voorbepaling van 'n samestelling bestaan uit 'n woord of afkorting gevolg deur 'n syfer of simbool, word die woord of afkorting in die voorbepaling los van die syfer of simbool geskryf.

Voorbeelde hiervan is art. 21-maatskappy of artikel 21-maatskappy en graad 1-leerling of gr. 1-leerling.

Die verskil is dat by reël 7.2-gevalle die groep (woord/afkorting + syfer/simbool) gesamentlik of as geheel die laaste woord (bv. maatskappy/leerling) bepaal, terwyl top in byvoorbeeld die top-12 presteerders slegs die telwoord bepaal. Laasgenoemde is dus die korrekte skryfwyse.

 

JD (Tom) Mclachlan

E-pos: tommcl@whalemail.co.za

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons