SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 número4The problem of father absenteeism in South Africa:A possible solution according to Biblical guidelinesEerste kouefronte na 80: Stygende waters 1 Julie 2018 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.59 no.4 Pretoria Dez. 2019

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2019/v59n4a18 

BOEKBESPREKINGS  BOOK REVIEWS

 

 

Titel: P.G. du Plessis. Hy was 'n rukkie pagter hier. 'n Huldiging
Outeur: Heilna du Plooy (red.)
Uitgewer: Somerset-Wes: Litera Publikasies, 2019
ISBN: 978-1-920188-54-2

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het besluit om 'n reeks huldigingsbundels "ter ere van literêre kunstenaars wat die Akademie se Hertzogprys ontvang het" te onderneem. Die eerste hiervan, onder redaksie van Jacques van der Elst, het in 2017 verskyn, Adam Small: Denker Digter Dramaturg. Die volgende drie bundels het sommer almal in hierdie jaar verskyn: Pieter Fourie - Teatermaker, onder redaksie van Fanie Olivier, P.G. du Plessis. Hy was 'n rukkie pagter hier, onder redaksie van Heilna du Plooy en pas, net betyds vir Breyten Breytenbach se tagtigste verjaarsdag het die vierde huldigingsbundel verskyn, naamlik, breyten breytenbach. woordenaar woordnar, onder redaksie van Francis Galloway.

Die doel van hierdie huldigingsbundels word op die agterflap van die P.G. du Plessis-bundel onder meer uitgespel as 'n manier om die "statuur van Hertzogpryswenners te vergestalt". Daar is min twyfel dat die Herzogprys hoë prestigewaarde het, maar die toekenning van dié prys was deur die jare dikwels omstrede. Adam Small het byvoorbeeld nie die Hertzogprys in die 1960's ontvang toe hy beslis daarvoor in aanmerking gekom het nie en is eers in hierdie eeu, nadat die politieke situasie in die land verander het, met dié prys vereer. In woordenaar woordnar wy Francis Galloway 'n lang hoofstuk aan die omstrede wyse waarop die toekenning van die Hertzogprys vir poësie om politieke redes ook nie aan Breytenbach gemaak is gedurende die 1960's en 1970's nie en die herrie wat in 1984 ontketen is toe Breytenbach die Hertzogprys met skerp kritiek op die Akademie van die hand gewys het. In 2008 is die Hertzogprys weer aan hom toegeken en hierdie keer het hy dit ook aanvaar.

Ook PG du Plessis het nie neutraal teenoor die Akademie gestaan nie. Hoewel hy in 1971 selfs lid van die Akademie se letterkundekommissie was toe die Hertzogprys vir poësie aan Elizabeth Eybers, eerder as aan Breyten Breytenbach toegeken is, het hy later (onder meer in 'n Seder val in Waterkloof) gespot met die selfingenome belangrikheid van die Akademie.

Ondanks al die omstredenheid kan niemand ontken dat die skrywers, digters en dramaturge aan wie tot dusver deur hierdie reeks publikasies hulde gebring is, die lof verdien nie. Die Afrikaanse literêre wêreld is relatief klein en dikwels val die aandag slegs op jongste werke wat gepubliseer word terwyl ouer werk snel in die niet verdwyn. Hierdie huldigingsbundels gooi bietjie wal teen die groot vergeet. Dit bied ook die geleentheid om oorsigte oor die betrokke pryswenners se werk te bied - om 'n hele loopbaan in oënskou te neem, terwyl rekenskap gegee kan word oor spesifieke aspekte van hulle werk.

Sommige van die bydraes tot die verskillende bundels is soos artikels vir akademiese tydskrifte geskryf, terwyl ander meer anekdoties is, persoonlike herinnerings, en dit is nie altyd duidelik op watter lesers die Akademie die huldigingsbundels mik nie: op 'n algemene publiek of op 'n akademiese gehoor? Dit sou sin maak om die bundels vir 'n akademiese gehoor te laat saamstel, aangesien daar nie baie akademiese boeke in Afrikaans verskyn nie. Die mark is te klein om akademiese werke naastenby bekostigbaar uit te gee. Selfs 'n wyer mark wat nie-akademiese lesers sou insluit, is ook maar klein en die kanse om 'n studie oor 'n spesifieke skrywer se werk en lewe kommersieel uit te gee, is gering. Daarom is die Akademie se inisiatief om die boeke te laat uitgee lofwaardig. Dit lyk egter of dit aan die redakteurs oorgelaat word om te besluit of die bundels meer streng wetenskaplik sal wees of meer populêr toeganklik. Die insluiting van 'n omvattende biografie by so 'n bundel skep die indruk dat die doel tóg ook is om 'n soort naslaanbron te wees, 'n nuttige vertrekpunt vir verdere navorsing.

P.G. du Plessis. Hy was 'n rukkie pagter hier, bevat sowel hoofstukke wat meer akademies is en wat op navorsing berus as bydraes van 'n meer persoonlike aard en wat nie noodwendig aan die voorwaardes vir "wetenskaplikheid" wat akademiese tydskrifte stel, sou voldoen nie. Dit lyk asof Du Plooy probeer het om 'n huldeblyk saam te stel wat uit sowel akademiese bydraes as persoonlike bydraes bestaan en dit is miskien gepas, want soos Du Plooy in haar inleiding opmerk "is dit so dat 'n lys van iemand se werk en prestasies nog nie 'n diepgaande beeld van sy persoonlikheid of die aard en gehalte van sy werk kan gee nie. En P.G. du Plessis was juis 'n mens wat moeilik vas te vat was in enkele woorde" (7).

Du Plessis se veelkantigheid word vanuit verskillende kante belig. Hy was immers self in die akademie, 'n dosent by Wits; hy het ook 'n doktorsgraad verwerf en het op die Akademie se letterkundekommissie gedien. Hy het die akademiese loopbaan egter verruil vir die joernalistiek en later het hy op sy plaas gaan bly waar hy voltyds geskryf het, geboer het en gedelf het. Sy skryfwerk het eweneens verskuif van die Herzogprysbekroonde dramas Siener in die Suburbs en Die nag van Legio na gewilde TV-reekse soos Koöperasiestories en minder suksesvolle reekse soos Andries Plak.

Jeanette Ferreira het my op 'n dag vertel dat Du Plessis sy eie loopbaan as skrywer deur middel van 'n storietjie aan haar beskryf het: Daar was eendag 'n man wat rose gekweek het. En toe kom kyk al die mense na sy roos en staan verstom oor sy wonderlike roos en gee vir hom pryse daarvoor. Toe besluit die man hy is nie meer lus om met rose te boer nie, hy gaan voortaan met pampoene boer. Toe kweek hy die heel grootste en mooiste en lekkerste pampoen en nooi al die mense om te kom kyk na die pampoen. Toe kom hulle en kyk daarna en skud net die kop en loop weg en sê "Dit is nie 'n roos nie."

In 'n sekere sin het Du Plessis se loopbaan en lewe saamgeval met die vervaging van die grense tussen "Hoë-" en "lae-" kuns, maar hy was self nog die slagoffer van die vooroordele toe hy uit hierdie kategorieë wou breek. Hy wou kennelik graag vermaak - en het dit ook van vroeg in sy loopbaan meer suksesvol reggekry as talle ander dramaturge. Die kritiek vanuit akademiese oord het daartoe gelei dat Du Plessis later die rug gekeer het op die akademiese hantering van die letterkunde (9). Ironies genoeg is daar ook in hierdie bundel verskeie voorbeelde van die soort akademiese hantering van literatuur waaraan hy geen erg gehad het nie.

Die huldeblyk deur Hans du Plessis is persoonlik, roerend en ook insiggewend. Hy vertel op vermaaklike wyse oor PG wat "narrative pull" as 'n tegniese term gebruik het om 'n bepaalde roman te beskryf en hoedat hy te skaam was om te erken dat hy die term nie ken nie en oral probeer uitvind het wat dit beteken totdat hy besef het dit is PG se eie term. En sommer ook verstaan het wat hy daarmee bedoel het. Uit hierdie hoogs persoonlike vertelling, kry mens 'n beeld van PG du Plessis as mens. Die onderhoud wat Heilna du Plooy kort voor sy dood met PG du Plessis gevoer het, bied benewens 'n oorsig oor sy lewe ook interessante opmerkings oor die vertelkuns en oor die invloed van Van Wyk Louw op hom. Dit is duidelik dat PG hier nie meer heeltemal gesond was nie en die gesprek verloop nie altyd doelgerig nie, maar telkens val sy bekende skerpsinnigheid op, sy verbysterende vermoë om raak te verwoord. Die onderhoud, 'n inleiding deur Heilna du Plooy, en Hans du Plessis se beskrywing van hul vriendskap, vorm saam die eerste, meer persoonlike afdeling van die boek.

Die boek bestaan uit ses afdelings.

In die tweede afdeling word "Die dramas" onder die loep geneem. Die bydrae deur die biochemikus, C.J. Reinecke, oor Plaston: DNS-kind bespreek die "wetenskaplike basis" van hierdie drama uit 1973. Hoewel dit interessant is dat hy aantoon dat die wetenskaplike agtergrond kennelik deeglik deur Du Plessis nagevors is, lewer die artikel nie verder 'n groot bydrae tot die ondersoek van die drama of Du Plessis se werk in die algemeen nie. Die ondersoek na menslikheid, menslike gedrag wat so sentraal in Du Plessis se werk staan, word nie belig nie.

Die bydrae deur Van Coller en Van Jaarsveld, "Kyk en sien in die dramas van P.G. du Plessis: Rekonstruksies van 'n poëtika", is 'n voorbeeld van die soort akademiese ondersoek van die letterkunde waaraan PG du Plessis so 'n hekel gehad het. Wat op die ou einde enkele opmerkings oor die dramas onder bespreking is, wat gemaak word op grond van 'n stiplees en interpretasies van die tekste, word verdoesel agter 'n lang teoretiese relaas wat 'n allure van ingewikkelde teoretiese begronding bied.

Die twee hoofstukke deur Karen de Wet gaan altwee oor 'n Seder val in Waterkloof. Albei hoofstukke bevat interessante inligting wat insiggewend is ten opsigte van Du Plessis se werk sowel as die Afrikaanse literêre wêreld van die 1970's. Die hoofstukke oorvleuel effens en bevat herhalende elemente. 'n Saakliker aanpak kon die hoofstukke meer leesbaar gemaak het.

Een van die probleme van die akademiese studie van letterkunde is dat terreine afgebaken word en daarop gespesialiseer word. Só word in hierdie bundel byvoorbeeld afsonderlike afdelings gewy aan die "die dramas", "die verhale" en "die TV-werk". 'n Mens kan verstaan dat spesialisering dikwels lei tot deegliker werk, maar wanneer "PG du Plessis en die Afrikaanse literêre bestel met verwysing na 'n Seder val in Waterkloof" bespreek word, verwys De Wet byvoorbeeld na die "lang stiltes" in sy drama-oeuvre en bou 'n argument daarom sonder om in ag te neem dat daardie nie regtig lang stiltes was nie, maar dat hy gedurende daardie tydperke byvoorbeeld by televisie en filmwerk betrokke was. Die hoofstuk val so bietjie tussen 'n bespiegelende soort psigologiese biografie en boeksosiologie, maar daar is nietemin veel interessante inligting.

Ook in "'n Seder val in Waterkloof van P.G. du Plessis: Verslag van 'n literêre resepsie en produksiegeskiedenis" bring De Wet heelwat interessante inligting byeen maar weens die beperking om die drama slegs binne die Afrikaanse dramageskiedenis te lees, word ander interessante moontlikhede - soos verbande met sy TV-werk - of die konteks van Suid-Afrikaanse letterkunde ongelukkig uitgesluit en die oortuigingskrag van die argument ingeperk.

Die derde afdeling bevat vyf hoofstukke onder die opskrif, "die verhale". Heilna du Plooy het 'n besonder waardevolle besluit geneem, naamlik om die korrespondensie tussen Elize Botha en PG du Plessis hier in te sluit. Du Plooy was die samesteller van Gespreksgenoot: 'n Brieweboek (2017) 'n samestelling van briefwisseling tussen Elize Botha en verskeie ander literatore en kunstenaars en het sodoende toegang gehad tot al Botha se briewe. In 'n brief wat sy "waarskynlik in 1999" aan PG rig, vra Elize Botha hom uit oor verskeie aspekte van sy werk. Sy antwoorde aan Botha is van die insiggewendste in die boek en verskaf insig in sy denke oor kuns, oor skryfwerk, oor die lewe en oor menswees. In sy antwoorde herken mens die skerpheid van sy intellek, die vermoë om raak te verwoord en sy mensekennis, sy insig in menslike bestaan. Ek gee enkele voorbeelde: hy skryf in antwoord op 'n vraag oor die "Pietersetjies":

Ek het 'n ding daaroor dat intelligensie in baie meer vorme kom as net dié wat jou in staat stel om somme te doen en reg te spelle. Om die frase wat ek al baie gebruik het, te herhaal: die Liewenheer het nie na IK gekyk toe hy siele uitgedeel het nie. (Of leed, pyn, goedheid, liefde.)

Hy skryf ook oor morele waardes: "Lesers moet ook maar by elke teks aan hulle eie waardes begin rek, anders moet hulle maar die helfte van hulle boeke weggooi."

Onder 'n opskrif "Die verskrikkinge van die mens" skryf hy:

So is ons. So is ek, as ek in ander omstandighede, met ander motiverings en ander leed te make gehad het. But for the grace of God daar is geen einde aan ons perversies en wreedhede en luste nie. Of aan ons klein en groot leed nie. Elkeen sou sy wêreld anders wou gehad het, en hom- of haarself. Skryf is dalk ook die kyk na die onnoemlike binne-in jouself - na dit waarvan jy goddank min genoeg ontvang het om dit nooit tot 'n daad te bring nie. Om die mensdom 'n bietjie lief te hê kom uit deernis, en deernis kom uit jammerte, en jammerte kom uit skrik - dat dit jy kon gewees het met wie dit gebeur het, dat dit jy kon gewees het wat so was.

Du Plessis skryf ook dat alle skryfwerk eintlik tussen twee pole lê: "Daar is stories wat in hulle uitgangsgegewe en die opeenvolging van hulle gebeure en gebeurtenisse en in die uitloop van hulle eindes so presies in die menslikheid en die menslike "toestand" voeg dat hulle selfs die vrotste vertel kan verduur en mens nog kan aanspreek." Hy beskryf hierdie as die "heilige graal" van storievertelling. Die ander pool is die verhaal "só-goed-vertel dat selfs die voordrag van die telefoonboek aangrypend word () digters sê soms bôgherôl só mooi () Die res van ons maaksels lê in mengsels tussen dié twee pole."

Die essay oor humor in PG du Plesis se Koöperasiestories deur Anna-Marie le Roux kry presies reg wat gebeur met menige poging om 'n grap te verduidelik. Uiteindelik is daar niks meer om oor te lag nie. 'n Lang lys van soorte humor en maniere waarop humor bewerkstellig word uit die teoretiese literatuur word van voorbeelde uit Koöperasiestories voorsien sonder dat die leser onder die indruk kom van hoe Du Plessis humor hanteer. Hierteenoor bied Marlies Taljard se bydrae '" en in die oggende voor my spieël skeer ek grafletsels uit skuim'": "Ons mond" as outobiografiese verdigsel" 'n demonstrasie van waarom PG du Plessis 'n meesterverteller is.

Van Coller en Van Jaarsveld se bydrae oor Fees van die ongenooides bied besonder interessante leesstof. Dit is geskoei op deeglike navorsing oor die ondersoek van die verlede en 'n versigtige lees van die roman. Uiteindelik blyk PG se historiese bewustheid en die komplekse manier waarop hy met die verlede omgaan uit hierdie bydrae. Fees van die ongenooides is veel meer as verhaal van menslike lyding en van liefde en oorlog teen 'n toevallige historiese agtergrond. Dit is 'n roman waarin die wyse waarop ons nadink oor die verlede en die invloed daarvan op ons bestaan in die hede, ondersoek word. Ook in Hein Viljoen se bydrae oor Fees van die ongenooides word 'n beeld van PG du Plessis as meesterverteller duidelik. Deur op die rol van foto's in die roman te fokus, word aan die een kant aangedui hoedat foto's kan help om te onthou, ook dit wat mense liewer wil vergeet. Ook die onbetroubaarheid van foto's om die werklikheid van die verlede weer te gee word belig sodat die verwysings na foto's uiteindelik ook, soos die hoofstuk deur Van Coller en Van Jaarsveld, die probleme van historiese representasie ondersoek. Wat Viljoen ook regkry, is om te toon hoedat Du Plessis se vertelling om hierdie foto's gebou is en hoedat hy dit meesterlik as struktureringselement gebruik - op 'n manier wat aansluit by daardie idee van die "heilige graal" van vertelling, dat dit vir die leser voel asof die verhaal so naby aan die lewe kom dat die leser ook sy/haar eie weerloosheid daarin kan herken.

Die vierde afdeling bestaan uit een bydrae, deur Marida Swanepoel. Sy bespreek PG du Plessis se bydrae tot die televisiebedryf. Hoewel dit 'n persoonlike weergawe van PG se TV-werk is, eerder as wat dit 'n poging is om krities oor die bydrae te reflekteer, bied dié chronologiese beskrywing heelwat waardevolle inligting - veral as dit ook saam met die bydraes deur De Wet gelees word. Uiteindelik is hierdie boek 'n huldiging, en Swanepoel bring hulde aan 'n mens vol deernis en medemenslikheid.

Du Plooy het die bundel met sorg saamgestel. Dit blyk uit haar inleiding en onderhoud met Du Plessis. Die bydraes is egter uiteenlopend en nie altyd van dieselfde allooi nie. 'n Mens kan in sommige sien waarom Du Plessis soms 'n hekel in akademici se bydraes gehad het. Maar enkele van die bydraes maak ook moontlike maniere van kyk na Du Plessis se werk oop. Die aard van 'n "huldiging" is dalk dat daar nie krities genoeg gekyk word nie, maar uiteindelik is veral Du Plessis se eie woorde inspirerend, en die wyse waarop hy mense se lewens geraak het, roerend. Boonop bied die bibliografie 'n nuttige wegtrekplek vir navorsing oor sy werk.

 

WILLIE BURGER

Universiteit van Pretoria

E-pos: willie.burger@up.ac.za

 


 

Titel: Insigte uit Opvoedkundige Sielkunde
Outeurs: Irma Eloff en Estelle Swart (redakteurs)
Kaapstad: Juta, 2018
Bladsye: 514
ISBN: 978 1 48512 901 1

Hierdie boek verskyn op 'n kritieke stadium vir opvoedkundige sielkunde as wetenskap en beroep in Suid-Afrika. Tans word die kernfunksies en bestek van die praktykbeoefening van geregistreerde opvoedkundige sielkundiges deur die Beroepsraad vir Sielkunde (Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika, 2017) deur sielkundiges in ander registrasiekategorieë bevraagteken, omdat dit na bewering geneig is om te oorvleuel met ander registrasiekategorieë in die Sielkunde (27 - asook Strous 2018). Terselfdertyd word die tersaaklikheid van opvoedkundige sielkunde as wetenskaplike dissipline, wat 'n gevestigde grondslag in Westerse middelklasnavorsing het, vir die komplekse Suid-Afrikaanse kultuurhistoriese konteks toenemend bevraagteken en gekritiseer (17 - asook Kumar 2017 en Moolla & Lazarus 2014). Dit is vraagstukke wat werklik die toekoms van opvoedkundige sielkunde as wetenskaplike dissipline en beroep ten nouste raak en wat met die nodige sensitiwiteit maar ook waagmoed in diepte aangepak behoort te word om die toekoms daarvan in Suid-Afrika te verseker.

Hierdie boek moet egter nie as 'n poging beskou word om dergelike vraagstukke, debatte daaromheen asook die implikasies daarvan vir die pad vorentoe vir opvoedkundige sielkunde in 'n diverse samelewing in diepte aan te spreek nie (9, 17). Dit fokus volgens die redakteurs eerder daarop om huidige insigte in opvoedkundige sielkunde te verruim deur "die status quo van opvoedkundige sielkunde in Suid-Afrika weer te gee" (xxix) op kernagtige wyse en sodoende ook erkenning te verleen aan die "grense waarbinne opvoedkundige sielkunde ([tans], my invoeging) gedefinieer word" (xxix). Dit bied dan ook spesifiek aan navorsers die geleentheid om kortliks hulle navorsing aan 'n wyer gehoor bekend te stel.

Inhoudelik word die 48 hoofstukke in die boek in 10 tematiese dele verdeel wat die rykdom asook uiteenlopendheid van huidige navorsing in die vakgebied weerspieël (temas wissel byvoorbeeld tussen onderwysers in die algemeen, onderrig en leer, kognisie, taal, gesondheid en welstand, skole, opvoedkundige sielkundige ondersteuning en loopbane). Dit is nie duidelik hoe besluite rakende die formulering van algemene temas geneem is nie: is dit byvoorbeeld grotendeels gebaseer op die inhoud van opvoedkundige sielkunde kurrikula op voorgraadse en nagraadse vlak in onderwysersopleiding asook die professionele opleiding van opvoedkundige sielkundiges, of is dit gebaseer op die navorsingsbelangstellings van die onderskeie outeurs van hoofstukke (xxviii)? "Deel 2: Onderwysers" kan as voorbeeld dien. Alhoewel al drie die hoofstukke in Deel 2 (veral Hoofstuk 5) as akademies uitstekend beskou kan word, is dit nie duidelik wat die oorkoepelende tema in Deel 2 werklik is nie. Handel dit byvoorbeeld oor die onderwyser as persoon of onderwysers in die algemeen en waarom is die hoofstuk oor 'n onderwyser in wording (hoofstuk 5) hier ingesluit as die tersaaklikheid daarvan vir opvoedkundige sielkunde nie pertinent in die spesifieke hoofstuk genoem word nie? Ten spyte van die omvang van die boek sou 'n baie kort saaklike inleiding tot elke tema deur die redakteurs die leser die geleentheid gebied het om te begryp waar en hoe die onderskeie hoofstukke in die veelfasettigheid waaruit opvoedkundige sielkundige navorsing en kurrikula vir onderwysersopleiding, asook die bestaande werksaamhede van onderwysers en geregistreerde opvoedkundige sielkundiges in dié verband, inpas.

Die verskillende hoofstukke is grotendeels deur prominente navorsers en praktisyns nie net in opvoedkundige sielkunde nie, maar ook in verwante vakgebiede saamgestel met die gevolg dat die kort en bondige hoofstukke in die meeste gevalle boeiend lees en as akademies voortreflik beskou kan word. Tot watter mate hierdie kennis werklik relevant is vir óf die opvoedkunde óf die sielkunde óf die opvoedkundige sielkunde, sal bepaal word deur elke leser se persoonlike begrip van wat opvoedkundige sielkunde binne die Suid-Afrikaanse konteks behels. Dit is egter duidelik dat die oorkoepelende sentrale tema wat die boek saambind tot 'n eenheid gebaseer is op leer en ontwikkeling as die kernbeginsels waarop opvoedkundige sielkunde internasionaal gebaseer is en gevolglik dan ook ondersteuning wat in dié verband die beste belang van elke kind dien, insluit.

As gevolg van die groot en uiteenlopende omvang van die boek, is dit nie haalbaar om die inhoud in detail te bespreek nie. Daar is gevolglik besluit om teen die agtergrond van die huidige debatte betreffende die tersaaklikheid van opvoedkundige sielkunde binne die komplekse Suid-Afrikaanse konteks en die nood aan effektiewe ondersteuning in skool- en klasverband, slegs enkele hoofstukke in dié verband en wat ook die uiteenlopende bestek van die vakgebied weerspieël, kortliks in meer diepte te bespreek. Daar moet daarop gewys word dat hierdie besluit egter ook daartoe gelei het dat hoofstukke wat ook as relevant beskou kan word nie ingesluit is in die bespreking nie (byvoorbeeld die hoofstukke deur Lynne Damons oor die verkenning van die kompleksiteit van aggressie en geweld binne die skoolkonteks; Salome Human-Vogel oor identiteit, motivering en prestasie; Naydene de Lange oor gender en geweld teen vroue en meisies; en Maximus Monaheng Sefotho oor gestremdheid en inklusiewe indiensneming deur die lens van opvoedkundige sielkunde).

Deel 1 wat as algemene inleiding tot die boek dien, bestaan uit vier hoofstukke wat individueel poog om die leser te oriënteer ten opsigte van wat die outeurs beskou as spesifieke aspekte van opvoedkundige sielkunde as wetenskap en beroep. Estelle Swart en Irma Eloff slaag besonder goed daarin om in hoofstuk 1 die kompleksiteit van ontwikkelinge in dié verband die afgelope twee dekades te beskryf. Wat die deelname van opvoedkundige sielkundiges in onderrig en leer betref, is hoofstuk 3 geskryf deur Motlalepule Ruth Mamapane gefokus op die integrale rol wat dit speel in skoolstelsels en onderwysersopleiding en die tersaaklikheid daarvan om bewustheid van algemene diversiteit in menslike ontwikkeling in onderrig te verbeter. Alhoewel die hoofstuk 'n uitstekende blik werp op opvoedkundige sielkundige kennis van onderrig en leer wat in meer Westerse omgewings ontwikkel is, word die toepaslikheid daarvan vir die komplekse diverse Suid-Afrikaanse konteks ongelukkig nie (moontlik as gevolg van die beperkte omvang van hoofstukke) bespreek nie.

Met spesifieke verwysing na inheemse kennisstelsels en die rol daarvan binne opvoedkundige sielkunde in Suid-Afrika moet die volgende twee hoofstukke uitgesonder word. In hoofstuk 12 slaag Patrick Mweli daarin om die leser te sensitiseer ten opsigte van die nodigheid daarvan om inheemse speletjies en stories in te sluit in onderrig en leer in klaskamers wat gekenmerk word deur leerders vanuit uiteenlopende kultuurhistoriese agtergronde. Deur van inheemse kennis gebruik te maak, word die ontwikkeling nie net van begrip vir mekaar nie maar ook sleutelvaardighede soos kritiese denke van elke kind in die klaskamer op informele wyse bevorder. In hoofstuk 26 (wat in 'n ander temagedeelte as hoofstuk 12 geplaas word), fokus Fumane Portia Khanare daarop om die perspektiewe van positiewe sielkunde wat gegrond is op Westerse kennis met die leefwêrelde van mense binne die Afrika-konteks met mekaar te versoen deur geselekteerde Afrika-spreekwoorde (in die geval Sesotho-spreekwoorde) met positiewe sielkunde in verband te bring. Die wyse waarop die outeur daarin slaag om "onlangse ontwikkelings in wetenskaplike navorsing met eeueoue wyshede binne mondelinge oorlewering in verband" (240) te bring, is voortreflik. Dit baan die weg om die potensiaal van inheemse kennisstelsels met Westers-gebaseerde kennisstelsels op innoverende en opbouende wyses in Suid-Afrikaanse klaskamers maar ook in die ondersteuningswerksaamhede van opvoedkundige sielkundiges in die algemeen uit te brei.

Deel 6 van die boek het as tema Gesondheid en Welstand en veral hoofstukke 25, 26 (reeds bespreek) en 27 val op as besonder bruikbaar binne praktykbeoefening in diverse skole en skoolgemeenskappe deur onderwysers en geregistreerde opvoedkundige sielkundiges. Begrip vir menslike interaksie in leer en onderrigkontekste word beskou as belangrike vaardigheid in opvoedkundige sielkunde. In hoofstuk 25, gebaseer op indieptenavorsing binne Suid-Afrikaanse skoolkontekste, beskryf Ansie Elizabeth Kitching 'n verhoudinggefokusde benadering tot die optimale ontwikkeling van leer en welstand in skole, klaskamers en wyer skoolomgewings. Aangesien praktyke van beide onderwysers en opvoedkundige sielkundiges dikwels as gevolg van werksdruk en spanning nie op deurlopende basis menslike interaktiewe gedrag en die komplekse dinamika in dié verband in ag neem nie, kan hierdie spesifieke hoofstuk 'n besondere bydrae lewer tot die uitbreiding van kontekstueel relevante praktykbeoefening van opvoedkundige sielkundiges wat binne skool en breër gemeenskapsisteme werksaam is. Hoofstuk 27 deur Linda Theron oor skoolgebaseerde ondersteuning van veerkragtigheid, wat gebaseer is op internasionale asook Suid-Afrikaanse navorsing, slaag daarin om teorie en praktyk met mekaar te versoen te midde van huidige argumente betreffende waar die klem behoort te val: op die wyse waarop kinders struikelblokke oorkom of op die wyse waarop samelewings die struikelblokke kan verander. In samehang met hoofstuk 25 slaag hierdie 3 hoofstukke daarin om lesers werklik in staat te stel om kennis en insig in sleutelkwessies - binne die belangrike rolle wat aktiewe vennootskappe binne verhoudingsgebaseerde benaderings in 'n diverse samelewing waarin inheemse kennisstelsels geaktiveer word - te begryp en ook aan te spreek. In hoofstuk 46 (deel 10: Loopbane) oriënteer Kobus Maree die leser ten opsigte van lewensontwerp: om mense te help om suksesvolle lewens te konstrueer en maatskaplike bydraes te maak met behulp van beroepsaanpasbaarheid binne plaaslike omstandighede. Hy slaag gevolglik op voortreflike wyse daarin om die tersaaklikheid van lewensontwerp vir Suid-Afrikaanse klaskamers binne diverse kultuurhistoriese kontekste te plaas en opvoedkundige sielkundiges van 'n prakties bruikbare teoretiese en konseptuele raamwerk te voorsien om beroepsverwante aanbevelings te kan maak.

Soos reeds genoem, slaag hierdie versamelwerk van insigte uit opvoedkundige sielkunde besonder goed daarin om die diversiteit van sieninge asook navorsingsfokusse binne opvoedkundige sielkunde as wetenskaplike dissipline en beroep vir beide onderwyser en geregistreerde opvoedkundige sielkundige weer te gee. Die inhoud is toeganklik vir sowel leek as kenner van die vakgebied en die uiteenlopende maar ook betekenisvolle navorsing binne die vakdissipline word kort en bondig bespreek.

Dit moet egter ten slotte weereens beklemtoon word dat opvoedkundige sielkunde - juis as gevolg van die uiteenlopende aard van navorsing en diverse sieninge binne die beroep - self rondom relevante elemente in opleiding in gevaar staan om gemarginaliseer te word binne 'n konstant veranderende Suid-Afrikaanse samelewing. Die redakteurs as leidende figure binne opvoedkundige sielkunde in Suid-Afrika word derhalwe aangemoedig om hierdie boek slegs as eerste stap te beskou in die erkenning van die aansienlike vordering wat in die vakdissipline tot dusver gemaak is (9). Dit behoort opgevolg te word met 'n tweede boek wat die vraagstukke en moontlike oplossings in dié verband betreffende die pad vorentoe in diepte sal aanspreek om sodoende opvoedkundige sielkunde in staat te stel om 'n leidende en onontbeerlike rol in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel asook breër samelewing te speel.

 

PETRA ENGELBRECHT

Navorsingsgenoot, Noordwes-Universiteit

Potchefstroom

E-pos: petra.engelbrecht50@gmail.com

 

BIBLIOGRAFIE

Kumar, P.A. 2017. A changing role? Educational Psychologists in South Africa: two decades beyond democracy. Ongepubliseerde MEd (Opvoedkundige Sielkunde) verhandeling, Johannesburg: Universiteit van die Witwatersrand.         [ Links ]

Moola, N. & Lazarus, S. 2014. School psychologists' views on challenges in facilitating school development collaboration. South African Journal of Education, 34(4):1-10.         [ Links ]

Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika. 2017. Professional Board of Pychology: scope of practice guidelines for educational psychologists. Pretoria: RGBSA. http://www.hpcsa.co.za        [ Links ]

Strous, M. M. 2018. Educational psychology at the crossroads in South Africa. Educational and Child Psychology, 35 (3):76-85.         [ Links ]

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons