SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue4Swartskaap: Odette Schoeman author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.59 n.4 Pretoria Dec. 2019

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2019/v59n4a11 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (3): KWESBAARHEID IN DIE SUID-AFRIKAANSE SAMELEWING

 

 

INLEIDING

Suid-Afrika is die land met van die hoogste syfers in die wêreld met betrekking tot werkloosheid, huishoudelike geweld, verkragtings, sosio-ekonomiese ongelykhede en ongeregtighede. Ons sit met ʼn apartheidsverlede en ʼn korrupte hede waar die mense en hulle welstand nie voorrang geniet nie, ten spyte van ons liberale en menseregte-gerigte grondwet. Die onmiddellike gevolge daarvan is dat mense in Suid-Afrika kwesbaar is. Kwesbaar beteken dat ons blootgestel is daaraan om fisies en/of emosioneel beseer te kan word.

Dis dan ook gepas dat hierdie afdeling toegespits is daarop om aan die stemme van kwesbare groepe gehoor te gee, deurdat deelnemers se verhale of narratiewe deur navorsers aangeteken is.

Tydens die saamstel van hierdie afdeling oor kwesbare groepe kon ons nie dink aan ʼn meer gepaste persoon om in die gesprek in te sluit as die digter, denker, dramaturg en maatskaplike werker Adam Small nie.* Adam Small het naamlik in een van sy laaste onderhoude wat hy gevoer het, gesê dat hy "op een of ander manier ʼn stem wou gee aan diegene wat nie kan praat nie" (Die Burger, 28 Februarie 2014). Een manier waarop ons kwesbares 'n stem kan gee, is juis deur te skryf oor kwesbare mense en groepe in die samelewing. Ons haal graag uit twee van Adam Small se gedigte aan:

Armoede

Dit skreeu my in die gesig elke Maandag

- ons buurt se dag vir vullisverwydering -

wanneer die dromme uitgesit is

en ek - watter rou gesig - mense

in die afval sien grou vir iets te ete

en drinke. Dan laai die woede in my op.

(Klawerjas 2013:115)

Dan verduidelik hy verder wat die gevolge van hierdie kwesbaarheid is:

Gods hoogste proef is nie die vuur maar die vernedering

hoor alle vroue, alle kinders, hoor my kind, hoor goed

hoor goed

Gods hoogste proef is nie die vuur maar die vernedering

(Kitaar my Kruis 1975:43)

Hierdie ongeregtighede kwes of verwond die self van die persoon en Small beskryf dan ook die gevolge daarvan:

Al sou hierdie land myne wees, en al sy rykdom, maar die liefde ontbreek my, dan is hierdie land myne net met sy armoede. (Small 1958:34: Klein Simbool)

Uiteindelik maak hy die beoefening van medemenslikheid en die voorkoming en beskerming van die kwesbare mense die verantwoordelikheid van elke persoon.

Die artikels in hierdie afdeling is dié van akademici wat die stemme van kwesbare mense aan die leser wil oordra. Uit die artikels wat vir die doel aanvaar is, is daar sommige wat die probleem in die algemeen pak en dan ook ander wat spesifieke kwesbare groepe ondersoek.

Twee artikels fokus op die probleem van kwesbaarheid in sy breë vergestalting. Chris Jones fokus op die noodsaaklikheid van ekonomiese geregtigheid. Hierdie tema, asook die aard en uitdagings van ekonomiese geregtigheid, word in hierdie bydrae ontgin in belang van kwesbare individue en groepe in haglike omstandighede. Dit ondersoek veral die uitdagings van ekonomiese geregtigheid vir die gereformeerde teologie, asook of die belangrike kenmerke van die eerste Christelike gemeentes nog teenwoordig is, nagestreef en uitgeleef word in die kerk en in die lewens van Christengelowiges. Charl Wolhuter plaas onderwysvoorsiening aan kwesbare groepe in die samelewing, en die uitdagings wat daarmee gepaard gaan, in die kollig. Hierdie is ʼn belangrike bydrae tot die tema aangesien gebrekkige vlakke van onderwys ʼn vername rede vir die kwesbaarheid van verskeie groepe in die arbeidsmark is. Die volgende vier artikels bied ʼn blik op die lewensbestaan van spesifieke kwesbare groepe in die samelewing.

Marinda Pretorius en Derick Blaauw plaas die kollig op ʼn unieke aktiwiteit in die informele sektor wat direk voortvloei uit Suid-Afrika se hoë vlakke van motorverwante misdaad en werkloosheid. Motorwagte sien om na voertuie by winkelsentrums se parkeerterreine teen ʼn fooitjie. Hier geniet hulle bitter min, indien enige, van die beskerming wat die arbeidsbedeling aan formele werkers bied. Hulle is dus inderdaad ʼn uiters kwesbare groep in die informele sektor.

In ʼn artikel wat spesifiek op die kwesbaarheid van vroue fokus, ondersoek Anmar Pretorius die kwesbaarhede van vroue in die Suid-Afrikaanse mynbougemeenskap van Emalahleni. Haar artikel vul ʼn belangrike leemte in die literatuur, aangesien Suid-Afrikaanse studies oor die onderwerp dun gesaai is.

In ʼn verdere gepaste fokus op vroue stel Ilze Slabbert die probleme van kwesbare vroue wat alkohol of dwelms misbruik aan die orde. Die doel van haar studie was om die uitdagings wat hierdie groep vroue die hoof moet bied, te ondersoek met die ekologiese perspektief as teoretiese raamwerk.

Die laaste artikel deur Fazel Freeks verskuif die fokus na vaders en spesifiek om die maatskaplike probleem van vaderafwesigheid in Suid-Afrika te probeer bekamp. In Suid-Afrika is die uitdaging van vaderafwesigheid 'n maatskaplike probleem wat in die meeste gemeenskappe voorkom. Freeks ondersoek moontlikhede om die impak hiervan op kwesbare kinders te bekamp.

Ten slotte wil ons daarop wys dat die tema deur soveel vlakke van die samelewing sny dat daar in die volgende uitgawe moontlik nog artikels uit die breë tema geplaas mag word. Spesifieke groepe in die arbeidsmark soos dagloners kan een so ʼn artikel vorm, terwyl ʼn ander die soeklig plaas op die sosiale weerbaarheid en strukturele kwesbaarheid van die inwoners van Genadendal in die Wes-Kaap. Nog ʼn moontlikheid is ʼn ondersoek na die gepastheid van Kwesbaarheidsteorie as lens op soliede huishoudelike afvalbestuur. Hierdie artikels is egter nog in wording.

Dit was ʼn voorreg om betrokke te wees by die saamstel van hierdie tema oor ʼn onderwerp wat alle Suid-Afrikaners op verskillende wyses en op verskillende vlakke raak. Die laaste woord is nog nie gespreek oor die kwesbaarhede van Suid-Afrika en sy mense nie, maar ons laaste woord in hierdie inleiding is om ons dank en waardering teenoor die outeurs en keurders uit te spreek. Ons is ook baie dankbaar vir die geleentheid, aanmoediging, hulp en ondersteuning van die hoofredakteur, professor Ina Wolfaardt-Gräbe. Sonder haar hulp, kennis en ervaring sou hierdie onderneming nie moontlik gewees het nie.

 

Derick Blaauw En Rinie Schenck

Gasredakteurs

November 2019

 

 

* Kyk Van der Elst, J. (Red). 2017. Adam Small Denker, Digter, Dramaturg: 'n Huldiging. Pretoria. Protea.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License