SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 número4The story of Afrikaans - out of Europe and from Africa, Part 2 by WAM Carstens and RH RaidtInleiding: Kwesbaarheid in die Suid-Afrikaanse samelewing índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.59 no.4 Pretoria Dez. 2019

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2019/v59n4a10 

MENINGSARTIKEL

 

Verskuif die klaskamer ter wille van die oorlewing van Afrikaans as wetenskapstaal

 

Relocate the classroom for the survival of subject jargon in Afrikaans

 

 

François Durand

Departement Dierkunde, Universiteit van Johannesburg. E-pos:fdurand@uj.ac.za

 

 


OPSOMMING

Afrikaans het grotendeels as onderrigtaal op universiteite verdwyn ten spyte daarvan dat Afrikaans een van die tale is wat die meeste in Suider-Afrika gepraat word en wat gevestigde vaktale het. Afrikaanssprekendes is as wetenskaplikes werksaam in sowel die privaat sektor as staatsinstansies. Afrikaanssprekendes was al vir groot deurbrake in die wetenskap verantwoordelik en talle werk as vakkundiges oorsee, al het hulle hul opleiding op skool en op universiteit in Afrikaans ontvang. Duidelik is mense wat in Afrikaans onderrig is, nie daardeur benadeel nie en kan hulle in elke opsig by internasionale wetenskaplikes kers vashou. Afrikaans as onderrigtaal word tans nog by sekere skole toegelaat, maar die druk op hierdie skole word al hoe groter. Die aantal Afrikaanssprekende onderwysers wat gedwing word om op universiteit in Engels onderrig te ontvang en wat daarna by ʼn Afrikaanse skool klasgee, word al hoe groter. ʼn Alternatief moet gevind word om Afrikaans as taal van die wetenskap en onderrig te laat oorleef, nie slegs vir die behoud van ʼn unieke inheemse taal wat oor eeue heen ontstaan het nie, maar ook vir die behoud van die Afrikaanssprekende gemeenskap en die handhawing van kommunikasie en onderrig binne hierdie gemeenskap, wat almal van kleuter tot akademikus, van boer tot konsultant, van navorser tot onderwyser insluit. Afrikaanse vakinhoud op die internet vir graad R tot universiteit waarby leerders, onderwysers en ouers baat sal vind, word as alternatief vir staatsbeheerde Engelstalige vakonderrig voorgestel.

Trefwoorde: Afrikaans, wetenskap, vaktaal, voertaal, onderrigmedium, onderrig, internet, vakspesialis, skole, kurrikulum


ABSTRACT

Afrikaans is the only indigenous Southern African language that has been developed to such a level that it can be used as an academic language in any subject, and yet, over the past decade, it has been largely eliminated from the tertiary teaching milieu. According to the latest report released by Stats SA (2018), English is the sixth largest home language and Afrikaans the third largest home language in South Africa, the latter being spoken by approximately 23 million people in Southern Africa.
Afrikaans-speaking scientists and technicians educated at colleges and universities where Afrikaans was the language of teaching and learning, work in the private sector and in many parastatals and government institutions, such as the CSIR, ARC, NECSA, the Departments of Water and Sanitation, of Environment, Forestry and Fisheries, and of Higher Education and Training, the Parks Board, the Council for Geoscience, and museums. Great scientific breakthroughs have been made by Afrikaans-speaking scientists and many Afrikaans-speaking scientists work as subject specialists overseas, where they are on a par with their international peers. The argument that education in Afrikaans is in some way detrimental to the Afrikaans learner is therefore nonsensical political rhetoric that has no factual basis.
Fortunately, Afrikaans is still being taught at some schools in spite of their being subjected to constant and increasing political harassment. The few remaining Afrikaans single-medium schools are accused by government officials of maintaining the hegemony of the pre-1994 Afrikaans government by excluding students who prefer English medium tuition. Anglicising these schools, that comprise only 5% of the schools in South Africa, will hardly make up for the shortage of schools that is taking on critical proportions, especially considering that hundreds of thousands of new learners enter the school system annually.
However, a situation far more serious than Afrikaans-language teaching and learning threatens education in South Africa, and that is the incompetence of teachers in certain English medium schools. Many people who insist on being taught in English want access to Afrikaans schools, while they have the opportunity to go to schools in townships where English is the language of teaching and learning. The reason is clear: according to several surveys the literacy and mathematical competency of teachers in these underperforming schools is far below par and the lowest in the world. Parents know this, while Afrikaans medium schools have a reputation of being some of the best-performing schools in South Africa.
With the exception of the North-West University, and to a degree at the University of the Free State and the University of Stellenbosch, Afrikaans-speaking students are now forced to receive their tuition in English at all South African universities. This creates the untenable situation that Afrikaans-speaking teachers have to teach Afrikaans-speaking learners in Afrikaans medium schools with an English subject jargon background. Government policy apologists are not concerned about this, and use the "equal misery" argument, believing that the playing field would then be level because everyone (except, of course, English mother tongue speakers) is equally disadvantaged because all are taught in a language other than their own.
This Schadenfreude has a sinister overtone in the light of the overwhelming evidence that mother tongue education is far superior to that in another language. The attack on Afrikaans as a language of tuition, labelling it as the "language of the oppressor", ignores the fact that Afrikaans is a unique indigenous language and that the majority of Afrikaans speakers are the descendants of the First People of Southern Africa, who now, ironically and paradoxically, opt for the most colonial of all languages - English. It is clear that the existence of Afrikaans as a fully functional language of science and learning is a threat to the image of government, who has failed dismally in developing subject vocabulary in the other indigenous languages and has allowed the quality of education all over the country to implode.
An alternative, away from government control, must be found to ensure the survival of the subject jargon and technical terminology of Afrikaans and their higher-order linguistic contribution to the Afrikaans language. This is important not only for the survival of the Afrikaans subject jargon that has been developed in the last century, but also for the survival of the Afrikaans-speaking community as a distinct cultural component of Southern Africa. This can be achieved only through continued higher-order communication and mother tongue education in this community, from toddler to academic, from farmer to consultant, from the researcher to the teacher. Afrikaans can survive without government interference and suppression on the internet, where Afrikaans subject matter for learners from Grade R to university will benefit Afrikaans-speaking teachers, learners and parents.

Key words: Afrikaans, science, subject jargon, language of learning and education, internet, subject specialist, schools, curriculum


 

 

INLEIDING

Elke volk het die reg op ʼn eie taal. Daar is egter baie voorbeelde van tale wat ondanks die feit dat hulle oorspronklik deur miljoene mense gepraat is, nou aan die uitsterf is, soos Fries, Jiddisj en Romani. Hierdie agteruitgang is hoofsaaklik te wyte daaraan dat dit tot laefunksiehuistale gereduseer is en amper nie meer in die openbaar gebruik word nie.

Daar is tans ongeveer 6 500 tale wêreldwyd, waarvan 2 743 - dit wil sê 42% - deur uitsterwing in die gesig gestaar word. Twee honderd tale het oor die laaste 60 jaar uitgesterf en ʼn taal verdwyn gemiddeld elke twee weke. Taalkundiges voorspel dat 90-95% van alle tale binne die volgende eeu gaan verdwyn. Dit is egter nie die enigste verlies nie, want soos die geskiedenis bewys het, sal die gepaardgaande kulture en unieke identiteite van daardie groepe mettertyd saam met die tale verdwyn (Skutnabb-Kangas & Phillipson 1989).

Miljoene Suid-Afrikaners het San- en Khoi-voorsate, maar slegs ʼn handjievol mense praat nog daardie tale ten spyte van allerlei pogings om dit aan die gang te hou. Alhoewel hierdie tale die oorspronklike inheemse tale was, geniet nie een amptelike status nie. Nie een van hierdie tale is onderdruk nie, maar die sosiopolitieke en kulturele druk van die dominante tale, Afrikaans/Afrikaans-Hollands en Engels, het oor die eeue heen die tale se ondergang veroorsaak na gelang die oorspronklike Khoi- en Sansprekers hoofsaaklik Afrikaanssprekend en in mindere mate Engelssprekend geword het. Dieselfde lot sal ander inheemse tale tref namate hulle toenemend deur Engels verswelg word.

Hierdie verskynsel is natuurlik nie uniek aan Suid-Afrika nie. ʼn Taal sterf meestal uit omdat die sprekers daarvan deur ʼn dominante anderstalige groep in die media, sakewêreld, werksplek en natuurlik die onderwys oorweldig word. Soms word ʼn taal deur die dominante politieke groep onderdruk totdat dit verdwyn, maar meestal word ʼn minderheidsgroep, of ʼn kultureel minder weerstandige groep, eenvoudig deur die groter groep of sosiopolities dominante groep geabsorbeer.

Aan die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog was daar tussen 11 en 12 miljoen Jiddisj-sprekers (Weinreich 2008). Ongeveer 5 miljoen mense, van wie 85% Jiddisj-sprekend was, het tydens die Tweede Wêreldoorlog in die doodskampe gesterf (Birnbaum 1984). Ondanks die feit dat ʼn groter groep Jiddisj-sprekers die doodskampe vrygespring het, het die taal in die jare daarna ʼn dramatiese agteruitgang getoon weens die assimilering van hierdie gemeenskappe in die bevolkings van Amerika en Rusland, waar Jiddisj deur die inheemse tale oorweldig is (Weinreich 2008). Na raming was daar 50 jaar ná die oorlog slegs 2 miljoen Jiddisj-sprekende mense in die wêreld oor (Zingeris 1996), en vandag is daar na raming slegs ongeveer 372 000 oor (Ethnologue 2019).

Dieselfde verskynsel het die tale Fries en Romani getref, wat ook deur die sosioëkonomies sterker en meer populêre inheemse tale oorweldig is. Ten spyte van pogings om Jiddisj, Fries en Romani in sekere lande as minderheidstale te beskerm, verloor hulle, net soos ander minderheidstale, populariteit weens ʼn verlies aan bruikbaarheid, ʼn gebrek aan aansien en stigmatisering (Deumert & Van der Bussche 2003; Roche 2017; Skutnabb-Kangas & Phillipson 1989).

 

DIE HUIDIGE POSISIE VAN AFRIKAANS IN DIE ONDERWYS

Afrikaans is grootliks uit die tersiêre milieu verwyder. Die Noordwes-Universiteit is die enigste universiteit wat, op sy Potchefstroomse kampus, nog steeds onderrig in Afrikaans bied, maar nie sonder verbete teenkanting van die regering en ander drukgroepe nie. By ander universiteite, soos die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Stellenbosch, is daar beperkte opsies vir Afrikaanse onderrig. Daar is vanuit die Afrikaanse gemeenskap pogings om Afrikaans op tersiêre vlak te laat oorleef. Aros, ʼn privaat onderwyskollege in Pretoria, lei sedert 2004 onderwysstudente in Afrikaans op en die Afrikaanse universiteit Akademia is in 2011 deur Solidariteit op die been gebring.

Dit sal naïef wees om die regering se verbetenheid om Afrikaans as onderrigtaal te verwyder te onderskat. In hierdie uittreksel uit die verslag van minister Angie Motshekga (2016) se Ministeriële Taakspan blyk dit duidelik dat skoolbeheerliggame die skuld gegee word vir die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal en daardeur die bevordering van blanke kulturele en klassebelange (die afkortings wat in die oorspronklike dokument gebruik is, is uitgeskryf in die onderstaande aanhaling):

The strongest proponents of School Governing Bodies as they are came from the Suid-Afrikaanse Onderwyserunie and the School Governing Bodies associations of Federation of Association of Governing Bodies and the National School Governing Bodies. This is unsurprising as the powers of School Governing Bodies are the surest way in which Afrikaans-speaking white South Africans and their acolytes can determine the language policies, admissions, the types of teachers and the influence of community leaders (especially professionals) which can make public schooling prioritise their cultural and class interests. The Suid-Afrikaanse Onderwyserunie representatives were emphatic that School Governing Bodies "must" do the selection of candidates for school posts. Other middle-class communities (whom the Task Team did not interview except through Federation of Association of Governing Bodies) have been using the powers devolved to School Governing Bodies as a means of resisting the transformation of pre-1994 hegemonic values.

(Motshekga, A. 2016. Report of the Ministerial Task Team appointed by Minister Angie Motshekga to investigate allegations into the selling of posts of educators by members of teachers unions and departmental officials in Provincial Education Departments.)

Panyaza Lesufi, die LUR vir onderwys in Gauteng, stel dit onomwonde dat die Afrikaanse (natuurlik nie die Engelse nie) taalbeleid in skole ʼn bose beleid is wat al die euwels van rassisme bevorder:

What our Rainbow Nation urgently needs is a ruling that recognises a language policy for what it is: a malignant policy that harms everyone and is the very essence of racism. Unlike the policy of racial integration, some language policies propagate all the evils inherent in racism.

(Lesufi, P. 2018. Language used as a false shield for exclusion. News 24: 2018-01-19)

Dikwels wanneer politici en ander besluitnemers in die onderwys daarop gewys word dat die reg op eie taalonderrig in die Grondwet verskans word, slaan hulle oor van blatant rassistiese onverdraagsaamheid na ʼn sosioëkonomiese argument, naamlik dat Afrikaans nie gebruik mag word om ander uit te sluit nie omdat Suid-Afrika nie enkelmediumskole ekonomies en opvoedkundig kan bekostig nie. Lesufi, een van die luidste provokateurs in hierdie taaloorlog, het hom onlangs ʼn stortvloed van kritiek op die hals gehaal nadat hy ʼn voorstel gedoen het om die Skolewet te verander. Ter verdediging het hy die volgende gesê: "Economically and educationally the country cannot afford single-medium schools when the demand for education is so great." Hy bedoel natuurlik die Afrikaanse enkelmediumskole, wat maar 5% van die skole in Suid-Afrika verteenwoordig, en nie die meerderheid van die skole nie, wat slegs in Engels onderrig gee (Colditz 2018).

Tot en met 2016 het die Gautengse regering daarin geslaag om 119 Afrikaanse skole in die provinsie te dwing om tweetalig te word deur leerders daar te plaas wat daarop aandring om slegs in Engels onderrig te ontvang. Die daaropvolgende instroming van leerders wat op Engels as onderrigtaal aandring, en die verskuiwing van Afrikaanse leerders na die oorblywende Afrikaanse skole elders of na tuisonderrig, het daartoe gelei dat hierdie skole uiteindelik Engels-enkeltalige skole geword het. Die regering is nou daarop gefokus om dieselfde met die oorblywende Afrikaanse skole te doen. In die lig daarvan dat daar in 10 jaar tot en met 2016 in Gauteng 348 000 nuwe leerders bygekom het en daar in daardie tyd maar net 85 skole in die provinsie gebou is, is dit duidelik dat ʼn minimum van 263 nuwe skole (teen1 000 kinders per skool) gebou moet word (Colditz 2018). Die PFMA 2016-17 verslag (Makwetu 2017) wys dat hierdie katastrofe nie weens finansiële tekorte veroorsaak is nie, maar deur wanprestasie. Hierdie probleem is nie tot Gauteng beperk nie en kom regdeur die land voor.

Om die oorblywende Afrikaanse skole in Gauteng, wat reeds volledig beset is en reeds deeglik geïntegreerd is, te teiken, gaan nie ʼn oplossing vir hierdie onderwyskatastrofe wees nie en is duidelik ʼn politieke, eerder as ʼn pragmatiese, daad.

 

MOEDERTAALONDERRIG

Volgens die Wet op Hoër Onderwys 101 van 1997 en die Taalbeleid op Hoër Onderwys (2002) word die bestaan van Afrikaanse universiteite summier verwerp omdat dit kwansuis teen die grein van ʼn getransformeerde hoëronderwysstelsel sal wees (Beukes 2015). Die voorneme van die Taalbeleid op Hoër Onderwys (2002) om onderwysinstellings in meertalige opvoedkundige omgewings te omskep waar al die inheemse tale as akademiese en wetenskaplike tale kan ontwikkel, was uiteindelik net 'n onbereikbare ideaal. Die werklikheid is dat Afrikaans, wat wél ʼn gevestigde akademiese en wetenskaplike taal is, grootliks uit die tersiêre sektor verwyder is, terwyl daar geen noemenswaardige vordering in akademiese en wetenskaplike ontwikkeling in die ander inheemse tale was nie.

Lesufi kom met die skynheilige argument vorendag dat dit net tot die Afrikaanssprekende leerders se voordeel sal wees as hulle in Engels onderrig kry en sê dat dit hom dronkslaan dat die oorlog om Afrikaanse onderrig nog voortgaan omdat dit net Afrikaanse kinders skade sal doen om in Afrikaans onderrig te ontvang (Maphanga 2019). Ten spyte van navorsing wêreldwyd wat onteenseglik bewys dat moedertaalonderrig in die opvoeding van die leerder van onskatbare waarde is, dring die regering daarop aan om, in stede daarvan om die vaktale van die inheemse tale te ontwikkel, eerder alles prys te gee en die skole te verengels (Carstens 2016; Van der Walt & Steyn 2016). Die gevolge hiervan is geweldig.

Hierdie besluit het ʼn uiters negatiewe uitwerking op die gehalte van onderwys in die land gehad. Die stand van onderrig in skole is beroerd en die geletterdheidsvlakke van leerders, en selfs van die onderwysers, laat veel te wense oor. Volgens die Progress in International Reading Literacy Study (Howie et al. 2016) kan ongeveer 80% van graad 4-leerders in Suid-Afrikaanse skole nie lees nie. Dit is op dieselfde vlak as toe die toets vyf jaar vroeër ook gedoen is, en dit is steeds die laagste vlak van geletterdheid onder die 50 lande wat getoets is.

Daar word daarop gewys dat leerders tuis nie die nodige ondersteuning kry nie en dat dit dalk die rede vir hierdie haglike toestand is. Dit is immers verstaanbaar, aangesien Engels deur slegs sowat 8,3% van Suid-Afrikaners as huistaal gepraat word (STATS SA 2018). Talle toetse het egter duidelik die groter probleem uitgelig, naamlik dat die meeste onderwysers in hierdie wanfunksionele skole nie toegerus is om in Engels klas te gee nie.

Die Initial Teacher Education Research Project (ITERP) is geloods om onderwysers se vermoë om die vakinhoud aan leerders oor te dra en die vlak van hulle vakkennis te bepaal. Daar is bevind dat onderwysers, net soos die leerders wat hulle moet onderrig, in tale en wiskunde vêr onder die kurrikulumstandaard presteer (Deacon 2016).

In ʼn onlangse opname gedoen deur die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluasie is bevind dat die meeste van die onderwysers wat aan die opname deelgeneem het, nie die hoofbegrip van ʼn paragraaf kon identifiseer of eenvoudige wiskundige berekenings kon doen nie. Die onderwysers is getoets op grond van hulle kennis van die vakke wat hulle op skool aanbied. Van die onderwysers wat deelgeneem het, het vir Engels Eerste Addisionele Taal maar 10% behaal en vir Wiskunde 5% (Govender 2018).

ʼn Toets wat deur die Zenex Foundation onder 300 laerskoolonderwysers gedoen is, het bevind dat die Engelse taalvaardigheid van onderwysers in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal op die vlak van ʼn graad 3-leerder is. Die Departement van Basiese Onderwys het by monde van Elijah Mahlangu daarop gereageer en gesê dat hulle van die situasie bewus is, dat die resultate met die uitslae van vorige navorsing ooreenstem en dat die bevindinge nie verbasend is nie aangesien Engels nie die huistaal van die meeste van die onderwysers is nie (Sesant 2016).

Volgens die TALIS-verslag (2018) spandeer Suid-Afrikaanse onderwysers, naas dié van Saoedi-Arabië, die minste tyd aan klasgee uit 47 deelnemende lande. Benewens Viëtnam, het Suid-Afrika, uit die 47 deelnemende lande, van die onderwysers met die laagste kwalifikasies. Volgens die verslag het Suid-Afrika, naas Singapoer, die meeste leerders in die klas wat 'n ander taal as die onderrigtaal tuis praat.

Hierdie resultate strook met die bevindings van die IEA (International Association for the Evaluation of Educational Achievement), wat die geletterdheid van laerskoolleerders deur middel van hulle PIRLS-program (Progress in International Reading Literacy Study) en die wiskunde- en wetenskapvaardigheid deur middel van TIMSS (Trends in International Mathematics and Science Study) assesseer.

Die mees siniese retoriek wat gebruik word om die verwydering van Afrikaans uit die tersiêre milieu te regverdig, was dié van Jonathan Jansen (2013):

There is another reason why English is the language of choice in school. It is that the indigenous languages are so poorly taught. This is where a major miscalculation occurs on the part of language activists: simply learning in your mother tongue is absolutely no guarantee of improved learning gains in school as the disastrous ANA (the annual national assessments) results show year on year. The problem is not the language of instruction it is the quality of teaching, the knowledge of curriculum, and the stability of the school.

Here then is one major solution to the long-term resolution of the crisis in education: instruct every teacher and every child in English from the first day of school rather than add to the burden of poor instruction in the mother-tongue in the foundation years to the trauma of transition to English later on. Countries like Zimbabwe made that choice early on and that is one reason why their students perform so much better in South African universities.

At universities with dual language policies, like the UFS, black students make a very different argument for having all classes in English. They see their choice of English as a trade-off that demands a similar give-and-take from Afrikaans-speaking students. In other words, let the Afrikaans students give-up Afrikaans just as we gave up Setswana or isiZulu and let us all learn in English, the common factor in our educational experience.

(Jansen, J. 2013. Not even colonial born: England, the English and the problem of education in South Africa. Toespraak gelewer by die English Academy of South Africa's Percy Baneshik Memorial Lecture. Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein)

Met ander woorde: Ten spyte daarvan dat Afrikaans as ʼn hoëfunksietaal ontwikkel het, moet dit as onderrigtaal prysgegee word omdat ander inheemse tale gefaal het om tot op dieselfde vlak te ontwikkel. Sodoende kan elke leerder in die land op dieselfde vlak van agterstand begin. Dan is die speelveld mos gelyk, want almal word ewe veel benadeel (die "equal misery"-argument), natuurlik ten spyte daarvan dat hierdie situasie duidelik Engels-huistaalsprekers bo al die ander bevoordeel. Natuurlik is dit ook makliker om een taal te vernietig as om nege ander tot op dieselfde hoëfunksievlak te ontwikkel.

 

DIE INTERNET

Daar is egter geen rede om mens aan hierdie aanslag te onderwerp nie - buiten as jy in die posisie van kneg funksioneer. Dit is sekerlik die rede hoekom Afrikaans as onderrigtaal by universiteite sonder slag of stoot uit die universiteite verwyder kon word en daar maar ʼn handjievol Afrikaanse skole oor is ten spyte daarvan dat daar derduisende Afrikaanse onderwysers en dosente is.

Buite die dwingelandy van die werksmilieu is mens egter vry om taalgewys te doen wat jy wil. Die twee grootste faktore wat jou egter kniehalter, is tyd en geld. Gelukkig is daar ook ʼn antwoord hiervoor. Of ons dit nou wil erken of nie, die Akademie is besig om te vergrys, maar dit beteken ook dat ʼn groot persentasie van die Akademielede afgetrede vakkundiges is. Akademielede is ook (hopelik) mense wat ʼn groot deel van hulle lewe daaraan gewy het om hulle vak in Afrikaans te vestig en te bedryf. Hierdie mense is ook van die topwetenskaplikes in die land wat dekades se ervaring het. Afgetrede Akademielede staan nie onder die juk van ʼn bestel wat hulle dwing om hulle vak in Engels te bedryf nie.

Alhoewel dit my as boekliefhebber pynig om dit te erken, moet ek aanvaar dat mense deesdae al hoe meer die internet gebruik eerder as om boeke te lees of om na biblioteke te gaan. Soos ons almal ook weet, word die internet nie primêr gebruik om probleme soos besoedeling, oorbevolking, kos- en watersekuriteit, natuurbewaring en dergelike aan te pak nie, maar eerder vir baie meer banale dinge. Maar dit is ook ʼn feit dat wanneer leerders ʼn taak moet doen, hulle direk na die internet gaan vir hulp; daar kry hulle amper alles denkbaar, maar hoofsaaklik in Engels.

Daar is projekte, ook van Akademielede se kant, om Afrikaans op byvoorbeeld Wikipedia te vestig en daardie projekte moet heelhartig deur ons almal ondersteun word, maar daar is baie meer om te doen. As daar niks oor paleontologie op die internet in Afrikaans is nie, is dit duidelik omdat ek nog niks daaroor daar geplaas het nie. Dieselfde geld vir elke ander vakgebied. Niemand anders as onsself kan vir hierdie afwesigheid van Afrikaans op die internet geblameer word nie.

Ons het deesdae die vermoë om deur middel van die internet al ons vakkennis plaaslik en internasionaal met die huidige en komende geslagte te deel. Ten spyte daarvan dat Engels nog steeds die dominante taal op die internet is, gebruik al hoe meer nie-Engelssprekende mense die internet in hulle eie taal. Die voorkoms van Engels as internettaal het van meer as 75% in 1998 tot minder as 50% in 2016 gedaal (Pascoe 2016). Dit is soms belangrik vir mense om te weet dat Engels maar die derde grootste taal in die wêreld is en die sesde grootste huistaal in Suid-Afrika. Daarteenoor is Afrikaans die derde grootste huistaal in Suid-Afrika (Stats SA 2019) en daar word bereken dat ongeveer 23 miljoen mense in Suider-Afrika Afrikaans magtig is (Jones 2003). Die internet gee mens onbeperkte vryheid en geleentheid om jou kennis te deel met almal wat dit wil lees.

Die voordele van die internet as medium om vakinhoud oor te dra sluit die volgende in:

Dit is soveel goedkoper as die druk, verspreiding en aankoop van boeke.

Kleurfoto's en illustrasies, wat een van die grootste beperkende faktore in die drukbedryf is, kan bykans gratis op die internet geplaas word.

Inligting kan bykans onmiddellik bekom word met behulp van die regte soekenjins en soekwoorde.

Artikels kan kitsskakels bevat wat mens onmiddellik van een stuk inligting na die volgende neem.

ʼn Webwerf kan skakels na YouTube-video's bevat wat die leerder virtueel byvoorbeeld disseksies of fossiel-opgrawings kan wys, op uitstappies onder water kan neem, of na grotte, vulkane, oerwoude of die Saharawoestyn.

Anders as boeke kan inligting op die internet deurentyd bygewerk word om die nuutste inligting in te sluit.

So ʼn webwerf kan skakels na plaaslike en internasionale organisasies en hulle aktiwiteite insluit. Mens kan dink hoe sulke webwerwe die vloei van kommunikasie tussen die publiek en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Amateurpaleontoloë, die Voëlvereniging van Suid-Afrika, die Dendrologiese Vereniging van Suid-Afrika, die Bergklimvereniging, die Vetplantvereniging, Vlermuisnavorsingsgroepe en tientalle meer kan vergemaklik. Mense, en veral leerders, kan dan lesings of uitstappies van hierdie groepe bywoon en daardeur nie slegs eerstehandse inligting oor die betrokke onderwerp kry nie, maar ook eerstehandse ervarings beleef wat nie in die klaskamer of op die internet moontlik is nie. Daarbenewens sal die leerders ook meer kan uitvind oor die werksomstandighede en aktiwiteite van navorsers, wat baie belangrik vir vak- en beroepskeuses is.

Daar is ook nie 'n beperking en voorskrifte op die internet nie. Die nuttigheid van die webwerf sal die sukses daarvan bepaal. Daar is ook geen beperking op die aantal webwerwe nie - iedereen kan so ʼn webwerf skep. Soos met natuurlike seleksie sal die meer suksesvolle webwerwe meer lesers en gebruikers lok.

So ʼn onderneming kan selfs tot ʼn volgende vlak van gemeenskapsdeelname ontwikkel. Mense kan met behulp van ʼn e-posadres met die webmeester skakel sodat leerders vrae oor skooltake of ander skoolwerk kan stel. As dit in ʼn openbare forum soos ʼn blog is, kan enigeen wat die antwoord het, die vraag beantwoord of die leerder na ʼn kundige of vakonderwyser verwys. Dit is moontlik dat onderwysers deeltyds, of afgetrede onderwysers voltyds, as tutors kan optree of aktief by so ʼn webwerf betrokke kan raak, of hulle eie webwerwe met skakels na ander kan begin of tutorklasse kan aanbied. ʼn Goeie voorbeeld van hoe dit kan werk, is Wolkskool (skole.co.za), wat aanlyn klasse en vakinhoud in Wiskunde, Rekeningkunde en Afrikaans aanbied.

Almal sal by so ʼn bydrae baat vind. Onderwysers wat by al die tersiêre opleidingsentrums slegs in Engels in hulle vakke opgelei word, sal dan toegang tot vakinligting en verwante onderwerpe in Afrikaans hê. Afrikaanssprekende skoliere en studente sal groot baat daarby vind as hulle aan die regte vaktaal blootgestel word. Skoliere en hulle ouers sal inligting in Afrikaans op die internet kan bekom eerder as om met take in geradbraakte vertalings vorendag te kom, wat allermins ʼn liefde vir die onderwerp of taal sal vestig. Uiteindelik sal elke navorsingsveld in Suid-Afrika kan baat vind by Afrikaanssprekende jongmense wat nog in hulle moedertaal kan dink en kommunikeer en navorsing doen en publiseer en die volgende geslag se onderwysers oplei. Dalk sal so ʼn poging mense van ander inheemse tale motiveer om dieselfde in hulle tale te doen.

Kortom: Die vakspesialis kan met behulp van sy of haar webwerf sonder enige beslommernis of teenkanting en bykans kosteloos met alle ouderdomsgroepe en op alle vaardigheidsvlakke - kinders, studente, leke en ander vakkundiges - van die taalgemeenskap kommunikeer. Die internet gee mens onbeperkte vryheid en geleentheid om kennis te deel met almal wat dit wil lees. As mense bereid is om die kerkblad op die internet te versorg, of om met vriende op Facebook te kommunikeer of met Skype met kleinkinders in Nieu-Seeland te gesels, dink wat dit vir die 23 miljoen Afrikaanssprekers sal beteken as kundiges besluit om hulle vakkennis deur middel van die internet met hulle te deel.

As die vloei van inligting op enige punt in hierdie sirkel van onderwys deur iets anders - taal, ideologie of kultuur - onderbreek word, word die inhoud van die hele sirkel binne twee geslagte deur iets anders vervang. Die jeug is die mees kwesbare en vatbare skakel in hierdie sirkel.

Hierdie artikel is ʼn beroep op alle Akademielede. Die voortbestaan van die taal in sy hoër-funksies is laas so bedreig in die tyd van Charles Somerset en die Milner-regering. Almal van ons is Afrikaanssprekende vakspesialiste met ʼn passie vir ons taal - anders sou ons nie lede van die Akademie gewees het nie. Die sukses van elkeen se poging om sy of haar vak in Afrikaans te laat oorleef, sal bepaal word deur elkeen se lojaliteit, ywer, motivering en passie vir sy of haar vak- en taalgenote.

 

 

Daar is ʼn gesegde dat daar ʼn boek in elke mens opgesluit is; vandag kan ons egter daardie "boek" op die internet plaas. Hierdie wekroep word gerig aan elke Afrikaanssprekende vakkundige, want ons is tans die laaste skakel in die ketting van ons bestaan as Afrikaanssprekendes, en as die volgende skakel nie geskep word nie, sal die bestaan van die hele ketting futiel en irrelevant word en die ketting uiteindelik tot niet gaan. Daar is nou geen verskoning waarom Afrikaanssprekende vakkundiges nie hulle kennis met die volgende geslag kan deel nie en alle rede waarom ons moet, dit wil sê as ons Afrikaans as hoëfunksietaal wil laat oorleef.

 

BIBLIOGRAFIE

Beukes, A-M. 2015. Uitdagings vir Afrikaans in hoër onderwys: Die taalbeleid van die Universiteit van Johannesburg as gevallestudie. Tydskrif vir geesteswetskappe, 55(1):163-166.         [ Links ]

Birnbaum, S.A. 1984. Grammatik der jiddischen Sprache, 4. ergänzte Auflage, Hamburg: Helmut Buske Verlag.         [ Links ]

Carstens, W. 2016. Die impak van taalpolitiek op universiteite in Suid-Afrika - die geval Afrikaans. Derde Colloquium Afrikaans, Universiteit Gent, Nederland,https://www.litnet.co.za/referaat-die-impak-van-taalpolitiek-op-universiteite-suid-afrika-die-geval-afrikaans/ [1 September 2018].         [ Links ]

Colditz, P. 2018. Education problems: Are Afrikaans schools to blame? News 24: 2018-01-18,https://www.news24.com/Columnists/GuestColumn/education-problems-are-afrikaans-schools-to-blame-20180118 [1 September 2018].         [ Links ]

Deacon, R. 2016. The Initial Teacher Education Research Project: Final Report Johannesburg: JET Education Services. Johannesburg: WITS.         [ Links ]

Deumert, A. & Van den Bussche, W. 2003. Germanic Standardizations: Past to Present. Amsterdam: John Benjamins Publishing.         [ Links ]

Ethnologue. 2019. Yiddish. https://www.ethnologue.com/language/yid [20 Oktober 2019].         [ Links ]

Govender, P. 2018. Teachers fail simple maths, English tests. Sunday Times, 11 Mar 2018,https://www.pressreader.com/south-africa/sunday-times-1107/.../281758449804517 [1 September 2018].         [ Links ]

Howie, S.J., Combrinck, C., Roux, K., Tshele, M., Mokoena, G.M. & McLeod Palane, N. 2016. PIRLS Literacy 2016: South African Highlights Report. Centre for Evaluation and Assessment, Faculty of Education, University of Pretoria,http://www.saep.org/wp-content/uploads/2017/12/pirls-literacy-2016-hl-report-3.zp136320.pdf [1 September 2018].         [ Links ]

Jansen, J. 2013. Not even colonial born: England, the English and the problem of education in South Africa. Toespraak gelewer by die English Academy of South Africa's Percy Baneshik Memorial Lecture. Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, https://www.litnet.co.za/percy-maneshik-memorial-lecture-2013/ [1 September, 2018].         [ Links ]

Jones, E.A. Afrikaans. In: Page, M.E. & Sonnenburg, P.M. 2003. Colonialism: an international, social, cultural, and political encyclopedia, p.7.         [ Links ]

Lesufi, P. 2018. Language used as a 'false shield' for exclusion. News 24: 2018-01-19,https://www.news24.com/Columnists/GuestColumn/panyaza-lesufi-language-being-used-as-a-false-shield-for-exclusion-20180119 [1 September 2018]        [ Links ]

Makwetu, K. (Auditor General). 2017. Public Finance Management Act 2016-17 - Consolidated General Report on National and Provincial Audit Outcomes. https://www.agsa.co.za/Portals/0/Reports/PFMA/201617/GR/AG%20PFMA%202017%20Web%20SMALL.pdf        [ Links ]

Maphanga, C. 2019. Out with Verwoerd: Lesufi renames Gauteng school, vows other names 'will also fall', News 24, 2019-05-21,https://www.news24.com/SouthAfrica/News/out-with-verwoerd-lesufi-renames-gauteng-school-vows-other-names-will-also-fall-20190521[30 May 2019].         [ Links ]

Motshekga, A. 2016. Report of the Ministerial Task Team appointed by Minister Angie Motshekga to investigate allegations into the selling of posts of educators by members of teachers unions and departmental officials in Provincial Education Departments. Department of Basic Education. Final Report 18 May 2016. https://www.gov.za/sites/default/files/gcis_document/201606/ministerialtaskteampostseducatorsreport2016.pdf        [ Links ]

Pascoe, A. 2016. English no longer holds sway in the digital age. Business Day, 12 Oktober 2016,http://www.bdlive.co.za/opinion/2016/10/12/english-no-longer-holds-sway-in-the-digital-age [1 September 2018].         [ Links ]

Roche, G. 2017. Linguistic Vitality, Endangerment, and Resilience, Language Documentation and Conservation, 11:190-223.         [ Links ]

Sesant, S. 2016. 300 Primary school teachers fail Grade 3 English test. Eyewitness News,https://ewn.co.za/2016/06/02/300-primary-school-teachers-fail-grade-3-English-test [1 September 2018].         [ Links ]

Skutnabb-Kangas, T. & Phillipson, R. 1989. 'Mother Tongue': The Theoretical and Sociopolitical Construction of a Concept. In: Ammon, U. (ed.) (1989). Status and Function of Languages and Language Varieties. Berlin, New York: Walter de Gruyter & Co.         [ Links ]

STATS SA. 2018. General Household Survey, Statistical Release P0318. Statistics South Africa, Pretoria.         [ Links ]

Van der Walt, H. & Steyn, H. 2016. Afrikaans as taal van onderrig en leer in skole en ander onderwysinstansies: "Ou" wyn in nuwe sakke. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(4-1):1034-1047.         [ Links ]

Weinreich, M. 2008. History of the Yiddish Language, Volumes 1 and 2, New Haven, London: Yale University Press.         [ Links ]

Zingeris, E. 1996.Yiddish culture: Report of the Committee on Culture and Education and related documents. Council of Europe: Committee on Culture and Education Doc. 7489. Council of Europe, Parliamentary Assembly, Strasbourg.         [ Links ]

 

 

 

FRANÇOIS DURAND was 'n paleontoloog by die Raad vir Geowetenskap vir tien jaar. Hy is vanaf 1998 lektor en navorser in die Departement Dierkunde van die Universiteit van Johannesburg (voorheen die Randse Afrikaanse Universiteit). Benewens vir sy navorsing in paleontologie het hy karstekologiese navorsing in Suid-Afrika gevestig. Hy en sy studente doen ook navorsing op die uitwerking van suurmynwater van die goudvelde van Johannesburg op die ekologie en gesondheid van organismes. François het hom oor die laaste drie dekades beywer om paleontologie te populariseer en bevorder. Hy is die stigter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Amateur Paleontoloë, die skrywer van meer as 60 populêre artikels oor paleontologie en hy gee gereeld aanbiedings oor evolusie en paleontologie. In sy vrye tyd is hy ook 'n kunstenaar en sy illustrasies is te sien in publikasies soos Life etched in stone (MacRae 1999) en 'n reeks seëls wat die hominien fossiele van Suid-Afrika herdenk (2006). Die SA Munt het hom genader om stelle goue munte te ontwerp vir hulle Natura reeks: Archosouriërs van Suid-Afrika (2018) en Fossiel Hominiene van Suid-Afrika (2019) en Gwondanaland (2020).
FRANÇOIS DURAND was formerly employed as a palaeontologist for ten years at the Council for Geoscience. Since 1998 he has been lecturer in zoology and palaeontology at the University of Johannesburg (originally the Rand Afrikaans University). Apart from his research on palaeontology, he established cave and groundwater ecology research in South Africa and is also doing research on the ecological and health impacts of Acid Mine Drainage emanating from the gold fields of Johannesburg. François has endeavoured to popularise and promote palaeontology. He founded the South African Society for Amateur Palaeontologists, wrote over 60 popular articles on palaeontology and regularly presents talks on evolution and palaeontology. He is also an artist and his illustrations can be seen in publications such as Life etched in stone (MacRae 1999) and a series of stamps commemorating the hominin fossils of South Africa (2006). The SA Mint approached him to design three sets of gold coins for their Natura series: Archosaurs of South Africa (2018), Fossil Hominins of South Africa (2019) and Gondwanaland (2020).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons