SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 número4"Reactionary nihilism" in the current eraPositioning self-directed continuing learning skills in twenty-first century education índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.59 no.4 Pretoria Dez. 2019

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2019/v59n4a3 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Vrygelate gevangenes word as gevangenispersoneel aangestel: Kan Suid-Afrika leer by hierdie nuwe internasionale tendens?

 

Ex-offenders should be appointed as prison wardens: Can South Africa learn from this new international trend?

 

 

Casper Lötter

Postdoktorale beurshouer, Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. E-pos: casperlttr@gmail.com

 

 


OPSOMMING

In die lig van die huidige nypende tekort aan gevangenispersoneel by die Departement Korrektiewe Dienste word opvattinge omtrent die werwing van vrygelate model-oortreders krities ondersoek. As teoretiese raamwerk word 'n kruis-kulturele of vergelykende kriminologiese perspektief sowel as 'n post-Marxistiese metodologie (in die tradisie van Frankfurt Skool Kritiese Teorie), ingespan en daar word ook gepoog om 'n pleidooi vir die belang van hierdie twee perspektiewe vir akademiese kriminologie ter plaatse te lewer. As vertrekpunt word John Braithwaite se belangrike onderskeid tussen hardestigmatiserend-beskamingskulture (Suid-Afrika, die VSA) en integrerend-beskamende kulture (China, Japan) ontleed ten einde die Chinese gesigspunt, wat reeds sedert die vyftigerjare aldaar suksesvol toegepas word in die werwing van gevangenes na vrylating as tronkpersoneel, te ondersoek. China verteenwoordig die een uiterste (integrasie) van die beskamingskultuurkontinuïteit, terwyl die VSA die ander uiterste (stigmatisering) verteenwoordig. Aangesien korrektiewe dienste in die VSA sedert 2018 tot 'n beperkte mate ook begin het met die werwing van vrygelate gevangenes, kan daar tereg van 'n internasionele tendens in die werwing van vrygelate gevangenes as gevangenispersoneel gepraat word. Die vraag wat ondersoek word, is of Suid-Afrika, as 'n hardestigmatiserend-beskamingskultuur met een van die hoogste heroortredingsyfers in die wêreld, se korrektiewe beleidsraamwerk by hierdie bemoedigende integrerende inisiatief kan baat. Terselfdertyd word die hoop uitgespreek dat die hoë vlakke van geweld in ons tronke getemper sou kon word deur die vooruitsig dat vrygelate model-gevangenes hoëprestasielewering tot die Departement se hervormingspogings sal kan toevoeg.

Trefwoorde: Personeeltekort; tronkgeweld; kruis-kulturele kriminologie; post-Marxisme; hardestigmatiserend-beskamings- en integrerend-beskamende kulture; Chinese ervaring; Amerikaanse ervaring; werwing van vrygelate gevangenes as tronkbewaarders


ABSTRACT

In view of the Department of Correctional Services' serious shortage of prison wardens and personnel, I critically investigate the idea of the possibility of recruiting model ex-offenders as prison wardens. Both high levels of violence as well as a critical shortage of personnel in the Department were recently highlighted by South Africa's new Minister of Justice and Correctional Services. Cross-cultural or comparative criminology and post-Marxism (in the tradition of Frankfurt School Critical Theory) are employed as a theoretical framework and methodology respectively. In respect of the latter, the relevant thought of three representatives in this tradition (Horkheimer [first generation], Habermas [second generation] and Žižek [third generation]) are considered in order to build a case for post-Marxism as a credible methodology in South African criminology. By way of example, India, a country with a population of 1.36 billion, has a mere 160 000 sentenced offenders (representing a third of their total prison population), while South Africa, with a population of just short of 60 million has as many inmates (both sentenced and awaiting trial) at 162 000. By the same token, China, the most populous country in the world, published rates of recidivism of between 6-8% at the turn of the century, whilst South Africa has one of the highest rates of re-offending in the world, namely 86-94%. From a Marxist perspective, the argument that a different reality is possible, is demonstrated, but only a cross-cultural or comparative perspective would allow us to see this. Attention is also drawn to the phenomenon of the prison-industrial-complex and the insidious ways in which rationales other than crime could increase our prison population. In this context, the importance of appreciating structural anomalies (poverty, unemployment and deepening inequality amidst affluence) as powerful breeding grounds for crime, rather than simply relying on individual responsibility as the sole driver of crime, is noted and illustrated. One such anomaly is the harsh stigmatizing shaming culture to which returning ex-offenders are subjected. The most daunting of all the obstacles faced by ex-offenders, is the prospect of prolonged unemployment as a result of labelling, among other factors. This well-known labelling perspective in criminology is not conducive to the sustainable rehabilitation and resettlement of ex-offenders in South Africa and it is argued that both anomalous phenomena, such as the prison-industrial-complex and the unjustified stigmatisation of ex-offenders, are some of the more important drivers of our unsustainable rates of crime and recidivism in this country. An attempt is made to justify both cross-cultural or comparative criminology and post-Marxism as valuable perspectives in South African academic criminology. This is something which has historically been neglected in this country. As a point of departure, John Braithwaite's seminal distinction between stigmatising (South Africa, the US) and integrative shaming cultures (China, Japan) is explored in order to appreciate the Chinese view, which has been successfully applied there since the fifties, of recruiting and employing ex-offenders, who comply with the requirements, as prison personnel and wardens. On a continuum of shaming cultures, China would occupy one extreme (integration) while the United States (as a stigmatising shaming culture) would be placed at the other extreme. Since correctional services in the US, as the one extreme on the continuum of shaming cultures, have since 2018 also began embracing the integrative initiative of recruiting and employing ex-offenders as both prison personnel and wardens, it is now possible to speak of a truly international trend in this regard. The question which is addressed in this contribution is whether or not South Africa's corrective policy framework, as a country with a harsh stigmatising shaming culture and one of the highest rates of recidivism in the world, can benefit from this encouraging integrative international initiative. It is submitted that South Africa can benefit from this initiative in three ways. Firstly, removing a formidable hurdle in the resettlement of ex-offenders, by offering some ex-offenders employment. Secondly, considerable value will be added to DCS's manpower in terms of high-performance wardens, as the international experience has shown. Thirdly, addressing violence behind bars by roping in ex-offenders will assist with rehabilitation efforts behind prison walls. In view of the high levels of violence in our prisons, the hope is expressed that the international experience of high-performance delivery by ex-offenders employed as prison wardens, would translate not only into fruitful rehabilitation initiatives, but especially as a resourceful way of curbing violence behind bars.

Key words: Personnel shortage; violence; comparative criminology; post-Marxism;stigmatising and integrative shaming cultures; Chinese experience; US perspective; employing ex-offenders as prison wardens


 

 

PERSONEELTEKORT EN GEWELDSMISDAAD IN SUID-AFRIKAANSE GEVANGENISSE

Twee kernprobleme waarmee Suid-Afrika se Departement van Korrektiewe Dienste te kampe het is enersyds hoë vlakke van geweld binne gevangenisse en andersyds 'n nypende tekort aan opgeleide, hoëprestasietronkbeamptes of -bewaarders wat dergelike probleme die hoof sou kon bied.

Pas drie jaar gelede het die destydse adjunkminister van Korrektiewe Dienste, Thabang Makwetla, en die Kommissaris van Korrektiewe Dienste, Zack Modise, tydens 'n besoek aan die St. Albans Gevangeniskompleks buite Port Elizabeth die ernstige tekort aan gevangenispersoneel betreur. Dit is nie onvanpas om daarop te wys dat die minister se woorde geuiter is te midde van een van daardie inrigting se mees gewelddadige tronkopstande in die jongste verlede. Om die waarheid te sê, die argument wat ek poog om in hierdie artikel te beredeneer, is geskoei op die idee dat beide hierdie probleme, geweld en personeeltekort, in Suid-Afrikaanse gevangeniskringe ten minste gedeeltelik en tegelykertyd in 'n volledige en verantwoordelike oplossing aangepak kan word. Die punt wat ek probeer tuisbring, is dat die geweldsprobleem in ons gevangenisse en die personeeltekortkrisis op 'n interessante wyse met mekaar verbandhou en ek hoop om in hierdie bydrae te demonstreer dat 'n vindingryke oplossing vir die een probleem (personeeltekort) ook vir die ander probleem (geweld) voordelig kan wees.

Hierdie probleem van personeeltekort en -aanvulling in gevangenisse is niks nuuts nie, maar vindingryke oplossings en veral die motiverings daarvoor, is nie wyd beskikbaar in die bestaande literatuur nie. Die wenslikheid van die aanstelling van model-gevangenes as gevangenispersoneel na vrylating, is reeds tydens die sestigerjare van die vorige eeu deur Amerikaanse kriminoloë uitgewys, maar hierdie idee is nooit in die Verenigde State of in die Verenigde Koninkryk (VK) deur die gevangenisowerhede aldaar ernstig oorweeg nie. In China daarenteen, wat 'n sosialistiese strafbestel voorstaan en beoefen, is hierdie idee sedert die vyftigerjare wyd aanvaar en toegepas. Mao, die destydse leier van die Volksrepubliek, het toentertyd reeds verklaar dat 95% van alle kriminele elemente suksesvol hervorm kan word solank hulle net aan 'n goeie dosis breinspoeling (gepaardgaande met arbeid) onderwerp word - 'n uitspraak wat sedertdien wyd aanklank sou vind. Ironies genoeg het hierdie gedagte pas 'n jaar of wat gelede weer in die Verenigde State ingang begin vind en word dit nou ook in beperkte mate in daardie land toegepas.

Teen hierdie agtergrond beredeneer ek dus die gedagtegang dat Suid-Afrika se strafpraktyke wel baat kan vind by vindingryke oplossings wat tans deur bepaalde bronne in sowel die Ooste as die Weste, insluitende kapitalistiese en sosialistiese regs- en strafpraktyke, onderskryf word. In die proses word die voor- en nadele van hierdie beoogde stap in die Suid-Afrikaanse konteks uitgepluis en aanbevelings rakende 'n sinvolle en verantwoordelike toepassing daarvan aan die hand gedoen.

In die lig van die grootskaalse probleme waaronder Suid-Afrikaanse gevangenisse gebuk gaan wat betref die aanstelling en keuring van top- of hoogs presterende personeel, word die argument in hierdie artikel gerugsteun deur suksesverhale in buitelandse jurisdiksies rakende die aanstelling van model-gevangenes na hul vrylating in die betrokke gevangenisse aldaar. Ter ondersteuning van my argument word ook vlugtig na drie ander internasionale tendense verwys waarby Suid-Afrika se straf- en hervormingsbeleidsraamwerk beslis kan baat.

 

DIE GEWELDSPROBLEEM IN SUID-AFRIKAANSE GEVANGENISSE

Hierbo is reeds melding gemaak van die rampspoedige tronkgeweld wat sowat drie jaar gelede op die dag na Kersfees in 2016 in die St. Albans tronksentrum buite Port Elizabeth losgebars het (Malgas & Motau 2016). Talle gevangenes en vyf personeellede van die Departement Korrektiewe Dienste is tydens die voorval beseer, terwyl ten minste drie aangehoudenes met hul lewe moes boet. Die St. Albans Gevangeniskompleks word beskou as een van die sogenaamde "Groot Vyf"-gevangenissentrums in Suid-Afrika en bestaan uit 'n voorverhooraanhoudingsgevangenis, 'n gevangenis vir gevonniste oortreders wat geklassifiseer is as matig-gevaarlik en 'n maksimumsekuriteitgevangenis vir uiters gevaarlike gevangenes. Die ander lede van die sogenaamde Groot Vyf-gevangenisklub in Suid-Afrika is Pollsmoor in Tokai, Kaapstad, Durban-Westville buite Durban, die sogenaamde "Sun City" in Johannesburg (ook bekend as die Johannesburgse Korrektiewe Sentrum) en die ou Pretoria Sentraal, wat nou bekendstaan as die Kgosi Mampuru II. Laasgenoemde het gedien as die tydelike aanhoudingsperseel van die bekende Oscar Pistorius. Ten einde as een van die Groot Vyf te kan kwalifiseer, moet 'n gevangeniskompleks ongeveer 5 000 gevangenes huisves.

Dit is egter nie die eerste keer dat ernstige geweld binne die mure van hierdie tronk uitbreek nie en geweld is ook niks nuuts in Suid-Afrikaanse gevangenisse nie. In 'n persverklaring na 'n besoek aan St. Albans, het die adjunkminister uitgewys dat personeeltekort in die Departement kritieke afmetings aanneem - volgens hom was die situasie "extreme[ly] acute and dangerously so" (SABC digital News 2017). Blykens die minister se verklaring is St. Albans slegs ongeveer 50 persent beman, met gevolglik talle vakante poste. 'n Verdere aspek wat die adjunkminister omlyn het en wat myns insiens belangrik is vir die regverdiging van my voorstel, is die feit dat soveel bewaarders kop in een mus met bende- en of negatiewe elemente is. 'n Dergelike ongewenste toedrag van sake sou immers voorkom kon word indien gerehabiliteerde gevangenes na hul vrylating oorweeg sou kon word ten einde die aanstelling van hoogs presterende beamptes in die Departement Korrektiewe Dienste in Suid-Afrika te vergemaklik.

 

'N POST-MARXISTIESE INVALSHOEK

Kriminoloë in Suid-Afrika, maar ook wêreldwyd, is dit eens dat die hervestiging van vrygelate gevangenes noodsaaklik, eerder as belangrik is, aangesien die Chinese ervaring getuienis is daarvan dat die suksesvolle hervestiging van vrygelate gevangenes tot 'n ingrypende daling in heroortredingsyfers lei (Lötter 2018:181-196; Dutton & Xu 1998). Die Australiese kriminoloog, John Braithwaite (1995:277-305), het die belangrike onderskeid tussen hardestigmatiserend-beskamingskulture (Suid-Afrika, die VSA) enersyds en integrerend-beskamendekulture (China, Japan) andersyds benadruk en ter verheldering aangevoer dat alle kulture beskaming inspan in 'n poging om misdaad en maatskaplike afwykings te bekamp. Eersgenoemde gebruik stigma en muishond-status (verwerping) en laasgenoemde liefde en oortuiging (integrasie) vir hierdie doel (Lötter 2018:30).

In die lig van hierdie onderskeid het die Volksrepubliek van China heroortredingstatistieke van 'n ongelooflike 6-8% vrygestel, terwyl ons ter plaatse in Suid-Afrika met onhoudbare syfers van 86-94% tevrede moet wees. Vanuit 'n poststrukturalistiese oogpunt moet 'n mens natuurlik ook toegee dat geen kultuur deurlopend homogeen is nie en dat die doel van hierdie geprojekteerde onderskeid is om die oorheersende kenmerke van die twee onderskeie kulture weer te gee (Lötter 2018:58-61). Maar met behulp van die post-Marxistiese ontledende invalshoek, wat as die aanvegbare metodologie van hierdie artikel dien, poog ons om uit te wys dat die stelling dat 'n ander werklikheid tog minstens moontlik is, wel regverdigbaar is. Andrea Hurst (2004:26) omskryf die term metodologie op die volgende insiggewende wyse:

[M]ethodologies could be viewed as concentrating on the more practical task of prescribing how best to go about constructing and supporting explanations - and justifying these prescriptions, usually by appeal to some of the assumptions shared by everyone within a certain paradigm. Methodologies, in this view would be seen as aiming to provide reliable foundations for knowledge and understanding, and for validating specific methods.

Metodologieë omvat 'n hele reeks vooronderstellings oor die wêreld en voorsien in 'n verskeidenheid werksmaatreëls in samehang met die verkose metodologie of kombinasie van metodologieë. Die paradigma wat my verkose metodologie onderlê, is 'n onwikkelingsparadigma in die sin dat die bevrydende maatstaf van die Frankfurt Skool daarop gerig is om, in ooreenstemming met die grondliggende idee van die onderhawige artikel, beide aangehoue en vrygelate gevangenes behulpsaam te wees in pogings om bo hul kriminele agtergrond uit te styg. Dit is welbekend dat vrygelate gevangenes deur kenners beskou word as een van die mees agtergeblewe en gemarginaliseerde gemeenskappe in die Westerse wêreld (beide ter plaatse in Suid-Afrika en in ander hardestigmatiserend-beskamingskulture). In die lig van die feit dat maatskaplike knelpunte soos grootskaalse werkloosheid (40% volgens die nuutste statistieke), armoede en groeiende ekonomiese ongelykheid belangrike dryfvere is vir Suid-Afrika se onhoudbare heroortredingsyfers, maak dit dus myns insiens sin om misdadigheid met inagneming van maatskaplike oogmerke te probeer bekamp.

Ondanks die politiese en maatskaplike risiko om uitsluitlik aan gevangenes se individuele aanspreeklikheid aandag te gee, tot die uitsluiting van dringende maatskaplike hervorming (werkloosheid, armoede, groeiende ongelykheid te midde van materiële welvaart), is dit nietemin 'n belangrike projek (Haney 2005; Allen 1992:82-83). Wat egter nie uit die oog verloor mag word nie, is die perspektief dat die model van individuele aanspreeklikheid (nou grootliks gediskrediteer) tot 'n groot mate vervang is met die model van strukturele verantwoordelikheid.

Daar is naamlik 'n groeiende bewuswording onder kriminoloë wêreldwyd dat institusionele geweld (armoede, werkloosheid, ongelykheid) vrugbare teelaarde is vir maatskaplike afwykings en misdadige tendense (Haney 2005). In hierdie verband is dit intellektueel prikkelend dat Allen (1992:82-83) die volgende berig aangaande die rigting waarin hervormingspogings van die Volksrepubliek van China gestuur word:

Responsibility for deviant behavior is usually attributed to the external environment [] These negative influences may not necessarily reflect on the reality of the environment, but on the individual's perception of these realities. Consequently, the entire rehabilitation process is based on the task of re-educating the offender [] to respond to the environment within a socialist orientation.

Hier kan duidelik gesien word dat terwyl Westerse jurisdiksies individuele aanspreeklikheid vooropstel, 'n sosialistiese staatsbestel soos China (uitgesonderd Hong Kong of Taiwan) eerder die oortreder se reaksie op hierdie vorme van strukturele geweld beklemtoon. Die stigmatisering en ongeregverdigde diskriminasie wat vrygelate gevangenes in hardestigmatiserend-beskamingskulture (soos Suid-Afrika en die VSA) ervaar, is eweneens 'n geval waar aan die individu sogenaamde muishond-status toegeken word. Erving Goffman (1990/1963:19) omskryf die sentrale rol wat stigma in die aangetaste individu se lewe speel as "the central feature of the stigmatized individual's situation in life [] It is a question of [] 'acceptance'." Volgens Braithwaite (1989:20, 100) is sodanige kultuur op sigself genome "criminogenic" aangesien dit teenproduktief is - in stede daarvan om voormalige oortreders aan te spoor om by die hoofstroomgemeenskap as wetsgehoorsame burgers aan te sluit, word hulle eerder as 't ware uitgedryf na 'n wettelose subkultuur. Hierdie standpunt, wat as die brandmerk-denkwyse of -perspektief in kriminologie bekendstaan, is al met reg deur Suid-Afrikaanse tronknavorsers beskryf as "a revolving door" (Ngabonziza & Singh 2012:99). 'n Dergelike, myns insiens geregverdigde uitspraak, word bevestig deur Braithwaite se bevinding dat 'n hardestigmatiserend-beskamingskultuur nóg lei tot voormalige oortreders se effektiewe hervestiging, nóg aangewend kan word om heroortredingsgedrag te verhoed. Die teendeel is eerder waar, aangesien stigma uitgesonder kan word as een van die sterkste dryfvere onderliggend aan Suid-Afrika se onhoudbare misdaad- en heroortredingsyfers (Braithwaite 1995:278; Lötter 2018:262-263). In hierdie verband het die tronknavorser Lucas Muntingh (2009) onlangs oortuigend gedemonstreer dat die grootskaalse gebrek aan werksgeleenthede vir gewese oortreders - uiteraard vanweë hul muishond-status - die grootste enkele struikelblok in enige haalbare hervorming en hervestiging is.

Die rol van gevestigde belange in die uitbouing van gevangenisstraf as ons oorwegende straftoemetingstandaard in hierdie land, moet ook nie onderskat word nie. Wat laasgenoemde betref, is die Bosasakorrupsieskandaal, soos Agrizzi dit voor die Zondo-kommissie uitgepluis het, en die miljarde rande wat uit die Departement Korrektiewe Dienste se begroting gekaap is, ter sake. In die VSA is hierdie vorm van staatskaping in korrektiewe dienste as die "prison-industrial-complex" ontmasker (Davis 2003, 2005; Alexander 2012). Eric Schlosser (1998) het hierdie verskynsel veduidelik as "a set of bureaucratic, political, and economic interests that encourage increased spending on imprisonment, regardless of the actual need". So berig News24 (2019), by monde van die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, dat oortreders tans vir hulself kos maak asof daar nooit 'n Bosasa was nie. Angela Davis (2005:37-38) beskryf die donker ondertoon van hierdie vorm van staatskaping met die volgende treffende aanhaling:

Well, the link that is usually assumed in popular and scholarly discourse is that crime produces punishment. What I have tried to do - together with many other public intellectuals, activists, scholars - is to encourage people to think about the possibility that punishment may be the consequence of other forces and not the inevitable consequence of the commission of crime. Which is not to say that people in prisons have not committed what we call "crimes" - I am not making that argument at all [] Those communities that are subject to police surveillance are much more likely to produce more bodies for the punishment industry. But even more important, imprisonment is the punitive solution to a whole range of social problems that are not being addressed by those social institutions that might help people lead better, more satisfying lives.

Hierdie hersirkulering van mense in en uit ons tronke, wat Davis so raak uitwys, is ongetwyfeld 'n siniese komplot om finansieel munt te slaan uit die gevangenis as 'n politieke en maatskaplike verskynsel (Alexander 2012:95-96). Dergelike oorwegings lei onvermydelik tot die gevolgtrekking dat gevangenisstraf nie sonder meer as ons beste keuse by die oorweging van strafopsies aanvaar behoort te word nie en dat 'n Marxistiese ontledingshoek klaarblyklik nuttig sou kon wees in die ontleding van knellende maatskaplike kwelpunte, soos tronkgeweld en die probleem rakende die werwing van hoogs presterende tronkpersoneel. Dit is in hierdie verband verstommend dat die bekende Amerikaanse tronkontbondingsaktivis ("prison abolitionist activist") Angela Davis, bevind het dat Indië, 'n land met 'n bevolking van 1.36 miljard mense - wat volgens alle aanduidings China binnekort as die land met die meeste mense gaan verbysteek - 'n tronkbevolking van slegs 200 000 het (Davis & Alexander 2012). Dít teenoor Suid-Afrikaanse statistiek - 'n land met 'n bevolking van minder as 60 miljoen mense en 'n tronkbevolking van 160 000 gevangenes (Felix 2018). Alhoewel Davis se syfers verkeerd is (Indië het tans 'n gevangenisbevolking van 433 000 waarvan ten minste tweederdes verhoorafwagtend is (Institute for Criminal Policy Research 2019), moet mens haar nietemin gelyk gee aangesien Indië een van die laagste tronkbevolkingstatistieke ter wêreld het - 33 per 100 000 in die algemene bevolking teenoor Suid-Afrika se 279 per 100 000. Dit is duidelik dat ons nadruk op gevangenisstraf as ons oorwegende straftoemetingstandaard nie ons onhoudbare misdaad- en heroortredingsyfers kan bekamp nie: ter plaatse skort iets fundamenteels.

 

DRIE GESLAGTE VAN DIE FRANKFURT SKOOL

Rasmussen (1996) tipeer Kritiese Teorie, soos ontwikkel deur drie geslagte uit die Frankfurt Skool, as 'n kritiese teorie van die gemeenskap, geskoei op 'n bevrydende oogmerk wat te vinde is in die verhouding tussen praktyk (praxis) en teorie, waar beide Marx en Freud se werk uitgebou en krities aangepas is vir eietydse toestande.

Ten einde die relevansie van Kritiese Teorie à la die Frankfurt Skool vir die bestudering van kriminologie in Suid-Afrika te illustreer, word vervolgens kortliks gefokus op die bydrae tot 'n krities-maatskaplike metodologie deur Horkheimer (eerste geslag), Habermas (tweede geslag) en Žižek (derde geslag).

Horkheimer (1993/1931:6-11, 14) definieer Kritiese Teorie treffend as 'n vennootskap tussen die geesteswetenskappe en filosofie, met laasgenoemde as 'n diagnostiese instrument met praktiese toepassing bevestig deur empiriese navorsing vir 'n veranderende wêreld. Die insigte van 'n post-Marxistiese gesigspunt word derhalwe verken aan die hand van ontdekkings of vars perspektiewe, trans-dissiplinêr beskou vanuit die empiriese vakdissiplines en die geesteswetenskappe.

Habermas se belangrike bydrae tot Kritiese Teorie kan ten beste beskou word binne die konteks van sy beroemde debat met Gadamer. Laasgenoemde se bekende konsep van "horisonversmelting" (Horizontverschmelzung) (McCarthy 1978:173-174; Warnke 1987:81-82) verklaar die leesproses as een waar die leser betekenis kan ontsluit deur die "samesmelting" tussen die bekende van sy of haar oorspronklike vertrekpunt en die vreemde of nuwe teks. Habermas, daarenteen, dring daarop aan dat die hermeneutiese uitleg van 'n teks nie genoeg is om die ideologiese gespreksversteuringe (hetsy as 'n gevolg van psigiese verdringing [Freud] of maatskaplike verdrukking [Marx]) uit die weg te ruim nie (McCarthy 1978:190) en dat versteurde gespreksvoering derhalwe 'n ideologiekritiek noodsaak wat die sogenaamde "ideologies-neutrale" uitleg van die teks voorafgaan. In my betoog in hierdie artikel is ek bedag op ideologiese gespreksversteuringe en let pertinent op die moontlikheid dat die aanstelling van vrygelate model-oortreders om tegelykertyd geweld in ons tronke tot 'n mate te bekamp, tot konflik met bepaalde gevestigde belange sal lei. Ons kan dus sonder twyfel gerasionaliseerde teenstand teen ons voorstel verwag, ongeag van hoe goed ons standpunt onderbou is.

Žižek (2012) redeneer dat die idee van bevrydende drome ("emancipatory dreams"), soos beliggaam in die Arabiese Lente van 2011 en die Occupy Wall Street-beweging in dieselfde pylvak, wel haalbaar is indien ons besef dat 'n negatiewe utopie (in die Hegeliaanse sin van die woord en beslis nie 'n Marxistiese positiewe utopie nie) reeds teenwoordig is in ons gefaalde projekte in die hede. Hy is van mening dat ons bevrydende drome wel in die toekoms haalbaar is, maar met die voorbehoud dat die verwesenliking daarvan ongetwyfeld male sonder tal herhaaldelik uitgestel sal word. Volgens Žižek (2012:134) is dit nie die slaafse navolging van tendense wat belangrik is by die verwesenliking van ons negatiewe utopie nie, maar slegs 'n radikale breuk sal die verwesenliking van die geskikte moontlikheid vir ons openbaar. Ek beskou Žižek se idee van 'n "radikale breuk" as diskontinuïteit eerder as kontinuïteit waardevol in die verwesenliking van Kritiese Teorie se emansipasieprojek.

Wat maak die Frankfurt Skool-werkswyse post-Marxisties volgens die benadering van sy kenners soos hierbo uitgewys? Habermas, byvoorbeeld, beweeg in bepaalde opsigte ver buite die Marxistiese projek. Eerstens het Habermas besef dat 'n ideologiekritiek wat op die verskynsel van sistematiese ideologiese gespreksversteuringe ("systematic communicative distortions") gebaseer is, 'n heroorweging of -bepeinsing noodsaak van Kritiese Teorie se grondslag van 'n Freudiaans-geïnspireerde kennisteorie tot 'n taal- of gespreksbegronde teorie (Roderick 1986:71). Tweedens dui Habermas se herbeoordeling van historiese materialisme ("historical materialism") as 'n herformulering van Marx se geskiedenisfilosofie met praktiese toepassing (naamlik: revolusie) tot 'n sosiale teorie van evolusie, op 'n verdere grondliggende afwyking van die klassieke Marxistiese projek.

In die lig van post-Marxisme se benoemenswaardige bydrae tot maatskaplike analise, is dit waarlik tragies vir Suid-Afrika dat hierdie benadering nooit 'n regverdige kans op eie bodem gegun is nie. Die rede hiervoor is gedeeltelik 'n vreemde sameloop van omstandighede. Voor 1994 was Marxisme en Kommunistiese leerstellings verban in die ou Suid-Afrika en tussen 1989 en 1994 het gebeure op die internasionale toneel Marxisme as 'n geloofwaardige en ernstige leerdissipline skade aangedoen. Ingrypende geskiedkundige gebeure - soos die skouspelagtige verbrokkeling van die Berlynse Muur in 1989 en die ongelooflike ineenstorting van die Sowjet-Unie in 1991 - het 'n skaduwee oor die geloofwaardigheid van Marxisme as 'n metodologiese lens gewerp. Sedertdien het 'n stroom van nuwe vakkundige materiaal egter hierdie gesigspunt wat so sentraal in die tweede helfde van die twintigste eeu gestaan het, tot 'n groot mate herstel.

Om hierdie rede doen ek in die lig van groeiende en verdiepende ongelykheid wêreldwyd, maar veral in Suid-Afrika (wat volgens Piketty [2015] voor in sy klas staan), aan die hand dat 'n post-Marxisme metodologiese ontginnende lens toepaslik sal wees in die motivering van my voorstel om vrygelate model-gevangenes in te span om geweld in Suid-Afrikaanse gevangenisse te bekamp.

In 'n postmoderne wêreld is die tradisionele wetenskaplike navorsingsbenaderings van empiriese (en andersins streng rasionalistiese oorwegings) eenvoudig nie meer voldoende nie, want ons het te make met 'n globale gemeenskap waar versoenbare sosiale werklikhede "vreedsaam" geakkommodeer moet word (Lötter 2018:97-98). Ten einde daadwerklik komplekse maatskaplike en politieke probleme (soos die hervestiging van vrygelate gevangenes) kragdadig aan te pak, is multivlakkige perspektiewe derhalwe noodsaaklik. So dring Olivier (2005:87-88) byvoorbeeld daarop aan dat, in navolging van groot name in die Europese vastelandse tradisie (Lacan, Derrida en Rancière), komplekse probleemgevalle slegs vatbaar is vir moontlike oplossings indien gekyk word na al die uiteenlopende aspekte daarvan. Dit sluit, onder meer, ekonomiese, politieke, psigoanalitiese, filosofiese, geskiedkundige en sosiale oogpunte in. Dít in teenstelling tot akademiese kriminologie hier te lande wat tradisioneel op óf 'n eksklusiewe sosiologiese óf forensiese (natuurwetenskaplike) grondslag geskoei is terwyl ander waardevolle perspektiewe, naamlik spesifiek 'n filosofiese post-Marxistiese perspektief, verwaarloos word.

In navolging van Bert Olivier (2005) se oortuigende argument word inter- en selfs trans-dissiplinêre perspektiewe in hierdie artikel onder die loep geneem ten einde die kriminologiese konteks binne die raamwerk van my oorkoepelende projek rondom die herintegrasie van vrygelate gevangenes in Suid-Afrika te benut. My gevoel is dat professionele kriminoloë in Suid-Afrika tradisioneel werklik konserwatief en streng vakkundig in hul benadering tot maatskaplike knelpunte vasgevang is en dat 'n standpunt wat die waarde en werkbaarheid van 'n interdissiplinêre invalshoek uitlê en behoorlik ondersteun, beslis tot die vakkundige kennis behoort by te dra.

 

REGVERDIGING VIR 'N STRAFVERGELYKENDE WERKSWYSE

'n Verdere, ietwat ongewone (maar, myns insiens, ook uiters effektiewe), manier waarop maatskaplike probleme op eie bodem aangespreek kan word, is met behulp van 'n vergelykende perspektief. Kers opsteek by ander kulture is egter nie 'n nuwe idee in kriminologie nie en daar bestaan reeds indrukwekkende voorbeelde vir so 'n werkswyse. Peter Winch (1964:317), een van Habermas se bekende samelopers uit die sewentigerjare, is van mening dat die bestudering van vreemde kulture sonder twyfel die verstaan van ons eiesoortige kultuur sal verryk. Dit is ook my uitgangspunt in die onderhawige artikel. Ek oorweeg 'n alternatiewe ontwikkelingsprojeksie vir personeelwerwing in Suid-Afrika deur die geskiedkundige verloop van die strafregproses in Mao- en post-Mao China, en in besonder hul rehabilitasiepraktyke, onder die loep te neem (Weiss 1998:460). In die voorgestelde alternatief word rehabilitasie 'n hoofdoelwit in gevangenisstraf - dít gegewe die feit dat in postapartheid Suid-Afrika, in navolging van die Amerikaanse model, straftoemeting grootliks ontkoppel is van enige betekenisvolle rehabilitasie (Davis 2003:40,43; Muntingh 2008).

Behalwe vir die gebrek aan personeelwerwing, verwys ek vlugtig na drie ander internasionale tendense waarby Suid-Afrika se Departement van Korrektiewe Dienste se beleidsraamwerk baat sal vind en wat inderdaad beste parktykreëls daarstel. Hierdie tendense is tronkontbonding, die idee van "oop" gevangenisse en die bekendstelling van troeteldiere in gevangenisse as terapeutiese bemiddeling.

Eerstens, het die idee dat gevangesetting eenvoudig nie voldoen aan die destydse belofte van misdaadbekamping of -voorkoming nie en trouens selfs bydra tot die probleem van heroortreding (Sinclair 2018), daartoe gelei dat vele lande sedert die laat twintigste eeu 'n tronkontbondingsveldtog begin ondersteun het. Ek dink hier aan Nederland (Batist 2019), Skandinawiese lande soos Finland (Bichell 2015), ten minste vyf Amerikaanse state (New Jersey, Alaska, New York, Vermont, Kalifornië, Connecticut, ens.), wat weens beleidshervorming indrukwekkende vermindering in hul gevangenisbevolking berig het (Schrantz et al. 2018), en talle Afrika-lande (Nagel 2008:70). Indië, soos hierbo aangedui, het, ondanks hul bevolkingsdigtheid, een van die kleinste tronkbevolkings op aarde. Nederland het tans 61 oortreders per 100 000 in die algemene bevolking (een van die laagste in Europa) terwyl die VSA tien keer meer (655 per 100 000) het, en, met die moontlike uitsondering van China, beslis die hoogste in die wêreld - (Institute for Criminal Policy Research 2019). In die treffende woorde van Mary Bosworth (2010:169), "while prisons have always been used to control the poor and the disorderly, the extent to which incarceration in the 1990s became divorced from any of its historical justifications for justice, crime reduction, or rehabilitation is remarkable." Daar blyk 'n groeiende bewuswording in bogenoemde jurisdiksies (met die insluiting van die VSA as 'n geheel) te wees dat gevangenisstraf, teenoor die andersins positiewe gevolge van gemeenskapsdiens en elektroniese monitering, beslis heroortreding aanwakker (Schrantz et al., ibid.; Gendreau et al. 1999:154). Soos Lucas Muntingh (2008:200), 'n Suid-Afrikaanse tronknavorser, aandui, is dit beslis hoog tyd dat ons hier ter plaatse gevangenisstraf as ons oorwegende straftoemetingsparadigma fundamenteel in heroorweging neem.

Tweedens, het die gedagte aan "oop gevangenisse", wat as 'n broodnodige brug tussen tronk en hervestiging kan dien, in talle lande begin posvat. In oop gevangenisse is daar nie veiligheidsomheinings nie en met minimale sekuriteit dra oortreders self hul eie kamersleutels. Baie oortreders werk deur die dag in die gemeenskap buite die tronk self (James 2011). Die beginsel wat die idee van oop inrigtings, in teenstelling met geslote gevangenisse, voed is dat die direkte vrylating van langtermyn-oortreders uit geslote gevangenisse gevaarlik en skadelik is. Die teendeel, deur oortreders met vertroue en verantwoordelikheid by hul eie hervorming en hervestiging te betrek, verteenwoordig belangrike boustene in hierdie hervormingspoging. Dink hier onder meer aan Afrika-lande soos Zimbabwe (NewsZimbabwe 2019) en die Seyshelles (Lablache 2014), Finland (Moore & Farhat 2018), Ierland (Irish Penal Reform Trust 2017), Denemarke, Noorweë, Duitsland, Turkye en Engeland (James 2011). In Finland is oop gevangenisse baie algemeen en het dit 'n lang geskiedenis; ten minste die helfte van hul sowat 26 gevangenisse is "oop" inrigtings (Sinclair 2018). Die meeste jurisdiksies gebruik oop gevangenisse as 'n oorbruggingsmeganisme teen die einde van die oortreder se vonnis met die oog op haalbare hervestiging (Irish Penal Reform Trust 2017). Suid-Afrika kan baat vind by tronkontbonding en oop gevangenisse as twee internasionale tendense wat die fiskus baie geld kan spaar en terselfdertyd misdaad/ heroortreding kan hokslaan, soos die Skandinawiese en Nederlandse ervarings geleer het.

Derdens, die beginsel dat die bekendstelling van troeteldiere in gevangenisse vir terapeutiese doeleindes ("animal-assisted therapy"), oortreders kan help om emosionele ewewigtigheid te vind en sodoende beide smeulende woede en geweld agter tralies aan bande te lê, het in lande soos die VSA, Skotland (Graham 1999:248-249) en Thailand (Gregory & Tierney 2003:141-142), ondersteuning gevind. Weens praktiese oorwegings blyk katte en voëls gunstelinge te wees (Lötter 2018:222-223). Verslag is gelewer dat troeteldiere 'n terapeutiese effek op oortreders in aanhouding het en tot verbeterde samewerking tussen oortreders en personeel lei (Graham ibid.)

Hierdie drie internasionale tendense is naas dié te vinde by Chinese strafpraktyke, waardevol en kan met vrug in die konteks van Suid-Afrika se korrektiewe beleidsraamwerk oorweeg word. Vervolgens word die Chinese straf- en rehabilitasiepraktyke ontgin met die hoop om sinvolle idees raak te myn en dan te poog om hierdie diamantjies van Chinese aarde (in terme van hul integrerend-beskamende kultuurpraktyke) na eie bodem in postapartheid Suid-Afrika oor te plaas. Gebaseer op bepaalde Chinese hervestigingsidees, word sinvolle voorstelle vir verbeterde straf- en hervestigingspraktyke aan die hand gedoen. Hopelik sal die tweeledige fokus op personeel(her)winning en die bekamping van geweld in ons gevangenisse lei tot 'n broodnodige debat oor die myns insiens noodwendige verbintenis tussen die twee begrippe. Dit gaan hier by nadruk om die werf van hoëprestasiepersoneel in Suid-Afrikaanse gevangenisse en tegelykertyd die bekamping van geweld agter tralies.

Vergelykendewys word hervestiging as 'n bevrydende projek in die post-Marxistiese tradisie van die Frankfurt Skool geskoei op die eietydse Chinese ervaring - meer spesifiek wat daar waar te neem en verantwoordbaar te leer is van laasgenoemde se rehabilitasie- en straftoewysingspraktyke. Dít alles in die lig van die radikale moontlikheid rondom die werwing van model-gevangenes na hul vrylating. 'n Dergelike vergelykende raamwerk maak sin in die lig van 'n toenemend Chinese globale teenwoordigheid, waar uitheemse waardes en vooroordele ook in ons hoekie van Afrika toenemend sigbaar word.

 

CHINA SE INTEGREREND-BESKAMENDE KULTUUR EN HUL HERVORMINGSPOGINGS

Aanloop

Die straftoemetingsparadigma in die Weste gedurende die tweede helfde van die twintigste en die beginfase van die een-en-twintigste eeu is geskoei op die tweërlei beginsels van waenhuisverpakking aan die een kant, en bestuurstylbeheer aan die ander kant. Die huidige minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, het self uit eie beweging hierdie gedagte in die Suid-Afrikaanse konteks bevestig toe hy onlangs gewys het op die probleem van waenhuisverpakking in ons gevangenisse. Uiteraard is en bly die ideaal van haalbare rehabilitasie van oortreders op die agterbaan met probleme soos geweld en onhoudbare oorbevolking wat sekerlik voorkeur moet geniet. Hierdie toedrag van sake is bowendien nie beperk tot gevangenisse in Suid-Afrika nie, maar is 'n deurlopende probleem in Afrika. Die droom van effektiewe rehabilitasie van oortreders in die Westerse wêreld is sedert die sewentigerjare reeds iets van die verlede.

Dit kom dus ook as geen verrassing dat regstelsels in die Weste, waarvan die Verenigde State en postapartheid Suid-Afrika sprekende voorbeelde is, grootliks gebaseer is op kapitalistiese en individualistiese waardeoordele nie. Hervestigingsprojekte is baie belangrik om heroortreding aan te pak en werkbare hervestiging 'n realistiese moontlikheid te maak, maar, soos die Australiese vergelykende kriminoloog John Braithwaite (1989) aangedui het, kan hardestigmatiserend-beskamingskulture (soos in die VSA en postapartheid Suid-Afrika) geensins met die sukses van hervestigingsprojekte in integrerend-beskamende kulture (soos Japan en die Volksrepubliek van China) meeding nie. Ander probleme wat spesifiek ter plaatse ondervind word, soos grootskaalse werkloosheid, armoede en endemiese ongelykheid dra uiteraard by tot die ingewikkeldheid (multi-vlakkompleksiteit) van die probleem. Sogenaamde hardestigmatiserend-beskamingskulture beset die een uiterste van die spektrum terwyl integrerend-beskamende kulture die ander uiterste van hierdie kontinuum, in terme van hervestigings- en straftoemetingspraktyke, verteenwoordig.

 

CHINESE HERVORMINGSPOGINGS

China het tot onlangs nog met 'n pragtige integrerend-beskamende kultuur gespog wat sig daarop roem dat vrygelate oortreders vinnig en effektief hervestig word na vrylating. Aan die einde van die vorige eeu het hul byvoorbeeld indrukwekkende heroortredingsyfers van 6-8% (Dutton & Xu 1998:322) vrygestel - iets waarvan ons in hardestigmatiserend-beskamingskulture, wat op die brandmerk-beginsel gebaseer is, slegs kan droom.

Mao (2004/1949, 2004/1956), die grondlegger van die kommunistiese bestel in die Volksrepubliek, het die toon aangegee vir die eietydse Chinese integrerend-beskamende kultuur met sy bekende uitspraak dat die oorgrote hoeveelheid kriminele elemente suksesvol hervorm kan word. In die ou China, voor die uitroeping van die kommunistiese bestel in 1949, het vrygelate oortreders en hul gesinne onder swaar stigma deurgeloop (Dutton & Xu 1998:297-299). Mao was van mening dat oortreders ten volle hervorm kan word deur werksprogramme wat deur ideologiese breinskoonspoeling onderlê word. Mao het male sonder tal daarop aangedring dat soveel as 95% van oortreders tot produktiewe burgers hervorm kan word (Mao 2004/1949:1/18; 2004/1957:1/8). Selfs Mao se ideologiese vyande is aan hierdie proses onderwerp eerder as teregstelling as 'n eerste opsie (Ladany 1992:115). Dit is duidelik dat daar hier na breinspoeling (Xinran 2008; Min 2016; Dai 2002) onderskraag deur hande-arbeid verwys word, maar dit is ook so dat Dutton en Xu (1998:295, 291) redeneer dat die "cognitive value of labour" sonder meer "[bring] forth human transformation". Dit volg dat dit myns insiens te simplisties is om die Chinese pogings tot rehabilitasie as bloot breinspoeling [pinyin transliterasie: shinau] af te maak, hoewel dit duidelik deel van die "wenresep" is. 'n Mens moet dadelik toegee dat een van die redes hoekom die Chinese soveel sukses met hul rehabilitasie- en hervestigingsprogramme het, is omdat hul omstandighede baie anders is as ons s'n hier in Suid-Afrika. Die Chinese het byvoorbeeld geen geduld met heroortreding nie en elke jaar word duisende heroortreders (vir misdade wat wissel van nietighede tot moord en verkragting) tereggestel. Aan die ander kant, soos die vakkundige R.J. Troyer (1989) aantoon, is Chinese gevangenispersoneel vol lof oor die herskepping ("remoulding") van die oortreders in hul sorg en beskou hulle as nuwe burgers, terwyl Amerikaanse tronkpersoneel moedverlore na oortreders as geharde misdadigers verwys. Aangesien tradisionele Chinese kultuur versoening bo 'n kriminele sanksie of straf verkies, het Mao se idees rondom die herskepping van die menslike psige simpatieke aanklank in die Chinese konteks gevind (Dutton & Xu 1998:299-301). Die punt is egter dat vanuit 'n Marxistiese ontledingshoek 'n ander werklikheid as die onhoudbare misdaad- en heroortredingsyfers waaronder ons in Suid-Afrika gebuk gaan, wel moontlik is en dit is natuurlik ook deel van die regverdiging vir 'n vakdissipline soos vergelykende kriminologie.

Rehabilitasie in die Chinese konteks beteken dus iets anders (breinspoeling) as wat dit in die weste beteken, wat naamlik bestaan uit 'n raamwerk verpak met misdaadweerhoudingsvaardighede. Waar westerse kriminoloë die gedagte boekstaaf om vrygelate model-gevangenes as tronkbewaarders aan te stel, word die idee uit 'n heeltemal ander gesigspunt as die Chinese vertrekpunt gemotiveer. Waar Amerikaanse kenners dus na soortgelyke idees as wat in die Chinese konteks ontplooi is, verwys, moet hierdie onderskeid baie duidelik in gedagte gehou word. Ek verwys hier spesifiek na die werk van Cressey (1965) en Buckley (1972:24-30). Eersgenoemde betreur naamlik die professionalisering van die gevangeniswese in die VSA en bied 'n oortuigende pleidooi aan vir die betrokkenheid van gerehabiliteerde vrygelate gevangenes by die hervormingspogings van hul voormalige eweknie-kollegas. Buckley bou voort op Cressey se bevindinge en voer aan dat oortreders gewoonlik 'n weersin het in die hervormingsinisiatiewe van diegene wat hul beskou as deel van die stelsel. Meer onlangs het Lötter (2018:191) plaaslik daarop gewys dat die aanstelling van model-vrygelatenes van onskatbare waarde kan wees in die hervormingspogings van die Departement Korrektiewe Dienste, aangesien hervormingspogings tot 'n mate gediskrediteer is as gevolg van die beleid van waenhuisverpakking en die bestuurstyl wat die norm in Westerse korrektiewe dienste, insluitende dié in Suid-Afrika, geword het. Braithwaite (1989:168), die bekende Australiese kriminoloog, blyk oortuig te wees van die waarde van eweknie-beoordeling aangesien die teregwysing van bekendes in die oortreder se gesins- of vriendekringe volgens hom baie meer effektief is om die oortreder sodanig te beskaam dat die persoon weer tot die groep terugkeer. Sodanige oordeel het veel meer trefkrag as dié van 'n gesentraliseerde inrigting, soos 'n hof, aangesien eweknie-beoordeling die maatskaplike bande bewaar en dus misdadige en maatskaplike afwykings voorkom.

Maar terwyl kenners in die Weste reeds dekades debatteer oor hierdie moontlikheid, pas die Chinese die idee al sedert die vyftigerjare suksesvol toe. Allen (1987), 'n Amerikaanse korrektiewe beampte wat Chinese tronke en gevangenisse in die tagtigerjare besoek het, getuig hoe beïndruk hy was met die feit dat gevangenisstraf in die Volksrepubliek nie net gemik is op die verspreiding van pyn en vernedering nie, maar opreg daarop gemik is om oortreders te help hervorm en hierdie begrip is "well embedded deep in the present Chinese system" (Allen 1987:80). Daar word van oortreders verwag om mekaar met hul hervorming behulpsaam te wees en elke oortreder kry die geleentheid om sy gedrag en vordering deur sy eweknie-kollegas te laat kritiseer en opbouende kritiek word aangemoedig (Ibid 1987:84). Sterk nadruk word dus op hervorming by wyse van eweknie-beoordeling geplaas en Allen berig daar "is considerable evidence that reform through labor is humane, ideologically implemented, and effective" (1987:108 - sien egter ook Wu [1992] vir 'n ander sienswyse). Ek moet op hierdie punt tussenbeide tree en daarop wys hoe terapeuties en insiggewend die Chinese nadruk op eweknie-beoordeling is. Vergelyk dit byvoorbeeld met die waenhuisverpakking wat ons huidige minister, Ronald Lamola so betreur het. Die Chinese gee voorkeur aan daadwerklike tussentrede. In hierdie konteks, berig Allen (1992:85) dat oortreders wat voldoen aan die vereistes daarvoor aangemoedig word om tydens hul vrylating by die gevangenispersoneel aan te sluit. Myns insiens is dit 'n wonderlike idee om oortreders wat reeds hul straf uitgedien het, in te span om die agtergeblewenes aan te moedig om grondig te hervorm.

Dit is interessant dat Dutton en Xu (1998:307) van mening is dat die Chinese "integrative rehabilitative program rests on the idea of ganhua [face] which necessitates a cadre-model to emulate". Hieruit blyk dat 'n belangrike stap in die vestiging van 'n integrerend-beskamende kultuur die insluiting van eweknie-beoordeling by die hervormingsproses is - 'n grondliggende stap in hierdie rigting is die aanstelling van vrygelate voormalige model-oortreders. Die gedagte van die beskerming van waardigheid (ganhua) is dan ook die rede waarom die Chinese so min traksie met heroortreding het. Die begrip "gesig" [ganhua] in die Volksrepubliek veronderstel wedersydse respek en suksesvolle hervestiging benadruk hierdie gedagte.

 

GEDEELTELIKE AANKLANK IN DIE VSA

Teen Januarie 2018 het 30 state in die VSA reeds beleidsoorwegings aanvaar wat voormalige oortreders aanmoedig om terug te keer om in 'n verskeidenheid betrekkings in gevangenisse te werk (Chammah & Neff 2018). Onder die state wat reeds hierdie nuwe beleidsrigting aanvaar het, tel Michigan, Texas, Kalifornië, Minnesota, Pennsylvanië, New Mexiko en Arizona. Maurice Chammah en Joseph Neff (2018) verduidelik die posisie aldaar bondig as volg:

[States] do not necessarily track how many [ex-offenders] they have brought aboard. But a few agencies are beginning to formalize programs, with the explicit goal of reducing the stigma that can follow ex-prisoners as they look for jobs.

Die meeste state wat dit wel toelaat, laat egter nie voormalige gevangenes toe om as korrektiewe beamptes te werk nie, maar wel in ander posisies, soos fabriekbestuurders ensovoorts. State wat wel voormalige gevangenes in diens neem, plaas beperkinge op sodanige werwing. In Minnesota, byvoorbeeld, moet hul 'n jaar wag terwyl Wyoming die oortreder ten minste vyf jaar na vrylating nie in dieselfde gevangenis waar sy vonnis uitgedien is, toelaat om 'n betrekking te beklee nie (Chammah & Neff 2018). Die uitdruklike beweegrede vir hierdie nuwe beleidsrigting is "reducing the stigma that can follow ex-prisoners as they look for jobs". Ek benadruk hierdie aspek van die Amerikaanse ervaring want dit is presies die maatskaplike en veral die ekonomiese diskriminasie en isolasie van voormalige oortreders wat lei tot die muishond-status van hierdie groep en die gevolglike onhoudbare heroortredingsyfers in Suid-Afrika. Stigma rugsteun die marginalisering van hierdie alreeds kwesbare groep. So verduidelik die woordvoerder van die Michigan Department of Corrections, Chris Gautz (soos aangehaal in Chammah en Neff 2018), die dryfveer vir hierdie pragtige en vindingryke inisiatief:

We knew that as we were going out every day talking to the business community and asking them to hire our parolees, that it would be hypocritical if we wouldn't hire them ourselves.

Terwyl dit bemoedigend is om sulke insiggewende kantaantekeninge van die Departement Korrektiewe Dienste te sien, is daar egter een groep in hul midde wat onrustig gestem is deur hierdie nuwe verwikkeling, naamlik Korrektiewe unies in die VSA (Chammah & Neff 2018). Hul lede het uiteraard 'n gevestigde belang daarby om kompetisie in die werkplek teen te staan. So spreek 'n nuusbrief van 'n unie in Michigan van "mixed feelings and some confusion" (Ibid.) by ontvangs van die nuwe beleidsrigting.

Ten slotte is dit van belang om te let op voormalige oortreders wat wel werk in Amerikaanse gevangenisse bekom het se menings oor hul moontlike bydrae in hulle nuwe rol. Chammah en Neff (2018) haal in hierdie verband twee voormalige oortreders aan en hul opinies is myns insiens nie net gebalanseerd nie maar ook verteenwoordigend. Die meeste voormalige oortreders in hierdie posisie sien hulself as deurdagte rolmodelle vir dienende oortreders. So verklaar een respondent, Larry Vene, dat "I really want them to know there is hope out there. They listen to me because I've lived what they're living". Hierdie gedagte strook met die Chinese ervaring dat eweknie-beoordeling en aanmoediging van onskatbare waarde is in die hervorming van oortreders wat nog hul straf uitdien. 'n Ander voormalige oortreder, Cynthia Stubbs, nou 'n Braille transkripsiediensbestuurder in Scotland Correctional Institution in Laurinburg, Noord-Carolina, verduidelik haar ervaring soos volg: "My history is an encouragement to them, but they also know I do this for a living, and I don't put up with any foolishness". Hierdie gedagte strook weer met my nadruk dat die werwing van voormalige model- oortreders 'n besliste invloed sal hê op prestasielewering aangesien diegene wat wel betrekkings agter tralies aanvaar, weet alle oë is op hulle gerig en dat in die hardestigmatiserend-beskamingskultuur (soos in die VSA en Suid-Afrika) waaronder hul as 'n groep gebuk gaan, tweede kanse selde realiseer.

 

GEVOLGTREKKING EN AANBEVELING

As beskamingskulture 'n spektrum van hardestigmatiserend-beskamingskulture as een uiterste aan die linkerkant van die spektrum en integrerend-beskamendekulture as die ander uiterste aan die regterkant daarvan vorm, sal ons in Suid-Afrika ons op hierdie kontinuïteit êrens tussenin maar beslis nader aan die linker uiterste bevind. Die voorafgaande uiteensetting het egter die interessante bevinding uitgewys dat gewese oortreders in beide uiterstes werksgeleenthede in gevangenisse gebied word na hul vrylating. Wat is die relevansie van hierdie internasionale tendens vir Suid-Afrika? Wat, indien enigiets, kan ons hierby leer ten einde ons eie beleidsraamwerk te verryk en versterk?

Sowel die ontwikkeling as die opheffing van gewese oortreders is onontbeerlik indien Suid-Afrika se gevangeniswese ten doel het om die huidige onhoudbare heroortredingsyfers te bekamp. In 'n land soos China is voormalige gevangenes se muishond-status nie net 'n saak van groot belang vir hulself nie, maar dit hou beslis ook voordele vir die breë gemeenskap in asook die staat, wat 'n grondwetlike mandaat het om misdaad te bekamp.

Hierbo is reeds verduidelik dat 'n ontwikkelingsparadigma my navorsingsbenadering onderlê. Ek stel ook voor dat sodanige paradigma 'n goeie oorweging sal wees vir projekte wat die hervorming en/of hervestiging van gewese oortreders vooropstel. Voormalige gevangenes se muishond-status in hardestigmatiserend-beskamingskulture, soos Suid-Afrika, beteken dat hul eerder deur hul gemeenskap verwerp word en geen aanmoediging ontvang om grondliggend te hervorm en behoorlik haalbaar te hervestig nie. In hierdie konteks is werkverskaffing, soos Muntingh in die Suid-Afrikaanse geval uitgewys het, vir gewese oortreders uiters noodsaaklik. Soos beide die Chinese en die Amerikaanse ervaring leer, sal sodanige werwing nie net 'n sterk positiewe rol speel in die hervorming van oortreders wat hul nog in die stelsel bevind nie, maar ook die spook van waenhuisverpakking in lande soos Suid-Afrika sal aangepak kan word. Die getuienis wys onteenseglik daarop dat die ontplooiing van gewese model-oortreders 'n sterk opbouende invloed uitoefen op die psigiese ontwikkeling van agtergeblewe oortreders se misdaadweerhoudingsvaardighede. Soos Chammah en Neff (2018) aandui, maak dit beslis sin dat die staat die leiding neem om voormalige oortreders in diens te neem en só daadwerklik behulpsaam te wees met hul hervestiging. Dit maak min sin om by werkgewers te pleit om hul in diens te neem as die staat nie self die voorbeeld wil stel en leiding in dié verband neem nie. Slegs 'n vergelykende of kruis-kulturele kriminologiese perspektief het hierdie bevinding moontlik gemaak en is inderdaad die hele doel van die vakdissipline. Ek wil my verstout om die mening uit te spreek dat kriminologie nie net empiriese en forensiese aspekte omvat nie, maar dat filosofie ook 'n belangrike perspektief aanbied, soos byvoorbeeld Bert Olivier (2015) aandui.

Gewese oortreders se muishond-status het ook die aandag gevestig op hoe belangrik dit is dat voorsittende beamptes (regters en landdroste) tydens straftoemeting aangespoor word om af te sien van gevangenisstraf as die oorwegende of dominante strafregime. Gemeenskapsdiens of soortgelyke integrerende vonnisse kan in baie gevalle as 'n meer gepaste vonnis dien, wat ook die voordeel het dat ons nie nog meer oortreders met 'n muishond-status skep nie. 'n Land soos Indië wys dat dit moontlik is. Hierdie oorweging vind aansluiting by 'n Marxistiese ontleding.

Die post-Marxistiese invalshoek wat as beide teoretiese raamwerk en metodologie gedien het, bevestig die noodsaak vir die owerhede in ons hoekie van Afrika om die strukturele teelaarde (armoede, ongelykheid, werkloosheid, vrygelate gevangenes se muishond-status, ens.) van misdaad aan te spreek en nie net die skuld daarvoor hardkoppig en ondiskriminerend vierkantig op die skouers van oortreders en voormalige oortreders te plaas nie. Dit is miskien nie 'n boodskap wat ons politieke leiers wil hoor nie, maar dit is een wat wel 'n verskil kan maak. Die Amerikaanse ervaring het ook gewys op die weerstand wat gevangenispersoneel toon ten opsigte van die werwing van gewese oortreders en uit 'n Marxistiese lees is hierdie reaksie te verwagte. In die lig van die ernstige personeeltekort in Suid-Afrika sal dit hopelik nie plaaslik 'n probleem wees nie. Nietemin moet ons ons egter nie deur hierdie sistematiese gespreksversteuring (Habermas) van stryk laat bring nie, aangesien beide die Chinese en die Amerikaanse ervarings daarop gewys het hoe suksesvol sodanige tussentrede kan wees. Nietemin sal 'n mens in die lig van plaaslike gevestigde belange bedag moet wees op soortgelyke gespreksversteuringe rakende my pleidooi om van tronkstraf as ons oorheersende strafregime af te sien. Žižek wys altemit op die noodsaak van 'n radikale diskontinuïteit in die najaag van die bevrydingsideaal en myns insiens is 'n voorbeeld van 'n dergelike verskynsel in 'n hardestigmatiserend-beskamingskultuur die werwing van gewese oortreders as tronkbeamptes of -bewaarders. Ons kan nie toelaat dat bepaalde gevestigde belange bevorder word onder die dekmantel van algemene belange nie (Habermas 1975a:113-114). Die Departement Korrektiewe Dienste moet maniere vind om bestaande gevangenispersoneel te beweeg om die groot waarde van sodanige stap in te sien en hulle moet aangespoor word om hul agter 'n dusdanige prosedure te skaar. Cressey (1965) het reeds in die sestigerjare gewaarsku teen die groeiende professionalisering van die gevangeniswese en die nadelige invloed wat dit op gewese gevangenes se bydrae tot ander se hervorming sal hê. In die lig van die nypende personeeltekort wat die Departement in Suid-Afrika ondervind, kan so 'n stap, te midde van talle ander internasionale tendense waarna ek vlugtig verwys, binne die Departement se beleidsraamwerk, net goeie vrugte afwerp. My hoop is ook dat 'n Marxistiese metodologie of teoretiese raamwerk, soos in hierdie bydrae ontwikkel en ontplooi is, vatplek in die Suid-Afrikaanse kriminologie sal kry, aangesien sodanige benadering 'n belangrike rol in ons begrip van misdaad in die 21ste eeu speel.

Ten slotte word die hoop uitgespreek dat die werwing van gewese oortreders as spesifiek gevangenisbewaarders 'n werklik positiewe invloed sal hê op hoëprestasielewering in die Departement en sodoende twee vlieë (geweld en personeeltekort) met een klap binne die konteks van die beleidsraamwerk teweeg kan bring. Die werwing van hoëprestasiepersoneel, wat oortreders daadwerklik kan bemoedig en terselfdertyd grondliggend tot hul psige kan deurdring, omdat daar begrip vir hul lewenspad is soos die internasionale ervaring geleer het, moet goeie vrugte in beter teelaarde werp. Die hervestiging van gewese oortreders, die bekamping van geweld in ons gevangenisse en hoëprestasielewering hou intiem verband met mekaar. Dit is dan ook myns insiens die regte stap in die regte rigting, om Žižek te herformuleer.

 

BIBLIOGRAFIE

Alexander, M. 2012.The New Jim Crow: Mass Incarceration in the Age of Colour blindness. Revised Edition. New York: The New Press.         [ Links ]

Allen, F. 1987. Where are we going in Criminal Justice? Some Insights from the Chinese Criminal Justice System. International Journal of Offender Therapy and Comparative Criminology, 31(2):101-110.         [ Links ]

Allen, F. 1992. Reforming Criminals in China: Implications for Corrections in the West. In Carlie, M.K. & Minor, K.I. (eds). Prisons around the World: Studies in International Penology. Dubuque: William C. Brown Pub, pp. 79-88.         [ Links ]

Batist, D. 2019. How the Dutch Are Closing Their Prisons. US News. https://www.usnews.com/news/best-countries/articles/2019-05-13/the-netherlands-is-closing-its-prisons [2 Oktober 2019].         [ Links ]

Bichell, R. E. 2015. In Finland's 'open prisons,' inmates have the keys. Public Radio International. https://www.pri.org/stories/2015-04-15/finlands-open-prisons-inmates-have-keys [2 October 2019].         [ Links ]

Bosworth, M. 2010. Explaining U.S. Imprisonment. London: Sage.         [ Links ]

Braithwaite, J. 1989. Crime, Shame and Reintegration. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Braithwaite, J. 1995. Inequality and republican criminology. In Hagan, J. & Peterson, R. (eds). Crime and inequality. Stanford: Stanford University Press.         [ Links ]

Buckley, M. 1972. Enter: The Ex-con. Federal Probation, 36(4):24-30.         [ Links ]

Chammah, M. & Neff, J. 2018. When Your Prison Becomes Your Paycheck: Some states are welcoming back ex-offenders to work behind bars. The Marshall Project. January 16. https://www.themarshallproject.org/2018/01/16/when-your-prison-becomes-your-paycheck [12 July 2019].         [ Links ]

Cressey, D. 1965. Theoretical Foundation for Using Criminal in the Rehabilitation of Criminal. Key Issues, Vol. 2:87-101.         [ Links ]

Dai, S. 2002. Balzac and the Little Chinese Seamstress. Rilke, I. (trans.). London: Vintage.         [ Links ]

Davis, A. Y. 2003. Is the Prison Obsolete? New York: Seven Stories Press.         [ Links ]

Davis, A.Y. 2005. Abolition democracy: beyond empire, prisons, and torture. New York: Seven Stories Press.         [ Links ]

Davis, A.Y. & Alexander, M. 2012. Dialogue, Riverside Church, September, 14. https://www.bing.com/videos/search?q=angela+davis+and+michelle+alexander+video & [23 March 2019].         [ Links ]

Durkheim, E. 1982/1895. The Rules of the Sociological Method. Lukes, S. (ed.) & Halls, W. D. (trans.). New York: Free Press.         [ Links ]

Dutton, M. & Xu, Z. 1998. Facing Difference: Relations, Change and the Prison Sector in Contemporary China. In Weiss, R.P. & South, N. (eds). Comparing Prison Systems: Toward a Comparative and International Penology. Amsterdam: Gordon & Breach, pp. 289-336.         [ Links ]

Felix, J. 2018. SA's prison hell: crime, overcrowding, suicides and struggling staff. Independent online, October 12. https://www.iol.co.za/capeargus/news/sas-prison-hell-crime-overcrowding-suicides-and-struggling-staff-17449390 [14 July 2019.         [ Links ]]

Gadamer, H. G. 1975a. Wahrheit und Methode. [Waarheid en Metode]. 4th ed. Tǖbingen: J.C.B. Mohr.         [ Links ]

Gadamer, H. G. 1975b. Truth and Method. Glen-Doepe, W. (trans.). New York: Seabury Press.         [ Links ]

Gendreau, P., et al. 1999. The Effects of Prison Sentences on Recidivism. A report to the Corrections Research and Development and Aboriginal Policy Branch. Ottawa: Solicitor General of Canada.         [ Links ]

Goffman, E. 1990/1963. Stigma: Notes on the Management of Spoilt Identity. London: Penguin.         [ Links ]

Graham, B. 1999. Creature Comfort: Animals that heal. London: Simon & Schuster.         [ Links ]

Gregory, S. & Tierney, M. 2003. Forget You had a Daughter: Doing Time in the 'Bangkok Hilton'. London: Vision Paperbacks.         [ Links ]

Habermas, J. 1975a. Legitimation Crisis. McCarthy, T. (trans). Boston: Beacon Press.         [ Links ]

Habermas, J. 1975b. A Postscript to Knowledge and Human Interests. Philosophy of the Social Sciences, 3:157-189.         [ Links ]

Habermas, J. 1973. Theory and Practice. Viertel, J. (trans.). Boston: Beacon Press.         [ Links ]

Habermas, J. 1971/1968. Knowledge and Human Interests. Shapiro, J.J. (trans.). London: Heinemann.         [ Links ]

Haney, C. 2005. The contextual revolution in psychology and the question of prison effects. In Liebling, A. & Maruna, S. (eds).The Effects of Imprisonment. Devon: Willan, pp. 66-93.         [ Links ]

Horkheimer, M. 1993/1931. The Present Situation of Social Philosophy and the Tasks of an Institute for Social Research. In Between Philosophy and Social Science: Selected Early Writings. Hunter, G. F., Kramer, M. S. & Torpey, J. (eds & trans.). Cambridge, MA.: MIT Press, pp. 1-14.         [ Links ]

Horkheimer, M. 1974/1947. Eclipse of Reason. New York: Oxford University Press.         [ Links ]

Hurst, A. M. 2004. Thinking about Research: Methodology and Hermeneutics in the Social Sciences. Port Elizabeth: PE Technikon.         [ Links ]

Institute for Criminal Policy Research. World Prison Brief Data. https://prisonstudies.org/world-prison-brief-data [23 September 2019].         [ Links ]

Irish Penal Reform Trust. 2017. Open Prisons. https://www.iprt.ie/reintegration-of-offenders/open-prisons/ [23 September 2019].         [ Links ]

James, E. 2011. Why life in an open prison is no holiday camp. The Guardian. https://www.theguardian.com/society/2011/jan/13/open-prison-no-holiday-camp [2 Oktober 2019].         [ Links ]

Lablache, J. 2014. Seychelles prison going green - Visiting MPs briefed on sustainable projects receiving Australian funding. Seychelles News Agency. www.seychellesnewsagency.com/articles/1180/Seychelles+prison+going+green++Visiting+MPs+brie fed+on+sustainable+projects+receiving+Australian+funding [2 Oktober 2019].         [ Links ]

Ladany, L. 1992. Law and Legality in China: The Testament of a China-Watcher. London: Hurst & Co.         [ Links ]

Lötter, C. 2018. The reintegration of ex-offenders in South Africa based on the contemporary Chinese model: An Interdisciplinary study. Unpublished PhD thesis, Bloemfontein: University of the Free State.         [ Links ]

Malgas, N. & Motau. K. n/p. 2016. "Deputy Minister to visit St Albans prison following violent attack". https://ewn.co.za/2016/12/27/deputy-minister-to-visit-st-albans-prison-following-violent-attack [28 June 2019].         [ Links ]

Mao, Z. 1949/2004. On the People's Democratic Dictatorship. In Collected Works of Mao Zedong, Volume 4: 1/13-12/13. Anon. (trans.). Revised by Marxists.org. Arlington: Joint Publications Research Service. https://www.marxists.org/reference/archive/mao/works/collected-works-pdf/ [15 September 2016].         [ Links ]

Mao, Z. 2004/1956. The Ten Major Relationships. In Collected Works of Mao Zedong, Volume 5:1/20-20/20. Anon. (trans.). Revised by Marxists.org. Arlington: Joint Publications Research Service. https://www.marxists.org/reference/archive/mao/works/collected-works-pdf/ [15 September 2016].         [ Links ]

Mao, Z. 2004/1957. On the Correct Handling of Contradictions Among the People. In Collected Works of Mao Zedong, Volume 5: 1/30-30/30. Anon. (trans.). Revised by Marxists.org.Arlington: Joint Publications Research Service. https://www.marxists.org/reference/archive/mao/works/collected-works-pdf/ [15 September 2016].         [ Links ]

McCarthy, T. 1978. The Critical Theory of Jürgen Habermas. London: Hutchinson.         [ Links ]

Min, D. 2016. Persoonlike onderhoud, 30 April: Kaapstad.         [ Links ]

Moore, C. & Farhat, M. 2018. A closer look at Finland's 'open prisons.' Focus. https://www.france24.com/en/20180518-focus-finland-open-prisons-rehabilitate-prisoners-inmates-jobs-jail-justice-crime [2 Oktober 2019].         [ Links ]

Muntingh, L. 2008. Alternative Sentencing in Africa. In Sarkin, J. (ed). Human Rights in African Prisons. Cape Town: Human Sciences Research Council, pp.178-203.         [ Links ]

Muntingh, L. 2009. Ex-prisoners' views on Imprisonment and Re-entry. Bellville: Civil Society Prison Reform Initiative, Community Law Centre.https://acjr.org.za/resource-centre/Ex-prisoners%20Views%20on%20Imprisonment%20and%20Re-Entry.pdf [14July 2019].         [ Links ]

Nagel, M. 2008. "I write what I like": African Prison Intellectuals and the Struggle for Freedom. The Journal of Pan African Studies, 2(3):68-80.         [ Links ]

News24. 2019. "Prisoners do it for themselves as Bosasa contract terminated - Lamola." 2 July. https://www.dailymaverick.co.za/article/2019-07-02-prisoners-do-it-for-themselves-as-bosasa-contract-terminated-lamola/?utm_medium=email&utm_campaign=Afternoon%20Thing%20.Tuesday%202% 20July%202019%20NB%20Publisher&utm_ content=Afternoon%20Thing%20Tuesday%202%20July%20 2019%20NB%20Publisher+CID_c1540e7912b18b30e804807596 cc7a89&utm_source=TouchBasePro&utm_term=Prisoners%20cooking%20for%20themselves%20post-Bosasa [2 July 2019].         [ Links ]

NewsdzeZimbabawe. 2019. Push for National Open Prison for Women. www.newsdzezimbabwe.co.uk/2019/04/push-for-national-open-prison-for-women.html [2 Oktober 2019].         [ Links ]

Ngabonziza, O. & Singh, S. 2012. Offender reintegration program and its role in reducing recidivism: exploring perceptions of the effectiveness of tough enough program. Acta Criminologica, CRIMSA 2011 Conference Special Edition, No. 2:87-102.         [ Links ]

Olivier, B. 2005. The contemporary context of relativity and relativism. Acta Academica Supplementum, 2:73-104.         [ Links ]

Pikkety, T. 2015. Transcript of Nelson Mandela Annual Lecture 2015. https://www.nelsonmandela.org/news/entry/transcript-of-nelson-mandela-annual-lecture-2015 [4 March 2016].         [ Links ]

Rasmussen, D. M. 1996. Critical Theory and Philosophy. In Rasmussen, D.M. (ed).The Handbook of Critical Theory. Oxford: Blackwell, pp. 11-38.         [ Links ]

Roderick, R. 1986. Habermas and the Foundations of Critical Theory. London: Macmillan.         [ Links ]

SABC Ditigal News. 2017. Investigation into the violence at St Albans prison complete. https://www.youtube.com/watch?v=KtZTCWApo-8 [28 June 2019].         [ Links ]

Schlosser, E. 1998. np. The Prison-Industrial Complex. The Atlantic. https://www.theatlantic.com/magazine/archive/1998/12/the-prison-industrial-complex/304669/ [19 October 2016].         [ Links ]

Schrantz, D. et al. 2018. Decarceration Strategies: How 5 States Achieved Substantial Prison Population Reductions. The Sentencing Project. https://www.sentencingproject.org/publications/decarceration-strategies-5-states-achieved-substantial-prison-population-reductions / [2 Oktober 2019].         [ Links ]

Sinclair, J. 2018. The countries closing their prisons. https://www.rnz.co.nz/national/programmes/sunday/audio/2018633586/the-countries-closing-their-prisons [2 Oktober 2019].         [ Links ]

The Sentencing Project, 2018.         [ Links ]

Troyer, R. J. 1989. Chinese Thinking about Crime and Social Control. In Troyer, R.J., Clark, J.P. & Rojek, D.G. (eds). Social Control in the People's Republic of China. New York: Praeger, pp. 45-56.         [ Links ]

Warnke, G. 1987. Gadamer: Hermeneutics, Tradition and Reason. Stanford: Stanford University Press.         [ Links ]

Weiss, R. P. 1998. Conclusion: Imprisonment at the Millennium 2000 - Its Varity and Patterns Throughout the World. In Weiss, R.P. & South, N. (eds). Comparing Prison Systems: Toward a Comparative and International Penology. Amsterdam: Gordon & Breach, pp. 427-482.         [ Links ]

Winch, P. 1964. Understanding a Primitive Society. American Philosophical Quarterly, 1(4):307-324.         [ Links ]

Wu, H. H. 1992. Laogai: The Chinese Gulag. Slingerland, T. (trans.). Boulder: Westview Press.         [ Links ]

Xinran, 2008. New Discoveries in Xinjiang, the World's Biggest Prison. Tyldesley, E. (trans.). In China Witness: Voices from a Silent Generation. London: Chatto & Windus, pp. 39-76.         [ Links ]

Žižek, S. 2008. In Defense of Lost Causes. 2nd edition. London: Verso.         [ Links ]

Žižek, S. 2012. The Year of Dreaming Dangerously. London: Verso.         [ Links ]

 

 

 

CASPER LÖTTER het sy PhD in filosofie in 2018 aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi. As 'n vergelykende kriminoloog benader hy sy vakgebied vanuit 'n filosofiese, trans-dissiplinêre oogpunt. Van sy werk het reeds in Conversation Africa verskyn en hy word gereeld genooi om op radio en televisie te praat. Hy is 'n postdoktorale beurshouer van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
CASPER LÖTTER completed his PhD in philosophy at the University of the Free State in 2018. As a comparative criminologist, he approaches his subject from a philosophical, trans-disciplinary perspective. His work has appeared in Conversation Africa and he is often invited to speak on radio and television. He was awarded a postdoctoral award from the South African Academy of Science and Arts.
1 Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns word hiermee bedank vir finansiële bystand wat die skryf en publikasie van hierdie artikel moontlik gemaak het.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons