SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue4"Reactionary nihilism" in the current era author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.59 n.4 Pretoria Dec. 2019

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2019/v59n4a1 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Frans Lion Cachet en die herstel van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Zuid-Afrikaansche Republiek rondom 18661

 

Frans Lion Cachet and the restoration of the Dutch Reformed Church in the Zuid-Afrikaansche Republic around 1866

 

 

Piet Strauss

Navorsingsgenoot, Departement Historiese en Konstruktiewe Teologie Universiteit van die Vrystaat Bloemfontein E-pos: StraussP@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) en die Nederduitsch Hervormde Kerk (NH Kerk) in Transvaal of die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) skei finaal in die jare 1865-1866. Hierdie skeiding word by twee kerkvergaderings voltrek: die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Junie 1865 op Rustenburg en die Algemene Kerkvergadering van hierdie kerk in Pretoria in November daardie jaar.
Agterna beskou het die Kommissievergadering van die Algemene Kerkvergadering op Rustenburg die breuk wat by die Algemene Kerkvergadering in Pretoria plaasgevind het, ingelei. Die twee uitstaande redes vir die breuk, naamlik die naam van die kerk en die plek en gesag van sy belydenisskrifte, is in Junie 1865 bespreek en na die Novembervergadering vir 'n beslissing verwys.
Vanaf die kant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk het hul segsman en voorloper, ds. Frans Lion Cachet, daarop gewys dat die naam van die kerk nie deurslaggewend is nie, maar dat die naam "Hervormd" van die Gereformeerde Kerk in Nederland deur die staatsowerheid met 'n reglement in 1816 aan hom opgelê is. Dit is verkeerd, omdat die kerk self sy naam moet kies. Dieselfde het in die ZAR gebeur waar die Nederduitsch Hervormde Kerk se naam - as staatskerk - sonder enige kennisgewing aan die kerk in artikel 20 van die ZAR-Grondwet van 1855 -1858 bepaal is. Daarby wou Lion Cachet en die NG Kerk dat die belydenisskrifte van die kerk die Drie Formuliere van Eenheid sal wees wat by die gereformeerde Nasionale Sinode van Dordrecht in 1618-1619 in Nederland aanvaar is. Belydenisse wat aanvaar word omdat die leer daarin vervat in alles met die Skrif ooreenkom. Vir predikante van die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR was hierdie blik op die belydenisskrifte onaanvaarbaar.
Met ds. Frans Lion Cachet aan die spits het die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR in Desember 1866 te Utrecht sy eie koers ingeslaan met sy eerste Algemene Kerkvergadering. Tydens hierdie byeenkoms én by 5 latere algemene vergaderings was ds. Lion Cachet die voorsitter. In 1873 verhuis hy egter uit die ZAR na Nederland. Menslik gesproke, was Lion Cachet die groot dryfkrag agter die herorganisasie van die NG Kerk en sy gemeentes in die ZAR.

Trefwoorde: Kerk kies self naam; verskille oor kerklike belydenisse; breuk deur dominees op spits gedryf; naam "hervormd" geassosieer met teologiese liberalisme; Frans Lion Cachet neem leiding in die herorganisasie van NG Kerk in die ZAR in die 1860's


ABSTRACT

In 1865-1866 the then Dutch Reformed ("Gereformeerde") Church ("Nederduitse Gereformeerde Kerk") and the Dutch Reformed ("Hervormde") Church ("Nederduitsch Hervormde Kerk") went their separate ways. The latter became the church of the state of the South African Republic ("Zuid-Afrikaansche Republiek" of 1852-1902) in its Constitution of 1855-1858. The term "hervormd", however, was taken up in article 20 of the Constitution without consulting the two churches. The separation of the two churches occurred at two meetings: at the Commission of the General Assembly of the "Nederduitsch Hervormde Kerk" in June 1865 and at their General Assembly in November of the same year. At these meetings, Rev. Lion Cachet was the spokesperson of the "Nederduitse Gereformeerde Kerk".
The outstanding points of difference were the church's name and accepted confessions of faith. Lion Cachet and the "Nederduitse Gereformeerde Kerk" argued that the church itself should be responsible for its name which, in this case, should be the "Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk)". The members of the "Nederduitsch Hervormde Kerk (NH Kerk)" were satisfied with the latter name "bestowed upon their chuch by the ZAR". Two points of difference on the relevant confessions, the Three Formulas of Unity namely the Belgic Confession, the Heidelberg Catechism and Canons of Dordt, were discussed. The chairman of the "Nederduitsch Hervormde Kerk" limited the confessions to article 7 of one of them, the Belgic or Dutch Confession of Faith. These ministers of the "NH Kerk" also refused to sign the Three Formulas of Unity or reformed confessions as based on Scripture. This was unacceptable to Lion Cachet and other delegates of the "Nederduitse Gereformeerde Kerk".
The clash between Lion Cachet and his folllowers and the representatives of the "Nederduitsch Hervormde Kerk" was highligthed at the meeting of the Commission of the General Assembly of the "Nederduitsch Hervormde Kerk" in June 1865 in Rustenburg. This meeting introduced the final clash at the General Assembly of the "Nederduitsch Hervormde Kerk" in November 1865 in Pretoria. On the two main issues referred to earlier, the General Assembly refused to accept the viewpoint of Lion Cachet and his supporters, while Lion Cachet could not join a church with the above viewpoints. To him, that constituted a departure from the reformed viewpoint and from the stance of the National Synod of Dordrecht in The Netherlands in 1618-1619 (a well-known reformed synod). The outstanding and direct result of this Synod, according to Lion Cachet, were the acceptance of the Canons of Dordt as a confession with a reformed perspective on election and of the Three Formulas of Unity. Apart from these confessions, the Synod of Dordrecht was also responsible for the well-known church order of Dordt and instrumental in producing the State Translation of the Bible in Dutch in 1637. It proved to be a translation which stimulated Dutch as a written language and which also served as a spiritual guide for the life of reformed people in South Africa in the 1860s.
To stabilise the "Nederduitse Gereformeerde Kerk" in the ZAR, Lion Cachet organised a General Assembly of this church in December 1866. It adhered to the name of Dutch Reformed or "Nederduitse Gereformeerde Kerk" and the acceptance of the Three Formulas according to Scripture. Already 8 NG congregations in the ZAR were represented at this meeting. A witness and supporter of Lion Cachet is on record as stating that Lion Cachet was home for only 14 months between January 1866 and January 1869. He travelled a great deal to reorganise the NG Church in the ZAR. The fact that 8 congregations met at the General Assembly of 1866 is proof of his hard work and perseverance from a human point of view. When Lion Cachet left the ZAR for The Netherlands in 1873, apart from the "Nederduitse Gereformeerde Kerk" Utrecht, he also left other congregations without a minister.

Key Concepts:  name of church chosen by church itself; differences on confessions; schism driven by church ministers; the name "hervormd" identified with theological liberalism; Frans Lion Cachet leads the reorganisation of the Dutch Reformed Church in the ZAR in the 1860s


 

 

PROBLEEMSTELLING

Frans Lion Cachet (1835-1899) is 'n Nederduitse Gereformeerde predikant wie se godsdienstig-teologiese oortuigings, emosionele betrokkenheid by die gemeentes waarin hy die Woord van God bedien het en eie persoonlikheid van hom 'n uitstaande figuur in die geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ou Zuid-Afrikaansche Republiek (1852-1902) maak. Na ernstige verdeeldheid en skeuring in die Hollands-Afrikaanse kerk in die ZAR of Transvaal rondom 1853-1866, sou hy as 'n eenmansfiguur die leiding neem in die herstel van die NG Kerk in die ZAR in 1865-1873 - die jare waarin hy die predikant van die NG Kerk Utrecht was. Utrecht is in 1859 staatkundig by die ZAR ingelyf met die "uitdrukkelyke bepaling" dat sy gemeente, soos dié van Lydenburg, nie verenig met die gemeentes van die Nederduitsch Hervormde Kerk (NH Kerk) in die ZAR nie. Volgens artikel 20 van die Grondwet van die ZAR van 1855-1858 was die NH Kerk op daardie stadium die kerk van "dit land" of staatskerk (Lion Cachet 1866:8; De Kock 1976:149-150; Van der Watt 1977:73).2 By die Algemene Kerkvergadering van die NG Kerk in die ZAR in Desember 1866, die eerste van dié vergaderings wat aanvanklik jaarliks sou plaasvind (vgl. Die verslag in Gerdener 1930:332,335,339,344), was Lion Cachet die enigste predikant onder 20 afgevaardigdes uit 8 gemeentes van wisselende grootte. Hy is as voorsitter gekies terwyl ds. D.P.M. Huet van Pietermaritzburg, 'n besoeker met adviserende stem, die skriba sou wees. Lion Cachet sou hierna by nog 5 algemene vergaderings voorsit (notule in Gerdener 1930:332-335).

Die Algemene Vergadering van 1866 sou met die formulering van sy doel iets raakvat van die taak wat voor ds. Lion Cachet en sy helpers ten opsigte van die herstel van die NG Kerk in die ZAR in die 1860's gelê het. Die omskrywing van die doel van hierdie kerkvergadering was: "Eene Vereeniging onzer verstrooide gemeenten onder een kerkbestuur, op grond van Gods Woord en de Formulieren van Eenigheid der Geref Kerk" (notule in Gerdener 1930:332).

"Verstrooide gemeenten" het die geestelike vermoeidheid en kerklike ontwrigting van lede van die vergadering, na hul botsing en skeuring met die NH Kerk in die ZAR, verklap. Soos dit uit hul verdere besluite blyk, was die vergadering vasbeslote om Nederduitse Gereformeerde Kerk te bly, maar ook bewus van die behoefte by NG gemeentes aan rigting en stabilisering - in die gemeentes en die verband van hulle algemene vergadering. Daarom dat hulle die doel van die algemene vergadering - sonder teenstem - geformuleer het as die behoud van die "Nederduitse Gereformeerde Kerkop grond van Gods Woord en de Formulieren van Eenigheid der Geref Kerk".

Die verwysing na die NG Kerk as die Gereformeerde Kerk met die Drie Formuliere van Eenheid as sy belydenisskrifte, het hierdie kerk verbind aan die Dordts of Nederlandse gereformeerde tradisie en ou Gereformeerde Kerk teenoor die "liberale" Hervormde Kerk in Nederland van na 1816 met sy teologiese modernisme en relativering van die belydenisskrifte.3 Teen die 1860's was "Hervormd" nie aanvaarbaar vir ds. Lion Cachet en sy medestanders in die ZAR nie. Wat hulle betref, het die meerderheid in die Hervormde Kerk in Nederland die Woord van God verdraai; geleer dat die Bybel nie die Woord is nie, maar dat Gods Woord in die Bybel gevind word; dat Christus nie waarlik God is nie; dat wedergeboorte deur die Heilige Gees net sedelike verbetering is; dat daar geen uitverkiesing of verwerping soos deur Dordt in 1618-1619 geleer, is nie; en dat van die dominees en onderwysers in die Hervormde Kerk die amp van apostel van die ongeloof beoefen (Lion Cachet 1866:21).

Met die ondersteuning van lidmate van Nederduitse Gereformeerde gemeentes, het Lion Cachet in 'n visioen "groot werk" gesien om "indien mogelyk de vervallen tuin onzer Gereformeerde Kerk (in die ZAR) weer op te richten" (Kriel [s.a.]:6, 51). Na sy teologiese opleiding by die Vrye Skotse Kerk in Amsterdam, kom Lion Cachet in 1858 met 'n lisensiaat vir sendingwerk na Suid-Afrika. Hy doen sy opleiding by die Vrye Skotse Kerk omdat hy intens gekant is teen die "liberale teologie" aan "Hervormde" opleidingsentra in Nederland (Swanepoel 2008:667). 'n Teenkanting waarin hy ook beïnvloed word deur draers van die Nederlandse Reveil soos Isaac da Costa en H.W. Witteveen. Later noem 'n biograaf Lion Cachet 'n kampvegter vir die "ortodokse gereformeerde godsdiens" (De Kock 1976:148). Met verwysing na die Nederduitse Gereformeerde Kerk as ons Gereformeerde Kerk, verbind ds. Frans Lion Cachet hom aan die Dordts-gereformeerde tradisie wat bou op die besluite van die Nasionale Sinode van Dordtrecht van 1618-1619 én die ou Gereformeerde Kerk in Nederland voor 1816. Die kerk waaruit die NG Kerk aan die suidpunt van Afrika volgens Lion Cachet gekom het én waaraan hy sy karakter ontleen (Lion Cachet 1883:317). In kerklike Nederland gaan die jaar 1816 egter om die Algemene Reglement wat deur die owerheid aan die Gereformeerde Kerk opgelê word en tot 'n karakterverandering by laasgenoemde lei (Scholtz 1951:4; Strauss 2019:1).4

Lion Cachet is van Frans-Joodse afkoms. 'n Afkoms wat hy op 30 Maart 1873 in sy afskeidspreek aan die Nederduitse Gereformeerde Kerk Utrecht beaam: "Ik ben Israeliet geboren" (Du Toit [s.a.]:226). 'n Afkoms wat sommige "Hervormde" teenstanders in die stormagtige 1860's in die kerklike lewe in die ZAR teen hom gebruik as hulle hom uitskel vir die Jood wat alles in die ZAR kom omkrap het. Teenstanders wat dreig-, skel- en lastertaal oor hom besig. Wat hom as 'n dief (uit die "kerkkas") of 'n sedelose predikant bestempel. Bewerings waarvan die waarheid nooit deur konkrete getuienis bevestig en waaraan hy nie deur 'n behoorlike ondersoek skuldig bevind is nie (Kriel [s.a.]:95).

Sedert 10 Augustus 1861 bedien Lion Cachet, in sy eie woorde, "De Gereformeerde Kerk te Utrecht". Hy kan nie as predikant na die gemeente beroep word nie, omdat hy nie deur die aktuarius van die Kaapse Sinode van die NG Kerk, ds. A. Faure, gelegitimeer of beroepbaar verklaar is nie. Nadat die Kaapse Sinode van 1862 sy saak aangehoor het, word Lion Cachet egter gelegitimeer. Intussen gee die Kerkraad van Utrecht aan hom "volmag" om hulle by die Kaapse Sinode van 1862 te verteenwoordig. Lion Cachet word op 6 Desember 1864 die derde keer na Utrecht beroep. Hy aanvaar die beroep en word in Mei 1865 deur ds. D.P.M. Huet hier as predikant bevestig (Kriel [s.a.]:47, 50; De Kock 1976:149).

Volgens Lion Cachet het hy hom in middel 1861 na Utrecht en die ZAR begewe

ten einde op de plaats zelve onderzoek te doen naar den godsdienstigen toestand van onze stamverwanten en geloofsgenoten aldaar, broederlijke betrekkingen met hen aan te knopen en in alles te handelen gelijk het hem zelven het nuttigst zal voorkomen in het belang van Gods Koninkrijk en van onze stamverwanten en geloofsgenoten op Zuid-Afrika's Oost kust. (Kriel [s.a.]:46)

As die enigste NG Kerk-predikant in die Republiek rondom 1866 sou Lion Cachet aan die werk spring om die "vervallen tuin" van die NG Kerk in die ZAR te herstel. By sy afskeid aan die NG Kerk Utrecht in 1873 op pad na Nederland, neem hy dus ook afskeid van ander gemeentes waarin hy sy herstelwerk verrig het: Lydenburg, Nazareth (Middelburg), Amersfoort en Ermelo. Laasgenoemde oorhandig aan hom 'n adres waarin hulle die verlies aan 'n herder en leraar en "die bestuurder van die gemeentes in die land", betreur. Hulle noem hom "de Hervormer" van die kerk in die ZAR wat deur suiwer prediking sy taak verrig het (Kriel [s.a.]:89-90).

Hierdie artikel fokus op die rol van Frans Lion Cachet in die herstel van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR tydens en na die finale breuk met die Nederduitsch Hervormde Kerk in November 1865. Wat was sy motivering hiervoor? Waarop het hy in sy kerklike werk die klem gelê? Watter rol het sy persoon en geaardheid in die proses gespeel en wat het hy bereik?

 

LION CACHET SKEI VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK IN DIE ZUID-AFRIKAANSCHE REPUBLIEK

In 'n poging om die belangrikheid van Utrecht in die konteks van 'n Boere-demokrasie soos die ZAR te onderstreep, word die volgende uitgewys. Utrecht was teen 1860 'n digbevolkte distrik vir blankes. Ongeveer 5 000 swartes en 1 800 blankes het hier gewoon (Lion Cachet 1883:354). Hierdie syfer staan teenoor 'n gevestigde plek soos Potchefstroom (vir veral Afrikaners) waarin 800-900 blankes gewoon het (Kriel [s.a.]:66). Die feit dat rofweg alle Boere of destydse Afrikaners aan die Nederduitse Gereformeerde Kerk of, na die 1850's, aan 'n Hollands-Afrikaanse gereformeerde kerk behoort én die grootste deel van die blanke bevolking in landelike gebiede uitgemaak het, verleen aan Utrecht 'n beduidende status in die kerklike en politieke lewe van die ZAR.

Opgeweeg teen die kerklike skeurings in die ZAR in die 1850's - die ontstaan en ontwikkeling van die Nederduitsch Hervormde Kerk sedert 1853 en die afskeiding van die Gereformeerde Kerk in 1859 (Van der Watt 1977:67, 78) - het die NG Kerk Utrecht vroeg sy ware kleure gewys. Op 10 Oktober 1858 besluit die kerkraad dat geen predikant hier sal preek as hy nie onder die Kaapse Sinode van die NG Kerk val of deur leraars by hierdie Sinode aanbeveel word nie. Op daardie stadium was Lion Cachet nog in die Kaap en word hierdie besluit los van sy mening of invloed geneem (Kriel [s.a.]:45). Lion Cachet self bestempel hierdie houding in 1866 as 'n duidelike begeerte by Utrecht om Nederduits Gereformeerd "in leer en tucht" te bly en hulle te verset teen enige poging om hulle van die Kaapse Sinode te laat afskei (Lion Cachet 1866:9,13).

Die bestaande inskakeling van Utrecht by die Kaapse Sinode sou egter in 1862 'n gevoelige slag kry. Na sy stigting in 1854 word Utrecht by die Ring van die Transgariep in die Kaapse Sinode (bestaande uit die NG gemeentes oor die Gariep- of Oranjerivier in die Vrystaat en Natal - gemeentes wat ook by die Kaapse Sinode inskakel) en in 1862 by die nuutgestigte Ring van Natal binne dieselfde Sinode ingedeel. Staatkundig val Utrecht sedert 1859 egter onder die ZAR. Dit het beteken dat die NG Kerk Utrecht hom van die Ring van Natal moes losmaak omdat die NG Kerk die uitspraak van die Kaapse Hooggeregshof in die Loedolff-saak van 1862 as bindend aanvaar en so verstaan het dat kerkgrense deur staatsgrense bepaal word. Die Ring van Natal kon nie gemeentes uit ander staatkundige gebiede - soos Utrecht in die ZAR - huisves nie. Ironies genoeg vind die Ring van Natal wat hierdie uitspraak moes toepas, juis in Maart 1864 op Utrecht plaas. Lion Cachet beskryf die posisie van Utrecht as dié van 'n gemeente van die "Nederduitsch Gereformeerde Kerk" wat sonder haar eie toedoen "min of meer gewelddadig" van haar Sinode losgemaak en op haarself aangewese is. 'n Gemeente wat tans sonder enige verband met "eenig hooger Kerkbestuur" funksioneer. Predikante "der Gereformeerde Kerk onder de Kaapsche Synode" (Lion Cachet gebruik deurgaans hierdie naam as 'n aanduiding van die NG Kerk as 'n spruit en suigeling van die ou - Dordts - Gereformeerde Kerk in Nederland) sou egter voortgaan met die bediening van die Woord en die sakramente in die, volgens hom, Nederduitse Gereformeerde Kerk Utrecht (Lion Cachet 1866:6-7). Ook met die gemeentes van die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR en die Nederduitse Gereformeerde Kerk Lydenburg, op daardie stadium die enigste ander NG Kerk in die ZAR, sou Utrecht nie bande hê nie (Kriel [s.a.]:46). Lydenburg as 'n NG gemeente slaan reeds in Junie 1854 'n onafhanklike kerklike koers, los van die NH Kerk in die ZAR, in. In 1857 kies hy ook sy eie staatkundige koers (Keet 1942:69).

Teen hierdie agtergrond en met druk uit regeringskringe in die ZAR, sou Lion Cachet en die NG Kerk Utrecht by twee vergaderings met verteenwoordigers van die NH Kerk in die ZAR betrek word om, volgens Lion Cachet, te handel oor die "voorwaarden waarop de gemeente van Utrecht bereid was zich met de andere (Nederduitsch Hervormde) gemeenten in de Republieke te verenigen" (Lion Cachet 1866:5).

Die eerste is dié van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR op 26-28 Junie 1865 op Rustenburg: 'n vergadering ter voorbereiding van die Algemene Kerkvergadering wat op 20 November 1865 in Pretoria sou begin (notules in Gerdener 1930:263,269). Lion Cachet en drie ander lede van die kerkraad ontvang volmag om namens Utrecht by die Kommissie op te tree. Volgens hulself is hulle hier namens die "Zelfstandige Neder Geref Kerk te Utrecht". Die implikasie is dat Utrecht "gereformeerd" in plaas van "hervormd" is en dat die gemeente Utrecht uit 'n gereformeerd-kerkregtelike hoek volledig en selfstandig kerk is. Daarom koppel hulle die woord "kerk" ook aan die gemeente Utrecht.

Die eerste groot saak wat Lion Cachet opper, is die vraag na die naam van die kerk. Volgens hul leraar is die Kerkraad en gemeente van Utrecht daarvan bewus dat die naam van die Hollands-Afrikaanse kerk in die ZAR "oorspronklijk" die Nederduitse Gereformeerde Kerk was. Daar is ook nie sprake van 'n wettige verandering van die naam na Nederduitsch Hervormd nie. 'n Wettige verandering van sy naam moet van die kerk self kom. As Utrecht in hierdie kerkverband opgeneem word, moet dit met die behoud van die naam Nederduitse Gereformeerde Kerk wees. Die tweede groot vraag van Lion Cachet is: "Welk is de belijdenis der Ned. Herv. Kerk?" Sy belydenis word nie in die Kerkwet en ander stukke van die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR aangetoon nie. Beide sake word na die Algemene Kerkvergadering verwys (notule in Gerdener 1930:263-265).

By die aanvang van die Algemene Kerkvergadering word die 2 afgevaardigdes van die NG Kerk Lydenburg sitting ontsê omdat hulle beswaar maak teen die gebruik van die naam Nederduitsch Hervormde Kerk (notule in Gerdener 1930:269). Hierdie stap gee alreeds 'n aanduiding van hoe die wind op hierdie vergadering waai.

In die bespreking konsentreer Lion Cachet op veral 2 sake: die naam en die belydenis van die kerk waarvan die Nederduitse Gereformeerde Kerk Utrecht nou deel kan word. Lion Cachet herhaal sy argument dat die naam van die kerk in die ZAR nie wettig of kerklik van Nederduitse Gereformeerd na Nederduitsch Hervormd verander is nie. Die naam Nederduitsch Hervormd kom uit artikel 20 van die Grondwet van die ZAR van 1855-1858. 'n Omskrywing wat aan 'n Nederlander, Jacobus Stuart wat teen sy Hollandse agtergrond met die opstel van die Grondwet "belas was", toegeskryf moet word (Van der Watt 1977:73). Vir Lion Cachet is 'n twis oor "hervormd" of "gereformeerd" nie "woorden zifterij" nie, omdat dit as sinonieme dieselfde kerklike rigting verwoord. Die Dordts-Gereformeerde Kerk in Nederland wat oorgeloop het op sy spruit aan die Kaap, die Nederduitse Gereformeerde Kerk, maar in 1816 van owerheidsweë na "Hervormd" verander is, dra as 'n "hervormde" kerk tans die beeld van leervryheid, losbandigheid en ongeloof. 'n Gees wat na 1816 by hierdie Nederlandse Kerk merkbaar geword het. Van 1 500 predikante in "hervormde" Nederland is slegs 200 die suiwer leer van die ou Gereformeerde Kerk toegedaan. Selfs al was die verandering van naam nie belangrik nie, moes dit volgens Lion Cachet nog vanuit die kerk geskied het. 'n Voorstel van die voorsitter van die Algemene Vergadering, ds. Smits, dat hierdie byeenkoms by Nederduitsch Hervormde Kerk bly, word egter algemeen aanvaar. Lion Cachet en kie. is nie stemgeregtig nie, omdat Utrecht nie amptelik deel van die Algemene Kerkvergadering met afgevaardigdes en stemreg is nie. Op sy beurt beklemtoon ds. Lion Cachet egter die nou bekende uitdrukkings naamlik dat

Utrechts Gereformeerde Kerk onder de Kaapsche synode ressorteerde, en dit in geest nog doet, en dat daarom de naam van de kerk dezer vergadering geen andere naam is dan de Nederd. Geref kerk." (Notule in Gerdener 1930:271-272)

Die ander saak waarop Lion Cachet konsentreer, is: "Welke is de Belijdenis der Ned. Herv. Kerk alhier?". Hy is verbaas dat die belydenisskrifte van die Nederduitsch Hervormde Kerk nie in sy reglemente vervat is nie. 'n Vereniging van Utrecht met die NH gemeentes in die ZAR sal nog moontlik wees as hulle oor die posisie of status van die Drie Formuliere van Eenheid in die kerk saamstem. As hulle nie quatenus- nie, maar quia-mense is (kyk voetnoot 1). Die Hervormde ds. van Warmelo is juis nie deur die Kaapse Sinode gelegitimeer nie omdat hy kritiese vrae oor die belydenis het. Ds. Smits reageer uit die voorsitterstoel met die opmerking dat die (hele) belydenis van die Kerk uitgedruk is in artikel 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. 'n Artikel wat handel oor die genoegsaamheid van die Skrif ten opsigte van die mens se kennis oor die saligheid. Lion Cachet noem hierdie aanduiding van die belydenis egter "ongenoegsaam" en wys op al die artikels vervat in die Drie Formuliere. Hy doen aan die hand dat die predikante die ondertekeningsformulier van die Vrystaatse NG Kerk teken: 'n formulier met 'n quia-inslag. Hierdie voorstel van hom word ook met algemene stemme verwerp. As die omvattende belydenis van die NH Kerk lees die voorsitter net artikel 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (notule in Gerdener 1930:273-274).

Later beweer Lion Cachet dat die predikante van die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR op die Algemene Vergadering "hardnekkig en spotachtig" geweier het om die Drie Formuliere as "overeenkomstig Gods Woord" te teken (Du Toit [s.a.]:228). Op hul beurt merk van die Hervormde predikante op hierdie vergadering op dat Lion Cachet se "spitsvondigheden" en ongeduld met diegene wat hom opponeer, hulle afstoot.5 Hy behandel hulle soos kwajongens wat tot orde geroep moet word en sy persoonlikheid prikkel hul tot verset. Lion Cachet se afkeer in persone laat hom juis soms in die vaarwater beland. Hy is dikwels haastig om die gereg by persoonlike geskille te betrek; word self ook betrek by lastersake teen sy skerp tong; en vyandige bewerings en beskuldigings teen sy persoon is aan die orde van die dag. Op sy beurt verklaar Lion Cachet dat niemand dit lank met ds. Dirk van der Hoff, die voorloper van die Hervormde Kerk in die ZAR en 'n selferkende quatenus-man, kan uithou nie. Na bewering word Lion Cachet deur die Hervormde predikante vanweë sy Joodse afkoms verag en in regeringskringe in die ZAR gehaat omdat hy nie vrede met die Hervormde staatskerk het nie. Ten spyte van al hierdie bewerings word Lion Cachet se eerste beroep na Utrecht op 17 Oktober 1863 gedra deur 'n "volkomen meerderheid" van die Kerkraad. Di. Huet, Smits en Lion Cachet vorm in die proses 'n drietal (Kriel [s.a.]:46,47,49,58,93,95).

Ten spyte van hierdie gevegte oor die belydenisskrifte van die kerk, aanvaar die volgende Algemene Vergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk op 26 Februarie 1866 op Potchefstroom 'n formulier vir ondertekening deur voornemende predikante wat op 'n herhaling van die Kaapse Formulier neerkom, pro-Dordts én quia is (Gerdener 1930:275-276; Kriel [s.a.]:58). Teenoor Lion Cachet en die NG Kerk enkele maande vroeër was die Hervormde predikante wat wel standpunt gestel het, Van der Hoff was een van hulle, egter "in soverre as wat" of quatenus-mense as dit gaan oor die vraag of die leer van die Drie Formuliere met die Skrif ooreenkom (Kriel [s.a.]:56-57).

Hoe dit ook al sy, in November 1865 is die vereniging van Utrecht met so 'n Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR of "met de Ned. Herv. Kerk alhier (vir Lion Cachet) niet te denken, en (hy) betreurt dat ten zeerste" (notule in Gerdener 1930:271-274).

 

WAAROM DIE SKEIDING?

Wat Lion Cachet betref, kondig die uitslag van die Algemene Vergadering van die NH Kerk in die ZAR hiermee die skeiding tussen Lion Cachet en die NG Kerk Utrecht én die kerk aan. Lion Cachet sou by die Nederduitse Gereformeerde Kerk as, vir hom, die voortsetting van die Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, bly. Dit doen hy omdat hierdie kerk by die Drie Formuliere van Eenheid staan omdat (quia) dit ooreenkom met die Skrif. Anders gestel: ds. Lion Cachet van die NG Kerk Utrecht in die ZAR wou deur die NG Kerk by die algemene Gereformeerde Kerk met die Dordtse formulering van sy geloof bly. Die Drie Formuliere van Eenheid as die belydenis van die kerk soos aanvaar deur die Nasionale Sinode van Dordrecht in 1618-1619 was vir hom, gebou op die Skrif, die bepalende maatstaf én eenheidsband in sy kerkwees. As 'n geesteskind van Da Costa en Witteveen, 'n bekeerde Jood wat die konsekwensies van sy geloof bereken en 'n uitgesproke, intense en emosionele kind van die kerk waarin hy tot geloof gekom het, wou hy eenvoudig nie anders nie.

Lion Cachet se afskeidswoorde aan die Algemene Vergadering is dat hy die "geheele Republiek in lengte en breedte zullen doortrekken om zuiver Gereformeerde Gemeenten op te rigten, aangezien hij de eenige zuiver Ned. Geref. Predikant hier ten lande is". Om een of ander rede wens Smits hom vanuit die voorsitterstoel "alle success op zijn rondreize" toe (notule in Gerdener 1930:274; Keet 1942:114). Is die praeses lakonies, spottend-sarkasties of ernstig? Kriel praat juis van 'n "laakbare hilariteit" of humor (Kriel [s.a.]:57).

Uit 'n verslag wat in Desember 1865 deur die Kerkraad van Utrecht gepubliseer en in 1866 deur P. Davis en Zonen in Pietermaritzburg uitgegee is, gee Lion Cachet sy en Utrecht se redes waarom vereniging met die gemeentes van die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR misluk het. Die verslag word deur Lion Cachet namens die Kerkraad en gemeente van die "Nederduitsch Gereformeerde Kerk te Utrecht" geskryf en gerig aan die lidmate van die NG Kerk in die ZAR en "voorts aan allen die de gereformeerde kerk liefhebben". Die eerste oplaag beloop 500 eksemplare. Tipies van die gedetermineerde vegter Lion Cachet6 word die verslag in belang van die gereformeerde kerk in die algemeen beskou en aan die volgende mense gestuur: die Nederduitse Gereformeerde Sinodes van die Kaap, Vrystaat en Natal; die Gereformeerde Kerk van ds. Dirk Postma; die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR; elke predikant en kerkraad in hierdie Hervormde Kerk; die konsulent en gemeente van die Gereformeerde Kerk Klerksdorp; die Uitvoerende Raad, Volksraad en President van die ZAR (Lion Cachet 1866:1; Kriel [s.a.]:63); en 'n mede-Dordtse gereformeerde, "Generaal" Paul Kruger (die Kommandant-Generaal van die ZAR in 1863-1873, De Kock 1976:466-467; Lion Cachet 1866:1; Kriel [s.a.]:63). In hierdie tyd gee Lion Cachet aan Paul Kruger "met genoeë" 'n preekbeurt in Utrecht. Kruger word later in die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (na 1859) 'n Dordtse Kerkorde (DKO) artikel 8-predikant. 'n Artikel 8-predikant is 'n predikant wat sonder die vereiste teologiese opleiding oor genoeg singuliere (buitengewone) gawes beskik om 'n leraar van die Gereformeerde Kerk te word (Kruger et al. 1966:78; Spoelstra 1989:72-77).

As die skrywer van die verslag oortuig Lion Cachet sy kerkraad dat hulle saak aan gereformeerdes in Afrikanergeledere sal verkoop. Nadat hy in deel I 'n oorsig van die NG Kerk Utrecht se pogings om met die "dusgenaamde" NH Kerk in die ZAR te verenig, gegee het, skets hy die redes waarom die vereniging misluk het. Daarna gee hy 'n opsomming van die "kerklijken toestand van dit land" en laastens rig hy 'n ernstige woord aan lidmate van die NG Kerk in die ZAR (Lion Cachet 1866:5-6). In Lion Cachet se redes vir die mislukking van die vereniging kom van die sake wat in die debat op die Algemene Kerkvergadering van November 1865 én by Lion Cachet self gehoor is, weer terug (Lion Cachet 1866:36-37).

Volgens Lion Cachet het die vereniging in die eerste plek misluk omdat dit nie uit die wette en bepalinge van die gemeentes van die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR blyk dat hulle in "leer en tucht" ooreenstem met die "Gereformeerde Kerk als geconstitueerd in de Synode van Dordrecht in de Jaren 1618-1619" nie. Lion Cachet beskou die uitdrukking "Gereformeerde Kerk" as 'n simbool van Dordtse gereformeerdheid teenoor "Hervormd" as 'n simbool van liberalisme, modernisme en die relativering van die gesag van Woord en belydenis. Die rede waarom hy vanuit sy Nederlands-gereformeerde agtergrond 'n "hervormde" kerk nie kan aanvaar nie.

Uit sy Wette en Bepalinge, die notule van die Algemene Kerkvergadering en ander kerklike handelinge blyk dit tweedens dat die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR in naam, belydenis en praktyk "grootelijks" verskil van die "Gereformeerde Kerk in Holland, de Kaapkolonie, Vrystaat en Natal; (en) van de Gereformeerde Kerk gelijk die bestaan heeft in alle de gemeenten der Z.A. Republiek, en in verschillende gemeenten nog bestaat".

Derdens het die Hervormde Kerk deur sy Algemene Vergadering in November 1865 "duidelijk" verklaar dat sy leraars nie gebonde is aan die "leer" van die "Formulieren van Eenigheid der Gereformeerde Kerk" nie. Ten opsigte van belydenisskrifte as die akkoord van kerklike gemeenskap of van konkrete kerkeenheid, loop die weë "duidelijk" uiteen. 'n Rede wat vereniging met die Nederduitsch Hervormde Kerk vir Lion Cachet en kie. tans onmoontlik maak.

In die vierde plek volg die Nederduitsch Hervormde Kerk van die ZAR met sy naam, leer en praktyk die liberale Hervormde Kerk in Nederland met leervryheid vir predikante en stel dit die rus en welvaart van die ZAR in gevaar. Hierdie toestand bots ook met die eis vir 'n staatskerk soos in artikel 20 van die Grondwet van 1855-1858 van die ZAR opgeneem.

Vyfdens sal 'n vereniging met die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR vir die Nederduitse Gereformeerde Kerk Utrecht tans neerkom op 'n verloëning van die "dierbaarste" belange van die Gereformeerde Kerk in die algemeen en van die ZAR.

Wat Lion Cachet betref, is "wij" bereid om hierdie betoog vir enige iemand toe te lig, te bewys en te verdedig. Hierdie enige iemand sluit die Volksraad en Uitvoerende Raad van die ZAR én enige kerk- of gemeentevergadering, "in welke plaats ook", in (Lion Cachet 1866:36-37; Gerdener 1930:326-327).

Die bekeerde Hollandse Jood laat dus 'n "duidelijke" duik op die Hollands-Afrikaanse Gereformeerde Kerke in die ZAR. Dit doen hy met die oortuiging dat hy die Dordtse Sinode van 1618-1619 in Nederland agter hom het én steun verleen aan die instansies wat hierdie geestelike tradisie in Suider-Afrika verteenwoordig. Hy werk met die standpunt dat 'n kerk van Nederduitse oorsprong (met Nederland "de lage landen" van Duitsland) met "gereformeerd" in sy naam die lyn van Dordrecht 1618-1619 moet voortsit en daarmee ook die leer van die Drie Formuliere van Eenheid wat deur hierdie Sinode as 'n gesagvolle formulering of formulier van hul geloof aanvaar is (NGK in VS 2013:1). Sy afskeidswoorde aan die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR, waarin uitdrukkings soos "zuiver Gereformeerde gemeenten op te rigten" en "eenige zuiver Ned. Geref. Predikant" voorkom, beaam hierdie waarneming.

Die konsolidering en vasmaak van sekere kerklike sake is ook die spoor en inslag van die eerste Algemene Vergadering van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR in Desember 1866.

Dat ds. Lion Cachet die wisselende verhoudinge met ander kerke deur die "Zelfstandige" NG Kerk Utrecht traumaties en emosioneel beleef het, blyk uit sy reaksie nadat Utrecht se band met die Ring van Natal losgemaak is en hy in Mei 1865 daar as leraar begin het. Hy skryf dat die gemeente los van alle kerklike bande, ten prooi van die aanslae van die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR en die politieke toestande daardie tyd in die Republiek, 'n betreurenswaardige lot beleef het. "Wat moes zonder leraar van u worden?" Hy moes eenvoudig die beroep na Utrecht aanvaar. Maar, die eerste dae en nagte in die halfvoltooide pastorie was vir hom ure van (on-)"uitsprekelijk zielelijden". Hy het hom verlate gevoel as 'n nuwe, vreemde burger van die ZAR in hierdie "ordelooze en verdeelde gemeente". Daarby was hy daarvan oortuig dat hy met moeite sal "voorzien in mijne dagelijksche behoeften". En tog het die Here hom oortuig dat hy vanuit Utrecht die vervalle tuin van die Nederduitse Gereformeerde Kerk weer moet oprig. 'n Taak wat hom opgewonde gemaak het (Kriel [s.a.]:50-51; Du Toit [s.a.]:227).

 

LION CACHET EN DIE EERSTE ALGEMENE KERKVERGADERING VAN DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK IN DIE ZUID-AFRIKAANSCHE REPUBLIEK

Die eerste Algemene Kerkvergadering van die herstelde NG Kerk in die ZAR sou op 3 Desember 1866 op Utrecht begin. In die jaar wat verloop het sedert die skeiding van die weë op die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk in November 1865 in Pretoria, het Lion Cachet en die NG Kerk nie gras onder hul voete laat groei nie. Die vervalle tuin van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR moes herstel word. Naas ds. Lion Cachet van Utrecht wat as voorsitter en ds. Huet van "Maritzburg" wat as adviseur en skriba opgetree het, het 18 kerkraadslede van 8 groter en kleiner NG Kerk-gemeentes in die ZAR hulle op die Algemene Vergadering verteenwoordig. Utrecht en Lydenburg was nie meer die enigste NG Kerk-gemeentes in die ZAR nie (notule in Gerdener 1930:332).

Lion Cachet het in 1866 en daarna die daad by sy belofte aan die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk in November 1865 gevoeg: hy sal die ZAR kruis en dwars deurry om die Nederduitse Gereformeerde Kerk te herstel. Sy belofte was nie net 'n emosionele kreet in reaksie op die breuk met die Hervormers nie. Meer waarskynlik was dit die verwoording van 'n visie wat op daardie stadium reeds sterk by die predikant van Utrecht geleef het. As die reisende predikant van die NG Kerk Utrecht en die konsulent van ander NG Kerk-gemeentes in die ZAR, sou hy met groot ywer tot die stigting en herstel van NG-gemeentes oorgaan. 'n Kollega wat die omstandighede ken, verklaar dat hy soms tot 3 maande van die huis af weg was om die NG Kerk in die ZAR te herstel. "Met voorbijziening van alle eigen gemak doorreizde hij de Republiek van zijn huisgezin verwyderd". Tussen Januarie 1866 en Januarie 1869 is Lion Cachet "nauwlijks" 14 maande tuis. Hy preek "oral"; bedien doop en nagmaal; hou kategese en kerkraadsvergaderings. Sy reise gaan oor slegte paaie met die vervoermiddels van daardie jare. Hy tree ook as die praeses of voorsitter en skriba van nuwe kerkrade op (Kriel [s.a.]:73,74,94; Du Toit [s.a.]:229).

Op Lion Cachet se besondere persoonlikheid is reeds gewys. Hierdie verskynsel sowel as die kerklike standpunt wat hy verteenwoordig het, sou hom lasterlike bewerings en selfs liggaamlike leed op die hals haal. Hy word by geleentheid van diefstal, onsedelikheid en bedrog beskuldig. Hy sou daarby 'n ongedoopte, ongeordende predikant wees wat die onaanvaarbare - vir die Transvaalse Boere - gelykstelling tussen Blank en Swart verkondig en 'n eerlose en dubbelhartige karakter daarop nahou (Kriel [s.a.]:95). Boonop word Lion Cachet en sy geselskap in Augustus 1868 op pad na Marico vir 'n kerkdiens, deur Kommandant Jan Viljoen en sy manne voorgekeer en belet om hul plan deur te voer. Behalwe dat hulle gevange gehou word, loop Lion Cachet onder sambokhoue van Viljoen deur. Na hulle die volgende dag vrygelaat is, sit hulle egter hul reis voort en voer hulle hul voorneme uit. Lion Cachet word moeilik van sy ingeslane weg afgetrek (Du Toit [s.a.]:204; Kriel [s.a.]:74-75).

Ds. Lion Cachet open die eerste Algemene Kerkvergadering van die herstelde Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR in 1866. Die vergadering reageer op die oproep - 'n gebruik in 'n gereformeerde verband van kerke of gemeentes - deur die kerkrade van Utrecht en Lydenburg. Lion Cachet word aangewys as die voorsitter en Huet as die skriba. Aan die begin van die byeenkoms skets Lion Cachet die doel as een om alle gemeentes van die NG Kerk in die ZAR "onder een kerkbestuur te vereenigen, wetten voor de kerk te maken, en verdere kerkelijke zaken te behandelen". Omdat die vergadering 'n vergadering van gemeentes deur middel van hulle afgevaardigdes is, vra hy ook na die geloofsbrief of bewese kerkraadsopdrag van elke afgevaardigde (notule in Gerdener 1930:332-335).

Uit 'n Dordts-gereformeerde hoek word sake op hierdie vergadering getrou aangevoor

Om mee weg te spring, besluit die Algemene Vergadering met "algemeene stemmen" (vir die besluite, kyk notule in Gerdener 1930:334-356) dat die Bybel en die "gestrenge handhaving van de Formulieren van Eenigheid der Geref Kerk" (kyk ook Keet 1942:115) - ook die omstandighede vra hierdie strengheid - die grond van hul vereniging is. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van die ZAR groei dan juis uit 'n verskil met die Nederduitsch Hervormde Kerk van die ZAR oor die belydenisse van die kerk. Die Algemene Vergadering reik 'n verklaring uit waarin hy hierdie vertrekpunt bevestig. In hierdie verklaring word die NG Kerk in die Kaapkolonie bestempel as die moederkerk van die NG Kerk in die ZAR. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR sal aan die Bybel as die Woord van God vashou, die Drie Formuliere streng handhaaf en by die liturgiese gebruike van die NG Kerk aan die Kaap bly. Boonop word Lion Cachet se "acte van ordening en legitimatie" deur die vergadering in orde bevind en 4 Desember as die dag waarop die NG gemeentes in die ZAR verenig het, as 'n kerklike feesdag aangemerk. By die gebrek aan ringe - soos met die wegspring van die Kaapse Sinode in 1824 (NGKSA 1857:7) - doen die gemeentes op die Algemene Vergadering verslag van hul werksaamhede. In die gees van hierdie Algemene Vergadering verklaar die Gemeente Potchefstroom dat hy "aanspraak" maak op 'n eie "ortodokse Gereformeerde leraar".

Die huidige bundel van Evangeliese Gesange of Gesangboek in die Nederduitse Gereformeerde Kerk sal gebruik word, hoewel geen nuwe gesange toegelaat sal word nie. Verder sal die Nederlandse Statevertaling van die Bybel uit 1637 die enigste erkende Bybelvertaling vir kerklike gebruik wees. Daardie vertaling wat in die Groot Trek gebruik is en al die jare in die Kaapse NG Kerk gebruik word (kyk ook in Keet (1942:115); oor die Statevertaling huldig Lion Cachet (1883:318) dieselfde houding). Die notules of acta en "kerkwette" van die NG Kerk in die ZAR en drie ander NG sinodes in Suid-Afrika sal onderling uitgeruil word omdat hierdie kerke susterskerke en daarom wesenlik een is.

Met die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika sal die NG Kerk "vriendschappelijke" betrekkinge handhaaf, maar die deur staan "zoo wijd as mogelijk geopend" vir lidmate van die Nederduitsch Hervormde Kerk om terug te keer na hul moederkerk. Die implikasie hiervan is dat die NG Kerk in die ZAR die Gereformeerde Kerk na sy afskeiding in 1859 reeds as 'n erkende of 'n susterskerk beskou, maar die NH Kerk vanweë die meer onlangse breuk as 'n godsdienstige groep wat, om dit net negatief te stel, nie aan hierdie vereistes beantwoord nie. Die NG Kerk van die ZAR kan nie met die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR verenig nie omdat eersgenoemde laasgenoemde in die lig van die gebeure nie as 'n kerk met dieselfde belydenisgrondslag beskou nie.

Die Algemene Kerkvergadering van 1866 van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR loop hiermee op spore wat die enigste predikant in 'n NG Kerk-gemeente van die ZAR op hierdie stadium, ds. Frans Lion Cachet, met hart en siel volg. Aanvanklik sou hierdie vergadering jaarliks plaasvind. 'n Reëling wat waarskynlik ook getref word omdat daar destyds nog nie ringe in die NG Kerk van die ZAR was wat oor die gemeentes waak nie en die Algemene Vergadering ook die werk van ringe gedoen het (vgl. notule in Gerdener 1930:334-356). By die sesde Algemene Kerkvergadering in Maart 1873 en teen die einde van Lion Cachet se bediening in Utrecht, woon 18 afgevaardigdes van 9 gemeentes die vergadering by. Drie predikante bevind hulle nou onder die lede van die vergadering terwyl eerwaarde Stephanus Hofmeyr van Soutpansberg en ds. Van Velden van Pietermaritzburg besoekers is. Ds. Craig verteenwoordig die NG Kerk van Natal (notule in Gerdener 1930:351).

 

'N VEELSYDIGE VOORMAN

Ds. Frans Lion Cachet was intens van geaardheid en bedrywig van gees. Vir sy tyd was hy 'n veelsydige mens met besondere gawes. 'n Biograaf noem hom as persoon "moeilik, onrustig" en soms omstrede (De Kock 1976:151).

Naas sy ywer vir die herstel van die, soos hy dit stel,"Gereformeerde Kerk" in die ZAR, tradisioneel 'n kerk onder Afrikaners, sou hy gereeld klem lê op sending onder die Swartmense. In Desember 1869 preek hy in Marabastad. Hy verwys na die sendingwerk "onzer Geref. Kerk in Zuid-Afrika" wat nog in sy "kindsheid" is. Hy sien hierdie kinderskoene ook in die werk in die Soutpansberg waar eerwaarde Stephanus Hofmeyr voorvat. 'n Persoon met wie ds. Lion Cachet en Utrecht gereeld kontak het (Kriel [s.a.]:82). Volgens Kriel vertel Lion Cachet dat feesgangers op die Bloedrivierse slagveld in die vroeg 1860's saans "meesal oor Sending" gepraat het. Die gereformeerde aanpak van 'n lewensomvattende kerstening van Swartmense deur sendingwerk is nie 'n maklike taak nie. Tog bly dit volgens Lion Cachet die roeping van Christene om Christus deur woord en daad te preek: "de Heere zal zijn licht doen opgaan uit de duisternis" (Kriel [s.a.]:71). Lion Cachet, een van twee predikante by die Algemene Kerkvergadering van 1869 en openlik gekant teen die slawerny van Swartes, beweeg hierdie vergadering om te besluit dat strawwe opgelê moet word op lidmate van gemeentes7 wat Swart kinders "koopen, verkoopen, ruilen of verrruilen, geven of ontvangen in strijd met de letter der landswetten" (notule in Gerdener 1930:346).

Op die Volksraad van die ZAR se weiering in die najaar van 1866 om die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR te erken en - soos by die Nederduitsch Hervormde Kerk as staatskerk - die salarisse van die predikante van die N G Kerk in die ZAR te betaal, word Lion Cachet 'n "vurige voorstander van die vrywillige beginsel": die "beginsel" dat kerke hul leraars uit eie fondse onderhou (Kriel [s.a.]:66). Geen wonder dat Lion Cachet in 1865 na die N G Kerk Utrecht verwys as 'n "Zelfstandige"gemeente van die N G Kerk nie. 'n Gemeente wat self sorg vir sy dominee. Vir hom gaan hierdie selfstandigheid ook om finansiële selfstandigheid. Daarby is hierdie houding van hom, soos sy geaardheid,"vurig".

In sy omswerwinge in die ZAR om die Nederduitse Gereformeerde Kerk te herstel, bied Lion Cachet ook mediese hulp aan waar hy kom. Noodsaaklike hulp wat hy gee in die afwesigheid van geneeshere en verpleërs. Dit blyk dat Lion Cachet na 'n eksamen wat volgens homself nie veel beteken nie, deur die Regering in Nederland toegelaat is om "genees-, heel- en verloskunde" toe te pas. 'n Taak wat hy in die ZAR as 'n roeping en 'n liefdesdiens beskou (Kriel [s.a.]:60).

Lion Cachet identifiseer ook met die strewe van Afrikaners, die kultuurgroep met wie die NG Kerk deur sy geskiedenis heen 'n besondere band het. Op sy deelname aan feeste by Bloedrivier op 16 Desember is reeds gewys. Hy is een van die inisieerders van die betrokkenheid van die NG Kerk in Natal sedert 1864 by die jaarlikse Geloftefees op Bloedrivier. 'n Jaar waarin hy hom nog op Ladysmith bevind. Hy gee in publikasies ook rekenskap van belangrike elemente van die Gelofte en die Slag van 16 Desember 1838. Rekenskap wat hy in oorleg met mense wat die Slag as eerstehandse oor- en ooggetuies meegemaak het, opgestel het en wat meespeel in die huidige debat oor die inhoud van die Gelofte (vgl. Lion Cachet 1875:146-147; Lion Cachet 1883:196; Strauss 1994:59). Kort voor sy dood lewer hy 'n sterk protes teen die onreg wat Brittanje, na sy mening, die Boererepublieke deur die Anglo-Boereoorlog wat op 11 Oktober 1899 sou uitbreek, aandoen. In die laaste weke van sy lewe hou hy "oral" in Nederland protesvergaderings hieroor. Hy sterf op 27 November 1899 terwyl hy Bergen-op-Zoom juis om hierdie rede besoek (De Kock 1976:151).

Kriel gee 'n samevatting van Lion Cachet se verhouding met die Nederduitse Gereformeerde Kerk Utrecht as hy daarop wys dat hy vir hulle gepreek en vir kerklidmaatskap voorberei het; dat hy hulle in die huwelik bevestig het; hulle van medisyne vir die siel en die liggaam voorsien het; dat hulle huislike en kerklike lewens - op enkele uitsonderings na - aan hom goed bekend was; dat hy baie onder hulle en saam met hulle gely het; en tevrede was met sy deel toe hulle dit swaar gehad het. Lion Cachet se laaste woorde aan Utrecht is 'n gebed: "God zegene mijne gemeente en ontferme zich mijner. Amen." (Kriel [s.a.]:88-89).

Lion Cachet word deur die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR, sy Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, in Maart 1873 met die volgende woorde raak en waardig gegroet:

De Algemeene Kerkvergadering, vertegenwoordigende de geheele Ned. Geref. Kerk in de Z.A. Rep., erkent met diepgevoelde dankbaarheid het werk door Ds. Frans Lion Cachet op kerkelijk gebied in dit land gedaan. Zij beschouwt hem, menschelijk gesproken, als de redder en hersteller onze oude moederkerk alhier. (Notule in Gerdener 1930:355.)

 

SLOT

Lion Cachet was uit 'n menslike oogpunt beskou die hersteller van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR rondom 1866. Hieroor sal sy voor- én teenstanders saamstem. In die proses is sy optrede gekenmerk deur 'n helder visie, 'n ysere wil en 'n sterk deursettingsvermoë. Hy was vurig en onrustig van geaardheid en soms omstrede, maar sou vir sy geloofs- en kerklike oortuigings deur die vuur loop as dit moes. Hy kon sy oortuigings goed verwoord en het nie geskroom om omstrede kwessies in publikasies aan te pak en aan die leserspubliek te "verkoop" nie. Sy laaste woorde aan die NG Kerk Utrecht onderstreep sy intense aard, maar ook sy lojaliteit aan die saak waarvoor die Here hom geroep het.

Vir sy geloofs- en kerklike oriëntering het Lion Cachet vasgehou aan die besluite van die Nasionale Sinode van Dordrecht in Nederland van 1618-1619: die Bybel wat as die Woord van God gesagvol vir die hele lewe is én die Drie Formuliere van Eenheid wat as drie gereformeerde belydenisse die kernsake van die Christelike geloofslewe gesagvol verwoord. Lion Cachet sou in die ou Gereformeerde Kerk in Nederland van voor 1816 'n simbool en draer hiervan sien. 'n Simbool wat in Suid-Afrika syns insiens in die NG Kerk gevestig het: vir Lion Cachet die sogenaamde Gereformeerde Kerk teenoor die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR.

Hierdie oortuigings van Lion Cachet is sigbaar in sy houding oor kerk of gemeente en dit wat hierin belangrik is. Oortuigings wat onder Lion Cachet se invloed ook in die besluite van die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR in 1866 waarneembaar is.

 

BIBLIOGRAFIE

De Kock, W.J. (hoofredakteur). 1976. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek I (SABWI). Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Du Toit, F.G.M. [s.a.]. Rondom 1866. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel.         [ Links ]

Gerdener, G.B.A. 1930. Boustowwe vir die geskiedenis van die Nederduits-Gereformeerde Kerk in die Transgariep. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Keet, D.J. (redakteur). 1942. Die wonderdade van God. Jubileumgedenkboek NH of NG Kerk van Suid-Afrika. Johannesburg: Voortrekkerpers.         [ Links ]

Kriel, F. [s.a.]. Die lewe van Frans Lion Cachet. Met besondere toespitsing op sy betekenis vir die sending. Pretoria: V&R Drukkery.         [ Links ]

Kruger, L.S., Du Plessis, H.L.M., Spoelstra, B. & Spoelstra, T.T. 1966. Handleiding by die Kerkorde. Potchefstroom: Pro Rege.         [ Links ]

Lion Cachet, F. 1866. Aan de leden der Nederduitsch Gereformeerde Kerk in de Z.A. Republiek, en voorts aan allen die de Gereformeerde Kerk liefhebben, wordt het navolgende Verslag aangeboden door F Lion Cachet, predikant te Utrecht. Pietermaritzburg: Davis & Zonen.         [ Links ]

Lion Cachet, F. 1875. Vyftien jaar in Zuid-Afrika. I en II. Brieven aan een vriend. Leeuwarden: Bokma.         [ Links ]

Lion Cachet, F. 1883. De worstelstrijd der Transvalers. Aan het volk van Nederland verhaald. Amsterdam: Höveker & Zoon (2e druk).         [ Links ]

NG Kerk Vrystaat (gebruik as NGK in VS). 2013. Die Kerkorde. [Sl]:[sn].         [ Links ]

Nederduitsch Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika (gebruik as NGKSA). 1857. Handelingen van de Algemene Synode 1824-1847. Kaapstad: G.J.Pike.         [ Links ]

Pretorius, H.S. 1945. Ons kerk in wording. Johannesburg: Voortrekkerpers.         [ Links ]

Scholtz, G.D. 1951. Ons kerknaam. Pretoria: V&R Drukkers.         [ Links ]

Spoelstra, B. 1989. Gereformeerde Kerkreg en Kerkregering. Hammanskraal: Hammanskraal Teologiese Skool.         [ Links ]

Strauss, P.J. 1994. Geloftedag in die "nuwe" Suid-Afrika. Bloemfontein: Druforma.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2010. Kerk en orde vandag. Bloemfontein: Sun Media.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2019. "Hervormd" of "gereformeerd": Die keuse voor die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Zuid-Afrikaansche Republiek in 1866. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 59(3):367-381.         [ Links ]

Swanepoel, F. 2008. Frans Lion Cachet. Gaum, F. (eindredakteur). Christelike kernensiklopedie. Wellington: Lux Verbi.         [ Links ]

Van der Watt, P.B. 1977. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1834-1866. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel.         [ Links ]

 

 

 

PIETER JOHANNES STRAUSS word in 1988 'n dosent in Ekklesiologie of Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan sy alma mater, die Universiteit van die Vrystaat en tree op 30 Junie 2015 af. Benewens ongeveer honderd artikels in geakkrediteerde akademiese tydskrifte, het Strauss ook verskeie boeke geskryf. Hy spits hom toe op gereformeerde kerkreg en kontemporêre Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis, soos blyk uit onlangs verskene werke. In die kerkreg lewer Kerk en Orde vandag (2010), blyke van 'n reformatoriese deurwerk van die bekende Solas van die Reformasie van die sestiende eeu na vandag. Kerkwees in die branding - die Nederduitse Gereformeerde Kerk in algemene sinodale verband 1994-2011 (2013), verteenwoordig 'n kontemporêr kerkhistoriese werk vanuit 'n reformatoriese benadering.
Strauss was vir twee termyne, van 1999-2003 en 2005-2008, die moderator van die Vrystaatse Sinode van die Ned. Geref. Kerk. Hy beklee dieselfde amp by die Algemene Sinode, van 2007-2011. Hy is ook aktief op kultuurterrein en was vir 12 jaar, van 2001-2013, die hoofleier van die Afrikaanse jeugbeweging, Die Voortrekkers.
PIETER JOHANNES STRAUSS was appointed as a lecturer in Church Polity and Church History at the University of the Free State in 1988 and retired on 30 June 2015. Apart from some 100 articles in accredited academic journals, Strauss also authored a number of books. He focuses mainly on the topics of Church Polity and modern South African Church History, as can be seen in recently published works. In Church and Order today (2010) he argues that 3 Solas of the Reformation of the sixteenth century should also be accepted and implemented today, while in Being church in troubled times - the Dutch Reformed Church in the bond of its general synod 1994-2011 (2013), he uses a reformational approach in modern church history.
Strauss was moderator of the Free State Synod of the Dutch Reformed Church for the periods 1999-2003 and 2005-2007. He was also moderator of the General Synod of the same church in 2007-2011. In addition, he is actively involved in cultural events and, for 12 years (2001-2013), he served as leader of the Afrikaans youth movement, Die Voortrekkers.
1 In hierdie artikel word die afkortings NG Kerk vir die Nederduitse Gereformeerde Kerk en NH Kerk vir die Nederduitsch Hervormde Kerk afwisselend gebruik. Die huidige artikel sluit aan by 'n vorige artikel, "'Hervormd' of 'gereformeerd': Die keuse voor die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Zuid-Afrikaansche Republiek in 1866", wat in die Septemberuitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe verskyn het.
2 Die Volksraad van die ZAR gee op 19 September 1855 opdrag dat 'n grondwet vir hierdie Republiek opgestel word. 'n Grondwet wat van die NH Kerk in artikel 20 die kerk van "dit land"maak en bepaal dat slegs lidmate van hierdie kerk Volksraadslede kan word of "vername" poste in die staatsdiens kan beklee (Keet 1942:83). Hierdie grondwet soos onderweg gewysig, word in 1858 finaal deur die Volksraad aanvaar. Waar die name vir die Hollands-gereformeerde of Nederduitse Gereformeerde Kerk vroeër afwisselend as "hervormd" of "gereformeerd" gebruik is, neem die NH Kerk in die ZAR die naam "Nederduitsch Hervormd" in Januarie 1860 as sy amptelike naam aan (Pretorius 1945:53).
3 Die Nederlandse Hervormde Kerk het die Drie Formuliere van Eenheid as gereformeerde belydenisskrifte uit die Reformasie nie, soos die Nasionale Sinode van Dordrecht van 1618-1619, onderteken omdat (cuia) dit met die Skrif ooreenkom nie, maar in soverre as (quatenus) wat dit met die Skrif ooreenkom. Hierdie quatenus het aan indiwiduele predikante die ruimte gelaat om gedeeltes van die geskrifte te verwerp (Lion Cachet 1866:19-21).
4 Scholtz skryf die beginsels agter die Algemene Reglement van 1816 vir die Hervormde Kerk toe aan die invloed van die "Franschen tijd" met die besetting van Napoleon van Nederland. 'n Tyd waarin die Gereformeerde Kerk van sy bevoorregte posisie ontneem is (Scholtz 1951:4).
5 'n Biograaf noem Lion Cachet 'n moeilike, onrustige en dominerende persoon met 'n sterk polemiese inslag. Hy erken ook sy besondere redenaars- en skrywerstalente (De Kock 1976:151). Die weiering van ds. Dirk van der Hoff van die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR in 1865 om in 'n openbare debat teen Lion Cachet voor die Gemeente Wakkerstroom op te tree, illustreer moontlik hierdie waarnemings (Kriel [s.a.]:60).
6 'n Biograaf verwys na Lion Cachet se "ysere wilskrag en deursettingsvermoë"(De Kock 1976:151).
7 Let op die regte verwysing na lidmaatskap van 'n gereformeerde kerk as lidmaatskap van die gemeente as volledige kerk en nie van die kerk in die algemeen as 'n soort vereniging nie (Strauss 2010:34).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License