SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue3Indigenous knowledge as a protectable cultural heritage asset: Notes on the proposed protection of indigenous knowledge in South AfricaC.W.H. van der Post's faith and theocracy as exemplified in Piet Uijs or the suffering and struggle of the Voortrekkers in Natal author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.59 n.3 Pretoria Sep. 2019

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2019/v59n3a4 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

"Hervormd" of "gereformeerd?": Die keuse voor die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Zuid-Afrikaansche Republiek in 1866

 

"Hervormd" or "gereformeerd?": The choice the General Assembly of the Dutch Reformed Church had to make in the South African Republic in 1866

 

 

P.J. Strauss

Navorsingsgenoot, Departement Historiese en Konstruktiewe Teologie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein. E-pos: StraussP@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) in Suider-Afrika spruit uit die 17de-eeuse Gereformeerde Kerk in Nederland. In die jare 1855-1858 word die NG Kerk in die Zuid-Afrikaansche Republiek (1852-1902) se grondwet herdoop tot die Nederduitsch Hervormde Kerk en aangewys as die kerk van die staat. Die identifisering "Gereformeerd" of "Hervormd" vir hierdie kerk kom op hierdie stadium as wisselterme in die volksmond voor. Die kerk word egter nie geraadpleeg oor die formulering van die grondwet nie en kry nie amptelik kennis daarvan nie. Sommige leraars en lidmate aanvaar hierdie grondwetlike bepaling. Lidmate van die NG Kerk onder leiding van ds. Frans Lion Cachet van die NG Kerk Utrecht, verset hulle egter teen dié reëling. 'n Liberalisering in geloofskwessies en leefwyse in die ou Nederlandse Gereformeerde Kerk wat na die Hervormde Kerk verander word deur die Algemene Reglement wat hy in 1816 van die staatsowerheid ontvang, is die rede vir die afkeuring van die term "Hervormd". In 1866 word 'n eie sinode in die NG Kerk in die Zuid-Afrikaansche Republiek gevorm.

Trefwoorde: Staatskerk; grondwet van die staat; afsonderlike, onafhanklike kerk; "hervormd" geassosieer met teologiese liberalisme; Nederduitse Gereformeerde Kerk


ABSTRACT

The Dutch Reformed Church in South Africa, which has congregations within South Africa as well as beyond South African boundaries, is an offspring of the Reformed Church in the Netherlands of the 17th century. The word "Dutch" in its name indicates a link with the Dutch people, the Dutch language and the Netherlands itself, while "Reformed" refers to the church's spiritual heritage. This being a heritage which can be traced back to the Calvinistic reformation of the 16th century and particularly the National Synod of Dordrecht (1618-1619), where it was established that the Three Formulas of Unity would henceforth be the confessions of churches in this tradition. These decisions taken at the Dordrecht Synod had a major influence on both the character and governance of the church.
In the 19th century, by means of articles 20 and 23 of the Constitution (1855-1858) of the South African Republic, it was determined that the church of the state would be officially known as the Dutch Reformed Church ("Nederduitsch Hervormde Kerk"). In the Dutch of those days two words were alternately used for the notion reformed: "hervormd" and "gereformeerd". However, in the 1860's it became clear that some congregations within the church no longer interpreted the two terms as having the same meaning. While in the said constitution the church of the state was called the "Nederduitsch Hervormde Kerk", in the church itself "Hervormde Kerk" and "Gereformeerde Kerk" were used as synonyms. But in the church of the 1860's people openly associated the designation "Hervormd" with a changed liberal Reformed or "Hervormde" Church in the Netherlands. A change of which its church law of 1816 was an indication. Generally, this liberal change referred to a church in which the Three Formulas as a whole were no longer regarded to be scriptural nor was the Bible believed to be the authentic Word of God. It became a church, then, with which some sincere reformed congregationists no longer wished to be associated.
The name "Dutch Reformed Church" ("Nederduitsch Hervormde Kerk") in the constitution of the Republic was formulated without consulting the church, a legal assembly or representative body of the church. Moreover, no notice of its name in the constitution was given to the church. In other words, the state named the church without having sought the latter's consent. Some ministers of the Dutch Reformed Church in the Republic accepted this state of affairs, thereby embracing the fact of a new church in a new state with its own name, while others objected to the ruling unilaterally enforced by the constitution of the Republic. However, the latter group did not opt for a separate church and wanted to maintain the relation with the Dutch Reformed Church of the Cape as well as membership of a Dutch Reformed congregation.
The Cape Synod of the Dutch Reformed Church of 1842 decided explicitly and officially on the name Dutch Reformed ("Nederduitse Gereformeerde Kerk"). The same synod was associated with the spirit of the Synod of Dordrecht of 1618-1619. In addition, members of Dutch Reformed congregations in the Cape Colony who had emigrated during and after the Great Trek of 1835-1840 to the South African Republic, wished to stay in their church. The Dutch Reformed congregation of Utrecht of which Frans Lion Cachet became the minister from 1865-1873, spearheaded this movement during the 1860's.
The years 1865-1866, and especially 1866, proved to be decisive for members of the Dutch Reformed or Dutch-Afrikaans Church in the Republic with regard both to their differences about the choice between "hervormd" and "gereformeerd" and the impact of such divisive opinions in the church. In 1865 a general assembly of the "Nederduitsch Hervormde Kerk" rejected a proposal by the visiting reverend Cachet to accept the name "Nederduitse Gereformeerde Kerk", together with the wording of the Dordt Synod in 1619 on the acceptance of the Three Formulas. Almost a year later, in December 1866, the first general assembly of the "Nederduitse Gereformeerde Kerk" was formed and convened in Utrecht, thereby signalling the separation of two Dutch Reformed Churches in the South African Republic. For many years the impression lasted in the latter that the "Nederduitsch Hervormde Kerk" did not regard the Three Formulas of (confessional) Unity as totally in accordance with scripture. It was not until the beginning of the 21st century that the two reformed churches agreed to accept each other's ministers and members as if they were their own.

Key words: State church; state constitution; separate, independent church; reformed as "hervormd"; theological liberalism; Dutch Reformed Church


 

 

INLEIDING EN PROBLEEM

Ds. Frans Lion Cachet is in 1835 in Nederland gebore, maar is van Joodse afkoms. Na sy teologiese opleiding aan die Vrye Skotse Kerk arriveer hy in 1858 in Suid-Afrika. Hy het die Vrye Skotse Kerk gekies, omdat hy intens gekant was teen die sogenaamde liberale teologie aan universiteite in Nederland. Dit was 'n teologie wat Cachet teen die bors gestuit het en wel weens sy aanvaarding van die Nederlandse Dordts-gereformeerde tradisie soos bepaal deur die Nasionale Sinode van Dordrecht van 1618-1619, met sy Drie Formuliere van Eenheid as belydenisskrifte oor die plek van die Skrif en die belydenis in die kerk. Nadat hy tydelik in enkele Nederduitse Gereformeerde (hierna NG) gemeentes werksaam was, word hy in 1862 in Kaapstad gelegitimeer of beroepbaar verklaar na 'n NG Kerk-gemeente (Swanepoel 2008:667). Op 6 Desember 1864 word hy die derde keer beroep na die NG Kerk Utrecht waar hy in Mei 1865 met sy bediening begin. Utrecht is in 1859 staatkundig by die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) ingelyf, maar vanweë sy band met die NG Kerk aan die Kaap, nie by die grondwetlik erkende staatskerk van die ZAR, die Nederduitsch Hervormde Kerk (hierna NH Kerk), ingeskakel nie.1

Cachet sou in die jare 1865-1873 as 'n eenmansfiguur met groot ywer die leiding neem in die herstel van die NG Kerk in die ZAR.2 Nadat hy by die eerste Algemene Kerkvergadering van die NG Kerk in die ZAR in Desember 1866 op Utrecht as voorsitter opgetree het, doen hy dit nog 5 keer. By hierdie eerste Algemene Kerkvergadering word agt Nederduitse Gereformeerde gemeentes verteenwoordig (notule in Gerdener 1930:332). In April 1873 keer Cachet na Nederland terug. Sy uitgesproke gereformeerde oriëntering spruit onder meer uit die invloed van die Nederlandse Reveil en die bekende Christen-Jood, Isaac da Costa (SABW 1 1976:148).

Die "Algemeene Kerkvergadering der Hervormde Kerk in de Z.A. Republiek" van November 1855 in Pretoria word byeengeroep om te besin oor die vereniging van die NG Kerk in Utrecht "met de andere gemeenten in de Republiek" (aanhalings van Cachet se eie woorde, Cachet 1866:14-15). Toe Cachet aan die woord kom, gee hy te kenne dat hy drie dinge aan die vergadering wil uitwys. Eerstens is dit nie "onverschillig" dat die kerk in die ZAR die "Nederduitse Gereformeerde" of "Nederduitsch Hervormde Kerk" genoem word nie. Dit gaan hier beslis nie om twee name met dieselfde betekenis nie. Tweedens, hoewel die benaming kerklik gesproke nie 'n deurslaggewende saak mag wees nie, moet dit steeds reg of wettig gedoen word: kerklik en nie staatkundig nie. Derdens is dit noodsaaklik dat die kerk steeds sy eintlike naam dra: Nederduitse Gereformeerde Kerk. Hierdie kerk is immers 'n uitvloeisel van die ou Gereformeerde Kerk in Nederland na Afrika (Cachet 1866:20). Op talle plekke verwys Cachet na die NG Kerk as die "oude Gereformeerde Kerk dezes lands [] onder de Kaapsche Synode [] in de Z.A. Republiek" - soos die Dordts-gereformeerde of "ou" Gereformeerde Kerk in Nederland voor 1816 ook genoem is. Vir hom verteenwoordig die kwalifikasie "gereformeerd" die geestelike inslag van die kerk voor die intree van afval en agteruitgang na 1816 (Cachet 1866:7,9,18,23,25,36,41). Hy huiwer nie om die beskrywing "Nederduits" te gebruik nie, maar sy klem lê op die gereformeerdheid van die "Nederduitse Gereformeerd". Op dié kerk se aanvaarding van die belydenisse van die Dordtse Sinode van 1618-1619 - die Drie Formuliere van Eenheid3- wat in Suidelike Afrika op die verspreiding van die Dordts-gereformeerde tradisie in hierdie wêreld sou volg. Cachet noem die NG Kerk 'n "tak" van die Gereformeerde Kerk in Nederland "gelyk die verklaard is door de Dordtse Synode, getrouw in de leer en zooveel as mogelijk in de praktyken dier Kerk" (Cachet 1866:22).

Dit is op die keuse van die NG Kerk in die ZAR in 1866 vír hierdie soort gereformeerd wees - téén hervormd wees - dat in hierdie artikel gefokus word. Wat was die verskil in betekenis van die begrippe "hervormd" en "gereformeerd" vir Christene op die Nederlandse (die nederduitse vir die sogenaamde lae lande noordwes van Duitsland, Strauss 2016:224) gereformeerde trajek in daardie jare? Watter geloofs- en emosionele waarde en plek het hierdie begrippe vir destydse Afrikaners gehad? Hoekom het dit tot kerklike verdeeldheid en - met die tong in die kies - sambokslae (kyk voetnoot 2) gelei? Sou iets daarvan vandag nog naleef?

Sake wat in die visier kom, is die volgende: waar kom die naam die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR van die negentiende eeu vandaan? Watter konnotasies gaan gepaard met die term "hervormd" in sy toenmalige kerkhistoriese konteks in Nederland, negatiewe assosiasies wat hierdie begrip onder mede-gereformeerdes in Nederland én in die NG Kerk in Suid-Afrika verdag sou maak? Watter rol het predikante gespeel in die keuse vír of téén "hervormd" of "gereformeerd" en die kerklike verdeeldheid wat daarop in die ZAR gevolg het? Vir gelowiges wat die Apostolicum ("ek glo aan 'n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges") sowel as die Drie Formuliere van Eenheid ernstig opneem, is die eenheid van die kerk immers kosbaar. Daarom moes die kwessies wat destyds tot twee kerkverbande gelei het, oor kern- of ernstige en nie randsake nie, gehandel het.

 

NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK

Oor die onstaan van die Nederduitsch Hervormde Kerk in die 1850's word daar steeds verskil. 'n Uitgebreide literatuurlys wat om die kwessie van "hervormd" en "gereformeerd" draai en watter van die twee kerke, die Nederduitse Gereformeerde of Nederduitsch Hervormde Kerk, 'n voortsetting van die kerk onder die Voortrekkers van 1835-1840 en vroeër sou wees - selfs vanaf 1652 - illustreer die punt.4 Daarom skets hierdie artikel slegs enkele verwikkelinge met een oogmerk: waar kom die Nederduitsch Hervormde Kerk teenoor die Nederduitse Gereformeerde Kerk vandaan? Kom dit uit die NG Kerk in 1865-1866 of het die weë van die twee kerke andersins uitmekaar geloop? Die mikpunt is nie om omstrede kwessies op te los of kritiese vrae te ontketen nie. Historiese spronge word gemaak om aan te toon dat die keuse vir óf "hervormd" óf "gereformeerd" teen 1866 'n hete twispunt in die ZAR was. Die eintlike tema van hierdie artikel handel oor die NG Kerk van die ZAR se keuse in 1866 vir "gereformeerd" in sy naam én die redes vir sy voortgang binne 'n eie sinodale verband.

Tot met die afloop van die Groot Trek rondom 1840 en die vestiging van 'n nuwe "Afrikander-" of Boeregemeenskap (Giliomee 2003:22-23) in die ou Vrystaat (later Republiek van die Oranje-Vrystaat), Transvaal (later ZAR) en Natal teen omstreeks 1850, het daar een kerk onder Afrikaners bestaan: die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Hierdie kerk of kerkverband volg op die vestiging van die NG Kerk in Suid-Afrika of aan die Kaap - 'n benaming, naas 'n ander naam of twee, wat gereeld vir hierdie kerk gebruik en by die Kaapse Sinode van 1842 amptelik aanvaar is (NGK van ZA 1842:199). In die Vrystaat en Natal is nuwe gemeentes van verhuisers of emigrante sonder slag of stoot of 'n besluit van 'n kerkvergadering, in die Kaapse sinodale verband opgeneem omdat hulle vanuit gemeentes in die Kaapkolonie getrek het en in nuwe gemeentes hulle lidmaatskap van 'n NG gemeente wou behou. As doop- en belydende lidmate was hulle die NG Kerk op trek. Die gemeentes en latere kerkverbande wat in die Vrystaat en Natal ontwikkel het, het dit onder die naam van die NG Kerk gedoen (Van der Watt 1977:122-123, 128). Nuwe gemeentes in die Vrystaat en Natal is gevorm en, waar nodig, na 1850 in 'n ring en die Kaapse Sinode opgeneem. Dit was 'n normale uitbreiding van die NG Kerk deur lidmate wat van woonplek verander het. Dieselfde patroon is sedert die 1700's gevolg met die uitbreiding na die ooste en noordooste van die Kolonie deur die trek van veeboere - ook uit NG gemeentes - op soek na weiveld vir hulle vee (Strauss 2011:265-276). Die opvatting was dat kerklike grense nie deur staatkundige grense bepaal word nie, maar deur die Christelike geloof wat as dié faktor die kerk oor staatsgrense heen bind. Al sou die grense van gemeentes as geloofseenhede waarin die geloof sake moet bepaal, ook geografies-fisies vasgestel word - iets wat onafwendbaar en nodig vir 'n effektiewe bediening is (Strauss 2016:215). Die ongelukkige uitspraak van die Kaapse Hooggeregshof in die Loedolff-saak in 1862 is egter so vertolk dat Ordonnansie 7 van 1843 die NG Kerk in Suid-Afrika (in die Kaapkolonie) in sy gemeentes en sinodale verband tot die staatsgrense van die Kolonie beperk (Van der Watt 1973:25-46). Die Loedolff-uitspraak was in beginsel foutief omdat kerkgrense nie deur staatsgrense beperk kan word nie, maar gekoppel moet word aan die kerkeie vraag hoeveel lidmate 'n sinvolle gemeente en hoeveel gemeentes 'n sinvolle verband in 'n sekere gebied of gebiede kan vorm (Cachet 1866:7; Van der Watt 1973:127-138).

Die uiteenloop van die NG Kerk en NH Kerk in die Overvaalse gebied of noord van die Vaalrivier na 1850 sou egter met 'n anderse hantering van die NG gemeentes in hierdie geweste as dié in die Vrystaat en Natal kom. In hierdie verdeling sou drie gebeure uitstaan: die mislukte inlywing van die NG gemeentes in die ZAR by die Kaapse Sinode in 1852-1853; die benaming van die staatskerk in artikel 20 en 23 van die Transvaalse of ZAR-Grondwet van 1855-1858 as "Nederduitsch Hervormde Kerk" en die vorming van 'n eie sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR ongeveer 1866 (Cachet 1866:16-18; Gerdener 1930:322-335; 582-586; Gerdener 1934:249-263; Dreyer 1999:122-123, 127).5

Die Kaapse Sinode van 1837 het hom negatief oor die Groot Trek uitgelaat. Die emigrasie het volgens die Sinode sonder charismatiese leiers soos 'n Moses en 'n Aäron en 'n beloofde land soos Kanaän plaasgevind. Boonop wil die emigrante, aldus die sinode, hulle nie aan hulle wettige owerheid, die Britse owerheid aan die Kaap, onderwerp nie - 'n tugwaardige sonde wat indruis teen die 5e gebod (herderlike brief in Dreyer 1929:3-4; vgl Strauss 2015:274-289). Teen 1843 met 'n besoek van A. Faure, aktuarius of kerkordeman van die Kaapse Sinode aan Natal, het dit egter geblyk dat stemme nou in die Kaapse Sinode opgaan dat die Groot Trek 'n emigrasie en nie 'n onwettige, onBybelse daad was nie (verslag Afvaardiging van ds A Faure na Natal, in Dreyer 1929:40-73; Van der Watt 1977:49-50). In 1850 het die Kaapse Sinodale Kommissie besluit om die gemeentes in die Oranjerivier "Souvereiniteit" en Natal in te deel in die Ring van die Transgariep - 'n Ring binne die Kaapse Sinode aan die oorkant van die Gariep- of Oranjerivier. Teen die agtergrond van hulle emigrasie en die eenheid in belydenis, kerkregering en tradisie was hierdie stap kerklik verantwoord en natuurlik (Van der Watt 1977:98). Daarmee is die weg ook vir die Overvaalse gemeentes gebaan om op 'n soortgelyke wyse by die Kaapse Sinode in te skakel. Hulle verhouding met die Kaapse NG Kerk het kerkregtelik nie hiervan verskil nie (Strauss 2015:287).

Die verhouding van die gemeentes in die ZAR met die Kaapse Sinode sou egter anders verloop. Soos genoem, sou veral drie uitstaande gebeure aanleiding gee tot hierdie saak.

 

DRIE SAKE LEI TOT DIE ONTSTAAN VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK

Die eerste gebeurtenis was die besoek van die derde deputasie uit die Kaapse Sinode in hierdie jare, di. JH Neethling van Prins Albert en Andrew Murray van Bloemfontein, aan die NG Kerk-gemeentes in die ZAR in 1852. Murray kom uit die NG Kerk in Bloemfontein wat van buite die Kolonie op daardie stadium reeds deel van die Kaapse Sinode was (Gerdener 1934:244). Op die versoek van 'n gekombineerde kerkraadsvergadering in Mei 1852 op Potchefstroom dat die besoekers hulle van 'n vaste predikant voorsien, vra die deputasie of die gemeentes in die ZAR by die Kaapse Sinode sou bly en die pos van 'n toekomstige leraar, ten opsigte van besoldiging, van owerheidsweë gewaarborg word. Uit die toeligting van die deputasie tydens die vergadering val twee sake op. Eerstens word van die Kaapse Sinode as die "Synode der Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika" gepraat (aanhaling in Gerdener 1934:247). 'n Naam wat 'n dekade later dikwels deur ds. F. Lion Cachet vir die NG Kerk teenoor "hervormd" gebruik word en in hierdie tyd skynbaar ook in die kerklike omgang gebesig is. 'n Naam wat verbind word aan die ou Gereformeerde Kerk in Nederland voor 1816.

Tweedens wys Neethling daarop dat sodanige leraar onder geen ander staatsowerheid kan dien as die owerheid van die ZAR nie. Die Kaapse Sinode wil hom ook nie bemoei met die "Burgelijke belangen dezer gewesten" nie. Skynbaar was daar by lidmate van die Gereformeerde Kerk in die ZAR 'n vrees vir inmenging van die Britse owerheid in die ZAR onder die dekmantel van die Kaapse NG Kerk: 'n anti-Britse Regeringsingesteldheid wat van voor die Groot Trek kom en wat 'n dryfveer vir staatkundige en kerklike onafhanklikheid in die ZAR was. Trouens, 'n anti-Britse gevoel wat hulle op hierdie stadium dieper geroer het as die keuse vir "hervormd/gereformeerd". Dit het daartoe gelei dat hulle die stryd oor laasgenoemde aan meer kundige predikante oorgelaat het. Vir lidmate in die breë kon 'n kerk met 'n sigbare Britse sentiment - soos die Kaapse Sinode van 1837 met sy kritiek op die Trek (Strauss 2015:280-282) - bevorderlik vir 'n verwerplike Britse inmenging wees. 'n Vrees en 'n emosie onder lidmate wat 'n realiteit was.

Die deputasie gee egter hulle goedkeuring aan die gebruik dat die Volksraad die besluite en beroep van 'n predikant deur kerkvergaderings goedkeur. Die deputasie en gekombineerde kerkvergadering stel mekaar met hulle standpunte oor en weer tevrede. Die gekombineerde kerkraadsvergadering van Mei 1852 wat reeds hierdie weg ingeslaan het, vra dus om by die Kaapse Sinode ingeskakel te word. Die volgende dag keur die Volksraad van die ZAR hierdie verloop van sake goed. Hoewel ander dele van die NG Kerk in die Transgariep sonder enige besluit by die Ring van die Transgariep en die Kaapse Sinode ingeskakel het, word die gemeentes in die ZAR deur die deputasie gevra om hulle hieroor uit te spreek. Neethling en Murray wou daarmee die kerklike posisie van 'n toekomstige leraar - en sy band met die Kaapse Sinode - bevestig. Tog laat hulle so die indruk dat die NG Kerk in die ZAR "nee" kon sê vir inskakeling by die Kaapse Sinode (Gerdener 1934:244-248; Van der Watt 1977:55-57).

Bykans 'n jaar later, op 8 Augustus 1853, word die versoek van die ZAR-gemeentes om inskakeling by die Kaapse Sinode, by 'n Algemene Kerkvergadering te Rustenburg teruggetrek. Dié besluit word óók deur die Volksraad bekragtig. Die Algemene Kerkvergadering kom byeen onder nuwe omstandighede. Na sy aankoms uit Nederland in Kaapstad word teologiese student Dirk van der Hoff op 9 November 1852 as 'n proponent in die NG Kerk gelegitimeer en vir die ZAR geoormerk. Op 6 Junie 1853 word hy tot leraar van die NG gemeente Potchefstroom verklaar. Van der Hoff kom uit die Nederlandse Hervormde Kerk en word opgelei in Leiden. Op die Algemene Kerkvergadering van 8 Augustus 1853 word Van der Hoff die skriba nadat hy te kenne gee dat hy nie voorsitter wil wees nie. Hoewel hy aanvanklik inlywing by die Kaapse Sinode bepleit, word hy volgens eie getuienis eventueel oortuig dat dit nie sal deug nie. Nadat hy omgeswaai en "plegtiglijk" verklaar het dat inlywing by die Kaapse Sinode vir die NG Kerk-gemeentes in die ZAR ten opsigte van hulle onafhanklikheid nadelig kan wees, belowe hy om die saak van 'n afsonderlike kerkverband vir hierdie gemeentes te bevorder. In 'n algemene stemming word inlywing by die Kaapse Sinode daarna deur die vergadering verwerp. As redes word gegee dat die Kaapse Sinode nie 'n leraar aan die Kerk in die ZAR voorsien het nie en hierdie gemeentes hulle nie aan die "kerkelijke wetten" van die Kaapse Kerk kan onderwerp nie (Gerdener 1930:207-208).

Beide redes kom vreemd voor. Van der Hoff is juis op 9 November 1852 deur A. Faure, die Aktuarius van die NG Kerk in Suid-Afrika, vir gemeentes in die ZAR beroepbaar gestel. Daarby het die "vereenigde Kerkraadsvergaderingen" van die, let wel, "Nederduitsch-Gereformeerde Gereformeerde Gemeenten" in die ZAR, soos dit steeds in hierdie kringe genoem word, in Mei 1858 die Kaapse Wette en Bepalinge as grondslag en voorbeeld vir sy eie kerkwet gebruik. 'n Kerkwet wat byna 'n herhaling van die Kaapse Wette is en eers in 1863 deur die Volksraad aanvaar word. Die gewraakte Kaapse Kerkwet word dus vir ongeveer 10 jaar - van 1853 tot 1863 - nog in die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR gebruik (Gerdener 1930:632; Van der Watt 1977:69).

Ter verduideliking stuur die Algemene Kerkvergadering van die gemeentes in die ZAR op 2 September 1861 aan die Kaapse Sinode sy wens om 'n "eigen bestuur (te) hebben wil" - hy wil (immers) kerklik-organisatories onafhanklik wees - maar ook susterskerkbetrekkinge met die NG Kerk in Suid-Afrika behou (Van der Watt 1977:72). Die besluit vir kerklik-organisatoriese onafhanklikheid sowel as die naam van die staatskerk van die ZAR in die Grondwet van 1855-1858 as die Nederduitsch Hervormde Kerk, sou die eie kerkwees van hierdie kerk verseker.

In die tweede gebeurtenis kom die amptelike uitspel van die naam van die onafhanklike Hollands-Gereformeerde Kerk in die ZAR nie van 'n kerkvergadering nie, maar uit die Grondwet van die ZAR van 1855-1858, artikel 20. 'n Benaming waarby die lidmate van hierdie kerk met verloop van tyd sou inval. In artikel 20 van die Grondwet word die kerk van "dit land" aangedui as die Nederduitsch Hervormde Kerk (Cachet 1866:17). Dit wil egter voorkom asof beide name - Nederduitse Gereformeerde (of net Gereformeerd) én Hervormd - in politieke en kerklike kringe in die ZAR in gebruik was, selfs na die aanvaarding van die Grondwet in 1850-1858 (Van der Watt 1977:73). Van der Watt toon aan dat nóg die staat, nóg die kerk in die ZAR op hierdie naam in artikel 20 van die Grondwet besluit het. Die naam moet "eerder gewyt" word aan Jacobus Stuart, 'n Nederlander wat met die opstel van die Grondwet "belas was". Die naam "Hervormde Kerk" was in ooreenstemming met dié van die kerk van Dirk van der Hoff, aanvanklik die enigste predikant in die ZAR, in Nederland. Volgens Van der Watt het die owerheid van die ZAR na 1855 byna sonder uitsondering na die Hervormde Kerk verwys, terwyl Van der Hoff self hom tot in die laat 1850's - in kerklike korrespondensie - van die naam "Nederduitsche Gereformeerde Kerk" bedien het (Gerdener 1930:632;651,672,676). In 1859 ageer Van der Hoff as praeses en skriba van die Algemene Kerkvergadering van die - nou werklik - Nederduitsch Hervormde Kerk (kennisgewing deur Van der Hoff op 28 Junie 1859 in Gerdener 1930:672-673). Wat in die ZAR egter tot 'n groot mate onbekend was, was dat "Hervormd" in Nederland - soos in die staatkundig vasgestelde Algemene Reglement van 1816 wat met die naam Hervormde Kerk aan die ou Gereformeerde Kerk opgedwing is - aan die invloed van die Franse Besetters van 1795 met hulle denke uit die Franse Rewolusie van 1789 toegeskryf word en onder gereformeerdes as gelade beleef is (De Jong 1985:308; Cachet 1866:19). Daarop kom ons terug.

In die derde gebeurtenis reël Cachet, op grond van sy konfrontasie met die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk in 1865, in Desember 1866 vanuit die Nederduitse Gereformeerde Kerk Utrecht aldaar 'n Algemene Kerkvergadering van die Ned Geref Kerk in die ZAR. Agt gemeentes word verteenwoordig. Teenoor die Nederduitsch Hervormde Kerk as staatskerk verklaar hierdie vergadering dat hulle verenig onder

een kerkbestuur als de Nederduitsch Gereformeerde Kerk in de Z.A. Republiek, terwijl wij de Nederduitsch Gereformeerde Kerk in de Kaapkolonie beschouwen als onze moederkerk in Afrika - dat wij in de leer zullen vasthouden aan den Bijbel, het Woord Gods, en dienvolgens streng zullen handhaven de Formulieren van Enigheid der Geref Kerk als vastgesteld in de Synode van Dordrecht 1618-1619, en in de Lithurgie en openbare Godsdienstoefening ons blijven regelen naar die gebruiken der Ned Geref Kerk in Kaapkolonie. (Notule in Gerdener 1930:332-335; Gerdener 1934:306)

Dieselfde vergadering verklaar dat 4 Desember voortaan as 'n kerklike feesdag vir die "vereeniging onzer gemeenten in de Republiek" herdenk sal word. Die verhouding van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR met die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (GKSA) is "eene vriendschaplijke" (notule in Gerdener 1930:333). Met betrekking tot die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR sê die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR egter

Dat de deur onzer kerk zoo wijd als mogelijk geopend is voor de leden der Ned. Herv. Kerk die getrouw willen blijven aan hunne moederkerk. (Notule in Gerdener 1930:334.)

Waar die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR na ongeveer 7 jaar 'n vriendskaplike toon teenoor die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (GKSA), wat in 1859 uit die Hollands-Gereformeerde Kerk in die ZAR gevorm is, aanslaan, toon hy 'n afwysende houding teenoor die Nederduitsch Hervormde Kerk. Die klem wat Utrecht-1866 op die Drie Formuliere en die Sinode van Dordrecht van 1618-1619 plaas, verklaar waarskynlik ook sy vriendeliker houding teenoor die GKSA wat vir dieselfde sake bekend is (Gerdener 1930:660-661; Van der Watt 1977:84).

Hierdie houding by die eerste Algemene Kerkvergadering van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR, word in 'n meer verstaanbare perspektief geplaas as Cachet en kie. se botsings met die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR in 1865 in ag geneem word. Botsings wat 'n skerp verskil tussen die twee partye oor die terme "gereformeerd" en "hervormd" openbaar en die sake in meer besonderhede uiteensit.

 

DIE BOTSINGS VAN 1865

Die botsings waarna verwys word, vind by twee geleenthede plaas: die vergadering van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR op Rustenburg op 26-28 Junie 1865 en die Algemene Kerkvergadering op 20 November 1865 in Pretoria (notules in Gerdener 1930:263,269: vgl Cachet 1866:12,14).

Op die vergadering van die Kommissie lê Cachet, naas minder omstrede sake, twee groot kwessies voor. Kwessies wat Utrecht se verhouding met die Nederduitsch Hervormde kerkverband vertroebel. Die eerste is die naam Nederduitsch Hervormde Kerk wat "op geene wettige wijze" in plaas van Nederduitse Gereformeerde Kerk vir die kerk gebruik word en die tweede die afwesigheid van 'n aanduiding van die belydenisskrifte van hierdie kerk in sy kerkwet. Sy vraag is: wat is die belydenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk? Beide sake word na die Algemene Kerkvergadering wat 20 November 1865 in Pretoria plaasvind, verwys (notule in Gerdener 1930:263-265).

By die Algemene Kerkvergadering word die twee afgevaardigdes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Lydenburg wat beswaar maak teen die naam Hervormd, ten aanvang van hulle sittingsreg ontneem en gevra om die vergadering te verlaat (notule in Gerdener 1930:269).

Volgens die sakelys moet die "zaak van Ds. Cachet" (Utrecht) hier behandel word. Cachet wys egter daarop dat dit nie oor sy saak nie, maar dié van die "Geref. Gemeente Utrecht" en die "Gereformeerde Kerk in de Republiek" gaan (notule Gerdener 1930:271; die naam "Geref Kerk in de Republiek" nie in notule, maar in Cachet 1866:16). Selfs op hierdie punt besig hy "gereformeerd" as 'n gebruiksnaam. Daarmee sluit hy aan by die gewoonte om van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika net as die Gereformeerde Kerk te praat.

Cachet begin met die kwessie van "hervormd" of "gereformeerd". Hy stel die ou Gereformeerde Kerk en die goue 17e eeu - kerklik en staatkundig - in Nederland téénoor die Nederduitsch Hervormde Kerk na die Franse besetting in 1795. 'n Oorname wat sy invloed op die Gereformeerde Kerk laat geld het en tot die Nederduitsch Hervormde Kerk in 1816 aanleiding gee. Aangespoor deur die vryheid van die Franse Rewolusie het daar, aldus Cachet, toenemende vryheid in die "Hollandsche Kerk" ingetree wat tot losbandigheid in leer en lewe en selfs ongeloof gelei het (in notule in Gerdener 1930:271).

'n Paar maande later voeg hy by dat groot afval in Nederland op die politieke omwenteling van 1795 gevolg het toe die koninklike Huis van Oranje deur die Franse uit "Holland" verjaag is. Holland het 'n provinsie van Frankryk geword. Die situasie is beëindig toe Napoleon in 1813 verslaan en Prins Willem VI koning gemaak is. Die Franse vryheid, gelykheid en broederskap het in die Kerk tot 'n "begeerde leervryheid" téénoor 'n gebondenheid aan die "leer" (Cachet verwys na die leer of geformuleerde geloof in die Drie Formuliere, NGK 1998:414,465,517,520) van die Drie Formuliere van Eenheid gelei. 'n Begeerte na gelykheid en broederskap met "anders denkenden" het ook ontwikkel. Broederskap is selfs met die Remonstrante gesoek wat deur die Sinode van Dordrecht en die Dordtse Leerreëls in 1619 met die leer van die uitverkiesing en volharding van die gelowiges, skerp veroordeel is. In 1816 is die Gereformeerde Kerk deur die staatsowerheid herbenaam as die Nederduitsch Hervormde Kerk met 'n "uitwendige kerkregeling" (die Algemene Reglement van 1816) van owerheidsweë wat hom in sy kern skerp van die "oude Gereformeerde Kerk des lands" onderskei het. Cachet meen dat die nuwe ondertekeningsformulier van die Hervormde Kerk wat die belydenisskrifte onderskryf as "zoo ver die met Gods Woord overeenkwamen" en nie omdat die leer in hierdie stukke vervat ooreenkom met die Woord nie, tot leervryheid lei. Elke leraar kan self bepaal watter deel van hierdie geskrifte Skriftuurlik is en watter nie. 'n Vryheid wat Cachet ook in die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR waarneem - daarop kom ons terug. Teen hierdie agtergrond wou die Christelik Afgeskeie Gereformeerde Kerk wat in 1834 uit die Nederduitsch Hervormde Kerk kom, teruggryp op die besluite van die Dordtse Sinode van 1618-1619. Die Afgeskeie Kerk kon hom nie vereenselwig met die rigting in die nuwe Hervormde Kerk wat hom in 'n gewaande Christelike vryheid wil losmaak van die sogenaamde knellende juk van die Dordtse vaders - teenoor kerklike vryheid - nie (Cachet 1866:19-21).

Cachet wys daarop dat die predikante van die Hervormde Kerk in die ZAR aanvoer dat "gereformeerd" en "hervormd" in Nederlands sinonieme is. Dit is volgens hulle nie belangrik of die kerk "gereformeerd" of "hervormd" genoem word nie. Binne die voorafgaande konteks is die verskil vir Cachet egter nie "woorden zifterij" nie. Die naam Nederduitsch Hervormde Kerk word in die 1860's openlik geassosieer met die geestelike verval van die kerk in Nederland en staan direk teenoor die Dordts-gereformeerde tradisie met sy Drie Formuliere van Eenheid en ander kerklike reëlings (Cachet 1866:18).

Op sy vraag op die Algemene Kerkvergadering waar die Kerk wat alleen by magte is om sy eie naam te kies, besluit het om "Nederduitsch Hervormd" as naam te aanvaar en of die "Gouvernement" die Kerk van die verandering soos weerspieël in die Grondwet van die ZAR, in kennis gestel het, deel die voorsitter, ds Smits, Cachet mee "dat dit niet uit de notulen bleek". Smits beweer dat die Volksraad van die ZAR die naam verander het na 'n debat van drie ure en nie, soos deur sommige ontevredenes beweer, deur ds. Dirk Van der Hoff, die predikant van die Gemeente Mooirivier nie (Cachet 1866:17-18).

Cachet se voorstel dat die vergadering die naam Nederduitse Gereformeerde Kerk teenoor Nederduitsch Hervormd aanvaar, word egter met algemene stemme verwerp. Daarteenoor word Smits wat aan die woorde "hervormd" en "gereformeerd" dieselfde betekenis toeken, se voorstel dat die vergadering bly by Nederduitsch Hervormde Kerk, met algemene stemme6 aanvaar (notule in Gerdener 1930:272). Die "Hollandse" dominees beïnvloed die debat en die besluit is dus beslissend.

Hoe sterk Cachet teen die naam "Hervormde Kerk" gekant was, sou 'n jaar later in sy publikasie oor hierdie gebeure onderstreep word. Hierin beweer Cachet dat Gods Woord deur Hervormde dominees en godsdiensonderwysers "straffeloos" verdraai word: dat hulle leer dat die Bybel nie Gods Woord is nie, maar Gods Woord in die Bybel gevind word; dat Christus nie waarlik God is nie; dat wedergeboorte deur die Heilige Gees net sedelike verbetering is; dat daar geen uitverkiesing of ewige verwerping soos by Dordt geleer, is nie; en dat van hierdie onderwysers en predikante die onBybelse amp van 'n apostel van die ongeloof, beoefen. Volgens Cachet huisves die Nederduitsch Hervormde Kerk 'n minderheid "leeraars en leden" wat aan die waarheid getrou is en hulle nie oorgee aan leervryheid, bandeloosheid, ongeloof en goddeloosheid nie (Cachet 1866:21). Sterker taal teenoor 'n kerk kan kwalik gebesig word

Hiermee kies Cachet en Utrecht vir gereformeerd teenoor hervormd. Teen hierdie agtergrond en in die skerp taal van 'n bekeerde Hollandse Jood, asook ander gereformeerdes uit die Afskeiding van 1834 in Nederland of lidmate in die ZAR wat na 1866 betrokke is by die herstel van die Nederduitse Gereformeerde Kerk as die "Gereformeerde Kerk", kon dit kwalik anders. In sy antwoord op die vraag van Smits op die Algemene Kerkvergadering van 1865 oor waar Utrecht aan "Nederduitse Gereformeerde Kerk" kom, voer Cachet aan "dat Utrechts Gereformeerde Kerk [NB] onder de Kaapsche synode ressorteerde" en daarom geen ander naam as Nederduitse Gereformeerde Kerk sal dra nie (notule in Gerdener 1930:272).

 

DIE BOTSINGS VAN 1865: OMDAT OF IN SOVERRE AS?

Die hantering van die leer of belydenis in die gereformeerde Drie Formuliere van Eenheid deur die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR of staatskerk, sou ook op die Algemene Vergadering van November 1865 tot 'n botsing tussen Cachet en sy medestanders lei.

Na afloop van die bespreking van die naamkwessie, stel Cachet die vraag: "Welke is de Belijdenis der Ned. Herv. Kerk alhier?" Hy sien met verbasing dat die belydenisse nie in die reglemente van die Nederduitsch Hervormde Kerk opgeneem is nie. Die vereniging van Utrecht met die Nederduitsch Hervormde Kerk van die ZAR staan of val immers by laasgenoemde se hantering van die Drie Formuliere van Eenheid. Die NH predikant van Pretoria, ds Van Warmelo (Cachet 1866:10), is volgens Cachet juis nie deur die Kaapse aktuarius gelegitimeer en dus amptelik gebonde aan die belydenisskrifte nie.

Die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, ds. Smits van Soutpansberg, antwoord hierop dat die belydenis van die kerk in artikel 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis "duidelijk uitgedrukt staat". Hierdie artikel gaan oor die volkomenheid van die Skrif wat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, bevat (Notule in Gerdener 1930:272-273; NG Kerk Uitgewers 1982:11). Die artikel verwys egter slegs na die genoegsaamheid van die Skrif ten opsigte van die leer van die saligheid, terwyl die ander belydeniskwessies ontbreek.

Cachet noem hierdie antwoord tereg "ongenoegsaam". Sy vraag bly: is die Nederduitsch Hervormde Kerk gebou op die gereformeerde belydenisskrifte en handhaaf hy dit? Op die ou end kom Cachet met 'n voorstel wat op die Dordtse ondertekeningsformulier geskoei is (vgl Strauss 2006:651-652) en die Drie Formuliere erken as "in alles met Gods Woord overeen te komen". Volgens die notule van die vergadering word dieselfde bewoording in 'n ondertekeningsformulier in die Nederduitse Gereformeerde Kerk van die Vrystaat gebruik. Van der Hoff reageer negatief met die standpunt dat hy by die Nederlands-Hervormde formulering van steun aan die belydenisskrifte in soverre as wat dit met die Skrif ooreenstem, bly. Ook Smits en Begemann weier om Cachet se formule te onderteken terwyl die ouderlinge en diakens, volgens notule, erken dat hulle onbekend is met die leer van die uitverkiesing in die Dordtse Leerreëls. Die skriba (Van der Hoff, Gerdener 1930:274?) voeg sy subjektiewe indrukke by: "Het blijkt dat de leer bij allen aan zwarigheid lijdt". Die voorstel van Cachet word eventueel met algemene stemme verwerp en Smits se antwoord op Cachet se vraag, algemeen aanvaar (notule in Gerdener 1930:273).

Wat Cachet betref, werp die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR ten opsigte van Utrecht hiermee die teerling: 'n onaanvaarbare naam vir die Gereformeerde of Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR én 'n onaanvaarbare hantering van die Drie Formuliere van Eenheid as belydenisskrifte. Laasgenoemde is 'n kernsaak van gereformeerde kerkwees in een kerk- of sinodale verband. 'n Saak waarop Cachet ook in sy voorlegging wys. Hy beloof nietemin om 'n notule van die Algemene Kerkvergadering aan sy kerkraad voor te lê en die Algemene Kerkvergadering van die antwoord van laasgenoemde te voorsien (notule in Gerdener 1930:274).

Wat opvallend is, is dat beide partye onbeweeglik hakke ingeslaan het by hulle bekende standpunte en geen poging aanwend om op 'n modus operandi vir kerkeenheid tussen kerke van, ten minste formeel, dieselfde belydenis te besluit nie. Die teenwoordige ouderlinge en diakens se onbekendheid met die Dordtse Leerreëls én houding van die Dordtse Sinode van 1618-1619 oor die Drie Formuliere kon egter ook dié van Utrecht se ouderlinge en diakens gewees het. Dit beteken dat Cachet se inisiatiewe, leiding en publikasie (uitgegee deur die Kerkraad van Utrecht, Cachet 1866:2) in 1865-1866 en die standpunte van Van der Hoff en Smits op die Algemene Kerkvergadering van 1865, daarop dui dat die optrede van predikante in hierdie botsing beslissend was. 'n Nederlandse verskil soos in hierdie artikel geïllustreer, is eenvoudig op die kerk in die ZAR oorgeplant. Die gevolg was 'n ongelukkige verdeeldheid.

 

DIE ANTWOORD VAN DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK IN DIE ZUID-AFRIKAANSCHE REPUBLIEK IN 1866

Uit 'n Dordts-gereformeerde hoek beskou het Cachet ten opsigte van die naam van die Kerk en die handhawing van die belydenis gelyk gehad. In sy betoog by die Algemene Kerkvergadering van November 1865 toon hy aan dat die naam "Hervormd" na 1816 in Nederlandse of Nederduitse gereformeerde kringe - soos in die ZAR - belas en omstrede is. Daarby is die steun aan die belydenisskrifte "in soverre as" wat hulle met die Bybel ooreenstem, nie Dordts- of Nederduits-gereformeerd nie, maar 'n skuiwergat vir indiwiduele leervryheid en -dwaling. Naas die naam van die kerk as 'n sekondêre kerklike saak, is die verskille met die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR oor die Drie Formuliere beslissend negatief vir die vorming van een kerkverband vir die Nederduitsch Hervormde en Nederduitse Gereformeerde Kerk. In beide sake sou die NG Kerk deur sy Algemene Vergadering van 3 Desember 1866 op Utrecht, en téénoor die NH Kerk in die ZAR, aansluiting soek en vind by die Kaapse Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Die wolk van die Loedolff-saak in die Kaapse Hooggeregshof van 1862 sou hom egter tot 'n eie, selfstandige kerk- of sinodale verband teenoor die Nederduitse Gereformeerde Kerk(e) buite die ZAR beweeg.

Soos hierbo aangetoon, word agt gemeentes op die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR op 3 Desember 1866 verteenwoordig. Op die spoor van die gereformeerde beginsel dat kerkverband 'n verband van gemeentes is en hierdie gemeentes deur middel van hulle afgevaardigdes in meerdere vergaderings saamtrek, bepaal hierdie vergadering ten aanvang dat 'n stemming gemeentelik en nie indiwidueel nie, sal wees. Die doel van die vergadering is immers die vereniging van "onzer verstrooide gemeenten, onder een kerkbestuur, op grond van Gods Woord en de Formulieren van Eenigheid der Geref. Kerk" (notule in Gerdener 1930:332). Wat hulle met die woord "verstrooid" wil sê, is dat die vergadering byeenkom na 'n geskiedenis van stryd en omstredenheid. 'n Stryd wat seergemaak en uiteengedryf het.

Hierdie uitdruklike "gereformeerde" benadering van gemeentelike stemminge word beklemtoon in 'n verklaring wat die vergadering maak.

Volgens die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR bestaan hy selfstandig op grond van die Kaapse Hofuitspraak in 1862. Hierdie vergadering in kerkverband is, gereformeerd gesien, 'n vergadering van gemeentes deur middel van hulle afgevaardigdes (Strauss 2010:63-65). Die vergadering beskou die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Kolonie as "onze moederkerk in Afrika", wil ten opsigte van die leer aan die Bybel as Woord van God vashou (die sola scriptura van die Reformasie) én die gereformeerde "Formulieren van Eenigheid der Geref. Kerk " vasgesteld in de Synode van Dordrecht 1618-19", handhaaf. Hy bly ook by die liturgie van die Nederduitse Gereformeerde Kerk "in de Kaapkolonie". Voorts handhaaf hy die Evangeliese Gesange soos in gebruik en beoog hy nie 'n nuwe sangbundel nie. Bowendien sal geen ander Bybelvertaling as die Statevertaling van 1633 in hierdie kerk "worden geduld". Hy erken die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Kaap, Vrystaat en Natal as susterskerke of naaste kerkfamilie en wil die kontak met hulle lewendig en vrugbaar hou (notule in Gerdener 1930:333-335).

Hiermee gee die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR in 1866 'n profiel van homself wat klop met die standpunte van ds. Cachet oor "gereformeerd" in die stormagtige aanloop tot hierdie vergadering. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR kies vir "gereformeerd" teenoor "hervormd" omdat hy die Dordts-gereformeerde lyn én sy band met die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika of die Kaapkolonie - die ou Gereformeerde Kerk volgens Cachet - wil voortsit. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR van 1866 wil 'n gereformeerde kerk wees. 'n Kerk met sterk gereformeerde ondertone wat in hierdie tyd nie oral in die Nederduitse Gereformeerde Kerk gehoor word nie (Van der Watt 1980:27-38). Met Cachet aan die spits is die onverskilligheid teenoor die gereformeerde belydenis soos verwoord deur eksponente van die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR in 1865, nie aanvaarbaar nie én as sodanig 'n aanvaarde gereformeerde oorweging vir die vorming van 'n eie kerk. Die Nederlands Hervormde kleed waarmee dergelike eksponente in die gees of gedagtewêreld van mense soos Cachet geklee was, het sterk kerklike weerstand deur hulle teenoor "hervormd" ontlok. 'n Persepsie is jare lank gehuldig dat die Nederduitsch Hervormde Kerk "in soverre as"-mense teenoor ware gereformeerde "omdat"-mense was, en dat die Nederduitsch Hervormde Kerk nie werklik Dordts-gereformeerd is nie.

 

SLOT

In die twintigste-eeuse Nederduitsch Hervormde Kerk het daar 'n houding gegroei dat hulle liewer reformatories as Dordts-gereformeerd wil wees en dat die naam "gereformeerd" onaanvaarbare fundamentalistiese tendense omvat. In die vroeg-een-en-twintigste eeu kom die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika egter ooreen om lidmaatskap en predikantsopleiding wedersyds te erken en selfs predikante oor en weer te beroep (NGK 2011:139; Strauss 2014:103).

In die 1860's het die keuse tussen "gereformeerd" en "hervormd" in Suid-Afrika 'n keuse in óf die handhawing van die gereformeerde belydenis, gepaard met 'n positiewe houding teenoor Dordts-gereformeerde ontwikkelinge in Nederland, óf 'n keuse vir leervryheid beteken. Vir die voortsetters van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR wat in 1866 met 'n eie kerkverband en 'n algemene kerkvergadering kom, het hulle onder hierdie omstandighede geen ander keuse gehad nie. Hulle moes vír gereformeerd en dus die Nederduitse Gereformeerde Kerk óf, in ds Cachet se gebruiksterme, ou Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika kies. In albei gevalle was die kerke, eie aan gereformeerde kerke of kerke uit die Reformasie, pro-vaderland en pro-Reformasie ingesteld.

Artikel 20 van die Grondwet uit 1855-1858 van die ZAR het bepaal dat die Nederduitsch Hervormde Kerk die kerk van hierdie staat sal wees. Vryheid van geloof en godsdiens is egter gehandhaaf sodat hierdie artikel in praktyk nooit regtig geknel het nie. In die een-en-twintigste eeu het die destydse betekenis van "hervormd" en "gereformeerd" soos in die 1860's in die ZAR verstaan, vervaag en verval. Saam met ander nuwe faktore maak dit dit vir die Nederduitsch Hervormde Kerk en die Nederduitse Gereformeerde Kerk tans moontlik om as kerke meer saam te funksioneer, predikante oor en weer te beroep en lidmaatskap oor en weer te erken. Ten opsigte van 'n kernvraag in 1866, naamlik die wyse waarop die Drie Formuliere van Eenheid aanvaar word, verseker verteenwoordigers van hierdie kerke mekaar tans in gesprekke dat hulle nie verskil oor die oortuiging dat die Drie Formuliere van Eenheid in hulle, let wel, formulering van die geloof Skriftuurlik is nie. Dit gaan hier immers om geloofsbelydenisse of uitdrukkings van die Christelike geloof (NGK 1998:414-415; Strauss 2015:101).

 

BIBLIOGRAFIE

Cachet, F.L. 1866. Verslag der handelingen van de gemeente Utrecht, in de zaak der voorgestelde vereeniging dier gemeente met de dusgenoemde "Hervormde Gemeenten" in de Republiek. Pietermaritzburg: Davis & Zonen.         [ Links ]

De Jong, O.J. 1985. Nederlandse Kerkgeschiedenis. Nijkerk: Callenbach.         [ Links ]

Dreyer, A. 1929. Die Kaapse Kerk en die Groot Trek. Amptelike en ander stukke versamel, van aantekeninge voorsien en uitgegee. Kaapstad: Van de Sandt.         [ Links ]

Dreyer, A. 1936. Boustowwe vir die geskiedenis van die Nederduits-Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Dreyer, W.A. 1999. Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Die eerste 250 jaar 1652-1902. Pretoria: Kital.         [ Links ]

Engelbrecht, S.P. 1953. Geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Pretoria: HAUM.         [ Links ]

Gerdener, G.B.A. 1930. Boustowwe vir die geskiedenis van die Nederduits-Gereformeerde Kerk in die Transgariep. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Gerdener, G.B.A. 1934. Ons kerk in die Transgariep. Geskiedenis van die Ned Geref Kerke in Natal, Vrystaat en Transvaal. Kaapstad: SA Bybelvereniging.         [ Links ]

Giliomee, H. 2003. The Afrikaners. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Ned Geref Kerk 1998. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn.         [ Links ]

Ned Geref Kerk 2011. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn.         [ Links ]

Ned Geref Kerk van ZA 1842. Handelingen Algemeene Synode. In: Ned Geref Kerk 1858. Handelingen van de Buitengewone (1837) en Algemeene Synode (1842). Kaapstad: Van de Sandt De Villiers.         [ Links ]

NG Kerk Uitgewers 1982. Ons glo Die Drie Formuliere van Eenheid en ekumeniese belydenisse.Kaapstad: NG Uitgewers.         [ Links ]

Scholtz, G.D. 1956. Die geskiedenis van die Ned Hervormde of Gereformeerde Kerk 1842-1885. Kaapstad: NG Kerk Uitgewers.         [ Links ]

Storm, J.M.G 1989. Die Voortrekkerkerk 1836-1853. Pretoria: Kital.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2006. Die Dordtse tradisie en binding aan die belydenis. In die Skriflig 40(4):649-666.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2011. Nogeens: watter kerk vergesél die Groot Trek? Acta Theologica 31(2):264-277.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2015. Gereformeerdes onder die Suiderkruis 1652-2011. Bloemfontein: Sun Media.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2016. Die naam "Nederduitse Gereformeerde Kerk". Acta Theologica 36(1):213-228.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2020. Kerk en orde vandag. Bloemfontein: Sun Media.         [ Links ]

Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek 1976. Kaapstad: Tafelberg (red W.J. de Kock).         [ Links ]

Swanepoel, F 2008. Lion-Cachet, Frans 1835-1899. Gaum, F (Hoofredakteur), Christelike Kernensiklopedie. Wellington: Lux Verbi, p. 667.         [ Links ]

Van der Watt, P.B. 1973. Die Loedolffsaak en die Ned Geref Kerk 1862-1962. Pretoria: RGN.         [ Links ]

Van der Watt, P.B. 1977. Die Ned Geref Kerk 1834-1866. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

Van der Watt, P.B. 1980. Die Ned Geref Kerk 1824-1905. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

 

 

 

PIETER JOHANNES STRAUSS word in 1988 'n dosent in Ekklesiologie of Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan sy alma mater, die Universiteit van die Vrystaat en tree op 30 Junie 2015 af. Benewens ongeveer honderd artikels in geakkrediteerde akademiese tydskrifte, het Strauss ook verskeie boeke geskryf. Hy spits hom toe op gereformeerde kerkreg en kontemporêre Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis, soos blyk uit onlangs verskene werke. In die kerkreg lewer Kerk en Orde vandag (2010), blyke van 'n reformatoriese deurwerk van die bekende Solas van die Reformasie van die sestiende eeu na vandag. Kerkwees in die branding - die Nederduitse Gereformeerde Kerk in algemene sinodale verband 1994-2011 (2013), verteenwoordig 'n kontemporêr kerkhistoriese werk vanuit 'n reformatoriese benadering.
Strauss was vir twee termyne, van 1999-2003 en 2005-2008, die moderator van die Vrystaatse Sinode van die Ned. Geref. Kerk. Hy beklee dieselfde amp by die Algemene Sinode, van 2007-2011. Hy is ook aktief op kultuurterrein en was vir 12 jaar, van 2001-2013, die hoofleier van die Afrikaanse jeugbeweging, Die Voortrekkers.
PIETER JOHANNES STRAUSS was appointed as a lecturer in Church Polity and Church History at the University of the Free State in 1988 and retired on 30 June 2015. Apart from some 100 articles in accredited academic journals, Strauss also authored a number of books. He focuses mainly on the topics of Church Polity and modern South African Church History, as can be seen in recently published works. In Church and Order today (2010) he argues that 3 Solas of the Reformation of the sixteenth century should also be accepted and implemented today, while in Being church in troubled times - the Dutch Reformed Church in the bond of its general synod 1994-2011 (2013), he uses a reformational approach in modern church history.
Strauss was moderator of the Free State Synod of the Dutch Reformed Church for the periods 1999-2003 and 2005-2007. He was also moderator of the General Synod of the same church in 2007-2011. In addition, he is actively involved in cultural events and, for 12 years (2001-2013), he served as leader of the Afrikaans youth movement, Die Voortrekkers.
1 Cachet (1866:24-25) toon aan dat die Volksraad van die ZAR die Nederduitsch Hervormde Kerk wat uit die Nederduits Gereformeerde Kerk as "kerk des lands" sou kom, in artikel 20 van die ZAR-grondwet van 1855-1858 tot staatskerk verklaar het. Die bedoeling was syns insiens nie 'n nuwe kerk nie, maar die erkenning van die NG Kerk onder die naam NH Kerk, as staatskerk. Volgens Cachet, en tereg, is die staatsowerheid regtens egter nie bevoeg om die naam van 'n kerk te verander nie. Omgekeerd kan die kerk ook nie aan die staat voorskryf wat sy naam moet wees nie. Die betrokke "Gouvernement" het die NG Kerk nie hieroor geraadpleeg of van die verandering in kennis gestel nie. Indien die Volksraad met NH Kerk "de oude Gereformeerde Kerk dezes lands" bedoel, sal hy ontdek dat lidmate anders voel: "wy wil bly by Nederduits Gereformeerd". Met die grondwet se "Hervormde Kerk" wil "wy
niets te maken hebben".
2 In 'n poging om op Marico kerk te hou, loop Cachet hom in 1868 in 2 houe met 'n sambok van kommandant Jan Viljoen vas. Hierdie voorval word later wyd bekend en noop Cachet om om te draai, SABW 1 (1976:150).
3 Hierdie belydenisskrifte is die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB, 1561), die Heidelbergse Kategismus (HK, 1563) en die Dordtse Leerreëls (DL, 1619) as gereformeerde belydenisskrifte wat op hulle beurt in NGB artikel 3 die 3 algemene of ekumeniese belydenisskrifte aanvaar naamlik die Apostolicum, Nicea en Athanasius. Laasgenoemde handel oor die vraag na God Drie-enig as die groot strydvraag in die eerste 5 eeue of vroeë kerk en eersgenoemde verteenwoordig 'n uitdrukking van die eenheid in geloof van die Gereformeerde Kerk en tipies van die stryd in die Reformasie, oor die soteriologie (NG Kerk-Uitgewers 1982).
4 Vgl Engelbrecht (1953); Storm (1989); Dreyer (1999); Gerdener (1930); Dreyer (1936); Scholtz (1956): Van der Watt (1977).
5 Gerdener (1930) publiseer gekontroleerde argiefstukke vir die geskiedenis van die NG Kerk in die Transgariep na afloop van die Groot Trek van 1835-1840 in sy Boustowwe vir die geskiedenis van die Nederduits-Gereformeerde Kerk in die Transgariep.
6 In die presensielys van hierdie Algemene Vergadering ontbreek die naam van die Gemeente Utrecht. Hierdie Ned. Geref. Gemeente - volgens eie bekentenis - was nie deel van die lede en stemgeregtigdes van hierdie Ned. Hervormde Kerkvergadering nie en daarom was dit moontlik dat Cachet se voorstel met algemene stemme verwerp kon word (notule in Gerdener 1930:269). Om dieselfde rede is die Lydenburgers, soos genoem, vroeër reeds die deur gewys.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License