SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue2Die ramp van Brexit author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.59 n.2 Pretoria Jun. 2019

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2019/v59n2a10 

TAALRUBRIEK

 

Nog klein jakkalsies

 

 

My vorige rubriek het ek afgesluit met "Dis die klein jakkalsies wat soms ʼn groot verskil kan maak!". In hierdie rubriek bespreek ek kortliks drie ander klein jakkalsies wat ek onlangs in die pers teëgekom het (in die pers sien ek dikwels sommer groot jakkalse ook, maar dit eers daar gelaat). Is dit dalk ʼn aanduiding van ʼn toenemende onvermoë by Afrikaansskrywendes om presies te onderskei?

1. Die eerste een handel oor ʼn eenvoudige, maar hier wesenlik belangrike, koppelteken in ʼn samestelling. Reël 12.7 in die Afrikaanse woordelys en spelreëls (2017) lui dat as die betekenisverhouding tussen die dele van ʼn samestelling weergegee kan word met en, of, per, tot, tussen of van ... tot, ʼn koppelteken tussen die dele geplaas word. Bekende voorbeelde van so ʼn en-betekenisverhouding is skriba-kassier en Khoi-San, want eersgenoemde beteken die betrokke persoon is skriba en kassier, en laasgenoemde dui daarop dat die bevolkingsgroepering die Khoi en die San insluit. Nog ʼn algemene geval is sê-vra, wat die WAT definieer as "tegelykertyd sê en vra, of op ʼn vraende manier sê".

Prof. Gerhard van Huyssteen, voorsitter van die Taalkommissie en gerekende Afrikaanse morfoloog, sê dié soort samestellings word "neweskikkende samestellings" genoem. Die twee lede word dus naas mekaar gelykgestel, op dieselfde vlak gestel.

In ʼn onregstreekse verwysing na juis die Khoi-San word toe in ʼn koerantartikel geskryf van "die jagterversamelaars van Afrika" - koppeltekenloos. Dit gee ʼn heeltemal ander betekenis aan die samestelling (en in dié bepaalde geval ʼn betekenis wat deur moedswilliges misbruik kan word). Vergelyk dit met byvoorbeeld seëlversamelaar, wat iemand is wat seëls versamel. Jagterversamelaars kan (moet?) dus vertolk word as iemand wat jagters versamel, wat klink soos ʼn gruverhaal uit ʼn koloniale tydperk of ʼn ander vorm van koppesnellery! (Sulke samestellings, sê prof. Van Huyssteen, word "onderskikkende samestellings" genoem, wat verreweg die grootste kategorie by samestellings is. By hulle het die eerste lid gewoonlik ʼn bepalende funksie by die tweede lid, wat die kern genoem word.)

Hier moes klaarblyklik ʼn koppelteken ingevoeg gewees het: jagter-versamelaars, want die mense was, sosiologies gesproke, immers sowel jagters as versamelaars. Die klein koppelteken maak dus ʼn groot betekenisverskil.

Die volgende twee gevalle - nogal deur iemand wat in die koerantartikel as ʼn vryskutskrywer geïdentifiseer word - behels woordpare wat skynbaar maklik verwar word, al het hulle volkome verskillende betekenisse.

2. Die tweede klein jakkalsie behels die werkwoorde aanvoer en aanvoor. In die WAT word vyf betekenisonderskeidings vir aanvoer gegee, maar die een wat hier ter sake is, is: "(figuurlik) Ter stawing bybring; aanhaal: Bewyse, redes, omstandighede, argumente, ens. aanvoer." As ʼn mens dus byvoorbeeld redes aanvoer, dan verstrek of gee of opper jy die redes, en as jy bewyse aanvoer, sê maar in ʼn hof, dan lê jy die bewyse aan die hof voor of verstrek of verskaf jy dit.

Daarenteen gee die WAT twee betekenisonderskeidings vir aanvoor, en die tersaaklike een hier is "ʼn Begin maak met iets: ʼn Werkie aanvoor. ʼn Brief mooi aanvoor en afsluit." Die sesde uitgawe van die HAT definieer dit as "(met iets) begin: ʼn taak/plan aanvoor; ʼn nuwe denkrigting aanvoor".

In die sin "Die motief is aangevoor dat die ontdekkings kon lei tot nuwe speserygebiede binne die Spaanse invloedsfeer" is die bedoeling duidelik nie dat daar met ʼn nuwe motief begin is nie. Wat die skrywer seker beoog het, is om die beweegrede vir duur ontdekkingsreise te verstrek - hy/sy wou dus die motivering daarvoor verduidelik. Die sin moes dus gelui het: "Die motief is aangevoer dat ..."

3. By ʼn werkgewer ʼn dekade of drie, vier gelede het ons ʼn interne personeelblaadjie gehad waarin by geleentheid ʼn boekbeskouing geplaas is. Die skrywer daarvan het die boek sterk aangeprys, maar toe afgesluit met die sinnetjie: "Helaas, lekker lees!" Klaarblyklik het hy gedink helaas beteken iets soos 'ten slotte, heel laaste'.

Bogenoemde skrywer wat aangevoor het wat hy/sy moes aangevoer het, het skynbaar dieselfde foutiewe indruk gehad, want hy/sy skryf: "Magellaan was steeds op soek na die versteekte deurgang/seeweg en het helaas sy skepe deur ʼn gevaarlike nou, kronkelende seestraat, vernoem tot die Straat van Magellaan, gelei."

Indien hierdie keuse van Magellaan daartoe gelei het dat sy klompie skepe vergaan en hulle bemannings omgekom het, en ʼn stelling te dien effekte op bostaande sin (effens aangepas) gevolg het, sou helaas wel gedeug het, want dan het die skrywer daarmee te kenne gegee dat dit jammer is dat Magellaan so ʼn noodlottige besluit geneem het. Die konteks van die artikel maak dit egter duidelik (soos ook die feit dat die seestraat na Magellaan vernoem is) dat dit juis die teenoorgestelde is wat die skrywer bedoel.

Magellaan het naamlik verskeie mislukte pogings aangewend om ʼn deurgang na die Stille Oseaan te vind en einde ten laaste deur die "gevaarlike, nou, kronkelende seestraat" sukses behaal het. Die skrywer kon verskeie ander stelwyses gebruik het, soos op die ou end; uiteindelik; einde ten laaste; mettertyd; ten slotte of iets dergeliks, maar ek raai dat hy/sy waarskynlik oplaas in gedagte gehad het. (Terloops, die verdringing van al die maniere waarop ons idiomaties "uiteindelik" of "per slot van rekening" kan sê, deur die gruwelike "op/aan die einde van die dag" en al die mutasies daarvan is nie net onnodig nie, maar werklik betreurenswaardig.)

Helaas, sê die WAT, kan "ʼn Uitroep van smart, leed, bekommering, droefheid, teleurstelling" wees wat ook bywoordelik gebruik kan word, en die HAT sê dié bywoord beteken 'tot iemand se spyt'. Daarenteen beteken oplaas eenvoudig 'eindelik, uiteindelik'.

As ʼn mens dink aan watter belangrike rol die Afrikaanse pers in die vestiging, standaardisering en uitbouing van Standaardafrikaans gespeel het, is dit nogal kommerwekkend dat hedendaagse subredakteurs (die pers se taalversorgers) nie meer foute soos bogenoemdes raaksien en regmaak nie.

 

JD (Tom) McLachlan

tommcl@whalemail.co.za

 

BRONNE

Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (W.F. Botha [hoofred.]). 2014. Elektroniese WAT: A tot skooi. Stellenbosch: Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.         [ Links ]

Luther, J., Pheiffer, F. & Gouws, R.H. (reds.). 2015. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. 6de uitg. Kaapstad: Pearson.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License