SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue2A principal's perspective on professional development: a single case studyBOOK REVIEWS author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.59 n.2 Pretoria Jun. 2019

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2019/v59n2a9 

REPLIEK

 

Die ramp van Brexit

 

 

Leopold Scholtz

Navorsingsgenoot, Navorsingsfokusgebied Sosiale Transformasie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomse kampus. E-pos: leoscholtz@yahoo.com

 

 

INLEIDING

In sy ontleding van die rampspoedige Brexit-sage het dr. Riaan Eksteen by wyse van spreke die meeste note gedruk wat hy moes. Dié antwoord, wat op versoek van die redaksie van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe geskryf word, moet dus nie gesien word as kritiek op sy artikel nie; eerder as aanvulling op 'n gevolgtrekking waarmee ek volmondig saamstem.

Kom ons begin deur die probleem uit 'n ietwat ander hoek te bekyk, te wete die belange wat op die spel is, asook die verskillende politieke kulture en die gevolglike polities-ideologiese bril waardeur aan weerskante van die Engelse kanaal na die saak gekyk word. Aan Europese kant kyk ons, om mee te begin, na Europese eenwording as vredesprojek.

Dit is vir Suid-Afrikaners, wat nie die twee wêreldoorloë aan eie lyf meegemaak het nie, moeilik om dié saak ten volle te begryp. Oorlog is in Europa niks vreemds nie - sedert die Middeleeue het die vasteland herhaaldelik verwoestende oorloë en onnoembare menslike ellende meegemaak. Maar selfs rampe soos die Dertigjarige Oorlog in Duitsland (1618-1648) of die Napoleontiese oorloë (1795-1815) het in intensiteit verbleek in vergelyking met die Eerste en Tweede Wêreldoorlog (1914-1918 en 1939-1945).

In die Eerste Wêreldoorlog het tot 10 miljoen soldate gesterf.1 Oor die gevolge daarvan het Winston Churchill later geskryf: "[W]hen all was over, torture and cannibalism were the only expedients that the civilised, scientific Christian states had been able to deny themselves."2 Die Tweede Wêreldoorlog het in Europa alleen nagenoeg 45 miljoen lewens geëis.3 Europa was 'n smeulende puinhoop. Talle stede en dorpe was niks meer as ruïnes nie. Die Amerikaanse historikus prof. David Nasaw (City-Universiteit van New York), skryf:

For other Europeans - and we count their numbers in the tens of millions also - the fruits of war were desperation, hunger and homelessness. There was not enough food on the continent, nor would there be for years to come; what food there was could not be transported to those who needed it. The Netherlands had lost 60 percent of its road, rail and canal transport. A fifth of all German living space - 3,6 million apartments - were no longer habitable; and some 20 million Germans were left homeless. Conditions were even worse in the Soviet Union, where 70 000 villages, almost 2 000 towns and cities, 32 000 factories, and 40 000 miles of track were ruined; some 25 million people left homeless; and millions more forcibly relocated from their former homes to new ones.4

Sy kommentaar is in die kol: "It is infinitely easier to start wars and to fight them than it is to end them. Wars beget war; the signing of treaties and the celebration of victory do not bring about peace. These are but a few of the historical lessons we appear not to have learned."5

'n Aanvanklike emosioneel-wraaksugtige reaksie het gevolg. Duitsland is in vier streke verdeel, en daar is ernstig oorweeg om die land sosiaal-ekonomies tot die vlak van die Middeleeue terug te dwing. Maar verstandiger staatsmanne, veral Winston Churchill van Brittanje, en Charles de Gaulle en Robert Schuman van Frankryk, het die les van die geskiedenis ingesien: Dat dit die vyandskap slegs opnuut sou laat eskaleer en, al was dit pas ná verskeie dekades, wéér tot 'n oorlog - die keer nóg verwoestender as ooit - sou lei. Die patroon van vyandskap en onreg wat met erger vyandskap en onreg beantwoord word, moes deurbreek word. Bowendien het 'n nuwe bedreiging in die ooste, Josef Stalin se Sowjetunie, opgedoem. Dit was tyd vir 'n nuwe begin.

'n Eerste stap was die stigting van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) in 1949. Dat die Bondsrepubliek van Duitsland (die drie Duitse streke wat in 1949 tot Wes-Duitsland saamgevoeg is), ondanks twyfel en onsekerheid, in 1955 die groen lig gekry het om te herbewapen en lid van Navo te word, was 'n deurbraak. Maar meer was nodig: Dit was noodsaaklik dat die tradisionele aartsvyandskap tussen Duitsland en Frankryk beëindig word.

In Duitsland was dit veral sy kanselier, Konrad Adenauer, wat die dryfkrag van die versoening sou word. In sy herinneringe het hy só geskryf:

ʼn Oplossing van die Duitse vraagstuk moes gevind word, wat van organiese aard en dus duursaam sou wees en wat ons Westerse bure sou gerusstel en hulle ʼn duursame gevoel van veiligheid sou gee. Ek is Duitser, maar ek is en was ook altyd Europeër en het my só gevoel. Ek het my besonderlik besig gehou met die probleem van ʼn Verenigde State van Europa, waartoe Duitsland moes behoort. In die toekomstige Verenigde State van Europa het ek die beste en mees duursame beveiliging van die Westerse bure van Duitsland gesien. In die toekomstige Verenigde State van Europa het ek die groot hoop vir Duitsland en daarmee vir Europa gesien: Ons moes Frankryk, Holland, België en die ander Europese lande daaraan probeer herinner dat hulle net so goed soos ons in Wes-Europa lê, dat hulle ons bure is en vir altyd sal bly, dat alle geweld wat hulle ons aandoen ten slotte tot euwels moes lei, dat geweld nooit tot ʼn duursame vrede in Europa kon lei nie.6

Adenauer se oplossing, wat mettertyd die algemeen aanvaarde rigting in Europa geword het, was om die Europeërs se vrees vir Duitsland te neutraliseer deur dié land as 't ware in Europa onder te dompel. Dit het gelei tot die totstandkoming van die Europese Steenkool- en Staalgemeenskap in 1950 as voorloper van die Europese Ekonomiese Gemeenskap (EEG) in 1957. Die EEG is wyd gesien as die begin van 'n Verenigde State van Europa, waar 'n herhaling van die twee wêreldoorloë heeltemal onmoontlik sou wees.

Aanvanklik was slegs ses lande lid van die EEG: Wes-Duitsland, Frankryk, Italië, Nederland, België en Luxemburg. Brittanje het lank aan die deur geklop om ook aan te sluit, maar is telkens geveto deur die Franse pres. Charles de Gaulle. De Gaulle was weliswaar ten gunste van 'n verenigde Europa, maar een waar Frankryk dieselfde leidende rol sou speel as wat Bismarck se Pruise in die verenigde Duitsland van 1871 gehad het.7 Twee lande het in die pad van dié ideaal gestaan: Amerika en die land wat De Gaulle as potensiële Amerikaanse perd van Troje in Europa gesien het, Brittanje.

Op 'n perskonferensie op 14 Januarie 1963 in die presidensiële Elysées-paleis in Parys het hy verduidelik dat Brittanje se "natuur, struktuur, omstandighede, eie aan Engeland" anders as dié van die vastelandse lande is. Britse lidmaatskap sal dus die hele aard van die EEG verander: "Dit is voorspelbaar dat die samehang van al sy lede, wat spoedig baie groot en baie divers sou wees, nie lank sal duur nie en dat dit inderdaad sou lyk soos 'n kolossale Atlantiese gemeenskap onder Amerikaanse afhanklikheid en leiding, en dit is glad nie wat Frankryk wou doen en tans doen nie, wat 'n streng Europese konstruksie is."8

Net 'n paar maande later het De Gaulle en Adenauer 'n Frans-Duitse vriendskapsverdrag gesluit, waarmee die tradisionele vyandskap finaal begrawe is.9 Sedertdien het die EU gedraai om die spil Bonn-Parys - deesdae Berlyn-Parys. Ondanks duidelike benaderingsverskille het dit al tradisie geword dat 'n nuwe staatshoof in Parys al die eerste dag ná sy bewindsoorname besoek aan Berlyn bring en andersom. Oor alle groot internasionale probleme word uitvoerig oorleg tussen die twee hoofstede gepleeg.

In 1969 het De Gaulle van die politieke toneel verdwyn, en op 1 Januarie 1973 het Brittanje tog lid van die EEG geword. Hierna het steeds meer lande toegang gekry, maar dit was die val van die Berlynse Muur op 9 November 1989, die opheffing van die Warschau-Pakt (die kommunistiese teenhanger van Navo) en die uiteenval van die Sowjetunie einde 1991 wat Europa in ʼn stroomversnelling gebring het. Die nuwe wêreldorde het die potensiaal gehad om vir groot ontwrigting te sorg as sake nie baie sorgvuldig bestuur is nie. Veral die hereniging van Duitsland op 3 Oktober 1990 het harte in verskeie Europese hoofstede laat fladder. Maar die Duitse bondskanselier, Helmut Kohl, se standpunt, soos hy dit van die begin af gestel het, was dat die hereniging gebou sou word op "die legitieme belange van ons bure, vriende en vennote in Europa en die wêreld".10

Maar meer as dít was nodig. Toe die skares op die dag van die Duitse hereniging voor die Reichstag in Berlyn saamdrom, het Kohl later geskryf, "was ek my ook sekerlik daarvan bewus dat ons slegs ʼn deel van die visie waarmee ons ná die oorlog aangetree het, verwerklik het. Voor ons het toe gelê, en lê ook vandag nog, die volbrenging van die ander deel: die vereniging van Europa."11 Dit kon slegs gebeur indien Duitsland sy eie belange ondergeskik aan dié van die res van die vasteland stel en homself onskadelik maak deur sy onderdompeling in die nuwe EU. Dus is die EEG in 1991 omskep tot die Europese Unie (EU), waarmee die EEG-bande geïntensiveer is. Kragtens die Schengenverdrag is die grense tussen die meeste lidlande oopgestel. Dalk nog die belangrikste van alles: Op aandrang van die Franse leier, pres. François Mitterrand het die Duitsers afstand van hul geliefde D-Mark gedoen en 'n gesamentlike munt vir die grootste deel van Europa, die euro, aanvaar.12

Die gevolg was die derde groot geopolitieke herskikking in Europa van die 20ste eeu ná dié van 1919 en 1945: Die meeste lande wat voor 1990 onder die Sowjet-heerskappy geval het - Hongarye, Pole, Tsjeggië, Slowakye, Estland, Letland, Littaue, Roemenië, Bulgarye, Kroasië en Slowenië - het saam met Oostenryk, Ciprus, Griekeland, Finland, Malta, Portugal, Spanje en Swede by die EU aangesluit. Die merkwaardigste was dat dit, in teenstelling met die twee vroeëre herskikkings, gebeur het sonder die stort van 'n enkele druppel bloed.

Dit is waar dat die Russe dit alles met groeiende onrus bekyk het. Die gevoel dat Rusland deur 'n oprukkende Navo en EU bedreig word, lê gedeeltelik ten grondslag aan die aggressiwiteit wat president Wladimir Poetin in die algemeen en spesifiek in die Krim en die Oekraïne openbaar. Maar dit is weer 'n ander verhaal.

Sedert die jare negentig het die politieke toneel in Europa weer begin verander, onder meer deur die opkoms van regse en linkse populistiese partye wat geen erg het aan die ideaal van ʼn verenigde Europa nie. Trouens, daardie ideaal is by verreweg die meeste leiers prakties dood. Een uitsondering is pres. Emmanuel Macron van Frankryk, wat gereeld vlammende pleidooie vir 'n "soewereine en federale Europa" hou. Weliswaar het Macron en die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, begin 2019 die Duits-Franse vriendskapsverdrag van 1963 seremonieel in Aken herbevestig, maar dit verhul die duidelike verskille tussen die twee. Merkel is vir dieper Europese integrasie, maar in teenstelling met haar voorgangers nie vir 'n federale Europa nie. Sy voel hoe die elektorale wind onder haar eie kiesers waai.13

Maar ofskoon die steun vir 'n Verenigde State van Europa duidelik sterk afgeneem het, beteken dit nie dat die Europeërs die EU as sodanig die rug toekeer nie. Peilings wys dat daar regoor die vasteland oorweldigende steun vir voortgesette lidmaatskap van die EU is. Die volgende persentasies wys dit: Portugal 92%, Ierland 91%, Nederland 91%, Swede 89%, Duitsland 89%, Pole 89%, Roemenië 89%, Estland 89%, Spanje 88%, België 87%, Denemarke 86%, Slowakye 86%, Bulgarye 83%, Hongarye 81%, Griekeland 75%, Frankryk 74%, Italië 72%.14 Nog 'n peiling het in November 2018 bevind dat 91% van alle EU-burgers die voortbestaan van die organisasie steun.15 Dit lyk of die politieke chaos waarmee Brexit in Brittanje gepaard gaan, ʼn afskrikwekkende uitwerking op burgers elders in die EU het.

Nietemin verander die politieke toneel in ʼn ander opsig. Die geslag van Adenauer en Kohl, van De Gaulle en Mitterrand, wat die EEG/EU hoofsaaklik as ʼn politieke vredesprojek bedink het, is aan die uitsterf. Merkel is waarskynlik een van die laaste Europese regeringshoofde wat na die Europese integrasieproses as 'n "Friedensprojekt" verwys en dit ook in haar hart bedoel.16 Ander kan dieselfde woorde gebruik, maar is te jonk om dit mee te gemaak het.

Die Duitse politieke ontleder dr. Anna Sauerbrey het waarskynlik ʼn algemene gevoel verwoord toe sy begin 2019 in die Berlynse oggendblad Der Tagesspiegel geskryf het dié narratief is agterhaal. Die huidige "Europa regverdig hom daardeur, dat hy die mense van oorlog verlos het. Daarteenoor staan meer en meer 'n funksionele, na buite en op die toekoms gerigte vertelling: Die EU moet in onsekere tye die oorlewing van sy lede verseker."17 Met ander woorde: Vergeet die verlede, kyk na die hede en die toekoms en bedink 'n nuwe kyk op die belange wat die EU saamsnoer. In dié nuwe narratief pas 'n federale Europa nie.

Teen dié agtergrond het die EU se harde houding teenoor Brexit dikwels die indruk gewek dat die organisasie ander lidlande en hul bevolkings wou ontmoedig om dieselfde pad in te slaan deur harde eise aan die Britte te stel.

 

BRITTANJE

Die Britte se wêreldbeskouing was altyd eiesoortig. Volgens oorlewering het die Londense koerant The Times voor die Eerste Wêreldoorlog 'n beriggie geplaas onder die opskrif: "Heavy fog in Channel. Continent cut off." Dit is dalk apokrief, maar dit vertel wel iets van die manier waarop die Britte hul eie land tradisioneel as die middelpunt van die wêreld beskou.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog, word vertel, het die Britse premier, Winston Churchill, iets aan De Gaulle - toe leier van die Vrye Franse in ballingskap - kwytgeraak wat nogal veelseggend is: "For get this quite clear, every time we have to decide between Europe and the open sea, it is always the open sea we shall choose. Every time I have to decide between you and Roosevelt, I shall always choose Roosevelt."18 Churchill was ná ١٩٤٥ wel deeglik ten gunste van ʼn Verenigde State van Europa as ʼn vredesprojek, maar hy het Brittanje nooit as deel daarvan gesien nie.19 (Churchill se uitspraak het De Gaulle natuurlik gesterk in sy blokkering van Brittanje se begeerte om by die EEG aan te sluit.)

ʼn Saak kan daarvoor uitgemaak word dat die Britte inderdaad altyd - steeds - na die see, eerder as na Europa, kyk. Dit gaan natuurlik om die "spesiale band" wat na bewering tussen Brittanje en Amerika sou bestaan, maar ook om die gewese Britse Ryk. Laasgenoemde bestaan vir sommige Britte voort in die Statebond.

Die Britse joernalis en politieke ontleder Gary Younge stel dit só:

[W]hile the Brexit vote was certainly underpinned by a melancholic longing for a glorious past, the era it sought to relive was less the Second World War than the longer, less distinguished or openly celebrated period of empire. For if memories of the war made some feel more defiant, recollections of empire made them deluded. Our colonial past, and the inability to come to terms with its demise, gave many the impression that we are far bigger, stronger and more influential than we really are. At some point they convinced themselves that the reason we are at the centre of most world maps is because the Earth revolves around us, not because it was us who drew the maps.20

Een van die leidende voorstanders van Brexit ("Brexiteers"), Boris Johnson, het sy redes om die EU te verlaat só uiteengesit:

And that is why it is such a mistake for us to leave on the Chequers terms, locked in the tractor beam of Brussels. We will not only be prevented from offering our tariff schedules. We will be unable to make our own laws - to vary our regulatory framework for goods, agrifoods and much much more besides. This is politically humiliating for a £2 trillion economy. ... And instead of reasserting our ability to make our own laws, the UK will be effectively paraded in manacles down the Rue de la Loi like Caractacus. ... And if we get it right, then the opportunities are immense. It is not just that we can do free trade deals. In so many growth areas of the economy this country is already light years ahead. Tech, data, bioscience, financial services, you name it. We can use our regulatory freedom to intensify those advantages.21

Vir Johnson en die Brexit-entoesiaste gaan dit dus ook om die herwinning van Brittanje se soewereiniteit, wat die land na hul mening aan die EU afgestaan het. Dat Johnson en ander geesgenote tydens die referendumveldtog van 2016 skaamteloos feitelike leuens vertel het,22 verander nie hieraan nie, al roep dit ernstige vrae oor hul eerlikheid op. Feit is dat die lewens- en wêreldbeskouing van die Brexit-voorstanders in die Konserwatiewe Party en die UK Independence Party (Ukip) op ʼn ouderwetse nasionalisme berus.

 

NASIONALE SOEWEREINITEIT: 'N FIKSIE

Nasionale soewereiniteit is ʼn saak wat al sedert die Vrede van Wesfale in 1618 sentraal in die internasionale politieke regsorde staan.23 Maar nasionale soewereiniteit is beperk en inderwaarheid in sekere sin ʼn regsfiksie. In teorie kan state - binne die beperkings van hul eie wetgewing en politieke kultuur - doen wat hulle wil; in die praktyk moet hulle minstens rekening hou met die belange en wense van hul bure, bondgenote en mededingers, en met die volkereg. Namate die wêreldekonomie meer geïntegreer geraak het, het regerings se beweegruimte afgeneem: Die prys wat hulle vir die oorskryding van dié praktiese grense sou betaal, het steeds verder toegeneem. ʼn Goeie voorbeeld was die algemene instelling van invoertariewe ná die Eerste Wêreldoorlog in ʼn misplaaste begeerte om die eie ekonomieë teen mededinging te beskerm. Dit het bygedra tot die ineenstorting van internasionale handel en daardeur tot die depressie van die jare dertig. Soos die Amerikaanse regsgeleerde dr. Brink Lindsay dit stel: "In 1930, the disastrous Smoot-Hawley Act raised tariffs sharply just as the nation was falling into the Great Depression. Many countries retaliated with tariff hikes of their own, and world trade plummeted: In the United States, exports as a percentage of total goods production fell more than 20 percent between 1929 and 1933."24

Dit is maar ʼn enkele illustrasie van die grense wat die praktyk aan nasionale soewereiniteit stel. Afgesien van Europa as "vredesprojek" is die EU in al sy lidlande se ekonomiese belang deurdat die opening van die binnegrense vir die beweging van mense en goedere onderlinge handel enorm gestimuleer het. Tussen 2002 en 2018 het die interne handel tussen die 28 EU-lidlande van 150 miljard tot 294 miljard toegeneem, met ʼn tydelike skerp insinking tydens die krisis van 2008-2009.25 Luidens amptelike Britse syfers is die EU verreweg Brittanje se grootste handelsvennoot. In 2017 was Britse uitvoer na die res van die EU £274 miljard werd (44% van alle Britse uitvoer) en die invoer £341 miljard (53%).26 Dit wys hoe die Britse ekonomie met dié van die Europese vasteland geïntegreer is sedert die land in 1973 by die destydse EEG aangesluit het.

As die regering van premier Theresa May daarin slaag om ʼn behoorlike skeidingsooreenkoms te bereik, sal dit wees soos om ʼn arm deur ʼn chirurgiese proses van ʼn torso te verwyder. Dit is al erg genoeg. Maar as dit sónder ʼn skeidingsooreenkoms gebeur, sal dit wees soos ʼn arm wat met geweld afgeskéúr word. Dit sal gróót trauma en ontwrigting veroorsaak - op die vasteland, maar veral in Brittanje self.

Die ironie is dat die Britte dit alles aan hulself te danke het. Toe May se voorganger as premier, David Cameron, in 2016 ʼn referendum afkondig om oor voortgesette Britse lidmaatskap van die EU te besluit, het hy verwag dat die kiesers vír Europa sou stem. Die probleem was dat sy Konserwatiewe Party tot op die been verdeel was tussen voor- en teenstanders van lidmaatskap. Die party het op ʼn skeuring afgestuur. Cameron se dobbelspel was dat ʼn oorwinning in die referendum sy pro-Europese hand sou sterk en die teenstanders die swye sou oplê. Dit het klaaglik misluk, want die uitslag was uiteindelik 51,9% vir Brexit en 48,1% vir "remain".27

Hy het daarop as premier bedank. Sy plek is ingeneem deur Theresa May, wat onmiddellik ʼn tweede rampspoedige fout begaan het: Sy het ʼn vervroegde algemene verkiesing uitgeskryf in die verwagting dat die Konserwatiewe Party sy meerderheid in die parlement sou vergroot. Ook dít was ʼn klaaglike mislukking. Haar party het weliswaar die grootste enkele party gebly, maar sy volstrekte meerderheid verloor. Sedertdien lei sy ʼn minderheidsregering wat deur die Noord-Ierse Democratic Unionist Party gedoog word. Haar gesag en geloofwaardigheid in die regering en Konserwatiewe Party en in die land lê aan skerwe.

Sedertdien het May en haar kollegas op ʼn amateuragtige en onbeholpe manier met die EU onderhandel. Die rede daarvoor, so lyk dit, is ʼn oorskatting van die eie belangrikheid en onderhandelingskrag. Immers, een van die interessante gevolge van die Brexit-debakel is dat die ander 27 lidlande ʼn ongekende eenheid openbaar en weier dat die Britte hulle teen mekaar uitspeel.

Dit is waar dat niemand in Europa oor Brexit juig nie. Almal besef dat die Britse afskeid die hele Europa verswak en dat slegs Rusland se Poetin plesier daaruit put. Maar sommige lidlande betreur die vertrek nog meer as ander. Een is Nederland, wat Brittanje altyd as ʼn waardevolle bondgenoot teen die Duits-Franse oorheersing van die EU gesien het. In die verwagte afwesigheid van Brittanje het die Nederlandse premier, Mark Rutte, reeds begin met ʼn diplomatieke offensief gerig op die kleiner EU-lede in Skandinawië en die Baltiese streek om ʼn gesamentlike blok teen die spil Berlyn-Parys te vorm.28

 

GEVOLGTREKKING

Dat Brexit Europa verswak, is seker. Maar ʼn mens moet nie illusies oor Europa se krag hê nie, selfs nie indien Brittanje tog sou bly nie. Die EU is - seker vir die afsienbare tyd - voorbestem om bloot ʼn hegte alliansie te wees van state wat dikwels in verskillende rigtings trek. Die vermaarde Duitse kommentator Josef Joffe slaan die spyker op die kop:

Never in our lifetime will this Europe go to war because a majority of member states says so. Nor will elected governments hand over spending and taxation to Brussels - not when their fate at the ballot box hangs on the state of the business cycle. No national parliament will give up the power of the purse, the Holy Grail of democratic governance. Cracking these shells would require fusing 27 post-Brexit states into one, complete with a supreme legislature like Congress and an elected executive like the U.S. president. Yet power in Europe remains rooted in the European Council representing 27 governments jealously guarding their turfs. To list such deficits is not to belittle how many chunks of sovereignty the EU has already pried off. The largest is monetary union, which unites 19 of the 27 in the eurozone. Still, the common currency may well have been one bridge too far, as the recurrent crises of the euro testify - first in Greece, now Italy. While the eurozone will continue to muddle through, the 'ever closer union' of the EU as a whole is receding as we speak.29

Selfs al bereik Theresa May ʼn behoorlike skeidingsooreenkoms met Brussel, is Brexit ʼn verdere stap in die ondermyning van die stabiele internasionale politieke bouwerk wat ná 1945 en veral ná 1990 met groot moeite opgebou is. Na die ooste is Wladimir Poetin soos ʼn skaakspeler op die loer na gapings in die Weste se skansmure wat hy kan oopbreek om, soos sy strategiese doel is, Rusland weer tot die status van groot moondheid te herstel.30 Nóg verder oos is China besig om met sy skouspelagtige ekonomiese groei as nuwe supermoondheid deur te breek. Sy bou van ʼn groot vloot en die ekonomiese invloed wat hy wêreldwyd verkry, bring ʼn nuwe element in die internasionale politiek waarvan die uitwerking nog onbekend is.31 En verder na die weste is pres. Donald Trump besig met ʼn ondeurdagte aanslag op die bestaande wêreldorde wat sterk herinner aan ʼn bul in ʼn porseleinwinkel.32

Teen dié agtergrond is Brexit uiters negatief vir die internasionale politieke stabiliteit. En, wat dit erger maak: Die onbeholpe, amateuragtige en chaotiese manier waarop Theresa May, haar regering en die Britse politiek in die algemeen die Brexit-proses hanteer, is ʼn teksboek-voorbeeld vir staatsmanne hoe om dinge nié te doen nie. As íemand iets hieruit kan leer, kan dit dalk nog ʼn nuttige funksie hê. Maar dis moontlik te betwyfel, want as die geskiedenis ʼn mens één les leer, is dat die mensdom uiters selde rasionele lesse uit die geskiedenis trek.

 

 

LEOPOLD SCHOLTZ het aan die Universiteit van Stellenbosch, die ou Randse Afrikaanse Universiteit en die Universiteit van Leiden gestudeer, waar hy in 1978 in die geskiedenis gepromoveer het. Hy was onder meer adjunkredakteur van Die Burger en Europa-korrespondent vir die Media-24- koerante. Hy was lid van die Raad van die SA Akademie, asook buitengewone professor aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy sy verbintenis as navorsingsgenoot voortgesit en later vir die Noordwes-Universiteit verruil het. Hy is tans - op papier - afgetree, maar gaan voort as akademikus en ontleder van die internasionale politiek saam met sy vrou.
LEOPOLD SCHOLTZ studied at the University of Stellenbosch, the former Rand Afrikaans University and the University of Leiden, where he received a PhD in history in 1978. He was, inter alia, deputy editor of Die Burger and Europe correspondent for the Media24-newspapers. He was a member of the Council of the SA Academy, as well as professor extraordinaire at the University of Stellenbosch, where he continued as research fellow, before he exchanged it for the Northwest University. He is presently - on paper - retired, but he continues as academic and analyst of international politics together with his wife.
1 J.M. Roberts: Twentieth Century. History of the World, 1902 to the Present (London, Allen Lane, 1999), p. 266.
2 Aangehaal in Allen C. Guelzo: "The Great War's great prize" (National Review, 12.11.2018, p. 32).
3 National WWII Museum: "Research starters: Worldwide deaths in World War II", by https://www.nationalww2museum.org/students-teachers/student-resources/research-starters/research-starters-worldwide-deaths-world-war (opgeroep op 01.05.2019).
4 David Nasaw: "The fruits of World War" (The Nation, 25.5.2015, p. 10).
5 Ibid.
6 Konrad Adenauer: Erinnerungen 1945-1953 (Stuttgart, Deutsche Verlags-Anstalt, 1965), pp. 41-42.
7 Henry Kissinger: Diplomacy (New York, Simon & Schuster, 1994), p. 606.
8 Jean Lacouture: De Gaulle the Ruler: 1945-1970 (Londen, Harvill, 1985), p.358.
9 Vgl.
ʼn interessante perspektief hierop van Corine Defrance: "The Élysée treaty in the context of Franco-German soscio-cultural relations" (German Politics & Society, 31/1, Spring 2013, pp. 70-91).
10 Michael R. Beschloss en Strobe Talbott: At the highest levels. The inside story of the end of the Cold War (London, Warner Books, 1994), p. 188.
11 Philip Zelikow en Concolezza Rice: Germany Unified and Europe Transformed. A Study in Statecraft (Cambridge, Harvard University Press, 1997), p. 483.
12 Vgl. Femke van Esch: "Why Germany wanted EMU: The role of Helmut Kohl's belief system and the fall of the Berlin Wall" (German Politics, 21/1, Maart 2012, pp. 34-52).
13 Vgl. bv. "Merkels Antwort auf Macron - so will die Bundeskanzlerin Europa verändern" (Handelsblatt, 3.6.2018); "Macrons kaum verhüllte Kritik an Merkel" (Der Tagesspiegel, 5.3.2019).
14 "EU membership poll shows no other country would vote to leave" (by https://www.indy100.com/article/eu-membership-countries-vote-leave-remain-8888956, opgeroep 3.5.2019).
15 European Commission: "Public opinion", by http://ec.europa.eu/commfrontoffice/publicopinion/index.cfm/Chart/getChar t/themeKy/3/groupKy/312, opgeroep 2.5.2019).
16 "Merkel: Europa ist ein Friedensprojekt - unsere Grundlage ist Kooperation statt Nationalismus", by https://www.bundeskanzlerin.de/bkin-de/aktuelles/merkel-europa-ist-ein-friedensprojekt-unsere-grundlage-ist-kooperation-statt-nationalismus-1561350 (opgeroep 2 Mei 2019).
17 Anna Sauerbrey: "Die Sorge vor Krieg reicht nicht als Begründung für die EU" (Der Tagesspiegel, 28.1.2019).
18 Henrik Bering: "The audacity of De Gaulle" (Policy Review, 1.2.2013, p. 88).
19 Paul Johnson: Modern Times. A History of the World from the 1920s to the 1990s (London, Orion, 1996), p. 599.
20 Gary Younge: "Britain's imperial fantasies have given us Brexit" (The Guardian, 3.2.2018).
21 "Full text of Boris Johnson's 'alternative leader's speech' at Conservative Party conference fringe", by https://inews.co.uk/news/politics/boris-johnson-speech-conservative-conference-fringe/ (opgeroep 2.5.2019).
22 Vgl. James Kirkup: "The lies and liars of Brexit" (The Spectator, 19.6.2018); Jonathan Read: "Legal papers lodged against Boris Johnson for 'lies' told during EU referendum" (The New European, 22.2.2019); Anna Gauto: "Die Lügendetektoren" (Handelsblatt, 22.6.2016); Joris Luyendijk: "Brexit op basis van leugens, manipulatie en racistisch gehits" (NRC Handelsblad, 29.3.2017).
23 Kissinger: Diplomacy, p. 21.
24 Brink Lindsey: "A new track for U.S. trade policy" (Trade Policy Analysis, 11.9.1998, p. 6).
25 "Intra-EU trade in goods - recent trends", by https://ec.europa.eu/eurostat/statistics-explained/index.php/Intra-EU_trade_in_goods_-_recent_trends (opgeroep 2.5.2019).
26 House of Commons Library: "Statistics on UK-EU trade", by https://researchbriefings.parliament.uk/ResearchBriefing/Summary/CBP-7851 (opgeroep 2.5.2019).
27 "EU referendum results", by https://www.electoralcommission.org.uk/find-information-by-subject/elections-and-referendums/past-elections-and-referendums/eu-referendum/electorate-and-count-information (opgeroep op 2.5.2019).
28 Marc Peeperkorn: "Staat van de Unie: Nederland niet 'second', maar na Duitsland en Frankrijk nummer 3 van Europa" (De Volkskrant, 25.1.2019).
29 Josef Joffe: "Europe does not exist" (Commentary, 1.2.2019).
30 Vgl. Cristian Nitoiu: "Aspirations to great power status: Russia's path to assertiveness in the international arena under Putin" (Political Studies Review, 15/1, 2017, pp. 39-48).
31 Vgl. "Why China wants a mighty navy" (The Economist, 27.4.2019, p. 49); Oriana Skylar Mastro: "The stealth superpower: How China hid its global ambitions" (Foreign Affairs, Januarie/Februarie 2019, pp. 31-39); Yan Xuetong: "The age of uneasy peace: Chinese power in a divided world" (Foreign Affairs, Januarie/Februarie 2019, pp. 40-49).
32 Keren Yarhi-Milo: "After Credibility: American foreign policy in the Trump era" (Foreign Affairs, Januarie/Februarie 2018, pp. 68-77).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License