SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 número2Storytelling as a teaching strategy to strengthen identity development in disadvantaged individualsBrexit's political and economic consequences and historical realities índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.59 no.2 Pretoria Jun. 2019

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2019/v59n2a6 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

"Onkruid tussen die koring": Oswald Pirow en die Nuwe Orde vir Suid-Afrika, 1940–1943

 

"Weeds amongst the wheat": Oswald Pirow and the New Order for South Africa, 1940–1943

 

 

Fa Mouton

Departement Geskiedenis, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria. E-Pos: moutofa@unisa.ac.za

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel bied 'n ontleding van die redes waarom dit aanvanklik in 1940 vir Oswald Pirow - wat weens opportunistiese redes nasionaal-sosialisme aangehang het met die stigting van die Nuwe Orde vir Suid-Afrika - moontlik was om hierdie ideologie suksesvol te verkondig. Daar word aangevoer dat unieke omstandighede die politieke veld vir enkele maande vir hom oopgelaat het om nasionaal-sosialisme te propageer. Ná die Afrikaanse kerke en die Herenigde Nasionale Party daarop gewys het dat dit 'n heidense en totalitêre ideologie was wat teenstrydig was met die demokratiese tradisies en volksaard van die Afrikaner, is die Nuwe Orde met 'n toenemende kritiese houding bejeën. Gevolglik was Pirow teen die einde van 1941 'n randfiguur en teen 1943 'n gebrokene, vasgevang in die politieke wildernis. Alhoewel die aanklag dat Pirow 'n opportunis was wel 'n rol gespeel het, was die Afrikaanse kerke en die HNP se verwerping van die totalitêre aard van nasionaal-sosialisme (in 'n tydperk toe dit gelyk het asof Nazi-Duitsland besig was om die oorlog te wen) die beslissende rede waarom die Nuwe Orde ten gronde sou gaan.

Trefwoorde: Oswald Pirow, Nuwe Orde, nasionaal-sosialisme, Nazi-Duitsland, Herenigde Nasionale Party, Afrikaanse kerke, D.F. Malan, A.J. Geyer, J.G. Strijdom, H.F. Verwoerd


ABSTRACT

In 1940, after Germany's crushing victory over France, and with Britain fighting for survival, South Africa was facing a period of political uncertainty. The popular feeling amongst many Afrikaners was that Britain had lost the war, and that for its own safety South Africa had to cut ties with the British Empire. Such a step required a new political order to replace the collapsing system of a British-dominated liberal-democratic capitalism. It was against this backdrop that Oswald Pirow (1890-1959), a former minister in the J.B.M. Hertzog government between 1929 and 1939, and a member of the Herenigde Nasionale Party (HNP), formed the New Order for South Africa (NO) on 25 September 1940 as a study group within the party to espouse national-socialistic ideals. Pirow was no conviction fascist and the founding of the NO represented an opportunistic trimming of the sails to prevailing political winds, to advance his own career. Highly intelligent, charismatic and an outstanding orator, at emotional mass meetings he was treated as a messianic figure, given his message that the Afrikaner had to follow the example of an authoritarian political system based on "staatsgesag" and "volksdissipline" which had emerged in Germany, Italy, Spain and Portugal. At the beginning of 1941 Pirow and the NO seemed unstoppable. And yet, by the end of the year he was marginalised, and by 1943 had become a pariah trapped in the political wilderness. This article argues that, after a few months during which Pirow was given free and uncritical passage to propagate national-socialism, the Afrikaans churches and the HNP launched an effective counterattack by condemning the principles of the NO as pagan and alien to the democratic traditions of the Afrikaner, while exposing Pirow's opportunism. Ultimately, the Afrikaner churches and the HNP's rejection of the principles of national-socialism, in a period when Nazi Germany was still winning the war, was the main factor leading to the collapse of the NO.


 

 

INLEIDING

'n Kenmerk van die historiografie oor Afrikaner-nasionalisme is dat weinig aandag geskenk word aan Oswald Pirow se nasionaal-sosialistiese Nuwe Orde (NO) wat binne die Herenigde Nasionale Party (HNP) as 'n drukgroep opgetree het. Uitstekende publikasies soos Hermann Giliomee se Die Afrikaners:'n biografie (2003) en Lindie Koorts se D.F. Malan and the rise of Afrikaner nationalism (2014), verwys net terloops na die NO. Hierdie tekortkoming geld ook vir F.J. van Heerden se doktorale studie, "Nasionaal-sosialisme as faktor in die Suid-Afrikaanse politiek 1933-1948" (1972), Patrick Furlong se Between crown and swastika: The impact of the radical right on the Afrikaner nationalist movement in the Fascist era (1991) en Christoph Marx se Oxwagon sentinel: Radical Afrikaner nationalism and the history of the Ossewabrandwag (2008). In al die voorgenoemde werke word die klem op die militante nasionaal-sosialisme van die Ossewabrandwag geplaas. In sy JG Strijdom: Sy politieke loopbaan van 1929 tot 1948 (1980) bied J.L. Basson meer besonderhede oor die NO, maar in die konteks van Strijdom se loopbaan. Wat al die gemelde werke in gemeen het, is dat hulle geen indringende ontleding verskaf van die redes waarom Pirow misluk het in sy betoog dat 'n toekomstige Afrikanerrepubliek op nasionaal-sosialistiese beginsels gevestig moes word nie.

In 1940 is Suid-Afrika deur 'n politieke warrelwind getref weens die land se toetrede tot die Tweede Wêreldoorlog (in September 1939), die gedwonge bedanking van Premier J.B.M. Hertzog, die skeuring van die Verenigde Party (VP), die stigting van die HNP, Nazi-Duitsland se verpletterende oorwinning oor Frankryk, en Brittanje se stryd om oorlewing. Volgens Die Burger van 29 en 31 Oktober 1940 was die ineenstorting van Frankryk vergelykbaar met die Franse Rewolusie van 1789, wat die bestaande politieke orde vernietig het. 'n Nuwe politieke orde moes geskep word om die vervalle liberaal-demokraties kapitalistiese stelsel te vervang. Dit was teen hierdie agtergrond dat Oswald Pirow (1890-1959 ) die NO gestig het. Pirow, 'n uiters intelligente en charismatiese man en 'n uitstekende spreker, is by emosionele massavergaderings as 'n messiaanse figuur ontvang, danksy sy boodskap van 'n nuwe politieke orde. Die NO het onstuitbaar gelyk, maar teen die einde van 1941 was Pirow 'n politieke randfiguur, en in 1943 'n uitgeworpene wat hom in die politieke wildernis bevind het. Hierdie artikel verduidelik waarom die NO na 'n belowende aanvang weggekwyn het, en Pirow se loopbaan vernietig is.

 

DIE STIGTING EN BEGINSELS VAN DIE NO

Na Junie 1940, toe die nederlaag van Brittanje onvermydelik gelyk het, was daar 'n sterk drang onder Afrikanernasionaliste om die bestaande politieke stelsel te vervang wat Suid-Afrika vir 'n tweede keer in 'n wêreldoorlog betrek het ter verdediging van Britse imperiale belange. Die droom van hierdie Afrikaners was om 'n republiek daar te stel, wat gegrond sou wees op 'n nuwe politieke en sosio-ekonomiese bedeling. Hierdie bedeling sou die Brits-gedomineerde kapitalistiese stelsel vervang wat na hul mening Afrikaners vir geslagte uitgebuit het. Ondanks hierdie sterk stroming onder Afrikaners kon die HNP, wat vroeg in 1940 gestig is nadat die gesuiwerde Nasionale Party en Hertzog se VP-volgelinge saamgesmelt het, weinig aandag daaraan skenk. Die leierskap van die nuwe party was verplig om op partystrukture en die formulering van 'n republikeinse ideaal te fokus, ten einde verskillende faksies binne die party tevrede te stel. Hierdie toedrag van sake het aan die ambisieuse Pirow die geleentheid gebied om sy eie politieke posisie te verbeter. Pirow was 'n dinamiese en bekwame persoon wat as een van die land se beste advokate geag was. Met sy aanstelling as Minister van Justisie in 1929 was hy die jongste minister om ooit in 'n Suid-Afrikaanse regering te dien. As een van die sterre in Hertzog se regering is hy as 'n toekomstige eerste minister beskou. In die HNP was hy egter 'n geïsoleerde randfiguur.1 Die rede hiervoor was dat leiersfigure in die party, onder andere oud-gesuiwerdes soos D.F. Malan, J.G. Strijdom, C.R. Swart, N.J. van der Merwe, Paul Sauer en H.F. Verwoerd, hom met minagting as 'n opportunis bejeën het weens sy optrede in die smeltersregering van 1934 tot 1939. Dié man, wat vir jare 'n ongenaakbare vyand van die gesuiwerdes se republikanisme was, het oornag ná 4 September 1939 in 'n vurige republikein ontluik. Sodanige drastiese aanpassings van sy politieke beginsels, tesame met sy ooglopende brandende begeerte om die leier van Suid-Afrika te word, het tot gevolg gehad dat hy beskou is as iemand wie se enigste politieke beginsel sy eie ambisies was.2 A.L. Geyer, redakteur van Die Burger, het hierdie siening soos volg opgesom, " Pirow, wie se aandeel in die politiek is die bevordering van die politieke belange van Oswald Pirow."3

Pirow het die Afrikaner se soeke na 'n nuwe politieke bestel uitgebuit met die stigting van die nasionaal-sosialistiese NO op 25 September 1940 as 'n studiegroep binne die HNP. Hy het 'n kantoor vir die beweging in Pretoria geopen, 'n betaalde organiseerder aangestel, en lede begin werf. Sestien HNP-parlementslede, waarvan vyftien voormalige VP-volksraadslede was, het by die NO aangesluit. Pirow, wat gedurende 'n Europese besoek in 1938 die fascistiese leiers Salazar, Franco, Hitler en Mussolini ontmoet het, het homself as 'n kenner van nasionaal-sosialisme voorgehou. In 'n pamflet getiteld Nuwe Orde vir Suid-Afrika, het hy aangekondig dat die ou orde van 'n Britse imperiaal-beheerde en kapitalisties-gedomineerde parlementêre stelsel (volgens hom die bron van alle ellende en verdriet in Suid Afrika) uitgedien was. 'n Nuwe politieke orde was nodig om die verkwistende en ondoeltreffende parlementêre stelsel te vervang. Volgens hom kon demokrasie nie die uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig gestaar het, die hoof bied nie. Die Afrikaner moes die voorbeelde van Duitsland, Italië, Spanje en Portugal nastreef, deur 'n outoritêre politieke stelsel, gegrond op staatsgesag en volksdissipline, aan te hang. Dit het vereis dat die demokrasie met wortel en tak uitgeroei moes word. Aangesien die beheer van Suid-Afrika die voorreg van die Afrikaner was, moes alle anti-nasionale, onnasionale en onopneembare elemente uitgesluit word. Jode moes verbied word om Suid-Afrika te betree, en dié wat hulle na 4 Augustus 1914 in Suid-Afrika gevestig het, moes as onwettige immigrante sonder enige regte behandel word.4

Vir die oud-gesuiwerdes in die HNP was die stigting van die NO 'n groot verrassing, aangesien Pirow voor September 1939 'n uitgesproke kritikus van nasionaal-sosialisme en anti-Semitisme was.5 In onderhandelinge rondom die stigting van die HNP het hy nie 'n enkele woord oor 'n nuwe orde geopper nie.6 Toe dit egter lyk asof Duitsland na Junie 1940 besig was om die oorlog te wen, het hy skielik na vore getree as 'n bewonderaar van nasionaal-sosialisme, en as anti-Joods.7 Vir 'n gewalgde Geyer was Pirow 'n patetiese individu wat op 'n Duits-gedikteerde vrede gedobbel het in die hoop dat Hitler hom as Suid-Afrika se heerser sou aanwys.8 D.F. Malan was net so ontsteld omdat hy nasionaal-sosialisme as 'n ernstige bedreiging vir die demokrasie en die Afrikaner beskou het.9 Alhoewel hy soos ander senior HNP-leiers pro-Duits en anti-Brits was, was hy beslis nie 'n Nazigesinde nie.10 Op 20 November 1940 het hy tydens 'n toespraak in Boksburg gewaarsku dat 'n nuwe politieke orde nóg op papier uitgewerk, nóg op die volk afgedwing kon word. Dit moes na sy mening uit die volk self gebore word.11 In dié verband het hy die volle steun van senior lede van die HNP geniet. Vir J.G. Strijdom, leier van die Transvaalse HNP, en H.F. Verwoerd, redakteur van Die Transvaler, was nasionaal-sosialisme vreemd aan die volksaard van die Afrikaner. Die Boererepublieke was demokrasieë, en die Afrikaner se demokratiese tradisie was nou verweef met die Calvinistiese opstand teen pouslike outokrasie. Demokrasie was dus die hoeksteen van die Calvinistiese beskawing.12 Geyer het na vore getree as die mees uitgesproke kritikus van Pirow en die NO. In sy redaksionele kommentaar van 20 November 1940 in Die Burger, onder die opskrif "Ons glo dit nie", het hy die verkondiging van 'n absolute diktatuur, waarin die Afrikaner sy politieke regte sou verloor, ten sterkste veroordeel.

Malan was ook bekommerd dat die vorming van die NO onenigheid in die party sou aanmoedig. Hy het Pirow tydens 'n private gesprek versoek om nie met sy planne voort te gaan nie, maar is geïgnoreer.13 Aangesien Malan nie die NO verbied het nie, kon Pirow aanvoer dat die propagering van sy nuwe orde met eersgenoemde se goedkeuring plaasgevind het.14 Teen die einde van Oktober 1940 het 'n gegriefde Malan by die HNP se Kaaplandse konferensie in Cradock gewaarsku dat hy hom genadeloos teen enige groepvorming binne die party sou verset.15 Hy het dit egter moeilik gevind om teen Pirow op te tree aangesien laasgenoemde deurentyd aangevoer het dat die NO nie 'n bedreiging vir die HNP was nie. Volgens hom het sy studiegroep slegs idees vir die party se oorweging voorgestel, terwyl hy lojaal aan Malan was.16 Sy lojaliteit aan die party is bevestig toe hy op 6 November 1940 geweier het om Hertzog uit die party te volg. Oud-premier Hertzog het die HNP verlaat omdat hy van mening was dat die party se voorgestelde republikeinse planne Engelssprekendes in tweedeklas burgers sou omskep.17

 

PIROW SE PROPAGANDAVELDTOG

Malan en Geyer se openbare waarskuwings het nie 'n demper geplaas op belangstelling in Pirow se visie van 'n nuwe politieke orde nie. Vir talle Afrikaners was die stigting van die NO 'n opwindende gebeurtenis, en Afrikaanse koerante het breedvoerige publisiteit daaraan verleen. Die Vaderland (14 Oktober 1940) het Pirow toegelaat om 'n lang artikel oor die doelstellings van die NO te skryf. Die Volksblad (21 Oktober 1940) het Pirow gehuldig as die man wat aan die volk iets gegee het waaroor met vrug nagedink kon word. Die mees geesdriftige steun was dié van Die Oosterlig wie se redakteur, Otto du Plessis 'n Nazigesinde was. Hy het in Januarie 1941 by die NO aangesluit.18 Pirow se Nuwe Orde vir Suid-Afrika het sewe herdrukke tussen Desember 1940 en Mei 1941 beleef. Die rede hiervoor was dat omstandighede geskik was om die boodskap van nasionaal-sosialisme te versprei. Sedert 1933 was daar talle Nazi-groeperinge in Suid-Afrika, maar hulle was almal klein splinterbewegings met leiers sonder enige geloofwaardigheid. Hulle het dus weinig invloed op die hoofstroom van Afrikanernasionalisme uitgeoefen.19 Duitsland se oorwinnings in Europa, tesame met Pirow se reputasie as 'n bekwame Minister van Spoorweë en Verdediging wat sy portefeuljes gebruik het om armblankes op te hef, het Afrikaners ontvanklik vir sy boodskap gemaak. Die welsprekende Pirow het nasionaal-sosialisme op die mees utopiese wyse as dié oplossing vir die uitdagings en probleme van die moderne wêreld voorgehou. Onkunde oor die werklike aard van nasionaal-sosialisme het talle Afrikaners help oortuig om sy standpunt te aanvaar. Een van hulle was Ben Schoeman, die HNP-parlementslid vir Fordsburg, wat in sy memoires erken het dat hy by die NO aangesluit het sonder om werklik te weet wat die beginsel van die gesagstaat behels. Schoeman het gemeen dat indien die HNP oortuig kon word om die beginsels van die NO te aanvaar, dit die party in 'n gunstige posisie sou plaas ná Duitsland die oorlog gewen het.20 As iemand soos Schoeman, met sy reputasie as individualistiese parlementslid, so maklik deur Pirow oortuig kon word, was daar weinig kans dat 'n armoedige boer, of 'n klerk, 'n kritieser houding sou inneem.

Wat aan die NO geloofwaardigheid verleen het, was dat Pirow sy boodskap as 'n lid van die HNP deur partystrukture versprei het. As lid van die Ossewabrandwag (OB),21 'n kulturele organisasie wat na die Groot Trek-feesvierings van 1938 gestig is, het hy ook hierdie beweging vir sy propagandaveldtog gebruik. Sy boodskap by 'n reeks openbare vergaderings was eenvoudig - dat die parlementêre demokrasie 'n volksvreemde stelsel was wat deur Britse imperialiste soos C.J. Rhodes en A. Milner op die Afrikaner afgedwing is, en dat die tyd aangebreek het om daardie verrotte stelsel te vervang.22 'n Kenmerk van vergaderings was Pirow se emosionele heldeontvangs. Tydens 'n OB-georganiseerde Geloftedag by Coega in die Oos-Kaap het 'n skare van 2 000 hom by die spoorwegstasie in Port Elizabeth ingewag en skouerhoog by die stasiegebou uitgedra. By Coega se Piet Retief-monument het 15 000 geesdriftige mense sy boodskap van vryheid gekoppel aan volksdissipline aangehoor. Nog 'n groot en opgesweepte groep OB-ondersteuners het by die spoorwegstasie met volksliedere van Pirow afskeid geneem.23

Teen die einde van Desember 1940 het 'n bekommerde Geyer in sy politieke notaboek na Pirow verwys as een van die "selfsoekende demagoge" in die HNP, wat Afrikanernasionalisme te radikaal en eksklusief wou maak.24 Hy het rede tot kommer gehad, aangesien dit geblyk het dat Pirow besig was om met die steun van die OB geesdrif vir die nasionaal-sosialistiese ideaal op te bou. Na Januarie 1941, onder die leierskap van F.J. (Hans) van Rensburg, 'n persoonlike vriend van Pirow, het die OB toenemend radikaal geword en tot Malan se ontsteltenis die politieke magsterrein van die HNP betree, en as 'n massabeweging 'n bedreiging vir die party begin inhou. Die golf van ondersteuning vir Pirow en die NO was oënskynlik onstuitbaar.

 

DIE GEREFORMEERDE KERK SE VERWERPING VAN DIE NO

Teen die einde van Januarie 1941 is Pirow se veldtog om NO-propaganda sonder enige openbare kritiek in Afrikanerkringe te versprei, egter gestuit. Die Gereformeerde Kerk, wat bekommerd was oor die onverskillige wyse waarop dié ideologie onder Afrikaners aangemoedig is, het 'n ondersoek na die beginsels van die NO geloods. Die Transvaalse sinode het eenparig die verslag van Dr. C.J.H. de Wet en Dr. J.D. du Toit van die Potchefstroomse teologiese skool aanvaar. Hierdie verslag het die nasionaal-sosialisme van die NO as heidens veroordeel:

Voorop moet staan dat ons as Bybelgelowiges en Calviniste die hoofpunt van die "nuwe orde" geensins kan aanvaar nie, want die "nuwe orde" gaan uit van die vergoddeliking van die staatsmag en vergoding van die nasie as sodanig. Hieruit moet noodsaaklik volg die verloëning van God in sy hoogheid en die opheffing van die selfstandige kringe in die volkslewe, wat ingevolge die uitspraak van die skrif, hul reg van bestaan erlang het, soos bv. Die kerk, die huisgesin, die skool ens. Hierdie hoofbeginsel van die "nuwe orde" is in sy grond heidens en as sodanig die verwerkliking van die staatsgedagte wat ons alreeds by die heidense rykhede van die oudheid vind.25

Aanvanklik het die Gereformeerde Kerk se veroordeling weinig gedoen om die momentum van Pirow se NO-veldtog te stuit. Hy het toe steeds 'n reeks uitnodigings van HNP-kiesafdelings ontvang om openbare vergaderings toe te spreek, en is deur juigende skares van tot 2 000 mense in plekke soos Brixton in Johannesburg en in Mosselbaai ontvang.26 Hoe aanwesiges deur sy retoriek meegesleur is, was treffend sigbaar in Heidelberg in Februarie 1941 toe iemand in die skare luidkeels aan die einde van sy toespraak uitgeroep het: "Ons bring hulde".27

 

DIE HNP SE VERWERPING VAN NASIONAAL-SOSIALISME

Heidelberg was die hoogwatermerk van Pirow se NO-veldtog, wat kort daarna begin stoom verloor het. Die hoofrede hiervoor was dat Malan, wat in Januarie 1941 aangewys is as die hoofleier van die HNP, die NO aktief begin beveg het. Op 28 Februarie 1941 het die Beleidskomitee van die party die NO se beginsels kragtig veroordeel met die verduideliking dat, " 'n voorbarige pleidooi vir die verwerping van die demokrasie vir die Afrikanervolk op 'n ernstige ramp [kan] uitloop." In plaas daarvan om die bestaande ekonomiese en politieke stelsel in sy totaliteit te verwerp, moes dit na hul mening hervorm word. Die koerante wat die HNP ondersteun het, is aangemoedig om hierdie boodskap aan hul lesers oor te dra.28 Daar was ook 'n toenemende ontevredenheid in die HNP dat Pirow toegelaat is om sy eie organisasie binne die party te bedryf. M.D.C. de Wet Nel, Sekretaris van die Transvaalse HNP, het in April 1941 na 'n toer deur die provinsie bevind dat Pirow se gebruik van partystrukture om die partystelsel te verwerp agterdog en onmin aangewakker het, en 'n demoraliserende uitwerking op partylede gehad het.29

Malan se veldtog om Pirow polities te neutraliseer is deur die Nederduits Hervormde Kerk en die Nederduits Gereformeerde Kerk se veroordeling van die NO gesteun. Professor G.M. Pellisier van die Nederduits Hervormde Kerk se teologiese fakulteit (verbonde aan die Universiteit van Pretoria) het aangevoer dat dit die plig van die kerk was om te kritiseer, en beswaar aan te teken teen enige organisasie, of politieke stelsel, wat die vryheid van die individu ondermyn.30Die Kerkbode, die invloedryke mondstuk van die Nederduits Gereformeerde Kerk, het in Maart 1941 die beoogde nuwe orde veroordeel as staatsvergoding en mensverheerliking aan die hand van 'n uitheemse ideologie.31 Die kerke se verdoeming van nasionaal-sosialisme was 'n terugslag vir Pirow, aangesien hulle groot invloed onder Afrikaners uitgeoefen het. As teenvoeter het hy aangevoer dat Paul Kruger die eerste nasionaal-sosialis in Suid-Afrika was, en dat hy slegs die voormalige president se idees by huidige omstandighede aangepas het.32 Hierdie poging tot skadebeheer kon egter nie die kerklike verdoeming teenwerk nie. 'n Belangrike rede hiervoor was dat Verwoerd met sy redaksionele kommentaar in Die Transvaler van Maart en April 1941 die totalitêre aard van nasionaal-sosialisme beklemtoon het. Die gevolg was dat Afrikaners die NO vanuit 'n kritieser ingesteldheid begin beskou het. Ben Schoeman het, nadat hy ten volle besef het wat 'n nasionaal-sosialistiese gesagstaat behels het, sy rug op Pirow en die NO gedraai.33 P.J. Meyer, wat in Maart 1941 as 'n Broederbondbeampte die Oos-Kaap besoek het (waar Pirow 'n aantal suksesvolle vergaderings toegespreek het) het met gemak sy mede-Broeders oortuig om die beginsels van die NO te verwerp.34 'n Verdere doeltreffende wapen teen Pirow was die aanklag dat hy 'n opperste manteldraaier sonder enige beginsels was, wat slegs nasionaal-sosialisme aangehang het omdat hy geglo het Duitsland sou die oorlog wen.35 Dit het talle Afrikaners oortuig om Pirow se motiewe met die NO met agterdog te bejeën. J.H. Theron het in 'n brief aan Die Oosterlig namens menige gepraat toe hy daarop gewys het dat Pirow steeds in die kabinet saam met Smuts sou gewees het, asook vyandig teenoor Afrikanernasionaliste, as dit nie vir die oorlog was nie.36

 

DIE MARGINALISERING VAN DIE NO

Aansluitend by die propagandaveldtog teen die NO het Malan begin om Pirow binne die HNP te isoleer. Op 9 April 1941 het die Federale Raad van die party die NO se verwerping van demokrasie, en die aanhang van nasionaal-sosialisme, as vreemd aan Afrikanertradisies en -volksaard veroordeel. Die Hoofkomitee van die Transvaalse HNP het op 10 Mei 1941 die besluit van die Federale Raad bevestig, en verklaar dat die HNP die demokraties-gegronde stelsel van die voormalige Boererepublieke in 'n toekomstige republiek sou toepas.37 Op 3 Junie 1941 het Malan by die party se nasionale kongres in Bloemfontein - in 'n tydperk waarin Duitsland as onoorwinlik bestempel is - nasionaal-sosialisme verwerp, en die skepping van groeperings binne die party veroordeel. Hy het die volle steun van die kongres geniet. Pirow het aandagtig na Malan geluister en aantekeninge gemaak maar nie 'n woord van beswaar geuiter nie.38 Pirow se stilswye kan daaraan toegeskryf word dat hy besef het dat hy nie langer die nasionaal-sosialistiese ideaal deur middel van partykanale kon versprei nie, en hy daarvan oortuig was dat die NO ná sy propagandaveldtog omvattende steun op voetsoolvlak geniet het. Dit verklaar sy uitdagende en arrogante toespraak op 14 Junie tydens 'n stryddag in Brits. Hy was vasbeslote om voort te gaan met nasionaal-sosialistiese propaganda, en het geglo dat die verwerping daarvan op onkunde oor die NO se beginsels gegrond was.39 Die Cape Times van 20 Junie 1941 het die toespraak as 'n "over-weening self-assurance in the face of his party bosses" beskryf.

Pirow het verder op die tone van die HNP-leierskap getrap deur die NO as die enigste skans teen die kommunistiese bedreiging voor te hou.40 Vir Verwoerd was Pirow se selfopgestelde taak as redder van die Afrikaner net 'n set om die HNP se steun aan parlementêre demokrasie onder verdenking te bring. Vir hom was dit die finale strooi, en hy het ongeduldig daarop aangedring dat Malan teen die NO optree.41 In Die Transvaler van 7 en 8 Augustus het hy Pirow se standpunt oor die NO en kommunisme as 'n diep belediging vir die Afrikaner uitgekryt. Volgens hom het die Afrikaner nie 'n ingevoerde lewensbeskouing nodig gehad om staatkundige of geestelike weerstand teen die kommunisme te bied nie. Malan het op 8 en 9 Augustus 1941 by openbare vergaderings in Nylstroom en Rustenburg tot die aanval oorgegaan deur nasionaal-sosialisme as onversoenbaar met die omstandighede, tradisie en volksaard van die Afrikaner te verdoem.42 By die Transvaalse kongres van die HNP het Malan sy finale aanslag teen die NO geloods. Strijdom het 'n mosie ingedien dat partylede geen ander beleidsrigting as die amptelike beleid van die HNP kon verkondig nie. Van die 600 konferensiegangers het slegs 20 teen die mosie gestem. Die NO is in werklikheid deur die party tot 'n verbode organisasie verklaar.43 Selfs 'n toegewyde Nazigesinde soos Otto du Plessis het gevolglik uit die NO bedank.44

Wetend dat daar geen toekoms vir hom in die HNP was nie, het Pirow geweier om hom by die konferensie se besluit neer te lê. Met 16 ander parlementslede het hy 'n verklaring uitgereik dat daar voortgegaan sou word om NO-propaganda te versprei.45 Sy hoop was om uit die HNP geskors te word en sodoende simpatie en steun, veral onder OB-lede, te wen. In die aanloop tot die Transvaalse konferensie het dit gelyk asof Van Rensburg Pirow onder sy beskerming geneem het, deur die HNP se veldtog teen hom as 'n ketterjag af te maak, en te verklaar dat nasionaal-sosialiste in die OB welkom was.46 Met die besef dat Pirow uit die party geskop wou word om homself as 'n martelaar voor te hou, het Malan geen dissiplinêre stappe geneem nie.47 Pirow het intussen voortgegaan om Afrikaners te probeer oortuig dat nasionaal-sosialisme nie volksvreemd was nie, en tot hul voordeel sou strek:

Die Nuwe Orde is geen Duitse stelsel nie. In Suid-Afrika sal dit 'n Afrikaanse nasionaal-sosialisme wees. Ons kyk nie na die meerderheid van kiesers nie. Ons plan is om almal te ontkieser wat nie bereid is om hul Afrikanerskap uit te leef nie. Ons gaan nie wag op mooiweersvriende nie. In die toekoms sal net een deel tel, en dit is die stem van die regte Afrikaners. Dit is in hierdie rigting wat ons die volk wil lei en aan die party 'n leidraad gee. ... Ons staan die diktatuur van die ware Afrikanerdom voor.48

Hierdie standpunt het op 22 September steun ontvang van Hertzog (vir wie hy gereeld op sy plaas besoek het) wat verklaar het dat nasionaal-sosialisme inherent deel van die Afrikaner se volksaard was.49 Hertzog se aankondiging het die NO nie gebaat nie. Dit het opvattings versterk dat Pirow 'n opportunis was wat 'n eensame en verbitterde ou man tot sy eie politieke voordeel gemanipuleer het.50 Vir Pirow was Van Rensburg en Hertzog se uitlatings egter tekenend van steun onder Afrikaners. Daarbenewens het die NO se konferensie teen die einde van September 1941 besluit dat sy parlementslede sou voortgaan met hul nasionaal-sosialistiese propaganda in die parlementêre koukus van die HNP totdat hulle uitgesit word.51

 

PIROW SE BEDANKING UIT DIE HNP

Onder die leierskap van Van Rensburg het die OB 'n anti-demokratiese en ekstreme beweging geword. Sommige lede, soos die Stormjaers, het hul tot sabotasie teen die Smutsregering gewend.52 Malan,wat bekommerd was oor die OB se betreding van die HNP se terrein as die politieke verteenwoordiger van die Afrikaner, asook die groeiende militantheid van sommige lede, was vasbeslote om die invloed van die beweging onder Afrikaners teë te werk. In Oktober 1941 is HNP-lede beveel om uit die OB te bedank, iets wat 'n groot aantal terstond gedoen het.53 Met die oog op 'n moontlike bondgenootskap met die OB, het Pirow uit sy pad gegaan om uit die party geskop te word. Op 8 November 1941 het hy verklaar dat hy nie met die HNP se parlementêre koukus sou saamwerk nie, tensy hy met hul goedkeuring nasionaal-sosialistiese propaganda kon versprei.54 Malan het nie daarop gereageer nie, aangesien hy oortuig was dat die NO binne enkele maande uit die parlementêre koukus sou verdwyn. Daar was geen moontlikheid dat Pirow en sy volgelinge tydens die komende algemene verkiesing van 1943 'n nominasiestryd vir die amptelike kandidatuur van die party in hul kiesafdelings kon wen nie.55

Pirow, gefrustreer deur Malan se stilswye, was vasbeslote om 'n situasie te skep wat die HNP geen keuse sou laat as om teen hom op te tree nie. Daardeur sou die indruk geskep word dat die party besig was om volkseenheid te ondermyn. Op 12 Januarie 1942 het C.W.M. du Toit, Pirow se regterhand, vir Paul Sauer (die HNP se hoofsweep) genader om 'n spesiale koukusvergadering te belê oor die kwessie of parlementslede wel lede van die NO en OB mag wees. Sauer het die versoek geweier, aangesien 'n roetine koukusvergadering ses dae later moes plaasvind. Pirow het hom toe tot Malan gewend en aangedring dat 'n vergadering noodsaaklik was vir party- en volkseenheid. Ook hierdie versoek is van die hand gewys. Pirow het daarop verklaar dat NO-lede nie meer koukusvergaderings sou bywoon nie aangesien Malan klaarblyklik niks vir die herstel van vertroue onder partylede, of die herstel van volkseenheid gevoel het nie. Hulle sou nie as lede van die HNP bedank nie, maar wel as 'n selfstandige parlementêre groep optree.56 Malan, vasbeslote om Pirow enige status as 'n martelaar te ontneem, het hom en sy volgelinge nie geskors nie. Die uiteinde was dat die gefrustreerde NO-parlementslede op 26 Januarie 1942 weens Malan se beweerde swak leiding as HNP-lede bedank het.

 

DIE POLITIEKE WILDERNIS

Na sy bedanking uit die HNP-koukus het daar 'n skok op Pirow gewag. Op 20 Januarie 1942 het die OB enige hoop op 'n moontlike bondgenootskap vernietig deur te verklaar dat die beweging hom nie tot enige party-formasie wou verbind nie.57 Alhoewel Van Rensburg 'n persoonlike vriend van Pirow was het hy hom nie hoog geag as politikus nie. Aan sy adjudant, Heimer Anderson, het hy laat blyk dat Pirow dom was wat die politiek betref, en dat hy nooit enige raad van hom sou aanvaar nie.58 Van Rensburg moes ook in ag neem dat Pirow, met sy Duitse agtergrond, vir talle in die OB nie 'n ware Afrikaner was nie. Hy is in Suid-Afrika gebore, maar in Duitsland geskool en Duits was sy huistaal, terwyl hy nie 'n lidmaat van enige van die Afrikaanse susterskerke was nie. Soos 'n senior OB-lid dit aan Nic Deacon, 'n NO-organiseerder, probeer verduidelik het:

Ek kan dit nie vir jou beskryf nie. As jy nie die aanvoeling as 'n Afrikaner het wat die verskil tussen Pirow en jouself is nie, dan kan ek dit eintlik nie verduidelik nie, maar hy val nie in dieselfde geestesveld as die deursnee-Afrikaner of die goeie Afrikaner [...] nie.59

Dan was daar ook die vrees onder senior OB-lede dat Pirow met sy reputasie as 'n opportunis die beweging vir sy eie ambisie wou misbruik.60 Daarbenewens was talle vuurvreter OB-lede van hom vervreem nadat hy die Stormjaers se sabotasiedade veroordeel het. Hy is met minagting as 'n blote prater beskou wat niks gedoen het om Britse imperialisme te beveg nie.61 Met die OB se verwerping van enige bondgenootskap was Pirow vasgevang in 'n politieke niemandsland tussen die HNP en OB. Tog was daar steeds die hoop op 'n militêre oorwinning deur Nazi-Duitsland. In 'n internasionale wêreldorde wat dan deur Hitler en nasionaal-sosialisme oorheers sou word, sou die NO 'n posisie van krag inneem. Met die oog op 'n uiteindelike Duitse oorwinning was dit dus noodsaaklik om die NO aan die gang te hou, maar die organisasie was in werklikheid gedoem.

Talle faktore was vir die NO se wegkwyning verantwoordelik. Die belangrikste was dat die die HNP die beweging as vyandiggesind afgemaak het.62 Op 6 Februarie 1942 het Malan tydens 'n openbare vergadering in Piketberg 'n verdoemende aanval op Pirow geloods. Hy het daarop gewys dat Pirow, nadat hy nie 'n posisie van leierskap in die HNP kon verkry nie, uit persoonlike ambisie met die NO op 'n Duitse oorwinning gedobbel het. Aan die hand van 'n Bybelse gelykenis het hy verduidelik waarom hy getalm het om teen Pirow op te tree: 'n Vyandiggesinde persoon het in die nag onkruid in 'n skoon akker gesaai, maar die onkruid kon nie onmiddellik uitgetrek word nie, omdat dit die jong gewasse sou beskadig. Met oestyd kon daar egter duidelik tussen koring en onkruid onderskei word. Danksy sy tydsame benadering, het Malan aangevoer, kon die volk nou die onkruid identifiseer wat in die nag onder die Afrikaner gesaai is. Hierdie kragtige toespraak, wat landswyd deur die Afrikaanse pers versprei is, het enige moontlike geloofwaardigheid vernietig wat Pirow nog onder Afrikaners geniet het.63

'n Verdere onoorkombare struikelblok in die weg van die NO was die kerklike standpunt dat die Afrikaner se Calvinisme en die ideologie van nasionaal-sosialisme onversoenbaar was. Dit is deur professor H.G. Stoker, 'n dosent in Filosofie verbonde aan die universiteit in Potchefstroom, in 'n persoonlike brief aan Pirow oorgedra. Hy het daarop gewys dat hy met die NO se stryd teen liberalisme en kommunisme akkoord gegaan het, maar dat die Calvinisme 'n fundamentale kenmerk van die Afrikaner was, wat gevolglik nasionaal-sosialisme onaanvaarbaar vir hulle gemaak het. Deur nasionaal-sosialisme aan te hang, was Pirow strydig met diepgewortelde kragte in die Afrikaner se volkslewe en volksgeloof.64 Die aggressie en brutaliteit wat Nazi-Duitsland in sy besette gebiede uitgeoefen het, het ook talle Afrikaners van die NO vervreem. In 'n brief aan Die Oosterlig het A. van Tonder daarop gewys dat die HNP nie die rol van 'n Quisling65vir Duitse imperialisme moes speel nie. Die Afrikaner-ideaal het 'n onafhanklike Suid-Afrika vooropgestel wat Britse en Duitse imperialisme verwerp het.66 Talle Afrikaners is ook vervreem deurdat NO-parlementslede oorwegend op die propagering van nasionaal-sosialisme gefokus het, eerder as om na die plaaslike belange van hul kiesers om te sien. So het A.A. le Roux aan J.M. Conradie, VP-parlementslid vir Rustenburg, oor sy NO-volksraadslid (vermoedelik Jan Grobler van Brits) gemor:

Ek wil graag 'n versoek aan jou rig, want ons lid is nou in daardie opsig 'n nul. Hy is besig met 'n nuwe order, en wie hom die order gegee het weet ek nie, hy praat in elkgeval van so 'n Nuwe Orde, omdat Pirow so praat.67

Hoe moeilik dit was om lede vir die NO te werf, blyk uit die ervaringe van Rudolph Hiemstra, 'n voormalige lugmagoffisier wat uit die weermag bedank het omdat hy nie teen Duitsland wou veg nie. As'n NO-amptenaar kon hy nie sy mede-offisiere, wat ook bedank het, oortuig om by die organisasie aan te sluit nie.68 Met sy sewentien volksraadslede en gebrek aan steun op voetsoolvlak is daar spottend na die NO verwys as 'n "collection of generals without an army".69 Pirow se laaste hoop op politieke oorlewing met die NO het in Januarie 1943 verdwyn met die vernietiging van die Duitse Sesde Lëer by Stalingrad. Hierdie rampspoedige terugslag, gepaardgaande met die toenemende militêre betrokkenheid van die Verenigde State van Amerika, het Duitsland se nederlaag onvermydelik laat lyk. Teen hierdie agtergrond het Pirow teen die einde van Maart 1943 aangekondig dat die NO nie die komende parlementêre verkiesing sou betwis nie. Met die ontbinding van die parlement was Pirow volgens die Britse hoë kommissaris 'n gebroke man.70

Pirow het na 1943 desperaat, maar sonder enige sukses, gepoog om die NO as 'n anti-kommunistiese organisasie te laat herleef. Teen die vroeë 1950's het die organisasie in die niet verdwyn, en Pirow sou nooit sy weg uit die politieke wildernis vind nie. Alhoewel hy in 1958 as hoofaanklaer in die Hoogverraadsaak (die verhoor van 'n groot aantal anti-apartheid aktiviste) aangestel is, het die leierskap van die Nasionale Party hom nooit vir sy handelinge met die NO vergewe nie. Hy is in 1959 as 'n politieke uitgeworpene oorlede.

 

GEVOLGTREKKING

Pirow se aanvanklike sukses met die verspreiding van NO-propaganda was die gevolg van unieke heersende omstandighede in Suid-Afrika. Dit het die politieke veld vir enkele maande vir hom oopgelaat om nasionaal-sosialisme sonder enige kritiek, of teenstand, onder Afrikanernasionaliste te versprei. Nadat die Afrikaanse kerke en die HNP besef het watter bedreiging Pirow en die NO vir Suid-Afrika ingehou het, is daarop gewys dat nasionaal-sosialisme 'n totalitêre ideologie was wat met die demokratiese tradisies van die Afrikaner gebots het, en die volk sou benadeel. Daar is ook aangevoer dat Pirow se verkondiging van 'n nuwe politieke orde 'n daad van opportunisme was. Die gevolg was dat die NO met 'n toenemende kritiese houding deur Afrikaners bejeën is. In die woorde van Malan is Pirow as onkruid tussen die koring beskou. Afrikaners het dus hul rug op die NO begin draai, en die organisasie het stelselmatig weggekwyn. Alhoewel die aanklag dat Pirow 'n opportunis was wel 'n rol gespeel het, was die Afrikaanse kerke en die HNP se verwerping van die totalitêre aard van nasionaal-sosialisme, in 'n tydperk toe dit gelyk het asof Nazi-Duitsland besig was om die oorlog te wen, die beslissende faktor in die verwerping van sowel die NO as Pirow.

 

 

 

FA MOUTON (DPhil, Universiteit van Pretoria) is Professor in Geskiedenis by die Universiteit van Suid-Afrika. Hy is 'n NRF-gegradeerde navorser en die outeur van verskeie boeke oor twintigste-eeuse Suid-Afrikaanse politieke persoonlikhede soos Margaret en William Ballinger, Schalk Pienaar, F.S. Malan en die leiers van die amptelike parlementêre opposisie tussen 1910 en 1993. Hy is tans besig met 'n biografie oor Oswald Pirow.
FA MOUTON (DPhil, University of Pretoria) is Professor of History at the University of South Africa. He is an NRF-rated researcher and author of a number of books on twentieth-century South African political figures such as Margaret and William Ballinger, Schalk Pienaar, F.S. Malan, and the leaders of the official parliamentary opposition between 1910 and 1993. At present he is working on a biography on Oswald Pirow.
1 Vir 'n oorsig van Pirow se politieke loopbaan sien F.A. Mouton, '"Fascist or opportunist?" The political career of Oswald Pirow, 1915-1943', Historia, November 2018, pp. 93-111.
2 D. en J. de Villiers, Paul Sauer (Kaapstad, Tafelberg-Uitgewers, 1977), pp. 35, 69.
3 Wes-Kaapse Provinsiale Argief (hierna WKPA), Kaapstad, A.L. Geyerversameling, vol. 3, Politieke notaboek, 9 September 1939.
4 Universiteit van die Vrystaat (hierna UVS), Argief vir Eietydse Aangeleenthede (hierna AEA), Oswald Pirowversameling, vol 2, Oswald Pirow, Nuwe Orde vir Suid-Afrika.
5 G.H. Calpin, There are no South Africans (London, Thomson Nelson and Sons, 1941), p. 391; Die Burger, 6 Maart 1939; M. Shain, A perfect storm: Antisemitism in South Africa 1930-1948 (Johannesburg, Jonathan Ball Uitgewers, 2015), pp. 9, 92.
6 Die Transvaler, 11 Augustus 1941.
7 Nasionale Argief Pretoria, J.G. Strijdomversameling, vol. 52, J.G. Strijdom - CR. Swart, 7 Desember 1940.
8 WKPA, A.L. Geyerversameling, vol. 3, Politieke notaboek, 23 Mei 1941.
9 D.F. Malan, Afrikaner volkseenheid en my ervarings op die pad daarheen (Kaapstad, Nasionale Boekhandel, 1959), p 190. Malan se aantekening op NO-literatuur in sy persoonlike versameling, Universiteit van Stellenbosch (hierna US), D.F. Malanversameling, 1/1/1750, "Advokaat Pirow aan die woord voor studiekring, 27 February 1941" en 1/1/170, Nuwe Orde Bulletin no. 6, 20 November 1940, toon sy verwerping van nasionaal-sosialisme.
10 H. Giliomee, Die Afrikaners: 'n biografie (Kaapstad, Tafelberg, 2004), pp. 394-395.
11 Die Transvaler, 21 November 1940.
12 J.L. Basson, JG Strijdom. Sy politieke loopbaan van 1929 tot 1948 (Pretoria, Wonderboom-Uitgewers, 1980), pp. 362-363, 366.
13 US, D.F. Malanversameling, 1/1/1751, A.L. Geyer - Otto du Plessis, 1 Maart 1941.
14 US, D.F. Malanversameling, 1/1/1749, S. Bekker - P.R. Botha, 12 Februarie 1941.
15 Die Burger, 31 Oktober 1940.
16 Die Burger, 23 November 1940.
17 Die Burger, 9 November 1940.
18 C.F.J Muller: Sonop in die suide: Geboorte en groei van die Nasionale Pers 1915-1948 (Kaapstad, Nasionale Boekhandel, 1990), pp. 599-600.
19 P.J. Furlong, Between crown and swastika: The impact of the radical right on the Afrikaner nationalist movement in the fascist era (Johannesburg, Wits, 1991), p. 22.
20 B. Schoeman, My lewe in die politiek (Johannesburg, Perskor, 1978), pp. 79-81.
21 Tot September 1939 was hy 'n kritikus van die OB wat as Minister van Verdediging offisiere in die Unie Verdedigingsmag verbied het om lede van die beweging te wees. (Die Suiderstem, 8 Mei 1939)
22 Die Vaderland, 15 Februarie 1941.
23 Die Burger, 18 Desember 1940.
24 WKPA, A.L. Geyerversameling, vol. 3, Politieke notaboek, 27 Desember 1940.
25 Die Burger, 1 Februarie 1941.
26 Die Vaderland, 3 Maart 1941; Die Burger, 26 April 1941.
27 Die Transvaler, 19 Februarie 1941.
28 US, D.F. Malanversameling, 1/1/1751, A.L. Geyer - Otto du Plessis, 1 Maart 1941.
29 Furlong, Between crown and swastika, p. 162.
30 Die Burger, 11 Maart 1941.
31 A. Olivier, Bode op die spoor van die woord: 150 jaar met Die Kerkbode (Kaapstad, Lux Verbi, 1998), p. 134.
32 Die Vaderland, 3 Maart 1941.
33 Schoeman, My lewe in die politiek, p. 82.
34 US, D.F. Malanversameling, 1/1/1755, P.J. Meyer - D.F. Malan, 15 Maart 1941.
35 Die Transvaler, 1 en 13 Augustus 1941.
36 UVS, AEA, J.H.O. du Plessisversameling, J.H. Theron - Du Plessis, 13 Augustus 1941.
37 Basson, JG Strijdom, pp. 361-362, 365 -367
38 WKPA, A.L. Geyerversameling, vol. 3, Politieke notaboek, 6 Junie 1941.
39 Die Vaderland, 16 Junie 1941.
40 Die Vaderland, 26 Junie 1941.
41 US, D.F. Malanversameling, 1/1/1827, Verwoerd - Malan, 28 Julie 1941.
42 Die Transvaler, 11 Augustus 1941; Die Burger, 9 Augustus 1941.
43 Die Transvaler, 15 Augustus 1941.
44 UVS, AEA, H.O. du Plessisversameling, E. Pirow - Du Plessis, 10 September 1941.
45 Die Transvaler, 13 Augustus 1941.
46 C. Marx, Oxwagon sentinel: Radical Afrikaner nationalism and the history of the Ossewabrandwag (Pretoria, Unisa, 2008), p. 416.
47 F.J. Van Heerden, 'Nasionaal-sosialisme as faktor in die Suid-Afrikaanse politiek, 1933-1948', (Ongepubliseerde D.Phil, Universiteit van die Oranje-Vrystaat, 1972), pp. 232-333.
48 US, D.F. Malanversameling, 1/11847, Afskrif van Pirow se toespraak. Capital Park, Pretoria, 30 Augustus 1941.
49 J.H. Le Roux, P.W. Coetzer, A.H. Marais, Generaal J.B.M Hertzog: Sy strewe en stryd, Vol II, (Johannesburg, Perskor, 1978), pp. 737-749.
50 The Star, 25 Oktober 1941.
51 Basson, JG Strijdom, p. 375.
52 Furlong, Between crown and swastika, pp. 142-145.
53 L. Korf, 'D.F. Malan: A political biography' (Ongepubliseerde D. Phil tesis, Universiteit van Stellenbosch, 2010), p. 412.
54 Basson, JG Strijdom, p. 377.
55 Die Transvaler, 14 November 1941.
56 US, D.F. Malanversameling, 1/1/1940, Du Toit - Sauer, 12 Januarie 1941, 1/1/1943, Pirow - Malan, 13 January 1942, 1/1/1945, Pirow - Malan, 14 Januarie 1942.
57 Van Heerden, 'Nasionaal-sosialisme as 'n faktor in die Suid-Afrikaanse politiek, 1933-1948', p. 278.
58 Noordwes-Universiteit (NU), OB-argief, Onderhoud met H. Anderson, Band nrs. 16-18, geen datum.
59 NWU, OB-argief, Onderhoud met Nic Deacon, Band nr. 69, Januarie 1975.
60 NA Archives, Kew, DO35/588/3, High Commissioner's despatch, 18 Mei 1942.
61 NWU, OB-argief, Onderhoud met H. Anderson, Band nrs. 16-18, geen datum.
62 P.W. Coetzer, Die Nasionale Party, Deel V, Van oorlog tot oorwinning, 1940-1948 (Bloemfontein, INEG, 1994), pp. 78-79.
63 Die Burger, 7 Februarie 1942.
64 H.G. Stoker - Pirow, 26 September 1942. (Die brief is in die private besit van Prof. P. Stoker, Potchefstroom. Ek is dank verskuldig aan Victor Correira vir 'n afskrif van die brief.)
65 Vidkun Quisling was 'n Noorweegse nasionaal-sosialis wat in 1940 Duitsland met die inval en besetting van sy vaderland bygestaan het.
66 UVS, ACA, J.H.O. du Plessisversameling, A. van Tonder - J.H.O Du Plessis, 13 Augustus 1941.
67 Unisa, Verenigde Party Argief, J.M. Conradieversameling, File 9 Correspondence 1940, A.A. Le Roux - J.M. Conradie, geen datum.
68 R.C. Hiemstra, Die wilde haf (Kaapstad, Human & Rousseau, 2001), p. 217.
69 M. Roberts & A.E.G. Roberts, The South African opposition 1939-1945. An essay in contemporary history (Kaapstad, Longmans, Green and CO, 1947), p. 147.
70 NA Kew, DO 35/111p, File G581/18, High Commissioner's despatch, 4 Junie 1943.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons