SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 número2Mother tongue in the church: The Apostolic Faith Mission of South Africa (AFM of SA) and Afrikaans as an illustration of the role of mother tongue in the churchTheological contributions for teacherhood índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.59 no.2 Pretoria Jun. 2019

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2019/v59n2a2 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Uitdagings ten opsigte van taaldiversiteit in kerke: Die eenheid van die kerk en taal

 

Challenges of the diversity of languages in churches: The unity of the church and language

 

 

Pieter Verster

Sendingwetenskap, Departement Praktiese en Missionale Teologie, Universiteit van die Vrystaat. E-pos: versterp@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die eenheid van die kerk is van die grootste belang vir die Christelike godsdiens. Onlangs het die teoloog, Bram van de Beek, die standpunt ingeneem dat die taal wat algemeen om die nagmaalstafel aanvaarbaar is ter wille van eenheid gebruik moet word, dus Engels. Volgens hom moet die eenheid van die kerk uitgedruk word waar almal rondom die nagmaalstafel teenwoordig is en dit kan alleen geskied indien daar van een taal sprake is. Daar kan met Van de Beek saamgestem word dat die eenheid van die kerk inderdaad ononderhandelbaar is. Die volgende vrae moet egter indringend ondersoek word: Waarin is die eenheid van die kerk geleë? Hoe moet die eenheid rondom die nagmaalstafel gestalte kry? Hoe kan en moet taalverskille hanteer word? Hoe moet die erediens ingerig word indien daar verskeie tale in 'n gemeenskap voorkom? Sou die uitsluitlike gebruik van 'n gemeenskaplike taal, in dié geval Engels, nie juis weersin wek en die eenheid skend nie? Is taal in die uitdrukking van die Christelike godsdiens nie juis ook betekenisvol nie? Binne die NG Kerk-familie is daar verskeie gemeentes wat verskeie tale, selfs binne een erediens, bedien deur tolking of herhaling van die preek. Die kosbaarheid van 'n eie taal is skeppingsmatig van groot belang. Eenheid en verskeidenheid moet dus nie teenoor mekaar gestel word nie, maar inisiatiewe om eie tale te bevorder sonder om die kerk te versplinter moet oorweeg word.

Trefwoorde: Kerk, eenheid, nagmaal, taal, Engels, verskeidenheid, Johannes 17, ruimte vir mekaar, respek


ABSTRACT

The unity of the church is of utmost importance for Christian religion. There is a wide variety of churches and faith communities. Even within churches of the same belief there are cultural and language differences. The theologian Bram van de Beek recently expressed the opinion that the language that is generally accepted for the communion table, i.e. English, should be used for the sake of unity. According to him, the unity of the church must be expressed around the communion table, where everyone is present and it can only be done if one language is used. We can agree with Van de Beek that the unity of the church is indeed non-negotiable. Therefore, the ideas of exponents who emphasize the unity of the church should be taken seriously and further investigated. In this regard, the special contributions by Philip Theron, Johan Heyns, and Dirkie Smit should be considered. Theron emphasizes the importance of the church as an eschatological gift that is not determined by creation, and thus points out that the unity determines the church. Heyns leaves open the possibility that the church may display diversity because the church must also be understood from creation, but it should show that it should never violate the unity. Variety may occur but must not necessarily occur. Smit, in turn, points to the unity of the church as instruction that cannot be violated by any form of position or culture. Belhar's Confession is of great importance in this regard. In the evaluation of this point of view, John 17 is especially explored. The unity of the Father and the Son also determines the unity of the church. That unity is specifically the unity of faith in Jesus Christ. It is shown as confessional and not as structural. However, the relationship in community with one another is of utmost importance. Communion is also an expression of the relationship in community with one another. The function of language in the church in the light of unity is therefore important. In addition, the following questions must be considered incisively: Wherein lies the unity of the church? How should the unity around the communion table be structured? How can and should language differences be dealt with? How should worship be set up if there are several languages used in a community? Would the sole use of a common language, in this case English, not just worsen and violate the unity? Is language in the expression of the Christian religion also not really significant? Within the family of the Dutch Reformed Church there are several congregations that offer sermons in various languages, even within one worship service, by interpreting or repeating the sermon. The value of a native language is creatively of great importance. Language is therefore not a coincidence. It is argued in this article that language is dynamic and that the development of an own language can also lead to new relationships in religion. Respect for each other leads to recognition of the other and, consequently, to deep Christian confidence. There are examples of congregations that accommodate several languages, such as Afrikaans, English, Sesotho, and even Chinese, in different worship services under one roof and where opportunities are created where everyone meets around the communion table and the sermon and formula used before the communion are interpreted or repeated. However, language should never be exclusive and used to prevent people from becoming part of the community of faith, or prevent them from attending a worship service, or participating in communion. Unity and diversity must therefore not be set against each other, but there must be an initiative to promote own languages without annulling the church.

Key words: Church, unity, holy communion, language, English, John17, accommodating one another, respect


 

 

1. INLEIDING

Die eenheid van die kerk is van die allergrootste belang vir die Christelike godsdiens. Onder kerk word hier die liggaam van Christus verstaan wat ook in gemeentelike verband bestaan. Die uitdrukking van die geloof in die kerklike lewe en in die verhouding van die kerk as diegene wat in Jesus Christus glo, lê die besondere band tussen hierdie mense. Die eenheid van die kerk word egter ook juis dáár gevind waar die verskillende gestaltes van die kerk in die verhouding met Jesus Christus in die wêreld na vore tree. Dit lei dan daartoe dat mense onderling met mekaar in 'n nuwe verhouding staan. Die erediens is 'n wonderbaarlike gestalte van hierdie eenheid. Daar word in die erediens saamgekom om God te loof en te prys, en om rondom die nagmaalstafel en by die bediening van die doop God in eenheid te dien.

Maar hoe lyk hierdie eenheid van die kerk wanneer daar taalverskille voorkom? En wat is die betekenis daarvan in verskillende verbande?

 

2. BRAM VAN DE BEEK SE STANDPUNT

Die teoloog Bram van de Beek het onlangs tydens 'n besoek aan Suid-Afrika die standpunt ingeneem dat daar eenheid van geloof rondom die nagmaalstafel moet wees. Van de Beek is bekend vir sy sterk standpunt ten gunste van die eenheid van die kerk. Die eenheid is ten diepste geleë in die eenheid van God - in die sjema (2012:30). Die eenheid word so sterk uitgedruk dat nie alleen die kerk se eenheid met Christus die kerk bepaal nie, maar dat Christus self ook in die eenheid met die kerk bepaal word, want die eenheid word deur die eenheid van Vader en Seun gerig (2012:31). Alle verskille word te bowe gekom in die eenheid van die kerk, want in die eenheid is daar nie meer slaaf of vrye, man of vrou nie. Dit beteken nie dat daar nie meer verskille is nie; die verskille mag egter nooit uitsluit nie maar moet wel insluit (2012:38). Dit word deur die kruis bepaal. Die kerk is kerk onder die kruis (2012:39). Die ander moet altyd gedien word en indien dit nie plaasvind nie sal daar skade wees. Die eenheid mag nie bloot in 'n geestelike eenheid opgaan nie, want dit misken die werklikheid van die eenheid met Christus (2012:46). Dermate dat Van de Beek in sekere van sy geskrifte aandui dat daar te alle tye gestreef moet word na die eenheid van die kerk, ook van Protestante en die Rooms-Katolieke Kerk. Van de Beek het selfs begrip daarvoor dat die Pous as die uitdrukking van die eenheid van die kerk erken moet word (2012:150 en 254-260). Vir Van de Beek is dit ononderhandelbaar dat die kerk EEN moet wees omdat God EEN is, en dat daar juis vanuit hierdie eenheid gedink moet word.

Ten opsigte van die Suid-Afrikaanse situasie huldig Van de Beek die standpunt dat die eenheid ook rondom die nagmaalstafel gevind moet word. Daar by die nagmaalstafel word die eenheid van geloof in die onderlinge verhouding met Jesus Christus uitgedruk. In die ontvangs en genieting van die nagmaalstekens word die eenheid van gemeenskap beklemtoon en word die eenheid in Christus uitgedruk. Hierdie eenheid het dan besondere betekenis, omdat verskillende mense, ongeag ras, geloof, stand, of wat ook al, mekaar kan vind en God kan verheerlik. Van de Beek is van mening dat hierdie eenheid rondom die nagmaalstafel alleen moontlik sou wees indien daar 'n gemeenskaplike taal sou wees waarin dit bedien word, en volgens sy standpunt sal dit dan Engels moet wees omdat dit 'n algemeen-aanvaarde taal in Suid-Afrika is. Van de Beek grens hom af teen die benadering van Kappadosiërs waar die eenheid van God as relasionele eenheid uitgedruk word. Miroslav Volf is 'n bekende eksponent daarvan. Van de Beek meen dat die synseenheid van God ook die eenheid van die kerk bepaal en wys daarom die relasionele benadering af. Die eenheid is nooit bloot relasioneel nie. Wat die nagmaal betref, sluit Van de Beek by Berkhof aan wat dit as die mees omvattende uitdrukking van die heil beskryf (Berkhof 1973:318).

Sebothoma (1987:65) wys ook op die betekenis van koinonia in die gemeenskaplike eenheid van die nagmaal. Ook Resane (2017:226) beklemtoon die betekenis van die nagmaal en dat daar in die gemeenskap van geloof in die nagmaal en die koinonia van gemeenskap geen ruimte vir enige diskriminasie is nie:

We should be certain in our beliefs that speaking of the unity of believers does not refer to unanimity, uniformity, or a union. In the communion ecclesiology context, unity implies spiritual nature and devotion that enables God's people to bear a convincing testimony before the world - missio Dei at its core. Resane (2017:227)

Daar moet met Van de Beek saamgestem word dat die eenheid van die kerk geheel en al ononderhandelbaar is. Sekere vrae sal egter ook indringend aandag moet kry.

 

3. VRAE WAT VAN BELANG IS RAKENDE DIE HELE VRAAG NA DIE EENHEID VAN DIE KERK

3.1 Waarin is die eenheid van die kerk geleë?

3.1.1 P.F. Theron

Verskeie teoloë het oor die eenheid van die kerk geskryf, en 'n belangrike teoloog wat uiters sinvolle bydraes in hierdie verband in die vorige bedeling gelewer het, is P.F. Theron. Sy indrukwekkende proefskrif is as "Die ekklesia as kosmies-eskatologiese teken" (1978) gepubliseer. Hy het in baie opsigte met Bram van de Beek, met wie hy ook persoonlik bevriend was, saamgestem. Daar is twee sake wat van belang is: die eerste is dat Theron nie die kerk vanuit die skepping begrond nie, maar in die herskepping. Die tweede is dat hy die kerk uitdruklik as teken beskou en dan wel as kosmies-eskatologiese teken. Daarom stem hy ook met Barth saam dat die teologie inderdaad radikaal op die eskatologie gerig moet wees. Omdat die kerk vanuit die herskepping verstaan moet word, is die eenheid van die kerk in Jesus Christus ononderhandelbaar. Theron (1978:49) skryf: "Aan hierdie eenheid wat objektief in Christus veranker lê, kry die gemeente ook subjektief deel aan die inkorporasie van die Heilige Gees en word ook so gevorm tot die een liggaam wat hulle in Christus is. Deur die 'een doop' en die aanvaarding van die 'een geloof' (Ef. 4:5) en die deelname in die 'beker van danksegging' en die 'een brood' (1 Kor.10:16), word die gemeente ingelyf in die 'een liggaam' (1Kor 12:13; 1 Kor 10:17; Ef. 2:16)."

Verder skryf hy (1978:49): "Teologies, Christologies en pneumatologies is die verskeurdheid van die kerk 'n ondraaglike anomalie". Die kerk is 'n nuwe skepping en moet daarom volgens Theron uit die herskepping verstaan word wat juis ook eskatologies gekwalifiseer word. Hy hef egter nie alle verskeidenheid op nie en is van mening dat die kerk wel ruimte vir verskeidenheid moet vertoon ten spyte van die alleroorvloedige klem op die eenheid. Theron (1978:102) is daarom van mening dat verskille van status, ras, geslag, ens. gerelativeer maar nie opgehef word nie, want die skerp kante van verskeurdheid en vyandigheid word afgewys, maar nie die aanvullende verskeidenheid nie.

Lategan (1987:19) vind aansluiting by Theron deur daarop te wys dat Paulus nooit negatief teenoor sy eie kulturele verbondenheid met die Joodse volk staan nie, maar dat sy verbondenheid met Christus dit te bowe gaan. Op sy beurt wil Roberts (1987:85) die verskeidenheid waarna in Efesiërs verwys word eerder as verskille in gawes, as verskille in ras of status, sien. Vergelyk ook Nicol (1980:12 e.v.) wat meen dat die verskeidenheid in die gemeentes waarna Paulus verwys nie die klem op volkome eenheid afwys nie. Alhoewel Van Wyk ruimte vir pluraliteit laat (1979:67) wys ook hy daarop dat dit nooit die eenheid mag skend nie. Vergelyk verder Conradie (2013:71) wat aantoon hoe die liturgiek betekenisvol moet wees in die eenheid waar na die wêreld daarbuite uitgereik moet word. Cullmann (1988:39) verwys ook na die besondere eenheid van erediens in die ekumene en dat eenheid selfs verskille in nagmaalsbeskouing te bowe moet kom. Die eenheid moet getuie wees vir die sending van die kerk. Die soeke na eenheid moet getuie wees van die eenheid in Christus (Saayman 1984:127).

Die vraag is of die kerk nie ook vanuit die skepping verstaan moet word nie, want Christus self is Middelaar van die skepping, soos die Johannes-evangelie en ook die brief aan die Kolossense aandui.

3.1.2 J.A. Heyns

In hierdie verband moet na die benadering van J.A. Heyns gekyk word. Heyns (1978:352-354) benader die kerk vanuit die perspektief van die koninkryk van God. Die kerk word deur die koninkryk bepaal. Die kerk is ewe-eens teken (1978:353-354). Heyns is ook van mening dat die kerk reeds in die Ou Testament aangedui word (1978:355) en daarom sou hy ook die kerk vanuit die skepping wou begrond (1978:355). (Hy verwys na NGB art 27). Wat die eenheid van die kerk betref, meen hy dit is 'n gegewe. Drie aspekte van die eenheid word beklemtoon, naamlik dit is 'n geestelike werklikheid, dit is 'n empiriese werklikheid, en dit is 'n eskatologiese werklikheid (1798:379). Heyns wil ook ruimte laat vir 'n kultureel-etniese motief van pluriformiteit van die kerk.

Heyns (1978:379) skryf in dié verband: "In die konkrete gebeure van die verkondiging van die evangelie, die gelowige aanvaarding daarvan en dus die versameling en organisering van die kerk op verskillende plekke onder verskillende volke met verskillende tale, gewoontes en psigologiese instellinge, kán - nie móét nie - 'n legitieme pluriformiteit van kerke ontstaan wat in talle opsigte van mekaar verskil en tog nog één kerk is en kan wees".

Binne gereformeerde kringe is daar die standpunt dat die kerk wel vanuit die skepping verstaan moet word en daarom ruimte vir ʼn eiesoortige kultuur moet hê. Daar word veral na Kuyper en latere ontwikkelings in die Wysbegeerte van die Wetsidee verwys. Die vraag of daar nie 'n oorspanning van eiesoortigheid voorkom nie, is inderdaad van belang.

3.1.3 D.J. Smit

Dirkie Smit (2008), die teoloog wat 'n besondere bydrae tot die debat oor die eenheid van die kerk gelewer het en ook instrumenteel in die totstandkoming van die belydenis van Belhar was, beklemtoon juis ook dat daar, soos wat dit in die belydenis van Belhar voorkom, nie skeiding in die kerk mag wees vanweë enige sosiale, maatskaplike of ekonomiese redes nie (2008:74). Die eenheid moet veral in die erediens gestalte kry. Daar word 'n nuwe gemeenskap gevorm. Broederskap en susterskap is van groot belang in die gemeente. Daar word in 'n besondere solidariteit met swakkes geleef. Die gemeenskap van die geloof is juis nie 'n private saak nie, maar "'n lewe-in-gemeenskap" (2008:74). Wat die kerk betref behoort die skepping nie die herskepping te struktureer nie (2008:77). In die lig van die Belhar-belydenis maak Smit beswaar teen die skeiding wat weens valse verdelingslyne tussen gemeentes voorkom (2008:278). Taal mag ook nooit tot onaanvaarbare skeiding lei nie, alhoewel ook die belydenis van Belhar nie alle vorms van eiesoortigheid afwys nie (Smit 2013:137). Legitieme pluriformiteit word ook nie ontken nie, naamlik dat taal- en kultuurverskille inderdaad 'n "sinvolle en verrykende" rol kan speel (waar Smit na Jonker verwys), maar dit mag geensins tot skeiding tussen mense lei nie (2013:162).

3.1.4 Evaluering

Ons vind die eenheid van die kerk ten diepste in die eenheid van geloof in Christus Jesus. Die eenheid van die kerk is nie bloot 'n algemeen geldende beginsel wat vanuit die sosiale samekoms van 'n klompie mense afgelei word nie. Die eenheid van die kerk lê ten diepste in die geloof in Jesus Christus. De Silva (2004:474 en 637) toon aan dat dit geen onbelangrike saak is nie, soos juis uit Johannes 17 afgelei kan word wat in dié verband beslissend is. Du Rand (1987:128) sien die eenheid in Johannes 17 as eenheid met Christus. Ook Lindars (1986:515) beklemtoon die feit dat Jesus ten eerste bid dat sy bediening tot die heerlike einde waarvoor God dit bestem het, gevoer moet word, sodat die dissipels bewaar kan word om die eenheid in Hom te kan beleef. Die gemeenskaplike identiteit in Jesus, ook met die verwagting van lyding wat tot getuienis vir die wêreld sal voorkom, word in die eenheid gevind (Zumstein 2016:651). Daardie eenheid word in die gemeenskaplike geloof in die verlossing in Jesus Christus wat die Here is, gevind. Guthrie (1981:721) is daarom van mening dat die eenheid in Johannes 17 as organiese eenheid beklemtoon moet word en nie in die eerste plek as strukturele eenheid nie. Die Godheid van Jesus Christus wat erken word en die eenheid van God die Vader, die Seun, en die Heilige Gees, roep ook die kerk op om een te wees, maar dan veral een in die gemeenskaplike geloof dat Jesus Christus die Here is (vgl. McGrath 1994:420). Hierdie gemeenskaplike geloof word deur die besondere toewyding aan Jesus Christus gedra en die eenheid word dus in die erkenning dat Hy die Here is, gesoek. Daarom kan daar geen eenheid van die kerk wees wanneer daar op watter wyse ook al ontken word dat Jesus Christus die Seun van God is nie. Daarom sou daar nie verwag kon word dat daar van eenheid van die kerk sprake kan wees met hulle wat hierdie belydenis, dat Jesus die Here is, misken nie. Al sou hulle dan op 'n bepaalde wyse wel Jesus Christus as besondere profeet of as besondere uitdrukking van denke kon beskou. Die eenheid van die kerk is ten diepste die eenheid van belydenis, dat Jesus die Here is. Vergelyk in hierdie verband ook die wyse waarop eenheid in ekumene deur Crafford en Gous beklemtoon word (1993).

Migliore (2004:264) beklemtoon dat die kerk wat geroep word om in gemeenskap met die lewende Drie-enige God te leef: "just as the life of the triune persons is life with, for, and in each other, so the church is called to life in communion in which persons flourish in mutually supportive relationships with others. In such communion the church becomes imago Trinitatis, an anology of, and partial particiaiton in, the triune life of God."

Dit beteken ook dat strukturele eenheid in die erediens van groot belang is. Die kern van die saak is egter dat die eenheid ten diepste geleë is in die eenheid van geloof in Jesus Christus. Dit bly 'n baie belangrike punt. Waar daar met Van de Beek saamgestem word, is dat die eenheid van die diepgaande eenheid van God afgelei word. Die wyse waarop die eenheid uitgedruk word, kan egter ook verskillend aangedui word.

3.2 Hoe moet die eenheid rondom die nagmaalstafel gestalte kry?

In die nagmaal word die gemeente opgeroep om in vergifnis en liefde saam met mekaar die tekens te geniet en God te verheerlik. Die brood en die wyn herinner aan wat Jesus Christus kom doen het. Dit verbind die gemeente aan die lewende Christus. Dit roep die gemeente op tot 'n nuwe lewe. Dit getuig van vergifnis van sonde, van nuwe verhoudinge, dit roep op tot vergifnis van mekaar. Dit beteken dat daar in die belewing van die nagmaal nie haat, onmin, en nyd teenoor mekaar moet wees nie. Rondom die nagmaalstafel word die eenheid van die geloof in Jesus Christus die sterkste uitgedruk en word die eenheid van geloof daarin gevind dat Jesus die Here is.

3.3 Hoe moet taalverskille dan hanteer word? En hoe moet die erediens ingerig word om aan die verskeie tale wat in die gemeenskap voorkom, reg te laat geskied?

Taal is 'n wonderlike uitdrukking van 'n mens se menswees. Natuurlik het dit ook onder God se hand tot stand gekom. Verskillende tale is daarom nie afbrekend van andere nie, maar taal moet beskou word as iets wat opbouend is. Die wyse waarop tale by mekaar aansluiting vind, maar ook van mekaar afgegrens word, is van die allergrootste belang. Taal is dus nie maar net 'n bepaalde uitdrukking wat goedsmoeds prysgegee kan word nie. Dit is dus betekenisvol dat 'n mens in die erediens ook lof en eer aan God in mense se eie tale bring. Mens kan God verheerlik in die taal waarin jy sing en waarin jy aanhoor. In die erediens beleef 'n mens die teenwoordigheid van God. God openbaar Hom ook in taal, ook in jou eie taal en die manier waarop jy dit beleef is opbouend. Dit is van belang om daarop te let dat selfs gebaretaal gebruik kan word om uitdrukking van mense se intiemste lewensoortuigings te gee. In hierdie debat moet dus ook daarop gewys word hoe kompleks taal en die uitdrukking van taal in die gemeente is. Voorsiening word dikwels vir eiesoortige gemeentes gemaak wat hulle van gebaretaal bedien. Ook die gebruik van oudiovisuele hulpmiddels tydens die erediens maak dit moontlik om diegene vir wie andersins nie voor voorsiening gemaak kan word nie, wel in te sluit. Enigeen wat die vreugde van "sang" van gehoorgestremdes in hulle eie gemeentes beleef het, besef ook die waarde van 'n eiesoortige benadering.

Beteken dit nou dat daar geen geval kan wees waar verskillende tale, selfs gebaretaal, in 'n erediens bymekaar kan kom en 'n gemeenskaplike taal as leidinggewende taal gebruik kan word nie? Wat baie belangrik is, is dat die taal wat in die erediens gebruik word nie tot weersin moet lei nie.

Sou die uitsluitlike gebruik van, byvoorbeeld, Engels, nie juis weersin wek nie? Sou dit nie dan beteken dat mense in die erediens rondom die nagmaalstafel met weersin daar sit, vanweë die gebruik van Engels met al sy belasting en probleme nie? Die vraag is of taal nie dan 'n negatiewe element verkry nie. Daarteenoor moet egter gevra word of taal nie ook as uitsluiting gebruik kan word nie, en mense byvoorbeeld daarmee afgewys word en taal dus so 'n negatiewe konnotasie kry nie? Taal kan dan ook daartoe lei dat mense nie die volheid van die geleentheid benut en die vreugde van bymekaarwees ondervind en mekaar bedien, ophelp, en opbou nie, omdat daar taalverskille voorkom. Daar moet byvoorbeeld daarop gewys word dat Engels nie so algemeen gevolg kan word soos wat meesal aanvaar word nie. Daar is talle in Suid-Afrika wat dit juis nie as algemene taal besig nie. Die nasionale sensus van 2011 toon aan dat daar nog baie vlakke van geletterdheid voorkom wat aandui dat Engels nie as uitdrukking van die diepe sake van geloof kan dien nie.

Taal kan bewustelik of onbewustelik uitsluit. Dit is nie moontlik om almal te alle tye te akkommodeer nie. Daar moet 'n weg gevind word van wedersydse respek en eerbied sonder om die ander op 'n negatiewe wyse uit te sluit.

3.4 Is taal in die uitdrukking van die Christelike godsdiens nie juis ook betekenisvol nie?

'n Mens sou inderdaad moet vra of taal nie op 'n besondere wyse in diens geneem moet word om sodoende die gemeenskap op te bou nie? Rondom die nagmaalstafel sou die eenheid juis ook op 'n ander manier gevind kan word. Nie op die manier waarop die taal uitgedruk word nie, maar op die manier waarop ons vir mekaar ruimte kan skep. In die Christelike evangelie is ruimte vir mekaar 'n essensiële punt, naamlik dat ons mekaar sal respekteer deur ons menswees vir mekaar te gun.

 

4. POSITIEWE AANWENDING VAN TAAL IN DIE EREDIENS

Binne die NG Kerk-familie is daar verskeie gemeentes wat reeds verskillende tale binne die gemeente en tydens die erediens akkommodeer. Daar is talle voorbeelde van die NG Kerk in Afrika en van die Verenigende Gereformeerde Kerk waarin die taal wat gebruik word dikwels getolk, of op 'n bepaalde manier afgewissel word. Daar is voorbeelde waar sulke gemeentes dan ook mekaar op 'n besondere manier omarm en ophelp. Die kosbaarheid van eie taal mag egter nie afgewys word nie. Taal is ʼn skeppingsmatige wonder, en die hand van God het tale ontwikkel en tot stand gebring. Dit druk menswees op 'n baie besondere wyse uit. Dit beklemtoon ons verhouding met mekaar en dit dien daartoe dat sekere gemeenskappe 'n bepaalde band met mekaar ontwikkel. Hierdie band wat deur taal gelê word, beteken ook respek en opbou van die gemeenskap in daardie verskillende verbande. Die kosbaarheid van taal kan dus nie misken word nie.

Reeds in 1979 verwys Meiring (1979:120 e.v.) na drie gemeentes, naamlik Stellenbosch Sentraal, Tamboerskloof en Lynnwoodrif waar die eenheid die verskeurdheid te bowe gekom het.

De Villiers (1987:32) verwys na die wyse waarop na eenheid in die konflikte wat in Handelinge voorkom, gesoek is en dat deurgaans gepoog is om mekaar te vind.

Is daar 'n ander uitweg as dat daar byvoorbeeld rondom die nagmaalstafel 'n gemeenskaplike taal gebruik word? Sou die nagmaalsbediening kon beteken dat almal iets prysgee om 'n eenheid in taal met mekaar te kan vind? Daar word hier betoog dat 'n taal dinamies is, en dat die ontwikkeling van 'n eie taal ook in die godsdiens tot nuwe verhoudinge kan lei. ʼn Klassieke voorbeeld waar taal op 'n verkeerde manier aangewend word, is die twee NG gemeentes op Graaff-Reinet, waar ʼn meningsverskil ontstaan het oor die gebruik van Afrikaans en Engels. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat twee verskillende gemeentes in die dorp ontstaan het. Daar het taal verskeurend gewerk, en het op die gebruik van bepaalde tale teenoor mekaar ingewerk. Respek vir mekaar lê egter juis daarin dat ons mekaar se tale sal erken en ook in diep Christelike vertroue vir mekaar ruimte sal skep om in ons eie tale te aanbid. Dit beteken nie dat ons mense daarom noodwendig verstoot nie, soos in vroeë tye wel gebeur het. Dit het inderdaad ook gebeur dat taal as 'n uitsluitende middel gebruik is, om te verstoot, om weg te stoot, terwyl taal eintlik ook gebruik moet word om erkenning aan mekaar te verleen en mekaar op te bou. Daar is voorbeelde van gemeentes wat tale soos Afrikaans, Engels, Sesotho, en selfs Chinees, onder een dak akkommodeer, soos byvoorbeeld die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Hugenoot in Bloemfontein. Al hierdie verskillende tale is eintlik deel van 'n groter gemeente. Die erediens word nog steeds in een of ander van die bepaalde tale aangebied. Daar sal byvoorbeeld op verskillende tye dienste in Afrikaans, Engels, Sesotho en Chinees wees. Om aan die bepaalde behoeftes van mense te voldoen en ook die wyse waarop mense sekere dinge beleef, kan beteken dat mense hulle unieke ervaring in die godsdiens kan uitleef.

Maar dan, wat baie belangrik is, is dat daar saamgekom moet word rondom die nagmaalstafel en dan kan deur middel van tolke, of deur middel van herhaling van die nagmaalsformulier, 'n nuwe eenheid onder die mense gevind word. By die nagmaalstafel kan die eenheid van die geloof dan tog uitgedruk word wanneer almal saamkom en die nagmaal saam geniet. Eenheid en verskeidenheid moet dus nie teenoor mekaar gestel word nie, maar daar moet inisiatief wees om eie tale te bevorder sonder om die kerk te versplinter. Wat uiters belangrik is, is dat die taal nooit uitsluitend mag wees nie. Taal mag nooit die rede wees waarom iemand by die hek voorgekeer word, en gesê word dat hulle nie in hierdie erediens welkom is nie. Taal mag nooit die rede wees waarom mense by die nagmaalstafel uitgesluit word nie, en gesê word dat jy nie saam met ons die nagmaal mag geniet nie omdat jy van 'n ander taal of kultuurgroep is nie. Taal en kultuurgroepe moet mekaar juis vind op ʼn manier waarby almal by mekaar aansluiting kan vind. Geloof of ongeloof in Jesus Christus is die enigste saak wat mag uitsluit by die nagmaalstafel. Dit is egter belangrik om te weet dat dit nie beteken dat ons mense verstoot wanneer daar 'n liefde vir 'n eie taal binne die gemeente is nie, en dat dit ook diep Christelik sou wees om 'n eie taal lief te hê, en te ontwikkel, en op te bou, indien dit nie uitsluitend en afbrekend van ander is nie. Indien dit afbrekend is en ander gemeenskappe uitsluit, sou dit nie aanvaarbaar wees nie, maar indien dit gebruik kan word om mense op te bou en te bemagtig, is die gebruik van taal iets baie besonders en moet dit erken word.

Daar is dus in hierdie artikel 'n duidelike standpunt dat Bram van de Beek nie korrek is in sy siening dat die enigste wyse waardeur die eenheid van die kerk rondom die nagmaalstafel uitgedruk kan word, deur die aanwending van Engels is nie. Die diepste oortuiging van 'n mens word in sy geloof uitgedruk en daardie uitdrukking van geloof word ook ten diepste in 'n mens se taal gevind. In die taal waarmee jy dan ook jouself uitdruk, en dit moet gerespekteer word. Die evangelie van Christus is ook ruimte-skeppend. God skep vir ons ruimte om voor Hom te lewe en ons kultuur uit te leef en ons ondervindinge daarin met mekaar te deel. So kan taal op die regte manier ook daartoe lei dat die kerk op 'n unieke en besonderse wyse by mekaar uitkom en kan daar opgebou word in die eenheid van geloof en in die toewyding van hierdie geloof in die gemeenskap. Die gemeenskap wat die diepste eenheid van geloof in Jesus Christus vind, sal dan ook daarna strewe om die eenheid van die kerk op 'n nuwe manier uit te druk. Die eenheid van die kerk is nie maar net 'n gedagte in mense se denke nie, maar die eenheid van die geloof word ook uitgedruk in hoe mense na mekaar uitreik, mekaar ondersteun, mekaar vergewe, mekaar opbou en 'n toekoms by mekaar vind. Daarin is die evangelie van Christus altyd ook 'n evangelie van respek vir mekaar en die opbou van 'n gemeenskap wat algaande tot totale toewyding aan mekaar opgebou kan word, en uiteindelik beteken dat 'n nuwe verhouding tot stand kan kom. In daardie opsig sal taal en die eenheid van die kerk van groot belang wees, en die eenheid van kerk gevind word waar mense regtig mekaar ten diepste respekteer, en ruimte vir mekaar gun. Nooit uitsluitend nie, en nooit afbrekend en vernietigend teenoor die ander persoon se taal en denke nie.

 

5. SLOT

Deur mekaar se taal te respekteer kan taal opbouend in die gemeente aangewend word. Die eenheid van die kerk in die lig van die eenheid van God kan op verskeie wyses gedien word sonder om slegs een taal te gebruik. Eentaligheid mag selfs die eenheid skend. Taalverskille mag egter nooit tot verskeurdheid lei nie. Wanneer taalverskille aangewend word om uit te sluit, word dit onaanvaarbaar gebruik.

 

 

BIBLIOGRAFIE

Berkhof, H. 1973. Christelijk geloof: Een inleiding tot de geloofsleer. (2de druk). Nijkerk: Callenbach.         [ Links ]

Conradie, E.M. 2013. Notions and forms of ecumenicity: Some South African perspectives. In Conradie, E.M (ed.). South African perspectives on notions and forms of ecumenicity. Stellenbosch: Sun Press, pp. 13-76.         [ Links ]

Crafford D. & Gous, G. 1993. Een liggaam-baie lede: Die kerk se ekumeniese roeping wêreldwyd en in Suid-Afrika. Pretoria: Verba vitae.         [ Links ]

Cullmann, O. 1988. Unity through diversity. (Vertaal deur M.E. Boring). Philadelphia, PA: Fortress.         [ Links ]

De Silva, D.A. 2004. An introduction to the New Testament contexts, methods, and ministry formation. Downers Grove, IL: IVP Academic.         [ Links ]

De Villiers, P. 1987. Die apostelkonvent (Handelinge 15.). In Breytenbach, C. (Red.). Eenheid en konflik: Eerste beslissings in die geskiedenis van die Christendom. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal, pp. 23-48.         [ Links ]

Du Rand, J. 1987. Johannes 17: Jesus se gebed om eenheid en solidariteit te midde van krisis en konflik. In Breytenbach, C. (Red.). Eenheid en konflik: Eerste beslissings in die geskiedenis van die Christendom. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal, pp. 105-133.         [ Links ]

Guthrie, D. 1981. New Testament theology. Leicester, UK: Intervarsity.         [ Links ]

Heyns, J.A. 1978. Dogmatiek. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.         [ Links ]

Lategan, B. 1987. Die krisis in Galasië. In Breytenbach, C. (Red.). Eenheid en konflik: Eerste beslissings in die geskiedenis van die Christendom. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal, pp. 6-22.         [ Links ]

Lindars, B. 1986. The gospel of John. Grand Rapids, MI: Eerdmans. (The New Century Bible Commentary).         [ Links ]

McGrath, A.E. 1994. Christian theology: An introduction. Oxford: Blackwell.         [ Links ]

Meiring, P.G.J. 1979. Wenende op die drumpel: 'n Gevallestudie van oop en toe kerkdeure in die N.G. Kerk. In Meiring, P. & Lederle, H.I. (Reds). Die eenheid van die kerk: Opstelle byeengebring deur Dr Piet Meiring en Ds H.I. Lederle. Kaapstad: Tafelberg, pp. 120-127.         [ Links ]

Migliore, D.L. 2004. Faith seeking understanding: An introduction to Christian theology. Grand Rapids, MI: Eerdmans.         [ Links ]

Nasionale sensus 2011.(http://www.statssa.gov.za/census/census_2011/census_products/ Census_2011_Census_in_brief.pdf)        [ Links ]

Nicol, W. 1980. Church unity and diversity in the New Testament. In Vorster, W.S. (Red.). Church unity and diversity in the South African context. Pretoria: UNISA, pp. 1-17.         [ Links ]

Resane, K.T. 2017. Communion ecclesiology in a racially polarised South Africa. Bloemfontein: Sun Press.         [ Links ]

Roberts, J. 1987. Die eenheid van die kerk volgens die Efesebrief. In Breytenbach, C. (Red.). Eenheid en konflik: Eerste beslissings in die geskiedenis van die Christendom. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal, pp. 75-88.         [ Links ]

Saayman, W. 1984. Unity and mission: A study of the concept of unity in ecumenical discussions since 1961 and its influence on the world mission of the church. Pretoria: UNISA.         [ Links ]

Sebothoma, W. 1987. Koinonia (communion in Paul). In Breytenbach, C. (Red.). Eenheid en konflik: Eerste beslissings in die geskiedenis van die Christendom. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal, pp. 62-74.         [ Links ]

Smit, D.J. 2008. Geloof en openbare lewe. Versamelde Opstelle 2. Spesiale uitgawe in die Beyers Naudé Centre Series on Public Theology (Red. N. Koopman). Stellenbosch: Sun Press.         [ Links ]

Smit, D.J. 2013. Opstelle oor gereformeerd wees vandag. Versamelde Opstelle 4. Spesiale uitgawe in die Beyers Naudé Centre Series on Public Theology (Red. L. Hansen). Stellenbosch: Sun Press.         [ Links ]

Theron, P.F. 1978. Die ekklesia as kosmies-eskatologiese teken - Die eenheid van die kerk as 'profesie' van die eskatologiese vrede. Pretoria: NG Kerkboekhandel. (RGNPublikasie reeks Nr 66.DD UP).         [ Links ]

Van de Beek, A. 2012. Lichaam en Geest van Christus: De theologie van de kerk en de Heilige Geest. Zoetermeer: Meinema.         [ Links ]

Van Wyk, J.A. 1979. Reaksie op veelvormigheid en eenheid. In Meiring, P. & Lederle, H.I. (Reds). Die eenheid van die kerk: Opstelle byeengebring deur Dr Piet Meiring en Ds H.I. Lederle. Kaapstad: Tafelberg, pp. 55-68.         [ Links ]

Zumstein, J. 2016. Das Johannesevangelium. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht. (Meyers Kritisch-Exegetischer Kommentar über das Neue Testament).         [ Links ]

 

 

 

PIETER VERSTER studeer aan die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Pretoria, waar hy BA (cl UV), BA Honn Grieks (cl UP) BD (cl UP), MA (UV), DD (Sending- en Godsdienskunde UP) en DD (Dogmatiek en Etiek (UP) behaal. Hy is tans Professor in Sendingwetenskap in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat. Verder is hy lidmaat en geordende leraar van die NG Kerk. In 2008 is sy boek: A theology of Christian mission: What should the church seek to accomplish? (New York: Edwin Mellen Press) gepubliseer. Die boek New hope for the poor is in 2012 by SunMedia gepubliseer. Hy behaal ook 'n C3-gradering by die NNR.
PIETER VERSTER studied at the Universities of the Free State and Pretoria and obtained the degrees BA (cl UFS), BA Honn Greek (cl UP), BD (cl UP), MA Greek (UFS). He holds two doctorates from the University of Pretoria (Missiology, and Dogmatics and Ethics). At present he is Professor in Missiology at the University of the Free State. He is a member and ordained minister of the Dutch Reformed Church. Published books include A Theology of Christian Mission: What Should the Church Seek to Accomplish (2008, New York: Edwin Mellen Press) and New hope for the poor (2012, SunMedia). He is a NRF graded researcher (C3).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons