SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue1The influence of agentive passive constructions on the changing use of the adposition deurThe effect of a compulsory academic literacy module on the academic writing skills of Afrikaans mother-tongue first-year nursing students author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.59 n.1 Pretoria Mar./May. 2019

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2019/v59n1a4 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Onderwysers se persepsies oor die moontlike impak van die afwesige vader op kinderontwikkeling

 

The possiblie impact of an absent father on a child's development — a teacher's perspective

 

 

Lettie BothaI; Lukas MeyerII

IFakulteit Opvoedingswetenskappe, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom. E-pos: Lettie.Botha@nwu.ac.za
IIFakulteit Opvoedingswetenskappe, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom. E-pos: Lukas.Meyer@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Vaderafwesigheid is ʼn ernstige probleem in Suid-Afrika (Ratele et al. 2012:553). Statistieke toon dat daar ongeveer nege miljoen kinders in Suid-Afrika sonder ʼn vader grootword (Statistics South Africa [StatsSA] 2015). Dit toon ook die stelselmatige verdwyning van tradisionele gesinstrukture aan.
Die belangrikheid van die verskillende rolle wat die vader in
ʼn kind se lewe speel, word deur navorsing beklemtoon. Sy betrokkenheid in die gesin lei tot ʼn gesonde kinder- en volwasse lewe ten opsigte van psigologiese en gedragsdimensies (Choi & Jackson 2011:698-704; Flouri & Buchanan 2003:63-78; Ratele et al. 2012:553). Volgens Saliha en Jayan (2013:40) is ʼn goeie vader van kardinale belang vir die optimale ontwikkeling van ʼn kind.
In die lig van bogenoemde is
ʼn gevallestudie geloods om die persepsies van onderwysers oor die moontlike impak van vaderafwesigheid op kinderontwikkeling te ondersoek.

Trefwoorde: vaderafwesigheid, kinderontwikkeling, impak van vaderafwesigheid op kinderontwikkeling, vaderloosheid, afwesige vader, vaderlike afwesigheid, Bronfenbrenner en Morris se bio-ekosistemiese model van kinderontwikkeling, kind met 'n afwesige vader, ontwikkelingsprobleme, vader, vaderskap


ABSTRACT

The absence of fathers in the family structure is a serious problem in South Africa as indicated in statistical calculations reflecting a high rate of children having to cope without parents and particularly without a biological father (Ratele et al. 2012:553). An estimated nine million children in South Africa are growing up without a father (Statistics South Africa [StatsSA] 2015). StatsSA (2015) highlights the systematic disappearance of the traditional family structure among South African families where, according to their statistics, only 27% of South African children live with their biological parents, which is a further indication of the increasing number of children in South Africa coming from homes having to cope without a father.
In light of the above, the primary goal of the study was to determine how teachers perceived the possible impact of an absent father on a child's development. Underlying the primary goal, the following secondary research objectives were set: (1) to determine how teachers understand the concept of an absent father or father absence; (2) to determine, with regard to a particular school, the presence of, and the circumstances pertaining to, learners growing up without the support of a father; (3) To determine if special intervention strategies are needed to support learners having to cope with an absent father and, if so, to identify the type of intervention strategies required and (4) to determine if the school offers any support to learners having to cope without a father, and if so, what kind of support is offered. A literature review, departing from Bronfenbrenner and Morris's (2006) bio-ecosystemic perspective, was undertaken to theoretically analyse and describe the effect of the absence of a father on the development of a child. For the purposes of the empirical part of the study, a qualitative research design was followed and more specifically a phenomenological case study was undertaken from an interpretivist research paradigm. A qualitative research approach was the most suitable for the study as we investigated the many complexities and nuances of the absent father from the perspective of teachers. A case study was conducted, with reference to a specific school, analysing the perceptions of teachers at the selected school on the possible impact of the phenomenon of the absent father on the development of children.
The following findings emanated from the empirical study:
Father absence has an effect on virtually all facets of child development (emotional, social, moral, spiritual, cognitive and physical).
Father absence implies the absence of a father, whether it is due to death, physical absence (lives and works elsewhere), a lack of involvement (the so-called present-absent father), or the unknown identity of the father.
Fatherless learners need special intervention strategies to support their development.
The types of intervention strategies include emotional support, opportunities for male gender role identification and community awareness projects on the phenomenon of the absent father.
Recommendations were made in accordance with the findings, with regard to the support of learners having to cope without a father.

Key Concepts: father absence, child development, impact of father absence on child development, fatherlessness, absent father, paternal absence, Bronfenbrenner and Morris's bio-ecological model of child development, child without a father, developmental problems, father, fatherhood


 

 

1. INLEIDING

Teen die agtergrond van die toenemende kwyning van tradisionele gesinstrukture word daar voortdurend navorsing gedoen oor die voordele van ʼn betrokke, teenwoordige vader in die gesin.1 Die vader en moeder word steeds deur navorsers beskou as die gesamentlike stigters van die gesin se lewenstyl, as die bronne van sekuriteit en die wortels en ankers wat die gesin staande hou en stabiliseer (Vaderskapstigting van Suid-Afrika 2010). Die vader kan verskeie rolle in ʼn kind se lewe speel, soos dié van beskermer, voorsiener, versorger, dissiplineerder, onderhouer van die gesin, speelmaat en bron van liefde (Lamb & Tamis-Lemonda 2013:33-48).

Navorsing oor die vader se gesinsbetrokkenheid beklemtoon dat, benewens al hierdie rolle, die vader ook ʼn belangrike rol speel in die ontwikkeling van positiewe karaktereienskappe by die kind. Die optimale ontwikkeling en welstand van ʼn kind is, volgens sommige ondersoekers, kritiek afhanklik van die teenwoordigheid van ʼn goeie vader (Green 2002:1). Baie aspekte van die ontwikkeling van die kind, soos emosionele en sosiale stabiliteit, geslagsidentiteitvorming, verantwoordelike seksualiteit en finansiële sekuriteit, hang af van suksesvolle vaderskap (Saliha & Jayan 2013:40).

 

2. PROBLEEMSTELLING

Vaderafwesigheid en die stelselmatige verdwyning van tradisionele gesinstrukture is ʼn groot probleem in Suid-Afrika (Ratele et al. 2012:553; StatsSA 2015). Daar is reeds twee dekades gelede deur Olivier (1997:19-20) gestel dat die sosiale en finansiële probleme wat gesinne ervaar onder meer aan vaderafwesigheid toegeskryf kan word.

Murdock (1962:19) definieer ʼn tradisionele gesin, soos dit in die beginjare van navorsing oor die gesinsrol van die vader die praktyk was, as ʼn sosiale groep wat gekenmerk word deur ʼn gemeenskaplike tuiste. Daarmee saam stel Freeks (2013:5) dat 'n gesin bestaan uit twee of meer mense wat verwant is aan mekaar deur geboorte, huwelik of aanneming, en wat in dieselfde eenheid woon.

Bogenoemde is ʼn beskrywing van die tradisionele gesin. Volgens Berns (2010:83-92) kom die volgende tipes gesinne egter algemeen in die hedendaagse samelewing voor: enkelouer-gesinne, geskeide-ouer-gesinne, pleegouer-gesinne, gesamentlike-toesig-en-beheer-gesinne, stieffamilie-gesinne, gesinne met aangenome kinders, dieselfde-geslag-gesinne en buite-egtelike gesinne. Verder is daar in Suid-Afrika ook baie gesinne (die sogenaamde kind-beheerde, d.i. "child headed"-gesinne) waar kinders, as gevolg van ʼn verskeidenheid redes, ouerrolle moet vervul.

Volgens Green (2002:1) vertoon kinders met liefdevolle vaders, wat aktief betrokke is by hul alledaagse lewens, groot voordele wat hulle ontwikkeling betref. Navorsingsbevindinge oor die afgelope paar dekades korreleer met mekaar en dui aan dat dié kinders met verloop van tyd hoër intellektuele vermoëns en beter akademiese prestasies vertoon as kinders met afwesige vaders (Gottfield et al. 1988:337-364; Lamb 1987:109-125; Radin 1994:11-54; Shinn 1978:295-324). Daarbenewens vertoon hulle ʼn goeie selfbeeld, positiewe selfwaarde, emosionele stabiliteit, gesonde interpersoonlike verhoudinge en geslagsrolontwikkeling. Meer resente navorsingsbevindinge beklemtoon ook die belangrikheid van vaderbetrokkenheid vir ʼn gesonde kinder- en volwasse lewe (Choi & Jackson 2011:698-704; Ratele et al. 2012:554). Volgens Ratele et al. (2012:553) gee aanwesige en betrokke vaderskap ook aanleiding tot beter psigologiese welstand en laer stresvlakke by kinders en bevorder dit positiewe sosiale verhoudings by meisies. Volgens Evans en Fogarty (1999:2) lei positiewe vaderbetrokkenheid ook tot ʼn verlaging in die voorkoms van tienergeweld en jeugmisdaad. Boyce et al. (2006:1510-1520) en Bronte-Tinkew et al. (2006:81-209) is dit eens dat vaders ʼn baie belangrike rol in die psigososiale ontwikkeling en gedragsuitkomste van hul kinders speel. Daar is inderdaad weinig opponerende standpunte in bestaande literatuur oor die belangrikheid van die vader se rol in kinderontwikkeling.

Kontrasterend met bogenoemde navorsingsbevindinge en uitsprake is daar ook standpunte dat die vader se rol in kinderontwikkeling soms oorbeklemtoon word. Volgens Silverstein en Auerbach (1999) het die kind ʼn positiewe, emosionele en standhoudende verbintenis met ten minste een verantwoordelike volwassene nodig en is die geslag of biologiese verwantskap met die kind nie van belang nie. Hulle stel dit dat "een of albei volwassenes ʼn vader of moeder kan wees" (1999:3). Teen die agtergrond van bogenoemde was die doel van hierdie studie om onderwysers se persepsies oor die moontlike impak van afwesige vaders op die ontwikkeling van leerders te bepaal. Onderwysers se persepsies oor hierdie aangeleentheid is van belang, aangesien hulle daagliks in noue kontak kom met leerders wat die afwesigheid van 'n vader beleef. Hulle behoort ook, op grond van hul opleiding, oor die kennis en ervaring van kinderontwikkeling te beskik om ontwikkelingsuitvalle (indien enige) by kinders met afwesige vaders te kan identifiseer. Daar moet in gedagte gehou word dat daar wel ander veranderlikes in die leerders se lewens is, wat 'n impak op hulle ontwikkeling kon gehad het, maar vir die doel van die studie is daardie veranderlikes nie in berekening gebring nie, aangesien die studie handel oor onderwysers se persepsies oor die moontlike impak van vaderafwesigheid op kinderontwikkeling.

In aansluiting by die doel van die ondersoek is die volgende primêre navorsingsvraag geformuleer:

Wat is onderwysers se persepsies oor die moontlike impak van vaderafwesigheid op kinderontwikkeling?

Twee verbandhoudende subvrae is ook geformuleer:

Hoe verstaan onderwysers die begrip "vaderafwesigheid"?

Is spesiale intervensiestrategieë nodig om leerders met afwesige vaders te ondersteun in hul ontwikkeling en, indien wel, watter tipes intervensies moet plaasvind?

 

3. KONSEPTUELE EN TEORETIESE RAAMWERK

Daar is baie faktore wat ʼn invloed kan uitoefen op ʼn kind se ontwikkeling en die ontstaan van kinderprobleme. Sommige probleme ontwikkel as gevolg van faktore wat in die kind self gesetel is of as gevolg van tekortkominge in sy opvoeding en dikwels ook as gevolg van negatiewe faktore in die omgewing waarin hy of sy grootword (Kapp 2010:28). Faktore wat kinderontwikkeling belemmer, kan dus in twee breë kategorieë ingedeel word, te wete intrinsieke faktore (invloede wat binne die kind gesetel is) en ekstrinsieke faktore (invloede wat buite die kind gesetel is). Ekstrinsieke faktore sluit verskillende sisteme of subsisteme in wat ʼn invloed uitoefen op die kind se ontwikkeling. Volgens Baker, Kainz en Reynolds (2018:1) lê navorsing rakende ontwikkeling klem op die belangrikheid van vaders en daarmee saam 'n kind se omgewing.

Die interaksies wat plaasvind in die intieme kring van ʼn gesin is uiters belangrik vir kinderontwikkeling en kan aan die hand van Bronfenbrenner en Morris (2006:993-1028) se bio-ekosistemiese model van kinderontwikkeling toegelig word.

Volgens Bronfenbrenner en Morris vind kinderontwikkeling binne vier sisteme plaas, naamlik die mikro-, meso-, ekso- en makrosisteme wat inmekaar ingebed is. Kinders is intiem betrokke by gesinslede in die mikrosisteem. Die mikrosisteem sluit al die gesinsverhoudings, gesinsrolle en daaglikse gesinspatrone in wat slyp aan die verskillende aspekte van kinderontwikkeling - onder meer die kognitiewe, sosiale, emosionele, morele en geestelike ontwikkeling van kinders (Bronfenbrenner & Morris 2006:993-1028). Kinders wat nie genoegsame versorging, liefde en ondersteuning in die gesin(mikrosisteem) ontvang nie en wat grootword in ʼn disfunksionele of nieversorgende en nie-ondersteunende gesin, ervaar gewoonlik ontwikkelingsprobleme. Tydens hierdie studie is daar op die mikrosisteem van die kind met 'n afwesige vader gefokus.

Die teenwoordige vader kan verskeie rolle in die gesin as mikrosisteem vervul en kan daardeur sy kind(ers) se ontwikkeling positief beïnvloed (Donald et al. 2014:40). Hy kan ʼn positiewe rolmodel as vader wees en daardeur positiewe gedrag by sy kind teweegbring, soos dit in die sosiaal-kognitiewe leerteorie van Bandura (2012:9-44) gestel word. Hy kan ook die volgende rolle in die gesinsisteem speel: ʼn man vir sy vrou, ʼn onderwyser, ʼn geestelike leier, ʼn gesagsfiguur en 'n dissiplineerder. Hy moet ook ʼn mentor wees en sy waardes en norme aan sy kinders oordra en uitleef (Freeks 2013:25-26).

Die sosiale ekologieteorie kan toegepas word om die interafhanklikheid van omgewingsfaktore in sekere sisteme te verduidelik, soos die gesin en die interskakelings tussen die verskeie sisteme en milieu in die persoon se lewensdomein, byvoorbeeld die verskillende sosiale fasette van ʼn persoon, in dié geval die kind wat interverwant is aan sy omgewing en sy gesin waar die vader afwesig is (Stokols 1996:283). 'n Kind lewe nie in isolasie nie - naas die sisteme wat volgens Bronfenbrenner en Morris kinderontwikkeling beïnvloed, moet rekening gehou word met die interafhanklikheid van veranderlikes en omgewingsfaktore wat uit die sosiale ekologieteorie voortspruit en wat verskil van kind tot kind asook ten opsigte van sosiale invloede.

Die sosiale sisteem in geheel word deur al die dele daarvan beïnvloed; ʼn spinnekopweb kan gebruik word om dit te verduidelik. Wanneer iets in die een deel van die web gebeur, het dit ʼn uitwerking of effek op die hele web (Donald et al. 2014:38). As gevolg van hierdie rimpeleffek is mense in sisteme in wisselwerking met mekaar. In 'n gesinsisteem slyp individue mekaar en daarom sal die afwesigheid van individue, soos in hierdie geval die vader, ook ʼn impak op die kind uitoefen. As daar dus spanning in een deel van die gesin ervaar word, sal die hele gesin daarop reageer en elke gesinslid sal dit op sy of haar unieke manier ervaar.

Vaderskap in die Afrikakulture is eweneens beduidend verweef in ʼn web van sosiale verhoudings (Roy 2014:319-335). ʼn Groot aantal van die mans in ʼn familie kyk na die kinders en maak hulle groot, al is dit nie noodwendig hul eie kinders nie. Verskillende mans aanvaar dus die verantwoordelikhede van vaderskap met betrekking tot dieselfde kind (Desmond & Desmond 2006:226-236; Rabe 2007:161-175). Die konsep van sosiale vaderskap word dikwels bepaal deur die sosiale posisie in die gesin, byvoorbeeld die oudste seun.

Soos gestel deur Tudge et al. (2009:198-210) is daar, in ooreenstemming met Bronfenbrenner en Morris se bio-ekosistemiese teorie, vier sisteme wat ʼn invloed het op kinderontwikkeling. Die gesin is in die mikrosisteem, waarin kinders intiem betrokke is in baie noue wisselwerking met die ander gesinslede. Dit blyk egter dat ʼn kind in die Afrikakulture ʼn wyer mikrosisteem beleef. Daar is meer sosiale rolspelers teenwoordig in die kind se mikrosisteem, dog nie noodwendig op ʼn intieme vlak nie, aangesien die uitgebreide gesinsnetwerke en sosiale vaders nie noodwendig saam met die kind woon nie.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat vaderafwesigheid wel moontlik ʼn impak op kinderontwikkeling kan uitoefen.

Onderwysers vorm deel van die leerder met 'n afwesige vader se mikrosisteem, aangesien hulle daagliks in noue kontak kom met dié kinders. Hulle behoort, soos voorheen gestel, op grond van hul opleiding, oor die kennis en ervaring van kinderontwikkeling te beskik om ontwikkelingsuitvalle (indien enige) by dergelike kinders te kan identifiseer. ʼn Onderwyser het basiese opleiding ontvang rakende ontwikkeling en opvoeding en kan dus met relatiewe gesag praat oor die onderwerp (Nganga & Chan 2015:8-12).

 

4. EMPIRIESE ONDERSOEK

4.1 Doel van die navorsing

Die doel van die navorsing was om deur middel van ʼn gevallestudie (in hierdie geval 'n skool) te bepaal wat onderwysers se persepsies is oor die moontlike impak van vaderafwesigheid op kinderontwikkeling.

4.2 Navorsingsoriëntasie

Interpretivisme het as filosofiese vertrekpunt en rigtingwyser vir die empiriese ondersoek gedien. Interpretivisme impliseer die beskryf, verstaan en interpretasie van die werklikheid, wat meervoudig, realisties en konteksgebonde is (Merriam 2009:8-11). Voortspruitend uit die interpretivisme is 'n fenomenologiese benadering vir die doeleindes van hierdie studie gevolg. Fenomenologie is een van die pragmatiese benaderings wat vanuit die oorspronklike begrip van die interpretivisme ontwikkel het (De Vos et al. 2005:6). Fenomenologie fokus op die mens se bewuste ervarings van hul leefwêreld en, volgens Schram (2003:71), sluit dit hul daaglikse lewens en sosiale interaksies in. Volgens Leedy en Ormrod (2010:141) poog ʼn fenomenologiese studie om mense se persepsies, perspektiewe, asook begrip van ʼn spesifieke situasie of verskynsel te verstaan, of om tot dieper insig daaroor te kom, dus te verklaar (interpreteer).

4.3 Navorsingsontwerp en -metode

'n Skool is gekies om as lokus vir ʼn gevallestudie te dien. In ʼn gevallestudie word ʼn sekere individu, program, stelsel of gebeure vir ʼn bepaalde tydperk deurtastend bestudeer (Mouton 2012:149).

Die skool is ʼn plattelandse, parallelmedium laerskool met ʼn leerdertal van ongeveer 800 leerders. Die skool het ʼn diverse samestelling met betrekking tot kultuur, taal en ras. Daar is ʼn maatskaplike werker en 33 onderwysers op die personeel. Deur die loop van 2012 het die maatskaplike werker kontak gehad met 282 leerders wat probleme ervaar. By nadere ondersoek het 80% van daardie leerders 'n vaderfiguur ontbeer. Daar is dus ʼn hoë voorkoms van vaderafwesigheid by die betrokke skool, wat die skool geskik gemaak het vir die doeleindes van die ondersoek.

'n Kwalitatiewe navorsingsmetode is in die studie gevolg: Daar is gepoog om die kompleksiteite en nuanses van die verskynsel "vaderafwesigheid" en die moontlike impak daarvan op kinderontwikkeling, vanuit onderwysers se persepsies, te ondersoek.

4.4 Deelnemers

Al die onderwysers by die betrokke laer skool is uitgenooi om deel te neem aan die studie. Daar is van die standpunt uitgegaan dat die onderwysers almal oor erkende onderwyskwalifikasies beskik, en dat hulle oor toereikende kennis en ervaring van kinderontwikkeling beskik om sinvolle insette te kon lewer rondom die impak van vaderafwesigheid op kinderontwikkeling. Die onderwysers het ook daagliks in aanraking met leerders gekom wat 'n vaderfiguur moes ontbeer en kon dus sinvolle inligting verskaf rakende hul persepsies oor die moontlike impak van vaderafwesigheid op kinderontwikkeling.

4.5 Navorsingsinstrument, data-insameling en -analise

Daar is van semigestruktureerde fokusgroeponderhoude gebruik gemaak om inligting van die deelnemers te bekom (Thomas 2005:78-79). Volgens Maree (2010:90) kon daar op hierdie wyse dus meer diepgaande inligting van die deelnemers oor die implikasies van vaderafwesigheid op kinderontwikkeling bekom word.

Daar is, met die deelnemers se goedkeuring, oudio-opnames gemaak tydens die fokusgroeponderhoude. Daar het vier fokusgroeponderhoude plaasgevind, met onderskeidelik nege, drie, ses en tien deelnemers elk. Daar is gepoog om die Grondslag-, Intermediêre en die Senior fase-onderwysers in afsonderlike fokusgroepe te plaas. Aangesien elke fase klem lê op verskillende vlakke van kinderontwikkeling kon die verskillende groepe se onderwysers met die fokusgroepgesprek assosieer. Die volgende vrae is tydens die fokusgroeponderhoude gestel: (1) wat is u opinie oor die impak van vaderafwesigheid op kinderontwikkeling? (2) wat verstaan u onder die begrip "vaderafwesigheid"? en (3) het kinders wat te make het met afwesige vaders spesiale intervensie nodig om hulle te ondersteun in hul ontwikkeling en, indien wel, watter tipes intervensiestrategieë?

Inhoudsanalise is vir die ontleding van die data gebruik. Die data-analise is in die volgende drie fases, soos deur Wellington (2000:134) beskryf, uitgevoer: (1) datareduksie: die data is ingesamel, getranskribeer, gekodeer en gekategoriseer;

(2) datavoorstelling: die geordende data is visueel geïllustreer; en (3) gevolgtrekkings: kategorieë is geïnterpreteer en temas is geïdentifiseer wat as bevindinge gedien het.

4.6 Betroubaarheidsaspekte

Die onderstaande strategieë, soos deur Wellington (2000:40) genoem, is in die studie gebruik om betroubaarheid en vertroubaarheid te verbeter. Die analise van die data is deur ʼn objektiewe analiseerder wat nie by die navorsing betrokke was nie gedoen; en terugvoer oor die bevindinge is aan die deelnemers gegee (sogenaamde "member checking").

Die bevindinge is ook teen die agtergrond van die konseptuele raamwerk en die literatuurstudie geïnterpreteer en bespreek.

4.7 Etiese aspekte

Tydens die studie is die volgende stappe geneem om aan die etiese voorwaardes van navorsing te voldoen:

Toestemming vir die navorsing is van die Departement van Onderwys van die Limpopoprovinsie verkry.

Toestemming is van die skoolhoof en beheerliggaam van die betrokke skool verkry.

Deelnemers het vrywillig deelgeneem en ingeligte toestemming vir hul deelname gegee.

Die identiteit van die skool en die deelnemers is beskerm en alle inligting is as vertroulik hanteer.

Etiese goedkeuring vir die navorsing is deur die Etiekkomitee van die Noordwes-Universiteit gegee.

 

5. BEVINDINGE

5.1 Bevinding rondom die begrip vaderafwesigheid

Dit blyk dat die begrip "vaderafwesigheid" vereenselwig word met die afwesigheid van 'n vader as gevolg van verskeie redes, insluitend: dat die vader se identiteit onbekend is; dat die vader dood is; die fisieke afwesigheid van die vader; of die onbetrokkenheid van die vader.

Daar was verskeie mededelings van deelnemers wat op bogenoemde gedui het, byvoorbeeld: "ʼn Pa is daar, maar hy is nie daar nie"; "Hy weet nie wie sy pa is nie"; "Partykeer het ʼn kind ʼn pa, maar hy is so apaties teenoor die kind"; "Hy is onbetrokke"; "Hy is daar, maar ook nie daar nie, hy is eintlik afwesig"; en "Die pa is dood".

5.2 Bevinding: die moontlike impak van vaderafwesigheid op kinderontwikkeling

Dit blyk dat vaderafwesigheid ʼn impak uitoefen op feitlik alle aspekte van die ontwikkeling van leerders wat 'n vader(figuur) ontbeer, met inbegrip van die volgende:

Kognitief en akademies (ontoereikende abstrakte denke en probleemoplossingsvaardighede, aandagafleibaarheid of skolastiese agterstande)

Emosioneel (leerders is aggressief, aandagsoekend, depressief, afhanklik of impulsief)

Moreel (leerders vertoon dissiplinêre probleme en is manipulerend)

Sosiaal (leerders vertoon ontoereikende geslagsrolidentifikasie, sosialiseringsprobleme)

Geestelik (geloofskwessies kom onder die leerders voor)

In verband met akademiese prestasie is die volgende mededelings gemaak: "Ek dink tog daar is akademies ʼn ding, want al drie wat by my is, sukkel met skoolwerk of het gedruip"; "Wat baie keer gebeur by die kognitiewe denke, waar ons kyk na meer abstrakte goed...die kind leer nie om te dink oor die nagevolge van iets nie"; "Aandagafleibaarheid"; "Probleemoplossing... dis waar ek ʼn verskil sien"; "nie noodwendig akademiese uitvalle nie".

Dit is al vir dekades duidelik dat die vader se betrokkenheid ook met akademiese prestasie verband hou (Evans & Fogarty 1999:2; Green 2002:1; Baker et al. 2018:1). Kinders met betrokke vaders word oor die algemeen in intellektueel stimulerende huise groot en sal waarskynlik hoër kognitiewe vermoëns demonstreer (Lamb &Tamis-Lamonda 2013:33-48). Studies toon dat babas met betrokke vaders teen die ouderdom van een jaar reeds ʼn hoër kognitiewe funksionering vertoon as babas met onbetrokke vaders (Nugent 1991:475-485).

Die deelnemers het aangedui - en dit strook ook met die literatuur - dat vaderafwesigheid ʼn negatiewe impak het op die emosionele ontwikkeling van leerders: "Hy's meer aggressief ook, jy kan sien die pa wat ʼn voorbeeld moes wees, is nie daar nie"; "Persoonlikheid het ook iets daarmee te doen... verseker, definitief, ja!"; "Ek het die leerders wat ek agtergekom het, wat baie aggressief is - een het bietjie depressie getoon".

Die meeste van die deelnemers het ook aangetoon dat leerders met afwesige vaders dissiplinêre probleme vertoon; die volgende mededeling getuig daarvan: "Die kinders met dissiplineprobleme is die vaderlose leerders of wat die vader nie optree nie."

Die meeste van die deelnemers het vertel van dissiplinêre probleme wat met leerders waar die vader afwesig is, ondervind word. Dit blyk dat dissiplinêre probleme, gedragsuitvalle en gedragsprobleme dikwels by dergelike leerders voorkom. Die dissiplinêre probleme en gedragsuitvalle wat by leerders met afwesige vaders voorkom, het 'n negatiewe invloed op hul selfbeeld en akademiese prestasie.

Volgens Shewark en Blandon (2015:268) tel die bewerkstelliging van emosionele en sosiale stabiliteit in hul gesinne onder die vernaamste funksies wat vaders moet vervul. Kinders met liefdevolle, betrokke vaders ervaar groot voordele. Hierdie kinders toon ʼn goeie selfbeeld, hoë selfwaarde, emosionele en sosiale stabiliteit, gesonde portuurverhoudings en, oor die algemeen, psigologiese en sosiale welstand. Dit het uit die studie geblyk dat bogenoemde strook met die deelnemers se mededelings, naamlik dat leerders met afwesige vaders dikwels aggressief of depressief voorkom, en nie emosioneel stabiel is nie.

ʼn Verdere bevinding rakende die impak van vaderafwesigheid behels die geestelike ontwikkeling van die kind. Dit dui daarop dat sommige kinders wat sonder 'n vaderfiguur moet funksioneer sukkel om God as ʼn liefdevolle Vader te sien. Hierdie bevinding bevestig wat Stoop (2004:233) sê - dat die wanfunksionering van die vaderfiguur tot ernstige verdraaiing van die kind se Godsbeeld kan lei (Jordaan & Janse van Rensburg 2007:35).

5.3 Ondersteuning aan leerders met afwesige vaders deur die skool

Uit die deelnemers se mededelings het dit geblyk dat, behalwe vir materiële ondersteuning wat deur sommige onderwysers gebied word, die skool nie enige verdere ondersteuning aan leerders wat sonder 'n vaderfiguur moet funksioneer gegee het nie. Daarom het die deelnemers aanbeveel dat die volgende tipes ondersteuning aan dergelike leerders verleen moet word. Eerstens, emosionele ondersteuning en berading moet aan die leerders gebied word. Tweedens moet daar geleenthede vir manlike geslagsrolidentifikasie aan die leerders gebied word (byvoorbeeld, mansonderwysers kan dien as manlike rolmodelle en "voogde" van vaderlose leerders en aktiwiteite kan gereël word waartydens die leerders dan kan identifiseer met die positiewe, manlike rolmodelle). Laastens kan gemeenskapsbewusmakingsprojekte van stapel gestuur word om ondersteuning aan vaderlose kinders te bied.

 

6. BESPREKING

6.1 Die begrip "vaderafwesigheid"

Op grond van die mededelings van die deelnemers, impliseer vaderafwesigheid ook vaderloosheid, hetsy as gevolg van dood, identiteitloosheid (die identiteit van die vader is onbekend), fisieke afwesigheid (woon en werk elders) en onbetrokkenheid (die sogenaamde aanwesige-afwesige vader).

Vaderafwesigheid beteken, volgens Freeks (2013:1), dat kinders nie ʼn vader in die huis het nie en dan ervaar kinders ook nie die voordele van ʼn aanwesige vader nie. In die literatuur verwys die woord "vaderafwesigheid" na die afwesigheid of relatiewe afwesigheid van ʼn vaderfiguur in die lewe van ʼn kind (Vaderskapstigting van Suid-Afrika 2015). Vaderafwesigheid word beskou as die fisieke of emosionele afwesigheid van die persoon wat die rol van die vader in die gesin behoort te speel.

Vaderloosheid, aan die ander kant, word deur Ratele et al. (2012:558) beskou as "grootword" sonder ʼn biologiese vader. Die Vaderskapstigting van Suid-Afrika (2010) sien vaderloosheid egter as om geen vader of geïdentifiseerde vaderfiguur te hê nie.

Die navorser beskou vaderloosheid as die vader wat in totaliteit nie daar is in die gesin nie en dat daar niemand anders is wat die rol van die vader vervul nie. Die navorser beskou ook die verskil tussen die twee begrippe op ʼn fisiek-teenwoordige vlak. Indien ʼn kind vaderloos is, is daar fisiek nie ʼn vader teenwoordig wat die kind kan bystaan nie, maar indien ʼn kind ʼn afwesige vader het, is die vader fisiek teenwoordig, maar hy ondersteun nie die kind in die geheel nie.

Vaderloosheid en vaderafwesigheid is egter as een begrip deur die onderwysers verstaan, naamlik die nieteenwoordigheid van die vader.

6.2 Die impak van vaderafwesigheid op kinderontwikkeling

Volgens die deelnemers oefen vaderafwesigheid ʼn akademiese en kognitiewe impak op die ontwikkeling van kinders uit. Le Roux (2007:96) is ook van mening dat die akademiese prestasie van ʼn kind verband hou met die betrokkenheid van die vader. Evans & Fogarty (1999:2), Green (2002:1) en Lamb (1987:109-125) het ook al dekades terug gestel dat kinders met betrokke vaders heel waarskynlik in intellektueel stimulerende huise sal grootword. Studies toon aan dat babas met betrokke vaders teen die ouderdom van een jaar 'n hoër vlak van kognitiewe funksionering vertoon as babas met onbetrokke vaders (Louw & Louw 2014:10) en dat peuters met betrokke vaders ook beter probleemoplossingsvaardighede vertoon as peuters met onbetrokke vaders (Flouri & Buchnan 2003:64).

Dit blyk dat kinders met betrokke vaders heel waarskynlik meer intellektueel gestimuleer word as kinders sonder vaders. Hul kognitiewe ontwikkeling sal daardeur baat. Neurologiese ontwikkeling word ook deur omgewingsinteraksies gestimuleer (Keenan & Evans 2009:143).

Die negatiewe impak van vaderafwesigheid op leerders se akademiese prestasie is ʼn bron van kommer. Die aantal leerders wat sonder 'n vaderfiguur grootword neem elke jaar toe en plaas daardeur toenemende druk op onderwysers om addisionele hulp aan sodanige leerders met akademiese agterstande en probleme te gee.

Die bevinding dat sommige leerders met afwesige vaders aggressie toon, sluit aan by Evans en Fogarty (1999:2) se bevinding dat die voorkoms van tienergeweld en jeugmisdaad verband hou met vaderafwesigheid.

Vaders se vernaamste funksie, volgens Richter en Morrell (2006:1), is om emosionele en sosiale stabiliteit in hul gesinne en in die samelewing te bewerkstellig. Kinders met warm, versorgende en aktiewe vaders ervaar groot voordele, volgens Green (2002:1). Die kinders toon ʼn goeie selfbeeld, gesonde portuurgroepverhoudings, emosionele en sosiale stabiliteit, ʼn hoë selfwaarde en, oor die algemeen, psigologiese en sosiale welstand.

Dit blyk dus dat gedragsuitvalle asook dissiplinêre en gedragsprobleme dikwels by leerders wat 'n vaderfiguur moet ontbeer voorkom. Die bevindinge van die onderhawige studie strook met ander bevindinge wat aantoon dat vaders se betrokkenheid by hul kinders ʼn groot impak het op hul sosiale en psigologiese ontwikkeling (Boyce et al. 2006:1510-1520; Bronte-Tinkew et al. 2006:81-209; Ratele et al. 2012:554). Die vader speel ook ʼn belangrike rol as dissiplineerder in die gesin en in die uitoefening van gesonde dissipline (Keenan & Evans 2009).

Die dissiplinêre probleme en gedragsuitvalle wat by leerders met afwesige vaders voorkom, sal ʼn negatiewe invloed op hul selfbeeld en akademiese prestasie uitoefen. Die kind kry dikwels die etiket van ʼn "probleemkind" en die negatiewe persepsies wat onderwysers van die kind het, vertroebel die onderwyser-leerderverhouding. Die negatiewe beeld versterk weer die negatiewe persepsies wat die kind van hom- of haarself het en dit ontaard in ʼn afwaartse spiraal. Daarom is dit belangrik dat onderwysers, en veral mansonderwysers, as positiewe rolmodelle vir leerders wat sonder 'n vaderfiguur grootword moet optree.

Dit blyk uit die bevindinge dat Bronfenbrenner en Morris se bio-ekosistemiese perspektief en ook dié van die sosiale ekologieteorie op kinderontwikkeling van toepassing is op die ontwikkeling van kinders met 'n afwesige vader en dat die vader se afwesigheid in die kind se mikrosisteem ʼn negatiewe impak uitoefen op die kind se ontwikkeling. Die rimpeleffek van die wisselwerking tussen mense of die afwesigheid van mense - in dié geval die vader - het wel ʼn impak, volgens die bevindinge.

 

7. SAMEVATTING

Hierdie studie het aangedui dat vaderafwesigheid ʼn groeiende en kommerwekkende tendens in Suid-Afrika is en dat dit ʼn impak op bykans alle fasette van kinderontwikkeling uitoefen. Daarom is ondersteuningsmaatreëls vir leerders wat sonder 'n vaderfiguur grootword van kardinale belang.

 

BIBLIOGRAFIE

Baker, C.E., Kainz, K.L. & Reynolds, E.R. 2018. Family Poverty, Family Processes and Children's Preschool Achievement: Understanding the Unique Role of Fathers. Journal of Child and Family Studies, 1:1-10.         [ Links ]

Bandura, A. 2012. On the functional properties of perceived self-efficiency revisted. Journal of Management, 38:9-44.         [ Links ]

Berns, R.M. 2010. Child, family, school, community: socialization and support (8th ed.). Belmont, Calif.: Wadsworth.         [ Links ]

Boyce, W.T., Essex, M.J., Alkon, A., Goldsmith, H., Kraemer, H.C. & Kupfer, D.J. 2006. Early father involvement moderates biobehavioral susceptibility to mental health problems in middle childhood. Journal of the American Academy of Child & Adolescent Psychiatry, 45:1510-1520.         [ Links ]

Bronfenbrenner, U. & Morris, P.A. 2006. The ecology of developmental processes. (In Damon, W. & Lerner, R.M. (eds). Handbook of child psychology, v. 1. 6th ed. Hoboken, N.J.: Wiley, pp. 993-1028).         [ Links ]

Bronte-Tinkew, J., Moore, K.A., Capps, R.C. & Zaff, J. 2006. The influence of father-involvement on youth risk behaviors among adolescents: a comparison of native-born and immigrant families. Social Science Research, 35:81-209.         [ Links ]

Choi, J. & Jackson, A.P. 2011. Fathers' involvement and child behavior in poor African American single-mother families. Children and Youth Services Review, 33:698-704.         [ Links ]

Desmond, C. & Desmond, C. 2006. HIV/AIDS and the crisis of care for children. In L. Richter & R. Morell (eds). Baba: Men and fatherhood in South Africa. Cape Town: HSRC Press, pp. 226-236.         [ Links ]

De Vos, A.S., Strydom, H., Fouché, C.B. & Delport, C.S.L. 2005. Research at grass roots: For the social sciences and human service professions (3rd ed.). Pretoria: Van Schaik Publishers.         [ Links ]

Donald, D., Lazarus, S. & Moolla, N. 2014. Educational psychology in social context: ecosystemic application in Southern Africa (5th ed.). Cape Town: Oxford University Press.         [ Links ]

Evans, G.D. & Fogarty, K. 1999. The hidden benefits of being an involved father. http://edis.ifas.ufl.edu Datum van toegang: 2 Maart 2017.         [ Links ]

Fatherhood Foundation of South Africa. 2010. http://www.fatherhoodfoundationsa.org/[29 April 2016].         [ Links ]

Flouri, E. & Buchanan, A. 2003. The role of father involvement in children's later mental health. Journal of adolescence, 26:63-78.         [ Links ]

Freeks, F.E. 2013. Dad is destiny. Potchefstroom: Ivyline Technologies.         [ Links ]

Gottfried, A.E., Gottfried, A.W. & Bathurst, K. 1988. Maternal employment, family environment and children's development: Infancy through the school years. In A.E. Honzik. Environmental correlates of mental growth: Prediction from the family setting at 21 months. Child Development, 38:337-364.         [ Links ]

Green, S. 2002. Involving fathers in children's literacy development: An introduction to the fathers reading every day (FRED) program. http://www.joe.org/joe/2002october/iw4.shtml[29 May 2013].         [ Links ]

Jordaan, A. & Janse van Rensburg, J. 2007. Die rol van die vader by veralgemeende angsversteuring. In die Skriflig, 41(1):23-44.         [ Links ]

Kapp, J.A. (ed.). 2010. Children with problems: An orthopedagogical perspective (16th ed.). Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Keenan, T. & Evans, S. 2009. An introduction to child development (2nd ed.). London: Sage.         [ Links ]

Lamb, M.E., Pleck, J.H. & Levine, J.A. 1987. Effects of increased paternal involvement on fathers and mothers. In C. Lewis & M. O'Brien (eds). Reassessing fatherhood: new observations on fathers and the modern family. Thousand Oaks, Calif.: Sage, pp. 109-125.         [ Links ]

Lamb, M.E. & Tamis-Lemonda, C.S. 2013. The role of the father: An introduction. In M.E. Lamb (ed.). The role of the father in child development (3rd ed.). Hoboken, N.J. : Wiley, pp. 33-48.         [ Links ]

Leedy, P.D. & Ormrod, J.E. 2010. Practical research: planning and design (9th ed.). Upper Saddle River, N.J.: Pearson.         [ Links ]

Le Roux, A. 2007. 'n Kruiskulturele ondersoek na studente se houdings teenoor hul vaders. Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 43(3-4):91-106.         [ Links ]

Louw, D.A. & Louw, A.E. 2014. Die ontwikkeling van die kind en die Adolessent. 2de uitgawe. Bloemfontein: Psychology Publications.         [ Links ]

Maree, K. (ed.). 2010. First steps in research (4th ed.). Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Merriam, S.B. 2009. Qualitative research: A guide to design and implementation (2nd ed.). San Francisco, Calif.: Jossey-Bass.         [ Links ]

Mouton, J. 2012. How to succeed in your master's and doctoral studies: A South African guide and resource book (17th ed.). Pretoria: Van Schaik Publishers.         [ Links ]

Murdock, G.P. 1962. Structures and functions of the family. In R.F. Winch, R.M. McGinnis & H.R. Barringe (eds). Selected studies in marriage and the family. New York: Holt, Rinehart & Winston.         [ Links ]

Nganga, T.K. & Chan, T.C. 2015. The Importance of Ethics, Moral and Professional Skills of Novice Teachers. Procedia - Social and Behavioral Sciences, 205:8-12.         [ Links ]

Nugent, S. 1991. Cultural and psychological influences on the father's role in infant development. Journal of marriage and the family, 53:475-485.         [ Links ]

Rabe, M. 2007. My children, your children, our children, fathers, female partners, and household structures. South African Review of Sociology, 38:161-175.         [ Links ]

Radin, N. 1994. Primary caregiving fathers in intact families. In A.E. Gottfried & A.W. Gottfried (eds). Redefining families: Implications for children's development. New York: Plenum, pp. 11-54.         [ Links ]

Ratele, K., Shefer, T. & Clowes, L. 2012. Talking South African fathers: A critical examination of men's constructions and experiences of fatherhood and fatherlessness. South African Journal of Psychology, 42(4):553-563.         [ Links ]

Richter, L. & Morrell, R. (eds). 2006. Baba: Men and fatherhood in South Africa. Cape Town: HSRC Press.         [ Links ]

Roy, K. 2014. Fathering From the Long View: Framing personal and Social Change Through Life Course Theory. Journal of Family Theory & Review, 6:319-335.         [ Links ]

Saliha, F.B. & Jayan, C.2013. Role of father in the cognitive development of the child: an exploration. Guru Journal of Behavioral and Social Science, 1:40-46.         [ Links ]

Schram, T.H. 2003. Conceptualizing qualitative inquiry. Upper Saddle River, N.J.: Merrill Prentice Hall.         [ Links ]

Shewark, E.A. & Blandon, A.Y. 2015. Mothers' and Fathers' Emotion Socialization and Children's Emotion Regulation: A Within-Family Model. Social Development, 24(2): 266-284.         [ Links ]

Shinn, M. 1978. Father absence and children's cognitive. Psychological Bulletin, 85:295-324.         [ Links ]

Silverstein, L.B. & Auerbach, C.F. 1999. Deconstructing the essential father. American Psychologist, 5:1-21.         [ Links ]

Stats SA. 2015. General Household Survey, 2014. Pretoria: StatsSA.         [ Links ]

Stokols, D. 1996. Translating Social Ecological Theory Into Guidelines for Community Health Promotion. American Journal of Health Promotion, 10(4):282-298.         [ Links ]

Stoop, D. 2004. Making peace with your father: Understand the role your father has played in your life - past to present. Ventura, Calif.: Regal Books.         [ Links ]

Thomas, R.M. 2005. Comparing theories of child development (6th ed.). Belmont, Calif.: Thomson Wadsworth.         [ Links ]

Tudge, J.R.H., Mokrova, I., Hatfield, B.E. & Karnik, R.B. 2009. Uses and misuses of Bronfenbrenner's bioecological theory of human development. Journal of family theory & review, 1(4): 198-210.         [ Links ]

Vaderskapstigting van Suid-Afrika kyk Fatherhood Foundation of South Africa.         [ Links ]

Wellington, J.2000. Educational research: Contemporary issues and practical approaches. London: Continuum.         [ Links ]

 

 

 

LETTIE BOTHA is tans 'n Lewensoriënteringdosent in die Fakulteit Opvoedingswetenskappe aan die Potchefstroomse Kampus van die Noordwes-Universiteit. Sy het so pas haar PhD aan die NWU behaal. Haar navorsingsfokus is gerig op vaderloosheid sowel as vaderafwesigheid en die impak daarvan op kinderontwikkeling, asook moontlike ingrypingstrategieë.
LETTIE BOTHA is currently a Life Orientation lecturer in the Faculty of Education Sciences at the Potchefstroom Campus of the North-West University. She has just obtained her PhD from the NWU. Her research focus is on fatherlessness as well as father absenteeism and its impact on child development, as well as possible intervention strategies.

 

 

LUKAS MEYER is chair of NWU-EMELTEN-REC which is a National Health Research Ethics Council (NHREC) registered inter-faculty research ethics committee at the North-West University (Potchefstroom Campus). He is a registered educational psychologist with the Health Professions Council of South Africa and he is the author and co-author of various academic books and nationally and internationally published articles. He acted as supervisor for 32 master's and 13 doctoral studies. His research focus is educational-psychological assessment, counselling as well as research ethics.
LUKAS MEYER is voorsitter van NWU-EMELTEN-REC wat
ʼn interfakultêre navorsingsetiekkomitee by die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) is en wat by die National Health Research Ethics Council (NHREC) van die Departement Gesondheid geregistreer is. Hy is ook ʼn opvoedkundige sielkundige wat by die Raad vir Gesondheidberoepe van Suid-Afrika geregistreer is. Hy het in verskeie boeke en nasionale en internasionale wetenskaplike tydskrifte as outeur en mede-outeur gepubliseer en tot op hede het hy as studieleier en mede-studieleier van 32 meestersgraad- en 13 doktorale studies opgetree. Sy navorsingsfokus is opvoedkundige-sielkundige assessering en berading, asook navorsingsetiek.
1 Kyk byvoorbeeld Desmond & Desmond (2006); Engle & Breaux (1998); Engle et al. (2006); Guma & Henda (2004); Jarrett (1994); Lamb et al. (1985); Lindegger (2006); Richter (2006); Swartz & Bhana (2009).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License