SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue1Older women's subjective experience of loneliness: applying the Mmogo- methodTMDollarisation as economic solution for the Zimbabwean demise author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.59 n.1 Pretoria Mar./May. 2019

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2019/v59n1a3 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Die invloed van agenthebbende passiefkonstruksies op die veranderende gebruik van die setsel deur1

 

The influence of agentive passive constructions on the changing use of the adposition deur

 

 

Ian Kotzé; Johanita Kirsten

Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit, Vanderbijlpark-kampus. E-pos: Kotzeian3@gmail.com; E-pos: Johanita.Kirsten@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Daar is min deskriptiewe navorsing beskikbaar oor die gebruik van setsels in Afrikaans. Die meerderheid van die literatuur fokus op wat presies setsels is en hoe setsels in konstruksies gebruik word, sonder om veel aandag te skenk aan die grammatikale funksie daarvan in sodanige konstruksies. Diachroniese navorsing oor setsels is ook beperk en die diachroniese navorsing wat wel beskikbaar is, fokus nie op die veranderende gebruik van setsels nie. ʼn Setsel waaroor daar min navorsing beskikbaar is, is deur.
In hierdie artikel word ondersoek ingestel na die veranderende gebruik van die setsel deur vir die periode 1911 tot 2010. Die setsel se prominentste en ander meer of minder algemene gebruike word aan die hand van funksionele sintaksis, spesifiek die voorstellingsfunksie, geïdentifiseer met behulp van korttermyn-diachroniese korpuslinguistiese metodes. Elke afdeling van die korpus verteenwoordig
ʼn dekade van Afrikaanse taalgebruik, naamlik 1911-1920 (A1), 1941-1950 (A2), 1971-1980 (A3) en 2001-2010 (A4).
Die analises toon dat die belangrikste algehele frekwensieveranderinge wat deur ondergaan het, ten nouste verweef is met die gebruik van deur-setselstukke om akteurs in agenthebbende passiefkonstruksies in te lei. Tussen A1 en A2 van die korpus is daar
ʼn beduidende toename in die algehele gebruik van setselstukke met deur, gevolg deur ʼn beduidende afname in gebruik tussen A2 en A4. Ongeveer 47% van al die setselstukke met deur word oor die korpus heen gebruik om die akteur van agenthebbende passiewe konkrete prosesse in te lei. Die prominentste gebruik van deur het waarskynlik verander as gevolg van ʼn verandering in die totale passiefgebruik oor die korpus heen. Die veranderende setselgebruik van deur kan gevolglik nie toegeskryf word aan verandering in die gebruik van die setsel op sigself nie, maar dit is eerder indirek die resultaat van die veranderende gebruik van passiefkonstruksies oor die korpus heen.

Trefwoorde: Afrikaanse setsels, deur, sistemies-funksionele grammatika, voorstellingsfunksie, semantiese kategorieë, konkrete prosesse, akteurs, passiefkonstruksies, agenthebbende passiefkonstruksies, diachroniese korpuslinguistiek


ABSTRACT

Descriptive research on Afrikaans adpositions is very limited and the majority of the research focuses on what adpositions are (such as Ponelis 1979; 1993; Van Schoor 1983:67-84), and how they are used in constructions (such as Kempen 1984; Pretorius 1972; Ponelis 1984), without paying much attention to the function of the adposition in constructions. An Afrikaans adposition that is extremely under-researched is deur ("by" / "through"). This article investigates the reasons behind the frequency changes in the use of the adposition deur in Afrikaans between 1911 and 2010. Halliday and Matthiessen's (2014) representational function, a functional approach to syntax within the theoretical framework of systemic functional grammar, is used to analyse and interpret diachronic corpus data.
The four sections in Kirsten's (2016) Historiese korpus van geskrewe Afrikaans (Historical corpus of written Afrikaans) are used to conduct the analyses. Each section of the corpus represents a decade of Afrikaans language usage, namely 1911-1920 (S1), 1941-1950 (S2), 1971-1980 (S3) and 2001-2010 (S4), with intervals of 20 years between each decade - each section consists of approximately 261 000 words. Random samples of 500 instances of deur were extracted from each section of the corpus for further analyses.
The analyses indicate that between S1 and S2 of the corpus there is a significant increase in the total adpositional use of deur. The adposition, however, is used less frequently after S2 of the corpus, leading to a gradual, significant decline in usage between S2 and S4 of the corpus. Based on the analyses, it was determined that adpositional phrases with deur are used predominantly in conjunction with material processes. The overall frequency changes of the adpositional use of deur with material processes resemble the frequency changes observed in the overall adpositional use of deur. Between S1 and S2 of the corpus there is a significant increase in the use of adpositions with deur with material processes, followed by a significant decrease in use between S2 and S4 of the corpus. The same pattern of frequency changes is once again observed in the most salient use of adpositional phrases with deur with material processes, and where phrases with deur are used as part of the agent in passive constructions. This led us to the initial conclusion that changes in the most salient use of adpositional phrases with deur were the most likely explanation for the overall frequency changes of the adpositional use of deur. Approximately 85% of the total uses of deur as part of the agent with material processes are used to indicate the agent in long passives. There is therefore a strong relationship between the overall use of passive constructions in Afrikaans and the use of deur. Between S1 and S3 of the corpus there is a significant increase in the overall use of passive constructions, followed by a significant decline in usage between S3 and S4 of the corpus. Since the pattern of changes observed in the overall change of the adpositional uses of deur is very similar to the pattern of the overall change in the use of passive constructions in the corpus, the most likely explanation for the overall frequency changes in die adpositional uses of deur is the result of the change in use of passive constructions. The changes in the use of passive constructions directly impacted the most salient adpositional use of deur, to mark the agent in long passives, which caused the overall change in the adpositional use of deur.

Keywords: Afrikaans adpositions, deur, systemic functional grammar, representational function, semantic categories, material processes, agents, passive constructions, long passives, diachronic corpus linguistics


 

 

1. INLEIDING

In Afrikaans is daar min deskriptiewe navorsing gedoen oor die gebruik van setsels. Navorsing oor setsels is beperk tot meer formalistiese beskrywings van wat presies setsels is (bv. Ponelis 1979; 1993; Van Schoor 1983:67-84), en hoe dit in konstruksies gebruik word (bv. Kempen 1984; Pretorius 1972; Ponelis 1984), sonder om veel aandag te skenk aan die grammatikale funksie wat die setsels in konstruksies verrig. Beskrywings van setsels in die bogenoemde literatuur, met die uitsondering van Kempen (1984), is veral daarop ingestel om 'n formele onderskeid tussen verskillende tipes setsels te tref aan die hand van die verhouding tussen die setsel en sy aanvulling.

Op grond van die verhouding tussen die setsel en sy aanvulling, word setsels in formele sintaksis onderverdeel as voorsetsels, soos in die geval van die deur-setselstuk in "[w]ant onse taalvijande het deur hulle uitlatings te Bloemfontein ons so baing vatplek op hulle gegee" (1911-1920, Verslaggewing), waar die setsel (skuinsdruk) voor sy aanvulling (onderstreep) staan; en agtersetsels, soos in die geval van die deur-setselstuk in "[u] het ʼn wonderlike gevoel van lewenskragtigheid die hele dag deur" (Ponelis 1979:176), waar die setsel ná sy aanvulling staan. Voorsetsels en agtersetsels is egter net voorbeelde van simplekse setsels, aangesien daar ook komplekse setsels beskryf word. Alkantsetsels, byvoorbeeld die setselstuk met tussendeur in "tussen die trane deur" (Van Rooy 2017:261; Ponelis 1979:176-177), waar skeibare setsels beide voor en na die aanvulling voorkom, is ʼn minder algemene vorm van 'n komplekse setsel, terwyl groepvoorsetsels, soos in die geval van die setselstuk met deur middel van in "[s]eebodem dieptelesings langs populêre roetes is tradisioneel deur middel van klankeggo's vanuit die rompe van skepe geneem" (2001-2010, Natuurwetenskappe), die algemener vorm van komplekse setselgebruik is.

Kempen (1984:11-13; 339; 363-364) beklemtoon dat "ons nie met wiskundige presiesheid 'weet' wat ʼn voorsetsel is nie", en dat ʼn kliniese onderskeid tussen verskillende groepe setsels, soos dié van Ponelis (1979), van mindere waarde is. Vir ʼn gebruiksgebaseerde studie is die bogenoemde groeperings inderdaad van minder belang, aangesien die verskillende tipes setsels bloot ʼn uitbreiding van die voorsetsel-basiskategorie is en dieselfde sintaktiese funksies kan verrig (Van Rooy 2017:296; Kotzé 2018:61-63). Daar is egter nie veel navorsing beskikbaar oor wat presies dié sintaktiese funksies is wat setsels in Afrikaans verrig nie en daar word in bestaande (formalistiese) literatuur ook nie veel klem geplaas op wat die prominentste gebruike van die onderskeie setsels in Afrikaans behels nie. ʼn Setsel waaroor daar tans nie veel navorsing beskikbaar is nie, is deur.

Volgens Ponelis (1979:330-331; 415) word die setsel deur in Afrikaans vir ʼn verskeidenheid funksies gebruik. Hy beklemtoon veral drie belangrike gebruike van deur, naamlik: (i) die gebruik van deur by lokatiewe adjunkte om ruimtelike oriëntasie in terme van ʼn verwysingspunt uit te druk, byvoorbeeld "dit het deur die hele Transvaal gereën"; (ii) dat setselstukke met deur in oorganklike nominaalkonstruksies met die onderwerp korreleer, byvoorbeeld "die omkoop van amptenare deur Lockhead" as die onderwerpskorrelaat van "Lockhead het amptenare omgekoop" in oorganklike nominaalkonstruksies; en (iii) dat setselstukke met deur gebruik kan word om die agent in agenthebbende passiefkonstruksies uit te druk, byvoorbeeld "die hofsaak is deur baie mense bygewoon" (Ponelis 1979:330-331; 411-415). Ponelis (1979:330-331; 415) verwys na die bogenoemde funksies van deur in konstruksies, maar beklemtoon nie eksplisiet watter van hierdie gebruike meer of minder algemeen in taalgebruik voorkom nie. Hoewel die fokus van Ponelis (1979; 1984) se navorsing nie kwantitatief was nie, is dit belangrik om met behulp van nuwe taalteoretiese benaderings en kwantitatiewe navorsingsmetodes taalgebruiksdata te analiseer ten einde te bepaal watter van die bogenoemde gebruike werklik in taalgebruik die prominentste is.

In hierdie artikel word ondersoek ingestel na die veranderende gebruik van die setsel deur vir die periode 1911 tot 2010. Die setsel se prominentste en ander meer of minder algemene gebruike word aan die hand van die voorstellingsfunksie geïdentifiseer met behulp van korttermyn-diachroniese korpuslinguistiese metodes. Die analises toon dat die belangrikste algehele frekwensieveranderinge wat deur ondergaan het, ten nouste verweef is met die gebruik van deur-setselstukke om agente in agenthebbende passiefkonstruksies in te lei.

In afdeling 2 word ʼn inleidende bespreking van sleutelbegrippe in die voorstellingsfunksie aangebied, waarna die algemene metodologie en historiese korpus in afdeling 3 in meer besonderhede bespreek word.

 

2. FUNKSIONELE SINTAKSIS EN DIE VOORSTELLINGSFUNKSIE

Die voorstellingsfunksie, ʼn vorm van funksionele sintaksis binne die raamwerk van Halliday en Matthiessen (2014) se uiteensetting van ʼn sistemies-funksionele grammatika vir taalgebruik, is ʼn tipe gebruiksgebaseerde taalteoretiese raamwerk. Binne die raamwerk van sistemies-funksionele grammatika word teks gesien as ʼn artefak van taal wat realiseer deur taalgebruik (Halliday & Matthiessen 2014:3). In funksionele sintaksis word daar onderskei tussen drie primêre benaderings waarvolgens konstruksies geanaliseer en geïnterpreteer word aan die hand van funksies; hierdie funksies sluit in die tekstuele funksie, die kommunikatiewe funksie en die voorstellingsfunksie (Halliday & Matthiessen 2014:83).

Die beskrywing van die gebruik van deur in hierdie artikel is in die teorie van die voorstellingsfunksie van funksionele sintaksis ingebed. Ten einde die beskrywing sinvol te kan volg, word 'n in-diepte beskrywing van die nodige komponente van dié teoretiese raamwerk hieronder verskaf vir lesers wat nie daarmee vertroud is nie.

2.1 Sintaktiese benaderings binne die raamwerk van sistemies-funksionele grammatika

Die tekstuele funksie is ʼn pragmatiese perspektief op sintaksis wat fokus op die wyse waarop ʼn klous op tekstuele vlak funksioneer as ʼn boodskap (Halliday & Matthiessen 2014:83). ʼn Klous het betekenis as ʼn boodskap en is ʼn samestelling van inligting met die tema as uitgangspunt vir die boodskap - taalgebruikers gebruik gevolglik die tema as die basis vir wat hulle wil sê. In die tekstuele funksie word ʼn klous geanaliseer op grond van die tema ("theme") en rema ("rheme") (Halliday & Matthiessen 2014:83).

Die kommunikatiewe funksie fokus op die struktuur van ʼn klous as ʼn kommunikatiewe handeling waarin die uitruiling van inligting sentraal staan (Halliday & Matthiessen 2014:83). ʼn Klous word beskou as ʼn transaksie tussen die spreker en die luisteraar met die onderwerp as die belangrikste faset van die transaksie. In die kommunikatiewe funksie word ʼn klous geanaliseer aan die hand van ʼn onderwerp, spil, predikaat en adjunkte (Halliday & Matthiessen 2014:83).

Die voorstellingsfunksie fokus op taalgebruik as die manifestasie van ervaring (Halliday & Matthiessen 2014:211). Taalgebruik word geanaliseer met die veronderstelling dat taal gebruik word om oor en in die werklikheid te kommunikeer, en dat "realiteit" voorgestel word met behulp van prosesse. Grammatikale eenhede word beskryf op grond van hulle funksie en verhouding tot die proses (werkwoord) in die konstruksie en nie aan die hand van eng formalistiese reëls en strukture nie (Halliday & Matthiessen 2014:xvii). Dit gaan dus oor enige konkrete, mentale, emosionele of selfs ʼn verbeelde toedrag van sake wat deur taalgebruikers gekonstrueer word, dit wil sê voorgestel aan die hand van leksikogrammatiese hulpbronne met die werkwoord, oftewel proses, as kern (Halliday & Matthiessen 2014:213; 220). In die voorstellingsfunksie word daar ondersoek ingestel na hoe ʼn klous lyk en vir watter doel of funksie die verskillende sintaktiese elemente waaruit ʼn klous bestaan, saam met ʼn proses gebruik word (Halliday & Matthiessen 2014:211). ʼn Klous is in die voorstellingsfunksie meer as net ʼn boodskap wat inligting op ʼn bepaalde manier in ʼn kommunikatiewe handeling oordra.

Vir die doel van die artikel word die voorstellingsfunksie gebruik ten einde te bepaal watter veranderende gebruik van die setsel deur waargeneem kan word. Dit is die geskikste van die bogenoemde drie benaderings om die prominentste asook die meer of minder algemene setselgebruike van deur te identifiseer. Volgens Halliday en Matthiessen (2014:224) is die konsepte van prosesse, argumentrolle en omstandigheidselemente, wat in die voorstellingsfunksie gebruik word, semantiese kategorieë wat in die algemeenste terme verduidelik hoe ervarings van die werklikheid gekonstrueer word as linguistiese strukture. Die semantiese kategorieë in die raamwerk van die voorstellingsfunksie stel navorsers in staat om met ʼn bestaande stel kriteria taalgebruiksdata te analiseer en te interpreteer.

2.2 Prosesse en argumentrolle in die voorstellingsfunksie

In die voorstellingsfunksie, aldus Halliday en Matthiessen (2014:220), bestaan ʼn sintaktiese konstruksie uit drie komponente, naamlik:

i. ʼn proses wat ontknoop deur tyd;

ii. die deelnemers wat betrokke is by die ontknoping van die proses; en

iii. omstandigheidselemente (in die vorm van adjunkte / bywoordelike bepalings) wat met die proses geassosieer word.

Van al hierdie komponente is die eersgenoemde, dus die proses, die belangrikste element in die beskrywing van sintaktiese struktuur (sien ook Ponelis 1979:4). Aan die hand van die tipe proses of werkwoord word die ander argumentrolle en omstandigheidselemente in konstruksies geïdentifiseer en beskryf. In die voorstellingsfunksie word daar onderskei tussen handelende dinamiese prosesse en niehandelende statiewe prosesse wat gebruik word om ervaring voor te stel.2

2.2.1 Dinamiese prosesse

In die voorstellingsfunksie word daar onderskei tussen drie dinamiese prosesse, onderskeidelik konkrete, kommunikasie- en mentale prosesse. Daar is 'n mate van konseptuele oorvleueling tussen die sinsrolle in die verskillende dinamiese prosesse, maar elke dinamiese proses se sinsrolle is verfyn om die verskillende gebruike van 'n konstruksie aan die hand van die tipe proses waarmee saam dit gebruik word, funksioneel te interpreteer. Die algemeenste dinamiese proses in taalgebruik is konkrete prosesse.

Konkrete prosesse fokus op ʼn handeling. Die handeling word geïnisieer en verrig deur 'n akteur, die primêre argumentrol van konkrete prosesse wat die tradisionele aktiewe sinsonderwerp verteenwoordig. Die handeling word verrig deur die akteur ten einde 'n spesifieke doel te bereik. Die doel is 'n sekondêre argumentrol by konkrete prosesse en verteenwoordig die tradisionele aktiewe direkte voorwerp. Die volgende sinne bevat almal voorbeelde van konkrete prosesse (proses in vetdruk):

[1] ... terwyl hy alleen op ʼn miershoop aan die geveg deelneem ... (2001-2010, Biografies)

[2] Grobbelaartjie het nooit vir iemand ʼn rekening gestuur nie. (2001-2010, Fiksie)

[3] ... sy het haar man drie keer met ʼn stok geslaan tot hy dood is ... (2001-2010, Fiksie)

"[H]y" (voorbeeld 1), "Grobbelaartjie" (voorbeeld 2) en "sy" (voorbeeld 3) is almal voorbeelde van die akteur. Hierteenoor is "aan die geveg" (voorbeeld 1), "ʼn rekening" (voorbeeld 2) en "haar man" (voorbeeld 3) voorbeelde van die doel. Voorbeelde 2 en 3 illustreer egter twee verdere sekondêre argumentrolle van konkrete prosesse, naamlik die begunstigde en die instrument. Die begunstigde verteenwoordig die tradisionele aktiewe indirekte voorwerp en dui op die entiteit ten opsigte waarvan of met verwysing na wie die handeling verrig word. Die begunstigde is die ontvanger van die doel en verkry of ervaar die een of ander voor- of nadeel as uitvloeisel van die handeling verrig deur die akteur. Oor die algemeen is begunstigdes mense, hoewel dit nie noodwendig altyd die geval sal wees nie - begunstigdes kan ook organisasies, plante of selfs abstrakte entiteite verteenwoordig. "Vir iemand" (voorbeeld 2) is ʼn voorbeeld van ʼn begunstigde. Instrumente verteenwoordig ook die tradisionele aktiewe indirekte voorwerp en dui op die "gereedskap" waarmee die handeling verrig word. Dit is oor die algemeen baie konkrete, fisiese voorwerpe, hoewel dit in sekere opsigte meer abstrakte konseptualiserings insluit. In die geval van voorbeeld 3 is die "stok" waarmee "sy" slaan, ʼn instrument.

Kommunikasieprosesse is dinamiese prosesse wat fokus op die handeling van "om te kommunikeer". Die prosesse fokus op ʼn kommunikatiewe handeling wat verrig word deur ʼn entiteit (die spreker) om ʼn boodskap (die uitspraak) oor te dra aan ʼn begunstigde. By kommunikasieprosesse verteenwoordig die spreker die primêre argumentrol en die tradisionele aktiewe sinsonderwerp. Die uitspraak is ʼn sekondêre argumentrol wat die tradisionele aktiewe direkte voorwerp verteenwoordig. Kommunikasieprosesse het, soortgelyk aan konkrete prosesse, ook ʼn begunstigde as sekondêre argumentrol. In die kommunikasieproses verteenwoordig die sekondêre argumentrol ook die aktiewe indirekte voorwerp en verwys na die aangesprokene in ʼn kommunikatiewe handeling. Die volgende voorbeelde illustreer die gebruik van kommunikasieprosesse (proses in vetdruk):

[4] In geen ordentlike geselskap, hy, sal ʼn mens dit verdra dat ʼn heer ʼn dame om die lyf sal vat en druk. (1911-1920, Verslaggewing)

[5] Graag spreek ek hier ʼn woord van dank aan mijn kollega, Prof. Francken, vir welwillende raadgewing op meer als een punt. (1911-1920, Geesteswetenskappe)

[6] Hulle kon die waarheid praat van iemand ... (1971-1980, Religieus)

In die voorbeelde hierbo aangehaal verteenwoordig "hy" (voorbeeld 4), "ek" (voorbeeld 5) en "hulle" (voorbeeld 6) die spreker. In voorbeeld 4 verwys "[i]n geen ordentlike geselskap [...] sal ʼn mens dit verdra dat ʼn heer ʼn dame om die lyf sal vat en druk" na die uitspraak, asook "ʼn woord van dank [...] vir welwillende raadgewing op meer als een punt" in voorbeeld 5. Die setselstuk met aan in "aan mijn kollega" (voorbeeld 5) is ʼn voorbeeld van ʼn tipiese begunstigde van ʼn kommunikasieproses. Voorbeeld 6 illustreer egter ʼn verdere sekondêre argumentrol wat saam met kommunikasieprosesse aangetref word, naamlik die teiken. Die teiken verteenwoordig ook, soortgelyk aan begunstigdes, die tradisionele aktiewe indirekte voorwerp en dit dui op die entiteit op wie die kommunikatiewe handeling van die spreker gemik is. By kommunikasieprosesse word die uitspraak dus gerig aan die begunstigde maar gemik op die teiken. Die setselstuk met van in "van iemand" (voorbeeld 6) is ʼn voorbeeld van ʼn teiken by ʼn kommunikasieproses.

Mentale prosesse is die laaste tipe dinamiese proses wat in die raamwerk van die voorstellingsfunksie beskryf word. Dit is ʼn dinamiese proses wat fokus op kognitiewe mentale prosesse (byvoorbeeld "om te dink/wonder/twyfel"), sintuiglike waarnemingsprosesse (byvoorbeeld "om te sien/hoor") en emosionele prosesse (byvoorbeeld "om te bekommer/skrik"). Hierdie tipe prosesse is onsigbaar maar nie uitsluitlik of noodwendig abstrak nie. Mentale prosesse het slegs twee argumentrolle, onderskeidelik die ervaarder en die verskynsel. Die ervaarder is die primêre argumentrol van mentale prosesse en verteenwoordig die tradisionele aktiewe onderwerp. Dit verwys na die entiteit wat die mentale proses ervaar. Die proses word verwesenlik in die ervaarder se kognitiewe konseptualisering daarvan. Die verskynsel is ʼn sekondêre argumentrol van mentale prosesse. Dit verteenwoordig die aktiewe direkte voorwerp en dui op dit wat deur die ervaarder ervaar of verwesenlik word. Die volgende sinne bevat almal voorbeelde van mentale prosesse (proses in vetdruk):

[7] Nou jij, boetie Sarel, ken mos vir Lagter en Spogter ... (1911-1920, Fiksie)

[8] Die eintlike glanspunt van die Departement, soos deur die reisende publiek gesien, is egter ... (1971-1980, Verslaggewing)

[9] En wie is daar onder die ou garde, wat nie nog aan Vox Clamantis dink nie? (1911-1920, Verslaggewing)

In voorbeeld 7 is "jij, boetie Sarel" ʼn voorbeeld van ʼn ervaarder van ʼn mentale proses, so ook "die reisende publiek" in voorbeeld 8. Die setselstuk met aan in "aan Vox Clamantis" (voorbeeld 9) is ʼn voorbeeld van ʼn verskynsel. ʼn Potensiële grys area by mentale prosesse is die onderskeid tussen konkrete waarnemingsprosesse (byvoorbeeld "kyk" en "luister") en mentale sintuiglike waarnemingsprosesse (byvoorbeeld "sien" en "hoor"). Konkrete waarnemingsprosesse word van mentale sintuiglike waarnemingsprosesse onderskei op grond van ʼn handelende intensionaliteit. Wanneer ʼn persoon "kyk" en "luister" word die handeling doelbewus verrig, teenoor sintuiglike waarnemingsprosesse wat onwillekeurig geskied.

Al die bogenoemde dinamiese prosesse kan beide oorganklik en onoorganklik wees. Oorganklikheid is egter nie ter sake in niehandelende, statiewe prosesse nie.

2.2.2 Statiewe prosesse

Statiewe prosesse realiseer tipies deur kopulakonstruksies. Dit word gebruik in identifiserende verbande of beskrywende verbande (ter wille van bondigheid word die onderskeid nie in meer besonderhede bespreek nie). Die volgende sinne illustreer die gebruik van statiewe prosesse (proses in vetdruk):

[10] Temperatuurbeheer in die speenhuis is net so belangrik. (1911-1920, Fiksie)

[11] Ten gevolge van die verwoesting deur die vlieg en die gebrek aan arbeid by die insameling van die oes is die katoenboerdery ʼn mislukking. (1971-1980, Geesteswetenskappe)

Statiewe prosesse het twee primêre argumentrolle, naamlik die onderwerp en die predikaat. Die predikaat word oor die algemeen gebruik om meer besonderhede oor die onderwerp te verskaf. Die predikaat is dikwels na die kopula, soos in die geval van "net so belangrik" (voorbeeld 10), hoewel dit ook in meer komplekse kopulakonstruksies nie deur die kopula van die onderwerp geskei word nie, soos in die geval van "ʼn mislukking" (predikaat) wat direk na "die katoenboerdery" (onderwerp) in voorbeeld 11 in die konstruksie staan.

In die voorstellingsfunksie is argumentrolle nie die enigste elemente waaruit ʼn konstruksie met behulp van ʼn proses gekonstrueer word nie. Daar is verskeie ander omstandigheidselemente, soos adjunkte, teenwoordig in konstruksies wat meer besonderhede oor die proses voorsien. Aangesien hierdie omstandigheidselemente nie onmiddellik relevant is vir die interpretasie van die korpusdata met betrekking tot die gebruik van setselstukke met deur nie, word dit ter wille van bondigheid nie in die artikel bespreek nie. Die voorafgaande teoretiese bespreking het slegs enkele belangrike konsepte ten opsigte van die voorstellingsfunksie bespreek.

Halliday en Matthiessen (2014:69) beklemtoon dat die korpusmetode uiters geskik is om analises binne die raamwerk van die funksionele sintaksis te doen.

 

3. METODOLOGIE

Dié studie maak van korpuslinguistiese navorsingsmetodes gebruik om die veranderende gebruik van setselstukke met deur tussen 1911 en 2010 na te spoor. Die bevindinge van die studie word gebaseer op die korpusdata verkry vanuit die vier afdelings (korpora) vanuit Kirsten (2016) se Historiese korpus van geskrewe Afrikaans. Die empiriese aard van korpuslinguistiek maak dit, aldus McEnery en Wilson (1996:103), moontlik vir navorsers om taalvariasie op beide ʼn diachroniese en sinchroniese wyse waar te neem, wat veral nuttig is by studies van byvoorbeeld grammatikale struktuur of historiese taalverandering en/of -ontwikkeling.

Korpora maak dit moontlik om outentieke taalgebruik aan die hand van werklike geredigeerde en ongeredigeerde tekste te analiseer, en dit maak dit moontlik om innoverend te werk te gaan met ʼn groot kwantifiseerbare versameling tekste as basis vir taalanalises (Biber 2010:159; Halliday & Matthiessen 2014:51-52). Volgens Halliday en Matthiessen (2014:69) bied korpora vir navorsers die gereedskap om grammatika te bestudeer. Hulle beklemtoon voorts dat dit aansienlik makliker is om deur geoutomatiseerde soektogte op rekenaars groot datastelle te bekom, maar dat hierdie soektogte beide voor- en nadele inhou (Halliday & Matthiessen 2014:70). Korpusdata maak dit moontlik om met hoë akkuraatheid te bepaal hoe en hoeveel keer ʼn konstruksie voorkom, maar die einste voordeel bied ook uitdagings omrede die korpusdata wat onttrek word nie op sigself enige resultate kan lewer wat so informatief en ryk soos kwalitatiewe analises is nie (Halliday & Matthiessen 2014:70). Om hierdie uitdaging te oorbrug, stel Halliday en Matthiessen (2014:70) voor dat gerekenariseerde gereedskap, soos konkordansielyste, gebruik moet word om verteenwoordigende lukrake steekproewe van konstruksies in korpora te onttrek om die hoeveelheid data waarmee navorsers moet werk meer hanteerbaar te maak. Navorsers kan dan met behulp van ʼn geskikte teoretiese benadering die korpusdata analiseer en interpreteer ten einde veranderinge in die gebruik van ʼn konstruksie te verklaar en kan ook die faktore bepaal wat daardie verandering beïnvloed (sien ook Biber et al. 1998:3). Dié studie maak gebruik van Halliday en Matthiessen (2014:70) se bogenoemde teoretiese benadering om die setselgebruike van deur te onttrek en die veranderende gebruik daarvan oor die korpus heen te verklaar. Hierdie studie maak voorts gebruik van Mair (2006) en Leech et al. (2009) se benadering tot korttermyn-diachroniese vergelykende korpuslinguistiek. Dié benadering bied ʼn raamwerk waarvolgens diachroniese korpora saamgestel kan word om, aan die hand van klein verteenwoordigende en vergelykbare korpora, taalverandering oor ʼn kort periode van tyd te bestudeer. Korpora moet oordeelkundig saamgestel word om natuurlike taalgebruik te verteenwoordig (Tognini-Bonelli 2010:24; Leech et al. 2009:27). Vir enige korttermyn-diachroniese studie is dit belangrik dat korpora vergelykbaar moet wees met verwysing na die samestelling daarvan (Leech et al. 2011:28). Biber et al. (1998:203) stel dat "historical linguistics requires corpora that represent a range of texts from multiple genres, across historical periods" (sien ook Leech et al. 2009:27-30). Hierdie uitdaging kan grotendeels oorbrug word deur gebruik te maak van ʼn steekproefraamwerk ("sampling frame") (McEnery & Wilson 1996:78) wat taalkundiges aanmoedig om nie meer as 2 000 woorde vanuit ʼn teks te neem wanneer dit vir die samestelling van ʼn korpus gebruik word nie. Hierdie tekste moet ook geneem word vanuit verskeie genres wat taalgebruik in soveel moontlik genres verteenwoordig. Leech et al. (2009:29-30) is van mening dat die vergelykbaarheid van korpora afhanklik is van die stabiliteit van die genres binne die genre-kaart ("genre map") en dat dit gevolglik moeilik is om meer as ʼn eeu se taalgebruik vergelykbaar te verteenwoordig.

Kirsten (2016) se Historiese korpus van geskrewe Afrikaans is saamgestel aan die hand van die beginsels van Mair (2006) en Leech et al. (2009). Die korpus bestaan uit vier dekades wat ʼn eeu van Afrikaanse taalgebruik verteenwoordig:

Afdeling 1 (A1): 1911-1920

Afdeling 2 (A2): 1941-1950

Afdeling 3 (A3): 1971-1980

Afdeling 4 (A4): 2001-2010

Die kategorieë van taalgebruik verteenwoordig in elke periode in die korpus is soos volg:

Fiksie (±60 000 woorde)

Populêre niefiksie

o Biografiese tekste (±20 000 woorde)

o Verslaggewing (±20 000 woorde)

o Informatiewe tekste (±60 000 woorde)

o Religieuse tekste (±20 000 woorde)

Akademiese tekste

o Geesteswetenskaplike tekste (±30 000 woorde)

o Natuurwetenskaplike tekste (±30 000 woorde)

Manuskripte (briewe en dagboeke) (±21 000 woorde)

Kirsten (2016) se korpus het een gaping in Afdeling 1 (1911-1920) wat nie gevul kon word nie weens ʼn tekort aan natuurwetenskaplike tekste gepubliseer in Afrikaans. As noodmaatreël is 5 000 woorde uit die twee beskikbare natuurwetenskaplike tekste geneem om die spesifieke afdeling in die diachroniese korpus so volledig moontlik te maak (Kirsten 2016:67). Desondanks is Afdeling 1 van hierdie korpus steeds 20 000 woorde kleiner as die ander drie afdelings van die korpus vanweë die gebrek aan natuurwetenskaplike tekste. Ter wille van vergelykbaarheid moet die verskil in grootte tussen die onderskeie afdelings van die korpus in ag geneem word tydens normalisering en rapportering van die data.

Vir die doel van hierdie studie word van lukrake steekproewe van 500 gebruiksinstansies van deur gebruik gemaak. Die lukrake steekproewe is getrek met behulp van WordSmith 6® se ingeboude funksie en aanvanklik is 550 of meer gebruiksinstansies van die setselsgebruike van deur uit elke afdeling van die korpus onttrek. Die 50 of meer addisionele gebruiksinstansies in elke afdeling van die korpus is bygetrek om onanaliseerbare gebruiksinstansies, naamwoorde, en gevalle waar die voorsetsels deel vorm van deeltjiewerkwoorde, te verwyder. Die datastelle is gekodeer in Microsoft Excel® 2010 en beduidendheidstoetse is uitgevoer met behulp van Paul Rayson se Log Likelihood and Effect Size Calculator (Rayson 2016). Die statistiese beduidendheidstoets bereken of die veranderinge tussen twee of meer datastelle/-groepe aan toeval toegeskryf kan word of nie. ʼn Verandering tussen twee datastelle word as beduidend aanvaar wanneer dit ʼn kritieke waarde van bo 3,84 het - dit dui aan dat daar slegs 5% kans is dat die verandering aan toeval toegeskryf kan word. Waar die beduidendheid van ʼn verandering tussen meer as twee datastelle bereken word, word ʼn kritieke waarde van bo 6,63 aanvaar as ʼn aanduiding van beduidendheid, wat beteken dat daar slegs 1% kans is dat die verandering aan toeval toegeskryf kan word. Wanneer daar frekwensiedata gerapporteer word, is dit die totale frekwensies wat vanuit die steekproefdata se analises na die totale gebruiksfrekwensies van deur in die korpusafdelings geëkstrapoleer word.

 

4. DIE VERANDERENDE GEBRUIK VAN DEUR

Setselstukke met deur word algemeen oor die korpus heen gebruik. Ten einde te bepaal watter funksies die setselstukke verrig in konstruksies, is dit belangrik om eerstens die deeltjie-gebruike van deur te identifiseer en te verwyder vanuit die lukrake steekproewe,3 en om tweedens te bepaal wat die veranderingspatroon van die totale gebruiksinstansies van setselstukke met deur oor die korpus heen behels. In tabel 1 word die totale gebruiksinstansies van deur, naamwoorde uitgesluit, weergegee.

Die deeltjie-gebruike van deur is deurgaans proporsioneel min teenoor die ander setselgebruike van deur - die gebruik is min of meer stabiel en toon nie enige tekens van beduidende of patroonmatige verandering nie. By die totale setselgebruike van deur is daar egter ʼn duidelike patroon van verandering teenwoordig. Tussen A1 en A2 van die korpus is daar ʼn beduidende toename in die totale setselgebruike van deur, gevolg deur ʼn geleidelike en beduidende afname in gebruik tussen A2 en A4 van die korpus.4 Die verandering wat die totale setselgebruike van deur ondergaan oor die korpus heen, hou belangrike implikasies in vir die interpretasie van die res van die korpusdata.

4.1 Agtergrond - deur saam met verskillende prosesse in verskillende sinsrolle

Setselstukke met deur word in Afrikaans gebruik saam met die verskillende tipes dinamiese en statiewe prosesse. Deur word proporsioneel aansienlik meer gebruik saam met handelende dinamiese prosesse as niehandelende statiewe prosesse. Sien tabel 2 vir meer besonderhede.

95,5% van die totale gebruiksinstansies van setselstukke met deur word aangetref saam met dinamiese prosesse. Dit is dus nie verrassend dat die gebruik van setselstukke met deur saam met dinamiese prosesse die opvallendste verandering toon nie. Tussen A1 en A2 van die korpus is daar ʼn beduidende toename in die gebruik van setselstukke met deur saam met dinamiese prosesse, gevolg deur ʼn beduidende afname in gebruik tussen A2 en A4 van die korpus.5 Met spesifieke verwysing na dinamiese prosesse, word deur verreweg die meeste gebruik saam met konkrete prosesse: dit verteenwoordig oor die korpus heen gemiddeld ongeveer 95% van al die gebruike van deur saam met dinamiese prosesse; en dit verteenwoordig ongeveer 92% van die totale setselgebruike van deur oor die korpus heen. Konkrete prosesse met deur toon ook ʼn soortgelyke veranderingspatroon deurdat dit tussen A1 en A2 van die korpus aanvanklik beduidend in gebruik toeneem, waarna dit weer geleidelik en beduidend in gebruik tussen A2 en A4 afneem.6

In teenstelling met die beduidende veranderinge waargeneem by dinamiese prosesse, spesifiek konkrete prosesse, is daar ʼn geringe afname in gebruik van deur saam met statiewe prosesse tussen A2 en A3 van die korpus, gevolg deur ʼn geringe toename in gebruik tussen A3 en A4. Die veranderinge waargeneem by statiewe prosesse is egter wisselvallig en te min om by te dra tot die verklaring van die frekwensieverandering in die totale setselgebruik van deur.

Aangesien setselstukke met deur besonder min gebruik word saam met kommunikasie- en mentale prosesse, is dit nie moontlik om met enige sekerheid verandering daarin te bevestig nie. Dit is dus belangrik om voorts te fokus op konkrete prosesse om te bepaal in watter sinsrolle setselstukke met deur gebruik word. Die sinsrolle sal meer duidelikheid gee oor die spesialiteitsrolle waarin deur gebruik word en dit moontlik maak om die prominentste en algemeenste gebruike van deur in konstruksies te identifiseer.

4.2 Deur in verskillende sinsrolle

Setselstukke met deur word saam met konkrete prosesse gebruik as deel van verskillende sinsrolle vir verskillende funksies. Dit word saam met dinamiese prosesse gebruik as deel van die akteur (onderstreep),

[12] Laboratoriumondersoeke in die Slaknavorsingseenheid deur De Kock (1973) en Jennings (1976) het aan die lig gebring dat ... (1971-1980, Natuurwetenskappe)

[13] Dit is oorspronklik gebruik om oogspasmas te beheer, maar is deur die FDA in 2002 goedgekeur vir kosmetiese gebruik. (2001-2010, Informatief)

[14] ... dat 't in Januarie 1883 deur die toenmalige hoofredakteur van Het Handelsblad te Amsterdam in die lig gegee word ... (1911-1920, Informatief)

[15] Deur sommige sal hierdie gedragslyn van die Kompanjie en van die Gereformeerde Kerk beskou word as ʼn stelsel van onderdrukking ... (1941-1950, Religieus)

[16] ... die fondamente wat deur my pa gelê is ... (2001-2010, Verslaggewing) doel (onderstreep),

[17] ... wat die moontlikheid van inname deur kindermondjies vergroot. (2001-2010, Geesteswetenskappe) - nabepaling in die doel van ʼn konkrete proses instrument (onderstreep),

[18] om diabetes in die rot op te wek deur groot dosisse van hierdie hormoon. (1941-1950, Natuurwetenskappe) en adjunkte (onderstreep),

[19] Geroemd sou sijn naam deur die eeuwe heen gegaan het als die grote, talentvolle Afrikaanse digter (1911-1920, Biografies)

[20] Raak heel eerste ontslae van alle dooie, gebreekte, siek en probleemtakke deur dit terug te snoei tot by die oorsprong óf 'n sterk laterale tak. (2001-2010, Informatief)

Vanuit die korpusdata is dit duidelik dat slegs enkele van die bogenoemde setselgebruike van deur saam met konkrete prosesse uitstaan as frekwente spesialiteitsrolle. In tabel 3 word die gebruiksinstansies van deur in die bogenoemde sinsrolle gerapporteer ten einde te illustreer watter sinsrolle proporsioneel die meeste in die korpusdata voorkom.

Aan die hand van tabel 3 is dit duidelik dat deur proporsioneel die meeste gebruik word as deel van die akteursrol saam met konkrete prosesse waar dit dikwels die akteur wat die handeling verrig (sien afdeling 4.3 van dié artikel) merk. Oor die korpus heen word setselstukke met deur ongeveer ʼn gemiddeld van 57% van die gevalle as deel van die akteur gebruik. Tussen A1 en A2 van die korpus is daar ʼn beduidende toename in die gebruik van deur as deel van die akteur saam met konkrete prosesse, gevolg deur ʼn geleidelike en beduidende afname in gebruik tussen A2 en A4 van die korpus.7 Die tweede algemeenste gebruik van deur saam met konkrete prosesse, as deel van adjunkte, se gebruik oor die korpus heen bly relatief stabiel met geen beduidende verandering in ʼn spesifieke rigting nie.

Die veranderingspatroon wat die setselgebruike van deur as deel van die akteur saam met konkrete prosesse toon, is soortgelyk aan die algehele veranderingspatroon van konkrete prosesse oor die korpus heen. Soos reeds aangetoon, is die veranderingspatroon van die gebruik van deur saam met konkrete prosesse oor die korpus heen soortgelyk aan die veranderingspatroon van die totale veranderende setselgebruik van deur. Dit is dus belangrik om ondersoek in te stel na presies hoe deur as deel van die akteursrol saam met konkrete prosesse gebruik word, aangesien nie enige van die ander setselgebruike van deur die frekwensieverandering daarvan verklaar nie.

4.3 Die prominentste gebruik van setselstukke met deur

Die setsel deur word in die korpus as deel van die akteursrol dikwels gebruik om ʼn agentiewe betekenis uit te druk: setselstukke met deur word gebruik as deel van die onderwerp van konkrete prosesse as bepalings, soos in die geval van voorbeelde 12 en 17; of om die akteur in agenthebbende passiefkonstruksies uit te druk, soos in die geval van voorbeelde 13 tot 16. Wat egter opvallend is, is hoe dikwels setselstukke met deur saam met konkrete prosesse in passiefkonstruksies gebruik word. Die gebruike van deur in passiefkonstruksies saam met konkrete prosesse, as proporsie van die totale gebruiksfrekwensies saam met konkrete prosesse, sien soos volg daaruit:

1911-1920 (A1): 44,5%

1941-1950 (A2): 56,5%

1971-1980 (A3): 63,5%

2001-2010 (A4): 56%

Met die uitsondering van A1 in die korpus, word setselstukke met deur meer as 50% van die tyd in die korpus gebruik saam met passiewe konkrete prosesse. Daar is baie duidelike verbande tussen die veranderingspatroon van die totale setselgebruik van deur oor die korpus heen, en die gebruik van deur in passiewe konkrete konstruksies. Tussen A1 en A3 van die korpus is daar ʼn baie beduidende toename in die gebruik van setselstukke met deur saam met passiewe konkrete prosesse, gevolg deur ʼn beduidende afname in gebruik tussen A3 en A4 van die korpus.8 ʼn Baie soortgelyke veranderingspatroon word ook waargeneem in die gebruik van deur om die akteur in agenthebbende passiefkonstruksies in te lei. Die gebruik van deur as deel van die akteur saam met passiewe konkrete prosesse, as proporsie van die totale gebruiksfrekwensies as deel van die akteur, sien soos volg daaruit:

1911-1920 (A1): 73,5%

1941-1950 (A2): 85,5%

1971-1980 (A3): 90%

2001-2010 (A4): 91%

Daar is weereens duidelike ooreenkomste tussen die verspreiding van die totale setselgebruik van deur oor die korpus heen en die gebruik van deur as deel van die akteur saam met passiewe konkrete prosesse. Wat egter opvallend is, is die hoë proporsionele gebruik van setselstukke met deur om die akteur in agenthebbende passiefkonstruksies te merk: dit verteenwoordig proporsioneel ongeveer 85% van al die gebruike van deur as deel van die akteursrol van konkrete prosesse oor die korpus heen; en dit verteenwoordig ongeveer 45% van ál die setselgebruike van deur oor die korpus heen. Daar is ʼn beduidende toename in die gebruik van setselstukke met deur om die akteur in agenthebbende passiefkonstruksies in te lei tussen A1 en A2 van die korpus.9 Tussen A2 en A4 van die korpus is daar egter ʼn beduidende afname in die spesifieke gebruik van setselstukke met deur.10

Aangesien setselstukke met deur proporsioneel so baie gebruik word om akteurs in agenthebbende passiefkonstruksies in te lei, kan daar met relatiewe sekerheid aanvaar word dat dit die prominentste gebruik van setselstukke met deur oor die korpus heen verteenwoordig. Die frekwensieveranderinge wat setselgebruike met deur ondergaan in die prominentste gebruik daarvan, hou belangrike implikasies in vir die wyse waarop die gebruik van deur saam met spesifiek passiewe konkrete prosesse, konkrete prosesse oor die algemeen, dinamiese prosesse, en uiteindelik die totale setselgebruike van deur oor die korpus heen verander het. Dit wil dus voorkom asof die frekwensieverandering in die prominentste spesialiteitsrol van deur gelei het tot ʼn frekwensieverandering in die gebruik van die setsel saam met die algemeenste proses waarin dit voorkom, wat uiteindelik gelei het tot ʼn frekwensieverandering in die totale setselgebruik van deur.

Die prominentste gebruik van setselstukke met deur is egter meer kompleks en die verandering wat die setsel ondergaan is nie so eenvoudig nie. Die gebruik is ten nouste verbind met passiefkonstruksies en gevolglik kan die vraag gestel word of die veranderende gebruik van die setsel deur toegeskryf kan word aan die gebruik van die setsel op sigself, en of die veranderende gebruik van deur toegeskryf moet word aan die veranderende gebruik van passiefkonstruksies oor die algemeen.

4.4 Die invloed van passiefkonstruksies op die veranderende gebruik van deur

In figuur 1 word die gebruik van setselstukke met deur as akteurs saam met agenthebbende passiewe konkrete prosesse proporsioneel voorgestel ten opsigte van die totale setselgebruik van deur, asook die totale gebruik van passiefkonstruksies oor die korpus heen.

Die gebruik van passiefkonstruksies in die historiese korpus is reeds ekstensief nagevors deur Kirsten (2016). Kirsten (2016:124) het bevind dat daar tussen A1 en A2 van die korpus ʼn baie beduidende toename in die gebruik van passiefkonstruksies is.11 Tussen A2 en A3 van die korpus het die gebruik van passiefkonstruksies in die korpus verder toegeneem en uiteindelik tussen A3 en A4 van die korpus weer in gebruik begin afneem.12

Die verspreiding van setselstukke met deur oor die korpus heen, die verspreiding van die gebruik van deur saam met passiewe konkrete prosesse, asook die verspreiding van deur as deel van akteurs saam met passiewe konkrete prosesse, toon duidelike ooreenkomste met die verspreiding van die totale passiefgebruik in die korpus. Op grond van die wyse waarop die gebruik van passiefkonstruksies oor die korpus heen verander het, is dit geregverdig om aan te neem dat die veranderende setselgebruik van deur nie noodwendig toegeskryf kan word aan veranderinge van die setsel op sigself nie, maar eerder toegeskryf behoort te word aan die veranderende gebruik van passiefkonstruksies in die korpus. Volgens Kirsten (2016:124) is die toename in die gebruik van passiefkonstruksies tussen A1 en A3 van die korpus toe te skryf aan "die deurlopende vestiging van Standaardafrikaans as 'n gesofistikeerde, gekultiveerde taal (variëteit) wat vir hoër funksies gebruik kan word". Die vestiging van Standaardafrikaans en die toenemende gebruik van passiefkonstruksies as die resultaat daarvan, het gelei tot die toenemende gebruik van vol passiewe waar setselstukke met deur gebruik word om die akteur in vol passiewe te merk. Sedert A3 van die korpus het verinformalisering egter die gebruik van passiefkonstruksies beïnvloed en gevolglik het die gebruik van passiefkonstruksies noemenswaardig afgeneem (Kirsten 2016:124-125). ʼn Afname in die gebruik van passiefkonstruksies oor die algemeen het dus indirek gelei tot ʼn afname in die totale setselgebruik van deur. Die veranderende gebruik sover dit passiefkonstruksies aangaan het gevolglik ʼn invloed gehad op die prominentste gebruik van deur wat uiteindelik die setselgebruik van deur in sy geheel beïnvloed het.

Hoewel die gebruike van die ander dinamiese prosesse, onderskeidelik kommunikasie- en mentale prosesse, te min is om ʼn substansiële bydrae te lewer tot die interpretasie van die data, is dit tog belangrik om daarop te wys dat die gebruik van deur om die agent in agenthebbende passiefkonstruksies in te lei, ook baie prominent is by ander dinamiese prosesse. Van die 35 gebruiksinstansies waar setselstukke met deur gebruik word as deel van die spreker en ervaarder oor die korpus heen, word deur in 33 van die 35 (94,5%) gebruiksinstansies gebruik om die agent in agenthebbende passiewe kommunikasie- of mentale konstruksies uit te druk. Groter datastelle word egter benodig om te bepaal of die gebruik van setselstukke met deur saam met kommunikasie- en mentale prosesse in die konseptueel-verwante argumentrol dieselfde veranderinge ondergaan.

 

6. SLOT

Setselstukke met deur word in die korpus gebruik saam met dinamiese en statiewe prosesse vir ʼn verskeidenheid funksies. Proporsioneel word setselstukke met deur meestal gebruik saam met handelende, konkrete dinamiese prosesse en dit is ook die proses waarin daar die belangrikste beduidende veranderinge voorkom. Setselstukke met deur word aansienlik minder gebruik saam met kommunikasie-, mentale en statiewe prosesse en die setselgebruike van deur daarin is te min in hierdie korpus om veranderinge in die totale setselgebruik van deur te verklaar.

Oor die algemeen het setselstukke met deur tussen A1 en A2 van die korpus beduidend in gebruik toegeneem. Tussen A2 en A4 van die korpus is daar egter weer ʼn beduidende afname in die setselgebruike van deur. Die veranderende gebruik van deur oor die korpus heen kan gedeeltelik toegeskryf word aan ʼn verandering in die prominentste gebruik van deur om akteurs in agenthebbende konkrete prosesse in te lei. Die prominentste gebruik van deur het verander as gevolg van ʼn verandering in die totale passiefgebruik oor die korpus heen. Die veranderende setselgebruik van deur kan dus nie toegeskryf word aan verandering in die gebruik van die setsel op sigself nie, maar dit is eerder indirek die resultaat van die veranderende gebruik van passiefkonstruksies oor die korpus heen.

 

BIBLIOGRAFIE

Biber, D. 2010. In Heine & Narrog (eds). The Oxford handbook of linguistic analysis. Oxford: Oxford University Press, pp. 159-191.         [ Links ]

Biber, D., Conrad, S. & Reppen, R. 1998. Corpus linguistics: investigating language structure and use. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Halliday, M.A.K. & Matthiessen, C.M.I.M. 2014. Halliday's introduction to functional grammar. 4th ed. London: Routledge.         [ Links ]

Kempen, W. 1984. Voorsetselverbindinge in Afrikaans. Pretoria: Nasou Beperk.         [ Links ]

Kirsten, J. 2016. Grammatikale verandering in Afrikaans van 1911-2010. Vanderbijlpark: NWU. (Proefskrif - PhD).         [ Links ]

Kotzé, T.N. 2018. ʼn Eeu van verandering in die gebruik van geselekteerde Afrikaanse voorsetsels en die moontlike rol van preskriptivisme daarin. Vanderbijlpark: NWU. (Verhandeling - MA).         [ Links ]

Leech, G., Hundt, M., Mair, C. & Smith, N. 2009. Change in contemporary English: A grammatical study. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Mair, C. 2006. Twentieth-century English: history, variation and standardization. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

McEnery, T. & Wilson, A. 1996. Corpus linguistics. Edinburgh: Edinburgh University Press.         [ Links ]

Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Ponelis, F.A. 1984. In Botha, Combrink, & Odendal (reds). Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde. Pretoria: Academica, pp. 219-244.         [ Links ]

Ponelis, F.A. 1993. The development of Afrikaans. Frankfurt am Main: Peter Lang.         [ Links ]

Pretorius, B.F.D. 1972. Voorsetselverbinding in Afrikaans, met spesiale verwysing na die vaktaal. Pretoria: UNISA. (Proefskrif - PhD).         [ Links ]

Rayson, P. 2016. Log-likelihood and effect size calculator. ucrel.lancs.ac.uk/llwizard.html [31 August 2018].         [ Links ]

Tognini-Bonelli, E. 2010. In O'Keeffe & McCarthy (eds). The Routledge handbook of corpus linguistics. London: Routledge, pp. 14-27.         [ Links ]

Van Rooy, B. 2017. In Carstens & Bosman (reds). 2017. Kontemporêre Afrikaanse taalkunde. 2de uitg. Pretoria: Van Schaik, pp. 251-295.         [ Links ]

Van Schoor, J.L. 1983. Die grammatika van Standaard-Afrikaans. Kaapstad: Lex Patria.         [ Links ]

 

 

 

IAN KOTZÉ, lektor in Afrikaanse Taalkunde aan die Mafikengkampus van die Noordwes-Universiteit, fokus in sy navorsing op diachroniese korpuslinguistiek en taalverandering. Hy verken die veranderende gebruik van Afrikaanse setsels diachronies, spesifiek vanaf die vroeg-twintigste eeu tot die vroeg-een-en-twintigste eeu, aan die hand van gedateerde, elektroniese korpora van Kaaps-Nederlandse en Afrikaanse tekste. Sy navorsingsfokus is deskriptief en dit ondersoek die funksie van Afrikaanse setsels in konstruksies; hy verken die onderwerp meer breedvoerig in sy M.A.-verhandeling, getiteld ʼn Eeu van verandering in die gebruik van geselekteerde Afrikaanse voorsetsels en die moontlike rol van preskriptivisme daarin. Hy werk tans aan die uitbreiding van diachroniese korpora vir Afrikaans.
IAN KOTZÉ, lectures Afrikaans Linguistics at the Mafikeng Campus of the North-West University, and is interested in diachronic corpus linguistics and language change. He explores the changing use of Afrikaans adpositions diachronically, specifically from the early twentieth century to the early twenty first century, by means of dated, electronic corpora of Cape Dutch and Afrikaans. His research focus is descriptive and it examines the function of Afrikaans adpositions in constructions; he explores the topic in more detail in his M.A. dissertation, titled
ʼn Eeu van verandering in die gebruik van geselekteerde Afrikaanse voorsetsels en die moontlike rol van preskriptivisme daarin. He is currently involved in a project aimed at expanding the existing historical corpus of Afrikaans.

 

 

JOHANITA KIRSTEN, senior lektor in Afrikaanse Taalkunde aan die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit, fokus in haar navorsing op onlangse en voortdurende veranderinge in Afrikaanse taalgebruik. Sy verken Afrikaans diachronies, deur mikrolinguistiese en ander taalkenmerke se verandering met verloop van tyd verder te ondersoek, aan die hand van gedateerde, elektroniese korpora van Kaaps-Nederlandse en Afrikaanse tekste. Die fokus val veral op grammatikale verandering vanaf die vroeg-twintigste eeu tot die vroeg-een-en-twintigste eeu, maar sluit ook ander tipes taalverandering in.
JOHANITA KIRSTEN, a senior lecturer in Afrikaans Linguistics at the Vaal Triangle Campus of the North-West University, is interested in recent and ongoing changes in Afrikaans language use. She investigates Afrikaans diachronically, by tracing changes in micro-linguistic and other linguistic characteristics through time, using dated, electronic corpora of Cape Dutch and Afrikaans. The focus is especially on grammatical changes from the early twentieth century to the early twenty first century, but also includes other types of language change.
1 Hierdie artikel is
ʼn verwerking van sommige van die bevindinge verkry in Kotzé (2018) se M.A.-studie, ʼn Eeu van verandering in die gebruik van geselekteerde Afrikaanse voorsetsels en die moontlike rol van preskriptivisme daarin, aan die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit, onder leiding van Dr. Johanita Kirsten. Ons wil hiermee graag ons dank uitspreek teenoor die drie anonieme eksaminatore vir die waardevolle terugvoer wat oor die voorlopige bevindinge gegee is.
2 Die omskrywings van die verskillende prosesse en argumentrolle is saamgestel aan die hand van Halliday en Matthiessen (2014:224-300) en Kotzé (2018:53-57) se besprekings van die terme.
3 Aangesien die deeltjie-gebruike van setsels in deeltjiewerkwoorde, oftewel skeibare werkwoorde, fisies deel vorm van die werkwoordstukkern, dui dit in die voorstellingsfunksie die proses aan en gevolglik kan dit nie op
ʼn funksionele vlak verder binne dié raamwerk beskryf word nie.
4 Die resultate van die log-waarskynlikheidstoets: vir die toename tussen A1 en A2 is 23,78; vir die afname tussen A2 en A4 is 15,78.
5 Die resultate van die log-waarskynlikheidstoets: vir die toename tussen A1 en A2 is 20,94; vir die afname tussen A2 en A4 is 20,38.
6 Die resultate van die log-waarskynlikheidstoets: vir die toename tussen A1 en A2 is 20,49; vir die afname tussen A2 en A4 is 21,72.
7 Die resultate van die log-waarskynlikheidstoets: vir die toename tussen A1 en A2 is 24,56; vir die afname tussen A2 en A4 is 18,05.
8 Die resultate van die log-waarskynlikheidstoets: vir die toename tussen A1 en A2 is 62,10; vir die afname tussen A2 en A4 is 21,37.
9 Die resultate van die log-waarskynlikheidstoets: vir die toename tussen A1 en A2 is 40,29.
10 Die resultate van die log-waarskynlikheidstoets: vir die afname tussen A2 en A4 is 9,27.
11 Die resultate van die log-waarskynlikheidstoets: vir die toename tussen A1 en A2 is 266,17.
12 Die resultate van die log-waarskynlikheidstoets: vir die toename tussen A2 en A3 is 25,76; vir die afname tussen A3 en A4 is 34,64.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License