SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.59 issue1The Role of the High Courts of the United States of America, South Africa and the European Union in Foreign AffairsThe influence of agentive passive constructions on the changing use of the adposition deur author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.59 n.1 Pretoria Mar./May. 2019

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2019/v59n1a2 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Digterlike beheer en herinterpretasie: T.T. Cloete se transkripsie van twee antieke tekste in Onversadig1

 

Poetic control and reinterpretation: T.T. Cloete's transcription of two antique texts in Onversadig ("Unquenched")

 

 

Marlies Taljard

Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom. E-pos: taljard.marlies@gmail.com

 

 


OPSOMMING

Die doel van hierdie artikel is om twee gedigte uit die later werk van T.T. Cloete te ontleed met die oog daarop om sy siening van die "omvattende gedig" te demonstreer. Daar word aangetoon hoedat hierdie twee gedigte (wat eksemplaries is vir ʼn groot deel van die digterlike oeuvre) saamgestel is uit intertekstuele verwysings na die werk van talryke ander digters én na sy eie werk. Daar word hoofsaaklik eksemplaries te werk gegaan met die veronderstelling dat die gekose gedigte die kernaspekte van Cloete se poëtika verteenwoordig en in ʼn groot mate poëtiese gestalte gee aan gedagtes wat die skering en inslag vorm van sy selfrefleksiewe werk Die ander een is ek (2013). Die praktyk van jukstaposisie word as belangrike teoretiese basis gebruik. Daarbenewens word verskillende vorme van intertekstualiteit ondersoek. Laasgenoemde praktyk vind in die twee tersaaklike gedigte veral gestalte in woordelikse herskrywing of transkripsie. Die gevolgtrekking word gemaak dat die digter in die afdeling "saamsing", uit die bundel Onversadig ʼn kortbegrip van sy ars poëtika aanbied en dat hy nie net lig werp op sy digterlike praktyk nie, maar dat hy ook sy eie identiteit as digter en geskende mens in die gedigte "saamsing" en "Achilles se skild" inskryf.

Trefwoorde: T.T. Cloete, intertekstualiteit, transkripsie, jukstaposisie, Achilles se skild, saamsing, ars poëtika, Onversadig, Identiteitskonstruksie, Hefaistos


ABSTRACT

One of the most distinctive features of the poet T.T. Cloete's work is the great number of intertextual references to the work of other poets and texts. From numerous interviews, lectures and conversations, but also from documents such as his famous memoir, Die ander een is ek ("The other one I am") (Cloete 2013), it seems that the poet himself also regards intertextuality in many different forms and varieties as one of the most typical aspects of his poetic practice. In Die ander een is ekhe repeatedly demonstrates how his poems originated from, strike up conversations with and critically comment on other poems, stories, scientific articles, myths, philosophies and other texts.
The purpose of this article is to analyze two poems from T.T. Cloete's later work in order to demonstrate his view of the "comprehensive poem" (Afr. "omvattende gedig"). It will be demonstrated how these two poems (which are exemplary of a large part of Cloete's poetic oeuvre) are composed of intertextual references to the work of many other poets and to the poet's own work. The assumption is made that the chosen poems represent the core aspects of Cloete's poetics and that they poetically shape the main thoughts which form the warp and woof of his self-reflexive work Die ander een is ek. The poetic practice of juxtaposition is used as an important theoretical basis for this article. In addition, different forms of intertextuality are investigated. In the two relevant poems the latter practice mainly appears in the form of verbatim rewriting of existing poems (transcription). The conclusion is made that, in the section "saamsing" ("singing together") in the volume Onversadig ("Unquenched"), a short concept of the poet's Ars Poetics is presented, and that he not only sheds light on his poetic practice, but also on his own personal identity as poet and disfigured individual in the poems "swerwende verse" ("migrating verses") and "Achilles se skild" ("Achilles's shield").
The first main point deals with the poem "swerwende verse". This poem is read as an extensive Ars Poetics in which the poet reflects on one of the most important themes in his creative work, namely his amazement at everything that was created, including specifically creative texts. He manipulates the ancient intertexts by quoting selectively those parts and ideas with which he can identify and which form the basis of his own life and world view as illustrated by his body of creative work. Then he fertilises the old poems with modern insights that ensue from the themes of the ancient poems. As an academic who is familiar with postmodernist theory, Cloete deliberately emphasizes the process of text construction and the constructed nature of his text. From snippets of the ancient texts he abstracts the essence of those texts and constructs a new text, representing the poet's own interpretation of the intertexts. In this way, he re-activates the old texts by making them relevant and stimulating to the modern reader.
A poem that is structurally and thematically strongly associated with "swerwende verse" is "Achilles se skild". These two poems frame the section "saamsing" in Onversadig. According to Yuri Lotman (1972: 306), the frame of a narrative (and in this case also of a series of poems in which the "story" of the poet's creative work is "told") has an important structuring and thematic function. References to Achilles's shield often appear in Cloete's work and illustrate the concept of self-transcendation which Cloete, according to his memoir Die ander een is ek, regards as one of the most important aspects of the creative process. He identifies with the ancient myth of Achilles's Shield in more than one way. In the second main point I discuss the way in which Cloete identifies with the lame god Hefaistos of ancient Greece. Cloete himself was disfigured in his youth by poliomyelitis and often refers to himself in metaphors of disfiguration. The cripple who is also an artist is a constant theme in the poetical oeuvre of T.T. Cloete. By accentuating the role of Hefaistos in the poem "Achilles se skild" the poet makes a statement about his personal identity as a so-called "cripple". Hefaistos becomes a persona of the author himself.

Keywords: T.T. Cloete, intertextuality, transcription, juxtaposition, Shield of Achilles, saamsing, ars poetics, Onversadig, identity construction, Hefaistos


 

 

1. INLEIDING

Reeds in sy vroegste werk maak verwysings na en gesprekke met ander tekste 'n inherente deel van T.T. Cloete se gedigtekste uit.2 Uit talryke onderhoude (byvoorbeeld Taljard 2014), lesings (byvoorbeeld Cloete 1988) en gesprekke, maar ook uit dokumente soos sy bekende memoir, Die ander een is ek (Cloete 2013), blyk dit dat die digter T.T. Cloete intertekstuele gesprekke in ʼn verskeidenheid gedaantes as een van die mees tiperende aspekte van sy digpraktyk beskou. In Die ander een is ek toon hy by herhaling aan hoe sy gedigte uit ander gedigte, verhale, wetenskaplike artikels, mites, filosofieë en ander tekste ontstaan het en daarna heenwys of krities daarmee in gesprek tree.

In hierdie artikel word twee verwante gedigte uit die bundel onversadig (2011), naamlik "swerwende verse" en "Achilles se skild", ontleed met die doel om aan te toon hoe die digter gebruik maak van die werk van digters wat lank voor hom geleef het om namens hom te praat en hoe hy hulle werk toelig, herinterpreteer, ondermyn en herskryf ten einde nog 'n laag op die palimpseste van die antieke tekste te lê, tekste wat deur die eeue reeds meervoudig gekodeerd geraak het, sodat hulle ook vir die moderne leser nuut en betekenisvol word. Wat meer is: die twee tersaaklike gedigte, wat teen die einde van sy digterloopbaan geskryf is, bevat ook 'n kortbegrip van die belangrikste temas wat in die digter T.T. Cloete se werk voorkom.

In die eerste deel van die artikel sal eksemplaries te werk gegaan word deurdat die gedig "swerwende verse" in besonderhede ontleed word. Aangesien die gedig "Achilles se skild" reeds in ʼn ander artikel (Taljard 2012) bespreek is, sal hierdie gedig minder volledig bespreek en sal daar slegs aangedui word in welke mate dié gedig aanvullend tot "swerwende verse" en die hoofargument gelees kan word.

 

2. TEORETIESE PADWYSERS

Cloete se werk word - dalk meer as enigiets anders - deur jukstaposisie gekenmerk.3 Dié term word in die letterkunde meestal verstaan as die byeenbring van en verbandlegging tussen uiteenlopende of ooreenstemmende temas, veral ter wille van vergelyking, kontrastering of die bereiking van ʼn bepaalde effek (Cambridge Dictionary 2018; Merriam-Webster Dictionary 2018), maar veral by Cloete óók die byeenbring van en verbandlegging tussen tekste wat die digter op een of ander manier met mekaar in gesprek laat tree. Die feit dat hy sy bundels titels gee soos Jukstaposisie of Idiolek, maak die leser boonop daarop attent dat die outeur, benewens digter, ook literator is en oor spesialiskennis van die letterkunde en die literêre teorie beskik. Geen wonder dus dat daar in die kritiese werk oor die digter T.T. Cloete dikwels gefokus word op die metatekstuele aard en die wetenskaplike toonaard van sy digterskap nie (Du Plooy 1998; Viljoen 2009:570; Taljard 2012; Taljard 2015).

In die afdelings "toepassings van dante", "transkripsie" en "perifrase" in die bundel Idiolek (Cloete 1986:51-79) lê die digter-literator, volgens Jooste (1995:104-6), klem op verskillende vorme van intertekstualiteit in sy werk. Ek gaan my in hierdie artikel slegs toespits op die praktyk van transkripsie waarna Jooste verwys, wat woordelikse oorname uit ander tekste impliseer. Jooste (1995:105-6) bring die term "transkripsie" soos dit in die bundel Idiolek gebruik word, in navolging van Van Dale (1977:164), in verband met die term imitatio wat beteken "navolging met herskeppende pretensie","'n waarderende aanvaarding van dit wat oorgelewer is", maar "wat nie beskou moet word as 'n bewys van geestesarmoede of gebrek aan inspirasie nie". Jooste (1995:105) beweer oor Cloete se transkripsie-gedigte: "Dit wat eie is aan die mens, die digter, God selfs, dit word deur Cloete getranskribeer", want dit is wat hy beskou as waardevol vir die mens. Dit gaan veral om die vind van die tydlose, die soeke na immanente vorme en waarhede, waarin die semiotiese funksie van die tekens en simbole dieselfde bly, met behoud van die kenmerkende trekke van die artefak (Jooste 1995:106-7; Du Plooy 1998:6-7).

Die afdeling "transkripsie" in Idiolek (Cloete 1986:57-67) bevat gedigte wat verwant is aan dié wat staan in Afdeling 5 van onversadig (Cloete 2011:61-91) wat Cloete "saamsing" noem, maar waarin hy op baie meer blatante wyse "roof" uit ander digters se werk. Dié afdeling bevat tien gedigte waarvan 'n groot persentasie van die Cloete-gedig bestaan uit woordeliks "afgeskryfde" materiaal. In dié verband meld Cloete se bekende kortverhaal Dr. Diedericks leer om te lag (Cloete 2004:404-9) sigself onmiddellik aan. Dié verhaal sluit byna blatant inhoudelik én struktureel, aan by Jan van Melle se verhaal Oom Diederik leer om te huil (Van Melle 2004:38-44). Du Plooy (1998) bespreek die verhouding tussen hierdie twee verhale en wys daarop dat hoewel Cloete se verhaal op die stramien van Van Melle s'n gebou is, dit eintlik 'n herinterpretasie van die oorspronklike verhaal is en nie slegs 'n modernisering nie:

Die byna onbeskaamde toe-eiening van die struktuur en "storie" van Van Melle se verhaal word gebruik om 'n geheel ander en veel meer gesofistikeerde problematiek aan die orde te stel. Om sy alternatiewe siening te stel, het Cloete die verhaal van Van Melle nodig, maar Van Melle se verhaal word aangevul deur die Cloete-verhaal sodat 'n mens inderdaad van 'n simbiotiese verhouding kan praat. Nie een van die tekste ly skade deur die verbintenis nie aangesien hulle mekaar aanvul as supplemente in mutualistiese sowel as kommensalistiese verhoudinge. (Du Plooy 1998:12)

In navolging van Spivak wat die werking van dekonstruksie beskryf as ʼn herinskripsie van dié tekste wat in ʼn bepaalde teks aan die werk is, maak Du Plooy die volgende stelling:

Die tegniek stel die skrywer dus in staat om ʼn nuwe en vernuwende verhaal te vertel, ʼn verhaal wat nuwe relevansie in ander omstandighede verkry, wat binne ʼn ander epistemiese problematiek beweeg. (Du Plooy 1998:12)

Hierdie soort tekste is nie - soos dit soms oppervlakkig lyk - oop, deursigtige tekste nie - dit is egte postmodernistiese tekste soos Julia Kristeva (1980:36-63) dit in The bounded text beskryf. Dit is tekste wat saamgestel is uit reeds bestaande tekste sodat die resulterende teks uiteindelik "a permutation of texts" (Kristeva 1980:36) word, 'n mosaïek van sitate uit 'n onbeperkte aantal tekste wat op mekaar repliek lewer (Malan 1992:187). Worton en Still (1990:1-2) verwys na die immateriële aard van die teks en na die diskoerse wat sowel die skrywer as die leser na die teks toe bring. Hierdie insig ondermyn die siening van die teks as afgeslote, outonome eenheid met eenduidige betekenis en finale sluiting (sien Viljoen 1995b:400). Dergelike tekste nooi die leser uit om deel te neem aan die signifikasieproses, onder andere deur direkte of verskuilde verwysing na die werk van ander kunstenaars.

Dit sou 'n eng benadering wees om in tekste soos hierdie slegs te soek na ooreenkomste en verskille met ander tekste. So 'n suiwer ontologiese benadering kan wel die bestaanswyse van tekste beskryf, maar het nie ten doel om as analitiese instrument te dien nie. Uit Joan Hambidge se verklaring van intertekstualiteit blyk een van die belangrikste fasette van postmodernistiese tekste, naamlik dat 'n teks 'n ou storie kan oorvertel, "die bekende weer aanbied. Die reeds gesêde weer sê. Met 'n klemverskil: dat dit terselfdertyd 'n kritiese of intellektuele kommentaar ook word" (Hambidge 1995:41).

Hierdie vorm van tekstuele saambestaan noem Genette (1997:5-8) hipertekstualiteit. Dit is daardie verhouding tussen tekste wat die klem vestig op die palimpseste, die verskillende lae van die teks en wat doelbewus inter-tekstueel wil wees en so gelees wil word. Genette se hiperteks is 'n self-bewuste teks waarin een kunswerk (die hipoteks) as basis vir 'n ander kunswerk (die hiperteks) gebruik word, soos wanneer Antjie Krog in Kleur kom nooit alleen nie (2000) skilderye as intertekste of hipotekste vir sommige gedigte in die afdeling "Sgraffito" gebruik. Genette se hiperteks is dus nie gemoeid met 'n algemene faset van taal nie, maar met 'n spesifieke generiese praktyk binne die literêre sisteem. Alhoewel begrip van hipertekste tot 'n belangrike mate afhanklik is van die leser se kennis van die getransformeerde hipoteks, voer Genette aan dat die "nuwe" teks, die hiperteks, egter ook onafhanklik van sy hipoteks betekenis kan genereer en dat tekste 'n dubbele bestaan kan voer, beide as outonome tekste en inter-tekste.

Uit die bostaande bespreking behoort dit duidelik te wees dat die ondersoek na intertekstuele verwysings in ʼn postmoderne literêre werk soos onversadig meer behels as die blote naspeur van bronne waaruit die tekstuur van die teks saamgestel is. Hoewel Cloete geneig is om sy bronne aan te toon, steek daar tog ook iets van die trickster in hom - in gedigte waarin hy sommige bronne vermeld, verswyg hy soms ander belangrikes. Die analise van die intertekstuele gesprek binne 'n literêre werk behels, benewens die herkenning van hipotekste, veral ook die herkenning en gesprek met die konvensies en norme wat geld in bepaalde tekste wat deur die literêre werk opgeroep word.

Linda Hutcheon (1988:124) beklemtoon die belangrike invloed van inbedding en inkorporering van verskillende soorte intertekstuele verledes in literêre tekste. Deur hierdie praktyk word die leser "bewus gemaak van die 'teenwoordigheid' van die verlede, maar 'n verlede wat slegs kenbaar is deur tekste, dit wil sê deur die historiese en literêre spore daarvan" (Foster 2001). Hoewel die onvermydelike skeiding en afstand tussen verlede en hede deur so 'n tegniek uitgelig word, word tog ook die verbinding met die verlede tekstueel en hermeneuties bevestig (Hutcheon 1988:125; Foster 2001) en word die skeiding tussen kunswerk en wêreld ondermyn.

 

3. "SWERWENDE VERSE"

Die wyse waarop Cloete in die kortverhaal Dr. Diedericks leer om te lag met intertekste omgaan, werp ook lig op die werkwyse wat die digter in die afdeling "saamsing" in die bundel onversadig volg. Soos in die verhaal van Doktor Diedericks, maak die digter in hierdie gedigte ook ryklik gebruik van transkripsies uit die brontekste, wat sodanig deur hom gemanipuleer en getransformeer word dat dit binne die huidige tydsgewrig steeds relevant bly. Vervolgens bespreek ek die eerste gedig in die afdeling "saamsing", naamlik "swerwende verse" wat ooglopend op vier antieke tekste gebaseer is.

Benewens eksplisiete verwysings na brontekste in gedigtitels, onderskrifte en selfs in gedigte self, maak Cloete, die reële outeur (Brink 1987:147) in sy rol as akademikus - in teenstelling tot die implisiete outeur (Brink 1987:148-50) of die digter(stem) - in die bundel onversadig meermale van eindnote gebruik om addisionele verklarings en inligting by bepaalde gedigte te verskaf. By die titel van "swerwende verse" verskyn 'n lang eindnoot waarin die outeur verklarend en selfrefleksief kommentaar lewer. Hy wys op die eksplisiete ooreenkomste tussen die Egiptiese farao Achnaton se Himne aan die son en Psalms 19 en 104, en ook tussen die Himne aan die son en Sint Franciskus se Canticle of the sun (Cantico di frate soli) van 1224:

Die ooreenkomste tussen hierdie skeppingsgedigte is maar by benadering deur my gekursiveer om die identifisering van die interdigterlike te probeer vergemaklik. Ons het weliswaar hier met vertalings te make, maar die oorkoepelende ooreenkomste is onmiskenbaar, en dat die ooreenkomste selfs woordeliks ondanks die vertaling deurskemer, maak dit soveel merkwaardiger. (Cloete 2011:193)

Dit is duidelik dat die literatuurwetenskaplike prof. T.T. Cloete, as reële outeur, in hierdie eindnoot aan die woord is. Dit dui ook op die komplekse wyse waarop Cloete digter is en sy digterskap sien: hy is sowel geleerde, leermeester én digter. Hy is sowel die skrywer van sy poësie as die verklaarder daarvan; daarbenewens is hy ook die wetenskaplike wat in dieselfde gedigbundel in akademiese prosa meermale metatekstuele kommentaar op sy werkwyse lewer.

Die gedig "swerwende verse", wat uit 22 dele bestaan, se eerste 14 dele bestaan hoofsaaklik uit sitate geneem uit Akhenaton: Hymn to the Sun, Psalm 19, Psalm 104 en Sint Franciskus se Canticle of the sun. Ooreenkomste tussen dié tekste word gekursiveer, soos in die eindnoot (Cloete 2011:193) verduidelik word. 'n Mens kan met reg vra waarom 'n digter 'n teks waarin etlike bladsye woordeliks uit ander digters se werk gedupliseer word, as deel van sy eie kreatiewe werk in 'n gepubliseerde digbundel laat verskyn. Ek sal poog om in die loop van hierdie artikel ten minste gedeeltelik antwoorde op hierdie vraag te verskaf.

3.1 Vagebond as persona van die digter

Eers in deel 15 (Cloete 2011:67) kom die ware simfoniese aard van die gedig "swerwende verse" tot uiting. Hier word 'n nuwe stem as't ware in die antieke tekste ingebed - dié van ene "Vagebond". Die vagebond is 'n figuur wat dikwels met kunstenaars geassosieer word. Arthur Compton-Rickett beskryf dié figuur soos volg in sy boek The Vagabond in Literature:

There are some men born with a vagrant strain in the blood, an unsatiable inquisitiveness about the world beyond their doors. (...) Sometimes the Vagabond is a physical, sometimes only an intellectual wanderer (Rickett 1906:3-4).

Hierdie onbevredigbare nuuskierigheid, die swerf van een teks na die ander én van plek tot plek, soos deur die gedigtitel "swerwende verse" en die naam Vagebond gesuggereer word, is belangrike temas in Cloete se hele korpus poëtiese werk soos dit byvoorbeeld blyk uit die gedig "Plakker":

Rondloop is nie ledigheid nie, reis

het transmutiewe waarde,

laat jou saam met die gneis

beweeg, met die aarde

in sy oudste vorme, dit is ʼn ingeskape

word, ingesluit en ingeskape

in ʼn ver terugslaap.

(...)

(Cloete 1992:19)

Hieruit blyk dat die digter reis nie slegs as konkrete verplasing beskou nie, maar ook as geestesaktiwiteit (vergelyk ook Rickett 1906:3-4), as ʼn reis in tyd en selfs as ʼn eenword met die geskape dinge. Cloete se poësie is deurtrek met die reismotief, hetsy in gedagtes as kosmiese reise; as reise van teks tot teks in die wêreldliteratuur; as reise na verskillende verledes, uiteenlopende kulturele ruimtes en verskillende bestaanswyses; of as konkrete reise. In die bundel Driepas kry ons byvoorbeeld in die vyfde afdeling die bekende gedig "Reis na Namakwaland" (Cloete 1989: 67-71).Die gedig "prima bestaan" (Cloete 1998:61) beskryf ʼn reis van die verbeelding: "ek het lank in alaska in die toendra / ʼn lewe volledig gelewe ..." Ook in sy ander bundels kom talryke verwysings na konkrete, intellektuele en droomreise voor. Inderdaad is die praktyke van intertekstualiteit en van jukstaponering as sodanig gebaseer op "reise" tussen tekste, plekke, kulture, verledes en dies meer.

Die vagebond as reisiger en figuur van die kunstenaar kom byvoorbeeld ook voor by R.L. Stevenson in sy gedig "The vagabond". In Nederlands skryf sowel A. Roland Holst as J. Slauerhof gedigte met die titel "De Vagebond" waarin besin word oor die aard van digterskap. Slauerhof se gedig eindig soos volg:

Ik leef. Ik vrees alleen dat t web van wegen

Dat zich al nauwer om de wereld spant,

Mij niet meer doorlaat naar het ver gelegen,

Steeds wenkend en steeds wijkend wonderland.

(Slauerhof 1947:215)

Wie bekend is met Cloete se teks-eksterne uitsprake, sal weet dat hy veel klem lê op selftransendering of die terugtrek van die digter na 'n droomwêreld (soos Slauerhof se "wonderland") as belangrike aspek van kunsskepping (Cloete 2013:72), soos in die volgende sitaat:

Deurdat die gedig praat in kollektiewe transendente, praat die gedig nie net namens die skrywer nie, maar namens ontelbare lesers (...) Daar is talle maniere van vermenigvuldiging van ons beperkte, tydruimtelike, liggaamlike bestaan, maar die belangrikste een van almal is (self)transendering. (Cloete 2013:58-9)

Nog ʼn kenmerk van die vagebond is, aldus Rickett (1906:4), ʼn hartstogtelike liefde vir die aarde en alles wat daarop lewe. Dit sien ons dwarsdeur Cloete se oeuvre, in ʼn bundeltitel soos Met die aarde praat en ook in die gedig "swerwende verse".

Op grond van die voorafgaande argument kan die hipotese gestel word dat Vagebond 'n persona is van die digter en dat die kommentaar wat Vagebond lewer inderdaad metatekstuele kommentaar is, of kommentaar wat die digter op sy eie digwerk - op sy poëtiese oeuvre as geheel - lewer.

3.2 Antieke tekste

Voordat die argument oor die vagebond egter verder gevoer word, eers iets oor die vier tekste wat die grootste deel van die gedig "swerwende verse" uitmaak. Die blote feit dat die ordenende instansie of "generating instance of narrative discourse", soos Genette dit stel (aangehaal deur Brink 1987:27) byna een twintigste van die bundel, wat 190 bladsye beslaan, in een enkele gedig aan woordelikse transkripsies uit brontekste afstaan, móét veelseggend wees. Waarom juis hierdie tekste?

In sy eindnoot by "swerwende verse" wys Cloete (2011:193) eksplisiet op die ooreenkoms tussen 'n oerteks wat aan die songod Aton opgedra is ("Himne aan die son") en Psalms 19 en 104 waarin dieselfde eienskappe aan Jahwe toegeskryf word. Die implikasie is dat daar sekere waarhede en godsbegrippe is wat in alle tye deel uitgemaak het van bepaalde geloofsoortuigings en nie spesifiek is aan die Christelike geloof nie. Die digter stel sy siening hieroor later in die gedig eksplisiet by monde van Vagebond:

Achnaton en Franciscus is op 'n interdigterlike plek

binne die fanakalo se poëtiese taal

skoon glansend bonasionaal

buite tydruimte onder die son saamgetrek

(Cloete 2011:70)

Dié reëls is heel goed te rym met Cloete se religieuse opvatting soos dit uit sy werk as geheel spreek, maar verwys ook na 'n aspek van die poësie as sodanig, naamlik dat gedigte transendentale en universele waarde besit en tyd en ruimte oorskry.4 In "Shifting Identity" uit die bundel Uit die hoek van my oog sê die digter immers: "Van daardie pynlike naelstring om te behoort / aan 'n volk of 'n familie het ek my ontstoot" (Cloete 1998:45). En transendentaal, bonasionaal en immergeldend is die dele van die Himne, die Canticle en die Psalms wat die digter in die eerste 14 dele van "swerwende verse" aanhaal wel. Die digter T.T. Cloete praat deur hulle én laat hulle namens hom praat (Cloete 2013:58).

Dit behoort duidelik te wees dat die tekste wat Cloete in hierdie gedig weer tot lewe roep, ook nog 'n verdere belangrike aspek van sy idiolek belig, naamlik die verwondering aan die Skepping wat van die begin af enduit in sy werk teenwoordig is en wat ook duidelik uit die antieke tekste spreek. So spreek die digter se verwondering aan die inherente "kennis" van die sonneblom byvoorbeeld reeds uit die eerste gedig ("Sonneblom") van sy debuutbundel (Cloete 1980:1). Verwondering is een van die belangrikste temas in dié bundel en al sy ander werk, byvoorbeeld:

Van mossies en meer

hoe lieflik is

u wonings Heer

van duif en valk

en mossie en meer

ons sing gesang

ná lofgesang

tot U o Heer

van muis en slang

triceratops en virus

Here sing ons luid

hul lewe U

simfanies uit

(Cloete 1980:5)

Die kerngedagte van dié gedig verskil nie van dié van die vier antieke gedigte nie.

In sy uitvoerige bespreking van die Psalms (2014) beskryf Johannes Schnocks Psalm 104 as die waarneming en duiding van die wêreld met sy verskillende ruimtes, samehange en ritmes deur middel van 'n lofprysende gesprek met die Skepper self. Die menslike houding beskryf hy as "eine Haltung des Staunens und des lobenden Einstimmens" (Schnocks 2014:135) - 'n houding van verwondering en lofryke instemming. Hierdie soeke na ekologiese samehang en die konstante verwondering aan dit wat deur God tot stand gebring is en deur hom onderhou word (Schnocks 2014:138), is waarskynlik dié belangrikste kenmerk van die Cloete-oeuvre. Dáárom die uitvoerige aanhaling van tekste wat met die digter se eie digterstem resoneer in harmonie met al sy vorige bundels. So illustreer die kwatryn "Tristetrahedronis" uit Driepas byvoorbeeld sowel die digter se insig dat God in wese onbegryplik en onkenbaar is, as sy verwondering aan die Skepping:

Onse Vader, omdat ons U wil begryp, beperk

ons U tot ons afgekoepelde hemel, U wat ook woon

buite u holte oral waar u werke is en U wat werk

oral waar U woon, u die getripleerde trigoon

(Cloete 1989:160)

My insig is dan dat die doel van die transkripsie uit antieke tekste eerstens wil klem lê op 'n allesomvattende religieuse oer-waarheid; tweedens demonstreer dit ikonies die teorie van die "Omvattende Gedig" (sien o.a. Cloete 2011:69) wat daarop neerkom dat alle waarhede waaroor digters dig, reeds iewers transendentaal of konkreet teenwoordig is en reeds deur ander digters/skrywers poëties vergestalt is. In hierdie geval is dit die tema van verwondering aan die skepping. In sy selfrefleksiewe werk Die ander een is ek skryf Cloete (2013:151): "Ek verstom my my hele lewe lank hoe 'n mens in alles wat jy lees ander skrywers se stemme hoor. As ek Psalm 19 en 104 lees, hoor ek tegelykertyd Franciscus se 'Cantico di Frate Sole' en Achnaton se 'Himne aan die son'". 'n Mens sou dus in die derde plek ook kon beweer dat die transkripsie van die antieke tekste klem lê op een van die belangrikste aspekte van die digter se digpraktyk, naamlik voortdurende gesprekvoering met sy eie oeuvre én tekste van ander skrywers. Vierdens lyk dit asof Cloete in hierdie gedig 'n kortbegrip van sy oeuvre wil aanbied - die essensie van sy kreatiewe werk - en intensioneel aansluit by sy mees ontginde temas en die tekste van ander digters wat daarmee resoneer.

3.3 Vagebond-dele

In die eerste 14 dele van die gedigteks "swerwende verse" het die ordenende instansie op wetenskaplike wyse eksplisiete ooreenkomste tussen reeds bestaande bronne aangetoon. Die Vagebond-dele, daarenteen, het die geaardheid van kantaantekeninge van 'n krities ingestelde leser by 'n teks wat hy aan die lees is. Daar word op tipies wetenskaplike wyse vrae gevra en parallelle oor eeue en millennia heen getrek tussen die ou tekste, die lewens- en wêreldbeskouing van die digter en die digter se korpus gepubliseerde kreatiewe werk. Dit lyk asof die ordenende instansie wat die gedig beheer moeite doen om aan te toon hoedat die vier antieke tekste inderdaad 'n konsentraat is van die digter T.T. Cloete se digterlike oeuvre, onder andere deur gebruik te maak van 'n kommentator, Vagebond.

Dit is nie verbasend nie dat die eerste tema wat voorkom in die Vagebond- of "repliek"-tekste, inderdaad verwondering is. Soos reeds gesê, stem kritici saam dat verwondering met reg beskou kan word as die sleutelwoord en hooftema van Cloete se poëtiese werk (sien byvoorbeeld Odendaal 1993; Viljoen 1995a; Marais 2009; Robinson 2009; Van Coller 2016). Vagebond sê in sy eerste verskyning:

15 (Vagebond 1)

van verwondering vervul

dink ek aan my vrugbestaan

in my Ma se skoot verhul

al die bene van my lyf

elke dag van my bestaan

was toe reeds volledig opgeskryf

(Cloete 2011:67)

Verwondering en bestaan of lewe word dikwels in samehang met mekaar in Cloete se werk aangetref. Hierdie strofes verwys na nog twee antieke tekste, naamlik Jeremia 1 en Psalm 139. In Jeremia 1:5 sê die Here vir Jeremia: "Voordat ek jou in die moederskoot gevorm het, het ek jou geken" (Bybel 1987:698) en Psalm 139, verse 13 en 15 in die Ou Vertaling stel: " U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde" (Bybel 1956:601). Hier het ons weer eens met 'n gedeeltelike transkripsie te make (uit tekste waarna in hierdie geval nie eksplisiet verwys word nie).

Dit is interessant dat die Psalmdigter stel dat hy "in die dieptes van die aarde" gemaak is. Verbondenheid met die aarde en die heelal (soos vroeër aangetoon) en die fassinasie met ontstaan en bestaan kom van die begin af by Cloete aan die orde. Die tweede reeks Vagebond-strofes lewer hierop kommentaar:

16 (Vagebond 2)

eeue daarvóór was ek lankal daar

in die donker slaap

toe breek die lig en ek in haar

gedroom die tyd wat roer roteer

nou word ek weer en weer

gebore elke oggend staan ek op en elke keer

is dit 'n avontuur

tienduisend kilometer en derduisend jaar

skei my van die digter-koning van die Jode

en nog verder terug die digter-farao

van die Egiptenare

tog is dit steeds dieselfde bruidegom

wat uit die Ooste se slaapkamer

soggens met opstaantyd na my in Afrika toe kom

dit is dieselfde mense wat dan ontwaak

en land toe gaan

en rou aarde braak

en wat die son se lig

in hul gesig laat straal

en in dieselfde suurstof

en atome asemhaal

(...)

(Cloete 2011:67-68)

Dat die digter beweer hy was eeue voor sy geboorte al teenwoordig, dat dieselfde mense weer en weer hulle verskyning maak soos die son en dat ons dieselfde suurstof en atome tot die oneindige hersirkuleer, dui op 'n bepaalde wêreldbeeld waarop Cloete (2013:79) ook in Die ander een is ek selfrefleksief kommentaar lewer: "Dit is nie 'n nuwerwetse opvatting dat alles saamhang en die een ding in die ander kan oorgaan nie, dit is 'n ou insig." In sy poëtiese werk kom telkens die opvatting van die samehang van alle dinge en ʼn sikliese tydbesef voor:

toe

was die protomens nog

in die akkedis

saam met die beer en sog

in die vis

(Cloete 2007:31)

Ewige teenwoordigheid en gedaanteverwisseling word ook elders in die Vagebond-dele van die gedig "swerwende verse" eksplisiet verwoord:

17 (Akhenaton: Hymne to Aton en Sint Franciscus: Canticle of the Sun)

met geringskatting van die nasies word

onmerkbaar langsaam en sag

fluisteringe van die een dag in die ander dag

millennium ná millennium uitgestort

Achnaton en Franciscus is op 'n intergedigtelike plek

binne die fanakalo se poëtiese taal

skoon glansend bonasionaal

buite tydruimte onder die son saamgetrek

waar waters is wat in borrelende wolke vry

en minagtend oor ons kwansuise grense

hoog oor ons klein aarde ry

(Cloete 2011:70)

Dat die digter Achenaton en Sint Franciskus se name in die gedigtitel vermeld, hang saam met sy bewuswees van die hersirkulasie van tekste as digterlike praktyk en trouens ook as grondbeginsel van alle tekskonstruksie, maar veral ook met sy konsep van die sogenaamde "versamelde gedig" wat reeds in Driepas sy verskyning maak:

die gedig is 'n refleks

in 'n enkele woord

en in dié woord hoor

die oor ineen ineens die teks

van die versamelde gedig

(…)

(Cloete 1989:34)

Die konsep van die "versamelde gedig" veronderstel 'n "intergedigtelike plek" (Cloete 2011:70) - ek stel my iets soos Jung se Kollektiewe Onbewuste voor - waartoe digters toegang het en waaruit hulle put. Dit veronderstel dat alle gedigte eintlik sedert onheuglike tye reeds as metafisiese konsepte iewers teenwoordig is. Julia Kristeva (1980:36-63) se insig is dat betekenis nie deur een skrywer gegenereer word nie, maar wel deur taaluitinge binne intertekstuele verband te plaas en te interpreteer aan die hand van wat voorheen reeds gesê of geskryf is - soos Cloete se intertekste.

Die Vagebond-gedigte is ʼn soort lappieskombers van "hersirkuleerde" gedigte. In "16 (Vagebond 2)" in strofes 10-13 kan flardes tematiese materiaal uit die werke van E.N. Marais, J.F.E. Cilliers en Totius herken word. Deur gebruikmaking van die werk van ander Afrikaanse digters bevestig die digter sy verbondenheid met die Afrikaanse digterlike tradisie. Dit is egter nie die belangrikste intertekstuele spel in die Vagebond-gedigte nie. Veel belangriker is die intratekstuele verwysings na die digter se eie werk. Die feit dat hy byvoorbeeld Krom Joggom Konterdans uit Marais se "Die dans van die reën" by die naam noem en twee strofes aan ʼn verwerking van sy lied afstaan, is veelseggend:

as Krom Joggom Konterdans

uit die Groot Woestyn reën maak

op sy Afrikaviool

en die weerlig die wolke oopkraak

die wind en die grootwild maal

dan op die vlaktes rond

en die kleinvolk roer ontroer

diep onder in die grond

(Cloete 2011:68)

Daar kom in Cloete se werk dikwels verwysings voor na die kreupel kunstenaar en (soos later in die artikel aangetoon sal word), is dit meestal verwysings na die reële outeur. In die gedig "astronout" staan daar:

self het ek Kromvoet swaar voet versit

maar gekonterdans en met die koevoet

van die droom sterre gewrik

(Cloete 2007:130)

Hier verwys die woord "gekonterdans" beslis ook na Marais se liedmaker Joggom Konterdans. ʼn Mens sou in hierdie verwysing inderdaad ʼn poging van die digter kon sien om die aandag te vestig op homself en sy kuns (liedmaker), veral in ag genome die feit dat die meeste intertekste in die Vagebond-gedigte uit die digter se eie oeuvre en denkraamwerk kom.

Die eerste reël van die gedig "16 (Vagebond)" verwys, in aansluiting by die voorafgaande Vagebond-teks wat handel oor die feit dat die sprekende ek reeds in die moederskoot aan God bekend was, na ʼn konsep wat inherent is aan Cloete se poëtika: "eeue daarvóór was ek lankal daar". Hierdie siening verwoord Cloete eksplisiet wanneer hy beweer: "Ons is verwant aan mense wat lank voor ons geleef het ... Ons het iets van Caesar in ons van vandag. Ons asem Christus ook in, al glo ons nie in Hom nie" (Cloete 2013:80). In "Shifting identity" staan: "In hierdie en daardie ander lyf / het ek geleef" (Cloete 1998:45). Talryke ander intertekste uit die Cloete-oeuvre kan eweneens hier aangetoon word, onder andere in die gedigte "ons is" (Cloete 1982:106-7), "Eters II" (Cloete 1992:73), "Kadaster" (Cloete 1998:79-80) en "eier" (Cloete 2007:10-3). Daar is trouens geen Cloete-bundel waarin die gedagte van hersirkulasie nie ʼn poëtiese gestalte vind nie. Die voortdurende ineenvlegting van nuwe en ou tekstuele materiaal is dan eintlik 'n kopknik in die rigting van Roland Barthes se bekende uitspraak dat die digter dood is. Die bestaan van 'n "versamelde gedig" of die "omvattende gedig" soos hy dit ook in "swerwende verse" noem, plaas inderdaad 'n vraagteken agter die konsepte van digterskap en eienaarskap; agter grense van 'n literêre werk en agter iets soos 'n sluitende geheel. Ook die laaste kommentaar van Vagebond brei op hierdie insig uit:

die een dag roep die ander dag op met lig

met mense en bome gevul, met diere en water die een gedig

roep die ander op oor tyd en afstand

met minagting vir mense se taal en afgegrensde land

(Cloete 2011:70)

Die voorafgaande bespreking lei ʼn mens tot die gevolgtrekking dat die gedig "swerwende verse" 'n uitgebreide Ars Poëtika is waarin die digter besin en verslag doen oor een van die vernaamste temas in sy kreatiewe werk, naamlik die bemoeienis met en verwondering aan die bestaanswyse van alles wat geskape is, ingeslote spesifiek ook die bestaanswyse van kreatiewe tekste. Hy manipuleer die oertekste deur selektief daaruit aan te haal wat op sy eie lewens- en wêreldbeskouing en sy kreatiewe werk van toepassing is en bevrug dit met moderne insigte wat eksplisiet met die antieke gedigte in gesprek tree, dit bevestig en besinnend daarop uitbrei. As akademikus wat vertroud is met postmodernistiese teorie lê Cloete doelbewus klem op die proses van tekskonstruksie en die gemaakte aard van sy teks. Uit die fragmente van die oertekste abstraheer hy die essensie en maak daarvan 'n nuwe teks wat die digter se eie interpretasie van die brongegewe verteenwoordig. Op hierdie wyse heraktiveer die digter die ou tekste vir die moderne leser. Hy diep hulle as't ware uit die puin van vergetelheid op, stof hulle af en maak hulle relevant en stimulerend vir ons wat nou lees.

 

4. ACHILLES SE SKILD

'n Gedig wat struktureel en tematies sterk by "swerwende verse", die eerste gedig in die reeks "saamsing" (Cloete 2011) aansluit, is die laaste gedig van die afdeling, naamlik "Achilles se skild". Hierdie twee gedigte vorm as't ware die raam van dié afdeling en vervul daarom, volgens Yuri Lotman (1972:306), 'n belangrike strukturerende en tematiese funskie. Soos Achnaton se himne, kom verwysings na Achilles se skild dikwels in Cloete se werk voor. Die gedig "astronout" in Heilige nuuskierigheid vergestalt byvoorbeeld poëties wat Cloete selftransendering noem en wat hy as een van die belangrikste aspekte van die kreatiewe proses beskou. In dié gedig teken die digter homself as "ruimtereisiger van die tuisbly", "belaai met 'n swaar vrag gedigte van digters / oues uit Israel uit Egipte en Griekeland ":

ek het Achnaton hoor sing van die son

en saam met die gewasse en sy mense opgestaan

en:

ek het deur 'n Griek se lieflike hand

deel geword van 'n volle lewe

binne die lewe op Achilles se skild

(Cloete 2007:126-131)

Hier lê die digter eksplisiete verbande tussen die intertekste van die eerste en laaste gedig van die afdeling "saamsing" nog lank voordat die gedig geskryf is. Dit motiveer die aanname dat ten minste "swerwende verse" en "Achilles se skild" ʼn samevatting van sy digterlike oeuvre en lewens- en wêreldbeskouing verteenwoordig.

Soos by "swerwende verse", bestaan ongeveer 'n kwart van die gedig "Achilles se skild" uit verbatim aanhalings uit J.P.J. Van Rensburg (1952:287-301) se letterlike vertaling van Boek XVIII van Homerus se Ilias met subtiele weglatings, herskrywings, en ingebedde teksdele wat nie in die bronteks voorkom nie. Omdat daar reeds uitgebreid oor hierdie gedig geskryf is (Taljard 2012), sal in hierdie afdeling slegs kortliks by die voorafgaande argument aangesluit word.

4.1 Homerus se beskrywing van Achilles se skild

Een van die bekendste dele van Homerus se Ilias is die beskrywing van hoe Hefaistos, die god van vuur en metaal, die Griekse held Achilles se skild maak voordat hy die geveg teen die Trojaanse held Hektor aandurf. Boek XVIII bied ʼn volledige beskrywing van die ronde skild met sy drie konsentriese sirkels. Die tradisionele interpretasie van dié tonele is dat dit 'n uitgebreide metafoor is vir die kosmologie van die Homeriese tyd, naamlik dat die aarde 'n plat, ronde skyf is met die hemelkoepel wat daaroor gespan is en die koepelvormige onderwêreld daaronder. Die Okeanosrivier vloei reg rondom die aarde en vorm terselfdertyd die grens tussen die lewendes en die dooies én tussen die konkrete en onsienlike wêreld. Oor die maak van die skild, skryf Homerus (Van Rensburg 1952:289): "Die aarde het hy daarop uitgebeeld, en die hemel, asook die see, die onvermoeide son en die volmaan; ook al die sterre waarmee die hemel bekrans is " Die ooreenkoms met die Achnaton himne, Psalms 19 & 104 en die Canticle is onmiskenbaar.

Sirkels vorm een van die belangrikste motiewe op die skild (sien Taljard 2012). Die Okeanosrivier is die belangrikste sirkel op die skild. Dit is die rivier waaruit alles ontstaan het en wat aan die buitenste rand van die wêreld in 'n sirkel op homself terugvloei. Die simboliek op die skild word allerweë aanvaar as 'n uitdrukking van die konsep dat die makrokosmos in die mikrokosmos weerspieël word en andersom.

4.2 Cloete se Achilles-skild

Soos Homerus se skild, beeld ook Cloete se gedig "Achilles se skild" 'n bepaalde lewens- en wêreldbeskouing uit wat in sommige opsigte ooreenstem met Homeros sʼn (sien Taljard 2012). Die feit dat 'n groot gedeelte van sy gedig woordeliks uit Van Rensburg se vertaling van die Ilias kom, sou op vereenselwiging met 'n bepaalde deel van die Homeriese kosmologie kon dui - 'n siening wat gebaseer is op 'n bepaalde lewens- en wêreldbeskouing wat deurgaans in die Cloete-oeuvre teenwoordig is. Toe-eiening van die Homerus-teks laat afwykings daarvan natuurlik soveel duideliker uitstaan. Skepping en lewe is in hierdie gedig, soos ook in die Ilias-fragment én in "swerwende verse", 'n belangrike tema. In die Ilias en in Cloete se transkripsie val die klem sowel op die kunstenaar as skeppende wese as op die skepping van lewe op aarde soos dit op die skild uitgebeeld word. Ook die konsep van die hologram, naamlik dat die makro-kosmos en die mikro-kosmos wedersyds in mekaar ingebed is, kom dikwels by Cloete voor:

IV HEMELSE WANDELING

ek lê op my rug

in die nag en kyk stadig

téén die rasende stralende reis van die lig

ín miljoene jare in die oerverlede terug

na waar die spiraal van die nautilus

en van die alikreukel, die pou

se stert en die rolvarkie toegevou

in sy eie sirkel galakties nagedoen is

(Cloete 1982:46)

Soos voorheen aangetoon, is die konsep van sikliese tyd en selfs tydloosheid nie vreemd aan Cloete nie. Tot sover dan die ooreenkomste tussen die Ilias en die Cloete-gedig.

Cloete se subtiele ondermynings, her- en inskrywings verdien nou nadere ondersoek. Die mees voor die hand liggende verskil tussen die antieke teks en die Cloete- teks is waarskynlik die intensie. Uit die Ilias-gegewe is dit duidelik dat die digter 'n model skep van die fisiese wêreld soos dit destyds algemeen aanvaar is: ʼn representasie van die ideale gebalanseerde lewe binne die raam van die heilige Okeanosrivier. In teenstelling daarmee meld die Cloete-gedig driemaal dat dit die doel is van die kunstenaar "om ons ontglippende dubbele menslikheid / in een stuk te smee" en om "die onverklaarbare geheimsinnige mens" op die skild uit te beeld (Cloete 2011:82-90). Herhaling van woorde soos "ontglippende", "onverklaarbare" en "geheimsinnige" sluit aan by die idee van pluralisme en ongrypbaarheid van 'n agterhaalbare waarheid wat die postmodernistiese Zeitgeist kenmerk en resoneer weer eens met die digter se verwondering aan die werke van God, soos dit ook uit "swerwende verse" blyk.

Nog 'n belangrike verskil tussen die Ilias en Cloete se herskrywing het betrekking op die raam van die verhaal. Nadat Hefaistos die kosmos en die menslike aktiwiteite op aarde op die skild uitgegraveer het, het hy "ook die groot krag van Okeanos se rivier daarop uitgebeeld al langs die buitenste rand van die stewiggemaakte skild" (Van Rensburg 1952:301). Cloete maak op dié plek van sy teks egter geen melding van die Okeanosrivier nie, maar beskryf die wrede geveg tussen Hektor en Achilles, wat in die Ilias eers heelwat later verskyn. Okeanos is 'n mistieke rivier en in die Griekse teks 'n sterk spirituele merker. Dit is veelseggend dat Cloete in die plek daarvan "die wreedste geveg, saam met mooi dinge / wesensgetrou ingesmee in die buitenste kring van die nes / van konsentriese sirkels ..." uitbeeld (Cloete 2011:90). Klemlegging op gevegte tesame met mooi dinge suggereer natuurlik ook die mens se "dubbele menslikheid" en die ongrypbaarheid van die menslike kondisie. Interafhanklikheid van die sublieme en die afskuwelike (die soma en pleroma) is ʼn belangrike tema in Cloete se werk. In Karnaval en Lent noem hy byvoorbeeld die mens "homo duplex" (Cloete 2014:40).

Raming is 'n belangrike faset van die antieke Griekse kuns. Die raam plaas die verhaal binne die ordenende beginsel waarvolgens die digter sy kosmologie konstrueer - in Homerus se geval is die Okeanosrivier die spirituele ruimte waarbinne hy sy lewens- en wêreldbeskouing uitbeeld. Indien dieselfde vir Cloete se gedig geld, beteken dit dat hy sy lewensbeskouing plaas binne die raam van geweld en wreedheid - dalk in aansluiting by eietydse (Suid-Afrikaanse) toestande. Getrou aan die aard van die "ontglippende" en "dubbele" aard van die mens, word die woord "mooi" egter verskeie kere in dié gedeelte herhaal: 'n ikoniese illustrasie dus van die digter se lewens- en wêreldbeskouing waarin uiterstes met mekaar verweef is.

4.3 Hefaistos as persona van die digter

Cloete begin die gedig "Achilles se skild" (Cloete 2011:82-8) met 'n verwysing na "die hinkende horrelvoet Hefaistos". Ook in die volgende strofe word na hom verwys as "die kunstenaar met die behendige hande / die krom kreupele"; daar word gesê "hy staan op sy tenger hoepelbene" en wanneer die wapenrusting klaar is, tree hy "hinkend ver terug". Die digter lê heelwat meer klem op die gebreklikheid van die Vuurgod as Homerus. Gebreklikheid word in antieke Griekse tye dikwels met kunsskepping geassosieer (Hubbard 1992:16-17). Ook Cloete vereenselwig hom daarmee. In Die ander een is ek skryf hy uitgebreid oor "Die lelikes en volmaak verminktes":

In die kunswêreld is daar 'n vreemde saamgaan van genialiteit en artistieke begaafdheid in 'n liggaam wat lyk of dit 'n belemmering is … onbeholpe, verpotte, geskonde of verminkte liggame wat ryklik (self-) transenderend is.

en:

Achnaton, die Egiptiese farao, was besonderlik lelik, nie alleen sy gesig nie, maar ook sy liggaamsbou … Tog was hy die skrywer van een van die allermooiste transendente van alle tye, die "Himne aan die son" ...

en:

Wat 'n ironie: Die liggaamlik onvolmaakte Hefaistos maak die wapens wat die liggaamlik superfiks Achilles weerbaar maak! … sy bynaam in die Ilias is "die beroemde kreupele". 'n Krom Joggom Konterdans.

(Cloete 2013:139-51)

Die kreupel mens wat dikwels ook kunstenaar is, duik by herhaling in Cloete se werk op. Die sprekende ek beskryf homself in sy gedigte onder andere as "ek getrapte sprinkaan", hy praat van sy "gekraakte gebeente" (Cloete 2001:16) en sê: "ek groei aarde toe krom ek hel lewendig / skuins (...) ek moet sekondegetrou / onthou om (...) te beweeg krapskeef / en aaphinkende ...." (Cloete 2001:21). Indien ʼn mens die reële outeur, geboë weens poliomiëlitis in sy jeug, in aanmerking neem, verwys die gedig "refraksie" heel waarskynlik ook na homself:

bog met balans

u boom staan skeef

gerangskik

die een wat dans

toe u mý so genoeë gemaak het

kon regop en ewewigtig leef

u ook kwálik

geraak het

in die oog lopend opsigtelik

is met ʼn potegekreef

wat skeef mik

u in u skik

(Cloete 1985:45).

Met inagneming van die bostaande, besef 'n mens dat die digter nie slegs sy lewens- en wêreldbeskouing, sy kunsbeskouing en die belangrikste temas uit sy oeuvre in hierdie gedig ingeskryf het nie, maar ook homself as weerlose mens én as kunstenaar. Die grense tussen smid en kunstenaar, tussen die Griek Hefaistos, die Egiptiese Achnaton, die digter T.T. Cloete en die mens Theunis Cloete, tussen gedig en werklikheid vervaag, soos ook die grense tussen gedig en gedig in hierdie "interdigterlike plek buite tydruimte onder die son saamgetrek" (Cloete 2011:71).

 

5. OPSOMMING

In hierdie artikel het ek aan die hand van twee skeppingsgedigte 'n klein venster probeer oopmaak na die kompleksiteit wat sy poëtiese tekste kenmerk. Ek het probeer wys op die simbiotiese saambestaan binne die Cloete-gedigte van talryke tekste wat almal deel uitmaak van die "Omvattende Gedig", op hoe die ordenende instansie wat agter die skerms werksaam is, fyn beheer oor sy intertekste uitoefen deur dit vir sy eie doel te ontgin, dit vanuit 'n nuwe paradigma te interpreteer en as't ware graffiti aanbring op die reeds meervoudig gekodeerde liggame van die tekste wat hom geïnspireer het, máár terselfdertyd nuwe kreatiewe tekste skep waarin die DNS van sy digterlike korpus vervat is.

In Die ander een is ek som Cloete hierdie werkwyse op:

Agter al hierdie dinge: Verwondering, gedigte, woorde, die besit neem van ander mense of dinge, en die liefde, die wrok, lê 'n onontsyferbare geheim: die heelal waarin alles met alles saamhang. Gedigte wys hierdie samehang uit, stuksgewys, brok vir brok, nooit heeltemal en nooit volledig nie. (Cloete 2013:10 en 11)

 

BIBLIOGRAFIE

Brink, A.P. 1987. Vertelkunde: ʼn Inleiding tot die lees van verhalende tekste. Pretoria: Academica.         [ Links ]

Brooks, C. 1947. The well wrought urn: Studies in the structure of poetry. Londen: Dennis Dobson.         [ Links ]

Bybel. 1956. Kaapstad: Britse en Buitelandse Bybelgenootskap.         [ Links ]

______. 1983/1987. Die Bybel: Nuwe vertaling. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.         [ Links ]

Cambridge dictionary. https://dictionary.cambridge.org/dictionary/english (20 Mei 2018 geraadpleeg).         [ Links ]

Cloete, T.T. 1953. "Trekkerswee" en "Joernaal van Jorik". Proefskrif, Universiteit van Amsterdam. Amsterdam: C.V. Swets & Zeitlinger.         [ Links ]

______. 1980. Angelliera. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

______. 1985. Allotroop. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

______. 1986. Idiolek. Kaapstad : Tafelberg.         [ Links ]

______. 1988. Die Bybel en die Afrikaanse digkuns. C.B. Powell-lesing. Julie. Pretoria: Unisa.         [ Links ]

______. 1989. Driepas. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

______. 1992. Met die aarde praat. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

______.(red.) 1992. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM Literêr.         [ Links ]

______. 1998. Uit die hoek van my oog. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

______. 2004 (1984). Dr. Diedericks leer om te lag. In: De Vries (red.) (1984. pp. 404-409).         [ Links ]

______. 2007. Heilige nuuskierigheid. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

______. 2011. Onversadig. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

______. 2013. Die ander een is ek. Plettenbergbaai: Pooka.         [ Links ]

______. 2014. Karnaval en Lent is een gedig. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

De Vries, Abraham H. 2004 (1984). Die Afrikaanse kortverhaalboek. Kaapstad : Human & Rousseau.         [ Links ]

Du Plooy, H. 1998. Intertekstuallteit as simbiotiese saambestaan: twee naamgenote en 'n belese engel. Literator, 19(3):5-28. Nov. 1998.         [ Links ]

Foster, P.H. 2001. Postmodernistiese intertekstualiteit as teiken: ʼn bespreking van die jagter-interteks in "Die eland" van Wilma Stockenström. Stilet, XIII(3). http://hdl.handle.net/10019.1/73895 (21 Mei 2018 geraadpleeg).         [ Links ]

Genette, G. 1997. Paratexts: thresholds of interpretation. J.E. Lewin (vert.) Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Gouws, T. 1989. Die transkripsielees van T.T. Cloete. Literator, 10(3):31-47. Nov. 1989.         [ Links ]

Hambidge, J. 1995. Postmodernisme. Pretoria: J.P. van der Walt.         [ Links ]

Hubbard, Thomas K. 1992. Nature and Art in the Shield of Achilles. Arion (Third Series) 2:1: 16-41.         [ Links ]

Hutcheon, L. 1988. A poetics of Postmodernism: History, theory, fiction. New York: Routledge.         [ Links ]

Jooste, E. 1995. Idiolek van T.T. Cloete. Literator 16(3):103-31. Nov. 1995.         [ Links ]

Kristeva, J. 1980. Desire in language: a semiotic approach to literature and art. T. Gora, A. Jardin & L. S. Roudiez (vert.). New York: Columbia University Press.         [ Links ]

Krog, A. 2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.         [ Links ]

Lotman, Ju.M. 1972. Die Struktur Literarischer Texte. (Vert. R. Keil) München: Wilhelm Fink Verlag.         [ Links ]

Malan, R. 1992. Intertekstualiteit. In Cloete (red.) 1992.         [ Links ]

Marais, J.L. 2009. Charles Darwin, die natuurwetenskappe en die verwondering in T.T. Cloete se poësie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 49(4):547-62.         [ Links ]

Merriam-Webster Dictionary. https://www.merriam-webster.com/dictionary (20 Mei 2018 geraadpleeg).         [ Links ]

Nel, A. 2002. "Afgekyk van en nagepraat na ...": Nederlandse tekste in "Vroue van Vermeer - T.T. Cloete. Literator, 23(1):37-51.         [ Links ]

Odendaal, B.J. 1993. Via alruin en seks tot God: die eiesoortige mistiek in die poësie van T.T. Cloete. Literator, 14(2):1-23.         [ Links ]

O'Shea. Ongedateer. "Ode on a Grecian urn" and "Go down, Moses": an intertextual inquiry into John Keats and William Faulkner. Fragmentos, 5(2):49-70.         [ Links ]

Rickett, A. 1906. The vagabond in literature. Londen: J.M. Dent & Co.         [ Links ]

Robinson, A.S. 1995. Jukstaponering van Hom en my - die digter as hermeneut. Literator, 16(3):61-79. Nov. 1995.         [ Links ]

Robinson, R. 2009. 'n Onvoltooide Naam digterlik verbeel - verkennings aangaande 'n enigmatiese Goddelike Wese in TT Cloete se oeuvre. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 49(4):507-34.         [ Links ]

Schnocks, J. 2014. Psalmen. Paderborn: Ferdinand Schöningh.         [ Links ]

Slauerhof, J. 1947. Verzamelde gedichten. 'S-Gravenhage: A.A.M. Stols        [ Links ]

Taljard, M. 2012. Gesprek oor drie millenniums: T.T. Cloete se herskrywing van Homeros se Achillesskild-gegewe. Literator 33(2): http://dx.doi.org/10.4102/lit.v33i2.399. Besoek 14 Junie 2018.         [ Links ]

______. 2014. Dr. Marlies Taljard in gesprek met Prof. T.T. Cloete oor sy nuutste bundel Karnaval en Lent http://versindaba.co.za/tag/marlies-taljard-onderhoud-met-tt-cloete/ (28 Mei 2018 geraadpleeg).         [ Links ]

______. 2015. "Wat is die mens wat U so ryk beskenk het?" Die uitbeelding van die geveg tussen Karnaval en Lent by Bruegel en T.T. Cloete. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 55(2):205-19. Junie 2015        [ Links ]

Van Coller, H. 2016. T.T. Cloete as literêre kritikus, teoretikus en literatuurhistorikus (Deel 1): Rubrieke, bloemlesings en literêre kritiek. Literator, 37(1):1-9. a1263. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v37i1.1263 (14 Junie 2018 geraadpleeg).         [ Links ]

Van Dale, J.H. 1977. Nieuw handwoordenboek der Nederlandse taal. 's Gravenhage: Nijhoff.         [ Links ]

Van Melle, J. 2004 (1938). Oom Diederik leer om te huil. In De Vries (red.) (2004. pp. 41-47).         [ Links ]

Van Rensburg, J.P.J. (vert.) 1952. Homerus: Die Ilias. Stellenbosch: Pro Ecclesia-Drukkery.         [ Links ]

Viljoen, H. 1995a. Die fenomenologie van T.T. Cloete. Literator, 16(3):43-59. Nov. 1995.         [ Links ]

______. (Red.) 1995. Metodologie en representasie. Pretoria: RGN.         [ Links ]

______. 1995b. Spieël, kamer van spieëls - oor postmodernisme en representasie. In Viljoen (red.) (1995. pp. 393-416).         [ Links ]

______. 2009. Kreolisering van die Simbolisme in die poësie van T T Cloete. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 49(4):568-89. Desember 2009.         [ Links ]

Vos, C. 2016. God die groot Digter. Pretoria: Cordus Trust.         [ Links ]

Worton, M. & Still, J. 1990. Intertextuality: Theories and practices. Manchester: Manchester University Press.         [ Links ]

 

 

 

MARLIES TALJARD is verbonde aan die Skool vir Tale van die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus. Verskeie artikels en hoofstukke van haar het in geakkrediteerde vakpublikasies verskyn. Sy tree op as artikelkeurder vir nasionale en internasionale akademiese tydskrifte en as manuskripkeurder vir Suid-Afrikaanse en Nederlandse uitgewers. Sy het referate op nasionale en internasionale kongresse gelewer en tree op as spreker by openbare geleenthede. Sy is redakteur van Woord en Daad. Die afgelope jare het ʼn groot aantal resensies van haar in verskeie publikasies verskyn. Op Versindaba behartig sy ʼn blog oor die digkuns en dien sy op die permanente resensiepaneel. Sy is tans betrokke by navorsing oor sowel die toegepaste linguistiek as die literêre teorie.
MARLIES TALJARD is a lecturer in the School of Languages at the North-West University (Potchefstroom Campus). She has published extensively nationally and internationally and presented papers at numerous conferences. She regularly writes book reviews for local and international newspapers and academic journals. Her solo blog on a prestigious SA poetry website is widely read. She serves on the editorial staff of several accredited and non-accredited journals and acts as adjudicator for literary awards. Currently her research focusses on rhetoric and literary theory.
1 Hierdie artikel is
ʼn verwerking van die T.T. Cloete Gedenklesing wat op 20 September 2017 in die Senaatsaal van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom deur die skrywer gelewer is. Gedeeltes daarvan het as nie-akademiese teks op die webblad Versindaba verskyn.
2 Sien onder andere Cloete (1953); Gouws (1989:31); Jooste (1995); Robinson (1995); Viljoen (1995a); Du Plooy (1998); Nel (2002); Taljard (2012); Taljard (2015); Van Coller (2016:3-6).
3 Sien onder andere Gouws (1989:31); Robinson (1995); Viljoen (1995a); Nel (2002); Van Coller (2016:4).
4 'n Mens kan aanneem dat Cloete se siening aangaande die aard van poësie aansluit by dié van Cleanth Brooks soos hy dit uiteensit in "The well wrought urn: Studies in the structure of poetry". Brooks fokus ook op die verhouding tussen gedigte van uiteenlopende oorsprong en tydperke, asook op die verhouding tussen kuns, lewe en waarheid/Waarheid. O'Shea (ongedat.:51) skryf oor Brooks se insig van die Keats-gedig: "its message seems to be that the imaginative, mythic insight is capable of embodying the basic and fundamental perception of man, of art, and of nature".

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License