SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 número4-2Devil's advocates and ecocriticism: A response to Carien Smith's ecocritical-philosophical approach to Riana Scheepers's short story, "Katvoet" índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 no.4-2 Pretoria Dez. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n4-2a11 

TAALRUBRIEK

 

Oor ʼn skryfwyse

 

 

In die loop van die saamstel en gereedmaak van hierdie uitgawe van die TGW het ʼn interessante probleem opgeduik wat ek graag hier wil bespreek. Dit handel oor skryfwyse (dit wil sê oor los en vas skryf), die deel van ons spelreëls wat myns insiens die meeste probleme vir Afrikaansskrywendes oplewer.

Eers ʼn treetjie terug: Die woord kaalvoet, net so bloots, verskyn vir die eerste maal in die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) in die derde uitgawe (1921). Op sigself beteken dit nie veel meer as om aan te dui dat die toenmalige Taalkommissie (TK) dit as Standaardafrikaans beskou het en dat dit ʼn selfstandige woord is nie. ʼn Mens kan nie juis iets oor gebruik en skryfwyse daaruit aflei nie. In die eerste uitgawe van die AWS (1917) is gesê:

Wanneer die een of ander woordsoort - behalwe ʼn bijvoeglike naamwoord - ʼn selfstandige naamwoord nader bepaal, word die twee aaneengeskrijwe: noordpool, seewater, môreson, uitspanplek.

ʼn Mens sal dus kan aflei dat "kaalvoetkind" die korrekte skryfwyse moet wees. In die sesde uitgawe (1953) kry kaalvoet egter ʼn stertjie by: "kaalvoet (hy loop -)", wat dus ʼn gebruiksaanduiding byvoeg, naamlik dat kaalvoet as ʼn bywoord gebruik kan word. In die Deel V (1968) van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) staan daar dat kaalvoet ʼn byvoeglike naamwoord (b.nw.) en ʼn bywoord (bw.) is, en voeg by: "In attributiewe posisie [dus voor die s.nw. - JDM] gewoonlik vas geskryf aan die volgende selfstandige naamwoord [s.nw.]." Die papierweergawe van dié WAT gee onder meer die verbindingsvoorbeelde kaalvoetklonkie en kaalvoetseun. Daarenteen het ID du Plessis in sy 1944-digbundel Die vlammende fez sy bekende gedig "Kaalvoet Klonkie" geskryf.

Eers in die 1991-AWS kom nog iets by, naamlik die geïmpliseerde voorskrif dat kaalvoet in die attributiewe posisie los geskryf word. Die AWS-inskrywings lyk nou so:

kaalvoet (hy loop -)

kaalvoet seun, -s

Wat het hier gebeur, of is dit maar net ʼn TK-nuk om reëls te verander? Laasgenoemde glad nie.

"Kaalvoet seun" bestaan woordsoortelik uit (b.nw. + s.nw.) + s.nw. Die normale skryfpatroon vir sulke kombinasies is om alles vas aan mekaar te skryf, byvoorbeeld hoëhakskoen, breërandhoed, korttermynplan, blouoognooi, witkopseun, ooptoonsandaal, digitale-erategnologie, opvoedkundigesielkunde-student (onthou dat ʼn koppelteken ook vas skryf is). Daar is hande vol sulke samestellings in Afrikaans en nuwes kan amper na willekeur geskep word.

Die AWS noem dié soort samestellings samestellende samestellings, waarvan die laaste lid (s.nw.) die kern is wat "beskryf" word deur ʼn saamgestelde bepaler, wat in bogenoemde voorbeelde bestaan uit (b.nw. + s.nw.), byvoorbeeld (hoë + hak) + skoen = hoëhakskoen.

Soms gebeur dit egter dat so ʼn saamgestelde bepaler as 't ware ʼn lewe van sy eie aanneem - dalk omdat dit baie algemeen voorkom, dalk omdat die betrokke bepaler hom daartoe leen - en dan soos ʼn "gewone" b.nw. en/of bw. begin optree; kaalvoet, hardekoejawel en dikbek is tipiese voorbeelde. Hulle kan dan ook predikatief (dus ná ʼn koppelwerkwoord soos is of was) en bywoordelik (dus as bepaling van ʼn werkwoord) gebruik word:

Die kinders is kaalvoet (pred.); Die kinders loop kaalvoet (bw.); en dus Die kaalvoet kinders (attr. los).

Die leerders is baie hardekoejawel; Die leerders tree hardekoejawel teenoor die onderwysers op; en dus Die hardekoejawel leerders.

Die verloorders was maar dikbek; Die verloorders storm dikbek van die veld af; en dus Die dikbek verloorders.

Dit gebeur egter nie altyd nie. Dit is byvoorbeeld nie idiomaties om te sê *Die nooi is blouoog of *Die hoed was breërand nie; sulke omstelling kort nog iets. Ek kan my ook nie ʼn bywoordelike gebruik voorstel nie.

Moderner woorde wat dieselfde proses as kaalvoet en sy maats ondergaan het, is aanlyn en sy minder bekende teenoorgestelde vanlyn. Hoewel ʼn mens in korpusse nog talle trefslae van iets soos aanlynstelsel of aanlynregistrasie sal kry (wat dus ʼn aanduiding van die oorspronklike skryfwyse is), is dit vandag baie algemeen om aanlyn en vanlyn ook predikatief en bywoordelik te gebruik, net soos byvoorbeeld kaalvoet of dikbek. Dink maar aan iets soos:

Ons stelsel is nou weer aanlyn (pred.); Hy koop boeke aanlyn (bw.); en dus ʼn aanlyn stelsel, aanlyn aankope.

Die munisipaliteit se stel is al weer vanlyn; Die atlete kan slegs vanlyn registreer; en dus ʼn vanlyn stelsel, vanlyn registrasie.

Sulke gevalle word in die jongste AWS (2017) in reël 15.31 bereël. Dit lui: "Wanneer 'n verbinding van 'n byvoeglike plus 'n selfstandige naamwoord in die geheel die waarde van 'n byvoeglike naamwoord of bywoord het, word dit vas geskryf." Verskeie voorbeelde soos bogenoemde word ter illustrasie daarby gegee en die saak word ook in die opmerkings by die reël verder verduidelik. Die reël moet verstaan word op grond van sy bewoording, die voorbeelde daarby en die toeligtende opmerkings: Kyk ook reël 15.27.

Die probleem wat opgeduik het, het die skryfwyse van inlyn + s.nw. behels en wel omdat inlyn lyk soos aanlyn en vanlyn en natuurlik ook ʼn bepalende (min of meer "byvoeglike") funksie het. ʼn Paar ondersoeke is gedoen (ek bedank die TK se Suléne Pilon ook vir haar hulp), maar ons kon nie korrekte voorbeelde kry van inlyn wat ook predikatief of bywoordelik gebruik word nie - ons het dit slegs in die attributiewe posisie gekry. Daar was wel enkele voorbeelde van gevalle wat "in lyn" (los geskryf) moes wees en ʼn ander betekenis het, maar verkeerdelik "inlyn" geskryf is.

Inlyn het klaarblyklik verskillende betekenisse, maar hier het dit om die gebruik in rekenaar- of internetverband gegaan.

Die slotsom is dus dat die bepaler inlyn steeds vas aan sy kern geskryf moet word, byvoorbeeld inlynkommunikasiemedia, ook in ander betekenisse, soos inlynsessilinderenjin (wat, terloops, myns insiens ʼn onnodige komplikasie is; hoekom nie net, soos in die ou dae, "reguit sessilinderenjin" nie?).

Soos ʼn oud-TK-voorsitter, wyle prof. Johan Combrink, gesê het: "Spelreëls is nie vir sissies nie!"

JD (TOM) MCLACHLAN

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons