SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 número4-2RedakteursnotaOor ʼn skryfwyse índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 no.4-2 Pretoria Dez. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n4-2a10 

AKTUEEL

 

Duiwelsadvokate en die ekokritiek: 'n Respons op Carien Smith se ekokrities-filosofiese benadering tot Riana Scheepers se kortverhaal "Katvoet"

 

Devil's advocates and ecocriticism: A response to Carien Smith's ecocritical-philosophical approach to Riana Scheepers's short story, "Katvoet"

 

 

Reinhardt Fourie

Departement Engels, Universiteit van Suid-Afrika (UNISA). E-pos: fourir@unisa.ac.za

 

 

In 2013 het ek op uitnodiging van LitNet Akademies 'n kort essay gelewer oor die stand van omgewingsgerigte literêre studies in Suid-Afrika (sien Fourie 2013). Hierin het ek kortliks toegelig hoe die ekokritiek as ondersoekrigting sedert 2007 al hoe meer bepalend begin word het in die (Suid-)Afrikaanse literatuurstudie. In teenstelling met ander rigtings het ekokritiek sedert sy ontstaan en tot op daardie stadium (2013) taamlik heterogeen gebly. Enersyds is dié eienskap gesien as tot die voordeel van die ontwikkeling van die veld. Andersyds het dit beteken dat ekokritiek beskou kon word as teoreties onderontwikkel.

Ek het daarom indertyd twee vereistes geïdentifiseer waaraan ekokritiek myns insiens sou moes voldoen indien dit in die toekoms as 'n volwaardige ondersoekrigting geken wou word:

Ten eerste moet ekokritiek beter gedefinieer word binne die verskillende dissiplines en met plaaslike spesifisiteite in gedagte. Ondersoeke van dié aard is immers nie beperk tot die studie van letterkunde nie en moet verder reageer op Larsen (2007) se kritiek aangaande die byna eksklusief Anglo-Amerikaanse fokus van vroeë ekokritiese literatuurondersoeke. Ten tweede moet die ekokritiek op grond van sy etiese standpunte deur die grense van die akademie breek deur 'n duideliker bemoeienis met omgewingskwessies daar te stel; anders, soos [Buell] (1999:1096) dit stel, "ecocriticism will just be one of those trends that temporarily guarantee an audience, publications, tenure, promotions, and so on. It won't change things."

'n Vinnige literatuuroorsig toon dat ekokritiek as onderdeel van die breër Afrikaanse literatuurstudie die afgelope vyf jaar merkbaar gegroei het. Die grootste gros hiervan is die werk van Susan Smith en Susan Meyer. Smith, wat ook bekend is as digter, fokus in haar ondersoeke veral op die poësie (sien Smith 2014; 2016), terwyl Meyer weer ingestel is op die prosa (2013; 2014a; 2014b; 2015; 2016; 2017a; 2017b; 2018a). Ook die bydraes van onder andere Corné Coetzee (2015), Reinhardt Fourie (2016), Carien Smith (2016) en Henriëtte Loubser (2017) kan hierby ingesluit word. Die posisie van ekokritiek binne die kader van die Afrikaanse literatuurstudie is dus beslis stewig gevestig.

Die bogenoemde artikels behandel nie net tekste uit die Afrikaanse literatuur nie, maar in baie gevalle word ook teoretiese benaderings wat elders in die wêreld deur ekokritici gebruik is in die literatuurstudie hier te lande ingevoer, met die gevolg dat daar 'n gesonde verruiming van 'n soort eko-literatuurwetenskap in Afrikaans plaasgevind het.

'n Artikel wat natuurlik tot die bogenoemde lys gevoeg kan word, is dié van Carien Smith (2018), wat onlangs in Tydskrif vir Geesteswetenskappe verskyn het, waarin sy die kortverhaal "Katvoet" uit Riana Scheepers se gelyknamige bundel vanuit 'n "ekokrities-filosofiese perspektief" benader. Ek wil akkoord gaan met Susan Meyer (2018b) wanneer sy noem dat Smith se bydraes tot die ekokritiese literatuurstudie in Afrikaans van groot waarde is en ek hoop dat haar navorsing op hierdie terrein verder sal verskerp.

Met hierdie essay wil ek 'n paar opmerkings maak betreffende Smith se ondersoek. My oogmerk is nie om Smith se argument as sodanig te weerlê nie, maar eerder om as ondersoeker die rol van duiwelsadvokaat teenoor die omgewingsgerigte literatuurstudie te speel as deel van die groter gesprek rondom hierdie belangrike veld. Sodoende wil ek weer soos in 2013 kortliks besin oor die moontlike probleme wat teenswoordig verband hou met ekokritiese literatuurstudie, dié rigting se teoretiese begronding en veral ons gebruik daarvan in ons ontledings van belletristiese tekste.

Susan Meyer noem tereg reeds in haar respons op Smith (2018) se artikel dat daar in 'n snel ontwikkelende veld soos die ekokritiek versigtig omgegaan moet word met die gebruik van terminologie (2018b:623). In sekere opsigte is dit nog meer die geval vir navorsers wat hulle bemoei met ondersoeke binne die kader van die Afrikaanse literatuurstudie, omdat daar hier sprake is van nie net 'n teoretiese oordrag en verruiming nie, maar ook van terminologieskepping (en Meyer wys daarop dat terme en idees nie altyd eenvoudig deur vertaling oorgedra kan word nie). Omdat toekomstige ondersoeke waarskynlik hewig sal steun op die pionierswerk van ander navorsers, kan die rimpeleffek hiervan verreikende gevolge hê. Meyer let reeds in hierdie opsig op Smith se artikel en ek gaan daarom nie verder daarop in nie. My fokus berus eerder op sekere aspekte van die argument wat deur Smith in haar analise van "Katvoet" ingespan word en hoe dít as tekenend gelees kan word van die benaderingswyses wat soms neerslag vind in hierdie soort ondersoeke. Soos met die gebruik van teoretiese konsepte kan ook ons benaderingswyses in die ontledings in ons ondersoeke die toon vir toekomstige navorsing aangee en aldus langdurige (positiewe of negatiewe) gevolge inhou vir die veld.

Ter wille van bondigheid beperk ek my kritiek hier hoofsaaklik tot die ontleding van die kortverhaal in Smith se artikel. Sy maak hier veral gebruik van die konsep "natuur" - by tye eksplisiet, maar deurgaans ook implisiet. Sy bespreek hoe die nosie "natuur" alreeds binne die ekokritiek benader is en vestig daardeur die aandag op die binêre teenstelling van die natuur teenoor kultuur waarmee baie ekokritiese studies gemoeid is (2018:318-319). Anders gestel, behels dit die idee van die mens teenoor die natuur (of andersom). Trouens, hierdie netelige digotomie staan sentraal in die ekokritiek.

In haar oorsigtelike bespreking wys Smith op die Bybelse hiërargie tussen mens en natuur as die waarskynlike oorsprong van hierdie beskouing, veral binne Westerse denke en sisteme. 'n Kerneienskap van hierdie dualisme is die idee van die mens as uniek in sy rasionele denke. In navolging van 'n aantal ander ekokritici voer sy aan dat hierdie dualisme gedekonstrueer kan word deur die konsep "natuur" te herdefinieer (Smith 2018:318). Sodanig beskou moet die natuur nie gesien word as passiewe onderdaan van die mens nie en "[word] maniere benodig [...] om die interaksies tussen verskeie verskynsels te verstaan; die interaksies tussen die liggaamlike, materiële, menslike, meer-as-menslike, die diskursiewe en die tegnologiese" (ibid.). 'n Intellektuele ondermyning van hierdie dualisme vereis volgens Smith 'n daadwerklike poging om weg te beweeg van antroposentriese opvattings oor natuurwesens (tradisioneel in hierdie dualisme die Ander teenoor die mens), waardeur hulle as outonoom en gelyk aan die mens gesien word, sodat ons nie hierdie wesens se eie taal en bedoelinge met groot gevaar (verder) ignoreer nie (ibid.).

In haar ontleding van "Katvoet" voer Smith vervolgens aan dat die "hiërargie tussen die menslike en niemenslike omvergewerp" word in die kortverhaal - met ander woorde die natuur word uitgebeeld as "in 'n gesonde verhouding met die samelewing," te wees en die verhaal "bevraagteken ongelykhede" tussen die mens, die natuur en diere (2018:321-322). Deur die vrou in die verhaal se nagtelike togte die natuur in "maak sy haarself deel van 'n alternatiewe lewe wat nie as deel gesien word van die lewe wat met rasionaliteit vereenselwig word nie en daarom nie as deel van die menslike beskou word nie" (Smith 2018:322). Smith beskryf die vrou se wandelinge as 'n "verdierliking" en verskeie aksies word gelees as 'n "wegbreek van die rasionele: [die vrou] maak haarself los van die rede, rasionaliteit, die menslike en laat die instinktiewe oorneem" (ibid.).

In hierdie argument is daar vir my 'n logiese gaping wanneer dit teruggevoer word na sommige van die grondliggende vertrekpunte van die ekokritiek. Terwyl Smith tereg wys op die eeueoue problematiese binêre opposisie wat die mens opgelê het tussen sigself en die natuur, is hierdie opposisie diep gewortel in menslike diskoerse oor sy eie idees as denkende wese. Die poging om die vrou se "verdierliking" te beskou as 'n opheffing van dié dualisme, is nie oortuigend nie. Die navorser se gebruik van die nosie "instink," waarmee bedoel word 'n soort dierlike natuurdrif, ondermyn juis haar argument: Wanneer diere intelligent optree, of optree in hul eie belang of in die belang van hul spesie (met ander woorde só optree dat ons dit binne 'n bepaalde menslike betekenisraamwerk interpreteer) noem die mens dit "instink". Wanneer mense op soortgelyke wyse optree, noem ons dit egter verskeie ander dinge wat blykbaar ingewikkelder is en nie bloot 'n natuurdrif - 'n instink - is nie ("rasionele optrede"; "selfsug"; "vrygewigheid"; allerhande verskillende emosies; ens.).

Verderaan in die argument word die vrou en die huiskat ook met mekaar vergelyk (Smith 2018:322-323). Die kat word gesien as "verteenwoordigend van die dierlike asook die natuur" - ten spyte daarvan dat die kat makgemaak is, soos die navorser ook erken (Smith 2018:323). Die argument berus hier te veel op die kat as 'n dier wat liminaal bestaan (of selfs 'n liminale bestaan voer) tussen die menslike en dierlike wêrelde, sonder dat die idee van 'n huisdier en die konvensioneel absolute skeiding tussen mens en natuur enigsins geproblematiseer word. Hier was byvoorbeeld 'n geleentheid om dieper te besin oor hoe die begrip "natuur" herdefinieer kan word - 'n pleidooi van ander ekokritici wat Smith vroeër in haar artikel eggo (2018:314), maar wat sy ongelukkig nie in haar ontleding tot volvoering bring nie.

Dit is ook die seksuele aspekte van die vrou se bestaan wat vir Smith dui op die verhaal se opheffing van die onderskeid tussen mens en dier. Die vrou se nagtelike wandeling lei daartoe dat sy "'n veel vuriger minnares" word (152), wat weereens deur Smith beskou word as 'n "verdierliking" - in so 'n mate dat Smith die interaksie tussen die vrou en haar man as "'n vorm van interaksie tussen 'n dier en 'n mens" lees:

"[Sy] is die vrou wat [haar] minnaar bemin, wat met [haar] tong en vingerpunte 'n bloedspoor oor sy vel kruip, [haar] naels in sy rug slaan" (152). Verder weet die man dat hy nie sy "nagvrou" kan keer nie (155); in hierdie konteks word die nag met die natuur en die dierlike verbind en die vrou word weereens as dierlik uitgebeeld, 'n wese wat dierlike impulse en neigings het wat nie deur die mens beheer kan word nie. (Smith 2018:325; my beklemtoning)

Deurdat die klem gelê word op die sogenaamde "dierlike" aspekte wat hier deur die karakter getoon word, word die binêre opvattings oor onderskeidelik die mens en dier bevestig eerder as weerlê. Die vrou-dier word voorwaar eksoties. Die seksdaad, in sekere opsigte een van die mees universele ervarings vir mense, maar ook vir baie diere, word iets wat noodwendig anders is vir mense as vir diere. Die aanvaarding van hierdie denkwyse verraai ongelukkig juis hoe diepliggend die mens/natuur-dualisme is en sodoende word dit juis bevestig - stellig in die verhaal en in Smith se analise. Hierdeur suggereer ek nie dat verskillende perspektiewe en ervarings in dié verband nie moontlik is nie, maar eerder dat hier argumentatief gereduseer word, eerder as wat nuanses ontdek en verken word.

Dit is nie my bedoeling om teen Smith se ontleding as geheel te argumenteer nie. Eerder wil ek die aandag daarop vestig dat sekere van Smith se interpretasies van Scheepers se verhaal binne die gekose teoretiese raamwerk twyfelagtig is omdat dit enersyds 'n benadering verklap wat steeds binne besondere antroposentriese beskouings van die natuur en mens gesentreer is, en andersyds nie krities genoeg staan teenoor die verhaal wat geanaliseer word nie. 'n Kritieser benadering tot hierdie kortverhaal sou myns insiens verhelderend kon wees. Dit wil sê, die verhaal moes miskien ook benader word as op sigself deels problematies; tekenend van die diepliggende antroposentriese sosiale, kulturele en intellektuele waardes wat die mens dikwels so apaties teenoor die res van die aarde laat staan. Om die verhaal van meet af te lees as 'n "[teks] waar ekokritiek teenwoordig is" of as "['n prosawerk] met 'n ekokritiese aanslag" (Smith 2018: 320 en 321) lei daartoe dat daar gewoon aanvaar word dat die verhaal reeds 'n uitstekende voorbeeld van die soort verhaal is wat die outeur se argument ondersteun. Dit is egter nie so eenvoudig nie, omdat die mens se werklikheid en ons sinskepping almaardeur deur taal gemedieer word. Taal weerspieël nie bloot iets van die werklikheid nie, maar vorm dit ook. En daarom moet ekokritici konsekwent 'n kritiese standpunt teenoor kreatiewe tekste en ons eie beskouings inneem.

Terwyl daar met reg geargumenteer kan word dat "Katvoet" ons anders kan laat dink en anders kan laat kyk na die verhouding tussen die mens en die natuur, is ook dié verhaal vanuit 'n kritiese perspektief deel van 'n veelvlakkige skubstruktuur wat die mens/natuur-dualisme beklemtoon en weer as dominante diskoers bevestig. Die ekokritiese leser en navorser moet myns insiens daarom juis in velerlei opsigte beoordelend te werk gaan - as mekaar se en as ons eie duiwelsadvokate - al beteken dit dat ons ook soms problematiese eienskappe van 'n teks met omgewingsgerigte temas strenger moet bejeën.

 

BIBLIOGRAFIE

Coetzee, C. 2015. Huisies aan die Rand: Ekokritiek en in die besonder stedelike ekokritiek as lens vir die lees van sewe gedigte met Johannesburg as agtergrond. LitNet Akademies, 12(3):1-50.         [ Links ]

Buell, L. 1999. Letter for the Forum on Literatures of the Environment. PMLA, 114(5):1090-2.         [ Links ]

Fourie, R. 2013. Is ekokritiek die moeite werd? LitNet, 22 Februarie. https://www.litnet.co.za/is-ekokritiek-die-moeite-werd/ [4 Julie 2018].         [ Links ]

Fourie, R. 2016. Is ekopoësie te maklik bloot belangepoësie? "naggesig" (Dolf van Niekerk) en "quinera" (Susan Smith) in oënskou geneem. Stilet, 28(1):45-63.         [ Links ]

Larsen, S.E. 2007. To see things for the first time: Before and after ecocriticism. Tydskrif vir Literatuurwetenskap / Journal of Literary Studies, 23(4):341-73.         [ Links ]

Loubser, H. 2017. Die uitbeelding van omgewingskwessies in Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur: 'n ekokritiese perspektief. Ongepubliseerde PhD-tesis. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Meyer, S. 2013. Earth as Home: Nature and Refuges/Living Spaces in Some Afrikaans Narratives. In: Viljoen, H. (red.). Crossing Borders, Dissolving Boundaries. Brill: Amsterdam, pp. 113-133.         [ Links ]

Meyer, S. 2014a. "Ons ís mense. My kinders hét gesigte." Die natuurlike omgewing en die konseptualisering van die self in Karretjiemense (Carol Campbell). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(4):675-692.         [ Links ]

Meyer, S. 2014b. Ingeplaaste skryf as vergestalting van ekosentriese ingesteldheid in Petra Müller se verhaalkuns. Literator, 35(2):1-12.         [ Links ]

Meyer, S. 2015. Die allesomvattende materiële dimensie van ons bestaan: aspekte van die nuwe materialisme in Vuurklip van Marié Heese. LitNet Akademies, 12(2):69-89.         [ Links ]

Meyer, S. 2016. Natuurgesentreerde skryfwerk as ekosisteem: 'n ondersoek na Boomkastele: 'n sprokie vir 'n stadsmens (Schalk Schoombie). Deel 1, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(4-2):1200-1212.         [ Links ]

Meyer, S. 2017a. Natuurgesentreerde skryfwerk as ekosisteem: 'n ondersoek na Boomkastele: 'n sprokie vir 'n stadsmens (Schalk Schoombie). Deel 2, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(1):154-167.         [ Links ]

Meyer, S. 2017b. Mens-plant-verbintenisse in Die sideboard (2014) van Simon Bruinders. LitNet Akademies, 14(1):1-26.         [ Links ]

Meyer, S. 2018a. Groen postkolonialisme in Etosha (Piet van Rooyen). Literator, 39(1):1-9.         [ Links ]

Meyer, S. 2018b. Reaksie op die artikel "'n Ekokrities-filosofiese perspektief op die kortverhaal 'Katvoet' (Riana Scheepers)" deur Carien Smith (Tydskrif vir Geesteswetenskappe 58(2):310-329). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 58(3):622-626.         [ Links ]

Scheepers, R. 2009. Katvoet. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Smith, C. 2016. Die vrou, swangerskap en die dier in die kortverhaal "Katvoet" deur Riana Scheepers: 'n fenomenologiese ondersoek. LitNet Akademies, 13(2):227-252.         [ Links ]

Smith, C. 2018. "'n Ekokrities-filosofiese perspektief op die kortverhaal 'Katvoet' (Riana Scheepers)". Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 58(2):310-329.         [ Links ]

Smith, S. 2014. Ekokritiek en die nuwe materialisme: 'n ondersoek na die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johann Lodewyk Marais uit die bundel In die bloute (2012). LitNet Akademies, 11(2):749-774.         [ Links ]

Smith, S. 2016. "Landskapverinniging" as sentrale motief in die gedig "tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid" in die bundel Mede-wete (2014) van Antjie Krog. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(4-2):1213-122.         [ Links ]

 

 

 

REINHARDT FOURIE doseer Engelse letterkunde en literatuurwetenskap in die Departement Engels aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA). Hy voltooi tans 'n doktorale ondersoek in vergelykende letterkunde onder leiding van Andries Visagie aan die Universiteit Stellenbosch.
REINHARDT FOURIE lectures on English literature and literary theory in the Department of English Studies at the University of South Africa (UNISA). He is currently completing a doctoral study in comparative literature under the supervision of Andries Visagie at Stellenbosch University.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons