SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 número4-2Outlining a quartet configuration: Notes on minor and major literaturesProductivity in the education system: Can it be improved on a continuous basis? índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 no.4-2 Pretoria Dez. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n4-2a7 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (2)

 

Die estetiese ingesteldheid as psigoterapeutiese kwaliteit in ʼn hoofsaaklik apatiese, gedigitaliseerde omgewing*

 

The aesthetic disposition as psychotherapeutic quality in a mainly apathetic, digitalised environment

 

 

Karlien Conradie

Departement Opvoedkundige Sielkunde, Universiteit van Stellenbosch. E-pos: karlienL@sun.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die psigoterapeutiese ruimte word gekenmerk deur onder andere invoelende deelname, oftewel ʼn empatiese gevoeligheid vir die problematiek van die bestaan en betekenis van alles. Die estetiese ingesteldheid word as ʼn eis aan die terapeut gestel ten einde op eksistensiële wyse ontvanklik te wees vir la condition humaine. In hierdie artikel voer ek aan dat bogenoemde psigoterapeutiese kwaliteit, soos ook te vinde in die opvoedkundige sielkunde, moontlik in die lig van ʼn ongebreidelde digitalemediakultuur bedreig word. Ek ondersoek die aard van hierdie kwelling aan die hand van verweefde teoretiese en filosofiese benaderings, sowel as van voorbeelde uit die poësie en letterkundige prosa. Daar word aan die hand gedoen dat die opleiding van sielkundestudente in die algemeen, en studente in opvoedkundige sielkunde in die besonder, wat met digitale media grootgeword het, opnuut in oënskou geneem behoort te word.
Wanneer aanlyn digitale media die oorwegende gereedskap word waarmee betekenis ontsluit en vertolk word, sê dit moontlik iets van die wyse waarop mense hul wêreld epistemologies en ontologies benader. In hierdie opsig dien die steeds uitdyende digitale verbruiksgeoriënteerde bestaan, gekenmerk deur nut/utiliteit en onmiddellikheid, toenemend as hubris waardeur die mensdom tot ondergang gedoem skyn te wees. Hierdie ondergang het nie noodwendig te make met die uitsterwing van Homo sapiens nie, maar het eerder betrekking op
ʼn verarming van die funksie van woord- en taalgebruik en denke in die mens se strewe na betekenisskepping.
Onlangse navorsing wil te kenne gee dat die snelle hibridisering (die mens-masjien-versmelting) waaraan die mensdom blootgestel is, ten koste van sekere kennisverwerwings- en betekenisskeppingsfunksies geskied. Een van dié funksies is die soeke na samehang deur middel van diepgaande interpretasieraamwerke ten einde weg te beweeg van chaos en versplintering op sosiale en persoonlik-psigiese vlak. Hiervolgens gaan dit veral om die verarmde rol van denke en taal as noodsaaklike lewensmiddele om die fyn netwerk van skakerings van gebeure en belewenisse te artikuleer.
ʼn Oorwegend gedigitaliseerde kultuur wat nouliks staanplek aan die ryk register van persoonlike ervarings gee, kan daartoe lei dat synsbetekenis gereduseer word tot gefilterde kitsklaar belewenis- en kennisbrokke wat van noodsaaklike nuansering ontdaan is.
In hierdie artikel poog ek om aan die hand van verskeie teorieë in die filosofie en sielkunde, analitiese letterkundebesprekings, en onlangse inligtingswetenskaplike navorsingsbevindinge helderheid te verkry oor die wyse waarop die digitalemediakultuur verband hou met die behoefte aan
ʼn estetiese ingesteldheid, spesifiek as ʼn psigoterapeutiese kwaliteit. Ter verrekening hiervan verduidelik ek die wyse waarop sekere kunsvorme as rigtingwyser vir die estetiese ingesteldheid die denkhandelinge van die psigoterapeut en opvoedkundige sielkundige kan bevorder en verryk.
Ons wêreld is betrokke op die middels waardeur ons dit benader. Derhalwe is die geskiedenis gedeeltelik die geskiedenis van gereedskap. Daardie ou houtkapper se byl was die bril waardeur hy die wêreld gesien het, en deur die voel van sy steel het hy alles gevoel.
Marthinus Versfeld (2008:46)

Trefwoorde: opvoedkundige sielkunde; psigoterapeut; estetiese ingesteldheid; ontologiese begronding; selftransformasie; digitalemediakultuur; apatie; aandagtige teenwoordigheid; invoelende sensitiwiteit; kunstenaarskap


ABSTRACT

The psychotherapeutic space is characterised by, inter alia, empathetic participation, that is, sensitivity for the problematic nature of the existence and meaning of everything. The aesthetic disposition is a demand made on the therapist to be receptive to la condition humaine in an existential manner. In this article, I contend that in the face of an unbridled digital culture, the above-mentioned psychotherapeutic quality may be threatened. Furthermore, I scrutinise the nature of this concern in the light of interwoven theoretical and philosophical approaches, and of examples from poetry and literary prose. It is suggested that the training of postgraduate psychology students in general and educational psychology students in particular who have grown up with digital media ought to be reviewed.
When online digital media become the predominant tool with which meaning is unlocked and interpreted it probably says something about the way people approach their world epistemologically and ontologically. In this regard, the ever-expanding digital consumerism, characterised by utility and immediacy, increasingly serves as hubris through which humanity appears to be doomed to collapse. This collapse would not necessarily mean the disappearance of Homo sapiens, but rather refers to an impoverishment of the function of language and thought in humankind's pursuit of meaning creation.
Recent research contends that the rapid hybridisation (that is, the fusion of human being and android/machine) to which humankind is exposed occurs at the expense of certain knowledge-gaining and meaning-creating functions. One of these functions is the search for coherence by means of in-depth interpretation frameworks in order to steer away from chaos and fragmentation at the social and personal-psychological levels. Specifically, it concerns the impoverished role of language and thought as vital conditions for the articulation of the fine network of nuances of events and experiences. A predominantly digitalised culture in which the rich register of personal experiences is hardly given a place can lead to the ontology of existence being reduced to filtered, instant experiences and knowledge fragments stripped of their essential nuances.
Another factor contributing to indifference in the context of the psychotherapist's thinking actions is the inherent fragmentation of the profession of psychology. This often makes it difficult for therapists who pursue the humanistic principles of solicitude and endeavour to fathom the greatest depths of humanity, to position themselves simultaneously within various social systems. Gardner believes "an effective counsellor must radically change his or her perspective on a client throughout the day, viewing the client first through the client's own eyes; then through the eyes of a legal authority or insurance entity; and possibly even through the eyes of a particular agency or school, whose own policies may differ widely from the counsellor, client, or payer" (Gardner 2016:88). According to Gardner, the orientation of metamodernism, characterised by continuous movement and reform, can serve as a conciliatory paradigm to deal with fragmentation and conflicting contexts peculiar to psychotherapeutic practice. She illustrates this fragmentation with reference, in particular, to the one-dimensional reliance on "neo-medical strategies" (Gardner 2016:89), namely rigid treatment plans, diagnostic criteria and DSM1 codes and categories, as opposed to a humanistic approach characterised by human autonomy and integrity. It is suggested that metamodernism as an attitude becomes a way for the educational psychologist of positioning herself in ambivalent environments by means of a to-and-fro movement between conflicting contexts and metaphysical issues related to psychology, such as good/evil, male/female, conscious/unconscious, psychological distress/prosperity, rather than a total rejection of boundaries as in postmodernism.
In this article, with reference to several theories in philosophy and psychology, analytical literary discussions and recent information science research findings, I endeavour to gain clarity about how the culture of digital media relates to the need for an aesthetic disposition, specifically as a psychotherapeutic quality. In considering this, I explain how art as a direction indicator of the aesthetic disposition can be applied to advance and enrich the thinking of the psychotherapist and educational psychologist.

Key words: educational psychology; psychotherapist; aesthetic disposition; ontological grounding; self-transformation; digital-media culture; apathy; attentive presence; empathic sensitiveness; artistry


 

 

1. INDIVIDUASIE AS A PRIORI-BEGINSEL

In 1955 het Martin Heidegger ʼn toespraak ter herdenking aan die gevierde Duitse komponis en dirigent Conradin Kreutzer gelewer. Daarin bepleit Heidegger die aanwending van deurgekomponeerde denke (teenoor oppervlakkige, versnipperde idees) as ʼn voorwaarde vir menslike kreatiwiteit en sublieme skeppingsvermoë (Heidegger 1966). Heidegger se versugting na ʼn benadering gekenmerk deur die ineengestrengelde samehang van moontlikhede, eerder as ʼn oorwegend instrumentalistiese benadering, moet beskou word binne die tydsgewrig van die toe reeds aanvoelbare wending van moderniteit na postmoderniteit.

Die begeerte om botsende bestaanswerklikhede versoenend saam te snoer in die strewe na individuasie (selfontplooiing, selfwording) is ʼn primêre beginsel in die konteks van die Jungiaanse analitiese sielkunde. Ten grondslag hieraan lê ʼn inherente ordeningsbeginsel wat deur middel van voortdurende transformasie as die kosmiese self2 na vore kom - dus ʼn preserverende proses waarin die self, as bron van kreatiwiteit, voortdurend pogings aanwend om deur middel van psigiese ontplooiing (individuasie) die delikate balans tussen teenoorgestelde persoonlikheidsfunksies te handhaaf. Die sisteem van die animus- (manlike) en die anima- (vroulike) argetipe3 dien as voorbeeld hiervan. Hiervolgens hou die manlike beginsel (logos) verband met selfgeldende, daadkragtige en rasionele optrede, en die vroulike beginsel (eros) met versorging, gevoelvolheid en nuwe lewe (Jung 1953-1978). Die manlike en die vroulike argetipiese sisteem hou geensins verband met rolbeskrywing, geslagstipering en gender nie, maar verwys eerder na die kontraseksuele aspekte aanwesig in sowel mans as vroue. Carl Gustav Jung (1875-1961) stel dit (in vertaling) so: "The ego keeps its integrity only if it does not identify with one of the opposites, and if it understands how to hold the balance between them. This is possible only if it remains conscious of both at once" (1960:par. 425). Individuasie is dus noodsaaklik om van die vrugtelose juk van individualisme of kollektivisme, vrees en skuld bevry te word, wat meestal die gevolg is van ooridentifisering met of ontkenning en onderdrukking van ʼn sekere persoonlikheidsfaset of -begeerte. Daar word beweer dat die individu juis van sy gedeelde menslikheid (gemeenskaplikheid) bewus word by wyse van erkenning van die eie identiteit en waarde eerder as deur die klakkelose omhelsing van dogmatiese en kulturele wetmatighede, waarby onkritiese waardes, oortuigings en gebruike ingesluit is.

Die lewenslange proses van psigiese individuasie, wat deur die toenemende bewuswording van die gelyktydigheid van teenoorgesteldes (ambivalensie), verrassende moontlikhede en verskillende invloede gekenmerk word, word as ʼn eis hiervoor gestel. In navolging van die Jungiaanse denkskool is dit noodsaaklik, want uit die altyd onopgehefde spanning tussen kontraseksuele funksies ontspring vitaliteit en geesteskreatiwiteit.

Die ontologie van wording,4 soos beskryf deur Deleuze en Guattari (2004), sluit aan by die eindelose proses van omvormende beweging en oorgange wat deur die spanning tussen heterogeen begrensde ruimtes meegebring word. Bülent Diken (2011:96) beskryf die aard van die ontologiese in- en uittog só:

Everything is a mobile and hybrid (mutable) network, or 'assemblage', a process of interaction and connection between heterogeneous elements. What is significant, however, is that assemblages face two tendencies at once: organisation and disorganisation.

By implikasie is dit dus ʼn grensverskuiwende proses met die inherente potensiaal om deur middel van dikwels meedoënlose herorganisering tot alternatiewe, verruimende bestaansdenke te lei. Vir die nadenkende terapeut wat gevoelig vir kosmiese rimpelings is, dien die deurdagte verwerking en besinnende nagaan van inligting, gebeure en gewaarwordinge deur middel van geartikuleerde denke dus as noodsaaklike bestaansbegronding - ʼn a priori-behoefte van die menslike psige. Deleuze en Guattari (2004) se wordingsbeginsel met betrekking tot die psige sluit aan by wat Mayes (2005) ontologiese reflektiwiteit (bepeinsing) noem. Vir die psigoterapeut impliseer ontologiese besinning volgehoue ondersoek, verfyning en artikulasie van kwessies met betrekking tot eie wesenheid, maar ook die beoefening van psigoterapie.

Wat hier ter sake is, is die innerlike potensiaal van die menslike psige om weg te skram van versplintering en ondermynende chaos weens die spanning tussen gelyktydig aanwesige teenstrydighede soos lewe en dood, manlikheid en vroulikheid, die bekende en onbekende, individu en (digitale) kultuur, en so meer. Die voortdurende strewe na nuwe risomatiese samestelle ("assemblages"), oftewel die integrasie van aaneenlopende moontlikhede en onverwagse invloede, gaan om psigiese selfontplooiing, oftewel individuasie. In Jungiaanse terme verwys dit na die universele, dog unieke begeerte van die mens om wesenlike aspekte van die self tot ʼn veelkantige heelheid saam te snoer. Dit gaan dus om gelykluidende eggo's: Jung se psigiese integrasie van aaneenlopende ruimtes (innerlik/uiterlik, bewus/onbewus), waarvan die mandala (reëlmatige, meestal sirkelvormige figuur) as argetipiese simbool van die geïntegreerde self dien, en Deleuze en Guattari se voortdurend veranderende "assemblage"/"samestel"-in-wording, waarvan die risoom as simbool dien. Weereens te bespeur is ʼn inherente ordeningsbeginsel, oftewel die mens se oeroue hunkering na die vestiging van eie waarde deur diepsinnige en interafhanklike verklaringsraamwerke - die proses van selftransformasie. Wat gebeur egter as hierdie a priori-behoefte van die menslike psige onder druk geplaas word weens ʼn antroposentriese samelewingsbestel wat hoofsaaklik gekenmerk word deur instrumentalisme, mag en ʼn gepaardgaande gebrek aan invoelende sensitiwiteit? Ontkenning van die aaneenlopende vervloeiing van alles kom sterk na vore wanneer gemeenskappe en samelewings koorsagtig en met stelligheid keerwalle oprig in die vorm van afgebakende, afgehandelde sake. Daar is geen tyd om stil te vertoef in dikwels onsegbare, hoogs verwikkelde lewensoomblikke en -gebeure nie. S word die individu meer en meer van homself vervreemd en ervaar hy ʼn verlies aan eie, inherente skeppingskrag, wat tot dusver sy vryheid as mens moes verseker.

Bestendiging van hierdie begrondingsbegeerte - om op intellektuele wyse te weet en te verstaan - word dikwels deur middel van skeppende denke in taal en beeld omvorm. Sodra die psigoterapeut en die kliënt daarin slaag om gebeure en gewaarwordinge akkuraat te omskryf, word indrukke ingedam en deur middel van woorde omlyn. Gevolglik, soos Marthinus Versfeld (2008) verduidelik, bestaan sake van die innerlike wêreld vir die eerste keer en sit dit nie meer op ʼn geklampte wyse binne-in die persoon vas nie. Hierdie bestendiging dra tot verdiepte begrip en insig by. Die belangrikheid van artikulasie, samevoeging en samehang word só deur Versfeld (2008:42-43) beklemtoon:

want alle ware skepping is die skepping van betekenis. As ons wêreld samehangend is, is dit omdat dit wesentlik ʼn gedig is, die gesang van die heelal, soos Augustinus dit noem. Die wêreld is ʼn psalm wat uit die niks opstyg en die digter is die man wat in die donker waters van die chaos duik om skoon en blink dinge daar te gaan uithaal. Hy stel ook perke aan dinge, want hy weet dat dinge werklik dinge is namate hulle omskryf; en beperk en akkuraat is. Poësie wat nie akkuraat is nie, is nie poësie nie. As die digter dinge nie skoon skaaf nie, dan pas hulle nie.

Ek voer aan dat, in ʼn omgewing waar tydsame bestendiging deur middel van ʼn sensitief invoelende ingesteldheid nie ʼn waarde geag word nie, dit moontlik tot die verarmde denk- en taalvermoë van psigoterapeute kan lei en dat hulle derhalwe in gebreke sal bly om die kompleksiteit van la condition humaine op ʼn persoonlik geïmpliseerde en genuanseerde wyse te vertolk en verbeeld.

 

2. APATIE: ONWILLIGHEID OM INTELLEKTUEEL BEMOEI TE WORD

Kennisverwerwing en betekenisskepping is ʼn lewenslange en tydsame proses wat invoelende betrokkenheid en aandagtigheid vereis. Weens die vormbaarheid van menslike kognisie is dit besonder ontvanklik vir veranderinge en invloede sodat gepaste aanpassings gemaak kan word om voortbestaan in veranderende omstandighede te verseker. Hierdie plooibaarheid dien as ʼn evolusionêre funksie en stel die mens keer op keer in staat om die eise wat ʼn steeds veranderende omgewing stel, suksesvol te kan hanteer. Een van die mees ingrypende omgewings waarin die mens hom die afgelope paar dekades bevind, is dié van die internet. Die hibriditeit, oftewel die versmelting van mens en masjien, wat hierdie omgewing teweegbring, is waarskynlik nêrens méér sigbaar as in die wyse waarop die betekenis van die wêreld hoofsaaklik deur middel van digitale toestelle benader word nie. Verskeie digters, navorsers, letterkundiges en akademici wys al ʼn geruime tyd daarop dat dit veelbetekenende gevolge vir die mens se ingebore psigiese behoefte aan die vooruitbeurende ondersoek van bestaanskwessies inhou. Let op hoe Wilma Stockenström in By L'Agulhas ʼn wandeling (2007:65-66) dig oor die begeerte om op speurende en diepsinnige wyse aan die historisiteit van die heelal verbind te wees:

Teen son en skuim loop ek my vas, ʼn ruwe

ontmoeting my loop met wind en see. Stryk

ek aan oor skulpiesand, ek hoor dit guds,

sluk en klein borrel. Die glinstervloed

is swaar van plankton, dig van mineraal

en vertellings en vermoedens van wrakke

aan rotse onnaspeurbaar vasgehaak.

Langs my die swartvlerkmeeu, sy drag

dié van vaarder, visser, kenner, sy oog

op my op hierdie sifsagte grens tussen

sand en plant waar ek gespleettoon, hy geweb

gaan, en ek strandrosies bestryk, en hy

hups die moedswil van ʼn golf ontwyk,

steeds die oog op my, my kameraad.

Hy styg op aand toe. Hy laat my agter

met geen verweer teen sy afsydigheid

so skielik betoon. Ek wou nog uitvra,

het gemeen ons was maats darem een

vakansie lank. Ek wou nog hoor en opteken

ʼn geskiedenis wat verbyvaar. Wou peuter,

blootlê, ʼn laagwater van monsters.

Ek voel die veeg van die lig van die toring

wat lekkende skulpe en die krap wat salueer,

wat in- en uitspoeling en oervereniging,

wat my en die huise en die versamelde waters

in een kort stelling betrek: dit hier,

kaap van naalde, is die aanvang van ʼn afrika

wat nog so vriendelik niks prysgee.

Bykans al die gedigte in Stockenström se bundel Die stomme aarde (2007) roep Bernard Stiegler (in Ieven 2012) se standpunt van die hipergeïndustrialiseerde samelewing in gedagte. Met hierdie konsep verwys hy na die toenemende bemarkbaarheid en kommodifisering van alles, insluitende tyd en ruimte. Lynreg teenoor dié verbruikersmentaliteit staan die estetiese ervaring wat so goed vergestalt word in By L'Agulhas ʼn wandeling: die vergeesteliking, die indrinking, oftewel aisthēsis,5 van alles. Vir diegene gemoeid met die delikate ontwikkeling van die jong kind, word dit miskien nêrens beter geïllustreer nie as in ʼn kind se natuurlike vermoë om op intuïtiewe wyse te verstaan dat hy tegelyk in die omgewing is en die omgewing ook in hom (unus mundus). Dit is hierdie geïmpliseerde verweefdheid as ingesteldheid wat mens binne ʼn estetiese konteks sou kon vertaal as invoelende sensitiwiteit.

Dit is veral merkbaar in die wyse waarop die jong kind gemaklike oorgange tussen verskillende werklikhede bewerkstellig, asook hoe sy haarself intens kan inleef in haar spel. Quiga en Clegg (2015:464) verwoord die estetiese ervaring soos volg:

the aesthetic mode of perception entails a full physical engagement of the senses, with aesthetic as respiration connoting a profound receptivity to the spirit of what is being perceived. It is a perception by way of reception that leaves us physically affected and emotionally moved.

Die kleuter en jong kind is meestal van nature aandagtig, diep ontvanklik en een met sy omgewing. Sy gewaarwordinge is suiwer omdat daar nog geen materiële mededinging of vertroebeling, met inbegrip van kultuur- en godsdiensideologiese inmenging, is nie - dus nog vóór kulturele onderdanigheid en dogmatiese indoktrinasie.

Die afleiding is weereens, soos in die Jungiaanse konteks, dat die mens oor die inherente potensiaal beskik om esteties (sensitief invoelend) georiënteerd te wees. In aansluiting by Versfeld (1982:61): Die jong kind leef nie vir homself nie, maar eerder uit homself, vanweë die besef dat die natuur (omgewing) in hom is en hy terselfdertyd in die natuur is.

In ʼn hipergeïndustrialiseerde samelewing kan die individu egter bykans nie meer ontkom aan die gedurig aanwesige digitale stroom wat op utiliteit, verbruik, onmiddellike beskikbaarheid en uitdrukking (ekspressie), oftewel digitale uitsaaiing gemik is nie. Vir Stiegler word die individu se verlange na sy eie individuasie in sulke omstandighede omvorm tot hoofsaaklik drifte van onmiddellike verbruik (in Ieven 2012:91). Algaande word ʼn werklikheid verkry waarin die rol van begrensing, tydsame omlyning, noukeurige onderskeiding en afbakening meer en meer geringskat word. Ieven (2012:92) stel dit so:

Whereas individuals are motivated by desire and anticipate a future they themselves are creatively involved with, consumers are motivated by drives, they are almost mechanically compelled to consume. Such a consumer can thus only emerge once the aesthetic ground of individuation has been appropriated, controlled, calculated and thus ultimately destroyed.

Onlangse metastudies gemoeid met die verband tussen die gedurige en snelle oorskakeling tussen verskillende toestelle en aktiwiteite van digitale sowel as niedigitale aard en die kognitiewe funksie van aandagtoespitsing (Kirschner & De Bruyckere 2017; Le Roux & Parry 2017; Loh & Kanai 2016) skets ʼn fyn spinnerak van verbandhoudende, dikwels deprimerende, bevindinge. Enkele hiervan is 1) die behoefte om aanhoudend en binne die kortste moontlike tyd op ʼn ekspressief visuele wyse gestimuleer te word; 2) die verarmde vermoë om vir langer tydperke op ʼn aandagtige en gefokusde wyse te konsentreer; en 3) ʼn ongevoeligheid vir nuansering en verdiepte belewenisse. Die spinnekop? ʼn Beeld-oorweldigde en oorversadigde visuele kultuur, onvermurfbaar in sy ondermynende gulsigheid na hapklaar inligtingsbrokke waarvan kitskyk, kitsvermaak en kitsverstaan die hoofdoel is.

Kritiese en analitiese oordenking gekenmerk deur tydsame ontvouing is egter noodsaaklike vaardighede wat die opvoedkundige sielkundige en psigoterapeut in staat stel om op ondersoekend-besinnende wyse verbeeldingryke afleidings en verhelderende gevolgtrekkings te maak, asook om patrone en verbande te identifiseer. Die onstuitbare vervloeiing tussen mens en internet blyk egter tot die verskraling van mense se vermoë tot dieptepeilings aanleiding te gee. Hierdie eietydse kwessie word deur Ingrid Winterbach in Vlakwater (2015) verbeeld wanneer die verteller, Niek Steyn, se intellektuele weetgierigheid en hunkering na verbeeldingrykheid gekniehalter word deur die karakter Karlien Meyer se vergestalting van ʼn onnadenkende, verbruiksgeoriënteerde kultuur, behep met die konstante deel en plaas van ekspressiewe, kitsklaar digitale inligtingsbrokke. Die digitalemediakultuur word nouliks gekenmerk deur tydsame ontvouing, nuansering en ingetoënheid. Inteendeel, inhoudelike gehalte weeg kwalik op teen die onmiddellike nutswaarde van kitskyk en -lees. In hierdie konteks verwys apatie na die ongevoeligheid, die nie-ontvanklik wees vir die "struggle and agony of existence", soos Edinger dit stel (in Elder & Cordic 2009:77). Hieraan grens meermale die onwilligheid om bemoei te word met kwessies wat dieptepeilings behoef. Dit lei algaande tot ʼn algemene afgestomptheid wat die mens verhoed om ontvanklik te wees vir konfrontasie met die eie en met die bestaanswerklikhede van ʼn ander. Lynreg hierteenoor staan die estetiese ingesteldheid van invoelende sensitiwiteit, met ander woorde die verskerpte bewustheid van die onbevange vloei van ʼn enkele antropomorfiese heel(waar)heid.

In die Franse verhaal Die vallei van die windmeulens (Blanco & Docampo 2015:6) word ʼn weerspieëling gevind van die skending van invoelende betrokkenheid en dus persoonlik geïmpliseerde omgewings:

Die mans, vroue en kinders het van die ou windmeulens vergeet en ook van die wind wat hulle laat draai het. Een oggend het die wind selfs opgehou om te waai. Die inwoners van die vallei het dit nie eers agtergekom nie - hulle het slegs in die Volmaakte Masjiene belanggestel. Van daardie dag af het die windmeulens aan die slaap geraak, hulle arms het roerloos in die lug bly hang.

Insgelyks is die letterkundiges Andries Visagie (2016) en Thys Human (2016) van mening dat Vlakwater ʼn versinnebeelding van apatie, eiebelang en onbetrokkenheid is. Hierteenoor staan onteenseglik die bemoeienis met bestaanskwessies en invoelende sensitiwiteit. Subtiel wys Vlakwater op ʼn verlies aan estetiese ingesteldheid en die vermoë om ontroer te word deur verlooptheid, vervallenheid of die "Nothing out of which All may grow" (Jung 1964:par. 149). Teenoor die veiligheid van vlak water staan die dieper waters van estetiese ontvanklikheid wat dit moontlik maak om op ʼn eksistensiële wyse ontroer te word.

Dit sluit aan by die Jungiaanse ordeningsbeginsel om by wyse van selftransformasie algaande van die chaos van bestaan los te kom. Versfeld (2008:43) beskryf hierdie psigiese ontvanklikheid en kreatiwiteit soos volg:

Jy moet oor die chaos broei totdat daar ʼn sekere chaos in jouself ontstaan. Jy moet jouself ter wille van die klip vernietig en deur jou hande moet daar vorm beide aan jouself en aan die klip gegee word. Deur jou hande bepaal jy jou eie bestaan. Dink staan met hantering in die nouste verband.

Die verband tussen die menslike psige en die kunste word duideliker, veral indien intellektueel stimulerende kuns as ʼn dieptestruktuur (Visagie 2016) benut kan word. Sowel die skep as die belewing van kuns veronderstel ʼn meesleurende, grensoorskrydende proses waarin konfrontasie met dikwels onbewuste gedagte-inhoude rakende die menslike bestaan moontlik is. In ʼn toestand van voortdurende stimulasie en opeengestapelde handeling, meestal in die vorm van flitsende visuele beelde, inligtingsflertse en pretensieuse uitsaaitipekommunikasie, word dit egter moeilik om subtiele wisselinge te onderskei en meerduidighede waar te neem, te konsentreer, terug te staan en in te kyk op eie reaksies. Dit is asof die eise wat deur die uiterlike wêreld gestel word, dit al hoe moeiliker maak om ʼn stil, innerlike wêreld te kultiveer.

Kuns as ervaring, en nie slegs as waardering en beoefening nie, kan egter aan die hand van sensories-estetiese eienskappe, naamlik kontemplatiewe stilte, verskerpte sensoriese aandagtigheid, geduld en verbeelding, bydra tot verdiepende insig. Dit vind neerslag in die spontane wyse waarop ʼn kunstenaar die objek van bestudering binnegaan en die essensie daarvan deurgrond, oftewel Einfühlung. Dié Duitse konsep verwys na "the projection of human feeling into art objects" (Jeffers 2009:3); "I transpose myself," sê Jeffers, "into the inner being of an object and explore its formal character from within, as it were" (2009:3). Die diepgaande bemoeienis met en oorgawe aan gebeure wat deur en om ons vloei, is ook ʼn vergeesteliking, dus ʼn psigiese verinnerliking, daarvan. Tog is die kunstenaarskap van die psigoterapeut en opvoedkundige sielkundige in gedrang wanneer ʼn samelewing merendeels deur uitkomste, spoed en produkte, oftewel "die vulgariteit van die massamens" (Versfeld 1982:90) beheer word.

Die gevoelighede van die psige bly dikwels onverreken weens die eendimensionele en oppervlakkige toeverlaat op "neomediese strategieë" (Gardner 2016:89). Hieronder tel reduserende bevindinge en aanbevelings, statiese en geïsoleerde diagnostiese kriteria, DSM-kodes6 en kategorieë. Die letterkunde, teater en poësie slaag gewoonlik beter daarin om die verwikkeldheid en gelyktydigheid van ambivalente moontlikhede en onverwagse invloede eie aan die mensheid te openbaar as die beoefenaars van ʼn neomediese sielkunde. Wanneer die kapasiteit om ontroer te word afwesig is by die psigoterapeut, is ʼn diepgaande peiling van die menslike psige nie moontlik nie, maar alleenlik ʼn eng oppervlakkige en miopiese waarneming van die kliënt. Ek probeer die clichématige aard van ʼn neomediese benadering soos volg verbeeld:

Persoonsbeeld

Gedurende jou besoek het dit geblyk

uit verkreë resultate

soos behaal op

sistematies geadministreerde subtoetse

en vraelyste dat

beduidende skaalafwykings voorkom

en aanleiding gee

tot ʼn ongedifferensieerde profiel

ten opsigte van algemene funksionering.

of is dit bloot versamelde

verstikkende

eensaamheid?

Volgens Jungiaanse oortuigings veronderstel die innerlike en die eksterne wêreld ʼn geheel wat voortdurend streef na heelheid. In ʼn bemoeienislose samelewing word die innerlike toenemend oorspoel deur ʼn ongebreidelde uiterlike, wat die vertroebeling van psigies noodsaaklike grense en ritmes, oorgange en omlyning meebring. ʼn Mens sou kon praat van die dominasie van die innerlike (menslike gees) deur die uiterlike (materiële) wêreld. Dus behoort die opvoedkundigesielkunde-student se kapasiteit om dit wat buite is (dit waaraan hy op materiële wyse onderdanig is), te verinnerlik en, nou meer as ooit, aangemoedig en gestimuleer te word deur middel van ʼn wordingsgeoriënteerde kurrikulum.

So ʼn kurrikulum moet die beduidendheid van die nomadiese heen-en-weer-beweging tussen gelyktydige teenstrydighede as deel van ʼn kosmiese heelheid deurgaans beklemtoon. ʼn "Tussenin"-ekstase, oftewel platoniese metaxis, wat dui op die gelyktydige ervaring van alles én niks (Vermeulen & Van den Akker 2010), is ter sprake. Verskans hierin is die drie wordingsbeginsels wat vir die denkende psigoterapeut en opvoedkundige sielkundige noodsaaklik behoort te wees. Dit sluit in verwikkelde relasionaliteit (ineengestrengelde moontlikhede, onverwagse invloede, verhoudings), gelyktydigheid (vervloeiing van alles) en invoelende sensitiwiteit. Laasgenoemde wordingsbeginsel is veral onder skoot in ʼn verworwe digitale deel-en-plaas-uitsaaikultuur gekenmerk deur die beheptheid met ekspressiewe, goedkoop oplossings, kitsklaar inligtingsbrokke en onmiddellike nutswaarde.

ʼn Verdere bydraende faktor tot apatie, oftewel onaangeraaktheid in die konteks van die beoefening van opvoedkundige sielkunde en psigoterapie, is die inherente gefragmenteerdheid van die praktyk van die sielkunde. Gardner (2016:88) meen dat die doeltreffendheid van ʼn sielkundige dikwels afhang van hoe vinnig en naatloos hy sy kliënt in verskillende relasionele, dikwels teenstrydige, sistemiese trajekte kan posisioneer, "viewing the client first through the client's own eyes; then through the eyes of a legal authority or insurance entity; and possibly even through the eyes of a particular agency or school, whose own policies may differ widely from the counsellor, client, or payer". Gardner meen dat die metamodernisme as versoenende denkraamwerk kan dien om fragmentasie en botsende kontekste eie aan die beoefening van die sielkunde te hanteer, bedoelende dat die metamodernistiese ingesteldheid ʼn manier is waarop die sielkundige haarself in ambivalente omgewings kan posisioneer deur middel van ʼn heen-en-weer-beweging tussen teenstrydige kontekste en metafisiese vraagstukke eie aan die sielkunde (insluitende goedheid/boosheid, psige/liggaam, manlik/vroulik, bewuste/onbewuste, psigiese nood/welstand) eerder as ʼn totale opheffing van grense soos in die postmodernisme.

In hierdie hoedanigheid herinner Visagie (2016:9) ons, na aanleiding van Vermeulen en Van den Akker (2010, 2015), aan die denker Jean-Francois Lyotard se beskouing van postmodernisme: "…ʼn skip wat vrolik tussen eilande rondreis sonder om ooit aan land te gaan". Die psigoterapeut kan gerieflikheidshalwe verval in haar beskouing van die mens en mensheid as te kompleks, te verstrengel, en dus op so ʼn wyse nouliks verantwoordelikheid neem vir die dieptepeilings van kliënte se bewussynsgevoelighede en psigiese behoeftes. In ʼn merendeels postmodernistiese bestel bestaan die gevaar dat psigoterapie die uitkomste van tydelike gerief en hedonistiese geluk ten koste van onthutsende innerlike konflik en pynlike individuasie vooropstel. Hierteenoor beklemtoon Deleuze en Guattari se ontologie van wording, sowel as die metamodernisme, voortdurende beweging en verplasing: "Metamodernism moves for the sake of moving, attempts in spite of its inevitable failure; it seeks forever for a truth that it never expects to find" (Vermeulen & Van den Akker 2010:5). Visagie (2016:9) stel dit treffend in sy beskrywing van Ingrid Winterbach se roman Vlakwater:

Met Vlakwater sluit Ingrid Winterbach aan by die metamodernisme wat die noodsaak vir ʼn uitkoms uit die doolhof van die postmodernisme aanvoel en daarna streef om met ʼn hernude naïwiteit en optimisme vorentoe te beweeg, maar getemper word deur die afwesigheid van ʼn duidelike horison en geskikte diskoerse om ʼn nuwe opregtheid sonder meer te omarm.

Tekenend van hierdie denkwyse is dus ʼn hernude ywer en persoonlik geïmpliseerde deelname, wat staan teenoor die apatie en onbetrokkenheid wat so kenmerkend van postmodernisme is. Evans (2016:48) beskryf hierdie versoenende ruimte in die konteks van psigoterapie as "a métissage existence that integrates knowing, doing and making, an existence that desires an aesthetic experience found in an elegance of flow between intellect, feeling and practice." Persoonlik geïmpliseerde deelname en bemoeienis veronderstel invoelende sensitiwiteit van die kant van die opvoedkundige sielkundige en psigoterapeut.

 

3. DIE ESTETIESE INGESTELDHEID: INVOELENDE SENSITIWITEIT

Evans (2016) verduidelik invoelende betrokkenheid as aandagtige teenwoordigheid gekenmerk deur sintuiglike en intellektuele waarneming, verwondering en onthutsing. Aandagtige teenwoordigheid staan ook in noue verband met die psigoterapeut se eie metafisiese en historiese bewussyn. Hierdie proses van betrokkenheid vorm die grondslag van die opvoedkundige sielkundige se vermoë tot empatie. Woorde, beelde en die gebruik van taal word uiteindelik die lewensmiddele, op sigself bestendigend van aard, wat die artikulasie van skakerings van gebeurtenisse en belewenisse moontlik maak, met ander woorde noodsaaklike singewing. Die artikulasie van betekenis dien as ʼn uitdrukking van die menslike hunkering na die vestiging van verdigte begripsnetwerke in die volgehoue strewe na verdiepte insig, dit wil sê selftransformasie. By implikasie dui sodanige handeling op ʼn etiek van sorgsaamheid, wat empatie en ʼn estetiese ingesteldheid vereis in die konteks van ʼn veel groter kosmiese syn.

Tot dusver word die estetiese grondslag gekenmerk deur aspekte van synsbetekenis en die ontologie van wording. Op grond hiervan word die afleiding gemaak dat betekenisskepping afhang van die vaardighede wat deur waagmoedige bepeinsing, ontroering en verbeelding vereis word. Dit verg egter volgehoue oefening, soos Heidegger dit reeds in 1959 stel: "Releasement toward things and openness to the mystery never happen of themselves. They do not befall us accidentally. Both flourish only through persistent, courageous thinking" (1966:56). Ook Dewey (1934), in Art as Experience, beklemtoon die wisselwerking tussen die kognitiewe (rasionele besluitneming, aksies) en die affektiewe (outentieke deurlewing) aspekte van belewenis en leer. Verdiepte insig is dus net soveel van deurdagte begronding deur middel van analitiese en kritiese denke afhanklik as van Gelassenheit (eksistensiële ontroering of "laat-wees") deur estetiese ontvanklikheid.

Die estetiese oomblik het dus te make met die skoonheid van gewaarwording, en nie met die waardes van mooiheid of vermaak nie. Deur die beoefening of waardering van kuns kan die grens tussen die kognitiewe en die affektiewe dimensies van begrip oorstyg word. Dewey se pleidooi dat kuns (visuele kuns, teater en letterkunde) as ʼn groter interpretasieraamwerk vir die meeste ander vakdissiplines kan dien, word geëggo deur die werk van hedendaagse skrywers soos Caracciolo en Weida (2017), Eisner (2001) en Uhrmacher (2009). In navolging van hierdie denkers word vaardighede soos aandagtige teenwoordigheid en invoelende sensitiwiteit as kernbelangrik beskou vir die beoefening en waardering van enige kunsvorm. Hierin lê dus die vermoë opgesluit om op ʼn bewustelike, voortdurend wordende wyse betrokke te wees by die omgewing, wat deur paradoks, ironie en veelvuldige moontlikhede gekenmerk word. Vir die opvoedkundige filosoof Maxine Greene (volgens Gaines 2016) hang wording meestal af van ten minste drie kerneienskappe: kreatiewe denke (vergelykbaar met Heidegger se waagmoedige en kritiese bepeinsing), estetiese bewustheid en persoonlik geïmpliseerde deelname (wat staan teenoor onbewustheid, afsonderlike bestaan en apatie). Vir my as dosent word die uiteindelike opleiding van verbeeldingryke en sensitief invoelende opvoedkundige sielkundiges juis bevorder deur die doelbewuste insluiting van bogenoemde eienskappe by die teoretiese kurrikulum en by die daaropvolgende psigoterapeutiese praktikum.

 

4. KUNS AS RIGTINGWYSER VIR DIE PSIGOTERAPEUT

Die beoefening, waardering en ervaring van kuns kan as belangrike rigtingwysers vir die psigoterapeut dien. In byvoorbeeld Vlakwater tree Marthinus Scheepers moontlik as sjamaan vir Niek Steyn op. Sy boerdery met varke en sy boekery vol historiese en mitiese figure as simbole, droombeelde en argetipes help Niek (en die leser) om met dieper lae van die kollektiewe onbewuste gekonfronteer te word. Charelle Koopman as kunstenaar en die Olivier-broers as navorsers verbeeld die bestendiging en vaslegging van betekenis by wyse van volgehoue kritiese analise, bepeinsing, uitpluising en optekening van gewaarwordinge. Onteenseglik behoort die denkende opvoedkundige sielkundige en psigoterapeut óók hierdie vaardighede deurlopend te beoefen. Ek wil beweer dat die deurtastende bevordering van ʼn estetiese ingesteldheid by die opvoedkundige sielkundige en psigoterapeut deur middel van kunsvorme soos die poësie en letterkundige prosa kan bydra om apatie en kortsigtigheid teë te werk te midde van ʼn verdorwe digitale kultuur. Dit is in belang van die hedendaagse opvoedkundigesielkunde-student wat van kleins af in ʼn digitale kultuur leef, om in opleiding naas die konstruktiewe rol ook die verdorwenheid van digitalisering te bepeins. Die verdorwe digitale kultuur, soos hier bo bespreek, word gekenmerk deur onder andere ʼn toestand van voortdurende stimulasie en opeengestapelde handelinge, meestal in die vorm van flitsende visuele stimuli, inligtingsflertse en pretensieuse, dikwels onnadenkende uitsaaitipekommunikasie. Dit ontbreek meestal aan die kreatiewe en inkanterende stilte wat noodsaaklik is vir individuasie.

Die aspekte van sensitief invoelende tussenin-ruimtes en die ongewone (ironie, paradoks, ambivalensie) wat in die oënskynlik gewone opgesluit is, word sagkens in Gustavo Martín Garzo en Beatriz Martín Vidal se Die geheim van die woud (Garzo & Vidal 2018) versinnebeeld. Die leser word op atmosfeerryke wyse bekendgestel aan die bedreiging van ʼn enkele antropomorfiese en kosmiese heelheid (natuur/omgewing, waarheid) en aan die noodsaaklike proses van individuasie deur ʼn toenemend verdorwe en verbeeldinglose samelewing. Studente wat in ʼn esteties georiënteerde kurrikulum as opvoedkundige sielkundiges en psigoterapeute opgelei word, behoort aktief deel te neem aan die opsporing, bestudering en benutting van soortgelyke boeke, visuele materiaal, kunsuitstallings en teateropvoerings, wat as ʼn oorgang van die uiterlike (eksterne omgewing) na die innerlike (psigiese landskap) kan dien. Gepaste materiaal behoort as deel van ʼn lees- en leerritueel benut te word ten einde studente bewus te maak van natuurlike ritmes, gesonde grense en die geborgenheid wat deur konsekwentheid en voorspelbaarheid ontlok word. Op so ʼn wyse sal die opvoedkundigesielkunde-student beter toegerus word om verwikkelde, selfs teenstrydige, moontlikhede noukeurig waar te neem, en om genuanseerde verbande tussen oënskynlike teenstrydighede te lê. Dit bring my weer by die liggaamlik-sensuele7 aspek van leer en ontwikkeling. Dat ons denke, probleemoplossingsvaardighede, kreatiwiteit, verbeelding, inisiatief en emosionele en sosiale insig ontplooi vanuit die fisieke, wat die motoriese, die sensories-perseptuele en aanraking insluit, is lankal deur navorsing bevestig (Johnson 1987; Krantz 1994). Tot dusver het ek probeer aandui dat die oorwegende steun op ʼn neomediese benadering, sowel as die toenemende digitalisering van alles, bogenoemde fundamentele aspek van menswees kan oordonder. In die opvoedkundige sielkunde is dit dikwels merkbaar in die wyse waarop studente en terapeute hul afleidings en aanbevelings in verslae formuleer. Dit is uiteraard gebaseer op hul verskillende interaksies met die kliënt. In die nastrewing van sensitiewe invoelendheid behoort die student en terapeut se primêre fokus nie te wees die identifisering van leemtes, sterkpunte, agterstande, veerkragtigheid of diagnostiese simptome nie. Dit kom miskien later. Ek is van mening dat indien bogenoemde uitkoms die eerste, en selfs enigste, doelwit is, studente en terapeute toegee aan ʼn oeroue drang van die mens, naamlik om te domineer, te oorheers, selfs te oorwin (siekte, eensaamheid, depressie, versteuring, gestremdheid, ens.). Hierdie antroposentriese ingesteldheid stem ooreen met die neomediese benadering wat vroeër in hierdie artikel te berde gebring is. Dit sluit aan by Versfeld (1982:87), wat praat van die vulgariteit van die massamens wat die grondbeginsel van alle realiteit ontken: dat alles dít is wat dit is. In die konteks van hierdie artikel kan ons die massamens moontlik gelykstel met die huidige deel-en-plaas-kultuur, ontdaan van kosmiese saamlopendheid en heelheid. Versfeld meen verder dat die mens " nie dinge aanvaar vir wat hulle is nie, dit wil sê vir wat teenwoordig is op daardie oomblik nie" (1982:87). Dit is egter deur middel van die sensories-sensuele, en dus die sensitief invoelende, wat die student en terapeut in verbinding kan tree met die psigiese - die saamlopendheid van alles. Om dit doelbewus te oefen, gee ek die volgende oefening, geïnspireer deur Joanna Ziegler (in Dalton 2016), aan my studente:

Net soos by blindekontoertekeninge (soos te vinde in die skilderkuns), verwag ek van my studente om op dieselfde tyd en op dieselfde dag vir ʼn aantal weke met niedominante idees, uitkomste en doelwitte voor oë na hul kliënt te kyk. Die fokus is eerder op die kind se liggaamlike bewegings: hoe hande, voete en bene kruis of teen mekaar skuur, en vingers knel, vashou en vryf. Vrae wat hul by wyse van ingekeerde stilte tydens waarneming behoort te bepeins, kan insluit:

- Wat sien jy?

- Wat doen dit aan jou?

- Waardeur en hoe word die wyse waarop jy waarneem, moontlik beïnvloed?

Hierna volg ʼn skryfoefening gebaseer op hul waarnemings, wat uiteindelik deur middel van die sensories-sensuele (verinnerliking, die poëtiese) kan bydra tot hul vermoë tot sensitiewe invoelendheid. Só is die (algemeen) liggaamlike van ʼn tekenende vyfjarige kind in terapie deur middel van die sensueel-poëtiese verbygedink:

Boervoetjies8 in mekaar geklomp

geknoopte vingertjies kryt

soos vuurtorings op tekenpapier:

koersvas

 

SLOT

Die mens se versugting om bestaanskwessies te deurgrond deur middel van diepsinnige en interafhanklike begripsraamwerke staan in noue verband met die universele, dog unieke proses van psigiese individuasie. Hiervolgens is die menslike gees, deur die veelkantige en skeppende self, lewenslank ingestel op die vestiging van eiewaarde en identiteit. Dit noodsaak tydsaamheid, stilte en ʼn invoelende sensitiwiteit gekenmerk deur die bewustheid van ʼn groter, kosmiese werklikheid waarin niks afsonderlik van mekaar bestaan nie, maar eerder paradoksaal in mekaar opgeneem is - dit wat vergiftig, kan ook genees, in die aftakeling lê ook die sublieme. Bogenoemde ingesteldheid word egter onder druk geplaas in ʼn antroposentriese samelewingsbestel waar die klem op die eksterne wêreld van uitsaaiagtige handelinge, verowering en verbruik val, waardeur gesonde grense, natuurlike ritmes en tydsame rituele verontagsaam word.

Opvoedkundige sielkunde kan nie hierdeur onaangeraak bly nie, want die verlies aan emosionele ontvanklikheid, intellektuele bemoeienis en noukeurige taalformulering - alles nodig om die menslike toestand te help omskryf, in te dam en te omlyn - beïnvloed algaande die kwaliteit van die beoefening van die professie. Juis daarom word die bevordering van ʼn sensitief invoelende (dus estetiese) kurrikulum in die opvoedkundige sielkunde wat deur metafore, simbole, verbeelding en fantasie toegang tot die persoonlike sowel as die kollektiewe narratief verleen, selfs meer as vantevore bepleit. Klaskamer-, lees- en skryfrituele aan die hand van ontroerende letterkunde, beeldende kuns, poësie en teater skep die moontlikheid hiervoor. Die sorgvuldige nasporing van gepaste en diepsinnige kreatiewe materiaal in bogenoemde verband behoort die taak van elke opvoedkundigesielkunde-dosent te wees. Voortvloeiend hieruit is die opstel en byhou van gepaste lees- en verwysingslyste met kort verduidelikings van die rol wat dit moontlik kan speel in die ontwikkeling en bevordering van die student se vermoë tot sensitiewe invoelendheid.

Die estetiese ingesteldheid, soos vergestalt in die kunste en gepaardgaande kunstenaarskap, dra by tot die aktivering van diep empatie met die menslike psige. Dit is my standpunt dat die stimulering, bewusmaking en inskerping hiervan by die opvoedkundigesielkunde-student hom beter in staat sal stel om selfontplooiing by die kind in terapie waar te neem en gevolglik aan te moedig.

 

BIBLIOGRAFIE

  1. American Psychiatric Association. 2013. Diagnostic and statistical manual of mental disorders (5th ed). Washington, DC: American Psychiatric Association Publishing.         [ Links ]
  2. Blanco, N. & Docampo, V. 2015. Die vallei van die windmeulens. (Vertaler N. Stassen). Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]
  3. Caracciolo, D. & Weida, C.L. 2017. Introduction. In Caracciolo, D. & Weida C.L. (eds). The swing of the pendulum: The urgency of arts education for healing, learning, and wholeness. Rotterdam: Sense Publishers, pp. xvii-xx.         [ Links ]
  4. Cloete, T.T. 2013. Die ander een is ek. Bibliofiele uitgawe met beperkte oplaag. Plettenbergbaai: Pooka.         [ Links ]
  5. Dalton, J.E. 2016. Artfully aware: contemplative practice in the classroom. The International Journal of the Arts in Society: Annual Review 11:33-40.         [ Links ]
  6. Deleuze, G. & Guattari, F. 2004. A thousand plateaus: Capitalism and schizophrenia, Vol.2. London: Continuum.         [ Links ]
  7. Dewey, J. 1934. Art as experience. New York: Perigree.         [ Links ]
  8. Diken, B. 2011. Fire as a metaphor of (im)mobility. Mobilities, 6(1):95-102. https://doi.org/10.1080/17450101.2011.532657. [2 Desember 2017]
  9.         [ Links ]
  10. Eco, U. 2004. On beauty. London: Secker & Warburg.         [ Links ]
  11. Eisner, E.W. 2001. The role of the arts in educating the whole child. Grantmakers in the Arts Reader, 12(3):12.         [ Links ]
  12. Elder, G.R. & Cordic, D.D. 2009. An American Jungian in honor of Edward F. Edinger. Canada: Inner City Books.         [ Links ]
  13. Evans, K. 2016. A/R/T(HERAPIST)-OGRAPHY: Examining the weave. In Galvin, K.T. & Prendergast, M. (eds). Poetic inquiry II - Seeing, caring, understanding: Using poetry as and for inquiry. Rotterdam: Sense Publishers, pp. 100-103.         [ Links ]
  14. Gaines, A.M. 2016. Ambassadors of aesthetic experience: The healing legacy of Maxine Greene. Teaching Artist Journal, 14(1):24-29.         [ Links ]
  15. Gardner, L. 2016. Metamodernism: A new philosophical approach to counselling. Journal of Humanistic Counselling, 55: 86-97. https://doi:10.1002/johc.12026. [29 November 2017]
  16.         [ Links ]
  17. Garzo, G.M. & Vidal, B. M. 2018. Die geheim van die woud. (Vertaler N. Stassen). Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]
  18. Heidegger, M. 1966. Discourse on thinking. (Translators J. M. Anderson & E. H. Freund). New York: Harper and Row Publishers.         [ Links ]
  19. Human, T. 2016. Vlakwater. Tydskrif vir Letterkunde, 53(2):221-223. Doi:http://dx.doi.org/10.17159/tvl.v53i2.29. [4 Desember 2017]
  20.         [ Links ]
  21. Ieven, B. 2012. The forgetting of aesthetics: Individuation, technology, and aesthetics in the work of Bernard Stiegler. New Formations, 77(5):76-96. Doi:10.3898/NEWF.77.05.2012. [5 Junie 2018]
  22.         [ Links ]
  23. Jeffers, C. 2009. On Empathy: The mirror neuron system and art education. International Journal of Education and the Arts, 10(15):2-17. http://www.ijea.org/v10n15/v10n15.pdf. [10 Junie 2018]
  24.         [ Links ]
  25. Johnson, M. 1987. The body in the mind: The bodily basis of meaning, imagination and reason. Chicago: University of Chicago Press.         [ Links ]
  26. Jung, C.G. 1953-1978. Collected Works of C.G. Jung. Volumes 1-18. London: Routledge.         [ Links ]
  27. Jung, C.G. 1960. The transcendent function. The structure and dynamics of the psyche [Vol. 8, Collected Works of C.G. Jung. New York: Pantheon Books, pp. 67-91.         [ Links ]
  28. Jung, C.G. 1964. The spiritual problem of modern man. Civilization in Transition [Vol. 10, Collected Works of C.G. Jung]. (Translator R.F.C. Hull). New York: Pantheon Books, p. 75.         [ Links ]
  29. Kirschner, P.A. & De Bruyckere, P. 2017. The myths of the digital native and the multitasker. Teaching and Teacher Education, 67:135-142. doi:http://dx.doi.org/10.1016/j.tate.2017.06.001. [2 Desember 2017]
  30.         [ Links ]
  31. Krantz, M. 1994. Child development. Belmont, California: Wadsworth.         [ Links ]
  32. Krog, A. 2014. Mede-wete. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]
  33. Le Roux, D. & Parry, D.A. 2017. In-lecture media use and academic performance: Does subject area matter? Computers in Human Behaviour, 77:86-94. doi:http://dx.doi.org/10.1016/j.chb.2017.08.030. [30 November 2017]
  34.         [ Links ]
  35. Loh, K.K. & Kanai, R. 2016. How has the Internet reshaped human cognition? The Neuroscientist, 22(5), 506-520. doi:10.1177/1073858415595005.         [ Links ]
  36. Mayes, C. 2005. The teacher as shaman. Journal of Curriculum Studies, 37(3): 329-348. doi:10.1080/0022027041000229396. [6 Desember 2017]
  37.         [ Links ]
  38. Stockenström, W. 2007. Die stomme aarde - 'n keur. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]
  39. Stone, K. 2003. Image and spirit. Finding meaning in visual art. Minneapolis: Augsburg Books.         [ Links ]
  40. Uhrmacher, P.B. 2009. Toward a theory of aesthetic learning experiences. Curriculum Inquiry, 39(5):613-636. Doi:10.1111/j.1467-873X.2009.00462.x. [2 Desember 2017]
  41.         [ Links ]
  42. Quiga, F. & Clegg, J.W. 2015. Imagine the feeling: An aesthetic science of psychology. Integrative Psychological and Behavioural Science, 49:459-477. Doi:10.1007/s12124-014-9284-0. [10 Junie 2018]
  43.         [ Links ]
  44. Vermeulen, T. & Van den Akker, R. 2010. Notes on metamodernism. Journal of Aesthetics and Culture, 2(1):56-77. Doi:10.3402/jac.v2io.5677. [4 Desember 2017]
  45.         [ Links ]
  46. Vermeulen, T. & Van den Akker, R. 2015. Utopia, sort of: A case study in metamodernism. Studia Neophilologica, 87(1):55-67, doi: 10.1080/00393274.2014.981964. [4 Desember 2017]
  47.         [ Links ]
  48. Versfeld, M. 1982. Tyd en dae. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.         [ Links ]
  49. Versfeld, M. 2008. Klip en klei. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]
  50. Visagie, A. 2016. Vlakwater deur Ingrid Winterbach. LitNet Akademies. https://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-vlakwater-deur-ingrid-winterbach/. [2 Desember 2017]
  51.         [ Links ]
  52. Winterbach, I. 2015. Vlakwater. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

 

 

 

KARLIEN CONRADIE is ʼn dosent en ontluikende akademikus in die Departement Opvoedkundige Sielkunde van die Universiteit van Stellenbosch. Sy is ook ʼn opvoedkundige sielkundige. Deur haar navorsing poog sy om meer estetiese wyses van betekenisskepping binne die domeine van psigoterapiepraktyk en kurrikulumontwerp te verken en uit te brei. Sy stel belang in die benaderings van die persoonsgesentreerde, gestalt- en eksistensiële psigoterapieë, en in die teoretiese beskouings van die eksistensiële en hermeneutiese fenomenologie. Voorkeurnavorsingsraamwerke sluit kwalitatiewe, interpretatiewe en poëtiese metodologieë van ondersoek in. Sy was verantwoordelik vir die skryf van ʼn hoofstuk in die onlangs gepubliseerde akademiese handboek Insigte uit Opvoedkundige Sielkunde (Juta)
KARLIEN CONRADIE is a lecturer and emerging academic in the Department of Educational Psychology, University of Stellenbosch. She is also an educational psychologist. Her research is aimed at exploring aesthetical ways of meaning-making in professional development in both psychotherapy practice and curriculum design. She is interested in person-centred, gestalt and existentialist psychotherapies. Her main theoretical orientation draws on existential and hermeneutic phenomenology. Preferred frameworks of inquiry include qualitative, interpretative and personal methodologies. She was the author of a chapter in the recently published academic textbook Understanding Educational Psychology (Juta).
* Erkenning word gegee aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir ruim doktorale befondsing wat tot die ontwikkeling van hierdie artikel bygedra het.
1 Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders, published by the American Psychiatric Association. The current manual is the fifth edition (2013).
2 In Jungiaanse terme verwys die kosmiese self na die kollektiewe (oorgeërfde ervaringe, verwagtinge, verhoudingspatrone en ontwikkelingstake) sowel as die unieke (uniekheid van die individu) potensiaal van die menslike psige, wat voortdurend streef na psigiese ontplooiing, met ander woorde heelheid, genesing en groei (Jung 1953-1978).
3 Argetipes, as Jungiaanse oortuiging, funksioneer as universele, oftewel kollektiewe, sisteme wat gekenmerk word deur oorgeërfde, onbewuste psigiese temas, inhoud en ervaringe. Elke argetipe bevat 'n teenpool en het ten doel om 'n balans tussen teenoorstaande persoonlikheidsfunksies te handhaaf. Voorbeelde van bekende argetipes, soos dikwels in sprokies, mites en simbole uitgebeeld, sluit die spanning tussen die goeie en destruktiewe moeder of vader, animus en anima, goedheid en boosheid, en individualiteit en gemeenskaplikheid in (Jung 1953-1978).
4 Met wording bedoel Deleuze en Guattari (2004) die dikwels gelyktydige wyse waarop 'n proses of verhouding opnuut geherorganiseer word deur middel van verval én skepping, in- én uittog, ontsnapping én vestiging.
5 Estetika het betrekking op die Griekse verstaan van aisth
ēsis, wat beteken om gebeure of waarnemings "in te adem/in te drink" (Eco 2004); dit hang af van die individu se vermoë om op ontologiese wyse toeganklik te wees en met verhoogde bewustheid en sensitiwiteit te handel. Stone (2003:34) herinner ons soos volg hieraan: "Remember that aesthetic refers to heightened sensory awareness. It is the opposite of anaesthetic - that is, a dulling or loss of consciousness - not the opposite of ugly."
6 Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders, uitgegee deur die American Psychiatric Association. Die huidige (vyfde) weergawe (2013) van dié handleiding is alom bekend aan psigiaters en sielkundiges.
7 Met sensuele word bedoel die poëtiese verbeelding en aanbieding van liggaamlikheid. Dit sluit in die verinnerliking of vergeesteliking van die liggaamlike en dit wat uiterlik is, byvoorbeeld tyd, ruimte, handeling en sensories-perseptuele gewaarwording en belewing. Dit weerklink in T.T. Cloete: "Ons leef in
ʼn sigbare, tasbare liggaam, wat die meeste van sy of haar ervarings transendeer in efemere ontasbare, onsigbare werklikhede deur lief te hê, deur te dink, te voel, te wil, te droom, te glo, te hoop, deur gedigte te skryf, deur ons in te leef in ʼn karakter in ʼn roman, deur ʼn gedig te lees" (2013:41).
8 Ontleen aan Antjie Krog se
ʼn dogtertjie in die tuin (2014:52-53).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons