SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 número4-2Church and state in two reformed church orders: An analysis of the orders of the Reformed Churches in South Africa and the Dutch Reformed Church post-1962The aesthetic disposition as psychotherapeutic quality in a mainly apathetic, digitalised environment índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 no.4-2 Pretoria Dez. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n4-2a6 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (2)

 

Die belyning van 'n kwartet-konfigurasie: Opmerkings oor mineur- en majeurletterkundes

 

Outlining a quartet configuration: Notes on minor and major literatures

 

 

Cilliers van den Berg

Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein. E-pos: vdbergjp@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

Deleuze en Guattari se konsep van mineurletterkundes het 'n belangrike gegewe in die literatuurteorie van die afgelope aantal dekades geword. Gewoonlik word hierdie konsep met verwysing na drie kern-eienskappe getipeer, naamlik deterritorialisasie, die politieke aard daarvan en die kollektiewe uitdrukkingswaarde wat dit sou veronderstel. Wanneer mineurletterkundes egter teen die agtergrond van Deleuze en Guattari se ander filosofiese werk geïnterpreteer word, blyk dit vinnig dat hierdie konsep veel genuanseerder aangewend behoort te word.
In hierdie artikel beoog ek om presies dít te doen: die filosofiese kontekstualisering van mineurletterkundes met betrekking tot die gemeenskaplike oeuvre van beide denkers. Dit geskied deur veral na hulle konseptualisering van groeperings te verwys, oftewel hulle modellering van sosiale strukture en dinamikas in terme van (her)territorialisasie-deterritorialisasie en inhoudsvorm-uitdrukkingsvorm-asse wat mekaar kruis. Die betoog sluit af deur op sekere onderbeligte aspekte van mineurletterkundes te dui en 'n alternatiewe model voor te stel, waarmee mineurletterkundes beter getipeer kan word as die blote verwysing na die drie gesimplifiseerde kern-eienskappe, soos hierbo vermeld.

Trefwoorde: Deleuze, Guattari, mineurletterkunde, groepering, deterritorialisasie, kollektiewe uitdrukkingswaarde, politieke aard van letterkunde, minoriteit-mineur, majoriteit-majeur


ABSTRACT

Since their publication of Kafka: Toward a Minor Literature in 1986, Gilles Deleuze and Félix Guattari's concept of minor literatures has become a very productive critical tool within the context of literary theory. Usually minor literatures are defined with reference to three core characteristics that would determine any literature as being minor: 1) the language of minor literatures is affected with a high coefficient of deterritorialisation, 2) it always is political and has a political immediacy and 3) it represents a collective assemblage of enunciation. However, if the general use of this theoretical concept is set against the background of the collaborative philosophical work of Deleuze and Guattari, it quickly becomes evident that literary theorists often simplify its rather nuanced meaning. Deterritorialisation, its political nature and collective enunciation become shorthand to describe any number of literary works that are believed to undermine given normative values, whether it be linguistic or otherwise. This article endeavours to do exactly the opposite to what usually transpires, i.e. it undertakes a philosophical contextualisation of minor literatures mainly with reference to the collaborative work of Deleuze and Guattari, with a special emphasis on relevant ideas from A Thousand Plateaus. This could seem rather problematic, since the philosophy of both thinkers is infamously rhizomatic in nature and their philosophical motifs also tend to evolve over time. There is, however, one theoretical concept of theirs that lends itself to be used as a way to frame the argument presented here.
Their conceptualisation of assemblages, i.e. their "model" to describe the inner workings and dynamics of the elements of societies, is used as the main point of reference. Assemblages have gained some theoretical traction in recent times, with the best example being the work of Manual DeLanda, who, with his Assemblage Theory (2016) sets out to develop a realist social ontology inspired by the work of Deleuze and Guattari. Assemblages refer to both the non-essentialised elements or parts of any societal whole and the extrinsic relations between them. According to Deleuze and Guattari assemblages comprise horizontal and vertical axes, which determine the nature of all collectivities or groups. The vertical axis refers to what they call forms of content and forms of expression. These two kinds of forms relate to the two extremes of the axis and (using an extremely crude simplification) represent societal bodies and the ways these are expressed. The vertical axis slides from a deterritorialisation extreme to a (re-)territorialisation extreme and refers to the less or more pronounced normative stability of the respective content-expression continuum involved. Literary discourse not only forms part of (various) assemblages, but its dynamics can also be mapped onto both its horizontal and vertical axes.
Using these and other theoretical conclusions about assemblages, it should become clear that minor literatures are to be conceptualised in a much more nuanced manner: it becomes evident, for instance, that its purported political nature and its status as representing a collective enunciation cannot be regarded as being exclusive and defining features. The argument concludes with the suggestion that the underrepresented theoretical analysis of the interaction between minor status and the nature of minorities could be one reason why the definition of minor literatures sometimes runs into difficulties. An alternative model is therefore presented, where a quartet of concepts is suggested with reference to Deleuze and Guattari's horizontal (deterritorialisation-(re-)territorialisation) and vertical (forms of content-forms of expression) axes structuring all assemblages. These four concepts are consequently brought together and related in a quartet configuration, similar to the two axes of assemblages: minor-minority-major-majority. Mapping literary discourse or literary assemblages onto the linear relations formed between the four concepts will represent a much easier way to define and think about minor literatures.

Key Concepts: Deleuze, Guattari, minor literature, assemblage, deterritorialisation, collective enunciation, political nature of literature, minority-minor, majority-major


 

 

1. INLEIDING: MINEURLETTERKUNDES (EN AFRIKAANS)

Met die verskyning van Gilles Deleuze en Felix Guattari se Kafka. Pour une littérature mineure (1975) [Kafka: Toward a Minor Literature (1986)] het die begrip mineurletterkundes deel van die literatuurteoretiese woordeskat van die twintigste eeu geword. Dit was Gunther Pakendorf wat in 1993 die "oorgangstye soos dié waarin Suid-Afrika hom tans bevind" as agtergrond gebruik om in sy "Kafka, en die saak vir 'n 'klein letterkunde'" die relevansie van hierdie konsep vir die plaaslike konteks aan te dui. Ampie Coetzee ondersoek in 2002 "Swart Afrikaanse skrywers" met betrekking tot hierdie konsep en sedertdien duik soms verwysings hierna op waar die omvang van die Afrikaanse letterkunde ter sprake kom, waar die politieke aard daarvan geproblematiseer word of waar normeringspraktyke in literêre taalgebruik van gegewe tekste gedeterritorialiseer, d.i. ondermyn word.1 Soos wat egter té dikwels gebeur, lei die naturalisering van konsepte in 'n gegewe literêre diskoers soms tot 'n simplifisering daarvan, wat beteken dat komplekse nuanses nie meer verreken word nie, of dat nie meer met die onderbeligte aspekte van die teorie krities in gesprek getree word nie. In die onderhawige artikel word gepoog om mineur- (en per implikasie majeur)letterkundes binne die filosofiese konteks, wat oorspronklik daaraan geboorte gegee het, te stel en verder voorstelle vir 'n literatuurteoretiese model aan die hand te doen, ten einde die implikasies van mineurletterkundes meer genuanseerd en met groter duidelikheid aan te dui.

 

2. DIE FILOSOFIESE KONTEKS

Territorialisering/deterritorialisering, politieke aard en kollektiewe uitdrukkingswaarde as gesimplifiseerde begrippe om die veranderlikes van mineur- en majeurletterkundes te tipeer, word nie net soms binne die Afrikaanse literatuurteorie gemaklike en konvensionele kapstokke om die literêre tekste en (literêre) taalgebruik wat sigself buite die reikwydte van hegemoniese normatiwiteit bevind, te interpreteer nie.2 Wanneer die ryk konseptuele diepgang en teoretiese genuanseerdheid daarvan egter nie verreken word nie, word hierdie begrippe selde meer as generiese, teoretiese kniebuigings, wat die werklike waarde van Deleuze en Guattari se denke oor die letterkunde, veral die literatuursosiologiese moontlikhede daarvan, grootliks links laat lê. Dit is myns insiens uiters belangrik om die resonering van hierdie begrippe met die onderskeie en gemeenskaplike oeuvres van beide denkers te agterhaal, om sodoende die begrippe self ook verder te deurdink en selfs die produktiewe mutering daarvan in veranderende kontekste moontlik te maak.3

Tog stel Deleuze en Guattari se gemeenskaplike werke: Anti-Oedipus (1977 [1972]), Kafka: Toward a Minor Literature (1986 [1975]), A Thousand Plateaus (1987 [1980]) en What is Philosophy? (1994 [1991]) om meer as een rede talle struikelblokke in hierdie verband daar, wat 'n eenduidige oorsig oor enige problematiek deur hulle getematiseer, haas onmoontlik maak.4 Met hierdie betoog bevind ek myself dus tussen die duiwel en die diep blou see, deurdat enersyds 'n pleidooi vir die filosofiese kontekstualisering van mineurletterkundes gelewer word, maar andersyds toegegee moet word dat enige poging tot eenduidige definisies en konseptuele oriëntasie on-Deleuziaans sou wees, deurdat dit nie die performatiewe, risoomagtige aard van hulle denke en skrywe sou onderskryf nie. In hulle denke blyk epistemologiese en ontologiese ankers té dikwels drywende boeie te wees en die beste is dus om niks meer as voorlopige opmerkings oor mineurletterkundes te maak nie - opmerkings wat vir die bestek van die argument wat hier gevoer word telkens weer met die begrip groepering ("assemblage") in verband gebring sal word. In soverre word vlugtig by territorialisering/deterritorialisering, politieke aard en kollektiewe uitdrukkingswaarde as merkers van mineur- en majeurletterkundes stilgestaan, nadat éérs by groeperings as filosofiese motief vertoef is.

2.1 Waarom groeperings?

Die besluit om groeperings ("assemblages") as wegspringplek en/of perspektief te gebruik om gedagtes oor mineurletterkundes te oriënteer, is enersyds om 'n wye draai te gooi, maar verteenwoordig andersyds, en om meer as een rede, ook 'n sinvolle en produktiewe uitkykpos om die mineur-majeur-dinamika van verskillende letterkundes te takseer. Eerstens kan groeperings as oorhoofse begrip gebruik word om verskeie konseptuele koördinate vas te stel, wat vervolgens gebruik kan word om ander relevante begrippe (soos hierbo vermeld) te beskryf: begrippe wat verwys na die modulerings en/of effekte en/of kenmerke van die dinamiese en funksionele magsrelasies wat groeperings veronderstel - dieselfde magsrelasies wat ook mineur- en majeurletterkundes tipeer.

Tweedens vra die soms verskuiwende betekenisse van Deleuze en Guattari se terminologie, of die dikwels onpresiese of selfs niekoherente gebruik van begrippe, na 'n (ten minste) voorlopige teoretiese vashouplek. Selfs hulle definisie van groeperings as sodanig is vloeibaar (kyk DeLanda 2006:3; 2016:1),5 maar word tog deur DeLanda (2016) gevorm tot hoeksteen vir wat hy as 'n Deleuziaanse sosiale ontologie beskryf. Die feit dat daar pogings aangewend word om groeperingsteorie konseptueel meer te standaardiseer (hoe on-Deleuziaans dit ook mag wees), impliseer hiervolgens dat aspekte soos mineur-majeur, deterritorialisasie-(her)territorialisasie, politieke aard, kollektiewe uitdrukkingswaarde, ens. ook duideliker sal word.

Derdens skyn die denke van Deleuze en Guattari, vernaam met betrekking tot groeperings, onlangs veld te begin wen het. Die belangrikste eksponent hiervan is Manuel DeLanda,6 wat homself en sy sosiologiese teorie eksplisiet as Deleuziaans verklaar. Groeperingsteorie veronderstel dus 'n Deleuziaanse perspektief op sosio-politieke en ander konfigurasies, wat potensieel 'n supplementêre blik op letterkunde gesien as netwerk of sisteem, sou kon werp.7

2.2 Oor groeperings8

Om reeds vermelde redes is 'n simplistiese definisie van groeperings ("assemblages") helaas nie moontlik nie. Waar in die eerste deel van Capitalism and Schizophrenia begeerte-masjiene ("desiring machines") op die voorgrond staan (kyk bv. Deleuze & Guattari 2004:1), is dit veral in die latere A Thousand Plateaus dat Deleuze en Guattari groepering(s) as ge(de)stratifiseerde konfigurasies van outonome, dog verbandhoudende semiotiese, organiese en anorganiese dele; konstellasies van performatiewe aksie(s); en konsentrasies van relasionele funksionaliteite, sentraal stel (kyk o.a. Watson 2013:38). Die wortels van die Franse duo se teoretisering oor groeperings is onder meer herleibaar na Guattari se The Machinic Unconscious (2010 [1979]), wat in nabetragting (en met inagneming van sy latere medewerking met Deleuze) reeds 'n resonering van masjinale dinamika met dié van groeperings (laasgenoemde verstaan as beide aksie en produk) suggereer.9

Deleuze en Guattari se konseptualisering van groeperings druis lynreg in teen die idee van sisteme of netwerke, gesien in terme van organiese metafore. Die dele van 'n gegewe groepering het nie dieselfde funksionaliteit as byvoorbeeld die organe van die menslike liggaam nie, hetsy laasgenoemde as eenduidige metafoor gebruik word, of metafoor word van 'n reïfikasie van hierdie dele se (noodwendige) funksionele samehang (kyk DeLanda 2006:8-9). Waar organiese metafore beide die inherente aard én die intrinsieke samehang van dele beskryf in terme van die funksie(s) wat dit vervul om die geheel suksesvol tot organiese eenheid te organiseer, word die aard van die dele van Deleuze en Guattari se groeperings juis nié inherent deur die suksesvolle (?) funksionaliteit daarvan binne die groter "organisme" bepaal nie. Dit beteken dat die verhoudings tussen die dele van die groepering nie op intrinsieke noodwendigheid berus nie en dat die groepering as geheel dus eerder 'n lukrake konfigurasie van outonome dele is (kyk. o.a. DeLanda 2006:9). As outonome dele is die onderlinge relasies daartussen dus ekstrinsiek van aard, wat beteken dat die gegewe dele se betekenis (en potensiële funksionaliteit) nie intrinsiek of inherent bepaal word deur die geheel waaraan dit deel het nie (kyk DeLanda 2006:11). Dit het tot gevolg dat dele sigself gemaklik van een groepering kan losmaak en funksioneel by 'n ander kan inskakel (kyk DeLanda 2016:2; 2006:11-12). Een van die redes hiervoor is dat Deleuze en Guattari 'n onderskeid maak tussen die (reeds geaktiveerde) eienskappe en die (latente en dus ongeaktiveerde) potensialiteite van die onderskeie dele van die groepering: integrasie by 'n nuwe groepering beteken 'n nuwe relasionele dinamika, wat as katalisator kan dien om verskuilde potensiaal in die onderskeie dele te aktiveer, of dan geaktiveerde eienskappe te deaktiveer (kyk DeLanda 2006:10). 'n Gevolg hiervan is dat die groepering as geheel nie oor 'n geëssensialiseerde identiteit of waarde beskik nie - iets wat gegrond sou wees op die homogenisering van intrinsieke relasies tussen dele (kyk DeLanda 2006:26ff; Nail 2017:23-24). Tog beteken die lukraakheid en potensiële uitwisselbaarheid van die outonome dele egter nie dat die geheel tot sy dele reduseerbaar is nie: dít sou trouens impliseer dat die groepering as konfigurasie van elemente nie as koherente entiteit sou kon funksioneer nie - iets wat egter tog baie duidelik die geval is (kyk DeLanda 2016:12).

Een van die bekendste definisies van groeperings uit A Thousand Plateaus lui as volg:

On a first, horizontal, axis, an assemblage comprises two segments, one of content, the other of expression. On the one hand it is a machinic assemblage of bodies, of actions and passions, an intermingling of bodies reacting to one another; on the other hand it is a collective assemblage of enunciation, of acts and statements, of incorporeal transformations attributed to bodies. Then on a vertical axis, the assemblage has both territorial sides, or reterritorialized sides, which stabilize it, and cutting edges of deterritorialization, which carry it away. (Deleuze & Guattari 1987:88, kyk ook 87, 503-505; kyk ook Deleuze & Guattari 1986:81; Genosko & Young 2013:36; Young 2013c:309)

Daar is dus twee asse wat mekaar kruis: die inhoud-uitdrukking-as en die (her)territorialisering/-deterritorialisering-as, wat die ontologiese en epistemologiese oriënterings van groeperings verteenwoordig. Die inhoud-uitdrukking-as het te make met dít wat in A Thousand Plateus as inhoudsvorm en uitdrukkingsvorm beskryf word.10 DeLanda (2006:12) beskryf die onderskeid tussen die twee in terme van sosiale groeperings soos volg:

The components of social assemblages playing a material role vary widely, but at the very least involve a set of human bodies properly oriented (physically or psychologically) towards each other. The classic example of these assemblages of bodies is face-to-face conversations, but the interpersonal networks that structure communities, as well as the hierarchical organizations that govern cities or nation-states, can also serve as illustrations. Community networks and institutional organizations are assemblages of bodies, but they also possess a variety of other material components, from food and physical labour, to simple tools and complex machines, to the buildings and neighbourhoods serving as their physical locales. Illustrating the components playing an expressive role needs some elaboration because in assemblage theory expressivity cannot be reduced to language and symbols. A main component of conversations is, of course, the content of the talk, but there are also many forms of bodily expression (posture, dress, facial gestures) that are not linguistic. In addition, there is what participants express about themselves not by what they say but by the way they say it or even by their very choice of topic. (Kyk ook DeLanda 2006:12, 16, 27, 55; Deleuze & Guattari 1987:85-86; Bogue 2003:98; Bogue 2007:20; Nail 2017:26; Young 2013b:137)

Belangrik is egter dat inhoudsvorm en uitdrukkingsvorm nie volgens geëssensialiseerde aard en waardes binêr teenoor mekaar opgestel is nie - myns insiens moet die horisontale as tussen beide eerder as 'n kontinuum geïnterpreteer word, waarvolgens die elemente wat op die skaal skuif, van die een modulasie na die ander transformeer. Wat dus 'n element van inhoud was, sou binne sekere omstandighede gemoduleer kon word tot element van uitdrukking, of omgekeerd - maar nog belangriker as só 'n trajek, sou die argument volgens my ook gevoer kon word dat elemente dikwels kombinasies van beide inhoud en uitdrukking is (kyk bv. Deleuze & Guattari 1987:87).

Inhoudsvorme het veel met Deleuze en Guattari se teoretisering van masjiene en die masjinale te make (kyk bv. Bogue 2003:68): soos wat die strukturalistiese psigoanalise van Anti-Oedipus in A Thousand Plateaus deur meer risoommatige denke vervang is (kyk bv. Lambert 2013:314), so ook skuif die masjinale dinamika, soos getematiseer in eersgenoemde teks, ten gunste van die kompleksiteit van groeperings op die agtergrond. Tog verwys hulle met betrekking tot inhoudsvorme onder meer na "the material or machinic aspect of an assemblage" (Deleuze & Guattari 1987:89; kyk ook Deleuze & Guattari 1986:37), hoewel dít natuurlik nie net lewelose objekte en elemente sou insluit nie, maar ook individue en sosiale groepe wat die dele van hierdie masjiene (byvoorbeeld sosiale masjiene) verteenwoordig (Deleuze & Guattari 1986:81). Bogenoemde geskied egter altyd in terme van die masjinale inkarnasie van begeerte én aktivering van die "masjiendele" se latente potensialiteite, wat die masjinale aard noodwendig altyd veronderstel.11 Dit is juis met betrekking tot laasgenoemde dat Deleuze en Guattari die konsep van die abstrakte masjien en diagram ontwikkel het om na latente, onontginde potensiaal van die groepering as geheel en die relasionele dele wat dit uitmaak, te verwys. Waar die konkrete masjien dus die (geaktiveerde) kenbare dele verteenwoordig, moet die abstrakte masjien as die (ongeaktiveerde) potensiaal van die groepering (wat Deleuze en Guattari ook as virtueel beskryf) gesien word.12 Wat die abstrakte masjien doen, is om 'n sogenaamde konstante vlak ("plane of consistency") as funksionele voorvereiste vir die ontvouing van inhouds- én uitdrukkingsvorme daar te stel, om sodoende as 'n modaliteit van konstantheid beide vorme te fasiliteer en ook die herkonfigurasie van elkeen apart, maar ook die afstem van beide op mekaar, moontlik te maak.

Wanneer Deleuze en Guattari (1986:82) beweer: "There is no machinic assemblage that is not a social assemblage of desire, no social assemblage of desire that is not a collective assemblage of enunciation", word hulle siening van die interafhanklikheid van masjinale- of inhoudsvorme met uitdrukkingsvorme as pendant - beide gegrond in die sosiale konfigurasies van begeerte - baie duidelik. Soos wat uit die aanhaling hierbo blyk, is uitdrukkingsvorme veral in semiotiese (of selfs epistemologiese?) terme te verstaan, maar sluit dit ook meer as dit in, byvoorbeeld die keuses om sekere dinge semioties tot uitdrukking te bring en ander nie. Hulle benadruk egter dat die relasie van uitdrukkingsvorm tot inhoudsvorm geensins met die betekenaar-betekende verhouding gelykgestel moet word nie (oënskynlike ooreenkomste met hierdie tekenstruktuur sou bloot isomorfies van aard wees), veral ook weens hulle onderskrywing van taal se performatiewe aard. À la Austin is taal volgens hulle (veral) handeling - wat op sigself die ordening van die mens se belewenis van die werklikheid rig, alternatiewelik destabiliserende ingrepe op hierdie werklikheidsbelewenis maak.13

Uitdrukkingsvorme sou verder per definisie kollektief van aard wees, deurdat dit noodwendig die singewende, semiotiese stramien impliseer waarvolgens enige unieke stelling betekenisvol gerealiseer word. Dit herinner sterk aan De Saussure se langue of Lacan se Simboliese orde - enige uiting doen per definisie mee aan die semiotiese voorvereistes wat die sinvolle artikulasie en sinvolle resepsie daarvan fasiliteer. Selfs artikulerings wat oënskynlik nié sinvol sou wees nie, se sinloosheid kan net as sodanig geïnterpreteer word met verwysing na die feit dat die einste singewende riglyne nie gehuldig sou word nie. Die interpretasie en duiding van 'n uitspraak as sinloos geskied dus volgens presies dieselfde (normgewende) bepalers as dié wat 'n uitspraak as sinvol sou dui - beide figureer op 'n spektrum van kollektiewe uitdrukkingswaarde wat per definisie deur enige gegewe groepering veronderstel word.

Die groot vraag is egter wat die interaksie tussen inhoudsvorm en uitdrukkingsvorm behels? Watter vorm die dinamika tussen beide in konkrete terme aanneem? Volgens Deleuze en Guattari is daar nie altyd 'n passing van die een op die ander nie, dalk selfs nie eers altyd 'n gedeeltelike oorvleueling nie - uitdrukkingsvorme kan met inhoudsvorme konvergeer of divergeer, na gelang van die aard van die gegewe groepering. Die interessante punt wat hulle maak, is dat uitdrukkingsvorme die (her)konfigurering van die inhoudsvorme vooruitgaan (iets wat van groot betekenis word wanneer hulle konseptualisering van mineurletterkundes in gedagte gehou word):

[...] it is the expression that precedes or advances-it is expression that precedes contents, whether to prefigure the rigid forms into which contents will flow or to make them take flight along lines of escape or transformation. But this primacy doesn't imply any idealism. Because the expressions or the enunciations are no less strictly determined by the assemblage than are the contents themselves. And it is one and the same desire, one and the same assemblage, that presents itself as a machinic assemblage of content and as a collective assemblage of enunciation. (Deleuze & Guattari 1986:85; kyk ook 28, 41)

Natuurlik hang die aard daarvan af van waar op die kontinuum tussen inhoudsvorm en uitdrukkingsvorm 'n gegewe element van die groepering sigself bevind. Dat 'n uitdrukkingsvorm (soos taal) egter 'n empiriese impak op die konfigurasie van die groepering kan hê, of alternatiewelik, inhoudelike elemente 'n medebepalende rol het in hoe dit tot uitdrukking kom, staan myns insiens buite kyf.14 Tog is dit ook belangrik om inhoudsvorme en uitdrukkingsvorme nie vanuit 'n Marxistiese perspektief op 'n substruktuur-superstruktuur relasie te karteer nie: as twee ekstreme van 'n enkele kontinuum funksioneer beide op 'n gelyke vlak en is die aard van die verhouding tussen beide per definisie lukraak (kyk bv. Deleuze & Guattari 1987:90).

Die (her)territorialisering-deterritorialisering-as is soortgelyk aan die vertikale as van groeperings, deurdat ons ook hier met liggings op 'n kontinuum te make het waarvolgens 'n gegewe groepering se (konseptuele of empiriese) bakens, die homogenisering van sy onderskeie dele, die standaardisering van die normatiwiteit wat sy dele rig, en die ankering van die dele se relasionele funksionaliteit enersyds vasgelê en gestabiliseer, of andersyds ondergrawe en gedestabiliseer word (kyk o.a. DeLanda 2016:22; Deleuze & Guattari 1986:48). Grondliggend aan groeperings is die interafhanklikheid van (her)territorialisering en deterritorialisering- beide vorm nie net die twee kante van dieselfde munt nie, maar is in tandem en op dieselfde tydsgegewe bepalend vir die konfigurasie van 'n gegewe groepering. Laasgenoemde is in hierdie sin trouens niks anders as 'n sinchronisering van (her)territorialisering en deterritorialisering nie (kyk bv. Deleuze & Guattari 1986:47-48, 86; Bogue 2003:74).15

(Her)territorialisering en deterritorialisering vind op beide die vlak van inhouds- en uitdrukkingsvorme plaas. Wat eersgenoemde betref, kan 'n geografies bepaalde territorium natuurlik op verskeie wyses geterritorialiseer of gedeterritorialiseer word,16 maar in die huidige tydvak speel iets soos kommunikasietegnologie byvoorbeeld 'n beduidende territorialiserende én deterritorialiserende rol - dit fasiliteer enersyds die skep van nuwe virtuele gemeenskappe (territorialiserend), maar ondergrawe andersyds nievirtuele gemeenskappe (deterritorialiserend), deurdat 'n gedeelde fisiese ruimte en teenwoordigheid nie meer voorvereistes vir sekere vorme van kommunale gemeensaamheid is nie (kyk DeLanda 2006:13).

Wat uitdrukkingsvorm betref, fokus Deleuze en Guattari veral op die (her)territorialiserende en deterritorialiserende oomblikke van taal as sodanig.17 Taal omsluit noodwendig die ganse spektrum van die vertikale as:

Even when it is unique, a language remains a mixture, a schizophrenic melange, a Harlequin costume in which very different functions of language and distinct centers of power are played out, blurring what can be said and what can't be said; one function will be played off against the other, all the degrees of territoriality and relative deterritorialization will be played out. (Deleuze & Guattari 1986:26)

Deterritorialisering vind egter nie net via taal as performatiewe ingreep op die werklikheidsbelewenis van die mens plaas nie,18 maar taal as sodanig impliseer ook van nature iets deterritorialiserends, wanneer dit as konsep (buiten die performatiewe modus daarvan), nie uitsluitlik met betekenisgewing in verband gebring word nie: "Ordinarily, in fact, language compensates for its deterritorialization by a reterritorialization in sense. Ceasing to be the organ of one of the senses, it becomes an instrument of Sense" (Deleuze & Guattari 1986:20; kyk ook 6, 21-23). Taal gesien as uitsluitlik betekenisdraend en/of funksioneel performatief is om die potensiële funksies daarvan konseptueel te territorialiseer.19 Wat dan belangrik word, is hoe skrywers egter juis hierdie (Reële) aspek van taal op die voorgrond plaas om betekenis te ondergrawe en daardeur die werklikheidsbelewenis van en binne 'n gegewe groepering taalperformatief te deterritorialiseer. Wat egter dan as doelbewuste deterritorialisering geïnterpreteer word, is egter niks meer as wat taal in elk geval en as sodanig is nie. Sonder deterritorialisering-(her)territorialisering kan taal nie taal wees nie.

Die vraag wat volg, is of deterritorialisering dus noodwendig altyd iets goeds of positiefs sou impliseer? Die antwoord volgens Deleuze en Guattari en verskeie kommentators is 'n rondborstige nee: deterritorialisering, behalwe dat dit die keersy van (her)territorialisering veronderstel, word in verband gebring met destabiliserende oomblikke van oorgang vanaf een territorium na 'n ander. Wat aanvanklik geterritorialiseer was, word in oomblikke van oorgang gedeterritorialiseer, om in 'n volgende groepering geherterritorialiseer te word.20 Dit is die momente van oorgang, die grys areas van wording wat deur hulle met "vluglyne" ("lines of flight") in verband gebring word. Maar die aktiewe uitreik na die toekoms kan óf 'n nuut gevormde óf 'n opnuut gevormde territorium tot gevolg hê: die nomaad dra in sy (gedeterritorialiseerde) wordingsproses die spore van die "goeie" en "slegte" van die nog niegerealiseerde groepering met hom of haar saam. Dit kan óf mikro-fascistiese spore, óf spore van bevryding wees - maar wat dit ook al mag wees, die reis eindig in 'n ruimte wat eventueel plek moet word. Die reis kan verromantiseer word, maar dit is uiteindelik niks meer as 'n trajek tussen plek en plek nie. Meer konkreet laat Deleuze en Guattari hulle sinies uit oor deterritorialiserings waarvan daar soms veel gewag van gemaak word: deterritorialiserende oppervlakspeletjies is al te dikwels 'n alibi om fundamentele territorialiserings te handhaaf:

But, in any case, there are rules that tell how to take things apart and from which one can't really tell if submission doesn't finally conceal the greatest sort of revolt and if combat doesn't imply the worst of acceptances. (Deleuze & Guattari 1986:82)

The assemblage doesn't have two sides only. On the one hand, it is segmental,21 extending itself over several contiguous segments or dividing into segments that become assemblages in turn. This segmentalization can be more or less rigid or supple. But suppleness can be as constraining and more crushing than rigidity [...]. (my kursivering, Deleuze & Guattari 1986:85-86)

Deleuze en Guattari (1987:508-510) verwys uiteindelik na vier tipes deterritorialiserings in hulle werk, wat deur Nail (2017:34-36) soos volg saamgevat word: 1) relatief negatiewe deterritorialiserings wat wel verandering meebring, maar dít ten einde juis die bestaande konfigurasie van groeperings in die diachroniese ontwikkeling daarvan te handhaaf; 2) relatief positiewe deterritorialiserings wat wel nie bestaande groeperingskonfigurasies reproduseer nie, maar tog ook ook nie 'n nuwe groepering beliggaam nie, dus ambivalent is; 3) absoluut negatiewe deterritorialiserings wat alle groeperings en moontlikhede van 'n nuwe groepering ondermyn en 4) absoluut positiewe deterritorialiserings wat nie (die strukture en aard van) vorige groeperings herhaal nie, maar eerder iets nuuts skep. Uiteindelik is evaluerende waardeoordele misplaas waar dit kom by die deterritorialisering-(her)territorialisering-as; dit is gewoon niks meer as 'n beskrywing van die georganiseerdheid van 'n gegewe groepering nie.

Ten slotte bestaan groeperings by grasie van die performatiewe herhaling van die onderskeie dinamikas (hierbo bespreek) wat dit onderlê: wanneer die unieke ligging op die horisontale en vertikale asse 'n iteratiewe gegewe daarvan is, is die groepering ook kenbaar as unieke en individuele groepering. Die identiteit van groeperings is dus nie 'n ontologiese gegewe nie, maar veel meer iets wat iteratief (her)bevestig moet word (kyk DeLanda 2016:18; DeLanda 2006:16, 50). Enige groepering het wel die potensiaal om te verander, om te evolueer - maar die performatiewe herhaling as konstante te midde van die diachroniese veranderlikheid en verandering is egter nodig om die unieke identiteit van die groepering territorialiserend te handhaaf. Groeperings is egter ook sinchronies bepaald: enersyds omrede groeperings soms soos boustene aan mekaar gekoppel kan word, of andersyds omdat groeperings mettertyd ook groeperings van groeperings kan word - dit word dan bykans 'n mise-en-abyme-effek in terme van 'n herhaling van 'n bepaalde funksionele relasionaliteit tussen die dele op kleiner of groter skaal (mikro- en makro-groeperings) (kyk bv. DeLanda 2006:32). Veral belangrik is egter dat groeperings verskillend gestratifiseer kan word deurdat die dele wat die geheel uitmaak anders kan funksioneer in onderskeie stratifikasies (of vlakke van organisasie) daarvan of,22 alternatiewelik, dat dele van een groepering terselfdertyd deel kan uitmaak van meer as een groepering (kyk o.a. DeLanda 2006:17; DeLanda 2016:3, 16, 17).

Gegewe die komplekse aard van groeperings, waaroor hier bloot 'n paar opsommende opmerkings gemaak is, is Deleuze en Guattari se konseptualisering van sg. mineurletterkundes dalk nie so eenvoudig en simplisties soos wat dit al te dikwels aangebied word nie. Die drieluik wat hierdie letterkundes sou kenmerk, kan nie anders as om teen die agtergrond van hulle konseptualisering van groeperings verstaan te word nie - deterritorialisering en kollektiewe waarde is byvoorbeeld reeds hierbo as inherent deel van enige groepering geïdentifiseer. In die tweede gedeelte van hierdie artikel sal gepoog word om deterritorialisering, die politieke aard van mineurletterkundes en die kollektiewe uitdrukkingswaarde daarvan in die lig van die voorafgaande te bespreek.

 

3. MINEUR- (EN MAJEUR)LETTERKUNDES

Sedert die verskyning van Kafka: Toward a Minor Literature (1986 [1975]) word sterk kritiek uitgespreek jeens Deleuze en Guattari se perspektief op en gebruik van Kafka se gedagtes23 rondom pre-WOI Warskouse literatuur in Jiddish.24 Waarskynlik die skerpste kritiek op hulle benadering tot Kafka fokus op hulle korrelasie van linguistiese eksperimentasie (en die gevolglike ondergrawing van normatiwiteit en normatiewe strukture) met die reaktiewe protes van gemarginaliseerde, empiriese groepe: eersgenoemde sou op 'n vrye, estetiese keuse berus, terwyl laasgenoemde geforseerde reaksie in die drukgang van skeefgetrekte magsrelasies sou verteenwoordig.25 Desnieteenstaande bly mineurletterkundes 'n gewilde invalshoek om na letterkundes te kyk, veral gebruik as 'n gemaklike (want nou bykans geoutomatiseerde) perspektief om 'n verband tussen die deterritorialiserende taalgebruik van spesifieke tekste en die potensiële politieke relevansie daarvan te impliseer.

3.1 Oor deterritorialisering en mineurletterkundes

Die beduidendste uitgangspunt wat Deleuze en Guattari rakende mineurletterkundes onderskryf, is dat letterkundes wat as sodanig geag word, nie noodwendig in 'n klein- of minoriteitstaal geskryf word nie, maar dat dit taal gewoon op 'n ander manier implementeer: "A minor literature doesn't come from a minor language; it is rather that which a minority constructs within a major language. But the first characteristic of minor literature in any case is that in it language is affected with a high coefficient of deterritorialization" (Deleuze & Guattari 1986:16; kyk ook Bensmaïa 1986:xvi). Mineurletterkundes is, só gesien, direk eweredig aan 'n tipe taalgebruik wat taalstandaardisering en, literêr gesien, veral standaardisering van (estetiese?) taalgebruik in groot tale, funksioneel ondermyn (kyk bv. Deleuze 1998:5). Per implikasie word mineur dus teenoor majeur opgestel, waar laasgenoemde normatiewe en gestandaardiseerde gebruik van (estetiese) taal verteenwoordig. Aangesien hulle egter vanuit 'n taalperformatiewe perspektief dink, is dit myns insiens duidelik waarom volgens hulle só 'n destabilisering in taal ook reperkussies in sosio-politieke magsverhoudings sou impliseer, of ten minste dan 'n destabiliserende effek op die semioties-gebaseerde werklikheidsbelewenis van magstrukture sou kon fasiliteer: "There is nothing that is major or revolutionary except the minor. To hate all languages of masters" (Deleuze & Guattari 1986:26).

Soos egter hierbo bespreek, is deterritorialiserende potensiaal die interafhanklike keersy van die groeperingsmunt - ook die deterritorialiserende eienskappe van letterkunde neem vorm aan (of eerder: ontvorm of omvorm bestaande vormgewings), in relasie tot bestaande territorialiserings. Daarom is selfs die mees deterritorialiserende letterkundes tog ook 'n dubbeldoor: dit ver-taal enersyds die kontekstuele territorium waarin dit geskep word, maar ondergrawe dit terselfdertyd (Deleuze & Guattari 1986:47). Ironies genoeg is die deterritorialiserende aspekte van mineurletterkundes (in samehang met die noodwendige territorialiserende aspekte daarvan) op 'n ander vlak eintlik ook niks meer as die ver-taling van die territorium nie: meer spesifiek die strukturele herhaling van die deterritorialisering-(her)territorialisering-dinamika daarvan. Die mineurletterkunde aktiveer gewoon die latente potensialiteite van die groepering (soos hierbo bespreek) maar rig dit dan revolusionêr-polities as die uitreik na 'n nog nie gerealiseerde toekoms, in kritiese nabetragting op dít wat is/was. Hierdie kritiek is egter inhoudsloos en word slegs as kritiek op die status quo geïmpliseer deurdat die (potensiële) bestaan van 'n alternatief die geldigheid van die (werklike) hier en nou, sou bevraagteken.26

Uiteindelik het egter alle "goeie" letterkunde volgens Deleuze 'n mineur toonaard:

To write is certainly not to impose a form (of expression) on the matter of lived experience. Literature rather moves in the direction of the ill-formed or incomplete [...] Writing is a question of becoming, always incomplete, always in the midst of being formed, and goes beyond the matter of any livable or lived experience [...] Writing is inseparable from becoming: in writing, one becomes-woman, becomes-animal or vegetable, becomes-molecule to the point of becoming-imperceptible. (Deleuze 1998:1)

Opmerklik is dat Deleuze en Guattari se fokus hier op skryf is, nié op die (kritiese en populêre) resepsie, die kanonisering of marginalisering, die vertalingspolitiek of verspreiding van literêre werke nie. Om te skryf is die (deterritorialiserende) kreatiewe handeling, die oopbreek van verstarde vorme en die uitreik na iets nuuts. Maar in die konteks van groeperings binne groeperings is enige skryfdaad maar één newegeskikte onderdeel en is die rol van die skrywer, selfs al strook hy of sy met die verromantiseerde vergestalting van die nomaad wat tekste van wording skep, maar 'n funksie in die menige stratifikasies van die groepering.

Kritiek op Deleuze en Guattari se konseptualisering van mineurletterkundes as deterritorialiserend kan kortliks saamgevat word:

1) Onderskeie letterkundes, of dan die verskeie literêre groeperings wat die totale "groeperingspakket" verteenwoordig, word nie altyd deur Deleuze en Guattari in al die stratifikasies daarvan behandel nie - dít terwyl enige groepering uit verskeie dele bestaan wat bes moontlik in meer as een alternatiewe groepering sou kon funksioneer. As een voorbeeld het die lokaal-globaal-spanning tussen plaaslike en wêreldletterkundes nie net 'n enorme impak op literêre konvensies en gewildheid nie, maar selfs ook via vertaalregte 'n impak op die keuses rakende die (minderheids-)tale waarin werke oorspronklik geskep word. Deterritorialisering word, geprojekteer teen hierdie komplekse wisselwerking van groeperings binne groeperings, effe meer kompleks as wat hulle dit in baie van hul uitsprake aandui: 'n literêre teks of mineurletterkunde kan op een vlak deterritorialiserend wees, maar op 'n ander (her)territorialiserend.

2) Hulle siening van letterkunde berus op die verromantisering van die performatiewe skryfdaad, wat die deur dan ooplaat om die skeppende skrywer as draer van 'n nuwe, revolusionêre wêreld te tipeer. Reeds die interpretasie van tekste beteken egter dat die leser die gedeterritorialiseerde taal van die teks met betekenis herterritorialiseer. Die problematisering van deterritorialisasie kan nie by die skrywer en die skryfdaad stop nie.

3) Hoewel hulle duidelik stel dat mineurletterkunde selde in klein (minoriteits)letterkundes geskep word, word die presiese verhouding tussen mineur- en minoriteitsletterkundes nie altyd duidelik gemaak nie. Die hoofrede hiervoor is waarskynlik dat die opstelling klein-groot of minoriteit-majoriteit baie kunsmatig voorkom in kontekste waar verskeie tale op verskeie vlakke met mekaar meeding om dominansie - Suid-Afrika is hiervan 'n baie goeie voorbeeld.

Ter samevatting van die samevatting kan beweer word dat deterritorialisering nie eenduidig positief beoordeel moet word nie, dat dit kompleks gestratifiseerd is en dat die verhouding tussen mineur en minoriteit in die gebruik van die term verreken moet word.

3.2 Oor die politieke aard van mineurletterkundes

Wanneer Deleuze en Guattari oor die politieke waarde van mineurletterkundes besin, moet benadruk word dat dit nié gaan oor skrywers wat met en via hulle literêre werk politieke standpunte inneem of "betrokke" skryf nie. Littérature engagée onderskryf juis die diskursiewe reëls en riglyne wat enersyds die sinvolle diskoers van sosio-politieke kritiek moontlik maak en andersyds as gemeenskaplike deler dien, waarvolgens ander met hierdie kritiek (soos geartikuleer deur die betrokke skrywer) in gesprek kan tree. Hierteenoor onderskryf Deleuze en Guattari nie die geldigheid van die territorialiserende diskursiewe konteks nie en is dit in die deterritorialisering van die uitdrukkingsvorme, dat die abstrakte, politieke waarde volgens hulle sou lê: "We believe only in a Kafka politics that is neither imaginary nor symbolic" (Deleuze & Guattari 1986:7).27 Hulle s'n is 'n revolusionêre politiek sonder inhoud: revolusionêr in die deterritorialiserende sin van die woord, maar inhoudsloos omdat dit 'n "wording" beliggaam wat nog nie konkrete betekenis het nie. Daar is dus volgens hulle benadering 'n verskil tussen Politiek en politiek: hulle is nie gemoeid met die (makro-)Politieke diskoers as bedryf nie, maar eerder met 'n (mikro-)politiek van die alledaagse - 'n politiek wat weier om die sosio-politieke dinamikas van die Politieke territorium as groepering te bestendig of te repliseer.

Midde-in die onderskeid tussen performatiewe deterritorialisering en (her)territorialisering, Politiek en politiek, revolusionêre politiek en 'n politiek van bestendiging, word dit egter duidelik dat alles van die groepering uiteindelik polities relevant is. Ja, mineurletterkundes is per definisie polities van aard,28 maar die territorialiserende bestendiging van majeurletterkundes moet op soortgelyke grondslag as polities relevant gelees word:

What in great literature goes on down below, constituting a not indispensable cellar of the structure, here takes place in the full light of day, what is there a matter of passing interest for a few, here absorbs everyone no less than as a matter of life and death. (Deleuze & Guattari 1986:17)

Die graderings van die politieke waarde van onderskeie letterkundes as óf van sentrale belang (mineur) óf 'n terloopse verskynsel op die agtergrond (majeur) bewys egter 'n immerteenwoordige aanwesigheid van politieke veranderlikes in die letterkunde, hoe hierdie politieke waardes ook al geïnterpreteer word. Dit beteken egter dat die politieke waarde van mineurletterkundes nie as onderskeidende kenmerk of definisie gebruik kan word nie. Alles is polities (altyd op mikro-vlak, dikwels op makro-vlak), met die enigste kwalifisering dat die tipe politieke betekenis wat mineurletterkundes sou beliggaam, oor 'n revolusionêre potensiaal beskik wat binne 'n gegewe groepering uitsonderlik sou wees.

Twee opmerkings kan oor die politieke aard van mineurletterkundes gemaak word: Deleuze en Guattari se vooroordeel ten gunste van die revolusionêre politiek van mineurletterkundes is verstaanbaar, maar dit misken tog 'n territorialiserende politiek van die alledaagse (en trouens ook sekere Politieke waardes), wat dikwels 'n uiters belangrike rol speel om die samelewing eties te verskans: dikwels beskerm 'n territorialiserende pragmatiek gemeenskappe teen sosiale onreg of selfs die skending van menseregte. Tweedens ontstaan politieke betekenis rondom tekste dikwels nie in en deur die skeppingsproses nie, maar wel in die resepsie van die werke: hetsy dit om ideologiese redes vir 'n politieke saak geapproprieer word of as polities affronterend afgewys word. In die diskoers rondom minoriteitsletterkundes speel identiteitspolitiek byvoorbeeld dikwels 'n belangrike rol - maar dan veral ook tydens die resepsie van werke. Dít kan politieke betekenis tot gevolg hê, wat nie altyd by die identifisering van politieke potensiaal in die skryfdaad inpas nie, hetsy laasgenoemde as revolusionêr-deterritorialiserend of as behoudend-territorialiserend geïnterpreteer word.

Dit is twee aspekte rakende die politieke dinamika van mineurletterkundes wat in die werk van Deleuze en Guattari onderbelig bly. Tog is 'n veralgemenende en uitsluitlike fokus op die politieke waarde van mineurletterkundes al te dikwels 'n verskraling van hulle opmerkings in hierdie verband. Meer produktief sou wees om hulle idees verder te problematiseer, om daardeur soveel te meer die komplekse politieke dinamika van beide mineur- (en minoriteit) en majeur- (en majoriteits)letterkundes te verreken.

3.3 Oor die kollektiewe uitdrukkingswaarde van mineurletterkundes

Die derde en laaste kenmerk van mineurletterkundes sou volgens Deleuze en Guattari behels dat dit noodwendig oor 'n kollektiewe uitdrukkingswaarde beskik: enige uitspraak gerealiseer in hierdie letterkundes, selfs al sou dit individueel en uniek blyk te wees, oorstyg beide die intensies en die artikulasies/uitdrukkings van die spreker/skrywer soos gegrond in sy/haar individualiteit:

The third characteristic of minor literature is that in it everything takes on a collective value. Indeed, precisely because talent isn't abundant in a minor literature, there are no possibilities for an individuated enunciation that would belong to this or that "master" and that could be separated from a collective enunciation. Indeed, scarcity of talent is in fact beneficial and allows the conception of something other than a literature of masters; what each author says individually already constitutes a common action, and what he or she says or does is necessarily political, even if others aren't in agreement. (Deleuze & Guattari 1986:17; Deleuze 1998:3)

Individualisering, ook in terme van skrywerskap, skyn hiervolgens magsrelasies te impliseer - in majeurletterkundes verteenwoordig deur "meerdere", gekanoniseerde skrywers wat "mindere" skrywers op welke wyse ook al domineer of marginaliseer. Daarteenoor sou hierdie magsrelasies in mineurletterkundes gesystap kon word deur die feit dat enige uitdrukking outomaties 'n kollektiewe waarde veronderstel. Bogue (2003:108) verwys na 'n moontlike historiese en politieke beweegrede vir Deleuze en Guattari se fokus op kollektiewe ten koste van individuele uitdrukking: dit sou in hulle kritiek op die Westerse kapitalisme se sentraalstelling van die individu gegrond wees, waarvolgens magshebbers die politieke potensiaal van die kollektiewe groep ondermyn deur die kloof tussen subjek en kollektief ideologies te beklemtoon.29

Dit blyk baie duidelik dat van die drie kenmerke van mineurletterkundes, die politieke aard en die kollektiewe uitdrukkingswaarde daarvan die nouste met mekaar vervleg is: kollektiewe uitdrukkings sou inherent polities van aard wees, maar dan wel die deterritorialiserende, revolusionêre weergawe daarvan, soos hierbo bespreek. Desnieteenstaande is "kollektiewe uitdrukkingswaarde" as begrip nie so eenduidig nie en kan minstens drie definisies daarvan gegee word:

1) Die vorme van uitdrukking, as deel van die horisontale as van enige groepering, is per definisie altyd kollektief van aard: dit verwys na die semiotiese en ander vorme en strukture van betekenisskepping en betekenistoekenning wat onder meer 'n pragmaties-werkbare, diskursiewe konteks vir kommunikasie en interpretasie binne die groepering daarstel (kyk Deleuze & Parnet 1987:51; kyk ook DeLanda 2016:54).30

2) Kollektiewe uitdrukkingswaarde dui op die mineurskrywer as nomaad wat deur en in sy werk die kollektiewe potensiaal van 'n nog nie gerealiseerde werklikheid (as alternatief tot die status quo) beliggaam en bloot nog net impliseer. Dit behels die volle spektrum van die nog nie geaktiveerde potensialiteite van 'n moontlike groepering wat in die wordingsproses van die literêre kunswerk afgelees kan word: die saadjie van die toekoms dra 'n kollektiewe geheel met hom saam. Só verstaan word die mineurskrywer die segsman van 'n kollektief wat nog moet kom (kyk Deleuze & Guattari 1986:60, kyk ook 17-18, 84-85; kyk ook Bogue 2010:7).31

3) 'n Derde moontlikheid, wat egter wel nie deur Deleuze en Guattari onder die loep geneem word nie, speel in op die spanning tussen kollektiewe uitdrukkingswaarde as resultaat van aktiewe en performatiewe uitings gerealiseer in groeperings, en kollektiewe uitdrukkingswaardes wat bepaalde groepe, byvoorbeeld minoriteite, passief ten dele kan val. Binne die konteks van identiteitspolitiek word kollektiewe uitdrukking nie altyd performatief gebesig nie, maar soms ook passief toegeskryf, wat dan 'n homogenisering veronderstel wat nooit deur die bepaalde groep performatief uitgespeel is nie. Só gesien verteenwoordig kollektiewe uitdrukking 'n bloot passiewe status.32

Waar die derde definisie verwys na aspekte wat nie altyd deur die konsep van "mineur status" beskryf kan word nie, word dit soveel belangriker om die ander kant van die horisontale as, nl. die politieke en uitdrukkingswaardes van inhoudsvorme aan te dui. Vroeër is verwys na die rol van tegnologie (as inhoudsvorm) wat ook deterritorialiserende gevolge mag inhou - ook met betrekking tot die versteuring of fragmentering van kollektiewe uitdrukking, kan dit 'n beduidende rol speel. Die punt is bloot dat die kompleksiteite van beide politieke waarde en kollektiewe uitdrukking van mineurletterkundes sal baat by 'n nuansering van die konsep mineur. My voorstel is om 'n teoretiese model te gebruik waar mineur in 'n mineur-minoriteit-as verskans word, wat dan opgestel en in wisselwerking gestel word met 'n majeur-majoriteit-as.

 

4. 'N TEORETIESE MODEL: MINEUR-MAJEUR-MAJORITEIT-MINORITEIT AS KWARTET-KONFIGURASIE33

Die daarstel van 'n konseptuele model gegrond op Deleuze en Guattari se teoretisering van mineurletterkundes - maar ook verder toegelig vanuit die groter filosofiese konteks van veral hulle gesamentlike oeuvre - verteenwoordig myns insiens 'n uiters produktiewe invalshoek om die sosiologiese en estetiese dinamikas van nie net mineurletterkundes te takseer nie. Hierbo is die drie kenmerke van mineurletterkundes à la Deleuze en Guattari kortliks toegelig, deur onder meer ook die onderbeligte implikasies daarvan uit te wys en selfs enigsins te problematiseer. Myns insiens kan die meeste van die potensiële leemtes in Deleuze en Guattari se werk rondom mineurletterkundes daarna herlei word dat nie al die implikasies van die relasie tussen klein letterkundes en mineur status deur hulle deurdink en/of tot uitdrukking gebring word nie. Dit is belangrik dat 'n konseptuele model streng sal hou by Deleuze en Guattari se werk in hierdie verband, veral met betrekking tot hulle verstaan van sosiologiese dinamikas in terme van groeperings - en dan veral hulle verstaan van groeperings in terme van die kruising tussen 'n horisontale (inhoudsvorm-uitdrukkingsvorm) en 'n vertikale (deterritorialisering-(her)territorialisering) as.

Die model wat ek voorstel, is trouens niks meer as 'n aanpassing in terme van 'n duideliker uiteensetting van bogenoemde asse nie: 'n onderskeid word tussen mineur en minoriteit gemaak, soortgelyk aan 'n onderskeid tussen majeur en majoriteit. Minoriteit en majoriteit ressorteer beide onder inhoudsvorme34 en mineur en majeur status onder uitdrukkingsvorme35 - alles met betrekking tot die horisontale as van groeperings. Beide inhoudsvorme en uitdrukkingsvorme kan egter via die vertikale as van groeperings gedeterritorialiseerd of geterritorialiseerd wees - wat dan implikasies inhou vir beide minoriteite en majoriteite, deurdat die onderskeie territorialiserings en deterritorialiserings respektiewelik na 'n mineur of majeur status as uitdrukkingsvorm vertaal kan word.36

Die gevolg is 'n kwartet-konfigurasie van begrippe, wat mekaar interafhanklik impliseer: dit is nie 'n model wat wetmatigheide veronderstel nie, maar eerder poog om hoofstroom-tendense met mekaar te belyn. Verder veronderstel elk van die vier belynings telkens 'n glyskaal, deurdat die inhoudsvorme (minoriteite en majoriteite) soms modulerings van uitdrukkingsvorme (mineur en majeur status) word (en omgekeerd); of dat die mineur status soms na majeur status neig (of omgekeerd); of die minoriteit na die majoriteit (of omgekeerd). Verder is dit belangrik om daarop te let dat die model nié die verskillende stratifikasies van die (literêre) groepering in ag neem nie: dit is 'n kruissnit van minoriteit-majoriteit-mineur-majeur funksies wat nie die holistiese (of globale) sinchronisme van 'n gegewe groepering en/of groepering van groeperings ten volle verreken nie.37

 

 

Deleuze en Guattari was wel deeglik bewus van die kompleksiteite rondom mineur-majeur-minoriteit-majoriteit: hulle verwys in hulle werk onder meer na die dialekte van Quebec (en die verhouding daarvan tot Frans en Engels) en selfs Afrikaans in die koloniale en postkoloniale konteks (kyk Deleuze & Guattari 1987:102). Die duidelikste verband wat hulle trek tussen die minoriteit-majoriteit en die mineur-majeur-asse, is dat minoriteitsletterkundes, in 'n poging om sigself te legitimiseer, ironies genoeg juis geneig sou wees om sigself te herterritorialiseer met die normatiewe patrone van majoriteitsletterkundes; terwyl majoriteitsletterkundes veel gemakliker deterritorialisasie fasiliteer:

Conversely, Afrikaans attained homogeneity when it was a locally minor language struggling against English. Even politically, especially politically, it is difficult to see how the upholders of a minor language can operate if not by giving it (if only by writing in it) a constancy and homogeneity making it a locally major language capable of forcing official recognition (hence the political role of writers who assert the rights of a minor language). But the opposite argument seems more compelling: the more a language has or acquires the characteristics of a major language, the more it is affected by continuous variations that transpose it into a "minor" language. (Deleuze & Guattari 1987:102; kyk ook Deleuze & Guattari 1986:26-27, 86)

Uiteindelik bied die kwartet-konfigurasie volgens my 'n veel sinvoller perspektief op die fenomeen van mineur- (en majeur)letterkundes as om bloot na deterritorialisasie-(her)territorialisasie, die politieke aard en kollektiewe uitdrukkingswaarde van onderskeie letterkundes te verwys. Laasgenoemde twee kenmerke kan maklik in die belynings van die model tuisgebring word, juis deurdat dit relevant vir beide die minoriteit-majoriteit én mineur-majeur asse is - iets wat nie altyd in die besprekings deur Deleuze en Guattari pertinent uitgespel word nie. Die kwalitatiewe en kwantitatiewe interaksie tussen die konkrete rolspelers van die literêre diskoers en die normatiewe en subversiewe representasies wat dit betrek, verteenwoordig myns insiens trouens 'n veel genuanseerder literatuursosiologiese perspektief as wat menige sisteem- of netwerkanalises kan bied.

 

5. SLOT

Deleuze en Guattari se konseptualisering van mineurletterkundes is ingebed in die veel digter weefwerk van hulle afsonderlike en gemeenskaplike filosofiese idees. Die kwartet-konfigurasie wat hier voorgestel word, is 'n poging om baie pragmaties 'n kritiese perspektief te omlyn, van waaruit die magsrelasies tussen talle elemente van die literêre diskoers beskryf en bedink kan word. Enigiets vanaf kleiner letterkundes se interaksie met die wêreldletterkunde, die spanning tussen globaal en lokaal, die politiek van vertaling(s), die kommersialisering van literêre tendense, die verliterariseerde identiteitspolitiek van gemarginaliseerde groepe, die relasies tussen hoë en polulêre literatuur, die problematisering van literêre betrokkenheid tot die normatiewe omgaan met moeilike verledes, (self-)sensuur en politieke korrektheid, kan in hierdie model te berde gebring word. Om die duisend plato's van hulle denke tot die belynings tussen vier konsepte te verwerk is op die oog af intellektuele hubris, maar wat betref die unieke rol van die letterkunde het Deleuze selfs nog verder gegaan: dit is via die mineur status wat enige goeie letterkunde sou tipeer, dat laasgenoemde volgens hom die een enkele draer van die belofte van 'n more word.

 

BIBLIOGRAFIE

Alliez, Éric. 2015. Structuralism's Afters: Tracing Transdiciplinarity through Guattari and Latour. Theory, Culture & Society 32(5-6):139-158.         [ Links ]

Anker, Willem. 2007. Die nomadiese self: skisoanalitiese beskouinge oor karaktersubjektiwiteit in die prosawerk van Alexander Strachan en Breyten Breytenbach. Ongepubliseerde PhD-proefskrif: Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Anker, Willem. 2011. "Spanner in die wat?" - Wopko Jensma en die mineurletterkunde van Deleuze en Guattari. LitNet Akademies 8(3):167-194.         [ Links ]

Bensmaïa, Réda. 1986 . Foreword: The Kafka Effect. In Deleuze, Gilles en Guattari, Félix. 1986 [1975]. Kafka: Toward a Minor Literature. Minneapolis & London: University of Minnesota Press, pp.ix-xxi.         [ Links ]

Bogue, Ronald. 1989. Deleuze and Guattari. New York & London: Routledge.         [ Links ]

Bogue, Ronald. 1997. Minor Writing and Minor Literature. symplokē 5(1/2):99-118).         [ Links ]

Bogue, Ronald. 2003. Deleuze on Literature. New York & London: Routledge.         [ Links ]

Bogue, Ronald. 2007. Deleuze's Way: Essays in Transverse Ethics and Aesthetics. Hampshire & Burlington: Ashgate.         [ Links ]

Bogue, Ronald. 2010. Deleuzian Fabulation and the Scars of History. Edinburgh: Edinburgh University Press.         [ Links ]

Botes, Nina. 2012. "Haar art was befok, haar gap was groovy". Die resepsie van Ronelda Kamfer se Noudat slapende honde in Suid-Afrika en die Lae Lande. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans. 19(2):128-163.         [ Links ]

Casanova, Pascale. 2004. The World Republic of Letters. Cambridge, Massachusetts; London, England: Harvard University Press.         [ Links ]

Coetzee, Ampie. 2002. Swart Afrikaanse skrywers: 'n diskursiewe praktyk van die verlede. Stilet 14(1):149-166.         [ Links ]

Colebrook, Claire. 2002. Gilles Deleuze. London & New York: Routledge.         [ Links ]

Corngold, Stanley. 1994. Kafka and the Dialect of Minor Literature. In: College Literature 21(1):89-101.         [ Links ]

DeLanda, Manuel. 2002. Intensive Science and Virtual Philosophy. London, New Delhi, New York & Sydney: Bloomsbury.         [ Links ]

DeLanda, Manuel. 2006. A New Philosophy of Society. London & New York: Continuum.         [ Links ]

DeLanda, Manuel. 2016. Assemblage Theory. Edinburgh: University of Edinburgh Press.         [ Links ]

Deleuze, Gilles. 1998 [1993]. Literature and Life. In Deleuze, Gilles. 1998. Essays Critical and Clinical. London & New York: Verso, pp.1-6.         [ Links ]

Deleuze, Gilles en Guattari, Félix. 1986 [1975]. Kafka: Toward a Minor Literature. Minneapolis & London: University of Minnesota Press.         [ Links ]

Deleuze, Gilles en Guattari, Félix. 1987 [1980]. A Thousand Plateaus: Capitalism and Schizophrenia. Minneapolis & London: University of Minnesota Press.         [ Links ]

Deleuze, Gilles en Guattari, Félix. 1994 [1991]. What is Philosophy? New York: Columbia University Press.         [ Links ]

Deleuze, Gilles en Guattari, Félix. 2004 [1972]. Anti-Oedipus: Capitalism and Schizophrenia. London & New York: Continuum.         [ Links ]

Deleuze, Gilles & Parnet, Claire. 1987 [1977]. On the Superiority of Anglo-American Literature. In Deleuze, Gilles & Parnet, Claire. 1987 [1977]. Dialogues. New York: Athlone Press, pp.36-76.         [ Links ]

Edmunds, Lowell. 2010. Kafka on Minor Literature. In: German Studies Review 33(2):351-374.         [ Links ]

Genosko, Gary & Young, Eugene B. 2013. Assemblage. In Young, Eugene B. (ed.). The Deleuze and Guattari Dictionary. London, New Delhi, New York & Sydney: Bloomsbury, pp.34-37.         [ Links ]

Guattari, Félix. 2010 [1979]. The Machinic Unconscious. Cambridge: Semiotext(e).         [ Links ]

Kafka, Franz. 1983. Tagebücher: 1910-1923. Frankfurt am Main: Fischer Taschenbuch Verlag.         [ Links ]

Kaplan, Caren. 1987. Deterritorializations: The Rewriting of Home and exile in Western Feminist Discourse. In: Cultural Critique 6:187-198.         [ Links ]

Kreuzmair, Elias. 2010. Die Mehrheit will das nicht hören. Gilles Deleuze' Konzept der littérature mineure. In: Helikon, A Multidisciplinary Online Journal 1:36-47.         [ Links ]

Lambert, Greg. 2013. A Thousand Plateaus. In Young, Eugene B. (ed.). The Deleuze and Guattari Dictionary. London, New Delhi, New York & Sydney: Bloomsbury, pp.313-315.         [ Links ]

Larose, Karim & Roxanne Lapidus. 2002. Major and Minor: Crossed Perspectives. In: SubStance 97(31:1):36-47.         [ Links ]

Latour, Bruno. 2007. Reassembling the Social: An Introduction to Actor-Network-Theory. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Müller, Martin. 2015. Assemblages and Actor-networks: Rethinking Socio-material Power, Politics and Space. Geography Compass 9/1:27-41.         [ Links ]

Müller, Martin and Schurr, Carolin. 2016. Assemblage thinking and actor-network theory: conjunctions, disjunctions, cross-fertilisations. Transactions of the Institute of British Geographers 41:217-229.         [ Links ]

Nail, Thomas. 2017. What is an assemblage? SubStance 46(1-142):21-37.         [ Links ]

Pakendorf, Gunther. 1993. Kafka, en die saak vir 'n "klein letterkunde". Stilet 5(1):99-106.         [ Links ]

Pieterse, H.J. 2017. Variasie en variëteit: 'n Voorlopige verkenning van die voorkoms en funksie van taalvariëteite in Kaar (Marlene van Niekerk). Tydskrif vir Geesteswetenskappe 57(2-1):369-386.         [ Links ]

Polan, Dana. 1986. Translator's Introduction. In Deleuze, Gilles & Guattari, Félix. 1986 [1975]. Kafka: Toward a Minor Literature. Minneapolis & London: University of Minnesota Press, pp. xxii-xxix.         [ Links ]

Stander, A.S. 2012. Taal wat stamel, stotter en struikel: Marlene van Niekerk se Die sneeuslaper (2010) as mineurletterkunde. Ongepubliseerde MA-verhandeling: Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Van den Berg, Cilliers. 2018a. Die Lacaniaanse Reële in grufilms: Enkele opmerkings oor die "martelporno"-genre. LitnetAkademies 15(1).         [ Links ]

Van den Berg, Cilliers. 2018b. Die Lacaniaanse Reële in grufilms: Jennifer Kent se The Babadook (2014). LitnetAkademies 15(1).         [ Links ]

Van Zyl, Wium. 2005. Swart Afrikaanse Gemeenskapsteater in 'n oorgangstyd: 'n Verslag uit die Wes-Kaap. Stilet 17(3):91-103.         [ Links ]

Viljoen, Louise. 2005. Displacement in the literary texts of black Afrikaans writers in South Africa. Journal of Literary Studies 21(1/2):93-118.         [ Links ]

Vosloo, Franci. 2014. Vertaling en/as abjeksie: Antjie Krog. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus 43:359-391.         [ Links ]

Watson, Janell. 2013. Autopoiesis. In Young, Eugene B (ed.). The Deleuze and Guattari Dictionary. London, New Delhi, New York & Sydney: Bloomsbury, pp.38-39.         [ Links ]

Young, Eugene B. 2013a. Abstract Machine. In Young, Eugene B. (ed.). The Deleuze and Guattari Dictionary. London, New Delhi, New York & Sydney: Bloomsbury, pp. 17-19.         [ Links ]

Young, Eugene B. 2013b. Form of Content. In Young, Eugene B. (ed.). The Deleuze and Guattari Dictionary. London, New Delhi, New York & Sydney: Bloomsbury, pp.137-139.         [ Links ]

Young, Eugene B. 2013c. Territory; Territorialization. In Young, Eugene B. (ed.). The Deleuze and Guattari Dictionary. London, New Delhi, New York & Sydney: Bloomsbury, pp. 306-312.         [ Links ]

 

 

 

CILLIERS VAN DEN BERG is senior lektor in Duits letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy het 'n PhD in Duits (2003) en Afrikaans & Nederlands (2009). Sy navorsingsfokus is hoofsaaklik vergelykend van aard en fokus op die interaksie tussen letterkunde en sosio-politieke konteks, asook die kulturele omgaan met "moeilike verledes". Uitgebreide navorsingsbesoeke sluit besoeke aan die Universiteit van Augsburg (Duitsland), Leiden Universiteit (Nederland) en Cornell Universiteit (VSA) in.
CILLIERS VAN DEN BERG is senior lecturer in German literature at the University of the Free State. He has a PhD in German (2003) and Afrikaans & Dutch (2009). His research is mainly comparative in nature and has the interaction between literature and its socio-political context and the cultural coming to terms with "difficult pasts" as its focus. Extended research visits include research at the University of Augsburg (Germany), Leyden University (the Netherlands) and Cornell University (USA).
1 Kyk bv. Anker (2007, 2011); Botes (2012); Pieterse (2017); Stander (2012); Van Zyl (2005); Viljoen (2005) en Vosloo (2014).
2 Die gevare verbonde aan 'n gesimplifiseerde en generiese gebruik is tweërlei van aard: 1) dit kan lei tot oppervlakkige gevolgtrekkings wat nie die "risoomagtige" betekenisspektrum van die begrippe verreken nie; 2) of dit kan gewoon lei tot verkeerde verbandleggings, waar byvoorbeeld 'n noodwendige assossiasie tussen klein (minoriteit) en mineurletterkundes gemaak word.
3 So iets sou trouens naatloos by beide denkers se menings oor teoretiese begripvorming as intellektuele gereedskap aansluit (kyk Deleuze & Guattari 1994:8).
4 Dit sluit onder meer die onpresiese gebruik van terminologie in (wat deels te wyte is aan die mutering van die konsepte in die onderskeie werke en deels daarmee te make het dat verskillende begrippe soms na verskillende modulerings van dieselfde objek verwys), asook die "risoomagtige" aard van hulle denke, waar die nie-geëssensialiseerde ontologie dikwels performatief deur die tekste self uitgespeel word.
5 Nail (2017) beweer egter die teendeel hiervan en poneer 'n baie duidelike uiteensetting van groeperings, soos gebruik deur Deleuze en Guattari.
6 Kyk Intensive Science and Virtual Philosophy (2002), A New Philosophy of Society (2006) en Assemblage Theory (2016).
7 Die fokus op netwerke in die sosiale wetenskappe word skynbaar al hoe belangriker. DeLanda se eie werk vertoon ook sommige raakpunte met dié van sosioloog en filosoof, Bruno Latour (veral met verwysing na sy Reassembling the Social: An Introduction to Actor-Network-Theory, 2007). Die konvergerings en divergerings van agent-netwerk-teorie en "assemblage"-teorie bly 'n punt van kontestering (kyk bv. Alliez 2015; Müller 2015; Müller & Schurr 2016).
8 Die vertaling van Deleuze en Guattari se "agencement" is problematies: DeLanda (2016:1) stel dit baie duidelik dat "assemblage" nie die korrekte Engelse vertaling van "agencement" is nie, aangesien die oorspronklike Frans beide op 'n proses en 'n produk dui: die proses van versamel of byeenbring of groepeer en ook die produk (versameling of groepering) wat voorts hieruit voortgebring word. Die Afrikaanse groepering dui eweneens nie op beide aksie én gevolglike resultaat van die aksie nie en eersgenoemde moet hier ongelukkig as geïmpliseerde betekenis veronderstel word.
9 Kyk o.a. Genosko & Young (2013:34); Lambert (2013:314) en DeLanda (2006: 38, 40).
10 Die onderskeid tussen inhoudsvorm en uitdrukkingsvorm spruit uit die werk van die Deense linguis, Louis Hjelmslev, wat (veral in sy Prolegomena to a Theory of Language, 1943) 'n alternatief tot die linguistiese model van Ferdinand de Saussure daargestel het (kyk Deleuze & Guattari 1987:85-86; kyk ook Bogue 1989:126-127).
11 Kyk Deleuze en Guattari (1986:82, kyk ook 47); kyk ook Young (2013a:17); Bogue (2003:52, 61).
12 Kyk DeLanda (2016:5, 108-109, 122); kyk ook DeLanda (2006:30); Deleuze en Guattari (1986:86-87); Deleuze en Guattari (1987:91, 100, 511-513); Nail (2017:24-25); Bogue (1989:134-135, 148-149, 152) en Bogue (2003:99).
13 Kyk Deleuze en Guattari (1987:79, kyk ook 76-79, 82-83); Bogue (1997:109); Bogue (2007:20); Bogue (2013:5, 97).
14 Dit is dalk hier gerade om ook na 'n ander konsep van Deleuze en Guattari te verwys, naamlik kodering-dekodering (wat trouens deur DeLanda (2016) só belangrik geag word, dat hy dit as derde as by die twee asse van vorm-uitdrukking en (her)territorialisering-deterritorialisering voeg. Deleuze en Guattari maak 'n onderskeid tussen strata en groeperings, waarvolgens strata 'n meer gekodeerde en groeperings 'n minder gekodeerde konfigurasie van elemente verteenwoordig. Kodering dui op die wyse waarop die relasies tussen die elemente van strata-konfigurasies as intrinsiek gekodeer en vasgestel word. Soos bespreek, is die verhoudinge tussen die elemente van groeperings egter juis ekstrinsiek van aard, d.i. lukraak, en daarom nié so gekodeer soos die geval is by strata nie (kyk bv. DeLanda, 2016:3). 'n Gevolg hiervan is dat kodering-dekodering 'n veranderlike op 'n kontinuum met strata en groeperings as eindpunte is. Kyk DeLanda (2016:23, kyk ook 18); kyk ook Deleuze en Guattari (1987:503-505). Kodering-dekodering word hier vermeld omdat uitdrukkingsvorme nié met kodering verwar moet word nie - trouens ook nie met territorialisering nie.
15 Hier kan weer na die masjinale aard van groeperings verwys word: hoewel die groepering as georganiseerde eenheid funksioneer (dus territorialiserend), is die identiteite daarvan, soos masjiene, nie geëssensialiseerd nie (dus deterritorialiserend) (kyk bv. Colebrook 2002:55-56).
16 Wat hier vermeld kan word, is dat konflik in gegewe situasies wel die territorialiserende kontoere van bepaalde groeperings 'n duideliker reliëf verleen - iets wat byvoorbeeld in terme van identiteitspolitiek 'n beduidende (positiewe of negatiewe) rol kan speel. Kyk bv. DeLanda (2006:58; kyk ook 2016:22).
17 Hierbo is teen die eenduidige gelykstelling van kodering met territorialisering gewaarsku: dit is nie dieselfde nie, hoewel taal as kodering wél 'n verdere territorialisering impliseer (kyk bv. DeLanda 2006:15).
18 Kyk hierbo oor Deleuze en Guattari se siening van taal as handeling, overgeset synde die performatiwiteit van taal as uitdrukkingsvorm.
19 Daar kan in hierdie verband nie anders as om na Lacan se bespreking van die Reële van taal te verwys nie. Die Lacaniaanse Reële is 'n gekompliseerde begrip waarvan die interafhanklike samehang met die Imaginêre en Simboliese genuanseerd omskryf moet word. Sien onder meer Van den Berg (2018a en 2018b) vir 'n bondige uiteensetting hiervan.
20 Kyk bv. Deleuze en Guattari (1987:9-10); kyk ook Bogue (1989:104-105).
21 Stratifikasies van die groepering wat dan later ook op sigself groepering word/kan word.
22 Met verwysing na die bespreking van letterkunde hieronder, sou byvoorbeeld beweer kon word dat Afrikaans beide 'n minoriteits- (en mineur) én majoriteits- (en majeur) letterkunde kon wees, afhangende van die gegewe lokale of globale kontekste waarin dit gestel word.
23 Kyk Kafka se dagboekinskrywings van 25, 26 en 27 Desember 1911 (Kafka 1983:151-155). Kyk ook Edmunds (2010:351-374) vir 'n uitvoerige bespreking van hierdie inskrywings.
24 Kyk byvoorbeeld Corngold (1994:98); Edmunds (2010:352); Casanova (2004:203-204) en Kaplan (1987:187-198).
25 Kyk Larose en Lapidus (2002:36-47) en Kreuzmair (2010:36-47). Tog benadruk Bogue (1997:106-108) die oorhoofse strekking van wat Deleuze en Guattari se konseptualisering van politiek alles sou kon omvat.
26 Kyk bv. Deleuze en Guattari (1986:48); kyk ook Deleuze (1998:1). Dit herinner baie sterk aan Adorno se konsep van negatiewe estetika, waardeur kritiek juis skarnier op 'n diskreditering van die uitdrukkingsvorm van die groepering deur nie sinvol daaraan te probeer deelneem nie.
27 Dit dui natuurlik ook op politiek bedryf met verwysing na Lacaniaanse Simboliese diskursiwiteit en/of Imaginêre bestendiging. Dit is so dat laasgenoemde 'n geweldige belangrike rol speel in terme van identiteitspolitiek, wat dikwels herleibaar is na die identiteitsvorming van minoriteite. Dít is egter nie die politiek wat Deleuze en Guattari met mineurletterkundes bedoel nie.
28 Kyk Deleuze en Guattari (1986:17); kyk ook Polan (1986:xxiv).
29 Die vraag is egter of 'n homogenisering van individualiteite in alle gevalle noodwendig bo individuele uniekheid gekies moet word.
30 Dit beteken dat selfs skynbare meningsverskille bloot die volle spektrum van een enkele groepering se uitdrukkingsvorme realiseer (kyk Deleuze & Guattari 1986:82; Bogue 2003:109) en die ek agter die ons verdwyn (kyk Deleuze & Guattari 1986:83-84; Deleuze & Guattari 1987:79; Nail 2017:27). Wat egter hier veral belangrik is, is dat soos in die geval van die politieke waarde van mineurletterkundes, kollektiewe uitdrukkingswaarde geensins as onderskeidende kenmerk of definisie van mineurletterkundes gesien kan word nie.
31 Deleuze (1998:4) beskryf dit op 'n baie verromantiserende wyse.
32 Dit speel dan ook 'n rol in verskeie kontekste, maar dan vernaam in terme van minoriteite en nie mineurgroeperings nie (kyk bv. Bogue 1997:105).
33 Ek gebruik die anglisismes "majoriteit" en "minoriteit" in stede van "klein" of "minderheid" en "groot" of "meerderheid", aangesien dit myns insiens 'n wyer betekenisspektrum impliseer as wat deur die laasgenoemde begrippe gedoen word. Soos in voetnoot 34 aangedui word, is die "grootte" (aantal sprekers en/of aantal publikasies en of/aantal lesers) van 'n bepaalde letterkunde maar een aspek wat bepaal of dit 'n gedomineerde of dominerende posisie inneem.
34 My gebruik van die minoriteit-majoriteit status van letterkunde gaan nie bloot oor die suiwer kwantifisering van magsrelasies nie, hoewel ook dít 'n belangrike rol speel: minoriteitsletterkundes moet gesien word as demografies klein en/of gedomineer in terme van die sosio-politiese en/of kulturele en/of ekonomiese kapitaal daarvan; waarteenoor majoriteitsletterkundes telkens die teendeel hiervan veronderstel.
35 Majeur status verwys na 'n normatiewe horison wat 'n kollektief-genormaliseerde standaard vasstel en reguleer - dikwels (inhoudelik) in terme van politieke korrektheid, of goeie smaak, terwyl mineur status die ondergrawing daarvan impliseer, of ten minste divergering van die normatiewe verwagtingshorison.
36 Die politieke aard en kollektiewe uitdrukkingswaarde van mineurletterkundes word nie hier vermeld nie, maar soos by die bespreking daarvan aangedui is, is hierdie twee kenmerke ook nie onderskeidend nie. Dit bly egter steeds relevant in terme van die glyskale wat die konfigurasie belyn.
37 Die magsrelasies wat deur hierdie model geïmpliseer word, kan met redelike gemak op Deleuze se konseptualisering van mag by Nietzsche gekarteer word, waar hy 'n onderskeid maak tussen "magskwantiteite" (wat veranderlikes van dominansie insluit) en "magskwaliteite" (wat ook evaluatiewe en aktiewe en reaktiewe eienskappe insluit): noodwendig sal eersgenoemde met die minoriteit-majoriteit-belyning en laasgenoemde met die mineur-majeur-belyning saamhang (kyk o.a. Deleuze en Guattari 1986:24; Bogue 2003:5, 74; Bogue 2007:20; Bogue 2010:8-9).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons