SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 número4-2 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 no.4-2 Pretoria Dez. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n4-2a5 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (2)

 

Kerk en staat in twee gereformeerde kerkordes: 'n Ontleding van die Kerkordes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en die Ned Geref Kerk ná 1962

 

Church and state in two reformed church orders: An analysis of the orders of the Reformed Churches in South Africa and the Dutch Reformed Church post-1962

 

 

Piet Strauss

Ekklesiologie, Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein. E-pos: straussp@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die houding van kerke oor die verhouding kerk-staat toon ook elemente van die betrokke kerk se houding oor kerk en samelewing. Die benadering van twee Suid-Afrikaanse gereformeerde kerke na 1962 in hulle Kerkordes oor die verhouding kerk-staat, word ondersoek: die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) en die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK). Beide kerke verteenwoordig 'n standpunt wat tot op die Kerkorde (DKO) van die Nasionale Sinode van Dordtrecht in 1619 teruggaan. Soos in die DKO speel die Nederlandse Geloofsbelydenis van 1561 'n rol in die hantering van die saak deur beide Kerkordes. Die invloed van latere neo-Calvinistiese denkers skemer ook deur: sterker in die Kerkorde van die NGK as van die GKSA. Beide Kerkordes vertoon tekens van hulle eie tyd, hoewel die Kerkorde van die NGK hiervan ook meer dra as dié van die GKSA.

Trefwoorde: Belydenis bevat kernaspekte van geloof; Kerkorde gebonde aan Skrif en belydenis; Kerkorde bepaal kerkregering; Kerkorde-orde vir kerk teenoor staat; Dordts-gereformeerde benadering


ABSTRACT

The viewpoint of churches on the relation between Church and State shows signs of the specific churches' view on church and society. This article investigates the attitude of two South African reformed churches, namely the Reformed Churches of South Africa (RCSA) and the Dutch Reformed Church (DRC), to church and state in their church orders post-1962. Both churches accepted the term "reformed" in their name and subscribed to reformed confessions of faith. They are attempting to be reformed in their church government and, in so doing, their church orders.
It is accepted in reformed churches with reformed confessions that their confessions of faith should be a true and acceptable interpretation of Scripture on the core issues of the Christian faith. Confessions are, therefore, an expression or formula of the unity of faith. The reformed confessions of the RCSA and the DRC are, in fact, called "The Three Formulas of Unity". These churches accept the Word of God as the first and highest norm (norma normans) in church life, followed by the confessions as the second norm (norma normata) and an answer of faith to Scripture.
If that is the case and if the confessions express the core issues of faith, the church order of a reformed church should obey and follow the confessions and, in doing so, Scripture. This means that a church order should also follow Scripture and the confessions in formulating the church's attitude to the state or states in which it finds itself. State borders cannot restrict the church as an institution of faith. In addition, a church order is only binding on the church that accepted it.
The church order of the National Synod of Dordrecht in 1618-1619 (DCO) for reformed churches was, at that time, accepted as an example of a scriptural church order. Post-1962, the church orders of both the RCSA and the DRC strived to be an offspring of the DCO. In the same process, Article 36 of the Dutch Confession of Faith played a determining role in Article 28 of the RCSA's order, while neo-Calvinist thought, in the reformed tradition, strongly influenced Article 65 of the DRC's order, both on the topic of church and state. The DCO followed the Dutch Confession of Faith in that it accepted it as the task of the state to obey God and His commandments and to protect and promote the true Biblical doctrine of the church by the means of the state, if necessary. This was not the case in the order of the DRC. In 1967, the order of the RCSA was changed. It now refers to the task of believers to show respect for state authority, in general, because it is ordained by God. Prior to 1998, the order of the DRC referred to the protection of the church by its state authorities in showing gratitude for this, an emotion seldom found in a church order. In the stormy 1960s in South Africa, it also promised the government not to undermine its effort to uphold the authority of the state. In 1998, the order of the DRC was changed and its explicit support for the state authorities was omitted. Some of the verbal influence of neo-Calvinist thinkers was also omitted. Article 67 of the present church order of the DRC endeavours to adhere to the essence of Romans 13 on the state.
TO CONCLUDE: Both the church orders of the RCSA and the DRC are reformed in nature, but the former keeps a more verbal tie with the DCO. This is also the case in this order, in general. On the contrary, the DRC's order uses a freer attitude, but keeps the topics of the chapters of the DCO and some of the wording. In comparison with the order of the RCSA, the DRC's order shows far more links with the situation in which it finds itself, namely Southern Africa and the Afrikaner

Keywords: Confessions on core issues of faith; Church order according to Scripture and confessions; Church order determines church government; Church order order for church in relation to state Dutch Reformed attitude


 

 

INLEIDING EN PROBLEEM

Die verhouding kerk-staat in kerkordes is belangrik vir mense met 'n belang by die lewensbeskoulike en geestelike agtergronde van 'n samelewing. Eerstens weerspieël 'n kerkorde oor kerk en staat flitse van die heersende samelewingsopvatting by die besluitnemers van die betrokke kerk. 'n Opvatting wat aandui hoe, volgens hulle, samelewingskringe kragtens hulle eie aard teenoor mekaar moet optree. Tweedens gee die houding van hierdie kerk in dié opsig 'n aanduiding van watter geestestrome of -invloede in sy omgewing op die kerk deurwerk. Soos die Bybel in sy boodskap eietydse omgewingselemente - 'n sogenaamde Sitz im Leben - vertoon, so spring 'n kerk in sy oordra van hierdie boodskap, in sy belydenis, kerkorde en besluite, 'n eietydse kleed nie vry nie. Selfs uitgesproke reformatoriese of gereformeerde kerke wat in hulle kerkwees funksioneer met die 5 sola's van die Reformasie - sola Scriptura, sola gratia, sola fide, solus Christus en soli Deo gloria (dit is: alleen deur die Skrif, alleen deur die genade en die geloof, alleen deur Christus en tot eer van God alleen) - doen dit nie sonder hierdie kleed nie (NGK 2007A:13-17; NGK 2007H:89). Die sola's as vertrekpunte bly konstant of altydgeldend, maar die eietydse kleed of gestaltegewing daarvan in nuwe situasies kan verander (Kruger et al. 1966:168-169; Strauss, P.J. 2010:15-20).

Teen hierdie agtergrond gaan dit in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) en die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 2 gereformeerde kerkverbande of -gemeenskappe, in hulle hantering van die verhouding kerk-staat in hulle Kerkordes (GKSA-KO; NGKO) na 1962 om die kerklik-godsdienstige en samelewingsagtergronde. In die formulering van beide spreek die Nederlandse gereformeerde of Dordtse tradisie, waaronder die Nederlandse neo-Calvinisme en omstandighede in Suider-Afrika en onder Afrikaners, mee. Albei kerke is grootliks gesetel in Suider-Afrika en in die Afrikanergemeenskap. Albei aanvaar, soos die Nasionale Sinode van Dordrecht in 1618-1619, die Drie Formuliere van Eenheid as belydenisskrifte. Daarby probeer hulle met hul Kerkordes na 1962 die spoor volg van die Dordtse Kerkorde van 1619 (DKO 1619) aangepas by die "eise van die dag". Belydenisskrifte word immers vanuit 'n gereformeerde oogpunt beskou as die akkoord (konsensus) of basis vir kerklike eenheid of geloofsgemeenskap. Die akkoord wat, ondergeskik aan die Skrif, die kerklike lewe in al sy fasette waaronder die kerkorde, moet rig (Smit 1984:64).

Du Plooy (2015) toon aan dat die grondleggende Sinode van Reddersburg van die GKSA (1862) wat in 1859 ontstaan, behalwe die Drie Formuliere van Eenheid as belydenisskrifte, die "DKO vir die kerkregering" aanvaar het. Die DKO wat wil verseker dat die kerklike praktyk ten diepste deur die Woord van God en die belydenis soos verwoord in die Drie Formuliere van Eenheid, gereël word. 'n Kerkorde wat ooreenkomstig sy eie artikel 86 sedertdien "hier en daar aangepas en gewysig" is (CJBF 2015:29,122-125; Du Plooy 2015:6). Op sy beurt sê J.D. Vorster dat die eerste NGKO, NGKO 1962 én sy opvolgers tot in 2017, in hulle hoofstukke of temas en sommige van hulle verwoordings, die DKO "aangepas [het] by die eise van die dag" of die DKO in 'n moderne vorm is. Volgens NGKO 1962 en sy opvolgers (daar was sedertdien geen wysiging aan hierdie artikel nie) word die "leer" van die NGK "uitgedruk" in die Drie Formuliere van Enigheid ("Enigheid" is 'n Nederlandisme vir "eenheid" en "uitgedruk" verwoord die Nederlandse "begrepen in", kyk Kuyper sa:186-188) soos aanvaar op die Sinode van Dordrecht in 1619 (Vorster 1960:13; NGKO 1964:1-16; NGKO 2015:1). In hulle vertrekpunte vir die verhouding kerk-staat put die GKSA en NGK dus primêr uit dieselfde bronne.

Die vraag wat in hierdie artikel ondersoek word, is: wat bepaal die houding van GKSA-KO en NGKO as Kerkordes na 1962 oor die verhouding kerk-staat? Lê hierdie bepaling(s) - teen hulle Nederlandse agtergrond - in die verlengde van DKO 1619 artikel 28? 'n Artikel wat destyds die houding van die Gereformeerde Kerk in Nederland teenoor sy staatsowerheid bepaal het. Laasgenoemde was die State- Generaal of Nederlandse staatsowerheid wat deur Prins Mauritz as regent die Nasionale Sinode van Dordrecht van 1618-1619 moes byeenroep (Kruger et al. 1966:170).

Waar GKSA-KO die DKO in sy artikels meer letterlik volg, toon NGKO in sy bepalings 'n vryer aanpak. Behalwe dat die destydse samelewing van Nederland en van Suid-Afrika vandag ingrypend verskil, verskil die sosiologies-teologiese en wysgerige denkraamwerk wat die Nederlandse Gereformeerde Kerk destyds, naas ander oorwegings, gebruik het en dit waarvan die twee Suid-Afrikaanse kerke hulle na 1962 bedien, aansienlik. Tog skep laasgenoemde se verklaarde kerkordelike oriëntasie op Dordt die vraag na hulle konneksie met die DKO in die verhouding kerk-staat.

Wat ter inleiding ook gesê moet word, is dat kerkordebepalings oor die verhouding kerk-staat net vir die betrokke kerk of kerkverband bindind is en nie vir ander kerke of die betrokke staatsowerheid of state nie. Daarom gebruik ons die begrippe "kerk-staat" in hierdie volgorde omdat dit prinsipieel gaan om bepalings van die kerk vir die kerk self in sy verhouding tot die staat. Die kerk kan die staat nie met sy oortuigings bind of sy houding op die owerheid afdwing nie, maar moet kragtens sy geloofsaard die staatsowerheid Bybels-profeties oortuig. Ontsag vir kerklike besluite spruit nie uit die fisies dwingende aard daarvan nie - dwang is die metode van die staat as 'n regsverband gefundeer op die histories-fisiese (beheer deur die owerheid) swaardmag van die polisie en weermag (Fowler 1988:36; Strauss, D.F.M. 2015:286) - maar sy geestelike oorredingsvermoë. Die kerk as 'n geloofsverband of -instelling werk in werklikheid deur oorreding of oortuiging: oortuiging wat in beginsel primêr deur die Woord en Gees van God moet kom. Daardie Woord en Gees wat tot geloof in God en die aanvaarding van die Bybel as dié roetekaart vir die lewe lei. In die Dordts-gereformeerde tradisie word die norm "kerklike sake op kerklike wyse" (DKO 1619 artikel 30, in Pont 1981:179) of 'n ander formulering met min of meer dieselfde betekenis, sedert die sestiende eeu hiervoor gebruik (NGKO 2015:7; Strauss, P.J. 2010:57-61).1

Hoewel DKO 1619 die eerste Kerkorde in hierdie tradisie is wat 'n bepaling oor die houding van die Gereformeerde Kerk in Nederland teenoor sy staatsowerheid, oor die verhouding kerk-staat bevat (Jansen 1952:130; Kruger et al. 1966:168), dui die bepalings hieroor in GKSA-KO en NGKO daarop dat dit vir die GKSA en die NGK belangrik is. Soos 'n burgerlike hof hou 'n kerkorde hom in beginsel nie op met nietighede nie. En in beide GKSA-KO en NGKO is hierdie saak in artikels opgeneem. Hierteenoor het 'n geesgenoot soos die Christian Reformed Church in North America nie 'n kerk-staatbepaling in sy Kerkorde nie. Skynbaar is so 'n bepaling vir 'n kleinerige kerk in die grote VSA - vir 'n klein vissie in 'n regsplegende groot dam - nie nodig of bruikbaar nie (Van Dellen & Monsma 1967:341-355; Engelhard & Hofman 2001:7-9).

Vervolgens val die lig op die verhouding kerk-staat soos verwoord in die DKO, GKSA-KO en NGKO. 'n Vergelyking tussen die drie teen die agtergrond vir hulle bepalings, word ook aangebied.

 

KERK-STAAT IN DIE DORDTSE KERKORDE: AGTERGROND

Jansen (1952) wys daarop dat die meeste bepalings in die DKO van voor 1600 kom. DKO artikel 28 oor die verhouding van die Gereformeerde Kerk in Nederland tot sy staatsowerheid vind egter eers in 1619 sy ingang in die Kerkorde. 'n Kerkorde wat in sy oervorm by die Konvent van Wezel in 1568 ontstaan en by die Sinodes daarna, tot by Dordt 1619, aangepas en gewysig is. Die rede vir hierdie invoeging is nie vir Jansen duidelik nie. Tog vermoed hy dat die Nederlandse Gereformeerde Kerk in sy Kerkorde die "cracht van publyke wetten" of staatswette wou hê om met groter vrede en "stichtinge" sy werk te doen. Teenoor die Remonstrante of Arminiane met hulle dwalinge rondom die uitverkiesing van die gelowiges én hulle idee dat die kerk onder die owerheid staan asook die Roomse leer dat die staat onder die kerk staan, wou hulle die verhouding vanuit 'n kerklike hoek reg omskryf (Jansen 1952:130). Op sy beurt bespiegel Pont (1981) dat die Dordtse Sinode die guns van die owerheid wou wen sodat hulle die verwerping van die Arminianisme kon opvolg met 'n vervolging van die betrokke persone - in die 17e eeu word staatsapparaat dikwels tot die gewaande voordeel van die kerk aangewend (Pont 1981:188; Strauss, P.J. 2015:7).

Hoe dit ook al sy: die Gereformeerde Kerk in Nederland het in 1618-1619 oor 'n kerkvriendelike State-Generaal beskik wat hierdie kerk as die bevoorregte kerk beskou het. Welbekend is die owerheid se befondsing van die werk vir die voltooiing van die Nederlandse Statevertaling van die Bybel teen 1633. 'n Vertaling wat Nederlands as 'n gestandaardiseerde spreek- en skryftaal deurslaggewend bepaal het en wat in die 17e eeu 'n simbool van die sukses van die Nederlandse staat geword het (Nienaber sa:14). Daarby het die van owerheidsweë verpligte teenwoordigheid van kommissarisse-politiek op kerkvergaderings oor kwessies soos die vraag na die status van die belydenisskifte, nie net 'n hartlike verhouding geskep nie, maar die Gereformeerde Kerk ook van staatsteun verseker. Dit was 'n kommissaris-politiek, Marthinus Gregorii, wat op die Dordtse besluit van 1619 oor die binding van die Drie Formuliere van Eenheid (geloofseenheid) as Skriftuurlik in hulle formulering van die geloof, ter vergadering goedkeurend gereageer en morele steun gegee het (Strauss, P.J. 2006:664-665). In die notule van hierdie Sinode word die goedkeuring op 30 April en 1 Mei 1619 omskryf as goedkeuring van "de leer in de Belijdenis en de Cathechismus dezer Kerken begrepen" (Kuyper sa:323-325; Donner & Van den Hoorn sa:325). Die belydenisskrifte is die Nederlandse Geloofsbelydenis (die Belijdenis of NGB) en Heidelbergse Kategismus (die Cathechismus of HK). Die Dordtse Leerreëls is daarna bygevoeg om die Drie Formuliere van Eenheid te vorm. Daarmee is die geloofseenheid van die Gereformeerde Kerk geformuleer (Kuyper sa:186-187). 'n Formule wat deur die GKSA later in sy ondertekeningsformulier vir alle ampsdraers opgeneem is (CJBF 2015:29, 122-125) en deur NGKO 1962 en sy opvolgers tot op hede in sy artikel 1 as die "leer wat die Kerk in ooreenstemming met Gods Woord bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Enigheid", aanvaar is. 'n Aanvaarding wat in sy formulering deur die Algemene Sinode van 1998 van die NGK opnuut omskryf en bevestig is (NGKO 1964:2; NGKO 2015:1; NGK 1998:414-415).2

 

KERK EN STAAT IN DIE DORDTSE KERKORDE: AANVULLEND TOT MEKAAR

Dit is duidelik dat die Dordtse Sinode in 1619 nie aan die staatsowerheid voorskryf wat hom in hierdie verhouding te doen staan nie.3 Wat gebeur, is dat die DKO 1619 artikel 28 die owerheid se omskrewe optrede teenoor die Gereformeerde Kerk as bekend en gebruiklik veronderstel. Dat DKO artikel 28 van hierdie optrede as 'n gegewe uitgaan. Vry vertaal begin artikel 28 met "Gelijk" of, in Afrikaans, soos wat die Christelike owerhede (in Nederland) die "heiligen kerkedienst" (erediens) op alle moontlike maniere beskerm en bevorder, hulle onderdane hierin by wyse van voorbeeld voorgaan en aan die dominees, ouderlinge en diakens in nood die hand reik, so is die kerk aan die owerheid die volgende verskuldig

Die veronderstelling word ingetrek in 'n vergelyking. Die taak van die owerheid teenoor die kerk word as 'n veronderstelling aangebied en in 'n vergelyking met hierdie veronderstelling word bepaal wat die kerk as kerk aan owerheidspersone "verskuldig" is (Kruger et al. 1966:169). Ten opsigte van 'n bepaling of reëling vir optrede rig die DKO hom slegs tot die Gereformeerde Kerk. Die geldigheid van so 'n gevolgtrekking word bevestig deur die feit dat ongeveer 'n derde van DKO artikel 28 met die beskrywing van die gebruiklike optrede van die Christelike owerhede teenoor die kerk besig is en ruim tweederdes met die genormeerde taak van die kerk teenoor die owerheid. Die eerste derde bevat die beskrywing van die gebruik van owerheidskant en die laaste tweederdes gee bepalings vir die kerk in sy optrede teenoor die owerheidspersone of "magistraten" (teks in Nederlands deur Pont 1981:179).

In 1619 word die staat teen die agtergrond van die feodale sisteem met feodale here of eienaars nog nie as 'n niepersoonlike samelewingsverband of -struktuur beskou nie, maar setel staatsfunksies in die owerheidspersone of "Christelijke overheden". Daarom personifieer die DKO die Nederlandse staat met Christelike owerhede of owerheidspersone (Kruger et al. 1966:170). Wat ook duidelik is, is dat die DKO die Nederlandse owerheidspersone eksplisiet as 'n Christelike bate en 'n staatlike vennoot van die Gereformeerde Kerk beskou: alles in 'n soort corpus christianum. Spoelstra (1989) praat van die "beginsel van die Christelike ryk (corpus christianum) wat by die Nederlandse owerhede sterk geleef het". Vanuit die feodale kontrakreg moes die staatsowerheid sorg vir die godsdiens van sy onderdane. Wat Spoelstra in sy verduideliking oorsien, is dat die NGB artikel 36 en DKO artikel 28 by Dordrecht in 1619 in dieselfde tyd aanvaar word en met die NGB as normatief nie van mekaar geskei kan word nie. Die feodale agtergrond kon hoogstens versterkend hierop inspeel. Die Drie Formuliere van Eenheid was op hierdie stadium as lewende rigtinggewende kerklike belydenisse in hulle bloeityd en lê, soos straks aangetoon word, in die verlengde van Calvyn.

In Nederland se goue sewentiende eeu het die Gereformeerde Kerk as die kerk wat deur die staat bevoorreg word, 'n hoogbloei beleef. Na aanleiding van die kerk van Johannes Calvyn in Genevé en sy verhouding met sy stadsowerheid, is die Nederlandse staatsbevolking en die gedoopte en belydende lidmate van die Gereformeerde Kerk beskou as twee kante van dieselfde munt. Die grondslag daarvan was die opvatting dat so 'n samelewing 'n teokratiese verbonds- of eenheidsgemeenskap vorm waarin almal gedoop is (deel in God se genadeverbond en daarom die kerk) en God deur die staatsowerhede deur middel van sy Woord en Wet teokraties regeer ('n teokrasie). Calvyn was oortuig dat kerk en staat albei onder die 10 gebooie van God staan en mekaar vanuit hulle eie invalshoeke aanvul. Daarom dat die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) artikel 36, as 'n Calvyngeoriënteerde of 'n gereformeerde dokument, bepaal dat die owerheid sy hand hou aan die kerk in die uitvoering van sy opdrag. Volgens Calvyn moet die owerheid die eerste tafel van Gods wet uitleef deur die Christelike godsdiens te beskerm en die gesonde kerklike leer, desnoods met staatsapparaat, te verdedig. 'n Saak wat in DKO artikel 28 veronderstel word en gekoppel word aan "alle manieren" (Calvyn sa:555-557, 574; Strauss, P.J. 2010:126; Strauss, P.J. 2015:5). DKO artikel 28 vertoon dus 'n aantoonbare neerslag van Calvyn en die NGB. Vir die Sinode van Dordrecht van 1618-1619 moes die Drie Formuliere as Skriftuurlike stukke bepalend wees vir die kerklike orde en praktyk. 'n Gereformeerde Kerk hou by die sola scriptura-beginsel. Daarby vertoon DKO artikel 28 die trekke van sy kerk- en staatsgemeenskap. In 1651 bevestig die Nasionale Vergadering van die sewe Verenigde Provinsies van Nederland hierdie denkrigting as hy uitdruklik vashou aan die ware "Christelijke religie" wat met die "Macht van 't Land ghehandhaeft" sal word (Pont 1986:37).

Wat beskou DKO 1619 as kernopdragte of kerkordelike bepalings vir die kerk in sy verhouding tot die staatsowerheid? 'n Gereformeerde kerkorde bevat immers kernbepalings of toegespitste kanale vir kerklike optrede en nie gedetaillleerde of gereglementeerde voorskrifte nie (Strauss, P.J. 2017:5).

Volgens DKO 1619 artikel 28 moet die predikante, ouderlinge en diakens as kerklike ampsdraers dit vlytig en opreg by die "gansche gemeente" inskerp om gehoorsaamheid, liefde en eerbied tenoor die "magistraten" te betoon (afgedruk in Pont 1981:179). Bloot op die terminologie van die DKO af, dui gehoorsaamheid, liefde en eerbied daarop dat dit hier om 'n Christelike owerheid of eie lidmate in die owerheidsamp gaan. Vanuit hulle gemeenskaplike geloof word gehoorsaamheid, liefde en eerbied vir mede-Christene normale, vanselfsprekende opdragte. Medegelowiges kan vertrou word om God se opdragte en gebooie vir die staatsowerheid te herken en uit te voer en kan as owerhede formeel en inhoudelik gehoorsaam word. Daarby is liefde tussen staatsowerhede en -onderdane 'n uitvloeisel van hulle geloofseenheid. Boonop is eerbied vir die owerhede, gelowig of nie-gelowig, lewend in Romeine 13. Gesag deur God gegee met verantwoordelikheid aan God, vra eerbied of respek van die gelowige onderdaan omdat hy die Here agter die gesag van die owerheid moet raaksien.

DKO 1619 laat sake egter nie hierby nie.

"Kerklijke personen" moet met hulle goeie voorbeeld gemeentes in bogenoemde sake voorgaan. Deur "behoorlijk respect" en korrespondensie of 'n saampraat by geleentheid moet kerklike ampsdraers die guns van die owerheid vir die kerke (gemeentes) wen én behou. So word die vertroue tussen kerk en owerheid gehandhaaf terwyl hulle saam ywer vir eerbied aan God en die welsyn van die kerke (afgedruk in Pont 1981:179).

Hierdie opdragte kom ooreen met die NGB artikel 36 as vertrekpunt. Vir die gemeenskaplike ywer van kerk en staat vir 'n Christelike of Godgehoorsame samelewing word eerbied vir God en sy gebod by beide veronderstel. 'n Eerbied wat emosioneel versterk word deur wedersydse vertroue tussen staatsowerhede en kerklike ampsdraers en lidmate. Die gemeenskaplike geloof dat die welsyn van die kerk as draer van die verlossingsboodskap van die lewensomvattende Woord van God, 'n prioriteit is, is 'n bestaansvoorwaarde vir hierdie gemeenskap.

Die inhoud van die DKO 1619 artikel 28 spruit dus uit die lyne van die NGB wat as Skriftuurlik-normatief beskou is (Strauss, P.J. 2010:81) én uit die samelewingsomstandighede en die oortuigings van destydse Nederlanders. Opgesom beteken dit dat kerk en staat elk 'n eie roeping en samelewingsfunksie het, mekaar se eie aard moet respekteer en vanuit gemeenskaplike oortuigings in 'n eenheidsgemeenskap beide in diens van God staan. Kerk en staat moet mekaar eerbiedig as 'n opdrag van God, maar die staat moet verder gaan as om die kerk slegs deur sy monopolie van die swaardmag in die betrokke gemeenskap te beskerm. Gehoorsaam aan die 10 gebooie wat liefde vir die enigste God vra, moet die staat ook sorg vir die verspreiding van die suiwer Bybelse leer. 'n Leer waarvoor hy uitdruklik kies en met staatsmetodes bevorder. Die soli Deo Gloria-beginsel vereis dat 'n teokratiese verbonds- of eenheidsgemeenskap in alles na die eer van God soek. Dat kerk en staat twee kante van dieselfde Christelike gemeenskap of samelewing vorm.

GKSA-KO wat in die verlengde van die DKO wil werk, hanteer die verhouding kerk-staat ook in artikel 28. Hoewel GKSA-KO soos die DKO met 'n "Soos" begin en in styl en sekere bewoordings 'n duidelike afstammeling van die DKO is, gaan dit in belangrike opsigte 'n eie weg op.

 

GKSA-KO OOR KERK EN STAAT: DORDTS EN TOG

By beide GKSA-KO en NGKO is daar oor kerk en staat 'n aantoonbare onderskeid tussen enersyds die GKSA voor en na 1967, en die NGK voor en na 1994 andersyds. Die datums dui daarop dat die wysiging in die GKSA-KO los van politiek-staatkundige omstandighede of veranderinge in Suid-Afrika kom, maar dat die NGK-KO se wysiginge hierteenoor juis op politieke veranderinge volg. In die GKSA-KO kom daar in 1967 'n wysiging van 'n byna woordelikse Afrikaanse navolging van DKO artikel 28 omdat NGB artikel 36 teen hierdie tyd anders gelees word, maar in die NGK-KO dwing die nuwe situasie in Suid-Afrika en onder Afrikaners na 1994 hom klaarblyklik by die Algemene Sinode van 1998 tot 'n wysiging. Die nuwe situasie na 1994 noop die NGK in 1998 tot 'n hersiening van NGKO 1962 artikel 65 wat, op die keper beskou, dateer uit die stormagtige sestigerjare in Suid-Afrika en een of ander tyd net eenvoudig moes kom (Strauss, P.J. 2010:127-129). Dit gaan om 'n situasie wat duidelik blyk uit die woorde van NGKO 1962 artikel 65 teenoor die bewoording van die nuwe NGKO 1998 artikel 65 wat teen 2015 NGKO artikel 67 is (Kruger et al. 1966:167-168; Spoelstra 1989:166; NGKO 1964:14-15; NGKO 1998:26; NGKO 2015:33).

Voor 1967 lees GKSA-KO artikel 28 hoofsaaklik soos die DKO.

Wat die staat of "Christelike owerhede" betref, is die Dordtse struktuurdraers se invloed merkbaar in die verwoording van die veronderstelde optrede van die "Christelike owerhede" teenoor die kerk en die genormeerde optrede van die GKSA teenoor die owerhede. Die veronderstelling is ("Soos dit die plig is") dat die owerhede in Suider-Afrika die "heilige kerkdiens" bevorder, deur voorbeeld onderdane aanspoor om aan kerklike ampsdraers (predikante, ouderlinge en diakens) in nood hulp te bied en hulle "volgens die vasgestelde orde" te beskerm. Vir die GKSA word bepaal dat die ampsdraers getrou en vlytig by die "hele gemeente" gehoorsaamheid, liefde en eerbied vir die "owerhede" sal inskerp. "Kerklike persone" moet deur voorbeeld gemeentes voorgaan en deur "behoorlike agting en korrespondensie" probeer om die "guns van die owerhede" teenoor die kerk te wek en te behou. "Elkeen wedersyds" in kerk en staat moet hierdie verpligtinge "in die vrees van die Here" nakom, sodat "alle agterdog en wantroue" in die gemeenskap voorkom en die belang van die "kerke" gedien word (Kruger et al. 1966:167-168).

Die hooftrekke van GKSA-KO voor 1967 oor die verhouding kerk-staat as Dordts-gereformeerd staan dus duidelik uitgedruk in hierdie GKSA-KO artikel 28.

Soos in die DKO is die veronderstelling dat die Christelike owerhede die kerk en sy werk, waaronder die ampsdraers en die heilige kerkdiens, binne laasgenoemde se eie kerklike orde sal beskerm én bevorder. Die staatsowerheid en sy onderdane moet die nood van die ampsdraers van die kerk hoor en hanteer. Op hulle beurt moet die kerklike ampsdraers by die kerke of gemeentes gehoorsaamheid, liefde en eerbied vir die staatsowerhede inskerp en deur agting en korrespondensie die guns van die owerhede vir die kerk opwek en behou. As die staatsowerheid en die kerk uit "vrees" vir die Here dié pligte teenoor mekaar nakom, word agterdog en wantroue in die samelewing vermy én die belang van die GKSA gedien.

Hierdie GKSA-KO bly dus by die DKO se idee van 'n corpus christianum. Die veronderstelling word in GKSA-KO oorgeplant dat die owerhede in Suider-Afrika Christelik is en die "heilige kerkdiens" en gereformeerde boodskap sal beskerm én bevorder. Die veronderstelling hier is ook dat die owerhede gunstig teenoor die GKSA is en die geloofsoortuigings van die kerke as owerheid sal bevorder. Soos in die DKO gaan dit by GKSA-KO dus om meer as net die juridies-bepaalde beskerming van die kerk in sy vryheid van geloof of om sy geloof in vryheid te beoefen. Dit gaan ook om die bevordering van die leer van die kerk. Daarby is die Christelike owerhede as die owerhede in Suidelike Afrika die GKSA skynbaar so positief gesind dat dit korrespondensie of voorleggings uit die GKSA sal oorweeg. Die owerhede is mos "ons mense", aldus hierdie GKSA-KO.

So bly GKSA-KO Dordts en handhaaf dit die vroeëre punt van die NGB wat die staatsowerheid aanvaar as 'n instansie wat die gereformeerde kerk steun én bevorder. Daardie punt waarop die owerheid die kerk nie net juridies beskerm in sy vryheid van godsdiens en geloof nie, maar sy staatsapparaat ook in diens van die leer van 'n spesifieke kerk stel. 'n Staatsowerheid wat sy hand hou aan die "heiligen kerkedienst", "alle" afgodery en valse godsdiens teenwerk en die ryk van die antichrist "te gronde werpen" - soos die NGB dit aanvanklik stel (Polman sa:266). Volgens hierdie GKSA-KO bly die GKSA as sodanig op die spoor van die DKO en is dit 'n bevoorregte kerk. Die GKSA maak steeds daarop aanspraak dat die betrokke owerhede hulle as kerk kan bevoorreg.

In 1967 word GKSA-KO artikel 28 gewysig. Die byna strakke verbale ooreenkomste daarvan met die DKO word verminder en 'n eie situasie in Suider-Afrika en in die GKSA word weerspieël. Die Christelike owerhede word vervang met die meer algemene en minder omstrede "owerhede as instellings van God". Immers, Romeine 13 praat van alle gesag as 'n beskikking van God.

Eerstens beperk die nuwe artikel 28 die taak van die staatsowerheid teenoor die kerk tot algemene, niegekwalifiseerde "hulp en beskerming". 'n Omskrywing van 'n veronderstelde staatsplig wat pas by die juridiese integreringstaak van die owerheid in die samelewing en waartoe hy, op grond van sy beheersing van die dwingende fisiese swaardmag in die betrokke staatsgebied, in staat is. 'n Taak wat afgestem is op 'n ewewig en harmonie van die staatlike en niestaatlike of privaatregtelike regsbelange van alle burgers en nie, byvoorbeeld, op die bevoorregting van 'n spesifieke kerk nie (Fowler 1988:37). Die nuwe GKSA-KO koppel die staatsowerheid aan wat prinsipieel die taak en vermoë van die staat is: 'n juridiese integrator in algemene regsbelang. 'n Konsensus wat wyd aanvaar word onder resente reformatoriese denkers (Strauss, D.F.M. 2015:286). Tweedens moet ampsdraers in die GKSA by die gemeentes gehoorsaamheid en eerbied teenoor die staatsowerheid - Christelik of nie - inskerp en as kerke/gemeentes of 'n kerkegemeenskap die guns van die owerheid vir die kerke opwek en behou: alles in belang van dié kerke of gemeentes. Kerkvergaderings moet korrespondensie met die owerheid onderhou en die meewerking van die owerheid verkry om oor relevante kwessies as kerke voor hom te getuig (Spoelstra 1989:166; Visser 1999:121; CJBF 2015:23). 'n Opdrag wat weerklink in die reformatoriese gemeenskap en in ander gereformeerde kerke. Visser beklemtoon hierdie "belangrike en duidelike" opdrag van die Here aan die GKSA in Suid-Afrika in 1999 - 5 jaar na die oorname van 'n grondwetlik gesproke godsdiensneutrale regering in 1994 - teenoor die "neiging en houding" by sommige dat dit nutteloos sal wees (Visser 1999:122; Constitutional Assembly 1997:3-4). Spoelstra oordeel dat "kerkrade, klassisse en streeksinodes" die getuienis van die GKSA versterk as hulle ook getuig en self hulle vertoë aan die owerheid voorlê (Spoelstra 1989:168).

Met hierdie aanpak van die tema "Kerk en staat" beweeg GKSA-KO verder as die DKO, in die verlengde van die DKO en die beginsels van die DKO teen sy destydse agtergrond én binne die dampkring van meer resente reformatoriese insigte. Reformatoriese en kerklik gereformeerde insigte wat aan talle gereformeerde teoloë, reformatoriese wysgere en vakwetenskaplikes toegeskryf kan word. 'n Breë denkstroom waarin die name van figure in Nederland en Suid-Afrika, bekende figure soos Calvyn, Kuyper, Stoker en Dooyeweerd by geleentheid tot 'n mindere of meerdere mate opduik (Strauss, P.J. 1993:15-17; Strauss, D.F.M. 2015:283). Dit is opmerklik dat die GKSA-KO artikel 28 uit 1967 handhaaf in Suid-Afrika na 1994 (Visser 1999:121; CJBF 2015:23). Die GKSA as 'n selfverklaarde gemeenskap van kerke is dus oortuig dat GKSA-KO artikel 28 algemeengeldend vir gereformeerde kerke in watter situasie ook al is. Boonop toon GKSA-KO 'n kerklike selfstandigheid met die erkenning tussen kerk en staat van mekaar te midde van wisselende samelewings- en politieke omstandighede.

 

DIE NGKO 1962 OOR KERK EN STAAT: NEO-CALVINISTIES EN TOG

Daar is reeds daarop gewys dat NGKO 1962 die DKO, aangepas by die eise van die dag, wou wees en dat NGKO 1962 vryer in sy aanpassing by die DKO was en hoofsaaklik die prinsipes, hoofstukindelings en sommige verwoordings van die DKO wou oorneem. Volgens die aktuarius of kundige in die kerkreg en -orde van die eerste Algemene Sinode, J.D. Vorster,4 wou die NGKO so verseker dat NGKO inderdaad die DKO aangepas by die eise van die dag sou wees. Vorster was tereg daarvan oortuig dat die kontinuïteit van NGKO met die DKO in die konstantes of prinsipes en nie die praktiese neerslag daarvan nie, lê. Die woord "konstantes" impliseer juis kontinuïteit (Strauss, P.J. 2010:7).

In plaas van 'n navolging van die DKO en die vroeëre weergawe van die NGB op hierdie punt, gebruik NGKO 1962 beginsels uit die neo-Calvinistiese tradisie van die twintigste eeu - Kuyper skroom nie om homself 'n neo-Calvinis te noem nie (Ridderbos 1947:315). Konstantes wat in woorde en voorbeelde van die eie tyd geklee word (Strauss, P.J. 2010:127).

Soos die DKO stel NGKO 1962 en sy opvolgers geen normatiewe eise aan die staat nie. 'n Kerkorde kan 'n staatsowerheid immers nie bind nie.

NGKO 1962 artikel 65 val weg met die bepaling dat die kerk as die vergadering van die gelowiges wat uit die vrymagtige welbehae van Jesus Christus "ontstaan, bestaan en voortbestaan", "selfstandig in eie bevoegdheid" is ('n term ontleen aan die gedagtewêreld van H.G. Stoker wat hierdie beginsel nie op sosiale strukture nie, maar sy kosmiese dimensie van gebeurtenisse toepas - Stoker 1961:177). 'n Sinoniem vir "selfstandig in eie bevoegdheid" word hierby in hakies geplaas: "soewereiniteit in eie kring" (NGKO 1964:14). Hierdie begrip word aan Kuyper ontleen (Kuyper 1930:3) en deur Kuyper, Stoker en Dooyeweerd vir die unieke eie aard van sosiale strukture gebruik (Stoker 1961:173-174; Strauss, P.J. 1993:14; Strauss, D.F.M. 2015:283).

NGKO 1962 artikel 65 borduur voort deur te bepaal dat die NGK as 'n selfstandige kerkinstituut hom in sy deelname aan die regsverkeer en uitoefening van burgerlike regte aan die gesag en wette van die staat onderwerp in soverre hierdie deelname nie met die Woord van God bots nie. Volgens NGKO 1962 aanvaar die NGK met "dankbaarheid" die beskerming van die owerheid asook die erkenning van sy "onvervreembare" reg op vryheid van godsdiens: in belydenis en byeenkoms. Die NGK beloof om hierdie vryheid nie te misbruik deur staatgesag te ondergrawe of wanorde op publiekregtelike terrein te veroorsaak nie. Tog beskou die NGK dit as sy roeping om die staatsowerheid en die wêreld waarin hy staan, profeties aan te spreek (NGKO 1964:14-15).

Behalwe vir sy duidelike neo-Calvinistiese denke en terminologie (NGKO artikel 66 gebruik boonop die neo-Calvinistiese term van 'n "moderne gedifferensieerde samelewing",5 'n vreemde begrip in die kerk as 'n geloofsinstelling) vertoon NGKO 1962 die posisie van die NGK as hy pastoraal-ondersteunend met die beleërde Suid-Afrikaanse staatsowerheid na Sharpville in 1960 in gesprek tree. Hy praat oor die regsbeskerming van die kerk deur die owerheid en beweerde ondermyning deur organisasies soos die African National Congress (ANC), Pan Africanist Congress (PAC) en Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP). Anders as die gebruik of styl in saaklike gereformeerde kerkordes, raak NGKO 1962 en sy opvolgers tot 1998 byna emosioneel as as hy met "dankbaarheid" gewag maak van die beskerming van die NGK deur die Suid-Afrikaanse owerheid in "belydenis en byeenkoms". Daarby beloof hy byna naïef gewillig om die gesag van die staat nie, soos ander instansies, te ondergrawe of wanorde op publiekregtelike terrein te veroorsaak nie. So gee NGKO 1962 blyke van sy emosionele solidariteit met die Christelike owerhede in sy Sitz im Leben. Die regerende Nasionale Party was inderdaad vol NGK-lidmate. Boonop spruit hierdie solidariteit uit 'n nalewing van die Nederlandse teokratiese verbonds- of eenheidgemeenskap onder Afrikaners, 'n saak waarna reeds verwys is (vir die saak onder Afrikaners kyk Pont 1988:38-53).

Hoewel NGKO 1962 artikel 65 uitgaan van die onderlinge erkenning en respek vir die eie aard en roeping teenoor mekaar van kerk en staat en voorbeelde van beide ophaal, toon hy 'n onkerkordelike emosionele verknogtheid aan die Suid-Afrikaanse owerheid van destyds. 'n Verknogtheid wat na die NGK se gekwalifiseerde verwerping van apartheid - apartheid soos dit in die praktyk begin funksioneer het - in 1986 en 1990 met die dokumente Kerk en Samelewing-1986 en 1990, 'n verleentheid kon word. 'n Verleentheid wat kon vererger met die aanvaarding deur die Algemene Sinode van 1998 van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke se verwerping van apartheid: "not simply in its effects and operations but also in its fundamental nature" (Strauss, P.J. 2013:43-46).

 

NGKO 1998: 'N NUWE AANSLAG TEN OPSIGTE VAN KERK EN STAAT

Met die oorname van die ANC-regering in Suid-Afrika in 1994, was NGKO 1962 en sy opvolgers in hulle standpunte oor kerk en staat verouderd en uit pas met die staatsregtelike verwikkelinge. 'n Nuwe benadering met nuwe bepalings vir die NGK in die nuwe situasie, 'n situasie met nuwe rolspelers in nuwe omstandighede, was noodsaaklik. Die bewoording van NGKO 1962 artikel 65 het sy eietydse toepaslikheid verloor.

Soos sy voorgangers erken die nuwe NGKO 1998 artikel 65 slegs die taak van die staat soos omskryf en gee hy nie 'n uitvoerige reeks bepalings vir die optrede van die staat teenoor die kerk nie. Romeine 13 word aan die staat in die algemeen verbind en daarom erken NGKO die staat as 'n dienaar van God tot "ons beswil". "Ons beswil" omdat God wat regeer die owerheid die taak oplê om die reg, waarby die reg van die kerk op geloofsvryheid ongekwalifiseerd inbegrepe is, te handhaaf en die kwaaddoeners te straf. NGKO 1998 gee blyke van 'n voortslepende debat as hy verklaar dat 'n "staatsowerheid wat deur sy fisiese swaardmag in beheer van 'n bepaalde staatsgebied is, deur God beskik en as sodanig erken moet word". Vir NGKO 1998 word 'n owerheid nie gewettig deur 'n verkiesing deur die meerderheid nie, maar deur die beskikking van God. Daarmee kies NGKO 1998 lynreg teen party resente skrywers (Van Niekerk 1987:11) en die NGK se eie Kerk en Samelewing-1990 (NGK 1990:40) vir 'n teosentriese teenoor 'n humanistiese standpunt.6 Die eerste Kerk en Samelewing, Kerk en Samelewing-1986, skryf die bestaan van 'n owerheid egter toe aan die voorsienigheid (beskikking) van God (NGK 1986:53).

NGKO 1998 handhaaf ook die bepaling dat die norm vir die deelname van die NGK aan die publieke regsverkeer en vir sy uitoefening van regte, die Woord van God is. NGKO 1998 gebruik moderne taal as verklaar word dat die NGK se reg op vryheid van godsdiens "wat haar Bybels-profetiese getuienis teenoor die staatsowerheid" insluit, onvervreembaar en kosbaar is. Boonop maak die NGK volgens NGKO 1998 artikel 65 hierin op die "regsbepaalde beskerming" van die staat aanpraak. NGKO 1998 erken die regstaak van die owerheid, maar spreek laasgenoemde by implikasie aan om dit in die nuwe misdaadoorlaaide Suid-Afrika - na 1994 - ook teenoor die NGK te vervul. In 2002 kry NGKO 2002 'n nuwe bepaling wat duidelik kennisneem van die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996 as deel van sy Sitz im Leben. NGKO 2002 artikel 2.3 maak voorsiening daarvoor dat die NGK sy eie interne orde reël. 'n Reëling op grond van, onder andere, sy "reg tot vryheid van godsdiens": 'n reg in artikel 15 van hoofstuk 2 van genoemde Grondwet (NGKO 2002:1; Handves van Regte, Hoofstuk 2 SA Grondwet 1996, in Kleyn & Viljoen 1998:269). Ten slotte bepaal NGKO 1998 artikel 65 die NGK se benadering van die staatsowerheid op alle vlakke (NGKO 1998:26).

Sommige sake in NGKO 1998 artikel 65 is opvallend.

In plaas van NGKO 1962 se wysgerig-sosiologiese terme, gebruik NGKO 1998 makliker, duideliker en meer saaklike kerktaal. Tog handhaaf dit 'n skaars verbloemde kontinuïteit met sommige konstantes van die DKO en NGKO 1962. Kerk en staat moet van mekaar onderskei word met elk 'n eie Godgegewe taak en roeping én respek vir mekaar. Die twee werk aanvullend tot mekaar deur die kerk in sy geloofstaak en die staatsowerheid in sy regstaak in die samelewing respektiewelik. Die NGK maak nie staat op staatshulp vir sy taak nie en verwag nie van die owerheid om van hom 'n bevoorregte kerk te maak of staatsapparaat vir sy kerklike roeping aan te wend nie. NGKO 1998 artikel 21 en sy opvolgers bepaal daarby in elke geval dat die kerk sake vanuit kerklike perspektief, in die lig van die Woord van God en op kerklike wyse hanteer (NGKO 1998:9; NGKO 2015:7). In ooreenstemming hiermee gebruik NGKO 'n teosentriese vertrekpunt om die wettigheid van 'n owerheid te bepaal en nie 'n mensgeoriënteerde populistiese benadering aan te hang nie. Volgens die NGB artikel 29 beskik die Here God die ware kerk deur sy Woord en Gees (NG Kerk-Uitgewers 1982:29) én NGKO 1998 artikel 65 wat in NGKO 2015 artikel 67 word, sê dat die owerheid wat Hy beskik, wettig is (NGKO 1998:26; NGKO 2015:21). Nie een is die resultaat van 'n meerderheid tydens 'n menslike verkiesing nie. Gesag met verantwoording aan Hom as die eintlike, gesagvolle Gesagsdraer, word deur God beskik. NGKO bly ook by die Bybels-profetiese getuienisroeping van die NGK teenoor die owerheid wat deur beide NGKO 1962 en NGKO 1998 artikel 65 as 'n kerklike funksie gekoester word (NGKO 1962:15; NGKO 1998:26).

NGKO vertoon dus 'n moderne kleed met Calvyn en die DKO bepalend op die agtergrond. Weg is die konsep van 'n teokratiese verbonds- of eenheidsgemeenskap soos by Calvyn en die DKO. Weg is die woordgebruik en formulerings van Nederlandse en Suid-Afrikaanse neo-Calvinistiese denkers van die 19e en 20e eeu in NGKO 1962. Die implisiete "ons regering deur ons mense" van 1962 word vervang met 'n saakliker Bybelse benadering, gegrond op Romeine 13, van 'n owerheid wat in 1998 in sy optrede nie so Christelik of "van ons" is nie (Strauss, P.J. 2003:255-256). Die reformatoriese of neo-Calvinistiese aanslag is nog daar, maar geklee in nuwe terme met 'n begrip vir eietydse kwessies. Die handhawing van konstantes in hierdie aanpak toon dat Calvyn en Dordt aktueel bly. Dat Calvyn op dié manier die geestelike voorloper van gereformeerdes in die 21e eeu bly (Strauss, P.J. 2010:129).

 

SLOT EN SAMEVATTING

As verklaarde gereformeerde kerke, wat ook setel in die naam van die twee kerkgemeenskappe of kerke, volg die GKSA en die NGK met GKSA-KO en NGKO in hulle bepalings oor kerk en staat steeds die Dordts-gereformeerde en breë reformatoriese rigitng in 'n veranderde Suider-Afrika - 'n Suider-Afrika wat op die GKSA voor en na 1967 minder en op die NGK voor en na 1998 meer invloed het. Beide Kerkordes staan met kerk en staat in die verlengde van die konstantes of prinsipes van die DKO met 'n DKO-oriëntasie "aangepas by die eise van die dag".

In hoofsaak kom dit daarop neer dat kerk en staat aanvullend tot mekaar vanuit elkeen se eie, unieke funksie of roeping in die samelewing moet opereer. Dat die kerk as 'n geloofsverband 'n geloofstaak met die Woord as primêre middel het, terwyl die staat 'n juridiese integreringstaak het, wat die regsbelange van almal in die gemeenskap moet beskerm en versorg en teenoor mekaar balanseer en harmonieer. 'n Moontlikheid wat geskep is deur sy beheersing van die histories-fisiese swaardmag in die gemeenskap. Beide GKSA-KO en NGKO toon dat die bepalings van 'n kerkorde slegs die betrokke kerk bind. Daarom impliseer beide dat die staatsowerheid die kerk beskerm deur sy reg op geloofsvryheid te beskerm, terwyl beide aan die kerk en sy ampsdraers die opdrag gee om respek vir die owerheid te bevorder en teenoor die staat as kerk te getuig.

Beide GKSA-KO en NGKO toon dat die verhouding kerk-staat vir hierdie gereformeerdes so belangrik is, dat hulle bepalings daaroor in hulle kerkordes opneem.

 

BIBLIOGRAFIE

Bavinck, H. 1967. Gereformeerde Dogmatiek IV. Kampen: Kok.         [ Links ]

Calvyn, J. sa. Institutie IV. Delft: Meinema (vetaling deur A. Sizoo).         [ Links ]

CJBF 2015. Kerkordeboekie van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Potchefstroom: CJBF en Adminstratiewe Buro.         [ Links ]

Constitutional Assembly, 1997. The constitution of the Republic of South Africa 1996. Wynberg: Hn Communications.         [ Links ]

Du Plooy, A. le R. 2015. Inleiding op die kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA). CJBF, Kerkordeboekie van die GKSA. Potchefstroom: CJBF en Administratiewe Buro.         [ Links ]

Engelhard, D.H. & Hofman, L.J. 2001. Manual of Christian Reformed Church Government. Grand Rapids: CRC Publications.         [ Links ]

Fowler, S. 1988. The state in the light of the Scriptures. Potchefstroom: PU for CHE.         [ Links ]

Jansen, J. 1952. Korte verklaring van de kerkorde van de Gereformeerde Kerken. Kampen: Kok (3e druk).         [ Links ]

Kleyn, D. & Viljoen, F. 1999. Beginnersgids vir regstudente. Kenwyn: Juta (2e druk).         [ Links ]

Kuyper, A. 1930. Soevereiniteit in eigen kring. Kampen: Kok.         [ Links ]

Kuyper, H.H. sa. De Post-acta of na-handelingen van de National Synode van Dordrecht in 1618 en 1619 gehouden. Amsterdam: Höveker en Wormser.         [ Links ]

Kruger, L.S., Du Plessis, H.L.M., Spoelstra, B. & Spoelstra, T.T. 1966. Handleiding by die kerkorde. Potcefstroom: Pro Rege (gebruik as Kruger et al.         [ Links ]).

Ned Geref Kerk (NGK), 1986. Kerk en Samelewing 1986. Bloemfontein: NG Sendingpers.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (NGK), 1990. Kerk en Samelewing 1990. Bloemfontein: NG Sendingpers.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (NGK). 2007A. Agenda Algemene Sinode 2007. Sl:sn.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (NGK). 2007H. Handelinge Algemene Sinode 2007. Sl:sn.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (NGKO). 1964. Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (NGKO). 1998. Die Kerkorde. Wellington: Hugenote-Uitgewers.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (NGKO). 2013. Die Kerkorde. Sl:sn.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (NGKO). 2015. Die Kerkorde. Sl:sn.         [ Links ]

NG Kerk-Uitgewers. 2004. Ons glo Die Drie Formuliere van Eenheid en Ekumeniese Belydenisse. Wellington: NG Kerk-Uitgewers (3e uitgawe, 2e druk).         [ Links ]

Nienaber, P.J. sa. Die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling. Johannesburg:sn.         [ Links ]

Polman, A.D.R. sa. Onze Nederlandsche Geloofsbelijdenis IV. Franeker: Wever.         [ Links ]

Pont, A.D. 1981. Die historiese agtergronde van ons kerklike reg I. Pretoria: HAUM.         [ Links ]

Pont, A.D. 1986. Verbond en volkskerk. Hervormde Teologiese Studies 42(1):28-76.         [ Links ]

Pont, A.D. 1988. Die Gelofte van 1838 - 'n poging om die teologiese agtergrond daarvan te peil. Pont, A.D. Die Gelofte van 1838 - historiese gebeure en verpligtende werklikheid. Pretoria: Kital, pp. 38-53.         [ Links ]

Ridderbos, S.J. 1947. De theologiesche cultuurbeschouwing van Abraham Kuyper. Kampen: Kok.         [ Links ]

Smit, C.J. 1984. God se orde vir sy kerk. Pretoria: NG Kerkboekhandel van Transvaal.         [ Links ]

Spoelstra, B. 1989. Gereformeerde kerkreg en kerkregering. Hammanskraal: GKSA.         [ Links ]

Stoker, H.G. 1961. Beginsels en metodes in die wetenskap. Potchefstroom: Pro Rege.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2012. A history to attempt to delimit (state) law. Journal for Juridical Science 37(2):35-64.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2015. The idea of a "Just State" (Rechtstaat) with reference to a unique feature of the Constitution of South Africa. South African Journal of Philosophy 34(3):279-288.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2018. Gemeenskappe in 'n gedifferensieerde samelewing. Tydskrif vir Geestes-wetenskappe 58(1):138-160.         [ Links ]

Strauss, P.J. 1993. Op die tweesprong? Die Ned Geref Kerk oor die tema "kerk en samelewing" in Die Kerkorde en Kerk en Samelewing-1990. Bloemfontein: UV.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2003. Church and state authority in South Africa. European Journal for Church and State Research, 10:239-258.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2006. Die Dordtse tradisie en binding aan die belydenis. In die Skriflig 40(4):649-666.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2010. Kerk en orde vandag. Met die klem op die NG Kerk. Bloemfontein: Sunmedia.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2013. Kerkwees in die branding. Die Ned Geref Kerk in algemene sinodale verband 1994-2011. Bloemfontein: Sunmedia. Acta Theologica Supplementum 18.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2015. Gereformeerdes onder die Suiderkruis 1652-2011. Bloemfontein: Sunmedia.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2017. 'n Kerkorde in gereformeerde kerke toegepas op die Nederduitse Gereformeerde Kerkorde van 2013. In die Skriflig https://www.researchgate.net/publication/316553207.         [ Links ]

Strauss, S.A. 2008. Herman Bavinck (1854-1921). Gaum, F (hoofred). Christelike Kernensiklopedie. Wellington: Lux Verbi, pp. 94-95.         [ Links ]

Van Dellen, I. & Monsma, M 1967. The Revised Church Order Commentary. Grand Rapids: Zondervan.         [ Links ]

Van Niekerk, A 1987. Staatsgesag en burgerlike ongehoorsaamheid. Du Toit, D.A. (red). Staatsgesag en burgerlike ongehoorsaamheid. Kaapstad: Lux Verbi, pp. 7-19.         [ Links ]

Visser, J. 1999. Die Kerkorde in praktyk. Orkney: EFJS Drukkers.         [ Links ]

Vorster, J.D. 1960. Die kerkorde van die Ned Geref Kerke. Ned Geref Teologiese Tydskrif 1/4, 12-18.         [ Links ]

 

 

 

PIETER JOHANNES STRAUSS word in 1988 'n dosent in Ekklesiologie of Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan sy alma mater, die Universiteit van die Vrystaat en tree op 30 Junie 2015 af. Benewens ongeveer honderd artikels in geakkrediteerde akademiese tydskrifte, het Strauss ook verskeie boeke geskryf. Hy spits hom toe op gereformeerde kerkreg en kontemporêre Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis, soos blyk uit onlangs verskene werke. In die kerkreg lewer Kerk en Orde vandag (2010), blyke van 'n reformatoriese deurwerk van die bekende Solas van die Reformasie van die sestiende eeu na vandag. Kerkwees in die branding - die Nederduitse Gereformeerde Kerk in algemene sinodale verband 1994-2011 (2013), verteenwoordig 'n kontemporêr kerkhistoriese werk vanuit 'n reformatoriese benadering. Strauss was vir twee termyne, van 1999-2003 en 2005-2008, die moderator van die Vrystaatse Sinode van die Ned. Geref. Kerk. Hy beklee dieselfde amp by die Algemene Sinode, van 2007-2011. Hy is ook aktief op kultuurterrein en was vir 12 jaar, van 2001-2011, die hoofleier van die Afrikaanse jeugbeweging, Die Voortrekkers.
PIETER JOHANNES STRAUSS was appointed as a lecturer in Church Polity and Church History at the University of the Free State in 1988 and retired on 30 June 2015. Apart from some 100 articles in accredited academic journals, Strauss also authored a number of books. He focuses mainly on the topics of Church Polity and modern South African Church History, as can be seen in recently published works. In Church and Order today (2010) he argues that 3 Solas of the Reformation of the sixteenth century should also be accepted and implemented today, while in Being church in troubled times - the Dutch Reformed Church in the bond of its general synod 1994-2011 (2013), he uses a reformational approach in modern church history. Strauss was moderator of the Free State Synod of the Dutch Reformed Church for the periods 1999-2003 and 2005-2007. He was also moderator of the General Synod of the same church in 2007-2011. In addition, he is actively involved in cultural events and, for 12 years (2001-2013), he served as leader of the Afrikaans youth movement, Die Voortrekkers.
1 Dit is die vermaarde gereformeerde dogmatikus Herman Bavinck wat in sy Dogmatiek IV die stelling maak dat goeie kerkregering noodsaaklik is vir die deurwerking van Woord en sakrament in die breë kerklike lewe. Dit sluit DKO artikel 28 soos oorgeneem in die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland in Bavinck se tyd (1854-1921) in (vgl. Strauss, S.A. 2008:94; Jansen 1952:129-130). Bavinck vervolg: "De belijdenis is de hoofdzaak, maar de kerkenorde is het middel om de belijdenis te handhaven. En evengoed als eene onzuivere belijdenis ook de regering vervalscht, gaat er van eene slechte regeering een bedervende invloed op de belijdenis uit" (Bavinck 1967:403-404).
2 In dieselfde trant verwys die legitimasieverklaring van die Ned Geref Kerk na "die leer soos vervat in die drie algemene belydenisskrifte en die Drie Formuliere van Eenheid" wat ooreenkom met die Woord van God. Die leer in die drie algemene belydenisskrifte word egter in artikel 9 van die NGB aanvaar as ooreenkomstig die Skrif, sodat NGKO se aanvaarding van die Drie Formuliere die algemene belydenisskrifte insluit, NGKO (2015:55).
3 Hierteenoor beweer Jansen dat hierdie eerste deel van DKO artikel 28 handel oor die roeping van die owerheid ten opsigte van die kerke en daarom nie in 'n kerkorde tuishoort nie. Sy argument is ook dat die kerke nie bo die staatsowerheid staan en aan hom sy optrede kan voorskryf nie (Jansen 1952:130).
4 J.D. Vorster neem leiding by die opstel van NGKO 1962. Hy skryf waarskynlik die eerste 4 van 6 hoofstukke en redigeer die res (Langner 2007:87).
5 Kyk Danie Strauss se gemaklike gebruik van die term "gedifferensieerde samelewing" in 'n debat oor die aard van die menslike samelewing as 'n vanselfsprekende term in 'n Christelik-wysgerige en sosiologiese benadering (Strauss, D.F.M. 2018:149-152). Vroeër wys Strauss in 'n artikel oor 'n regstaat in 'n gedifferensieerde samelewing daarop dat so 'n staatsowerheid op basis van sy monopolie oor die swaardmag 'n "multiplicity of legal interests" op sy staatsgebied moet balanseer en harmonieer ( Strauss, D.F.M. 2015:286).
6 Strauss verwys na Jean Jandun en Marsilius van Padua wat reeds in 1326 n.C. in hulle Defensor Pacis van die mens in plaas van God die bron van gesag - ook vir die staat - maak (Strauss, D.F.M. 2012:40,45,50).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons