SciELO - Scientific Electronic Library Online

vol.58 issue4-2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand



Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.4-2 Pretoria Dec. 2018 



Mans se rol in die stryd om gendergeregtigheid: 'n Historiese oorsig van antifeminisme en profeminisme


Men's role in the quest for gender justice: A historical overview of antifeminism and profeminism



Engela Pretorius

Navorsingsgenoot, Universiteit van die Vrystaat. E-pos:




Die sosiale orde word deur die loop van millennia deur genderongelykheid gekenmerk. Dit het aanleiding gegee tot die vrouebevrydingsbeweging en feminisme. Mans was van meet af aan betrokke by die stryd om gendergeregtigheid1 - weliswaar op verskillende maniere. Sommige het organisasies teen vroue (antifeministies) en ander vir vroue (profeministies) gevestig. Op hul beurt het vroue aanvanklik mans se betrokkenheid verwelkom (in die 1960's), maar teen die middel van die 1970's het radikale feministe mans se ondersteuning van die vrouebeweging grotendeels verwerp. In die 1990's het feministe ontevredenheid in eie geledere ervaar. Die kritiek teen sogenaamde hegemoniese feminisme was veral van vroue van kleur afkomstig. Alhoewel verskeie redes vir mans se betrokkenheid aangevoer word, word sodanige betrokkenheid meermale bevraagteken. Talle voorbehoude word derhalwe in hierdie verband gestel. Alhoewel profeminisme hoofsaaklik in Amerika en Europa ontstaan het, het dit uiteindelik na Afrika gemigreer. 'n Suid-Afrikaanse profeministiese organisasie, Sonke Gender Justice, dien as teenvoeter vir die antifeminisme van ʼn nuwe jeugbeweging (onder invloed van Julius Malema) en tradisionaliste soos Jacob Zuma.

Trefwoorde: Gendergeregtigheid, feminisme, antifeminisme, profeminisme, hegemoniese manlikheid, mansregtebeweging, mansbevrydingsbeweging, Sonke Gender Justice


Gender is central to social life. Yet, throughout human history, the social order has been characterised by gender inequality. The first active steps towards creating an equitable society can be traced to around 1792 when Mary Wollstonecraft's "A vindication of the rights of women" was published. An integral part of her advocacy for all human rights was her rejection of slavery and she often drew an analogy between the positions of women and those of slaves. From the outset, endeavours at achieving gender justice were either supported or loathed by men. In the mid 20th century, the responses to the effects of feminism and those of women's struggles for equality culminated in a so-called "men's movement". A distinction is generally drawn between two types of men's movement that lie at the opposite extremes of a continuum, namely, at the one end, conservative or anti-feminist (the men's rights movement) and, at the other, liberal/progressive or profeminist (the new men's movement).
Men's rights groups reject women's liberation, claiming that women cover up the reality that men are most oppressed and that they (women) actually possess the power. South African examples of anti-feminist movements include Promise Keepers South Africa and the Mighty Men Conference Movement.
Women, in their turn, either welcomed men's involvement or regarded it with suspicion. Even if, during the 1960s, the women's movement welcomed male activists, some feminists were sceptical of this development and, by the mid 1970s, radical feminism surfaced. It largely rejected men's support of the women's movement, its premise being that all men benefited from gender oppression.
During the 1990s, discontent among feminists became apparent. Criticism against what was regarded as hegemonic feminism was expressed by women of colour. These women rejected the idea of a universal sisterhood. Although black women in South Africa had actively participated in the liberation struggle since the 1950s, a distinctly feminist consciousness was totally lacking. The first steps towards establishing organisations geared exclusively towards women's liberation only followed late in the 1980s. African feminists, because they are not only concerned about women's issues but about social issues, generally accept men as allies.
While several justifications for engaging with men have been advanced, some concern has however been raised as regards the involvement of men or the so-called "men-streaming" approach advocated by international organisations. Several provisos have consequently been advanced in this regard, the most fundamental of these being that such inclusion/involvement should be seen to advance the overarching feminist aim of gender equality.
The male activists in Britain and America who supported women's suffrage at the beginning of the 20th century are viewed both as the initiators of the men's liberation movement and the pioneers of the profeminist movement that gained prominence during the 1960s. In South Africa, Sol Plaatje and Steve Biko are regarded as having been profeminist.
Although profeminist groups are found globally, they are more common in countries with relatively longer traditions of gender-equity endeavours. South Africa, because of its relatively short democratic history, does not feature among such countries. Although profeminism developed in the American and European contexts, it eventually
like feminism migrated to Africa. Several reasons have been advanced as to why profeminism has lately gained momentum in South Africa, the main being that the country is confronted by two major public health issues, namely gender-based violence and HIV/Aids - both being issues inextricably related to gender inequalities. It would moreover seem that, in the little more than two decades of the new democratic dispensation, very little has actually been accomplished in terms of achieving gender justice. South African women remain the poorest of the poor and are subjected to some of the highest levels of gender-based violence in the world.
Against this background, there is an increasing insistence that men and boys be involved to achieve accelerated change. Current debates no longer revolve around whether men should be involved but around the precise nature of their involvement. Apart from the involvement of both women and men, there is a growing awareness that civil society should be actively involved. Activism of this kind at grass-roots level by non-governmental organisations
termed NGO-isation has increased.
Sonke Gender Justice, a local profeminist non-governmental organisation, attempts to counter the anti-feminism of a new youth movement (influenced by Julius Malema) and traditionalists like Jacob Zuma. In light of the apparent anti-feminism and also the fact that gender justice has as yet not nearly been achieved, the struggle for gender justice is now more compelling than ever. Though profeminist men who support the cause are indispensable partners in the struggle, their numbers are still relatively small. Ideally, all South African men (and women) should accept the gravity of the situation. If this conviction is accompanied by a commitment to the central values of the Ubuntu philosophy and the Constitution, both women and men will embrace the feminist model for social reconstruction and react positively to the fundamental aim of feminism, namely the elimination of all injustices.

Key terms: Gender justice, feminism, anti-feminism, profeminism, hegemonic masculinity, men's rights movement, men's liberation movement, Sonke Gender Justice




Gender staan sentraal in die sosiale lewe. Tog word die sosiale orde deur die loop van millennia deur genderongelykheid gekenmerk. Die eerste daadwerklike stappe om gendergeregtigheid teweeg te bring, kan teruggevoer word na 1792 met die publikasie van die Engelse skrywer en sosiale hervormer, Mary Wollstonecraft, se boek A vindication of the rights of women (1996). Hierin betoog sy vir vroue se bevryding van patriargie, vir hul reg tot onderwys en om hul lewenstyl te kan kies. Haar liberale nalatenskap het in die vrouebevrydingsbeweging en die ideologie van feminisme wat in die 20ste eeu ontwikkel het, neerslag gevind. ʼn Integrerende deel van haar voorspraak vir alle menseregte was haar verwerping van slawerny. Alhoewel sy nie aktief by teenslawernyveldtogte betrokke was nie, het sy meermale ʼn analogie tussen die posisie van vroue en slawe getref. Chronologies gesproke, oorvleuel vroue se betrokkenheid by die teenslawernybeweging met die ontstaanstydperk van moderne feminisme (Midgley 1993).

Drie fases2 kan in die ontwikkeling van feminisme geïdentifiseer word: die eerste in die 19de eeu, die tweede teen die middel van die 20ste eeu en die derde vanaf ongeveer 1980. Teen die begin van die 1990's het die term postfeminisme begin opduik om te suggereer dat feminisme so te sê uitgedien was, omdat vroue hul doelwitte sou bereik het (Hall & Rodriquez 2003). In haar boek, Backlash: the undeclared war against women, bestempel Susan Faludi (1992) postfeminisme egter as 'n mite deur die media voortgebring en wat slegs dien as regverdiging van die partiargale status quo.

Benewens die aanslag op feminisme vanuit die media was daar ʼn onvergenoegdheid onder sekere vroue te bespeur. Vir hierdie antifeministiese vroue het ʼn postfeministiese fase inderdaad aangebreek, enersyds omdat feminisme nie meer ʼn energieke en lewenskragtige politieke beweging was nie en andersyds omdat vroue se probleme ten opsigte van onder meer gelykheid, mag, respek en vrye uitdrukking steeds aanwesig en dwingend was (Thompson 2002).

In hierdie tydperk (1990's) het feministe ook ontevredenheid in eie geledere ervaar. Postkolonialistiese feministe waaronder Spivak, Minh-ha en Mohanty het die aannames of aansprake van tweedefasefeminisme bevraagteken, naamlik dat dit alle vroue sou verteenwoordig (Lewis 1994). McRobbie (2004:256) beskou hierdie gebeure as ʼn keerpunt in feministiese teorie, naamlik "the moment of definitive self-critique". Die kritiek teen wat bestempel is as hegemoniese feminisme was veral van feministe van kleur afkomstig. Hierdie vroue het die idee van ʼn universele susterskap verwerp weens die opvatting dat dit op ʼn oorspronklike, moederfeminisme sou dui waarin verskille misken word (Msimang 2002). Hegemoniese feminisme word beskou as die dominansie van wit, Westerse, eerstewêreldse aannames soos dat seksisme die primêre onderdrukker is, omtrent wat dit beteken om ʼn feminis te wees en wat vroue benodig om bevry te word. Hegemoniese feminisme was onaanvaarbaar omdat dit die talle manifestasies van diskriminasie in terme van geslag, ras, klas, seksualiteit en vermoë kortweg interseksionaliteit (Dow 2016) óf onderspeel óf geïgnoreer het. Aldus is die aktivisme en wêreldbeskouings van vroue van kleur gemarginaliseer (Bunjun 2010; Lewis 1994). Anders as in die geval van Westerse vroue, was Afrikavroue se stryd teen genderonderdrukking " fused with liberation from other forms of oppression, namely slavery, colonialism, neocolonialism, racism, poverty, illiteracy, and disease" (Steady in Kolawole 2002:94). Alhoewel swart vroue in Suid-Afrika sedert die 1950's toenemend aktief was in die stryd teen apartheid, het ʼn feministiese bewussyn feitlik totaal ontbreek (Hassim 1991). Die eerste treë in die daarstelling van organisasies wat uitsluitlik op die bevryding van vroue gerig was, het eers laat in die 1980's gevolg (Lewis 1994). In die finale instansie het vroue van kleur hul van hegemoniese feminisme gedistansieer omdat laasgenoemde ʼn visie vir sosiale verandering daargestel het wat eerder op individuele menseregte as op geregtigheid gegrond was (Thompson 2002).

Die feminismes van vroue van kleur word gekenmerk deur uiteenlopende kwessies. Dit val dus nie vreemd op nie dat hierdie feministe veelvuldige intellektuele posisies inneem en deur verskillende terme geïdentifiseer word soos onder meer veelrassige feminisme, multikulturele feminisme, inheemse feminisme en Afrikafeminismes3 (Zinn & Dill 1997). Die kritiek op Westerse feminisme het ook tot alternatiewe vir die konsep feminisme gelei. Die bekendste en mees aanvaarde alternatief is die eksplisiete raskritiek op feminisme vervat in die konsep womanism. Benewens ʼn kragtige pro-swart posisie, is womanism ten gunste van kulturele kontekstualisering en beklemtoon dit die belangrikheid van die gesin en samewerking met mans (Aniagolu 1998; Guy-Sheftall 2002; Kolawole 2002; Ogunyemi 1985; Walker 1990).

Afrikafeminismes soos die meervoud aandui is nie gelykvormig nie en word deur sowel geografiese as politieke vloeibaarheid gekenmerk. Die Afrikafeminismes wat die politieke legitimiteit van korporatiewe, staatsingestelde mag met humanistiese hervormings aanvaar, word as liberaal bestempel. Daardie feminismes wat die rol van kapitalisme, neokolonialisme en die korportiewe staat identifiseer, is radikaal, terwyl Afrikafeminismes wat die staat en korporatiewe dominansie uitdaag en optree om sodanige beheer uit die weg te ruim, as rewolusionêr bestempel word (Kuumba 2003).

Dit is betekenisvol dat mans in elk van die fases en geledinge van feminisme op die een of ander wyse betrokke was - hetsy as kampvegters vir of as opponente teen die saak. Wollstonecraft se intellektuele kring het vanuit die staanspoor manlike aktiviste van sowel radikale intellektuele as politieke mansgroepe ingesluit (Hughes 2002; Walker 1990). Daar is egter relatief min literatuur oor die verskillende aspekte van mans se rol in die vrouebevrydingsbeweging. Volgens Berlatsky (2014) is daar nie veel bespreking oor die historiese plek van mans in die feministiese beweging nie, terwyl Karoski (2007:xiii) se literatuuroorsig daarop dui dat " the 'grassroots' elements of the men's movement is an under-researched social terrain". Daar is veral ʼn gebrek aan kritiese literatuur oor die politieke en sosiale belang van profeministiese mans en hoe hulle hegemoniese manlikheid ("masculinity") uitdaag (Kannen 2009).

In hierdie oorsigartikel verken ek die historiese rol van mans in die feministiese beweging deur te wys op hul uiteenlopende reaksies op vroue se stryd om gendergeregtigheid, getipeer as antifeministiese of profeministiese standpunte. Hierna bekyk ek die feministiese reaksie op mans se ondersteuning of betrokkenheid, asook die beweegredes om mans te betrek ten einde gendergeregtigheid te verwesenlik. Laastens, val die soeklig op profeminisme in Suid-Afrika en beskryf ek hoe die stryd teen antifeminisme en vir geslagsgeregtigheid deur mans op voetsoolvlak gevoer word.



Ten einde mans se reaksies op feminisme te begryp, het Kimmel (1987) ondersoek ingestel na Amerikaanse mans se reaksies op feminisme in die ontstaansfase daarvan in die laat 19de en vroeg 20ste eeu. Hy kon drie soorte ideologiese responskategorieë op feminisme identifiseer:

Antifeministiese reaksies: Hierdie reaksies het op sosiale Darwinisme, godsdienstige teorieë en opvattings omtrent die sogenaamde natuurlike orde van sake berus. Die doel was die handhawing van patriargale staatsbeheer en om vroue na die private sfeer van die huis te laat terugkeer.

Maskulinistiese reaksies: Die doel hiervan was om die vervrouliking van kultuur te bekamp deur die daarstel van "islands of masculinity, untainted by feminizing forces" (Kimmel 1987:261).

Profeministiese reaksies: Hoewel die mees progressiewe reaksie, verteenwoordig dit ook die kleinste ondersteuning uit die manlike geledere. Hierdie mans was openlik in hul ondersteuning van vroue se aandrang op verandering in sowel die openbare as private domeine. Hulle het die feministiese model van sosiale rekonstruksie aanvaar vanweë 'n sin vir regverdigheid, die oortuiging dat mans verarm word deur vroue se onderdrukking en dat mans kan baat deur vroue se saak te ondersteun.

Kimmel (1987) se waarneming is dat daar kontemporêre parallelle is, weliswaar aangespoor deur andersoortige sosiale kragte soos globalisering, veranderinge in die werkplek en nuwe deurbrake vir vroue wat manlikheid weereens onder druk plaas.

Antifeministiese reaksies op sowel die term feminisme as vroue se aktivisme vir gendergeregtigheid strek van weersin of vrouehaat tot geweld (Delamont 2003:12). Wat Westerse mans betref, kom sarkasme dikwels voor, maar die gewildste reaksie is blykbaar wat Barbara Ehrenreich noem "a peevish withdrawal" (Goldrick-Jones 2002:31) in manlike vestings. Volgens Kolawole (2002) beskou talle Afrikamans die term feminisme as afstootlik en die konsep gender as verdelend. Vir hulle is dit uit die Weste ingevoer om Afrikavroue te onderwerp en om hulle van Afrikamans te vervreem.

'n Ander, minder gewilde reaksie op feminisme is om die beginsels daarvan te ondersteun. Alhoewel laasgenoemde standpunt by Westerse mans eers gedurende die 1960's na vore gekom het, het 'n paar mans van aansien omtrent 'n eeu vroeër nie net hul simpatie met feministiese oortuigings openlik uitgespreek nie, maar ook in hul geskrifte aangedui hoe vroue deur sosiale of ekonomiese omstandighede onderdruk word. In 1866 het die Britse filosoof, politieke ekonoom en parlementslid, John Stuart Mill, 'n petisie van 1 449 handtekeninge ten gunste van vrouestemreg aan die Britse Laerhuis oorhandig. In 1869 skryf hy 'n essay The subjection of women wat 'n belangrike werk in die geskiedenis van feminisme sou word (Hughes 2002; Walker 1990). Ander voorbeelde van belangrike en invloedryke geskrifte deur mans oor vroue se posisie van ondergeskiktheid is Friedrich Engels se Der Ursprung der Familie, des Privateigenthums und des Staats (1884) en August Bebel se Die Frau und der Sozialismus (1879).

In Amerika was ʼn voormalige slaaf en kampvegter vir die afskaffing van slawehandel, Frederick Douglass, een van die vroegste aktiewe ondersteuners van vrouestemreg vir alle vroue. Hy was ʼn tydgenoot van die Brit John Stuart Mill en een van slegs enkele mans wat die beroemde Women's Rights Convention in 1848 in Seneca Falls bygewoon het (Berlatsky 2014; Kimmel & Mosmiller 1992). Ietwat later as Douglass en wel gedurende die eerste helfte van die 20ste eeu, was die Afro-Amerikaanse skrywer en burgerregte-aktivis, WEB Du Bois, seker die bekendste segspersoon vir die regte van Afro-Amerikaners. Afro-Amerikaanse feministe soos Joy James en Beverly Guy-Sheftall is dit eens dat hy en Douglass as profeministe4 beskryf kan word vanweë hul ondersteuning van die saak van vroue (Rabaka 2003).

Prominente Suid-Afrikaanse mans wat as profeministe getipeer word, is Sol Plaatje (Chrisman 1997) en Seve Biko (Ratele & Botha 2014). Volgens Lewis (1994) is vroue egter in Biko (en in swart bewussynsdenke) se retoriek gemarginaliseer. Hoewel Ratele en Botha (2014) toegee dat Biko ʼn produk van sy patriargale, rassistiese tyd was, beskou hulle hom, vanweë sy insubordinasie en sy psigo-politieke vernuf met betrekking tot hoe mag uitspeel, as ʼn uitnemende voorbeeld vir swart mans wat gendergelykheid ondersteun.

2.1 Die mansbeweging

Teen die helfte van die 20ste eeu het die reaksies op die gevolge van feminisme en van vroue se stryd om gendergelykheid neerslag gevind in die sogenaamde mansbeweging ("men's movement") - 'n term wat duidelik as parallel moes dien vir die term vrouebeweging. Dit is 'n organisasie of groep - formeel of informeel - daargestel met die doel " to appeal to men as gendered subjects" (Morrell 2005:275). Net soos die vrouebeweging nie monolities is nie, so omvat die mansbeweging ook ʼn ryk geskakeerde versameling politieke en ideologiese posisies wat gedefinieer word ingevolge aspekte soos die erkenning van geïnstitusionaliseerde bevoorregting, die erkenning van verskille of ongelykhede tussen mans, asook die erkenning van die "prys" van manlikheid (Flood 2007; Hearn 2000; Karoski 2007). Hierdie posisies dek ʼn breë spektrum van konserwatief tot liberaal/progressief met variërende grade van antagonisme en ambivalensie jeens die vrouebeweging. Aan die konserwatiewe kant word die mansregtebeweging ("men's rights movement") aangetref en aan die liberale kant, die nuwe mansbeweging ("new men's movement").

2.1.1 Die mansregtebeweging: antifeministiese reaksies

Gedurende die tweede fase van feminisme (1960's) is die samelewing in die algemeen en mans in die besonder genoop om op die feministiese uitdaging te reageer. Amptelike reaksies was onder meer die wysiging van diskriminerende wetgewing en die inwerkingstelling van nuwe beleid - soos regstellende handeling - wat daarop gemik was om vroue in die openbare sfeer te ondersteun. Op gemeenskapsvlak en in die private sfeer het mans bewusmakingsgroepe geskep om te probeer bepaal hoe mans gesosialiseer word om disfunksionele rolle en gedrag uit te leef (Karoski 2007). Daar was dus mans wat erken het dat die samelewingsvereistes van manlikheid onder meer gedefinieer deur geweld, seks, status en aggressie nie net vroue nie, maar ook mans benadeel. Mans is benadeel indien hulle nie voldoen het aan die eise van sogenaamde hegemoniese manlikheid nie. Volgens Connell behels laasgenoemde die mees eerbiedwaardige manier van manwees; dit vereis dat alle mans hulle in verhouding hiermee posisioneer en ideologies legitimeer dit die ondergeskiktheid van vroue aan mans (Connell & Messerschmidt 2005:832).

Hegemoniese manlikheid word as die dominante vorm van manlikheid beskou. Hiernaas het Connell (Connell & Messerschmidt 2005) ook ander tipes geïdentifiseer. Ondergeskikte ("subordinate") manlikheid is om in stryd te wees met hegemoniese manlikheid en om uitdrukking te gee aan eienskappe wat die teenoorgestelde daarvan is soos om oordrewe emosioneel te wees. Gemarginaliseerde ("marginalised") manlikheid beteken dat ʼn persoon nie oor die nodige kenmerke beskik om aan hegemoniese manlikheid te voldoen nie soos om nie-wit te wees of ʼn gebrek te hê. Mans wat deur patriargie bevoordeel word sonder om ʼn sterk weergawe van manlike dominansie te onderskryf, word beskou as sou hulle meedoen aan hegemoniese manlikheid ("complicit hegemony") (Connell & Messerschmidt 2005).

Om die aard, vorm en dinamika van manlike mag in die Suid-Afrikaanse konteks te verklaar, het Morrell (Morrell, Jewkes & Lindegger 2012) Connell se konsep hegemoniese manlikheid gebruik en drie sodanige tipes manlikheid onderskei, naamlik ʼn swart, stedelike, ʼn Afrika, landelike (geperpetueer deur inheemse instellings) en ʼn wit hegemoniese manlikheid. Elk verteenwoordig ʼn andersoortige ideaal van manlike gedrag wat neerslag vind in drie verskillende groepe mans en drie soorte genderpraktyke. Tydens die ampstermyn van Julius Malema as president van die ANC Jeugliga, het ʼn nuwe jeugmanlikheid ontwikkel. Gekenmerk deur " assertions of power and wealth, with acquisition predicated on entitlement, use of violence and brute strength, rather than personal achievement or respect for the legitimate use of power" (Morrell, Jewkes & Lindegger 2012:18), is hier beslis ook sprake van ʼn hegemoniese manlikheid.

Teen die laat 1970's was daar internasionaal 'n betekenisvolle toename in die aantal ruimdenkende mans wat manlikheid wou begryp, wat verkies het om aan selfverbetering te werk en wat verhoudings met eendersdenkende mans wou vestig. Die fokus van sulke mansgroepe was op mans se regte. Hulle verteenwoordig die konserwatiewe kant van die kontinuum, omdat hul liberale perspektiewe algaande verhard en uiteindelik in die argument gekulmineer het dat mans deur vroue geviktimiseer word en dat vroue - en veral feministe oormatige skuldgevoelens by hulle wil aanwakker (Goldrick-Jones 2002:34). Hulle het vrouebevryding verwerp en aangevoer dat vroue in werklikheid die mag het en dat mans die onderdruktes is. Hierdie antifeministiese teenreaksie het 'n skeuring tussen die voorstanders van mansregte en dié van mansbevryding tot gevolg gehad (Campbell 2012). Volgens die prominente feministiese skrywer, bell hooks (2000), weerspieël die neiging tot vrouehaat in die mansregtebeweging die mees negatiewe aspekte van die vrouebeweging. Vir Stoltenberg (2005:X) verteenwoordig hierdie antifeministiese bewegings "ancient cults of masculinity in modern guise".

ʼn Amerikaanse voorbeeld van ʼn antifeministiese beweging is die fundamentalistiese Promise Keepers (in 1990 gestig), terwyl Families Need Fathers (in 1974 gestig) ʼn Britse ekwivalent is (Promise Keepers 2018; Stoltenberg 2005:xvi). Die eerste en seker die bes georganiseerde plaaslike voorbeeld is die South African Association of Men (SAAM), in 1994 deur 'n akademikus (Kierin O'Malley) en ʼn sakeman (John Loftus) gestig met die doel om "the tattered remains of the male image" te herstel (Morrell 2005:276). SAAM het uit die staanspoor min ondersteuning gekry, moontlik omdat dit hoofsaaklik wit, middelklas en heteroseksisties was en het bykans verdwyn.

In 1998 het die Springbokkrieketspeler, Peter Pollock, Promise Keepers South Africa gestig. Soos die Amerikaanse ekwivalent, huldig die beweging streng Christelike, fundamentalistiese beskouinge. Hulle beskou die bevryding van die "ander" (vroue) as 'n probleem wat net opgelos kan word as mans hul regmatige plek in die samelewing inneem en daardeur mans se tradisionele mag en eer - as pa's, eggenote of broers bevestig (Conradie & Pillay 2015; Hearn 2000; Morrell 2005).

'n Meer onlangse ontwikkeling in aktivisme vir mansregte in Suid-Afrika is die Mighty Men Conference Movement, in 2004 deur Angus Buchan gestig. Sy fundamentalistiese, antifeministiese beskouings is duidelik uit talle stellings in die openbaar en op die webblad van Shalom Ministries (2016). 'n Subteks in Buchan se diskoers is dat hy 'n probleem met die bevrydingsbewegings het, hetsy deur politiek of gender gedefinieer. Aldus skryf hy en van sy volgelinge die wanorde in die land direk toe aan die nasionale en die vrouebevrydingsbewegings (Conradie & Pillay 2015; Nortjé-Meyer 2011). Ten einde dus die orde in die land te herstel, moet die orde in die gesin eers herstel word, iets wat volgens hulle net moontlik is indien die man sy regmatige plek terugneem as die hoof van die gesin en as die verteenwoordiger van Christus (Buchan, Greenough & Waldeck 2006:167). Vir Nadar (Nortjé-Meyer 2011:6) reflekteer hierdie ideologie maskulinisme wat ʼn beklemtoning is van "... the natural and inherent superiority of men and is used to justify the oppression and subjugation of women. It is the antithesis of feminism".

Volgens Messner (1997:16) beskou bewegings soos die Promise Keepers (en by implikasie die Mighty Men Conference) dit as noodsaaklik vir mans om hulle van vroue te onttrek "to create spiritually based homosocial rituals through which they can collectively recapture a lost or strayed 'true manhood'". Jeff Hearn (2000:359) is daarom in beginsel begaan oor "men-only public organizations, conferences and events that exclude women" en maan dat hulle "should be viewed with great suspicion or worse even when done with apparent 'good' intentions".

2.1.2 Die nuwe mansbeweging: profeministiese reaksies

Sommige mans se aanvanklike reaksie op die feministiese uitdaging was om met feministiese vroue saam te span om seksisme in al sy geledinge die hoof te bied. Dié standpunt van mans wat gendergelykheid openlik gepropageer het, maar nie noodwendig lid van die feministiese beweging was nie, staan as profeminisme bekend. Alhoewel profeminisme die ekwivalent van antiseksisme is, verkies hierdie mans die eersgenoemde benaming, omdat hulle hulself wil definieer kragtens dit waarvoor hulle staan eerder as daarteen (Brod 1998). Profeministe sien hul taak as aanvullend tot dié van vrouebewegings en -organisasies, naamlik protes teen die onderdrukkende idees van manlikheid en geslagsongelykheid. Hierbenewens het hulle ten doel die bevordering van mans se eie welsyn en geluk. Laasgenoemde kan bewerkstellig word deur met mans te werk om onder meer geweld te verminder en om verantwoordelike vaderskap te bevorder (Sweetman 2013).

Die manlike aktiviste wat as deel van organisasies soos die Federation for Women's Suffrage in Brittanje en die Men's League for Women's Suffrage in Brittanje en Amerika vrouestemreg aan die begin van die 20ste eeu ondersteun het, kan met reg beskou word as die inisieerders van die mansbevrydingsproses en ook as die voorlopers van die huidige profeministiese beweging (Karoski 2007; Kimmel 1987). Profeminisme het egter eers heelwat later werklik na vore gekom en wel tydens die tweede fase van feminisme in die laat 1960's - 'n tyd waarin jongmense toenemend krities gestaan het teenoor gevestigde instellings. Omdat baie mans vasgevang gevoel het in die tradisionele manlike rolle, het feminisme se bevrydende boodskap dat "both sexes could be freed from the emotional straitjackets of traditional gender relations" (Goldrick-Jones 2002:32) duidelik tot hulle gespreek.

Tipes profeminisme

Die mansbevrydingsbeweging en profeminisme by name behels nie 'n eenduidige praktyk of politiek nie. Drie breë vertakkinge word onderskei, naamlik die liberale, radikale en sosialistiese, afhangende van die tipe feminisme wat sulke mans ondersteun (Chopra 2003; Karoski 2007). Die inisiatiewe van die mansbevrydingsbeweging gedurende die 1960's kan as liberaal geklassifiseer word, omdat hulle aanvoer dat mans, nes vroue, deur geslagsrolle aan bande gelê word. Hul klem is op mans en hulle het 'n humanistiese benadering tot meer egalitêre geslagsrolle deurdat hulle hul eie geslagsidentiteite en hul bevoorregte sosiale posisies bevraagteken (Flood 2007; Serrano-Amaya & Vidal-Ortiz 2015). Hierdie inisiatiewe het egter nie op 'n beweging uitgeloop nie, maar bloot as bewusmakingsgroepe gemanifesteer (Karoski 2007).

By radikale profeminisme val die klem enersyds op strukturele elemente van onderdrukking soos vrouehaat en patriargie en andersyds op die verwerping van manlikheid. Die eerste nuusbrief gemik op mansbevryding, Brother A Forum for Men against Sexism, is in 1971 in California gepubliseer (Goldrick-Jones 2002; Karoski 2007). Vir Messner (1997) het hierdie publikasie twee belangrike ontwikkelings in die mansbevrydingsbeweging aangedui, naamlik die verskyning van 'n radikale profeministiese diskoers en 'n fokusverskuiwing van mans na vroue. Die diskoers het dus 'n nuwe rigting ingeslaan - weg van die "prys" wat mans vir hul manlikheid moet betaal (Karoski 2007).

'n Derde vertakking - sosialistiese profeministiese idees - behels 'n betekenisvolle afwyking van sowel liberale as radikale profeminisme. Sosialistiese profeministe propageer verandering op die institusionele of die samelewingsvlak - soos die werkplek en die staat - eerder as op die individuele vlak. Hierdie idees universaliseer nie net mans se posisie in (kapitalistiese) samelewings nie, maar hiervolgens is klasse-ongelykheid net so belangrik as genderongelykheid. Alhoewel die voorstanders toegee dat alle mans deur patriargie bevoordeel word, benadruk hulle dat sowel die voordele as die prys van patriargie ongelyk verdeel word na gelang van faktore soos ras en sosio-ekonomiese posisie (Karoski 2007).



Profeminisme het gedurende die 1960's prominent geword toe Betty Friedan se boek, The feminine mystique (1963), aanleiding gegee het tot sogenaamde tweedefasefeminisme. Friedan was in 1966 die medestigter en eerste president van die National Organization for Women wat ten doel gehad het om gelykheid vir vroue in vennootskap met mans te bewerkstellig (National Organization for Women 2016). Talle feministe was egter skepties oor hierdie ontwikkeling en teen die middel van die 1970's het 'n nuwe tipe feminisme, naamlik radikale feminisme op die toneel verskyn. Dit het in groot mate mans se ondersteuning van die vrouebeweging verwerp op grond van die oortuiging dat alle mans by genderonderdrukking baat. Die relativering van mans se geïnstitusionaliseerde voorregte vis-à-vis vroue sou hiervolgens die antifeministiese mansregtebeweging versterk (Campbell 2012; Goldrick-Jones 2002).

In die afgelope dekade of drie het feminisme weereens 'n gedaanteverwisseling ondergaan, enersyds vanweë komplekse eksterne beweegredes soos 'n veranderende geopolitieke konteks - en andersyds vanweë interne konflikte en tweespalt. Die mees betekenisvolle verandering was dat die feministiese visie verbreed is deurdat die studie-onderwerp na mans en vroue verander is, dus 'n verandering van vroue na gender (Serrano-Amaya & Vidal-Ortiz 2015). Feministiese ideologie streef nou na 'n groter doel as 'n simplistiese pariteit tussen die geslagte, naamlik die skep van 'n nuwe sosiale orde:

one in which both men and women can individually and collectively live as human beings in societies that are in harmony with the natural world, based on social and economic equality and the full body of human rights, and liberated from violence, conflict and militarization. (Batliwala 2012:5)

Die tweede belangrike wyse waarop feminisme ontwikkel het, is om mans wat die saak ondersteun, te aanvaar. Volgens hooks (2000) is daar slegs een manier waarop die feministiese beweging kan vorder, naamlik deur mans as bondgenote te aanvaar. Ook Ama Ata Aidoo (Nnaemeka 1998 in Guy-Sheftall 2002:75) dring daarop aan dat veral in die Afrikakonteks " every woman and every man should be a feminist especially if they believe that Africans should take charge of the burden of African development". Chopra (2003) meen dat mans se subjektiwiteit die kern van sowel genderdominering as die bereiking van gendergeregtigheid behels; derhalwe kan vroue net bemagtig word deur mans se betrokkenheid by die stryd. Hearn (2000) wys weer op die noodsaak van profeministiese organisering oor globale kwessies soos militarisme, transnasionalistiese organisasies, internasionale finansies en skuld, asook die omgewing.

Omdat Afrikafeministe begaan is oor sowel vrouekwessies as sosiale kwessies, aanvaar hulle mans as bondgenote (Wane 2011). Hul argument om mans in die stryd om gendergeregtigheid te betrek, is dat Afrikasamelewings eienskappe soos kollektiwiteit, etnisiteit en verwantskap beklemtoon (Kolawole 2002; Morrell 2005).

Nie almal is egter opgewonde oor die toetrede van hoofsaaklik mansorganisasies tot die stryd om gendergeregtigheid nie. Prominente feministe soos Shamim Meer (2011) en Srilatha Batliwala (2012) meen dat die toenemende betrokkenheid van mans by genderaktivisme enersyds sou kon lei tot ʼn afname in feministe se vermoë om die beweging uit te bou en andersyds tot ʼn verswakking in hul fokus. Alhoewel die natuurlike gevolg van hierdie klemverskuiwings is dat vroue wel met mans meedoen ten einde gendergeregtigheid te bewerkstellig, verg dit, volgens Ratele (2015) nog heelwat inspanning om die meeste vroue en mans te oortuig dat profeministiese werk met mans en seuns weliswaar op gendergeregtigheid gemik is.



Daar word vandag wêreldwyd erken dat die vervulling van vroue en dogters se regte sentraal staan in ontwikkeling. Hierdie besef het eers sowat twee dekades gelede na behore op die voorgrond getree by die Internasionale Konferensie oor Bevolking en Ontwikkeling wat in 1994 in Kaïro gehou is. Hierdie gewaarwording van die verband tussen vroueregte en ontwikkeling het gepaardgegaan met die besef dat gendergelykheid sonder mans se aktiewe betrokkenheid onmoontlik is. Sedert die Kaïro-konferensie is hierdie oortuiging in die filosofieë en programme van internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies, die Europese Unie, die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds geïnstitusionaliseer, dermate dat hierdie organisasies daarop aandring dat alle werk ten opsigte van geslagsgelykheid mans moet insluit (Bojin 2013; Flood 2004; Ruxton & Van der Gaag 2013; Tamale 2014).

Die vraag is egter watter legitimiteit mans het as dit kom by die stryd om gendergeregtigheid. Connell se idee van die "patriargale dividend" bied die geleentheid om ruimtes te skep waarin mans kan deelneem aan hierdie stryd met inagneming van hul andersoortige plek in die stryd. Die patriargale dividend verwys na " the advantage that all men have in a society that, openly or otherwise, favours males, maleness, or masculinity" (Sweetman 2013:9). Hoewel mans kan kies of hulle hierdie voordeel wil benut, beskik vroue nie oor so ʼn voordeel nie, wat beteken dat hulle ʼn gans ander posisie in die feministiese stryd beklee.

Bartky bestempel die beskuldiging dat mans wat by feminisme betrokke raak opportunisties is, as ʼn wanbegrip. Volgens haar baat mans nie professioneel of andersins deur sodanige betrokkenheid nie. Trouens, "... coming out for feminism regularly earns a man not only the disgust of many feminist women, but the scorn of 'manly' men" (Bartky 1998:xiii).

Daar is verskeie redes sowel pragmaties as prinsipieel - om mans betrokke te maak by die stryd om gendergeregtigheid. Verskeie navorsingsprojekte het aangetoon dat die insluiting van mans (en seuns) tot houdings- en gedragsveranderinge met betrekking tot onder meer seks en voortplanting, lei tot hulle interaksie met hul kinders en geweld teenoor vroue (Ratele 2015). 'n Pragmatiese rede wat deur Sweetman (2013) aangevoer word, is dat mans se betrokkenheid ʼn bykomende strategie in die stryd om gendergeregtigheid bied. Kabeer (Sweetman 2013) beskou sigbare manlike ondersteuning as van kritieke belang, veral om probleme soos seksuele geweld aan te pak: "Without it, the question of sexual violence will remain ghettoized as a woman's issue" (Sweetman 2013:1). 'n Ander rede is die opvatting dat mans se insluiting hul gevoel van verantwoordelikheid vir verandering sodanig sal laat toeneem dat hulle hul eie houdings en gedrag sal verander om gendergeregtigheid te bewerkstellig (Flood 2004). Nog 'n rede vir mans se betrokkenheid is dat hul gesondheid en welsyn wat meermale negatief deur heersende opvattings van manlikheid beïnvloed word daarby sal baat (European Union 2013).

Mans se betrokkenheid - ook bekend as die "men-streaming" benadering soos deur internasionale organisasies gepropageer, word egter ook in die relevante literatuur bevraagteken. Amerikaanse navorsing dui volgens Flood (2015:S161) daarop dat " women's concerns have intensified as men's involvement has increased". Een van die hoofbesware is dat mans se betrokkenheid daartoe kan lei dat daardie agentskappe met ʼn feministiese oriëntasie hul fokus kan verloor, dat vroue se stemme gemarginaliseer sou word of dat mans se betrokkenheid bloot retories eerder as substantief sou wees (Flood 2015).

Volgens Sweetman (2013) is daar op die kort termyn positiewe gevolge wanneer dit by mans se betrokkenheid kom, onder meer dat vordering versnel word. Sy maan egter dat daar teen manlike verteenwoordiging van vroulike stemme en belange gewaak moet word - veral op die lange duur. Indien mans vroue in hierdie ruimte sou vervang, kan mans se bestaande mag versterk en die agenda vir gendergeregtigheid ondermyn word. Talle voorbehoude in hierdie verband word dus gestel, soos dat sodanige betrokkenheid/insluiting die feministiese doel van gendergelykheid sal bevorder (Meer 2011). Nog 'n vereiste handel oor die wedywering om hulpbronne. Laasgenoemde is 'n potensiële probleem in die sin dat sowel die hulpbronne as die befondsing wat vir programme en dienste vir vroue bestem is, in gevaar gestel kan word (Flood 2004; Flood 2015; Van den Berg, Hendricks, Hatcher, Peacock, Godana & Dworkin 2013). Volgens die Afrikafeminis, Sylvia Tamale (2014:7), gebeur dit dat mans hul eie organisasies vestig "... to tap into this new well of potential funding". Die Suid-Afrikaanse manlike genderaktivis, Kopano Ratele (Ratele & Botha 2014) vermaan mans juis om hulle te weerhou van "being opportunistic, hijacking or undermining the gains made by the women-led feminist movement". Met verwysing na werk wat insake die voorkoming van geweld gedoen word, meen Flood (2015) egter dat daar wêreldwyd min indien enige gevalle is waar vroue fondse moes ontbeer ten koste van werk met mans.

Vir Tamale (2014:7) is die doel daarvan om mans en mansorganisasies betrokke te maak, die vernuwing van genderpolitiek, asook die transformasie van daardie organisasies en instellings wat geslags- en ander ongelykhede voortbring en perpetueer. Derhalwe meen sy dat vroue strategies by sowel antifeministiese as profeministiese organisasies betrokke moet raak om patriargie die hoof te bied en die samelewing te herskep. Die einddoel is ware samewerking en dit behels magsdeling en solidariteit tussen feministe en profeministe (Bojin 2013).



Alhoewel profeministiese groepe 'n wêreldwye verskynsel is, kom dit meer algemeen in lande met relatief langer tradisies van gendergeregtigheid voor (European Union 2013). Vanweë die land se betreklik kort demokratiese geskiedenis, tel Suid-Afrika nie onder sulke lande nie. Sommige van hierdie groepe is goed befondsde, erkende organisasies soos MenEngage Alliance. Dit is 'n wêreldwye alliansie van bykans 700 nieregeringsorganisasies wat met mans en seuns werk ter bereiking van gendergeregtigheid en ook vennootskappe met VN-agentskappe gevorm het. Een-en-twintig Afrikalande is by dié organisasie geaffilieer (MenEngage Alliance 2018).

Alhoewel profeminisme in die middel van die 20ste eeu in die Amerikaanse en Europese kontekste ontstaan het, het dit net soos feminisme geleidelik na Afrika gemigreer (Serrano-Amaya & Vidal-Ortiz 2015; Wanner & Wadham 2015). Talle redes word vir die ontwikkeling van profeminisme in Suid-Afrika aangevoer.

Volgens Bennett (2008) het die gebrek aan samehangende organisering vir die bereiking van gendergeregtigheid onder meer daartoe gelei dat mans betrokke geraak het om die doel te laat verwesenlik. Hierteenoor skryf Peacock (2012) en Ratele (1998) die verskynsel toe aan die gevolge van apartheid vir swart mans wat tot hul ontmanning en verarming gelei het. Peacock (2012) meen dat deelname aan die stryd om gendergeregtigheid vir ontmagtigde mans alternatiewe modelle van manlikheid kan bied. 'n Ander belangrike rede spruit uit die feit dat Suid-Afrika die hoogste koers ter wêreld het van sowel geslagsgebaseerde geweld as van mense wat met MIV/vigs saamleef - albei kwessies wat onlosmaaklik verband hou met geslagsongelykhede (Van den Berg et al. 2013). Omdat profeministe in die land glo dat mans betrokke moet raak sodat kwessies soos hierdie opgelos kan word, het van hulle in 2006 'n nieregeringsorganisasie, genaamd Sonke Gender Justice,5 gestig.

Sonke is 'n profeministiese organisasie wie se werk en benadering deur feministiese aktivisme en die aktivisme van die bevrydingstryd geïnspireer is. Die kern van dié benadering is die ontwikkeling van aktivisme op voetsoolvlak om die regering uit te daag en verantwoordbaar te hou vir die verbintenisse wat ten opsigte van gendergelykheid gemaak is (Sonke Gender Justice 2018). Anders as in die Westerse wêreld waar die meeste profeministiese mansgroepe hoofsaaklik uit wit-, middelklas- en heteroseksuele mans bestaan (DeKeseredy & Schwartz 2000:930), is Sonke se bestuurspan divers. Daar is twee mede-uitvoerende direkteure een vrou en een man en die direksie bestaan uit 12 vroue en vyf mans. Die bestuurspan bestaan uit agt vroue en sewe mans en verteenwoordig die hele spektrum met betrekking tot ras (Sonke Gender Justice 2018). Omdat die organisasie aanspreeklik voel teenoor feministiese aktiviste en organisasies, het hul mees senior besluitnemingsliggaam, naamlik die direksie, ʼn 50% verteenwoordiging van vroueregte-organisasies (Peacock 2013).

Die organisasie geniet sowel nasionale as internasionale erkenning. Die kwessies waarop hulle fokus, is die bevordering van gendergelykheid, die voorkoming van geweld teen vroue en MIV/vigs. Sonke is dwarsoor Afrika werksaam en hul hoofstrategie is om mans en seuns betrokke te maak en voor te lig omtrent die voorgenoemde kwessies (Ratele & Botha 2014; Sonke Gender Justice 2018).

Omdat Sonke bewus is van die kommer van vroueregtegroepe (deur vroue gelei) dat hulle moontlik om skaars hulpbronne sal moet meeding, het hulle 'n tweeledige strategie in hierdie verband. Enersyds is daar gereelde samesprekings en deursigtige terugvoerkanale tussen die twee groepe en andersyds is daar 'n strewe om toegang tot hulpbronne te deel (Peacock 2013).

Vir Sonke is Afrikaprofeminisme 'n uitbouing van ubuntu (Ratele & Botha 2014). Ubuntu6 is ʼn etiese wêreldbeskouing, eie aan Afrika, waarvolgens mense oor integriteit en waardigheid beskik uit hoofde van hul vermoë om met ander te identifiseer en eensgesind te wees. Hierdie idee van "gemeenskap" is een van die boustene van die samelewing. Menseregteskendings dui op die agteruitgang van hierdie vermoë tot gemeenskap (Dolamo 2013; Ehlers 2017; Metz 2011). Omdat die ubuntufilosofie enige vorm van onderdrukking teenstaan, is feminisme en by implikasie, profeminisme ʼn artikulasie van hierdie filosofie.

Sonke bereik jaarliks 40 000 vroue en mans by wyse van werkwinkels en gemeenskapsgesprekke, weekliks tussen 8.5 en 10 miljoen luisteraars oor gemeenskapsradioprogramme en nog tot vyf miljoen deur middel van die gedrukte media (Peacock 2013). In 2006 is Sonke se grootste projek, die One Man Can-veldtog geloods. Dié projek was 'n opvoedkundige en uitreikprogram deur sowel vroue as mans ontwerp en was gemik op mans en seuns van alle ouderdomme. Die hoofdoel was die afbreek van manlike en vroulike stereotipes en om mans wat tydens apartheid ʼn behoorlike gesinslewe ontneem is, te bemagtig om hul opvattings omtrent hulself as mans en vaders te verbeter. Die ideaal was dat mans in staat gestel sal word om hul gedrag teenoor hul gesinne te verander ten einde mishandeling en geweld te beëindig. Verskeie internasionale organisasies - waaronder VN-agentskappe soos die Wêreldgesondheidsorganisasie en UNAIDS - beskou dié veldtog as ʼn voorbeeld van genderaktivisme by uitnemendheid. Die One Man Can-veldtog is in heelparty tale vertaal en in talle Afrikalande geïmplementeer. Sonke se internasionale reputasie blyk onder meer uit die feit dat UNAIDS die organisasie in 2015 saam met die International Planned Parenthood Federation by hoëvlaksamesprekings oor MIV/vigs betrek het met die oog op die daarstel van ʼn aksieplan (UNAIDS 2016). Sonke se invloed en impak spreek ook uit die feit dat 'n prominente lid van die organisasie, Dean Peacock, van 2013 tot 2015 een van MenEngage Alliance se twee medevoorsitters was (Peacock 2013; Van den Berg et al. 2013).

Sonke skroom nie om antifeminisme selfs in die politieke arena te beveg nie. Aldus het die organisasie per geleentheid die howe genader om manlike politieke leiers aanspreeklik te hou vir openbare haatspraak. In die saak wat Sonke in 2010 teen hom aanhangig gemaak het, is Julius Malema, toenmalige president van die ANC-jeugliga, deur die Gelykheidshof aan haatspraak en diskriminasie skuldig bevind. Hy is beveel om verskoning aan te bied vir die stellings wat hy omtrent die aanklaer in die verkragtingsaak van Jacob Zuma en verkragtingslagoffers in die algemeen gemaak het, en om 'n boete van R50 000 te betaal (Peacock 2013; Sonke Gender Justice 2018).



Die strewe na samelewings gekenmerk deur gendergeregtigheid oorspan meer as twee eeue en behels 'n hele aantal rolspelers, waaronder individue en sosiale groeperings, informele/formele organisasies, bewegings en regerings. Deurgaans was sowel vroue as mans by die stryd betrokke, weliswaar op verskillende wyses en nie in gelyke mate nie. Mans se reaksies het gewissel van teenstand (antifeminisme) tot ondersteuning (profeminisme). Al die rolspelers se pogings het sommige (meestal Westerse) vroue in staat gestel om noemenswaardige vordering te maak ten opsigte van hul posisie in talle sosiale instellings. Veral in die ontwikkelende wêreld gaan vroue egter steeds gebuk onder uiterste ongelykhede sodat die doel van gendergeregtigheid nie naastenby bereik is nie.

In Suid-Afrika het daar in die ongeveer twee dekades van die demokratiese bestel weinig gebeur om gendergeregtigheid te bewerkstellig (Ratele 2014). In soverre dit die daaglikse realiteit aangaan, lyk dit nie of die wetlike veranderinge enige noemenswaardige invloed gehad het nie (Clowes 2015). Suid-Afrikaanse vroue bly die armstes van die armes en in hoofsaak belas met reproduktiewe werk. Hulle gaan gebuk onder van die hoogste vlakke van geslagsgebaseerde geweld ter wêreld ten spyte van een van die mees progressiewe grondwette ter wêreld (Clowes 2015; Frenkel 2008). Sommige blameer ʼn gebrek aan betekenisvolle politieke verbintenis of tradisie en gebruike vir die trae pas van verandering (Ratele 2014). In die breër Afrikakonteks skryf Msimang dit toe aan die klemverskuiwing in Afrikafeminisme van die openbare na die private domein met die gevolg dat "African patriarchies have hardened" (Msimang 2002:15). Hierdie proses en ʼn gevolglike neiging tot antifeminisme is ook plaaslik te bespeur hoofsaaklik toe te skryf aan die gedrag en uitsprake van Julius Malema en Jacob Zuma. Hulle het ongelukkig daarin geslaag om die strewe na gendergeregtigheid skade te berokken deur dit voor te hou " as anti-African, implicitly equating it with modernity, (white) middle-class aspirations, and widespread lack of (male) economic advancement" (Morrell, Jewkes & Lindegger 2012:18).

Daar is egter baie sterk bewyse dat gendernorme en -verhoudings wel verander kan word maar slegs as vroue en mans, asook adolessente dogters en seuns betrokke is (UNAIDS 2016). Dit is teen dié agtergrond dat al hoe meer stemme opgaan vir groter betrokkenheid van mans om versnelde verandering teweeg te bring (Boyce Davies 1986 in Guy-Sheftall 2002; Clowes 2015). Trouens, samewerking met mans ter bereiking van gendergeregtigheid is tans wêreldwyd baie meer algemeen as vantevore. Die debatte wat dus nou toenemend gevoer word, is nie meer of mans by aktiwiteite rondom gendergeregtigheid betrek moet word nie, maar hoe dit vorentoe gedoen moet word (Sweetman 2013:1). Benewens die betrokkenheid van albei geslagte, is daar ook 'n groeiende gewaarwording dat die burgerlike samelewing aktief betrokke moet wees. Sodanige aktivisme op voetsoolvlak deur nieregeringsorganisasies7 het inderdaad wêreldwyd toegeneem (Batliwala 2012).

Hier te lande het die profeministiese nieregeringsorganisasie, Sonke Gender Justice, aangetoon dat dit moontlik is om goeie werksverhoudings met vroueorganisasies te vestig en te handhaaf en sodoende gendergeregtigheid na te streef. Die antifeminisme van die jeugbeweging (onder invloed van persone soos Julius Malema) en van tradisionaliste (soos Jacob Zuma), asook die feit dat gendergeregtigheid nog lank nie bereik is nie, noodsaak dat alles moontlik in die stryd gewerp moet word. Profeministiese mans wat die saak goedgesind is, is uiteraard onontbeerlike vennote in die stryd. Hulle getalle is egter relatief klein. Die ideaal is dat álle Suid-Afrikaanse mans (en vroue) oortuig sal wees van die erns van die stryd om gendergeregtigheid. Indien dié oortuiging gepaardgaan met onder meer ʼn verbintenis tot die sentrale waardes van die ubuntufilosofie én die grondwet (Lötter 2000), sal vroue en mans die feministiese model vir sosiale heropbou aangryp en positief op die fundamentele doelstellings daarvan reageer, naamlik dat alle ongeregtighede geëlimineer moet word.



Aniagolu, C. 1998. The first African Womanist Workshop. Agenda, 14(37):96-100.         [ Links ]

Bartky, S. 1998. Foreword. In T. Digby (ed.). Men doing feminism. New York: Routledge, pp. xiii-xviii.         [ Links ]

Batliwala, S. 2012. Changing their world - concepts and practices of women's movements. Toronto: Canada. [16 June 2015].         [ Links ]

Bennett, J. 2008. Challenges were many: the One in Nine Campaign, South Africa. Toronto, Mexico City, Cape Town: The Association for Women's Rights in Development (AWID).         [ Links ]

Berlatsky, N. 2014. A short history of male feminism.,%20A%20Short%20History%20of%20Male%20Feminism%20June%2012%202014.pdf [29 August 2016].         [ Links ]

Bojin, K. 2013. Feminist solidarity: no boys allowed? Views of pro-feminist men on collaboration and alliance-building with women's movements. Gender & Development, 21(2):363-379. [2 February 2015].         [ Links ]

Brod, H. 1998. To be a man, or not to be a man - that is the feminist question. In T. Digby (ed.). Men doing feminism. New York: Routledge, pp. 198-212.         [ Links ]

Buchan, A., Greenough, J. & Waldeck, V. 2006. Faith like potatoes. A story of a farmer who risked everything for God. Oxford: Monarch Books.         [ Links ]

Bunjun, B. 2010. Feminist organizations and intersectionality: contesting hegemonic feminism. Atlantis, 34(2):115-126.         [ Links ]

Campbell, J.L. 2012. Jack Nichols, gay pioneer: "Have you heard my message?" New York: Routledge.         [ Links ]

Chopra, R. 2003. Rethinking pro-feminism: men, work and family in India. UN: Expert Group Meeting on "The role of men and boys in achieving gender equality", 21-24 October, Brasilia, Brazil.         [ Links ]

Chrisman, L. 1997. Fathering the black nation of South Africa gender and generation in Sol Plaatje's 'native life in South Africa' and 'Mhudi'. Social Dynamics, 23(2):57-73.         [ Links ]

Clowes, L. 2015. Teaching masculinities in a South African classroom. Critical Studies on Teaching & Learning, 3(2):23-39. file:///C:/Users/User/Downloads/49-1-320-1-10-20151213%20(2).pdf [20 September 2018].         [ Links ]

Connell, R.W. & Messerschmidt, J.W. 2005. Hegemonic masculinity: rethinking the concept. Gender & Society, 19:829-859.         [ Links ]

Conradie, E.M. & Pillay, M. (eds). 2015. Ecclesial reform and deform movements in the South African context. Stellenbosch: SUN PRESS.         [ Links ]

DeKeseredy, W.S. & Schwartz, M.D. 2000. The role of profeminist men in dealing with woman abuse on the Canadian College Campus. Violence Against Women, 6(9):918-935.         [ Links ]

Delamont, S. 2003. Feminist sociology. London: Sage.         [ Links ]

Dolamo, R. 2013. Botho/ubuntu: the heart of African ethics. Scriptura Journal for contextual Hermeneutics in Southern Africa, 112(1):1-10.         [ Links ]

Dow, B.J. 2016. Authority, invention, and context in feminist rhetorical criticism. Review of Communication, 16(1):60-76.         [ Links ]

Ehlers, P.J. 2017. A comparison of the views of Augustine Shutte and Thaddeus Metz on African philosophy and ubuntu ethics. Unpublished mini-thesis submitted in partial fulfilment of the requirements for the degree of Master of Arts, Department of Religion and Theology, University of the Western Cape.         [ Links ]

European Union. 2013. The role of men in gender equality - European strategies & insights. Luxembourg: Publications Office of the European Union. pay gap/130424 final report of men pdf [29 January 2015].         [ Links ]

Faludi, S. 1992. Backlash: The undeclared war against American women. New York: Anchor Books.         [ Links ]

Flood, M. 2004. Men, gender and development. Development Bulletin, 64:26-30.         [ Links ]

Flood, M. 2007. Men's movements. In M. Flood, J.K. Gardiner, B. Pease & K. Pringle (eds). The Routledge international encyclopedia of men and masculinities. Routledge, pp. 418-422. [20 August 2016].         [ Links ]

Flood, M. 2015. Work with men to end violence against women: a critical stocktake. Culture, Health & Sexuality, 17(S2):S159-S176.         [ Links ]

Frenkel, R. 2008. Feminism and contemporary culture in South Africa. African Studies, 67(1):1-10. [15 September 2018].         [ Links ]

Goldrick-Jones, A. 2002. Men who believe in feminism. Westport, CT, USA: Praeger.         [ Links ]

Guy-Sheftall, B. 2002. Shifting contexts: lessons from integrating black, gender, and African diaspora studies. In M.M. Lay, J. Monk & D.S. Rosenfelt (eds). Encompassing gender: integrating international studies and women's studies. New York: The Feminist Press at the City University of New York, pp. 67-80.         [ Links ]

Hall, E.J. & Rodriquez, M.S. 2003. The myth of postfeminism. Gender & Society, 17(6):878-902.         [ Links ]

Hassim, S. 1991. Gender, social location and feminist politics in South Africa. Transformation,15:65-82. [22 September 2018].         [ Links ]

Hearn, J. 2000. Men, (pro-)feminism, organizing and organizations. LTA (Finnish Journal of Business Economics), 3:350-372. [21 January 2015].         [ Links ]

Hooks, b. 2000. Feminism is for everybody - passionate politics. Cambridge, MA: South End Press. hooks-feminisme is for everybody.pdf [29 August 2016].         [ Links ]

Hughes, C. 2002. Key concepts in feminist theory and research. London: Sage.         [ Links ]

Kannen, V. 2009. The 'other' feminists: the challenge of feminist men and masculinities. [27 August 2016].         [ Links ]

Karoski, S. 2007. Men on the move: the politics of the men's movement. Unpublished doctoral thesis, University of Wollongong. [11 February 2016].         [ Links ]

Kimmel, M.S. 1987. Men's responses to feminism at the turn of the century. Gender & Society, 1(3):261-83.         [ Links ]

Kimmel, M.S. & Mosmiller, T.E. 1992. Against the tide: pro-feminist men in the United States, 1776-1990: a documentary history. Boston: Beacon Press.         [ Links ]

Kolawole, M.M. 2002. Transcending incongruities: rethinking feminisms and the dynamics of identity in Africa. Agenda, 17(54):92-98.         [ Links ]

Kuumba, B. 2003. African feminisms in exile: diasporan, transnational and transgressive. Agenda, 17(58):3-11.         [ Links ]

Lewis, D. 1994. Women and gender in South Africa. In V. Mpai (ed.) South Africa - the challenge of change. Harare, Zimbabwe: SAPES Books, pp.158-172.         [ Links ]

Lötter, H.H.P. 2000. The South African Constitution requires men to be feminist. Koers, 65(4):507-540.         [ Links ]

McRobbie, A. 2004. Post-feminism and popular culture. Feminist Media Studies, 4(3):255-264.         [ Links ]

Meer, S. 2011. Struggles for gender equality: reflections on the place of men and men's organisations. Johannesburg: OSISA. placeofmenandmensorganizationsinthestruggleforgenderequality0.pdf [7 July 2015].         [ Links ]

MenEngage Alliance. Web page. 2018. [28 April 2018].         [ Links ]

Messner, M.A. 1997. Politics of masculinity - men in movements. Lanham, UK: ALTAMIRA Press.         [ Links ]

Metz, T. 2011. Ubuntu as a moral theory and human rights in South Africa. African Human Rights Law Journal, 11(2):532-559. [18 September 2018].         [ Links ]

Midgley, C. 1993. Anti-slavery and feminism in nineteenth-century Britain. Gender & History, 5(3):343-362.         [ Links ]

Morrell, R. 2005. Men, movements, and gender transformation in South Africa. In L. Ouzgane & R. Morrell (eds). African masculinities: men in Africa from the late nineteenth century to the present. New York: Palgrave MacMillan, pp. 271-288.         [ Links ]

Morrell, R., Jewkes, R. & Lindegger, G. 2012. Hegemonic masculinity/masculinities in South Africa: culture, power, and gender politics. Men and Masculinities, 15(1):11-30. Hegemonic Masculinity Masculinities in South Africa Culture Power and Gender Politics [3 October 2018].         [ Links ]

Msimang, S. 2002. African feminisms II: reflections on politics made personal. Agenda, 17(54):3-15.         [ Links ]

National Organization for Women. 2016. Statement of purpose. [23 June 2016].         [ Links ]

Nortjé-Meyer, L. 2011. A critical analysis of Gretha Wiid's sex ideology and her biblical hermeneutics. Verbum et Ecclesia, 32(1). [8 February 2016].         [ Links ]

Ogunyemi, C.O. 1985. Womanism: the dynamics of the contemporary black female novel in English. Signs: Journal of Women in Culture and Society, 11(1):63-80.         [ Links ]

Peacock, D. 2012. Book review: Cornwall, A., Edström, J. & Greig, A. (eds). Men and development: politicising masculinities. Gender & Development, 20. [12 December 2015].         [ Links ]

Peacock, D. 2013. South Africa's Sonke Gender Justice Network: educating men for equality. Agenda, 27(1):128-140. [13 September 2018].         [ Links ]

Promise Keepers. Web page. [11 September 2018].         [ Links ]

Rabaka, R. 2003. W.E.B. Du Bois and/as African critical theory: Pan-Africanism, critical Marxism and male feminism. In J.L. Conyers, Jr. (ed). Afrocentricity and the academy: essays on theory and practice. Jefferson, NC & London: McFarland & Company, pp. 67-112.         [ Links ]

Ratele, K. 1998. The end of the black man. Agenda, 37:60-64.         [ Links ]

Ratele, K. 2014. Currents against gender transformation of South African men: relocating marginality to the centre of research and theory of masculinities. NORMA: International Journal for Masculinity Studies, 9(1):30-44. [17 September 2018].         [ Links ]

Ratele, K. 2015. Working through resistance in engaging boys and men towards gender equality and progressive masculinities, Culture, Health & Sexuality, 17(sup2):144-158. [20 September 2018].         [ Links ]

Ratele, K. & Botha, M. 2014. Profeminist black men: engaging women liberationists, undermining patriarchy. [22 January 2015].         [ Links ]

Ruxton, S. & Van der Gaag, N. 2013. Men's involvement in gender equality - European perspectives. Gender & Development, 21(1):161-175. [2 February 2015].         [ Links ]

Serrano-Amaya, J.F. & Vidal-Ortiz, S. 2015. Masculinities, "profeminism", and feminism in Latin America. In R. Baksh & W. Harcourt (eds). The Oxford handbook of transnational feminist movements. Oxford, UK: Oxford University Press, pp. 321-40.         [ Links ]

Shalom Ministries. Web page. 2016. [10 February 2016].         [ Links ]

Sonke Gender Justice. 2018. Web page. [24 September 2018].         [ Links ]

Stoltenberg, J. 2005. Refusing to be a man. Essays on sex and justice. Revised ed. Taylor & Francis e-Library.,%20Refusing%20to%20Be%20a%20Manpdf [27 August 2016].         [ Links ]

Sweetman, S. 2013. Introduction: Working with men on gender equality, Gender & Development, 21(1):1-13. [2 February 2015].         [ Links ]

Tamale, S. 2014. Feminist response to the new men's movement in Africa. Keynote presented at the International Women's Day Celebrations 2014 at the School of Women and Gender Studies, Makerere University). [7 July 2015].         [ Links ]

Thompson, B. 2002. Multiracial feminism: recasting the chronology of second wave feminism. Feminist Studies, 28(2):337-360.         [ Links ]

UNAIDS. 2016. Male engagement in the HIV response a platform for action. Meeting Report: UNAIDS Joint United Nations Programme on HIV/AIDS. [15 September 2018].         [ Links ]

Van den Berg, W., Hendricks, L., Hatcher, A., Peacock, D. Godana, P. & Dworkin, S. 2013. 'One Man Can': shifts in fatherhood beliefs and parenting practices following a gender-transformative programme in Eastern Cape, South Africa, Gender & Development, 21(1):111-125. [2 February 2015].         [ Links ]

Walker, C. (ed.). 1990. Women and gender in South Africa. Cape Town: David Philip.         [ Links ]

Wane, N. 2011. African indigenous feminist thought an anti-colonial project. In N. Wane, A. Kempf & M. Simmons (eds). The politics of cultural knowledge. Rotterdam: Sense Publishers, pp. 7-21.         [ Links ]

Wanner, T. & Wadham, B. 2015. Men and masculinities in international development: 'men-streaming' gender and development? Development Policy Review, 33(1):15-32.         [ Links ]

Wollstonecraft, M. 1996 [originally published in 1792]. The rights of women. London: Phoenix.         [ Links ]

Zinn, M.B. & Dill, B.T. 1997. Theorizing difference from multiracial feminism. In M.B. Zinn, P. Hondagneu-sotelo & M.A. Messner (eds). Through the prism of difference. Readings on sex and gender. Boston: Allyn & Bacon, pp. 23-29.         [ Links ]




ENGELA PRETORIUS is 'n navorsingsgenoot in die Fakulteit Geesteswetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat (UV). Sy begin haar akademiese loopbaan in 1982 in die Departement Sosiologie aan die UV en word in 2001 hoof van die departement. Van 2004 tot met haar aftrede in 2009 was sy Visedekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe aan die UV. Die hooffokus van haar navorsing is die sosiologie van gesondheid, siekte en gesondheidsorg, by name tradisionele heling en komplementêre geneeskunde, asook genderstudie. Sy het in die redaksionele raad van die tydskrif, Society in Transition en ook in die direksie van die tydskrif Agenda gedien.
ENGELA PRETORIUS is a research associate in the Faculty of the Humanities at the University of the Free State (UFS). She commenced her academic career in 1982 in the Department of Sociology at the UFS and in 2001, was appointed head of the department. From 2004 to her retirement in 2009, she was Vice-dean of the Faculty of the Humanities at this institution. The main focus of her research is the sociology of health, disease and healthcare, specifically traditional healing and complementary medicine, and also gender studies. She has served as a member of the editorial board of the journal Society in Transitionand of the board of directors of the journal Agenda.
1 Die konsep wat deurgaans in die artikel gebruik word, is "gendergeregtigheid" (gender justice). Die konsepte "gendergelykheid", en "gendergelykberegtiging" word ook gebruik, maar is egter nie wisselterme nie. Eersgenoemde verwys na gelyke toegang tot sosiale goedere, dienste en hulpbronne, asook gelyke geleenthede op alle lewensterreine vir sowel vroue as mans. By "gendergelykberegtiging" kom die beginsel van billikheid ter sprake. Om billikheid of gelykberegtiging te verseker, vereis sekere maatreëls om te vergoed vir historiese en/of sosiale benadeling wat vroue en mans daarvan weerhou om as gelykes te funksioneer.
2 In die Engelse literatuur staan dié bewegings as "waves" bekend en in Nederlands word na "golwe" verwys. Ek volstaan egter met "fases".
3 Die diversiteit van die sosiale realiteite op die Afrikakontinent het opvattings van feminisme dermate beïnvloed dat dit wenslik is om die meervoud te gebruik wanneer dit by feminisme in Afrika kom
dus Afrikafeminismes.
4 Sien Afdeling 2.1.2 vir
ʼn volledige bespreking van profeminisme.
5 Voortaan slegs Sonke
6 Ubuntu is die beskouing van die menslike aard vervat in die tradisionele Afrikaspreekwoord umuntu ngumuntu ngabantu (mense maak op ander mense staat om mens te wees) (Shutte 1993: in Ehlers 2017:17).
7 Dié ontwikkeling staan in die Engelse literatuur as NGO-isation bekend.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License