SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue4-1Swartskaap: Odette Schoeman author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.4-1 Pretoria Dec. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n4-1a12 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

'n Gevallestudie: 'n Mediahistoriografiese verkenning van 'n vroeë rubriek en 'n latere effekteorie-uitspraak

 

A case study: A media historiographic exploration of an early column and a later effects theory comment

 

 

Lizette Rabe

Departement Joernalistiek, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch. E-pos: LRABE@sun.ac.za

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel, in die vorm van 'n gevallestudie, verken ek 'n vroeë rubriek uit die 1920's in 'n Afrikanernasionale dagblad vanuit 'n mediahistoriografiese vertrekpunt teenoor 'n veel latere uitspraak wat uit die kognitiewe effekteorie-paradigma stam. Die rubriek heet "Oom Izak van Kaapstad" en het in Die Burger verskyn. Ongeveer sewentig jaar later is die Afrikaanse media beoordeel as ongetwyfeld die kognitiewe bestuurders ("mind managers") van Afrikaners vanuit die konteks van effekteorieë wat handel oor die rol en die mag van die media. Die vertrekpunt van die artikel word binne die veld van die mediahistoriografie gebaseer in 'n poging om dié onderbestudeerde vakwetenskaplike subgenre aan te vul. Ten eerste word dus 'n bespreking van mediahistoriografie aangebied om die onderwerp deeglik in te bed in die veld, waarop 'n bespreking van kognitiewe effekteorie volg wat die rol en die mag van die media voorhou. Laasgenoemde word aangevul met 'n bespreking rondom "kognitiewe denke" vanuit die perspektief van die kultuursosiologie. Die gevallestudie-benadering as navorsingsontwerp word kortliks saam met die metodologie bespreek. Daarop volg as deel van die mediahistoriese begronding van die artikel, en om die nodige konteks te bied, 'n bespreking van die bepaalde koerant en sy maatskappy se posisie en invloed in die maatskaplike milieu van die Afrikaner, wat inderdaad dekades later sou lei tot die beskouing dat die Afrikaanse media inderdaad kognitiewe bestuurders is. Vervolgens kom die rubriek en sy skrywer self aan bod. Ten slotte word vanuit hierdie mediahistoriografiese verkenning voorgestel dat dié vroeë Afrikaanse rubriek inderdaad as "effek" gesien kan word waarop die latere uitspraak rondom die Afrikaanse media as kognitiewe bestuurders gemaak kon word.

Trefwoorde: Afrikanernasionalisme; agendastelling; Die Burger; gevallestudie; historiografie; kognitiewe effekteorie; "mind manager"; Nasionale Pers; raming; rubriek


ABSTRACT

The Afrikaans media companies that propagated Afrikaner nationalism were undoubtedly "mind managers" of Afrikaners, was the judgement in 1994 by leading South African media scholar Pieter Fourie (1994a:283; 1994b:275). The media companies he referred to were Nasionale Persand Perskor. This article investigates Fourie's statement from a media historiographic point of departure, based on a column in the 1920s in Die Burger with the title "Oom Izak van Kaapstad" [Uncle Izak from Cape Town]. It was written by Burger-journalist Izak van Tonder who created the fictional character of "'n ou man, oom Izak ... wat vroeër op 'n plaas gewoon het en vir sy oudag Kaapstad-toe getrek het" [an old man, uncle Izak ... who used to live on a farm and who, in old age, moved to Cape Town] (Van Tonder 1945:44). In addition to the focus of this article on media historiography, as an under-researched field in the South African journalism and media studies (Sonderling 1995:87; Wigston 2007:5), the article also presents a media and culture theoretical focus. It proposes namely that Fourie's "mind manager" statement is understood from the cognitive media-effects theory, in conjunction with the media historical exploration. A further relevant point of departure is suggested in the approaches of sociologists Hofstede, Hofstede and Minkov (2010:4-5). They propose that culture constitutes "mental programmes" or "software of the mind". This approach is also discussed as relevant, specifically as it can also be found in the overall media and culture theory of cognitive effects theory and its sub-theories of agenda setting and framing. Methodologically, the subject is presented as a case study, and in this research design the historical method has been applied. The broader background of the column is presented as an essential historical context, followed by a discussion of the columns. Factors that led to the development of Afrikaner nationalism, such as the South African War, the First World War and the Rebellion, are presented as important contextual references. The founding of the media company Nasionale Pers, as "organ" for Afrikaner nationalism, is also discussed as further context. Following Fourie's statement of the Afrikaans media as "mind managers", as well as the sociological point of departure of "mental programming", as suggested by Hofstede et al., this article attempts to indicate that the column under discussion could manipulate the thinking of its readers. It can therefore be suggested that the cognitive media effects theory, as understood also from within the sub-theories of agenda setting and framing, as to be found in the column, could constitute a "mind manager", and that the column could be regarded as working as a "software of the mind" programme. Thus, as a historiographic exploration of an early column, and on the basis of effects theory, together with the proposed sociological theory of "mental programming", the article's aim is to suggest that Fourie's statement on the Afrikaans media as "mind managers" can be regarded as having substance.

Keywords: Afrikaner nationalism; agenda setting; case study; cognitive effects theory; column; Die Burger; framing; historiography; "mind manager"; Nasionale Pers


 

 

1. INLEIDING

Die Afrikaanse mediamaatskappye wat Afrikanernasionalisme gepropageer het, was ongetwyfeld kognitiewe bestuurders ("mind managers") van Afrikaners, was die oordeel van voorste mediawetenskaplike Pieter Fourie (1994a:283;1994b:275). Die mediamaatskappye waarna hy verwys het, was Nasionale Pers en Perskor.

In hierdie artikel word Fourie se stelling vanuit 'n mediahistoriografiese vertrekpunt ondersoek aan die hand van 'n rubriek uit die 1920's in Die Burger, getitel "Oom Izak van Kaapstad" deur 'n fiktiewe "ou man, oom Izak ... wat vroeër op 'n plaas gewoon het en vir sy oudag Kaapstad-toe getrek het" (Van Tonder 1945:44).

Benewens die fokus van hierdie artikel om mediahistoriografie as ondernagevorsde veld in die Suid-Afrikaanse joernalistiek- en mediastudie (Sonderling 1995:87; Wigston 2007:5) aan te vul, het die artikel ook 'n mediakultuur-teoretiese fokus. Dit is naamlik om Fourie se kognitiewe bestuurders-stelling vanuit die kognitiewe media-effekteorie teenoor die mediahistoriese verkenning te stel. 'n Verdere relevante aansluiting word gevind in die sosioloë Hofstede, Hofstede en Minkov (2010:4-5) se benadering van kultuur as geestesproduk. Dit word ingesluit in die bespreking, spesifiek soos dit ook gevind kan word in die oorkoepelende media- en kultuurteorie van effekteorie en sy subteorieë van agendastelling en raming.

Metodologies word die onderwerp as 'n gevallestudie aangebied, en binne dié navorsingsontwerp is die historiese metode toegepas. Die breër agtergrond van die rubriek word aangebied as noodsaaklike historiese konteks. Daarop volg 'n bespreking van die rubriek. In die slotsom word tot die gevolgtrekking gekom dat die rubriek as voorbeeld kan dien van hoe die Afrikanernasionale media as kognitiewe bestuurder ("mind manager"), of geestesproduk, wel Afrikanerdenke beïnvloed het.

 

2. BENADERING

Hierdie artikel benader die onderwerp van 'n rubriek van een eeu gelede en 'n latere uitspraak rondom die invloed van die media vanuit die veld van die mediageskiedenis. In aansluiting daarby word die massakommunikasieteorie van kognitiewe teorie, spesifiek effekteorie, bespreek.

Mouton (2001:170) beskryf 'n historiografiese studie as 'n poging om die verlede te rekonstrueer. Deur onder meer narratiewe kan so 'n geskiedenis so na as moontlik weergegee word (Mouton 2001:171). Volgens Sonderling (1995:87) en Wigston (2007:5) is geskiedenis 'n ondernagevorsde veld in joernalistiek- en mediastudies. Om dié leemte aan te vul, word hierdie artikel daarom in die mediahistoriografie ingebed deur eerstens 'n bespreking daarvan aan te bied, aangesien die skrywer ook die mening van Conboy (2012:1) deel dat geskiedenis een van die mees vrugbare, maar onontginde, subvelde van die joernalistiekstudie is.

Sonderling (1997:90) skryf dat historiese navorsing van die verskillende vorms van kommunikasie tot 'n beter begrip van die verlede kan lei. Volgens Wigston (2007:4) word ons begrip van die aard en struktuur van die hedendaagse media hoofsaaklik beïnvloed deur wat in die verlede gebeur het. Dit is dus nodig om te besin oor die rol en konteks van die media vanuit 'n spesifieke historiografiese vertrekpunt. Om dit te kan doen, moet volgens Wigston (2007:4) deeglike aandag aan die historiese ontwikkeling van die media gegee word. Berger (1998:112) meen dat een van die voordele van historiese navorsing die feit is dat 'n onderwerp op verskillende maniere ondersoek kan word, ook hoe dit oor tyd ontwikkel het, soos in hierdie geval waar 'n rubriek uit die 1920's byvoorbeeld teenoor 'n uitspraak uit die 1990's gestel word in die soeke na 'n groter begrip van 'n sekere verlede (en hede).

Wigston (2007:5) skryf egter dis nie so eenvoudig om die verlede te bestudeer nie omdat nog geen bruikbare model bestaan wat navorsers in staat stel om 'n allesomvattende historiese studie van die media te kan doen nie. Dis hoofsaaklik omdat die mediageskiedenis 'n "redelike onlangse fenomeen in kommunikasienavorsing is", soos ook Sonderling (1997:87-89) geskryf het. Wigston belig wel twee benaderings, naamlik sogenaamde diep boorwerk ("deep-drilling") teenoor die episodiese benadering. "Diep boorwerk" (Dahl, aangehaal in Wigston 2007:5) impliseer dat die interaksies tussen onder meer tegnologie, politiek, ekonomie en kultuur op een spesifieke punt bestudeer kan word om byvoorbeeld die verskuiwing van verhoudings tussen die media as instelling, die regering en die publiek te ontrafel ("untangle"). "Diep boorwerk", in hierdie geval, kan dus 'n kontekstuele begrip van die polities-maatskaplike konteks vir die rubrieke verskaf, uit onder meer wat die rubriekskrywer self oor die rubrieke in sy memoire geskryf het, asook wat in die rubrieke self raak "geboor" kon word, soos wat probeer word om in hierdie artikel aan die hand van die denke-beheer-uitspraak ("mind management") te betoog.

Vervolgens word die benadering rondom die kognitiewe invloed van die media, veral die kognitiewe effekteorie oor die rol en die mag van die media, bespreek, ook soos dit aansluiting vind by die sosioloë Hofstede, Hofstede en Minkov (2010:4-5) se benadering van kultuur as programmering van denke ("mental programs"), oftewel geestespoduk.

Massakommunikasie, of die massamedia, is vanaf die eerste teoretiese besinnings oor die rol van kommunikasie in die samelewing vanuit sy sosiale funksie beskryf (Fourie 2007:240; 265-269). Sosioloë soos Durkheim het vanuit sosiologiese paradigmas soos funksionalisme en strukturele funksionalisme die "sisteme" beskryf waarvolgens alle groeperinge binne 'n samelewing 'n sekere konsensus en sosiale orde handhaaf. Dit is ook toegepas op mediastelsels in spesifieke samelewings of kulture.

Vanuit 'n mediahistoriese oogpunt kan hierdie vertrekpunt ondersteun word uit een van die heel eerste studies oor die Afrikaanse pers, naamlik dat die pers "geen alleenstaande instelling" is nie en dat hy binne "die groot sosiale verband funksioneer" (Du Plessis 1943:i). Dit sluit aan by Fourie se stelling dat massakommunikasie in 'n samelewing vanuit sy sosiale funksie beskryf word. Die media kan dus nie geïsoleer word nie, maar moet gesien word teen die agtergrond van 'n groter geheel waarvan hy 'n integrale deel vorm, en waarin hy sekere "effekte" uitoefen, soos voorts in effekteorie voorgestel word.

Vanuit die breë funksionalisme is velerlei subteorieë ontwikkel, ook gedragsteorieë, waarvan een breë familie kognitiewe effekteorie is (Fourie 2007:230). Fourie skryf mediaboodskappe, selfs ook 'n enkele boodskap (soos dus teoreties ook een enkele rubriek), kan kennis en denke beïnvloed. Hierdie beïnvloeding kan duidelik ("manifest") of latent wees, en bedoeld of onbedoeld. Onder sulke effekte ressorteer byvoorbeeld propaganda (Fourie 2007:231).

Onder effekteorieë tel ook agendastelling en raming. Fourie (2007:244) skryf een van die basiese aannames van agendastelling is dat die media bewustelik of onbewustelik 'n spesifieke beeld van die samelewing skep. Die uitlaat van sekere aspekte, of die oorbeklemtoning van ander, vestig 'n sekere patroon waarvolgens mediagebruikers oor die werklikheid dink. Volgens Fourie fokus agendastelling op watter onderwerpe die media aan gebruikers bied, en hoe inligting oor die geselekteerde onderwerp aangebied word (Fourie se kursivering). Watson en Hill (2003:5) som die term op deurdat dit gebruik word om aan te dui hoe die media kwessies vooropstel en aanbied om 'n spesifieke gehoor op 'n spesifieke manier te bereik.

Raming is 'n tweede relevante effekteorie, en is nou verweef met agendastelling (Fourie 2007:245). As media-effek beskryf die term die invloed op die publiek deur die invalshoek wat joernaliste gebruik, die interpreterende en ideologiese raamwerk waaruit gegewe gerapporteer word, en die kontekstualisering daarvan binne 'n spesifieke ideologiese raamwerk. Sulke "ideologies gekleurde" rapportering is ook bekend as advokaatskap. Watson en Hill (2003:109) definieer raming as die proses waardeur die media die werklikheid binne 'n spesifieke "raam" plaas in terme van wat belig word of aandag kry, asook hoe dit gedoen word.

Saam met kognitiewe effekteorie neem hierdie artikel voorts ook 'n relevante konsep in ag soos geformuleer deur die sosioloë Hofstede, Hofstede en Minkov van kultuur as programmering van denke ("mental programs"), oftewel geestesproduk ("software of the mind") (2010:4-5). Dié kultuursosiologiese benadering van Hofstede et al. beskou kultuur as programmering van denke ("mental programming") en kan saam met Fourie se stelling oor die Afrikaanse media as kognitiewe bestuurders ("mind managers") van Afrikaners gelees word. Na analogie van hoe rekenaars werk, beskou Hofstede et al. sulke denk-, gevoels- en handelspatrone ("patterns of thinking, feeling, and acting") as programmering van denke ("mental programs"), of geestesproduk. Die bronne van die mens se kognitiewe programmering lê in die sosiale omgewing waarin hy1 grootgeword het en waaruit hy sy lewenservarings, oftewel kultuur, "versamel". Hofstede et al. verwys daarna dat die woord kultuur sy oorsprong in die bewerking van grond het. Dit is ook gepas vir die onderwerp van hierdie artikel, naamlik 'n "afgetrede boer" wat "terughunker na die plaaslewe" (Van Tonder 1945:44). Hofstede et al. skryf (2010:5):

This word [culture] has several meanings, all derived from its Latin source, which refers to the tilling of the soil. In most Western languages culture commonly means "civilization" or "refinement of the mind" and in particular the results of such refinement, such as education, art, and literature.

Egter, "kultuur", veral in die sosiologie, skryf Hofstede et al. (2010:5), is vir hulle:

(i) the training or refining of the mind; civilization;

(2) the unwritten rules of the social game, or more formally the collective programming of the mind that distinguishes the members of one group or category of people from another.

Hulle definieer voorts verbandhoudende terme soos "group agency" as die kapasiteit van 'n groep vir kollektiewe optrede (Hofstede et al. 2010:518). "[N]ational culture" is die kollektiewe kognitiewe programmering wat verkry word "deur groot te word in 'n spesifieke land" (of "volk") se kultuur (Hofstede et al. 2010:520). Hierdie begrippe word dus ook in gedagte gehou met die bespreking van die "Oom Izak"-rubriek as "kognitiewe programmering", soos dit ook deur effekteorie vir die doeleindes van hierdie artikel geïnterpreteer word.

 

3. NAVORSINGSONTWERP EN WERKWYSE

Die navorsingsontwerp vir hierdie artikel is 'n gevallestudie wat as empiriese ondersoek onder meer 'n aantal rubrieke as bronne gebruik. Gevallestudie as navorsingontwerp kan enkelgevalle ('n individu, 'n groep, 'n instelling of 'n dokument), asook meervoudige gevalle insluit. Ook Babbie en Mouton (2001:281) beskryf 'n gevallestudie as 'n intensiewe ondersoek wat 'n "enkele eenheid" beskryf, maar dat dit van 'n individu, tot 'n gemeenskap, of 'n land kan wees.

Omdat die interpretasie van 'n gevallestudie problematies kan wees, stel Babbie en Mouton (2001:282) voor dat die navorser die konteks van die studie in detail beskryf met inagneming van "omgewing, ekologie en omwêreld" waarin die eenheid van analise ingebed is. Ook Pitout (1997:122) skryf dat die grense tussen "verskynsel" en "konteks" nie duidelik waarneembaar is nie. Dit is daarom dus nodig om die konteks asook die sosiaal-politiek-maatskaplike agtergrond van die onderwerp van hierdie artikel te bespreek (soos wat later sal volg).

Binne die gevallestudie-navorsingsontwerp is as werkwyse die historiese metode toegepas om data in te win. Hierdie metode word beskryf as 'n gespesialiseerde wetenskaplike ondersoek na die fenomene wat meer as 'n stel menslike akteurs, aktiwiteite en gebeure is wat op 'n spesifieke plek en 'n spesifieke tyd in die verlede plaasgevind het - "meer as 'n lys van datums, name of feite" (Sonderling 1997:89-90).

Data word gevind in bronne wat breedweg as primêr en sekondêr aangedui word (Sonderling 1997:90). Primêre bronne stam uit die historiese periode wat bestudeer word met sekondêre bronne wat verder verwyder is van die historiese gebeure waarop gefokus word.

Ten slotte kan 'n mens by hierdie kort bespreking wat betref werkwyse meld dat daar 'n velerlei ander relevante, toepaslike en uiters interessante metodologieë is waarmee die onderwerp ondersoek kan word, soos byvoorbeeld die verskillende benaderings tot teks-, inhouds- en diskoersanalise. Die navorser wil egter bewustelik 'n beskrywende, mediahistoriografiese narratief skep oor 'n spesifieke era en hoe een rubriek uit die mediageskiedenis gelees kon word as ondersteuning vir die latere Fourie-oordeel van kognitiewe bestuurders ("mind managers"), of, op nog 'n vlak gesien, van programmering van denke ("mental programming"), of geestesproduk ("software of the mind").

Vervolgens word die aspek van die konteks waarin die rubriek verskyn het, bespreek.

 

4. KONTEKS

4.1 Die publikasie en sy maatskappy

Soos reeds genoem, is die konteks in 'n mediahistoriografiese studie belangrik. Die agtergrond van die publikasie, sy maatskappy en sy samelewing word dus kortliks vir die doeleindes van hierdie artikel geskets.

Ter aanvang is dit nodig om te verwys na die libertariese rol van die media soos dit in Westerse samelewings voorkom - dus ook die wit Afrikaanse samelewing waarin die spesifieke publikasie hom bevind het. Fourie (1994b:265) verwys ook na die dualisme van die sogenaamde Eerste Wêreld-aard van die Afrikaanse media, maar "wat in omstandighede soortgelyk aan Derde Wêreld-lande funksioneer". Dié Westers-libertariese rol van die media aanvaar dat gebruikers rasionele wesens is wat die media as bron van inligting gebruik en wat hulle help om eie idees te vorm. Dit is daarom belangrik dat die media "vry van regeringsbeheer en -invloed [moet wees], en daar moet 'n vrye mark van idees en inligting wees" (Roelofse, soos aangehaal in Fourie, 2007:192-193). In sy taksering van die rol van die Afrikaanse pers bespreek Fourie die beskouing dat daar twee vorms van totalitêre beheer oor massakommunikasie is. Die eerste is die oorname van die media deur die staat wanneer die media sy outonomie verloor. Die tweede is die konsentrasie van die mag van die media in die hande van monopolieë wat die vryheid van mense om te kies, beperk (Fourie 1994a:274-275). Dit vorm deel van die begronding vir Fourie se kognitiewe bestuurder-uitspraak ("mind management"). Volgens wat later as die kognitiewe effekteorie bekend sou staan, is die teikenmark, die wit Afrikaner, deur dekades beïnvloed deur die genoemde twee Afrikaanse mediamaatskappye.

De Nationale Pers Beperkt2 is in 1915 gestig (Rabe 2015a:11-13). Perskor het uit verskeie Afrikanerpersgroepe ontwikkel nadat die oorspronklike maatskappy in 1937 as Voortrekkerpers gestig is (Le Roux 1953:80-81; Botha 2012). Teen 1998 is die laaste van die maatskappy, wat verskeie samesmeltings beleef het, verkoop (Caxton 2018). Geen deel van die maatskappystruktuur bestaan meer nie.

Nasionale Pers is gestig as antwoord op Afrikanernasionalisme se behoefte aan 'n spreekbuis ter bemagtiging van die Afrikaner wat ná die Suid-Afrikaanse Oorlog3 polities, kultureel, en ekonomies verarmd was (Rabe 2015a:11-13). De Nationale Koerant- en Drukpersmaatschappij Beperkt, soos wat dit aanvanklik sou heet, se "oprichtersvergadering" was op 18 Desember 1914. Hy is op 12 Mei 1915 geregistreer as De Nationale Pers Beperkt. Die eerste publikasie was sy dagblad, De Burger, op 26 Julie 1915. Vanaf Januarie 1922 is die titel verafrikaans na Die Burger nadat in Desember 1921 besluit is om die maatskappy se naam te verander na Nasionale Pers, Beperk (Akte van Oprichting 1921). Afrikaans het drie jaar later, in 1925, amptelike taalstatus naas Nederlands en Engels gekry (Giliomee 2012:294). In 1998 is die maatskappy se groepnaam amptelik verkort tot Naspers (Company History 2013). Een skrywer se kommentaar hierop was: "[A)s if to disguise but not bury its [nationalistic] roots" (Harber 2012:18).

In die 1920's, met die skryf van die rubriek "Oom Izak van Kaapstad", wat van 1924 tot 1925 elke Maandag gepubliseer is (Oom Izak van Kaapstad 1924-1925), was die vorige twee dekades se distopie vir die Afrikaner helder in die herinnering. Interne Afrikanerpolitiek het gelei tot die stig van die Nasionale Party (NP) in die Vrystaat in 1914 (National Party 2017). Die rampspoedige Rebellie met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 het die opbloei van Afrikanernasionalisme verder gestimuleer en tot gevolg gehad dat dié nasionalisme 'n "mondstuk" benodig het. Die Nasionale Pers is gestig om "onapologeties" 'n propageet vir Afrikanernasionalisme te wees (Rabe 2015a:10).

Wat betref die Afrikaanse pers se verhouding met die NP, verwys Fourie na die geskiedenis van die Afrikaanse pers "se kop-in-een-mus-verhouding met die Nasionale Party-regering" en dat dit "allermins 'n gesonde toestand" was (1994a:283). Hy skryf dat 'n persgroep se reg tot verbintenis met 'n politieke party nie ontken word nie, maar dat 'n mens "wel op 'n meer kritiese verhouding" sou kon aandring. Die maatskappy was uiteraard geensins uniek daarin dat hy 'n politieke stroming ondersteun het nie. Nabye Suid-Afrikaanse voorbeelde is byvoorbeeld ook vroeë publikasies wat as mondstuk of "orgaan" vir die ANC gedien het (Limb 2000:92; Wigston 2007:38). Hierdie gevallestudie ontken ook nie die reg van 'n koerant of 'n mediamaatskappy om hom te belyn met sekere politieke doelwitte nie.

Naspers, dus gestig in diens van Afrikanernasionalisme in 'n sekere tydvak van die geskiedenis, het homself geposisioneer as spreekbuis vir en bemagtiger van wit Afrikanerbelange. Oor dekades het die maatskappy homself egter totaal herskep en uiteindelik herposisioneer as 'n "globale internet- en vermaakgroep en een van die grootste tegnologiebeleggers ter wêreld" (Naspers 2018). Die Burger het hom in die vroeë 1990's amptelik losgemaak as "spreekbuis", of "orgaan", soos dit ook genoem is, van die Nasionale Party (NP) (Scholtz 2015:33; Dommisse, 2018). Ná 'n herstrukturering van die maatskappystruktuur is die koerant sedert 2 000 deel van die Naspers-filiaal Media24 (Media 24 Koerante 2018).

Die hoofstroom- Afrikaanse media, in later jare "in weerwil van sy ... ondersteuning van die aftakeling van apartheid", is op grond van sy "jarelange bondgenootskap met en ondersteuning van die (Afrikaanse) Nasionale Party-regering ... steeds gesien en gestigmatiseer as die media van die onderdrukker en die media van apartheid" (Fourie 1994b:264). En, meen Fourie: "Dit is die ballas waarmee die Afrikaanse media die nuwe Suid-Afrika ingaan." In 'n repliek op dié kritiek het die destydse hoof van Naspers se koerante-afdeling, Hennie van Deventer (1994), geskryf dat die Afrikaanse media nie net 'n hansie-my-kneg was nie.

Fourie het ook in 1994 gemeen "die breek met apartheid sal en kan nie oornag gebeur nie" (1994b:273):

Hoewel apartheid "oornag" uit die wetboeke verwyder kon word, sal dit jare duur voor die effek van apartheid op alle Suid-Afrikaners se onderliggende lewens-, wêreld- en mensbeskouing uitgewis is. Hierdie lewens-, wêreld- en mensbeskouing ('n mens kan seker ook van die apartheidsideologie praat) vind neerslag in Suid-Afrika se tale, godsdienste, kunste, onderwys en media - kortom, in álle simboliese uitdrukkingsvorme. (1994b:273-274)

Fourie se opsomming onderstreep die jarelange "programmering" van die Afrikaner deur die media, wat, soos in hierdie gevallestudie voorgestel, uit 'n tipiese rubriek soos "Oom Izak van die Kaap" kon vloei. Fourie verwys naamlik ook daarna dat die Afrikaanse persmaatskappye ook die skoolboekmark, dus die opvoedkunde, oorheers het (Fourie 1994b:275). Ook Mouton (2002:35) skryf

[d]eur ouers, onderwysers, die Afrikaanse koerante, die kerk en die viering van Geloftedag is Afrikaners geïndoktrineer met die geloof dat die NP en sy beleidsrigtings ondersteun moes word as jy 'n goeie en ware Afrikaner wou wees.

In 'n "blinde gehoorsaamheid" moes aanvaar word dat die leiers geweet het "wat goed was vir die volk" (Mouton 2002:35). Volgens Mouton was Afrikanerdom 'n "uiters konserwatiewe en konformistiese samelewing". Kritiek is dus nie aangemoedig nie, met afwykendes wat geïsoleer en verstoot is. Giliomee (2012:300) se verwysing dat Afrikaners se opvoedkundige peil baie laag was, impliseer dat hulle nie sommer leierskap sou bevraagteken nie. Volgens Giliomee het 'n studie van 1933 getoon dat 44 uit 'n klas van 100 wat saam begin skoolgaan het, die skool sou verlaat sonder om st. 6 (gr. 8) te slaag. Net agt sou matriek slaag, en minder as drie sou universiteit toe gaan. Verstedelikte Afrikaners was "in veel laer poste as hul Engelssprekende landgenote" en Afrikaners se per capita-inkomste was die helfte van Engelssprekendes s'n.

Verbandhoudend met bostaande moet die patriargale lewens- en wêreldbeskouing van dié era ook genoem word. Dit was vanselfsprekend dat die Christelik-nasionale denkraamwerk 'n sekere Afrikaner-paternalistiese perspektief sou insluit (soos onder andere Van der Westhuizen 2013).

Oor verstedeliking weens onder meer die Suid-Afrikaanse Oorlog, skryf Koorts (2017:14) "[o]m die platteland vir die stad te verruil was een van die pynlikste prosesse wat Afrikaners in die 20ste eeu ondergaan het". Egter: "Politici en kerkleiers het besef dat die proses onvermydelik was, maar verstedeliking is nogtans as 'n euwel beskou. In die stad sou 'n Afrikaner die pad byster raak." Die plaaslewe was 'n nostalgiese utopie, soos wat kort daarna in die baie gewilde sogenaamde "plaasroman"-genre vergestalt sou word en wat later as vrugbare navorsingsmateriaal sou dien - daar is byvoorbeeld 237 trefslae vir "plaasroman" as navorsingsonderwerp op slegs een soekenjin ("Plaasroman" 2018).

In hierdie konteks sou die rubriek "Oom Izak van Kaapstad" vrugbare teelaarde vind, om Hofstede et al. se agrariese beeldspraak van kultuur voort te sit.

4.2 Die Burger

As verdere bespreking onder die belangrike aspek van konteks binne hierdie historiografiese verkenning volg 'n kort bespreking van die blad waarin die rubriek verskyn het.

Die Burger, as eerste publikasie en dus sogenaamde "vlagskip" van Naspers, het met die woorde "kind van smart en hoop", soos in sy heel eerste hoofartikel op 26 Julie 1915 (Hoofartikel 1915), reeds as kragtige metafoor en wekroep tot Afrikanernasionalisme gespreek. Die publikasie is geposisioneer as blad "van goed gehalte, onafhankelik van regerings- of partijkontrole" en moes voorsiening maak vir die "vrije, onbelemmerde uiting van de volksmening aangaande alle belangrijke vraagstukken". Die teikenmark was 'n groep mense wat "op een oplossing wachten", en die publikasie moes "het volk tot bespreking daarvan in de kolommen van het blad aan ... sporen" (Le Roux 1953:56-58). Met die eerste redakteur, D.F. Malan, wat ook Kaaplandse NP-leier was, asook die baie duidelike sentimente van die maatskappy, is die vraag wel hoe dit "onafhanklik van regerings- of partykontrole" kon wees (vergelyk ook Roelofse soos in Fourie 2007:192-193), en dat die maatskappy dus nie vry van politieke invloed was om 'n vrye mark van idees en inligting te kon weergee nie. Die raison d'être vir die maatskappy was immers Afrikanernasionalisme. Hoewel die politieke ekonomie van die media 'n mediateoretiese benadering sou wees wat eers heelwat later geformuleer sou word om media- en politieke mag krities te analiseer (en ook nie die onderwerp van hierdie artikel is nie), was die band tussen maatskappy en politiek duidelik. Die "Oom Izak"-rubriekskrywer, Izak W. van Tonder, het self ook só in sy memoire geskryf: "Die Burger is die Nasionale Party en die Nasionale Party is Die Burger - dit is 'n uitdrukking wat 'n mens voortdurend gehoor het toe sowel die Party as ons koerant begin vormvat en koerskry het" (1945:17).

Van Tonder verwys ook na die reeds genoemde faktore van die voorafgaande twee dekades wat 'n tyd van "moedeloosheid en vertwyfeling tot gevolg gehad het (1945:19), en hoe

uit nood en wroeging, en onder 'n stortvloed van spot en hoon en haat 'n dagblad gebore [is] waarvan die naam later in groot vergulde letters oor die lengte en breedte van Suid-Afrika geskryf sou staan. Daardie dagblad was Die Burger (of De Burger, soos hy toe nog genoem is). (Van Tonder 1945:18)

Nasionale Pers se moeilike begin het ook daaruit gespruit dat Afrikaners nie kapitaalkragtig was om in hom te belê nie - "[v]yf-, tien-, twintigtalwyse het die aandeeltjies ingekom" (Van Tonder 1945:22). Die "bietjies-bietjies" (Van Tonder 1945:23) het gegroei tot dit wat die "krag van die Nasionale Pers en Die Burger" versinnebeeld, naamlik "die feit dat hulle aan die volk behoort en nie aan 'n paar groot kapitaliste nie".

Want belangrik: "Daar was 'n volk wat gered moes word" - en gelukkig, "[o]ns volk het hom maklik laat lei," aldus Van Tonder (1945:26). (Dit herinner aan die "blinde gehoorsaamheid"-aspek wat ook kenmerkend van die Afrikaner was - Mouton 2002:35.) Inderdaad, soos Van Tonder (1945:26) geskryf het: "Hy wag net op 'n leier, laat dit wees op politieke of maatskaplike gebied. En nou verrys daar 'n leier - 'n maatskaplike [Die Burger]."

Van Tonder (1945:27) skryf "[o]p die pas gelegde fondamente van samewerking en nasionalisme moes voortgebou word. Op taalkundige, kulturele en ekonomiese gebied het daar wyd uitgestrekte, onbewerkte vlaktes vir ons volk gelê." Ook: "die hand [moes] aan die ploeg geslaan word."

Die kulturele konteks waarin die koerant hom bevind het, het dus beteken dat hy 'n vrugbare teelaarde gehad het vir enige denke wat "gesaai" is wat betref Afrikanernasionalisme. Dit word onderstreep deur Van Tonder se agrariese idioom, soos in die verwysing na die "uitgestrekte, onbewerkte vlaktes" wat vir die "volk" gewag het, asook die "hand aan die ploeg slaan"-uitdrukking. Dit sou sekerlik aanklank vind by die gehoor, veral gegewe die feit van verstedeliking en die hunkering na die verbeelde landelike idille wat agtergelaat is, soos ook deur die personasie van "Oom Izak" as afgetrede boer in die stad. Dit herinner ook weer aan Hofstede et al. se verwysing na die woord kultuur se oorsprong as die bewerking van grond. Oor die verstedeliking van die Afrikaner het Van Tonder self in 1945 geskryf:

In sy beginjare het hy [Die Burger] sy lesers byna uitsluitend onder die plattelandse bevolking gevind; sinds die vinnige selfbewuswording en opkoms van die Afrikanervolk, sinds die ongekende groei van die Nasionale Party, moes Die Burger nou naas plattelandse nuusblad ook stadskoerant wees". (1945:82)

Van Tonder (1945:82-83) skryf dat die koerant "grootliks bygedra het" tot die Afrikaner se groter selfvertroue en dat hy "tred gehou het met nuwe behoeftes wat daardeur geskep is". Die koerant "het nou ook begin waak oor die stoflike belange van die Afrikaner in die stad, terwyl dit aan geestelike voedsel nie ontbreek het nie".

Oor die oorwinning in 1924 danksy die Pakt tussen die NP en die Arbeidersparty het Van Tonder geskryf: "Die Burger was nie langer die veragte en bespotte "rag" van die Hertzogiete nie. Hy het die Nasionale Party van 'n niksbeduidende, bespotte partytjie opgerig tot die regerende party van die land" (1945:81). Die koerant se aansien onder adverteerders het ook gestyg: "Daar was nou wedywer om sy guns. Advertensies het nie meer agterweë gebly nie; geldbelange is soos weerhane! Hy het by sy heftigste teenstanders eerbied afgedwing." Van Tonder eindig sy memoire op 'n selfversekerde, selfs grootpraterige noot, waarmee hierdie kontekstuele bespreking van die maatskappy en sy eerste publikasie afgesluit word:

As ons die roemryke geskiedenis van ons Pers in oënskou neem, kan ons wel uitroep: Laat die brakke maar blaf, laat die groot honde maar byt; die karavaan gaan sonder stilhou voort! Vandat hy eenmaal koers gevat het, was daar geen keer meer aan hom nie. Die bron was gesond, standhoudend. Gevoer deur die sak en die hart van die volk, het hy voortdurend 'n magtige stroom uitgestoot wat soos 'n lawine die land oorweldig het. ... Laat die honde maar blaf, die karavaan gaan voort! (Van Tonder 1945:162)

 

5. DIE RUBRIEK

Van Tonder was 'n redaksielied van Die Burger toe hy die rubriek "Oom Izak van Kaapstad" geskryf het. Volgens sy eie herinneringe (1945:44) was dié persona 'n fiktiewe afgetrede boer wat na Kaapstad verhuis het. Daar lewer hy kommentaar op daaglikse ervarings van hom as boer in die stad, en raak hy só die harte - én verstand - van die dagblad se lesers, wat, soos "Oom Izak", self in 'n verstedelikingsproses was. Volgens sekere van die rubrieke blyk dit egter dat "Oom Izak" moontlik 'n LV was, want hy verwys onder meer na sy kiesafdeling, die opening van die Parlement, en hoe hy geweier het om in 'n swaelstert-pak aan die openings-"plechtigheid" deel te neem (Oom Izak van Kaapstad 1925a:8), asook debatte in die Parlement waaraan hy deelgeneem het (Oom Izak van Kaapstad 1925b:8).

Van Tonder het hom in 1921 as redaksielid by Die Burger aangesluit. Hy is aangestel toe die koerant sy "jongelingjare" begin ontgroei het (Van Tonder 1945:16). Onder die nuwe aanstellings was byvoorbeeld ook die eerste amptelike vroulike redaksielid as "vroueredaktrise", naamlik Miemie Rothmann (MER) (Rabe 2004:39). Die 1921-aanstellings was deel van 'n poging om die koerant te versterk omdat dit toe ook beter met die maatskappy se finansies gegaan het. Frederik Rompel, wat "al lankal beroemdheid verwerf het as vermaarde skrywer en joernalis aan Die Volkstem" (Van Tonder 1945:16) is ook aangestel, en hy het ná sy aanstelling Die Volkstem "leeggetap ... van sy beste werkkragte" (Van Tonder 1945:17). Onder hulle was Louis Hiemstra, die latere taalghoeroe.

Van Tonder verwys daarna dat hy in die onderwys was en ook tien jaar geboer het ("tien jaar se weggooi op 'n plaas" - 1945:7), voordat hy by Die Burger aansoek gedoen het. Sy eerste werkdag in Keeromstraat was op 17 Maart 1921. Die koerant was toe nog De Burger en sou in Januarie 1922 na Die Burger verander nadat die maatskappynaam kort tevore in Desember 1921 verafrikaans is.

Van Tonder het voor die "Oom Izak"-rubriek egter eers 'n ander rubriek behartig. Nadat hy maar 'n kort ruk by die koerant was, is hy deur "tegniese redakteur" Frederik Rompel, "of die 'news editor' soos die Engelse koerante sou sê" (Van Tonder 1945:5), gevra om "fantaseerwerk" (Van Tonder 1945:32) te doen. Dit het beteken hy moes 'n rubriek, "artikel" genoem, skryf.

Vir sy eerste rubriekreeks moes hy sy "hoed en jas geneem en die kantoor vir die strate verlaat [het]" (Van Tonder 1945:33). Hy het onthou: "'En as jy vanmidding iets tuisbring, sal ek baie in my skik wees,' gons Rompel se woorde my deur die kop." Van Tonder het so gemaak, desperaat dat hy wel iets sou kry om oor te skryf. Met die verbyloop van "een van daardie ouderwetse ou keb-karre" was die toestand van die karperd vir hom een te veel, en "[m]y verbeelding pak my nou beet".

Dit het gelei tot Van Tonder se eerste rubriekreeks "Langs die straat" (1945:35). Op 'n antropomorfologiese manier het hy oor die karperd in die eerste persoon geskryf, wat gelei het tot nog rubrieke, wat gelei het tot optrede deur die stadsraad teen die toestande waaronder trekperde in die stad aangehou is - 'n onderwerp wat tot die harte van Afrikaners sou spreek. Daarop het verdere rubrieke oor byvoorbeeld die bewaring van (Kaaps-Hollandse) argitektuur gevolg. Van Tonder het byvoorbeeld geskryf hoe Kaapstad "wemel van kultuurskatte in die vorm van ou Hollandse geboue en ander kleinode uit vervloë dae" (1945:39-40). Maar: 'n "vlaag van vandalisme [het] oor ons stad getrek" en 'n "sekere groep geldmakers" is daarop uit om "net alles wat ons aan die oudheid herinner, [te] vernietig". Dit is duidelik na wie hy verwys sonder dat hy nodig het om die woord "Hoggenheimer" te noem: die vergestalting van Joods-Imperialistiese kapitaal, 'n simbool wat toe reeds gevestig is deur die spotprentkunstenaar D.C. Boonzaier se uitbeelding van kapitalisme as antitese van Afrikanernasionalisme.

Van Tonder het egter uitgeskryf geraak, en "Langs die straat" "se uur het ook geslaan" (1945:43). Rompel wou nie aanvaar dat Van Tonder nie voortgaan met 'n rubriek nie, en "[t]oe skielik skiet hy eendag op my neer nadat ek 'n kongres van boere gerapporteer het". Só is "Oom Izak van Kaapstad" gebore. Rompel het die fiktiewe personasie só beskryf:

Kyk, jou naam is Izak, en nou skryf jy weekliks 'n artikel onder die naam van "Oom Izak van Kaapstad". Jy stel daarin 'n ou man, oom Izak, voor wat vroeër op die plaas gewoon het en vir sy oudag Kaapstad-toe getrek het. Oom Izak sal fout vind met die nuwighede van die stadslewe en terughunker na die plaaslewe. (Van Tonder 1945:44)

Van Tonder was teësinnig, want hy sou vir elke Maandag 'n rubriek moes lewer, met saktyd dus elke Sondag. "Ek het nog nie daardie 'Langs die straat' vergeet waarmee ek my kop elke liewe dag wat die vader gegee het, moes breek nie. En dan jou gewone werk maar net so eenstryk-deur aan."

Maar so het "Oom Izak van Kaapstad", die "goedig-knorrige ou oom met sy rumatiek ... en sy liewe ou vrou tant Anna" van 1924 tot 1925 weekliks verskyn (Van Tonder 1945:46). Afhangend van die dikte van die koerante, was dit f op bladsy 6 f 8 (Oom Izak 1924-1925). Ná die eerste paar rubrieke, of artikels, soos dit genoem is, het Boonzaier, 'n "denkbeeldige tekening" gemaak wat elke keer by die rubriek gebruik is. Dié tekening is ook op die voorblad van Van Tonder se memoire gebruik. Dit is waarskynlik gedoen ter wille van herkenbaarheid deur voornemende kopers, want "Oom Izak" het die koerant se lesers "stormenderhand verower" (Van Tonder 1945:46). Die rubriek het die vorige rubriek, "Langs die straat", "totaal in die skaduwee gestel".

Die rubriek was so gewild dat "[m]enige ou oom uit die platteland" spesiaal "by die Burger-kantoor aangekom het om 'Oom Izak' te ontmoet" (Van Tonder 1945:46).

Maar die oubaas was natuurlik nooit op kantoor nie. Baie keer is aan my self gevra om hulle na "Oom Izak" te bring, en dan moes ek hulle maar met die kluitjie in die riet wegstuur.

"Oom Izak" woon daar bo in Tamboerskloof en hy kom nooit op kantoor nie, was die gebruiklike antwoord aan die besoekers.

Van Tonder skryf "[b]riewe van waardering het ingestroom, en veral die Parlementslede het met mekaar gewedywer om in 'Oom Izak' genoem te word". Op Van Tonder se "rondreise" het mense gedurig vir hom gevra wie tog "Oom Izak" is, en "hoe ver die oubaas geleer het dat hy so kon skryf, en of 'n mens hom sou kon sien as hulle Kaap toe gaan". Selfs jare nadat Van Tonder die joernalistiek verlaat het, het daar steeds navrae oor "Oom Izak" gekom. "Van tyd tot tyd moes Rompel in 'Van Alle Kante' [vandag die oudste Afrikaanse koerantrubriek - Rabe 2015b:178] die publiek gerusstel dat 'Oom Izak' darem nie dood is nie, soos baie vermoed het, maar dat hy 'n denkbeeldige figuur was" (Van Tonder 1945:47).

Van Tonder interpreteer self ook die betekenis van "Oom Izak", naamlik dat hy "as 't ware die skakel voorgestel [het] tussen die ou geslag met sy sedige, beskeie maniere en lewenswyse, en die jonger geslag wat so veel moontlik uit die lewe probeer haal". Hy het "gedurig gemor en geknor oor die gejaagdheid en ligsinnigheid van die stadslewe, maar was daarby baie breed van opvatting" (Van Tonder 1945:47-48). Hy was die tipiese paternalistiese vaderfiguur:

Hy kon hom by die lewenswyse van die jonger geslag aanpas en het sy modesieke en lewenslustige dogter selfs dikwels vergesel na modeparades, konserte en voetbalwedstryde. Deur op oordeelkundige wyse toe te gee en te weerhou, het hy die uiting van die lewensdrang van sy dogter langs die regte kanale gelei in haar omskepping van 'n eenvoudige boerenooi tot nuwerwetse stadnooientjie van karakter kerngesond. Hy was die goeie vriend en raadgewer, die liefling van die jong Afrikaners in die stad, die opbeurder en bemoediger van die ouer geslag. Hy was ewe gewild onder die ouer Parlementslede en plaasboere as onder die kantoorseuns en -dogters.

"Oom Izak" het ook in dié Afrikanernasionale idioom geskryf oor maatskaplike kwessies, soos oor Distrik Ses. Dit was die "agterbuurte van Kaapstad" waar "daar elke nag van die week baie onheil plaas[vind]", en

waar van die laagsgesonke kleurlinge soms in groot klompe saamgehok is met ewe laagstaande Oosterlinge en ander rassegroepe. Ook die opdrifsels uit die naturellegebied wat na Kaapstad dryf, spoel gewoonlik daar vas. (Van Tonder 1945:48)

Hy skryf in dié "nes van onsedelikheid en misdaad word snags onder dekking van die duisternis grusame tonele afgespeel. Brassery en dobbelspel vier hoogty terwyl selfs moord en doodslag nie seldsaam is nie." Dis juis die beleid van Die Burger "om sulke kankerkolle in ons maatskaplike lewe onder die felle strale van die sonlig te bring sodat daar verbetering kan kom". Daarom dat hy self ook een nag saam met speurders op 'n klopjag uitgegaan het. Hy skryf in groot detail en in 'n Afrikanernasionale idioom van moreel verhewe "blankes" teenoor die inwoners van die gebied en oor wat daar gevind is (Van Tonder 1945:48).

'n Lees van die rubrieke (Oom Izak 1924-1925) onderstreep bostaande. Daar is vanuit 'n Afrikanerpatriargale perspektief kommentaar gelewer, met Afrikaner-volksnasionalisme wat op 'n gemoedelike, vaderlike wyse in geselstrant oorgedra is. Dit wat nie volkseie was nie, is met die nodige afsku as volksvreemde waardes en leefwyse verwoord, waarmee die leser dan deur spesifieke agendastelling en raming "geprogrammeer" is met dié Afrikanernasionale kulturele waardes.

'n Paar van die opvallende aspekte was byvoorbeeld:

Die patriargale toonaard, soos in die rubriek "Oujaarsdagaand" (Oom Izak 1925c:8), waar hy beskryf hoe sy kinders eers by hul ma toestemming vra om Oujaarsdagaandvieringe in Adderleystraat by te woon, en hoe sy daarop vir hom (geïmpliseer: die hoof van die huis) nader. "Oom Izak" skryf dat hy toe tog ingestem het, maar dat hy hulle sal vergesel: "Kort na die ete het ek die kinders dus bymekaar geroep en is ons almal saam af na Adderleystraat."

Rassisme, soos in die rubriek "Die Suidoostewind" (Oom Izak 1925d:8), waar hy onder meer skryf dat die Kaapse Suidoos die "goeie dokter" is wat die "verpestende walme van Distrik Ses en die ander agterbuurtes van die stad in die see indryf".

Die idilliese platteland en plaaslewe teenoor die stad se geïmpliseerde "Sodom en Gomorra", soos in "'n Benoude nag" (Oom Izak 1925e:8) blyk uit: "Ek sal nog voor my tyd doodgaan. Ek wat gewoond is om 'n stil en rustige lewe op my plaas te lei, het al die paar jaar wat ek in die stad woon, meer moes deurgaan as in al die sestig jaar van my lewe op Geelboslaagte." Hy skryf verder hoe sy dogter as een van die "teenswoordige kinders" "[e]lke liewe aand wat die vader gee", "plesier [wil] hê", en hoe sy hom weer eens "saamgesleep" het bioskoop toe. Hy beskryf die rolprent met die held van toe, Tom Mix (wat in meer as 271 Cowboy-prente gespeel het [Tom Mix g.d.]), as die "belaglikste spul wat ek ooit bygewoon het", maar hoe dit hom tog 'n benoude nag besorg het omdat hy daarna wilde nagmerries gekry het. Hy eindig sy rubriek met die verwensing: "Die vervlakste bioskoop."

In nog 'n rubriek (Oom Izak 1925f:8) skryf hy oor al die nuwighede van die stadslewe. Hy beskryf hoe hy en sy gesin na 'n mallemeule gegaan het en gee vertalings vir van die ritte wat hy daar gesien het. Hy verwys egter eers weer daarna dat dit nie genoeg was dat sy kinders hom "bioskoop toe gesleep het" vir 'n Tom Mix-prent wat hom "'n nagmerrie op die lyf gejaag [het] soos ek nog nooit tevore ondervind het nie". "En nou die aand moes ek weer na 'n ander splinternuwe gedoente gaan." Buiten die "big wheel", wat hy die "groot wiel" noem, is daar die "whip", wat hy as "swaaikar" vertaal. Daar was ook "vliegskippe, die gewone mallemeul en 'n vals draaiorrel". En: "Daar is ook 'n menigte ander dinge waarby 'n mens geld kan verloor."

Die kwessie van gender, en die verskil in vooruitsigte vir meisies en seuns kom aan bod in die rubriek "Die toekoms van ons seuns" (Oom Izak 1925g:8). Hoe patriargaal oor gender geskryf is, blyk uit die volgende: "Die vrou sê altyd dat sy haar gedurig oor die toekoms van die dogter besig hou, maar sover dit my voorkom lyk dit nie of haar sorg verder strek as die dogter se toekomstige huwelik nie." Hy skryf: "Dit is natuurlik 'n gewigtige saak wat ek nie kan ignoreer nie, maar juis omdat ek weet dat Nellie [sy dogter] se toekoms in die vrou se hande kan vertrou word, het ek my daar nooit danig oor bekommer nie, en weet ek gevolglik ook nie veel van daardie soort vrouesake af nie." Oor sy twee seuns se "lewensberoepe" bekommer hy hom egter wel. Ook oor of hulle 'n werk sal kry as hulle klaar studeer het (terwyl daar nie sprake is van studie vir Nellie nie): "Dit is nou die punt waarop ek wil neerkom: Jaar na jaar gooi die universiteite of skole duisende jong seuns op die mark. Hoeveel van hulle kan dadelik 'n pos beklee as opgeleide man, en van die hooggeleerdes, hoeveel kan seker wees van 'n betrekking waardig aan hul geleerdheid?"

 

6. BESPREKING

Na aanleiding van Fourie se effekteorie-uitspraak dat die Afrikaanse media kognitiewe bestuurders ("mind managers") was, asook Hofstede et al. se kultuursosiologiese programmering van denke wou die skrywer in hierdie artikel aantoon dat die rubriek onder bespreking wel denke kon manipuleer of "programmeer". Soos reeds genoem, het die rubriekskrywer self van die standpunt uitgegaan dat hy deur die rubriek leiding aan lesers gee. Binne 'n Afrikanernasionale denkraamwerk was daar dus sekere kognitiewe effekte, soos verstaan onder hierdie artikel se interpretasie van effekteorie met die subteorieë van agendasteller en ramer - dus 'n kognitiewe bestuurder ("mind manager"), besig met 'n geestesprogrammering.

Inderdaad, die rubrieke (Oom Izak 1924-1925), asook die memoire van die skrywer twintig jaar later (Van Tonder 1945), kan as voorbeeld van kognitiewe bestuurder/programmering van denke/sagteware van die verstand beskryf word in terme van die styl en trant van, soos in die rubriekskrywer se eie woorde, die eerste glorieryke Afrikanernasionale jare van Die Burger.

Nog 'n waarneming is die Afrikanernasionale patriargale toonaard en die manipulering of programmering van denke wat dit tot gevolg kon hê. 'n Afgetrede man van die platteland, wat geen ervaring van die stadslewe gehad het nie, en met dus waarskynlik ook minimale formele onderrig, kon ondanks geen kennis van die moderne stadslewe nie, byvoorbeeld sy dogter "lei" langs die "regte kanale" in die "omskepping van 'n eenvoudige boerenooi tot 'n nuwerwetse stadsnooientjie", steeds "van karakter kerngesond" (1945:47). Hy kon "op oordeelkundige wyse" "toegee", maar ook "weerhou" - dus die argetipe van die wyse vaderfiguur wat besluit wat goed is vir 'n ondergeskikte.

So ook dui die beskrywing van hoe gewild hy was, nie net onder die "ouer Parlementslede en plaasboere" nie, maar selfs ook onder professionele jong volwassenes, in patriargale taal genoem "kantoorseuns en -dogters", daarop dat die "goedheid" en verhewendheid, selfs edelheid, van die plattelandse afkoms 'n gegewe was. "Oom Izak", as die patriargale figuur, was vol wysheid, en kon ondanks die feit dat hy geen kennis van die stadslewe had nie, tog "raadgewer" wees. Hy was inderdaad nie alleen "die liefling van die jong Afrikaners in die stad" nie, maar ook die "opbeurder en bemoediger van die ouer geslag" (Van Tonder 1945:47).

Dit kon reeds al uit die eerste Van Tonder-rubriek (nog voor die "Oom Izak"-rubriek) gesien word hoe die leser beïnvloed kon word deur, onder meer, byvoorbeeld die uitbeelding van die Britse "geldmag" wat die "ou Hollandse geboue en ander kleinode uit vervloë dae" (1945:39-40) sou afbreek en wat as 'n "vlaag van vandalisme oor ons stad getrek" het.

Die effek van effekteorie kan ook geïdentifiseer word in hoe Van Tonder die invloed van Die Burger onder meer vergelyk met "'n magtige stroom" wat "soos 'n lawine die land oorweldig het". Ter wille van balans moet tog ook aangevoer word dat krities-analitiese denke wel ook ondanks dié "lawine-agtige" dogma ontwikkel het soos wat die Afrikaner ontwikkel het. Hoewel steeds binne 'n Afrikanernasionale paradigma, het daar tóg reeds van binne die maatskappy onafhanklike denke ontwikkel, waarskynlik ten beste vergestalt in die "oop gesprek", soos die titel van N.P. van Wyk Louw se reeks Huisgenoot-rubrieke in 1951 (Rabe 2016; Rabe 2017). Dit was skaars ses jaar ná Van Tonder se selfversekerde taksering van Afrikanernasionalisme. Louw se Huisgenoot-rubriek het ook gelei tot vryer denke by joernaliste soos Piet Cillié en Schalk Pienaar (Steyn 1992:142). Mettertyd het 'n meer professionele etos onder die Nasionale Pers-joernaliste ontstaan as die dogma-agtige soort joernalistiek in Van Tonder se tyd, al was dit, in die liberale joernalis Schalk Pienaar se woorde, "onafhanklikheid-in-gebondenheid". Die betekenis daarvan was dat die koerant "onafhanklik [was] in sy joernalistiek, maar gebonde aan sy medestanders in die Afrikaanse beweging" en in "'n spesiale verhouding tot die Nasionale Party" (Steyn 2002:32).

'n Mens kan ook die afleiding maak dat die programmering of manipulering van denke wat plaasgevind het, so diepgaande was dat die invloed daarvan beslis nie "oornag" sou verdwyn nie, soos Fourie ook voorspel het in 1994. Hoewel apartheid "oornag" uit die wetboeke verwyder kon word, sou "dit jare ... duur voor die effek daarvan op Suid-Afrikaners uitgewis is" (1994b:273-274). Dit kan gestel word dat die kognitiewe bestuur soos vergestalt in 'n populêre rubriek soos "Oom Izak van Kaapstad" inderdaad sulke blywende gevolge vir Afrikaners ingehou het. Volgens Hofstede et al. se programmering van denke, gelees saam met effekteorie, sou 'n rubriek soos dié van "Oom Izak" nie net daarin slaag om die kultuur van vorige generasies te programmeer nie, maar kan 'n mens dus sê dat dié "programmering" in sommige gevalle steeds nie uit die geheue van die "moederbord", om by rekenaartaal te hou, gewis is nie. Om hierdie bespreking in die beeldspraak van programmering af te sluit, kan dit gestel word dat 'n "skim"-program daarvan steeds onder sekere Afrikaners bestaan, soos byvoorbeeld gemanifesteer in die kommentaar op Afrikaanse nuuswebwerwe - egter 'n onderwerp vir verdere studie.

 

7. SLOTBESKOUING

Met hierdie historiografiese verkenning van 'n vroeë rubriek aan die hand van effekteorie saam met 'n kultuursosiologiese relevante besinning kan tot die gevolgtrekking gekom word dat Fourie se uitspraak oor die Afrikaanse media as kognitiewe bestuurders gewig dra. Hierdie mediahistoriese narratief wat uit die data ge-"myn" is, of "raakgeboor" is volgens die "diep boorwerk"-werkwyse, toon aan dat die rubriekskrywer sy taak self ook as deel van 'n groter opdrag gesien het om lesers se denkwyse binne die Afrikanernasionale denkraamwerk te beïnvloed.

Binne die interpretasieraamwerk van hierdie artikel kan dus tot die gevolgtrekking gekom word dat die effekteorie, wat in die geval van joernalistiek- en mediastudies gaan oor die rol, mag en invloed van die media, wel deeglik 'n "effek" gehad het en dat die "programming of the mind" inslag gevind het, ook deur die subteorieë van agendastelling en raming.

Hierdie artikel het hopelik ook Conboy (2012:1) se uitspraak bewys, naamlik dat joernalistiekgeskiedenis een van die mees vrugbare subvelde van die joernalistiekstudie is wat wag om ontgin te word. Met hierdie artikel sou ek graag meer sulke navorsing wou inspireer om nog leemtes in die Suid-Afrikaanse mediageskiedenis aan te vul - en so die hede beter te begryp deur die verlede te probeer verstaan.

 

BIBLIOGRAFIE

"Akte van Oprichting en Statuten van De Nationale Pers, Beperkt." 1921. Kaapstad, 8 Desember 1921. Geteken deur WB de Villiers (voorsitter) en WA Hofmeyr (sekretaris). Afskrif in besit van outeur.         [ Links ]

Babbie, E. & Mouton, J. 2001. Metatheory and social inquiry. In Babbie & Mouton (reds). The Practice of Social Research. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Berger, A.A. 1998. Media research techniques. 2de Uitg. California: Sage.         [ Links ]

Botha, A. 2012. "Vreemde bedmaats by Perskor." https://mediamense.co.za/index.php?front_end_action_display_compound_text_content&item_id=3125 [18 Augustus 2018].         [ Links ]

Caxton. 2018. Caxton Tuisblad. http://www.ctpprinters.co.za/company-info/history/ [15 Mei 2018].         [ Links ]

Company History 1915-2011. 2013. www.naspers.com/company-history 1915-2009.php [27 Augustus 2013].         [ Links ]

Conboy, M. 2012. How Journalism uses history. New York: Routledge.         [ Links ]

Dommisse, E. 2018. E-pos. Ontvang op 15 Mei 2018.         [ Links ]

Du Plessis, J.H.O. 1943. Die Afrikaanse Pers. 'n Studie van die Ontstaan, Ontwikkeling en Rol van die Hollands-Afrikaanse Pers as Sosiale Instelling. Ongepubliseerde doktorale verhandeling: Universiteit Stellenbosch.         [ Links ]

Du Plooy, G.M. 2009. Communication research: techniques, methods and applications. Lansdowne: Juta & Co.         [ Links ]

Fourie, P.J. 1994a. Nederlandstalige en Afrikaanstalige media. Internationale Colloquium Nederlands in de Wereld. Brussel: Vrije Universiteit Brussel Press.         [ Links ]

Fourie, P.J. 1994b. Afrikaans en die media. Ecquid Novi, (15)2:256-283.         [ Links ]

Fourie, P.J. 2007. The Role and Functions of the Media in Society. In P.J. Fourie (red). Media Studies. Media History, Media and Society. Volume 1 (2de Uitg). Wetton: Juta.         [ Links ]

Giliomee, H. 2012. 'n "Gesuiwerde nasionalisme," 1924-1948. In F. Pretorius (red). Geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg, pp. 293-313.         [ Links ]

Harber, A. 2012. Gorilla in the Room. Johannesburg: Mampoer Shorts.         [ Links ]

Hofstede, G., Hofstede, G.J, en Minkov, M. 2010. Cultures and Organizations. Software of the mind. New York, Chicago: McGrawHill.         [ Links ]

Hoofartikel. 1915. Eerste hoofartikel, Die Burger. 26 Julie 1915.         [ Links ]

Koorts, L. 2017. Konteks vir dié simbole nodig. Die Burger, 3 November 2017, p. 14.         [ Links ]

Limb, P. 2000. Representing the Labouring Classes. African Workers in the African Nationalist Press, 1900-1960. In L. Switzer & M. Adhikari (reds). South Africa's Resistance Press. Alternative voices in the last generation under apartheid. Ohio: Ohio University Center for International Studies.         [ Links ]

Le Roux, N.J. 1953. WA Hofmeyr. Sy Werk en Waarde. Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg: Nasionale Boekhandel Beperk.         [ Links ]

Media24 Koerante. 2018. https://www.media24.com/af/newspapers/ [18 Augustus 2018].         [ Links ]

Mouton, J. 2001. How to succeed in your master's or doctoral studies. A South African guide and resource book. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Mouton, A. 2002. Voorloper: die lewe van Schalk Pienaar. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Naspers. 2018. Naspers tuisblad. https://www.naspers.com/ [14 Mei 2018].         [ Links ]

National Party (NP). 2017. SA History. https://www.sahistory.org.za/topic/national-party-np [18 Augustus 2018].         [ Links ]

Oom Izak van Kaapstad. 1925a. "Opening van die Parlement." Die Burger, 16 Februarie, p. 8.         [ Links ]

Oom Izak van Kaapstad. 1925b. "Soorte Volksraadslede." Die Burger, 2 Maart, p. 8.         [ Links ]

Oom Izak van Kaapstad. 1925c. "Oujaarsdagaand." Die Burger, 5 Januarie 1925, p. 8.         [ Links ]

Oom Izak van Kaapstad. 1925d. "Die Suidoostewind." Die Burger, 12 Januarie 1925, p. 8.         [ Links ]

Oom Izak van Kaapstad. 1925e. "'n Benoude nag". Die Burger, 19 Januarie 1925, p. 8.         [ Links ]

Oom Izak van Kaapstad. 1925f. "Die 'Big Wheel'." Die Burger, 26 Januarie 1925, p. 8.         [ Links ]

Oom Izak van Kaapstad. 1925g. "Die toekoms van ons seuns'." Die Burger, 2 Februarie 1925, p. 8.         [ Links ]

Pitout, M. 1997. Field Research in Communication. In G.M. du Plooy (red). Introduction to Communication. Coursebook 2. Kenwyn: Juta, pp. 104-125.         [ Links ]

"Plaasroman." 2018. US Biblioteek. https://sun-primo.hosted.exlibrisgroup.com/primo-explore/search?vid=27US_V1&tab=combined_search&search_scope=Combined_Search&offset=0&query=any,contains,plaasroman. [19 Augustus 2018].         [ Links ]

Rabe, L. 2004. Women voices in the media of the Afrikaans community - an historical perspective. Communitas 9:31-46.         [ Links ]

Rabe, L. 2015a. Inleiding. In Rabe (red). 'n Konstante revolusie. Naspers, Media24 en oorgange. Kaapstad: Tafelberg, pp. 11-13.         [ Links ]

Rabe, L. 2015b. "Rubriekmaak" à la ryk, ryker, Rykie - Rykie van Reenen en enkele merkers vir hedendaagse blog-rubriekskrywers. LitNet 12(2).         [ Links ]

Rabe, L. 2016. Huisgenoot as tydgenoot: 'n mediageskiedkundige kroniek van 'n tydskrif as "skrif" van sy tyd. LitNet 13(3).         [ Links ]

Rabe, L. 2017. Kroniek van 'n mondigwording? 'n Mediageskiedkundige herevaluering van die WVK, Naspers en Afrikaanse joernalistiek. LitNet 14(3).         [ Links ]

Scholtz, L. 2015. Pers, Party en Afrikanersnasionalisme. In Rabe (red). 'n Konstante revolusie. Naspers, Media24 en oorgange. Kaapstad: Tafelberg, pp. 27-36.         [ Links ]

Sonderling, S. 1997. Historical Research in Communication. In G.M. du Plooy (red). Introduction to Communication. Kaapstad: Juta, pp. 87-104.         [ Links ]

Steyn, J. 1992. Die eerste dekades van die Nasionale Boekhandel. In Beukes (red). Oor Grense Heen. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

Steyn, J. 2002. Penvegter. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Tom Mix. g.d. https://www.imdb.com/name/nm0594291/ [18 Augustus 2018].         [ Links ]

Van der Westhuizen, C. 2013. Identities at the intersection of race, gender, sexuality and class in liberalising, democratising South Africa: the reconstitution of 'the Afrikaner woman'. Ongepubliseerde doktorale verhandeling: Universiteit Kaapstad.         [ Links ]

Van Deventer, H. 1994. 'n Perspektief op Afrikaanse gedrukte media: 'n repliek op Pieter Fourie. Ecquid Novi 15(20):284-303.         [ Links ]

Van Tonder, I. 1945. Oom Izak van Kaapstad kyk terug. Kaapstad, Bloemfontein & Port Elizabeth: Nasionale Pers Beperk.         [ Links ]

Watson, J. & Hill, A. 2003. Dictionary of Media and Communication Studies (6de Uitg). Londen: Arnold.         [ Links ]

Wigston, D. 2007. A History of the South African Media. In P.J. Fourie (red). Media Studies Volume 1 Media History, Media and Society (2de Uitg.) Kenilworth: Juta, pp. 3-58.         [ Links ]

 

 

 

LIZETTE RABE, professor in joernalistiek in die Departement Joernalistiek van die Universiteit Stellenbosch, het die grade BA (met Filosofie cum laude), Hons B Joernalistiek (cum laude), M Joernalistiek (cum laude) en DPhil aan dieselfde universiteit verwerf. Sy het haar joernalistieke loopbaan by Naspers begin en as redakteur van die tydskrif Sarie afgesluit, die eerste vrou wat as redakteur by 'n Afrikaanse Naspers-titel aangestel is. In 2001 het sy haar by die akademie aangesluit as hoof van die Joernalistiekdepartement aan die US. Sy het meer as dertig gekeurde joernaalartikels gelewer, skryf steeds vir die massamedia, en was skrywer, medeskrywer of redakteur van verskeie publikasies. Sy was onder andere raadslid van SANEF en stigter-beoordelaar van verskeie joernalistiekkompetisies. Rabe se navorsing fokus op mediageskiedenis en kultuurgeskiedenis. Benewens toekennings soos die Rektor se Toekenning vir Uitnemendheid in Onderrig, was sy ook lid van die US se lys van top 25 navorsers in alle fakulteite in 2013. In 2015 was sy die ontvanger van die Stalsmedalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, asook die US se Kanselierstoekenning.
LIZETTE RABE, professor of journalism in the Department of Journalism at Stellenbosch University, obtained the degrees BA (with Philosophy cum laude), Hons B Journalism (cum laude), M Journalism (cum laude) and DPhil from the same university. She began her journalistic career at Naspers and ended it as editor of the magazine Sarie, the first woman to be appointed as editor of an Afrikaans publication at Naspers. In 2001 she joined academia when she was appointed as head of the Department of Journalism at SU. She has published more than thirty peer-reviewed articles, still writes for the mass media, and was author, co-author or editor of a number of publications. She was, among others, council member of SANEF and founder-judge of various journalism competitions. Rabe's research foci are media history and cultural history. Besides awards such as the Rector's Award for Excellence in Teaching, she was also listed as one of SU's top 25 researchers across all faculties in 2013. In 2015 she was the recipient of the prestigious Stals Medal for communication and journalism from the Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, as well as SU's Chancellor's Award.
1 Terwyl die skrywer van hierdie artikel voorkeur gee aan die vroulike voornaamwoord as 'n geslag gekies moet word as poging om 'n steeds patriargale samelewing effens te balanseer, word die manlike voornaamwoord hier bewustelik gebruik vir die konteks van die artikel, aangesien Afrikanernasionalisme vanuit 'n sterk chauvinisties-manlike perspektief geperpetueer is, en die rubrieke self in 'n patriargale Afrikanernasionale idioom geskryf is, soos aangetoon sal word.
2 Hoewel die maatskappy vandag geregistreer is as Naspers, word in hierdie artikel na die maatskappy verwys as Nasionale Pers, ook soos dit tot met 1994, met die Fourie-uitspraak, bekend was.
3 Historici verwys vandag in die algemeen na die "Suid-Afrikaanse Oorlog" (1899-1902) eerder as die voorheen gebruiklike Anglo-Boereoorlog, hoewel Suid-Afrika nie toe as 'n politiek-geografiese entiteit bestaan het nie. Die rede vir die nuwe benaming is omdat geargumenteer word dat dit meer inklusief is, aangesien dit nie net 'n oorlog tussen sogenaamde "Boer en Brit" was nie, maar dat ook lede van die swart bevolking betrek is. Dit kan ook gesê word dat die politiek-geografiese Unie van Suid-Afrika in 1910 as direkte gevolg van die oorlog tot stand gekom het.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License