SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue4-1Swartskaap: Odette Schoeman author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.4-1 Pretoria Dec. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n4-1a10 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Huisgenoot se veranderende voorbladagenda: Van Diana tot misdaad as 'n vorm van vermaak

 

Huisgenoot's changing agenda and the use of crime as a form of entertainment

 

 

Johannes D. FronemanI; Alexa SwartII; Cornia PretoriusII

ISkool vir Kommunikasiestudies. E-pos: jd.froneman@nwu.ac.za
IISkool vir Kommunikasiestudies

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel ondersoek aan die hand van voorblaaie en verwante artikels die wyse waarop Huisgenoot in die 1980's en 1990's Diana, prinses van Wallis, asook TV- en rolprentsterre gebruik het om voorheen ongekende sirkulasiesyfers te handhaaf, maar later al hoe meer misdaadstories (in kombinasie met stories oor Afrikaanse sangers) geplaas het. Teen 2002, toe Esmaré Weideman redakteur geword het, was daar reeds 'n afname in sirkulasie en het navorsing gewys dat lesers nie meer so geneë was met die resep wat Niel Hammann so suksesvol begin het nie. Tog is grootliks daarmee voortgegaan en publiseer Huisgenoot 'n besonder eksplisiete foto van 'n slagoffer van terrorisme in die buiteland. Na talle lesersbesware hieroor onderneem Huisgenoot om dít nie weer te doen sonder dat lesers op die voorblad gewaarsku word nie. In 2012 verskyn misdaadstories gereeld op Huisgenoot se voorblad as 'n vorm van vermaak. In een geval word ook die slagoffers se foto prominent gebruik en word die verkragting van 'n vrou in detail beskryf. Hiermee is Hammann se benadering van sensasie-met-sofistikasie finaal vervang. Dit dui op 'n wesenlike koerswysiging in wat aanvaarbaar was of nie binne die Afrikaanse gesinstydskrif-mark.

Trefwoorde: Huisgenoot; voorbladagenda; Diana, prinses van Wallis; misdaad; vermaak; tydskrifjoernalistiek


ABSTRACT

This article investigates the manner in which Huisgenoot, the best-selling Afrikaans magazine, used Diana, Princess of Wales, and other celebrities in the 1980s and 1990s to sustain previously unheard of circulation numbers, but later resorted more and more to crime stories (in combination with stories about local minor celebrities). This is done by describing and analysing the covers (or front pages) of the magazine and the related stories. In order to understand the importance of this front page agenda setting, the changes to Huisgenoot's front pages since 1916 are reviewed briefly with reference to the changing cultural-political context in which the magazine was published. Readers' changing needs and tastes necessitated changes to the content, but these were mostly resisted until 1978 when first Tobie Boshoff and then Niel Hammann transformed the magazine into a populist publication that focused on TV and cinema stars plus a lively mixture of easy-reading content.
During the 1980s and 1990s Huisgenoot's circulation climbed (from record highs of 206 000 in 1978) to a steady 500 000 per week. This achievement was made possible to some extent by the popularity of Diana, Princess of Wales, who became Huisgenoot's top-selling front-page model. It is pointed out though that photographs of the princess were used rather sparingly on the cover during the 1980s and 1990s. However, teasers drawing attention to stories and pictures of the princess were much more frequent. After Diana's death Huisgenoot continued with much the same agenda but experienced falling circulation figures. When Esmaré Weideman was appointed as editor in 2002 research showed that readers were tiring of the weekly menu of tabloid stories. Some more serious and positive stories were introduced but the original Hammann recipe was kept mostly intact. The popularity of Afrikaans singers experienced an upsurge in these years and they became regular front-page models.
In 2007 Huisgenoot published a particularly graphic photo of the victim of a foreign terrorism incident, drawing heavy criticism from colleagues and readers. Weideman then came to an "agreement" with readers that although the magazine reserves the right to cover shocking events, it would not be done again without a warning on the front cover, thereby allowing parents the option of tearing out the potentially upsetting pages should they wish to do so.
Although crime related human interest stories were used even in the conservative 1950s, this became an important circulation builder by 2012. After the introduction of regular celebrity news in 1978, this is identified as the next important change to Huisgenoot's front-page (cover) agenda. Using data gathered in her master's degree research by one of the co-authors (Alexa Swart), the use of crime stories is described and analysed. It was found that 137 crime stories were published in 2007, of which 78% were local. In all, crime was used 63 times on the front cover, mostly as teasers. The crime stories were usually combined with a photo of a local celebrity, except on one occasion when a photo of the crime victims featured on the cover. The three topics covered most on the cover were identified and are described and analysed in greater detail. These stories are about the abduction of a South African woman and her partner in Somalia, the rape and torture of a woman by her partner, the so-called "Modimolle monster", and the so-called Griekwastad murders, involving a teenage boy. Each of these topics featured on five front covers.
The main cover teaser of the 12 July 2012 issue of Huisgenoot read: Ek is verkrag in seerower-hok (I was raped in pirate's cage), with a picture of the victim and her partner. In the article, headed Ons hel is verby (Our hell is over), the victim related her story in graphic detail, including how she was raped. No warning was published on the cover. This is indicative of a tabloid-style journalism which has profit as only motive. It also represents a shift in this second phase of Huisgenoot's history.
This implied, it is argued, that after the radical change from a conservative magazine which combined more serious, educational content with lighter, entertaining content, to one in which celebrity culture and human interest stories were combined, the sensation-with-sophistication approach espoused by former editor Niel Hammann was finally discarded and crime as a form of brutal entertainment gained an important place on the Huisgenoot news agenda. This change also signalled a marked shift in what was acceptable, or not, in the Afrikaans family magazine market.

Key words: Huisgenoot; front-page agenda; Diana, princess of Wales; crime; entertainment; magazine journalism


 

 

1. INLEIDING

(De/Die) Huisgenoot het twee jaar gelede, in 2016, sy honderdste verjaarsdag herdenk, maar dit wil voorkom of die grootste tydskrif in Afrikaans - trouens die grootste van alle Afrikaanse publikasies - se sirkulasiesyfer die afwaartse patroon van bykans alle gedrukte media wêreldwyd navolg. Die eertydse hoogtepunte van 500 000 plus per week lê ver in die verlede en die blad se sirkulasie staan nou op 190 000 (Anon. 2018). Tog is dit steeds die grootste Afrikaanse tydskrif en daarom van bepaalde belang.

Die geskiedenis van Huisgenoot is waarskynlik beter beskryf as enige ander Afrikaanse publikasie (kyk byvoorbeeld Van Eeden 1981; Muller 1990; Spies 1992; Froneman 2004 en Rabe 2016). Die transformasie van die blad van kultuurblad tot populistiese glansblad met prominente aandag aan allerllei glanspersoonlikhede soos TV- en rolprentsterre is dus goed bekend.

Wat nog nie veel kritiese aandag geniet het nie, is die presiese wyse waarop Diana, prinses van Wallis, gebruik is om Huisgenoot se sukses in die goue 1980's en 1990's te bevorder, maar dan bloot as deel van 'n glansagenda. Redaksionele pogings wat die afgelope jare aangewend is om Huisgenoot se dalende verkoopsyfers teen te werk, is ook nog nie ondersoek nie. Die vraag wat gevolglik hier aan die orde gestel word, is: Hoe het Diana, prinses van Wallis, en misdaad as vorm van vermaak bygedra tot Huisgenoot se populistiese agenda in die jare ná 1978? Hierdie vraag word uiteraard gevra binne die konteks van die omvattender realiteit van die rol van die winsmotief.

Die artikel fokus daarom hoofsaaklik op drie sake:

1.1 Die koerswysigings wat Huisgenoot deur die jare staande gehou het, word aan die hand van veral Spies (1992:351-360) oorsigtelik bespreek. Dit sluit in die vernuwing ná die Tweede Wêreldoorlog (dus ná 1945) omdat dit 'n regstreekse aanloop tot die latere breuk met die verlede was. Bestaande literatuur word hiervoor benut.

1.2 'n Kort beskrywing van die hoogs suksesvolle jare waarin Niel Hammann redakteur was van Huisgenoot, aangevul deur 'n analise van die gebruik van Diana, prinses van Wallis, as voorbladikoon in daardie tyd (1980's en 1990's). Hier word ongepubliseerde skripsies oor geselekteerde jare in die tydperk 1979 tot 1997 benut.

1.3 'n Kort gedeelte volg waar Esmaré Weideman se redakteurskap kortliks aandag kry, gevolg deur 'n beskrywing en analise van die toenemende fokus op misdaad, soos vergestalt in die dekking van die drie mees prominente misdaadstories van 2012. Hierdie gedeelte is gegrond op 'n kwalitatiewe MA-studie deur 'n mede-outeur.1

Daarmee poog ons om substansie te gee aan mediahistoriese diskoerse oor Huisgenoot en dit te begrond in hoe die blad homself in die jongste jare as massapublikasie gehandhaaf het.

Hierdie oorsig van Huisgenoot se veranderende agenda - veral sy voorbladagenda - het as uitgangspunt dat voorblaaie die vertoonlokaal van tydskrifte is en 'n wesenlike invloed op verkope het (Broes 1983:108; Anon. 2006a).

Daarmee word gepoog om die beskrywing van Huisgenoot se immerveranderende inhoud op te dateer en empiriese gegewens te gebruik om fasette van Huisgenoot se agenda beter te belig. Dit alles geskied teen die agtergrond van 'n veranderende konteks waarin Huisgenoot se eens dominante idealisties-ideologiese diensmotief (met 'n mindere klem op die winsmotief) verander het na een waar die winsmotief, verpak as 'n diensmotief, dominant geword het en aanleiding gegee het tot 'n oppervlakkige, populistiese inhoud waarin veral glanspersoonlikhede (maar ook "gewone" mense) 'n prominente plek op die agenda ingeneem het indien hul persoonlike verhale van lief en leed dramatiese inhoud gehad het en 'n wye leserskring kon interesseer (Froneman 2004; Rabe 2016).

 

2. DIE EERSTE SES DEKADES

De Huisgenoot is in 1916 gestig om Afrikaans en die sukkelende maatskappy Nasionale Pers te bevorder (Muller 1990:244-258, 756; Rabe 2015). Al was die winsmotief uit die staanspoor aanwesig, was dit duidelik nie bloot wins ter wille van wins nie, maar deel van 'n ideologies gedrewe strewe om die Afrikaner op te bou. Vir die eerste dekades van sy bestaan het die tydskrif 'n swaar kulturele en opvoedkundige inhoud gehad, maar dit was nou verweef met die politiek. Voorbladfoto's of illustrasies van volksfigure soos Jan F.E. Cilliers (September 1916) en pres. F.W. Reitz (November 1916) het Huisgenoot se eerste publikasiejaar oorheers (Froneman 2004).

Hoewel die destydse aanbod van tydskrifte beperk was, het die redaksie besef dat die blad nie outomaties lesers sou trek nie. Reeds in 1923 skryf die redakteur dat gepoog gaan word om "iets vir die smaak van elke leser aan te bied" (Huisgenoot, Oktober 1923). Die blad het daarmee ook 'n "geïllustreerde weekblad" geword, dus een wat visueel aantrekliker wou wees, maar steeds ingebed in 'n konserwatiewe, landelike leefwêreld. Waar die 1930's gekenmerk is deur die radikalisering van Afrikanernasionalistiese denke, het die redakteur, Markus Viljoen, gekies om sy blad 'n nie-politieke, rustige tuiste te maak met voorbladfoto's van natuurtonele (kyk uitgawes van 5 Junie 1931; 1 Junie 1934 en 6 Januarie 1939) en mooi geboue (bv. 4 Maart 1934). Selfs te midde van die oplaaiende emosies rondom die simboliese ossewatrek van 1938 is volgehou met dekoratiewe voorblaaie. Huisgenoot publiseer wel 'n formidabele Voortrekkergedenkuitgawe, gelaai met al die volksnasionalistiese inhoud wat in daardie jaar te wagte kon wees. In hierdie jare publiseer feitlik alle opkomende digters en skrywers in Huisgenoot en beleef die blad "goue jare" (Spies 1992:353). Die blad maak terselfdertyd goeie winste en het 'n hoë aansien geniet (Muller 1990:572).

Ná die Tweede Wêreldoorlog (dus sedert 1945) het tydskrifte wêreldwyd met nuwe lesers en nuwe behoeftes te make gekry. Teen 1948 het die blad egter steeds goeie winste opgelewer (Steyn 2002:62). A.M. van Schoor is nietemin van die opposisieblad Fleur ingebring om leiding te neem - die enigste keer dat so iets by Huisgenoot gedoen is - sonder langtermynsukses (Van Eeden 1981:139). Spies (1992:253) beweer die blad was steeds "te verwyderd, te eksklusief, te gesteld op waardigheid" om sy leserskring te kon vergroot. In 1949 is die Voortrekkermonument ingewy en het die gebruik van buiteblaaie met volkshelde daarop herleef. Tog is voorbladmeisies teen 1951 gereeld gebruik. Dit was egter net een dimensie van die blad. Die res, insluitend vervolgverhale, foto's van Springbokrugbyspelers en van "die kleinste mensies in die wêreld" (so tipies aan die latere Huisgenoot) was nie genoeg nie.

Die blad se voortbestaan was inderdaad in die gedrang. Die pogings tot vernuwing het steeds die "ongeskrewe voorwaarde" gehad "dat die ou Huisgenoot behoue moes bly" (Spies 1990:355). Onder Johan Spies, wat die blad se Boerekarakter wou behou, aldus Van Eeden (1981:141), val die sirkulasie tot 77 000.

In 1959 verskyn 'n "nuwe Huisgenoot" met meer kleur, maar met beperkte sukses. Intussen begin D.C. de Villiers gereeld foto's van rolprentsterre gebruik (bv. Audrey Hepburn op 2 September 1960, en Ava Gardner op 2 Desember 1960). In 1963 waag die maatskappy met 'n nuwe diepdrukpers en nou styg die sirkulasie beduidend. Teen Oktober 1963 maak die blad vir die eerste keer sedert 1957 'n wins (Spies 1992:357). Die inhoud onder D.C. de Villiers streef na 'n balans tussen die ernstige en die vermaaklike en voldoen daardeur meer aan die moderne Stadsafrikaner se leesbehoeftes. Hy beskryf sy resep soos volg: "Stem jou leser tot blymoedigheid; bewaar die ewewig, streef na lesenswaardigheid. Dus: blymoedigheid, ewewigtigheid en interessantheid, maar die grootste van die drie - dit weet ek ook nie" (Van Eeden 1981:151).

Die blad handhaaf onder De Villiers en sy twee opvolgers, Klaas Steytler en P.A. Joubert, 'n "mededingende posisie" deur "ongemaklike kompromisse tussen tradisie en vernuwing" te sluit (Spies 1992:357,358). Selfs Joubert, wat idealisties geglo het dat die publiek nie tot elke prys plesier moes word nie (Van Eeden 1981:155), het gereeld mooi meisies op die voorblad gebruik (Froneman 2004). Skokkende verhale van kannibalisme het ook verskyn en so die pad na latere eksplisiete artikels aangedui. Teen 1977 was dié dubbelslagtige benadering egter nie meer die antwoord nie. Televisie was 'n nuwe faktor en sou toenemend een word, hetsy om te beveg of te benut.

In hierdie eerste fase van sy bestaan het Huisgenoot se redakteurs (onder die wakende oog van die direksie) ideologiese idealisme met finansiële realiteite probeer versoen, soos wat Muller (1990:467) dit gestel het. Dit het gelei tot wesenlike veranderinge, maar nooit eensklaps nie. Dit sou wel rondom 1978 gebeur en 'n tweede fase in Huisgenoot se bestaan inlui.

 

3. DIE BREUK MET DIE OUE EN DIE DIANA-FAKTOR

'n Nuwe rigting is "beslissend" onder Tobie Boshoff se redakteurskap ingeslaan. Spies (1992:360) skryf: "Boshoff het die blad geëerf met 'n sirkulasie van 144 000 en besef dat Huisgenoot ontslae moes raak van sy ou stempel. Dit moes 'n blad van die laaste kwart van die twintigste eeu word en dit moes na voorkoms en inhoud vir die lesers duidelik wees dat hulle met iets nuuts te doen het." Met TV nou 'n alternatiewe vorm van vermaak, het die klem na aktualiteit, glanspersoonlikhede, kosresepte, skoolprojekte en 'n vervolgverhaal (selfs met bruin mense as hoofkarakters) verskuif (Spies 1992:362,363). Die mengsel het nog nie die kol getref nie en die sirkulasie het selfs verder gedaal.

Boshoff se losser styl het nogtans stelselmatig veld begin wen, maar sou eers onder Niel Hammann tot sy logiese konsekwensies (en sukses) gevoer word. Die foto's van akteurs uit die TV-reeks Rich man, poor man het reeds in Maart 1978 vir 'n rekordverkoopsyfer van 195 801 gesorg (danksy Hammann se aandrang op die bylae?) (Spies 1992:366), maar nadat Hammann in September 1978 as redakteur aangestel is, kon hy sy markgerigte resep volledig volg. Claassen (1998:129) som die koerswysiging raak op:

The editor of the magazine, Niel Hammann, saw the opportunities that television created for family magazines. He changed the total strategy of Huisgenoot from a relatively conservative family magazine to that of a human interest cum quasi-hard news magazine geared towards television audiences who are also avid prime-time soap viewers.

In 1980 kry Huisgenoot 'n inspuiting wat sy sirkulasie na ongekende hoogtes sou help stuur: die toetrede van Diana Spencer, later bekend as Diana, prinses van Wallis, tot die openbare toneel. Sy word die bekendste voorbladgesig in die wêreld, ook in Suid-Afrika - danksy Huisgenoot en ander tydskrifte. Dit dra by tot Huisgenoot se voortstuwende sirkulasie: 300 000 in 1981, 518 341 in 1987; 523 000 in 1990; 534 985 in 1996 (Anon. 2006b).

In 1995 was Hammann op sy kruin as redakteur en verkoop die blad weekliks bo 500 000. Huisgenoot se sustertydskrif Sarie bewys aan Hammann die kompliment van 'n dubbelbladonderhoud. Hy verduidelik sy suksesresep beskeie (maar nie sonder 'n element van waarheid nie) as "paint by numbers" - 'n "tydskrif vir almal" volgens 'n vaste resep (Retief 1995). Hy brei uit: "Ons skryf hoofsaaklik oor mense, bekendes, dinge wat op die oomblik in die nuus is. Nie net driebeenhonde nie. Ook humor, glans, iets vir die kinders. En ja, mense hou ook van die bisarre." Op die oog af het dit geklop met wat van sy voorgangers wou doen, maar dalk, weens morele en tegniese redes, nie kon of wou doen nie (Spies 1992:367). Die mark moes immers ontvanklik wees vir dié soort tydskrif. Die Diana-faktor was egter iets wat nie beplan kon word nie. Sy was die gewone jong vrou wat met 'n sjarmante prins getrou het en ontwikkel het tot die "koningin van harte" (Broes 1983:356). Later erken Hammann dat niemand anders soveel vir Huisgenoot se sirkulasie beteken het as die prinses van Wallis nie. In sy tyd as redakteur was Diana konstant die grootste nuusmaker, gewildste voorbladmodel en 'n wonderlike sirkulasiebouer (Hammann 2006). Met Huisgenoot se 100-jarige uitgawe word Diana as die "gewildste voorbladnooi" aangewys (Huisgenoot 26 Mei 2016).

'n Noukeurige kyk na die voorblaaie en inhoud in die jare 1981, 1982, 1984, 1987, 1990, 1993 en 1997 gee groter duidelikheid oor hoe Huisgenoot die prinses se gewildheid benut het, maar ook hoe ander glanspersoonlikhede prominent op die voorblaaie gebruik is. Reeds in 1978 help die skoonheidskoningin Margaret Gardiner op die voorblad vir Huisgenoot om 'n destydse sirkulasiehoogtepunt van 206 269 te bereik (Spies 1992:366) en talle glanspersoonlikhede sou volg (Huisgenoot 26 Mei 2016). In 1980 verskyn Diana vir die eerste keer op Huisgenoot se voorblad (met 'n meegaande prikkel wat lui: Is sy die nuwe koningin van Engeland?)2 Nou volg een ná die ander voorblad met haar daarop: Op 5 Maart 1981 gaan 'n foto van Diana gepaard met 'n prikkelopskrif wat lui: Hoe Charles lady Di gewen het. Daarna volg nog ses Huisgenoot-voorblaaie met prinses Diana op (alleen of saam met haar man, prins Charles). Die prikkels ontgin alle aspekte van haar lewe, soos Lady Di - van rabbedoe tot bruid (Huisgenoot 23 Julie 1981) en Prinses Diana wys haar droomrok (Huisgenoot 3 Desember 1981).

Pienaar (2012:19) wys egter daarop dat gedurende 1981 internasionale glanspersoonlikhede op 28 voorblaaie die voorbladmodel was, waarvan 25 TV-sterre was. Die rolprentsterre Sophia Loren (19 Maart 1981), Robert Redford (22 Januarie 1981) en Brooke Shields (3 September 1981) vul die TV-sterre aan. Plaaslike skoonhede soos Anneline Kriel (9 April 1981) en Vera John (29 Oktober 1981) asook plaaslike TV-sterre soos Rika Sennett (30 Julie 1981) het 18 keer op die voorblad verskyn. 'n Enkele uitsondering was die voorblad van die uitgawe op 5 Februarie wat 'n uitsonderlike nuusstorie, die Karoo-vloedramp, as fokus gehad het.

Volgens Pienaar (2012:24-30) is die prinses van Wallis in artikels, foto's op binneblaaie en deur opskrifte hoofsaaklik as prinses, eggenoot en stylikoon geraam. Sy skryf: "Deur 'n kombinasie van sensasionele opskrifte en subopskrifte, dramatiese artikels, gemaklike taalgebruik en foto's is prinses Diana deur Huisgenoot vir lesers geraam as iemand in wie hulle moet belangstel, wat hulle moet naboots en liefhê" (Pienaar 2012:29,30). Die prinses het dus nie net as voorbladmodel tot Huisgenoot se sukses bygedra nie, maar ook op menige binneblaaie.

Hoe sou hierdie agenda in die daaropvolgende jaar voortgesit of aangepas word? Cronjé (2012:19-21) bevesig dat die patroon inderdaad voortgesit is. In 1982 het 51 uitgawes verskyn en het die prinses van Wallis op ses voorblaaie verskyn: 11 Februarie, 22 April, 10 Junie, 1 Julie, 7 Oktober en 9 Desember. Haar swangerskap, die geboorte van prins William, Diana se slank lyf kort ná die geboorte en vrae of sy aan 'n dieetsiekte ly, het die agenda gedryf. Benewens die voorbladfoto's het prikkels oor Diana lesers na artikels gelok. Die uitlokkende aard van die populistiese aanslag was duidelik, soos: Diana in bikini: die foto's wat niemand moes sien nie (11 Maart 1982). Reeds teen die einde van die jaar is daar die vraag of haar gewildheid gaan voortduur. 'n Voorbladprikkelopskrif lui: Diana: nie meer almal se liefling? (23 Desember 1982).

Soos in 1981 oorheers internasionale TV- en rolprentsterre Huisgenoot se voorblad (32 uit 51) in 1982 (Cronjé 2012:21). Van hulle was manlike sterre soos Tom Selleck (wat met sy TV-naam, Magnum, geïdentifiseer is). Enkele plaaslike bekendes (soos Barbara Barnard) haal ook die voorblad (2 September 1982). Plaaslike TV-sterre soos Sybel Coetzee (5 Augustus) en Deon van Zyl (21 Oktober) dra by tot die skepping van 'n kultuur waarin glanspersoonlikhede se roem deur die media gebou is.

Op binneblaaie is die prinses van Wallis hoofsaaklik as ma en stylikoon uitgebeeld, maar haar beweerde dieetsiekte kom ook telkens aan die orde. Die aard van Huisgenoot se dekking van prinses Diana het dus merkbaar verander soos wat nuus oor die prinses en haar gesin verander het van 'n koninklike troue tot die geboorte van haar eersteling (wat die toekomstige koning is) en haar gesondheidsprobleme wat moontlik met huweliksprobleme verband gehou het.

Teen 1984 was Diana steeds 'n gereelde voorbladmodel (4 keer) en was sy die onderwerp van tien voorbladprikkels (dus prominente verwysings na artikels en foto's binne). Geen ander individu het so gereeld op Huisgenoot se voorblad gefigureer nie en is sy telkens as stylikoon, ma en prinses geraam (De Vos 2012:19). Van die voorbladprikkels het gelui: Diana verwag: Is ma's slimmer met tweede kind? (5 Januarie); Lyk nuut in ou klere - Diana se geheim (7 Junie); Swanger en nie skaam nie - Diana wys hoe (19 Julie); Hare waai oor Di se bolla (22 November) en Diana se mode-blapse - foto's (27 Desember). In altesame 20 van 1984 se 52 uitgawes het artikels van Diana verskyn, insluitende die artikel onder die opskrif Die prinses wat vis en skyfies eet (toegedraai in koerantpapier) (20 September). Die populistiese aard van Huisgenoot se dekking van die prinses van Wallis blyk duidelik hieruit: die triviale of doodgewone is tot "nuus" verhef net omdat 'n bekende (in dié geval: 'n superbekende) betrokke was. Lesers kon klaarblyklik nie genoeg van Diana kry nie.

Desondanks hierdie aandag aan Diana het internasionale en plaaslike bekendes steeds die voorbladagenda oorheers en kom hulle as modelle op altesame 48 voorblaaie voor (De Vos 2012:20). Foto's van TV-sterre uit gewilde reekse soos Dallas, The A-Team, Thornbirds, Magnus PI en Knight Rider was baie prominent en was deel van die 26 voorblaaie waarop internasionale beroemdes gepryk het. Plaaslike bekendes soos Sybil Coetzee (5 April) en Anneline Kriel (19 Julie en 22 November) word ook nogmaals as voorbladmodelle gebruik (13 keer).

Die vermaaklikheidsmotief wat nou so ferm by Huisgenoot ingebed is, kry egter 'n nuwe dimensie by, naamlik misdaad, al was dit allermins 'n nuwigheid vir Huisgenoot. Reeds in 1953, herinner Huisgenoot sy lesers in die 100-jarige spesiale gedenkboek, het die blad die verhaal vertel van "S.A. se sensasiewekkendste moordsaak" - dié van Bettie Smith se moord. Ander opspraakwekkende misdaadstories sou volg (Viljoen 2016). Maar teen 2012 (en sekerlik daarna, danksy die Oscar Pistoriussaak) het dit 'n opvallende kenmerk van Huisgenoot se agenda geword (Swart 2014:207210).

Die bankrower André Stander word in 1984 op vier voorblaaie genoem (16 Februarie, 1 Maart, 25 April en 26 Julie), maar hy was nie die voorbladfoto-onderwerp nie. Die kubusmelk-projek van Adriaan Nieuwoudt kry heel prominente aandag (vyf voorbladprikkels: 12 Julie, 2 Augustus, 27 September, 11 Oktober en 18 Oktober). Die man agter die projek kry glansstatus wanneer 'n voorbladprikkel op 18 Oktober lui: So leef ons kubuskoning. Die prominensie wat aan Nieuwoudt en Stander gegee is, toon dat Huisgenoot 'n balans tussen internasionale en plaaslike glansnuus en harde, opspraakwekkende plaaslike nuus nagestreef het. Hammann het dit egter soos volg gekwalifiseer: "Sensasie is opskudding, iets waaroor mense praat" en dus aanvaarbaar (Retief 1995). Oor Nieuwoudt en Stander is sekerlik gepraat, onder meer vanweë Huisgenoot se dekking van hul optrede.

In 1987 verskyn 'n foto van Diana net op een voorblad (19 November) hoewel sy steeds in 22 artikels plus gepaardgaande foto's veral as stylikoon (bv. Elke Dianagier 'n nuwe mode, 26 Maart), vrou en ma geraam is (Swart 2012:12). Op altesame 40 van die 50 uitgawes in 1987 verskyn foto's van akteurs, dus 'n voortsetting van die tendens wat nou reeds sedert 1979 die normale agenda is. Die fokus bly op internasionale sterre uit TV-reekse soos Dallas (Victoria Principal, 14 Mei) en Who's the Boss (Judith Light, 1 Januarie en 15 Oktober), terwyl Magnum PI se Tom Selleck nogmaals as voorbladmodel gebruik word (29 Januarie). Plaaslike bekendes soos Anneline Kriel verskyn selfs op twee voorblaaie (16 April en 22 Oktober) terwyl nog 'n bekende, Margaret Gardiner (12 Februarie), ook weer as voorbladmodel gebruik word.

Huisgenoot se voorblaaie is dus steeds deur glanspersoonlikhede gedryf, met Diana nou 'n merkbaar minder opvallende figuur. Dit kan gewyt word daaraan dat haar huwelik met prins Charles in die moeilikheid was (Swart 2012:52). Tog staan Huisgenoot se sirkulasie in 1987 steeds op 'n baie sterk gemiddelde van 518 341 (Claassen 1993:110).

Diana word in 1990 twee keer as model op Huisgenoot se voorblad gebruik: op 26 April en 1 November. Laasgenoemde foto het as meegaande prikkel die volgende: Diana se 50 dae weg van Charles. En op twee ander voorblaaie verwys 'n prikkel na Diana: Clara en Diana het 'n korthaarstyl (6 September) en Di en Charles - Die seer van 'n huwelik sonder liefde (11 Oktober). By eersgenoemde val die klem eintlik op 'n TV-aktrise, Clara Joubert, en word Diana se naam net as lokaas gebruik. Plaaslike en internasionale TV-sterre en sangers oorheers egter die voorblaaie tydens 1990, insluitende Heather Locklear (4 Januarie), Brooke Shields (8 Maart) en Michelle Pheiffer (7Junie). 'n Sterk geel prikkel word op 9 Augustus oor die foto van die sanger Bles Bridges gebruik: Bles: my kant van die saak. Die huweliksontrou van bekendes was in die tweede fase van Huisgenoot se bestaan 'n herhalende tema.

Twee prikkels oor misdaad val tydens 1990 op: Verwronge liefde wat mans laat moor (8 Maart) en Giflekkerman verloof - eerste foto's (8 Februarie). Die gebruik van misdaad om sirkulasie te bou sou eers later gereeld voorkom.

Prins Charles en prinses Diana se huwelik is eers in 1993 beëindig. Hoe Huisgenoot in die lig hiervan sy gebruik van Diana as sirkulasiebouer sou aanpas, al dan nie, kom nou aan die orde. In haar ondersoek van dié jaar se uitgawes van Huisgenoot bevind Waldeck (2012:39) dat Diana veral as ma, minnares, prinses van harte en stylikoon geraam is. Haar rol as voorbladlokaas was egter uitgedien en sy word slegs een keer (24 Junie) as voorbladmodel gebruik met die opskrif Verstote prinses se nuwe lewe: Diana weer almal se liefling. Op die ander 50 voorblaaie verskyn internasionale (25) en plaaslike glanspersoonlikhede (25). Die populistiese agenda word voortgesit met voorbladprikkels soos Onderbedeelde man praat: My nuwe lewe ná verlengoperasie (12 Augustus), Storm oor liefdesbabas: Steve, die vrouejagter (14 Oktober) en SA seksklubs: hoe gesellinne hoës met swepe slaan (4 Maart). Daarmee toets Huisgenoot wat lesers aanvaarbaar sou vind.

Diana word steeds op binneblaaie as nuuswaardig beskou, maar heelwat minder as voorheen. Waldeck (2012:25) wys daarop dat Diana in sewe artikels die onderwerp was en ook in vier nuusbrokkies. Diana se klere, veral haar swemklere, kry aandag (met gepaardgaande foto's) (7 en 21 Januarie), asook haar egskeiding (15 Julie), maar die mees betekenisvolle artikel het as opskrif: Diana: nog jou voorblad-liefling? (25 Maart). Dit moes inderdaad 'n vraag wees waarmee Huisgenoot se redaksie geworstel het en waarop hulle net een keer in die jaar positief geantwoord het. Huisgenoot het egter sonder Diana op die voorblad steeds bykans 500 000 per week verkoop.

In 1997 sterf Diana en 'n spesiale uitgawe aan haar gewy verkoop 630 000, 'n rekord (Huisgenoot 100, 2016), 'n bewys dat sy steeds tydskrifte verkoop het. Op die gedenkuitgawe se voorblad word sy geraam as prinses, styl-ikoon, ma, minnares en aktivis (Smith 2012:22). In die agt maande voor haar dood op 31 Augustus verskyn sy egter net een keer op Huisgenoot as voorbladmodel (6 Junie) saam met 'n storie oor die opveil van 79 van haar aandrokke. Sterk geel prikkels is steeds gebruik om lesers te lok: Diana se nuwe liefde - foto's (30 Januarie), Diana en nuwe kêrel: die liefdesfoto's wat almal wil sien (21 Augustus). Ná haar dood word prikkels soos Diana en Dodi: dramatiese laaste ure (18 September), Die Diana-bande (16 Oktober) en Diana vermoor (glo dit as jy wil) (6 November) gebruik, telkens sonder 'n groot foto van haar.

Diana, die prinses van Wallis, het dus van 1981 tot met haar dood in 1997 'n konstante teenwoordigheid op Huisgenoot se voorblad gehandhaaf. Haar trefkrag kan kwalik bevraagteken word, maar sy het nie Huisgenoot se voorblaaie oorheers nie. Bogenoemde analise dui duidelik aan dat plaaslike en internasionale TV-akteurs en -aktrises asook ander bekendes die voorblad van Huisgenoot in die tyd 1981 tot 1997 gedomineer het, hoewel geen enkele ander persoon soveel keer as Diana as voorbladmodel gebruik is nie. Daarbenewens het voorbladprikkels oor Diana lesers telkens na artikels gelok. Die gebruik van Diana op die voorblad was dus nie outomaties nie, maar steeds onderworpe aan die redakteur se oordeel.

Huisgenoot het in Hammann se tyd allerlei subtiele veranderings ondergaan, soos die plasing van seksartikels en modelle van kleur wat in mode-artikels gebruik is. Hy het ook beweer dat die klem nie so swaar op TV geval het nie, maar dat 'n "wyer reeks artikels" teen 1990 op die agenda gestaan het. Wat die voorblad betref, het Huisgenoot in die jare 1990, 1993 en 1997 tog steeds sterk op TV-persoonlikhede staatgemaak.

Teen 2000 het die sirkulasie begin sak weens verskeie eksterne faktore, soos die instelling van 'n nasionale lotery. Gevolglik is Huisgenoot verbied om wedstryde met "gelukkige nommers" aan te bied (Booyens 2008, aangehaal deur Rabe 2016). Daar was ook heelwat meer tydskrifte op die mark en die groter aanbod van TV-programme wat via DStv kykers se tyd opgeëis het, het voldoen aan die behoefte aan nuus oor glanspersoonlikhede, trivialiteite en die bisarre. Hierop het Huisgenoot geen alleenreg gehad nie. Onder Willie Kühn as redakteur het die sirkulasie tot rondom 370 000 gesak (Rabe 2016).

Esmaré Weideman word in April 2002 redakteur met die taak om 'n dalende sirkulasie in die lig van navorsingsbevindings te probeer keer (Weideman 2015:221). Die navorsers het bevind dat die lesers moeg was vir "snot-en-trane-joernalistiek, die oordosis bloed en geweld, die sogenaamde tweekop-kinders". In reaksie hierop (maar in ag genome die raad om nie 'n beproefde resep summier te versaak nie) het Weideman en haar redaksie harder begin soek na "goedvoel-stories", "Trots-Suid-Afrikaans" 'n leuse gemaak en ernstiger stories begin gebruik (Weideman 2015:222). Maar "'n besonder skokkende foto" van 'n terroristeslagoffer word in opdrag van Weideman oor twee bladsye gebruik - tot ontsteltenis van senior kollegas. Dit lei tot 'n "ooreenkoms" met Huisgenoot se lesers: die blad sou steeds die reg hê om "oor die wêreld se naarhede te skryf, al is dit skokkend", maar sou voortaan 'n waarskuwing op die voorblad plaas sodat lesers met kinders die betrokke bladsye kon uitskeur voordat hul kinders die tydskrif lees (Weideman 2015:225).

Misdaadstories soos dié oor die moord in 2004 op Leigh Matthews sit die gebruik voort om sterk misdaadstories met groot prominensie aan te bied. Sonder Diana, die prinses van Wallis, was daar egter nie in Weideman se tyd 'n ikoon waarop gereeld staatgemaak kon word om die sirkulasie te stimuleer nie. Weideman (2015:226) skryf:

... die plaaslike vermaakwêreld, veral Afrikaanse musiek, beleef 'n bloeitydperk en ons ry die golf. By Skouspel en op ons feesverhoë word nuwe sterre gebore. En oor die jare sien ek dit ontvou: 'n Opkomende ster sóék blootstelling. Om op Huisgenoot se voorblad te wees, is 'n droom. Maar gewildheid kom teen 'n prys. Alles wat jy doen, word dopgehou. As jy aanjaag, kry jy dieselfde publisiteit as met jou troue of baba se verjaarsdagparty.

Onthullings en glansstories oor bekendes soos Jurie Els, Steve Hofmeyr en Joost van der Westhuizen volg, soms met die hulp van tjekboekjoernalistiek (wat reeds deur die vader van die moderne Huisgenoot, Niel Hammann, teësinnig as onvermydelik aanvaar is - Retief 1995) (Weideman 2015:227). Hammann se suksesresep is dus tot 'n groot mate deur sy opvolgers (onder andere Willie Kuhn, Esmaré Weideman en Julia Viljoen) voortgesit.

Die wyse waarop misdaad in 2012 op Huisgenoot se voorblaaie gefigureer het, word nou spesifiek aan die orde gestel.

 

4. MISDAAD AS "VERMAAK"

Huisgenoot het reeds dekades lank aandag gegee aan opspraakwekkende misdaadstories (kyk Viljoen 2016), maar dit het eers ná 2000 toenemend op die voorblad verskyn en so deel van die blad se gereelde voorbladagenda geword.

Dit bereik 'n hoogtepunt met die dood in 2013 van Oscar Pistorius se vriendin, Reeva Steenkamp, en in die daaropvolgende jare soos wat sy verhoor en vonnis, die appèlsake en sy lewe in die gevangenis ontvou het (kyk Snyman 2016). In hierdie gedeelte gee ons spesifieke aandag aan drie misdaadstories wat verskeie kere in 2012 op die voorblad gebruik is, naamlik dié oor die sogenaamde "Modimolle-monster", die Griekwastadmoorde en die Somalië-ontvoering.

Dat misdaad selfs meer prominent as in die verlede op die voorblad gebruik is om dalende sirkulasiesyfers te probeer teenwerk, is dalk nie vreemd nie gegee die gewildheid van misdaadromans deur skrywers soos Deon Meyer, Chris Karstens en Irma Venter, asook die aanhang wat misdaadreekse op TV geniet. Misdaadgebeure wat in detail beskryf word, kom ook wêreldwyd in populistiese publikasies voor. Die redaksie sou verkoopsyfers uiteraard noukeurig dopgehou het en presies geweet het tot watter mate die gebruik van misdaad op die voorblad 'n invloed op verkoopsyfers het - dit ten spyte van die vroeëre navorsingsresultate (soos aangehaal deur Weideman 2015:221) wat aangedui het dat lesers reeds in 2002 genoeg van al die misdaad gehad het. Dit was egter 'n werklikheid waarvan (sommige) lesers enersyds van sou wou wegkom, maar andersyds 'n behoefte aan gehad het om meer van te weet. Huisgenoot kon dit dus nie summier ignoreer nie, maar die vraag bly hoe misdaad in Huisgenoot as gesinstydskrif aangebied is.

Die kernvrae wat in hierdie gedeelte aan die orde gestel word, is hoe en met watter prominensie stories en foto's oor misdaad op veral die voorblaaie (maar ook binneblaaie) voorgekom het en hoe dit geraam is, dit wil sê hoe dit aangebied is om sekere dimensies uit te lig. Hier word gelet op die elf "meganismes" wat deur Tankard (2003:101) uitgelig is, te wete hoofopskrifte, subopskrifte, foto's, fotobeskrywings, die inleiding, seleksie van bronne, seleksie van aanhalings, grepe en prikkels, grafika, statistieke en grafieke, asook die slotsin van 'n artikel. 'n Verdere meganisme is geïdentifiseer, naamlik emosionele of grafiese beskrywings. Die betrokke artikels kan nie hier volledig aan die hand van genoemde meganismes bespreek word nie, maar is steeds in gedagte gehou.

Waar die voorafgaande beskrywing van Huisgenoot se voortgaande aanpassing van sy voorblad hoofsaaklik beskrywend van aard is en 'n nieteoretiese mediahistoriese inslag het, word in hierdie empiriese gedeelte 'n aantal teoretiese perspektiewe gebruik om groter diepgang aan die interpretasies te gee. Daardeur wil ons die mediahistoriese narratief versterk en groter begrip kry van presies hoe die redaksie die voorbladagenda gestel het.

Alle stories wat verband hou met misdaad (soos gedefinieer deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPS 2012) en wat in 2012 in Huisgenoot verskyn het, is geïdentifiseer. Altesame 129 sodanige stories is gevind, waarvan die groot meerderheid (80%) plaaslik was. Altesame 58 keer het misdaadstories voorbladprominensie gekry, waarvan net twee gehandel het oor misdade wat deur buitelanders in die buiteland gepleeg is en waarby Suid-Afrikaners glad nie betrokke was nie. Elf van die voorbladstories oor plaaslike misdaad is een of meer kere deur Huisgenoot opgevolg en weer op die voorblad gebruik. Hierdie stories sluit dié in oor die Bob Hewitt-verkragtingsaak (5 Januarie en 4 Oktober), die Kosie van Zyl-moordsaak (1 Maart en 10 Mei), die sogenaamde Sondagverkragter (9 Augustus, 23 Augustus en 8 November) asook die drie reeds genoemde onderwerpe (die Somalië-ontvoering, die "Modimole-monster" en Griekwastadmoorde, wat elk vyf keer prominente voorbladstories was). Dit word nou in groter detail bespreek.

4.1 Die "Modimolle-monster"

Op 19 Januarie 2012 gebruik Huisgenoot 'n troufoto van die Romanz-sanger Adam en sy bruid, Almitra, op die voorblad, maar die prominente prikkelopskrif lui: Riller-ure in monsterman se greep. Bo die opskrif staan in rooi: Eksklusief en dan in geel letters Vrou vertel: verkrag, vermink en toe skiet hy my seun. Die gebruik van emosioneel gelade woorde lei die leser na die artikel en foto's (onder die opskrif Vermink deur 'n monster) waar die slagoffer in grafiese detail vertel hoe haar vervreemde man haar laat verkrag het, haar vermink het en haar seun doodgeskiet het. Die aanloop tot die gebeure word ook in detail beskryf. Die gebruik van regstreekse aanhalings verpersoonlik die konflikstorie tot die uiterste. Dit word verder versterk deur die feit dat sy vanuit 'n hospitaalbed met Huisgenoot gepraat het terwyl sy "hartverskeurend" huil.

Deur gebruik te maak van 'n dramatiese narratiewe skryfstyl, grafiese beelde en emosionele en skokkende nuuselemente kan die dekking van die "Modimolle-monsterstorie" as sensasioneel beskryf word - maar dan sensasioneel in 'n bepaalde sin van die woord. Sensasie sou kon dui op die verpakking van nuus, selfs triviale nuus, op so 'n wyse dat dit 'n sterk emosionele reaksie by die leser ontlok (Jewkes 2004:26). Waar lesers gewoond is aan die grafiese uitbeelding van misdaad in TV-programme en in rolprente, is die aanbied daarvan in 'n gesinstydskrif dalk nie so vreemd nie. Maar waar hierdie (en die ander soortgelyke artikels) verhale uit die Suid-Afrikaanse werklikheid was, was die potensiële emosionele impak groter. Boonop was "gewone mense" hierby betrokke, mense met wie die Huisgenoot-leser sterk kon identifiseer. Hierdie benadering word sterk en met groot sukses deur die suksesvolste populistiese dagblad in Suid-Afrika, die Daily Sun, gebruik (Kitch 2009:31; Froneman 2006).

Waar Huisgenoot die nuus verpersoonlik het tot die vlak waar die mees intieme detail weergegee word, kom die vraag op of hierdie 'n vlak van joernalistiek verteenwoordig wat nog nie vantevore in Afrikaans gebruik is nie. Huisgenoot se dekking van misdaad kan beskryf word as tipies van die geelpers, waar misdaad as 'n vreemde vorm van vermaak aangebied word - vreemd omdat dit die lesers waarskynlik met afsku vervul, maar hulle dit tog wil lees. Die hieropvolgende paragrawe sal meer lig hierop werp. Dit sal ook aandui of Huisgenoot, in sy poging om 'n dalende sirkulasietendens teen te werk, toenemend 'n tema (misdaad) in kombinasie met die triviale van glansnuus benut om lesers mee te trek en selfs te vermaak.

Die pas bespreekte dekking van die sogenaamde "Modimolle-monster" word in die volgende uitgawe (van 26 Januarie) opgevolg met 'n voorbladopskrif: Ons ma na haar graf gedryf. Nogmaals word 'n rooi prikkel gebruik wat lui Eksklusief: Monster van Modimolle en in rooi letters: Nog 'n slagoffer: familie onthul dagboek vol smarte. Soos met die vorige uitgawe, verskyn 'n foto van 'n bruidspaar op die voorblad, hierdie keer van 'n sanger, Arno Jordaan, en sy bruid. Nogmaals kry die "Monster van Modimolle"-stories voorrang (van p.10) terwyl die troustorie op p.14 volg.

Die opvolgstories gee nog 'n slagoffer se verhaal weer. Die verhaal kry groter emosionele trefkrag deurdat sy reeds oorlede was en haar "seer en wroeging" weergegee is aan die hand van haar dagboekinskrywings asook haar seuns se weergawes van die verhouding tussen hul ma en Johan Kotzé, haar voormalige man. Onder die opskrif Skurk wat ma vernietig het vertel Huisgenoot se joernalis Herman Scholtz 'n skokkende verhaal van uitbuiting, emosionele afpersing en twis.

In dieselfde uitgawe verskyn 'n tweede artikel oor Kotzé onder die opskrif Man agter die monster. Waar die vorige artikel sterk konflikrame gehad het, kom 'n moraliteitsraam hier na vore. Betogers verwoord nou die afsku wat Huisgenoot se lesers waarskynlik ervaar het by die lees van die vorige artikels. Kotzé is nou formeel 'n beskuldigde en, aldus Huisgenoot, 'n "enigma" - "Onbeskryflik wreed met 'n draadknipper en braaitang in die hand teenoor sy slagoffer, maar 'n patetiese hopie in die beskuldigdebank". Die artikel vertel ook uitvoerig van sy lewe op Prieska en Bloemfontein, waar hy verskeie vroue na bewering ingeloop het.

Huisgenoot gebruik vir 'n derde agtereenvolgende week dieselfde resep: 'n Groot foto van 'n glanspersoonlikheid (hierdie keer die sanger Elvis Blue) plus 'n prominente opskrif rakende die "Modimolle-monster": Ina vertel alles. Hy kon my nog 66 keer martel, maar moes hy my kind vat? Die artikel self het die opskrif Ek sal die storm oorleef en 'n groot foto waar die slagoffer, Ina Bonnette, en haar dogter onder 'n sambreel staan. Die artikel herhaal van die bekende gebeure, maar lê ook klem op die slagoffer se soeke na 'n nuwe lewe, soos versimboliseer deur 'n druppel water wat Bonnette op 'n blaar gesien het.

Die verminking van die slagoffer word in detail bespreek en sy beskryf haarself as 'n "hardekoolboom - moeilik om te breek". Sy wil ook as motiveringspreker optree en mense "se oë oopmaak". Hierdie invalshoek word in die volgende uitgawe van Huisgenoot verder gevoer. Die invloed op sirkulasie was vermoedelik so positief dat nog een voorbladstorie daaruit gehaal moes word. Die uitgawe van 13 September 2012 dra 'n foto van 'n "brose" Joost van der Westhuyzen en 'n hoofprikkelopskrif oor die sanger Kevin Leo wat glo sy vrou aangerand het. Heel onderaan die voorblad verskyn die woorde: Ina Bonnette: My doel is om ander hoop te gee. Die artikel verskyn nou in die vierde mees prominente posisie in die blad onder die opskrif My pad na genesing en 'n foto van 'n laggende Bonnette. Die gevolge van die gruwelgebeure word uiteengesit, insluitende 'n "visioen" wat sy van haar vermoorde seun gehad het.

Die reeks artikels en uitvoerige dekking wat gegee is aan Ina Bonnette kan gesien word as 'n uitbuiting van 'n vrou se persoonlike verhaal van emosionele en liggaamlike marteling (waarvoor sy waarskynlik baie ruim vergoed is)(Retief 1995 en Weideman 2015:227). Dit het egter ook aan 'n slagoffer die geleentheid gegee om haar hart uit te praat en te wys sy is nie deur die gebeure vernietig nie. Verder het sy die geleentheid gekry om mense te waarsku teen swendelaars. Die vraag wat hierdeur onbeantwoord gelaat is, is of die herhalende, gedetailleerde beskrywing van liggaamlike en emosionele leed werklik in terme van 'n diensmotief verklaar kan word en of dit nie suiwer gemik was op sensasie en die winsmotief nie? In die volgende paragrawe word die tweede groot misdaadstorie van 2012 behandel.

4.2 Die Griekwastad-moorde

Die eerste van vyf voorblaaie waarop die moord op drie lede van 'n gesin van Griekwastad in 2012 as lokaas gebruik is, verskyn op 26 April. Die patroon van 'n foto van 'n glanspaartjie in kombinasies met 'n misdaadstorie word voortgesit. Die prominente geel opskrif lui: Don: Ek kan nie glo mense dink dit was ek nie, aangevul met die subopskrif Raaiselmoord op Griekwastad. In gebruiklike styl word na "eksklusiewe foto's" verwys. Die misdaadstorie troef die ander voorbladprikkels wat oor glanspersoonlikhede handel en word in die voorrangposisie op p.12 geplaas. Die "raaiselmoord" word vanuit die seun, Don Steenkamp, se perspektief verduidelik, wat dit terselfdertyd verpersoonlik en vereenvoudig, beide kenmerke van joernalistiek wat op die massas gemik is. Die betrokkenheid van 'n minderjarige (as enigste oorlewende en verdagte) verhoog die nuuswaardigheid van die storie - iets wat Huisgenoot uiteraard gesnap het.

Die artikel self het die kragtige opskrif: Baie leed, baie vrae onder 'n foto van 'n fronsende Don met 'n huilende vrou in die agtergrond. Die seun word as "gespanne" beskryf en uitgebeeld as weerlose kind. Verskeie lede van die gemeenskap word in die storie aangehaal, waardeur private emosies in openbare emosies omskep word (Kitch 2009:31). Die misdaadtoneel word in detail beskryf, in pas met wat van 'n populistiese blad verwag sou kon word (Bird 2009:41).

Twee weke later volg Huisgenoot die storie op met 'n eksklusiewe onderhoud met die verdagte. Die opskrif op die voorblad lui: Seun praat eerste keer. Ek en my sus was so na aan mekaar, waardeur simpatie vir die minderjarige gewek word. Die artikel met die opskrif 'n Eensame ruiter versterk hierdie simpatie. Die hooffoto is van die sangeres Riana Nel en vorm dus die gebruiklike pakket van glanspersoonlikheid en misdaad.

'n Derde voorbladverwysing na die Griekwastadmoorde volg op 5 Julie 2012, maar buiten vir die gebruiklike hooffoto van 'n glanspaartjie oorskadu 'n ander menslikebelangstorie (die hereniging van die ouerpaar wat in Somalië ontvoer is met hul kinders) die voorblad. Die prikkel wat lui Griekwastad: Die dorp soek steeds antwoorde is minder prominent en gee die indruk van 'n opvolg wat ten alle koste gesoek is om die moorde op die agenda te hou. Die joernalis Herman Scholtz skryf: "Behalwe vir die koeëlgate en die Steenkamps se rusbank is niks meer in die huis van hulle te sien nie. Hul persoonlike goedjies is geberg; die bloed is van die teëlvloere afgewas."

Nou verloop twee maande voordat die Griekwastadmoorde weer op Huisgenoot se voorblad verskyn, maar in die weke tussenin verskyn ander misdaadstories bykans weekliks in die blad - as voorbladstories en/of as minder prominente stories op die binneblaaie. Die voorblad van die uitgawe van 6 September 2018 word oorheers deur 'n hooffoto van prins Harry, die sanger Adam Tas se baba (wat 'n gesondheidsprobleem gehad het) en 7e Laan-akteurs wat aan Huisgenoot se Skouspel sou deelneem. Die Griekwastad-moorde word deur die volgende prikkel op die agenda gehou: Die seun wat almal laat gis. Monster of misverstaan?

Don Steenkamp is nou in aanhouding en het in die hof verskyn. Huisgenoot meld die sterk forensiese bewyse wat in die hof voorgelê is (en wat uiteindelik tot sy skuldigbevinding gelei het), maar weet uiteraard nie op hierdie tydstip hoe die saak sou eindig nie. Wel word die emosionele warboel van die gemeenskap nogmaals beskryf asook die gerugte en Facebook-boodskappe wat in omloop is. 'n Godsdienstige dimensie kom sterk na vore (soos met die artikels oor die "Modimolle-monster") deurdat lede van die gemeenskap sin van die gebeure probeer maak.

Ondanks Huisgenoot se simpatieke raming van die beskuldigde, kyk die blad vorentoe en berig uitvoerig onder opskrifte soos Hoe verskil jeugsentrums van tronke vir volwassenes? en Hoe lank kan hy agter tralies sit?

Die laaste van die voorblaaie in 2012 waarop die Griekwastadmoorde voorkom, dra 'n hooffoto van 'n TV-aanbieder. Die twee mees prominente prikkels handel egter oor misdade: die Bob Hewitt-"skandaal" en die Griekwastad-moorde. Laasgenoemde tema word met die volgende aangekondig: Gesinsvriend: Dís wat seun sê regtig gebeur het. Tog verskyn die artikel onder die opskrif Verwerp en alleen. Huisgenoot herhaal nie bloot die voorbladprikkel bo die artikel nie (of andersom), maar gebruik elke geleentheid ten volle om die feite en emosies van die storie aan lesers voor te hou. Die emosionele stryd wat die seun voer, word in die artikel geplaas naas die vrese van ouers wie se kinders saam met hom op skool was. Die multidimensionele konflik word vanuit elke hoek belig.

Hoewel die moorde op Griekwastad nie dieselfde prominensie as die Modimolle-saak op Huisgenoot se voorblad geniet het nie, is dit uitvoerig gedek. Dit kan verklaar word aan die hand van verskeie nuusteoretiese kriteria wat Huisgenoot se redaksie gesnap het. Die moordgebeure en die feit dat 'n seun van die moorde aangekla is, het ten eerste die status quo in die betrokke gemeenskap ingrypend versteur. Dit was ongewoon, raaiselagtig, 'n minderjarige was betrokke as oorlewende en verdagte, erge geweld was betrokke en dit het die gemeenskap emosioneel geruk. Huisgenoot-lesers kon maatskaplik-psigies met die Afrikaanse, kerkgaande betrokkenes assosieer. Boonop is Griekwastad 'n tipiese plattelandse, Suid-Afrikaanse gemeenskap en kan 'n geografiese "nabyheid" geïdentifiseer word. Kortom, die storie het aan bykans elke kriterium vir nuuswaardigheid voldoen en het daarom outomaties vir 'n blad soos Huisgenoot kommersiële waarde gehad.

In die laaste van die drie gevalle wat in hierdie afdeling oor misdaaddekking bespreek word, word van die tendensies herhaal, maar enkele opmerklike afwykings kom voor.

4.3 Die Somalië-ontvoering

Die verskyning van die eerste van vyf voorbladstories in 2012 oor die ontvoering van twee Suid-Afrikaners in Somalië was op 5 Julie. Die prominente wit-op-swart opskrif het gelui Vreugde, trane. Ontvoerde paar herenig met kinders. Die paar, Debbie Calitz en Bruno Pelizzari, is vir twintig maande deur seerowers aangehou en uiteindelik in Rome met Debbie Calitz se kinders herenig. In 'n ongewone stap het 'n joenalis van Huisgenoot saam met die kinders gevlieg om eerstehands oor die gebeurtenis te berig - en om onderhoude met die slagoffers te voer.

Die emosioneel gelaaide storie word in tipiese narratiewe vertelstyl oorgedra en sterk binne 'n gesinskonteks geplaas. Dit dra by tot die emosionele verbintenis wat lesers met veral die ma en ouma, Debbie Calitz, sou kon sluit.

Die opvolgstorie verskyn 'n week later (12 Julie 2012) en wyk heeltemal af van Huisgenoot se gebruiklike voorbladkombinasie, naamlik 'n hooffoto van 'n glanspersoon of -paartjie plus sterk prikkelopskrifte oor die misdaadstorie van die week. Nou neem die paar wat aangehou is in alle opsigte die prominentste plek in: hul foto is die prominentste en word ondersteun deur 'n groot opskrif wat lui: Ek is verkrag in seerower-hok. Die bo-kop lui: Debbie en Bruno se volle verhaal. Hier bereik Huisgenoot se gebruik van misdaad op sy voorblad 'n hoogtepunt. Van Niel Hammann se "sensasie met sofistikasie" (kyk Retief 1995) het net sensasie oorgebly. In die artikel onder die opskrif Ons hel is verby word die paar se ervarings uitvoerig en in detail vertel, insluitende hoe Calitz deur een van haar wagte verkrag is. Op die voorblad is daar geen teken van 'n waarskuwing, soos wat Weideman vroeër beloof het wanneer sulke skokkende inhoud geplaas word nie. Julia Viljoen kondig dit wel in haar redakteursbrief aan as die groot storie van die week en voeg by: "Ek glo wat julle vandag hier te lese kry, sal niemand teleurstel nie."

Die Somalië-storie verskyn eers weer op 15 November 2012 op Huisgenoot se voorblad. Die minder prominente prikkel lui: Somalië-paartjie vir eers uiteen. Debbie: Ons het tyd weg van mekaar nodig en die blad gebruik nou weer 'n troufoto van 'n glanspaartjie as hooftrekpleister. Die berig self lê veral klem op haar verhouding met Bruno Pelizzari en met haar kinders en kleinkinders. Daarmee kry menslike belang die hooffokus en skuif die misdaaddimensie op die agtergrond.

Die verwysing in die 15 November-storie na 'n geldrusie lei tot 'n opvolg drie weke later. Die voorbladprikkel lui: Suster onthul twis oor geld. Debbie en Bruno se eise verskeur ons familie. Die oud-Mej. Suid-Afrika Cindy Nell-Roberts verskyn op die hoofvoorbladfoto saam met haar kind met as meegaande prikkelopskrif in geel letters: Nou 'n Kapenaar en weer swanger! Die goeie nuus balanseer die nuus oor die geldrusie in 'n mate. Die artikel vertel 'n verhaal van konflik oor geld.

Die narratief beweeg nou na 'n verdere vlak met die volgende voorbladprikkels: Nog skokke! Seerower-vrou Debbie se verlede van dwelms dagga, drank, woeste rusies - Bruno en vriend onthul. Die artikel self het as opskrif: Debbie se dae van drank en dagga. Self wou Calitz geen kommentaar oor haar vroeëre lewe lewer nie. Sy was egter teen hierdie tyd 'n voorbeeld van 'n onbekende persoon uit 'n beskeie agtergrond wat deur Huisgenoot vir 'n wyle bekend gemaak is.

 

5. GEVOLGTREKKINGS

In hierdie artikel het ons aan die hand van voorbeelde uit Huisgenoot aangetoon dat die blad oor sy lang geskiedenis van tyd tot tyd aangepas het by die veranderende smake en behoeftes van sy lesers.

In die 1980's en 1990's het Diana, prinses van Wallis, tesame met glanspersoonlikhede of die TV- en rolprentwêreld, Huisgenoot se fenomenale sirkulasiesyfers ondersteun. Nadat DStv op die toneel verskyn met 'n hele verskeidenheid van vermaakkanale, asook ander populistiese tydskrifte en koerante wat in dieselfde styl as Huisgenoot bedryf is, het Huisgenoot se sirkulasie al hoe meer onder druk gekom. Hoewel misdaadstories lank deur koerante en tydskrifte, insluitende Huisgenoot, gebruik is om sirkulasie te bou, het die gebruik van opspraakwekkende misdaadstories teen 2012 'n selfs opmerkliker kenmerk van Huisgenoot se voorblaaie geword.

Daarmee het hierdie tweede (populistiese) fase van Huisgenoot se geskiedenis 'n belangrike eiesoortige kenmerk bygekry en beweeg die blad na 'n markgerigtheid waar die "aanvaarbare norme" waarna 'n vorige redakteur (Niel Hammann, aangehaal in Retief 1995) verwys het, verander het tot een ingevolge waarvan grafiese beskrywing van byvoorbeeld 'n verkragting as heeltemal aanvaarbaar beskou is. Die finale toets, het Hammann as markgerigte populis geargumenteer, is verkoopsyfers.

Hierdie enigsins (eng) meganiese beskouing het dalk minder nut as om bloot te argumenteer dat maatskaplik-kulturele kragte op sowel joernaliste (en dus Huisgenoot) as lesers ingespeel het. Lesers is nie passiewe ontvangers van nuus nie, maar reageer aktief deur te lees en die volgende uitgawe te koop (De Beer & Botha 2008:241). Die joernaliste reproduseer strukture wat in die sosiale konteks voorkom en is ook, in 'n sin, daaraan gebonde (Craig & Muller 2007:365). Die noukeurigheid waarmee Huisgenoot binne die lesersgemeenskap se leefwêreld beweeg, kan egter 'n berekende metode wees waar die joernalis bloot voorgee om te verstaan en mee te leef, maar eintlik net uit die gebeure haal wat nodig is om die kommersiële waarde van die berig te verhoog. Feit is dat Huisgenoot se redaksie selfs in die tweede fase (post 1978) steeds, in die lig van veranderende omstandighede, berekende aanpassings gemaak het om aan hul suiwer markgerigte doelwitte te voldoen. Daarvan getuig Huisgenoot se voortgaande dekking van misdaad in 2012 waar misdaadslagoffers, met of sonder hul instemming, die menslike gesig van misdaad geword het en verpak is as 'n vorm van vermaak (selfs gruvermaak) wat die sirkulasie van Huisgenoot gedien het. En daarmee het Huisgenoot 'n verdere stap gegee in die voortgaande aanpassing van sy voorblad en 'n weeklikse soeke na lesers. So is die grense verskuif van wat aanvaarbaar vir 'n Afrikaanse "gesinstydskrif" was én van wat lesers wou hê of duld.

 

BIBLIOGRAFIE

Anon. 1990. Huisgenoot: Die reus wat steeds groei. Naspers 75. Bylae tot Finansies & Tegniek, 20 Julie 1990.         [ Links ]

Anon. 2006a. Huisgenoot, hoe het jy verander! Huisgenoot Gedenkuitgawe 19162006.         [ Links ]

Anon. 2006b. Diana, ons onthou. Huisgenoot Gedenkuitgawe 19962006.         [ Links ]

Anon. 2018. Huisgenoot. Media24.com. https://www.media24.com/magazines/huisgenoot/ [3 August 2018].         [ Links ]

Atson, L. & M. Vlok. 2016. Hulle was groot nuus. Huisgenoot, 26 Mei 2016.         [ Links ]

Beukes, W.D. 1992. Oor grense heen. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

Bird, S.E. 2009. Tabloidization: what it is, and does it really matter? In Zelizer, The changing faces of journalism, New York: Routledge, pp. 40-49.         [ Links ]

Broes, I. 1983. The marketing and visual aspects of the cover-girl. Pretoria: Unisa. Ongepubliseerde MA-verhandeling.         [ Links ]

Claassen, G. 1998. Magazines. Life's own story. In De Beer (ed.). Mass media. Towards the millennium. Pretoria: Van Schaik, pp. 147-175.         [ Links ]

Craig, R.T. & Muller, H.L. 2007. Theorizing communication: readings across traditions. Thousand Oaks: Sage.         [ Links ]

De Beer, A.S. & Botha, N. 2008. In Fourie (ed.). Media studies: policy, management and representation. Cape Town: Juta, pp. 228-242.         [ Links ]

Froneman, J.D. 2004. Dominante motiewe in die transformasie van Huisgenoot, 1916-2003. Ecquid Novi 25(1):61-79.         [ Links ]

Froneman, J.D. 2006. In search of the Daily Sun's recipe for success. Communitas, 11:21-35.         [ Links ]

Hammann, N. 2006. Joernaliste vertel... Gedenkuitgawe, 19162006.         [ Links ]

Huisgenoot, 1923, 1931, 1934, 1939, 1960, 1981, 1982, 1984, 1987, 1990, 1994, 1997, 2012. (Spesifieke datums is by verwysing aangedui.)

Huisgenoot, 1981, 1982, 1984, 1987, 1994, 1997, 2012.

Huisgenoot, 2006. Gedenkuitgawe, 19162006.         [ Links ]

Huisgenoot, 2016. Huisgenoot 100. Spesiale gedenkboek.         [ Links ]

Jewkes, Y. 2004. Media and crime: key approaches to criminology. London: Sage.         [ Links ]

Kitch, C. 2009. Tears and trauma in the news. In Zelizer, The changing faces of journalism, New York: Routledge, pp. 29-39.         [ Links ]

Muller, C.F.J. 1990. Sonop in die suide. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

Rabe, L. 2016. Huisgenoot as tydgenoot: 'n Mediageskiedkundige kroniek van 'n tydskrif as "skrif" van sy tyd. LitNet Akademies, 13(3):55-84.         [ Links ]

Retief, H. 1995. Niel Hammann. Mnr. Huisgenoot. Sarie, 26 April 1995.         [ Links ]

SAPS, 2012. Crime statistics. http://www.saps.gov.za/statistics/reports/crimestats/2012/catagories.htm [24 April 2013]        [ Links ]

Snyman, D. 2016. Oscar: Die pynvraag bly. Huisgenoot 100. Spesiale gedenkboek.         [ Links ]

Spies, J.J. 1992. Tydskrifte in 'n ander wêreld. In Beukes, Oor grense heen, Kaapstad: Nasionale Boekhandel, pp. 351-393.         [ Links ]

Steyn, J.C. 2022. Penvegter. Piet Cillié van Die Burger. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Swart, A. 2014. 'n Nuusteoretiese ondersoek na die dekking van misdaad as vermaak in Huisgenoot (2012). Ongepubliseerde MA-verhandeling. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit.         [ Links ]

Tankard, J.W. Jr. 2003. In Rees, Gandy & Grant (eds). Framing public life: perspectives on media and our understanding of the social world. Mahwah: Lawrence Erlbaum Associates, pp. 95-106.         [ Links ]

Van Eeden, 1981. Die Huisgenoot as gesinstydskrif van 1916 tot 1978. Ongepubliseerde Dlitt et Phil-tesis. Pretoria: Unisa.         [ Links ]

Viljoen, J. 2016. Grudade op die lappe. Huisgenoot 100. Spesiale gedenkboek.         [ Links ]

Weideman, E. 2015. Tiaras, trane en tee - tien jaar by Huisgenoot, You en Drum. In Rabe, 'n Konstante revolusie: Naspers, Media 24 en oorgange. Kaapstad: Tafelberg, pp. 221-229.         [ Links ]

Honneursskripsies:

2012. Diana, Prinses van Wallis, en die instandhouding van Huisgenoot as populistiese tydskrif in 1981 / 1982 / 1993 / 1997

E. B. Cronjé, E. de Vos, M. Pienaar, C. Smith en E. Waldeck

 

 

 

JOHANNES FRONEMAN is verbonde aan die Noordwes-Universiteit waar hy strategiese kommunikasieraadgewer in die kantoor van die visekanselier is. Voorheen was hy 'n joernalis en vir 25 jaar lank 'n dosent in joernalistiek. Hy het 'n besondere belangstelling in Afrikaanse mediageskiedenis. Van sy versameling koerante en tydskrifte (onder meer Huisgenoot) kan gesien word op die webblad mediamense.co.za.
JOHANNES FRONEMAN is strategic communication advisor to the vice-chancellor of the North-West University. He previously taught journalism for 25 years at the university and has a special interest in Afrikaans media history. His collection of historically interesting newspapers and magazines (including Huisgenoot) can be viewed on the website mediamense.co.za.

 

 

ALEXA SWART (REINECKE) is 'n vervaardiger by Forum Films in Centurion. Sy het haar universiteitsopleiding aan die Noordwes-Universiteit ontvang, waar sy die grade BA, BA Hons. en 'n MA Kommunikasiestudies verwerf het. Die tema vir haar MA-studie was 'n Nuusteoretiese ondersoek na die dekking van misdaad as vermaak in Huisgenoot (2012). Aspekte daarvan vind neerslag in hierdie artikel.
ALEXA SWART (REINECKE) is a producer with Forum Films in Centurion. She graduated from the North-West University with the degrees BA, BA Hons. and MA Communication Studies. The topic of her master's study was A news-theoretical study of the coverage of crime as entertainment in Huisgenoot (2012), which informs parts of this article.

 

 

CORNIA PRETORIUS is 'n lektor verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Skool vir Kommunikasiestudies. Haar MA-verhandeling het gefokus op joernalistieke geskiedskrywing. As deel van die studie het sy ook die boek Forging Unity: The story of North-West University's first 10 years geskryf. Voorheen was sy 'n joernalis by Beeld, ThisDay, die Sunday Times en Mail & Guardian.
CORNIA PRETORIUS is a lecturer at the North-West University's School of Communications Studies. Her MA dissertation focused on journalistic history writing and included a book, Forging Unity: The story of the North-West University's first 10 years. She previously worked as a journalist at Beeld, ThisDay, Sunday Times and Mail&Guardian.
1 Swart, A. 2014. 'n Nuusteoretiese ondersoek na die dekking van misdaad as vermaak in Huisgenoot (2012). Ongepubliseerde MA-verhandeling. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit.
2 In die styl van populistiese publikasies ("tabloids") gebruik Huisgenoot hoofsaaklik hoofletters in sy opskrifte en prikkels. Hier word dit egter nie so weergegee nie. In plaas van aanhalingstekens, wat die betekenisnuanse van die aangehaalde opskrifte en prikkels sal wysig, word van vet letters gebruik gemaak om dit uit te lig.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License