SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue4-1The state, diversity and the media: Some notes on the situation in South AfricaDeath of the traditional newspaper: A strategic assessment author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.4-1 Pretoria Dec. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n4-1a6 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

'n Kritiese rekonstruksie van die begrip openbare sfeer by Habermas (en die massamedia)

 

A critical reconstruction of the concept of the public sphere in Habermas (and the mass media)

 

 

Pieter Duvenage

Departement Filosofie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein. E-pos: DuvenagePNJ@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

In hierdie bydrae word Habermas se begrip van die openbare sfeer krities gerekonstrueer. In die inleiding word ʼn bondige bespreking van Habermas se intellektuele loopbaan verskaf en meer spesifiek die Duitse agtergrond tot sy denke na die Tweede Wêreldoorlog. In die tweede afdeling word sy hantering in sy eerste hoofwerk, Die struktuurverandering van die openbare sfeer (1962) bespreek. Dit hou met vier aspekte verband: ʼn historiese rekonstruksie van die begrip openbare sfeer, die normatiewe dimensie wat dit onder moderne omstandighede verkry het, die verval van die openbare sfeer aan die einde van die 19de eeu en enkele kritiese punte.
In die derde afdeling word die verdere ontwikkeling van die begrip openbare sfeer aangedui totdat dit in Habermas se hoofwerk, die Teorie van kommunikatiewe handeling (1981) uitmond as
ʼn teorie van argumentering, teorie van sosiale rasionalisering en ʼn verdediging van moderniteit. Uiteindelik word die implikasies van hierdie teorie van kommunikatiewe redelikheid in die vierde afdeling op die massamedia toegepas (soos Habermas dit in ʼn bydrae van 2006 beredeneer). Die bydrae eindig dan in die laaste afdeling met enkele kritiese opmerkinge.

Trefwoorde: Habermas, openbare sfeer, normatiwiteit, kommunikatiewe rasionaliteit, diskoersetiek, oorlegplegende politiek, massamedia, kritiek


ABSTRACT

In this contribution, the concept of the public sphere is critically reconstructed with reference to the philosophical and social theoretical work of Jürgen Habermas (born 1929). Habermas, though, is also known for his work in communication theory.
In the introduction (section 1), a brief sketch of Habermas's intellectual career is provided to serve as a starting point to reconstruct his concept of the public sphere. In section 2, Habermas's concept of the public sphere is examined by considering four aspects of his early work - The Structural Transformation of the Public Sphere (1962): Firstly, Habermas provides an historical argument of the transition from the feudal public sphere to the bourgeois public sphere (modern era) since the 17th century. Secondly, an optimistic picture of the development of the bourgeois public sphere is provided where a normative ideal of the public is connected with a claim to public reason. Thirdly, Habermas also provides a view of the decline of the public sphere in a post-liberal era of market manipulation and consumption - a view strongly influenced by Adorno and Horkheimer. Finally, I refer to early criticism of Habermas's concept of the public sphere (liberal, systems-functional, Marxist and feminist).
In section 3 of this article, I discuss the manner in which Habermas's concept of the public sphere changed siginificantly over a period of about twenty years. It is indicated how it shifted from a more historically informed concept of the public sphere to a more formal and normative version thereof. Eventually this shift culminated in Habermas's defining work - The Theory of Communicative Action (1981). This work consists of three argumentative lines. Firstly, there is a theory of argumentative reason in which speech act theory plays an important role. Secondly, a theory of social rationalization (with the distinction between lifeworld and system) is developed. Finally, Habermas provides an interpretation of modernity/postmodernity. Towards the end of section 3.3. I discuss the ethical (a kind of deontological discourse ethics) and the political implications (a politics of deliberation), of his theory of communicative reason.
In section 4, Habermas's concept of the public sphere and its communicative rational reformulation (with its ethical and political implications), is then applied in the context of contemporary mass communication as a public sphere. In this regard, an article by Habermas (2006) is pivotal. In this contribution, which he calls a normative and empirical reflection of the public sphere in our own time he emphasises three things: In the first place, he distinguishes between liberal, republican and deliberative models of democracy-opting for the latter model. Secondly, he focuses on the structure of mass communication and the formation of considered public opinions as well as the power structure of the public sphere and the dynamics of mass communication. Thirdly, certain contemporary pathologies of political communication are considered - such as the colonialization of the public sphere by imperatives of the market.
In this article, then, the last section (5) conludes with some inconclusive and critical remarks on the concept of the public sphere. As mentioned before, Habermas's original formulation of the public sphere was criticised from a liberal, systems-functional, Marxist and feminist perspective. Eventually these different critical perspectives are complemented by those of multiculturalism and post-colonialism. It is well known that Habermas's work, despite its emphasis on the universal ideal of normativity, is applicable to historical societies in the northern hemisphere. The question here is: How compatible is Habermas's idea of rationality and normativity with a society such as South Africa? This question is an important one in a society where metanarratives and binary options must be critically challenged. As the different South African perspectives are moving closer to one another at the start of the 21st century, the need for a critical public sphere is of the utmost importance.

Key words: Habermas, public sphere, history, normativity, communicative reason, discourse ethics, deliberative politics, mass media, criticism


 

 

1. INLEIDING

Die begrip openbare sfeer speel ʼn baie belangrike rol in die denke van Jürgen Habermas.1 In ʼn lesing van 2004, stel hy dit dat die openbare sfeer as ʼn ruimte vir redelike kommunikatiewe wisselwerking die kwessie was en is wat hom ʼn leeftyd besig hou. Gevolglik maak die konseptuele drieluik van openbare ruimte, diskoers en rasionaliteit die hart van sy werk as filosoof en burger uit (Habermas 2004). Hierdie klem in sy werk het ook bepaalde biografiese wortels: Habermas wat in 1929 met ʼn gesplete verhemelte gebore is, het as jong seun die trauma van verskeie operasies ervaar. Vanaf sy eerste skooljare het hierdie fisiese situasie daartoe gelei dat hy met kommunikasie gesukkel het. Later, as tiener, het sy generasie onder die indruk van die historiese bars van die jaar 1945 in wêreldpolitiek gekom. Die ervaring van die Tweede Wêreldoorlog, en meer spesifiek die bekendwording van die Holocaust, het ʼn blywende indruk op sy werk gemaak. Dit kom dus nie as ʼn verrassing dat hy in sy volwasse lewe voortdurend met die verskynsel van ʼn "slow and repeatedly endangered liberalization of German post-war society and culture" gespook het nie (Habermas 2004).

Binne hierdie konteks het Habermas, by terugskoue, sy studies in Göttingen, Zürich en Bonn (1949-1954) as beperkend en provinsiaal ervaar. Na die oorlog het die meeste professore uit die Nazi-era aangebly en was daar ʼn apolitiese en na binne-gerigte stemming in die Duitse akademie. In die 1950's het Habermas tot die gevolgtrekking gekom dat die geestelike fragmentering en vervreemding van die moderne era eerder van ʼn sosiaal-rasionele as ʼn metafisiese aard was. In die proses het hy hom verdiep in die Wes-Duitse poging om ʼn demokratiese staat te word, maar ook in die breër intellektuele kwessie van die moderne projek van die moderne lewe (moderniteit), soos gesien vanuit die gesigspunt van ʼn verwronge realisering van die rasionele in die geskiedenis (Habermas 1986:96).

Die besinning oor die moderne paradoks, die verlies aan vryheid in die lig van tegnies-rasionele vooruitgang, het Habermas as Adorno se assistent (1956-1959) in kontak met die Kritiese Teorie van die Frankfurt Skool gebring. Die Kritiese Teorie, in die vorm van die eerste generasie van Adorno en ander, het die volgende benaderingswyse gehad (Finlayson 2005:3-4): 1) Om enige teoretiese probleem vanuit ʼn interdissiplinêre gesigspunt te bestudeer. 2) Kritiese Teorie (te onderskeie van tradisionele teorie) is refleksief en inherent selfbewus oor die sosiale konteks wat daartoe bygedra het. 3) Dit het ʼn meer dialektiese (Hegeliaanse) opvatting van kennis, waarvolgens feite en teorieë deel is van ʼn voortgaande dinamiese historiese proses. 4) Kritiese Teorie is krities en normatief, in die sin dat dit wat verkeerd is met die kontemporêre samelewing wil diagnoseer en die progressiewe aspekte daarvan wil identifiseer om die samelewing te transformeer.

Teen hierdie agtergrond het Habermas se aanvanklike belangstelling in Duitse Idealisme, Heidegger en filosofiese antropologie, na Kritiese Teorie verskuif, maar dit het nie bloot op ʼn herinterpretasie van Marx se denke neergekom nie. Hy het sy lees op ʼn kreatiewe wyse met Freudiaanse sielkunde, Weber, Durkheim en Parsons se sosiologie verbind. Voorts is hermeneutiek (Gadamer), pragmatisme (Pierce/Mead/Dewey) en taalanalitiese teorie (Wittgenstein) in sy navorsingsblik betrek. Uiteindelik het Habermas sy eie weergawe van die kritiese (en normatiewe) basis van sosiale rasionaliteit ontwikkel. Hierdie perspektief is reeds in sy eerste belangrike werk, Strukturwandel der Öffentlichkeit (1962) sigbaar. Hierdie studie bevat belangrike besinnings oor die historiese en normatiewe aspekte van die struktuurverandering van die openbare sfeer. Ek beoog in hierdie bydrae om dié werk (oor die potensiaal van ʼn demokratiese en rasionele openbare sfeer) en die latere ontwikkeling daarvan bondig te rekonstrueer, veral met toespitsing op die tydgenootlike fenomeen van massakommunikasie.

Gevolglik sal daar in die eerste afdeling hieronder (2) op drie aspekte van Habermas se vroeëre werk oor die struktuurverandering van die openbare sfeer gefokus word. Vervolgens (3) word daar na Habermas se werk oor die openbare sfeer sedert die 1960's gekyk totdat dit in die vroeë 1980's in begrippe van openbare redelikheid en kommunikatiewe handeling uitmond. Habermas se konsepte van openbare redelikheid en kommunikatiewe handeling word vervolgens (4) in terme van ʼn latere belangrike bydrae oor massakommunikasie (2006) verken. Die bydrae sluit af met enkele kritiese opmerkinge, asook enkele notas oor die toepassing van die begrip openbare sfeer in ʼn Suid-Afrikaanse konteks (5).

 

2. DIE HISTORIESE, NORMATIEWE EN STRUKTURELE VERANDERING VAN DIE OPENBARE SFEER

In die bespreking van Habermas se vroeëre werk oor die struktuurveranderinge van die openbare sfeer val die soeklig op vier aspekte, naamlik die historiese (2.1) en normatiewe (2.2) dimensies van die begrip, asook die ontsporing van die openbare sfeer teen die laat 19de eeu (2.3) en enkele kritiese opmerkinge (2.4).

2.1 In die eerste plek verskaf Habermas ʼn historiese argument oor die verandering van ʼn verteenwoordigende openbare sfeer (feodale era) na die burgerlike openbare sfeer (moderne era). Habermas (1989:7-8) beskryf die feodale samelewing as een waar kuns en kultuur in die openbaar deur die hof en heersende elite "verteenwoordig" was. Hy vervolg (1989:7-8):

As long as the prince and the estates of his realm 'were' the country and not just its representatives, he could represent it in a specific sense. They represented their lordship not for but 'before' the people. In other words, through art and culture the court and its allied classes established their higher authority to represent themselves in the public sphere on behalf of the nation.

Histories gesproke het die feodale openbare sfeer in die burgerlike moderne openbare sfeer oorgegaan as gevolg van ʼn verandering in die verhouding tussen die monarg en sy/haar onderdane en ook as die gevolg van die opkoms van die vroeë kapitalistiese ekonomie. Dit het daartoe gelei dat daar ʼn onderskeid tussen samelewing en regeerder, asook tussen die openbare en private (Habermas 1989:18) getref is. Die openbare sfeer het só as ʼn ruimte ontstaan waarin die belange van die burgerlike samelewing in ʼn bepaalde verhouding met die staat tot stand gekom het. Dit is in hierdie ruimte van die vrye burgers in die burgerlike samelewing waar sekere sistematiese en normatiewe beginsels van die openbare sfeer ontwikkel is.

2.2 Hierdie beginsels het vanuit sekere instellings soos koffiehuise en salonne ontstaan waar literêre, politieke en filosofiese kwessies openlik gedebatteer is (Habermas 1989:49-50). In die proses het die volgende normatiewe aspekte van die openbare sfeer geïnstitusionaliseer geraak: a) Diskussies in hierdie instellings het status geïgnoreer (Takt der Ebenbürtigkeit). Die punt is dat ʼn mens se amptelike prestige, mag en ekonomiese status, nie in beginsel ʼn rol hier speel nie.2 Só word die wette van die staat en die mark vir ʼn wyle opgeskort (Habermas 1989:36). b) Rasionele argumentering is hier die enigste arbiter van enige kwessie. Private burgers vir wie die kulturele produkte toeganklik geword het, is in staat gestel om estetiese, politieke en filosofiese kwessies onafhanklik te interpreteer. Enige kwessie was oop vir kritiek in die literêre en politieke openbare sfeer.3 In hierdie opsig is literêre, politieke en filosofiese werke nie meer deur die kerk, hof of staatlike gesag "verteenwoordig" nie. Rasioneel-kritiese praktyke (Räsonnement) het beredeneerde burgers in staat gestel om die staat se monopolie op openbare en institusionele interpretasie te bevraagteken (Habermas 1989:27). Dit is die historiese moment waar geldige argumente gedwonge stellings in die openbaar troef. Dit is die oomblik waar openbare diskussie die hoeksteen en medium van debat deur die pers, politieke partye en die parlement geword het. Slegs in ʼn magsvrye gesprek kan die sterkste argument in die stryd om private opinies wen - en kan voluntas in ratio oorgaan (Habermas 1989:53-54). c) Verder is die openbare sfeer as ʼn universele ouditorium gesien. Enigeen met toegang tot kulturele produkte - boeke, opvoerings, tydskrifte - kon ten minste op die belangstelling van die kultureel debatterende publiek reken. Die openbare sfeer was nie die forum van ʼn magskliek nie, maar is gesien as deel van ʼn meer inklusiewe publiek wat alle opgevoede private burgers insluit wat op ʼn onafhanklike wyse in ʼn kritiese debat kan deelneem (Habermas 1989:36-37).

Volgens Habermas (1989:46) het hierdie sistematiese en normatiewe beginsels van die openbare sfeer dit vir die staat moontlik gemaak om in voeling met die behoeftes van die samelewing te kom. Hierdie evolusie van die samelewing kon egter net binne ʼn ekonomiese orde tot stand kom. Laasgenoemde orde was kapitalisme en die deurslaggewende bydrae hier tot die openbare sfeer was die institusionalisering van ʼn nuwe en sterker sin van privaatheid en die vrye beheer van produktiewe eiendom. In Europa is dit ook weerspieël in die kodifisering van die burgerlike reg, waar basiese private vryhede gewaarborg is. ʼn Fundamentele gelykheid tussen persone is dus daargestel, wat ooreenkom met eienaars in die mark en opgevoede individue in die openbare sfeer. Hoewel nie alle persone volle regsubjekte was nie, is alle regsubjekte in ʼn min of meer ongedifferensieerde kategorie van persone ingedeel. Die uitbreiding van hierdie begrippe na die doktrine van laissez-faire en selfs vrye handel tussen nasies het die ontwikkeling van ʼn "burgerlike samelewing" wat as private sfeer van die publieke gesag geëmansipeerd is in sy volle omvang na vore gebring. Habermas (1989:79) is egter van mening dat die moment van ʼn vrye openbare sfeer van korte duur was in die geskiedenis van die ontwikkeling van kapitalisme. In die tweede gedeelte van Struktuurverandering van die openbare sfeer voer hy aan dat die gesketsde model van die burgerlike openbare sfeer vanaf die laaste deel van die 19de eeu deur sekere strukturele veranderinge ondermyn is.

2.3 Habermas beoordeel die verval van die openbare sfeer sedert die laaste deel van die 19de eeu as ʼn verskuiwing van ʼn rasionele openbare sfeer (soos hierbo beskryf) na ʼn publiek wat deur verbruik aangevuur word. Hierdie verskuiwing het plaasgevind op die tydstip dat die klassieke model van liberale kompeterende kapitalisme in die monopolistiese kapitalisme van kartelle en proteksionisme getransformeer is. Die klassieke funksie van openbare mening, naamlik die vrye debat van algemene belange, is van toe af ondermyn deur die staat en ander belangegroepe se inmenging in die sosiale lewenswêreld en die openbare sfeer. Selfs instellings soos parlemente kon nie hierdie erosie van ʼn vrye openbare sfeer verhoed nie (Habermas 1989:143-144; 205). Teen hierdie agtergrond het die verhouding tussen die private en die openbare sfere en hulle verhouding met die staat verander, een wat Habermas (1989:142) die herfeudalisering van die openbare sfeer noem. Die openbare sfeer verander hier van ʼn forum vir kritiese en rasionele debat na een wat blootgestel is aan die manipulering van die openbare diskoers, wat burokratiese en ekonomiese belange, advertering en "openbare betrekkinge" gebruik om ʼn perfekte sosiale manipulering van kiesergedrag en kulturele verbruik te skep (Habermas 1989:202). Op hierdie historiese moment word die projek van die verligting en kulturele emansipasie van die publiek bedreig. Die openbare sfeer verander só van ʼn forum vir kritiese en rasionele debat na ʼn instrument vir diskursiewe manipulering deur magtige burokratiese en ekonomiese belange.

Habermas wys op verskillende voorbeelde waar ʼn kritiese openbare sfeer vatbaar vir manipulering was. Hy wys byvoorbeeld op die psigiese en sosiale effekte van verbruik op die lede van die burgerlike familie. Dit het neergekom op ʼn verlies aan individualiteit en morele outonomie in hierdie belangrike sosialiserende instelling. "To a greater extent individual family members are now socialized by extra familial authorities, by society directly" (Habermas 1989:156). ʼn Verdere voorbeeld is die verval van die literêre openbare sfeer in die verdeling tussen 'n minderheid kuns-connoisseurs (hoë kuns) aan die een, en ʼn groot massa kunsverbruikers in die kultuurindustrie (lae kuns) aan die ander kant (Keulartz 1986:17). Elders het massamedia soos massa-pers, radio en televisie die kommersiële instrumente van adverteerders geword. Hierdie nuwe vorme van media spreek sodoende direk tot die verbruiker deur die idee van ʼn rasionele diskoers tussen deelnemers in ʼn kritiese openbare sfeer (van literêre en politieke werke) te ignoreer (Hohendahl 1979:90). Die wêreld van massamedia is dus ʼn skyn-openbare sfeer (Habermas 1989:166/200).

Hierdie argumente oor die strukturele verandering van kultuur, identiteit en politiek is duidelik beïnvloed deur Horkheimer en Adorno se interpretasie van die kontemporêre samelewing in hulle Dialectic of Enlightenment van 1947. Dit word deur begrippe soos "massakultuur", "objektivering" en "gemanipuleerde kultuur" bewys. Habermas volg egter nie sy mentors se pessimistiese opvatting van ʼn ten volle geïnstrumentaliseerde openbare sfeer nie. Sy probleem hier was ʼn reduktiewe interpretasie van geskiedenis sowel as ʼn uitgesproke negatiewe beskouing oor die demokratiese potensiaal van ʼn besonne openbare sfeer. ʼn Meer komplekse prentjie van die verhouding tussen verbruik en emansipasie word eerder beskryf as ʼn ideaal " of free rational discussion between equals as one that, though presently unfulfilled, is nonetheless worthy of pursuit" (Finlayson 2005:15).

2.4 Dit is te verstane dat Habermas se vroeë werk oor die openbare sfeer ʼn kritiese ontvangs sou kry. Vanuit ʼn liberale, sisteem-teoretiese, Marxistiese en feministiese hoek is dit gekritiseer. Liberale kritici was skepties oor die historiese vergelyking tussen die ideaal-tipiese liberale publieke sfeer en die agteruitgang daarvan in laat-kapitalisme (Hohendahl 1979:93, 95). Vanuit ʼn sisteem-teoretiese perspektief meen Luhmann dat die kommunikatief-sosiale funksie van openbare mening in kontemporêre samelewings met hulle gespesialiseerde sisteme ontoepaslik is (Habermas & Luhmann 1971; Greven 1987). Vanuit ʼn Marxistiese perspektief is Habermas se skets van die agteruitgang van die burgerlike openbare sfeer aanvaar, terwyl die idealistiese en kommunikatief-rasionele veronderstellings van sy normatiewe model van die openbare sfeer gekritiseer is (Hohendahl 1979:104-105; Negt & Kluge 1972). Vir latere feministiese kritici kom die klem op ʼn rasioneel-kritiese debat neer op ʼn onvermoë om regverdig met identiteitspolitiek en verskil om te gaan. Hier word die grens tussen die openbare en private ook geproblematiseer. Hoewel Habermas se oorspronklike bespreking van die literêre openbare sfeer aandui hoe fiksie dien om ʼn diskussie oor self en subjektiwiteit te fasiliteer en om ʼn primêre identiteit in ʼn nuwe gekonstrueerde intieme sfeer te bevestig, dwing sy argument uiteindelik ʼn neutraliserende logika af op differensiële identiteit deur die openbare op sodanige wyse te kwalifiseer dat dit die private identiteit as abstraksie stabiliseer (Calhoun 1992:34-35; Thompson 1995:72-73).

 

3. VERDIEPING VAN DIE NORMATIEWE EN STRUKTURELE: DIE OPENBARE SFEER AS KOMMUNIKATIEWE HANDELING EN RASIONALITEIT

3.1 Twintig jaar skei Habermas se Strukturele verandering van die openbare sfeer (1961) en die definiërende werk van sy oeuvre, Die Teorie van kommunikatiewe handeling (1981). In dié opsig het sy werk oor die openbare sfeer dramaties verskuif. Dit het te doen met die verskuiwing van ʼn sosiaal-historiese na ʼn formeel-rasionele begronding van die openbare sfeer met demokratiese implikasies. Vier fases kan in die twintig jaar tussen Struktuurverandering en die Teorie van kommunikatiewe handeling onderskei word: i) In sy kritiek op Marxisme maak Habermas die punt dat tussenmenslike verhoudinge nie bloot tot werk en arbeid (subjek en objek) gereduseer kan word nie. Dit vind ook intersubjektief plaas en is sodoende grotendeels nie-instrumenteel van aard. Hierdeur verskaf Habermas ʼn ryker opvatting van sosiale en menslike verbondenheid as Marxistiese teorieë (Finlayson 2005:7). Die implikasie hiervan is dat tussenmenslike verhoudinge nie net ʼn materiële dimensie het nie, maar ook ʼn linguistiese een. ii) Tweedens het Habermas krities op tegnies-wetenskaplike of sciëntistiese/positivistiese denkwyses van die moderne sosiale filosofie en die natuurwetenskappe ingespeel. Die punt is dat die illusie van suiwere kennis by die moderne natuurwetenskappe belange verberg en tot ʼn objektiewe en eendimensionele kennismodel bydra. iii) Derdens is Habermas deur Amerikaanse pragmatisme en Gadamer se hermeneutiek en hulle fokus op die alledaagse ervaring beïnvloed. Hieroor skryf Finlayson (2005:8): "Philosophical theories and concepts have to pay their way by making a difference to the lives and the experience of real people in the actual world." Habermas het dus die begrip van ideale en vrye interpersoonlike interaksie (linguistiese kommunikasie) in die gewone lewe gevind as sleutel tot emansipasie (Anderson 2000). iv) Vierdens het Habermas in die 1970's by Starnberg sy rekonstruksie van Kritiese Teorie met die volgende empiriese studies verdiep: ego-identiteit, kommunikatiewe vermoë, morele ontwikkeling, sosiale-patologieë, rasionaliseringsprosesse, regs-evolusie, ens. Verder het sy studie van analitiese taalfilosofie deel van ʼn universele pragmatiek van kommunikasie geword (Anderson 2000). Hierby is ʼn teorie van sosiale evolusie en sisteem-teoretiese konsepte gevoeg om die ontwikkelingslogika van sosiale kennis en die meegaande vorme van rasionaliteit te verduidelik (Habermas 1976a; 1976b). Hierdie verskillende navorsingsprojekte het uiteindelik in sy definiërende werk, Die teorie van kommunikatiewe handeling (1981), neerslag gevind.

3.2 In sy Teorie van kommunikatiewe handeling fokus Habermas op drie aspekte van kommunikatiewe rasionaliteit: ʼn Teorie van argumentasie - waarin spraakhandelingsteorie ʼn kernrol speel (3.2.1.); ʼn teorie van sosiale rasionalisering (3.2.2); en ʼn interpretasie van moderniteit/postmoderniteit (3.2.3.) (Honneth 1989:25).

3.2.1 Volgens die spraakhandelingsteorie is daar kultuur-onafhanklike geldigheidsaansprake, soos waarheid, normatiewe korrektheid en opregtheid. Elk van hierdie aansprake verteenwoordig ʼn aspek van rasionaliteit en ʼn deel van die realiteit (werklikheid) - die objektiewe, sosiale en subjektiewe wêrelde. Die doel van verstaan (Verständigung) is om by ʼn ooreenkoms (Einverständnis) uit te kom en onderlinge vertroue ten opsigte van geldigheidsaansprake te bereik. Indien dit nie moontlik is nie, moet die vlak van diskoers die oplossing van ʼn gewantroude geldigheidsaanspraak deur die gesag van 'n oortuigender argument weerlê. Dit is die geval in ons alledaagse teoretiese, praktiese en estetiese diskoerse.

3.2.2 Hierdie argumentatief-kommunikatiewe perspektief word in ʼn volgende stap met ʼn model van sosiale rasionalisering verbind. ʼn Belangrike aspek van sosiale rasionalisering is die historiese differensiëring tussen lewenswêreld en sisteem. Kommunikatiewe verstaan (in die lewenswêreld) is ʼn fundamentele reproduksiemeganisme van die moderne samelewing, saam met die historiese ontwikkeling van norm-vrye handelingsfere wat deur sisteemteoretiese analise toeganklik is. Volgens Habermas vind sosiale reproduksie in beide die kommunikatiewe infrastruktuur van die lewenswêreld en die histories-ontwikkelde norm-vrye sisteme (byvoorbeeld geld en burokrasie) plaas. Kortom: die interaksie van kommunikatiewe rasionaliteit en sisteemteorie is die raamwerk waarbinne ʼn moderne sosiale teorie afspeel.

3.2.3 Deur die verdeling van lewenswêreld en sisteem (onderskeidelik die kommunikatief-gekonstitueerde handelingsfere en doel-rasionele georganiseerde funksionele sfere) is dit moontlik om die indringing van sistematies-gestuurde meganismes te beskryf as 'n besondere patologie van die moderne (Habermas 1981 II:293). Hierdie dualistiese konstruksie stel Habermas in staat om ʼn meer gedifferensieerde interpretasie as Horkheimer en Adorno van kontemporêre samelewings te gee. Waar hulle sistematies-georganiseerde komplekse as die laaste stap in die logika van instrumentele rasionaliteit beoordeel, bied Habermas ʼn ander blik op die rol van sisteme in die leefwêreld. Die sosiale patologieë van kontemporêre samelewings is gevolglik nie die onvermydelike gevolg van instrumentele rasionaliteit per se nie, maar eerder die uitkoms van ʼn eensydige proses waar die mark en administratiewe staat die lewenswêreld indring, en daardeur vorme van integrasie, gebaseer op kommunikatiewe redelikheid deur hulle eie vorme van funksionele rasionaliteit vervang. Habermas beskryf dit op dramatiese wyse as die kolonialisering van die lewenswêreld. Die primêre taak van ʼn kritiese teorie is dus om aandag te gee aan hierdie proses van kolonialisering en om uit te wys hoe verskeie sosiale bewegings daarop kan reageer (Baynes 1998).

3.3 In dieselfde tyd dat Habermas sy Teorie van kommunikatiewe handeling voltooi het, het hy sy eerste weergawe van ʼn diskoers- of kommunikatiewe etiek daargestel. Hierdie postkonvensionele etiek poog om ʼn alternatief tot utilitaristiese en Kantiaanse teorieë te wees. Die basiese idee hier word uitgedruk in ʼn beginsel van universaliseerbaarheid, soortgelyk aan die kategoriese imperatief van Kant, met die bedoeling dat dit dien as ʼn reël vir argumentering waar die legitimiteit van strydende norme getoets kan word. Die sterk aanspraak wat hier gemaak word, is dat hierdie beginsel uit die algemene pragmatiese voorveronderstellings van kommunikasie en argumentasie vloei. Deur met ander woorde uitsprake te maak, opper sprekers ten minste implisiet verskillende geldigheidsaansprake (aansprake oor waarheid, normatiewe korrektheid en opregtheid of waaragtigheid). Hierdie geldigheidsaansprake dui op die idee van ʼn ideale gespreksituasie wat bevry is van enige eksterne beperkinge en waar niks anders as die mag of krag van die geldigste argument heers nie. Die beginsel universaliseerbaarheid is ʼn poging om hierdie kontrafaktiese ideaal as ʼn konstituerende reël vir argumentasie in moreel-praktiese diskoerse daar te stel: Norme of grondbeginsels van handeling is slegs moreel legitiem, indien wanneer betwis, hulle in ʼn moreel-praktiese diskoers geregverdig kan word.

Diskoersetiek is ʼn tipe Kantiaanse morele teorie in die volgende opsigte. Eerstens is dit ʼn formalistiese etiek in die sin dat dit nie enige substantiewe morele inhoud (meer as die idee van praktiese redelikheid) veronderstel nie. Dit vereis eerder ʼn formele prosedure waaraan enige norm moet voldoen as dit moreel aanvaarbaar wil wees. Tweedens is dit ʼn kognitivistiese etiek deur vol te hou dat ʼn voldoende analogie tussen morele en wetenskaplike diskoers bestaan, sodat dit moontlik is om na leervooruitgang, ʼn soortgelyke nosie van "goeie rede" of argumentering in beide te verwys. Laastens is dit ʼn deontologiese teorie deur die voorrang van die reg bo die goeie te plaas (Baynes 1998).

Habermas pas uiteindelik sy teorie van kommunikatiewe handeling nie net op die etiek nie, maar ook op die politiek toe. Hier gaan dit oor politieke kwessies soos demokratiese teorie, praktyk, en die rol van die reg. In sy werk, Faktisiteit en geldigheid (Faktizität und Geltung, 1992), meen Habermas dat die verskil tussen demokrasie (populêre soewereiniteit) en konstitusionalisme (wat menseregte insluit) nie oorspeel moet word nie. Populêre soewereiniteit en basiese regte is van gelyke oorsprong (gleichursprünglich). Beide stam vanuit ʼn ideaal wat implisiet in die begrip kommunikatiewe rasionaliteit geleë is: die reg om nie tot norme verplig te word nie, behalwe daardie norme waartoe mens ongedwonge rasioneel instemming kan verleen. Deur hierdie prosedurele voorstel van kommunikatiewe rasionaliteit bied Habermas ʼn model van oorlegplegende politiek aan wat tussen die alternatiewe van liberalisme en republikanisme (of kommunitarisme) deurstuur. Hy aanvaar die republikeinse kritiek van ʼn politiek wat op die kompetisie en versameling van private voorkeure gebaseer is. Aan die ander kant (soos liberales) vind hy die republikeinse visie van ʼn verenigde burgery, wat aktief deur ʼn gedeelde opvatting van die goeie lewe saamgesnoer word, onrealisties in moderne pluralistiese samelewings. In sy alternatief is die klem nie op ʼn kollektief-handelende burgery nie,

but on the institutionalization of the corresponding procedures and conditions of communication, as well as on the interplay of institutionalized deliberative processes with informally constituted public opinions. (Habermas 1996:298)

In sy oorlegplegende model is Habermas ten gunste van ʼn tweespoorproses waar daar ʼn werksverdeling tussen swak publieke (informeel-georganiseerde openbare sfere wat strek vanaf private verenigings tot die massamedia in die burgerlike samelewing) en sterk publieke (parlementere liggame en ander formeel-georganiseerde instellings van die politieke sisteem) is. Swak publieke neem ʼn sentrale verantwoordelikheid in om sosiale probleme te identifiseer, te interpreteer en aan te pak. Besluitnemingsverantwoordelikheid, sowel as die verdere filtrering van redes via meer formele parlementere prosedures, bly egter die taak van ʼn sterk publiek (byvoorbeeld die formeel-georganiseerde politieke sisteem).4

 

4. DIE OPENBARE SFEER EN HEDENDAAGSE MASSAKOMMUNIKASIE

Habermas se teorie van kommunikatiewe handeling (met sy etiese en politieke implikasies), is in ʼn bydrae van 2006 spesifiek op die omstandighede van die openbare sfeer in ons eie tyd betrek. In hierdie bydrae (Habermas 2006), wat hy ʼn normatiewe en empiriese besinning oor die openbare sfeer in ons eie tyd noem, word die klem op drie aspekte geplaas. In die eerste plek tref hy ʼn onderskeid tussen liberale, republikeinse en oorlegplegende modelle van demokrasie (4.1.). Tweedens fokus hy op die struktuur van massakommunikasie en die vorming van oorwoë openbare menings asook op die magstruktuur van die openbare sfeer en die dinamika van massakommunikasie (4.2.). Derdens word sekere patologieë van politieke kommunikasie in ons tyd in ag geneem (4.3.).

4.1 Habermas (2006:412) onderskei drie normatiewe grondslae van moderne of liberale demokrasieë: die private outonomie van burgers, wat elk ʼn lewe van sy/haar eie keuse nastreef; demokratiese burgerskap, met ander woorde, die insluiting van vrye en gelyke burgers in die politieke gemeenskap; en ʼn onafhanklike openbare sfeer wat as ʼn bemiddelende sisteem tussen die belange van die staat en die burgerlike samelewing optree.

Hierdie aspekte van moderne demokrasieë vind in verskillende kontekste toepassing. Teen hierdie agtergrond onderskei Habermas breedweg tussen drie modelle van demokrasie - liberaal, republikeins en oorlegplegend.5 Elk van hierdie modelle " gives a different weighting to equal liberties for everybody, democratic participation, and government by public opinion" (2006:412). Waar die liberale model die vryhede van private burgers beklemtoon, is die republikeinse en oorlegplegende modelle sterker ten gunste van die politieke deelname van aktiewe burgers of die vorming van 'n oorwoë en besonne openbare mening. Hierdie verskillende modelle van demokrasie kan ook verskillend op ʼn nasionale politieke kultuur reageer en tot verskillende verhoudings van teorie/praktyk-empiriese werklikheid aanleiding gee (2006:412).

Habermas verkies die oorlegmodel. Hier word die epistemologiese aard van rasionele oorleg, eerder as rasionele keuse (liberaal) of politieke pathos (republikeins) beklemtoon. Die empiriese verwysingspunt is die demokratiese proses waar die volgende aspekte van belang is (Habermas 2006:413): publiseerbaarheid en deursigtigheid vir die oorlegproses; insluiting en gelyke geleentheid vir deelname; en ʼn geregverdigde vooruitsig op rasionele uitkomste (met verwysing na die impak van argumente op rasionele keusemaking). Laasgenoemde punt berus op die aanname dat institusionele diskoerse bepaalde onderwerpe en kritiese evaluering bevorder wat tot rasionele ja/nee-situasies kan lei. Habermas verwys hier na die waarheidopsporingspotensiaal van politieke oorleg. Oorlegplegende politiek ontspring uit ons alledaagse lewe wat vra vir die gee van redes. Hier word onderlinge geldigheidsaansprake in ʼn rasionele diskoers van kommunikatiewe handeling geopper (Habermas 2006:413).

Die keuse vir politieke oorlegmodel word deur empiriese gevallestudies en ʼn aantal kleingroepstudies gesteun, " which construe political communication as a mechanism for the enhancement of cooperative learning and collective problem-solving" (Habermas 2006:217). Hier word interpersoonlike belange deur onpersoonlike argumente getroef in ʼn proses wat as prosedureel legitiem beskryf word. Habermas ontwikkel sy begrip van oorwoë openbare mening ("considered public opinion") na aanleiding van drie kleingroepstudies. Neblo se studies wys hoe eksperimentele groepe deur oorleg van politieke kwessies soos regstellende handeling of gays in die militêre dienste kan leer. Fishkin se beroemde eksperiment betrek ʼn groep van vryverkose Kanadese kiesers wat oor drie alternatiewe vir ʼn burgerlike vergadering oorleg pleeg en tot ʼn besluit kom. Laastens wys Habermas (2006:17) na kenners (van multinasionale korporasies) en teen-kenners (van NRO's) wat oor sekere omgewingskwessies in Berlyn oorleg gepleeg het. Hierdie groepstudies bied getuienis vir die kognitiewe potensiaal van politieke oorleg.

Wanneer ons egter vanaf die kwessie van oorleg in kleingroepe na die breër terrein van bemiddelde kommunikasie in die openbare sfeer gaan, kom die volgende aspekte na vore: a) die afwesigheid van kommunikasie onder vier oë; b) die afwesigheid van spreker en aangesprokene; c) die media se vermoë tot selektiewe boodskapvorming; en d) politieke en sosiale magsagendas. Vir Habermas (2006:414-415) is die eerste twee minder kwellend as die laaste twee, waar dit gaan oor politieke kommunikasie van onder tot bo of van bo tot onder in ʼn multivlaksisteem. Hier gaan dit oor die verhouding tussen ʼn begrip soos massakommunikasie en swak en sterk publieke (soos hierbo bespreek).

4.2 Vir Habermas gaan dit in die openbare sfeer oor 'n bemiddeling tussen formeel-georganiseerde instellings (sentrum) en informele, maar direkte oorlegplegings (rand) van die politieke sisteem. Die sentrum bestaan uit parlemente, howe, regeringsinstansies en staatsdepartemente. Hulle uitsette volg op institusionele oorleg en onderhandeling. Op die rand is daar

a network of wild flows of messages for example: news, reports, commentaries talks scenes and images, shows and movies with a polemical, educational or entertaining content. (Habermas 2006:415)

Hierdie openbare boodskappe en menings ontstaan tussen ʼn verskeidenheid van akteurs in die burgerlike samelewing soos politici, politieke partye, joernaliste, belangegroepe, kenners, morele entrepreneurs en intellektuele. Die kwessie hier is die konstante stryd tussen akteurs (en ander) om die media vanuit drie vertrekpunte te beïnvloed: a) politici en politieke partye vertrek vanuit die sentrum van die politieke sisteem; b) lobbyiste en belangegroepe van die gesigspunt van funksionele sisteme en statusgroepe; en c) advokate, openbare belangegroepe, kerke, en intellektuele en morele entrepreneurs vanuit die burgerlike samelewing. Saam met hierdie groepe akteurs, dra joernaliste ook tot die openbare mening by (Habermas 2006:416). Dit is gevolglik die resultaat van elite en diffuse gehore.

Gegewe die begrip van openbare mening is dit nou nodig om te kyk hoe oorwoë openbare menings in die konteks van massakommunikasie tot stand kom. Volgens Habermas se kommunikasiemodel kan daar aan die staat die volgende eise gestel word: a) om reëls en regulasies neer te lê; en b) om publieke goedere en dienste te verskaf (Habermas 2006:416-417):

for civil society, as well as subsidies and infrastructure for various functional systems, such as commerce or the labor market, health, social security, traffic, energy, research and development, education, etc.

Die verteenwoordigers van die funksionele sisteem kan die staat juis oor hierdie eise aanvat. Die politieke sisteem moet ʼn ope flank tot die burgerlike samelewing hê as dit legitiem wil bly.

In die spanningsveld tussen staat en burgerlike samelewing, kan die regering en die kiesers ʼn ja/nee-posisie in die openbare sfeer inneem. Die kenmerk van die openbare sfeer is reflektiwiteit en openheid tot oorleg. Habermas (2006:417) sien oorleg as ʼn essensiële element van die demokratiese proses, wat drie funksies vervul: a) om relevante kwessies te versamel, inligting te verkry en interpretasies te spesifiseer; b) om sulke bydraes diskursief met oorleg te prosesseer deur argumente vir en teen te verskaf; en c) om rasionele ja/nee-houdings te skep. Hoewel die politieke openbare sfeer hoofsaaklik die eerste funksie (a) vervul, vereis Habermas (2006:417) se model van oorlegplegende politiek meer as dit vir oorwoë openbare menings. Dit is nie genoeg dat die media nét oor kwessies rapporteer nie, maar dit is ook noodsaaklik om rasioneel daaroor oorleg te pleeg ten einde by oorwoë openbare menings uit te kom. Dit is die raamwerk waarbinne burgers tot legitieme besluite kan kom. Habermas (2006:418) stel dit soos volg:

It is the formal vote and the actual opinion and will-formation of individual voters that together connect the peripheral flows of political communication in civil society and the public sphere with the deliberative decision-making of political institutions at the center, thus filtering them into the wider circuitry of deliberative politics.

Die punt is dat die openbare sfeer as massakommunikasie oorwoë openbare menings kan genereer.

Aan die ander kant kan die magstruktuur van die openbare sfeer die genoemde dryfkrag van massakommunikasie bemoeilik. Hier onderskei Habermas (2006: 418-419) tussen drie magsvorme: a) Politieke mag wat legitimiteit deur die demokratiese oorlegmodel verkry; b) sosiale mag (en ekonomiese mag) wat met sosiale- en kulturele kapitaal verband hou; en c) mediamag wat met die tegnologie van massakommunikasie-nuus die agenda kan bepaal.

Die kenmerk van die mediamag is dat joernaliste in ʼn funksionele spesifieke en selfregulerende mediasisteem met sy eie normatiewe kodes optree. (Die relatiewe onafhanklikheid van die mediasisteem is eers na die Tweede Wêreldoorlog bereik.) Die media word van binne deur die agenda van ʼn informele hiërargie, en van buite deur politici en politieke partye bepaal. Ideaal gesien behoort die regering nie die aanbieding en interpretasie van mediaboodskappe te beheer nie. Verder het belangegroepe van die funksionele sisteem ook toegang tot die media deur korporatiewe kommunikatiewe bestuursmetodes. In vergelyking met politici en die lobbyiste van die funksionele sisteme is akteurs in die burgerlike samelewing in ʼn swakker posisie (Habermas 2006:419). Dit is hier waar die magstruktuur van openbare meningsvorming deur die volgende "reëls van die spel" in toom gehou moet word: a) die selfregulerende mediasisteem moet die burgerlike samelewing en die sentrum van die openbare sfeer op ʼn onafhanklike wyse verbind; en b) 'n inklusiewe burgerlike samelewing moet burgers tot deelname bemagtig. ʼn Groot potensiële probleem is egter burgerlike apatie of wegskramming, maar Habermas (2006:420) hou by die resultate van ʼn verskeidenheid van empiriese studies wat daarop dui dat lesers, luisteraars en kykers rasioneel optree en ontvanklik is vir oorleg. Mense kan kennisgedrewe wees in hulle beredenering van politieke keuses.

4.3 Habermas erken dat die normatiewe vereistes vir ʼn oorlegplegende politiek, soos hierbo geskets, nie maklik in die alledaagse kommunikasie van sogenaamde mediasamelewings teregkom nie. Twee normatiewe vereistes vir ʼn oorlegplegende politieke sfeer word voortdurend deur sekere patologieë van politieke kommunikasie in kontemporêre samelewings bedreig: a) die onafhanklikheid van ʼn self-regulerende mediasisteem; en b) die regte verhouding tussen die sentrum en die rand (burgerlike samelewing) in die openbare sfeer (Habermas 2006:420).

a) Hier is die probleem ʼn onvoldoende onderskeiding van die mediasisteem van sy omgewing. Verskeie voorbeelde van staatsmonopolieë kan hier uitgewys word. Die tweede probleem is die inmenging met die onafhanklikheid van die mediasisteem wat reeds ʼn vlak van selfregulering bereik het (2006:420). ʼn Voorbeeld hiervan is " the manipulation of the American public by the White House's surprisingly successful communication management before and after the invasion of Iraq in 2003". Die probleem hier was die afwesigheid van enige teenargumente (Habermas 2006:421). ʼn Ander aanslag op die onafhanklikheid van die mediasisteem is die gebrek aan afstand tussen die media en gespesialiseerde belangegroepe. Dit is die geval waar ryk sakelui ʼn spesiale agenda in die private media stuur, byvoorbeeld die berugte voorbeeld van hoe Berlusconi die aard van die Italiaanse media verander het (Habermas 2006:421).

b) Die afwesigheid van 'n behoorlike terugvoermeganisme tussen die mediasisteem en ʼn verantwoordelike burgerlike samelewing. Met ander woorde, die openbare sfeer benodig aktiewe burgers wat die samelewing se probleme verwoord en reageer op die kwessies wat in elitediskoerse geartikuleer word. Die kritiese terugvoerproses kan egter verhinder word: i) Die sosiale deprivasie of kulturele uitsluiting van burgers verduidelik die selektiewe toegang tot en die onewe deelname aan mediakommunikasie. Habermas (2006:422) verwys na studies wat daarop dui dat mense wat elektroniese media gebruik ʼn laer vertroue in politiek het. ii) Die kolonialisering van die openbare sfeer deur markimperatiewe kan tot ʼn bepaalde verlamming van die burgerlike samelewing lei. Meer spesifiek hier is die profytmotief van aandeelhouers in kontemporêre kapitalisme sowel as die sterk klem op mediavermaak. Uiteindelik word die politieke diskoers ook hierin vermaaklik vertaal - byvoorbeeld waar politieke kandidate verpersonaliseer word. Teen hierdie agtergrond lei die markdruk op private media, in die meeste gevalle, tot ʼn belemmering van behoorlike oorlegplegende politiek (Habermas 2006:422-423).

 

5. SLOTOPMERKINGS

Die oogmerk van hierdie bydrae was om ʼn bondige oorsig van die werkingsgeskiedenis van Habermas se begrip van die openbare sfeer te verskaf. Daar is aangedui hoe daar in sy denke 'n aksentverskuiwing plaasvind vanaf ʼn histories-ingeligte begrip van die openbare sfeer na ʼn meer formele en normatiewe begrip daarvan. Hierdie formulering van rasioneel-kommunikatiewe handeling in die openbare sfeer is só gedoen dat dit op die hedendaagse verskynsel van massakommunikasie toegepas kan word. Hoewel Habermas vir ʼn invloedryke formulering van die begrip openbare sfeer verantwoordelik is, staan dit nie bo kritiek verhewe nie. Daar is reeds aan die einde van afdeling een daarop gewys dat Habermas se oorspronklike formulering kritiek vanuit liberale, Marxistiese, sisteem-funksionele en feministiese kringe ontlok het. By hierdie kritiek (wat tot ʼn groot mate steeds geld) kan ʼn ander kritiese perspektief gevoeg word.

Habermas se besinning oor die openbare sfeer is veral, ten spyte van die universele ideaal van normatiwiteit, op moderne post-geïndustrialiseerde samelewings van die noordelike halfrond van toepassing. Die kwessie is egter hoe ʼn begrip soos die openbare sfeer in ander kontekste - byvoorbeeld ʼn multikulturele en postkoloniale samelewing (soos Suid-Afrika) in die suidelike halfrond - bedink kan word: Hoe funksioneer Habermas se opvatting van rasionaliteit en normatiwiteit in ʼn samelewing soos Suid-Afrika? Watter begrip van subjektiwiteit word by Habermas veronderstel en watter tipe subjektiwiteit is in ʼn land soos Suid-Afrika vaardig? Hoe hou iets soos massamedia met hierdie verskillende opvattings van rasionaliteit en subjektiwiteit rekening? Kan Habermas se model van deontologiese diskoersetiek net so op Suid-Afrika toegepas word? Hoe moet demokrasie in Suid-Afrika verstaan word in terme van Habermas se onderskeid tussen liberale, republikeinse en oorlegplegende demokrasie?

Hierdie vrae is almal belangrik indien die kwessie van die openbare sfeer, in ʼn samelewing soos Suid-Afrika ter sprake kom. In só samelewing is die kwessie van die openbare sfeer as ʼn kritiese ruimte - waar metanarratiewe en binêre opsies krities getoets en bespreek word - van kardinale belang. Soos die verskillende Suid-Afrikaanse perspektiewe aan die begin van die 21ste eeu nader na mekaar beweeg het vanweë industrialisasie, modernisering en die vestiging van ʼn verenigde politieke staat, is die vereiste vir so ʼn kritiese sfeer van die uiterste belang. Dit behels ʼn sfeer wat vir kruiskulturele kommunikasie en sensitiewe interpretasie ontvanklik is. Hoe moet kwessies soos ras, klas, kultuur, gender en die verhouding met die natuur en tegnologie in so ʼn ruimte gehanteer word? Dit is op hierdie punt dat Habermas se meer rasionele, normatiewe en prosedurele voorstel van ʼn rasionele openbare sfeer aan ʼn behoorlik kritiese ondersoek blootgestel moet word; een waar die historiese aard van ons rasionaliteit, subjektiwiteit en etiese en politieke modelle kan meespeel (Chen 1987:186). Op hierdie punt kan ʼn kritiese hermeneutiek ons moontlik help om die historiese wortels van enige argument, teorie of instelling in die openbare sfeer aan te wakker.

 

BIBLIOGRAFIE

Anderson, J. 2000. The 'Third Generation' of the Frankfurt School. Intellectual History Newsletter, 22:49-61.         [ Links ]

Baynes, K. 1998. Habermas, Jürgen. In Craig (ed). Routledge Encyclopaedia of Philosophy. London: Routledge. http://www.rep.routledge.com/article/DD024 SECT1 [2 Julie 2004].         [ Links ]

Chen, K-H. 1987. Beyond truth and method: On misreading Gadamer's praxical hermeneutics. Quarterly Journal of Speech, 73:183-99.         [ Links ]

Calhoun, C. (ed). 1992. Habermas and the Public Sphere. Cambridge, Mass.: MIT Press.         [ Links ]

Finlayson, J.G. 2005. Habermas. A very short introduction. Oxford: University Press.         [ Links ]

Greven, M. 1987. Power and communication in Habermas and Luhmann. In Parekh (ed). Political Discourse. London: Sage.         [ Links ]

Honneth, A. 1989. Vom Zentrum zur Periferie einer Denktradition. Kölner Zeitschrift für Soziologie und Sozialpsychologie, 41:1-32.         [ Links ]

Horkheimer, M. & Adorno, T. 1979 (1947). Dialectic of the Enlightenment. Trans. J. Cumming. London. Verso.         [ Links ]

Hugo, D. 2018. Openbare domein. Kaapstad: Naledi.         [ Links ]

Habermas, J. 1976a. Zur Rekonstruktion des historischen Materialismus. Frankfurt: Suhrkamp.         [ Links ]

Habermas, J. 1976b. Was heißt Universalpragmatik? In Apel (ed). Sprachpragmatik und Philosophie. Frankfurt: Suhrkamp.         [ Links ]

Habermas, J. 1981. Theorie des kommunikativen Handelns. Band I-II. Frankfurt: Suhrkamp.         [ Links ]

Habermas, J. 1986. Autonomy and Solidarity. Interviews with Jürgen Habermas. In Dews (ed). Norfolk: Thetford Press.         [ Links ]

Habermas, J. 1989. The Structural Transformation of the Public Sphere. Trans. T. Burger & F. Lawrence. Cambridge: Polity. (Oorspronklik in 1962 in Duits gepubliseer.         [ Links ])

Habermas, J. 1996. Between Facts and Norms: Contributions to a Discourse Theory of Law and Democracy. Trans. W. Rehg. Cambridge, MA: MIT Press.         [ Links ]

Habermas, J. 2004. Public space and political public sphere - The biographical roots of two motifs in my thought. Ongepubliseer lesing, Kyoto, 11 November.         [ Links ]

Habermas, J. 2006. Political Communication in Media Society: Does democracy still enjoy an epistemic dimension? The impact of normative theory on empirical research. Communication Theory, 16:411-426.         [ Links ]

Habermas, J. & Luhmann, N. 1971. Theorie der Gesellschaft oder, Sozialtechnologie: Was leistet die Systemforschung? Frankfurt/Main: Suhrkamp.         [ Links ]

Hohendahl, P. 1979. Critical Theory, Public Sphere, and Culture: Jürgen Habermas and his Critics. New German Critique, 16:89-118.         [ Links ]

Keulartz, J. 1986. Over Kunst en Kultuur in het werk van Habermas. In Van Doorne & Korthals (eds). Filosofie en Maatschappijkritiek. Amsterdam: Boom.         [ Links ]

Negt, O. & Kluge, A. 1972. Öffentlichkeit und Erfahrung. Frankfurt: Suhrkamp.         [ Links ]

Thompson, J. 1995. The Media and Modernity. A Social Theory of the Media. Cambridge: Polity Press.         [ Links ]

 

 

 

PIETER DUVENAGE het in Suid-Afrika en in Duitsland filosofie studeer. Nadat hy sy doktorsgraad in 1994 behaal het, word hy in 1995 senior lektor en vanaf 1997 medeprofessor, professor (2001), besoekende professor aan verskeie Suid-Afrikaanse universiteite. Hy is sedert 2011 professor en hoof van die Departement Filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein. Hy is die skrywer en mederedakteur van verskeie boeke en meer as 40 geakkrediteerde artikels in vaktydskrifte en boeke. Sy nuutste boekpublikasie is Afrikaanse Filosofie (Stellenbosch, Sun Press, 2016). Hy is sedert 2003 ʼn geakkrediteerde navorser by die Nasionale Navorsingstigting (NRF), lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (sedert 2004) en ʼn voormalige president van die Wysgerige Vereniging van Suider-Afrika (PSSA) (2005-2008). Sedert 2015 is hy ook ereprofessor in politieke filosofie aan die Universiteit van Cardiff (VK) en redakteur van die Joernaal vir Eietydse Geskiedenis (UV).
PIETER DUVENAGE has studied philosophy in South Africa and Germany. After receiving his doctorate in 1994 he has been senior lecturer (from 1995) and from 1997 associate professor, professor and visiting professor at various South African universities. He was appointed in 2011 as professor and head of the Department of Philosophy at the University of the Free State in Bloemfontein. He is the author and co-author of about 40 accredited articles in journals and books. His latest book publication is Afrikaanse Filosofie (Stellenbosch, Sun Press, 2016). He is a NRF (National Research Foundation) rated researcher (since 2003), a member of the Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (since 2004), and a former president of the Philosophical Society of Southern Africa (PSSA) (2005-2008). Since 2015 he is also an honorary professor in political philosophy at Cardiff University (UK) and editor of the Journal for Contemporary History (UFS).
1 Die digter Daniel Hugo (2018) gebruik as tema vir sy nuutste bundel die pragtige formulering van die openbare domein.
2 Habermas (1989:259 n32) skryf: "With the removal of the barrier that representative publicity had erected between laymen and initiates, special qualifications ... became in principle irrelevant ... Hence, if the public acknowledged no one as privileged, it did recognize experts. They were permitted and supposed to educate the public, but only inasmuch as they convinced through arguments and could not themselves be corrected by better arguments."
3 Habermas wys daarop dat die belang van
ʼn rasioneel-estetiese debat in salonne, tydskrifte, koerante en die opvoedkundige taak van die kunskritikus (Kunstrichter) alles bygedra het tot die institusionalisering van die literêre openbare sfeer as ʼn tipe Vorform van die politieke openbare sfeer (Calhoun 1992:10-11). Romans van Richardson, Rousseau en Goethe het hier ook ʼn belangrike rol gespeel. Habermas (1989:50) skryf: "The relation between author, work, and public changed. They became intimate mutual relations between privatised individuals who were psychologically interested in what was 'human', in self-knowledge, and in empathy."
4 Ook met betrekking tot die kwessie van regsteorie weerstaan Habermas
ʼn skerp onderskeid tussen positivisme ("reg as die wil van die soewereine" of regspositiwisme) en natuurreg-teorieë. Legitieme reg moet in ʼn betekenisvolle sin gekonstrueer word as die wil van die mense of demos; tog vereis ʼn demokratiese proses regsregulasie (Baynes 1998).
5 Ek verkies om die Duitse (en Engelse) begrip deliberation hier as oorlegpleging te vertaal. Ander moontlikhede kan onderhandeling, beraadslaging, beredenering, of geskilbeslegting wees.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License