SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue3Reaksie op die artikel "'n Ekokrities-filosofiese perspektief op die kortverhaal 'Katvoet' (Riana Scheepers)" deur Carien Smith (Tydskrif vir Geesteswetenskappe 58(2):310-329) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.3 Pretoria Sep. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n3a15 

TAALRUBRIEK

 

Republieke en hulle vanne*

 

 

Akademielede weet hopelik dat die jongste Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS; 2017) verskeie nuttige en interessante bylaes bevat, onder meer twee waarin landname ter sprake kom. Dit is die "Lys buitelandse geografiese name met afleidings" (Bylae B) en die "Lys landname met hulle geldeenhede en ISO-kodes" (Bylae C). Onopvallend roer die Taalkom-missie hier 'n saak aan waaroor daar op groot skaal in Afrikaans "gesondig" word. Dié kwessie het ook in Mei vanjaar ter sprake gekom by 'n werkwinkel oor praktiese Afrikaans wat die FAK aangebied het.

Die inleidende paragraaf by Bylae C bevat naamlik die volgende sin (bl. 655): "Die volle, amptelike name word slegs aangebied in gevalle waar dit onderskeidend is, byvoorbeeld Demokratiese Republiek die Kongo teenoor Republiek die Kongo." Oplettende lesers sal raaksien dat dié twee name nie aangegee word as "van die Kongo" nie.

Prof. Ernst Kotzé, oud-TK-voorsitter, het by geleentheid verskillende stelsels uiteengesit waarvolgens Afrikaans as taal geklassifiseer kan word - kyk gerus na dié interessante uiteensetting by https://www.litnet.co.za/die-klassifikasie-van-afrikaans/. Dit bly egter 'n feit dat Afrikaans, ondanks al die verskillende invloede wat hom help maak het, 'n sterk Germaanse geskiedenis deel met verskeie Europese tale, byvoorbeeld Nederlands en Duits.

Hierdie geskiedenis bring mee dat sekere Afrikaanse maniere om dinge te sê eerder met die segswyse van byvoorbeeld Nederlands en Duits ooreenstem as met dié van Engels, wat, hoewel dit oorspronklik ook 'n Germaanse taal is, in baie sterk mate deur Romaanse tale, by name Frans, beïnvloed is. Afrikaans, Nederlands en Duits sê byvoorbeeld onderskeidelik sonder voorsetsel 'n kopple tee, een kopjethee en eine Tasse Tee, terwyl Engels en Frans weer sê a cup of tea en tasse de thé. Afrikaans sê daardie soort motor; Engels that kind of car.

Afrikaans gebruik idiomaties talle sulke taalbousels waarin die soort of "kategorie" of "klassifikasie" van iets genoem word, gevolg deur die spesifieke (geïdentifiseerde) entiteit of voorwerp. (Dit was, terloops, n geliefde onderwerp van my oudleermeester en gewaardeerde mentor, wyle prof. Willem Kempen.) In Engels, daarenteen, word óf die voorsetsel "of" tussen die twee geplaas, óf die volgorde word omgeruil. Kyk na die volgende klompie voorbeelde: (Dit wil natuurlik nie sê dat die volgorde in Afrikaans nie soms ook kan omruil nie, bv. JBM Hertzog-lughawe; dit is egter nie nou ter sake nie.)

 

 

Omdat Afrikaans en Engels sedert die begin van die 19de eeu so nou met mekaar saamgeleef het en Brittanje (en Engelssprekendes) bowendien vir die grootste deel van twee eeue die bewindhebber(s) was, was dit onvermydelik dat Afrikaans sterk deur Engels beïnvloed is. Dit het daartoe gelei dat onder meer politieke strukture, Staatsdepartemente en universiteite name volgens die Engelse patroon gekry het, soos Universiteit van Kaapstad (University of Cape Town), in plaas van die Nederlandse patroon soos in Universiteit Leiden. (Dit is interessant dat die Universiteit van Stellenbosch hom deesdae as die Universiteit Stellenbosch bemark.) Die Engelse/Britse invloed in ons staatsbestel het waarskynlik ook daartoe gelei dat ons staatsdepartemente 'n van tussen Departement en die spesifieke naam het, byvoorbeeld Departement van Arbeid (Department of Labour), in plaas van die patroon wat elders gebruik word, soos Departement Filosofie aan 'n universiteit, of selfs onderafdelings van staatsdepartemente, soos die Tak Marine of die Direktoraat Taaldiens.

Soos dit maar te dikwels gaan, is dinge in taal nie altyd ewe maklik of logies-konsekwent nie. Die woord unie, as aanduiding van die tipe staat, neem byvoorbeeld in Engels, Afrikaans, Nederlands en Duits (die ekwivalent van) die voorsetsel van. Kyk byvoorbeeld hoe die voormalige USSR se volle naam gelyk het: Union of Soviet Socialist Republics; Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke; Unie der Socialistische Sovjetrepublieken; Union der Sozialistischen Sowjetrepubliken.

In 1910 het die vier Britse kolonies dus die Unie van Suid-Afrika / Union of South Africa geword, en toe die Unie in 1961 onafhanklik word, is die woord "Unie" waarskynlik bloot deur "Republiek" vervang sonder dat diegene wat grondwetlik vir die nuut onafhanklike staat se naam verantwoordelik was, besef het (of hulle daaraan gesteur het) dat unie en republiek in die Afrikaanse en Nederlandse taaltradisie nie dieselfde optree nie.

Daardie besluit - of die gebrek aan die besef dat méér eintlik in die Afrikaanse nuwe naam moes verander het - het 'n groot invloed gehad, want hoewel ons land in Afrikaans na regte Republiek Suid-Afrika behoort te geheet het, het dit nie gebeur nie: die landsnaam is grondwetlik as Republiek van Suid-Afrika vasgelê. Die gevolg is dat almal - die gedrukte en elektroniese media inkluis - nou ten onregte oral die voorsetsel van Republiek invoeg as laasgenoemde voor die eintlike naam staan. Die feit dat Afrikaans wetlik gebind is om n wesenlik onidiomatiese landsnaam te gebruik vir die land waarin die taal ontstaan het, beteken egter nie dat daardie onidiomatiese segswyse elders voortgesit moet word nie.

Afrikaans behoort dus, in ooreenstemming met voorbeelde soos dié in bostaande tabel, landname wat Republiek vooraan het, sonder van te benoem, vanselfsprekend met uitsondering van ons eie landsnaam. Toe mnr. Pik Botha destyds Minister van Buitelandse Sake was, was sy departement nogal gesteld daarop dat landsname korrek in byvoorbeeld die Staatskoerant gebruik word, met inbegrip van die van-lose republieke. Hier onder volg 'n paar voorbeelde:

die Bondsrepubliek Duitsland; die Republiek die Kongo, die Demokratiese Republiek die Kongo; die Volksrepubliek China; die Nasionalistiese Republiek China; die Republiek Korea (= Suid-Korea); die Demokratiese Volksrepubliek Korea (= Noord-Korea); die Federatiewe Republiek Brasilië; die Republiek Peru

Baie republieke voeg egter die woord republiek agteraan, soos in die Zuid-Afrikaansche Republiek, die Franse Republiek, die Argentynse Republiek; die (voormalige) Verenigde Arabiese Republiek; die Duitse Demokratiese Republiek (die ou Oos-Duitsland); en die Sentraal-Afrikaanse Republiek, waar die van uiteraard nie ter sprake is nie.

Ons behoort ook in hierdie opsig die AWS se leiding te volg deur ons tradisionele idiomatiese patroon te herstel en in Afrikaans die van-lose republiekname te gebruik - so hoort dit immers!

 

 

JD (Tom) McLachlan

Vertaler en Taalversorger. E-pos: tommcl@whalemail.co.za

 

 

* 'n Soortgelyke rubriek het in die FAK-tydskrif Flink verskyn.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License