SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue3On the question of identity in a post-apartheid world: Co-creation as an alternative to onto-race-logyRedakteursnota author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.3 Pretoria Sep. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n3a12 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Die ekonomiese belang van die beskerming van minderheidsgroepe vir die staat

 

The economic importance for the state of the protection of minority groups

 

 

Theuns du Buisson

Departement Filosofie Universiteit van die Vrystaat Bloemfontein. E-pos: thdubuisson26@gmail.com

 

 


OPSOMMING

Regerings moedig graag nasiebou aan, met die oogmerk om hul burgers saam te snoer en nasionale eenheid te bewerkstellig. In homogene samelewings geskied dit gewoonlik heel maklik, omdat mense van nature mag voel dat hulle 'n enkele gemeenskaplike doel nastreef. Minderheidsgroepe word egter daarby uitgesluit. Hierdie artikel belig die feit dat dit nog altyd die geval is. Daar word ook betoog dat regerings, veral dié van Suid-Afrika, doelbewus daarop uit is om minderheidsgroepe te ondermyn. Deur te verwys na veral die rol vir die staat wat Adam Smith identifiseer, word sulke oormatig betrokke regerings se legitimiteit bevraagteken. Veral waar dit op die direkte ondermyning van geregtigheid neerkom, is dit in stryd met Hobbes se sosiale kontrak, sowel as Adam Smith se voorgestelde rol vir die staat. 'n Ander belangrike punt wat beklemtoon word, is dat kulturele groepe se welvaart altyd voordele inhou ook vir ander groepe. Deur een te ondermyn, word die hele samelewing dus ondermyn.

Trefwoorde: Ekonomie, Adam Smith, Suid-Afrika, Politiek, Kultuur, Identiteit, Ekonomiese Groei, Minderhede, Swart Ekonomiese Bemagtiging, Regstellende Aksie, Staatslegitimiteit


ABSTRACT

Governments tend to encourage so-called nation building, in order to create a united citizenry. In homogenous societies, this occurs fairly easily, as people already feel that they are united in terms of culture and language. Therefore, they naturally feel that they are working towards the same end-goal. In multicultural societies, or in societies with minorities living with the majority, certain groups are always excluded from this. It will be argued that this has always been the case ever since the origin of state. Certain governments, with specific reference to South Africa, deliberately set out to undermine certain minority groups.
The modern state is evaluated in terms of Adam Smith's set role for the state. Smith identifies the role ofthe state as protecting citizensfrom attacksfrom other countries, protecting citizens from injustices and harm caused by others and, finally, providing infrastructure as well as a good business environment in which business can thrive. By excluding certain minorities, the last two roles are neglected and the rights of those minorities are infringed upon. As maintaining a good defence force is dependent on developing a thriving economy, the first, and perhaps most basic, function of the state is undermined.
Therefore, undermining certain minorities would be against Hobbes' social contract, as it misrepresents some individuals. It also clashes with Adam Smith's set notion of the state's responsibility, according to which it must ensure that its citizens are provided with the freedom and infrastructure to facilitate economic growth. When failing in both of these aspects, serious questions about the legitimacy of such a state are raised.
In order to evaluate the role of nation building and representativity, in terms of the actual functions of the state, one must start with the origin of the state. This is because the origin of state power must be understood in order to legitimize the use thereof in terms of governing the cultural and economic practices of subjects and citizens. According to d'Entreves, the state's only legitimization comes from itself, therefore the core of any political theory should be to establish whether the state has any right to exist, apart from the rights that it grants to itself.
Hobbes and Rousseau chose the path of the social contract in their political theories. In these theories, the sovereign represents everyone. When using this approach to legitimize state power, minorities are often entirely excluded, as they do notform part of the contract, or they are pushed to the margins by the tyranny of the majority. As the government is supposed to safeguard the rights of all citizens, this seriously questions the legitimacy of governments who advocate for expanding the rights of some groups at the expense of others.
In this regard, the South African government since 1994 is used as an example. Nation-building generally refers to non-racialism and representativity. The major instruments whereby such goals are to be attained in the formal sectors are by means of affirmative action and Black Economic Empowerment (BEE). Certain examples are referred to, such as the government's aim of establishing 100 black industrialists. This is questioned, as becoming a major industrialist usually requires certain skills and experience. Similarly, forcing companies to hire certain people when they are not the best suited or qualified for their positions would put strain on the entire economy. Besides this, it hampers the natural transfusion of skills and assets which would have occurred if the state had not intervened. Rather than creating a united nation or social cohesion, such projects cast doubt on any appointments from the designated groups. Furthermore, it creates doubt amongst minority groups as to whether the government has their best interests at heart.
Although trickle-down economics have been questioned, it is without a doubt true that cultural groups cannot empower themselves in isolation. If one group flourishes economically, others will share in it too. The government's restrictions on growth amongst minority groups therefore does not only impact negatively on the specific group, but on society as a whole. By deliberately sabotaging its own economy, such a government proves itself to be illegitimate.

Key words: Economics, Adam Smith, South Africa, Politics, Culture, Identity, Economic Growth, Minorities, Black Economic Empowerment, Affirmative Action, State Legitimacy


 

 

INLEIDING

Nasiebouprojekte word gereeld aangepak, met die regverdiging dat Suid-Afrikaners verenig moet wees in alles wat hulle doen. In hierdie verband is regstellende aksie waarskynlik die bekendste metode, waardeur verteenwoordigendheid bevorder moet word. Ander projekte is doelbewuste advertensies deur organisasies, waarin hulle mense aktief tot sosiale kohesie aanpor. Politieke korrektheid en liberale waardes is ook dikwels die dryfveer agter sulke projekte. In hierdie verband word kultuur-spesifieke waardes en gebruike ontken en selfs ontmoedig. Kan ons bekostig om sulke beperkings op die samelewing te plaas? Veral waar dit die gevolg het dat aanstellings of toegewings nie gemaak kan word nie, op grond van regstellende aksie. So 'n beperking op ekonomiese groei kan nie bekostig word nie. Hoekom neem state dan sekere stappe om minderhede te ondermyn, ten koste van die ekonomie? Adam Smith (1976) maak dit duidelik dat die staat se eerste prioriteit moet wees om aan almal die geleentheid te gee om soveel welvaart as waarvoor hulle bereid is om te werk, te kan versamel. Daar moet egter terselfdertyd daarteen gewaak word om nie die samelewing verder te laat versplinter ten koste van ekonomiese groei nie. Die staat se rol hierin word bespreek in terme van sy verpligting, maar ook in terme van hoe ver die magte om in te meng, behoort te strek.

 

DIE OORSPRONG VAN DIE STAAT EN DIE ROL VAN DIE BURGERY: NASIE-GEVOEL EN WELVAART

Om hierdie vraag te beantwoord, moet 'n mens teruggaan tot by die oorsprong van die moderne staat. In die Middeleeuse opvatting is die staat en kerk as twee afdelings van dieselfde oppergesag gesien. Beide is as 'n hoër gesag gesien, met gelyke mag oor mekaar. Dit was daarom een en dieselfde ding. Die lede van daardie gemeenskap was verenig, omdat hulle dieselfde geloof aangehang het. Sou iemand 'n ander geloof aanhang, is hulle onmiddellik uitgesluit. Op hierdie manier is Jode in die geskiedenis van Europa tot randfigure verlaag. Kettery is daarom nie net 'n aanval teen die kerk nie, maar ook teen die staatregtelike orde (d'Entreves 1967: 133-134). Die staat kry sy gesag vanuit positiewe, eerder as natuurlike reg. Mense volg wette, soos om die staat te erken, omdat die wette daargestel is. Sonder die staat kan die wette nie bestaan nie. Sonder die wette is daar ook nie 'n staat nie. Slegs wanneer die aanvaarding van wette die norm in die samelewing is, word die staat se mag erken (d'Entreves 1967:143). Die staat regverdig daarom sy eie bestaan in wette waarvan die bestaansreg afhanklik is van die staat.

Die kern van enige staatkundige teorie moet daarom volgens d'Entreves (1967:138-189) wees om te bepaal of die staat sy mag van enige gesag anders as homself kry. Volgens Lalovic beskryf Hobbes se werk nie 'n rigiede politieke stelsel nie. Dit is eerder op soek na 'n politieke stelsel (Lalovic 2006:15). Hoewel Rousseau nie soos Hobbes absolute mag aan die soewereine verleen nie, val almal onder die sogenaamde "algemene wil." Elke individu gee dan sy individuele seggenskap prys, ter wille van die sosiale verdrag waarin hy/sy bloot 'n deel van die kollektief is. Die algemene wil is daarom ook die wil van die indiwidu, of hy/sy daarmee saamstem of nie (Strauss, Rossouw & Fourie 2009:186). Hoewel die staat 'n eenheidskarakter van sy onderdane verwag, ten minste in hul publieke lewens, staan dit hulle vry om te assosieer met wie hulle wil in hul private lewens (Strauss, Rossouw & Fourie 2009:187-188). "Wet en orde" gaan gepaard, op dieselfde wyse as "law and order" in Engels. Die wet maak mense nie juis opgewonde of emosioneel nie. Orde, daarenteen, roep by mense 'n gevoel van beskaafdheid op. Dit is die teenoorgestelde van wanorde, of selfs anargie. Om hierdie rede word die bestaan van die staat dikwels gekoppel aan die handhaaf van orde, of die normale, goeie stand van sake (d'Entreves 1967:153).

Om mag te behou in die sekulêre wêreld, word dit vir die staat nodig om die plek van die kerk ook in te neem. Die staat moet vir mense 'n gevoel gee van om aan iets te behoort. Dit moet hul verbeelding op loop sit en aan hulle 'n huislike gevoel gee. Om hierdie rede kan alle state van nasionalisme beskuldig word (d'Entreves 1967:180). Ten einde mag te behou en uit te brei, word die "nasiegevoel" en samehorigheid 'n wapen in die hande van die magshebbers. Hoewel Machiavelli waarskynlik nie die vereniging van die hele Italië voorsien het nie, moedig hy die prins aan om te speel op die gevoel van "Italiaanse waardes" (d'Entreves 1967:173174). Burgers moet 'n legitieme rede hê waarom hulle die outoriteit van die staat, of die soewereine, aanvaar.

Die Christendom los die raaisel van outoriteit op. In die Middeleeue is daar dikwels geglo dat heersers hul mag direk van die Opperwese ontvang. Die heersers moet daarom aanvaar en ondersteun word. Dit los egter nie die raaisel op van waar mag vandaan kom nie. Dit veroorsaak dikwels dat mense ook nie die oorsprong van mag bevraagteken nie (d'Entreves 1967:189). In die sekulêre hede behou die mensdom dié waarde van magsaanvaarding, sonder dat daar 'n geestelike dimensie daaraan gekoppel word. Dit kan daarom dui op 'n afplatting van die moderne kosmologie, waar mense bloot aanvaar dat dinge is soos wat dit is, omdat dit so is. Sonder om dit 'n kosmiese orde te noem, word politieke mag goedsmoeds aanvaar, terwyl individuele vryheid deur die staat ingeperk word. Ironies genoeg is dit juis individuele vryheid wat in die moderne kosmologie beklemtoon word. Omdat hierdie orde fiktief is, kan ons dalk daarna verwys as 'n kosmetiese orde, in plaas van 'n kosmologiese orde. Die staat voorsien bloot oppervlakkige sekuriteit en eiendomsreg, tensy dit elemente wat afbreuk doen aan sosiale kohesie, uit die weg ruim. Lalovic (2006:9-10) skryf dat slegs wanneer mense met gedeelde belange interpersoonlike sake met mekaar doen, kan daar aanspraak gemaak word op die bestaan van 'n staat wat nie suiwer onpersoonlik is nie. Volgens Brian Smith (2003: 203) se interpretasie van Adam Smith moet die samelewing homselfvoortdurend herskep om die kultuur van besigheid te kan handhaaf. Omdat die verdeling van arbeid van 'n mens vereis om dieselfde take te herhaal, word dit dan nodig vir 'n werker om sy denke af te stomp, ten einde aan die burgery deel te neem. Spesialisering is goed vir die ekonomie, maar sleg vir die individu. Deur opvoeding kan dit egter teengewerk word. Smith stel voor dat die staat opvoeding aan almal verskaf. Opvoeding is in daardie stadium hoofsaaklik binne gesinsverband of kerkverband voorsien. Hy het waarskynlik nie multikulturele state in gedagte gehad toe hy hieroor besin het nie, maar sy gedagtes is steeds van waarde. Hy gee 'n eietydse voorbeeld van die belang van gemeenskaplikheid en die opvoedingsrol daarvan. Vir Smith bied kleiner kerklike sektes die voordeel dat dit aan mense die geleentheid bied om 'n gemeenskap binne die groter gemeenskap te kan hê. Die gevolg daarvan is dat hul waardes en maniere beskaafd gehou word (Smith 2008:204). Smith (1976:792-793) betoog dat elke sekte 'n minderheid op sigself is, omdat dit nie aan die groot kerkordes gekoppel is nie. Dit kweek daarom wedersydse respek teenoor ander minderhede. Die moderne staatsbestel probeer om eerder 'n monopolie op hierdie opvoedingstaak te bekom, ten einde kulturele verskille uit die weg te ruim. In plaas daarvan om, soos in Smith se ideaal, tallose minderheidsgroepe wat wedersydse respek betoon, aan te moedig om vrydenkend te wees, probeer die staat om eerder een homogene samelewing daar te stel.

Ekonomiese groei loop hand aan hand met die gedifferensieerdheid van 'n samelewing. As almal jagters en versamelaars is, is die samelewing ongedifferensieerd. Ekonomiese opbloei het veral na vore gekom toe die verweefdheid van gesinne en hul onderskeie bedrywe in die Industriële Rewolusie ongedaan gemaak is (Strauss, Rossouw & Fourie 2009:185). Die staat ontwikkel verhoudings en afhanklikheid tussen homself en die onderskeie gedifferensieerde bedrywe. Hier is dit belangrik om daarop te let dat die staat nie hierdie bedrywe besit nie, maar 'n regsplig teenoor hulle het, veral in die sin van die verdedigingsrol wat die staat vervul. Die regering besit ook nie die staat nie - ten minste in die geval van 'n republiek of res publica. Die staat is daarom 'n openbare orde, wat in diens van die publiek staan (Strauss, Rossouw & Fourie 2009:185-186). Gedifferensieerde samelewings werk in op ander minder gevorderde samelewings om hulself tot groter ekonomiese magte te bevorder. Sjina moes byvoorbeeld in die onlangse verlede gedeeltelik van sy totalitêre mag afsien ten einde 'n groter rolspeler in die wêreldekonomie te word. Die grootste noemenswaardige verandering wat Sjina moes ondergaan, is om vryemarkbeginsels binne sy grense toe te laat om te floreer.

Die argument is al dikwels gevoer dat heterogene samelewings nie 'n sterk demokrasie kan bewerkstellig nie. Een van die eerste denkers wat so gevoel het, was John Stuart Mill (Zuber & Szöcsik 2015). Wanneer samelewings polities gefragmenteer is volgens etnisiteit, sal dit dikwels daartoe lei dat politieke partye meer ekstremistiese sienings handhaaf. Boonop sal ekstremisme meer algemeen wees onder groepe wat ekonomies slegter daaraan toe is. As 'n minderheidsgroep egter ekonomies gelyk is aan ander groepe, sal ekonomiese en etniese aangeleenthede nie dieselfde radikaliserende uitwerking op ondersteuners hê nie. In verkiesingsmodelle waar daar 'n proporsionele element is, is mense ook minder geneig tot ekstremisme, omdat hulle in die regering verteenwoordig word (Zuber & Szöcsik 2015:797798). Dit is baie belangrik vir samelewings om nie ekonomies teen groepe te diskrimineer nie, bloot om die rede dat geradikaliseerde burgers 'n gevaar vir die samelewing inhou. Selfs wanneer die gevaar nie direk of gewelddadig is nie, is gefragmenteerde samelewings wat vyandig teenoor mekaar is, baie selde ekonomies voordelig.

Kleiner gemeenskappe binne stede is nie meer die kerklike gemeenskappe waarna Smith verwys het nie. Dit is dikwels ander werksgemeenskappe en besoekers van saamkomplekke vir mense met gedeelde belange. 'n Australiese studie is gedoen, waarin mense gevra is om op 'n kaart te merk watter plekke "cool" is en watter dele van die stad Wollongong kreatiwiteit sou aanmoedig. Dikwels is plekke in gewone woonbuurte, eerder as in die middestad, aangedui. Dit dui daarop dat die fokus eerder op mense se persoonlike netwerke, as op infrastruktuur is. Mense is kreatief binne omgewings waarin hulle veilig voel (Gibson et al. 2012:299). Nog 'n opvallende opmerking is dat die staat nie juis 'n direkte rol in die woonbuurte, soos in die Sentrale Sakekern, speel nie. Waar mense hul outonomie kan uitoefen, kan hulle ook kreatief floreer (Strauss, Rossouw & Fourie 2009:197). Volgens Van der Merwe (2001:269) is kultuur "... die ruimte waarbinne die spel om erkenning institusioneel gereguleer en indiwidueel en sosiaal uitgespeel word". In hierdie geval, en in ander kreatiewe gemeenskappe, is dit uiteraard ook op subkulture van toepassing.

Wanneer mense ekonomies swaarkry, lei dit dikwels daartoe dat hulle klem plaas op hul minderheids-identiteit. Sodra hulle egter uit hul swak ekonomiese omstandighede ontsnap, word hulle minder geneig om na hulself in etniese terme te verwys. Hoewel die studie onder Roma-mense in Hongarye gedoen is, kan voorbeelde daarvan in ander kontekste ook nagespeur word (Simonovits & Kézdi:891). 'n Toenemende voorbeeld daarvan is bruin mense wat die ekonomiese stryd, en veral die taalstryd, namens hul gemeenskappe stry. Baie suksesvolle bruin mense sal hulself egter eerder as swart identifiseer. In so 'n heterogene samelewing word groepe se grootte, sukses of invloed dikwels as groepsidentiteit voorgehou. Om dele van die ander groep se gebruike aan te neem, ten einde sukses te behaal, word dan verwar met 'n algehele skuif van identiteit. Die Roma-bevolking in Pole het deur die eeue geweier om te assimileer. Nie net in Pole nie, maar dwarsoor Europa weier hulle om met die plaaslike meerderheidsbe-volkings te versmelt. Dit versterk deurentyd die waarde wat hulle aan hul kulturele waardes en gebruike heg. Dit versterk ook die meerderheidsgroepe se weersin teenoor hulle. Omdat hierdie waardes en gebruike dikwels in stryd met die markekonomie is, is die Roma-bevolkings gewoonlik baie arm. Deur 'n meer ekonomies-inklusiewe beleid in Europa te vestig, word die Roma-gemeenskappe met beter onderwys toegerus. Op hierdie manier sal hulle ekonomiese vooruitgang kan maak, terwyl hulle steeds hul kulturele leefwyse kan volhou (Marczak 2016:395-396). Hier is dit belangrik om die groep steeds toe te laat om sy kultuur uit te leef, ten einde die homogeniserende uitwerking van inklusiwiteit teen te werk. Deur gelyke behandeling aan so 'n groep te gee, kan die armoedige beeld wat hulle onder ander mense het, moontlik afgeskud word. Die gevolg daarvan is moontlike gemeenskaplike aanvaarding, waar die Roma-gemeenskappe se markekonomie moontlik 'n nuwe sektor tot die amptelike ekonomie kan bydra. Omdat hulle so gemarginaliseer is, val die meeste van hul bedrywighede in die ongerapporteerde of skadu-ekonomie. Deur hulle te bemagtig, kan die staat uitsien na groter belastinginkomste. Inkomste vir die staat hoef ook nie net van burgers te kom nie. Die staat is prominent in meeste integrasiemodelle vir immigrante. Kymlicka (2011) identifiseer byvoorbeeld modelle waar mense hulself as deel van die staat beskou, maar nie as deel van die nasie nie, byvoorbeeld as Brits, eerder as Skots. Die ander alternatief is of mense hulle as sub-staatslede beskou. Daar sou 'n mens eerder as Skots, en nie Brits nie, identifiseer (Bond 2017:1122-1123). In Skotland is 'n wit immigrant baie meer geneig om as Skots te identifiseer, teenoor immigrante van ander rasse (Bond 2017:1136). In Houston, Texas, is mense gevra om die grootte van sekere bevolkingsgroepe te skat. Oor die algemeen is die grootte van die wit bevolking redelik akkuraat geskat. Spaanssprekendes word met omtrent tien persent onderskat, terwyl swart en Asiatiese getalle effens oorskat word. Hierdie oorskatting kan moontlik te wyte wees aan die persepsie van bedreiging wat hierdie groepe inhou. Die Spaanssprekende bevolking word egter waarskynlik onderskat omdat mense hulle as onbelangrik ag (Kunovich 2017:493). Ferrial Haffajee (2015) wys 'n soortgelyke tendens in Suid-Afrika uit. Volgens haar skat swart mense dikwels die wit bevolking op ongeveer 50%, terwyl dit ongeveer 10% is. Dit is volgens haar te wyte daaraan dat die persepsie steeds bestaan dat wit mense in beheer van die ekonomie staan. In Suid-Afrika moet 'n mens egter versigtig wees om alle mense van 'n enkele ras oor een kam te skeer. Binne elke rassegroep is daar verskillende kulture met verskillende tale en erfenisse. Mense wat dit uitwys, word egter dikwels van stamgebondenheid beskuldig. Dit sal egter interessant wees om 'n studie te doen waarin mense die bevolkingsamestelling op stamvlak, eerder as op rassevlak, sou skat. Dit sal veral interessant wees om te sien of die ekonomiese verteenwoordiging in so 'n skatting weerspieël sal word.

Met ondersteuning van die staat kan die winste wat van buitelandse beleggings na ander sektore deursyfer, plaaslike inwoners help om hul eie industrieë te ontwikkel. Voorbeelde daarvan is in lande soos Chili te sien, waar buitelandse beleggers die staat in staat stel om entrepreneurs in plaaslike nismarkte te bemagtig (Caldentey 2012:205). Sonder buitelandse belegging sou daar eenvoudig nie 'n mark wees vir plaaslike produkte nie. In Suid-Afrika het ons reeds genoeg kapitaal van binne- en buitelandse beleggers om soortgelyke entrepreneuriese projekte van stapel te stuur. Die probleem is egter dat meeste van hierdie projekte slegs onder sekere groepe geloods word. Voorbeelde hiervan is die huidige doelwit om 100 groot swart industrialiste te skep (De Lange 2018). Sou dit nie beter wees om 100 maatskappye te skep, waarin kennis, ongeag ras of kultuur, oor verskillende groepe heen aan mekaar oorgedra word nie? Boonop sal staatsbeheerde maatskappye dan gedwing word om hierdie "swart besighede" te ondersteun. Omdat winste vir hierdie maatskappye dan deur die staat afgedwing word, eerder as om deur die mark gelewer te word, plaas dit 'n dubbele belastinglas op Suid-Afrikaners. Nie net moet die befondsing van hierdie besighede deur die belastingbetaler gedra word nie, maar die besighede se bestaansreg moet op 'n onrealistiese en kunsmatige wyse deur die belastingbetaler verseker word. Dit is direk in stryd met wat Adam Smith vir 'n vrye mark, met minimale staatsinmenging, voorgestel het (Smith A. 1976:341-349). Smith is geensins teen verstaatliking gekant nie, maar sy weergawe daarvan behels 'n baie meer beperkte staat. Die staat se rol behoort volgens hom streng afgebaken te word. Hoewel die rol baie belangrik is, is dit vir Smith net so belangrik om dit duidelik in te perk (Lipford & Slice 2007:486). Elders in The Wealth of Nations spesifiseer Smith (1976:687-688) drie rolle. Dit is die beskerming van die samelewing teen invalle of aanvalle deur ander samelewings, die beskerming van burgers teen ongeregtighede deur ander burgers, en die voorsiening van openbare dienste. Wat openbare dienste betref, moedig Smith (1976:723-728) aan dat dienste soos paaie deur tolgeld gedek moet word. Die pad moet dus vir homself betaal. Omdat die verdeling van arbeid in almal, insluitend die staat, se belang is, identifiseer Smith (1976: 782, 788) onderwys as 'n openbare diens wat deur die staat gelewer moet word. Dit is veral in die lig daarvan dat spesialisering in arbeid die individu benadeel, maar dat hierdie benadeling deur goeie opvoeding teengewerk kan word. In 'n artikel oor verstaatliking, liberalisme en Amerika skryf Daniel B. Klein (2009:145) dat liberalisme nie sonder Adam Smith se "universele welwillendheid" sou kon bestaan nie. Hy sluit 'n paragraaf oor Smith en die liberale denkwyse se onlosmaaklike verweefdheid af met: "Liberalism is non-nationalist as well as anti-statist" (Klein 2009).

'n Alternatief vir massa-industrialisering is trosontwikkelings van vaardighede. Dit word in Indië gedoen, waar tradisionele arbeidsektore, of trosse, apart van mekaar ondersteun en ontwikkel word. In so 'n tros sal kennis dan binne klein groepe mense aan mekaar oorgedra word. Die ingewydes kan dan vrylik daaraan deelneem, of oorskuif na ander ekonomiese domeine. So 'n vrye vloei van werkers en vaardighede kan dan voortdurend werk aan 'n groter groep mense verskaf. Die informele wyse waarop mense aan so 'n werksgemeenskap deelneem, dra by tot so 'n vrye vloei van kennis en arbeid (Basole 2015:158). Indiese sywewers se kennis word gewoonlik binne families aan mekaar oorgedra. Die unieke dekoratiewe lappe wat deur hulle geproduseer word, is uniek aan elke groep. Dit verseker dan dat elke familie tot 'n mate 'n nismark vir hulself het. Hul handelsgeheime bly veilig, hoewel ander mense wat die eindproduk bestudeer, dit sal kan namaak. Die fyner tegnieke bly egter behoue. Internskappe is daarom iets waarin sulke familielede gebore word (Basole 2015:173-174). In Indië moet die besluitneming in beleid van so 'n aard wees dat dit nie wegdoen met die unieke bydrae wat sekere families en klein gemeenskappe tot industrialisering kan lewer nie (Basole 2015:183). Nie net families nie, maar hele groepe, deel dikwels kennis oor sekere vervaardigingsektore.

 

EKONOMIESE EN KULTURELE OORWEGINGS VAN STAM, STAAT EN TRANSFORMASIE IN SUID-AFRIKA

Vir alle praktiese doeleindes beteken die ANC se nasiebou-projekte dat Suid-Afrikaners gedwing word om te akkultureer. Eenheid en lojaliteit is vir alle regerings belangrik, en baie makliker om deur middel van patriotisme aan te wakker in lande met homogene bevolkings (Van der Merwe 2010:316). As daar nie 'n homogene bevolking is nie, moet gedeelde waardes en erfenisse op 'n kunsmatige wyse geskep word. Suid-Afrikaanse nasiebou-projekte het 'n sterk Jakobynse karakter onder die ANC. Reeds in ballingskap het die ANC die reg om die aard van die nasie te bepaal, as 'n kernbeginsel aanvaar (Van der Merwe 2010:316). Met dié beginsel as riglyn, kon Albie Sachs verklaar dat "vir die nasie om te leef, moet die stam sterf' (Geldenhuys 2000:13). Uit Van der Merwe (2010:322) se navorsing is dit duidelik dat meeste Afrikaner-respondente geensins positief is oor nasiebou nie. Een het genoem dat dit poog om "van ons almal tweedeklas-swartes te maak". 'n Ander het weer genoem dat dit bloot van almal "wedergebore rassiste" maak.

Transformasie is 'n woord wat histories nie juis 'n negatiewe konnotasie ontlok het nie, omdat dit bloot verandering beteken. Omdat 'n mens kan aanvaar dat gedwonge veranderinge positiewe veranderinge sal wees, is daar nie juis 'n probleem met transformasie op sigself nie. Die hedendaagse Suid-Afrikaanse betekenis van transformasie het egter 'n veel minder positiewe konnotasie. "Kortom, transformasie beteken die oorname deur swart mense van alle voorregte en voordele wat die land in al sy fasette bied. Daar kan dus geen sprake van vernuwing en kreatiwiteit daarin wees nie - dit teer op wat in die verlede tot stand gebring is" (Van der Merwe 2010:318). Die reg tot kulturele verskille word deur die meeste mense aanvaar. Regstellende aksie oorbeklemtoon egter sekere aspekte, soos etnisiteit. In terme van politieke korrektheid word daar weer ander klemverskuiwings genoodsaak. Hierdie informele, maar tog kragtige, sensuur dwing mense om dieselfde aspekte te onderbeklemtoon. "Dit demonstreer die oordrewe en onbeholpe sensitiwiteit in multikulturele samelewings vir die reg op verskil, dit wil sê dit demonstreer die wyse waarop die eis om erkenning van spesifieke verskille 'n soort surrogaaterkenning oproep in 'n gedwonge gevoeligheid vir die reg van die ander om sy eie verskil te artikuleer" (Van der Merwe 2001:270).

Afrikaners herontdek juis - uit protes teen die aanslag op hul kultuur - hul erfenis. Om teen die aanslag op te staan, is dit duidelik dat samehorigheid noodsaaklik is (Van der Merwe 2010:326). Volksgerigte patriotisme kan mense dikwels aanmoedig om saam te staan ten einde groot hoogtes te bereik. So het die samevoeging van Afrikaner-kapitaal byvoorbeeld in die 1970's daartoe gelei dat Afrikaners 'n noemenswaardige belang in die mynbedryf kon bekom (Verhoef 2006:385-386). Sonder die volksideaal is die kanse skraal dat dit sou gebeur. Die aanvanklike toetrede van Afrikaanse sakelui is nie deur middel van staatshulp bewerkstellig nie, maar is te danke aan die samewerking en samevoeging van privaat kapitaal en kundigheid. Hierdie samewerking is aangemoedig deur 'n gedeelde pligsbesef teenoor volksgenote (Verhoef 2006:389). 'n Voorbeeld van so 'n gevoel van pligsbesef is die kulturele oorwegings wat tot die ontstaan van maatskappye soos Sanlam gelei het. Sanlam is nie net met die winsmotief in gedagte gestig nie, maar is gestig om die Afrikaner ekonomies te bemagtig. Dit het gebeur toe die hedendaagse konsep van korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid nog lank nie 'n prominente rol in sake gespeel het nie (Verhoef 2014:733). Die Afrikaner het sonder direkte staatshulp homself ekonomies bemagtig, met die gevolg dat hy later die staat kon oorneem.

Die wetenskap berus nie meer slegs op sintuiglike waarnemings wat as universeel beskou word nie. Die wetenskap aanvaar sedert die vorige eeu dat kulturele oorwegings ook 'n bydrae tot die diversiteit van diskoers maak (Strauss 2003:200). Vooruitgang in denke kan slegs gemaak word wanneer verdraagsaamheid teenoor ander denkrigtings en denkwyses, oftewel teorieë en interpretasies, toegelaat word (Strauss 2003:211). Sodoende kan wisselwerking tussen teoretiese verskille bydra tot 'n nuwe versmelting van idees, om 'n nuwe sintese daar te stel.

Kultuur en die waarde wat dit aan dinge soos tyd en werk heg, lewer 'n bydrae tot produktiwiteit en ekonomiese groei (Strauss, Rossouw & Fourie 2009: 191). Kultuur vorm daarom die fondasie vir hoe mense met mekaar omgaan. Harford (2007:12) wys ook uit dat samelewings wat floreer, nie geneig is om hul burgers, of in sekere gevalle onderdane, uit te buit nie. 'n Samelewing waar mense uitgebuit word, is daarom ook nie 'n sterk funksionele samelewing nie. Om die waarheid te sê, volgens Harford waarborg uitermatige uitbuiting ernstige armoede. Gelykheid van kulture is nie noodwendig inherent tot die aanspraak op die reg tot kulturele verskille nie. Etnosentrisme bemoeilik die proses om ander kulture te beoordeel, deurdat dit vanuit die beoordelaar se eie kultuurperspektief gedoen word. Daarom kan geen waarde-oordeel oor 'n kultuur finaal wees nie (Van der Merwe 2001:272). Hoewel populêre weergawes van multikulturalisme en kulturele relativisme dit van ons vereis, is die gelykstelling van kulture nie noodwendig 'n voorvereiste vir verdraagsaamheid teenoor kultuurverskille nie. Oppervlakkige toleransie belemmer die eis vir erkenning, deurdat dit die uiteindelike soeke daarna ondermyn. Eerder as om erkenning aan kulture te gee, word verskille verdra (Van der Merwe 2001:278).

Howard-Hassmann (2005:5) word deur Wagener (2008) aangehaal waar hy skryf dat kleinboere deur die industriële rewolusie arbeiders, vakmanne en industrialiste in eie reg gemaak is. Skielik was hulle nie meer die bywoners van ouds nie, maar hulle kon op gelyke voet meeding met grondeienaars. Goedgunstige verdeling van bates moes plek maak vir markkragte, met die gevolg dat sosiale verhoudings ook daardeur beïnvloed is. Kleinboere se teenwoordigheid op ander se grond is dus ook daardeur gereguleer. Waar hulle voor die rewolusie daarvan afhanklik was vir oorlewing, behuising en gemeensaamheid, het die mark die verhoudings tussen mekaar en grondeienaars versuur. Eerder as om mede-afhanklik van mekaar, en daarom welwillend teenoor mekaar, te wees, was dit skielik elke man vir homself. Karl Polanyi (2001:36-37) herinner ons daaraan dat ekonomiese vooruitgang altyd teen 'n prys kom. Hy lewer breedvoerige kritiek op die sogenaamde "enclosure movement". Hiervolgens is groot stukke veld, wat deur mense bewoon is, omhein om plek te maak vir diere, hoofsaaklik skape, se weiding. Die waarde van omheinde grond het gestyg en omheinde grond het ook 'n baie groter opbrengs gelewer. Die prys was egter die verskuiwing van mense uit hul klein gemeenskappe na groter stede, waar hulle gedwing is om in die uitskot, of besoedeling, van fabrieke te krepeer. Polanyi verwys na fabrieke as "satanic mills" omdat dit die tradisionele waardes vervang het met armoede en vervreemding. Hy wys ook uit dat gemeenskappe verbrokkel is deur die "satanic mills" deurdat dit 'n einde gebring het aan die gebruiklike wedersydse respek en welwillendheid wat die verhoudings tussen kleinboere en grondeienaars gekenmerk het. Nie net die gemeenskap nie, maar ook die habitat waaruit gemeenskaplikheid voortspruit, is deur die Industriële Rewolusie en die modernisering van landbou tot niet gemaak. Die opbou van surplusse ten einde kapitaal te verkry, het die opbou van verhoudings, ten einde gemeenskaplikheid te verkry, vervang (Polanyi 2001:36-44). Dieselfde veranderinge het in Suid-Afrika plaasgevind, maar mense het besef dat hulle steeds mede-afhanklik van mekaar is vir volgehoue oorlewing. Anders as beleggers van elders in die wêreld, is dit direk in die Afrikaner se belang om die land, en nie net hul beleggings nie, te laat werk (Wagener 2008:410). In 'n vinnig-globaliserende wêreld staan die Afrikaner in 'n unieke posisie omdat sy geskiedenis uit beide Afrika en Europa spruit. Een van die eerste globaliseringsprogramme, die stig van 'n handelspos deur die VOC, het direk tot die ontstaan van die Afrikaner, en sy teenwoordigheid in Suid-Afrika, gelei (Wagener 2008:409).

Baie mense se identiteit word eerder heterogeen, en nie monolities nie, opgemaak uit die rolle wat hulle vervul of die aktiwiteite waaraan hulle deelneem. Om hulle dan te reduseer tot 'n volksidentiteit soos "Afrikaner" sal dan belaglik wees (Olivier 2006:483). Hoewel dit so mag wees, behoort die staat nie seggenskap te hê in hoe mense hul eie identiteite konstrueer nie. Apartheid was immers die uiteinde daarvan toe die staat wel daardie mag vir homself toegeëien het. Ook die kulturele oogmerke van Nazi-Duitsland vind sterk inslag by 'n obsessie met die identifikasie en klassifikasie van individue. Olivier (2006:496) skryf dat "... hoe meer Engels die Simboliese ruimte koloniseer, hoe meer krimp die taalheterogeniteit waarby kulturele uiteenlopendheid, verskeidenheid en rykheid ingebed is, met die werklike gevaar dat kleiner tale inderdaad kan uitsterf. En die verlies van 'n taal is die verlies aan bioverskeidenheid, gelykstaande aan die betreurenswaardige verlies aan lewende spesies dwarsoor die wêreld vandag Op die onlangse eeufeesviering van die Afrikanerbond het Hermann Giliomee (2018) benadruk dat die guns van 'n groep slegs deur die regering gewen kan word as daardie regering bewys dat hy tot die beskerming van daardie groep verbind is. Hoewel die beskerming van Afrikaans vir Afrikaners die hooffokus is, gebruik hy ook die voorbeeld van Afrikaans se belangrikheid vir die bruin Afrikaanssprekende bevolking. Toe UWK in die 1980's eerder Engels as primêre onderrigtaal gekies het, het hul uitslae merkbaar verswak. Nie net dit nie, maar dit het toenemend die bruin bevolking, vir wie dit oorspronklik gestig is, in die steek gelaat. Om een groep te ondermyn, sal altyd 'n negatiewe impak op ander ook hê.

Indien mense belasting aan die moederland betaal, wil hulle outomaties seggenskap daar hê. Mense neem leiersposisies aan ter wille van die belangrikheid wat dit aan hulle gee. Omdat seggenskap in die moederland nie aan hulle gegee word nie, bedreig dit hul belangrikheid. Om hierdie rede sal hulle eerder vir hul vryheid veg, as om deur die moederland onderdruk te word (Smith 1976:621-622). Regstellende aksie gee in der waarheid 'n monopolie aan sekere groepe. Ander groepe se seggenskap word weer onderdruk. Sulke monopolieë is volgens Smith altyd nadelig vir die hele bevolking, omdat dit die werklike markwaarde verdraai (Smith 1976:78). Omdat arbeid die werklike bepaler van waarde is, beteken dit dan dat sekere groepe se bydrae geminag word (Smith 1976:43-44). Dit sluit die verlies aan die geleentheid vir politieke deelname, sowel as die marginalisering van hul eiewaarde, in. Hoewel hierdie stellings amper 300 jaar gelede in Skotland gemaak is, bly dit vandag nog van toepassing op die bevoordeling van sekere groepe bo ander. As die monopolie boonop op grond van ras- en etniese oorwegings daargestel word, kan dit maklik haat en afguns aanhits.

 

SLOT

'n Skuif in ekonomiese mag gebeur nie oornag nie. Om een groep te ondermyn, sal tot ander groepe se nadeel ook wees. So 'n ondermyning sal direk in teenstelling wees met Hobbes se sosiale kontrak, sowel as Adam Smith se aanspraak op die staat as bemiddelaar van ekonomiese groei.

Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees het in 2015 ongeveer R65 miljoen tot die ekonomie van Oudtshoorn bygedra (Wicomb 2015). Hierdie bydrae is geensins net tot sekere kultuurgroepe beperk nie. Die mense wat direk daarby betrokke is, sal die meeste daarby baat, maar ander baat ook daarby. Soos wat internasionale beleggings in Chili na kleiner besighede deursyfer, sal die winste wat uit kultuurspesifieke ondernemings, soos kunstefeeste, gemaak word, ook na ander gemeenskappe deursyfer. Deur die staat se projekte om kultuur te standaardiseer, sal sulke ondernemings heeltemal tot niet gaan. Dit is dan nie net die betrokkenes wat op kulturele vlak daardeur geraak word nie, maar die hele samelewing wat op ekonomiese vlak geraak word. Wanneer een groep vertrap word, hou dit indirekte negatiewe gevolge vir die ganse samelewing in. 'n Regering wat dit toelaat, en veral 'n regering wat dit aanmoedig, boet daarom sy legitimiteit in.

 

BIBLIOGRAFIE

Basole, A. 2015. Informality and Flexible Specialization: Apprenticeships and Knowledge Spillovers in an Indian Silk Weaving Cluster. Development and Change, 157-187.         [ Links ]

Bond, R. 2017. Multicultural Nationalism? National identity among minority groups in Scotland's census. Journal of Ethnic and Migration Studies, 1121-1140.         [ Links ]

Caldentey, E.P. 2012. Income Convergence, Capability Divergence, and the Middle Income Trap: An Analysis of the Case of Chile. Studies in Comparative International Development, 185-207.         [ Links ]

De Lange, R. 2018, June 3. Government to fund another 100 black industrialists after meeting 1st goal. Retrieved from Fin24: https://www.fin24.com/Economy/government-to-fund-another-100-black-industrialists-after-meeting-1st-goal-20180603        [ Links ]

d'Entreves A.P. 1967. The Notion of the State: An Introduction to Political Theory. Oxford: Clarendon Press.         [ Links ]

Geldenhuys, D. 2000. Die ANC se Jakobynse benadering tot nasiebou. Rapport, 2000/09/03:13.         [ Links ]

Gibson, C., Brennan-Horley, C., Laurenson, B., Riggs, N., Warren, A., Gallan, B. & Brown, H. 2012. Cool Places, Creative Places? Community perceptions of cultural vitality in the suburbs. International Journal of Cultural Studies, 299.         [ Links ]

Giliomee, H. 2018, June 10. CyrilRamaphosa and the language challenge. Retrieved from Politicsweb: http://www.politicsweb.co.za/opinion/cyril-ramaphosa-and-the-language-challenge        [ Links ]

Haffajee, F. 2015. What if there were no whites in South Africa? Kaapstad: Picador Africa.         [ Links ]

Harford, T. 2007. Same difference - why income equality hasn't changed much in 2000 years. FT Magazine. 24/25 November.         [ Links ]

Hobbes, T. 1651. Leviathan. Hammondsworth: Pelican uitgawe.         [ Links ]

Howard-Hassmann, R.E. 2005. The Second Great Transformation: Human Rights Leapfrogging in the Era of Globalization. Human Rights Quarterly, 27(1):1-40.         [ Links ]

Klein, D.B. 2009. Resorting to Statism to find meaning. Society, 137-146.         [ Links ]

Kunovich, R. M. 2017. Perceptions of Racial Group Size in a Minority-majority area. Sociological Perspectives, 479-496.         [ Links ]

Kymlicka, W. 2011. "Multicultural Citizenship within Multination States." Ethnicities, 11 (3):281-302.         [ Links ]

Lalovic, D. 2006. A Fatal Hobbesian Charm? Politicka misao, 3-18.         [ Links ]

Lipford, J.W., & Slice, J. 2007. Adam Smith's roles for government and the contemporary U.S. government roles: Is the welfare state crowding out government's basic functions? The Independent Review, 458-501.         [ Links ]

Marczak, M. 2016. How are education and minority status connected: The case of Romanian Roma in Wroclaw. Local Cultures and Societies, 388-397.         [ Links ]

Olivier, B. 2006. Die Kompleksiteit van Identiteit in Demokrasie: Lacan. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 482-497.         [ Links ]

Polanyi, K. 2001. The Great Transformation. Boston: Beacon Press.         [ Links ]

Rousseau, J.J. 1975. Du contrat social et autres oeuvrespolitiques. Paris: Editions Garnier Frères.         [ Links ]

Simonovits, G. & Kézdi, G. (n.d.). Economic Hardship Triggers Identification with Disadvantaged Minorities.         [ Links ]

Smith, A. 1976. An Inquiry into the Nature and Causes of the Wealth of Nations (Vol. 2). (R.H. Campbell & A. T. Skinner, Eds.) Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Smith, B. 2008. Adam Smith and the Culture of Enterprise. Perspectives on Political Science, 200-205.         [ Links ]

Strauss, D. Diversiteit in Wetenskapsbeoefening. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 200-214.         [ Links ]

Strauss, D., Rossouw, J. & Fourie, J. 2009. Die implikasies van 'n regstaat vir ontwikkelende lande. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 181-200.         [ Links ]

Van der Merwe, J. 2010. Die Afrikaner se belewing van transformasie en nasiebou in 'n postapartheid Suid-Afrika. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 313-327.         [ Links ]

Van der Merwe, W. 2001. Erkenning van kulturele verskille. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 268-282.         [ Links ]

Verhoef, G. 2006. Deel 2: Die Afrikaner se toetrede tot die Suid-Afrikaanse ekonomie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 46(3):381-391.         [ Links ]

Verhoef, G. 2014. Die onderneming in die gemeenskap: Korporatiewe maatskaplike betrokkenheid deur Sanlam 1918-1980. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 731-752.         [ Links ]

Wagener, P. 2008. Globalisering en 'n verdeelde gemeenskap in Suid-Afrika. Tydskrif vir Geestes-wetenskappe, 401-411.         [ Links ]

Wicomb, G. 2015. November 16. KKNK dra baie by tot ekonomie. Retrieved from www.son.co.za: https://www.son.co.za/Nuus/Suid-Kaap/kkk-dra-baie-by-tot-ekonomie-20151116.         [ Links ]

Zuber, G.K. & Szöcsik, E. 2015. Ethnic outbidding and nested competition: Explaining the extremism of ethnonational minority parties in Europe. European Journal of Political Research, 784-801.         [ Links ]

 

 

 

Theuns du Buisson is 'n akademiese fasiliteer-der by die Filosofiedepartement aan die Universiteit van die Vrystaat. In 2013 behaal hy 'n BA-graad aan die Universiteit van die Vrystaat, gevolg deur 'n Honneursgraad in Filosofie met lof aan dieselfde instansie. Hy is tans besig met 'n MA-graad in Filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat. Die titel van sy verhandeling is Adam Smith se Morele Teorie as Voorloper vir sy Regverdiging van Kapitalisme. Sy primêre belangstellings is tans die filosofie van ekonomie, sowel as die verweefdheid van ekonomie met etiek en moraliteit. Vanuit die aard van sy werk doen hy ook navorsing oor onderwys en pedagogiek op tersiêre vlak.
Theuns du Buisson is an academic facilitator in the Department of Philosophy, University of the Free State. He obtained his Honours degree in Philosophy with distinction, also at UFS. He is currently writing a Masters dissertation in Philosophy at the same institution. The title of his dissertation is Adam Smith's Moral Theory as forerunner to his justification of Capitalism. His primary interests are the philosophy of economics, ethics and morality. In accordance with his teaching responsibilities he also focuses in his research on education and pedagogics at tertiary level.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License