SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.58 issue3Chairefoon-konferensieOn the question of identity in a post-apartheid world: Co-creation as an alternative to onto-race-logy author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.58 n.3 Pretoria Sep. 2018

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n3a10 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

'n Nuwe wekroep tot 'n filosofiese Afrikaans buite die openbare universiteite

 

The call for a philosophical Afrikaans outside the public university

 

 

Hercules Boshoff

PhD-kandidaat; Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein. E-pos: Boshoffhj@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die artikel betwis die legitimerende verduidelikings wat plaaslik en internasionaal vir verengelsing gegee word, naamlik dat daardeur 'n meer praktiese en inklusiewe wyse van kommunikasie verwesenlik word in 'n gesamentlike opheffing van die beskawing. Ek wys daarop dat sulke edele verduidelikings uit 'n homogeniserende drif voortspruit, met 'n Faustiese ondertoon, dit wil sê dat prysgawe van die siel as voorwaarde vir opname in die nuwe bestel gestel word. Hierdie Faustiese prysgawe word aangedryf deur wat ek noem die priesterskap van selfveragting, so genoem vanweë 'n soort masochistiese selfmarteling wat enersyds die voorwaarde vir relevansie geword het, en waarbinne andersyds pyniging die voorwaarde vir beloning is.
As alternatief hiervoor doen ek 'n oproep tot 'n filosofiese omgang in Afrikaans, dit wil sê n verkenning van die algemene waarin die besondere nie ingeperk of uitgewis word nie, maar wat selfontdekking én uitreiking na die geheel tot gevolg het. Dit behels nie 'n verskraling van die algemene nie, maar 'n verryking daarvan deur nuwe nuanses daaraan te verleen. Onontbeer-lik vir die verryking is ver-taal-ing, waarsonder taal armer en eensydig word. Taal, anders as getal, is veelkantig en veelduidig. Die weg van taal word daarom moeisaam bewandel in erkenning, waarbinne tegelyk selfkennis (nie verwaandheid nie) en oopstelling (wat nie met homogenisering verwar moet word nie) vereis word.

Trefwoorde: moedertaal, selfveragting, vertaling, verbabelsing, homogenisering, Faustiese drif, absolusie, opheffing, oriëntering


ABSTRACT

This article explores possibilities for the future of, and need for philosophy in Afrikaans in the light of the recent exorcism-like removal of Afrikaans from local universities. To do this, firstly the phenomenon of the manner in which English is taking over as the only medium of instruction not only locally, but also internationally, will come under scrutiny. Secondly, the meaning of thinking philosophically in a particular language will be explored, followed by pointers towards a way forward into a situation where philosophy in Afrikaans can be thought from outside of the margins of tertiary institutions, but never closed off to conversation with the public institutions and the broader context of South Africa.
I will challenge the claim that English is merely a more practical lingua franca, by rooting it in its colonial prejudices, claiming to be the medium of the Christian message, similar to the way Latin before it was seen. It will be argued that secularisation did not neccessarily root out these issues, but appropriated this salvific quality of the English language into modern science and its claims to objective and universal truth. As a first step towards reaching objectivity, the mind needs to be detoxified from the malnutrition of the inferior and limited mother tongue, the indigenous language. The move from the smaller to the larger language, supposedly correlates to the movement from the subjective to the objective realm. Instead of accomplishing this goal however, the movement rather results in what Van Wyk Louw calls "modern barbarism". The effects of modern barbarism, is that it creates in its homogeneity a sort of contemporary tower of Babel, with an exorcised Faustian workforce, toiling away at producing consumables that constantly reproduce the initial process to drive out souls and imprint on these blank pages (tabula rasa) global trade-"marks". The passage to knowledge has become an automation of the abstracted head function (Capitas in Latin) into which all impulses should neatly fit.
As an alternative to this state of affairs, a call is made for an orientated thinking, that never loses sight of the Delphic principle "know thyself, without which further "objective" knowledge has the danger of being disjointed from the concrete situation and becoming oppressive. Knowing yourself conversely also means familiarising oneself with the larger framework in which one is situated. The solution is therefore active and dynamic translation and expression in which the languages are given platforms to be cultivated and to cross-pollinate. Philosophy itself has benefitedfrom many languages through which it has been able to form concepts that have influenced the history of thinking. Outside of the public tertiary institution, philosophy steps into the sphere in which Afrikaans has been cultivated over the last few years, the market. In a certain sense, philosophy returns to the place where it first attained a clear manifestation, as itself a form of exchange (in Afrikaans: "handel"), but a form of exchange that mediates between other exchanges, from the most particular to the overarching. This interaction is also the movement in which justice (as right) crystallizes, justice understood in the sense of letting things come to right ("teregkom"). Through this exchange, the understanding of economy as that which is informed by abstract principles, in which the free play between the oikos and the nomos is determined by the nomos alone, is challenged by one in which the local, in all its complexity, is invited to participate and contribute to the global discourse on an open platform.

Key words: mother tongue, self-contempt, translation, babelisation, homogenising, Faustian drive, absolution, sublation, orientated thinking


 

 

OOR DIE STATUS VAN MOEDERTALE

Moedertale in Afrika verkeer onder groot druk. Die oorsaak van hierdie druk blyk voor die hand liggend te wees, gegewe die aantal tale wat op ons vasteland geakkommodeer word. Dit blyk verder n natuurlike verloop van sake te wees, n oorsaaklikheid waarin die samelewing meegesleur word. Die samelewing ontwikkel noodwendig van vroeë, gefragmenteerde groeperinge tot n hoër beskawing waarin daar makliker en meer effektief gekommunikeer word.

In die ontwikkeling na dié begrip van beskawing en die klaarblyklike verfyning wat daarmee gepaardgaan, ontgroei 'n mens jou moedertaal. Soos 'n naelstring die kind aan die moeder verbind, so verbind moedertaal die mens aan 'n vroeë fase wat noodwendig oorkom kan en moet word voordat hy volwassenheid kan bereik. Moedertaal word toenemend tot babakos, tot "kombuistaal" verkleineer. Verknogtheid aan moedertaal is dus tekenend van onvolwassenheid. Die afskaffing van Afrikaans onlangs by sommige universiteite, howe en selfs planetariums is 'n voorbeeld daarvan. 'n Moedertaal moet in sy reikwydte beperk word, dit wil sê gesteriliseer en skadeloos gestel word, en moet derhalwe ook verhinder word om in sy woordeskat te oorkoepelend om te gaan. Die moeder durf nie haar opvoeding van die kind buite die huis laat reik nie.

Daar is natuurlik diegene wat hierdie verloop teengaan. In Afrikaans is daar relatief vroeg reeds moeite gedoen om die hoër funksies daarvan te kultiveer, vermoedelik omdat verskillende gemeenskappe wat die taal gepraat het, uit tradisies van n skrifkultuur en sogenaamde "godsdienste van die boek" afkomstig is. Die huidige regverdiging wat vir die vooruitgang en kultivering van die taal gebied word, spruit egter voort uit die ekonomiese sfeer. Solank daar feeste is, word ons gerusgestel, is daar nie 'n probleem nie - dit is immers die onsigbare hand van die markkragte wat aan die werk is. Hieruit word immers belasting gegenereer wat weer bydra tot die ekonomie. Die florerende literêre bedryf verbloem egter die werklike krisis, nie alleen waarin Afrikaans (nou slegs 'n feestaal), sigself bevind nie, maar ook taal as sodanig. Taal het 'n kommoditeit geword. Dit is natuurlik die goeie reg van maatskappye om taalkursusse aan te bied met die doelwit om koffie te bestel en om padaanwysings na die Louvre te vra, maar wanneer taalinstitute en universiteite bloot hierdie modelle navolg, is daar tog sekerlik iets fout. Die funksionele benadering tot die onderrig van tale oor die afgelope paar dekades het bygedra tot wat Heidegger noem "die verwoesting van taal" (sien De Beer 2016) en die dekultivering van die mensdom. Taal is altyd meer as funksie, dit is meer as n meganiese oordrag van inligting. Wanneer 'n mens met iemand in sy/haar taal gesprek voer, raak jy die wese van daardie persoon aan, dit wat daardie persoon se daar-wees in die wêreld huisves.

Met die bedryfsmatige karakter van die universiteit word die volgende bedoel: Die universiteit se taak is nou primêr om aan die markkragte te voldoen en, meer spesifiek, om slegs aanbod te wees vir die vraag daarna wat vooraf geskep word. Om te ontken dat die universiteit wel in verhouding tot die bedryf staan, sou naïef wees, maar in watter mate dit daardeur voorgeskryf moet word, 'n navolger eerder as 'n leier moet wees, is 'n ander saak. Volgens Schoeman (2012) is die primêre taak van die universiteit om inwyding (Bildung) te verskaf, terwyl beroepsopleiding ook aan ander onderriginstellings oorgelaat kan word. Die wêreldwye tendens by universiteite is gerig ten gunste van beroepsopleiding, maar in Suid-Afrika, waar universiteite vir tegnologie oor die afgelope dekades erg verswak het, word nog minder status aan 'n diploma toegeken. Derhalwe wil heelwat studente eerder aan 'n universiteit studeer. Wanneer Nietzsche in Zarathustra na die universiteitstudent verwys as n esel wie se ore uit proporsie met die res van sy liggaam is, is dit nie omdat die persoon so daar aankom nie, maar omdat hulle so gevorm word. Die esel is daar om te werk, niks anders nie.

Dit het tot gevolg dat die pas waarteen die universiteit van sy taak afwyk, heelwat versnel: "toenemend moet daar aan die universiteite rekening gehou word met gestandaardiseerde norme, inspeksie, gehaltekontrole, besorgdheid oor slaagsyfers, en die eise van die beroepslewe" (Schoeman 2012).

Die ekonomie wil kwantifiseer om sy doelwit van ont-wikkeling doeltreffender te bereik en sy uitsette te vergroot. Dit kwantifiseer nie alleen die werk wat gedoen word nie, maar ook diegene wat die werk verrig. In die globale ekonomie is handeling moontlik vir sover daar 'n gemene deler ter sprake is. Enersyds word werksgeleenthede aan die individu belowe, en andersyds lewer die persoon 'n bydrae tot die bruto binnelandse produk of, soos Smith dit gestel het, die rykdom van die nasie. Dit is egter 'n ope vraag wat hier bedoel word met rykdom. Soos dit tans daar uitsien, kan die rykdom ter sprake beswaarlik te doen hê met verryking van die gees. Dit kan eerder gelykgestel word aan geesuitdrywing as voorwaarde vir die doeltreffende funksionering van die ekonomie.

Sodra daar egter vasgeskop word teen hierdie sogenaamde natuurlike verloop, word 'n politieke komponent bygesleep wat inpas by die ekonomiese gelykmaking. Die algemene argument is dat die kultivering van moedertaal eksklusief van aard is en nie ander groepe in ag neem nie. In die geval van Afrikaans word die historiese argument van onderdrukking opgehaal, sonder inagneming daarvan dat dieselfde argument ook gebruik kan word teen die taal waarin hierdie argument gevoer word, die grootste imperialistiese taal in die geskiedenis, Engels. Maar voordat ons die redes vir die ontkenning van laasgenoemde punt ondersoek, moet die skuld, in die vorm van die selfveragting wat as voorwaarde daarvoor dien, nader ondersoek word.

 

DIE PRIESTERSKAP VAN SELFVERAGTING

Wêreldwyd word die intellektuele sfeer, veral die geesteswetenskappe, beetgepak deur 'n gees van prysgawe as voorwaarde tot toegang. Prysgawe verdryf en vervang kosbaarheid en koestering as dit waartoe denke gerig word. Filosofie beheer vanuit die res cogitans (Capitas en in die hedendaagse diskoers Kapitaal soos hier bo beskryf) die res extenza. Die ekonomiese dryfveer, naamlik ont-wikkel-ing, wikkel die kop los van die liggaam, wikkel die nomos los van die oikos, en kan daarom beskryf word as 'n ont-kop-peling (die strewe na die outonomie van die Capitas). Van filosofie as vernuf (Kant) of Bildung (Hegel) wat tot kultuur bydra, is daar weinig sprake. Daarmee saam het begrippe soos "gees" (sien De Beer 2016) en "siel" ook gesneuwel. Slegs deur selfveragting as voorwaarde kan die ander toegenader en erken word (teenoor die Ou Testamentiese beginsel dat self en naasteliefde met mekaar verband hou).

Diskoerse waarbinne gelykheid en die verbetering van materiële omstandighede as doelwit van denke dien en nie meer, soos by Aristoteles nog die geval was, as voorwaarde vir denke nie, verdring ander vorme van denke. Wat genoem word die "emansipering van die verstand" blyk toenemend die teendeel te vermag, naamlik die onderdrukking van enige denke wat nie konformeer met die "praktiese filantropie", waarbinne slegs die ekonomiese sfeer die heil van die mens kan bewerk nie. Teen hierdie agtergrond is dit moeilik voorstelbaar hoe die klassieke studies nog 'n ruimte gegun kan word, aangesien onderwerping aan die sogenaamde "tirannie van die onmiddellike" en nuuskierigheid (letterlik die gierigheid vir die nuwe) nou aan die orde van die dag is.

Afgesien van die inherente goeie bedoelings van hierdie deursnee- hedendaagse ontwikkelingsgesinde akademikus, is daar 'n masochistiese komponent aan die selfveragting, naamlik dat die akademikus wat hierdie intellektuele kastyding pleeg, dit dikwels doen uit n posisie waaruit loopbaanvoordele en aansien geput word, oftewel n gesublimeerde vorm van plesier. Selfveragting is nie alleen meer 'n voorwaarde nie, maar het nou die liturgie van die hedendaagse akademie geword. Genieting word gelegitimeer wanneer dit binne 'n oorkoepelende pyniging geskiet. Waar lyflike pyniging by die Middeleeuse priester die voorwaarde vir die ewige lewe was, is intellektuele kastyding nou die eerste stap en materiële beloning die gevolg. By albei kan die moreel-abstrakte beginsel van menslikheid en mede-menslikheid egter slegs bereik word deur die negering vanjou eie menswees. Nietzsche beskryf hierdie skisofreniese selfveragting as volg: die selfveragting verag alles behalwe sy eie selfveragting (Nietzsche 2005).

 

VERBABELSING

In die Bybel word die verhaal vertel van 'n geval waar een wereldbeeld ander verdring het, naamlik Babel. Die skrywers van die verhaal gebruik die woord Babel op so 'n wyse dat daar n sinspeling gevorm word met die woord bälal ("bevogtig"). Van Selms (1967:163) bring dit in verband met belil, wat verwys na strooi wat gegis word totdat die bestanddele onherkenbaar word en dan vir veevoer gebruik word. Hierdie soort voeding dra by tot die vorming by universiteite van wat Nietzsche werkesels noem. Die funksie van die eenvormige werk aan die toring word so beskryf: "een ijdel streven om zijn naam te bestendigen en zo een schijnoverwinning op de door God gestelde dood te behalen" (Van Selms 1967:163). Die ironie wat in die verhaal uitgebeeld word, is dat die verwagting van opheffing wat geskep word uit die homogenisering, van diegene wat daarop ingekoop het, esels gemaak het, en hulle eintlik verlaag het.

In wat volg gaan ek argumenteer dat die identiteit wat by die universiteit geskep word tot n verswakking bydra, 'n ontkenning vanjou eie wese, 'n Faustiese drif. Die Faustiese verwring die werklikheid tot eensydigheid. Die Faustiese verleiding stel die selfnegering as prys voor om absolute kennis te verwerf, of anders gestel: Dit keer die Delfiese imperatief van selfkennis en uitdrukking as voorwaarde vir kennis op sy kop, ontken Kant se imperatief van die strewe na vervolmaking van innerlike krag, oftewel selbständigen Vollkommenheit (Kant 1956:76), en verhef selfveragting tot die toegangspoort na abstrakte kennis. Die voorwaarde vir kennis is die prysgawe en verkettering van die fynste weerklank van jou eie wese, die uitdowing van die instemming tot die daar-wees in die wêreld. In die nuwe paradigma is daar geen sin in vir die universiteit om verantwoordbaar op te tree teenoor, met inbegrip van 'n verwoordingsruimte te skep vir, die gemeenskap waarin hy wortelskiet nie. Die universiteit word nou eerder beoordeel volgens posisie op ranglyste, bepaal deur 'n Anglosentriese bestel.

Die feit dat Engels (as tweede taal) vir die meeste gebruikers daarvan in universiteite oor die wêreld heen nie aan die hartsgevoel uitdrukking kan gee nie, en die gebruik daarvan meestal n kognitiewe inspanning verg, word juis deur die voorstanders daarvan beskou as een van die redes waarom dit by uitstek die status van 'n akademiese taal verdien. 'n Kognitiewe taal het n suiweringsfunksie, want dit help om die perfekte toestande vir rasionaliteit te skep deur van die brein, soos Locke dit stel, n tabula rasa, n skoon bladsy te maak. Terwyl die tabula rasa by Locke n beginpunt is, word die hedendaagse weergawe bewerkstellig deur n sistematiese uitvee van vooroordele, om van die subjektiewe na die objektiewe oor te beweeg, deur n totale vernietiging van die subjektiewe. Vanuit die kop, die capitas (waaruit "kapitaal" afgelei is), word daar meganisties afwaarts na die hart en die buik beweeg, en word die gevoel van elkeen (trots by die hart en smaak by die buik) in bedwang gebring deur funksionele plaasvervangers in die bedryf daarvoor op te dis (sport en inkopiesentrums).

Wat agter hierdie titaniese verbabelsing skuil, is egter nie n progressiewe, sekulêr-neutrale oorkoming van partikulariteit en beweging na objektiwiteit nie, maar die mite daarvan. Om hierdie mite te verstaan, sal dit nuttig wees om n vergelyking te tref tussen Engels en Latyn, wat eersgenoemde voorafgaan as enigste erkende taal van denke. Die Katolieke Kerk het Latyn verklaar tot die enigste taal wat in die Kerk gebruik mog word, en sy weergawe van die Bybel, die Vulgaat, tot die enigste aanvaarde weergawe van die Bybel verklaar. Hierdie skuiwe het aan die taal n metafisiese status verleen (merkwaardig hiervan is dat geen teks in die Bybel oorspronklik in Latyn geskryf is nie). Die status van Latyn het dus verskuif vanaf n taal waarin n paar waardevolle vertalings geskryf is, na dié taal van kanonisering, waarin nie alleen n oorsprong nie, maar die oorsprong, die stem van God self, en later die wetenskapswet, geopenbaar is. Mettertyd het Latyn egter in onbruik geraak en kon slegs die geleerdes dit verstaan, en derhalwe kon slegs hulle eie uitleg van groot tekste gesaghebbend verstaan word.

Met die koms van n aantal groot omwentelinge in die eerste helfte van die 16de eeu het koning Hendrik VIII homself tot hoof van die Engelse kerk verklaar, en daarmee die sinkronisering van die belange van die Engelse staat met dié van die koninkryk van God voltrek. Die uitwerking van hierdie volledige samesmelting tussen die aardse en die hemelse ryk, wat volledig deur die wil van die koning in die politieke sfeer uitgedruk word, is nog nie na waarde geskat nie. Dit is kwalik denkbaar dat dit geen invloed sou hê op die wyse waarop die belange van die Britse Ryk en die gepaardgaande verengelsing tydens sendingreise so netjies sou saamvloei nie. In n sekere opsig sou die sekularisering van veral Engelse denke saamvloei juis met die veronderstelling dat die metafisiese reeds daarin opgeneem word, en dat dit outomaties, dit wil sê sonder n eksterne wil, oor die vermoë beskik om allesomvattend met die werklikheid om te gaan. Engels neem die eienskap by koning Hendrik oor dat dit die taal is waarin verlossing (dit wil sê losmaking, ont-wikkeling, oftewel absolusie) verwesenlik kan word. n Punt word dan nagestreef waarin absolusie volledig word, of, in die moderne weergawe van die begrip, absoluut of totaal word.

In die hede word Engels nog deur bemarking en veral die vermaaklikheidsbedryf oor die wêreld versprei. Die handelsmerk vervang nou die heilige teks as n merker van identiteit wat die plaaslike negeer en die globale bevestig. Die bevrediging van die behoeftes van die individu word tot die hoogste ideaal verhef, n taak waarin die plaaslike en gemeenskaplike as struikelblokke getipeer word. n Soort verlossing uit die onmiddellike omstandighede en toegang tot n staat waarbinne volle individualiteit bereik word, is die telos van geskiedenis.

Verengelsing vind plaas binne 'n bestel waarin die algemene die besondere uitdoof, onder die dekmantel dat dit juis aan laasgenoemde n spreekbuis bied. Dit erken diversiteit, maar in n erkenning wat gestalte kry in homogenisering. Die feit dat mense van verskillende kulturele agtergronde in Engels werk, wys klaarblyklik vanselfsprekend op die diversiteit wat ingebou word in hierdie eietydse toring van Babel. Enige weerstand teen verengelsing is gekant teen hierdie "grand scheme", teen die groot optelsom. Hiërargie, bykans 'n vloekwoord binne kontemporêre akademiese diskoerse, word ook deur verengelsing gekonfronteer ten einde n gelyke speelveld daardeur te bemiddel. Breyten Breytenbach stel dit so:

En ons vertel word dat "regmaak" beteken alles van waarde vir die mense, van uitnemendheid as voorbeeld, moet vernietig word om sodoende 'n ruimte vir regverdigheid te skep. Dat die aandag weggestuur word van die eerste en mees grondige en mees eksistensiële interaksie wat 'n instansie van hoër opleiding met haar omgewing - haar voedingsaarde - behoort te hê. (Breytenbach 2016)

Die wekroep tot inklusiwiteit is fundamentalisties verknog aan die hegemonie van abstraksie en neem nie die gevare in ag wat hieruit kan voortspruit nie, soos De Tocqueville dit stel:

There is, in fact, a manly and lawful passion for equality which excites men to wish all to be powerful and honoured. This passion tends to elevate the humble to the rank of the great; but there exists also in the human heart a depraved taste for equality, which impels the weak to attempt to lower the powerful to their own level, and reduces men to prefer equality in slavery to inequality with freedom. (De Tocqueville 2018)

Wat behels hierdie gelykheid in slawerny dan? Miskien, in De Beer se terme, 'n gedeelde armgeestigheid (De Beer 2016). Armgeestigheid is ten nouste verbonde aan n veragting van moedertaal.

 

GEORIËNTEERDE DENKE

Laat hy wat sonder kennis van die geometrie is, nie hierdie ingang betree nie.

Hierdie bekende leuse wat bo die ingang van Plato se akademie gestaan het, word dikwels geïnterpreteer as sou dit Plato se voorkeur vir die wiskunde beklemtoon. Dit kan egter ook anders verstaan word. Etimologies verwys die begrip geometrie na twee saamgevoegde begrippe: 'aarde' en metria 'meting'. Metrum het te make met afmeting (van onder andere klank en ritme), maar hiermee gepaard gaan ook geregtigheid, indien mens in gedagte hou dat die woord afkomstig is van die Egiptiese godin Ma'at, godin van harmonie, orde en geregtigheid.

Plato stel hier 'n voorwaarde vir die voornemende student, nie dat die akademie beplan om slegs die abstrakte vorms te bestudeer nie, maar die kosmos soos dit deur die aarde vibreer, soos dit deur die omgewing vibreer. Met hierdie leuse beaam Plato juis ook die ou Delfiese imperatief gnöthi seauton: ken jouself.

Plato gebruik die Kratylos (1997), 'n teks wat handel oor die oorsprong van begrippe, om die filosofiese Grieks te laat praat. Hierdie werk word selde ernstig opgeneem, aangesien Plato met sy eie weergawes van bekende mites vorendag kom, en nie getrou bly aan die tradisie (uitgedruk in Hesiodos se bekende Teogonie) wat hom voorafgaan nie. Tweedens is die werk ook na bewering filosofies van min waarde, aangesien dit soveel mitologie bevat. En tog kan ons hieruit 'n paar wenke verkry oor die tipe uitdaging wat 'n taal trotseer wanneer dit filosofies te werk gaan, wanneer die werklikheid en begrip op mekaar ingestem word. Die goddelike oorsprong van begrippe wat Plato daaraan toeskryf, dui op die algemene geldigheid daarvan, terwyl die gode self Grieks en daarom gebonde aan die plek is. Plato se beskrywing van die oorsprong van woorde in die Kratylos wys op die toe-eiening, die mitifisering van begrippe, maar tegelyk hiermee vind die vergoddeliking van die oorsprong ook neerslag in die Griekse omgewing. Waarmee Plato hier besig is, is om 'n tuiste vir die Syn in die Griekse taal te skep.

Selfkennis impliseer ook dat ek moet nadink oor dit waaruit ek gevorm word, waarvan my taal 'n komponent bly. Wanneer 'n mens Herder se bekende uitspraak in ag neem dat 'n mens nie 'n taal praat nie, maar 'n taal jou praat, word dit duidelik dat taal, en in die besonder jou moedertaal, 'n onlosmaaklike deel van menswees uitmaak. In Heidegger se woorde is taal die huis van die Syn. Soos dit tans by die Babelse kennisfabrieke daar uitsien, skep taal 'n Unheimlichkeit ten opsigte van die Syn, waarin die nomos die oikos onhuislik, ontuis, vervreemdend maak. Die homogene, gesteriliseerde bedryfsgedrewe denke bedek die angs wat gepaardgaan met die onbekende, wat deel van jouself en ander uitmaak.

Teenoor hierdie gesteriliseerde verhewenheid stel ek 'n erkenning van bevindelikheid in taal, n geworpenheid, wat, soos Heidegger (2006) uitwys, terselfdertyd ook gevallenheid beteken. Die gevalle blik gee erkenning aan die onvermoë om volledig en finaal te kan uitspreek. Dié tekortkoming gee aanleiding tot die ervaring van skuld. Skuld is "om iets verskuldig te wees aan". Skuld is 'n onderdeel van Dasein, nie alleen van my daar-wees-in-die wêreld nie, maar ook dié van ander. Die miskenning deur 'n ander van my taal is die miskenning nie van my geworpenheid nie, maar ook van die wese van Dasein self en van die aard van taal as gewortel, as verskuldig. 'n Geheel wat opgemaak word uit die onreduseerbare besondere en daarsonder nie geheel kan wees nie, sal nooit poog om te totaliseer, dit wil sê te homogeniseer, nie. Die geheel, die objektiewe, wat nie die resultaat van 'n optelsom kan wees nie, reik verder, vereis meer, is vrygewig en ontvanklik.

Die objektiewe is nie 'n ruimte van eenvormigheid nie, maar een van onpeilbaarheid. Die begrip is nie dit wat vir ewig in sigself is en mummifiseer nie, soos Nietzsche (2005:17) dit gestel het nie, maar wat oopstel en rig, uitwissel en wederkerigheid skep. Die objektiewe gees in die Hegeliaanse sin is dit wat aan die grootse onpeilbaarheid van die volheid erkenning gee, in plaas daarvan om 'n verkleinerende, verskralende en inperkende alledaagsheid in die plek daarvan te stel. Ware ken, Wissen-skap, is 'n handeling van verkenning, erkenning, herkenning, nie van miskenning, a-gnoia, oftewel ignorantie, nie. Taal is nie 'n belemmering van hierdie proses nie, maar 'n aktivering daarvan. Een van die wyses waarop die aktivering van die geheel plaasvind, is deur vertaling. Nie alleen kan vertaling 'n nuwe brug na ander kulture en literatuur slaan nie, maar dit kan bydra tot 'n nuwe selfverstaan.

n Bekende voorbeeld hiervan is die wyse waarop Luther se Bybelvertaling 'n nuwe wending in die Duitse literatuur tot gevolg gehad het. Nietzsche, in Beyond Good and Evil, verklaar dat Luther se Bybelvertaling die beste boek in die Duitse literatuur is: "compared to Luther's Bible, almost everything else is merely 'literature'" (Nietzsche 2007:140). Enersyds is dit 'n merkwaardige stelling aangesien die Bybelvertaling uit ander tale oorgeneem en verwerk is. Die kuns van vertaling bied n mens ervaring van wat dit beteken om goed te skryf, maar in die nabootsing daarvan word jy nie alleen opgehef om vaardig om te gaan met taal in die algemeen nie, maar juis in die besondersheid van jou eie taal. Inderdaad is dit nie toevallig dat die meesterwerk uit die priesterdom afkomstig is nie, merk Nietzsche verder op, want "in Germany, only the preachers knew the weight of a word or syllable, the extent to which a sentence stumbled, sprang, rang, ran, or ran away" (Nietzsche 2007:147).

 

FILOSOFIESE AFRIKAANS

Daar kan ook in Afrikaans, soos in elke ander taal op n besondere wyse omvattend gedink word, om Van Wyk Louw se begrip te gebruik. Wanneer die gebruikers van Afrikaans egter nie aanhoudend vertaal nie, word die moontlikheid om omvattend, oftewel deurgrondig te dink, gepootjie deur 'n eensydige dink wat hom voordoen as omvattende denke, soos die geval was tydens apartheid, toe taal as 'n besitting en onderdeel van identiteit eerder as 'n katalisator van voortdurende individuasie beskou is. Dit het bedek, was veronderstel om te beskerm teen die bedreigende magte, eerder as om oop te stel (te ont-dek) en tot dia-logos gerig te bly. Die teenoorgestelde van koestering is hierin vermag, naamlik die verwringing van taal self.

Die samespel van verset, behouding en verbetering (drie betekenisse van die woord opheffing, Aufhebung) gee aanleiding tot wat Hegel as absolusie beskryf het, dit wat vryheid teweegbring. Hierdie vryheid moet nie verstaan word as "kwytskelding van", soos in die ou betekenis van absolusie nie, maar "vry met, vry tot", wat ook verantwoordelikheid beteken. NP van Wyk Louw het Hegel se begrip van absolusie in gedagte wanneer hy die wyse waarop kleiner en groter tale met mekaar te doen kry, wil uitwys: "Die klassieke literatuur van die wêreld is een, maar die tale waarin hy sy neerslag vind, is verskillend. Daarom bly vertaling altyd een van die belangrikste werktuie van 'n lewende kultuur" (Louw 1988:97). Die vertaling waarna hy verwys, het nie alleen betrekking op die groot tale nie, maar ook tussen die kleiner tale, veral ook tale wat 'n ruimte deel. Die verskynsel van die verdringing van kleiner tale deur sogenaamde wêreldtale beskryf Louw as 'n vorm van moderne barbarisme (Louw 1988:97). Hierdie verskynsel kan teëgewerk word indien die kleiner tale hulself vestig en uitbou. Filosofie is een van die middele waarmee begrippe oorgedra en vernuwe word, en is daarom onontbeerlik vir die ontwikkeling van 'n taal, maar self ook gebonde aan taal.

Maar waarom Afrikaanse filosofie? Dit maak sin om na Afrikaanse digkuns of literatuur te verwys, maar watter aanspraak kan die filosofie met betrekking tot die verskillende tale maak? Behoort die filosofie nie eerder tot die kategorie van die universele nie? Dit is so dat filosofie altyd in 'n taal geuiter word, en dat elke taal sy eie kenmerke en gebruike het. So is byvoorbeeld die Duitse woord Vernuft nie werklik vertaalbaar in Engels nie, terwyl die Engelse mind ook nie werklik 'n Germaanse ekwivalent het nie. Die filosofie moet noodwendig die geheel bedink, maar dit geskied altyd vanuit die besondere (nie hier te verwar met 'n deel nie). Dit is egter ook so dat die geheel-besondere-relasie juis dit is, n relasie waarin die een nie die ander kan uitskakel (relativisme) of volledig daarby kan laat inskakel (inklusiwiteitstotalita-risme) nie. Die oproep wat ek hier doen, is enersyds vir Afrikaans om filosofies om te gaan met die werklikheid (soos uit die titel van hierdie artikel blyk: filosofiese Afrikaans), dit wil sê om voortdurend beredeneerd te artikuleer, verantwoordbaar (konsekwent woord-barend, om woorde met gesonde vrug te lewer), en andersyds vir filosofie om Afrikaans te word, om vanuit die algemene die wêreld weer op n nuwe manier te vind, en nooit daarvoor blind te word nie.

Om op 'n toekoms vir Afrikaanstalige filosofie aan te dring beteken nie dat ek die toekoms tot my eie wil gaan verbuig nie; ek vra ook nie iemand anders om goedgunstiglik 'n toekoms aan my te gee nie. Ek poog eerder om myself oop te stel tot die toekoms. Dit behels 'n koestering van dit wat duursaam is, en dit wat onlewensvatbaar is, grondig te weerlê en agter te laat. Die verwagting van n toekoms skep ook die verantwoordelikheid om van buite inspirasie te put, om oor en weer te vertaal.

Hegel se Absolute hou verband met die wyse waarop Aufhebung plaasvind. Laasgenoemde bestaan uit drie eienskappe, gekoppel aan die drie aksies hier bo genoem: negering, bewaring, en verheffing. Indien die drieledige eienskap van opheffing in ag geneem word, wat is dit wat opgegee (genegeer), selfs geoffer, moet word vir Afrikaans om te floreer? Dit is die afkamping, die inteling. Die Anerkennung is die beweging na die absolute, na absolusie, na die heel, wat ook heling kan wees. Die heelmaking is wederkerig - vanuit verskillende perspektiewe, reikende na mekaar, word weë geskep. Heling in die emosionele sin van die woord het te make met skuld. Skuld is 'n gerigtheid, 'n verskuldig-aan, 'n in relasie staan tot 'n vrylaat in sy wese (frya). Hierdie verskuldiging is ook verantwoordelikheid. Verantwoordelikheid vind plaas in die ruimte van die woord. Die woord word in sy wese beluister, en daartoe word instemming vereis, n instemming wat n tydelike suspendering van die eie vra, n oorgawe tot die luister. Hierdie suspendering van die eie vind egter ter wille van die behouding en die beluistering van die woord van ander plaas, n behouding wat weer teruggekaats word na die self as die verhouding van die geheel daartoe, en daarom ook aan selfliefde nuwe vorm gee as dit wat deur die respek van buite bemiddel word. Die gesamentlike opheffing (verheffing na die ganse) hef die woord in sy besondersheid op, dit ontsluit die besondere en die geheel vir mekaar. Die offer is een wat bouend wegkap, wat beitel aan nuwe moontlikhede, na telos, heel-makend en nie afbakenend nie, tuisteskeppend én gasvry.

 

FILOSOFIE EN DIE MARK

Filosofie, verslae in die wyse waarop die universiteit nie erkenning wil gee aan die behoefte van die persoon wat filosofeer in sy/haar moedertaal nie, moet as taalgebonde dissipline keer na instellings wat wel aan hierdie behoefte erkenning gee. Filosofie keer sigself na kultuurorganisasies, godsdiensgroeperinge, politieke en burgerlike organisasies, en die mark. Maar, as daar reeds gevestigde instansies bestaan wat Afrikaans bevorder, wat het filosofie om toe te voeg? Die bekende gesegde lui: die uil van Minerva tree eers na vore na die son gesak het, wat verwys na die filosofie se gewoonte om na die feit na vore te tree. Dit is dan ook by hierdie tydstip waarop filosofering in 'n nuwe masker weer verskyn op die Afrikaanse taaltoneel. Die rede hiervoor is dat filosofie groei uit al die dissiplines en ingestel moet bly tot gesprek tussen die dissiplines. Daarom is filosofie onlosmaaklik verbind aan rede. Dit beteken egter nie dat filosofie en rede sinoniem is nie, filosofie gaan om met rede op 'n bepaalde manier, eerstens in die sin van logos (die ont-dekking en die dia-loog as ont-dekkende proses), tweedens as berekening, wat beteken in pas met die beweging van dinge (meth-odos, in die weg) 'n sin vir gevolge te ontwikkel, en derdens besinning as verantwoording. Elkeen van hierdie dele word aan tydskategorieë gekoppel, die logos aan die hede, berekening aan die toekoms en besinning aan die verlede. Die telos of doel, wat dikwels slegs aan die toekomsblik van berekening toegeskryf word, kan egter nie losstaan van die ontdekking van die hede, sonder om die hede as universele maatstaf voor te hou nie, en die verlede, sonder om nostalgies óf miskennend daarmee om te gaan nie. Telos is dit waarbinne die begin en einde aan mekaar gekoppel word. Berekening word naamlik vandag ingestel om ekonomiese groei en alle ander doelwitte onder-geskik te stel. Ekonomiese groei kan egter ook vervreemding meebring, waarin die oikos en die nomos van mekaar vervreem word. Maar die mark (veral verstaan as plaaslike ruimte, rondom die oikos) vorm self nuwe ruimtes waarbinne die logos en besinning na vore tree, aangesien daar selfs hiervoor 'n "mark" is. Dit beteken egter nie dat daar bloot ooreenkomstig met die vraag (soos die geval is met universiteite se utilitariese taalkapitalisme, dit wil sê die gemene deler wat die meeste gelyktydige behoefte, oftewel wins skep nie) opgetree moet word nie. Die toetrede is self 'n handeling. Handel is 'n begrip wat 'n wye betekenis het wat verby die transaksionele strek, dit hou naamlik ook etiese aspekte in (wat soms reglynig teenoor die ekonomiese kan staan). Dit vorm deel van die mens se wees in die wêreld. Die filosofiese handeling is die een wat (deur rede), die wyse waarop die handelswyses met mekaar verband hou, probeer bymekaardink sodat elkeen van hierdie dinge in relasie tot mekaar tot hul reg kan kom. Die toestand van "om tot reg te kom/teregkom" is ge-reg-tigheid. Geregtigheid, hier verstaan as nie reduseerbaar tot die "regte" politiek-ekonomiese beleid, hetsy idealisme of materialisme nie, moet as maatstaf waarheid gebruik. Waarheid beteken die waar-heen dinge gerig word, maar met inbegrip van die waar-vandaan waarvan dit nooit losstaan nie. Tussen die waar-heen en die waar-vandaan ontwikkel die waar-om, die spilpunt waar-rond-om die einde en die begin draai om mekaar te vind. Hierdie beweging is die beweging van teregkom.

 

BIBLIOGRAFIE

Breytenbach, B. 2018. https://www.litnet.co.za/die-koei-in-die-bos/ [19 Junie 2018].         [ Links ]

Boshoff, H.J. 2015. Die ontogenese van filosofie. MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

De Beer, C.S. 2016. Die krisis van die afwesige gees. Pretoria: Malan Media.         [ Links ]

De Tocqueville, A. 2018. http://seas3.elte.hu/coursematerial/LojkoMiklos/Alexis-de-Tocqueville-Democracy-in-America.pdf [20 Junie 2018].         [ Links ]

Heidegger, M. 2006. Sein und Zeit. Hameln: Niemeyer.         [ Links ]

Kant, I. 1956. Kant Werke: Band 6. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgeselschaft.         [ Links ]

Louw, N.P. van Wyk. 1988. Gedagtes vir ons tyd. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.         [ Links ]

Louw, N.P. van Wyk. 1986. Versameldeprosa 1 /2. Kaapstad: Tafelberg /Human & Rousseau.         [ Links ]

Nietzsche, F.W. 2005. The anti-Christ, ecce homo, twilight of the idols and other writings. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Nietzsche, F.W. 2007. Beyond Good and Evil. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Nietzsche, F.W. 2007. Thus Spoke Zarathustra. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Plato. 1997. Complete Works. Indianapolis: Hackett Publishing Company.         [ Links ]

Schoeman, M.J. 2012. Geesteswetenskap in 'n geeslose omgewing? 'n Besinning oor die hedendaagse universiteit en die verwaarlosing van sy opvoedingstaak. Tydskrifvir Geesteswetenskappe 52(1): 121129.         [ Links ]

Van Selms, A. 1967. Genesis: Deel 1. NijKerk: G.F. Callenbach.         [ Links ]

 

 

 

Hercules Boshoff is 'n PhD-navorser verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy het sy MA voltooi aan die Universiteit van Pretoria, en het ook uitruilprogramme by die Vrije Universiteit van Amsterdam en Radboud Universiteit Nijmegen meegemaak. Sy werk dek filosofie van taal, tegniek, individuasie, ge-skiedenis van filosofie, en ekonomie. Hy is medestigter en tans voorsitter van die Chairefoon Inisiatief, 'n organisasie wat filosofie onder Afrikaanstalige nagraadse studente bevorder. Daarbenewens is hy ook aktief betrokke by die NAWG (Nederlands-Afrikaanse Wysgerige Genootskap), wat dialoog tussen Afrikaans- en Nederlandstalige filosowe bevorder.
Hercules Boshoff is a PhD student at the University of the Free State. He completed his MA at the University of Pretoria, and has also participated in exchange programs at the Vrije Universiteit Amsterdam and Radboud University Nijmegen. His work covers philosophy of language, technics, individuation, the history of philosophy, and economics. He is co-founder and current chairman of the Chairefoon Initiative, an organisation founded for the development of philosophy in the Afrikaans-speaking postgraduate philosophy community. He is also involved with the NAWG (Dutch-Afrikaans Philosophical Fellowship), that promotes dialogue between philosophers of the Dutch affiliated languages.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License